Die Krag van Fokus in Lewensangs

SKRIFLESING: Matt 14:22-33

Lewensangs is deel van elke mens se lewe. In ons gelese gedeelte is die dissipels vasgevang tussen ’n storm op see en ’n spook wat op die water loop. As’t ware het hulle ’n dubbele lewensangs. Daarom gaan vanoggend se preek oor lewensangs.

Die skopus is: Tussen Angs en Sekerheid

Die preek kan in drie dele verdeel word:

Pars 1: Lewensangs vra Wonderwerke

Pars 2: Geloof vra Dapperheid

Pars 3: Vaste Sekerheid vra Fokus

Laat ons kom by die eerste deel:

Pars 1: Lewensangs vra Wonderwerke

Daar is ’n spreekwoord wat lui: “Nood leer bid.”  Hoe waar is dit nie. Die meeste gebede wat God bereik, is verseker noodgebede. Wanneer dit goed gaan, is gebed vir die meeste mense net ’n inspanning. Maar wanneer die nood op sy hoogste is, bid selfs die ateïs. Lewensangs kan verskillende vorme aanneem.  Dit kan finansiële nood wees,  of siektenood, of wanneer jou lewensbestaan bedreig word. Jy het angs oor jou kind wat op pad is per voertuig en of jou kind gelukkig is en of daar genoeg fondse sal wees om jou kind te laat leer. Jy kan angs hê oor jou huwelik wat deur diep waters gaan. Jy kan angs hê oor werksekerheid of oor jou aansoek om nuwe werk. Jy kan angs hê of daar genoeg geld sal wees as jy aftree. Ons leef dikwels van een angsmoment na die volgende. In die wonderverhaal van die storm op die see was dit nie anders nie.

Die dissipels was ’n hele paar kilometer van die kus af toe die storm losbars en die boot gevaar staan om te sink. Jesus was nie in die boot nie. ’n Mens kan jou net indink in die angs wat die dissipels ervaar het. Toe sien hulle ’n mens aangeloop kom op die water. Dit is natuurlik onmoontlik en onmiddelik dink hulle dit is ’n spook. Hulle angsvlakke het nou hemelhoog gestyg.

Wanneer Jesus hulle gerus stel en sê hulle moenie bang wees nie, vra Petrus ’n wonderwerk. Hy wil op die water na Jesus loop om seker te maak dit is Jesus. Jesus sê vir hom:  “Kom”. Petrus kry dit toe reg om op die water te loop. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het hy begin sink. Dan hoor ons sy noodgebed: “ Here, red my!” Lewensangs vra altyd ’n wonderwerk. Dit is net menslik. Nood leer bid.

Dit bring ons by die tweede gedeelte van die preek.

Pars 2: Geloof vra Dapperheid

Geloof is altyd ’n sprong in die donker. Geloof is altyd ’n waagstuk. Geloof vra dapperheid en geloofsvertroue. Toe Petrus die boot verlaat het, het hy homself roekeloos op die Here verlaat. Die Kategismus lui: “Geloof = Kennis + vertroue.” Petrus het ’n sekere kennis en ervaring van die Here gehad en daarom kon hy  Jesus roekeloos en dapper volg en op die water loop na Jesus.

Abraham, Isak en Jakob word nie verniet as geloofshelde voorgehou nie. Hulle het ook roekeloos, sonder om die uitkoms te sien, hulself op die Here verlaat. Abraham het uit Ur van die Galdeërs getrek op pad na ’n beloofde land wat hy nie eers in sy lewe kon ervaar het nie. Hy het blindelings en dapper die opdrag van die Here gehoorsaam. Abraham was roekeloos bereid om sy enigste seun Isak te offer op ’n berg in Moria. Op die laaste nippertjie het die Here ’n offerdier voorsien. In Heb 11 word ’n lang lys van geloofshelde genoem wat dit in dapperheid met God gewaag het in ’n onsekere toekoms in. Dink aan Noag, Moses, Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.

Alle onsekerheid bring angs en daarom vra alle onsekerheid ’n dapper geloof. Daarom roep die Here vir ons ook op om Hom dapper te volg, wanneer ons geen kaart en transportakte van die toekoms het nie. Geloof is om vas te hou aan die dinge wat ons nie kan sien nie. (Heb11:1)

In een van die museums in London is ’n baie interessante maritieme kaart, met die datering van 1525. Die kaart is ’n primitiewe voorstelling van die Nood-Amerikaanse en  aangrensende kuslyn. Die kartograaf, of iemand na hom, het dit goedgedink om op bepaalde plekke op die kaart waar daar nog nie ontdekkingsreisigers was nie, waarskuwings te skryf soos: “Hier is reuse” of “Hier is vurige skerpioene” of  “Hier is drake.”

Wat die kaart egter merkwaardig maak, is die feit dat die Britse ontdekkingsreisiger Sir John Franklin dit in die vroeë 1800’s gebruik het of ten minste onder oë gehad het. Hy het die waarskuwings van sy voorganger met dik hale doodgetrek en met groot letters dwars oor die hele kaart geskryf: “Hier is God.”

Die toekoms is onbekend, onseker, ongekarteer, soms stormagtig en dit wil ons lewensbootjie dikwels omgooi. Maar dan is Jesus se uitnodiging: “Kom, Ek is hier.” Daarom kan ons dapper die ongekarteerde toekoms van ons lewe aandurf, met die uitroep: “God is hier!”

Dit bring ons by die derde deel van die preek.

Pars 3: Vaste Sekerheid vra Fokus

Toe Petrus na die sterk wind kyk en sy oë van die Here Jesus afhaal, het hy begin sink. Sy fokus het verskuif van Jesus na die omstandighede en hy het gesink. Daarom wil die gelese gedeelte ons aanmoedig om altyd ons oë op Jesus te hou. Daarom sê Heb 12:2 die volgende in verband met geloofshelde se fokus “….. die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof ….”

Wanneer ’n atleet aan ’n wedloop deelneem, is al sy fokus op die wenstreep. Hy mag nie omkyk of rondkyk of kyk waar sy teenstaanders is nie. Sy enigste fokus is die wenstreep. Petrus het sy fokus verloor en daarom het hy gesink. Daarom moet ons in ons lewensangste ook nie rondkyk na die grootte van ons probleem nie, maar altyd Jesus in die oog hou. Hy is die Voleinder van ons geloof.

Toe ek ’n jong seuntjie was, het ek aan my heel eerste atletiekbyeenkoms deelgeneem. Ek het goed gevaar en was onder die eerste drie posisies. Toe waai my pet af. In my spore draai ek toe om om my pet te gaan haal. Nodeloos om te sê, ek het erg laaste gekom. My fout was dat ek  my fokus van die wenpaal verskuif het na my pet. Daarom het ek verloor.

Daar word vertel dat kunstenaars wat op ’n styfgespande tou loop, dikwels ’n rooi lap of iets soortgelyks aan die einde van die tou vasmaak. Dan konsentreer hulle op die rooi lap en nie op die dieptes onder hulle nie. Met gefokusde aandag kan hulle dit dan regkry om oor die tou te loop.

Daarom roep Jakobus ons ook op in Jak 1:6-8 om nie te twyfel as ons bid nie. Die fokus van ons gebed moet Jesus Christus wees en nie twyfel nie. Wie twyfel, kan nie iets van God ontvang nie.

Lewensangste sal altyd met ons wees. Ons lewe as’t ware tussen angs en sekerheid. Maar as gelowiges kan ons die sekerheid van Jesus Christus omhels en weet dat Hy ’n Redder is uit elke lewensangs. Dan sal ons nie sink nie, maar veilig wees in die hande van onse Here Jesus Christus.                                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

SKAAKMAT

’n Groot teoloog het eenmaal opgemerk: “Al was Jesus ’n duisendmaal gebore in Betlehem en al het Hy ’n honderdmaal gesterf op Golgota, maar Hy het nie een keer opgestaan nie, was ons geloof tevergeefs.” Toe Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gehang en later gesterf het, het dit gelyk of die Satan gewen het. Dit het gelyk of Jesus verloor het.

Jare gelede in die beroemde Louvre Museum in Parys was daar ’n skildery met die titel ‘Skaakmat’. Dit het die Satan uitgebeeld wat smalend oor sy skaak-opponent uittroon, omdat hy sy opponent se siel gewen het. Die opponent word uitgebeeld as ’n jong man, sy kop gebuig in vernedering… hy is verslaan en verslae. Sy gesig is vertrek van pyn… en die Satan lag oorwinnend. Daar is ’n paar van die skaakstukkies oor op die skaakbord en die woord ‘Skaakmat’ staan oor die skildery geskryf.

’n Ouerige man stap eendag deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Hy het vir baie lank doodstil gestaan en die skildery bestudeer. Die volgende oomblik het die ou man lewe gekry en toe hard uitgeroep: “Dit is ’n leuen, dit is ’n leuen!”  

Die ander mense in die galery het dadelik na die ou man toe gestorm en kom kyk wat aangaan. Die kurator van die museum het ook gekom. Hy het dadelik vir die ou man gevra: “Meneer is hier ’n probleem, kan ek help?” “Ek is die Franse skaakkampioen en ek sê vir jou hierdie skildery is ’n leuen.”  Die man het na die skaakbord gewys en toe gesê: “Die skilder sal die skildery moet verander of die titel van die skildery. Kyk die spel is nie oor nie, dit is ’n leuen, die spel is nie klaar nie. Kyk die koning het nog ‘n skuif.”

DIE KONING HET NOG ’N SKUIF!

Daniël was in die leeukuil  — dit is ’n leuen —  maar die Koning het nog ’n skuif!

Lasarus is in die graf — dood — dit is ’n leuen —  maar die Koning het nog ’n skuif!

Die owerspelige vrou moet met klippe dood gegooi word — dit is ’n leuen — die Koning het nog ’n skuif!

Die rower aan die kruis moet sterf — dit is ’n leuen — vandag sal jy saam met My in die paradys wees. Die Koning het nog ’n skuif!

Mense skreeu oor die Lam van God: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” en later roep Hy uit: “ My God, my God waarom het U my verlaat?”

 Later sterf Hy en mense is verheug — dit is ’n leuen  Hy lewe! Hy lewe! Die graf is leeg. Die Koning het nog ’n skuif. (Uit:-Nutrimalaika Dagboek)

Maar wag, daar was nog ’n laaste skuif. Niemand het die skuif verwag nie. Die dissipels en die vroue het geglo dat Jesus weg is, dood is en nooit weer terugkom nie. Daarom het die vroue die Sondagoggend vroeg gegaan om sy liggaam te salf met olies. Hulle vind die groot steen weggerol en die graf leeg. Hulle het gedink  die tuinier het die liggaam verskuif. Hulle dink die dood het oorwin. Die bose het oorwin.

Dit lyk so asof die duiwel die uitklophou gegee het. Dit lyk asof Jesus verloor het teen die dood. Maar dan plaas die Here Jesus die duiwel in die SKAAKMAT-posisie. Die Here Jesus oorwin die dood, die bose en die duiwel. Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en Hy lewe. Hy verskyn aan die vroue, later aan die dissipels en nog later aan vele ander mense.

Dit was die gebruik om in die vroeë kerk die Paasdiens met ’n Paasgrap te begin  deur te spot met die dood en met die duiwel wat verslaan is.

Jesus se opstanding was moontlik, omdat Hy die perfekte Lam van God was. Op Goeie Vrydag,  toe Jesus gekruisig is, was duisende paaslammers geslag vir die pasga. Elkeen is deur die priesters ondersoek om seker te maak hulle is perfek. Terwyl die proses aan die gang was, is Jesus (as die Lam van God) ook ondersoek deur Pilatus. Drie keer het Pilatus verklaar dat hy geen skuld in die Man vind nie. Daarom word Hy die perfekte Lam van God genoem.

Die priesters het nooit die sondaarmense ondervra oor hulle sonde nie. Op grond van die paaslammers se perfeksie is hulle sonde weggeneem. Netso kyk God ook nie na ons sondaars se sonde nie, maar na die perfekte Lam van God wat geslag is. Toe Jesus in Sy sesde kruiswoord sê: “Tetelestai,  dit is volbring,” is ons regverdig verklaar. Omdat Jesus onskuldig gesterf het, kon Hy op die derde dag opstaan uit die dode en kon Jesus se onskuld ook ons onskuld word.

