KERSFEES WAPENSTILSTAND VAN 102 JAAR GELEDE, HET VIR ONS ‘N BOODSKAP VAN HOOP

KERSFEES WAPENSTILSTAND VAN 102 JAAR GELEDE, HET VIR ONS ‘N BOODSKAP VAN HOOP

Die eerste winter en Kersfees van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is gekenmerk deur ‘n reeks wapenstilstande aan die Westelike front tussen die Duitse en Engelse magte. In die week voor Kersfees het die verskillende magte Kersliedere vir mekaar oor en weer gesing. Daar moet onthou word dat die niemandsland tussen die fronte maar baie nou was en hulle mekaar kon hoor.

kersfees-vredeOp Oukersaand 1914 en op Kersdag 2014 het die Duitse, Engelse en mindere magte die Franse soldate hulle bomskuilings en loopgrawe verlaat en mekaar in niemandsland ontmoet. Hulle het geskenke, sjokolade, alkohol en sigarette onder mekaar uitgedeel. Hulle het die dooies en gewondes verwyder en daar is selfs aangeteken ‘n sokkerwedstryd tussen die Britte en Duitsers op Kersdag  2014. In sommige dele van die front het die welwillendheid geduur tot die dag na Kersfees en op ander dele van die front het dit geduur tot Nuwejaarsdag.

“Future nature writer Henry Williamson, then a collow nineteen – year – old  private in the London Rifle Brigade, wrote excitedly to his mother on Boxing Day: Dear Mother, I am writing from the trenches, is 11 o’clock in the morning. Beside me is a coke fire, opposite me a ‘dug-out’ (wet) with straw in it. The ground is sloppy in the actual trench, but frozen elsewhere. In my mouth is a pipe presented by the Princess Mary. In the pipe is tobacco. Of course, you say. But wait. In the pipe is German tobacco. Haha, you say, from a prisoner or found in a captured trench. Oh dear, no! From a German soldier. Yes a live German soldier from his own trench. Yesterday the British & Germans met & shook hands in the Ground between the trenches, & exchanged souvenirs, & shook hands. Yes, all day Xmas day, & as I write. Marvellous, isn’t it?”

Die militêre owerhede was natuurlik woedend gewees, want die soldate het na die wapenstilstand mekaar as mense beleef en was nie baie ernstig om mekaar te beveg nie. Dit het die militêre owerhede gedwing om magte te verplaas en te verskuif. Dit het tyd gevat voordat die oorlog weer sy volle momentum bereik het. Daar is natuurlik ook ‘n verbod geplaas op die soldate om nie weer sulke welwillendheidsgebare teenoor die vyand te herhaal nie.

Tog in die historiese gebeure van presies 102 jaar gelede, skemer medemenslikheid en die lewensveranderde krag van die Christus geboorte en Kersfees deur. Diep in elke mens se hart soek hy en sy vrede en welwillendheid. Maar dit vra dapperheid van ons, soos van die offisiere tydens die Kersfees van 1914 aan die Westelike front om te werk vir vrede en welwillendheid. Ons lewe in ‘n brutale wêreld, waar sulke wonderverhale, heldeverhale ons nuwe hoop gee dat dit wel moontlik is. Natuurlik moet dit nie na Kersfees of Nuwejaar ophou nie.

Ons moet volhardend dapper genoeg wees om in die mees brutale tye van konflik tussen mense, rassegroete en volkere ‘n slag te slaan vir vrede en welwillendheid.

Christus het met sy geboorte, kruisiging en opstanding, mense en mensegroepe met mekaar versoen. Hy was dapper genoeg om aan die kruis te sterf om welwillendheid en vrede moontlik te maak. Wil jy deel wees van die ewige skietstilstand en vrede wat Christus gebring het. Beveg eerder die kwaad met die goeie. Net dapper mense met integriteit, vervul deur die Heilige Gees kan dit regkry.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

DIE BROOD WAT IN DOEKE TOEGEDRAAI IS …

DIE BROOD WAT IN DOEKE TOEGEDRAAI IS …

Ons het almal die idee dat Christus Jesus in ‘n krip in ‘n stal gebore is, omdat daar nie plek vir hom was nie. Die Griekse woord “phatne” kan beteken ‘n voerbak vir diere, maar die Jode het waarskynlik eerder gedink aan ‘n houtbak, waarin kos, veral brood geberg is. Jode het hul brood gewoonlik toegedraai in doeke en dan in ‘n houtbak neergelê. Wanneer die Evangelie van Johannes in hoofstuk 6: 48 sê: “Ek is die brood wat lewe gee.” dan is die ander vertalingsmoontlikheid van “pathne” as broodbak die waarskynlikste. Joh 6: 51: “Ek is die lewende Brood, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En dié brood wat ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” Jesus Christus het immers nie vir diere gesterf nie, maar vir die mensdom. Dit was ook ongehoord om ‘n baba in ‘n vuil onhigiëniese krip neer te lê, teen die agtergrond van al die higiëniese wette van Deuternomium. In Bybelse tyd was die stal nie los van die wooneenheid nie. Nee, gewoonlik het die diere onder geslaap en die mense in die boonste verdieping en die dak was gewoonlik ‘n plek vir sosiale verkeer. Die Afrikaanse woord “woonstel”, kom van die woord “woonstal”. Onder woonstal verstaan ons waar mense en diere saam gebly het.

bread_625x350_61464090538Interressant is dat Betlehem, die dorp waar Jesus gebore is beteken: “Huis van Brood”. Teen die lig van al bogenoemde is die volgende die bes moontlike verduideliking:

Jesus is soos brood in doeke toegedraai en neergelê in ‘n broodbak in Betlehem, die Huis van Brood – om Brood vir die wêreld te word. Daarom kan elkeen wat honger is van die Brood eet wat van die hemel neergesit is op die aarde, soos die manna van die Ou Testament. Al verskil dié manna het bederf geraak, maar Jesus is die brood wat  ewig hou. Sy ongesuurde liggaam, vertel van sy lyding en seer – om die baie seer van die wêreld weg te neem.

