Skuld moet bely word


SKRIFLESING:  Mat 5: 22 – 26

Ons mense is dikwels soos ’n verkleurmannetjie, want in die teenwoordigheid van God wys ons ons beste kleure. In die teenwoordigheid van ons medemens wys ons egter ons swakste kleure. Ons wil heilig met God lewe, maar lewe somtyds so onheilig met ons medemens saam.

In die agtiende eeu, met die bloei van slawehandel na Amerika, was daar ’n slawehandelaar en seekaptein wat bekend was vir sy godsdienstigheid, maar ook vir sy ongelooflike wreedheid teenoor slawe. Daar word vertel hoe hy elke oggend en elke aand op die dek van die skip gestaan het en gesange gesing het uit die Hollandse Gesangeboek. Hy het met oorgawe gesing, selfs bo die gedruis van die branders heen. Tog, onder die dek van die einste skip het dit beroerd gegaan. Dáár was die slawe aan die uiterste ellende onderwerp. Hulle was aan kettings geboei en het min kos en water gekry. Sou hulle siek word, is hulle lewend oorboord gegooi sodat hulle nie die ander moes aansteek nie. Hierdie seekaptein het vroom probeer lewe voor God, maar teenoor sy medemens het hy soos ’n monster gelewe.

Om so te lewe is om van godsdiens ’n klug te maak. Die tweeledige liefdesgebod staan juis op twee bene, naamlik liefde tot God en liefde tot jou naaste. Die Here Jesus sê hulle is gelyk. Die een is nie belangriker as die ander een nie.

Luther sê ek moet ’n “Christus” vir ’n ander een word. Het u gehoor: ek moet ’n “Christus” vir ’n ander een word. Daarom sê die Here Jesus dat ’n mens eers jou godsdienspleging moet onderbreek om te gaan regmaak met ’n ander een, voordat jy verder aanbid. Die Nagmaalsformulier sê selfs dat ’n mens jou van die Nagmaal moet weerhou as jy nog iets teen ’n ander een het. Wie sondig teen sy medemens, sondig ten diepste ook teenoor God.

Hoor wat sê Mat 5: 22 – 24:  “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.”

Die uiterste straf vir onenigheid en skeltaal, sê Jesus is om in die Gehenna te beland. So ernstig is die Here oor sondeskuld wat veroorsaak word deur onenigheid.

Waar en wat is die Gehenna?  “Teen Jesus se tyd is die Ben-Hinnom-vallei tot “Gehenna” verkort. Gehenna het as die plaaslike stortingsterrein van Jerusalem gedien. Al die stad se afval en puin is daar verbrand. Tereggestelde misdadigers en onbegrawe liggame is dikwels in Gehenna gegooi, wat die kloof sy reputasie gegee het as die plek van die verdoemdes en die verlatenes. Die brande van die vallei het ’n stank geskep wat die hele gebied laat sleg ruik het. Diegene in die stad kon sy rook sien, en die besoedeling was ’n herinnering aan al die skande van die verlede. In Jesus se gedagtes was Gehenna ’n plek van ontrouheid, waar diegene wat geroep is om iets groots te wees, hulle rug op God gedraai het. By Gehenna het opstandige Hebreërs hulle kinders aan die vuur van Baäl geoffer. By Gehenna het buitelandse leërs duisende lyke opgestapel terwyl die oorlewende Israeliete in ballingskap gelei was.” (JF Cook)

Om egter skuld te bely is ’n moeilike saak. Kinders sê gou dit is nie ek nie, dis hy. Toe Adam en Eva gesondig het en God by hulle navraag doen, sê Adam dis Eva en Eva gee weer vir die slang die skuld. So speel hulle vroteier. Niemand het die moed om hul skuld te bely nie.

Daarom om jou skuld te kan bely, is ’n deug wat sorteer onder die deugde wat van ’n mens moed vra. Om skuld te kan bely is nie ’n teken van swakheid nie, maar ’n teken van sterkte en moed. Deur ’n mens se skuldbelydenis heen, werk God sodat dinge weer kan regkom in jou lewe. Om jou skuld te kan bely, is soos om ’n sweer oop te krap dat die kwaad kan uitkom. As die kwaad eers uitkom, word die wond gou genees.

Koning Dawid het sy skuld bely en so het sy lewe weer reggekom, sodat hy die “man na aan die hart van God” geword het. Uit sy nageslag is die Messias gebore.

Wanneer daar huweliksonmin is, of wantroue tussen mense, of konflik en haat, is dit soos ’n sweer. Daardie sweer sal daar bly totdat die skuld bely is. Die baie ongelukkigheid in huwelike, in families en in die gemeenskap wat oor jare gekom het, is te wyte aan skuld wat nog nie uitgepraat en bely is nie.

Soos die seun wat op ’n Sondagmiddag sy pa se motor gestamp het. Hy kruip weg vir sy pa. Hy is skaam vir sy pa. Hy het nie die vrymoedigheid om sy pa in die oë te kyk nie. Toe hy egter sy skuld gaan bely, val die swaar las soos ’n klip van hom af. Hy voel so vry soos ’n voëltjie. Sy verhouding met sy pa kom weer reg.

