Word ‘n mens ‘n slaaf deur ander of deur jouself?

SKRIFLESING: Jeremia 2: 1 – 37

Slawerny is een van die donkerste dele van die menslike geskiedenis. Dit is om mense hulle vryheid te ontneem en hulle in te perk vir jou eie voordeel. Dit kom van die Bybelse tyd en is vandag nog steeds net so aktueel. Met die afskaffing van wetgewing wat slawerny gereël het, het  die verskynsel nie opgehou bestaan nie. Dit het oorgegaan in die onderwêreld. Wêreldwyd word beweer dat slawerny nou erger is as ooit tevore.

Die bekendste vorm van slawerny is om mense te besit om vir jou gratis werk te doen. ’n Mens kry seksuele slawerny waar vroue, mans en kinders verkoop word vir die ondergrondse sekshandel. Jy kry vandag ook nog vele kinderslawe wat in fabrieke werk. Goedkoop arbeid, handel in menslike organe, en mense wat finansieel uitgelewer is aan te hoë rentekoerse is vandag moderne vorme van slawerny.

Die dwelmhandel is ook ’n vorm van slawerny, waar mense afhanklik gemaak word van dwelms om hulle vir altyd as kliënte te hê. Die bendegeweld in Mannenberg, die Kaapse vlakte en ander gebiede in die land, is ’n vorm van slawerny. Wanneer mensegroepe deur wetgewing van hul vryheid beroof word is dit ook slawerny.

Daarom dan Martin Luther King se beroemde toespraak “I have a dream …”

Oor slawerny kan mense baie ontkennend skynheilig wees. Van die vroomste mense kan slawerny goedpraat of selfs beoefen en dink dit is hulle reg om ander hul vryheid te ontneem. Christenlande doen dit in die hoogty van slawehandel. Christenvolke met die Bybel onder hulle arm doen dit.

In die Middeleeue, met die bloei van die slawehandel, was daar ’n slawekaptein wat slawe aan die kus van Wes-Afrika gevang het en per skip na Amerika geneem het.

Hy was ’n godvresende man, wat graag op die dek van die skip gesange gesing het tot eer van God. Tog het hy ’n ernstige godsdiens-probleem gehad. Hy het die slawe onder in die dek van die skip baie swak behandel. Hy het vir hulle niks gevoel nie. Hy het slegs ’n godsdiens van “bo” gehad, maar nie ’n godsdiens wat “rond kyk” na mense nie. Hy het vergeet van die baie Lasarusse onder in die skip. Hy het met mense handel gedrywe en hulle boonop sleg behandel. Hy het ryk geword uit ander mense.

 Die duiwel is die een wat mense se vryheid wegneem en inperk. Hy het dit in Genesis met Adam en Eva gedoen, en met Kain gedoen. Deur die eeue doen hy dit. Slawerny in al sy verskillende vorms – daarin het die duiwel ’n aandeel.

 God maak mense vry. Daarom het Hy ons in Jesus Christus vry gemaak. Martin Luther skryf vurig Die Vryheid van een Christenmens.

 Die hele Bybelse boodskap is ’n verhaal van slawerny en vryheid. Jy vind dit letterlik op elke bladsy in die Bybel. In die Bybelse tyd het mense slawe geword as jy nie jou skuld kan betaal nie. As jy nie jou skuld kan betaal nie, is alles van jou verkoop. As daar nog skuld is, is jou kinders as slawe verkoop. As daar nog skuld is, is jou vrou as slaaf verkoop en laastens as daar nog skuld is, is jy as slaaf verkoop.

Word ’n mens ’n slaaf deur ander of deur jouself ? Al twee moontlikhede bestaan. Ander kan jou verslaaf, maar jy kan jouself ook verslaaf …

 Israel het homself verslaaf, daarom vra Jeremia die vraag in vers 14: “Het Israel ’n slaaf geword of is hy ’n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak?”

Die volk Israel is gebore as volk onder die slawerny van Egipte. Hulle was steenmakers vir die Farao’s oor geslagte heen. Hulle het ’n groot volk geword, maar ’n volk sonder enige vryheid. Slawerny gee vir jou ’n slegte selfbeeld. Later dink jy jy verdien om so behandel te word. (Amper soos mishandelde vroue en kinders wat dink hulle verdien dit.) Die slawevolk Israel het ook ’n vooraf-verhaal gehad. Jakob se broers het mos vir Josef verkoop as ’n slaaf aan die slawehandelaars en toe beland hy as slaaf by Potifar. By Potifar maak Potifar se vrou hom ’n nog erger slaaf, naamlik om ’n tronkvoël te word.

So is Israel in sy bestaan en voorafgeskiedenis ’n slawevolk. Maar dan stuur God vir Moses om sy volk uit slawerny te lei na die vryheid van die beloofde land. Vryheid kos iets. Dit het vir Israel gekos om 40 jaar deur die woestyn te trek. Maar in die beloofde land het hul gekom en ’n nuwe vrye volk geword, met hul eie eerste, nuwe koning Saul. Om nie te praat van Koning Dawid en Salomo nie. Die volk het hul eie konings, priesters en profete gehad. Hulle het hul eie hoofstad gehad, naamlik Jerusalem. Hulle het hul eie paleise en tempel en sinagoges gehad. Hulle was vry om wingerde te plant, veetroppe aan te hou en handel te dryf.

God se droom “I have a dream …” het waar geword!

Maar dan verloor die volk sy vryheid om slawe van die Babiloniërs te word. Babilon, die wêreldstad, verower Jerusalem, die Godstad. Israel verloor alles: sy stad, sy tempel, sy wingerde, sy handel en sy vryheid. Israel het homself verslaaf, daarom vra Jeremia die vraag in Vers 14: Het Israel ’n slaaf geword of is hy ’n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak? ’n Mens kan net buitgemaak word as jy voorheen vry was.

Israel was voorheen vry, maar het deur hulle afvalligheid en sonde weer slawe van die sonde en van die wêreld geword. Nie net die volk nie, maar alle gesagsinstansies het korrup geword. Die priesterlike, profetiese en koninklike huise het almal van God vergeet (vers 8): Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie. Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie, dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie. Die regeerders het hulle teen My verset, die profete het in die naam van Baäl opgetree en gode gedien wat nie kan help nie.

 Israel het die geregtigheid, die barmhartigheid en die betroubaarheid van God vergeet. Dit weeg volgens God die swaarste in Mat 23: 23. Israel het ontrou geword. Israel het egbreuk gepleeg met God. God het as die minnaar na Israel uitgereik toe hulle nog maar ’n slawevolkie was in Egipte. God het ’n verhouding begin met Israel en vir Israel, sy minnares, ’n huis opgesit in die beloofde land. Hulle het saam baie sakke sout opgeëet in die woestyn. Maar toe die beter dae kom, het Israel sy God vergeet. Kyk na Verse 6 – 7:  Hulle het nie gevra: “Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie. Hy het ons deur die woestyn gelei, deur ’n droë wêreld vol slote, deur ’n dor land vol doodsgevaar, deur ’n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie.

Ek het julle in ’n vrugbare land gebring om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet, maar toe julle in my land gekom het, het julle dit verontreinig; die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.

Amper iets soos die man wat met ’n jongmeisie trou in sy studentejare. Hy het nie gewerk nie, maar voltyds gestudeer. Sy het die pot aan die kook gehou en baie opgeoffer. Toe kwalifiseer hy na lang jare van studie. Hy kry toe ’n goeie werk en baie geld. Hy begin toe flankeer met al wat meisie is en laat sy eggenote wat hom gehelp het in die steek. So voel God oor Israel. God het Israel bevry, maar Israel het haarself weer verslaaf. Israel het hoereer agter ander gode aan. Daarom wil God begin met ’n aanklag, ’n skeisaak teen sy volk Israel in vers 9: Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here, en ook jou nakomelinge kla Ek aan.

Dit het telkens in die geskiedenis gebeur met volke wat God verlaat. Dit is baie gevaarlik om enige volk enigsins te vergelyk met Israel. Die Afrikanervolk is geen spesiale of uitverkore volk nie. Tog is die patroon opvallend, wanneer enige volk God se trou verlaat.

Daar was ’n tyd toe ons Afrikanervolk ons volksgenote opgehef het in die tyd van die Arm blanke-vraagstuk met die spoorweë, landbouprojekte soos by Kakamas, studiefondse soos die Helpmekaarfonds en skole soos die Tegniese- en Huishoudskole op Adelaide en honderde ander plekke.

Dit was die volk van sendingbussies en sendingskole en sendinghospitale en ons het ’n hart vir die sending onder alle mense gehad. Ons was ’n volk bekend vir geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. In die 1940’s het ons God se trou begin vergeet. Die Afrikaner het geld gesien, mag gesien en elkeen het vir homself geleef. Ons het Apartheid uitgedink en vergeet van geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Die volk met die Bybel (Afrikaners), het hoereer agter ander afgode aan. Die kerk, die staat, die volk en die leiers het verblind geword. Ons het die Jeremias van die daaropvolgende tye vergruis soos die Jonkers en Johan Heynse. Heyns is voor sy kleinkinders doodgeskiet en Beyers Naudé se foto is afgehaal van Loxton se konsistorie-muur. Ons het heeltemal vergeet van die woestyntye soos die van Bloedrivier, die groot oorlog van 1899 – 1902 en die 1913- en 1933-depressie.

So het dit ook met volke soos Duitsland gebeur in die Tweede Wêreld-Oorlog. Duitsland se konings, priesters en profete het God heeltemal verlaat en hulle Jeremia, Dietrich Bonhoëffer is tereggestel. Baie ander volkere het dieselfde pad gestap. Dit gebeur tans ook met die ANC-regering. Die foute word oor en oor in die geskiedenis gemaak.

 Waar is God? Ons het God dan uitgeskryf uit ons geskiedenis. Ons hoereer deur die dag met slegte prostitute, maar wil in die aand in die bed klim met ons vrou. Wanneer dit “dag” is, vergeet ons van God. Wanneer dit “nag” word in ons lewe, wil ons God opsoek. God is geen tweedeklas minnaar nie. God is ’n jaloerse God wat sy eggenote net vir homself wil hê.

