Christus Jesus sluit alle mense in, wat ons afskyf

SKRIFLESING: Joh 4: 1 – 42

Niemand hou van ’n snob nie. Want ’n snob dink mos altyd hy is beter as ’n ander een. ’n Snob plaas homself altyd op ’n hoër trappie. Joodse snobisme het in die Bybelse tyd baie voorgekom. Hulle het hulself op ’n hoër trappie as ander volke geplaas. Ja, hulle was hoogmoedig teenoor die Samaritane en ander volkere. Hulle het na die uiterlike geoordeel.

Johannes 4: 1 – 42 bied verskillende perspektiewe. Ons gaan nou na een van hierdie perspektiewe kyk. Johannes 4: 1 – 42 wil vir ons sê: CHRISTUS JESUS SLUIT MENSE IN WAT ONS AFSKRYF.

In Joh 4 lees ons van Jesus wat op reis was. En dan vertel Joh 4 ons van ’n sekere gesprek wat Jesus met ’n sekere Samaritaanse vrou aangeknoop het daar in die land Samaria in die dorpie Sigar. Sien die volgende in u geestesoog. Dit was 12h00 in die middag. Jesus is moeg en wag by die put vir sy dissipels wat op pad dorp toe is om kos te koop. Die vrou moes in die middag na die put toe gaan, want sy was een van die onwelvoeglike vroue van Sigar. Die gerespekteerde vroue het in die oggend vroeg put toe gegaan, terwyl dit nog koel is, maar sy moes haar beurt laaste afwag. Dan lees ons van ’n soekende Jesus daar by die put, wat dateer uit Jakob se tyd, wat ’n gesprek met die vrou aanknoop. Voorwaar ’n vreemde gesprek. Jesus het hom nou nie juis hier in ordentlike geselskap bevind nie.

Jesus, die ordentlike Jood, is in gesprek met die mees onordentlike heiden. Ons wil eintlik uitroep: “Here, skaam u u nie om met hierdie vrou te praat nie?” Want daar was vier dinge wat teen haar getel het daar by die put.

(Put van Jakob)

  1. Haar geslag
  2. Haar afkoms
  3. Haar sondige verlede
  4. Haar godsdienstige oortuiging

Eerstens was sy ’n vrou. In daardie tyd was dit onbetaamlik vir ’n man om in die openbaar met ’n vrou te gesels. ’n Vrou was haar man se besitting en sy moes gesien en nie gehoor word nie. Dit het ’n man se eer aangetas as hy in die openbaar met ’n vrou sou gesels. Maar Jesus praat met haar in die openbaar. Jesus sien ’n onbenullige vrou raak wat geen regte in die destydse samelewing gehad het nie. Jesus soek haar op.

Tweedens lees ons dat die vrou ’n Samaritaan was. Haar afkoms was dus ook teen haar. Die Jode het van die Samaritane as “honde” gepraat. En hier praat Jesus die Jood met hierdie hond van ’n Samaritaanse vrou. In plaas van hierdie hond weg te jaag, praat hy met haar oor die dinge van die ewige lewe.

Derdens lees ons dat Jesus ook verby haar agtergrond en sondige verlede kyk. Want hierdie vrou was nou nie juis ’n goeie vrou nie. Die huwelikswet van daardie tyd het bepaal dat ’n vrou slegs drie keer mag trou. Daarna is dit vir haar onbetaamlik. Hierdie vrou het egter al vyf mans gehad en ons lees in vers 18 dat sy sommer saamwoon met die sesde man, sonder om getroud te wees. Voorwaar ’n lekker skinderstorie, want sondig was hierdie vrou beslis! Maar Jesus praat met hierdie vrou met haar swak sedelike lewe.

Vierdens was hierdie vrou van ’n ander godsdienstige oortuiging as die Jode. Die Samaritane het op die berg aanbid en die Jode het in die tempel in Jerusalem aanbid. Daar was dus ’n duidelike godsdienstige verskil in aanbidding tussen die Jode en die Samaritane. Desnieteenstaande die verskil van godsdienstige oortuigings, praat die Here met haar oor die ewige geestelike water.

U sien dus dat Jesus verby haar geslag, haar afkoms, haar sondige verlede en haar geestelike oortuigings gekyk het en háár raakgesien het. Ja, die stukkende vrou, die klein mensie by die put, het Hy raakgesien.

Met alle respek: Jesus Christus is geen snob nie! Sy optrede het juis die godsdienstige snobisme van die Jode kontrasteer. Iemand is vir ons aanvaarbaar as die persoon aan al die vereistes voldoen wat ons soek. Geslag, afkoms, ’n goeie verlede of geestelike oortuigings speel ’n rol vir ons. Die Evangelie trek egter ’n streep deur alle snobisme. God sien hierdie Samaritaanse vrou raak, met al haar tekortkominge en betoon liefde aan haar. Net so kyk God verby my geslag, my afkoms, my sondes, my tekortkominge en geestelike oortuigings. God sien my raak soos ek is.

Johannes 4 vertel ons van ’n liefdevolle God wat bemoeienis met mense soos ek en jy maak. Weet dan vandag, al tel alles teen u – u tekortkominge, u agtergrond, u sonde, u verlede of u skandes – God is nooit teen u nie. Hy soek u by die wanhoopsput van u lewe. Jesus het Sy hande uitgesteek na die Samaritaanse vrou, die egbreeksters, tollenaars, siekes en melaatses en na sondaars.

Daarom moet die kerk van Jesus Christus ook bereid wees om haar hande uit te steek na prostitute, na die mense wat stink, na armes, na straatkinders en na sondaars. Ons mag nie bang wees om ons hande vuil te maak nie.

Ons moet leer om verby ’n persoon se geslag, afkoms, taal, kultuur, sondige verlede en geestelike oortuiging te kyk. Ons moet onsself nie blindstaar teen die vraag of iemand vir ons sosiaal aanvaarbaar is nie. ’n Christen mag geen ruimte laat in sy lewe vir godsdienstige snobisme nie.

Jesus Christus het die Lewende Water aangebied ongeag wie of wat die persoon is. Christus Jesus het Sy hande vuil gemaak met ons sonde en lewensnood. Snobisme is geen Christelike deug nie – dit kom van die duiwel. Daarom moet ons dit beveg in ons lewe.

Dan lees ons van die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou. Hoe tipies mens.

Wanneer Jesus aan die vrou die lewende water van die ewige lewe aanbied, dan dink sy vanuit ’n gerieflikheidsoogpunt: A, dis die einde van die stappery put toe. Nooit sal sy weer hoef water te skep nie. Die Here belowe aan haar die hemel en sy is bekommerd oor die aarde. Die Here belowe aan haar die hemelse water en sy is bekommerd oor water vir haar huis en diere.

Toe sy uiteindelik besef dat Jesus met haar wil praat oor haar godsdiens, toe blyk dit dat sy haar godsdiens net beleef as ’n plek waar sy aanbid. In vers 20 lees ons dat haar godsdiens bestaan uit ’n berg waar aanbid word.

Sy sê dat die Samaritane ’n berg soek om te aanbid en die Jode soek Jerusalem om te aanbid. Vir baie van ons bestaan ons godsdiens ook uit ’n plek of geleentheid waar ons aanbid. Vir baie bestaan hulle godsdiens uit ’n kerkgebou, ’n erediens op ’n Sondag of ’n biduur.

Dit is egter blote vormgodsdiens. Jesus Christus wil hierdie vrou bevry van vormgodsdiens. Hy wys haar toe daarop dat ware, egte godsdiens nie in ’n plek gevind word nie, maar in ’n Persoon, naamlik Christus die Messias. Ware godsdiens is ’n persoonlike verhouding met die lewende Here! U sien dus: ware godsdiens bestaan nie uit ’n plek waar aanbid word nie, ook nie uit ’n klomp moets en moenies nie. Dit gaan om ’n Persoon, naamlik Christus, die Messias. Alleen Hy is die Lewende Water en alleen Hy kan my verlos en my ewige dors les.

Die wonderlike uitkoms van die verhaal is dat die vrou wat deur haar gemeenskap uitgestoot is, die dorp Sigar red toe sy ’n getuie word van haar ontmoeting met die lewende Christus. Sy wat uitgestoot is deur haar dorp, tree nou inklusief op en vertel haar dorp van die wonderlike ontmoeting met Jesus.

Ons mensdom tree uiters eksklusief op, terwyl Jesus ons leer om inklusief te dink en op te tree teenoor vreemdelinge en mense wat anders as ons is. Wie inklusief leef, is dan ook goeie missionale werkers in God se akkers. Wie inklusief optree, verstaan iets van die hart van God en van die liefde van Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Olie en water meng nie

Skriflesing:  Daniël 1: 1 – 21

Wanneer ’n mens ’n paar druppels wit verf in ’n drom met rooi verf gooi, sal die enkele druppels geen verskil maak aan die rooi kleur van die verf nie. Die meerderheid sal die minderheid verswelg. So word dit ook in ons skrifgedeelte verwag. So was dit in die derde jaar van koning Jojakim van Juda dat Nebukadneser Jerusalem beleër het. Nie net het Nebukadneser tempelgereedskap van Jerusalem na Sinar geneem nie. Hy het dit geplaas in sy eie god se tempel se voorraadkamer.

Maar ons lees hy het ook Israelitiese jongmanne as slawe saam met hom na Babel toe geneem. Die koning het toe vir Aspenas, die hoofpaleisbeampte, beveel om vir hom die beste, gesondste en mees vooraanstaande Israelitiese jongmanne na die paleis te bring, sodat hulle opgelei kan word om in diens van die koning te staan.

  • Hulle moes drie jaar onderrig word in die Babilonieërs se gewoontes en gebruike.
  • Hulle moes die Galdeërs se skrif en taal ook aanleer.
  • Hulle moes elke dag die kos en die wyn van die koning eet.

Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Maar die hoofpaleisbeampte het hulle ander name gegee: Daniël het geword Beltsasar, Gananja het geword Sadrag, Misael het geword Mesag en Asarja het geword Abednego.

Daniël (Beltsasar) is vernoem na  Bel, die hoofgod van die Babilonieërs. Die ander drie jongmanne is vernoem na die Babiloniese gode van son, aarde en vuur. Al vier het dus heidense name gekry, dié van heidense gode. Die doel van Nebukadnesar was dat die vier jongmanne uiteindelik volbloed Babilonieërs sal word wat ook die Babiloniese gode sal aanbid. Dit is net te wagte dat die vier jongmanne, omdat hulle die minderheid is, later sal word soos die meerderheid. Hulle is bestem om volbloed Babiloneërs te word.

In Suid-Afrika is Godvresende Christene ook in die verre minderheid. Dit sien jy in die kerkbesoek van Christene van alle kerke in  ons land. Ek praat nie van naam-Christene, wie se name net in die boeke van die kerk opgeteken staan nie. Ek bedoel Godvresende Christene vir wie kerkbywoning en die nakom van God se wet nog belangrik is. Dikwels gebeur dit dat eens warm Christene later lou word en later koud en later yskoud.

Verwêreldliking geskied nie oornag nie. Die minderheid word nie oornag soos die meerderheid nie. Dit is ’n geleidelike proses.

As ’n padda onmiddellik in warm water gegooi word, sal die padda dadelik uitspring.

Maar as die water geleidelik opgewarm  word, sal die padda dit nie eens agterkom nie en homself doodbrand. Die wêreld spoel die kerk binne, in plaas daarvan dat die kerk die wêreld inspoel. Morele waardes van die wêreld  het heeltemal verkrummel. Christelike standaarde het getuimel. Humanisme het die kerk geïnfiltreer en gesaboteer.

Maar met Daniël en sy drie vriende was dit anders. Olie en water meng nie. So het Daniël en sy drie vriende nie geswig onder die druk om aan die meerderheid toe te gee nie. Daniël en sy drie vriende het hulle nie verontreinig deur die wyn en kos te eet wat aan afgode gewy was nie. Hulle sou net groente eet en water  drink. Na ’n proefneming van tien dae het hulle voorkoms beter gelyk as die res van die jongmanne. Na die tyd wat die koning bepaal het, is die jongmanne na die koning gebring. Die koning het niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle was beter as die towenaars en waarsêers. Hulle het toe in diens van die koning getree.

Maar onthou, hulle was in die wêreld van Nebukadnesar, maar nie van die wêreld van Nebukadnesar nie.  Hulle het nog die ware God van Israel aanbid. Sedrag, Mesag en Abednego het byvoorbeeld in Dan 3: 1 – 30 nie gebuig voor die 30-meter hoë afgodsbeeld in Duradal, wat ’n provinsie van Babel was nie.

Hulle is in ’n brandende vuuroond gegooi. Hulle het ongedeerd uit  die vuuroond gestap, met die reddende hand van die Here. Die Here het ’n engel gestuur om saam met hulle in die vuuroond te wees.

Onthou daarom, ons is in die wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Daarom leef ons anders. Daarom staan ons uit. Dit beteken daarom dat ons ook dikwels bespotting en lyding sal moet verduur, ter wille van die Evangelie. Daarom lees ons het Daniël en al drie sy vriende ook erge lyding verduur, ter wille van hulle gehoorsaamheid en toewyding aan die Here.

Ons lees ook dat Daniël in koning Darius se tyd drie keer per dag tot God gebid het met sy aangesig na Jerusalem (Dan 6: 1 – 29). Die goewerneur-generaals en ministers het jaloers geword op Daniël en het iets gesoek om hom voor die koning aan te kla. Hulle kon dit net vind in sy godsdiens.

Verder was sy lewe en werk onberispelik. Toe hulle hom uitvang in sy godsdiens het hulle hom by die koning gaan aankla en dié het hom baie teensinnig in die leeukuil gegooi. Maar die Here het die bekke van die leeus gesluit en Daniël het die volgende môre nie eers ’n skrapie aan hom gehad nie.

Olie en water meng nie. Kerk en wêreld meng nie. Christendom en afgodery/ vreemde godsdienste meng nie.’n Afgewaterde Christen is geen Christen nie. ’n Afgewaterde geloof is geen geloof nie.

Wat dikwels gebeur in die swart kultuur is dat die meerderheid swart gelowiges vashou beide aan Christus en aan hulle voorouerverering. Dit noem ons in die teologie “sinkretisme”.   Dit is heeltemal verkeerd. Die Evangelie en voorouerverering kan nie saamloop nie. Jy moet ’n besliste keuse maak. Daarom moet ons vir ons swart medegelowiges bid, dat hulle net aan die Evangelie sal vashou. Olie en water meng nie.  

Daarom mag ons nie meng met hierdie wêreld nie. Ons as Christene is in die wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Net so was Daniël en sy drie vriende in die heidense wêreld van koning Nebukadnesar, maar hulle het nie gemeng met die gewoontes en godsdienste van die Babiloniese ryk nie.

Olie en water meng nie!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Lewensvervulling beteken om tyd sinvol te gebruik

SKRIFLESING: Job 9: 25 – 26 en Pred 3: 1 – 22

Veronderstel iemand sou u die keuse gee om tien of twintig jaar jonger te word, wat sou u keuse wees? Ek sal beslis nie kies om jonger te word nie. Want sien, tyd bring insig, lewensrypheid en wysheid. Om jonger te word, sou vir my beteken om agteruit te boer. Juis daarom moet ons ons nie daaroor verknies dat die tyd aanstap en ons ouer word nie.

Om ouer te word is nie vir my ’n probleem nie. Wat wel vir my ’n probleem is, is die spoed en tempo waarteen tyd verloop. Job beskryf die spoed waarteen sy lewensdae korter word in hoofstuk 9: verse 25 – 26 as volg: “My dae skiet vinniger as ’n naelloper verby sonder dat ek iets goeds beleef, hulle gaan vinnig by my verby soos papirusbote, soos ’n arend wat afskiet op sy prooi.” Toe my jongste seun Johannes nog baie klein was, sê hy eendag vir my: “Pappa, ek is nog klein, ek gaan nog lank leef. Wanneer ek groot is, is pappa al ’n oupa.” Toe ek jonk was, het ek ook so gedink, gedink die lewe lê lank en oneindig voor jou. Helaas moet ek ook soos Job en Prediker sê dat die tyd vinnig verby skiet. Juis daarom is Job en Prediker se raad dat ons spaarsamig met die tyd moet omgaan. Ons moenie tyd verkwis op nietighede nie. Eintlik kan ons ook nie op tyd spaar nie, ’n mens moet net jou tyd verantwoordelik bestuur en met die regte prioriteite lewe.

Chris Jones vertel van die oom wat een Saterdagoggend op ’n radio-onderhoud die volgende vertel. Toe hy 55 jaar oud was, het hy baie oor sy lewe nagedink. Hy het vir homself gesê dat die gemiddelde manspersoon ongeveer 75 jaar oud word. Sommige word ouer en ander sterf vroeër, maar kom ons werk op die gemiddelde. In so ’n geval het iemand 3900 Saterdae in sy lewe tot sy beskikking. Hy was reeds 55 jaar oud en dus het hy alreeds 2860 Saterdae opgeleef. Hy het nog ongeveer 1040 Saterdae oor, sou hy 75 jaar oud word.

Hy het daar en dan winkel toe gery en 1040 albasters gekoop en dit in die glasfles gesit. Elke Saterdag het hy een albaster uitgehaal en weggegooi. Die oom het in die afsluiting van die radio-onderhoud gesê dat, terwyl die albasters elke Saterdag verminder het, hy hom al meer ingestel het om met wysheid te lewe, maar ook met die regte prioriteite.

Terwyl ons lewe verganklik en onseker is, roep die Here vir ons op om sinvol te lewe. Ja, om sin te gee aan die lewe. Die Here wil hê ons moet ons lewe opleef en elke dag voluit lewe. Juis daarom sê Prediker in hoofstuk 3: 22 die volgende: “Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk, dit is wat jou toekom.” Nog verder sê Prediker in hoofstuk 9: 7 – 9 die volgende: “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n blye gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet …” Vers 10 het ’n verdere opdrag: “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen …” Met ander woorde, ons word opgeroep om met oorgawe te lewe. In Latyn is daar die spreuk: “Carpe Diem”, wat beteken “om die dag te gryp”. Dit beteken om in alles ’n geleentheid te sien of ’n geleentheid te skep.

Mense wat ’n vol, vervulde lewe gelewe het, sterf baie makliker en mooier as mense wat hulself nog op hulle sterfbed kwalik neem omdat hulle hul lewensdae gemors het op nietighede. Daarom leer die Here Jesus vir ons om na die lewe te kyk vanuit die perspektief van die dood. Eers as jy jou verganklikheid besef en erken, kan jy leer om vreugdevol en sinvol te lewe.

Tydsbestuur bly die meeste van ons se probleem. Daar word vertel van die dosent wat op ’n dag vir sy klas studente ’n demonstrasie wou gee oor tydsbestuur. Hy het ’n groot glasfles geneem en dit vol groot klippe gepak. Hy vra toe vir die klas of die fles versadig is. Tot hulle verbasing, gooi hy daarna ’n klomp gruis in en skud die fles. Daarna gooi hy nog fyn sand by en skud die fles en laastens gooi hy ook nog water in. Alles pas mooi in die fles.