 Daarom staan daar in  Rom 4:25 die volgende: ‘Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.’ Na aanleiding van bogenoemde verduideliking van Pieter Scholtz, skryf hy verder: ‘Ons sondes het Sy dood tot gevolg gehad. Ons regverdigmaking het Sy opstanding tot gevolg gehad. Sy opstanding was die kwitansie van jou verlossing. Sy opstanding maak jou onskuld bekend.’

Geliefdes, u moet onthou, as Jesus net aan ’n kruis gesterf het en nie opgestaan het uit die dood nie, was ons sondes nie vergewe nie. Sy opstanding is die kwitansie dat die sonde en die dood oorwin is.

Jesus het die sonde en die dood oorwin. Maar ’n mens kan vra: as die Here dan die sonde oorwin het en ’n nuwe begin aangekondig het, hoekom is daar so baie geweld, ellende en swaar in die wêreld oor? Hoekom is daar oorlog in die Oekraïne?

Karl Barth kon aangrypend hieroor skryf : ‘Pase is die verkondiging van ’n oorwinning wat reeds behaal is. Die oorlog is verby. Daar is natuurlik nog hier en daar troepe wat aan die skiet is, maar dit is omdat hulle nog nie gehoor het van die oorgawe nie. Die spel is gewen, al kan die verloorder nog ’n paar skuiwe maak. In werklikheid is hy reeds in die skaakmatposisie. Die horlosie het afgeloop, al kan die pendulum nog ’n paar keer heen en weer swaai. Dit is in hierdie tussenperiode dat ons leef. Die oue het verbygegaan, kyk, alles het nuut geword. Die Paasboodskap sê vir ons vyande: die sonde, die vloek en die dood  is oorwin. Op die lange duur kan hulle geen onheil meer teen ons loods nie. Hulle tree wel nog op asof die spel nie beslis is nie, asof die oorlog nie reeds gewen is nie. Daarom moet ons met hulle rekening hou, maar wesenlik kan ons maar ophou om hulle te vrees.’

My ouma op Strydenburg het altyd hoenders aangehou vir eiers en slag. As klein seuntjie het ek altyd gesien hoe sy die slaghoenders se koppe afkap met ’n byl op ’n stomp hout. As die kop afgekap is, hol die hoender nog so sonder sy kop rond vir ’n kort rukkie. Ek het altyd aardig gevoel. Maar net so is dit met die duiwel. Hy is ’n afkophoender wat rondhardloop, maar eintlik is hy alreeds dood. Die duiwel is soos ’n afkopslang wat nog vir minute lank met sy lyf ’n doodsroggeling uitvoer.

In een van die dorpies van Noord-Indië het ’n sendeling in ’n saal gepreek. Toe hy klaar maak, het ’n Moslem na vore gekom en gesê: “Jy moet erken ons het een ding wat jy nie het nie, en dit is beter as enigiets wat jy het.” Die sendeling het geglimlag en gesê: “Ek wil graag weet wat dit is?” Die Moslem het gesê: “Julle weet, wanneer ons na Mekka gaan, kry ons ten minste ’n kis. Maar wanneer julle Christene na Jerusalem gaan, wat julle Mekka is, vind julle niks anders as ’n leë graf nie.” Maar die sendeling het net geglimlag en gesê: “Dit is net die verskil. Mohammed is dood, Mohammed is in die kis. En valse sisteme van godsdiens en filosofie is in hulle kiste, maar Jesus Christus, wie se Koninkryk alle nasies en stamme insluit, is nie hier nie, Hy het opgestaan. En aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Dit is ons hoop.” ’n Lewende Christus! DIT is ons hoop. Hy is nie dood nie, maar lewe vir ewig.

Die Nederlander, Jan Willem Stam, skryf dat beide die sondeval en die verlossing uit die sondeval, in ’n tuin plaasvind. Adam en Eva het gesondig in die tuin van Eden en is uit die tuin verjaag. Jesus het met sy opstanding in die tuin van Josef van Arimathea, ’n einde kom maak aan die sonde van die mens. Daarom is daar vergifnis in Jesus se bloed.

Die Here Jesus het die duiwel in SKAAKMAT gesit. Die Here Jesus het oorwin. Daarom is ons saam met Hom oorwinnaars oor sonde en dood.

Jesus se opstanding is God se “Amen” en die mens se “Halleluja.”                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die Opstanding van Christus: Grense Uitvee

SKRIFLESING: Handelinge 10: 1 – 33

Een van die teoloë het gesê al was Jesus Christus ’n duisend keer in Betlehem gebore en al het hy ook ’n honderd keer op Golgota gesterf, maar Hy het nie een keer opgestaan uit die dood nie, was ons geloof waardeloos. Daarom is Paassondag die waarmerk  van ons geloof. Paassondag was ook die gebeurtenis waar Jesus sekere lyne en grense uitgevee het en ’n nuwe bedeling aangekondig het.

Die Ou Testament het baie lyne as grense gehad. Daar was die lyn van Israel as die uitverkore volk  teenoor die ander volke. Daar was die lyn tussen man en vrou. Die man het die vrou besit en die vrou het na die man gehunker. Daar was die lyn van reinigingswette. Die vraag is:  wanneer is ek rein en wanneer is ek onrein?

 As ’n vrou haar maandstonde gehad het,  was sy vir die tydperk onrein. As jy aan ’n lyk gevat het, was jy onrein vir ’n tydperk. Daar was die lyn tussen watter kossoorte jy mag eet en watter jy nie mag eet nie.

So byvoorbeeld was varkvleis een van die vleissoorte waarvan jy nie mag geëet het nie. So ook as jy aan God geoffer het, was daar ’n klomp lyne van wat jy mag offer en wat jy nie mag offer nie. Die hele Ou Testament is vol honderde lyne van wat mag en wat nie mag nie.

Ons sukkel om hierdie lyne wat dien as grense af te skud. Vandag nog wil ons ou grense in stand hou en nuwe grense en lyne trek. Ons sukkel nog om die lyne tussen man en vrou af te breek. Nog enkele dekades gelede het mans en vrouens apart in die kerk gesit. In baie wêrelddele en kulture word vrouens nog as tweedeklasmense gesien. Dit lei natuurlik tot geslagsgeweld. Patriargisme en matriargisme maak verhoudinge ongesond. Ons trek lyne tussen volke en bou grense.

 Na die Tweede Wêreldoorlog is die muur tussen Oos-Berlyn en Wes-Berlyn gebou. Daar is sosiale en ekonomiese grense. Wie ryker is, word ryker en wie arm is, word armer. As iemand jou nie êrens ’n skop in die lewe gee nie, gaan jy nêrens uitkom nie. Op politieke toneel word nie net lyne getrek nie, daar word sommer strepe tussen volksgroepe getrek en hulle betoog en skree mekaar dood. Met slagspreuke word die ander kultuurgroep geteister. Rassehaat het ongekende hoogtes bereik. Nog nooit was die politieke spanning en lyne so duidelik sedert President Nelson Mandela regeer het nie. Mandela het lyne probeer uitvee (vergelyk sy optrede met die oorwinning van Suid-Afrika in die Rugby Wêreldbekereindstryd in 1995, toe hy en die Springbokkaptein saam die wêreldbeker omhoog gehou het en versoening gebring het wat ook die Afrikaners ingesluit het)  en hoe hy ’n lewe van versoening gepropageer het in Suid-Afrika. Hy wou vir almal plek maak. Maar die lyne tussen mensegroepe word elke dag al hoe duideliker getrek.

Dan moet ons vanoggend die Paasevangelie hoor. Op Paassondag het Jesus Christus opgestaan uit die dood. Hy het toe begin om grense uit te vee. Met Paassondag het Jesus  die lyn tussen lewe en dood uitgevee. Daarom, as ons in Christus sterf, het ons die ewige lewe en hoef ons nie die ewige dood te vrees nie.

Op Paassondag het Jesus ook bewys dat Hy die sonde oorwin het. Die sonde was ’n lyn of grens tussen ons en God. Hierdie lyn het Jesus met Sy opstanding finaal uitgevee, soos ons geregverdigdes kan wees.

Met die viering van Paassondag elke jaar, het baie VG Kerkgemeentes, soos ook die VG Kerk Strydenburg (waar ek eers predikant was) die gebruik om die Paasdiens by die begraafplaas te hou met die eerste sonsopkoms. Daar is al singende (van Paasliedere) van die kerk na die begraafplaas beweeg, elkeen met ’n  bossie blomme. Na die Paasdiens, tussen die grafte by die begraafplaas, het elkeen blomme gaan neerlê by hulle geliefdes se grafte om te simboliseer dat Jesus ook die dood oorwin het toe Hy op Paassondag uit die dood opgestaan het.   Die grens tussen dood en lewe is uitgevee met Jesus se opstanding.

Die VG Kerk Adelaide het ook die gebruik om met die viering van Paassondag, baie vroeg, terwyl dit nog donker is, bymekaar te kom op die heuwel buite Bezuidenhoutville, waar die kruis is en dan te wag vir die eerste sonlig. Dan is daar ’n Paasdiens gehou, die Nagmaal bedien en saam Paasliedere gesing. (Foto is geneem op Paassondag, 20 April 2025.) Vanaf die heuwel, met sonsopkoms, kon jy oral in die gemeenskap hoor hoe die verskillende geloofsgemeenskappe Paasliedere sing.  

 Die eerste waarnemers van Sy opstanding was die vroue. So word vroue die eerste verkondigers van die blye Evangelie dat Jesus opgestaan het. Daardeur het Jesus die vrou ’n selfstandige plek gegee in die samelewing en haar gelyk met die man gemaak. Die grenslyn tussen man en vrou is uitgevee.

’n Bewys daarvan dat Jesus op Paassondag grense uitgevee is, staan in Hand 10:9-17. Ons lees dat Petrus honger geword het op die dakstoep waarheen hy gegaan het om te bid. Daar staan hy, het in geestesvervoering geraak en ’n groot doek is in vier punte neergelaat. In die doek was al die kruipende diere en die voëls. Die Here het vir Petrus opdrag gegee om te slag en te eet. Hy het geweier en gesê dat hy nog nooit iets geëet het wat onheilig of onrein is nie. Dan kom daar weer ’n stem uit die hemel en sê vir Petrus, dat wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie. Drie keer het die boodskap tot Petrus gekom en daarna is die doek opgetrek na die hemel.

Dan staan daar toe Petrus gewonder het wat dit tog kon beteken, kom die  drie mans van Cornelius, ’n kaptein van ’n Italiaanse regiment, by Petrus aan.  Hulle versoek hom om Cornelius, wat ’n nie-Jood is, te besoek in Sesarea. Daar aangekom en Cornelius kniel voor Petrus. En luister wat sê Petrus in Handelinge 10:28:  ‘Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir ’n Joodse man verbode is om met iemand van ’n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie.”

Jesus het vroeër in die Evangelies verduidelik dat niks wat in die mond ingaan ’n mens onrein maak nie, maar wel wat by die mond uitkom uit ’n bose en onbarmhartige hart. En daarmee het Hy alle kos rein verklaar (Mark 7:19; vgl ook Matt 15:10-20). 

So het die Paasevangelie die lyn tussen rein en onrein uitgevee. Dit het die lyn tussen Jood en nie-Jood uitgevee.

Na sy opstanding en met sy hemelvaart het hy sy uitnodiging wyd gemaak na alle mense en volkere. In Handelinge 1:8 staan daar: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet My  getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Nou is die lyn nie net rondom Israel getrek nie, maar die lyn is uitgevee sodat alle volkere en nasies deel kan hê aan die verlossing wat Jesus Christus gebring het. Op Pinkstersondag het ’n menigte mense van verskillende volkere die boodskap in hulle eie taal gehoor.

In Jesus se lewe het Hy alreeds lyne uitgevee tussen die godsdienstige elite en die sondaars van sy tyd. Hy het gemeng met die tollenaars, die vrate, die wynsuipers, die prostitute, die owerspelige vrou, Saggéüs (die tollenaar). Hy het ook gemeng met die mense wat in die oë van die Fariseërs onrein was, soos die blindes, lammes, melaatses, kreupeles, duiwelbesetenes en die vrou wat aan bloedvloeiing  gely het.

Daarom is geen mens, van watter ras, klas of agtergrond, onrein nie. Ook die sondigste mens, verklaar die Here rein op grond van Sy soendood en opstanding.

