OM TOT SeëN TE WEES …

OM TOT SeëN TE WEES …

Onlangs stuur iemand vir my ‘n e-pos met ‘n  mooi  verhaal, vanuit die mielielande van die VSA. Dit gaan so. ‘n Sekere mielieboer in die VSA het elke jaar die blou korset gewen op die streekbyeenkoms vir die beste mielieboer vir die streek. Elke jaar was sy gehalte, opbrengs per hektaar en winsgrens die hoogste van almal in die streek. Sy groot geheim was die mieliesaad wat hy aangeplant het. Hy het elke jaar die beste saad aangekoop wat hy kon kry. Daarvoor het hy die wêreld plat gereis om die hoogste kwaliteit saad wat hy kon kry – te kan bekom. Dit was ook bekend dat hy baie vrygewig die saad uitgedeel het aan sy bure. Op ‘n dag vra ‘n joernalis van ‘n plaaslike koerant vir hom, hoekom hy sy goeie saad, wat hy met soveel sorg bekom het, ook uitdeel aan sy bure. Sê nou maar sy bure wen volgende jaar die kompetisie  met dié saad wat hy so vrygewig uitgedeel het. Sy antwoord was kort. Mielies word windbestuif. As my bure swak saad het en die wind waai van hul lande na myne sal ek ‘n swak oes kry. As my bure goeie saad het, sal die wind verseker dat ek ‘n goeie oes verkry. Dit is in my belang, dat ek ook my bure moet seën, sodat ek ook geseën kan word.

564420_429245163798572_1369309555_nHoe nodig het ons nie so ‘n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme, is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ‘n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ‘n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ‘n land ryp word vir ‘n rewolusie of erge ekonomiese opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” gesê dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ‘n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, dié indiwidu en die besigheid het ‘n verantwoordelikheid om sy/ haar gemeenskap te dien.

Dit beteken dat mense vir ander moet voerspoed  gun en nie jaloers moet wees op ander se suksesse nie. Ons moet as’t ware meewerk in mekaar se voorspoed. Dit beteken “selfdood”, die dood van die mens se eie “ego”. Eers in my selfdood, kan ek tot seën wees vir ander. In Jesus Christus se “vrywillige letterlike dood” het hy geword die seën vir die hele wêreld.

Wanneer ek elke dag die vraag lewe: “Waar kan ek tot seën wees vir ander en vir my gemeenskap ?” word my lewe sinvol en gevul met betekenis. Soos die Here Jesus ons self geleer het: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Wanneer ek “ander oplig in die lewe”, word ek self emosioneel op gelig tot ‘n hoër vlak van mensbewussyn. Hoe meer ek “myself” najaag, hoe meer dierlik word ek. Hoe meer ek die seën van ander najaag, hoe meer menslik word ek.  Is ek dier of mens? Die mens het beeld van God geword, met Sy skeppingsopdrag dat die mens tot seën van God se skepping moet wees. Eers as ek “tot seën” word van ander, word ek meer mens.

Transformasie van die samelewing se diepste sukses word gemeet of dit “seën” bring. Hoe meer mense “geseën” word, hoe groter is die tranformasie. Dit het verreikende politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiologiese implikasies vir die samelewing.

Soos saad in die grond val en sterf, en opkom as ‘n nuwe plant met nuwe lewensmoontlikhede om “baie” te word, moet die mens in homself sterf (ontkiem) om tot seën te word vir baie ander. Dit is ons lewensroeping.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

GEWOONTES MAAK DIE MAN …

GEWOONTES MAAK DIE MAN …

Daar is niks so kragtig soos gewoontes nie. Gewoontes is niks ander as persoonlike dissipline nie.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal het verskillende verduidelikings: * Gevestigde neiging tot ‘n handeling, aangekweek deur herhaling van die handeling. * Gedragslyn wat deur herhaling ‘n vaste gebruik geword het. Daar is die Afrikaanse uitdrukking : “ Die gewente maak die gewoonte (gewente word gewoonte, gewoonte word gewente.)

Bring-Greater-Clarity-into-Your-Life-e1427952945807As ‘n mens iets aanhou doen word dit ‘n onwillekeurige handeling. Daarom is ‘n mens se gedrag geskoei op jou gewoontes. Daarom kan ‘n mens feitlik enigiets afleer en ook bykans enigiets aanleer. Daar is bevind as iemand vir ses weke aanhou om ‘n sekere gedrag te openbaar, dan word dit ‘n gewoonte. Eers is dit ‘n inspanning, later kom dit sonder moeite en sonder enige inspanning. Wanneer jy jou wekker stel om 5h00 en dadelik opstaan en dan gaan draf – sal dit maar in die begin moeilik gaan. Na ses weke word dit al hoe makliker en later is jy verslaaf aan die gebruik – dit het ‘n gewoonte geword.

Daarom gaan die vestiging van goeie gewoontes altyd gepaard met ‘n KEUSE. Natuurlik saam met die KEUSE, moet daar ook VOLHARDING en DEURSETTINGSVERMOë openbaar word.