Toe hy dieselfde inhoud van klippe, gruis, sand en water gebruik en die eksperiment omkeer en eers die water, toe die sand, daarna die gruis en laastens die klippe inpak, kom amper nie die helfte van dieselfde inhoud in die fles nie. Net so, verklaar die dosent, moet ’n mens altyd in jou lewe begin met die groot klippe, die belangrikste prioriteite in jou lewe, en dan sal daar nog plek wees vir die alledaagse nietighede. Maar wie sy lewe verspil op nietighede, mis die groot en belangrike prioriteite in sy lewe.

As ’n mens die Bybel goed bestudeer kom jy agter dat verhoudinge vir die Here baie belangrik is. Jou verhoudinge met God, jou lewensmaat, kinders en met die mense op jou pad is vir God van kardinale belang. Vir die Here is ook jou daaglikse werk baie belangrik. Juis daarom is ’n mens se werk nie maar net iets wat ’n inkomste inbring nie, maar ’n roeping. Juis daarom roep die Here ons op om elke dag kwaliteit by te voeg tot ons huwelike, ons kinders se opvoeding, ons medemens en ons lewensroeping om van hierdie wêreld ’n beter plek te maak. Dit gaan daarom nie soseer oor wat ek uitkry uit die lewe nie, maar dit wat ek insit in die lewe. Die lewe gaan nie slegs daaroor om te ontvang nie, maar om te gee. Dít bepaal lewenskwaliteit en sin in die lewe.

Ons lewensmaat is net aan ons geleen. Omdat ons nie weet hoe lank hierdie tyd is nie, moet ’n mens die mooiste daarvan probeer maak. “Geniet jou vrou …” sê Prediker. Ja, ek moet my man of my vrou weer mooi en gelukkig aan die Here teruggee.

’n Mens se kind verlaat die huis op ongeveer agtienjarige ouderdom. Laat ons uitwerk hoeveel Saterdae, hoeveel albasters is in my fles om my kind te koester en met wysheid te beïnvloed. Ek werk uit: ’n skamele 936 Saterdae. Juis daarom moet ons tyd maak vir ons kinders. ’n Gemiddelde loopbaan duur ongeveer 40 jaar, met ander woorde 2080 Saterdae. Ek het net 2080 weke om deur my loopbaan van hierdie wêreld ’n beter plek te maak.

Eers wanneer ek deur die kortstondigheid van hierdie lewe getref word, besef ek daar is ’n tyd vir alles. Juis daarom moet ek met oorgawe lewe, myself ontwikkel en my talente gebruik. Ek moet geluk vind in my lewensmaat, my kinders en met die mense op my pad. My werk moet my roeping word.

Ja, ek moet mooi lewe, ’n regverdige lewe nastreef en God se wil bo alles soek. Dit sal my gelukkig maak en vir my sin in my lewe gee. Luister hoe sluit Prediker sy boek af in hoofstuk 11 vers 13: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie.”

Eers as ek so ’n vol, mooi en regverdige lewe gelei het en kwaliteit toegevoeg het tot my lewensmaat, kinders en die mense op my lewenspad, kan ek met vreugde sterf. As ek my loopbaan beskou as ’n roeping en daardeur kwaliteit toevoeg tot die lewe, kan ek eendag, oor ’n aantal Saterdae vorentoe, in vrede bid op my sterfbed, die gebed van die kerkvaders: “ In U hande gee ek my gees oor!”

Soos jy gelewe het, so sal jy ook eendag sterf.    AMEN      

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus skep vir Hom ‘n familie aan die kruis

SKRIFLESING: Joh 19: 26 – 27

In my bediening as predikant het ek al dikwels opgemerk dat die dood mense weer bymekaar bring. Ek het al soveel male gesien hoe familielede wat jare laas met mekaar gepraat het, by die sterfbed weer die ou familiebande optel en met mekaar versoen raak. Jarelange vetes word dikwels ook by die sterfbed begrawe. Die dood herstel verhoudinge.

Terug in die dorp daar naby sou hy die volle verhaal hoor. Hulle was van buurplase en het mekaar liefgehad. Hulle ouers was egter in ’n jarelange ou rusie gewikkel en daarom moes hulle mekaar in die geheim ontmoet … so ook op daardie noodlottige dag toe hulle met perde na Mount Aux Sources gery het.

Die rede vir die ouers se rusie is vandag onbekend. Was dit waterlei-beurte of beeste wat grensdrade gebreek het? Was dit politieke- of kerkgeskille? Dalk was dit ’n misverstand by die koöperasie. Wat ook al die rede was, die ouers het besluit om mekaar ten alle koste te vermy.

So het dit aangegaan tot op daardie noodlottige dag toe hulle kinders saam sterf. Dit het die ouers tot rede geruk, hulle het vrede gemaak en die paartjie langs mekaar begrawe.

So het elke plattelandse of stedelike gemeenskap talle gevalle waar bure of mense van dieselfde gemeenskap moeilik met mekaar oor die weg kom. Dikwels is daar familie-rusies of onenigheid. Gewoonlik is kwaai vriendskap van daardie onbenullige sake wat amper te gering is om met rede aan te voer.  Dit kan ontwikkel in jarelange vetes, wat sleg is vir die gemeenskap of gemeente. In maatskappye of kleinsakeondernemings kan mense met mekaar in onvrede leef en so oneffektief vir die sakeonderneming word. Die gemeente kan oor kerksake baklei, met die gevolg dat mense hulle vertroue in die kerk verloor.

Jaco Thom skryf dat 1 Kor 13 as’t ware die bladmusiek is wat vir ons kom leer wat liefde is. As die gemeente die bladmusiek volg, is daar eenheid en samehorigheid in die gemeente.  Soos daar verskillende musiekinstrumente is, so het elke lidmaat ’n unieke bydrae tot die orkes se liefdesimfonie. Maar ons moet die dirigent, die Here Jesus Christus, volg sodat ons nie die liefde vals speel nie. Wanneer die liefde vals gespeel word, kom daar onenigheid tussen bure en tussen mense wat voorheen vriende was.   Daarom staan daar in 1 Kor 13: 1b:   … maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword.

Dikwels ontstaan sonde met die bure en kwaai vriendskap met ander mense of familie met dié dinge wat 1 Kor 13 uitlig, naamlik ongeduld, jaloesie, verwaandheid en liggeraaktheid of die gewoonte om boek van die kwaad te hou. Hierdie gesindhede is die oorsaak van onvrede met die bure of iemand in die gemeenskap.

Met Jesus se dood aan die kruis op Goeie Vrydag leer ons ook hoedat Jesus ’n familie skep. Sy moeder Maria het verwese gestaan, besig om haar oudste kind te verloor aan ’n wrede dood. Johannes, Jesus se liefling-dissipel, het ook daar gestaan. Dan spreek Jesus Sy derde kruiswoord tussen 09h00 en 12h00.

Jesus het vir Maria gesê: “Daar is u seun.” Toe sê Hy vir Johannes: “Daar is jou moeder.” As’t ware skep Jesus hier nuwe familiebande. Hy bind Maria en Johannes in ’n nuwe moeder-en-seun verhouding.

Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ’n nuwe geestelike familie skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ’n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ’n geestelike familie.

Jare gelede was dit gebruik dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hulself elkeen met ’n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het. Dit  was die teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers”. Aan die kruis was dit nie nodig dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ’n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.

Daar staan verder in Johannes 19:27 (b) dat Johannes vir Maria in sy huis opgeneem het. Dit impliseer versorging en ’n tuiste. So moet die kerk as geestelike familie vreemdelinge opneem in hulle midde as broers en susters van mekaar.

Die hartseer van die Christelike kerk is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges. Dit getuig van ’n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.

Wanneer jy in die huwelik tree, trou jy ook met jou skoonfamilie. Hulle word deel van jou familie. Wanneer jy nie jou skoonfamilie aanvaar nie, bring dit spanning en ongelukkigheid in die huwelik. Wanneer jy in ’n verhouding met Jesus Christus is, moet jy ook die familie van Christus aanvaar en liefhê. Jy kan jouself nie uitsluit van jou aangetroude familie nie. Jesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ’n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem, en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.

Jy kan nie die Here Jesus aanbid sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ’n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees (1 Kor 12). Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ’n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk nie, is jy soos ’n los steen, wat nutteloos buite die gebou rondlê.

Daarom het ons die verantwoordelikheid om by kerkbyeenkomste na die persoon toe te gaan wat ons die swakste ken en wat dalk ’n vreemdeling is en hom of haar te verwelkom en beter te leer ken. Dit is Christelike gasvryheid, wat mense verwelkom in die gemeenskap van gelowiges.

Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID myself afsonder op ’n eiland nie. Dan is ek doodeenvoudig nie ’n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.

Die prediker Fred Cradock het geskryf: “ The measure of your christianity is not who you feed, but who you eat with.” Ons kan maklik vir behoeftiges kos of ’n bydrae gee. Maar is ons bereid om saam met hulle te eet? Dit is die toets van ware Christenskap.

Netso kan ek nie op die kantlyn van die kerk staan en gedurig die kerk kritiseer nie. Ek moet deelneem aan my geestelike familie se aktiwiteite deur solidêr EEN met my geloofsfamilie te wees.

Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle mede-kerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ’n plek van sondaars is. Die kerk is ’n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter as ek nie my mede-kerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al nie.

Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.

Vanoggend vier ons die heilige Nagmaal. Die brood bestaan uit baie graankorrels wat gemaal is om een brood van te maak. Die wyn bestaan uit baie druiwekorrels wat saam gepers is om een glasie wyn te maak. So is God se kinders ook gemaal en gepers in Jesus se sterwe en opstanding om EEN HEILIGE ALGEMENE KERK te wees. Ons hoort bymekaar, want Jesus het ons gemaal en gepers om een geloofsgemeenskap te wees.

As u mooi kyk na die viering van die Nagmaal, gaan daar brood en wyn oorbly. Dit is bedoel vir die vreemdeling wat nog moet inskakel in die geloofsgemeenskap. Daarom moet die Here se kerk gasvry wees, om vreemdelinge te ontvang en welkom te laat voel.