In die plek van die Joodse godsdienstige begrip van “volk” het Jesus Christus met sy opstanding die “kerk” gestig, wat nie verband hou met volk, etnisiteit, taal of kultuur nie. Die “kerk” moet daarom lyne kom uitvee. Daarom bely ons in “een, heilige, algemene, Christelike kerk.” Ons is wel nie Rooms Katoliek nie, maar ons is Katoliek, wat behoort aan die Here se algemene kerk wat oor die wêreld strek.

Christene trek nie lyne nie. Christene stel nie grense op nie. Christene vee lyne uit en bou brûe oor grense.

Daarom verstaan ons nou wat Petrus in Handelinge 10:34-36 bedoel het: Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense.”

Daarom mag ons nie lyne trek of grense stel nie.   

Paaseiers is nie heeltemal so kommersieël soos wat ons dink nie.  Met die koms van Paasfees, wat die einde van vas aandui, het eiers ’n simbool van viering geword in die vroeë kerk. Mense het dikwels eiers versier en uitgedeel as ’n teken van vreugde en hernuwing. Gedurende die vastyd voor Paasfees het hulle nie eiers geëet nie, maar eers weer eiers geëet vanaf Paasfees. Hierdie tradisie het later ontwikkel tot die gebruik van sjokolade-eiers en ander kreatiewe weergawes. Interessant genoeg, eiers het ook ’n simboliese betekenis in die Christelike geloof, wat nuwe lewe en die opstanding van Jesus Christus versinnebeeld, soos die kuiken gebore word uit die eiers, as simbool van nuwe lewe.

Prof Johan Cilliers, emeritus-professor aan die kweekskool op Stellenbosch, vertel die verhaal van die Down-sindroom kind met die naam Philip. Sy ouers het hom gereeld Sondagskool toe geneem.

Eers wou die kinders hom nie heeltemal aanvaar nie. Een Sondag, dit was Paas-sondag, het die Sondagskooljuffrou plastiese paaseiers aan die kinders uitgedeel met die opdrag om op die kerk se erf iets te soek wat die simbool van nuwe lewe is en dit in die paaseier te sit. Die kinders het met groot opgewondenheid hul paaseiers gevul met simbole van nuwe lewe. Toe is die kinders weer binnetoe, en die juffrou het die een na die ander paaseier oopgemaak, met die gepaardgaande verwondering van die kinders. In elkeen was ’n simbool van nuwe lewe. In die een ’n nuwe blaar, in die ander ’n blom, in die ander ’n groen grasspriet. Toe kom hulle by die laaste paaseier. Die laaste eier was leeg — dolleeg. Die juffrou vra wie se eier dit is, en hoekom daar niks in geplaas is nie. Toe sê Philip, die Down-sindroomkind, baie skaam: “Juffrou, dit is myne.” Die kinders vra dadelik: “Maar Philip, hoekom moet jy altyd anders as ons wees? Hoekom het jy niks in jou paaseier gesit nie?” Op sy kenmerkende Down-sindroom manier het hy gesê: “My paaseier is leeg, want die graf van die Here Jesus is leeg, heeltemal leeg.”

Daar was ’n paar oomblikke stilte. Almal het geweet Philip was reg. Toe het hulle  hom begin aanvaar en maats gemaak met hom. ’n Paar maande later het Philip ’n infeksie opgedoen en hy het onverwags gesterf. Al sy Sondagskoolmaats was by die begrafnis. Op sy kis het sy maats een na die ander hul paaseiers gesit, leë, dolleë paaseiers.

Christus het Hoop gebring ook in die ruïnes en murasies van die begraafplaas. My graf is slegs ’n leë dop! Ek is saam met Christus ’n oorwinnaar oor die dood. Of ek lewe en of ek sterwe, ek is getroos, want ek behoort aan Jesus Christus.

Die paaseier is leeg. Die Here Jesus se graf is leeg. Die lyne en die skeidsmure tussen ons en die sonde en die Dood het Jesus kom afbreek met Sy opstanding.

Jesus se opstanding is God se “Amen” en die mens se “Halleluja.”   Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus is emosioneel geknak, sodat ons nie apaties moet leef en mekaar boelie nie

SKRIFLESING: Matteus 26:36-46

Om apaties te wees en om ander te boelie is deel van die skaduwee van die menslike ras. Dit kom voor in alle tye van die menslike geskiedenis en dit begin waar voorskoolse kleuters mekaar boelie tot bejaardes wat mekaar boelie in ouetehuise. Dit kan growwe vorms van boelie insluit tot die mees verfynde vorms van boelie tussen welopgevoede dames. Dit vind plaas in oorlogsones en op speelgronde van kinders. Dit speel ook af in ons gelese gedeelte in die Tuin van Getsamené.

Apatie beteken om onbetrokke te wees in die lyding of swaarkry van ander. Dit is om weg te kyk of soos in ons gelese gedeelte waar die dissipels aan die slaap raak as Jesus ly.

Wanneer Jesus in die nag voor sy kruisiging diepe aanvegtinge verduur en emosioneel ly, vind ons dat die dissipels drie keer uitgevang word dat hulle in droomland is, terwyl Jesus in ’n lewende nagmerrie leef. Hulle is totaal onbewus van Jesus se intense lyding wat op Hom wag. Hulle sien niks, hoor niks en praat niks nie.

Hulle harte voel geen emosies nie. Dit is so goed as afgestomp. Hulle emosies is dood. Waar Jesus vir hulle geleer het van die gemeenskap van gelowiges is hulle heeltemal onbetrokke en apaties. Later die nag sou Petrus die Here verloën, die dissipels weghardloop, die vroue op ‘n afstand staan en Judas die Here verraai. Jesus staan emosioneel alleen.

Hy is in ’n emosionele woestyn sonder enigeen wat vir Hom omgee. Hy is as’t ware van mense verlaat. Later sou Hy ook voel dat God Hom verlaat het. Daarom het Hy aan die kruis uitgeroep: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” Sonder die hulp van God of mens was Hy sielsalleen en het Hy gehang aan ’n kruis. Sy kop en voete was tussen die hemel en die aarde. Nie die hemel of die aarde wou Hom gehad het nie. Alle ‘koinonia’ (gemeenskap van gelowiges en met God) het verdwyn. Jesus was ALLEEN.

Daarom is die Mattheus Evangelie meer ingestel op Jesus se emosionele lyding as Sy fisiese lyding. Ons almal weet dat emosionele lyding baie erger is as fisiese lyding. In fisiese lyding kan jy jou wonde wys, maar in emosionele lyding kan jy nie die tekens van jou lyding vir iemand fisies wys nie. (Daarom sny mense dikwels hulle liggame om uitdrukking te gee aan hulle emosionele pyn.)

Die verhaal van Jesus Christus, is ook ’n verhaal van baie boelies. Reg aan Sy geboorte was dit Koning Herodus wat alle seuntjies van jonger as 3 jaar wat gebore is, laat doodmaak het. Die Farisieërs het gedurig vir Jesus geboelie met strikvrae. Sy eie geboortedorp het Hom verwerp en wou Hom by geleentheid van die afgrond afstoot. Met sy lydingstyd het die spotters en boelies net meer geword.

Spotters en boelies kom meestal in “mobs” voor. Daarom lees ons van die hele Joodse Raad en van ’n garnisoen soldate en van massas wat skreeu: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!” Die skares wat Hom op Palmsondag welkom ontvang het, met palmtakke en met klere voor hom uitgesprei en in een week heeltemal van opinie verander het en op Goeie Vrydag uitgeroep het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”

Die emosionele lyding van Jesus word in ons gelese gedeelte en in die daarop volgende gedeeltes tot die uiterste toe beskryf. Jesus onderwerp Homself aan die spot, beledigings, onwaarhede, teenkanting, verraad en verloëning. Hy is bereid om ALLEEN te staan.

Met Jesus se emosionele lyding, het hy ook sy empatie weereens uitgestort oor die mensdom. Sy hele lewe is gekenmerk met empatie. Die Here Jesus het uitgereik na armes, blindes, kreupeles, na weerlose mense in die sisteem en na die grootste sondaars soos byvoorbeeld Saggéüs en die owerspelige vrou. Jesus het ’n hart gehad vir mense wat deur die sisteme verdruk en verag word.

Waar daar nie empatie is nie, verval die samelewing in barbarisme. Die verlies van empatie, word dan apatie.  Jou hart word hard en afwesig, daar waar daar lyding is.  Die huidige Amerikaanse President,  Donald Trump, toon geen empatie met arm lande of die weerloses in die samelewing nie. Duisende mense gaan in die volgende jare in Suid-Afrika sterf, as gevolg van die terugtrekking van fondse vir die mense wat Vigs of TB opgedoen het. Kapitalistiese stelsels, sosialistiese stelsels en baie ander politiese stelsels kan maklik in barbarisme verval, as daar nie ’n oop hart en ’n oop hand  vir die weerloses in die samelewing is nie.  Die Suid-Afrikaanse regering het hulle empatie verloor vir die weerloses in die samelewing. Die verval sien jy oral in die samelewing. Sommige politici word skatryk, ten koste van die mense waarvoor hulle moet sorg.   Finansiële gewin is geneig om menslike empatie en barmhartigheid  te verloor en sodoende verval die samelewing in barbarisme, waar die beginsel geld van “hond eet hond.”   

Jesus se unieke Koningskap het daaroor gegaan dat Hy nie toegegee het aan groepsdruk, openbare opinies of normale gangbare praktyke nie. Hy was altyd ANDERS en VREEMD en TEEN DIE STROOM OP. Daarom was die Farisieërs en die Joodse Raad teen Hom gewees. Hy was teen die status quo. Want sien Christus het sy Vader se wil geleef en het nêrens toegegee aan openbare aanvaarding nie.

Ons lewe vandag in ’n wêreld waar dit mode is om ‘in te wees’. Jy moet slaafs die modegier volg en die openbare opinie respekteer om deel te wees van die groep.

Jesus was bereid  om  ALLEEN te wees. As jy somtyds ALLEEN is, kry jy ander vriende. Nie Simon Petrus dra Jesus se kruis nie, maar Simon van Cirene dra Sy kruis. Die dissipels het baklei om aan die linkerkant en aan die regterkant van Jesus te sit. Uiteindelik is daar twee rowwe geweldsmisdadigers aan sy linkerkant en regterkant.

Om Jesus enduit te volg is dit nodig om somtyds alleen te staan en spot te verduur. Jesus se navolging impliseer dat jy altyd iets sal ervaar wat Jesus ook in die Tuin van Getsemané en die daarop volgende ure ervaar het. Dit is moeilik om alleen te staan, teen die openbare opinie.

Om ten alle tye die wil van die Vader te doen, gaan vir jou in die moeilikheid laat beland. Daarom het Dietrich Bonhoëffer die bekende boek geskryf: ‘The cost of discipleship’.

Daarom het Jesus vir ons geleer om eers die koste van navolging te bereken, soos wat ’n mens die koste bereken om ’n huis te bou.

Prof Benno Muller-Hill, aan die Universiteit van Köln se genetika departement vertel van ’n insident toe hy aan die hoërskool was. Die fisika-onderwyser het ’n teleskoop opgestel, sodat die kinders wat in ‘n lang ry gestaan het deur die teleskoop kan kyk na ’n planeet en sy mane. Die eerste kind sê vir die onderwyser  hy sien niks nie. Die onderwyser wys hom hoe om die fokus van die lens te verstel sodat hy kan sien. Hy verklaar dat hy kan sien. Een na die ander kom die kinders verby, kyk in die teleskoop en sê dat hulle die planeet gesien het. Toe is dit Benno se beurt. Hy kan niks sien nie. Alles is vir hom swart. Die onderwyser verskreeu vir hom en sê: “ Ek het julle mos gewys om die fokus te verstel.” Benno verklaar plegtig maar hy sien nog steeds net swart. Baie ongeskik gryp die onderwyser na die teleskoop en kyk self daarin. Dit is pikswart. Hy kom toe eers agter die doppie aan die voorkant van die lens was nog op. So dikwels volg ons die openbare mening en modes, maar eintlik sien ons self glad nie.

Die dissipels, die vroue, die vroeë volgelinge van Jesus is so verblind deur die Joodse sentiment, die Joodse Raad en Sanhedrin dat hulle tevrede is om met blinde oë te sien. Die vrees vir vervolging of om teen die stroom te wees, maak hulle blind vir die waarheid en geregtigheid en om op te kom vir die saak van Jesus Christus. Hulle verloën almal die hemelse Koning vir die guns van die aardse regeerders.