Die volgende wysgere het hul as volg oor GEWOONTES uitgelaat:

“ Kies vandag die gewoonte wat later oor jou gaan regeer.” (Elbert Hubbard 1856 – 1915)

“’n Gevestigde gewoonte is ‘n hemp gemaak van yster.” (Samuel Johnson 1709 – 1786)

“Die jammerte is dat goeie gewoontes soveel makliker is om te breek as die slegtes.” (W Somerset Maugham (1874 – 1965)

Om lui te wees, om slordig te wees, om papiere rond te strooi, om kwaad te praat, om slegte dinge te doen is alles gewoontes. Maar deur die krag van die Heilige Gees en deur ‘n hartgrondige bekering kan ek omdraai en deur KEUSES verander word en deur die volharding wat die Heilige Gees skenk, kan ek nuwe gewoontes aanleer. In die proses word ek ‘n nuwe mens met nuwe gewoontes van selfbeheersing.

Daar is niks soos die krag van selfbeheersing nie. Dit is soos ‘n damwal. Die water word beheer. Dit word ‘n beheerste aksie. Dit hou ‘n dam vol water. Water gee lewe en krag. Kragstasies kan gebou word by damwalle. Daarom is selfbeheersing in wat ek sê, dink en doen seker die kragtigste gewoonte wat ek kan aanleer.

“Wees versigtig wat jy dink, dit word jou woorde. Wees versigtig wat jy sê, dit word jou aksies. Wees versigtig wat jy doen, dit word jou gewoonte. Wees versigtig met jou gewoontes, dit bou jou karakter.” (Frank Outlaw)

Mag die Here ons leer van “selfbeheersing”. Mag dit ‘n gewoonte word in ons lewe. Dan is ons manne en vroue van karakter. Dan is ons geseënd met die krag van selfbeheersing. Dan is ons ‘n krag in onsself.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

 

Die drie gode van ons tyd …

Die drie gode van ons tyd …

Richard Foster het ‘n boek geskryf met die titel: “Sex, money and power”. In die baie populêre boek word seks, geld en mag uitgesonder as die drie grootste gode van ons tyd. Dit is die goed  wat mense dryf en waarvoor mense leef. Natuurlik is nie een van die drie verkeerd nie. Inteendeel as dit gedryf word deur liefde en verantwoordelikheid is dit opsigself drie wonderlike dinge waardeur God se Koninkryk kan kom. Maar ongelukkig leer die geskiedenis dat die mens hom telkens vergryp hieraan. ‘n Mens kan maar net die koerante deurblaai. In elke negatiewe beriggewing sal jy ten minste een van die moderne gode raaklees. Of mense vergryp hulself aan seksuele sonde, of aan geld of aan magmisbruik.

worshipseries_money-sex-power_rcc-1024x614Dit laat my dink aan die raad hoe om ‘n aap te vang. Plaas net vrugte of iets lekkers in ‘n nou nek bottel. Wanneer die aap sy hand in die pot steek en die lekkerny wil uittrek sit sy hand was. In plaas daarvan om sy hand oop te maak, bly hy vasklou aan die lekkerny – en siedaar jy het aap se kind gevang. So vang die bose die mensdom – omdat ons die duiwel na aap in ons gierigheid na seks, geld en mag.

Die koerante is vol van seksuele misgrype – wat eindelose pyn en emosionele seer veroorsaak – omdat mense die wonderskone gawe van seksualiteit misbruik tot persoonlike bevrediging van eie drange, wat nie gemik is daarop om jou lewensmaat se vrouwees en manwees te dien nie. Dit word verontmenslik tot bare dierlike instinkte (waar daar van skoonheid nie veel oorbly nie). Mense word ontrou, omdat die gras altyd groener aan die ander kant lyk.

Van finansiële vergrype lees ons elke dag. Diefstal, salarisse wat buite verhouding is, uitbuiting van werknemers, omkopery, onredelike winsgrense, loansharks en selfverryking is aan die orde van die dag. Iets van die “fat cat” en die soustrein – sindroom eet ons ekonomie op en neem die brood uit die armes se mond.

Van magmisbruik hoor ons elke dag in die politiek, sakewêreld, in die polisie en sommer ook in die “daaglikse politiek” tussen mense en in organisasies. Baantjies vir boeties, krap my rug – dan krap ek jou rug, tot  die blou lig bendes. Die blou lig bendes is die ergste. Sommige minister van ‘n provinsiale departement jaag met ‘n konvooi van voertuie, met blou ligte en sirenes van een funksie na die volgende partytjie – in die waan dat hy / sy vreeslik belangrik is. Klein godjies wat tog asseblief raakgesien moet word ! Die duurste voertuie en ontwerpersklere moet die beeld van belangrik poets tot sinlose ydelheid. Van eenvoud en nederigheid is daar geen sprake. Blink voertuie in plakkerskamp – woonbuurte skreeu ten hemel vir hul wat smag na ‘n deel van die ekonomiese koek, om net te oorleef van vandag se honger en uitsigloosheid.Power corrupts; absolute power corrupts absolutely” het John Emerich Edward Dalberg Acton, first Baron Acton(1834–1902) opgemerk. Abraham Lincoln het gesê: “You may fool all the people some of the time; you can even fool some of the people all the time; but you can’t fool all of the people all the time.” Uiteindelik haal die waarheid ook die politici in.