Die kruis van Christus is soos ’n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ’n magneet na mekaar toe, om ’n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan. Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede-gelowige toe trek.                                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Engele is soms sonder vlerke

SKRIFLESING: Hebreërs 13:2

Die Ou Testamentikus Claus Westermann het ’n boekie oor engele geskryf met die titel Gottes Engel brauchen keine Flügel God se engele het nie vlerke nodig nie. Dié boek het baie herdrukke beleef. Hy toon aan dat in verskillende tydvlakke van die Bybel, die Godsvolk verskillend oor engele praat. 

Daarom kan ’n mens ook nie iets soos ’n leerstuk oor engele formuleer nie. Die Bybel stel nie in engele belang nie, maar in God.  Engele is slegs boodskappers van God. Engele is God se helpers en somtyds God se draers van boodskappe in mensetaal. Westermann sê daarvoor het hulle nie altyd vlerke nodig nie.

In die pragtige Psalm 91 lees ons dat God Sy engele opdrag sal gee om ons te beskerm. Dit lees in vers 11 as volg: Want Hy sal sy engele oor jou opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie. In Daniël 3: 28 lees ons van die engel wat saam met Daniël se vriende in die vuuroond was. Daar staan: Nebukadnesar het daarop gereageer en gesê:  “Die God van Sadrag, Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het … In Dan 6: 23 lees ons hoedat die engel die bek van die leeus gesluit het en vir Daniël beskerm het. Daar staan: My God het sy engel gestuur en Hy het die bekke van die leeus gesluit, sodat hulle my geen leed kon aandoen nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is.

Die Bybel is vol getuienis van die werking van engele in mense se lewens. Ons moet egter onthou dat engele slegs die instrumente van God is. Daarom mag ons hulle nie aanroep of aanbid nie. Ons roep die Here aan en Hy sal sy engele stuur om ons te bewaar en te beskerm.

Dit is merkwaardig hoe dikwels mense engele nie herken het nie, maar dat engele in gewone gestaltes (vlees-en-bloed engele) aan mense verskyn het.

In Gen 18 het Abraham by Mamre gesit en drie manne sien naderkom. Hy het hulle slegs as besoekers herken en hulle met tipiese Ou Testamentiese gasvryheid bederf. Toe die drie manne vir hom en Sarah die boodskap bring dat hulle in hulle gevorderde ouderdom oor ’n jaar ’n seun in die wêreld sou bring, het Sarah selfs daaroor gelag. Hulle het die drie manne nie herken as engele nie. Want die drie manne het nie vlerke gehad nie. Hulle was tipies geklee soos Midde-Oosterse  mans.

Dirkie Smit skryf dat mense dikwels eers later besef dat dit engele was wat hulle bygestaan, vertroos of bemoedig het.

In die Nuwe Testament word daar meestal van engele gepraat by die hoogtepunte van Jesus Christus se lewe. Maar die engele wys altyd heen na Christus, in wie God nader as ooit aan ons gekom het in ’n vleeslike gestalte, aldus Dirkie Smit.

In Hebreërs 13:2 staan daar: Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.

Abraham en Sarah het ook nie geweet hulle ontvang engele nie. Hierdie engele het vir hulle ’n goeie boodskap van ’n seun gebring. Net so moet ons alle mense ontvang met gasvryheid. Ons kan dalk net ’n engel ontvang en ons weet dit nie.

In Mat 25: 35 – 46 staan daar: 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.” 37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: “Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee?  39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?” 40En die Koning sal hulle antwoord: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”41Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: “Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.” 44Dan sal hulle ook antwoord: “Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?” 45En Hy sal hulle antwoord: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.” 46En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.

Wat belangrik is, is dat ons dikwels deur engele besoek word in gewone menslike gestaltes. Dit kan iemand wees wat ons bemoedig of in nood help. Dit is al die vreemde gestaltes waarin God aan ons verskyn. Dikwels sal die engel wat ons help, menslik wees. Ons almal het ervarings van hoe mense ons onverwags gehelp het. Of hoedat mense in ons donkerste uur vir ons lig gebring het. Was dit nie miskien ’n engel nie?

Ek onthou baie jare gelede was ons jongste seun Johannes baie siek. Hy het buitengewone hoë koors gehad. Hy is opgeneem in een van Kimberley se privaathospitale. Hy is ontslaan, maar die koors het nog nie gebreek nie. Hy is toe later in een van Bloemfontein se privaathospitale opgeneem. Verskeie spesialiste het hom besoek, maar sy koors wou nie breek nie. Ons was moedeloos en verward. Die spesialiste wou hom toe later na die Pasteur Hospitaal stuur wat in virusinfeksies spesialiseer. Ons was gedaan, moedeloos en hartseer. Dit het gevoel of dit die einde van die wêreld is.

Een middag, rondom middagete, was ek alleen by Johannes se bed. Anneke het gaan eet. Skielik stap daar ’n Christen-advokaat die kamer binne, wat ek van geen kant ken nie. Hy vra toe of hy vir Johannes ’n gebed kan doen. Ek vra vir hom asseblief. Hy het ’n mooi gebed gedoen. Toe hy net uit is, kom Anneke die hospitaalkamer binne. Ek vertel toe vir haar van die advokaat wat vir ons kind gebid het. Feitlik onmiddellik daarna vra sy of die oorsaak van Johannes se siekte nie miskien sy mangels is nie. Toe die spesialis weer ’n besoek doen, vra ek hom om spesifiek na die mangels te kyk. Hy doen so en sê dadelik dat die mangels vrot is van infeksie. Hy bel toe dadelik ’n ander spesialis wat in mangels  spesialiseer. Binne tien minute daag hy op. Hy verander die antibiotika wat per drup toegedien word. Die volgende oggend speel Johannes vir die eerste keer in tien dae. Hy was vir tien dae dodelik siek en verskeie spesialiste het hom ondersoek. Niemand kon die oorsaak kry nie. Vir my was die advokaat wat ingestap het en ’n gebed gedoen het, die engel wat God gebruik het om Johannes te genees. Want onmiddellik na sy gebed kry Anneke die wysheid om te vra of die oorsaak nie by die mangels lê nie. Voorwaar was die advokaat ’n engel vir ons.  

Daar was ook die keer toe ons as die Ring van Hopetown ’n predikante-retreat gehad het. Ons het onder andere na die Van der Kloof-dam gaan kyk en ons was ook binne die damwal. Johannes was klein. Op ’n stadium raak ons almal in vervoering oor die skoonheid van die dam. Dit is net toe dat Johannes wegbeweeg van ons af. Daar was ’n reuse-gat in die damwal. Sou Johannes daar afval, is dit meer as ’n honderd meter afgrond na sement. Anneke kyk net betyds om en gryp hom aan sy klere voor hy daar afval. Dit was vir my die mees skrikwekkende oomblik in my lewe. Ek glo dit was God wat sy beskermengel beskik het, dat Johannes betyds gevang is deur Anneke. Daarom glo ek vas aan wonderwerke.

Ons mag nie engele aanbid nie. Engele kan nie uit hul eie uit optree nie. Hulle kry hulle boodskappe en opdragte van God. Hulle is maaksels van God. Daarom aanbid ons alleen die Drie Enige God. Hy stuur en beskik oor die engele. Somtyds stuur God ook mense as engele.

Wat belangrik is, is dat God ons ook kan gebruik as engele. As ons vir iemand wat honger is, kos gee of vir iemand wat dors is, water gee of iemand besoek wat siek is of in die gevangenis is, tree ons op as engele van God.

Dikwels kan ons derduiwels wees met mekaar. Ons beduiwel mekaar. Ons doen duiwelse dinge en bedink duiwelse goed. Ons het dikwels ’n duiwelse agenda. Dan roep die Evangelie ons op om op te tree soos engele vir mekaar. Ja, om goed te doen aan ander.

Jy kan miskien die engel sonder vlerke wees. Onthou ons word deur God gestuur.  Daar is hemelse engele en aardse engele. Wees jy die aardse engel in ander mense se lewens, mense wat jou nodig het.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Sonde beroof die goeie

SKRIFLESING: Psalm 51

“Sonde” is ’n woord wat uit die mode geraak het. In die oorspronklike Joods-Christelike tradisie is dikwels oor sonde gepraat. In baie mense se woordeskat bestaan sonde ongelukkig nie meer nie. Sielkundiges en sosioloë gee sonde ’n ander naam. Selfs in die kerk praat ons nie dikwels oor sonde nie, vanweë die invloed van humanisme op die kerk. Humanisme glo in die inherente goedheid van die mens.

As ons wel oor sonde praat, praat ons eerder oor ’n ander een se sonde. Of ons vermy sonde of ons verplaas dit na ’n ander mens.  Mense maak soos Adam en Eva. Ons kruip weg vir ons eie sonde. Andersins verplaas ons dit na ander mense. Toe die Here vir Adam genader het oor sy sonde, het hy sy sonde verplaas na Eva en sommer ook vir God blameer wat hom die vrou gegee het. Eva het weer die slang blameer.

Begryplik is dat die woord “sonde” in die wêreld min gebruik word. Maar in die kerk moet dit juis gebruik word. God het vir Adam en Eva in die paradys gaan soek. Hy het ’n ontmoeting gereël, omdat God die sonde wil uitpraat. Die kerk is die een plek waar sonde-taal beoefen moet word, al praat die mense daarbuite nie meer so nie.

Ek moet ook nie besig wees om ander se sonde heeldag uit te wys nie. Ek moet besig wees om my eie sonde te ondersoek en daarmee erns te maak. Wie is glashuise woon moet nie met klippe gooi nie.