Met die instelling van die eerste Nagmaal word Jesus se liggaam ook die Nagmaalsbrood, wat gebreek word. “Die brood wat ons breek is die gemeenskap met die liggaam van Christus. Neem, eet en dink daaraan hoe Jesus Christus se liggaam gebreek is tot volle versoening van al ons sondes.”

Die Kersfees kan ons weer gaan buk by die broodbak van Betlehem en vir ons ‘n stukkie van Jesus gaan afbreek en eet en glo !

Brood is lewe en Jesus is Lewe !

“Simply Life, Bread and Wine !”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

LIG IS GRATIS EN AANSTEEKLIK

LIG IS GRATIS EN AANSTEEKLIK

Die Ou Testament begin met die woorde:  “Laat daar lig wees!” En daar was fisiese lig. Die Nuwe Testament begin in Johannes ook met ‘n nuwe geestelike Lig wat aan die kom was na hierdie wêreld. Daarom staan daar in Johannes 1: 9 “ Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.”  Albei Testamente begin met lig. Die Ou Testament met fisiese lig en die Nuwe Testament met geestelike Lig. Natuurlik weet ons dat hierdie geestelike Lig, Jesus Christus is.

Sonde, bekommernis, probleme, verslaafheid, stukkende verhoudinge en ander emosionele probleme laat jou leef in ‘n geestelike donkerheid. Hierdie donkerte is stikdonker, verstikkend en oorweldigend.

Die enigste antwoord op jou lewe, is om in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te leef. Hy is die WARE LIG!

red-candle

Dit kos niks om een kers aan te steek by ‘n ander kers nie. Natuurlike lig kos nie geld nie. Net so is Jesus Christus die Lig van die wêreld, gratis vir ons gegee. Ons kan uit Sy lig lewe. Kunsmatige lig, soos elektriese lig kos geld. Jammer hoe baie mense agter kunsmatige lig kan aanhardloop, terwyl die geestelike Lig, Jesus Christus verniet aan ons gegee is.

Mag ons in die Kersfeestyd weer by die ware, natuurlike Lig uitkom en in ons geloof versterk word, sodat ons in 2017 weer in ‘n opregte persoonlike verhouding met die Here Jesus kan leef.

Soos wat ons die Lig verniet gekry het, moet ons ook die geestelike Lig uitdra en ander mense wie se kers dood is, weer aansteek met die ewige lig. Daar is so baie mense wie se kerslig dood is of wie se kerslig rook. Ons kan so baie vir ander mense beteken. Jou getuienis, gebed, bemoedigende of bevestigende woorde kan so baie rokende kerse weer aan die brand kry. Deur woorde van dankbaarheid en waardering kan ons vir so baie mense, weer selfwaarde in die lewe gee.

Wat gaan jy in 2017 vir ander mense beteken? Wie die vraag ernstig opneem sal in 2017 weer persoonlike sin en lewensbetekenis ontdek.

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide

 

Waarom talm God so lank?

Waarom talm God so lank?

Waarom talm God so? Waarom vat God sy eie tyd? Waarom werk God nie haastiger? In ‘n wêreld gekenmerk deur lyding word die vraag gereeld gevra deur gelowiges en ongelowiges.

1378771556459

Deel van die antwoord is dalk om te kyk na die onderskeiding van die gebruik van die volgende twee Griekse woorde “chronos” en “kairos”. “Chronos is soos horlosietyd, 24 ure in ‘n dag, 60 minute in ‘n uur en 60 sekondes in ‘n minuut. Ons gebruik “chronos” tyd om ons dag te beplan of om afsprake te bevestig. “Kairos” tyd beteken die volmaakte oomblik op die regte tyd en regte plek. Dit is die volmaakte regte oomblik soos wat ‘n foto op presies die regte oomblik geneem word.

Die foto was ‘n tyd gelede sensasionele nuus, toe die verskynsel vir die eerste keer op film vasgelê is. Vir die eerste keer sedert vliegtuie deur die klankgrens gebreek het, kon ons hierdie foto sien wat in ‘n spesifieke oomblik verewig is.

Dit is ‘n F-18 Hornet van die Amerikaanse vliegdekskip USS Constellation wat êrens oor die Atlantiese oseaan vir klank begin wegvlieg het teen 1123km/h by standaard -atmosferiese toestande. So ‘n deurbraak veroorsaak ‘n blitsvinnige kondensasie van waterdamp, wat in die reël tog nog onsigbaar bly. In die “kairos” geval was die weerstoestande op die oomblik ideaal om die skouspel vir die eerste keer in die geskiedenis vas te vang. Selfs die fotograaf was op die regte oomblik en tydstip op die regte plek.

Kairos” tyd is die spesifieke oomblik wat alles tegelyk gebeur. Wanneer verskillende gebeurtenisse en omstandighede vir daardie oomblik bymekaar uitkom. Dit kan natuurlik ‘n goeie of ‘n slegte uitkoms wees. Ons as gelowiges glo dat God die goeie en die slegte goed wat met ons gebeur alles vir ons ten goede laat meewerk.

‘n Mooi voorbeeld van ‘n Kairos oomblik in een van ons lidmate se lewe is in die lewe van Zelda Meyer toe sy jare gelede in die poskantoor op Fort Beaufort gewerk het. Rowers het die poskantoor aangeval en hulle gyselaar gehou. Hy het van haar sleutels geeis. Met voorbedagte rade om haar summier dood te skiet het die rower die vuurwapen oorgehaal om die doodskoot te gee. Die patroon het in die “kairos” oomblik uitgeval en al wat sy gehoor het is die “kliek” van die vuurwapen teen haar kop. Was dit toevallig. Nee, ons as Christene glo dit is Godsvallig. God wou op daardie oomblik haar lewe red, want hy het nog werk vir haar. God het in die “kairos” oomblik bevestig dat Hy ingegryp het. Die meeste wonderwerke is “kairos” momente.

Aristoteles, ‘n antieke Griekse filosoof sê dat “kairos” die tyd en spasie is waarbinne bewyse van ingrype (in retoriek) plaasvind. Ons as Christene sou Aristoteles kon verfyn, deur te sê “kairos” oomblikke is tye en spasies waar God Homself aan die mens bewys, as die teenwoordige God. Ons almal het sulke Godsmomente waar God helder en duidelik Homself openbaar.