Jesus het emosioneel ALLEEN gestaan, sodat ons nooit emosioneel alleen hoef te voel nie. Daarom is die opdrag van die kerk ook dat ons die gemeenskap van gelowiges moet beoefen. Toe Jesus Godsverlate en mensverlate aan die kruis gehang het, het Hy koinonia geskep. Hy sê vir Maria: “Daar is jou seun,” en vir Johannes sê Hy: “Daar is jou moeder.” Hy het hulle alleenheid weggeneem deur hulle vir mekaar te gee. Hy het ’n dissipelkring agtergelaat sodat hulle vir mekaar kan omgee. ’n Bekende teoloog het geskryf, dat Hy dit aan die dissipels en apostels oorgelaat het om boeke te skryf. Hy het iets veel kosbaarder geskep. Hy het KOINONIA geskep, sodat mense nooit alleen hoef te voel nie. Daarom bely ons in die Credo: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.”

Ons leef in ’n wêreld waar baie mense eensaam voel in hulle omstandighede. Dit kan enkelma’s of enkelpa’s wees, geskeides, terminaalsiekes en verstote mense, Vigsslagoffers wat verwerping ervaar, weeskinders, ’n eensame sakeman alleen in sy kantoor en so kan die lysie aangaan. Emosionele lyding en eensaamheid gaan hand aan hand met mekaar.

Daarom word ons juis opgeroep om opnuut erns te maak met KOINONIA, deur gemeenskap te skep met mense wat nie van nature ons vriende is nie. Eers dan sal die wêreld weet dat ons God se kinders is, as ons ons kan assosieer met ander sy lyding en emosionele verwondheid.

God se kinders leef nie in apatie nie. God se kinders boelie nie. Nee, God se kinders ontferm hulle oor dié wat seergekry het. Dit is die boodskap van Paasfees. God se kinders maak vriende met die wêreld. God se kinders omhels die gebroke wêreld en leef nie op ’n beskutte eiland nie. God se kinders word vuil met die vuil en seer van dié wêreld.

In ons gelese gedeelte merk ons ook op dat Jesus intens gebid het tot Sy Vader. Daarteenoor het die dissipels drie keer aan die slaap geraak.

Jesus se intense gebedslewe het Hom die krag gegee om die komende ure se aanslae te verduur. Die dissipels het die een na die ander geknak, omdat hulle nie tyd gespandeer het in gebed nie. Weereens word die erns van gebed onderstreep in ’n tyd van emosionele aanvegtinge.

Daarom word ons juis in hierdie Pase opgeroep om opnuut erns te maak met KOINONIA, deur gemeenskap te skep met mense wat nie van nature ons vriende is nie. Eers dan sal die wêreld weet dat ons God se kinders is, as ons ons kan assosieer met ander sy lyding en emosionele verwondheid. God se kinders leef nie in apatie nie. God se kinders boelie nie. Nee, God se kinders ontferm hulle oor dié wat seergekry het. Dit is die boodskap van Paasfees. God se kinders maak vriende met die wêreld. God se kinders omhels die gebroke wêreld en leef nie op ’n beskutte eiland nie. God se kinders word vuil met die vuil en seer van dié wêreld. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Vyf tale van die liefde wat ‘n gemeente missionaal laat groei

SKRIFLESING: Joh 13 en Hebreërs 10:24-25

Dr. Gary Chapman se topverkoper, “The Five Love Languages”,  is oorspronklik geskryf om getroude paartjies te help om mekaar se liefdestale te praat.

In die preek wil ek probeer aantoon dat ons die vyf liefdestale ook  elke dag kan toepas in ons gemeente en in ons Christenwees. Wanneer die gemeentelede die liefdestale onder mekaar  praat, sal dit wees soos kunsmis wat die gemeente ook missionaal laat groei.

Gary Chapman onderskei die volgende 5 liefdestale:

  • Opbouende woorde as eerste taal van liefde vir gemeentegroei.

Ons lewe in ’n wêreld waar mense gebombardeer word met kritiek, afbrekende woorde, skinder en liefdelose taal. (Jakobus 3:5-12 sê dat ’n mens se woorde die wêreld aan die brand kan steek.) Verdelende woorde kan ook skade aan ’n gemeente doen.

Tog blom elke mens as hy/sy van tyd tot tyd opbouende en waarderende woorde ontvang. Daarom moet ons probeer om ten minste een keer elke dag, teenoor ten minste een mens, ’n opbouende of ’n waarderende woord te bevestig.  Mense voel ongeliefd en eensaam as hulle voel hulle word nie waardeer nie.

’n Mens se geheue is veral geneig om slegte ervarings en slegte opmerkings van ander mense lewenslank te onthou en self te glo  jy IS dit. Ek het nou ’n pastorale geval van ’n man wat in sy hoërskooljare aanhoudend deur ‘n familielid toegesnou is hoe “useless” hy is.  Nou glo hy dit, met erg vernietigende gevolge vir sy lewe.

Veral ouers en onderwysers wat kinders vorm, moet spesiaal daarop bedag wees watter gevolge negatiewe en krenkende opmerkings inhou en op die selfbeeld  van ’n kind laat.   

Daar is die  treffende verhaal van “You Are Special” deur Max Lucado. In hierdie verhaal is daar ’n groep houtpoppe genaamd Wemmicks, wat mekaar beoordeel deur sterre vir goeie eienskappe te gee en kolle vir minder goeie eienskappe. Die meeste Wemmicks het baie sterre ontvang. Punchinello, een van die Wemmicks, voel deurmekaar en minderwaardig omdat hy baie kolle ontvang. Sy houtlyfie is vol kolle, soos die mense hom al beoordeel en gekritiseer het. Later glo hy hy is net sleg en voel erg minderwaardig teenoor die ander Wemmicks.

Die kern van die verhaal kom wanneer Punchinello vir Eli ontmoet, die houtsnymaker wat hom gemaak het, soos wat die hemelse Vader ons ook gemaak het . Eli herinner Punchinello daaraan dat sy selfwaarde nie lê in  hoeveel sterre of die hoeveelheid kolle wat ander mense aan hom toeken of toedig nie, maar in die feit dat hy deur die maker geskep is en geliefd is. Skielik verloor die kolle hulle gom en val sommer af. Hy steur hom nie meer aan die kolle wat mense op hom wil plak nie. Hy waardeer eerder die enkele sterre wat op sy houtlyfie geplak word. Sy selfwaarde lê nou daarin wat God van hom dink en nie wat mense van hom dink nie. (Die ouers wat klein kinders of groter kinders het, koop asseblief bogenoemde boek vir u kinders. Dit sal hulle so baie help in die lewe.)

Wetenskaplikes beweer, dat vir elke enkele slegte of negatiewe ding wat mense van jou sê, dit twintig positiewe opmerkings verg om die een negatiewe opmerking uit te wis.

Die Bybel is vol van die Here se waarderende woorde waarmee Hy telkens mense optel uit hulle ellende en swak selfbeeld. Die Here se woorde is altyd opbouend en versterkend. Daarom stuur ons so graag teksverse vir mekaar om mekaar op te beur. Die Here Jesus het dikwels randfigure, mense sonder aansien, opgetel met Sy opbouende woorde en vir hulle plek in die samelewing gemaak.

Ons moet dit toepas in ons huwelike, teenoor ons kinders, ons ouers, ons mede gelowiges en selfs ook teenoor vreemdelinge. Die Here Jesus het, sover Hy gegaan het, altyd mense opgebou en geliefd laat voel deur Sy woorde. Ons woorde kan soos genesende salf vir ander mense weer nuwe hoop en selfwaarde gee. So moet ons ook gemeentelede bemoedig met opbouende en waarderende woorde.

Natuurlik moet ons dit opreg bedoel wanneer ons ’n waarderende woord uitspreek.

  • Geskenke as tweede taal van liefde vir gemeentegroei.

Almal van ons wil somtyds bederf word. Ek onthou toe ek in my vorige gemeente op Strydenburg was, het ’n bruinman van die plaaslike VG Kerk een Sondagmiddag by die pastorie opgedaag met mooi klippe wat hy in die veld opgetel het. Toe hy dit opgetel het, het hy aan my gedink en wou hy graag sy waardering teenoor my uitspreek met die geskenk. Die klippe het geen geldelike waarde vir my nie, maar dit het sentimentele waarde. Vandag nog bêre ek dié klippe by my in die Kerkkantoor.

So het die Here Jesus ook vir ons die grootste moontlike geskenk gegee naamlik Sy lewe aan die kruis. Hy bederf ons elke dag om ons te voorsien van brood en alles wat ons nodig het.  In Matteus 6:25-34, sê  Jesus  dat ons onsself  nie moet bekommer oor wat ons sal eet of dra nie, omdat God vir die voëls en die lelies sorg en hoeveel meer  vir  ons wat vir Hom meer werd is.

Die gebruik wanneer  daar ’n sterfgeval in die gemeente is, is om gereeld in die tyd van rou,  kos vir die familie te neem. Dikwels is iemand siek of gaan deur ’n moeilike tyd in sy of haar lewe. Dan is ons “omgee” die geskenk  wat hulle nodig het. So kan ons mekaar ook bederf in die gemeente met klein sigbare geskenke of ’n SMS, ’n kaartjie, ’n blom of ’n WhatsApp-boodskap. Geskenke hoef nie duur te wees nie. Om vir armer mense toiletware aan te koop, is ’n geskenk. ’n Besoek aan ’n bejaarde is vir daardie bejaarde soos ’n groot geskenk. Dit gaan eerder oor die gedagte agter die geskenk as die geskenk self. Om jou medegelowige te bederf met liefdesgeskenke wys jy gee werklik om.

  • Diensbaarheid as derde taal van liefde vir gemeentegroei.

Wanneer mense mekaar help, ontstaan daar ’n wonderlike band van liefde. Dink aan die kere toe jy met ’n stukkende voertuig of ’n pap band langs die pad gestaan het. Dan kom iemand en help jou met die pap band of die stukkende voertuig. In ’n huishouding waardeer jou lewensmaat dit wanneer jy hom of haar help met huishoudelike take.

Diensbaarheid is die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons kom stel het in Johannes 13 toe Hy die voete van Sy dissipels gewas het.

Een van die unieke eienskappe van gemeentes wat groei, is dat die gelowiges diensbaar is in die gemeente, maar ook teenoor die gemeenskap waarbinne hulle bly. Daarom moet elkeen van ons ’n skerp onderskeidingsvermoë hê om diensbaar te wees in ons gemeente en ook gemeenskap. Deur ons gemeente moet ons missionaal betrokke wees tot voordeel van die gemeenskap waarbinne ons geplaas is om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees.

Die lewe moet nie daaroor gaan, dat ek net eie voordeel soek nie. ’n Gemeente moet ook nie net na binne gerig wees en haarself warm broei nie. Nee, ons moet as gemeente ’n verskil in die gemeenskap maak.  Ek moet myself kan offer vir die gemeenskap waarbinne ek leef. Die Here het mos gesê om te gee, maak jou baie meer gelukkig as om net te wil ontvang. Ongelukkig is min mense vandag bereid om betrokke te wees in gemeenskapsorganisasies, soos die kerk, die ACVV, die Ouetehuise, Boereverenigings, Skoolbeheerrade en so meer. Ons verleer om te dien in ons gemeenskap.

  • Kwaliteit-tyd as vierde taal van liefde vir gemeentegroei.

Mense wil  God deesdae aanbid op die rusbank voor die TV-eredienste. Om fisies kerk toe te gaan, het te veel moeite geword. As ons die Here wil dien, moet ons ons beste kwaliteit-tyd vir Hom gee deur Hom in Sy woning te aanbid, saam met ander gelowiges. Dan kan ons saam aanbid, saam sing en mekaar se teenwoordigheid saam waardeer. Wyksbyeenkomste is ook kwaliteit-tyd, waar ek saam met my medebroers en -susters in die geloof tyd saam deurbring in gemeenskap met God en medegelowiges.

Ons kan nie maar tevrede wees om ons afskeeptyd vir God te gee nie. In die geloof moet ons moeite maak om God REG te aanbid, soos wat Hy wil hê Hy aanbid moet word. Daarom is godsdiens nooit ’n privaat aangeleentheid nie. Nee, ek moet God in die OPENBAAR aanbid, sodat almal kan sien aan wie ek behoort. Dit is ’n PUBLIEKE getuienis aan wie ek behoort.

Die duiwel se aanslag is altyd om die gelowige lui te maak om kerk toe te gaan. In God se Koninkryk is daar nie plek vir lui gelowiges wat God op hul eie voorwaardes en gerief wil dien nie. Aanbidding vra opoffering deur kwaliteit-tyd deur te bring by God in Sy woning en saam met ander gelowiges.