Daarom soek God ons elke Sondagmôre in die erediens om oor sonde te praat. Ongelukkig verval die sonde-belydenis dikwels as liturgiese element in die erediens. In die verlede was die sondebelydenis in die erediens en kerklike tug en opsig ’n wesenlike deel van ons Calvinistiese tradisie.

Wanneer daar nie oor sonde gepraat word nie, verval die samelewing in oppervlakkigheid. Ons eie lewe verval in oppervlakkigheid as ons nie oor sonde praat en onsself ondersoek nie.

Daarom sê die Nagmaalsformulier ook uitdruklik dat ons onsself moet ondersoek voor ons by die tafel gaan aansit. Ongeveer twintig jaar gelede was dit nog die  gebruik om die Saterdag voor Nagmaal of die vorige Sondag ’n voorbereidingsdiens te hou met die oog op die Nagmaal. Ongelukkig het ook dit verval.

Daarom is veral ook die Lydenstyd van die kerk tussen As-Woensdag en Paasfees ’n tyd van vas en boetedoening. Sondebelydenis moet ’n tyd wees wanneer ons nie meer wegkruip of ons sonde verplaas of dit ander name gee nie. Dit moet ’n tyd wees wanneer ek my sonde name gee. Dit moet ’n tyd wees wanneer ek beskryf wie en wat ek regtig is.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Dawid se opregte skuldbelydenis na sy owerspel met Batseba, die vrou van Uria. Boonop het hy vir Uria doodgemaak, deur opdrag te gee dat hy in die voorste linies moes veg. Toe die profeet Natan na hom toe gekom het, het Dawid onmiddellik sy sonde bely en in sak en as gesit, sonder om te eet. Vanuit sy diepe berou het hy die opregte Psalm 51 geskryf.

Sonde is nie iets nie, het nie ’n eie ontstaan nie, is nie aanwysbaar en identifiseerbaar nie.     

Augustinus het gesê sonde is “privatio boni” – ’n berowing van die goeie. Sonde teer op die goeie. Sonde leef na aan die goeie. Sonde volg die goeie soos ’n skaduwee. Sonde misbruik die goeie en beroof die goeie. Sonde lewe van die goeie. Dit is dus is soos ’n parasiet. Daarom is dit moeilik om sonde te herken. Die bose doen hom voor as ’n engel van die lig.

As ek een vinger na ’n ander wys, wys al my ander vingers na myself. Wie in glashuise lewe, moenie klippe gooi nie. Sonde is inderdaad parasities. Sonde kom onder die dekmantel van die goeie.

Paulus skryf: Ek wil die goeie doen, maar as ek myself weer kom kry, het ek die kwaad gedoen. Sonde mislei ons. Richard Niebuhr skryf as ons sondig, weet ons meestal nie wat ons doen nie.

Ons kan dikwels bedwelm word deur die tydsgees. Ons het Apartheid gepleeg en toe nie eers besef ons sondig nie. Die Nazi-regering in Duitsland het miljoene Jode uitgemoor, en toe nie gedink dit is sonde nie. So kan ’n tydsgees ’n hele volk bedwelm, sonder om die sonde raak te sien. Die ANC-regering pleeg korrupsie in die ergste graad, maar hulle besef nie eers dit is sonde nie. Vir hulle is dit aanvaarbaar dat die leiers van die ANC sake met die staat doen.

Ons weet somtyds nie wat ons aan ons lewensmaats doen nie. Ons weet dikwels nie eers wat ons aan ons kinders doen nie. Ons weet dikwels nie wat ons aan ander doen nie. Ons weet nie, omdat die sonde te na aan die lig lewe, omdat dit in die gedaante van die goeie verskyn.

Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ’n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals wat ’n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.

’n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ’n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ’n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste, om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun: “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met versoekinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.

Soos wat om honger te raak en te eet, alledaags is – net so is versoekinge deel van die daaglikse lewe.

Daarom het Jesus aan die kruis geroep: “ Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dan bedoel Jesus dit is ons wat nie weet wat ons doen nie.

Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker. Sy 95 stellinge het begin met boetedoening. Sy eerste stelling “Toe ons Heer en Meester, Jesus Christus, gesê het ‘Doen boete’ (toon berou, bekeer julle) was dit sy wil dat die hele lewe van die gelowige een van berou moet wees.” 

Daarom pas dit by ons Calvinistiese tradisie om ons armoede voor God en ons gebroke lewe voor God te besef.  In die Rooms-Katolieke tradisie is bieg een van die sakramente. Vir ons beteken berou egter die doding van vleeslike gedrag.

Daarom kom die 95 stellinge neer op (1) die grootheid van my sonde en (2) Christus Jesus se algenoegsame redding.

Die Middeleeuse kerk het in die hervorming ’n verskuiwing gehad in vroomheid. Ek moet nie net vroom in die kerk wees nie, maar ek moet ook in die wêreld vroom wees.

Daarom moet ek elke dag vroom ondersoekend my lewe ondersoek voor God se Woord. Ek moet biddend nadink oor my lewe en my sonde een vir een voor God bely.

Dan sal ek elke dag verwonderd, dankbaar voor God staan vir sy algenoegsame verlossing in Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Onverdienstelike gevalle aan ‘n weelderige feestafel

SKRIFLESING: Mat 22: 1 – 14

’n Verloofde paartjie het in ’n eksklusiewe hotel in Boston reëlings getref vir hulle bruilofsonthaal.

Altwee het baie duur smaak gehad en net die beste uitgekies: die voortreflikste spyskaart, die indrukwekkendste silwerware, die mooiste blommerangskikkings. Die rekening het op dertigduisend dollar te staan gekom. Hulle het die volle bedrag betaal.

Op die dag van die bruilof was die bruidegom nog in San Francisco. Juis oor daardie naweek was Amerika in een van die ergste sneeustorms van dekades vasgevang. Die San Francisco Internasionale lughawe was vir alle lugverkeer gesluit. Daar was nie ’n manier hoe die bruidegom binne ’n halwe dag oor die Amerikaanse kontinent kon kom om betyds te wees nie.

Aangesien die gastelys uit vooraanstaande mense saamgestel is, vir wie tyd kosbaar is, is hulle betyds per telefoon laat weet dat die huwelik vir eers onbepaald uitgestel is. Maar hoe gemaak met die bespreekte hotel, die voortreflike vyfgang-ete, die silwerware, die blomme – alles is immers al klaar betaal.

Dis toe dat die bruid die roekelose idee gekry het om voort te gaan met die onthaal, nie as ’n huweliksbanket nie, maar sommer net as ’n reuse feespartytjie. Sy het die dakloses van Boston uitgenooi vir ’n aand wat hulle nooit sou vergeet nie. Daar is inderhaas uitnodigings na al die skuilings vir dakloses in Boston gestuur.

So het daar op ’n koue wintersaand ’n onthaal plaasgevind soos die personeel nog nooit beleef het nie. Mense het van heinde en verre opgedaag: vertoiingde bejaardes met krukke en kieries, mense wie se aardse besittings in ’n supermarktrollie kon inpas, boemelaars wat gewoond was om onder kartonne te slaap, verslaafdes wie se harde lewensverhaal op hulle gesigte uitgekerf was. Hulle het aangesit by die tafels met die kraakwit linne en die gepoleerde silwerware, is bedien deur kelners in aandpakke, en het gesmul aan die vyfgangmaaltyd wat deur die beste kokke voorberei is. Soos wat die aand gevorder het, het hulle sjampanje gedrink, troukoek geëet en geluister na die strelend musiek wat deur die orkes verskaf is.

Laat daardie aand daag die bruidegom toe op. Die bruidegom, aangedaan deur die vreugde en dankbaarheid van die dakloses, besluit toe sommer om net daar te trou. Hy laat die predikant dadelik kom en hulle twee word in die huwelik bevestig.

So ’n skreiende kontras tussen onverdienstelike gevalle aan die een kant en weelderige feesvierings aan die ander kant het jy in jou lewe nog nooit gesien nie. Behalwe … in die Evangelie. Kyk mooi: tussen die tafels deur stap die Gasheer. Sy glimlag sê alles.

In die gelykenis lees ons van die Koning wat vir sy seun ’n bruilof gereël het. Hy het sy slawe uitgestuur om die bruilofsuitnodiging aan al die genooides te rig.

Dan lees ons hoedat die genooides hulle nie gesteur het aan die uitnodiging nie. Ja, hulle het verskonings gehad. Ja, hulle het selfs sommige van die slawe (die boodskappers) doodgemaak. Jesus self het hierdie gelykenis aan die Jode vertel om iets by hulle tuis te bring. Die koning is eintlik God self, die seun is Jesus Christus, die slawe is die apostels van die Here en die genooides is die Jode. Die bruilof self is die naderende Wederkoms.

Ja, God is op hierdie oomblik besig om ’n groot bruilof te reël vir die wederkoms van sy seun, Jesus Christus. Die uitnodiging na hierdie bruilof het Hy allereers aan die Jode gerig. Die Jode het heel eerste die uitnodiging ontvang. Maar die Jode was vol verskonings. Hulle het uitgestel om dadelik te antwoord. Hulle moes eers gaan omsien na hulle grond en osse en huwelike.

Maar party Jode het nog verder gegaan. Hulle het die uitnodiging verwerp. Hulle het eerder die apostels en die vroeë Christene vervolg. Ons lees dan ook heel dikwels in die kerkgeskiedenis daarvan (vergelyk byvoorbeeld Stefanus se steniging.) In vers 7 lees ons hoedat die koning, God, kwaad geword het en gedreig het om die Jode se stad aan die brand te steek. Die Jode se stad Jerusalem is dan ook in die jaar 70 n.C. verwoes.