Wanneer seks, geld en mag misbruik word –  word mense van hul menslikheid beroof. Wanneer jy verontmenslik is, dan word die lewe sinloos en leeg en sonder enige betekenis. Wanneer mense beroof word van menslikheid vervaag alle HOOP.

Daarom word Christene opgeroep om seks, geld en mag in ‘n ander lig te sien. Die seksuele geskapenheid van die mens, die finansiële seëninge van die Here en die verantwoordelikheid van mag – moet gerig en gefokus wees om DIENSBAAR te wees. Dit moet nie gerig wees op die “self” nie, maar op die “ander”. Seks, geld en mag – gaan altyd gepaard met uiterste VERANTWOORDELIKHEID. Dan kom daar sin en betekenis en tonne seën in jou lewe. Dan word jou lewe ‘n seën vir ander.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Lewensvreugde in die lewe word aangeleer ….

Lewensvreugde in die lewe word aangeleer ….

527811_379128178830333_591703830_nDie vrouehumoris Erma Bombeck vertel van die dag toe sy in die kerk amper gehuil het. Sy het dié Sondag in die kerk gesit en net voor haar het ‘n vriendelike kind gesit, wat vir almal rondom hom geglimlag het . Hy was nie stout nie – hy het nie geskop met sy voetjies, of gesangeboeke opgeskeur of geluide gemaak, of gesigte getrek nie – al wat hy gedoen het was om vir almal te glimlag, Na ‘n ruk het sy ma hom omgepluk en gefluister, so dat almal rondom hul dit kon hoor: “ Hou op met glimlag. Jy is in die kerk.” Sy het hom ‘n hou gegee en die trane het van sy wange afgeloop. Sy sê toe: “Dis beter.” Toe gaan die moeder voort met haar gebede. Bombeck vertel hoe sy graag die betraande kind teen haar wou vasdruk en vertel van die vriendelike glimlaggende God en van die vreugde wat Hy gebring het. Sy wou hom vertel dat vriendelikheid ‘n gawe van die Gees is. Sy vra toe die vraag: “As die kind nie eers in die kerk kan glimlag nie, waar ander sal die kind kan glimlag in hierdie harde en wrede wêreld.” (1) Johan Cilliers: Het God ‘n handvatsel ? (2003)

Die Here Jesus Christus het gekom om vreugde te bring. Sy eerste wonderteken was toe Hy water in wyn verander het op die bruilof te Kana. In die antieke tyd het die lengte van ‘n huwelik gewissel. Dit het oor dae plaasgevind. As die wyn opraak, het dit beteken die bruilof is nou verby en almal moes huis toe gaan. Met die bruilofsfees in Kana, was die opraak van die wyn ‘n groot verleentheid – die vreugde moet nou kort geknip word. Dan verander die Here Jesus die verleentheid in ‘n geleentheid, hy bring nuwe vreugde in die bruilofsfees. Hy laat die bruilofsfees voortgaan. Inteendeel die vreugde is groter, want die wyn is beter ! Juis daarom wil Jesus die “alledaagse” soos water verander in iets beter. Natuurlik is die wonderverhaal ook ‘n vooruit verkondiging van Jesus Christus se tweede koms (die groot bruilofsfees waarvan Openbaring praat).

Die punt is egter, dat Christus Jesus gekom het om vreugde en blydskap en dankbaarheid in oorvloed te bring. En God wil hê om moet deel daarin hê. Daarom is godsdiens en die lewe nie ‘n klomp strak gesigte soos in die verlede tyd toe mense nie geglimlag het op fotos nie. Vyftig jaar gelede was dit ‘n “sonde” om te glimlag op ‘n foto of selfs in die kerk. Deesdae hou ons van natuurlike fotos met lewensaksie. “Freezing moments” wat vertel van menslike emosie. Emosies het deel geword van briljante fotografie.

Daarom is blydskap, dankbaarheid en vreugde iets wat aangeleer word. Dit kom nie vanself nie. Dit is ‘n gawe van die Gees. Sommige mense het die dapperheid om selfs in die moeilikste omstandighede hul dankbaarheid vir die lewe en hul innerlike lewensvreugde te lééf. Victor Frankl vertel in sy boek “Search for Meaning” hoe hy in die Duitse konsentrasiekamp van Auscwitz vreugde gevind het in ‘n enkele veldblom wat uit die digte sneeu uitgebeur het na die sonlig. Of van sy vreugde tydens koue winteraaande as dit sy beurt was om die donkie deur die nag te stook vir warm water vir die Duitse soldate die volgende oggend. Hoe hy mielies gesteel het en dit oor die kole gaargemaak het en op ‘n bondeltjie voor die vuur gelê het en die saligheid van die enkele ure van die nag geniet het, voor die wreedheid van die volgende dag weer aanbreek.

Hoe skaarser iets word, hoe meer waardeer jy dit ! Dalk het ons te veel, om werklik die klein goedjies van die lewe te waardeer.