  • Fisieke aanraking as vyfde taal van liefde vir gemeentegroei.

Wanneer mense saam bid aan tafel vir ’n ete hou hulle gewoonlik hande vas. Dit skep ’n ervaring van samesyn en liefde. Om vir iemand in die gemeente wat swaarkry ’n drukkie te gee, beteken meer as ’n duisend woorde. Wanneer ons tydens die Nagmaal die brood en wyn fisies vir mekaar met die hande aangee, vind ook ’n geestelike fisiese ervaring plaas, van ons-hoort-bymekaar, saamgesnoer in die Here se brood en wyn.

Ons moenie skaam wees om mekaar   in die gemeente deur fisiese kontak te bemoedig nie. Dikwels is daar baie velhongermense (soos bejaardes of mense wat baie swaar kry en alleen is), wat dit so waardeer as jy vir hulle ’n drukkie gee of hulle hande vashou as jy vir hulle bid.

Om iemand in ’n hospitaalbed te bemoedig deur hul hand vas te hou, beteken dat jy empatie het met hulle swaarkrytyd van siekte. Wanneer ’n geliefde van iemand afsterf, kan ’n drukkie ’n mooi manier wees om jou simpatie en deernis met die bedroefde mens te deel. Moeder Theresa het dikwels sterwendes se hande vasgehou totdat hulle sterwe. Sodoende was die sterwende nooit alleen. Die Here Jesus het die kinders op sy skoot getel om vir hulle te wys dat Hy hulle aanvaar en vir hulle tyd maak.

Elkeen van bogenoemde vyf tale van die liefde kan ook in die gemeente ingeoefen word om die gemeente te laat groei. Kom ons beywer ons as gemeente wat missionaal wil ontwikkel om  hierdie liefdestale te oefen in die gemeente en in ons gemeenskap. Dan sal ons weer sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees. Bogenoemde vyf tale is so eenvoudig dat enigiemand dit kan beoefen. Die diepste behoefte van elke mens is om geliefd te voel. Kom ons laat mekaar geliefd voel deur die vyf tale van die liefde te bemeester, ook in ons gemeente en gemeenskap.           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God gee vir ons vriende

SKRIFLESING: Spreuke 6: 16 – 19, Spreuke 13: 20,  Spreuke 16: 28, Spreuke 17: 17 en Prediker 4: 9 – 12

Ons ken almal die portret of die skildery van die biddende hande. Dit hang in ons huise, dit is op boekmerke en kom selfs dikwels op begrafnisbriewe voor. Maar ken u die geskiedenis van die agtergrond van die biddende hande? Die oorsprong van die biddende hande lê opgesluit in die verhaal van ’n aangrypende vriendskap tussen twee vriende.

Aan die einde van die vyftiende eeu het twee leerjongens, Hans en Albrecht, in die houtsneebedryf in Frankryk studeer. Albei wou baie graag ook in die skilderkuns gaan studeer, maar nie een van die twee het geld gehad nie. Hulle besluit toe op die volgende oplossing. Een van hulle sal eers gaan werk en genoeg geld maak sodat die ander een van die inkomste kan studeer.

Wanneer die eerste een dan klaar gestudeer is en ryk en beroemd geword het, sal hy weer geld voorsien vir die ander om te studeer.

Die vraag was natuurlik net: Wie sou eerste gaan studeer? Uiteindelik het hulle ’n geldstuk opgeskiet om te besluit en Albrecht het gewen.

Terwyl Albrecht in Venesië gaan studeer het, het Hans as ’n grofsmid gaan werk. Elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, het hy ’n groot deel daarvan vir sy vriend se studies aangestuur.

Die maande het jare geword en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseer. Hy het na Duitsland, sy geboorteland, teruggekeer en as meesterskilder begin naam maak. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans finansieel te help met sy studie.

Die twee het ’n blye weerontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe eers kon hy werklik die omvang van sy vriend se opoffering begryp. Die baie jare van brute hande-arbeid as grofsmid het Hans se sensitiewe hande gekneus en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof dat dit nooit weer die fyn kwas van ’n skilder sou kon hanteer nie.

Die dag toe hy aan sy vriend die skildery van die “biddende hande” oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering eendag aan miljoene mense oor die wêreld heen bekend sou raak as ’n simbool van gebed nie.     

In nederige dankbetoon vir die jare van opoffering wat dit vir hom moontlik gemaak het om ’n groot skilder te word, het Albrecht Dürer ‘n portret geskilder van sy vriend Hans se beskadigde hande – die hande wat so hard en so getrou gewerk het sodat Albrecht sy talent kon ontwikkel.

Henry Wadsworth Longfellow sê: “Hoe onvergelyklik goed voel dit om die bekende hand van ’n getroue vriend in jou eie te neem!”

Vriende speel ’n geweldige belangrike rol in ’n mens se lewe. Sonder vriende is ’n mens inderdaad arm. Natuurlik kan vriende jou bou of vriende kan jou afbreek. Juis daarom waarsku Salomo in die boek Spreuke vir ons om die onderskeid te ken tussen goeie en slegte vriende. Goeie vriende bou jou en slegte vriende breek jou af. Een slegte tamatie steek die hele kissie aan en al die tamaties word vrot. ’n Slegte vriend kan jou afbreek, maar ’n goeie vriend kan die beste in jou na vore laat kom.

Salomo waarsku in Spreuke 6: 16 – 19 veral vir ons van sewe eienskappe in vriende wat God haat en waarvoor ons moet oppas:

  • Oë wat straal van hoogmoed. (Ek is beter as jy.)
  • ’n Tong wat lieg. (Vriendskap ken net die waarheid, nie leuens nie.)
  • Hande wat met bloed bevlek is. (Om iemand te oorheers, te manipuleer.)
  • Gedagtes wat met komplotte besig is. (Dinge agter jou vriend se rug te doen.)
  • Voete wat net een koers ken, die van die kwaad. (Met verkeerde goed besig is wat teen die gewete indruis.)
  • ’n Getuie wat lieg. (Skindertong … ken geen vertroue nie.)
  • Iemand wat rusie stook tussen broers. (Humeurige mens wat gou kwaad word.)

Die vriend wat by jou skinder, sal van jou ook skinder. Die vriend wat nie skinderstories by jou aandra nie, sal ook nie van jou skinder nie.

Al my woorde moet van liefde getuig. Daarom moet ek ook kan stilbly oor die kwaad in my vriend se lewe. 1 Korintiërs 13 sê mos die liefde bedek alles, ook my vriend se foute.

My vriend moet op my vertroue kan reken. Daar is niks wat so seer maak soos as ’n mens se vertroue geskaad word nie. My vriend se geheime moet by my veiliger wees as die goud in die Reserwebank.

Ons almal het vriende nodig. Die moderne samelewing maak dat ons dikwels so gejaagd is dat ons verleer om vriende te wees vir mekaar. Ons jaag so na wind, dat ons verleer het om te kuier. Daarom lewe ons in die era waarin die mens nog nooit so alleen gevoel het as juis in hierdie tyd nie. Die moderne tegnologie maak ons net nog eensamer.

Hoe stadiger die vervoermiddels was, hoe meer het mense in die verlede by mekaar uitgekom. In die outyd het die mense al langs die pad van die plaas tot in die dorp gekuier. Op pad terug plaas toe het hulle ook weer al langs die pad terug gekuier. So ’n tog kon maklik oor drie dae strek.

Die vriendskap tussen Dawid en Saul se seun, Jonathan, is een van die mees roerende stories van vriendskap in die Bybel. Ondanks die feit dat Saul Dawid as ’n bedreiging gesien het, het Jonathan Dawid ondersteun en beskerm. Hulle het mekaar met onselfsugtige liefde en lojaliteit bygestaan. Dikwels het Jonathan ook Dawid se lewe gered, op grond van die verbond tussen die twee jongmanne. Selfs ná Jonathan se dood het Dawid sy belofte nagekom deur goed te wees vir Jonathan se nageslag, deurdat hy gesorg het vir Jonathan se seun, Mefiboset.   (1 Samuel 18:1– 4; 1 Samuel 20)

Dit is wonderlik as jou beste vriend nog boonop ’n familielid is. Ek onthou vir Oom Jan van Wyk van Strydenburg. Ek het hom leer ken as ’n jong predikant en toe was hy alreeds in sy negentigerjare. Hy was ’n man van vlekkelose karakter. Rondom 1913 was hy en sy broer baie arm, as gevolg van die “verskroeide aarde” beleid van die Engelse in die Anglo-Boereoorlog. Daar was baie arm blankes. Een uit elke vier Afrikaners was in daardie tyd arm blankes.  Oom Jan van Wyk en sy broer was brandarm. Hulle het ’n paar skape gehad wat hulle laat wei het op huurgrond. Toe kom die groot droogte van 1913 en die weiding raak op en hulle moes met hulle skape trek na Kenhardt se wêreld. Hulle het die skape laat wei al langs die pad en die heinings. Hulle het nie eers geld gehad om iewers te oornag nie. Hulle het in die nag saam met hulle skape in die veld geslaap. Maar hulle karakter is gevorm deur die swaarkry. Later het dit beter gegaan, hulle het grond gekoop en uitgebrei en mettertyd selfs ook welgesteld geword. Die twee broers het alles saam gekoop, die eerste motorkar, die eerste trekker, hulle grond en landbou-implemente. Hulle het nooit vasgesit nie. Hulle het letterlik alles gedeel, behalwe hulle vrouens. Op 65-jarige ouderdom het die prokureur hulle raad gegee om hulle goed te verdeel, ter wille van die boedel eendag. Hulle het ook toe nooit gestry oor aardse goed nie. Oom Jan was later burgemeester van Hopetown. Almal het hom gerespekteer. Hy het soveel respek en karakter uitgestraal dat hy ’n hele gemeenskap se standpunt oor moeilike kwessies kon draai. Die twee broers se vriendskap is deur swaarkry en deur voorspoedige tye getoets en hulle vriendskap het die toets van die tyd deurstaan.   

Natuurlik moet ’n mens nooit kla en sê ek is alleen nie. Die vraag is of ek ’n vriend vir ’n ander een is? Ralph Waldo Emerson sê: “Die enigste manier om ’n vriend te hê, is om ’n vriend te wees.” In ons gemeente het ons juis ’n besondere geleentheid om na mekaar uit te reik.

Natuurlik moet ’n mens op ’n vriend kan reken soos die volgende verhaal aantoon: “Luitenant, my vriend het nie uit die gevegstoneel teruggekeer kamp toe nie. Ek dink hy is gewond. Ek vra verlof om hom te gaan haal”. “Versoek geweier, manskap. Ek wil nie hê een van my manne moet hulle lewe onnodig in gevaar stel nie. Die kanse dat jou vriend nog lewe, is byna nul.” Maar die soldaat het die bevel verontagsaam en tog sy vriend op die slagveld gaan haal. Op pad terug, met sy kameraad se dooie liggaam in sy arms, word hy self ernstig gewond.

Die offisier was woedend. “Ek het  jou mos gesê jou vriend is dood. Nou het ek julle al twee verloor! Maar sê vir my (gaan hy met ’n bietjie deernis voort), was dit die moeite werd om jou lewe te waag, net om ’n lyk uit te bring?” Die sterwende soldaat se antwoord was: “O, ja Luitenant! U sien, toe ek by hom kom, het hy nog gelewe. Toe sê hy vir my: ‘Ek was seker jy sou kom’.”

Epicurus skryf: “Dit is nie werklik ons vriende se hulp wat ons help nie, maar die rustige wete dat hulle ons sal help …”

Daar is natuurlik altyd die mooiweersvriende, maar daar is ook vriende wat tot in die uiterste by jou sal staan. Soos Cicero gesê het: “In goeie tye ken ons vriende ons; in slegte tye ken ons ons vriende.”

Die Prediker sê: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp.”

Jesus Christus is natuurlik ons grootste Vriend. Soos die ou Gesangevers lei: “Wat ’n vriend het ons in Jesus.”

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Heiligmaking as gawe van die Heilige Gees

SKRIFLESING: 1 Petrus 1: 13 – 21 en 1 Pet 2: 9 – 10

Hoe sal u voel om twintig jaar op ’n platform op ’n paal deur te bring? Dit het inderdaad gebeur met ’n groep mense wat heilig wou lewe.