Daar is iets soos indiwiduele skuld, maar ook iets soos kollektiewe of groepskuld. Indiwiduele skuld is my persoonlike skuld teenoor ’n ander indiwidu. Kollektiewe skuld of groepskuld is skuld wat ’n groep, volk of gemeenskap teenoor ander mense het.

Hulle vertel van ’n sekere hofsaak jare gelede in Duitsland toe ’n sekere man gevang is oor hy ’n brood gesteel het by ’n kafee. In die hof het hy toe aangevoer dat hy getroud is en drie kinders het. Hy soek al weke werk, maar niemand wil vir hom werk gee nie. Hy noem dan ook ’n hele rits plekke waar hy al werk gesoek het. Hy vertel hoe hy al gebedel het, maar almal jaag hom weg met ’n afjak. Hy vra vir die regter wat hy anders kon doen; hy het ’n vrou en drie kinders. Wat sê hy vir sy kinders en hoe kan hy hulle in die oë kyk? Hy het dit gedoen om sy vrou en kinders aan die lewe te hou. Dit was nie gierigheid nie. Die regter het die man toe gevonnis vir drie dae gevangenskap of 10 Duitse Mark vir sy diefstal. In dieselfde uitspraak het die regter toe ook die gemeenskap van Bonn gevonnis tot 10 000 Duitse Mark. Sy uitspraak was dat die Duitsers in Bonn so indiwidualisties en kapitalisties was dat daar vir ’n werklose wat wou werk geen heenkome was nie. Elkeen was net met homself gemoeid.

So moet die regering en die privaatsektor ook kyk daarna om meer werksgeleenthede te genereer. Die regering het die verantwoordelikheid om deur belastingverligting die privaatsektor aan te moedig om meer werksgeleenthede te skep. Werkskepping is die enigste werkbare model om armoede en misdaad te bestry. Die “Arm Blanke-vraagstuk” van na die Anglo-Boereoorlog en die groot Depressie is opgelos deur verbeeldingryke werkskeppingsprojekte van die regering en die NG Kerk. Die opbou van die Spoorweë het tienduisende mense van verarming gered. Mense wat wil werk, moet gehelp word. As die regering en die privaatsektor nie werk skep nie, is hulle skuldig aan die verval van die land. Die luies moet aan hulle eie ellende oorgelaat word.

In die Ou Testament lees ons meer van die volk Israel se sondes as van indiwidue se sondes. Ons lees maar alte dikwels in die profete se geskrifte dat dit oor hierdie en daardie sonde is dat God vir Israel straf. Telkens moet die Here Israel se gewete oopskroei, sodat hulle kan besef met watter sonde hulle besig is. Telkens as die volk Israel hul sondes bely het en daarmee breek, dan lees ons hoe die Here die volk Israel red.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Lutherse kerkleiers in Duitsland namens hul kerk en die Duitse volk skuld bely oor die wandade van die Duitsers teenoor die Jode. Dit is vervat in die Barmen-verklaring. Onlangs het een van die Engelse koninklikes tydens ’n kranslegging namens Engeland skuld bely vir Brittanje se aandeel aan die Anglo-Boereoorlog. In 1990 het Prof Willie Jonker namens die NG Kerk verskoning gemaak vir apartheid. Die beleidstuk “Kerk en samelewing” het in die plek van die gewraakte beleidstuk “Ras, volk en nasie” verskyn.

U sien, om jou skuld te bely, is nie bedoel vir trotse mense of vir lafhartige mense nie. Nee, dit is bedoel vir nederige mense wat leeuemoed het. As beloning het dit die wonderlike ervaring dat jou skuld soos ’n swaar klip van jou wegrol. Jy word vry soos ’n voëltjie.

As die Here Jesus sê dat ’n mens eers moet gaan regmaak met jou medemens voordat jy verder bid of kerk toe gaan of jou dankoffer gee, bedoel hy daarmee dat die skuld wat nog nie uitgepraat is nie, ’n hindernis is wat ’n mens se aanbidding belemmer. Soos wat die wolke die maan versluier, so kan skuld teenoor ’n medemens God vir my versluier. ’n Mens kan as’t ware sê dat sonde en ongehoorsaamheid “Godsverduistering” veroorsaak.

Waar skuld bely word teenoor God, vind daar “Godsverheldering” plaas. Jy kan God beter en helderder sien. Skuldbelydenis is bevrydend. Jy sien die sonstrale van God se geregtigheid.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

One thought on “Skuld moet bely word

  1. Cindy van Niekerk's avatar Cindy van Niekerk 2023/06/11 / 19:29

    Sooo soo BAIE WAAR. PRYS ONS VADER, SY SEUN EN HEILIGE GEES. 🙏 🙏 🙏 🙏

    Like

Lewer kommentaar