God se raad vir afdae in jou gemoed. (1 Kon 19: 1 – 18)


GOD SE RAAD VIR AFDAE IN JOU GEMOED

Ons kry elkeen ons afdae in die lewe.

downloadDit is nou daardie dae wat ‘n mens se mondhoeke twintig oor agt staan. Jy wil uitgelos wees. Alles sien jy pessimisties en donker. Ons staan aan die vooraand van 2018. Ons het genoeg rede om pessimisties te wees. Dalk is daar in u gemoed vandag ‘n stuk bangheid en onsekerheid wat 2018 gaan oplewer. Die politiek is ongunstig, die ekonomie is swak, jou persoonlike lewe is vol onsekerhede en dan het jy nog jou daaglikse bekommernisse. Ons wens mekaar “Voorspoedige Nuwe Jaar” toe, maar ons weet in ons binneste dat elke nuwe jaar stel nuwe eise aan jou.

In 1 Kon 19 lees ons van ‘n pessimis. Ja, Elia daar onder die besembos met sy mondhoeke wat duidelik twintig oor agt staan. Elia was in stryd teen die Baälgodsdiens. In die Baälgodsdiens het dit net om vrugbaarheid gedraai. Vir hulle was vrugbaarheid van die veekuddes en die gesaaides en die wingerde van die grootste belang. Hulle was ook bekend vir prostitusie en onsedelikheid en het en die Baälpriesters het selfs prostitusie in hulle tempel bedryf.

e6263134c897b29aac183b97837f3f5e--bible-stories-holy-spiritElia het openlik die Baälpriesters in die openbaar aangevat en hulle selfs op die berg Karmel uitgedaag. Hulle het die altare vol brandoffers en hout gepak. Die Baälprofete het gedans dat die stof staan, maar hulle kon nie ‘n rokie laat opgaan nie. Elia het egter geweet dat Jahweh ‘n lewende God is, daarom het hy die toetsterrein moeiliker gemaak en selfs water op die hout gegooi. Elia het gebid en God het getoon dat Hy die enigste lewende God is en die brandoffers en hout het sopnat aan die brand geraak, Elia het vir hulle bewys dat Jahweh die enigste ware God is. Elia het toe opdrag gegee dat al die Baälprofete doodgemaak moet word om die prostitusie te stop. Koningin Isebel was woedend. Sy het vir hom ‘n dreigbrief geskryf: “Môre is dit jou beurt.” Wie sal nie geintimideer wees nie?

Elia het die woestyn ingevlug en onder ‘n besembos weggekruip. Sy mondhoeke het op twintig oor agt gestaan. Hy voel God en die wêreld het hom verlaat. Arme hy, staan alleen teenoor hierdie listige Isebel. Hy het het sy lewe gewaag daar op die berg Karmel vir die Here en nou lyk dit of God hom in die steek gelaat het. Hoe meer hy homself bejammer, hoe meer krul sy mondhoeke na onder. Die lewe het vir hom sinloos geraak. Sy enigste gebedsversoek was dat hy gewens het dat die dood gou mag kom, voor die listige koningin Isebel hom in die hande kry. Met ‘n swaarmoedige hart het hy aan die slaap geraak.

Maar God het vir Elia nie alleen gelaat op daardie “af-dag” van hom daar onder die besembos nie. Ook as ek pessimisties en swartgalleg en af voel, is God daar om my te help om weer op vaste grond te staan.

download (1)God het drie dinge gedoen om vir Elia op te beur. Ons kan dit op onsself ook van toepassing maak. Heel eerste lees ons in verse 6 en 7 dat die Here vir Elia fisies versorg het. ‘n Mens se siel, liggaam en verstand is ‘n eenheid. As die een siek is, tas dit ook die ander aan. Die eerste ding wat die Here gedoen het, was om Sy engel te stuur om vir Elia roosterkoeke te bak en vir hom ‘n kruik met water neer te sit. Eers moes Elia homself fisies versorg. Wanneer ‘n mens af voel, is jy geneig om slegs te eet en jouself nie liggaamlik te versorg nie. Wanner ‘n mens jouself dwing om reg te eet, te stort, jou hare te kam en jou liggaamlik te versorg, is dit die eerste tree van oorwinning. Die Here het dus vir Elia heel eerste fisies versorg.