Selfbejammering is van die duiwel. Dit is ons menslike natuur om ons te vergelyk met wat ander het en ons nie het nie. Ons koop dikwels goed om ander mense te beïndruk, eerder as om iets te koop wat ons werklik nodig het. Ons kan onsself maklik jammer kry en dan leef uit ‘n “slagoffermentaliteit”, van die wêreld en ander en selfs God skuld ons iets. So word ons die patetiese klakouse wat gedurig aan ons eie behoeftes dink. In die post – apartheid era kan die verskillende bevolkingsgroepe van ons land, bruin, wit en swart maklik leef uit die “slagoffermentaliteit”, van êrens is ek benadeel. Of apartheid, of regstellende aksie kan die fort word, waarin ons uit selfbejammering ons wonde lek. Wie uit selfbejammering leef, sal nooit ‘n leier kan word, wat die “maatskappy” kan verander nie.  Eers wanneer jy jouself uit die ellende kan lig en kan opstaan – kan jy ander inspireer tot verandering en ‘n nuwe  vreugde en dankbaarheid vir die lewe.

Vreugde en dankbaarheid is ‘n KEUSE. Dit is nie ‘n toestand in positiewe tye nie. Dit is ‘n KEUSE, selfs in die moeilikste lewensomstandighede.

  (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

OM TE KAN SKEP IS GENESEND ….

OM TE KAN SKEP IS GENESEND ….

11239618_10154100375653332_2212639807552402684_nDie mens is gemaak na die beeld van God.  God is die Skeppergod, uit wie en deur wie alle dinge ontstaan het. Daarom is die mens ten diepste ook ‘n kreatiewe wese wat sy sin en betekenis vind om te skep. Wanneer die mens bloot lewe om te oorleef is hy niks beter as die diere en plante van die natuur nie.  Maar God het aan die mens die besondere gawe gegee om kreatief besig te wees. Wanneer mense intense emosionele pyn ervaar vind hul gewoonlik diepe genesing daarin om “iets te skep”. Daarom het die meeste psigiatriese hospitale elke dag ‘n tydsgleuf waarin pasiënte aangemoedig word om in die kunsklas iets te skep. Dit kan verf, naaldwerk, skryf, krale of enigiets wees wat weer vir hul ‘n gevoel van “sukses” gee. In die meeste mense se alledaagse lewe is hul vasgevang in die sleur van die instandhouding van die lewe dat mense doodgewoon verveeld raak en hul energie vir die lewe verloor. Wanneer jy worstel met min lewensenergie is dit ‘n baie goeie  begin deur die vraag te vra: “ Wat het ek die afgelope dag of week geskep?” Gewoonlik is die antwoord negatief, want instandhouding van die lewe het niks tyd gelaat vir kreatiwiteit nie. Die herstel van lewensenergie begin deur vir jouself duidelike doelwitte te stel om weer jou kreatiewe self te ontdek. Elke mens het ‘n kreatiewe self, want jy is gemaak na die beeld van God. In God se ryke verskeidenheid verskil ons egter in kreatiewe talente. Sommige vind hul kreatiwiteit in naadwerk, houtwerk, krale, skryf, kosmaak, tuinmaak,  skilder, verf, binneshuisversiering, navorsing of enigiets onder die son, wat geboorte gee aan iets nuuts.

Wie leer om te kreatief te skep, skep vir homself nuwe sin en betekenis in die lewe. Kreatiewe energie is positiewe energie, dit genees emosioneel. Gewoonlik sneeubal energie in iets groter, ‘n nuwe JY. Ons samelewing plaas ‘n groot klem op gewigsbeheer, fiksheid, fisiese voorkoms en diëte. Ongelukkig plaas ons min klem op emosionele lewensenergie. Tog is dit dikwels juis ons lewensenergie wat vreugde in die lewe stimuleer en van ons gelukkige mense maak.

Oorleef jy of leef jy ? Skeppende kreatiwiteit laat jou LEEF !

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Hoe welkom en gasvry is ons teenoor vreemdelinge ?

Hoe welkom en gasvry is ons teenoor vreemdelinge ?

61432_489173841114237_1682728253_n“Everyone is homesick ! het Kent Ira Groff opgemerk. Almal wil graag behoort aan ‘n groep of aan ‘n vriendekring. Natuurlik is die kerk die volmaakste model, wat ons Here Jesus Christus vir ons gegee het, waar vreemdelinge kan tuiskom in ‘n geloofsgemeenskap. Jesus Christus het immers gekom vir sondaars, vir vreemdelinge wat ver staan van God en van hul medemens. In Christus Jesus het ons naby aan God gekom en nader aan ons naaste gekom. Tog ontbreek gasvryheid in die meeste Christelike kerke. In plaas van insklusief te wees is ons dikwels ‘n eksklusiewe groep wat tuis voel met ons eie mense, met wie ons bande het oor baie jare. Ons wil nie graag die gemaksone verlaat van bekendes en vriende maak met die vreemdelinge nie. Dan ontbreek dit ons aan die Christelike gasvryheid. In Gen 18: 1 – 15  is die verhaal van Abraham wat sit by die bome van Mamre, in ‘n vreemde land, want God het hom mos gestuur vanuit Ur van die Galdieërs die woestyn in. Terwyl hy sit by sy tent sien hy drie mans van ver aankom. Hy draf na die vreemdelinge en nooi hul uit om te kom rus onder die bome en vir hul water te gee. Meer nog, hy draf na Sarah en beveel haar om 16 kg meel te vat en roosterkoeke te maak. Hy draf na sy slaaf en beveel  hom om ‘n kalf te slag en gaar te maak. So sit hy dan die roosterkoeke, kalfsvleis, botter en melk neer voor die totale drie vreemdelinge. Min wetende dat die drie vreemdelinge vir hom meer gaan beteken as wat hy vir hulle beteken. Want dit blyk toe later dat hul boodskappers van God is, wat vir hom die goeie boodskap bring dat Sarah oor ‘n jaar later ‘n seun in die dié wêreld sal bring. So sou die belofte van God dat Abraham ‘n groot nageslag sal hê in vervulling kom. Dink ook aan Boas se gasvryheid aan Rut, ‘n Moabitiese vrou wat koring in sy lande opgetel het. Uit sy gasvryheid het ‘n huwelik ontstaan, waaruit Dawid gebore sou word, uit wie se nageslag die Messias gebore sou word.

