Wees die wolsokkie vir die Here se klitsgras.

SKRIFLESING: Handelinge 13: 44 – 52

Ons ken almal klitsgras. Klitsgras het ‘n ongelooflike vermoë om te vermeerder en te versprei.

Een prediker het een maal klitsgras vergelyk met die verspreidingsvermoë van die Evangelie. Dit is dan ook die inspirasie van die preek. Ons kry klitsgras in die veld, in die stad, in vlak grond, in droë grond en in vrugbare grond tussen baie ander gewasse. In ons land is daar nie ‘n landstreek waar daar nie in ‘n mindere of meerdere mate klitsgras voorkom nie. Klitsgras word nie deur almal in ‘n positiewe lig gesien nie. Maar ons almal is verstom aan die eienskap van klitsgras om te kleef. Daarom gaan die preek nie oor die nadele nie, maar oor die eienskap van klitsgras om te kleef, wat verstommend is. Die eienskap om te kleef is in die visier van ons preek vanoggend.

Hoekom is klitsgras so volop? Omdat dit so effektief versprei. Klitsgras klou aan honde, en aan diere wat in die veld loop en ook aan my klere. En môre, oormôre groei die klitsgras in die tuin, want daardie stekelrige goedjies wat aan jou wolsokkies vassit is die saad.

Klitsgras se kleefvermoë kry jy by goeie goed en slegte goed. Slegte dinge versprei maklik soos kleefgras, dinge soos skindernuus, leuens, agterdog, jaloesie ensovoorts. Frieda Marais vertel van die grappie oor skinderstories: “Dit begin in Kookhuis met ‘n veer en eindig in Adelaide as ‘n volstruis.” Gelukkig versprei goeie goed, soos ‘n glimlag, vriendelikheid, opregte belangstelling ensovoort.

Die Evangelie het ook die wonderlike verspreidingsvermoë van klitsgras. So ook het die goeie nuus van die Evangelie van Jesus Christus ook oor die hele wêreld versprei. Hiervan getuig ons skrifgedeelte en die kerkgeskiedenis. Daarom het die Here Jesus vir ons met sy hemelvaart die Woord, sy Heilige Gees en ‘n opdrag gegee. Hy het gesê dat ons al lerende en al dopende dissipels vir die Here moet maak. Daarom het die Here vir elkeen ‘n verskillende wêreldtaal laat praat, amper soos in die toring van Babel sodat hulle die Woord moet versprei oor die hele aarde. Die Here het selfs toegelaat dat die vroeë Christene  gemartel word op brandstapels, met pik te besmeer en hulle aan die brand te steek, vir honger leeus te gooi en om gekruisig te word. Hoekom? Sodat hulle al vlugtende oor die hele wêreld die Evangelie moet versprei. Die bloed van die martelare het die saad van die kerk geword. Toe die vroeë Europa nie kans gesien het om donker Afrika in te trek om die Evangelie te versprei nie, vind die sogenaamde heilige Bartholomeusnag plaas en die daaropvolgende bykans 100 jaar van protestantse vervolging in Europa. Die Franse Hugenote en ander word toe gedwing om Europa agter te laat, na Suider-Afrika te vlug en ook hier die saad van die Evangelie te plant. So het die Voortrekkers noordwaarts getrek en die Evangelie versprei in die hele Suider Afrika. Vandag staan daar kerke in elke dorpie, nedersetting en stad.  Soos klitsgras stekelrig is en jou somtyds seermaak, so kan die verspreiding van die Evangelie ook lyding en pyn en spot vir jou bring. As jy van die Here getuig of ‘n mooi voorbeeld stel, sal mense dikwels van jou ‘n bespotting maak.

Sommige mense laat gaan eerder hulle Christelike waardes, om nie bespot te word nie. Maar diegene wat toelaat dat die stekelrige Evangelie hulle waardes  en voorbeeld beïnvloed, gee nie om, om bespot en beledig te word nie. Hulle versprei die Evangelie.

In die vroeë kerk het die Here die tegnologie en die wêreldgeskiedenis van destyds gebruik om die Evangelie te versprei. Destyds het die sogenaamde Pax Romana of dan die Romeinse vrederyk geheers. Die Romeine het feitlik oor die hele bekende destydse wêreld geheers, sodat elkeen eintlik ‘n wêreldburger was, wat sonder visum kon reis waarheen hy of sy wil. Ook het die moderne paaie van die Romeine ook baie bygedra dat die Evangelie maklik versprei het.

Die Here het die uitvindsel van die wiel, van die boekdrukkuns, van die eerste stoomenjin, van die eerste motorkar, alles gebruik om die Evangelie vinnig uit te dra. Vandag word God se Woord per radiosein, per TV sein, per satellietsein oor die eindes van die aarde gekommunikeer. Internet en epos is besig om die moderne snelweg van die Evangelie te word. Sedert Covid-19 uitgebreek het, het feitlik alle gemeentes oor die wêreld internet eredienste. Ons eie gemeente gebruik internet en webwerwe om die Evangelie ook buite die eredienste te bevorder.

Vandag is daar in bykans in elke dorpie van die wêreld Christene. In elke land vind ‘n mens Christene in ‘n mindere of meerdere mate.

Ons is vandag se kerk. Ons is vandag se draers van die Evangelie. Daarom moet ons soos wolsokkies die kleefvermoë hê om die Evangelie te versprei. Ons moet vashou aan die Here se Woord soos klitsgras aan ‘n woltrui. Ons moet gereeld die Bybel lees sodat ons sal onthou wat die Here vir ons gedoen het. Deur ons korrekte lewenswandel en voorbeeld en deur ons getuienis word ons die woltrui of wolsokkies wat die Evangelie versprei.

Is ek die Here se wolsokkies, waaraan die Evangelie kan klou op my plaas, in my huis, op die skoolbanke en in die openbare lewe?

Klitsgras is ook onvernietigbaar soos die Evangelie. Klitsgras is onvernietigbaar. Jy kan dit maar verbrand, die saad onder die grond sal weer ontkiem. Jy kan dit maar uittrek, jy verhaas net die verspreiding daarvan. Paulus en Barnabas is verjaag en vervolg en so het hulle van stad tot stad getrek. Ons lees hoedat hulle in Antogië die Evangelie verkondig het en hoe die Evangelie deur die hele streek versprei. Toe die Evangelie begin om te versprei in Antiogië is die mense opgemaak deur die Jode. Paulus en Barnabas was verplig om te vlug na Ikonium. Tog was die Evangelie reeds gesaai in Antiogië, want ons lees: “Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.”   

Klitsgras klou net aan sekere materiale vas, netso is ook die Evangelie bestem. Klitsgras het die vermoë om eerder aan wol as byvoorbeeld aan seil of denim vas te klou. Net so lees ons invers 48 (b) dat slegs “die wat daartoe bestem” is, gelowig geword het. Daarmee bedoel die skrywer van Handelinge dat God op ‘n onweerstaanbare wyse gewerk het in hulle vir wie God uitverkies het. Ons moet dus die Evangelie verkondig oor die hele wêreld, in alle tale en vir alle kulture. God sal self die mense se harte verander, wie Hy wil verander. Ons is slegs maar die saaiers, nie die Oester nie. Dit is natuurlik die hart van die Gereformeerde Evangelie. Ons verkondig die Evangelie, dit is God wat deur die werking van die Heilige Gees mense se harte verander.

Mag ons slegs die saaiers wees, die wolsokkies wees wat die Here gebruik om Sy saad, die Evangelie te versprei.

Julle is die wolsokkies, wat dieselfde verspreidingsvermoë het as klitsgras om die Evangelie te versprei.    

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Waar jou skat is, sal ook jou hart wees.

SKRIFLESING: Mat 6: 19 – 21 en Jak 1: 9 – 11

Lank, lank gelede in die tyd toe die Romeine nog geregeer het, was daar ‘n arm man met die naam Simonides. Simonides was ‘n slaaf wat baie swaar gekry het onder sy eienaar. Op ‘n dag besluit hy toe om weg te loop. Hy wou kyk of hy nie iewers anders ‘n beter werk kon kry nie. Hy het agtergekom dat geld nie volop beskikbaar was nie en begin toe om pragtige gedigte en verhale te skryf en dit dan te verkoop.

Met die geld wat hy verdien het, het hy deur die wêreld gereis op soek na nuwe ervaringe. Hy wou hierdie nuwe ervarings gebruik vir sy skryfwerk. Elke dag het hy almeer geleer van mense, van homself en die lewe. Mettertyd het Simonides bekend geraak vir sy skryfwerk.