Dan lees ons in vers 8 hoedat hy sy slawe uitgestuur het na al die straathoeke om mense bymekaar te maak vir die bruilof. Ja, sy slawe moes na al die nasies, kulture en tale gaan om die mense te nooi na die bruilof van die Here. Vir die bruilof van die Here maak dit nie saak of jy rein of onrein is nie. Dit maak nie saak of jy siek, arm of uitgestoot is nie. God se genade is ongelooflik groot. Daar is selfs plek vir die laatkommers, die agterosse en die swartskape.

Ja, die uitnodiging het van die sinagoge na die straathoeke verskuif. Ja, die bruilofsuitnodiging is baie wyd.

Ja, die uitnodiging gaan na goeies en slegtes. Goeie en slegte mense het die Here nodig om hulle te red. My goeie en ordentlike lewe kan my nie red nie – net Jesus Christus kan my red. Alle mense, alle geslagte, alle tale, alle kulture, alle soorte, goeies en slegtes, ontvang hierdie uitnodiging.

Die gelykenisse word in vers 11 – 14 afgesluit met ’n waarskuwing dat elkeen met ’n bruilofskleed na die bruilof moet kom. Die gebruik in die ou tyd was dat wanneer iemand ’n bruilof bywoon, almal ’n bruilofskleed moes aantrek. Die bruilofskleed se doel was dat almal eenders lyk en daar geen klasseverskil is nie. In die hemelse bruilof het iemand ingesluip sonder ’n bruilofskleed aan. Hy het waarskynlik gedink dat sy klere darem fatsoenlik genoeg is vir die geleentheid. So probeer baie mense die hemel insluip, met hul eie menslike pogings. Hulle dink hulle goeie lewe, hulle kerklidmaatskap of hulle goeie hart vir hulle medemens sal  hulle red. Nee, ons het nodig om beklee te word met ’n bruilofskleed, met Jesus Christus. Net Jesus Christus kan ons red. Hy is die enigste sleutel wat die hemel kan oopsluit. Hy is die enigste kleed wat ons toegang kan gee tot die hemel.

Slegs mense wat beklee is met Jesus Christus kan deel hê aan hierdie bruilof. “Beklee julle met die verlossing, beklee julle met Jesus Christus.”

U sien dus in die hemelse bruilofsaal lyk almal dieselfde.  Almal lyk eenders. Almal is gelyk. Niemand lyk beter of slegter as die ander nie. Nee, net genade maak gelyk en eenders. Hoekom? Omdat almal beklee is met Jesus Christus.

Daarom het die Jode die gebruik om in ’n kring te dans. Niemand in die kring is eerste of laaste nie. Maar almal is ook eerste en laaste. Daarvandaan kom die skrifgedeelte wat sê: Wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, sal eerste wees.

God se genade maak ons inderdaad gelyk. Wat ’n vreugde, nou is daar vir my ook plek!   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

My enigste hoop en troos in die lewe, is dat ek aan Jesus Christus behoort

SKRIFLESING: Psalm 46: 1 – 12

Sonder HOOP kan geen mens leef nie. ’n Mens kan 40 dae sonder kos lewe. ’n Mens kan drie dae sonder water oorleef. ’n Mens kan egter nie ’n sekonde sonder HOOP lewe nie!

Ons leef in ’n skewe reënboogland. Die nuwe Suid-Afrika het toe nie uitgedraai as ’n beter land nie. Kapings, moord, verkragtings, korrupsie en die ineenstorting van standaarde en moraliteit het alledaagse nuus geword. Daar vind weekliks plaasaanvalle plaas en boere word vermoor. Dan sê die Suid-Afrikaanse president wêreldwyd op televisie dat daar geen plaasaanvalle is nie. Die Regering wil boere se plase afvat sonder vergoeding. Ons werkloosheidsyfer staan amper op 33%. Verder word alles afgebrand en monumente wat vir ons betekenis het, tuimel. Niks word beter nie, ons sak elke dag net verder in die moeras van ellende.

Daarom het mense in hierdie skewe reënboogland ’n ontsaglike behoefte aan HOOP. Mense soek iets wat weer vir hulle hoop en troos kan bring.

In plaas van hulle enigste hoop te soek by Jesus Christus, skep mense hulle eie hoop en troos. Ons probeer krisissituasies af te weer deur ons eie hoop te skep. Ek neem ekstra versekering uit, ek installeer diefwering, ek skaf ’n groot hond aan, ek begin myself finansieel in ’n beter posisie te plaas. Natuurlik is dit goed om voorsorg te tref; dit is immers verantwoordelik.

Die gevaar is egter as my voorsorgmaatreëls my troos en my hoop word. Ek troos my: ek het voorsiening gemaak vir my oudag, ek het my genoegsaam teen inflasie en teen inbrekers verskans. Ons skep vir ons ons eie troos en hoop. Ons verskans en beveilig onsself.

Elke dag is ons besig om vir ons troos en hoop te skep. Binne hierdie troos en hoop is daar weinig plek vir God. Ons materialisme word ons hoop en troos. My versekering word my hoop en troos. My sekuriteite by die huis of op die plaas word my hoop en troos.

Daar moet egter maar selfs nie ’n blaartjie roer nie, dan begin ons te bewe. Iets moet net êrens in die wêreld of in ons persoonlike lewe verkeerd gaan, dan stort die kaartehuis van ons lewe in duie.

Ons moderne Christene het verleer wat dit beteken om net op Jesus te vertrou.

Ek wil hierdie boodskap begin deur ’n stukkie van vroeë Europa se geskiedenis vir u te vertel. Dit was swaar tye in Europa se kerkgeskiedenis. Dit was ’n tyd toe Protestantse Christene al hul sekerhede, hulle besittings en lewens verloor het. Al wat vir hulle oorgebly het om aan vas te hou was die ewige Rots: Jesus Christus. Hulle HOOP en TROOS was net Christus Jesus ALLEEN.

Ek verwys na die jare 1522 tor 1573. Die jare staan bekend as die Kontra-Reformasie of die sogenaamde “Swart Terreur”. Gedurende dié tyd het die Inkwisisie die Protestante vervolg en doodgemaak oor die hele Europa, maar veral in Italië, Spanje, Nederland en Frankryk. Protestante is gemartel op pynbanke, in donker kerkers gedurende die middernagtelike ure. Manne, vroue, en jong seuns en meisies is nakend op pynbanke vasgemaak en gemartel met water, skroewe, vuur en gewigte. Die spiere is uitgerek, sonder om hulle te skeur en die beendere gekneus, sonder om hulle te breek. Die pynbanke is gevolg deur hulle helder oordag op die brandstapels te laat sterf. SINGENDE het hulle gesterf op die brandstapels.

Volgens Crespin het daar in daardie tyd net in Frankryk die volgende getalle Protestante gesterf: in Parys 10 468 en in die hele Frankryk nagenoeg 30 000. Die Inkwisisie het gespog met hoeveel Protestante hulle per nag, per man uitgemoor het. Die Franse stede Lyon, Dyon, Orleans en vele ander het in vlamme opgegaan.

Op die heilige Bartholomeüs-nag is tienduisende Protestante doodgemaak. Die geskiedskrywers sê dat honderde lyke met die Seinerivier afgespoel het en die rivier het plek-plek rooi verkleur van al die bloed. Die Heilige Bartholomeüs-nag word beskou as een van die grootste misdade in die moderne geskiedenis.

Op ander plekke in Nederland is Protestantse kerke, terwyl gelowiges besig was met eredienste, afgebrand en lidmate met sabels doodgemaak. Ja, terwyl die eredienste aan die gang was, het hulle die kerke toegespyker en aan die brand gesteek. Al singende het die gemeentes voortgegaan, totdat die geknetter van die vlamme die laaste stem stilgemaak het.

Terwyl die Seinerivier met bloed bevlek is, stede in vlamme opgegaan en die stank van duisende lyke swaar gehang het oor die Protestantse stede en mense in hulle duisende gevlug het, is die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1567) geskryf. Dit was die tyd van die groot belydenisskrifte van die Protestantse kerke. As’t ware het die Sinodes van daardie tyd hierdie geskrifte geskryf onder die vlamme-lig van die brandstapels. Sommige dele van die belydenisskrifte is by die tronkvensters uitgegooi, waarna dit oor die hele Europa versprei het en die mense dit gelees het.

Teen hierdie agtergrond begin die Heidelbergse Kategismus met sy eerste vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

En dan antwoord die Kategismus: “My enigste troos (my enigste hoop) in lewe en dood, is dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Dit is geloofsmoed. In hierdie tyd was Psalm 46 die martelaarslied, maar ook die lied van vertroue van die Protestantse kerk. Daarom het Luther dan ook die psalm berym in die woorde van die beroemde Duitse gesang: “Ein feste burg ist unser Gott.” In hierdie psalm word verklaar dat God die enigste TOEVLUG is, die enigste BESKERMER is, die enigste HOOP is. As God dit nie vir u is nie, glo u nog nie.

God mag nooit my bykomende troos of my bykomende burg of my bykomende toevlug of my bykomende beskermer of my bykomende hoop wees nie.

Hy moet jou ENIGSTE TROOS, jou ENIGSTE BURG, jou ENIGSTE TOEVLUG, jou ENIGSTE BESKERMER en jou ENIGSTE HOOP wees.

Aan God moet jy hang, al wankel ook alles rondom jou. Aan God moet jy vasklou, deur twyfel heen.

Kom ons kyk wat Psalm 46 vir ons vers vir vers sê:

In vers 5 staan daar al kom die natuurrampe en die ekologiese krisisse (aarde gee pad, die see druis en skuim, die berge skud) tem God dit tot ’n rustige nuttige riviertjie in die Godstad.

Vers 6 sê God is in die Godstad, die stad sal nie wankel nie. God sal kom help, nog voor die môre kom. (Net voor dagbreek het die vyand gewoonlik aangeval. Daarom was die nood gewoonlik net voor dagbreek op sy hoogste. Daarom help God nog voor die môre kom.)   