Hulle wou hulle nie besmet met die sondige aarde nie en het toe op platforms op pale gebly. Die ander mense moes vir hulle kos bring deur ’n klein deurtjie in die platform. Hulle het geglo dit is baie moeilik om op ’n paal te sondig. So het baie mense deur die loop van eeue probeer om ’n heilige staat te verwerf sodat hulle heilig kon word.

Eers het hulle ongetroud in kloosters saamgekom en hulle net met die godsdiens besig gehou. Hier en daar het hulle liefdesdiens toegepas. Partykeer was hulle heel goed georganiseerd soos byvoorbeeld die klooster-orde van Clugny wat letterlik duisende mense gehelp het. Maar meestal het hulle die kloosters op afgesonderde plekke gebou, soos onder andere in woestyne. Want so het hulle geredeneer: In die woestyn is daar net sand, geen versoekings nie.

Maar wat kan ’n donker afgesonderde klooster vir ’n stad soos Johannesburg met sy wolkekrabbers en fabrieke beteken of vir ’n plattelandse gemeenskap soos Adelaide of Fort Beaufort? Wat kan ’n paalchristen vir ’n verlore gaande sondaarmens sê? Want die paalchristen sit op ’n paal en die sondaar in ’n sonde moeras op die aarde.

Dan die boodskap vanoggend: Om heilig te word – om soos Jesus te word, beteken nie ek moet ’n paalchristen word nie – maar ’n “op die aarde, elke dag Christen”.

Maar wat beteken die woord “heilig” of “heiligmaking”?

Die Hebreeuse woord wil sê om “af te sonder”, soos wat die stam van Levi afgesonder was. Daar is twee Griekse woorde. Die een beteken: “Om apart te sit vir ’n heilige doel” en die ander beteken “om tot voltooiing of om tot volmaaktheid te bring.”

Die woord heiliging wil dus eintlik sê: Om myself af te sonder van die sonde, sodat ek algaande tot die volmaakte beeld van Christus groei. Maar hoe word ek heilig? Die Rooms Katolieke Kerk leer dat jy heilig word deur goeie werke, die mis gereeld te beoefen en om ’n ekstra myl te stap soos om byvoorbeeld ongetroud te bly, en ’n monnik of ’n non te word.

As Protestante glo ons egter vanuit die Skrif dat heiligmaking eintlik ’n geskenk is. Dit is ’n geskenk van God. Dit word aan my gegee met my wedergeboorte. As ek wedergebore is, dan weet ek, ek is heilig – ek is ’n nuwe mens.

Want luister wat staan in verse 18 en 19: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is in julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.” Met die implikasie daarvan in Hoofstuk 2: 9: “ Julle daarenteen is die uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, vir God afgesonder, die eiendomsvolk van God …”

Kortom gestel, Adelaide en Fort Beaufort is heilige gemeentes. Jy is heilig, jy is wat Christus van jou gemaak het: ’n Heilige. Jy hoef dit nie nog te word nie. JY IS HEILIG! LEEF DAN HEILIG!” Moenie op ’n paal gaan bly nie, maar leef heilig “op die aarde, elke dag”.

Maar hoe leef ek elke dag heilig? Lees wat staan in vers 13: “Wees verstandelik wakker.” Die ou vertaling lees: “Omgord julle lendene.” Wat beteken dit? Petrus gebruik ’n beeld uit sy tyd. In die destydse Romeinse Joodse wêreld het mans almal lang rokke gedra. Wanneer hulle egter begin werk het, het hulle hul rokke opgetrek en met ’n gordel vasgebind. Dan was hulle gereed vir inspanning. Maar Petrus sê ons moet ook ons verstand inspan. Want die Christelike godsdiens is meer as net emosies, gevoel en belewenis. Dit is ook ’n redelike godsdiens. Dit moet nie net my hart en my siel aanspreek nie, maar ook my verstand. Dit beteken “bedink” en “oordink” die tien gebooie. Bedink wat jy was en wat jy nou is in Christus Jesus.

Maar Petrus sê ook in dieselfde vers: “Wees nugter.” Moenie dat julle verdoof en bedwelm word deur hierdie wêreld nie. Want ’n wêreldgees verdoof en bedwelm baie mense. Eintlik sê Petrus: Julle asems moet nie ruik na materialisme, na uitspattigheid en onkuisheid nie. Vers 14 sê ons moet nie ons lewens inrig volgens ons sondige begeertes nie. Ons moet anderste mense word, met anderste begeertes. Ons andersheid beteken ons is vreemdelinge en reisigers op hierdie aarde. Christene is tentbewoners. Alhoewel ons in hierdie wêreld is, is ons nie van hierdie wêreld nie. Ons het ’n aardse paspoort en ’n hemelse identiteitsdokument. ’n Aardse paspoort met ’n werkspermit om in hierdie wêreld te leef en te werk. En ons het ’n hemelse identiteitsdokument van die Koninkryk van God. Ons behoort in die hemel, maar ons werk op die aarde. Ons het dus ’n tydelike paspoort om God se opdrag uit te voer, naamlik die uitbreiding van God se Koninkryk. God wil ons nie opsluit in ’n donker muwwerige ou klooster nie. Die klooster wat God ons gee, staan in vers 15. U hele lewenswandel, u hele lewe, die hele wêreld is u klooster. Leef heilig en afgesonderd van die sonde – binne-in die wêreld.

My werksplek, my huisgesin, my ontspanning, my sosiale lewe, my vriendekring is een stuk kloosterlewe.

My lewe en my werk moet afgesonderd wees vir Christus. Maak nie saak hoe sekulêr u werk is nie. Want Anglo-American die multi-miljoen maatskappy; Shell die oliereus; De Beers-myne; Iskor wat in die nag soos ‘n melkweg lyk; die fabrieksreuse met hulle fabrieksrook, derduidende werksmense en digitale klokmasjiene; die groot winkelsentrums met hul reklame, promosies en uitverkopings; die magtige staatsdiens met sy vorms en nogmaals vorms, wat jou van amptenaar tot amptenaar stuur, is alles Koninkryk van God.

Die skool, die winkel, die slaghuis, die bank en besighede en elke plaas, is alles Koninkryk van God. Die manier waarop jy werk, die manier waarop jy optree en praat, moet soos ’n kerkklok die liefde van God uitbeier.

Christus is Koning op my plaas, in my besigheid, in die skool, in my beroep en in die staatsdiens. Jy is God se verteenwoordiger. Daardie roetine-werk moet soos die gebeier van ’n kerkklok al harder en harder lui – Aan God al die eer, aan God al die eer!

In die klassieke Rooms-Katolisisme het Rome geglo dat winkeliers en bankiers reguit hel toe gaan, want hulle vra wins en rente. Toe kom Calvyn op die toneel en hy sê: Bankiers en winkeliers is met ’n hoog-heilige taak besig. Billike rente en billike wins het ’n hoër doel, dit moet ingespan word om my medemens te dien.

Of jy ’n dokter, onderwyser, klerk, boer, predikant, sekretaresse, verpleegster, prokureur, winkelier, bankier, of kassier is of sitrus of avokado’s toedraai – jy het ’n heilige beroep. Want God verwag dat jy jou werk op ’n anderste wyse sal doen.

Ook jou huislike lewe moet staan in die teken van “Ek en my huis, ons sal die Here dien.”

Ook jongmense moet afgesonderd vir die Here leef – jy moet anders as die ander jongmense leef.

Sommige terreine is nie meer heilig as ander nie. Die kerk is net so heilig soos die skaapkraal en die winkelvloer. Die mens voor die kasregister se werk is net so heilig soos die man wat op die kansel staan.

Die Rooms Katolieke denke, maar ook die meeste van ons se denke is vasgevang in ’n twee-terreine leer. Daar is ’n heilige kant en ’n onheilige kant. Mense praat van geestelik en beestelik. Maar dit is ’n verkeerde manier van dink. Christus het die hele kosmos gered. Alles op hierdie aarde is aan Christus onderwerp.

Baie klassieke skilders het vir Jesus en Maria geskilder in ’n ligkol. Vir Josef en die skaapherders skilder hulle in die skaduwee. Jesus en Maria is heilig, daarom word hulle in die ligkol geskets. Josef en die herders is onheilig, daarom word hulle in die skaduwee geskets.

Dit is egter verkeerde teologie. Christus het nie halwe werk gedoen nie; Christus het alles in beginsel heilig gewas in Sy bloed. Op alles moet Christus se lig val.

U sien, kortom is my hele lewenswandel, elke dag, elke minuut, elke jaar, elke plek, elke geleentheid heilig met ’n heilige opdrag. Koop dit uit! U sien dus, die leraar is eintlik maar net die toeruster van die gemeente. U is die eintlike prediker! U preek wel nie in die kerk nie, maar wel by die werk. Nie soseer met woorde nie, maar met die manier waarop u werk en getuig. U moet so werk, so praat, so dink en so getuig dat u hele lewe een stuk preek word. Ja, een groot stuk verkondiging van God se liefde en genade in u lewe.

“The man must be the best sermon his friends and enemies ever see or hear.”

U hele lewe, van Sondagoggend in die kerk tot Saterdagaand by die partytjie moet nuut wees, moet ’n nuwe heiligheid weerkaats. Om elke dag heilig te leef op die aarde is een van die moeilikste toetse vir ware Christenskap.

Maar heiliging is ’n voortgesette proses. Die Griekse werkwoord wat hier in vers 16 gebruik word vir “wees heilig” is in die toekomende tyd in ’n bevelsin geskryf. Dit wil soveel sê as dat heiliging nie ’n bushalte is nie, maar ’n pad is waarop ek stap. Want hoe heiliger ek word, hoe meer ontdek ek hoe onheilig ek is.

  • Hoe meer ek vrede maak met my medemens, hoe meer ontdek ek hoe ek in onvrede met my medemens lewe.
  • Hoe meer ek bid, hoe meer ontdek ek dat ek nie kan bid nie.
  • Hoe meer sedelik ek leef, hoe meer ontdek ek hoe onsedelik ek leef.
  • Hoe meer ek liefde aanleer, hoe meer ontdek ek hoe liefdeloos ek is.

U sien dus ek moet groei in heiligheid. Ek moet wees wat ek reeds in Christus is. (Ek kan dit nie word nie, want ek is dit alreeds in Christus Jesus.)

Die rede waarom ek heilig moet wees, lees ek in vers 16: “Want Ek, die Here jou God, is ’n heilige God.” Daarom begin ons elke erediens met ’n aanbiddingsgesang, want God is heilig. Brakwater pas nie by ’n vars fontein nie. Net so pas onheilige skepsels nie by ’n heilige God nie. Jy is heilig gemaak. Wees dan heilig, nie op ’n paal nie – maar op die aarde, elke dag.           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die ander vrou, wat anders is

SKRIFLESING: Gen 21: 8 – 21 

Abraham is die vader van die geloof. Die verhaal van God se bemoeienis met die mens begin by Abraham. Die Here het vir Abraham uit Ur van die Galdeërs laat trek na ’n vreemde land sonder enige sekuriteite. Slegs met die belofte van ’n land en ’n baie groot nageslag. Abraham en Sara het oud geword en hulle was kinderloos.

Sara het toe maar op haar eie ’n plan gemaak. Sy het voorgestel dat haar man by haar Egiptiese slavin Hagar gaan slaap, sodat Hagar ’n kind kan verwek wat sy haar eie kind kan noem. So is Ismael gebore. Tot op die dag, toe die drie besoekers by Abraham se tent by die groot bome Mamre opdaag en voorspel dat Sara oor ’n jaar haar eie kind sal hê. Dit was dan ook so. ’n Jaar later is Isak gebore en het Sara haar eie bloedkind gehad.

Skielik was Hagar nie meer vir Sara slegs ’n slavin nie, maar “die ander vrou, wat anders is”. Daar het jaloesie begin ontwikkel tussen die twee vroue. Hulle het in mekaar ’n bedreiging begin sien.

Toe Hagar eendag vir Sara gelag het, was die vonk behoorlik in die vuur en kon Abraham nie meer vrede handhaaf tussen Sara en Hagar nie. Sara wou van hierdie “ander vrou” ontslae raak deur ’n onbillike versoek tot Abraham te rig dat Hagar en haar kind weggestuur moet word. Abraham se erfporsie moet na Isak gaan en nie na Ismael nie. Abraham was voor ’n onmoontlike keuse, maar die Here het hom verseker dat God self sal kyk na Hagar en die kind Ismael. Met ’n swaar hart het Abraham die kind Ismael, met kos en ’n velsak water, op Hagar se skouer getel en haar weggestuur na die dodelike Berseba woestyn.