Die Here Jesus Christus het in sy bediening uitgereik na die gemarganiseerdes in die samelewing soos die tollenaars, blindes, kreupels, melaatses, siekes, die weduwees, die prostitute, die kindertjies en almal wat van min waarde was. Juis daarom moet die kerk nie veroordelend wees nie, maar ondersteunend. Die kerk moet ‘n “tuiste” skep ook vir die “andersheid” van vreemdelinge. Die kerk is anders as enige ander samelewingstuktuur: “There is nothing like the local church.” Eers wanneer God se gemeentes geleer het om gasvry te wees, sal ons ook soos Abraham ontdek dat die vreemdelinge vir ons meer beteken, as wat ons vir hulle beteken. (Vergelyk Nelus Niemandt se opmerkings in sy boek: Nuwe Drome vir nuwe werklikhede)

“A truly missional church integrates worship with welcome ! ”, aldus Eddie Gibbs en Ryan Bolger.  Parker Palmer het gesê: “The strander is not simply one who needs us. We needs the strander.” Geestelike vorming vind juis plaas deur gasvryheid.

As ons ons kerke en gemeentes wil uitbou, sal ons moet leer om soos Abraham en Jesus Christus vreemdelinge met gasvryheid te ontvang. Wie die vreemdeling ontvang, ontvang ‘n gestalte, ‘n boodskapper van onse Here Jesus Christus.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van NG Kerk Adelaide)

Seisoene in my geestelike lewe …

SEISOENE IN MY GEESTELIKE LEWE

185087_445487685501938_1468018195_n (1)Ons kan maklik verstrik raak in ‘n voorspoedsteologie, waar ons dink dat alles in die Christelike geloof gaan om “JOY”. Ons het almal al as jeugdiges tienerkampe bygewoon, waar ons op ‘n geestelike hoogtepunt was en gedink het Christenskap gaan oor ewigdurende blydskap en vreugde en vrede en voorspoed. Dan gebeur daar somtyds traumatiese goed in jou lewe en jy voel gestroop van die “JOY”. Dikwels vra ‘n mens dan die vraag, maar waar is God nou?

Riaan van der Merwe verduidelik, dat ‘n mens eerder moet praat van die 4 geestelike seisoene in jou lewe. Elke mens ervaar geestelike lentes, somers, herfs en winters. Elkeen van die geestelike seisoene is baie nodig vir jou geestelike lewe. Ons kry nie net somervrugte soos perskes en appelkose nie, maar ook wintersvrugte soos lemoene en nartjies.

Vir die lemoene en nartjies om ryp te word is dit nodig om winter te word. So gaan ons ook deur verskillende fases in ons geestelike lewe.

Somtyds voel ons baie naby aan God en ander tye voel ons weer vêr van God. Somtyds voel ons Godverlate soos die Psalmdigter Dawid dit in sommige van sy Psalms uitdruk. Prediker praat selfs in sy boek, dat daar ‘n tyd is vir alles. Juis daarom moet ons elke tyd en seisoen in ons lewe ontvang as geskenke van die Here en elke seisoen beskou as ‘n leerkurwe in ons lewe.

Soos wat ‘n skoenlapper deur verskillende fases in sy lewe gaan, van ‘n eier, ‘n wurm, ‘n papie en uitendelik ‘n skoenlapper word – gaan ons ook deur verskillende lewensfases is ons lewe. Elkeen van die fases of groeiseisoene is belangrik.

Somtyds het ‘n mens ‘n wintertydperk of ‘n stuk gewondheid nodig om jou in te lei in ‘n dieper vlak van geestelikheid. Wintertye van vertwyfeling en hooploosheid is juis die tye wat ons gestroop word van ons eie selfversekering, sodat ons net aan God kan vashou met ons hele lewe. Jy word dan ook jou ware self: “Nothing is more important, for if we find our true self, we find God, and if we find God, we find our most authentic self” (David Benner).

Vergelyk jou eie lewe met ‘n boom. Die Bybel praat op baie plekke van bome. Die bekende Ps 1 praat van die regverdige wat  soos ‘n boom is wat by waterstrome geplant is. ‘n Boom lyk nie heeljaar dieselfde nie. In die lente, somer, herfs en winter verander die boom gedurig van gedaante. So ook wissel ons geestelike lewe voor God. Tog is elke fase goed en nodig. In elke fase vind daar groei en rus plaas.