Die wonderverhaal van die opwekking van Lasarus uit die dood is so ‘n “kairos” moment. Lasarus is van Betanië en die broer van Maria en Martha. Maria was die vrou wat Jesus se voete met reukolie gesalf het en met haar hare afgedroog het. Jesus was lief gewees vir Lasarus.

Daar was ‘n besondere band gewees tussen Jesus en Lasarus. Toe Lasarus siek geword het, het die susters ‘n boodskap gestuur na Jesus, bedoelende dat Jesus vir Lasarus moet kom gesond maak. Dan lees ons hoedat Jesus talm om na Lasarus te gaan.

Jesus het letterlik twee dae getalm voordat hy plan gemaak het om na sy vriend Lasarus toe te gaan. Letterlik het Jesus geen spesiale of haastige planne gemaak om so gou as moontlik by Lasarus uit te kom nie. Dit lyk as’t ware of Jesus nie omgee of die erns van die situasie besef nie.

Sy optrede ontstel vir Maria en Martha, asook die Jode wat hulle ondersteun het. Toe Jesus wel twee dae later daar opdaag, kan ‘n mens die verwyt in Maria, se stem hoor: “As U hier was, sou my broer nie sterf het nie.” Martha kom nie eers uit nie, waarskynlik is sy kwaad vir Jesus. Die afstand tussen Jerusalem is skaars 3 km. Dit is minder as twee uur se stap en Jesus het niks gedoen nie. Lasarus is toe alreeds 4 dae dood gewees. Waar was God? Waar was Jesus toe ons om nodig gehad het?

Dit is ook die vrae wat ons dikwels vra, as God talm ons gebede te verhoor? Waarom vat Jesus so lank? Hoekom doen die Here nie iets nie? Ons verwyte kan dikwels krake van twyfel saai in ons geloofslewe. Die Here was nie daar gewees toe ek Hom nodig gehad het nie.

Ons lees in ons teksgedeelte hoedat Jesus aan die huil gegaan het. Sy huil is in die Griekse teks, baie meer aggressief gestel as in die Afrikaanse teks. Hy het letterlik “gesnork” soos ‘n perd wat ontsteld was. God huil oor Lasarus en Hy is vir die “dood” kwaad wat sy vriend weggeneem het.

Hulle neem Jesus al huilende na Lasarus se graf. Hy beveel dat die klip weggerol word.

Toe bid Jesus tot Sy Vader wat in die hemel is dat ‘n wonderverhaal hier moet afspeel terwille van die mense, sodat hulle mag glo dat die Vader vir Jesus gestuur het.

Jesus roep toe met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Dan staan daar het die oorledene uitgekom, nog met die grafdoeke aan sy lyf en gesig. Jesus beveel hulle om die grafdoeke te verwyder.

Die vraag is nou. Waarom stel Jesus uit om te help. Waarom talm hy twee dae voor hy ‘n 3 km reis aanpak om ‘n vriend te help.

Ons moet die volgende Joodse gebruike goed verstaan. Iemand is in die Joodse gebruik eers op dag 3 of 4 as dood verklaar, omdat die dood en ‘n koma so naby aan mekaar is. In daardie tyd was die mediese wetenskap ook nog onderontwikkel en was dit algemene gebruik om eers op dag 3 iemand as dood te verklaar.

img4edf4b53ceb12

Gewoonlik teen daardie tyd het die reuk van die dood gewoonlik ook begin ruik. Sou daar in daardie tyd doodsertifikate uitgereik word sou dit eers op dag 3 of 4 gewees het. Dit verklaar Martha se woorde: “Here hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus het met ander woorde getalm om na Lasarus te kom, sodat hy wou hê Lasarus moet amptelik dood verklaar word. Jesus wou Lasarus uit die dood opwek en nie maar net gesond gemaak het nie. Hy wou aantoon dat Hy die Prins van die Lewe is. Dat Hy inderdaad die Seun van die lewende God is. Daarvoor het Jesus “kairos” tyd nodig gehad en nie “chronos” tyd nie. Jesus verskyn nie in die “chronos” tyd nie, maar in die “kairos” tyd.

Die troos van die gedeelte is om aan ons te toon, dat ons Jesus, dikwels sal vind werk op ‘n spesifieke oomblik, spesifieke plek en spesifieke omstandigheid. Wanneer al die faktore volmaak is, sal Jesus ingryp. Daarom beteken die woord “kairos” (moderne en klassieke Grieks) ook “weersomstandighede”.

‘n Spesifieke weersomstandigheid sal eers plaasvind wanneer al die faktore daarvoor gunstig is. Nie verniet word die wederkoms van die Here verbind met weerverskynsels nie. Die Here sal op die “kairos” moment, die volmaakte tydstip sal Hy kom en die nuwe hemel en aarde vestig. Ons werk in die “chronos”. God werk in die “kairos”. Daarom verstaan ons God aldag nie so reg nie. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om grense oor te steek na skuurpapiermense….

Om grense oor te steek na skuurpapiermense….

Alle grense wat daar bestaan is die gevolge van sonde. Reg aan die begin het Adam en Eva gesondig en hulle is uitgesit uit die Paradys, met engele as wagte van die eerste grenslyn. Met die toring van Babel was die straf van die mense dat daar skeidslyne gekom het tussen tale en kulture. Mense het mekaar nie verstaan nie en elkeen het weg getrek om die hele aarde te bewoon, soos wat God se oorspronklike opdrag was.

Daar is grense in die politiek, die ekonomie, geslagverskille, godsdiensverskille, taal en kulturele spanningsvelde. Daar is bykans nie ‘n sfeer in die samelewing waar daar nie een of ander grens bestaan tussen mense nie. Hoe banger jy is of hoe onsekerder jy is, hoe meer geneig is jy om ‘n grens of muur rondom jou te bou.