Toe het die Here in die tweede plek met Elia se denke begin werk. Somtyds dink ons so verkeerd, want ons perspektief op dinge is verdraai. Ons dink ons is stoksiel alleen en niemand verstaan ons nie. Elia was soos die ou wat blomme geruik het en gevra het, waar is die begrafnis. Luister wat sê hy in vers 10: “Here, ek het alleen oorgebly en hulle soek om my ook dood te maak.” Toe sê die Here vir hom in vers 18: “Nee Elia, jy het nie alleen oorgebly nie. Daar is nog seweduisend saam met jou wat nie hul knie voor Baäl gebuig het nie.” Hierdie seweduisend is simbolies van die getal vier, die vier windrigtings plus drie, simbolies van God en duisend, simbolies van die volheid. Elia is beslis nie alleen nie. God moes net ‘n bietjie Elia se denke verander.

Dalk het u al die storie gehoor. Daar word vertel van die eiendomsagent wat by die oom gekom het wat sy plaas wou verkoop. Die oom was moeg om ver van winkels en die beskawing te wees. Hy was moeg om teen die elemente te baklei. Hy wou toe net verkoop. Die eiendomsagent skryf toe ‘n advertensie en vra die oom of dit reg klink: “ Goedgeleë bosveldplasie, lopende water, vrugbare grond en ver van die stad se gejaag.” Toe sê die oom: “Is dit my plaas? Dis wat ek nog altyd wou gehad het! Toemaar, ek wil nie meer verkoop nie!”

Hoe lui daardie kinderliedjie nou weer: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een …..” Sommer gou sal jou mondhoeke tien oor tien staan. Die Here het dus Elia se denke verander, deur hom daarop te wys dat hy nie alleen is nie, maar dat hy nog seweduisend ander volgelinge, bates en seëninge het.

Die derde ding wat die Here vir Elia gedoen het, was om vir hom werk te gee. Elia moes homself uit sy neerslagtigheid en swartgalligheid werk. Hy moes twee nuwe konings Gasael en Jehu gaan salf. Hy moes ook vir Elisa as sy opvolger salf. Die probleem van ‘n pessimis is dat die ou op die kantlyn staan en kritiseer, die optimus is die doener. Toe Elia begin doen, toe wyk sy neerslagtigheid.

Gaan werk, gaan doen, gaan verander jou wêreld. Spreek die dinge aan wat jou neerslagtig maak. Raak betrokke in jou gemeenskap. Maak ‘n verskil in ander mense se lewens. In my persoonlike lewe het ek al dikwels ervaar dat ek die oggend neerslagtig opstaan. Ek dwing myself dan om ‘n paar mense te besoek en vir hulle iets te beteken. Teen die aand voel ek goed oor myself. Ek het ‘n verskil gemaak. (Ek praat nie hier van depressie nie. Depressie is ‘n siekte en moet deur dokters en medisyne behandel word.)

Light.of.the.worldDoen iets, eerder as om niks te doen nie. ‘n Ou Chinese spreukwoord lui: “ Dit is beter om een kersie aan te steek as om teen die donker te vloek.” ‘n Anonieme spreuk lui: “ In die heelal is daar nie genoeg donkerte, om een klein vlammetjie uit te doof nie.” Moenie pessimisties op ‘n hopie gaan sit oor die droogte, oor jou finansiële posisie of oor die misdaad nie. Gaan doen iets daaraan. Dit is beter as om niks te doen nie.

Onthou die Here se voorskrif vir Elia was:

  1. Versorg jou fisies.

  2. Tel jou seëninge en verander jou denke.

  3. Spring aan die werk.

Mag die raad van God aan Elia, ook vir u deur 2018 dra.

(Die hooflyne van die preek kom uit my aantekeninge van ‘n preek wat ek gelees het. Die outeur het ek vergeet. Die preek het ek verwerk en aangepas)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s