Daarom moet ons nie ons geloofsekerheid koppel aan ons eie emosionele belewenis nie. God staan vas en seker. Al wat ek moet doen, is om soos Andrew Murray gesê het myself oor te gee aan God in elke seisoen van my lewe, wagtend dat Hy sy heilryke werk in my lewe sal doen.

Daarom moet ek in elke seisoen van my lewe nuuskierig wees, wat God in my lewe wil bewerk of wil doen. Ek moet my geestelike lewe voor God as ‘n wonderlike reis beskou. Telkens sal ek verstom staan oor hoe God in en deur my werk.

Ons lewe is soos die boomringe van ‘n boom. Daar is dik en dun jaarringe. Daar is tye van oorvloed en skaarste, tye van voorspoed en droogte. Ja, daar sal ook tekens wees van brand en waar takke afgeskeur of afgesny is. Maar al die kenmerke van die boom, maak die boom uniek. So is ons elkeen ook bome wat uniek gevorm is deur die seisoene van ons lewe. Geen boom lyk soos ‘n ander een nie.

So lyk elke mens se lewe anders as die van ander. Ons is verskillend gevorm deur die seisoene van ons lewe. Koester jou lewensboom. Koester die merktekens van jou wonde. Dit het jou die mens gemaak wat jy vandag is. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

Om Christen te wees in minderheidspolitiek ?

Minority-groups

Om Christen te wees in minderheidspolitiek ?

Daar is niks so erg as ‘n kind wat geboelie word op skool nie. Die konstante spot en uitsluiting van so ‘n kind lei tot baie trauma, verwerping en ‘n minderwaardigheidsgevoel. In die verlede het die die minderheid in Suid – Afrika die meederderheid geboelie. Die omgekeerde is nou waar. Hier in 2016 is die meerderheid besig om die minderheid te boelie en hulle te ontneem van bestaansreg en die ontneming van die Afrikaanse taal en identiteit. Dit plaas die Afrikaansprekende Afrikaner in ‘n stryd om oorlewing. Die gevaar is dat ons ‘n minderwaardigheidskompleks of ‘n meerderwaardigheidskompleks kan ontwikkel en verkeerd reageer op die bedreiging van ons volkskultuur. Die gevaar is dat ons rassisties, hatig, bitter, wantrouheid, onttrekking of in ‘n staat van selfbejammering verval. Dan tree ons verkeerd op.

In enige land in die wêreld is daar verskillende vorme van minderheidsgroepe. Ons moet nooit die krag en die invloed van minderheidsgroepe onderskat in die samelewing nie. In Num 13: 26 – 33 lees ons hoedat Moses die 10 verspieders uitgestuur het om die beloofte land Kanaän te gaan verken.

Daar was ‘n minderheidsverslag en ‘n meerderheidsverslag. Die meerderheidsverslag van 8 van die verspieders was negatief en het Moses gewaarsku om nie in die land van die reuse in te gaan nie. Hulle het hulself as sprinkane gesien. Daar was egter ook ‘n minderheidsverslag van Kaleb en Josua wat gesê het, dat hulle wel die land kan inneem met die hulp van die Here. Die mense was so teen Kaleb en Josua, dat hulle vir dié twee onder die klippe wou steek. Heelwat later het die Israeliete Kanaän binnegeval en die land Kanaän wel in besit geneem. (Die minderheidsverslag was toe reg gewees.) Met God se hulp kon hulle die onmoontlike doen.)

Dink verder ook aan die Gideonsbende wat met 300 man die Midianiete verslaan het. God het juis vir Gideon gesê om slegs 300 man saam te neem, sodat die grootheid van Sy krag kan blyk.

Die vraag is hoe moet minderhede leef in ‘n land waar hulle gedurig bedreig voel. Die vroeë Christene van Handelinge het ook konstante bedreiging ervaar van die Jode en Romeine. Tog het hulle uiters voorbeeldig en onberispelik geleef, sodat hulle later die guns van die hele volk geniet het.

Ons lees die volgende van die vroeë Christene in Hand 2: 44 – 47: Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Die gelowiges onder die Afrikaansprekendes moet in hierdie tyd van ontwrigting en bedreiging leiding gee deur ons voorbeeld. Daar is ‘n Engelse uitdrukking: “Leading by example.”

Ons waardesisteme en morele beginsels moet nie in hierdie tyd verkrummel nie. Ons moet nie die kwaad met kwaad beveg nie. Ons moet deur ons voorbeeld, respek afdwing ook by die meerderheidsgroepe. Ons moet woede met vriendelikheid begroet. Ons moet haat beantwoord met liefde.

Minderheidsgroepe moet nie hulle invloed en krag onderskat nie. Die vroeë kerk in Noord – Afrika het in die eerste eeue drasties gegroei omdat die kerk teenwoordig was by die bevolking toe allerhande peste Noord – Afrika getref het. Die bevolking het soveel respek vir die kerk gekry dat duisende hulle tot die Christendom bekeer het. Op die huidige oomblik bekeer duisende Moslems hulle tot die Christendom, omdat Christene uitreik na baie Moslem – vlugtelinge, wat uit hulle lande van oorsprong gevlug het.

Die seun Dawid het die magtige Goliat verslaan. Die nietige volk Israel (Jode) lewe die wêreld oor in “diaspora”, maar verklaar trots dat hulle Jode is. Daar waar hulle grondvat, maak hulle ‘n verskil in die ekonomie van die dorp of land.