Skuurpapiermense-WEB2In elkeen se lewe is daar natuurlik ook die sogenaamde “Skuurpapiermense”, dit is nou die mense met wie ‘n mens moeilik oor die weg kom. Hulle skuur gedurig aan jou. Somtyds is dit iemand by die werk, of in die gemeenskap waar jy bly of iemand wat saam met jou in jou huis bly en somtyds kan ek self ook daardie skuurpapiermens wees. (Braam van der Schyff van Impetus gebruik die term van skuurpapiermense.)

In ons gelese gedeelte van Joh 4: 1 – 42 lees ons hoedat Jesus grense oorsteek na skuurpapiermense en nuwe verhoudinge bou. Jesus en sy dissipels het weggevlug uit Judea oor die jaloesie van die Farisieërs omdat Jesus meer dissipels maak as hulle. Hulle was toe op pad Galilea toe. Hulle het toe ‘n kort pad gevat deur die land van Samaria, waar die Samaritane gebly het. Hulle kom toe op die warmste van die dag by die dorpie Sigar. Net buite die dorp rus Jesus toe by die put, terwyl sy dissipels dorp toe is om kos te koop.

Toe gebeur die ondenkbare. Jesus maak homself onrein om ‘n Samaritaanse vrou en haar dorp rein te maak.

vrou-put-heqiDaar was drie dinge wat teen dié vrou getel het. Eerstens was dit haar afkoms. Sy was ‘n Samaritaan en Jesus was ‘n Jood. Die Jode het van die Samartiane as “honde” gepraat en daar was voordurende spanning tussen die twee groepe. Die twee groepe het ook nie met mekaar gemeng nie. Die tweede was haar geslag. In die antieke tyd was dit onbetaamlik vir ‘n man om met ‘n vrou in ‘n openbare plek soos die put te praat. Vroue was benede mans gesien en was besittings van mans. Die derde rede was dat sy reeds 5 keer geskei was en dat die 6 de man ook ‘n saambly verhouding was. In die Samaritaanse huwelikswet was daar ‘n bepaling dat ‘n vrou net drie keer mag skei. Daarna moes sy ongetroud bly. Sy was dus ‘n uitgeworpene in haar dorpie. Sy was ‘n regte skuurpapiermens. Niemand het van haar gehou nie. Dit verklaar ook waarom sy op die hittigste van die dag, 12h00 vir haar en haar diere gaan water skep. Al die vernaamste en goeie mense van goeie karakter het vroegoggend as dit nog koel is gaan water skep. Sy moes haar beurt afwag en heel laaste, wanneer die op sy warmste is gaan water skep. Sy was ook alleen – ‘n verworpene! (Tussen 10h00 en 12h00 was dit ook etenstyd – almal het geeet. Sy moes op hierdie ongerieflike tyd haar kans waag by die put).

Dan ontmoet sy Jesus. Hulle begin oor ‘n alledaagse item soos “water” te gesels. Jesus vra vir haar ‘n beker water. Onmiddelik reageer die skuurpapiervrou op ‘n sarkastiese toon op Jesus se vriendelike versoek. “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” (vers 9) Sien u hoe die vrou die grense wat in die destydse samelewing gegeld het as ‘n stuk verontwaardiging gebruik.

Maar Jesus gaan aan met die gesprek. Hy laat Hom nie van stryk bring nie, want Hy is die een wat grense oorsteek, selfs met die grofste skuurpapier of die hardkoppigste mens.

Jesus bied vir haar water aan, as sy daarvan sou drink sal sy nooit weer dors kry nie. Natuurlik bedoel Jesus dat “hyself” die lewende water is. Let op die woordspel. Die water wat by die put geskep word, vra menslike inset. Jy moet “skep”. Die water wat Jesus gee is ‘n fontein wat opborrel, dit is verniet en jy hoef nie daarvoor te delf nie. Verlossing is nie mensgemaak om te delf nie, maar word aan ons gegee uit vrye genade, dit borrel op na ons toe.

Maar die Samaritaanse vrou soek ‘n nuwe twispunt. Dit is ‘n eeue oue twispunt naamlik waar moet ‘n mens aanbid. Sy wil van godsdiensverskille weereens ‘n grens maak. Die Jode sê ‘n mens moet God in Jerusalem aanbid en die Samaritane sê die berg Gerisim (Deut 12:5) is die plek van aanbidding. Jesus ontlont die twispunt deur te sê dat God in Gees en waarheid aanbid moet word. Jesus sê as’t ware dat God nie aan ‘n bepaalde plek gebonde is nie, maar deur Sy Gees op alle plekke, in Jerusalem, op die berg Gerisim en ook hier by die put van Sigar teenwoordig is. (Gaan lees ook Ps 139) So steek Jesus ook die grens oor wat destyds bestaan het, waar jy God moet aanbid.

So breek Jesus die grense af, sodat die vrou Jesus nie meer as net ‘n profeet sien nie, maar opreg wonder of Hy nie dalk die Christus die Messias is nie. Dan gebeur die ondenkbare. Sy hardloop terug na Sigar, die dorp wat haar verwerp het en so word sy ‘n draer van die goeie boodskap. Die Samaritane gaan soek Jesus by die put. Die dorp steek ‘n grens oor om ‘n Jood by hulle waterput te ontmoet. Dan nooi die dorpelinge vir Jesus om in hulle dorp te bly. Jesus bly daar twee dae. So ondenkbaar as wat een van ons vir twee aande in Khayelitsha se plakkersgedeelte sal oornag. Baie van die dorp se mense kom tot bekering en so breek Jesus grense af tussen mense.

Nog ‘n voorbeeld in die Bybel is die verhaal van Saggeus, wat ook ‘n skuurpapiermens was.

ingenooi kleurNiemand het van hom gehou nie. Hy is gebore met ‘n Joodse naam Sagaria, maar het later sy naam verander na ‘n Griekse naan Saggeus. (Die “us” aan die einde is ‘n tipiese Griekse naamvorm). Hy was kort. Dalk het die Jode hom gespot oor sy kortheid en toe word hy Griek en samel vir die Romeinse owerheid tolgeld in. Hy was so min of meer gewild soos SANRAL met hul tolpaaie in Gauteng was. Maar die ergste was ook dat hy ‘n tipiese verneuker was en meer geld geeis het as wat hy mag en die res in sy eie sak gesit het. Hy was die grofste denkbare skuurpapiermens. En toe kies Jesus juis om in die mees ongewildste persoon in Jerusalem se huis tuis te gaan. Jesus se liefde en die feit dat hy bereid was om grense oor te steek verander Saggeus in ‘n goeie, eerbare en regverdige man.