Daarom sê Jeremia, maak ons die fatale fout: Dat ’n nasie sy gode verruil het, selfs al was hulle geen gode nie? My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. (vers 13)

So kom die skande in vers 26: Soos ’n dief in die skande kom wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom: hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters en hulle profete. Hoe het ons as Afrikanervolk nie ook in die skande gekom nie.

Daar is net een antwoord: BEKEER julle! Hoofstukke 3 en 4 en die res van Jeremia is ’n wekroep om terug te keer na God. Die boodskap van die hele Bybel is dat God vir ons ons vryheid wil teruggee. Hy doen dit vir ons deur Jesus Christus. Daarom het Jesus homself gevange laat neem deur die menslike natuur aan te neem, sodat Hy ons kan verlos van die slawerny waarin ons onsself gedwing het.

Ons moet ophou verslaaf wees en vry word. Ons moet die vryheid wat Christus gee, aangryp met ons hele lewe.  I have a dream … I have a vision … I have a reality …

Dikwels beperk ons ons eie vryheid en groei soos bonsai-boompies. Ons beperk ons vryheid, soos wat ’n bonsai-boompie net groei volgens die grootte van die bak waarin dit staan. Ons aanvaar die vryheid wat Christus vir ons gebring het net in sekere dele van ons lewe. Dit verhoed ons om “de vrijheid van een Christenmens”, soos wat Luther so vurig beskryf het in dié klassieke dokument, deel van ons ganse bestaan te maak. Ons bly klein in die geloof, want ons gryp nie die vryheid in Christus aan nie. Die Here het vir ons meer in gedagte as wat ons ooit kan dink of besef.

 I have a dream … I have a vision … I have a reality … !

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Selfbeheersing is die beste wapen

SKRIFLESING: Spreuke 16: 32; 22: 24 en 29: 11

Prof. Piet Naudé vertel die verhaal van die Middeleeuse koning Genghis Kahn wat oor die magtige Mongoolse Ryk in Oos-Europa geheers het (1162 – 1227).

Die koning was lief vir jag en hulle het valke gebruik om die prooi vir hulle uit te wys. Wanneer die valk byvoorbeeld afpyl op ’n haas het hulle geweet waar om vir die prooi te jag.

Aan die einde van een van sy middag-jagtogte, het hy sy jaggeselskap huis toe gestuur om nog ’n bietjie alleen in die woud te vertoef. Ook sy mak valk het hy huis toe gestuur, want dié valk het geweet waar die paleis is.

Dit was ’n warm dag en die koning was moeg. Hy was baie dors en kon nêrens ’n fonteintjie of poeletjie water vind om te drink nie. Uiteindelik sien hy water afdrup van ’n krans en hy hou sy perd in.

Hy haal sy silwer beker uit die saalsak en probeer om die druppende water op te vang met die beker. Dit gaan maar tydsaam. Net toe die koning die beker na sy mond toe neem, peil sy valk op hom af en stamp met sy vlerke die beker uit sy hand.

Die valk gaan sit toe op ’n hoë rots en kyk na die koning. Die koning is vies, maar dink dit was ’n ongeluk. Hy tel toe maar weer die silwer beker op en hou dit onder die druppende water wat teen die krans afloop. Na ’n lang gesukkel is die beker halfpad vol. Net toe hy dit weer na sy mond toe bring om te drink, swiep die valk weer oor sy kop en stamp die beker ’n tweede keer uit sy hand. Nou is die koning kwaad en waarsku die valk dat hy volgende keer die valk sal doodmaak as hy dit weer doen. Na ’n lang gesukkel kry hy die beker weer halfpad vol. Weer swiep die valk oor die koning en stamp die beker uit die hand van die koning. Dit rol tussen ’n rotsgleuf in, onbereikbaar vir die koning. Die koning is so woedend dat hy sy swaard swaai en die valk doodkap, sodat jy net vere en bloed sien. Sonder ’n beker moet die koning nou opklim teen die krans om die water met sy hande op te vang. Toe hy aan die bokant van die krans kom, sien hy tot sy ontsteltenis  ’n erg ontbinde dooie slang, van die heel giftigste slange in die Mongoolse Ryk. Sou hy van die water drink, sou hy sterf. Skielik besef hy dat hy sy eie valk onskuldig doodgemaak het, omdat dié hom wou red van ’n gewisse dood. Sy humeur het sy kosbare vriend se lewe gekos. Daar word voorts vertel dat koning Genghis Kahn toe opdrag gegee het dat ouers en onderwysers hul kinders moet leer om nooit uit woede oorhaastig op te tree nie.

Hoe dikwels verloor ons nie ons humeur en tree uit suiwer woede op nie. Byvoorbeeld: Ons is op die pad humeurig teenoor mekaar. Wanneer die staal en die glas van die motorkajuit ons toevou, verloor ons geduld met ander mense op die pad. Padwoede is ’n algemene probleem op Suid-Afrikaanse paaie. Ook in die huwelik en gesin verloor mense hulle humeur met diegene wat die naaste aan hulle staan.

Ons is veral ook ongeduldig met God. As ons bid, moet God ons dadelik antwoord en op ons voorwaardes. Ons het verleer om te wag op God. Ons kan ook so maklik vir God kwaad raak of dink God kom ons te na.

Mense is ook ongeduldig met hulself. Soms kan mense  hulself nie aanvaar nie. Mense is ongeduldig met hulle voorkoms en selfs hul besittings. En humeurig teenoor hulself. Humeurige mense is gefrustreerde en ongelukkige mense. Wanneer ons so ongeduldig is met mekaar, met God en met onsself is dit ’n simptoom dat ons van die Heilige Gees vervreemd is.

In Spreuke 22: 24 – 25 staan daar: “Moenie maats maak met ’n opvlieënde mens nie, moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie: dalk leer jy sy maniere aan en beland jy in lewensgevaar.”

Teenoor humeur staan geduld. Gregorius die Grote het nie geskroom om geduld “die wortel en bewaarder van al die deugde” te noem nie. Nilius praat van geduld as die “koningin van alle deugde”.

In Spreuke 16: 32 staan daar: “’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter, ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.” Duidelik kan ’n mens aflei dat Koning Salomo ’n groot premie plaas op GEDULD en SELFBEHEERSING. Met dié twee deugde kan jy ’n stad inneem.

Daarmee ontken ons nie dat daar so iets is soos woede nie. Inteendeel, dit is ’n menslike emosie. Ons kan dit nie ignoreer nie. Koning Dawid sê in Ps 30: 6 dat selfs “God se toorn net ’n oomblik duur, maar sy goedheid lewenslank.”

Wanneer ’n mens woede onderdruk of ontken, is dit net so goed as wat jy ’n klomp giftige afvalstowwe begrawe. Later skep dit oneindige probleme. Wanneer dit begin lek, vergiftig dit stadig maar seker ons liggaam, ons gedagtes en ons verhoudinge. Wie woede opkrop, skep in homself ’n oorlog. Passiewe aggressie ontplof later in ’n onbeheerste woede-uitbarsting.

’n Mens moet kan erken dat jy woedend is. Maar om daaroor uit te bars is nie konstruktief nie. ’n Mens moet eerder gaan soek na die oorsaak van jou woede en dit beheersd aanspreek, soos om stoom geleidelik los te laat. Die Here sê mos dat as jy kwaad is, jy nie moet sondig nie.

Wanneer iemand jou kwaad maak, moenie dadelik reageer nie, want dan gaan jy dinge sê waaroor jy later spyt is. Tel liewers baie stadig tot tien en reageer dan, deur ’n verstandige en beheerste optrede.

Ons probleem is dat ons oor die verkeerde goed woedend word. Ons word woedend oor wat mense en omstandighede aan ons doen, in plaas daarvan om woedend te word oor die regte goed soos ongeregtigheid in die samelewing,  wanneer mense verontreg word of as God bespot word. Daarom moet ons leer om oor die regte dinge woedend te word, soos wat Jesus woedend was omdat die tempel in Jerusalem verontreinig is deur handelaars.

God se geduld staan voorop in die Bybel. Een van God se eienskappe is juis dat Hy lankmoedig en vol geduld is. Juis in God se liefde vir sondaars lees ons van sy lankmoedigheid teenoor sondaars. Wanneer Hy sy enigste Seun Jesus Christus stuur, toon Hy aan ons juis sy eindelose geduld met ons. Stukkende goed word deur ons weggegooi. Ons wil nie daarmee sukkel nie. Maar nee, God gooi nie stukkende mense en ’n stukkende wêreld weg nie. Hy is juis die Pottebakker wat die klei wat ineengestort het op die pottebakkerswiel weer knie en oor begin om ’n nuwe voorwerp te maak.

God “herwin” ons. Dit is die wonder van God se genade.    God maak stukkende mense se lewens reg, omdat Hy geduldig is. Daarom moet ons met ander mense se foute geduld hê, want ons almal is “onder konstruksie”. God is nog nie klaar met ons lewe nie. As God soveel geduld met ons het, behoort ons ook geduld vir mekaar te hê. Ja, ons moet geduld vir mekaar se foute hê en mekaar nie sommer afkraak nie. Soos wat God my lewe elke dag verander om al meer na sy beeld te lyk, moet ek God toelaat om ook ander mense se lewens te verander om al meer God se beeld te wees.

Daarom, onthou: ons almal is ONDER KONSTRUKSIE.

Ek moet leer om geduldig te wees met my lewensmaat, met my kinders, met my ouers se foute, met my kollegas, met my naaste in die ander motorvoertuig en die straatboemelaar. Wanneer ons ongeduldig en humeurig raak met mekaar, kwets ons ander mense met ons woorde en ons lyftaal. Dit is die seerste seer wat ek ’n ander mens kan aandoen.

Ons sal ook as samelewing moet leer om meer geduld te hê met bejaardes, kinders, gestremdes en armes. Toe my vader reeds diep in sy 70’s was, het hy baie stadig beweeg. ’n Ander man in die parkeerarea het op hom geskree en gesê dat hy in die ouetehuis hoort. Die arrogante man  was duidelik ongeduldig met ’n bejaarde, min wetende dat hy ook gaan oud word.

Ons moet geduld hê met God as ons bid. God spring nie rond om elke dag onmiddellik al ons gebede en versoeke te beantwoord nie. God sien wyer en verder as ons. Op die regte tyd beantwoord God alle gebede. Geduld is om elke dag ten spyte van die swaarkry nog die baie goeie en mooi dinge raak te sien. Geduld is om God te loof vir sy goedheid wat Hy elke dag aan ons betoon.