Maar op ‘n dag besluit Simonides om terug te keer na sy geboorteland. Hy moes op ‘n skip klim om oor die Middellandse See te vaar na die eiland naby Griekeland waar hy grootgeword het. Daar het ook baie ander passasiers saam met hom op die skip geklim. Ook hulle wou huis toe gaan. Hulle het mooi meubels gehad en allerlei ander skatte wat in groot kiste gepak was. Terwyl hulle gereed maak om op die skip te klim, vra een van die ander mense vir Simonides: “Simonides, waar is jou besittings? Het jy dan niks wat jy gaan saamneem huis toe nie?” Simonides het geantwoord: “Alles wat ek besit, dra ek in myself. Ek het niks anders nie.”

Terwyl hulle oor die see vaar, bars ‘n groot storm los. Die golwe was so groot dat die skip omgeslaan en vergaan het. Baie mense het verdrink met hulle skatte en al. Ander weer het die eiland gehaal, terwyl hulle al hul skatte verloor het in die see.

Simonides het die eiland gehaal, so ryk soos altyd, want sien sy rykdom was “binne” hom. Simonides het gou bekend geraak by die inwoners van die eiland en die hoof van die eiland het vir hom gesorg, want hy het gehou van die wyshede van Simonides. Sy mededrenkelinge het toe besef wat Simonides bedoel het toe hy hesê het. Dat hy sy rykdom binne hom dra.

Die verhaal van Simonides herinner ons aan die woorde wat die Here Jesus Christus gesê het in Mat 6: 19 – 21 dat ons nie skatte moet bymekaar maak op die aarde nie, maar in die hemel.

Dit is nou eenmaal so dat mense vir hulle skatte bymekaar maak. Mense is nou eenmaal soos ‘n kraai, wat alles begeer wat blink. Hierdie goed blink so, dat ons blind raak vir God en ons medemens. Ons word kraaie wat alles in ons nes indra en dink dat dit ons vreugde sal verskaf in die lewe.

Natuurlik is dit nie verkeerd om goed te besit nie, want dit is gawes uit die hand van die Here. Wanneer dit my egter so blind maak dat ek God en my medemens nie meer raaksien nie, dan word dit ‘n “god” in my lewe. Mense steel, en moor en baklei en begeer soos seerowers net om meer skatte bymekaar te maak. Johannes Calvyn sê dat die mens se hart soos ‘n fabriek is wat gedurig afgode vervaardig.

Eerstens sê die Here dat mense wie skatte op aarde bymekaar maak se klere sal deur motte opgevreet word. Wanneer vreet motte aan klere? Wanneer dit nie gebruik word nie. Jesus sê eintlik as daar klere in jou kas is wat jy nie gebruik nie, is dit slimmer om dit vir die armes te gee as vir die motte.

Wat die Here vir jou gee, gebruik dit met vreugde. Wat jy nie gebruik nie, gee dit weg vir die armes sodat hulle vreugde daaruit kry. Waarom die verkwisting? Ook jy sal vreugde daaruit put!

Die tweede beeld wat Jesus gebruik is die van geld wat roes. In die tyd van die Bybel was daar nog nie banke nie en die muntstukke was van ‘n swak kwaliteit wat maklik geroes het. Wanneer Jesus die woord “bymekaarmaak” gebruik, beteken dit letterlik om die geld “plat neer te sit”. En wanneer iets plat neergesit word, beteken dit dat ons dit wegpak, dat ons dit nie gou weer wil gebruik nie. As ons iets regop in ‘n kas sit, beteken dit dat ons dit enige tyd weer gaan gebruik.

Geld is ook ‘n gawe uit die hand van die Here. Maar dit moet gebruik word om te lewe, om my oudag te verseker, om my kinders te laat leer, om die armes te help

Geld mag nooit ‘n status-simbool word nie.  Geld is daar om gebruik te word. Ek kan spaar, maar dan spaar ek om my oudag te verseker of om my kinders te laat leer, nie om vir my status of sekuriteit of troos te skep nie.

Want sien my enigste ware rykdom is, om Christus in my hart te hê. Hy is my enigste troos en sekuriteit. Ek kan alles verloor dan is ek nog steeds skatryk, want ek het Christus in my hart.

Ware rykdom is die kuns om te kan weggee. Ware rykdom is om liefde, deernis, tyd en goed te kan deel met ander. Daarom sê die Here Jesus Christus, om te gee, maak my gelukkiger as om te ontvang.

Vir die kinders in die gemeente. Wanneer ek met my verjaarsdag twee van dieselfde speelgoed ontvang. Bêre ek die een ingeval die ander breek. Nee, ek gee dit vir iemand wat glad nie ‘n speelding het nie.

Waar jou skat is, sal ook jou hart wees. As my aardse skatte vir my kosbaar is, sal ek moeilik sterf, sal ek moeilik hierdie aarde kan verlaat. Maar as my aardse goed slegs gawes, gebruikersartikels is, sal ek maklik kan sterf, want ek kan my maklik van hierdie goed losmaak, want ek weet my eintlike skat is die Here Jesus Christus.

Dit is waar wat die spreukwoord sê: “’n Doodskleed het geen sakke nie.”

Alles wat ek ontvang, kom uit die hand van God. Gebruik dit, geniet dit, maar moenie ‘n slaaf daarvan word nie. Leer om weg te gee, want deur weg te gee, word jy ryk in jou karakter. Deur weg te gee, ervaar jy die vreugde van te gee.

Hoe vang ‘n mens ‘n aap of ’n bobbejaan? Jy plaas vrugte in ’n ysterhouer met ‘n nou opening. Die bobbejaan plaas sy hand in die houer om die vrug te vat. Wanneer sy hand die vrugte toevou, is sy hand te groot om uit te kom. Wanneer jy hom skrikmaak is hy te gierig om die vrugte te los en sit hy vas in die ysterhouer. So maak die duiwel van ons bobbejane. Ons val in die valstrik van materialisme.

Nee, maak jou hand oop, maak jou hart oop, ook vir ander mense en jy sal lewe.

Christus Jesus is my enigste ware skat. Ek sal alles prysgee, solank ek net sy troos, sy teenwoordigheid en sy vrede in my lewe kan ervaar. Dan is ek ook gereed om hierdie teenswoordige wêreld te verlaat.

Jesus Christus het gesê: “ Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Waar is jou hart?

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

’n Herder wat sterf, laat die skape ook weerloos.

SKRIFLESING: Johannes 10:11-18

Die beeld van die Herder met Sy skape in Kinderbybels word dikwels geromaniseer. Gewoonlik word Psalm 23 geskilder met Jesus Christus in spierwit klere, met spierwit skapies in ’n omgewing wat soos Switserland lyk. Maar dit is ‘n verkeerde voorstelling van ’n herder in die Bybel. Psalm 23 is ’n goeie voorbeeld. Wanneer koning Dawid, wat self die herder in die gedeelte is, dit beskryf, vind dit plaas in die harde woestynagtige Palestina met min groen gras en water. Die dae is verskriklik warm en die nagte koud.

Vandag sal ons ‘n trop skape los in ‘n kamp wat volop goeie weiding het. In die Bybelse tyd was daar nie kampe met groen weiding nie. Die landskap was bar, droog en woestynagtig, met net hier en daar polletjies gras wat uitspruit tussen die klippe. Die herder moes elke dag saam met sy skape loop en êrens  na weiding soek. Hulle het rondgetrek, elke dag op soek na ‘n stukkie weiding. Daar was ook nie volop weiding beskikbaar nie. Nee, net genoeg vir daardie dag. Môre en oormôre moes hulle verder trek op soek na weiding. Dit was die herder se taak om weiding te soek en dan sy skape daarnatoe te lei. Gewoonlik in klipperige gedeeltes het die dou afgeloop van die klippe en die grond rondom die klip nat gemaak. Dan het daar tussen die klippe graspolletjies opgeskiet, wat weiding was vir die skape. Sonder die herder wat soek, was die skape uitgelewer aan die elemente van die natuur en die dood. Netso lei die Here ons ook elke dag van een groen graspolletjie na die volgende groen graspolletjie. Ons is daagliks van die goeie herder afhanklik. Elke dag gee ons hemelse Vader vir ons, ons daaglikse brood. Genoeg vir dié dag.

In vandag se tyd word skape aangejaag, met arbeiders of skaaphonde. In die Bybelse tyd het die skape die herder se stem geken en agter sy stem aangekom. (vers 14) Gewoonlik in Bybelse tyd het die jongste seun in die familie die skape opgepas. So was dit ook met Dawid die geval. Vandag is die arbeider of skaaphond agter die trop skape. In Bybelse tyd het die herder voor geloop en die skape het hom gevolg, want hulle het sy stem herken.