Die barmhartige Samaritaan is ook ‘n goeie voorbeeld van ‘n Samartiaan wat ‘n Joodse man gehelp het wat onder rowers vir dood agter gelaat is. Die priester en profeet het verbygestap omdat hulle bang is hulle word onrein, as die man dalk dood sou wees en dan kan hulle nie hulle diens in die tempel nakom nie. Die reinigingswette was grense wat hulle instand moes hou. Die Samaritaan het die kulturele grens oorstap en vir die man ‘n redder geword.

Daar word ook die verhaal vertel vanuit die Middeleeue van ‘n priester wat ‘n vrou bygestaan het wie se seun selfmoord gepleeg het. In die Middeleeue het mense geglo dat as jy selfmoord pleeg jy nie hemel toe kan gaan nie. Daarom was dit die gebruik in die Middeleeuse dorpies dat dié sulkes wat hulle eie lewe geneem het, buite die dorp se kerkhof begrawe moet word. (Gelukkig sien ons dit vandag anders. God se genade het nie grense nie, ook hulle wat selfmoord pleeg word vergeef en is veilig in Jesus se arms.) Maar om terug te kom by die verhaal. Die moeder het ontroosbaar gehuil oor die verwerping van haar seun. Die priester het haar jammer gekry en gesê: “Mevrou kom ons begrawe hom buite die kerkhof soos die wet bepaal. Ek sal later ‘n plan maak.” Hy is toe so ‘n paar meter buite die kerkhof begrawe. ‘n Week later toe die vrou blomme op haar seun se graf wou opsit, kom sy agter haar seun is nou begrawe binne die kerkhof. Want sien die priester het die heining van die kerkhof verskuif om ook die seun in te sluit in die kerkhof. Tog het hy daardeur geen van die dorp se wette gebreek nie. So het Jesus ook buite die stad Jerusalem tussen die uitgeworpenes gesterf, sodat hy die grense van genade kan verlê om ons ook in te sluit in sy genade.

Wanneer ons grense instand wil hou, wat mense uitsluit, kan ons nie deel wees van God se Missio Dei nie. God breek mure af en steek grense oor, omdat sy hart van liefde brand.

Dan kan ek saam met Johannes Kerkorrel sing: “Gee jou hart vir Hillbrow, Khayelitsha, die bergie onder die brug, die straatkind by die verkeerslig, die mede-gelowiges wat anders as ek lyk, want Jesus is die Messias.”

Dan is ons plus-minus besig om God se wil te doen. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG kerk Adelaide.)

KINDERNAGMAAL OF DAN GESINSNAGMAAL

KINDERNAGMAAL OF DAN GESINSNAGMAAL

img12

 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk het met sy Algemene Sinode-sitting in 1994 Kindernagmaal in beginsel goedgekeur. ‘n Beter woord sou kon wees: Gesinsnagmaal. Die is ‘n beter woord, aangesien dit ten diepste gaan oor  verbondsgesinne wat saam hul geloof vier en dit aan hulle kinders oordra. [Dieselfde beginsel, as met die Pasga in die Ou-Testament.]

  1. Wat beteken die begrip Kindernagmaal?

Kindernagmaal beteken dat die Nagmaal ook aan die kinders (die dopelinge) van verbondsouers bedien mag word.

  1.  Is hierdie Kindernagmaal nuut?

Daar maak u ‘n groot fout! Kindernagmaal is ‘n baie ou gebruik in die Kerk. Vanaf Christus se tyd tot ongeveer met die 13de eeu nC was dit algemene gebruik in die kerk.  Kindernagmaal het selfs sy wortels in die Ou Testament met die gebruik van Pasga.

Interressant is egter hoe die vroeë kerk die Kindernagmaal verstaan en beoefen het.  Geskrifte uit die vroeë kerk voorsien ons wel van inligting insake Kindernagmaal deur die eeue, wat vir ons oorweging belangrik is.

imagesDat alle gedooptes dan ook inderdaad die nagmaal mag gebruik, was tot ten minste die 13de eeu vanselfsprekend.  Die kinderdoop het vanselfsprekend die Kindernagmaal tot gevolg gehad.  Duidelike aanwysings van beide gebruike stam alreeds vanuit die 3de eeu.  Ook het die Raad van Macon in 585 nC en die Raad van Toledo in 675 nC die Kindernagmaal onderskryf en selfs praktiese raad gegee in verband met die inrigting daarvan.

Die huidige gebruik om kinders [dopelinge] van gelowige ouers van die Nagmaalstafel weg te hou is eintlik ‘n laat ontwikkeling in die Christelike kerk se geskiedenis.  As ons dus  Kindernagmaal weer instel, begin ons nie met iets nuuts nie.  Nee, ons gryp terug na ‘n baie ou gebruik in die kerk.  Ons beweeg as’t ware terug na Handelinge en die gebruike in die tyd van Handelinge.  Daarom kan ons nie die Sinode van 1994 beskuldig dat hul met iets nuuts begin het nie.