Ten slotte: Die deug van geduld word nie slegs deur inoefening of slegs deur selfbeheersing verwerf nie. Dit is ’n gawe van die Gees. Daarom, wie in die Gees van God wandel, sal ook hierdie deug as ’n gawe ontvang uit die hand van God.

Iemand wat woedend raak, iemand wat sy humeur verloor, het klaar verloor; hy is soos die koning wat sy eie valk uit woede doodgemaak het. Jy bring net skade en skande oor jouself.

Soek eerder die oorsaak van jou woede en spreek dit aan. ’n Kalm gees is soos genesende salf.

In Spreuke 29: 11 staan daar: “’n Dwaas gee vrye teuels aan sy woede; ’n wyse mens kry die dwaas naderhand gekalmeer.” Wil jy wys of dwaas wees?                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

‘n Wonderverhaal se vreugde word gesteel

SKRIFLESING: Joh 9: 1 – 41

Blydskap en vreugde is kenmerke, merktekens van ware Christenwees.

Die befaamde Engelse professor en skrywer van London, C S Lewis was voorheen ’n selferkende ateïs.

Met sy talle doktorsgrade en as man van uitmuntendheid het hy drasties tot bekering gekom. Sy eerste bekende werk na sy bekering was “Surprised by Joy”. Die trant van sy skryfwerk het verander van sinies, somber en kwetsend na hoopvol, liefdevol, vreugdevol en vredevol. Die bekende Narnia-werke het onder andere ook uit sy pen gevloei. Vir die eerste keer het Lewis vreugde geken en hy het miljoene grootmense en kinders se lewe aangeraak met sy nuwe styl.

Die bekendste teoloog van ons tyd, en wat nog lewe, N T Wright het ook ’n boek geskryf “ Surprised by Hope”. Weer eens ’n geleerde man wat in sy skryfwerk getuig van die blydskap wat Jesus Christus in mense se lewens bring.

Daar is ’n verskil tussen vreugde en plesier. Vreugde is nooit binne ons eie gesag nie, plesier is wel. Vreugde is ’n spirituele ervaring, maar plesier is ’n liggaamlike ding. Vreugde is ’n sielsding, wat niemand of selfs ook geen omstandighede van jou kan wegneem nie.

Plesier is iets van die liggaam. Kortstondig en gou verby. Plesier gaan oor eet, drink, koop, seks en dinge doen wat ’n sensasie gee. Dit kom gou en dan is die gevoel van plesier weg. Ons wêreld is volop plesier, maar arm aan vreugde.

Wat steel jou geluk en vreugde in die lewe? Miskien het dit tyd geword om jouself spiritueel te ondersoek?

Die verhaal ontvou as volg. Jesus het terwyl hy gestap het, verby ’n man gestap wat van sy geboorte af blind was. Onmiddellik vra die dissipels vir Jesus wie se skuld dit is dat die man blind gebore is. Is dit sy skuld of sy ours se skuld?

Dit plaas natuurlik die hele teodisee-vraagstuk van menslike lyding op die tafel. Jesus antwoord dadelik deur te sê dat dit nie die man of sy ouers se skuld is nie. Nee, dit is eerder dat God Sy werke kan openbaar deur die man. Daarom mag ons nooit sommer skuld gaan soek as iemand ly nie. Natuurlik is sekere vorms van menslike lyding mensgemaak, soos die lyding van oorlog of as iemand in ’n motorongeluk sterf as gevolg van dronkbestuur of hoë spoed. Dit is mensgemaakte lyding. Maar daar is ook ’n groot dosis lyding in die wêreld wat nie verklaar kan word nie. Dink maar aan mense wat onskuldig ly of sterf aan kanker of as gevolg van ’n ongeluk. Jesus gee die antwoord hierop: Sodat God se grootheid en genade in hulle lewe sigbaar kan word. Ons moet onthou dat die positiewe vermoë van mense om lyding te hanteer en te verwerk, ’n preek opsigself is. Menslike lyding skryf preke en inspireer ander mense. Swaarkry kweek karakter.

Dan verklaar Jesus dat Hy die lig van die wêreld is. Daarom besluit Hy om hierdie man gesond te maak.

Jesus spoeg op die grond en smeer klei aan die man se oë en beveel hom om homself in die Siloambad te gaan bad. (Sien foto langsaan van die bad van Siloam) Die water kom vanaf die Gihonspruit, deur die tempelheuwel en verteenwoordig dus wat van God af kom. Daar staan dat die man presies gedoen het wat Jesus vir hom gesê het.

Vir die eerste keer in sy lewe kon die man sien. Wat ’n vreugdevolle gebeurtenis!

Tog is die verhaal arm aan vreugde? Die toeskouers wonder of dit die regte man was wat blind gebore is. Maak iemand dalk nie êrens ’n fout nie? Die dissipels worstel met die vraagstuk oor lyding, die Farisieërs is kwaad en soek fout omdat die man op ’n Sabbatdag genees is. Die man se ouers ontwyk die vrae van die Fariseërs, omdat hulle vervolging vrees. Uiteindelik word die blindgebore man wat nou kan sien uit die sinagoge geban omdat hy die gesag van Jesus Christus erken het.

Die wonderverhaal se vreugde is gesteel. Gesteel deur die wettiese regulasies van die Fariseërs, wat wette belangriker ag as mense.

Vir die Fariseërs is wette belangrik. Vir Jesus is mense belangrik. Die Here beskou die Fariseërs as geestelik blind.

Hulle spirituele blindheid staan lynreg teenoor die fisiese blindheid wat die man in die verhaal gehad het. Die Fariseërs het dit nodig om genees te word van hul geestelike blindheid om te onderskei wat werklik in die lewe belangrik is.

Dit is van belang dat Johannes 9 opgevolg word deur Johannes 10, wat handel oor die goeie Herder se vreugde oor sy skape. Nog voorbeelde van vreugde in die Bybel is talryk. Daar is ’n deurlopende goue draad van vreugde wat deur die hele Bybel loop.

Dink aan die vreugde van die vrou wat haar muntstuk verloor het. Die muntstuk het deel uitgemaak van haar halssnoer wat haar man vir haar as bruidskat gegee het. Wanneer een van die talle muntstukke in die halssnoer ontbreek, is die bruidskat onvolledig. Wanneer die vrou die verlore muntstuk vind, is haar bruidskat weer volledig. Dink aan die Herder se vreugde oor die enkele verlore skaap wat gevind is. Die Vader wat bly is oor sy verlore seun, asook die skat in die saailand, is almal gelykenisse wat handel oor God se vreugde as daar genesing en redding kom vir ’n mensehart.

Die Fariseërs gooi uit. Maar Jesus vind!

Ons kry Fariseërs binne en buite die kerk. Dit is mense wat loop en veroordeel, skinder, fout vind en hulself beter ag as ander. Hulle wil mense uitsluit uit die lewe.

Die volgende moderne gelykenis deur ’n anonieme bron het ek iewers gelees. Die leermeester vra vir sy leerders: “Wanneer weet jy dit is dag en die nag is verby?” Die een leerder antwoord, dat wanneer jy ’n skaaphond kan uitken van die skape is dit dag. Die leermeester sê dat hy mooi probeer het, maar hulle moet dieper soek vir die antwoord. Die tweede leerder antwoord dat as jy ’n palmboom en sipresboom van mekaar kan uitken, is dit dag. Die leermeester sê hulle moet nog dieper soek vir die antwoord.

Hulle moet dit op spirituele vlak soek. Al die leerders het vorendag gekom met baie bespiegelinge. Uiteindelik antwoord die leermeester: “Wanneer ek in die oë van my medemens kyk en daarin my broer en suster as my naaste herken, het dit dag geword in my lewe!”

Vreugde wil altyd insluit en byvoeg. Jaloesie wil altyd uitsluit. Jaloesie is naywerig en gun nie die son oor ’n ander se kop nie. Daarom praat ons van die Evangelie as die Blye Tyding wat mense red, genees en insluit in God se genadeplan. Die duiwel is jaloers op God se goedheid en daarom is hy altyd besig om mense uit te sluit.

 Die verhaal van die blindgebore man is sonder vreugde, omdat mense nie die hart van God verstaan nie. Mag jy ’n mens wees wat kan bly wees oor ’n ander se sukses, voorspoed en geluk. Mag jy ’n slag jouself miskyk en sommer net bly wees wanneer iemand uitstyg in die lewe. Wanneer jy oor ander mense begin bly word en hulle vreugdes  jou vreugdes maak, ontvang jy ’n vreemde geluk. Geluk wat uit die hemel aangesteek word.

AMEN

(Ds. Paul is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewensvreugde word aangeleer

SKRIFLESING: Johannes 2: 1 – 12

Die humoris Erma Bombeck vertel van die dag toe sy in die kerk amper gehuil het. Sy het dié Sondag in die kerk gesit en net voor haar het ’n vriendelike kind gesit wat vir almal rondom hom geglimlag het .

Hy was nie stout nie – hy het nie geskop met sy voetjies, of gesangeboeke opgeskeur of geluide gemaak, of gesigte getrek nie. Al wat hy gedoen het, was om vir almal te glimlag. Na ’n ruk het sy ma hom omgepluk en gefluister, sodat almal rondom hulle dit kon hoor: “ Hou op met glimlag. Jy is in die kerk.” Sy het hom ’n hou gegee en die trane het van sy wange afgeloop. Sy sê toe: “Dis beter.” Toe gaan die moeder voort met haar gebede. Bombeck vertel hoe sy graag die betraande kind teen haar wou vasdruk en vertel van die vriendelike glimlaggende God en van die vreugde wat Hy gebring het. Sy wou hom vertel dat vriendelikheid ’n gawe van die Gees is. Sy vra toe die vraag: “As die kind nie eers in die kerk kan glimlag nie, waar anders sal die kind kan glimlag in hierdie harde en wrede wêreld?” (1) Johan Cilliers: Het God ’n handvatsel ? (2003)

Die Here Jesus Christus het gekom om vreugde te bring. Sy eerste wonderteken was toe Hy water in wyn verander het op die bruilof te Kana. In die antieke tyd het die lengte van huweliksfeeste gewissel. Dit het oor dae plaasgevind. As die wyn opraak, het dit beteken die bruilof is nou verby en almal moes huis toe gaan. Met die bruilofsfees in Kana was die opraak van die wyn ’n groot verleentheid – die vreugde moet nou kortgeknip word. Dan verander die Here Jesus die verleentheid in ’n geleentheid: Hy bring nuwe vreugde in die bruilofsfees. Hy laat die bruilofsfees voortgaan. Inteendeel, die vreugde is groter, want die wyn is beter! Juis daarom wil Jesus die “alledaagse” soos water verander in iets beters. Natuurlik is die wonderverhaal ook ’n vooruit-verkondiging van Jesus Christus se tweede koms (die groot bruilofsfees waarvan Openbaring praat).