Paulus het ook gesê: “As ek swak is, is ek sterk.” Die NG Kerk het ook swak geword in die oë van baie mense. Maar dit is die mees ideale posisie. God werk uit swakheid en broosheid. God werk met kleipotte wat gekraak is. God maak ‘n verskil deur ons, wanneer ons swak en uitgelewer voel.

Buiten dat minderhede voorbeeldig moet lewe, moet hulle ook ‘n positiewe geloof hê, dat hulle met God die onmoontlike kan vermag. Minderhede moet leer dat hulle krag nie lê by die stembus nie, maar eerder hoe diensbaar hulle kan wees vir almal in die land. Minderhede moet met ‘n diep sin van afhanklikheid lewe. Sonder die lewende God is ons verlore.

Die grootste gevaar van die Afrikaanse minderheid is dat ons in verdeeldheid, twis en in ontrekking van die meerderheid lewe. Ons lewe op eilande. Ons bou mure. Veel eerder moet ons brûe bou van versoening. Ons moet lewe met invloed en krag om ‘n verskil te maak.

  • Minderheidsgroepe lewe met ‘n roeping, daarom voel hulle nie bedreig nie.

  • Minderheidsgroepe leef in afhanklikheid, nooit in selfversekerde meerderwaardigheid nie.

  • Minderheidsgroepe leef om ‘n verskil te maak, nie om hulle te onttrek nie.

  • Minderheidsgroepe lewe waardig en is daarom nooit disrespekvol nie.

  • Minderheidsgroepe is versoenend, nie verdelend nie.
  • Minderheidsgroepe lewe met krag en is daarom nie minderwaardig nie.

  • Minderheidsgroepe neem hulle plek in met selfvertroue, sonder om volstruispolitiek te beoefen.

Minderheidsgroepe moet soos suurdeeg, hulle Christelike waardigheid uitlewe en die hele brood (die land) deursuur met liefde en versoening. Die kleinste kersie kan lig gee. Minderheidsgroepe moet die Christelike lig laat skyn in die wêreld.

Die grootste bekommernis is egter dat baie Afrikaners hulle rug gedraai het op God en met haat en rassisme die land wil reg slaan. As ons eers kerkloos en godloos geraak het, kan geeneen ons red nie. Ons sal onsself ook nie kan red nie. Ons sal ons eie volk vermoor met ons goddeloosheid. Daarom moet ook die Afrikaners hulself tot God bekeer. Dan sal God help en red! Hy belowe dit immers telkens in Sy Woord.

Ons land het minderheidsgroepe nodig. Daarom het God ons met ‘n doel hier geplaas. Ons moet ons lewensdoel as minderheidsgroepe raaksien en help om die reënboognasie weer op te bou, vanuit die chaos waarin ons, ons tans bevind. Ons het mekaar meer nodig, as wat ons miskien wil erken.

Mag daar eendag geskryf staan in die geskiedenis, dat ons as minderheidsgroep in dié dekade ons land gered het van ondergang en ‘n positiewe bydrae gelewer het om ‘n verskil te maak. Maar dan moet ons lewe met Christelike waardigheid en respek. Sonder Christus, kan ons nie sout wees, wat weer nuwe smaak aan hierdie chaotiese land kan gee nie.

Gaan maak ‘n positiewe verskil. Vir God tel ‘n minderheidstem. God gebruik ook minderhede om Sy Koninkryk te bou. Mag jy ‘n verskil maak!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

WOEDE MAG JOU NIE ONVERANTWOORDELIK MAAK NIE.

b5b915687f60475bbadbd12bd648af2cMense in ons land, van alle rasse is kwaad en woedend. Sommige van die woede is geregverdig en ander is nie geregverdig nie. Mense is kwaad oor die misdaad, plaasmoorde, die ekonomie, swak politieke leierskap, werkloosheid en swak dienslewering. Die probleem is dat mense hulle redelike oordeelsvermoë verloor en amper enigiets op die sosiale media kwytraak en veralgemenings maak. Die rassisme wat die afgelope weke op die sosiale media gegons het, van alle kante help ons glad nie. Om die reg in eie hande te neem, soos die Parys boere, veroorsaak net diepe verdeeldheid en vernietig mense se lewens en goeie reputasie. In woede kan ‘n mens iets onverskilligs doen of sê of skryf, wat jou hele lewe kan vernietig. Spyt kom altyd te laat. Dit vernietig ook die toekoms van ‘n vreedsame naasbestaan onder hierdie skewe en brose reënboogland van ons. Die vernietiging van universiteitseiendom en die ontneming van ander student se reg om te studeer is uiters kortsigtig en krimineel. Om President Zuma te verkleineer met spotprente, veroorsaak net rasse spanning. Oordeel President Zuma met grondige feite, sonder om ‘n karikatuur van hom te maak. Christus het ons mos geleer om met waardigheid ons geskille en woede te beheers met die krag van die Heilige Gees, wat ons selfbeheersing gee.

As ons nie kan leer om onsself te beheer nie, kan ons op die ou end met die “gebakte pere” sit van ‘n diep rassistiese en verdeelde samelewing, waar almal op die een of ander manier gaan seerkry. Beveg die kwaad met die goeie en ons sal die vrugte van vreedsame saambestaan geniet in hierdie wonderlike land van ons.