  1. Wat het veroorsaak dat die kerk in die 13 de eeu begin het om die Nagmaal te weerhou van kinders?

In die begin was daar net een kerk op die aarde, naamlik die Rooms-Katolieke Kerk.  In die 13 de eeu het die Pous die sogenaamde Transsubstansiasieleer geproklameer.  Dit het beteken dat die brood werklik die liggaam van Christus word en dat die wyn werklik die bloed van Christus word.  [Ons glo dat die brood en wyn slegs tekens is van die Here se liggaam en bloed.]  Omdat die Roomse Kerk geglo het dat die brood en wyn werklik die liggaam en bloed van Christus word, was hul bang dat die kinders sal mors met die vlees en bloed van Christus.  On weet mos hoe kan kindertjies mors as hul moet eet.  Dit was vir  Rome onaanvaarbaar. ‘n Mens mors nie met die vlees en bloed van die Here Jesus nie.  Daarom het hul begin om die Nagmaal [die “mis”] van kinders te weerhou.  In die Westerse kerk het die Kindernagmaal heeltemal uitgesterf.  In die Oosterse kerk het die kindernagmaal egter behoue gebly tot vandag toe.  Interressant is weer die ontwikkeling in die latere Rooms-Katolieke teologie.  So byvoorbeeld is daar in 1910 deur middle van ‘n pouslike dekreet vasgestel dat kinders van die “sewende jaar” die Nagmaal mag gebruik.  Rome het dus weer begin om geleidelik terug te keer na die gebruik in die vroeë kerk deur die ouderdom te vervroeg.  Tog verhinder hul transsubstansiasieleer dat hul tot op hede suigelinge en heel klein kinders insluit.

  1. Wat sê die Ou Testament oor die bediening van die Pasga aan kinders?

Die Pasga was ‘n teken vir die hele gesin, van klein tot oud.  In die Pasga is die uittog uit Egipte, die plek van slawerny gevier.  Dit was ‘n maaltyd van verlossing.  Gedurende die Pasga-ete het die Joodse pappas vir hulle kinders, terwyl hulle saam geëet het, verduidelik waaroor die pasga gaan.  Die Pasga was by uitstek ‘n stuk onderrigting vir die Joodse kind.  Die Pasga vertel die verhaal van die uittog.  Soos die doop in die plek van die besnydenis gekom het, net so het die Nagmaal in die plek van die Pasga gekom.  Soos die Pasga ‘n fees van verlossing is, is die Nagmaal ‘n fees van ons verlossing uit die sonde.  Juis daarom moet die hele verbondsgemeente, oud en jonk hieraan deel hê, soos dit die geval met die Pasga was.  Die Nagmaal vertel immers die verhaal van Jesus Christus.

  1. Wat sê die Nuwe Testament oor Kindernagmaal?

Verwysings na die wyse waarop Nagmaal in die Nuwe Testament gevier is, is uiters karig.  Daar is byvoorbeeld geen verwysing na Vrouenagmaal of Kindernagmaal nie.  Behalwe die gedeeltes wat die instelling van die Nagmaal beskryf, word daar slegs in 1 Kor 10: 14 – 22 en 1 Kor 11: 17 – 34 gewaarsku teen sekere wanpraktyke in die beoefening van die Nagmaal.

download

Ook soos in die geval van die kinderdoop sal teologiese en pastorale oorwegings die deurslag moet gee in die beoordeling van die Kindernagmaal.  Veral die breë verband met die res van die Bybel moet ons aandag geniet, bv die gebruike rondom die Pasga.

Die eenmalige deurtog deur die Rooi See dien vir Paulus as ‘n tipe van die doop [1 Kor 10: 4], terwyl die herhaalde manna uit die hemel en water uit die rots wat [volgens rabbynse tradisie ] ”met hulle saamgegaan het” [1Kor 10:4], dien as tipe van Nagmaal.

  1. Wat is die wese van die Nagmaalsdiens?

Wie is die verbondsgemeente?  Almal wat gedoop is, oud en jonk.  Daarom moet ook almal deel hê aan die verbondsmaaltyd, want almal is verbondkinders.  Daar is nie eerste en tweede klas verbondskinders nie.

  1. Op watter ouderdom mag die Nagmaal aan kinders begin bedien word?  Moet daar sekere vereistes aan kinders gestel word?

Daar moet geen vereistes gestel word nie, as behalwe dat hul gedoop moet wees.  Ouderdom en bevatlikheid speel nie ‘n rol nie.  Verstaan klein kinders en klein babatjies hul doop of glo hulle al?  Nee, waarom moet ons dan ‘n uitsondering by die Nagmaal maak?  Die doel van Nagmaal is juis dat hul ouers vir hul die verhaal van Jesus Christus in die tekens van brood en wyn moet vertel, sodat hul kan glo en hul geloof versterk kan word.  Kindernagmaal is ten diepste ‘n stuk verbondsopvoeding, wat met tyd moet groei.

  1. Wat van die praktiese implikasies?  ‘n Mens kan tog nie vir ‘n baba of klein kindjie wyn gee nie?

Daaroor moet elke ouer, saam met die kerkraad self oordeel.  Niemand hoef egter te vrees dat dit te vroeg sal gebeur nie.  In die algemeen kan gesê word dat wanneer die kind oud genoeg is om te begryp dat Christus gesterf het sodat ons kan lewe, die ouderdom bereik is om sinvol Nagmaal te kan vier.  In ons Belydenisskrifte word nêrens ‘n ouderdomsvereiste vir die toelating tot die Nagmaal gestel nie.  Ouers moet nie die kosbare geleentheid laat verbygaan om deur die tekens van brood en wyn hul klein kindertjies te vertel van hoe lief die Here vir hul het nie.

  1. Wat word nou van kategese?  Moet kategese en belydenisaflegging nie ‘n voorwaarde wees nie?

Na mate die gebruik van suigeling- en Kindernagmaal in die Roomse kerk verdwyn het, het die sakrament van die bieg [om jou sondes voor die priester te bely] en die  belydenisaflegging ingeskuif tussen die doop en nagmaal.

Die Reformasie erken nie die bieg en die Belydenisaflegging as sakramente nie, maar plaas tog die kategese en geloofsbelydenis tussen doop en nagmaal.  Voortaan sal binne die kerke van die Reformasie die geloofsbelydenis ‘n voorvereiste wees vir die ontvangs van die nagmaal.  Op hierdie punt het die Roformasie dus nie radikaal weggebreek van Rome nie.  Beide het “geloof” en “bevatlikheid” as voorvereistes vir toegang tot die Namaalstafel.

