Moet ek ’n passasierskip of ’n handelskip wees?


SKRIFLESING: Luk 13: 6 – 9 en Mat 28: 16 – 20

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n passasierskip en ‘n handelskip. Hulle verskil hemelsbreed van mekaar want hulle take verskil. Die passasierskip is gemaak om passasiers te vervoer en die handelskip is gemaak om mee handel te dryf.

Omdat die passasierskip getaak is om passasiers te vervoer, is die skip dan ook gerieflik ingerig. Gewoonlik baie weelderig, met al die gemak wat passasiers oor ‘n lang seevaart verlang. ’n Handelskip is weer ongemaklik met min gerief, want die skip is nie gebou om te ontspan nie, maar om houers en vragte te vervoer.

Op ‘n passasierskip werk net die bemanning. Die honderde passasiers ontspan op die skip en word bedien. Op die handelskip is almal op die skip getaak met ‘n opdrag. Niemand word bedien nie.

Waarmee sal u die kerk vergelyk? Met ‘n passasierskip of ‘n handelskip?

Vir baie lidmate moet die kerk soos ‘n passasierskip wees. Die kerk moet gerieflik wees en deeglik na hul behoeftes omsien. Die dominee en die kerkraadslede moet soos die kelners op die passasierskip wees, wat rondhardloop om almal tevrede en versorg te hou. Dan is die kerk op haarself gerig. Dan leef die kerk bloot vir eiebelang en is na binne gerig.

Veel eerder moet die kerk soos ‘n handelskip wees. Die kerk is die Here se handelskip waarmee Hy die wêreld wil bereik. Die kerk as handelskip moet liefde, vriendelikheid, gasvryheid, liefdadigheid en al die gawes van die Gees vervoer en dit lewer aan die wêreld.  Daarom het die Here Jesus dan ook met sy hemelvaart vir die kerk sy visie, sy missie uitgespel, naamlik om dissipels te maak.

Daarom het die Here Jesus dan ook die gelykenis van die vyeboom vertel. Die Here Jesus kom by die vyeboom en vind ‘n pragtige blaredos, maar vind geen vrugte daaraan nie. Dit waarvoor die vyeboom aangeplant is, naamlik om vye te dra, daarin misluk die vyeboom. Die vyeboom is soos ‘n luukse passasierskip, met ‘n pragtige blaredos, waaronder die lidmate in die koelte sit. Maar die vrugte, die vye ontbreek. Daarom is die Here erg ontstel. Die vyeboom voldoen nie aan die doel waarom dit aangeplant is nie.

Die vyeboom  is bemes en nat gegooi en versorg, maar nog dra dit geen vrugte nie. So het die Here Jesus ook sy kerk geplant, bemes en natgegooi en versorg. Die Here het vir sy kerk die Woord, gegee en ampsdraers en gawes, maar nog steeds dra die Here se kerk nie vrug nie. In plaas van dissipels te maak, sit ons in die koelte van die vyeboom, sit ons op ‘n gemakstoel op die passasierskip.

Kyk die Here Jesus nie dalk ook vanoggend na sy vyeboom, sy kerk op Adelaide en wonder Hy of Hy nie maar die gemeente moet uitkap nie. Vir meer as 131 jaar het Hy al die vyeboom, die gemeente versorg en bemes en natgegooi, maar tog ontbreek die visie nog om dissipels te maak vir die Here. Ons is ingestel om almal binne die kerk gelukkig te hou, tevrede te hou, in die koelte te hou, dat ons vergeet het van ons oorspronklike visie, naamlik om dissipels vir die Here te maak.

Onderhou ons nie dalk vanoggend ‘n passasierskip in plaas van ‘n handelskip nie.

U sien in Mat 28: 19 gee die Here Jesus die volgende opdrag, naamlik: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” In die Grieks staan daar letterlik: “Maak dissipels al lopende en lerende.”

Die kerk is die enigste organisasie wat nie bestaan vir sy lede nie, maar vir sy nie-lede. Die kerk bestaan ter wille van die wêreld en die ongelowiges wat nog tot redding moet kom.

God se teiken is dus nie die kerk nie. Sy teiken is die wêreld: “ Gaan na die nasies toe.” Die kerk is die handelskip wat liefde verhandel aan die wêreld. Die kerk is die handelskip wat die liefde bring na die mense en die nasies. Die kerk is die draer van die liefde van Jesus Christus.

God werk in die wêreld. Wanneer die kerk in die wêreld werk, dan werk God in die kerk.

Johannes 3:16 sê nie: : “God het die kerk so lief gehad nie”, maar “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy Seun gestuur het.” Natuurlik beteken dit dat God vir jou en my ook lief het, maar dit beteken ook dat hy die ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook lief het, en dit is ons taak om van hulle dissipels te maak.

Ons moet nie vra: “ Hoe gaan dit met julle kerk nie.” Ons moet eerder vra: “Hoe gaan dit met die wêreld daar waar julle kerk is? Want God mik op die wêreld.

Is ons huwelike, ons gesinne, ons lewens, ons prioriteite, ons woorde, ons dade, ons geaardhede, ons persoonlikheid ‘n lewende getuie van Jesus Christus? Hierdie bose wêreld waarin ons lewe sal nie beter word deur dit net te kritiseer nie. Nee, ons moet dit eerder evangeliseer.

Dit help nie ek kla oor die arbeiders in my diens nie, ek moet hulle by die Woord uitbring. Het hulle ‘n Bybel? Herinner ek hulle aan eredienste in hulle taal. Gesels ek met hulle oor die Bybel? Hou ek in die oggende vir hulle godsdiens? Deur ons barmhartige dade maak ons ook dissipels vir die Here Jesus. Iemand se dade tel meer as sy woorde.

Leef ek elke dag korrek voor God, voor my huweliksmaat, voor my arbeiders en voor my medemens?

U sien ek moet self eers ‘n dissipel wees voor ek van ander dissipels kan maak.

Eintlik is dit nie so moeilik om dissipels van mense te maak nie. Ek moet net die saad saai, die regte voorbeeld stel, korrek lewe en bemoeienis maak met ander mense. God verander mense. God gebruik my lewe en getuienis om dissipels van mense te maak. Wat waar is, is dat ongelowige mense meer ons lewens lees as wat hulle die Bybel lees!

Is u en ek nog effektief? Maak ons nog dissipels?

Dra ons nog vye of gee ons net koelte vir die lidmate om onder te sit? ‘n Vyeboom word nie aangeplant vir sy koelte nie, maar vir sy vye. Die kerk is geplant nie om koelte te gee vir lidmate nie, maar om vye te dra, dissipels te maak.

Die kerk is nie ‘n passasierskip wat ons moet vervoer deur hierdie lewe na die hiernamaals nie. Nee, die kerk is die handelskip wat al God se Geestesgawes uitdeel aan die wêreld. Dit is om iets van die hemel nou alreeds waar te maak in hierdie wêreld.

Kom ons gemeente wees nie maar net vyebome wat koelte vir lidmate gee nie, maar eerder ‘n vyeboom wat vrugte dra, wat die opdragte van die Here uitvoer, en wat dissipels vir die Here maak. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)  

1 thoughts on “Moet ek ’n passasierskip of ’n handelskip wees?

Lewer kommentaar