Vir Sara was Hagar “die ander vrou”, die vyand, die bedreiging. Sy was immers boonop ’n Egiptiese vrou en het daarom nie ingepas by haar nuwe status as moeder van die verbondskind Isak nie. Maar God oordeel anders oor Hagar, “die ander vrou”. God sien nie haar “andersheid” raak nie.

Hy sien haar radeloosheid en nood raak. Toe Hagar se water opraak, het sy die seun Ismael onder ’n struik neergesit en so ver gaan sit soos wat ’n pyl uit ’n boog skiet. Sy wou hom nie sien sterf nie. ’n Mens kan jou indink in hierdie “ander vrou” se onbeskryflike nood en leed. Uitgeworpe om in die Berseba-woestyn te sterf, saam met haar kind. Dan lees ons hoe die Engel van God uit die hemel vir Hagar kom vertroos met die belofte dat haar seun Ismael ’n groot nasie sal word. God het haar oë oopgemaak en sy het ’n waterput gesien.

Dan lees ons in vers 20 hoe hierdie seun Ismael grootgeword het en handig met die pyl en boog geword het. In die Paranwoestyn het hy opgegroei en sy moeder het hom met ’n Egiptiese meisie laat trou. Uit Ismael se nageslag het daar ook twaalf stamme gestam. Ismael se nageslag het later die Moslems geword.

Sara was bekommerd om haar “eie” te beskerm en het daarom “die ander vrou, wat anders was” weggestuur.

Daarom kan ons aflei dat Sara deur haar optrede veroorsaak het dat die Jode en Christene afstammelinge van Isak is en dat die Arabiere, wat meestal Moslems is, afstammelinge van Ismael is.

Vandag is die spanning tussen die Christene en die Moslems die grootste brandpunt in die Midde-Ooste en in die ganse wêreld.

Deur Sara se wegstuur van Hagar en die kind Ismael het sy onvrede gebring tot vandag. Die Bybel sê tereg ook daar sal nooit vrede tussen die twee groepe kom nie.

Daarom kan die vernietiging van die Twin Tower Internasionale Handelsentrum deur die Moslems op 11 September 2001 direk toegeskryf word aan die haat tussen Christene en Moslems. Was Sara maar nie so jaloers en Hagar nie so uittartend met haar lag nie! Hoe anders sou die wêreld dalk nie vandag gelyk het nie!

Wonderbaar is dat God hom ontferm het oor Isak én Ismael. God het dit beskik dat Isak nie geoffer word in Moria nie en dat Ismael nie in die woestyn van dors omkom nie. God is nie net bekommerd oor die “eie” nie, maar ook oor die “ander”. Dit is die kernboodskap van die Bybel, dat God Homself ook ontferm oor die “ander”, die vreemdeling, die weduwee, die bywoner en die randfigure. Daarom het Christus in die eerste plek vir die “wêreld” en nie vir die “kerk” gekom nie. Johannes 3: 16 sê mos dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy eie Seun gegee het.

Was Sara miskien meer gasvry teenoor Hagar, was die wêreldgeskiedenis dalk anders. Daarom roep God ons op om ’n gasvrye gemeente en gasvrye gelowiges te wees, wat die wêreld welkom laat voel. Daarom moet ons ook nie in vyandskap teenoor die Moslems optree nie, maar eerder deur ons gasvryheid en geloofsintegriteit die Moslems  bring tot geloof in Jesus Christus. Die baie Moslems wat onlangs uit Sirië gevlug het na Europa, is meestal so gasvry ontvang deur die Christene van Europese lande, dat baie van hulle tot geloof gekom het in Christus.

Pres. Donald Trump se ongasvrye manier waarop hy alle Arabiere, Mexikane en ander volkere behandel (soos Sara wat vir Hagar en Ismael wegstuur) gaan nie verhoudinge in die wêreld verbeter nie. Wanneer jy olie op ’n vuur gooi, hits jy eerder die vuur aan. Ons moet die misdaad beveg wat party ekstremistiese Moslemgroepe pleeg, maar ons moet nie die Moslems haat nie. God het gesê ons moet die wêreld liefhê, so ook ons Moslembure.

Daarom is dit die Christen se plig om nie die “ander” te verjaag nie. Deur Christelike gasvryheid moet ons die wêreld en die “andersheid van ander” omhels. Dan eers is ons ’n missionale kerk wat iets verstaan van die Missio Dei. Die Christen bou nie mure nie, maar brûe na die “ander”.

Dan kom die Koninkryk van die hemel tussen ons.                                   AMEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

Die mens deel en God vermenigvuldig

SKRIFLESING: Mark 6: 30 – 44 en Mark 8: 1 – 7

Ons almal ken van skaars tye. Dit is tye wanneer jou inkomste beperk is, wanneer dit droog is, wanneer jou gesondheid sukkel, wanneer jou lewenskrag wil ingee of wanneer hoop skaars is. Ons almal het al gehoor van 1913 en 1933 se depressie en van die skaarste in die Anglo-Boereoorlog. Ons voorgeslagte was meestal arm  en niks is weggegooi nie. Die Spoorweë was destyds vir baie arm gesinne die oop deur na ’n nuwe toekoms. Daar is met groot spaarsamigheid gewerk met alles. Niks is weggegooi nie. Sedert die 1960’s het dit begin beter gaan met die Afrikaners. Tans leef ons in ’n era waar mense nog finansiële bekommernisse het, maar ons leef nie meer in skaarste nie. Van alles het ons oorvloed. Dit veroorsaak dat ons op ’n eiland lewe en nie werklik tred hou met die armoede in ons land en wêreld nie. Armoede in die derde wêreld en ontwikkelende wêreld neem skrikwekkende afmetings aan. Armoede het vele oorsake.

Sommige armoede bring mense oor hulself, maar dikwels is armoede die vergrype van een mens of volk oor ’n ander mens of volk. Mense kan hulle so vergryp aan rykdom, dat hulle baie min vir die ander oorlaat om van te leef. Die Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis is vol voorbeelde hiervan. Nepotisme, vermorsing en korrupsie veroorsaak ook dat ons land nie vooruit kan gaan nie. Politieke vergrype was nog altyd ’n sekere oorsaak van armoede.

Behalwe finansiële armoede en broodsgebrek, is daar ook emosionele armoede. ’n Voorbeeld is wanneer jy velhonger is dat iemand jou moet aanraak of vir jou ’n omhelsing moet gee. Armoede kan dus verskeie gesigte hê.

In ons gelese gedeelte lees ons van die eerste vermeerdering van die brood. Die eerste vermeerdering van die brood het onder die Jode plaasgevind; ons lees dat hulle op groen gras gesit het en dat daar twaalf mandjies kos opgetel is, wat ’n simbool is van die twaalf stamme van Israel. Die tweede vermeerdering van die brood was in ’n woestyngebied en daar is sewe mandjies kos opgetel, wat ’n simbool is van die wêreld. Jesus het dus met die twee verhale van die vermeerdering van die brood en vis, beide die Jode en die heidense wêreld in die oog gehad.

In beide wonderverhale was daar ’n tydelike skaarste aan kos. Jesus was nie net begaan oor hulle geestelike armoede nie, maar ook oor hulle fisiese behoeftes. Daarom gee Hy die opdrag aan die dissipels (die kerk) om die groot skares mense te voed. Dit lyk na ’n onbegonne taak. Hoe kan ’n paar brode en ’n paar vissies vir duisende mense kos gee? Tog gee die Here vir die dissipels (die kerk) die opdrag om in geloof die taak aan te pak. Daarom as ons oor die missionale taak van die kerk praat, bedoel ons dat die kerk geroep word om alle soorte armoede aan te spreek.

Dit kan fisiese armoede, geestelike armoede, emosionele armoede of selfs net mense wees was velhonger is. Die kerk is geroep om in alle soorte armoede ’n verskil te maak. Dit help nie jy bring vir iemand die liefde van Jesus, maar jy laat hom of haar honger gaan slaap nie.

Die ontsettende omvang van armoede veroorsaak dat ’n mens somtyds apaties word en verlammend niks doen om ander te help nie. Natuurlik kan ons nie al die armoede en ellende in die wêreld aanspreek nie. Maar ons kan vir indiwidue hoop bring. Hulle vertel van die man wat elke oggend langs die seestrand gestap het en seesterre wat uitgespoel het deur die nag, teruggegooi het agter die branders. Maar daar het honderde seesterre op die strand gelê. ’n Verbyganger spot met die weldoener en sê vir hom of hy nou dink dat hy enige verskil kan maak. Die weldoener gooi weer ’n seester agter die branders en sê: “Vir die een het dit ’n verskil gemaak!”

So kan ’n mens iemand in jou lewe aanneem en in  daardie betrokke persoon of dier se lewe ’n verskil maak. Jy kan vir iemand wat swaar kry, help. Jy kan vir ’n eensame bejaarde versorg met jou kuiers en omgee. Jy kan jou oor die straathonde wat verhongerd rondloop, ontferm. ’n Mens word eers ’n mens as jy kan versorg.

Daarom moet ons nooit dink dat ons beskeie bydrae van geen waarde is nie. Die Here het met die eerste vermeerdering van die vyf brode en twee vissies vir duisende kos gegee. Met die tweede vermeerdering van sewe brode en ’n paar vissies is ook vir duisende kos gegee. Wat ons het, kan deur God vermeerder word. Ons moet God egter vertrou dat Hy die bietjie wat ons offer ryklik sal seën om ’n daadwerklike verskil te maak.

Dit is vir ons ook ’n troos in ons lewe om te weet as ons tye van skaarste beleef, dat God by magte is om in die skaarste ryklik in al ons behoeftes te voorsien. Ek hoor dikwels hoe boere sê: “Ek weet nie hoe ek deur hierdie droogte gekom het nie. God het net voorsien.” ’n Boer van Strydenburg het eendag aan my bely dat hy in die groot droogte van 1983 drie kinders op Universiteit gehad het. As hy vandag sy sommetjies maak, het hy geen idee hoe hy deur daardie tyd van skaarste gekom het nie. Dit kan net God wees.

Daarom het mense in tye van skaarste altyd ’n ervaring van God se onvoorwaardelike sorg en getrouheid. Dit is ons troos as kinders van God dat die hemelse Vader elke dag vir ons sal voorsien in alles wat ons nodig het.

In die gelese gedeelte sien ons dat die Here ’n jammerte en ’n deernis vir die mense gehad het. Ons kan dikwels so afgestomp word deur die ellende van die wêreld, dat ons ons hartseer vir mense verloor. Dan word ons apaties en veroordelend.

Ons lees in die Markus 6-weergawe met die eerste vermeerdering van brood, dat die Here die mense in groepe van 50 en 100 laat sit het. So moet armoede-sorg deur die kerk altyd goed georganiseer word, sodat die hulp by die regte mense kan uitkom. God is ’n God van orde. Leeglêers en luiaards kan nie ontvang van die liefdesgawes van die gelowiges nie.

Daarom is barmhartigheid nooit ’n blanko tjek aan mense wat te lui is om te werk nie. Die Bybel skryf ’n hoë werksetiek baie hoog aan. Ons moet nie lui mense in hulle laksheid aanmoedig nie. Daarom het ons ’n fyn onderskeidingsvermoë nodig, om te help daar waar dit regtig saak maak.

Ons lees ook dat Jesus die kos geseën het. So moet ons ook vra dat God vir ons sal seën by die gebruik van Sy gawes. Die gebruiklike tafelgebed is een van ons mooiste gebruike in ons geestelike lewe. So moet ons Hom ook dank vir reën en elke goeie gawe wat Hy vir ons in die lewe skenk.

Daarom moet ons nooit moedeloos raak oor ons eie lewensnood of oor die wêreld se lewensnood nie. Wat ons het, kan deur God vermeerder word.Daarom kan ons getroos lewe en werk. God kan van min, baie maak. Onthou die wonderverhaal van die arm weduwee wie se olie nie opgeraak het nie. Sy kon al haar skuld betaal en weer die vryheid van die lewe geniet.

Daarom moet ons dit met God waag in ons lewensnood! Daarom moet ons dit met God waag as ons ander wil help. God ken van vermenigvuldig.