In Gen 4: 5 – 6 lees ons hoedat Kain, omdat hy kwaad was, sy broer Abel doodgemaak het. Hy het sy woede verkeerd gekanaliseer en sy hele lewe vernietig. Daar staan dat hy van die grond waar hy gebly het verdryf is en dat hy die guns van die Here verloor het.

Moses weer het in Num 20:11 by Kades die rots twee keer met die kiere uit woede geslaan om water te laat uitkom. Die Here het egter vir hom gesê om slegs met die rots te praat. Omdat Moses woedend was vir die Israeliete op die verkeerde manier, mis Moses die beloofte land. Hy vernietig sy loopbaan van 40 jaar as leier van die Israeliete om hulle die beloofte land in te lei.

Daarom moet ons as Christene altyd so beheers optree, dat ons ambassadeurs is van Sy nuwe Koninkryk. Wie in selfbeheersing lewe is soos die stoom in die pype van ‘n stoomlokomotief. Dit gee krag agter ons aksies om te werk aan ‘n beter, regverdiger en vreedsame Suid Afrika, waar daar plek en ruimte is vir almal om te gedy en voorspoedig te lewe. ‘n Suid Afrika waar die plaasmoorde ophou en tronke leegraak en mense werk het en waar almal weer veilig voel. Laat die liefde seëvier in hierdie moeilike munisipale verkiesingsjaar wat voorlê. Liefde begin by onderlinge respek. God seën Afrika!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Arm in die gees …

ARM IN DIE GEES TEENOOR “GO – GETTER EN PUSHERS”

 “Soos borsluise en vlooie op ‘n hond spring so spring bekommernisse en lewenssorge op mense.” So skryf een van ons nuwe digters.

Want ons “default” is om onafhanklik te wees van almal, verkieslik so min as moontlik van God ook. Die hele bemarkingsisteem is daarop ingestel om vir mense vryheid en onafhanklikheid te gee.

Jongmense word geleer om “Go-getters” te word. Soos JB Philips dit stel:  Geseënd is die pushers, want hul kom iewers in die wêreld. Ons is immers in die wêreld nou. Wees ‘n Go-getter en ‘n Pusher en jy sal êrens kom. Word ‘n Idol en ander sal van jou afhanklik wees.

Dit staan lynreg teenoor die 1 ste Seënbede wat leer: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Wie wil as mens die koninkryk beêrwe, as ek die wêreld kan wen.

Wees afhanklik – God afhanklik. Ewald van Rensburg skryf sulke mense dink nie minder oor hulself nie, hul dink net reg oorhulself. Hulle weet hul het God baie nodig, broodnodig.

Met die uittog uit Egipte het God die Israeliete vir 40 jaar deur die woestyn gelei. In Egipte was hul slawe gewees, maar hul was onafhanklik, in die s’n dat hul geweet het dat hul kos verseker was. Hulle het hul eie wingerde, vee, parskuipe, gesaaides, spense en kruike gehad. Sou daar dinge verkeerd loop, was die Farao hul versekerspolis. Hy sou beslis sorg dat hul nie uitsterf nie, want die Israeliete was vir hom baie nodig om as slawe gebruik te word.

In die woestyn moes hul klaarkom met hul daaglikse kwota manna en kwartels. Hulle kon niks gebêre het nie. Dit sou vrot geword het as hulle dit sou durf waag om op te gaar vir die volgende dag. Enigiets wat hul wou bêre sou vrot word en begin om sleg te ruik. As iemand durf oortree, sou almal  weet van hul oortreding, want alles rondom hulle het begin stink van vrot manna en kwartels.

Die Israeliete het letterlik in die aand  gaan slaap en nie geweet waarhul  brood môre vandaan gaan kom nie ? Maar elke oggend het God klokslag vir hulle manna gegee en elke aand klokslag kwartels. Eugene Peterson se “Message” stel dit so pragtig:

“At dusk you will eat meat and at dawn you’ll eat your fill of bread; and you’ll realize that I am God, YOUR God.”  Die Here het hul geleer om op HOM alleen te vertrou.

Eugene Peterson vertaal Mat 5: 3  as volg : “ You’re blessed when you’re at the end of your robe. With less of you there is more of God and his rule. “

Wat beteken dit om op die end van jou tou te wees ? Dit beteken om arm in die gees te wees (Grieks). Dit sou ook kon beteken om arm aan geesteskrag te wees, om ‘n soort gebrokenheid oor myself te hê. Dit beteken om oorweldig te word met emosies van moedeloosheid, hartseer, gebrokenheid en desperaatheid. Eers wanneer jy radeloos en verslae is, leeg van jouself en in totale wanhoop kan jy verstaan wat dit beteken om van God afhanklik te wees. Martin Luther sê ons isbedelaarsvoor God. Wanneer jy vir God kies uit noodweer en nie uit eie keuse nie, weet jy eers hoe nodig, broodnodig het jy vir God.

521480_578526725499763_2118738582_n (1)

Wie so arm word aan homself, dat niks meer van homself / haarself oorbly nie ……. word ‘n Koninkryksburger. Sien jy kans om so arm te word ?

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van NG kerk Adelaide)