Wat kan ons leer uit hierdie eerste wonderteken wat Jesus verrig het? Dit bring ons by die drie teologiese invalshoeke.

Die eerste invalshoek is dat die waterkanne wat daar gestaan het, gebruik is vir die reinigingswette van die Jode. Daar was ’n magdom wette wat van toepassing was op reiniging. Een daarvan was onder andere dat jou voete gewas moes word wanneer jy gaan aanlê om te eet. Die wette was verpligtend vir ’n goeie Jood om godsdienstig rein te wees.

Die groot hoeveelheid water wat beskikbaar was, getuig van hoe swaar en beperkend die Joodse wette was op die Jode. Wanneer Jesus nou die water in wyn verander, kom maak Hy ’n einde aan die beperkende Joodse wette. Die water verander in wyn. ’n Wettiese godsdiens verander in ’n godsdiens van genade. Nie meer deur die nakoming van wette sal jy gered word nie. Nee, jy sal nou gered word deur die genade van die Here Jesus. Soos water in wyn verander, word wette verander in genade. Daarom is een van die genade-tekens van die Nagmaal ook die wyn. En Jesus se genade word in oormaat gegee. Jy kan sê dit word in tonnemaat gegee. Dit word oorvloedig gegee.

Die tweede invalshoek is dat die nuwe beter is as die oue. Die seremoniemeester was so onkant gevang deur die kwaliteit van die nuwe wyn dat hy vir die bruidegom gesê het (in vers 10): “’n Mens sit eers die goeie wyn voor, en eers wanneer hulle begin dronk word, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou teruggehou.” Die nuwe wyn is beter as die ou wyn. Die nuwe bedeling van genade is beter as die ou bedeling van wette. Die Nuwe Testament is beter as die Ou Testament.  Die Here Jesus het ’n nuwe kwaliteit van lewe kom stel. Jesus het gekom sodat ons lewe kan hê en dan lewenskwaliteit in oorvloed, volgens Johannes 10.

Die derde invalshoek is dat Jesus die blydskap kom verleng en verdiep. Wanneer die wyn by ’n Bybelse huwelik opraak, was dit ook vir die gaste ’n teken dat die huwelik nou verby is en dat hulle moes huis toe gaan. Om ’n onbekende rede het die wyn opgeraak by die huwelik in Kana.

Dorpies is stapsgewys ver van mekaar. Nuus versprei vinnig. Dit is vir die bruidegom ’n groot verleentheid dat die wyn op sy groot dag opgeraak het. Dit was ’n skande vir hom en sy familie. So voortydig moet die vreugde ophou. Dan kom verander die Here Jesus die water in wyn. Die bruilof kan aangaan. Die vreugde kan voortgaan. So het die Here Jesus ook gekom, sodat die verlossingsvreugde kan voortgaan. Die verlossing wat die Here gebring het, is vreugde vir ons. Jesus het deernis met die situasie van die bruidegom. Hy wil die bruidegom uit sy verleentheid verlos en daarom verander Hy die water in wyn. Jesus bring herstel van vreugde. Nou kan die bruilofsfees voortgaan. Jesus het letterlik ’n skande in ’n seën verander.

Baie gelowiges wil vandag, sonder die kerk en onafhanklik, hulle geloof leef. Maar wyn is nie gemaak om alleen te drink nie. (So ontstaan alkoholisme maklik.) Wyn is gemaak om saam met ander te drink. Geloof word nie alleen gevier nie. Geloof word saam met ander gevier, rondom die nuwe wyn wat die Here Jesus gegee het.

Die punt is egter dat Christus Jesus gekom het om vreugde en blydskap en dankbaarheid in oorvloed te bring. En God wil hê ons moet deel daarin hê.

Daarom is godsdiens en die lewe nie ’n klomp strak gesigte soos in die verlede toe mense nie geglimlag het op foto’s nie. Vyftig jaar gelede was dit ’n “sonde” om te glimlag op ’n foto of selfs nog erger, in die kerk.

Deesdae hou ons van natuurlike foto’s met lewensaksie. “Freezing moments” wat vertel van menslike emosie. Emosies het deel geword van briljante fotografie. Vandag is aksie-foto’s van mense wat natuurlike emosies soos lag, huil, hartseer, skok en ander emosies vertoon uiters gewild, want dit is eg en menslik. Dit is eerlike foto’s van menslike emosie.

Jesus het water in wyn verander. Ons kan bly wees dat die eerste wonderteken wyn uit water was. Jesus het gekom om vreugde en blydskap te bring. Sonder vreugde kan niemand sinvol leef nie. Jesus het deur die wyn gemeenskap tussen mense geskep. Sonder sinvolle gemeenskap met ander mense, sal ons alleen in die woestyn van alleenheid ronddwaal. Wyn bring geselskap, vreugde en blydskap.

Daarom is blydskap, dankbaarheid en vreugde iets wat aangeleer word. Dit kom nie vanself nie. Dit is ’n gawe van die Gees. Sommige mense het die dapperheid om selfs in die moeilikste omstandighede hul dankbaarheid vir die lewe en hul innerlike lewensvreugde te lééf.

Dink aan Job, hy het in sy voorspoed en in sy teenspoed die Here altyd gedien en aanbid. Hy het lewensvreugde en vrede beleef ook toe hy niks gehad het nie. Al is hy gespot, het hy aan die Here vasgehou. Hy het nie in teenspoed sy rug op die Here gedraai nie. Hy het die Here gedien, ongeag voorspoed of teenspoed. Hy het kinderlik aan die Here vasgehou met ’n opregte geloof.

Victor Frankl vertel in sy boek “Search for Meaning” hoe hy in die Duitse konsentrasiekamp van Auscwitz vreugde gevind het in ’n enkele veldblom wat uit die digte sneeu uitgebeur het na die sonlig. Of van sy vreugde tydens koue winteraande as dit sy beurt was om die donkie deur die nag te stook vir warm water vir die Duitse soldate die volgende oggend. Hoe hy mielies gesteel het en dit oor die kole gaargemaak het en in ’n bondeltjie voor die vuur gelê het en die saligheid van die enkele ure van die nag geniet het, voor die wreedheid van die volgende dag weer aanbreek.

Hoe skaarser iets word, hoe meer waardeer jy dit! Dalk het ons te veel, om werklik die klein goedjies van die lewe te waardeer.

Selfbejammering is van die duiwel. Dit is ons menslike natuur om ons te vergelyk met wat ander het en ons nie het nie. Ons koop dikwels goed om ander mense te beïndruk, eerder as om iets te koop wat ons werklik nodig het.

Ons kan onsself maklik jammer kry en dan leef met ’n “slagoffermentaliteit”: die wêreld en ander en selfs God skuld ons iets. So word ons die patetiese klakouse wat gedurig aan ons eie behoeftes dink. In die post-apartheid era kan die verskillende bevolkingsgroepe van ons land, bruin, wit en swart maklik leef met die slagoffermentaliteit van “êrens is ek benadeel”. Of apartheid, of regstellende aksie kan die fort word waarin ons uit selfbejammering ons wonde lek. Wie uit selfbejammering leef, sal nooit ’n leier kan word wat die “maatskappy” kan verander nie.  

Eers wanneer jy jouself uit die ellende kan lig en kan opstaan, kan jy ander inspireer tot verandering en ’n nuwe  vreugde en dankbaarheid vir die lewe.

Vreugde en dankbaarheid is ’n KEUSE. Dit is nie ’n toestand in positiewe tye nie. Dit is ’n KEUSE, selfs in die moeilikste lewensomstandighede.   AMEN

  (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Kyk gelowig en volhardend hemelwaarts

SKRIFLESING: Hebreërs 12: 18 – 29

Volharding is ’n geestelike deug. Dit is nie maar net ’n saak van begin en los nie. Dit vra moed en deursettingsvermoë om aan te hou. Daarom gebruik die Hebreërskrywer die beeld van die marathon, want dit vra uithouvermoë.

As ’n mens die stad Rome wil sien vanuit die koepel van die St. Peters, moet jy al die trappe na die koepel klim. As jy net halfpad geklim het, is dit so goed jy het niks geklim nie. Die laaste trappie is net so belangrik soos die eerste. Eers as jy die volle stel trappe geklim het, ook die laastes, kom jy by die koepel uit en dan kan jy die hele stad Rome voor jou sien, met ’n asemrowende uitsig.

Die doel van die Hebreërskrywer is om gelowiges wat reeds glo, te help om hul geloof te behou en dit inderdaad te versterk. Baie dinge kan maak dat ’n mens moeg en afgemat raak in jou geloofslewe. Dan kan ’n mens maklik terug verlang na die eerste dinge. Die volk Israel het op hul geloofsreis van 40 jaar deur die woestyn dikwels terug verlang na die vleispotte en sekerhede van Egipte. Hulle het terug verlang na die sekerhede van slawerny. Hulle sou eerder slawe wou wees as om vry te wees in ’n woestyn vol onsekerhede, agter geloofsgoedere aan wat nie met die oog gesien kan word nie. Hulle het as’t ware verlang na die eerste dinge.

Dikwels verlang mense ook terug na die verlede, die ou Suid-Afrika met al sy sekerhede en sekuriteite. Maar in die proses vergeet ons van al die onreg waarop die ou stelsel gebou was. Ons wil as’t ware terugkeer na die slawerny van apartheid, omdat ons die beter en meer regverdige tye miskyk.

Hebreër 12: 18 – 29 gaan oor twee tye: Die Sinaï-tye en Sionstye. Die berg Sinaï staan vir die vorige bedeling en Sionsberg staan vir ’n nuwe bedeling. Daarom staan die twee berge as metafore teenoor mekaar. Elke berg verteenwoordig ’n tydperk en ’n bepaalde teologie. Die een staan vir die oue en die ander vir die nuwe.

Die berg Sinaï staan vir skeiding. God en sy volk Israel was geskei. Slegs Moses kon die berg bestyg om die Wet te ontvang. Verder was die berg heeltemal verbode vir enige mens of dier. Niks mag aan die berg raak nie. Daarom word sewe beelde gebruik om die ontoeganklikheid van die berg te beskryf, naamlik vuur, swart wolke, duisternis, stormwind, harde geluide en geklank van woorde.

Moses self het gesidder van vrees. God was vêr. God was verhewe op die Sinaï-berg, geskei van sy volk. Daarom staan die Sinaï-berg vir die Wet. Die Sinaï-berg is in Egipte (om op pad te wees) en die Sionsberg staan in Jerusalem, die heilige land (om te arriveer in God se beloftes).

Die Sionsberg daarom, beteken die berg waar God naby aan mense gekom het. Dit was die berg waar Abraham sy seun Isak moes offer.

Die Here het toe betyds voorsien deur ‘n skaapram wat vasgemaak was aan ’n bos. Daarom is die Sionsberg tradisioneel die berg waar die Messias Hom sou openbaar volgens tradisie in Psalm 2:6. Dit lees: “Ek self het my koning gesalf op Sion, my heilige berg.”

Sionsberg beteken God bly tussen Sy mense en dit wys heen na die menswording van Jesus Christus. God het in Christus Jesus baie naby aan die mens gekom.

Daarom beteken Sion – vir die genade.

Weereens word sewe beelde gebruik in die teks om die heerlikheid van die Sionsberg te besing.

Vanaf die Sionsberg kan jy die Sionstad, Jerusalem duidelik sien. Sionstad is die stad waar God bly en dit versinnebeeld die nuwe Jerusalem wat kom. Jerusalem skyn inderdaad werklik goudkleurig in die laatmiddagson.

Sinaï-berg beteken God is vêr, terwyl Sionsberg beteken die Here het naby gekom. Ons mag die Sionstad – die nuwe Jerusalem – nader  sonder om te vrees, want Jesus het die pad oopgemaak vir my. Wanneer ek sterf, is ek in die stad.

Ons kan maklik laks word in die geloof, ons geloofsvisie verloor en ons geloofswaardes prysgee. Daarom word van ons wat op die Sionsberg woon, baie meer gevra as hulle wat op Sinaï-berg leef. Ons het die verlossing gesien. Juis daarom moet ons tot die einde volhard. Daarom moedig die Hebreërskrywer ons aan om nie langs die pad die pad byster te raak nie. Die meeste ongelukke gebeur tien kilometer van jou bestemming af. Mense raak ontspanne en hulle begin aan die tuiskoms dink en verslap hul inspanning. Net so moet ons nie op die geloofspad in ons geloofsinspanning verslap nie.

So baie gelowiges verloor hulle geloof of word slap in hulle geloof. Hulle sak uit op die geloofspad. Die doel van die boek Hebreërs is juis om die gelowiges aan te moedig om te volhard in hulle geloofslewe, tot die einde van hulle lewe. Daar wag die Sionstad vir ons.

Die Hebreërskrywer stel die Sionservaring oor die Sinaï-ervaring. Die genade-ervaring is groter as die wet-ervaring. Meer as dertien keer word die Griekse woord kreiton gebruik, wat beteken dit is “beter”. Dit is beter om die nuwe as die oue aan te hang. Dit is beter om in Christus te wees as in die sonde. Dit gaan nou beter met julle : op pad na die beloofde land / op pad na die beloofde stad. Julle omstandighede is beter. Julle toekoms is beter. Julle stad is beter. Julle fondament is beter. Julle toegang is beter.

Die Hebreërskrywer sê met Sinaï het die aarde geskud, maar met die Sionsberg sal die hemel en aarde skud. Daarom moet ons nie die genade verwerp nie.

Met sy drie skepe, die Pinta, die Nina en die Santa Maria het hy die Bahamas ontdek en later ook die Amerikaanse vasteland, waar hy die Indiane ontmoet het. Hierdie ontdekkingsreise van  Columbus het baie geloof, moed en volharding gevra in ’n Katolieke tradisie waar daar nog geglo is die wêreld is plat. Ten spyte van moeilike omstandighede, siektes en sterftes op die skepe, asook bemanningslede wat wou muit, het Columbus het net elke oggend gesê: “Weswaarts sal ons trek. Gister het ons weswaarts getrek, vandag trek ons ook weswaarts, weswaarts is die rigting …” Sy volharding het hom gebring by die Amerikas. Hy het die nuwe wêreld ontdek en na ons gebring. (Let op: ’n Ander weergawe veronderstel dat die Vikings die Amerikaanse vasteland ontdek het.)

In ’n modernistiese wêreld waar die klem net lê op die sienlike wêreld, word die geloofsmoed van Columbus ook van ons gevra om “God se nuwe wêreld” te ontmoet. Elke dag moet ons ook gelowig verklaar dat ons hemelwaarts trek, ja hemelwaarts. Daarom praat Hebreërs van die beloofde vaderland waarheen ons trek. Hierdie op pad- wees na die onsienlike maak ons die objek van bespotting soos Noag tydens die bou van die ark, asook die vroeë Christene in ’n Grieks-oorheersende wêreld waar die sienlike gode uitgestal was op elke markplein.

Die Hebreërskrywer wil ons geloofsoog verskerp, om met die oë van ’n arend dit te sien wat ander mense nie kan sien nie.

Geloofsvolharding is iets waarvoor ons elke dag moet bid. Elke dag moet ons die werke van God soek in die dinge rondom ons. Somtyds sal ons God vind in grootse gebeure of ervarings. Ander tye sal ons Hom vind in klein gebeure of ervarings. Die onsienlike God is altyd sienlik in die alledaagse gebeure rondom ons. Daarom moet ons bid vir geloofsoë wat helder kan sien.

Somtyds sien ons God eers agterna:

Iemand wou eenmaal graag die Big Wheel in London besoek. Hy was op die plek, maar het dit nie gesien nie, want hy was haastig en die paaie was baie besig. Later toe hy sy foto’s ontwikkel, sien hy die Big Wheel duidelik in die agtergrond van een van sy foto’s. So werk dit met geloof ook. Ons sien dikwels eers agterna God baie duidelik in ons lewe. In die krisis sien ons Hom nie raak nie, maar na die krisis sien ons hoe wonderbaarlik Hy in ons lewe gewerk het.

Moenie dink dat jy altyd reg sien nie! Geloof is om te leer “om te sien.” Om met geloof te sien, vra oefening. Mag die Here vir ons elke dag nuwe oë gee, om nuut te sien en te volhard. Voorwaarts Christenstryders!             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

‘n Driedubbele tou breek nie

SKRIFLESING: Prediker 4: 9 – 12 en Johannes 17: 21 – 23

Spanwerk is die geheim van alle sukses. Oorwinning kom deur spanwerk.

Spanwerk is die geheim van rugby. As elkeen net vir eie eer speel, sal die span verloor. Ons land se leuse in die ou bedeling was “Eendrag maak mag.” In my dienspligjare is soldate geleer om na mekaar te kyk. Eers wanneer die laaste man in die peloton die doelwit bereik het, is die oefening voltooi. Daarom help die soldate mekaar om saam die oefening te voltooi. Dit is ook die geheim van ’n geslaagde militêre operasie.

In die natuur werk bye in die korf saam. Bokke bly in ’n kudde om te oorleef. Leeus jag in troppe om suksesvol te wees. In die kerk bely ons ook dat ons glo “in die gemeenskap van gelowiges.” Die “gemeenskap van gelowiges” is ’n heerlike troos.

Prediker sê ook baie duidelik dat die mens wat net vir homself leef, tot niks kom. Prediker sê as’t ware dat die indiwidu nie alleen kan oorleef nie.

Die mens wat in ’n span saam met sy mede-gelowiges leef, sal sterker wees. So iemand verheerlik God.

Prediker 4: 9 – 12 beskryf dit duidelik: Twee is beter as een, omdat daar vir hulle ’n ruim beloning is vir hulle inspanning. Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp; maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te help! Ook as twee by mekaar lê, kry hulle warm; maar as daar net een is, hoe kan hy warm word? As iemand die een wil oorweldig –  twee kan teen hom standhou. ’n Driedubbele koord  word nie maklik gebreek nie.

Ter wille van fisiese en emosionele ondersteuning, oorlewing en veiligheid is mense op mekaar aangewese. Ons is so geskape – ons is as wesens geskape wat slegs in ’n groep saam met ander kan oorleef. Daarom gebruik Prediker die beeld van ’n driedubbele tou. ’n Driedubbele tou is tog sterker as ’n enkele tou.

Ons leef deesdae in ’n tyd waarin die regte van die indiwidue meer gewig dra as die regte van ’n gemeenskap. Dit is nie meer “een vir almal en almal vir een” nie. Ongelukkig is dit deesdae: Elkeen vir homself en die duiwel vir die res.

Die verhale van die drie musketiers is ’n voorbeeld van saamstaan. Hulle leuse is Een Vir Almal En Almal Vir Een.  Die Latynse vertaling is Nus pro omnibus, omnes pro uno.  Dit is die nie-amptelike leuse van Switserland, en die storielyn en karakters word vervat in die legendariese Switserse held Arnold von Winkelried.

Ons “rysmier” die huwelik en die gesin deur selfsug, en deur eie belange voorop te stel. So word die huwelik en die gesinslewe verswak. ’n Huwelik word versterk deur spanwerk, kameraadskap en ’n gees van offervaardigheid.

Ons rysmier die gemeenskap waarbinne ons lewe deur ’n gees van onbetrokkenheid, kritiek, skinder en eie voordeel soek. Alle gemeenskappe in die wêreld beleef sekere fases. Daar is die groeifase van samehorigheid, die stagneerfase van onbetrokkenheid en die sterwende fase, waar ons mekaar beveg. In watter fase dink u is Adelaide, Fort Beaufort en Suid-Afrika nou?

Ons rysmier die Christelike gemeente deur te dink ek kan my geloof op ’n eiland beleef. Ek doen nie mee aan die gesamentlike byeenkomste van die gemeente nie, want ek wil my geloofslewe privatiseer. Godsdiens hoort altyd in die openbaar, want dit is ’n openbare getuienis. As ’n mens alleen bid, word ’n mens gou moedeloos. Maar as twee of drie saambid, kry jy die krag en geloofsmoed.

As jy op ’n sneeudag na buite kyk en die skoonheid van die landskap bewonder, moet jy onthou dat twee sneeuvlokkies nog nooit dieselfde gelyk het nie. Tog is elke individuele sneeuvlokkie slegs ’n druppel bevrore water as dit op die aarde val. Baie sneeuvlokkies bedek egter die grond en kan die gang van dinge en mense verander. As jy jou bes doen en jou beste by die pogings van ander Christene aansluit, sal jy verbaas wees oor wat God met julle gesamentlike “beste” kan doen.

Haal een kooltjie uit ’n vuur en kyk hoe gou dit doodgaan. Die kooltjie het ander kooltjies nodig om warm te bly. Ons het die gemeenskap van gelowiges nodig om te volhard. By die kerk en by die wyksbyeenkoms en by die Bybelstudie het ek geestelike vriende om my te dra. Hulle kan vir my bid en ons kan vir mekaar omgee. God het die kerk en die gemeenskap van gelowiges as ’n gawe aan sy kinders gegee.

Om eensgesind te wees, om as ’n span saam te werk is ’n heilige opdrag aan die kerk. So dikwels rysmier ons die kerk en verswak as’t ware die kerk. Ons skeur die kerk deur dwarstrekkery.

Daarom    roep Christus ons in Johannes 17 op om eensgesind te wees – om ’n span te wees. God self stel vir ons daarin die voorbeeld in Johannes 17: 20 – 21 met die woorde: Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heilige God-Drie-Enig vorm ’n onlosmaaklike eenheid. Daarom word daar van die heilige “Ons” gepraat. Daarom roep Johannes 17: 22 – 23 ons ook op om eensgesind te wees, om ’n span te wees … omdat die geloofwaardigheid van die kerk daarvan afhang.

Skinder, dwarstrekkery, hardkoppigheid en selfsug kan die eenheid, die spanwerk van die kerk bedreig en sodoende die geloofwaardigheid van die kerk in gedrang bring.

Jou bydrae kan ’n verskil maak aan jou geloofsfamilie se welsyn. Die volgende verhaal illustreer dit. Op ’n warm dag het Herman Trueblood, nadat hy afgekoel het deur ’n lekker swem in die see, gesien hoe ’n swetende man en sy twee seuns  probeer om dié se stukkende motor teen ’n helling op te stoot. Twee stemme het binne-in hom met mekaar begin gepraat. Een het gesê: “Daar is ’n geleentheid vir diens; jy moet hulle help om die motor te stoot.” Die ander stem het geprotesteer: “Dit is nie jou saak nie. Jy sal net warm en vuil word. Laat hulle hul eie probleem hanteer.” Hy het uiteindelik toegegee aan sy beter impuls. Hy help toe stoot aan die motor. Die motor het beweeg en aanhou beweeg, totdat die motor se enjin begin loop het . Toe sê die man iets wat Trueblood nooit sou vergeet nie. Die man steek sy vuil hand uit, en Trueblood steek sy vuil hand uit. Die man het gesê: “Ek is baie bly dat jy saamgestoot het. Jy het net genoeg krag bygevoeg om die enjin aan die gang te kry.”

Daar het jare verloop sedert daardie warm dag, maar Trueblood kon nog steeds die man hoor sê: “Jy het net genoeg krag gehad, bygevoeg by ons s’n, om die enjin aan die gang te kry.” Dit het  Trueblood laat nadink: “Daar is duisende mense wat sukkel om hulle swaar vrag probleme oor die heuwel te kry, en ek kan waarskynlik net genoeg krag byvoeg om hulle probleem op te los.”  Deur my emosionele ondersteuning kan ek vir iemand help met sy of haar probleem.

Kom ons bid dat God ons eensgesind sal hou in die huwelik, in die gemeenskap en in die kerk, omdat die geloofwaardigheid van die kerk daarvan afhang. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie. Only if you are part of a community of believers seeking to resemble, serve, and love Jesus will you ever get to know him and grow into his likeness. – Timothy Keller

Mag ons die Credo van die kerk (Apostoliese geloofsbelydenis) ernstig opneem en daarna soek om die geloof van die kerk met ander te deel. Mag ons ’n driedubbele tou wees, wat saam staan en mekaar versterk. Ons het mekaar nodig om sterk te staan in ons geestelike lewe.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Wanneer God NEE sê

SKRIFLESING: 2 Kor 12: 7 – 10

Ons hou nie van die woord “NEE” nie. Grootmense kom daaroor in opstand. Tieners sal die deure agter hulle toegooi, kinders sal te kere gaan en op die vloer neerval en hul voete skop. Babas skree die dak af.

Dit is nie lekker om “NEE” te hoor by ’n werksaansoek nie. Dit is nie lekker om “NEE” te hoor in ’n liefdesverhouding nie. Dit is nie lekker as die bankbestuurder vir jou “NEE” sê nie. Dit is nie lekker om vir reën te bid en God sê “NEE”, eers later, nie. Dit is nie lekker om vir iets te bid en God sê “NEE” nie.

Ons gaan vandag kyk na vier Bybelfigure vir wie God “NEE” gesê het, maar wie se lewens later ’n verrassende wending geneem het.

Ons kyk heel eerste na Moses. Moses se geboorte was ’n wonderverhaal. Hy het ’n prins van Egipte geword. Toe pleeg hy moord en moes vlug. Later roep die Here hom terug Egipte toe om sy volk Israel uit Egipte te lei deur die woestyn na die beloofde land. Die tog deur die woestyn het 40 jaar geneem. Moses se gebed was “Om in die land wat God beloof het te mag ingaan.” Maar God se antwoord was “NEE”. Jy sal dit net kan sien, Moses.

Dan neem die verhaal ’n verrassende wending, wanneer Moses saam met Elia en Jesus op die berg verheerlik word in die beloofde land. God se “NEE” het toe anders uitgedraai.

Die tweede Bybelfiguur was Dawid. Wat ’n man was hy nie! Hy was ’n digter en komponis. Hy het Goliat verslaan met ’n slingervel en een klippie. Hy was ’n uitstekende militêre strateeg. Hy het koning van Israel geword en Jerusalem weer opgebou. Ongelukkig het hy owerspel met Batseba gepleeg en in die proses ook moord op Uriah. Maar God het hom vergewe na sy opregte gebed in Psalm 51. Dawid se grootste wens was “Om ’n tempel vir die Here te bou, sodat die ark van die verbond daarin kan staan.” Maar God se antwoord was “NEE”, jou seun sal dit doen. Salomo het toe die tempel gebou.

Die verrassende wending was dat uit Dawid se nageslag Christus gebore is. In Christus is ons almal tempels van die Heilige Gees.   

Dan kom ons by Jesus Christus, die Seun van God. Sy geboorte was Goddelik. Hy het in ’n klein dorpie Nasaret grootgeword. Hy het die Joodse Skrifte op sy vingerpunte geken. Hy het baie wonderwerke gedoen. Maar toe wil hulle Hom kruisig. Jesus se gebed in Getsemané was: “Laat die Lydensbeker by my verby gaan.” Maar die Vader se antwoord was ’n duidelike “NEE”.

Maar die verrassende wending was dat Jesus Christus deur Sy kruisdood die sonde van die wêreld weggeneem het.

Dan kom ons by Paulus. Paulus was ’n redenaar en spreker. Eers het hy die Christelike kerk vervolg, tot bekering gekom en toe ’n ywerige apostel geword van die Evangelie. Van ’n vervolger het hy ’n martelaar geword. Hy is met klippe bestook, het skipbreuk gely, is deur giftige slange gepik en in tronke gestop.   Paulus se grootste wens was dat die Here die doring in sy vlees wegvat. Dit kon ’n oogprobleem, epilepsie, of ’n psigiese probleem gewees het. Ons weet nie regtig wat dit was nie. Dan was die antwoord van die Here ook ’n duidelike “NEE”.

Die verrassende wending was om die bekwame Paulus nederig te hou. “They are so heavenly-minded, that they are of no earthly use” is dikwels van toepassing op geestelike leiers.

Daarom verklaar Paulus: “As ek swak is, is ek eintlik sterk.” Sy krag lê nie in homself nie, maar in God!

Aanvaar God se “NEE”. Sy “NEE” het altyd ’n verrassende  wending. God is die bron van krag en genade. Daarom sê die Here vir Paulus: “My genade is vir jou genoeg.”

Daarom moet ons altyd die “NEE’s” in ons lewe omsit in iets positiefs.

Beethoven het doof geword, maar van sy beste musiek gekomponeer in sy doofheid. Helen Steiner Rice was doofstom, maar sy het miljoene mense opgebeur met haar skryfwerk. Vir elke deur wat vir jou toegaan, gaan daar ’n ander deur vir jou oop.

Wanneer God “NEE” sê, het Hy vir jou iets beters in die vooruitsig.

Verander die negatief ( – ) in jou lewe in ’n positief ( +).

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Gekwel deur jou gewete

SKRIFLESING: Mat 27: 3 – 10

In ons gelese gedeelte sien ons hoedat Judas Iskariot se verraad gelei het daartoe dat hy “gejag” is deur sy gewete.

Hy het nie besef dat sy verraad van Jesus tot Jesus se dood sou lei nie. Hoe dikwels verraai ons nie ook Christus of ander mense se vertroue nie. Ons is niks beter as Judas Iskariot nie. Toe Jesus egter gekruisig word, het sy gewete ingeskop.  Sy gewete het hom so “gejag”, dat hy die 30 silwermuntstukke teruggegooi het in die tempel en homself gaan ophang het.

Daarom was Judas Iskariot nie ’n slegte man nie. Hy het nog ’n gewete gehad. Wanneer jy nie meer ’n gewete het nie, dan is jy ’n slegte mens. Dit is net jammer dat Judas Iskariot nie besef en ontdek het dat Jesus Christus ook vir hom aan die kruis gesterf het en sy sonde vergewe het nie. As hy dit ontdek het, sou hy homself  waarskynlik nie opgehang het nie.

So is daar baie mense wat “gejag” word deur hulle gewete. Elke mens vang dikwels onsinnighede aan in sy of haar lewe. Dit kan jare lank by jou spook of op jou “jag” maak. Die meeste persoonlike probleme wat mense ervaar, ontstaan omdat hulle deur hul gewete gekwel word. Baie mense drink hulle gewete weg en word alkoholiste. Ander gebruik dwelms om te vergeet van hulle gewete. Ander openbaar persoonlikheidsafwykings om net weg te kom van die skuld van hulle gewete. Judus Iskariot het nie gaan drink of dwelms gebruik nie, nee hy het homself opgehang om van sy gewete af weg te kom.

Maar jou gewete kom van die Heilige Gees. Jou gewete is die vlammetjie wat jou verlossing aansteek. Jou gewete gee geboorte aan jou verlossing. Jou gewete laat jou roep na Christus se verlossing. Jou gewete is die deur waar jy die verlossende Christus ontmoet. Die verkiesende genade van die Here maak jou gewete skerp, sodat jy nader aan die verlossing van Jesus Christus leef.

’n Dooie gewete vra nie na Christus nie. ’n Dooie gewete soek nie Christus se verlossingswerk op nie. ’n Dooie gewete het Christus nie nodig nie.

Daarom moet ons dankbaar wees as ons gewete ons somtyds pynig. Dit beteken dat die Gees van God in my werk. Ons moet ons gewete in die oopte bring voor God en die een wat ons benadeel het. Anders sal daar altyd spanning wees in my gemoed. Praat dit uit met God in die gebed. Noem dit by die naam. Indien moontlik, gaan maak reg met jou broer of suster. Aanvaar die verlossingswerk van Christus. Dan eers kom jy werklik vry.

Baie mense het ’n stomp  gewete. Die vlammetjie van die gewete het hulle nog nie aangeraak nie. Daarom kan hulle hulle ook nie bekeer nie. Daarom kan hulle ook nie die verlossingswerk van Christus aanneem nie, want hulle voel oor niks skuldig nie.

Bid dat jou gewete ’n vlymskerp lemmetjie mag wees. Jou gewete maak van jou ’n beter mens, ’n mooier mens en ’n verstandige mens. Hoe skerper jou gewete, hoe meer sal jy Christus in jou lewe ervaar. Hoe nader ek aan God en Sy wil beweeg, hoe duideliker en sterker sal my gewete ontwikkel. Ons noem dit heiligmaking.

Ons moet deur die Gees ’n Minora-skerp gewete ontwikkel om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Hoe nader twee mense aan ’n kers sit, hoe duideliker gaan hulle mekaar sien. Hoe verder hulle van die kers sit, hoe minder duidelik gaan hulle mekaar sien. Hoe nader jy aan jou gewete leef, hoe meer sensitief gaan jy wees om ander mense raak te sien en aan hulle goed te doen. Jou gewete sal jou pla as jy nie aan hulle goed doen nie, want jou gewete laat jou ander mense sien.

Koning Dawid in Psalm 51 openbaar ’n baie sensitiewe gewete na sy owerspel met Batseba en sy moord op haar man Uriah. Hy het letterlik sy klere geskeur, as op sy kop gegooi en die pragtige Psalm 51 gedig oor sy intieme berou oor wat hy aangevang het. Hy vra die Here om ook weer vir hom sy reinheid en opregtheid terug te gee. Hy verlang meer daarna as na goud en die koningskap. Hierdie opregte en vlymskerp gewete, asook berou, het hom die man gemaak naby aan die hart van God.

Sonder ’n goeie gewete lei ’n mens se geloof skade. Luister wat sê Paulus in 1 Timotheus 1: 19: “ … met geloof en ’n goeie gewete – iets wat sommige mense versaak het, waardeur hulle geloof skipbreuk gely het.”

Om in die geloof te groei, moet jou gewete ontwikkel word. ’n Vlymskerp gewete dien tot voordeel van jou geloof en Christelike lewe voor God. Jou gewete hou jou op die regte pad en navigeer jou terug na waar jy die pad verlaat het. Moenie alles aanvaar wat jou kultuur of omgewing vir jou leer nie. Wees krities teenoor die aanvaarbare gedrag van jou omgewing. Wees indiwidualisties, en onderskei met die Gees van God self wat reg en verkeerd is.

Maar jy hoef nie met die pyn van jou gewete saam te leef nie. Gee dit vir Christus! Hy was jou silwerskoon. Jy kan jou gewete tot rus bring in Christus Jesus se verlossingswerk. Dan kan jy elke aand rustig slaap.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort) 

Voorwaarts Christenstryders

SKRIFLESING: Mat 25: 1 – 13

Dikwels kan ’n mens in kunsgalerye skilderye vind van ossewaens wat oor die kontinent van Amerika die wilde Weste in getrek het. As hulle elke dag tyd afgestaan het om te bereken hoe ver hulle gereis het en hoe ver hulle nog moes reis, sou hulle nooit hulle bestemming bereik het nie.

Dag na dag het die osse geduldig aangestap en in die aand het die waens stilgehou, hulle het vir die vee kos gegee en die vure aangesteek. So is vir weke en baie maande  aangehou, oor vlaktes en bergpasse, tot hulle uiteindelik die weskus aan die Stille Oseaan bereik het. Dit het eindelose deursettingsvermoë geverg. Neem die destydse lang seereise van Portugal na Indië of die ontdekking van Antarktika. 

Dink aan ons Voortrekkers wat met ossewa en beeste trektogte onderneem het die binneland in en hoe hulle oor die Drakensberge en riviere getrek het om Suid-Afrika te tem. Dit het bomenslike uithouvermoë gekos.

Die leraars van die ou dae het gepraat van “eerbaarheid deur volharding”. Alles wat die moeite werd is in die lewe kom met gewag, deursettingsvermoë en volharding mee.

In Mat 25: 1 – 13 lees ons van tien maagde wat wag op die bruidegom. Die tien maagde is simbool van die volmaakte en wagtende kerk van die Here Jesus Christus. Die bruidegom is natuurlik die Here Jesus Christus wat gaan kom om met Sy kerk verenig te wees.  Van die tien maagde lees ons dat vyf verstandig was en vyf was onverstandig.

The Message van Eugene Peterson vertaal dit in Mat 25:2 met:  “Five were silly and five were smart.” Die vyf verstandiges het ekstra olie saamgeneem, maar die onverstandiges het slegs die olie in hulle lampe gehad. Die vyf verstandiges was dus voorbereid om dalk lank te wag op die bruidegom. Die onverstandiges het nie met die lang wagtydperk rekening gehou nie.

Om te wag is moeite, maar dit is die moeite werd. Daarom sal Jesus se koms wees op die mees onvoorspelbare tyd, wanneer mense dit die minste verwag. Ons lees al tien maagde het al aan die slaap geval. Dan in die middel van die nag, kom die uitroep: ”Hier kom die bruidegom. Gaan hom tegemoet.” Die vyf onverstandige meisies se olie het opgebrand deur die nag. Hulle moes ’n winkel gaan soek om olie te koop. Waar kry jy in die middel van die nag ’n winkel oop? Die vyf verstandiges het net hulle lampe aangevul met die ekstra olie wat hulle saamgedra het.

Die olie is ’n simbool van gereedheid. Dit beteken om Jesus se onderrig ernstig op te neem. Dit beteken om te volhard in die doen van die goeie. Daarom kan die wyse meisies nie vir die onverstandiges van hulle olie gee nie. Jy kan nie besluit om aan iemand anders gehoorsaamheid te gee nie. Gehoorsaamheid is ’n persoonlike keuse en is nie oordraagbaar nie.

Daarom beteken die ekstra olie om vir “Jesus ernstig op te neem”. Wie Jesus nie ernstig opneem nie, se olie sal opraak.

Ekstra olie beteken om volhardend aan te hou om die goeie te doen. Dit beteken om volhardend vir Jesus ernstig op te neem en te leef volgens sy voorskrifte. Dit is mense wat ekstra energie met hulle saamneem, wat kan volhard tot die einde. Hulle energie vir Jesus raak nie op nie. Hulle volhard tot die einde. Hulle bou vir hulself geestelike spaarenergie op, vir die dae wat hulle dit nodig kan hê. Juis daarom moet ons geestelike reserwe-energie opbou om volhardend die Here te kan dien.

Somtyds raak ’n mens ontmoedig, omdat jy nie jou doel in jou roeping bereik nie. Dan moet jy gaan kyk na ’n beeldhouer. ’n Beeldhouer sal die blok graniet omtrent 100 keer met sy hamer en beitel bykom voordat die eerste krakie verskyn. Dan moet ek onthou dit was nie daardie een spesifieke hou wat die deurbraak gegee het nie, maar ook elke hou wat dit voorafgegaan het.

Volharding en deursettingsvermoë is een van die mooiste eienskappe wat ’n mens in iemand se lewe kan teëkom. Dit geld nie net vir die geestelike en spirituele lewe nie. Dit is ook van toepassing op jou beroep, jou studies, jou sport, jou huwelik en verhoudings en om elke keer na ’n teleurstelling weer op te staan en aan te gaan. Daarom moet ons ons nie deur teenslae laat onderkry nie. Staan op en gaan volhardend aan met jou reis. Tree vir tree kom jy by jou bestemming uit.

Die teenpool is natuurlik om te volhard in die sonde. Dit is maklik, want dit vra nie inspanning nie. Om die duiwel te volg, vra geen inspanning nie. Om Jesus Christus egter te volg, vra die uiterste inspanning. Daarom is die pad van die kruis die moeisame pad. Dit is die smal, kronkelende pad opdraand na die kruis. Volharding vra dapperheid.

Die VG Kerk het ‘n pragtige lied “Voorwaarts Christenstryders” in hulle Sions gesangeboek. Op die maat van marsmusiek sing hulle die pragtige lied. Die lied roep jou op om te volhard in die Christelike lewe.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Onthou om te onthou

SKRIFLESING: Jer 2: 1 – 19

Ons almal onthou nog die ou Afrikaanse lied “Onthou om te onthou” wat gesing is  deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Laurika Rauch. Sy het so ’n emosionele aanslag aan die liedjie verleen.