Die herder in die Bybel was ook nie silwerskoon met spierwit klere soos in die Kinderbybels nie. Die herder se klere was vuil en geskeur van om in die veld te lewe. Die herder was bruingebrand met krapmerke oor sy arms, bene en gesig.

Die herder het saam met die skape, dag en nag gelewe. Hy het die skape met sy stok en staf beskerm. Sou die herder iets oorkom, was die skape weerloos.

Daar word onderskeid gemaak tussen ‘n goeie herder en ‘n huurling wat die skape oppas. ‘n Huurling doen dié werk vir eie gewin, sonder enige lojaliteit ten opsigte van die skape. Sou daar ‘n rower of ‘n wilde dier kom sal hy weghardloop. Maar die goeie herder is bereid om sy lewe vir die skape af te lê. Daarom staan daar in Johannes 10: 11 – 13: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Die huurarbeider, wat nie ‘n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle omdat die man ‘n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie.”

In die Ou Testament, veral in die boek Esegiël word verwys na die politieke en godsdienstige leiers van die volk Israel, wat swak herders is. Hulle is korrup en sien net om na hulle eie belange. Hulle het die siek en swak en weerlose skape verdruk en vir hulself net die beste gevat. Dit laat ons dink aan die huidige Suid Afrika, waar die meeste politici korrup is. Staatskaping, korrupsie en die steel van geld het ‘n algemene gesig geword. Hulle is swak herders. Hulle laat die skape, die mense van Suid Afrika swaarkry. Daar is geen dienslewering nie, want die herders kyk nie na die skape nie. 

Ook die voorspoedsteologie is ‘n voorbeeld van godsdienstige leiers wat geld najaag, sonder om vir die weerloses te sorg en om te gee. Hulle is swak herders van hulle gemeente.

Die Here is ons herder. Sou Hy iets oorkom en sterf is ons weerloos. Daarom eindig die Evangelie nie by die kruis nie, maar vervolg met die oop graf. In vers 17 staan daar:   “Om hierdie rede het die Vader My lief – omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem.”

Die Here Jesus het Sy lewe afgelê aan die kruis, maar dit op die derde dag weer opgeneem het, sodat ons nie weerloos sal wees in die wêreld nie. Daarom is Paassondag selfs belangriker as Goeie Vrydag. Die Here Jesus het opgestaan sodat ons nie weerloos sal wees nie.

Jesus Christus het opgestaan vir alle weerloses in dié wêreld. In die Ou Testament was net die Jode die uitverkore en spesiale volk. Hulle is as weerloos gesien. Nou sê Jesus in vers 16: “Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.” Daarmee bedoel die Here, dat Hy nou die herder is van alle volke se weerloses.

Jesus het gesterf, maar Hy het opgestaan uit die dood, sodat ons nie weerloos is nie. Daarom het ons nog steeds, elke dag die Here as ons goeie Herder, wat ons wil lei na groen weivelde en na waters waar daar vrede is.               AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)    

Boom geplant by watervore …..

SKRIFLESING: Ps 1: 1 – 6

Kobus, wat het gebeur op hierdie dag 4 April 2004?  Op hierdie dag is jy gedoop in die NG Kerk Adelaide deur jou oupa Ds. Kobus van der Westhuyzen. Op hierdie dag is jy deur die Here aangeneem as kind van die Here en het jy deel van die Here se kerk geword.

Kobus van der Westhuyzen, saam met sy ouers, Kobus en Lizette. Belydenis van geloof afgelê by dieselfde doopvont waar hy gedoop is.

Nou 17 jaar later op 2 April 2021 lê jy belydenis van geloof af en neem jy verantwoordelikheid vir jou lidmaatskap aan die kerk. Die afgelope 17 jaar het jou pa Kobus en jou ma Lizette vir jou van die Here geleer en vir jou ‘n voorbeeld gestel. Hulle kan baie trots wees op die jongman wat hulle grootgemaak het. Vanjaar skryf jy Matriek en volgende jaar gaan jy siviele ingeneurswese studeer. In die outyd het die ou mense van belydenisaflegging gepraat as Boerematriek. Min van hulle het verder as Standerd 8 geleer en daarom is belydenisaflegging gesien as Boerematriek en die begin van jou volwasse lewe.

Jou belydenisaflegging val ook vandag op die hoogtepunt van die kerklike kalender, naamlik Goeie Vrydag. Jy gaan netnou, saam met ons aan die Nagmaalstafel ook sit.

Ek het besluit om Psalm 1 te gebruik by jou belydenisaflegging. Ek het ook jou oupa, Ds. Kobus gebel en gevra wat  ek namens hom vir jou moet sê. Daarom is ek en jou oupa Kobus se raad ineengevleg in hierdie preek.

Daar is baie soorte mense in die wêreld. Daar is kortes en langes. Daar is slimmes en minder slim mense. Daar is maer en vet mense. Daar is goeie mense en slegte mense. Daar is wit en swart mense. Daar is linkerbrein mense en regterbreinmense. So kan ‘n mens aangaan. Maar in God se oë is daar net twee soorte mense, naamlik die regverdigdes en die goddeloses.

Dan vergelyk die Psalmdigter die regverdigdes met ‘n boom en die goddeloses met kaf.

Regverdigdes is soos ‘n boom wat by ‘n waterstroom, in die Here geplant is en groei en ‘n reusagtige boom word. Regverdigdes is geregverdig deur die bloed van Christus wat op Goeie Vrydag gestort is. Hulle dra vrugte van bekering op hulle tyd. Hulle blare, hulle lewe verwelk nie in die somerson of in die winterkou nie. Regverdigdes is lief vir die Wet van God en vir die pad van God. Onthou  jy Kobus, jy het vir my in die katkisasie gesê, jou Oupa Kobus wil altyd hê ons moet op die regte pad bly. As jy op die regte pad bly, dan is jy ‘n regverdige. Dan groei jy soos ‘n boom, wat by waterstrome geplant is.

Die goddelose is egter soos kaf. In die antieke tyd het hulle gewag vir ‘n winderige dag. Dan is die koringkorrels met ‘n vurk die lug in opgegooi. Die koringkorrels wat swaarder is het op ‘n hoop geval, maar die kaf het weggewaai. So is die goddelose ook, hulle waai eenvoudig weg en hulle lewe kom tot niks. Al waarvoor dit deug is om aan die brand gesteek te word, as vuurmaakmateriaal.

Daarom sê vers 1en 5 dat die goddeloses se byeenkoms, die byeenkoms is van mense wat God en ander mense spot. Dink maar hoe kan ongelowiges met God spot en ander mense verkleineer. Maar die byeenkoms van die regverdigdes loop goed af en die Here sorg vir die pad van regverdigdes.

Jou oupa, Ds Kobus het twee dinge uitgewys wat ‘n regverdigde altyd doen.

Eerstens is respek ‘n eienskap van regverdigdes. Onthou goddeloses spot met God en met mekaar.  Maar regverdigdes respekteer God en ander mense. Ja hulle respekteer selfs die geringstes in die samelewing. Jy sal ‘n groot boom word, as jy elke dag God in jou lewe respekteer. Jy moet jou dosente en medestudente respekteer. Eendag moet jy jou vrou respekteer en jou kollegas wat saam met jou werk. Regverdigdes spot nie, hulle respekteer.

Tweedens het jou oupa gesê, moet jy altyd onthou dat wat jy ook al sê of doen beïnvloed ander mense se lewe en jou lewe. Elke dag moet jy keuses maak en elke keuse het ‘n gevolg. Daarom moet jy so lewe dat jou lewe betekenisvol vir ander is. Jy moet ander mense se lewe betekenisvol beïnvloed. Wat ook al jou keuses is, moet jy die gevolge van jou keuses dra.

Kobus, wees ‘n vrugteboom wat by ‘n waterstroom geplant is. Jy sal groei en deur die loop van jou lewe die respek van jou gemeenskap verdien. Strewe daarna om ook soos jou oupa Kobus ‘n Godsman te word. Eendag moet onder jou boom, jou vrou, jou kinders en jou kleinkinders kan kom koelte soek. Hulle moet by jou raad kan kom vra. Jy het wonderlike ouers en ook wonderlike oupas en oumas wat jou lewe positief beïnvloed het. Seer sekerlik het jy ook wonderlike dosente en vriende wat jou lewe positief beïnvloed. Wees dankbaar vir hierdie kosbare mense wat jou lewe gevorm het. Maar eendag moet jy weer ander mense se lewe vorm.