Die mens deel en God vermenigvuldig !           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geloof is om die onsienlike te sien

SKRIFLESING: Heb 3: 12 – 14 en Heb: 6: 1 – 12 en  Heb 10: 23 – 25 en Heb 11: 1 – 40 en Heb 12: 1 – 3

Die boek Hebreërs handel oor geloof. Die skrywer se bedoeling is nie om mense te laat glo nie, maar om mense wat reeds in die geloof is, te help om in die geloof te bly. Want sien, geloof kan maklik verweer word – soos skokbrekers van ’n voertuig wat verweer op grondpaaie. Geloof is iets lewendigs; daarom kan dit groei of sterf. (Dit is soos ’n verhouding.) ’n Mens kan so gewoond raak aan die Christelike geloof, dat jy later begin neutraal staan. Dan is dit nodig om weer jou geloof te versterk. Tereg moedig Paulus in 2 Tim 1: 6 vir Timotheüs aan om “die geloof weer soos ’n vuur aan te blaas.

Wanneer die Hebreërs-skrywer sy brief skrywe, rig  hy dit aan gelowiges wat nie net traag (6:12) geword nie, maar ook later afvallig (6:6) geword het en ook nie meer kerk toe kom nie (10:25). Die vroeë Christene het vervolging beleef en baie skokke ervaar, wat hulle geloof begin deurstamp het. Hulle geloof het as’t ware begin gly en hulle het apaties geraak. Dikwels gebeur dit dat gelowiges in hulle vroeë tienerjare geestelik baie aktief was en besondere geloofservarings op geestelike kampe gehad het. Dit kan gebeur dat in latere volwassenheid jy in jou geloof lou raak, as gevolg van al die eise van volwassenheid.

Daarom beskryf die Hebreërs-skrywer die geestelike lewe soos ’n marathon wedloop of ’n pelgrimstog. Dit is veeleisend en vermoeiend. Jy moet VASBYT en altyd jou einddoel voor oë hou.

Jy moet jou aandag gedurig op Jesus Christus hou: die Begin en Voleinder van jou geloof. Dikwels kan ons ons geloofsfokus verloor. Coenie Burger vertel toe hy in Amerika op reis was, tydens ’n sneeustorm, hy so op die sneeu gekonsentreer het, dat hy al stadiger begin ry het. Die ander voertuie het verby hom geflits. Eers toe hy geleer het om eerder op die pad as die sneeu te konsentreer, kon hy weer vinniger ry. Aanvanklik het die sneeu hom paniekbevange gemaak. Hy het nodig gehad om sy fokus te herwin op die pad. So moet ons ook gedurig ons geloofsfokus op Jesus Christus herwin. Dit is soos ’n akrobaat wat oor ’n staaldraad loop. Hy konsentreer op die einde van die kabel. Hy kyk nie agtertoe of ondertoe nie. Nee, hy hou die oog op die eindpunt, daar waar die rooi lint vas is. Sy fokuspunt gee vir hom balans.

Wat is geloof ? Vers 1 begin so: “Εστι δὲ πίστις” Geloof is dan …

So begin ’n definisie. Geloof is dan om seker te wees wat ons hoop, om oortuig te wees van wat ons nie sien nie … Geloof is die viering van die objektiewe werklikheid. Nie jou subjektiewe geloof nie, maar die objek van jou geloof staan vas. Jy kan maar twyfel aan jou geloof se sterkte, moet net nie aan Christus twyfel nie. Dit gaan met ander woorde nie oor die subjek van jou geloof (ekself) nie, ook nie oor die werkwoord “geloof” nie, maar oor die objek, dié EEN in wie jy jou geloof stel.

Modernisme meet en evalueer alles in terme van wat gesien kan word. Maar ons moet onthou die sienlike is slegs ’n enkele dimensie. Agter die sienlike is daar ook die onsienlike as nog ’n ander dimensie. Baie dinge kan ons nie met die blote oog sien nie, maar dit is beslis daar. Niemand sal ontken dat daar radiogolwe, televisiegolwe en selfoonseine is nie. Tog kan ’n mens dit nie met die blote oog sien nie.

’n Foto kan maklik bedrieg in een dimensie. Somtyds moet ’n mens dieper en langer kyk.

Bestudeer byvoorbeeld die meegaande foto. As ’n mens kyk, sien jy die man se linkersykant. As jy ’n bietjie langer kyk, dan kry jy ’n vooraansig van die man. Dit hang af hoe diep jy kyk. Agter die sienlike is die onsienlike.

Is jou huis nog daar waar jy dit vanoggend gelos het ? Jy kan dit mos nie nou sien nie – maar jy vertrou jou vorige ervarings.

Sienlike dinge is een-dimensionele geloof. Ons sig is beperk. Ons kan nie eers baie ver voor ons uit sien nie. Onsienlike dinge is driedimensionele geloof. In die 3D-films het jy ’n spesiale bril nodig om die film te sien. So is geloof ’n “bril” wat jou in staat stel om die onsienlike te sien.

Die Hebreërs-skrywer sit as’t ware vir ons 3D-geloofsbrille op. Vanuit die getuienis van Abel, Henog, Noag en Abraham sien ons die onsienlike God besig om te werk in die geskiedenis. Die geloofshelde stel as’t ware ons geloofsoë in soos wat ’n mens ’n verkyker instel.

Ons is kinders van Abraham. Hy is die vader van geloof. Ons moet self ook soos ons geloofsvader Abraham geloofsmense word. Abraham het uit Ur van die Chaldeërs getrek en nie geweet waar hy sal uitkom nie. Hy was sy lewe lank ’n tentbewoner op reis na die onsienlike. Hy het ook gesterf sonder om die sienlike te bereik in sy aardse lewe. Hy kon enige dag kies om terug te keer na die sienlike land van Ur van die Chaldeërs, maar hy het verkies om op reis te wees na die onsienlike belofte. Hy het nie geweet waar hy sou uitkom nie, maar hy het uitgesien na die stad van vaste fondamente. Daarom beskryf hy homself as ’n vreemdeling en bywoner, op pad na ’n beter vaderland.

As ek moet kies tussen die sienlike en onsienlike, kies ek verreweg die onsienlike!

Wie die sienlike verkies, moet kies om soos ’n dier sonder hoop te sterf. Wie die onsienlike verkies, kies om te leef en te sterwe soos ’n gelowige. Beslis kies ek laasgenoemde. Maar dit vra volharding. 

Karl Bath sê HOOP is om môre se musiek reeds vandag te hoor. GELOOF is om op die maat van daardie musiek te dans.

Wanneer Martin Luther oor geloof skryf, sê hy daar is twee soorte geloof:

Geloof omtrent  God  … sekere kennis van God.

Geloof in God … dat ek my volle vertroue in Hom plaas.

Om te glo is, om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. ’n Swart koei eet groen gras, en gee wit melk, waarvan ons geel botter maak. Ek verstaan nie die chemiese werking nie, maar ek geniet die botter op my brood. Ek sien oor die TV die rugbywedstryd, maar kan nie sien hoe die sein of satelliet werk nie – maar ek gooi nie die TV by die venster uit nie. Neil Armstrong het op die maan geland. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit vul my met verwondering. Ek was ’n klein seuntjie toe die eerste mens op die maan geland het. Toe ek dit gehoor het oor die radio, het ek buitentoe gegaan en probeer om die man op die maan te sien. Nodeloos. Ek het hom nie gesien nie. Tog neem dit niks weg van die wetenskaplike feit dat daar ’n man op die maan geland het nie.

Die wetenskap-fakulteite aan Universiteite is altyd besig om die onsienlike sigbaar te maak. Wat onbekend is, bekend te maak. Dit is ’n nimmereindigende soektog, wat fassinerend is, want ons ken en sien nog so min.

Om gelowig te wees, beteken om die onsigbare te leef, met ’n lewende hoop!

Geloof het ’n besliste fondament, skryf Martin Luther: Ek het by die venster uitgekyk en die sterrekoepel gesien, tog het ek nie ’n sigbare pilaar gesien wat die uitspansel ondersteun nie. Vervolgens het ek ’n groot wolk gesien wat met ’n groot gewig in die lug gehang het, tog het ek geen fondament gesien waarop dit rus nie; dit het vlugtig gegroet en verby gevaar. So kry jy altyd mense wat na pilare en fondamente soek om  hul vrees en bewing te stil, asof hulle hemel in duie gaan stort. Hulle besef nie daar is ’n ondersteunende fondament nie – hulle geloof!

Ons kan nie eers na die son kyk met ons blote oë nie. Hoe kan ons dan nog na die Skepper van die vuurrooi son kyk? Daarom het niemand God nog gesien nie. Selfs aan sy dienaar Moses het Hy verskyn in die woestyn in ’n brandende braambos wat nie uitgebrand het nie. Moses kon maar net sy skoene uittrek vir Jahweh. God het ook nie Moses se vraag “Wie is u ?” beantwoord nie. Al wat God gesê het, is dat HY IS WAT HY IS. God laat Hom nie verstaanbaar, kenbaar of sigbaar maak deur die definisies en proefbuise en mikroskopiese lense van mense nie.

Die Skepper kan tog nie objek word van sy subjek nie. Paulus is met blindheid geslaan toe die Here aan hom verskyn het op die pad na Damaskus. Daar in sy blindheid het hy eers vir God gesien. Slegs in die menswording van Jesus Christus het ons ’n blik gekry op die Seun van God. In Sy Godheid het ons Jesus ook nog nie gesien nie. Die Vader werk agter die skerms, die Seun verskyn gedeeltelik in sy mensheid en die Gees werk soos die wind. Jy hoor die wind en sien wat die wind doen, maar jy kan self nie die wind sien nie. Daarom is die vleesgeworde Seun van God in sy mensheid vir ons herkenbaar in ons eie taal en kultuur, maar in sy Godheid vir ons versluier, sodat ons nooit ’n te vaste greep op God kan kry nie.

Seker een van die mooiste beelde om geloof te verduidelik is die van die blinde seun wat dit geniet om met sy maats vlieër te speel. ’n Verbyganger wou met hom gekskeer: “Waar is jou vlieër? Jy weet nie of dit in die lug is en of dit op die grond is nie.” Hy antwoord: “O ja, dit is ’n hele ent die lug in op.” “Hoe weet jy dit, jy kan dan nie sien nie?” Die blinde seun antwoord: “ Nee, dit is waar, ek kan dit nie sien nie, maar ek kan dit voel aan die trek van die lyne …”

So kan ons die onsienlike God ook nie sien met ons blote oë nie. Tog ervaar en beleef ons God in ons persoonlike lewens en in die getuienisse van ander mense. Ons voel hoe Hy aan ons lewenslyne trek. Dit is ’n baie persoonlike en intieme ervaring. Ons hoor ook van hoe ander mense getuig van hoe God aan hulle lewenslyne trek. Die boek Hebreërs gee vir ons ’n lang lys van mense, geloofshelde se getuienisse van hoe hul God beleef.

Geloof is nie iets doods, wat in ’n museum tuishoort nie. Nee, dit is ’n lewende, persoonlike verhouding met die lewende God. Dit is om God te sien in die onsienlike en sienlike dinge. Dit is om God te beleef in persoonlike ervarings en in gedeelde ervarings van geloofshelde in die kanon van die Bybel, asook in die moderne tyd. Geloof is om dieper te kyk, met ’n beter perspektief. Ja, om God te sien in die onsienlike.

Iemand wou eenmaal graag die Big Wheel in London besoek. Hy was op die plek, maar het dit nie gesien nie, want hy was haastig en die paaie was baie besig. Later toe hy sy foto’s ontwikkel, sien hy die Big Wheel duidelik in die agtergrond van een van sy foto’s. So werk dit met geloof ook. Ons sien dikwels eers agterna God baie duidelik in ons lewe.

Daarom is die Hebreërs-skrywer se doel om mense te help om hulle geloof te behou en terug te kyk hoe die Here in die verlede die geloofshelde van die Bybel gehelp het. Die geloofshelde wat beskryf word in Hebreërs word voorgehou as gelowiges wat volhard het in hulle geloof tot die einde.

In my persoonlike lewe kan ek ook getuig hoe God deur my ervaring van Sy teenwoordigheid in my lewe, my geloof versterk het. Ek ervaar God op soveel talryke maniere in my geloof, dat dit my geloof bou. Ek sien as’t ware hoe God my help. Daarom is die ervaring wat jy van God beleef, ook ’n bewys van Sy bestaan en lewende teenwoordigheid in my lewe.

Moenie dink dat jy altyd reg sien nie! Geloof is om te leer om “te sien.” AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort .)