Wat die brief aan Sardis – ons leer oor rykdom en geestelike dood

SKRIFLESING: Openbaring 3: 1 – 6

Die vyfde brief wat die apostel Johannes geskryf het van die eiland Patmos, was aan die gemeente Sardis in Klein-Asië, wat vandag as Turkye bekend staan. Die vernaamste handelsroetes het deur Sardis gegaan en daarom was dit ’n skatryk handelstad. Sardis het veral twee kenmerke gehad.

Eerstens was die stad baie ryk. Die legendariese Koning Kroesus, koning van Lidia (560 – 546 v.C.) was deel van Sardis se geskiedenis. Volgens ’n legende het alles waaraan hy geraak het in goud verander.

Die eerste muntstukke van Klein-Asië is ook in die tyd van Koning Kroesus gedruk. Sommige beskou Sardis as die oorsprong van die moderne geldstelsel van munte. Behalwe dat Sardis ’n vooruitstrewende landboustad was, het die stad ook ’n uitgebreide tekstielbedryf gehad. Wol is na Sardis gebring en verwerk in gesogte gekleurde wol. Dit was ’n kosmopolitiese bevolking met baie vreemde invloede.

Die tweede eienskap van Sardis was dat dit militêr strategies baie goed geleë was. Die Akropolis is gebou op ’n vertikale rotsgleuf, wat dit slegs van die suide toeganklik gemaak het vir die vyand. Later is die stad uitgebrei na die vrugbare vallei in die suide.

Desnieteenstaande die feitlik onmoontlikheid om die stad te verower, is dit twee keer in die geskiedenis verower, as gevolg van wagte wat geslaap het. Dit is in 546 v.C. deur die Perse en in 214 v.C. deur die Seleukiede Ryk verower.

Die Siriese koning het toe 2000 Joodse gesinne van Mesopotamië in Klein-Asië gevestig en daarom was daar ook heelwat skatryk Jode in Sardis. Volgens Josefus se geskrifte het die Joodse sinagoge jaarliks groot bedrae oorbetaal aan die tempel in Jerusalem.

Ook toe die stad in 17 n.C. deur ’n aardbewing vernietig is, is dit spoedig herstel, as gevolg van die rykdom van die stad.

Die feit dat Sardis baie ryk was en militêr feitlik onoorwinlik was, het dit die inwoners en ook die Christene van Sardis ’n valse gevoel van veiligheid gebied. Hulle het selfgenoegsaam en selfsugtig geword en het niemand nodig gehad nie.

Dit het veroorsaak dat die Christelike gemeente in Sardis skatryk was in materiële sin, maar geestelik dood was. Dit was en is ’n verskriklike ding om te sê ’n gemeente is dood. Maar Sardis was geestelik dood, morsdood.

Die beskermgodin van Sardis was Artemis. Sy was die Griekse godin van die maan, jag, wildernis, diere en kuisheid. Sy het beloof om altyd ’n maagd te bly. Sy was die tweelingsuster van Apollo, die songod en die dogter van Zeus en Leto. Artemis was bekend vir haar boog en pyle, en sy was  jong meisies en ongetroude vroue se beskermer.

Artemis se meer herkenbare simbole is die pyl en boog, die sekelmaan en die hert. Sy was ’n uitstekende jagter en kon enige dier jag. Haar boog sou altyd die teiken tref.

Daar is begin bou aan die tempel vir Artemis, maar dit is nooit voltooi nie. Daar is wel vir haar ’n tempel gebou in Efese, waarvan die murasies nog staan.

Johannes begin met die brief deur in vers 1 te sê: “So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het.”

Die sewe beteken die volheid van die Gees. Dit herinner ook aan Sagaria 4: 2 en 10 waar die kandelaar sewe tuite en sewe lamppitte het. Die 49 ligpunte (7 x7) is onuitblusbaar en gee ’n helder lig af, wat die teenwoordigheid van die Here simboliseer. Dit is in hierdie lig wat die Here vir Serubbabel gemotiveer het om die tempel te voltooi. Net so kan net die Heilige Gees in Sy volheid die sluimerende en dooie Sardis weer opwek. Christus en die Gees hou die sleutel vir die opwekking van Sardis.

In vers 2 spreek die Gees dan ook: “Word wakker …” Die gemeente van Sardis is soos die stad Sardis wat twee keer verower is deur die Perse en Seleukiede Ryk, toe die wagte geslaap het. Die stad moenie staatmaak op sy goeie strategiese ligging of sy rykdom nie. Sardis het sluimerend geestelik doodgegaan. Selfgenoegsaamheid maak dat jy nie meer waaksaam is nie.

Te veel voorspoed en rykdom kan jou stadig maar seker geestelik doodmaak. Dit is soos ’n padda wat in ’n kastrol koue water gegooi word en die water baie stadig verhit word. Die padda kom nie eers agter die water verhit nie. Lewend word hy dan stadig doodgebrand in die water wat verhit word. ’n Tydsgees kan jou ook stadig maar seker geestelik doodmaak. Juis daarom moet ons ekstra versigtig wees vir die tydsgees van die dag.

Die oplossing word in vyf bevelsinne uiteengesit:

  • Word wakker. (Vers 3: 2a)
  • Versterk wat nog by julle oorgebly het. (Vers 3: 2b)
  • Onthou hoe julle die Evangelie ontvang en daarna geluister het. (Vers 3: 3)
  • Hou daarmee vol. (Vers 3: 3b)
  • Bekeer julle. (Vers 3: 3c)

Maar alles in Sardis is darem nie net sleg nie. Deur elke gemeente loop daar ’n breë én ’n smal pad.

Ook in Sardis was daar Christengelowiges wat nie afgodsvleis geëet het nie en nie onsedelikheid bedryf het nie; en nie gemeng het met die wat die leer van Isebel en die Nikolaïete aangehang het nie.

Hulle reinheid het hulle nog nie verloor nie. Hulle was soos die wit wol wat in Sardis aangekom het en nog nie verkleur is in gekleurde wol nie. Sardis het hulle nog nie besoedel en gekleur in die tydsgees van die dag nie. Hulle sou spierwit klere dra.

Die brief word afgesluit met die belofte dat hulle wat rein gebly het en nog geestelik lewe die wit kleed van oorwinning sal dra. Dit is die klere wat Christus deur Sy dood en opstanding verdien het. Hulle wat oorwin se name sal ook nie uit die boek van die lewe gehaal word nie. In die hellenistiese tydperk het elke stad ’n stads- of staatsregister gehad. Jou naam het dan in hierdie stadsregister verskyn as inwoner. As jou naam in die stadsregister was, het jy ook bepaalde burgerregte geniet. Mense wat gruwelike misdade begaan se name sou dan uit die stadsregister verwyder word.

Johannes gebruik die beeld om aan ons te toon dat elkeen wat die oorwinning behaal se naam in God se boek van die lewe opgeteken sal staan en sy of haar naam sal nooit uit God se naamsregister verwyder word nie. God sal self getuienis gee dat so ‘n gelowige aan Hom behoort.

Dan word die brief weer afgesluit met die bekende refrein, dat elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê. Alleen die Gees kan heelmaak en nuutmaak. Daarom moet ons na die Gees luister.        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus Christus Teenoor Apollo: Die Stryd in Tiatira

SKRIFLESING: Openbaring 2: 18 – 29

 Tiatira was veral bekend as ’n nywerheidstad, waarin vele ambagte bedryf is. Daar was tekstielwerkers, skoenmakers, werkers met gekleurde materiaal en bronssmede.

Die vakbonde was die spil van die sosiale, politieke en godsdienstige lewe van Tiatira. Die bekende Lidia, die purperverkoopster van Hand 16: 12 – 15, was van Tiatira afkomstig en het handel gedrywe in pers wolmateriaal.

Elke vakbond of gilde het ’n eie god of godin as beskermer gehad aan wie groot feeste gewy is. Wanneer Christene geweier het om aan die feeste deel te neem, is hulle toegang tot die gildes geweier. Hulle het dus twee keuses gehad. Of hulle het aan die gilde behoort en kompromieë met die heidense gode aangegaan of hulle het nie aan die gildes behoort nie, getrou gebly aan Christus, maar was arm en werkloos. Daarom was dit moeilik in ’n nywerheidstad soos Tiatira om ’n deurleefde Christen te wees.

Die songod Apollo, seun van Zeus (die hoofgod) is in Tiatira aanbid. Daar was egter nie ’n groot mate van keiserverering of aanbidding in Tiatira nie. Die grootste godsdienstige groep was die wat aanbidders van Apollo was.

Daar was ook ’n redelike sterk groep Jode in die stad.

In die inleiding van die brief staan Apollo as die seun van Zeus teenoor Jesus Christus as die Seun van God. Nie Apollo regeer nie, maar Jesus Christus. Die beskrywing van Jesus as Seun van God was ook gerig aan die Jode, wat nie Christus erken het as Seun van God nie. Die seun van God wie se oë vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is, herinner dat niks God se aandag ontsnap nie. Geelkopervoete simboliseer standvastigheid en duursaamheid. Veral die kopersmede van Tiatira sou die beeld duidelik verstaan het.

God se vlymskerp oë wat soos vuur vlam, het die gemeente van Tiatira se liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding raakgesien. Dit is ’n positiewe getuienis van die kwaliteit van hulle geloofslewe. Die gemeente van Tiatira het geweet van die liefde as vertikale verhouding met God, maar ook horisontaal met die medegelowige en die wêreld. Die grootste kompliment wat die gelowiges in Tiatira ontvang het, is dat hulle geestelike grafiek ’n opwaartse lyn gehad het. Dus het hulle ten spyte van ’n heidense omgewing geestelik gegroei en nie uitgesak nie. Teenoor Efese het Tiatira gevorder en gegroei; en nie uitgesak in die geloof nie. (vers 19b)

Maar Tiatira het ook ’n donker kant gehad. Daar was ’n geraamte in die kas van Tiatira. Daar was sommiges wat waarskynlik ’n vroulike leiersfiguur in die gemeente aangehang het en op ’n sinkretistiese manier die gemeente van Tiatira ondergrawe het.

Die vals leer en heidense dwaling word verbind aan die vrou Isebel, wat ons ook leer ken het uit die Ou Testamentiese boeke 1 en 2 Konings.

Sy was die Fenisiese vrou van koning Agab, wat die Noordryk tot afgodery en die Kanaänitiese god Baäl verlei het. Afgodery en onsedelikheid het hoogty gevier in dié heidense praktyk. Hierdie heidense praktyk het ook die gemeente van Tiatira en die sakelui van die gildes infiltreer. By die gildes se feeste is afgodsvleis geëet en onsedelikheid bedryf. Daar het Isebel met haar listigheid die sakelui verlei. Isebel het as’t ware ontug gepleeg teenoor God, deur God se kinders te verlei.

In vers 22 – 23 word geskryf dat aanhangers van die dwaling swaar gestraf sal word. Vir Isebel wag daar ’n fatale siekbed. Op die bed waarop sy haar onsedelikheid pleeg, sal sy ook sterf. Haar meelopers sal deur dodelike lyding en pessiektes getref word.

In vers 23 word die stelling gemaak dat God die gedagtes (letterlik die niere) en die begeertes (letterlik die hart) deurgrond. Die nier is die setel van emosie en gevoel; en die hart is die setel van die intellek en denke. So “oudit” Christus as’t ware die diepste wese van die mens.

Vir hulle wat in Tiatira hulself nie skuldig maak aan die dwaling van Isebel nie, word geskryf dat hulle met volharding moet vashou aan die goeie leer. Hulle wat die oorwinning behaal, sal saam met Christus regeer.

Hulle sal ’n ystersepter kry wat eerder ’n herderstaf was, wat met yster beslaan is en waarmee die herder die skape teen die wilde diere en bedreigings beskerm het. Saam met Christus sal hulle regeer en alle teenstand en weerstand sal soos kleipotte uitmekaar geslaan word. Die Christene sal saam met die oorwinnende Christus, alle vyande vermorsel.

In vers 28 word belowe dat elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester sal ontvang. Na die donker nag van vervolging en swaarkry, sal God se kinders saam met Christus deel aan die Môrester, die aankondiging van ’n nuwe dag en ’n nuwe era. Die môrester simboliseer oorwinning en gemeenskap met Christus, wat uiteindelik die ware lig en heerskappy bring.

Die brief word afgesluit met die bekende woorde wat in elke brief voorkom, naamlik dat die gemeente moet luister na die Gees. Die sewe gemeentes van klein Asië, maar daarmee saam alle kerke oor die wêreld, moet leef vanuit die kragveld van die Pinkster Gees. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Kerk en wêreld kan nie in dieselfde bed wees nie

SKRIFLESING: Openbaring 2: 12 – 17

Die derde brief wat Johannes van Patmos geskryf het aan die sewe gemeentes in Klein-Asië was dié aan Pergamum. Dit was ’n Romeinse hoofstad.

Die bekendste argitektuur in die stad was die Akropolis wat in die tweede eeu voor Christus gebou is saam met ’n tempel ter ere vir Atena, ’n reuse-altaar vir Zeus en ’n biblioteek van 200 000 boekrolle.

Dit was dan ook ’n sentrum van geleerdheid. Die stad Pergamum kry sy naam van die perkamentrolle wat in die stad vervaardig is en die destydse wêreld van skryfmateriaal voorsien het.

Sou ’n slang aan jou raak, was dit ’n teken dat Asklepius jou gaan gesond maak. Die volgende oggend het jy jou behandeling gekry en dan moes jy die deel van jou liggaam wat siek was, namaak met klei en die kleifiguur aan Asklepius offer.

Vandaar die slang wat vandag nog gebruik word op mediese embleme. Hipokrates, die vader van die moderne geneeskunde, het ook met sy opleiding begin by die geneeskundige sentrum van Asklepion in  Pergamum.

Teenoor die bygelowige genesende krag van Asklepius, staan Christus as die ware groot Geneesheer.

Op ’n hoë terras het die pragtige altaar van Zeus as baken van die stad gestaan. Daar is ook ’n tempel gebou ter ere van keiser Augustus en daarom was die stad ook die hoofsentrum van die keiserkultus. Christene is deur die Romeine “Christiani” genoem, wat ’n spotnaam was. Die Jode het weer van die Christene gepraat as “Nasareners”.

Die Christene is mateloos vervolg. Om te weier om aan die keiserkultus toe te gee, was ’n teken van burgerlike ongehoorsaamheid. In die brief word melding gemaak van Antipas wat die hoogste prys betaal het deur op die altaar van Zeus te sterf.

Daar word geglo dat Antipas, ’n Christelike biskop van Pergamum, aan die einde van die eerste eeu n.C. gemartel is. Dit was omtrent die tyd, so glo baie Bybelgeleerdes, dat die boek Openbaring geskryf is. As jy die “goddelikheid van die keiser” verwerp het, dan was dit gelykstaande aan die verwerping van die stad Rome, en gelowiges is hiervoor doodgemaak.

Antipas is ter dood veroordeel op die altaar van Zeus. Bo-op die altaar was ’n hol bronsbul, ontwerp vir menslike offerandes.

Dit was ’n reuse-bronshouer met ’n bulkop. Die persoon wat tereggestel word, is in die pot vasgemaak, met sy kop by die kop van die bul. ’n Groot vuur is onder die pot aan die brand gesteek. Wanneer die slagoffer dan van pyn skree, het daardie onderaardse geluide deur die pype van die pot gegalm.

Dit het kompleet geklink of die beeld lewendig geword het en self die onderaardse geluide maak. Die Griekse geskiedskrywer Eusebius noem ook onder andere die volgende bekende getuies wat op dié wyse doodgemaak is naamlik Karpus, Papulus en Agatonike.

Tereg skryf Johannes dat Christus met die tweesnydende swaard van sy mond hulle veroordeel. God se woord sny twee kante toe. Christus oordeel positief oor hulle wat ten spyte van vervolging getrou bly aan die Here, maar Hy spreek ook negatief teenoor hulle wat afvallig geword het en die leer van Bileam en die Nikolaïete aanhang.

Daarom word daar in vers 16 gesê dat die afvalliges hulle moet bekeer. Hulle moet luister na die Gees en weer terugkeer na die suiwere aanbidding van Jesus, sonder enige kompromieë. Kerk en wêreld kan nie dieselfde bed deel nie.

As beloning vir hulle wat volhard, word aan die oorwinnaars die volgende twee beloftes gemaak. Eerstens sal hulle van die verborge manna eet. Hulle sal met ander woorde deel hê aan die groot Messiaanse maaltyd wanneer Christus kom. Hierdie geestelike manna is weggesteek vir die ongelowige, maar vir die gelowige is dit die brood wat lewe gee. God sorg dus vir hulle wat nou swaarkry en ly vir die Evangelie.

Tweedens sal die volhardende gelowiges ’n wit steentjie ontvang, met ’n nuwe naam daarop gegraveer. Daar is verskeie interpretasies van hierdie wit steen:

Regterlike gebruik: In die Romeinse regstelsel is ’n wit steen soms gegee aan iemand wat onskuldig bevind is, terwyl ’n swart steen ontvang is as ’n teken van ’n persoon se skuld. Dit kan dus dui op die regverdiging van die gelowiges deur Christus. In Christus kry ons die vryspraak en ontvang ons die wit klippie as teken  dat ons vrygespreek is deur Christus.

Toegangsteken: In die antieke wêreld is wit klippe soms gebruik as toegangsbewyse tot feesmaaltye en spesiale geleenthede, asook toegang vir ’n vriend tot jou huis as jy nie tuis was nie. Jou vriend het vir jou ’n wit klippie gegee, met sy naam daarop. As jy by sy huis kom, het jy net vir die slawe die wit steentjie gewys en hulle het jou toegelaat om in jou vriend se huis te oornag en te eet, terwyl die eienaar van die huis nie tuis was nie.   Dit kan simboliseer dat die oorwinnaars toegang tot die hemelse feesmaal van Christus sal hê.

Persoonlike identiteit: Die nuwe naam op die steen dui op ’n unieke en persoonlike verhouding met Christus, wat ’n nuwe identiteit en bestemming vir die gelowige bevestig.

Daar was destyds ’n gewoonte om ’n hangertjie van klip, hout of ivoor om die nek te dra. Op so ’n hangertjie is dan ’n geheime naam (dikwels van ander gode) gegraveer wat die draer daarvan moes beskerm. Dié heidense gebruik is met nuwe betekenis gevul deurdat daar nou ’n nuwe naam (natuurlik dié van Christus) daarop gegraveer is. Christus word dus ons beskermer in ’n wêreld van vervolging en martelaarskap. Die wit steentjie verwys na Christus se vryspraak oor ons. In Openbaring 2:17 word die wit steentjie genoem as ’n simbool van oorwinning en ’n nuwe identiteit vir die gelowige.

Interessant is dat die tempel van Zeus in 1913 van Pergamum verskuif is en gerestoureer is in Berlyn se Pergamum-museum. Hitler was een van die eerste bewonderaars van die tempel van Zeus in Berlyn. Omdat hy baie belanggestel het in argitektuur was die tempel van Zeus waarskynlik die inspirasie vir sy eie verhoog wat hy gebruik het as Duitse Kanselier. Natuurlik weet ons dat Hitler een van die wreedste diktators was in die moderne geskiedenis. Is dit blote toeval? 

Daarom is die sentrale boodskap van die brief aan Pergamum dat die kerk nie mag toelaat dat die wêreldse gees die kerk moet invloei nie. Die wêreld moet nie in die kerk inspoel nie. Eerder moet die kerk die wêreld inspoel. Die kerk moet Geesvervuld lewe. Die begin van die dwaling is om klein jakkalsies in die kerk groot te maak. Later verslind dit die gelowiges en lei tot die verwatering van die Christelike geloof en getuienis.

Daarom moet ons die Here nie dien met ’n verdeelde hart nie. Een deel van ons hart behoort aan die Here en die ander deel aan die wêreld. Ons moet die Here liefhê met ons HELE HART, siel en verstand.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die Veredeling van Geloof deur Lyding in Smirna

Die hawestad Smirna (die huidige Ismir) was 56 kilometer van Efese geleë. Die bynaam van die stad was “Die eerste in Asië” en het 100 000 inwoners gehad. Tempels vir die godin Roma, die god Asklepius, keiser Augustus, en die keiser Tiberias, en Zeus het die stad versier. Dit was die hoofsentrum van die keiserkultus, waar die keisers as gode verklaar en vereer is.

Tydens die Romeinse tydvak was Smirna ’n sentrum van goeie wyn, wetenskapsbeoefening en die mediese wetenskap.

Smirna het ’n groot Joodse bevolking gehad. Hierdie Jode was die Christene nie goedgesind nie en het gereeld die Christene by die Romeinse owerheid verkla. Dit het daartoe gely dat die Christene gereeld vir hulle geloof vervolg is. Die Christene is ook deur die Jode as ketters gebrandmerk en uit die Sinagoges verban.

Die Christene van Smirna moes oorleef in tye van swaar vervolging. Die gemeente in Smirna is gestig deur Joodse pinkstergangers wat teruggekeer het van Jerusalem en was bekeerlinge tydens Paulus se derde sendingreis.

Die brief begin in vers 8 met Christus wat voorgestel word as die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het. Teenoor Smirna wat bekend was as “Die eerste in Asië”, word Christus bekend gestel as die EERSTE. Slegs Christus kan die Eerste wees.

Die Christene van Smirna het geweet wat dit beteken om te sterf en weer lewendig gemaak te word, want die stad is drie keer herbou, nadat dit elke keer totaal vernietig is. Net so het Christus letterlik gesterf en het Hy letterlik uit die dood opgestaan. Hy was die tempel wat in een dag afgebreek is en in drie dae weer opgebou is.

Die sogenaamde Romeinse vrede of “pax romana” het die inwoners van Smirna skatryk laat word. Die Jode het in hierdie weelde gedeel en het belangrike posisies in die samelewing beklee. In Smirna was daar vir die verskillende ambagte gildes. Jy moes tot die gilde behoort om jou ambag te kon bedryf. Daarteenoor het die Christene verarm, want hulle is nie toegelaat om deel van die gildes (vakbonde) te word nie. Die Christene was die randfigure van Smirna en het baie swaar gekry. Smirna se Christene was gekenmerk deur drie eienskappe, naamlik verdrukking, armoede en kwaadstokery.

Tog het die lyding van die Christene en hulle armoede veroorsaak dat hulle in solidariteit met Christus geleef het. Daarom staan daar dat hoewel die Christene ekonomies en fisies arm was, hulle tog geestelik ryk was. Dit staan teenoor die brief aan Laodisea, waar die Christene ekonomies ryk en geestelik arm was.

God was aan die kant van die vervolgde Christene en het die Joodse sinagoges ontbloot as die sinagoges van die Satan. Hulle is Satanskinders genoem omdat die Jode teenstaanders van Christus was. Eintlik was die Jode net so erg as die Romeine met hul keiserverering. Beide die Jode en die Romeine het die Christene van Smirna vervolg.

Die Christene van Smirna word daarop voorberei dat die vervolging nog erger sal raak en dat hulle in tronk gegooi sal word en vir tien dae baie sal ly. Die tien dae was ’n afgemete tyd, bedoelende die lyding sal ook verbygaan. Inderdaad het die lyding van Smirna se Christene toegeneem. Die bekendste verhaal was Polikarpus, wat as biskop van Smirna vir sy geloof vervolg is en in die tronk gegooi is. In 155 n.C. is hy doodgemaak deur hom lewend te verbrand op ’n brandstapel. Hy het geweier om vir Jesus te verloën. Die Jode het op die Sabbat gehelp om vuurmaakhout bymekaar te maak om die Romeinse owerheid te help om Polikarpus te verbrand.

Daarom roep die brief die Christene van Smirna op om getrou te bly tot die dood toe. As beloning sal die Christene nie die tweede dood sterf nie, maar vir altyd saam met Christus lewe.

Die naam van die stad Smirna is afgelei van die woord “mirre”, wat in Arabies “bitter” beteken.

Dit het ’n bitter smaak, en kom van die gomhars van die struik Commiphora myrrha. Dit was een van die drie geskenke wat die Jesus-kind sou kry. Dit proe bitter, maar as jy dit kneus of brand, gee dit ’n lieflike geur af. So sou Jesus ook die bittere pad van die kruis loop. Omdat Hy soos mirre aan die kruis gekneus is, het Hy ’n lieflike geur versprei vir die hele wêreld. Die Christene van die stad Smirna het ook hewige vervolging van die Jode en die Romeine ervaar. Hulle is met bitterheid vervolg. Hulle het dit bitter onder die Jode en Romeine gehad.  Hulle is as’t ware gekneus. Maar omdat hulle gekneus is, het hulle ’n lieflike geur in die gemeenskap versprei. Dit is ook die enigste van die sewe gemeentes wat nie negatiewe opmerkings van Johannes ontvang nie. Hulle lyding en gekneusdheid het hulle getuienis gesuiwer om ’n suiwer getuigskrif te lewer van Christelike toewyding wat soos ’n lieflike geur versprei het in Klein-Asië .      

Lyding kom nie uit die hand van God nie, maar God kan lyding gebruik tot ons voordeel. So het die lyding van Smirna die gelowiges se geloof veredel. Soos wat goud uit ystererts ontgin word deur dit aan buitengewone hoë temperature bloot te stel, so is die geloof van Smirna se gelowiges veredel. Hulle geloof was so suiwer, dat niks negatiefs gesê kan word van die gemeente in Smirna nie.

Daarom kan die skopus van die brief aan Smirna as volg saamgevat word: Veredelde geloof uit lyding.

Wanneer ’n vrugteboom of ’n wingerd aan stres blootgestel word deur dit byvoorbeeld te snoei, dra dit meer vrug. Daarom het Jesus ook die beeld van die wingerd wat gesnoei word gebruik, om aan ons te toon dat lyding en stres die beste in ons kan voortbring.

Christene wat lyding verduur se geloof word getoets. Soos Eugene Peterson dit stel, “to come at the end of your rope”, beteken dat niks anders oorbly as om in AFHANKLIKHEID van God te leef nie.

Die Christelike kerk het in die eerste eeue dramaties gegroei. Vervolging het die kerk net sterker gemaak. Daar word tereg verwys na die bloed van die martelare as die saad van die Evangelie. Toe Konstantyn die Christelike geloof tot staatsgodsdiens verklaar het, het die Christene se geloof begin verflou. ’n Wêreldse gees het begin insluip in die Christendom, wat baie meer skade aangerig het aan die kerk as toe die kerk in martelaarskap was.

Jesus Christus is ook verneder en verag toe Hy na hierdie wêreld gekom het. God het in Jesus Christus die wêreld liefgehad tot die uiterste aan die kruis, maar die mensdom het Hom verwerp. Tot vandag toe is daar nog baie mense wat spot met godsdiens en met die Here Jesus. Jesus se naam word ook elke dag as ’n skelwoord en vloekwoord gebruik. Tot vandag toe nog verag die meeste mense Jesus Christus en spot met Hom.

Omdat ons navolgers van Jesus Christus is, moet ons ook bereid wees om deel te hê aan Jesus se lyding. As Christene moet ons ook dikwels lyding verduur, omdat ons anders leef, praat en doen. Wie Christus leef en verkondig, sal deur baie mense verag en bespot word. Daarom moet ons bereid wees as Christene om baie dikwels uitgestoot te word, omdat ons Jesus Christus bely as Seun van God.

Daar word baie gesê oor die Christelike geloof wat uit skole gehaal word. Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Die Christelike geloof het dit nie nodig om deur wetgewing beskerm te word nie. Die Christelike geloof word juis verdiep wanneer dit nie in watte toegedraai word nie. Voorspoed was nog nooit goed vir die kerk nie. Voorspoed bring verwatering van geloof mee. Voorspoed kweek naam-Christene en nie ware dissipels nie.

Veredeling deur lyding is ’n suiwerende proses, wat mense tot geestelike groei en dieper insig lei. Dit is ’n tema wat dikwels in die Bybel voorkom, waar beproewings en swaarkry as ’n manier gesien word om geloof te versterk en karakter te vorm.  Lees byvoorbeeld in Jak 1: 2 – 4: Beskou dit as ’n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.  Dink byvoorbeeld aan Moses, Josef, Job, Paulus en nog vele ander Bybelfigure, wat deur hulle lyding gevorm is om besondere volgelinge van die Here te wees.

Smirna was as gemeente vlekkeloos voor God. Hulle geloof was veredel deur hul lyding. Dit bring vir ons troos as ons ook soms moet ly vir Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Wittebroodsliefde wat afgekoel het

SKRIFLESING: Openbaring 2: 1 – 7

Die sewe briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië is ook vir ons ’n herinnering en ’n oproep om wakker te word en God met nuwe toewyding en oorgawe te dien.

Die eerste van die sewe briewe is geskryf aan die gemeente Efese. Dit was in die eerste eeu v.C. die tweede grootste stad in die Romeinse Ryk en ook die tweede grootste stad in die wêreld met ’n getal van 250 000 inwoners.

Dit was ’n bekende hawestad in die westelike deel van Klein-Asië, waar die Kaisterrivier in die Egeïese See invloei. Daarom was die stad ook op drie belangrike handelsroetes van die antieke tyd.

Efese was bekend vir sy Tempel van Artemis, die Celsus-biblioteek en die amfiteater wat 44 000 mense kon huisves. Efese het nie net op ekonomiese en administratiewe gebied uitgeblink nie, maar het ook op godsdienstige gebied ’n leidende rol gespeel.

Die tempel vir die vrugbaarheidsgodin Artemis (die Romeinse Diana) het duisende priesters, priesteresse en prostitute gehuisves. Afgodery en sedeloosheid het hoogty gevier.

Ook die keiserkultus het gedurende die bewind van Domitianus gefloreer en daar is selfs ’n tempel vir Domitianus opgerig. Efese het ook ’n belangstelling in die toorkunste geopenbaar. Die Joodse bevolking was ook ’n belangrike faktor vir die Christene van Efese.

Die bekende Celsus-biblioteek het op ’n stadium 12 000 perkamentrolle gehad. Dit is in 125 n.C. gebou met leeskamers wat na die ooste kyk, sodat die kamers die beste oggendlig gekry het.

Efese was in die 50’s n.C. ’n belangrike sentrum vir die vroeë Christendom. Priscilla en Akwila het die gemeente gestig en Apollos het hulle gehelp. Vanaf 52 – 54 n.C. het Paulus in die stad gewoon en met die gemeente gewerk en sendingwerk gedoen. Aanvanklik het Paulus in die sinagoge gepreek, maar na drie maande het hy gefrustreerd geraak met die Joodse kunstenaars wat hul brood en botter verdien het deur beelde van Artemis te maak en dan in die godin se tempel verkoop het. Hy het toe na die saal van Tirannus verskuif. Tussen 53 en 57 n.C. het Paulus die brief 1 Korintiërs vanaf Efese geskryf. Dit was moontlik in die Paulus-toring, naby die hawe waar hy ’n kort rukkie gevange gehou is. Later, terwyl hy in Rome in die tronk was, het hy die brief aan die Efesiërs geskryf.

Die Evangelie van Johannes is moontlik omstreeks 90 – 100 n.C. in Efese deur Johannes geskryf. Efese was so prominent in Klein-Asië dat dit een van die stede was wat deur Johannes in Openbaring aangespreek word.

Daar word ook beweer dat Johannes in Efese begrawe is, vandaar die Johannes-basilika wat in die sesde eeu n.C. in Efese gebou is.

Met dit as agtergrond het Johannes sy eerste brief aan die gemeente in Efese geskryf. Hy begin sy brief met die volgende woorde: Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan. Die sewe sterre beteken die sewe leraars en die sewe goue lampe beteken die sewe gemeentes aan wie die briewe gerig is. Sewe is hier die volmaakte getal en beteken dat al die gemeentes en leraars in Klein Asië, in die beskermende hand van God self is. Christus self is in beheer van sy gemeentes en daarom praat ons van Christologie. Nie wette of tradisies mag die gemeentes bepaal of beheer nie, maar Christus self.

Dan verwys Johannes heel eerste na die positiewe in die gemeente van Efese. So is God altyd. Hy sien altyd heel eerste die goeie raak voor Hy die slegte raaksien. Die gemeente van Efese het hulle ingespan en volhardend die goeie gedoen en hulle nie laat mislei met die dwaalleringe wat in daardie tyd hoogty gevier het nie. Die slegte mense van wie Johannes hier praat, is die vals profete en die Nikolaïete. Hulle het die waarheid dat Jesus die Messias en Verlosser is, verdraai. Die Nikolaïete stam af van Nikolaus, een van die sewe diakens van Handelinge 6: 5. Nikolaus het gnosties geword, wat met ander woorde ontken het dat Jesus Christus mens geword het. Die Nikolaïete was soortgelyk aan die navolgers van Bileam en Isebel. Die wandade van Bileam en Isebel het gefokus op afgodery en onsedelikheid. So het hulle sinkristies aansluiting gevind by die heidense leefstyl en keiserkultus.

Ons moet ook so die dwaalleer van ons tyd beveg en volhard in die goeie leer. Vandag is daar ook mense wat die maagdelike geboorte of opstanding van Jesus bevraagteken. Ons moet dit uitwys as dwaling en daarop konsentreer om vas en volhardend die gesonde leer te bevestig met ons woorde en dade.

In vers 4 skryf Johannes dat die gemeente van Efese die Here nie meer lief gehad het soos in die begin nie. Hulle het waarskynlik hulle eerste wittebroodsliefde vir die Here verloor en hulle liefde vir hulle naaste het plek gemaak vir ’n gerigtheid na binne. Hulle was ywerig in die handhawing van die ware leer, maar die suiwer liefde vir God het ontbreek. Efese was missionaal strategies geleë op die belangrikste handelsroetes in Klein-Asië. Maar die wittebroodspassie en -liefde het ontbreek. Hulle het begin gewoond raak aan die Evangelie. Hulle het ywerig, maar passieloos, die Here aanbid.

Daarom word hulle opgeroep om hulle te bekeer en weer die dinge te doen wat hulle eerste gedoen het toe die gemeente pas gestig is. Hulle moes met oorgawe en passie vir God liefhê. Goeie gewoontes is goed, maar gewoontes kan die passie doodmaak.

Die gemeente van Efese het die Here net uit plig en goeie gewoonte gedien en nie meer met ’n vurige wittebroodsliefde nie. Wanneer ’n vrou haar man of ’n man sy vrou net uit plig ondersteun, maar daar is nie meer egte liefde nie, dan is die huwelik dood.

Die passie kan alleen terugkom as die Gees van God weer sy plek in die gemeente kry. Smeulende kole word vinnig opgevlam as die wind daaroor waai. Net so moet ons ook deur die wind van die Gees ontvlam word om weer knetterend vir die Here te brand. Dan sal ons die ander dooie kole ook kan laat brand. Dan word ons ‘n brandende gemeente vir die Here. Daarom moet ek bid dat die Here eers my hart aan die brand kan sit vir Jesus, dan sal die hitte wat ek uitstraal ook die ander kole (lidmate) brandend maak. Daarom sê vers 7 dat elkeen wat kan hoor moet luister na wat die Gees sê. ’n Geesvervulde gemeente is ’n passievolle gemeente wat met passie die Evangelie missionaal uitdra na die wêreld.

Die gevolg van ’n passielose volg van Christus word so uitgespel: Die gemeente sal as lamp verskuif en weggevat word. Dié taal was bekend aan die inwoners van Efese, want hulle stad is drie keer verskuif, onder andere toe die hawe toegeslik en versand het.

Godsdiens uit gewoonte laat die passie verflou en laat jou godsdiens “versand”. As die passie eers verflou het, verloor ’n gemeente sy energie en kan die lamp weggevat word, sodat die gemeente nie meer die lig van God is nie. Volgens die geskrifte van die vroeë kerkvaders het die gemeente van Efese hulle egter reggeruk en weer ’n inspirerende gemeente in die vroeë kerk geword.

Dan word die brief afgesluit met die wonderlike versekering dat vir elkeen wat die oorwinning behaal, God te ete sal gee van die “boom van die lewe” in die middel van die tuin, wat in die paradys van God is. Dit verwys na die ewige en volmaakte saamwees met God. Die paradys is ’n Persiese woord wat “omheinde tuin” aandui en wat beteken om deel te wees van God se nuwe Jerusalem as die ewige bestemming.

Die sentrale boodskap van die brief aan Efese is dus dat ’n mens korrek en uit gewoonte en met leersuiwerheid die Christelike godsdiens kan lewe. Dit beteken egter nie dat ’n mens passievol is nie. Goeie gewoontes kan die passie doodmaak. Dan is godsdiens net kopkennis en nie hartservaring nie.

Alleen as ’n mens weer na die Gees van God luister, sal die passie en die hartservaring terugkeer, sodat God se gemeente oorwinnend kan lewe.  Mag dit ook waar wees van Adelaide en Fort Beaufort se gemeentes, dat ons die Here met passie en liefde sal dien, soos met wittebroodsliefde. Mag ons die Here met ’n ewige wittebroodsliefde dien.      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Ons lewe tussen die hemelvaartswolk en die wederkomswolk

SKRIFLESING: Handelinge 1: 9 – 11

Toe ek ’n kind was, het ek altyd op my rug op die gras gelê en kyk na die wolke. Dan het ek gekyk watter figuur ek in die wolk kan raaksien.

Somtyds sien jy ’n perd, ’n hasie, ’n besem, ’n ou man of ’n kabouter raak. Wolke het positiewe konnotasies by my. Wolke bring reën. Wolke bring altyd die hoop dat die droogte binnekort gebreek kan word. ’n Bewolkte dag is gewoonlik koel. Wolkformasies is mooi en aanskoulik. Elke dag lyk die wolke anders. Wolke kan ook onheilspellend lyk. Somtyds maak wolke jou bang, veral as daar hael in die wolke is. Dan soek jy gou parkering om jou voertuig teen moontlike haelskade te beskerm. Die mooiste is as die sonstrale sulke strepe deur die wolke maak, dan lyk dit kompleet of God met ons praat.

In die Bybelse tyd was wolke ook simbole van die vaartuie waarop God se boodskappers vervoer is.

Maar dit is verkeerd om die wolk met Hemelvaart net as ’n negatiewe assosiasie te sien. Jesus se Hemelvaart het vir ons net voordeel en geen verlies gebring nie. Deur Jesus se Hemelvaart het die Heilige Gees gekom om in persoon by ons almal tegelyk te wees. Daarom leef ons in die kragveld van die Heilige Gees. Jesus Christus is ook in ’n regeringsposisie aan die regterhand van die Vader geplaas, waar Hy saam met die Vader oor Sy skepping en Sy kinders regeer. Christus het ook opgevaar om vir ons plek in die hemel voor te berei. Christus is ook ons Voorspraak (ons Advokaat) aan die regterhand van die Vader, waar Hy vir ons pleit en ons saak voor God stel. Christus leef ook IN ons deur Sy Gees. (Die foto is die hemelvaartskerk, dit is die plek volgens oorlewering, waar Jesus opgevaar het na die hemel.)

Daarom is ons nie as weeskinders alleen agtergelaat nie. Nee, God het vir ons Sy Gees gegee om by ons te wees. Ons leef tussen die hemelvaartswolk en die wederkomswolk.

Hierdie tussen-tydperk is Gees-vervulde tyd. Daarom word die Hemelvaart opgevolg met die Pinkstertyd en met Pinkster Sondag. Die dissipels was tydens die tien dae van Pinkster eendragtig bymekaar in volhardende gebed. Daarom gaan die Heilige Gees en gebed altyd saam.

Wie bid, ontvang die Heilige Gees. Wie die Heilige Gees ontvang het, bid volhardend. Die gebedslewe en die werking van die Heilige Gees gaan saam. Die Heilige Gees leer ons om te bid.

In hierdie tussen-tydperk tussen die twee ankers, die Hemelvaart en die wederkoms, is die twee kenmerke van die kerk tussen die wolke:

  1. Geesvervuld
  2. Biddend

Daarom moet ons Geesvervuld en biddend die wederkomswolk afwag.

Ons moet met reikhalsende verlange op die wederkoms van die Here wag. Ons moet soos ’n bruid onsself gereed maak om die Bruidegom met die Wederkoms te verwag. Wie op die wederkomswolk wag, is soos ’n bruid wat haarself gereed maak en mooi maak om haar bruidegom by die bruilof te ontmoet. Sy klee haarself met skoonheid. Daarom is die kerk van die Here die bruid van Christus. Op die wederkomswolk kom haal Christus Sy kerk om vir altyd met Hom verenig te wees. Daarom, soos wat ’n bruid haarself mooi maak, met die oog op die bruilof, moet ons onsself versier met die wonderlike gawes van die Gees, soos dit in Gal 5 beskryf word: Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Dit is waarmee die bruid (Christus se kerk) haar moet klee as bruid van Christus.

Die teoloog Richard Bohren vertel hoe hy en sy vrou een middag gaan stap het in die woud. Terwyl hulle gestap het, was die lug oopgetrek sonder enige wolke. Hulle het ver gestap. Hulle het meer gedrentel as gestap, want niks het hulle aangejaag nie. By die omdraaipunt het die weer skielik verander. Die wolke is deur die wind aangedryf en was vol water. Hoe meer die wolke saamgepak het, hoe vinniger en haastiger het hulle gestap. Toe die eerste druppels dreigend neerplons, het hulle begin hardloop om betyds in die huis te kom. So sê hy is dit ook met die gelowige. Hoe groter jou bewustheid van die wederkomswolk wat kom, hoe haastiger lewe jy om die wil van God te doen.

Net so moet ons wat die wederkomswolk verwag, ons haas om in God se teenwoordigheid te kom. Vir die gelowige is die wederkomswolk soos reënwolke, gevul met God se seëninge en uitkoms.

Maar vir die ongelowige is die wederkomswolk egter soos haelwolke vol van Goddelike oordeel en bedreiging. Hael vernietig alles. So sal met die eindoordeel alles vernietig word waarop die mens tot dusver peil getrek het. Dit sal die skoonmaakproses wees van alles wat sleg en boos is.

Daarom leef ons in die tussen-tydperk tussen die wolke. Daarom moet ons Geesvervuld tussen die wolke leef. Biddend moet ons wag op die wederkomswolk wat ons meeneem op Christus se triomftog.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Extra Nos: Genade van elders, buite myself

SKRIFLESING: Johannes 3: 1 – 21

Geestelike lewe of spirituele lewe of geestelike ontwaking kom nie uit myself nie. Geestelike lewe is soos die geboorte van ’n baba. Die baba is passief en die moeder doen al die werk.

’n Geboorte is altyd ’n pynlike proses. Die moeder is aktief betrokke in die geboorteproses en die vroedvrou of dokter staan haar by.

Die baba self is heeltemal passief. Die geboorte is ook ’n vreugdevolle gebeurtenis.

Nuwe lewe word gebring. In ons gelese gedeelte vergelyk Jesus die wedergeboorte met ’n geboorte. Nie ’n geboorte van onder (jou eerste geboorte) nie, maar as ’n geboorte van bo (onder leiding van die Heilige Gees).

Ons is die nuwe geestelike baba en ons word uit God gebore, met die Heilige Gees as die vroedvrou wat die geboorte laat plaasvind. Sonder die wedergeboorte, die tweede geboorte of die een van bo, kan geen mens God sien nie.

Dit is wat Jesus probeer verduidelik aan Nikodemus in die nag toe hy na Jesus gesluip het, dat niemand moet weet van sy gesprek met Jesus nie.

Jesus verduidelik dat die nuwe geboorte deur die Gees as vroedvrou en met water (bedoelende die totale reinigingswerk van Jesus) moet plaasvind. Daarom is jou redding altyd buite jouself. Jy sal nooit redding vind binne jou eie storie nie. Jou storie moet altyd invloei in die storie van Jesus Christus se geboorte, kruisiging en opstanding. Die verlossing lê met ander woorde buite jouself (EXTRA NOS).

Deur die inspirasie van die Gees word nuwe geestelike lewe gebore. Die Gees is altyd aktief werksaam.

Soos die wind, kan jy die Gees nie met jou eie oë sien nie, maar jy kan sien wat die Gees doen. Die Gees bring verandering, genesing en heling. Die Gees bewerk die nuwe geestelike geboorte van die mens. Juis daarom moet ons altyd onder die leiding van die Gees lewe.

Die Gees laat jou kontemplatief leef. Ek het êrens die volgende werkende definisie van kontemplasie nagelees: “Kontemplasie begin daar waar ’n mens in intense liefde jou gedagtes op God rig. Die materiële, aardse dinge word onbelangrik. Jy leef daarby verby. ’n Mens besef ook jy kan nie meer op jou eie bestaan nie. Jy verlang na die goddelike, na dit wat groter as jyself is.”

Nikodemus se vraag kom uit sy eie verwardheid hoe ’n mens gered moet word.  Nikodemus was ’n vooraanstaande Joodse Fariseër met ’n Griekse naam en daarom het hy ’n bepaalde status in die gemeenskap geniet. Tog was hy verward. Kom die verlossing vanuit jouself, jou goeie lewe en die onderhouding van die Torah? Wat moet ek doen om gered te word? Nikodemus het toe nog nie gesnap dat jou verlossing van buite jouself kom nie.

Jou verlossing kan jy net anker in Jesus Christus. Daarom sal ’n skeepskaptein altyd as ’n storm woed en daar onsekerheid is oor die veiligheid van die boot en bemanning, die anker uitgooi na buite, weg van die skip in die diep blou water.

So moet ons onsself ook veranker in Jesus Christus wat altyd dieselfde is en bly. Wie sy sekerheid soek in homself, sy bekering of sy geloof sal altyd soos Nikodemus onseker wees. Geloofsekerheid is om seker te wees van die “OBJEK” van jou geloof, naamlik Jesus Christus. Jou verlossing moet jy altyd vasmaak aan Iemand buite jouself – die Christus, ons Verlosser.

Johannes gebruik die voorbeeld van die koperslang op die paal in verse 14 – 15 as voorbeeld van hoe die verlossing werk. Die verhaal in die Ou Testament gaan so: Die volk Israel was in die woestyn soos gewoonlik weer ongehoorsaam aan God. Die Here stuur toe ’n plaag slange die laer in en oral word mense dood gepik. Orals krioel slange uit.

Die volksleiers gaan na Moses toe en vra hom om vir hulle in te tree by God. Moses praat met God en die Here gee opdrag dat ’n koperslang gemaak moes word en op ’n paal gesit moes word reg in die middel van die laer. Elkeen wat gepik word, moes dan net na die koperslang op die paal kyk en dan sou jy nie sterf nie. Sommige het die storie nie geglo nie en het gesterf. Ander het gedoen soos Moses beveel het en is genees van die slangbyt.

Die slang op die paal is ’n vooruitverwysing na Christus wat verheerlik sou word op ’n paal, ’n kruishout, sodat elkeen wat in Hom glo nooit verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (vers 16). Met ander woorde, die verlossing kom nie van onder, van jou eie menslike werk nie, maar van bo, vanuit God geïnspireer

Martin Luther het ons opnuut met sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg, die kerk van alle tye, daaraan herinner dat verlossing buite jouself lê. Christus se geregtigheid het ons geregtigheid geword. Hy het dit daarteen gehad dat mense met die aflaatstelsel of goeie werke probeer opklim na God se guns toe. Nee, God het in Jesus Christus afgeklim na ons en ons enkel alleen uit GENADE gered, sonder enige bydrae van ons kant af.

So bewerk God deur sy Gees die wedergeboorte in die lewens van mense wat selfs dikwels nie eers daarvoor vra nie. God se Gees kan werk deur ’n ligte briesie, deur ’n ligte wind of sterk wind of selfs deur ’n orkaan of tornado. God werk met elke mens verskillend. Daarom moet ek elke dag die werking van die Gees soek in my lewe en dit plot en dan sal ek ervaar dat God werk in goeie en slegte tye. Hy laat alles tot my beswil meewerk.

Soos wat ’n mens ’n groot wêreldkaart of streekskaart ophang en met duimspykers aandui waar jy oral was, kan ’n mens God ook “merk” in elke detail van jou lewe. Oral langs my lewensweg het die Heilige Gees vir God teenwoordig kom maak in my lewe.

Soms kan ons egter aan geestelike atrofie lei. Atrofie kan byvoorbeeld voorkom wanneer jou arm lank in gips was en die dokter die gips afhaal, jou hand baie swak is, omdat die spiere nie oefeninge gekry het nie. Mense kan die werking van die Gees teenstaan en aan geestelike atrofie lei – hulle sien met ander woorde nie meer vir God in hulle lewe raak nie. Hulle ervaar nie meer die vars bries van die Heilige Gees nie. Daarom, soos wat koringare oorgee aan die beweging van die wind, moet ons onsself ook oorgee aan die beweging van die Gees. Ons moet as’t ware saam met die Gees (wind) dans.

Johan Cilliers verwys na die bekende skilder Matthias Grünewald se aangrypende skildery op die altaar in die kloosterhospitaal van Isenheim van Johannes die Doper. Hande speel ’n belangrike rol in die skildery. Daar is die biddende hande van Maria Magdalena en Maria, asook die hande van Johannes die Evangelis wat Maria vashou; die groteske verwronge hande van die Gekruisigde Jesus en dan sentraal die prominente wysvinger van Johannes die Doper wat na Jesus wys as die Seun van God; en met sy ander hand hou hy ’n Bybelperkament vas. Johannes die Doper se hele wese sit in die wysvinger: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. So moet ons hele wese ook daarop gerig wees dat ons verlossing buite onsself is en daarom slegs in Christus Jesus gevind kan word.

In Strydenburg het ek eenmaal ’n baie ou arm bruinman besoek wat op sterwe gelê het. Sy huis was net ’n kamer, ’n leë kamer met geen meubels nie en ’n grondvloer. Hy het op ’n ou verflenterde kombers gelê, in die hitte van die stryd met die dood gewikkel. Ek buig toe af na hom en vra of sy saak met die Here reg is. In ’n doodsroggeling tel hy sy een hand met ’n groot gesukkel en met moeite op en wys na iets agter my teen die muur. Hy het geroggel : “Daai man …” Toe ek omkyk, sien ek ’n eenvoudige afdruk van Jesus aan die kruis.

Verseker was die man se saak met God reg, want hy het weggewys van homself na dié Christus van die Bybel. ’n Paar ure later het hy gesterf. Verseker was hy veranker in die werk van Christus. Godsalig het hy gesterf, in die hande van die Here. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om ‘n streep te trek

SKRIFLESING: Daniël 1: 1 – 21

By wyse van beeldspraak, leef ons in die stad Babilon. Babilon in ons gelese gedeelte was ’n moderne wêreldstad, beheer deur die Galdeërs. Dit was in sy tyd ’n moderne wêreldstad wat die wêreld beheer het. Die wêreld het in ons tyd ’n global village geword, wat beheer word deur die inligtingstegnologie, geldmarkte, ekonomiese stelsels, die politiek, wêreldmagte en die moderne afgode van ons tyd. Ons leef as’t ware in ’n nuwe Babilon. Ons is as’t ware reisigers tussen “Babilon” en die “nuwe Jerusalem”, waarvan Openbaring praat.

Ons lees in die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadneser van Babilon opgetrek en Jerusalem beleër.  Jerusalem is verslaan en van die tempelgereedskap is na die heidense tempel in Sinar gevat. Baie Jode is ook gevange geneem om in diens van die Galdeërs en Nebukadneser te staan. Nebukadneser het vir Aspenas, die hoofpaleisbeampte opdrag gegee om jongmanne sonder liggaamsgebrek uit te kies, uit koninklike geslag en vername families. Faktore soos aantreklikheid, kennis, verstandigheid en bekwaamheid sou ook ’n groot rol speel in die keuse. Hierdie jongmanne moes opgelei word in die Galdeërs se taal en skrif, sodat hulle na drie jaar in diens kon tree van koning Nebukadneser van Babilon.

In die moderne Babilon waarbinne ons leef tel dié faktore ook. Jou afkoms, jou vername familie, ’n mooi voorkoms, kennis, bekwaamheid en verstandigheid is jou leer om te klim in die stad Babilon.      

Onder hierdie Judeërs was onder andere vier besondere jongmanne, wat naby aan die Here gelewe het, naamlik Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Die hoofpaleisbeampte het sonder dat hulle ’n keuse gehad het, hulle name verander na dié van afgode. Die naam Daniël wat beteken “my God is Regter”, is vervang met Beltsasar, wat beteken dat die afgod Bel die koning se lewe moet beskerm. Hananja, wat beteken “die Here het gewys dat Hy genadig is”,  is verander in Sadrag, “dienaar van Mardoek”, die hoofgod van Babel. Misael, wat beteken “Wie is wat God is?”, is verander na Mesag, met die betekenis “Wie is soos die god Agu?”. Asarja, wat beteken “die Here help”, is verander na Abednego, “dienaar van Nego”. Al vier het dus die name van afgode gekry.

Tog beskryf die boek Daniël hulle nie by hulle nuwe name nie, maar hou by hulle verbondsname. Die vier jongmanne het geen keuse gehad waar hulle bly of wat hulle geleer word nie, maar hulle het ’n radikale keuse uitgeoefen oor wat hulle eet. Die koning het opdrag gegee dat hulle elke dag van die koning se kos moes eet. Maar hierdie koningskos en wyn was aan die afgode gewy. Hier het hulle ’n definitiewe streep getrek. Hulle sou hulself nie verontreinig met kos en wyn wat aan afgode gewy is nie. Daarom het hulle vir die hoofpaleisamptenaar gevra om vir tien dae te eksperimenteer en hulle net groente en water te gee. Dan lees ons na tien dae was hulle voorkoms beter as dié van al die ander jongmanne. Hulle is toe vir drie jaar toegelaat om net groente en water te nuttig.

Die vier jongmanne het die geweldig ingewikkelde Babiloniese spykerskrif met sy 600 tekens en die rekenkunde van die 60-tallige stelsel bemeester. Hulle het hulself onderskei in alles van die heidense wêreld, behalwe om hulle geloof prys te gee. Hulle was standvastig in hulle geloof.

Toe hulle na drie jaar voor die koning gebring is, het die koning niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hierdie vier jongmanne het in die heidense agtergrond van die wêreldstad Babilon gewoon, maar hulle het ’n streep getrek as dit kom by geloofsake en die streep nie oorskry nie. Daarom het koning Nebukadneser hulle in sy diens gestel en hulle was tien keer beter as die towenaars en voorspellers in sy koninkryk.

Daniël het deurgaans ’n streep getrek wanneer dit by geloofsake kom. In koning Darius se tyd was sy goewerneurs-generaal op Daniël se vermoëns jaloers en hulle het  die koning ’n dekreet laat uitvaardig dat niemand vir 30 dae enige god of mens mag aanbid behalwe vir koning Darius nie.  Daniël het egter getrou gebly en nog steeds drie maal per dag tot die Here gebid. Hulle het hom betrap in sy huis waar hy die Here aanbid het. Teen die koning se sin is hy in die leeukuil gegooi, vol honger leeus. Maar die Here het die bekke van die leeus gesluit.

Ook Sadrag, Mesag en Abednego het altyd ’n streep getrek as dit by geloofsake kom. Toe koning Nebukadneser in Daniël 3 ’n goue beeld van 30 meter hoog en 3 meter breed laat oprig het in die provinsie Babel, het hy almal beveel om voor die beeld te buig. Sadrag, Mesag en Abednego het egter geweier. Hulle het ’n streep getrek in die grond. Hulle is toe verkla en voor Nebukadneser gebring. Hulle is in ’n brandende oond gegooi. Maar toe sien Nebukadneser dat daar ’n vierde wese in die oond is, wat soos ’n hemelwese lyk. Hy het Sadrag, Mesag en Abednego uit die oond laat kom en hulle hare was nie eens geskroei nie. Hulle het nie eens na brand geruik nie. Toe was die koning al drie goedgesind en het hy die Here erken.  

In die heidense wêreld waarin ons lewe word ons ook elke dag uitgedaag om strepe te trek van tot sover sal ons gaan, maar nie verder nie. Net soos wat Josef ’n streep getrek het en geweier het om met Potifar se vrou in die bed te klim. Of soos Dawid ’n streep getrek het en nie vir Saul (die gesalfde van die Here) doodgemaak het in die grot nie.

In ons ekonomie moet ons ’n streep trek om mense nie finansieel uit te buit nie. Ons mag nie skelm en gierig wees nie. Wanneer ek met ander mense se geld werk, moet ek ’n streep trek en nie korrup te wees nie.

In ons huweliks- en verhoudingslewe moet ons ’n streep trek, deur getrou aan mekaar te bly ten spyte van versoekings.

Wanneer dit by seksuele sake kom, moet ons die streep trek en dit binne die veiligheid en geborgenheid van die huwelik geniet.

In ons beroepslewe moet ons ’n streep trek, deur nie op ander mense jaloers te wees nie.

Wanneer ek wyn gebruik, moet ek my streep trek waar ek betyds ophou.

Wanneer ek grappe maak, moet ek my streep trek deur nie vuil grappe of rassistiese of seksistiese grappe te vertel nie.

Wanneer ek my taal gebruik, moet ek altyd ’n streep te trek deur my woordeskat nie te bevlek met vloekwoorde of growwe taal nie.

Wanneer ek in ’n magsposisie is, moet ek ’n streep te trek deur nie my magte te oorskry nie.

Wanneer ek ’n voertuig bestuur, moet ek ’n streep trek deur die verkeerswet te gehoorsaam.

Wanneer ek politiek praat, moet ek ’n streep trek deur nie van ander mense of volkere karikature te maak nie.

Wanneer ek ’n film kyk, moet ek ’n streep trek deur die regte goed te kyk.

Ek moet in etiese sake altyd ’n streep te trek tussen wat reg en verkeerd is.

Wanneer jy strepe kan trek, besit jy eers ware wysheid. Wysheid is om strepe te kan trek en nie daaroor te beweeg nie. Somtyds werk jy in ’n heidense omgewing met ’n baas wat op jou vloek en skel. Dan kan jy nog steeds in ’n heidense omgewing jouself onderskei, maar jy moet altyd standvastig wees in die doen van die wil van die Here.

Die wêreld ken nie strepe en grense nie. Chaos ken nie strepe en grense nie. Maar God se kinders is veilig, want hulle trek vir hulle strepe, volgens God se wil.

Daarom word hulle uit die leeukuil en die vuuroond gered. Daarom kan hulle hulself onderskei in die heidense wêreldstad van Babilon. 

Daarom moet ons onsself ook onderskei in die moderne en sekulêre wêreld van 2025.     

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die Koninkryk van God gaan nie oor die “WOW” nie

SKRIFLESING: Mat 13: 31 – 33, 44 – 52

Ons leef in ’n “WOW”-samelewing. Alles moet groter, beter en meer aanskoulik wees, sodat mense die “WOW”-ervaring kan hê. Daarom is daar so baie kompetisie in die samelewing.

Die versoeking is groot om ook net die “WOW”-ervarings in godsdiens na te jaag. Groot indrukwekkende eredienste met charismatiese predikers in groot massa-byeenkomste word die norm van sukses.

Baie gelowiges val voor die versoeking dat God net teenwoordig is by die groot byeenkomste. Hulle sal honderde kilometers ry om dit by te woon, maar sal nie ’n paar kilometers ry na die plaaslike erediens nie. Net wat “groot” is, sal hulle najaag.

Dit bring ’n mens ook by die sogenaamde welvaartsteologie, waar mense aanbid om ryklik en groot deur God geseën te word. Hulle glo as jy sukkel in die lewe is dit omdat jou geloof nie groot genoeg is nie. As jy egter suksesvol is, is dit omdat jy reg glo. Al bogenoemde is so ver van die waarheid soos wat die Ooste van die Weste af is.

In Mat 13 kry ’n mens die sogenaamde Koninkryk gelykenisse, waar Jesus Christus deur gelykenisse verduidelik hoe Sy Koninkryk is. In ons gelese gelykenisse is daar drie pare gelykenisse wat as volg ingedeel is.

  1. Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg verduidelik dat God se Koninkryk ’n onbenullige begin het.
  2. Die gelykenis van die verborge skat en pêrel verduidelik dat God se Koninkryk groot waarde het.
  3. Die gelykenis van die visnet en onkruid verduidelik die huidige openheid van God se Koninkryk, sowel as die eindoordeel.

Ons kom by die eerste paar gelykenisse:

1.) Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg verduidelik dat God se Koninkryk ’n onbenullige begin het.

Soos die mosterdsaad ’n baie klein saadjie is en later ’n groot struik word, so begin God se Koninkryk nederig en beskeie. Jesus is in ’n krip gebore, het op ’n donkie gery en het soos ’n misdadiger aan ’n kruis gesterf. Daar was niks groots en opspraakwekkends in Sy lewe nie. Maar deur Sy nederige lewe en sterwe het Hy die hele wêreld gered en beïnvloed sodat Sy Koninkryk groot geword het en mense oraloor die wêreld Sy naam prys en eer. Die eens magtige Romeinse Ryk wat in Jesus se tyd bestaan het, word nog slegs beskrywe in die geskiedenis en kan net gesien word in die ruïnes. Daarteenoor is Jesus se Koninkryk dinamies groeiend. Die voëls van die hemel wat in die mosterdplant nes maak, is simbool van die nasies van die aarde wat hul rus en verlossing in Christus Jesus vind. ’n Nederige begin, maar ’n grootse groei.

Die gelykenis van die suurdeeg het dieselfde strekking. Gewoonlik is ’n stuk deeg van die vorige baksel gebruik om die nuwe baksel in te suur. Die suurdeeg werk onopsigtelik en laat die deeg rys om ’n brood te maak. Net so werk God deur Sy Gees onopsigtelik in die lewens van mense en verander hulle van binne-af. So moet die gelowiges deur hulle dade en lewe soos die werking van suurdeeg ander mense se lewens beïnvloed en verander. Suurdeeg werk net wanneer dit gemeng word met die deeg. Net so moet ons in die wêreld leef, sodat ons die wêreld kan deursuur met ons Christelike getuienis. Die mosterdsaadjie en die suurdeeg het ’n nederige begin, maar bring groot verandering. So werk God ook deur die klein en onbelangrike aktiwiteite om ander mense se lewens te verander. Wat kan minder aandag trek as ’n klein kerkie in ’n klein dorpie, of ’n tent met ’n grondvloer of ’n Sondagskoolklas, of iemand wat ’n ander mens nederig help in die geheim? God werk waar een mens met ’n ander vriendelik is of waar ’n persoon sy vyand vergewe of iemand ’n sieke se hand vashou of vir ’n sterwende ’n bietjie water aangee. God werk in die geborgenheid, waar iemand in die geheim getuig en goed doen aan ’n ander. Goed wat in die geheimenis gedoen word het dikwels meer trefkrag as ’n byeenkoms van duisende mense. God se Koninkryk kom dikwels sonder die geskal van trompette en massiewe byeenkomste. God se Koninkryk groei dikwels ónder die radar van mense.

Dan volg die tweede paar gelykenisse.

2.) Die gelykenis van die verborge skat en pêrel verduidelik dat God se Koninkryk groot waarde het.

Die Koninkryk van die hemel is ook soos ’n man wat ’n skat ontdek, dit toegooi en alles verkoop om daardie stuk grond te koop. Hy wil die skat nie verkoop nie, maar behou ter wille van die vreugde om dit te besit. In die antieke tyd is kosbaarhede dikwels begrawe, sodat dit nie gesteel kan word nie. So moet die Koninkryk van God ook vreugde bring, wat gebêre moet word in ons harte, sodat niemand dit kan steel nie.

Die daaropvolgende gelykenis vertel van ’n pêrel wat deur iemand gevind word. Die persoon verkoop alles om die pêrel te koop vir die vreugde om dit te besit. As jy die Koninkryk van God gesoek het of as jy dit toevallig ontdek het, is die waarde so groot dat dit vir jou vreugde bring wat jou hele lewe verander. Soos Paulus in Fil 3: 7 sê: “ … wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus”. Vreugde, en nie plig, moet ’n mens tot beweging bring in God se Koninkryk. Roep mense op tot lewensvreugde en mense sal reageer op die roepstem van die Koninkryk van God.

3.) Die gelykenis van die visnet en onkruid verduidelik die huidige openheid van God se Koninkryk, sowel as die eindoordeel.

Die volgende paar gelykenisse is oor ’n visnet en onkruid.

’n Visnet was ongeveer 250 tot 300 meter lank en tot 8 meter breed. Die net se net-openinge was baie klein en het alle visse gevang. Daar was rein en onrein visse met elke vangslag wanneer die net ingetrek word.

Die vangs was groot, maar alles was nie eetbaar nie. Volgens Levitiese wetgewing in Lev. 11: 9 – 12 was sommige visse onrein, veral die wat geen skubbe en vinne gehad het nie. In die meer van Galilea was ten minste 24 spesies wat as onrein beskou is. So sal God in Sy Koninkryk meng met slegte en goeie mense. Daarom het Jesus saam met die sondaars en tollenaars en slegte mense geëet en gekuier. Hy het sy net wyd ingegooi, sodat sondaars ook tot bekering kon kom. So het hy vir Saggéüs ook in Sy vangnet gehad en hom verander in ’n kind van God. God se Koninkryk is nou oop vir almal, maar eendag met die oordeelsdag sal die engele kom en die slegte en die goeie visse van mekaar skei. Nou is dit nog genadetyd, die net moet wyd gegooi word sodat die wêreld gered kan word. Maar met die oordeelsdag sal Christus ’n onderskeid maak tussen die ware en valse kerk. Die ware kerk het Christus as hul enigste skat, maar die valse kerk leef sonder Christus as enigste bate. Daarom het God se Koninkryk ook ’n sekere dringendheid, naamlik dat die net eendag ingetrek kan word. Net so is dit ook met die gelykenis van die onkruid. Die koring sal in God se skuur bymekaar gemaak word, maar die onkruid sal verbrand word.

Die drie pare Koninkryk gelykenisse word afgesluit met die beeld van die huiseienaar wat uit sy spens nuwe en ou dinge ter voorskyn bring. Hierdie beeld het as agtergrond die pa van die huis wat die spens en voorraadkamer beheer. Net so moet die dissipels en die kerk uit God se voorraadkamer die ou dinge (Ou Testament) en die nuwe dinge (Christus se nuwe interpretasies) leer.

God se Koninkryk is nie op “WOW”-ervaringe alleen gebou nie. God kan Sy Koninkryk ook bou met ’n erediens op die platteland, waar daar nie baie lidmate in die erediens is nie, soos in Adelaide en Fort Beaufort. God werk nie met getalle in die erediens nie, maar kan eerder gesien word waar kerkgangers hulle lewens verander, om al meer te lyk na Christus Jesus se lewe. God kan Sy Koninkryk laat kom deur die klein en onbenullige liefdesdiens wat ons verrig of deur die eenvoudigste samekoms van God se kinders, al is hulle nie baie nie. Grootheid, aansien en dinamiese vergrype van die Evangelie kan soms die Evangelie meer skade bring as die eenvoud van die opregte hart van die gelowige wat God dien en God se naam eer. God het nie in grootheid gekom nie, maar in nederigheid. Nederigheid is die “kompos” van die mosterdsaad waarbinne God se Koninkryk kom. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God fluister deur die gebroke wêreld

SKRIFLESING: Luk 24:36-48

Wanneer dit té goed gaan met die mens kom daar dikwels verwydering tussen mens en God en tussen mense onder mekaar. Dit sien ons maar te gereeld in verhoudinge. Wanneer dit goed gaan op ’n plattelandse dorp kan mense dikwels naywerig en jaloers op mekaar raak. ’n Dorp kan dan “clicks” hê en mense kan onder mekaar skinder.

Maar sodra daar swaarkry en verwondheid kom in iemand se lewe op die dorp, staan die dorp soos een man saam om te help. Dit is dikwels krisisse en siekte wat mense weer bymekaar bring.  Dikwels word gesê: “ons kan lekker onder mekaar baklei, maar as daar swaarkry is, staan ons bymekaar.” Verwondheid bring mense nader aan mekaar. Verwondheid bring mense nader aan God.

Jesus het geloof geskep deur sy verwondheid. Ons lees dat toe Jesus aan die dissipels verskyn het en hulle bang was dat Hy ’n spook is, het Hy vir hulle sy wonde gewys en hulle het verwondering en blydskap beleef. In Jesus se verwondheid het hulle Hom herken as die gekruisigde. Skielik het alles vir hulle sin gemaak. Nou glo hulle in Sy opstanding.

Daar is ’n Japannese kunsvorm om gebreekte potteware nie weg te gooi nie, maar om dit te herstel deur die krake met goud te vul en so weer die pot of erdewarestuk te heel. Jy noem die kunsvorm “kintsugi”. Die pot lyk dan mooier en is sterker as voorheen.

Die volgende aanhaling vertel vir ons meer van “Kintsugi”: “Dit is Japannese kuns om gebreekte erdewerk te herstel met lak gemeng met poeiergoud, silwer of platinum. In plaas daarvan om die krake weg te steek, beklemtoon hierdie tegniek hulle en verander die gebrokenheid in iets moois en waardevol. Benewens sy fisiese toepassing dra “kintsugi” ’n diep filosofiese betekenis – dit omhels onvolmaaktheid en sien gebreektheid as deel van ’n voorwerp se geskiedenis eerder as iets om te vermom. Baie mense vind inspirasie in “kintsugi” as ’n metafoor vir veerkragtigheid, genesing en die vind van skoonheid in die lewe se letsels.”

Met Jesus se eie verwondheid het Hy ons krake kom vul om ons mooier en sterker te maak. Wie toelaat dat Jesus se teenwoordigheid in die krake van sy of haar lewe kom, sal weer heelheid en sterkte beleef.

Wanneer gelowiges hulle verwondheid met mekaar deel, skep dit gemeenskap tussen gelowiges.

In die Nagmaal openbaar Jesus Sy gebreekte liggaam en Sy gestorte bloed en Hy kom skep daardeur die gemeenskap van gelowiges. Jesus het sy gebreektheid kom wys. Hy het Sy “menslike natuur”, met al die broosheid wat daarmee saamgaan, vir ons kom wys met sy menswording. Om mekaar jou verwondheid te wys, kan maak dat mense nader aan mekaar kom. Mense identifiseer eers met jou wanneer jy jou swakhede, jou krake, jou menslikheid met hulle deel. Dan deel hulle gewoonlik ook met jou. Henri Nouwen het gesê: “The only feelings that do not heal are the ones you hide.” Maar wanneer jy jou sterkte en prestasies voorhou, skep jy afstand.   

Leonard Cohen het ’n pragtige lied gesing wat ’n wêreldtreffer was. Die refrein klink so:

 “Ring the bells that still can ring

Forget your perfect offering

There is a crack, a crack in everything

That’s how the light gets in”

So is niemand van ons se lewe perfek nie. Daar is ’n kraak in alles. Daar is krake en krakies in elke mens se lewe. Ons is nie daar om mekaar daaroor te oordeel nie. Ons elkeen het wonde en gewondheid. Die wonder daarvan is egter dat God ons gewondheid wil gebruik om ander se wonde te heel. Deur ons krake wil God Sy lig laat skyn in ons. Om God se lig en liefde te ervaar, moet ons eers die krake in ons eie lewe erken en daaroor eerlik wees.

As jy nie ’n gekraakte erdepot is nie, kan God se lig nie in jou lewe inskyn nie. Dan sal jy lewe in die donkerte van jou eie bedompige, donker siel.

Henry Nouwen, wêreldbekende Rooms- Katolieke priester en akademikus, het onder andere die bekende boek geskryf: “The wounded healer.” In die boek onderstreep Nouwen dat ons ons wonde moet gebruik om ander te help om genees te word van hulle wonde. Gedeelde verwondheid is gedeelde pyn. Wie saam pyn ervaar, ervaar saam ook verligting. Wat gedeel word, is ligter.

Hoor wat skryf Nouwen: Niemand ontsnap daaraan om gewond te word nie. Ons is almal gewonde mense, of dit nou fisies, emosioneel of geestelik  is. Die hoofvraag is nie: ‘Hoe kan ons ons wonde wegsteek?’ sodat ons nie verleë hoef te wees nie, maar: ‘Hoe kan ons ons verwonding in diens van ander stel?’ Wanneer ons wonde ophou om ’n bron van skaamte te wees, en ’n bron van genesing word, het ons gewonde genesers geword.”

Verder skryf Henri Nouwen: Medelye vra ons om te gaan waar dit seermaak, om die plekke van pyn binne te gaan, om te deel in gebrokenheid, vrees, verwarring en angs. Medelye daag ons uit om uit te roep saam met diegene in ellende, om te treur saam met diegene wat eensaam is, om te ween saam met diegene in trane. Medelye vereis dat ons swak is saam met die swakkes, kwesbaar saam met die kwesbares, en magteloos saam met die magteloses. Medelye beteken volle onderdompeling in die toestand van menswees.”

Treffend som Henri Nouwen sy boek op met die volgende opmerking: “The main question is not, how can we hide our wounds…but how can we put our woundedness in service to others.”

In Jeremia, lees ons van die pottebakker en die klei. God is die pottebakker en Israel is die klei. Ten spyte daarvan dat Israel dikwels misluk, ineenstort en krake het, gooi God nie die klei weg nie. Hy knie weer die klei en maak ’n nuwe voorwerp op die pottebakkerswiel. So gooi die Here ons nie weg, wanneer ons misluk nie. Op die pottebakkerswiel vorm hy ons weer tot voorwerpe van Sy genade.

Ons word met ons eie “wonde” die  geloofwaardige getuies van ons verlossing. Soos wat Jesus met sy wonde verlossing gebring het, is ons wonde die getuies van ons eie verlossing. Ons kan ons wonde voorhou as voorbeelde  waaruit God ons verlos en vir ons nuwe skoonheid en krag gee.

Ons wonde word Evangelieverkondiging. Want vanuit ons wonde het God ons gered deur Jesus se wonde om verlostes te wees. Skielik maak ons wonde sin teen die groter prentjie van verlossing.

Ek hoor God in die wonde van hierdie wêreld fluister.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)