In vers 3 sê laaste gedeelte staan daar, dat alles wat ‘n regverdige aanpak, gedy. Met ander woorde dit word ‘n sukses. As jy wil hê dat jou lewe suksesvol en vol betekenis is, moet jy leef soos ‘n regverdige. Jou studies, jou huwelik, jou ouerskap, jou professionele werksloopbaan en jou lewe lê voor. As jy soos ‘n boom groei by die watervore van die Here sal jy gedy en daarvan ‘n sukses maak. Jou ouers het vir jou ‘n vaste fondament gelê. Bou op die fondament wat hulle vir jou gelê het.

Dit is vandag Goeie Vrydag. Die Here het die volle prys betaal vir ons lewe. Waarom sal ek my duur gekoopte lewe vermors om soos kaf te leef. Waarom sal ek verder spot met God, soos wat die soldate rondom Jesus se kruis gespot het. Ja, Herodus het ook gespot met Jesus. Die Jode het gespot met Jesus. Die goddeloses leef daarvan om van als ‘n spottery te maak.

 Nee, ek is losgekoop om ‘n boom by waterstrome te wees. Jesus het aan ‘n kruishout gehang, sodat ek ‘n lewende boom kan wees wat geplant is by watervore.

Doen dit Kobus en jy sal gedy. Jy sal ‘n boom word en jou nageslag sal in jou koelte sit.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die dag toe ek vir God gelag het ……..

SKRIFLESING: Genesis 17:17 en Gen 18: 10 – 15

Die dag toe ek gedoop is in 1964 het die mense gelag toe die dominee my gedoop het. Want sien ek het 4 doopname: Paul Coenraad Pieter Arnoldus Odendaal. So baie name vir so ‘n klein babatjie. Deur die jare het die mense my gespot oor my baie name. Maar ek is tot vandag toe trots op my doopname. Dit is ek.

Somtyds kan ‘n mens lag oor iets wat blyk onmoontlik te wees. Ek was ‘n stil, skaam en teruggetrokke seuntjie. Ek het amper nooit gepraat nie. Toe ek in Sub B kom het ek vir my ouers en vriende vertel ek wil ‘n dominee word. My ma het laggend gesê sy eet haar hoed op as ek ‘n predikant word. My maats en onderwysers het gelag het natuurlik gedink dit is dagdromery en dat ek nie oor die persoonlikheidseienskappe  beskik om eendag ‘n predikant te word nie. Dit is nou 50 jaar later en ek is nou alreeds vir meer as 30 jaar predikant. Hulle het gelag en wat volgens hulle menslik onmoontlik was het waar geword.  Baie het ook getwyfel of ek Grieks en Hebreeus sou maak, maar deur God se genade het ek dit gemaak.

Mense lag, oor dit wat onmoontlik lyk. So was dit ook met die verhaal van Abram en Sarai. Toe die Here met Abram ‘n verbond gesluit het en hulle name verander het na Abraham en Sara, het Abraham gelag oor God se belofte van ‘n groot nageslag. Abraham het by homself gedink, ek is 100 jaar en Sara 90 jaar. God het ‘n goeie humorsin. Dan lees ons in  Genesis 17:17 dat Abraham op sy knieë geval het en gelag het.

Een hoofstuk later, ontvang Abraham drie besoekers by die bome van Mamre en hy berei vir hulle ‘n feesmaal voor. Hy het hulle nie herken as hemelse besoekers nie. Sara het afgeluister. Toe hulle vir Abraham sê dat sy vrou Sara oor ‘n jaar  ‘n seun sal hê, het Sara ook in  Genesis 18: 10 – 15 gelag, van agter die tentdoeke.

Dan vra die Here vir Abraham in vers 13 en 14, waarom Sara lag. Die Here vra is iets dan te buitengewoon vir die Here. Sara skrik en vertel ‘n leuen: “Ek het nie gelag nie.” Dan antwoord die Here: “Nee, jy het gelag.”

Somtyds lag ons ook as die Here vir ons iets belowe. Of ons skud in ongeloof ons koppe en sê dit is nie moontlik nie. In die doopbelofte beloof die Here vir die dopeling dat Hy ’n God sal wees vir die dopeling en dat die dopeling ingesluit is in al die beloftes van God. Al die honderde beloftes wat die Bybel beloof aan God se kinders, is van toepassing op Liam Johann Bosch.

Somtyds glo ons nie in die doopbeloftes nie of ons kan selfs daaroor lag. Die meeste gelowiges neem nie God se doopbeloftes ernstig op nie. Martin Luther het ernstige episodes van diepe depressie beleef. Tydens een van sy donker episodes van depressie het hy op sy houttafel dit uitgebeitel: “Maar ek is mos gedoop.” Daarin het hy sy troos gevind. So moet ons vashou aan God se doopbeloftes aan ons.

In tye van diepe aanvegtinge, wat oor enige gelowige se lewe kom, moet ons onsself herinner, maar ons is mos gedoop. Baie Anglikaanse kerke het die gebruik om by die kerkdeur ‘n bakkie water te plaas. Dan kan die kerkgangers hulleself herinner dat hulle mos gedoop is en dat God se beloftes ewig en onverganklik is.   

Somtyds kom ons by kruispaaie in ons lewe waar dit onmoontlik lyk om by ‘n oplossing uit te kom. Ons almal het daardie ervarings al gehad. Ons lag vir God. Dit is onmoontlik om uit hierdie situasie te kom. Nie eers God kan help nie. Of dalk twyfel ons aan God se bestaan. Of twyfel of God in staat is om ons te kan help. Ons situasie is te hopeloos.

Dan vra God vir ons, waarom ons lag, waarom ons twyfel, waarom ons moed opgee. Vers 14 weerklink dan: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Waarom lag julle vir my, sê God.

Wanneer ons in situasies beland wat doodgeloop het, lag ons dikwels vir God. Die Here is nie in staat om ons te help nie. Maar dan getuig die Bybel, hoe verkeerd ons oor God oordeel.

Dit is God wat vir die Abraham voorsien het van ‘n offer in die plek van sy seun Isak. Dit is God wat die Rooi See oopgemaak het. Dit is God wat vir Dawid beskerm het teen Saul. Dit is God wat Goliat se kop in die hande van Dawid gegee het. Dit is God wat Daniël beskerm het in die leeukuil. Dit is God wat vir Sadrag, Mesag en Abednego beskerm het in die vuuroond. Dit is God wat sy volk telkens verlos van die ballingskap, waarin hulle hulself gedompel het, as gevolg van hulle sonde. Dit is Jesus wat die water by die bruilof in Kana in wyn verander het. Dit is Jesus wat mense genees het, kos vermeerder het, sondes vergeef het en vir mense hoop en sin gebring het.

Ons moenie lag en dink die Here kan ons nie help nie. Hy is in staat om baie meer te doen as wat ons, onsself kan voorstel. Dikwels is ons lewe soos ‘n tapisserie. Die agterkant van die tapisserie is vol knope en vlegsels en selfs slordig en “messy”. Maar die voorkant van die tapisserie  is in volmaakte skoonheid en harmonie. Ons moenie dink as ons lewe “messy” is, dat God nie daarin is nie. Hy laat alles ten goede meewerk, vir hulle wat op Hom vertrou.

In my persoonlike lewe is ek ook getuie daarvan, dat ek dikwels in doodloopstrate was, waar ek geen uitkoms gesien het nie. Dit is eenvoudig angswekkend. Dan wil ‘n mens as’t ware in ongeloof lag en sê, hier kan selfs God nie help nie.

Om dan net verras te word deur God. Ek kan persoonlik daarvan getuig, maar dit is so intiem persoonlik vir my, dat dit ‘n kosbaarheid is tussen my en God.

Liam Johann Bosch het vanoggend ‘n kosbare kind van God geword. Die Here sal vir Liam help sy lewe lank. Die onmoontlike sal ook in Liam se lewe waar word. Die Here sal hom lei en beskerm. Johann en Yolanda, leer vir Liam dat hy gedoop is. Dat hy aan die Here behoort en dat die Here hom in alles sal help. As die onmoontlike vir hom voorlê, moet hy nie soos Abraham en Sara lag vir God nie, maar met geloofsmoed glo dat God hom sal dra en help, sy lewe lank.