In vers 9 en 10 staan daar, die geskiedenis kan maar voortgaan. Diktators kan heers en magshebbers hul magte misbruik. Koninkryke kan kom en wankel. God bly in beheer. Hy laat oorloë ophou en spiese verbreek Hy.

Nie die natuur of die geskiedenis, niks kan my vreugde en geloofsmoed breek nie.

Bedaar en erken dat Ek die Here is, sê die Here. Wees getroos, sê die Here, Ek is daar! Daarom kan jy maar getroos lewe en getroos sterwe.

Nie jou beleggings, jou diefwering of jou alarmstelsel of jou hond of jou roer, kan jou troos wees nie. Jou enigste troos is die Here Jesus Christus. 

Hoor wat sê Habakuk 3: 17 – 19: Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Wanneer Habakuk en die volk Israel niks meer het om aan vas te hou nie en net God oorbly, ontdek hulle dat God die enigste en ware HOOP en TROOS vir hulle het.

As jou troos jou beleggings is, is jy nog nie getroos nie.

As jou burg jou diefwering is, is jy nog nie geborge nie.

As jou toevlug jou sekuriteite is, het jy nog geen toevlug nie.

As jou beskerming jou roer is, het jy nog geen beskerming nie.

Wanneer die wêreldekonomie in duie stort en dit met my swaar gaan, is ek nie op moedverloor se vlakte nie. Ek het Jesus Christus! In Hom kan ek getroos wees, ook as ek deur moeilikhede moet gaan.

WANT MY ENIGSTE TROOS IN LEWE EN IN STERWE IS DAT EK MET LIGGAAM EN SIEL NIE AAN MYSELF BEHOORT NIE, MAAR AAN MY GETROUE SALIGMAKER JESUS CHRISTUS!

Behoort u al so volledig aan Jesus Christus, dat u dit kan sê?

Moeder Theresa, die katolieke non van Kalkutta het eenmaal gesê: “You won’t learn that Jesus is all you need, until Jesus is all you have.”  Jy leer eers dat Jesus al is wat jy nodig het, die dag wanneer Jesus al is wat jy oorhet.

In die Anglo-Boere oorlog op die plaas Doornbult, buite Hopetown, het die vroue en die kinders in die aande Hollandse gesange gesing vanuit die wit Engelse konsentrasiekamptente. Niks kon hulle breek nie, want hulle enigste troos was en is Jesus Christus. Alles kan maar wankel, maar hulle het Hom oor as hul enigste ROTS en BURG en HOOP.     

Eers dan is ek werklik vry! Vry om te lewe en om te sterwe. Dan maak niks meer saak nie, solank ek vir die Here kan lewe. Dan het ek geloofsmoed! Geloofsmoed om enige bedreiging vierkantig in die oë te kan kyk. Dan kan ek getroos lewe en getroos sterwe. Dan kan ek hoopvol lewe en hoopvol sterwe. Daarom kan ons hoopvol lewe in hierdie skewe reënboogland van ons, want ons het die Here Jesus in ons harte en niemand, niemand kan Hom van ons wegneem nie.

Daarom moet gemeentes eilande van HOOP wees. Mag ook die gemeentes Adelaide en Fort Beaufort eilande van HOOP wees in hierdie verwarde wêreld.

Ja, selfs as my situasie hopeloos geword het, kan ek nog ’n draer van hoop wees, deur vir ander hoop te bring. Ek kan voorwaar hoopvol lewe en hoopvol sterwe! Ek kan getroos lewe en getroos sterwe, want ek behoort aan Jesus Christus!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Oop deure en vensters voor God en wêreld

SKRIFLESING: Handelinge 2: 42 – 47, Handelinge 4: 32 – 37 en 2 Thessalonisense 3: 6 –13

Met Pinkstersondag en die oop graf, het die kerk en gelowiges met oop deure en vensters voor God en wêreld geleef. Dit was iets wat die vroeë kerk in Handelinge baie goed verstaan het.

Hulle het met ’n openheid, ’n mildheid en ’n offervaardigheid geleef in die gemeenskap waar hulle as gelowige huiskerke gefunksioneer het. Hulle was soos huise met oop deure en oop vensters, sonder enige gordyne. Almal in die gemeenskap het ingekyk en die kragdadigheid van hulle geloof in Jesus Christus opgemerk. Hulle het met integriteit gelewe. Omdat hulle met integriteit gelewe het, het die getalle van die huiskerke toegeneem en was hulle in guns by die hele volk. Hulle het so voorbeeldig gelewe dat hulle kragdadig gegroei het.

Hulle egtheid was sigbaar in die wyse waarop hulle vir die armes en hulpbehoewendes omgegee het en hulle ingetrek het in die huiskerke. Ons bou gewoonlik ’n muur tussen ons en die armes. Hulle het die armes saam met hulle aan die gemeenskaplike tafel laat sit. Dit is maklik om kos vir ’n arme te gee, maar om saam met hom of haar te eet, is die uitdaging.

Jürgen Moltmann verwoord die beginsel van die liefdesgemeenskap in die kerk as volg: “The solution to poverty is not property. The solution to both poverty and property is community.” Daar is eenheid in die geloofsgemeenskap wanneer daar gedeel word.

In ons teksgedeelte lees ons van Josef, ’n Leviet  wat op Siprus gebore is. Hy het oral waar hy rondgegaan het vir mense moed ingepraat. Daarom het die dissipels hom Barnabas genoem, wat beteken “iemand wat mense moed inpraat”. Hy was ’n vertrooster. Hy het nie net mense moed ingepraat nie, hy het ook finansiële opofferings gemaak om sy medemens te help.

Ons dink dan veral ook aan Tabita, wat ’n Hebreeuse vrou was wat vir die Joodse en Griekse weduwees klere gemaak het. Daarom was haar naam in die Griekse gemeenskap bekend as Dorkas. Sy het mense oor kultuurgrense heen gehelp.

In elke geloofsgemeenskap is daar Barnabasse en Tabitas, wat dit hulle werk maak om armes en mense wat in nood is te help en hulle moed in te praat. Dit is mense wat kos en klere uitdeel, en sopkombuise aan die gang hou. Dit is mense wat ander bemoedig deur vir hulle werk te soek.

’n Mens kry natuurlik ook die swak voorbeeld van Ananias en Saffira. Hulle het ’n stuk grond verkoop en voorgegee dat hulle die volle som vir welsyn skenk. Tog het hulle ’n deel van die koopprys teruggehou. Petrus het vir Ananias gesê dat dit nie verkeerd was om die grond te verkoop en die geld vir eie gebruik aan te wend nie. Maar hy het voorgegee hy skenk dit vir die armes, om vir hom ’n goeie naam in die gemeenskap te kry. Hy het dus gegee om gesien te word. Sy hart was nie by die armes nie, maar by sy en Saffira se goeie naam. Wanneer jy gee, moenie met bybedoelings gee nie. Gee in opregtheid met ’n hart vir jou medemens.  

Die bedoeling van die gelese gedeelte is nie dat jy al jou goed moet weggee nie, want dan sou daar nie ’n ekonomie gewees het nie. Die bedoeling van die gedeelte is dat jy moet leer om offervaardig te wees. Die Here het nie bedoel dat Ananias en Saffira al hulle goed moet weggee nie. Hulle kon die geld van die grond gehou het vir eie gebruik. Daar is niks mee verkeerd om jou eie besittings te hê nie. Offervaardigheid is egter die geestelike deug wat in die gelese gedeelte beklemtoon word.

Paulus waarsku ook dat gelowiges nie vir mense wat lui is, moet help nie. Christelike barmhartigheid bevorder nie luiheid nie. Paulus spreek die luiaards sterk aan en sê hulle moet vir hulle eie brood werk. 

Kerk en gemeenskap mag nooit teenoor mekaar staan nie. Die kerk is daar ter wille van die gemeenskap. Die kerk se roeping is om die gemeenskap te dien. Die kerk wat haarself preserveer om net haarself aan die gang te hou, sal beslis sterf. Die kerk moet oop deure en vensters hê na die wêreld. Die kerk moet aanloklik lyk vir die wêreld. Die kerk moet opgebruik word deur die wêreld.

Interessant is die woord “pontiff” wat vir die Pous, die hoogste hiërargie in die Rooms Katolieke kerk, gebruik word. Die woord “pontiff” kom van die Latynse woord “pontifex” wat beteken “brugbouer.” Dit is teen die agtergrond van die Romeine wat uitstekende paaie en brûe gebou het. Hulle het daardeur die landskap en geskiedenis van die wêreld verander.

So moet elke predikant, ouderling, diaken en gelowige ’n “brugbouer” wees. Ons moet brûe bou tussen die kerk en  die wêreld. Ons moet brûe bou na armoede. Ons moet brûe bou na hulle wat moedeloos is en uitgesak het in die lewe. Ons moet brûe bou na hartseer. Ons moet brûe bou na bejaardes en uitgestotenes. 

Die St. Bernard-honde in die Alpe wat reisigers in sneeustorms soek, is geleer om altyd hulle soektog ernstig op te neem. Daar word vertel van die een hond wat laat een middag teruggekom het van ’n missie, in ’n hewige sneeuval. Hy  het na sy hondehok gegaan en in die hoek gelê en homself onttrek, ten spyte van sy eienaar wat hom wou opbeur met kos. Hy het niks geëet nie. Was hy siek? Wel nee, nie na liggaam nie, maar in sy hart. Hy het gefaal om iemand in nood te help en het skaam teruggekom. Dit is hierdie hartseer van die hart wat ons moet openbaar as ons iemand nie kan help nie. Dit moet die Christen kenmerk. Ons moet ’n heilige weemoed hê as ons iemand nie kan help nie. Daarom staan daar mos in die saligsprekinge: “Geseënd is dié wat treur.”