Ons almal vergeet. Ons vergeet baie dinge. Dit is natuurlik onvergeeflik as ons ons geliefdes se geboortedatums of troudatums vergeet.

Maar ons vergeet ook dikwels van God. Deur die eeue is dit die kwaal van die mensheid. Mense vergeet van God as dit te goed gaan. Wanneer dit sleg gaan, kan mense dikwels verbitterd word en ook van God vergeet.

Die volk Israel het in Egipte en in die woestyn vir 40 jaar baie naby aan God gebly. Toe hulle vasgevang was tussen die Rooi See en die magte van Farao, het die Here vir hulle die Rooi See oopgemaak. In die woestyn het Hy vir hulle elke dag kwartels en manna gegee. Net genoeg vir een dag op ’n slag, sodat hulle afhanklik van God kon bly. Elke nag het ’n vuurkolom voor hulle uitgegaan om vir hulle lig en beskerming te bied. In die dag was daar die wolkkolom wat vir hulle koelte en lafenis gegee het teen die felheid van die woestynson. Hulle is elke dag onthou om te onthou dat God vir hulle sorg.

Toe trek hulle die beloofde land binne. Dit gaan goed. Hulle het gearriveer. Skielik was hulle in ’n gemaksone. As jy in ’n gemaksone is, vergeet jy gou van die Here en van jou afhanklikheid van Hom.

Party mense sal sê om somtyds van God te vergeet, is nie so erg nie. Almal vergeet mos.

Elizabeth Achtemeier skryf egter: “Geen mens kan in ’n aanbiddingsvakuum lewe nie. As jy van God vergeet, soek jy vir jou plaasvervangers vir God. Dit is soos ’n getroude persoon wat owerspel pleeg, jy soek anderkant die draad vir jou ’n nuwe minnaar”.

Jeremia skryf in Jeremia 2: 13 dat die volk fonteine van lewende water verruil vir opgaarputte wat gebars is. Hierdie opgaarputte was gewoonlik ondergrondse putte wat uit die ondergrondse klip gekap is.

Die putte is gewoonlik gebruik vir graan of vir water. Omdat klip maklik bars, het die water in so ’n opgaarput maklik deur die barste weggesyfer. ’n Opgaarput moes gekap word. Dit het menslike aksie en werk gevra. Fonteine weer, het van nature opgeborrel. Jy hoef niks te doen nie. Die Here gee dit vir jou.

Net so ondenkbaar is dit dat die volk Israel die Here se versorging (fonteine van lewende water) verruil vir opgaarputte wat hulle self moet uitkap. Die lewende fonteinwater is gewaarborg, terwyl die mensgemaakte versorging (opgaarputte) se water lek.

Dikwels lei welvaart tot geheueverlies. Dit gaan oor “Cars, cells and cash.” Of soos Foster sê : “Sex, money and power.” Dit is ons opgaarputte. Ons wil opgaar, maar dit lek eenvoudig weg, soos die water deur die opgaarputte se barste lek.

Kyk na die hewige erge brande wat tans in Kalifornië in Los Angeles se luukse woonbuurtes woed. Dit is ’n wrede herinnering dat ons opgaarputte kan lek. Tienduisende huise het afgebrand. Dit neem apokaliptiese afmetings aan. ’n Mens dink by jouself, gaan die wêreld so lyk met die eindoordeel? Dit is vreesaanjaend. Dit lyk soos ’n oorlogsone. ’n Mens kan alles in ’n oomblik verloor. Moenie op jou opgaarputte wat jy uitgekap het, jou vertroue stel nie. Stel liewers jou vertroue in die fonteine van lewende water wat God jou gee.

Christene het egter ’n geweldige diep tradisie van “om te onthou om te onthou.”

Dit is ’n tradisie van onthou en oorvertel, sodat ons God nie vergeet nie. In die Ou Testament het die Jode gebedsrieme gehad waarmee hulle die Torah vasgebind het aan hulle voorkoppe. Die besnydenis as verbondsteken het hulle help onthou dat hulle in ’n verbond met die lewende God staan. Hulle is elke dag daaraan herinner as hulle na hulle liggaam kyk.

Dan het die Jode natuurlik ook die weeklikse Pasga gehad, om hulle te help onthou dat die Here hulle uit Egipte uit die plek van slawerny gelei het.

In die Nuwe Testament lees ons van die Here Jesus se hemelvaart. Iemand wat weggaan word dikwels na ’n tyd vergeet, of die herinneringe vervaag. Maar dit is nou meer as 2000 jaar later en die Here Jesus Christus word nog elke Sondag en weeksdag aanbid oor die wêreld. Elke Sondag word ons in die erediens onthou om te onthou dat ons ’n lewende God aanbid en dat ons ons vertroue net op Hom moet stel.

Die Here Jesus het ons nie as weeskinders agter gelaat nie. Hy het Sy Heilige Gees vir ons gestuur om elke dag met ons te wees. Hy het vir ons die kerk gegee, as die gemeenskap van gelowiges, sodat ons mekaar kan help herinner aan die Here Jesus se werk. Hy het vir ons die Woord gegee, sodat ons kan ONTHOU van die heerlike werk van God Drie-Enig. Daarom is ons vanoggend vreugdevol, want ons het die Afrikaanse Bybel,  sodat die Bybel ons kan help om God se groot dade te onthou.

Martin Luther het gesê: “The Bible is a remarkable fountain, the more one draws and drinks of it, the more it stimulates thirst.” Elke Sondag in die erediens word ons gehelp om te onthou van God se grootse werk. Die sakramente van Doop en Nagmaal is ook tekens wat ons laat onthou en herleef. Dit alles is aan ons gegee sodat ons nooit sal vergeet nie.

Daarom help die Woord ons om oor te vertel. Ons moet oorvertel, oorvertel en oorvertel van geslag tot geslag, sodat ons sal onthou om te onthou. Dit is immers waaroor die doopbelofte gaan. Ons beloof om die goeie nuus van die Evangelie aan ons kinders oor te dra. Toe ek ’n klein seuntjie was, het my ma vir my uit ’n groot, dik Kinderbybel gelees. Daar was my eerste ontmoeting met die Here.

In die Wesleyaanse Vierhoek word God se openbaring bekend gemaak aan die mens deur Skrif, tradisie, rede en ervaring.

Daarom moet ’n mens jou ervaringe van God deel met ander mense, sodat hulle kan onthou om te onthou dat God goed is.

Ek onthou toe ons as gesin eenkeer van Bloemfontein teruggekeer het na Strydenburg, was ek oor baie dinge besorgd. Tien kilometer buite Strydenburg was die mooiste reënboog gespan oor die dorp en die kerk. Toe weet ek God is met ons. Die reënboog het my laat onthou om te onthou van die troue God.

Eenkeer in Adelaide se pastorie se studeerkamer was ek onder verskriklike aanvegtinge, oor wat God se wil vir my is. Ek kon die heel nag niks slaap nie. Hier teen vieruur die oggend tel ek die Apokriewe Ou Testament wat daar gelê het op en slaan sommer moedeloos by ’n plek oop. Presies op daardie plek wat my oog vang, kry ek die volmaakte antwoord op my geloofsaanvegting. Dit het vir my so werklik gevoel, dat ek in die studeerkamer rondgekyk het of ek nie die Here sien nie. Ek het toe rustig aan die slaap geraak. God het my deur daardie Apokriewe Bybelboek onthou om te onthou dat Hy die antwoorde op al my lewensvrae het.

Somtyds is ’n mens amper in ’n motorongeluk en dan beskerm God jou op ’n ongelooflike wyse. Dan dien dit as ’n teken van God se sorg en trou. Dikwels ervaar mense kontantvloeiprobleme wat hulle wakker laat lê. Dan word ’n mens verras hoe God elke dag die regte hoeveelheid kwartels en manna voorsien. Jy leer om te onthou dat God uitkoms gee.

Die lewe is vol tekens van God se troue sorg. Dikwels ervaar kankerlyers en mense wat swaarkry, die Goddelike tekens baie spesifiek wat vir hulle moed gee op die pad vorentoe.

Martin Luther het  beleef en geskryf dat ’n mens God leer ken op vier maniere, naamlik deur die Woord, die gebed, meditasie en die ervaring van Sy tekens.

Martin Luther het in sy lewe ernstig met depressie geworstel. Hy het daarvan gepraat as die swart hond. Eendag toe hy ook geworstel het met depressie, onthou hy toe hy is mos gedoop. Hierdie teken van die doop het sy depressie gelig en hy het op sy houttafel die woorde uitgegraveer dat hy gedoop is.

Soos reeds genoem, praat die  Wesleyaanse vierhoek  van die vier pilare waarop Goddelike openbaring rus, naamlik die Skrif, die tradisie, die rede en dan ook die ervaring. Al vier leer jou onthou om te onthou van God se wonderlike sorg in jou lewe.

Mense moet oor hulle ervarings van God praat. Ons kerk kan dikwels arm wees aan getuienisse. In baie ander kerke word daar geleenthede vir lidmate gegee om te getuig van hulle ervarings met die Here en hoe die Here in tekens met hulle gepraat het. Ons moenie skaam wees om oor ons ervarings met die Here te praat nie. Deel jou ervarings van God met ander. Daardeur bemoedig jy hulle in die geloof. Deur ons getuienis kan ons ander mense laat onthou om te onthou daar is ’n God wat soewerein regeer.

Mag ons ook vertellers wees van ons ervarings met God en van die wonderlike tekens wat God ook in die afgelope jare vir ons gegee het van Sy troue sorg en liefdevolle bemoeienis met ons.

Kyk rondom jou. Elke dag sal jy ervaar hoe die Here met jou praat deur persoonlike ervarings en met tekens. Beleef dit as ’n persoonlike verhouding met die Here. Laat dit jou aanspoor in 2025 om te onthou om te onthou dat God saam met jou is.                                   

As jy van God vergeet, dan sal jou gebarste opgaarputte lek. Jy sal droogte in jou lewe ervaar. God sal van jou wyk. Maar as jy onthou dat God die fontein van lewende water is, sal jou gees self ook ’n fontein van lewende water wees.

Vertel elke dag vir ander mense van jou ervaringe met God, sodat jy hulle kan help om te onthou om te onthou.

Die Woord help om te onthou om te onthou van God se ryke seëninge.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)