Moenie vir God lag in donker tye nie. Jy sal telkens verras word deur God. Net soos Abraham en Sara verras is deur die geboorte van die seun Isak. God verras ons telkens. Wat ‘n heerlike versekering.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God het Sy vegtersboog neergesit

SKRIFLESING: Genesis 9:8-17

Die reënboog is vir die meeste mense besonders mooi en van besondere vertroosting.

Ek onthou hoe ek een Januarie baie jare gelede terug gery het van Bloemfontein na Strydenburg (my eerste gemeente). Die betrokke jaar wat voorgelê het sou ‘n besondere moeilike jaar gewees het. So tien kilometer buite Strydenburg het die mooiste reënboog so oor die hele dorp gespan. Ek het dit as ‘n Goddelike teken van bemoediging en vertroosting ervaar met die bevestiging dat God saam met my en my gesin is.

In die tyd van Noag was die mensdom in ‘n totale toestand van sonde en het die woes gegaan op aarde. Niemand het God meer gedien nie, behalwe Noag. God wou van vooraf begin met die mensdom. Daarom het God ‘n sondvloed gestuur om die wêreld skoon te was van die sonde. Slegs Noag en sy familie en die diereryk is gered.

Die Hebreeuse woord “qeset” vir reënboog het ook ‘n oorlogskonnektasie en verwys na die kryger se boog. Dieselfde Hebreeuse woord “qeset” kom ook voor in Ps 7: 13, Klaag 2: 4 en Hab 3: 9 – 11, waar dit verwys na die boog van die kryger wat gespan word. Daarom is die reënboog  in die antieke Hebreeuse tekste ook ‘n simbool van God se toorn en oordeel. God span as’t ware sy boog om met jou in oorlog te gaan. Met die sondvloed het God sy “qeset” (sy reënboog) gespan en met die mensdom in oorlog gegaan. Verwoestend het dit 40 dae en 40 nagte gereën en alles vernietig behalwe almal wat in die ark was.  God is ook ‘n toornige God, wat kwaad word oor sonde en sy oordeel kan uitspreek oor sondaars. Ons misgis ons, as ons dink God is net liefde. God is liefde en regverdigheid. Waar God se regverdigheid vertrap word stort God sy toorn uit oor die mens. Daarom moet ons nie van God ons speelmaatjie maat en sonde nie ernstig opneem nie. Baie mense dink God is net liefde, geen oordeel nie. Dikwels glo ons dit is God se werk om te vergewe. Maar dan dink ons naïef  oor God. God straf ook sonde. God straf die sonde van die enkeling en ook die sonde van ‘n volk of van die mensdom. Daarom moet ons versigtig voor God lewe. Hoor hoe sterk spreek die Here Jesus homself uit in Mat 23: 23: “23 “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.” God is die God van geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Wee jou, as God sy reënboog teen jou span.

Daarom mag godsdiens, nooit net oor ‘n goedvoel – gevoel handel nie. Dit moet ook spreek oor die vlymskerpte van God se Woord wat sonde haat, veroordeel en straf. Ons maak dikwels God se genade te goedkoop, te maklik verkrygbaar. Ons bid so maklik “Vader vergeef my al my sonde.” Dit is geen sondebelydenis nie. Sonde is om na te dink oor jou lewe en vir jou sonde ‘n naam te gee en jou sonde by die naam te noem. Wee jou, as God Sy reënboog teen jou span! Wie sal God se toorn kan ontvlug.

Maar God kan ook afstand doen van Sy toorn. God kan Sy toorn verruil vir vrede. So het God ook na die sondvloed vrede verklaar. Daar staan in Gen 9: 13 “My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde.” Wanneer God dus as’t ware die reënboog neersit op die aarde, sit hy Sy oorlogsboog neer om vrede te maak met die mense en ‘n vredesverdrag of -verbond met die mens te sluit. Daarom is die reënboog God se vredesteken en vredesverbond, dat Hy nie weer die wêreld sal uitwis deur ‘n sondvloed nie. Die Here het sy boog (reënboog) neergesit tussen die wolke, as teken dat Hy sy wapen neergesit het en met die mense ‘n vredesverbond gesluit het. So word die teken van die reënboog wat neergesit is, teken van God se trou.

Daar is iets soos post traumatiese stres. Noag en sy nageslag kon maklik elke keer as die wolke saampak, die trauma herbeleef dat daar weer ‘n sondvloed oppad is. Daarom is die reënboog wat neergesit is, ‘n teken dat God nie meer met hulle in ‘n oorlog is nie. Dat God nie weer die aarde sal uitdelg met ‘n sondvloed nie. Dit sou vir hulle ‘n berusting gee. Dit is nogal wonderlik, om te weet dat die reënboog wat neergesit is, slegs sigbaar is wanneer daar ‘n storm op hande is. God se trou is die duidelikste in die storms van die lewe.

Die reënboog wat neergesit is, is ‘n eensydige verbond waar die iniasitief en verantwoordelikheid net van God kom, om die aarde nie weer uit te delg met ‘n sondvloed nie.

So is die kruis ook ‘n teken, dat God afstand gedoen het van Sy toorn en dat sy kruis die weerligafleier was van die hemelse donderweer. Daarom is die kruis in die aarde geaard. Daarom hoef ons ook nie aan post traumatiese stres te lei en God se straf in alles wat in my lewe gebeur te soek nie. Ook in die storms van my lewe, kan ek weet dat God se kruis die simbool van vrede en berusting is.

God het Sy wapen, die reënboog neergesit tussen die wolke en storms van my lewe, as teken dat God van sy toorn afstand gedoen het. God het sy wapens neergelê, om in genade in vredesverbond  met ons te leef.  AMEN. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die twee kragte …..

SKRIFLESING: Mat 6: 25 – 34

Bekommernis kan verlammend inwerk op ‘n mens se lewe. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ‘n sekere vrou. Die vrou was doodsiek gewees en het gereeld elke week ‘n afspraak by die dokter en sielkundige gehad. Elke dag moes sy duur medikasie gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword.

Een koue wintersaand is sy toe egter op pad na die kafee om brood te loop. Toe sy by die robot stop en wag dat die lig moet groen word, vind sy die grootste ontdekking van haar lewe. Terwyl sy wag sien sy koerantseuntjies kaalvoet op en af spring om hul warm te hou. Sy kry hul toe ontsettend jammer en dink hoe sy hul lot kan verlig. By die huis aangekom het sy dadelik vir hulle sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand gaan slaap sy rustig, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ‘n gesonde mens, want sy het geleer om haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ‘n saak groter as haarself.

Haar verhaal laat my dink aan die twee soorte kragte wat daar is, naamlik middelpuntsoekende krag (soos ‘n draaikolk in ‘n rivier) en middelpuntvliedende krag (soos die planeet aarde wentel met middelpuntvliedende krag weg van die son af)  Middelpuntsoekende krag loop uit op die dood in die draaikolk. Middelpuntvliedende krag beteken daar kan lewe wees op planeet aarde.

Die vrou in ons verhaal het haarself middelpuntsoekend vasgedraai in haar bekommernis. Toe sy begin weg-leef het van haarself en vir ander begin omgee het en ‘n barmhartigheidstaak aangepak het groter as syself, het sy begin leef.

In verse 25 – 32 lees ons van mense wat besig is met middelpuntsoekende godsdiens. Hulle is bekommerd en begaan oor hulle eie klein koninkrykies. Oor God se Koninkryk is hulle nie in die minste bekommerd nie. In vers 33 lees ons van hoe ware lewendige godsdiens behoort te lyk. Middelpuntvliedende godsdiens is nie bekommerd oor die self nie, maar is bekommerd oor God se Koninkryk.

Ons mense is geneig om ons eie koninkryke se soek en te bou. Vers 25 tot 32 handel oor die mense se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink, en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter as ek begin leef net vir my behoeftes. Wanneer my polisse, my duur motor, my groot huis, my familieplaas, my kinders, my goeie naam, my gemaksug, my geluk my enigste prioriteit word in my lewe dan gaan die rooi ligte aan. Wanneer ek my dankoffer begin swaar gee. Wanneer my status belangriker word as God se eer. Wanneer ek meer tuis is in my eie huis, as in God se huis is daar iets groots verkeerd.

Wie so besig is om aan sy / haar eie “empire”, sy / haar “koninkrykie” te werk is met sy eie middelpuntsoekende godsdiens besig. So ‘n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernis.

Vandag beleef ons ook ‘n stuk doodsheid in ons kerke omdat gemeentes net ingestel is op hul eie behoeftes. Solank dit net goed gaan met die plaaslike gemeente en met die sieleheil van sy lidmate is alles reg. Ons is bekommerd oor ons eie gemeente en daar eindig dit. Elke gemeente vir homself. Dit is middelpuntsoekende godsdiens in sy uiterste vorm.