Daar word vertel van ’n babaseun wat in ’n afgeleë distrik van Wallis ernstig siek was. Die ma was ’n weduwee en baie arm. Sy het vyf myl geloop deur die nag, terwyl dit gereën het, om ’n dokter te kry. Die dokter het eers gehuiwer. Dit sou ’n onplesierige rit gewees het in die reën en die weduwee sal heelwaarskynlik nie kon betaal nie. Wat sou in elk geval van die seun geword het? Hy was maar net nog een van die armes. Maar sy liefde vir mense en sy professionele gewete het  hom oorreed om na die seun te gaan en die seun se lewe is gered. Baie jare later het die seun, David Lloyd-George, die eerste minister van Engeland geword. Die dokter het toe gesê:  “I never dreamed that in saving the life of that child on the farm, I was saving the life of the leader of England.”

Die Bybel het talle voorbeelde waar mense onwetend vir engele kos gegee het. Die Here Jesus kan ook in die vreemde gestalte van ’n noodlydende na jou en my kom.

Anton Rupert het in een van sy boeke geskryf dat elke maatskappy wat wins maak uit ’n gemeenskap, die verantwoordelikheid het om iets terug te gee aan die gemeenskap.

Net so het ons wat baie ontvang as gawes van die Here die verantwoordelikheid om van ons gawes terug te gee aan hulle wat minder as ons het. Ons is ’n geloofsgemeenskap, “a community” en daarom moet ons onderlinge sorg vir mekaar dra.

Waar daar “community” is, is daar deernis, liefde en eensgesindheid.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Van geraamtes na ’n “Army” !

SKRIFLESING: Esegiël 37:1-14

Die Franse skrywer en filosoof, Voltaire, wat in 1778 dood is, het voorspel dat die kerk en die Bybel oor 50 jaar nie meer sal bestaan nie. So het verskeie doemprofete deur die eeue die doodsheid van die kerk beklemtoon. En tog is die Woord en ons steeds hier! Die kerk lewe nog steeds. Martin Luther het gesê: “Al blaak die hel van woede. Die Here  hou self sy kerk instand.”

Sonder Pinksterdag, sou die kerk geen toekoms gehad het nie. Na die opstanding van onse Here Jesus Christus het die dissipels hulleself toegesluit in die bovertrek, uit vrees dat hulle ook doodgemaak sou word. Hulle was nie instaat  om te getuig nie. Hulle was soos ‘n klomp doodsbeendere sonder enige lewe en asem.  Toe gebeur Pinksterdag. Dit is die geboortedag van die kerk. Die Heilige Gees het met wind en vuurtonge op hulle neergekom en hulle het begin lewe en getuig. Nou was hulle nie meer bang nie. Die kerk het begin lewe.  Tweeduisend jaar later en die kerk lewe nog steeds. Die kerk is soos ‘n “Army” wat verrys het uit geraamtes. Dit is God’s werk deur die Heilige Gees.

Die Here begin met jou werk, as jy jou werklike armsalige toestand voor God besef het. Wanneer jy ‘n geraamte in die kas het of as jy so hopeloos voel soos ‘n klomp dooie bene, dan begin God werk. So het die Here in Esegiël 37 gewerk.

Die volk Israel was in ‘n hopelose toestand. Die Here het Esegiël geroep as profeet toe hy 30 jaar oud was. Hy het as profeet opgetree vir 22 jaar. Esegiël 37 is waarskynlik geskryf met die tweede wegvoering deur Babilon ongeveer 587 vC.

In Esegiël het die Here in ‘n visioen aan Esegiël verskyn en in die visioen was daar dialoog tussen God en Esegiël. God vra en Esegiël moet antwoord.  In die gelese teks word gereeld na die Gees van God as “ruah jahweh” verwys. Dit is dieselfde Gees wat lewe in Adam, die mens geplaas het. Dit is ook dieselfde Gees, wat op Pinkstersondag uitgestort is op die kerk.

Die Heilige Gees bring altyd lewe daar waar daar doodsbeendere is. Waar jy in ‘n vasgeloopte situasie is, kan God altyd weer nuwe lewe en uitkomste bied.

In Esegiël 37: 4 word beklemtoon dat die Gees nie sonder die Woord werk nie. Daar staan geskrywe:  “Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here.” Daarom het die Here Jesus vir ons Sy Gees en Sy Woord nagelaat.  Die Heilige werk deur die Woord. Daarom is ons ’n Woord kerk. Die Here skep geloof deur die Woord en Gees en Hy versterk ons geloof deur die sakramente.

In ons gelese gedeelte lees ons hoedat die Gees die beendere bymekaar laat kom en dit oordek met senings, vleis en ‘n vel. Maar die liggaam was nog sonder asem daarom staan daar in vers 9: “Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.”  So het die Here nuwe “asem” ingeblaas en ons laat lewe. Daarom is God se kinders ‘n magtige leër “Army”.

So het die Heilige Gees ook op Pinkstersondag van ons besit geneem, sodat ons begeesterde kinders van die Here kan wees. Ons behoort nie meer aan onsself nie, maar aan hom wat Sy Pinkstergees in ons geblaas het.

Ek het die volgende verhaal gelees in Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is (9 Maart 2008). Ek haal dit woordeliks aan: “’n Amerikaanse Lutheraanse predikant vertel van die volgende ervaring by ’n erediens in sy gemeente, waar net ’n paar lidmate in die banke gesit het. Die leraar het daardie oggend oor sy gemeente uitgekyk en gedink: “Wat kan ek doen om bietjie lewe in ons aanbidding te blaas, om bietjie entoesiasme en emosie in ons ervaring van die erediens te kry? Miskien moet ek iets skokkends en kontroversieels sê. Dit sal hulle laat wakkerskrik! Of anders moet ek weer ’n slag oor die hel praat, oor die poel van vuur en die ewige verdoemenis waar ’n geween en gekners van tande sal wees. Dit sal hulle aandag kry! “Maar terwyl ek daardie Sondag so angstig soek na ’n geestelike pols by my gemeente, ontdek ek skielik tot my skok dat ek self amper nie meer een het nie. Ek het die laaste tyd mense getrou en begrawe, maar dit was net nog ’n troue, net nog ’n begrafnis. Ek kon my hart daar uithou. Dit was net nog take om af te handel. En iewers het die ware vreugde en die ware troos ook begrawe geraak onder die as in my eie hart. Ek besef skielik God het my nie na hierdie plek toe gestuur om mense soos dooie karre aan die brand te stoot of om lewe in ons aanbidding te blaas of om bietjie entoesiasme in ons deelname op te wek of op te werk nie. Hy het my na hierdie plek toe gebring om my en ander te leer dat sy Woord alleen mag het (Only the Word of God has power!).” Ja, ons ken ook ervarings van geestelike en emosionele doodsheid soos Israel in die tyd van Esegiël.”

‘n Sekere evangelis het geskryf, dat ons so dikwels wil hê dat die herlewing by ander mense moet begin. Ons sien die leë kerkbanke en bid dat hulle vol moet wees. Dan sê hy, dat hy ‘n fout gemaak het. Jy moet ‘n kring trek in die grond en in die middel van die kring gaan staan en sê Here begin by my. Ware herlewing begin by my, nie by ander nie.

Die laagte van doodsbeendere simboliseer die totale hopeloosheid van die volk in ballingskap. Die bene lê verstrooid, droog en gebleik in die son. Daar was nie eers ‘n behoorlike begrafnis nie. Die bene het geen identiteit meer oor nie. Jy kan nie eers die bene aan iemand koppel nie. Selfs honde word begrawe. Hierdie mense was meer hopeloos as ‘n weggooi hond. Die laagte van doodsbeendere is simbolies van die volk Israel wat in ballingskap sit. Hulle het hulle land, hulle geliefdes, hulle koning, hulle tempel en hulle stad Jerusalem verloor. Dit was asof die einde van die wêreld is.

So is daar baie mense wat in hopelose situasies is. Mense wat alle kontak met God en met ander mense verloor het. Daar is mense wat in finansiële skuld vasgevang is, mense wat terminaal siek is, mense wat aan dwelms verslaaf is, mense in verhoudingsprobleme of mense wat net geen sin in die lewe meer raaksien nie. Hulle het kontak met die realiteit verloor.

Esegiël sê duidelik dat God se Woord nuwe lewe skep. “Net die Woord van die lewende God kan aan dooie bene ore gee! Wat moes die Lutheraanse predikant en sy gemeente leer? “Only the Word of God has power!” Die mag wat my en die siening van my situasie verander, word deur die werking van die Gees van buite my deur God se Woord aan my toegesê.” (Aangehaal uit Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is op 9 Maart 2008)

“Esegiël moet God se boodskap gaan oordra al moes hy gril oor hierdie droom van die vallei van droë bene. Want Esegiël was ’n priester. Die Joodse wet het in Numeri 19:16 aan hom gesê: “Enigiemand wat in die veld aan ’n persoon raak wat doodgemaak is of aan ’n mensbeen of ’n graf, sal sewe dae lank onrein wees.” Maar wat doen Esegiël ondanks dit alles: “Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is.” Gehoorsaamheid aan die Gees beteken om ook soos God mense te ontmoet waar hulle is – in hul diepste hartseer, verslaenheid en grootste krisis. Ons is mos bang daarvoor of vermy dit, asof ander se krisis of hartseer my ook sal aantas of “besoedel” – ook my gees en gemoed sal aftrek.” (Aangehaal uit Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is op 9 Maart 2008)

So wil die Here uit ‘n laagte vol doodsbeendere en geraamtes vir hom ‘n weermag, ‘n “Army” skep, wat hom dien en gehoorsaam is. Hierdie begeesterde “Army” wil hy bewapen met die Woord, om diensbaar te wees. Hierdie begeesterde “Army” leef onder die leiding van die Gees, op pad na die wederkoms om met God -Drie-Enig verenig te word.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)