Eenmaal is daar aan ‘n skilder gevra om ‘n skildery te maak van ‘n kerk wat dood is. Hy het lank gedink en eers na ‘n jaar terug gekom met die skildery wat hy geskilder het. Hy het ‘n ongelooflike mooi en duursame kerk geskilder, maar skokkend was die spinnerakke oor die sendingskatkis. Wanneer die kerk so bekommerd is oor sy eie behoeftes, oor sy eie klein koninkrykie dan is die kerk dood. Middelpuntsoekende godsdiens is selfsugtig. Dit hou God se genade net vir myself en wil dit nie deurgee na ander nie.

Two hands offering to give, donate or charity

Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kindom go”. Laat U Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort. Wat bedoel ons as ons bid: “Laat U koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God.”

Ons bedoel daarmee dat die Here grondgebied sal wen in my lewe. Dit beteken om hoe langer hoe meer onder die heerskappy van God te lewe. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergaan, om die neerlaag van ons eie koninkryke.

Daar is geen moeiliker gebed as dit nie. Met hierdie gebed verlaat ons die klein kring van ons eie koninkryke, maar ook ons binnekamers en ons kerkmure en  gaan ons oog wêreldwyd oor die lande wat wit is van die oes, na Singapoer en Saigon, na Rusland en Roemenië, oor die ongelowige miljoene tot by die uithoeke van die aarde. ‘n Gebed wat verder uitreik as hierdie een, kan ons beswaarlik bid.

‘n Gemeente wat die Koninkryk van God soek is meer begaan oor die sieleheil en liggaamlike nood van heidene op sy drempel as oor sy eie behoeftes. Daarom moet sendingwerk en liggaamlike nood van mense ‘n baie groter prioriteit by ons wees, as die behoeftes van die plaaslike gemeente. Wie sy eie Koninkrykie verloën en God se Koninkryk soek, maak daarmee ook ‘n einde aan sy / haar wederstrewige wil en stel God aan as die Pottebakker van sy lewe.

Verlang u na ‘n lewende geloofslewe? Verlang u daarna om ‘n lewende gemeente te wees?  Dan sal ons Mat 6: 25 – 34 moet gehoorsaam. Dan sal ons die fisikawet van die middelpuntsoekende en middelpuntvliedende krag moet gehoorsaam.

Wie middelpuntsoekend bekommerd is oor sy of haar behoeftes sal geestelik doodgaan. Hy/ sy sal doodgaan in die draaikolk van sy eie selfsugtige wil en behoeftes. Wie egter middelpuntvliedend besig is om hom / haar te bekommer oor God se Koninkryk en oor hoe God se Koninkryk ‘n groter staanplek in sy / haar lewe en in die wêreld sal kry, sal geestelik lewe.

Versprei die Woord, gee sop, brei truie, gee voedsel, gee ‘n Bybel, versprei ‘n traktaatjie, help iemand en die Koninkryk van God kom.

Klein kuddetjie, bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe God se Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself  bekommerd wees nie. Dit is immers God se hele instelling om oor julle bekommerd te wees.

Here laat u Koninkryk kom. Maranata! Kom Here Jesus! Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan U behoort. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die wapenrusting van die Christen.

SKRIFLESING: Efesiërs 6: 10  – 20

Vandag tref mense baie voorsorg om hulle lewens en besittings te beskerm teen misdaad. Diefwering, alarmstelsels, honde, slotte, vuurwapens ensovoorts word aangeskaf om die verkeerde mense buite te hou.

Paulus sê egter dat daar ‘n ander bedreiging is, wat ons sielelewe bedreig. Dit is naamlik die diaboliese magte van die duiwel wat daarop uit is om ons geestelike lewe aan te val en swak te maak.

Natuurlik is die ou duiwel baie slim en slinks. Hy is ‘n regte jakkals. Hy is ‘n Trojaanse perd. Die stad Troje is vir baie maande onsuksesvol beleër. Toe kry die vyand ‘n slim plan. ‘n Paar krygers het gaan wegkruip in ‘n houtperd en hulle het die houtperd in die nag voor die poort van die stad gelos. Toe het die res van die krygers onttrek. Daardie nag toe alles stil is, het die inwoners van die stad die poort oopgemaak, die houtperd ingestoot, die poort toegemaak en gaan slaap. In die vroeë oggendure het die krygers uitgeklim uit die houtperd, die poorte oopgegooi en hulle maters met ‘n sein nader geroep. Daardie nag het honderde krygers die poorte binnegesluip en daardie selfde nag die hele stad Troje vernietig en afgebrand.

So is die duiwel ook, hy is onsigbaar en vol slim planne om die gelowiges te oorrompel. Hy is altyd soos ‘n jakkals wat in skaapwol homself voordoen. Daarom waarsku Paulus ons teen die diaboliese kragte en magte wat in hierdie wêreld aan die gang is.

Ons het vandag ‘n stryd teen mense wat misdaad pleeg. Maar ons het nog ‘n groter stryd teen ‘n mag wat nie uit vlees en bloed bestaan nie – ‘n stryd teen die magte van hierdie sondige wêreld en die bose geeste in die lug.

Natuurlik is hierdie magte van die sondige wêreld, dinge soos materialisme, sekularisasie, die verafgoding van die tegniek, permisitiwiteit en die strewe om die mens mondig te maak. Dit is juis hierdie dinge wat die ou duiwel gebruik as Trojaanse perd om ons siele binne te dring en van binne uit te hol, sodat hy nes kan maak.

Daarom sê Paulus dat ons nie net ons lewe en besittings moet beskerm nie, maar veral ook ons siele en geestelike lewe. Daarom gee Paulus vir ons raad, watter wapenrusting vir ons beskerming sal gee teen die bose magte. Hy noem verskillende goed soos: gordel, borsharnas, skoene, skild, helm en swaard. Al hierdie goed was deel gewees van die Romeinse soldaat se wapenrusting.

Belangrik is dat ‘n Romeinse soldaat voorsien word van sy wapenrusting. Dit is nie iets wat hy vir homself aanskaf nie. Netso voorsien die Here self vir die gelowige alles wat hy nodig het, om te kan weerstand bied teen die magte in die wêreld en die bose geeste wat aan die werk is.

Dit word in ‘n bepaalde volgorde genoem: naamlik die volgorde waarin ‘n Romeinse soldaat homself aangetrek het. Eers die gordel, dan die borsharnas, dan die skoene, dan die skild aan die linkerhand en sy regterhand sit die helm op. Daarna neem die regterhand die swaard op. So wil die Here as’t ware vir ons aantrek met die volle wapenrusting. Eers die defensiewe wapenrusting en dan volg die offensiewe wapenrusting.

Kom ons kyk na elkeen van hierdie stukke van die wapenrusting.

GORDEL – In die tyd van die Bybel het al die mans rokke gehad. Maar ‘n rok belemmer jou vermoë om te kan hardloop of te kan werk. Daarom het elke soldaat ook ‘n gordel gedra, waarmee hy sy rok kon opbind om meer vlugvoetig te kan wees as hy moet veg. Die gordel se simboliese waarde is dat dit die getrouheid van die waarheid verteenwoordig. Die wêreld hou hom skynheilig en word maklik ontrou. Die duiwel wil juis hê dat ons ontrou moet word. Julle moet egter getrou bly aan die waarheid, aan die Evangelie, aan die Here Jesus. Iemand wat ontrou word, word ‘n droster.

BORSHARNAS – Die borsharnas was gemaak van leer en metaal. Die metaal gedeelte moes die soldaat se longe en hart beskerm teen swaardlemme en die leergedeelte moes die brandpyle blus, sodat die soldaat nie in vlamme opgaan nie.

Die simboliese waarde van die borsharnas is geregtigheid, naamlik om die regte dinge te doen. Daarom wil die borsharnas die opregte hart beskerm, sodat ek die regte dinge kan doen. Ek moet die regte etiese besluite in my lewe neem. Elke dag word ek met talle etiese besluite gekonfronteer. Ek moet opreg van hart wees om die regte besluite te neem.

SKOENE – Die Romeinse skoene was een van die suksesstories van Julius Ceasar se vinnige opgang en militêre suksesse. Daarom roep Christus sy kerk op om die skoene, die bereidheid om die Evangelie te verkondig aan te trek. Het u al hierdie skoene aangetrek?

SKILD – Die Romeinse skild is gemaak van ‘n vlegwerk van leer en metaal., sodat as ‘n brandpyl die skild sou tref, die brandpyl geblus kon word. Die skild verteenwoordig geloof. Met die skild van geloof moet ons die brandpyle van versoekinge uitwis. Die bose vuur allerhande brandpyle op ons af soos: gierigheid, jaloesie, verkeerde begeertes, haat, onsedelikheid ensovoorts. Deur gelowige volharding kan hierdie pyle geblus word.

HELM – Aan die Romeinse soldaat is ook die helm vir sy kop gegee, wat sy kop beskerm. Hierdie helm is simbool van my verlossing. Hierdie versekering dat ek reeds verlos is, moet my diepste motivering wees om weerstand te bied teen die magte van die bose. Die helm word ontvang deur die soldaat, uit die hand van die offisier. Net so ontvang ons ons verlossing direk uit die hand van onse Here Jesus Christus. 

SWAARD – Die swaard verwys na die Woord van God. Dit is een van die vernaamste wapens van die Christen. Daarom moet ons deur Bybelstudie en selfstudie leer om die Bybel reg te hanteer. Die Here Jesus het toe hy versoek is, telkens uit die Woord aangehaal en sodoende die duiwel oorwin.

In vers 18 tot 20 vind ons ‘n paragraaf wat oor GEBED handel. Natuurlik is gebed ‘n magtige wapen teen die Bose. Gebed verander die wêreld en verander myself ook. Daarom moet ons as ons elke deeltjie van die wapenrusting aantrek dit biddend doen. Ons moet vir alles bid. Ons moet altyd deur bid. Ons moet waaksaam bly en vir elke gelowige bid, dat ons almal staande op ons pos sal bly.

Ten slotte hoe lyk nou weer die wapenrusting van die gelowige:

GORDEL – Om getrou aan die waarheid, aan die Here te bly.

BORSHARNAS – Om elke dag eties reg op te tree.

SKOENE – Om die Woord van God uit te dra.

SKILD – Om versoekinge die hoof te kan bied in die geloof.

HELM – Ons verlossing is ons dryfveer.

SWAARD – Die Woord van God is ons wapen.

Ons moet in alles en in alle omstandighede, waaksaam in die GEBED bly.

Daarom wil die Here vir ons versterk met sy Woord en vir ons sê dat hy in hierdie stryd tussen die magte van die Lig en die magte van die duisternis ons Aanvoerder is, wat vir ons alles sal voorsien wat in die stryd nodig is.

Pasop die ou jakkals loop rond, die duiwel stel ook vir ons gedurig ‘n Trojaanse perd op. Wees waaksaam. Wees gereed. Wees paraat. Wees aangetrek met die volle wapenrusting wat die Here vir ons voorsien het.                 AMEN      

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

U staf en u stok ….

SKRIFLESING: Ps 23: 1 – 6

’n Teoloog het Psalm 23 al as die piekniek van die Evangelie beskryf. Al die elemente van ‘n piekniek word hier beskryf, naamlik ’n groen stukkie gras by waters waar daar ’n rusplek is. In die Psalm word ‘n plek van vrede geskilder, saam met ‘n piekniekmandjie, in die vorm van ‘n feestafel. Inderdaad is ‘n lewe saam met die Here ’n piekniek.  In die Engelse vertaling word geskryf: “I shall not want.” As die Here jou Herder is, sal die begeertes om alles te wil hê ophou. In die Here sal jy vind alles wat jy nodig het.

Gewoonlik word die Psalm geskilder met Jesus Christus in spierwit klere, met spierwit skapies ‘n omgewing wat soos Switserland lyk. Maar dit is ‘n verkeerde voorstelling van Psalm 23. Wanneer koning Dawid, wat self die herder in die gedeelte is, dit beskryf, vind dit plaas in die harde woestynagtige Palestina met min groen gras en water. Die dae is verskriklik warm en die nagte koud.

Vandag sal ons ‘n trop skape los in ‘n kamp wat volop goeie weiding het. In die Bybelse tyd was daar nie kampe met groen wyding nie. Die herder moes elke dag saam met sy skape loop en êrens groen weiding gaan soek. Hulle het rondgetrek, elke dag op soek na ‘n stukkie weiding. Daar was ook nie volop weiding beskikbaar nie. Nee, net genoeg vir daardie dag. Môre en oormôre moes hulle verder trek op soek na weiding. Dit was die herder se taak om weiding te soek en dan sy skape daarnatoe te lei. Gewoonlik in klipperige gedeeltes het die dou afgeloop van die klippe en die grond rondom die klip nat gemaak. Dan het daar tussen die klippe graspolletjies opgeskiet, wat weiding was vir die skape. Sonder die herder wat soek, was die skape uitgelewer aan die elemente van die natuur en die dood. Netso lei die Here ons ook elke dag van een groen graspolletjie na die volgende groen graspolletjie.

Ons is daagliks van die goeie herder afhanklik. Elke dag gee ons hemelse Vader vir ons, ons daaglikse brood. Psalm 23 wil ons leer om daagliks van God afhanklik te wees, vir ons daaglikse benodigdhede.

Die ou vissermanne van Paternoster het ook so van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie herder wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar vis is. Daar was storms, partykeer het ‘n skuit nie teruggekom nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig gewees en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Hulle was so afhanklik van die Here, dat hulle hul dorpie se naam “Paternoster” gegee het, wat beteken in Latyn “Onse Vader”. So was die skape van Psalm 23 ook daagliks afhanklik van die goeie herder, die hemelse Vader.

Vers 1 tot 3 gaan oor die daaglikse versorging van die Here. Vers 4 gaan oor die versorging van die Here in moeilike tye van my lewe. Daar staan: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,  is ek nie bang vir gevaar nie,want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.” Dawid het waarskynlik in die laatmiddag, wanneer dit skemer word,  deur ‘n donker kloof met sy skape getrek na die klipkraal. Gewoonlik het die struikrowers of wilde diere daar in die donker klowe, waar dit eerste donker word geskuil. Dit was ‘n plek van gevaar. Dan sê die psalmdigter, dat hy nie bang is nie, want die herder se “stok” en “staf” stel hom gerus. Die stok het die doel gedien om roofdiere en rowers te verwilder. Die staf met sy een punt wat ‘n boogvorm het, kon die skaapherder sy skape aan hulle agterpote nadertrek, weg van die gevaar. So wil die Here ons ook elke dag van gevaar beskerm.

In vers 5 – 6, verander die beeld of metafoor waarmee die mens beskryf word. In verse 1 – 4 is die mens soos ‘n hulpelose en afhanklike skaap, wat wag op die leiding van die goeie herder, die Here Jesus Christus. In verse 5 – 6 word die mens in die metafoor van ‘n eregas beskryf, wat sit aan die tafel van die Here, ten spyte van konflik. ‘n Mens kan die Here se vrede beleef selfs ten spyte van konflik en “teenstaanders” in jou lewe.

Die Midde Oosterse mense het gewoonlik net twee etes per dag gehad. Daar was so teen 10h00 ‘n “brunch”, wat hulle geëet het om krag te kry vir die dag se werk. Die hoofete was in die aand, wanneer die dagtaak voltooi is. Dan is daar tydsaam geëet, wyn gedrink, stories vertel, gedans en gekuier. So wag daar aan die einde van ons lewensdag, wanneer dit aand word en ons sterf vir ons ook ‘n ewige feesmaal voor aan die tafel van die Here.  Ons kop sal verfris word met olie en ons beker sal oorloop. Die goedheid en troue liefde van die Here, sal ons volg.

In vers 6 (b) staan daar en ek sal terugkeer na die huis van die Here. In hierdie lewe is ons net reisigers. Ons is bywoners. Ons is tydelik hier. Totius het so mooi geskryf dat “hierdie wêreld is nie ons tuiste nie.” Hier kry mense swaar, word siek, gaan dood, maar na hierdie lewe is ons die huis van die Here tot in lengte van dae. Daar staan ons sal terugkeer na die huis van die Here. Ons sal met ander woorde tuiskom by die Here.

Die Here sal ons met sy “stok” en “staf” beskerm, terwyl ons op pad terug gaan na die huis van die Here. Sy sekuriteit is by ons. Ons is veilig.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om te sit op God se skoot …… is om rus te vind !

SKRIFLESING: Psalm 131: 1 – 3

Op 20 Julie 1969 het die Amerikaanse ruimtevaarder, Neil Armstrong die eerste mens geword wat op die maan loop.

Die landing van die Apollo 11 ruimtetuig was wêreldnuus. In Armstrong se woorde: “ That’s ons small step for man, one great giant leap for mankind.” Net twee jaar voor dit op 3 Desember 1967 het Dr. Chris Barnard die eerste hartoorplanting gedoen in die Grote Schuur hospitaal in Kaapstad. Louis Washkansky (53) het die eerste hart ontvang van die eerste hartskenker Denise Darvall. Dit was wêreldnuus. Intussen was daar al ‘n onbemande ruimtetuig op Mars. Ons lewe in die midde van die Vierde Industriële rewolusie, waar ons oorval word met data en inligting. Rekenaartegnologie het die wêreld oorgeneem. Hulle bou al rekenaars so groot soos ‘n kredietkaart.

‘n Mens wil amper uitroep: “O die wonder van die tegnologie van die mens! O, die wonder van die mens! Ons het al so ver gekom en so baie vermag. Wie weet wat nog alles op ons wag?”

Die gevaar is egter dat ons die grenslyn tussen hoogmoed en ootmoed kan oorsteek. Ons begin ons gou verbeel dat ons – ‘n wonderlike mens-God is. Kort nadat die eerste mens op die maan geland het, het iemand geskryf: “God moet oppas. Hy is volgende aan die beurt. Ons volgende stop is sy voordeur. Binnekort gaan ons by sy poorte aanklop, en Hom van sy posisie beroof ….”

Of, miskien moet ons dit meer sagter stel, meer beskaafd stel: Ons mense is onafhanklik. Ons breek met elke vorm van gesag. Ons duld geen heerskappy oor ons nie. Ons wil op ons eie wees, op ons eie bene staan, ons eie ding doen. Ons wil die naelstring tussen ons en God knip, onder die wanindruk dat dit vir ons “onafhanklikheid” en “vryheid” sal bring.

Die Duitse digter Schiller het selfs gemeen dat die sondeval die enkele grootste prestasie van die menslike gees was – die dag toe ons onafhanklikheid uit die Vaderhuis weg gestap het. Hy noem dit: “Die gelukkigste gebeurtenis van die mensdom se geskiedenis” en “die eerste waagstuk van die menslike rede.” Hierdie neiging om ons van God los te maak, gaan inderdaad so ver terug soos die tuin van Eden. Augustus het nie verniet die sonde gedefinieer as hoogmoed nie. Ons verhef ons bo God, erger nog, plaas ons in die plek van God – dis ons sonde.

Luther het gesê ons probeer alewig om in die hemel in op te klouter, soos die mense in die tyd van die toring van Babel. Deur die eeue heen bestorm ons die hemel, lanseer ons ons na God – om Hom te onttroon.

Hoe tragies ons plaas mense op die maan en ruimtetuie op Mars, maar blykbaar begryp ons nie ons eie posisie, ons plasing voor God nie.

Die digter, koning Dawid van Ps 131 begryp dit wel. In hierdie kort psalm is daar drie verse, drie momente:

Vers 1: Ootmoed (wat die teenoorgestelde is van hoogmoed.)

Vers 2: Tevredenheid (Die psalm beskryf dit as “kalmte” en “bedaring”)

Vers 3: Hoop

Die een moment volg op die ander. Dit is soos die skakels van ‘n ketting. Die een lei tot die ander.

Die eerste moment of skakel is OOTMOED. Dawid skryf: “Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie.” Die digter ken sy plek voor en onder God. Hy is soos die digter wat nog oopmond en blinkoog hom kan verwonder aan God se sterrehemel. Hy sien die maan en Mars raak en weet dit is die werk van God se vingers. Dawid verwerp enige vorm van hoogmoed, daarom juis word hy genoem die man na aan die hart van God. Die Midrash verduidelik dat vers 1 verwys na sekere insidente in Dawid se lewe, waarop hy inderdaad hoogmoedig kon word. Hy kon arrogant word, oor hy Goliat met ‘n klippie en slingervel doodgegooi het. Hy kon arrogant wees oor hoe hy telkens vir Saul ontvlug het. Hy kan arrogant word oor sy militêre en staatkundige suksesse. Hy kon arrogant wees oor sy harpmusiek en sy uitstekende dig vermoëns. Maar hy verwerp hoogmoed. Dalk het sy owerspel met Batseba en sy moord op Uriah, hom telkens herinner dat hy sondig is en uit genade deur die Here vergeef is.  

Ons grootmense is net soos kinders wat ons verbeel ons is Superman, Spiderman, Rambo of een of ander magiese figuur met bonatuurlike krag.  

Maar Dawid is anders. Hy het sy plekkie in die heelal gevind en kom daarom tot rus. Ootmoedigheid, nederigheid verlos jou van die spanning om altyd beter te wees en te veel van jouself te verwag. Mag ons in 2021 ootmoedig en nederig voor God lewe, sodat ons oë weer kan blink in verwondering oor Hom.

Dit lei tot die tweede moment, die tweede skakel te wete: TEVREDENHEID. Die psalmdigter gebruik die woorde “kalmte” en “bedaring”. Hierdie beeld van God as moeder tref ons ook in Jes 49: 15 was as volg lees: “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.”

Die enigste plek waar daar kalmte en bedaring en tevredenheid te vinde is, is op die skoot van ons God. In die Hebreeuse teks word gepraat van ‘n “gespeende kind”, met ander woorde ‘n kind wat al by homself kan drink en eet van ander melk en kos. Maar die gespeende kind gaan terug na sy  sekuriteit, wat hy opgebou het toe hy ‘n suigeling aan sy moeder se bors was. Die gespeende kind, gaan terug na sy eerste sekuriteit. Daarom moet ons altyd kinderlik bly. Soos die kindergebed: “Maak my ‘n kindjie klein”.

Ja, alleen as ons maar in ‘n fetus-posisie, knielend, en aanbiddend voor God lewe. Ja, dan sal God se kalmte en bedaring deel van ons lewe word. Dan sal tevredenheid oor ons neersak, soos Arthur Weiser wat geskryf het: “Die delikate toon van nederige vertroue in die psalm klink soos die vredevolle klanke van klokke wat aan die bokke hang wat met sonsondergang lui in ‘n stil vallei wat deur die laaste strale van die ondergaande son met sagte lig gevul word.”

Ja, wie ootmoedig lewe voor God, word gevul met kalmte en bedaring. Mag ons in 2021 ook so met tevredenheid lewe, sodat vrede deel van ons lewe kan word.

Dit bring ons by die derde vers of derde moment: HOOP.

Ootmoed lei tot tevredenheid en tevredenheid tot hoop. Die Psamdigter, Dawid verwoord dit met die volgende woorde: “Israel, vestig jou hoop op die Here,  nou en vir altyd.”

Ironies genoeg soek ons altyd hoop in die menslike tegnologie en vooruitgang. Net om maar weer ontnugter te word. Alleen hulle wat ootmoedig lewe, en daarom kalmte en bedaring ervaar kan werklik hoop.

Alleen op die skoot van onse God kan ons werklike hoop vind. Alle ander vorme van hoop is byvoorbeeld doodgebore. Mag ons in 2021 lewe met die ware HOOP!

Die voorafgaande Psalm handel oor die digter se soeke na God en Psalm 131 handel oor die vondse wat hy gevind het. Albei Psalms is verbondspsalms, wat handel oor God se verlossende genadige inisiatief en handeling. Dit is God wat na ons toe neerbuig, ons optel en op sy skoot neersit.

Tereg sê Johan Cilliers (wat baie insiggewend oor Ps 131 geskryf het) die volgende: “ ‘n Mens vind nie vrede omdat ‘n mens so sekuur na die hemel kan mik nie of omdat jy jouself tot op God se skoot kan lanseer nie. Nee, dit is eerder God wat sy Seun van Sy skoot weggestoot het, sodat Hy ons daarop kan tel.

Wonderliker, veel wonderliker as ons maanlanding, is God se aardlanding, skryf Johan Cilliers. Om die mensdom, om vir my te kom red. Ek weet nie hoe dit werk nie. Maar ek weet die wete vul my met ootmoed, tevredenheid en hoop. 

Pragtig is Psalm 131 in die Liedboek van ons kerk as volg verwoord:

1. Geen strewe jaag ek na bo my vermoë,

geen trots of hoogmoed is daar in my oë.

Sal ek die groter dinge wil oortref

en sal ek my, o Heer, teen U verhef?

2. ‘n Kind rus in sy moeder se beskerming.

So vind ek vrede, Heer, in u ontferming.

Wag, Israel, vertrou Hom deurentyd.

Wag op die Here tot in ewigheid.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)