So het die klem op die geloofsbelydenis, die deelname van heel jong kinders aan die nagmaal uitgesluit.  Tog is Kindernagmaal vir groter kinders in al die groot stede van die Reformasie beoefen hoewel die toelatingsleeftyd verskil het en meestal nie formeel voorgeskryf is nie.  “Geloof” en “bevatlikheid” het telkens die toelating bepaal.  In Genevé was dit byvoorbeeld in die omgewing van 11 of 12 jaar.  Waarom die reformasie telkens klem gelê het op die geloofsbelydenis as toelating tot die Nagmaalstafel is miskien te wyte aan die beskuldigings van die Anabaptiste dat die Kinderdoop naam-Christene kweek.  Daarom is die belydenisaflegging vir Nagmaal vir Bucer ‘n belangrike saak.

Calvyn het ‘n pragtige regstelling op die Nagmaalbeskouing van Bucer.  Vir Calvyn gaan dit nie oor die jong lidmaat se persoonlike geloof nie, maar die kind bely die geloof van die kerk, as geloofsgemeenskap.  Nie die subjektiewe geloofsakte nie, maar die objektiewe geloofsinhoud word beklemtoon.  Calvyn het dus teologies reg gedink oor die Nagmaal, tog is sy denke nie prinsipieël deurgetrek na die praktyk van die Kindernagmaal nie.  Juis daarom verkeer die Gereformeerde kerke in ‘n teologiese vakuum wat betref die Kindernagmaal.  Gedurende die laaste paar dekades het daar egter ‘n kentering gekom in die Gereformeerde Kerke. In Europa  is Kindernagmaal vandag weer praktyk in talle Europese Gereformeerde Kerke. Onthou kategese maak nie van jou ‘n lidmaat nie!  Hoogstens maak kategese van jou ‘n beter geskoolde lidmaat.  Eintlik behoort ook volwassennes kategese te deurloop op ‘n informele basis.

  1. Is die Nagmaalsdiens nie, maar juis ‘n besondere Kinderdiens nie?

Kinders hou van sigbare beelde en tekens.  Die Nagmaal met die brood en wyn is juis vol tekens en beelde.  Die Nagmaalsdiens is by uitstek ‘n Kinderdiens.

Picture1-270x300Wanneer glo ‘n kind?  ‘n Heel klein kindjie, van reeds twee of drie jaar kan alreeds kinderlik opreg in die Here Jesus Christus glo.  Het ‘n kind nie ook nodig om in sy/haar geloof versterk te word nie?

Ten slotte:  Met die herinstelling van die  Kindernagmaal, keer ons terug na die oorspronklike gebruik in die kerk.  Ons begin nie met iets nie.  Daarom moet u seker maak dat u verstaan waarom dit gaan in die Kindernagmaal.

Nagmaal is ‘n verbondsmaaltyd vir die hele verbondsgemeente. As ons by ons huis eet, eet almal saam van groot tot klein.  Waarom sal dit verskil rondom die Here se tafel?  Die Here wil ook die kind verseker van sy liefde en ook die kind se geloof versterk. Die Nagmaal mag egter nie bedien word aan kinders, sonder dat die tekens verduidelik word nie. Die kritiese faktor in die bediening van die Nagmaal aan kinders is dat, dit ‘n opvoedkundige leerproses moet wees.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

 

 

Om in halleluja – tye en in Klaagliedere – tye te volhard in die geloof !

Om in halleluja – tye en in Klaagliedere – tye te volhard in die geloof !

Daar is baie soorte armoede in die wêreld soos hongerte, naaktheid, moedeloosheid, liggaamlike swakheid, siekte, psigiese armoede, ouderdom, eensaamheid, huisvestingsnood, sekuriteitsgebrek of doodeenvoudig net die armoede aan liefde. Armoede aan liefde, kan ‘n mens beskryf as velhonger. Velhonger mense is mense wat net die begeerte het om iewers deur iemand aangeraak te word in liefde en deernis. Soos jy ouer word, slaan armoede oor ons almal toe. Ouderdomsplooie is die armoedekrake van jou liggaam. Soos jy ouer word, word jy bewus van hoe jy armer word aan kragte, gesondheid, lewenslus, geleenthede, materiële sekuriteite en vriende. Die fisiese dood is die finale kishou wat armoede vir almal slaan. Vir fisiese en emosionele armoede is daar baie raad. Vir fisiese armoede gee ons brood, sop, kleding, huisvesting, bou outehuise en weeshuise, stig studiebeurse en ontwikkel ontwikkelingsprogramme. Vir emosionele armoede skep ons ondersteuningsgroepe, en sosiale geleenthede om mense te ondersteun. Daarom moet ons baie simpatiek met alle soorte armoede omgaan, omdat dit ons almal op een of ander manier tref.

Die boek Hebreërs handel oor ‘n ander soort nood. Dit handel oor geloofsarmoede, geloofsnood, geloofsverlies, geloofsdroogte en geloofsuitputting. Hebreërs handel oor geloof ! Die Hebreërskrywer probeer nie om die geloof te skep in gelowiges nie. Nee, dit is geskryf om gelowiges wat reeds glo, te help om in die geloof te bly.

winter

In elke mens se geloofslewe is daar hoogtepunte, laagtepunte, geloofsoasisse en woestyntye. Christus het ook hoogtepunte gehad, toe die Heilige Gees soos ‘n duif oor Hom neergedaal het, om net daarna homself in die woestyn van verlatenheid te vind. Op die berg van verheerliking het Hy saam met Moses en Elia verskyn. Om net later van mens en van God verlate te wees aan die kruis.

Geloof is ‘n stryd ! Hebreërs sê dit is ‘n marathon ! Geloof is nie maklik nie. Van mense wat in die geloof volhard word gepraat van geloofshelde. Daar word as’t ware gepraat van ‘n heldegalery van gelowiges genoem wat dit gemaak het.

Somtyds is dit maklik om te glo. Somtyds is dit baie moeilik om te glo. Ons gelese gedeelte verse 32 – 38 oorspan ‘n tyd van ongeveer 1000 jaar, vanaf die Rigtertydperk tot by die Makkabeërtydperk.

Vers 32 – 35  was ‘n tyd toe dit maklik was om te glo.

Vers 36 – 38 was ‘n tyd toe dit moeilik was om te glo

Vers 32 – 35 handel oor ‘n tyd toe dit maklik was om te glo. Dit was ‘n tydperk vol Hallelujah – ervarings.

 Heb 11:32  En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal,

Heb 11:33  wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop,

Heb 11:34  die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.

Heb 11:35  Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.

So is daar in die gelowige se lewe besondere tye van gebedsverhoring en tye toe God Homself op baie spesiale maniere openbaar het. Dan is dit makliker om te glo. Dink bv aan die Slag van Bloedrivier en die 1994 eerste Suid – Afrikaanse Demokratiese Verkiesing toe alles vreedsaam verloop het.

Verse 36 – 38 handel oor ‘n tyd toe dit moeilik was om te glo. Die lewe het soos vals note begin klink. Die lewe het sy melodie verloor. Dit is die Klaagliedere – ervarings van die lewe. Dit is die tye wat dinge skeef loop in jou lewe.

Heb 11:36  Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.

Heb 11:37  Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel—

Heb 11:38  die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.

Dit is die tye wat jy jy skaars meer ‘n noot oor het.

Die lewe het sy sin en betekenis vir jou verloor. Jy sit op moedverloor se vlak. Jy bid, maar jy voel jy bid teen ‘n muur vas. God voel vir jou baie ver ! Jy begin aan God se bestaan twyfel. God maak nie meer vir jou sin nie. Jy voel skuldig, omdat jy voel jy het jou geloof verloor. Jy voel verlore.

Die goeie nuus is dat God verstaan as ons somtyds twyfel. Hy wil ons help in ons twyfel soos Hy vir Johannes die Doper en vir die twyfelende Thomas gehelp het. Johannes die Doper het gewonder in die tronk, of hy die regte Messias en Gesalfte gedoop het. Daarom vra hy die vraag of Jesus die regte Gesalfte is of moet ons iemand anders verwag. Dan versterk die Here hom met die versekering dat hy moet kyk na al die wondertekens wat plaasvind. Die twyfelende Thomas het gewonder of Jesus regtig opgestaan het. Dan help Jesus hom, deur hom te laat vat aan sy wonde, om hom te oortuig. Woestynervarings in die geloof tref die meeste van die gelowiges en heiliges.

Dit is koud en donker.

Dit is leeg en dood.

Kaste dood, leeg  soos skedelgate

Dit is winternag daarbuite.

Winter in my siel.

Eensaamheid lê vlak

Geen vuur, geen lig, geen bron van hoop

My geloof is koud

My siel eensaam – soos die graf

(Anoniem)

Om met God te worstel, is van die mees diepste en intense ervarings waaraan ‘n mens blootgestel kan word. Jakop het by die Jabok met God ook geworstel. In die proses het hy mank geword, maar hy het God gevind, of moet ons liewer sê God het hom gevind.

Maar hoe kan ons geloofsarmoede weer omsit in geloofsrykdom en geloofsgroei? Ons teksgedeelte gee vir ons die antwoord baie duidelik:

1. Vestig julle oog op Jesus Christus en nie op julle eie geloof nie.

2. Laat julle versterk, deur die getuienis van medegelowiges en die onderlinge koinonia (gemeenskap van gelowiges)

Heb 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het (2 hierbo), laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

Heb 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (1 hierbo), wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Die Here wil ons veral ook deur die gemeenskap van gelowiges, soos in die tyd van Hebreërs versterk. Daarom is die onderlinge getuienis van hoe God in medegelowiges se lewe werk van groot belang. Let op wat sê Heb 10: 23 – 25 oor die gemeenskap van gelowiges. (Let op na die beklemtoning in die teks).

Heb 10:23  Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; Heb 10:24  en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; Heb 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Let ook op na die onderstreping, van hoe belangrik God die samekoms van die gemeente ag. Godsdiens is nie maar net ‘n privaat geleentheid voor die radio of TV nie. Nee, dit is ‘n publieke samekoms van God se gemeente. So wil God dit hê. Wanneer kole los van die vuur lê word dit gou koud. Maar tussen die ander kole bly dit warm.

Newbegin skryf dat Jesus nie ‘n boek geskryf het nie. Nee, Hy het dit oorgelaat aan die apostels om Evangelies en briewe te skryf. Jesus het eerder “a Community” gevestig – so belangrik ag Jesus die kerk en die samekoms van gelowiges. Geloof is om te belê in die onsienlike.

Dit is soos ‘n brug in mistige weer. Jy kan nie sien of die brug anderkant weer grond raak nie. Maar jou vorige ervarings en die beweging van die verkeer (medegelowiges) laat jou genoeg vertrou om oor die brug te ry, na die onsienlike anderkant.

Daarom moedig die Hebreërskrywer ons aan, om al word ons armer in fisiese dinge, ons ryker moet word in geestelike dinge. Liggaam en gees, daaruit bestaan die mens. Die liggaam kwyn met ouderdom, maar die geestelike groei soos ons ouer word. Wie geestelik groei, groei in sy/haar geloof. Juis daarom moet ons klem lê op die geestelike onsienlike, aldus die Hebreër skrywer.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

OM TOT SeëN TE WEES …

OM TOT SeëN TE WEES …

Onlangs stuur iemand vir my ‘n e-pos met ‘n  mooi  verhaal, vanuit die mielielande van die VSA. Dit gaan so. ‘n Sekere mielieboer in die VSA het elke jaar die blou korset gewen op die streekbyeenkoms vir die beste mielieboer vir die streek. Elke jaar was sy gehalte, opbrengs per hektaar en winsgrens die hoogste van almal in die streek. Sy groot geheim was die mieliesaad wat hy aangeplant het. Hy het elke jaar die beste saad aangekoop wat hy kon kry. Daarvoor het hy die wêreld plat gereis om die hoogste kwaliteit saad wat hy kon kry – te kan bekom. Dit was ook bekend dat hy baie vrygewig die saad uitgedeel het aan sy bure. Op ‘n dag vra ‘n joernalis van ‘n plaaslike koerant vir hom, hoekom hy sy goeie saad, wat hy met soveel sorg bekom het, ook uitdeel aan sy bure. Sê nou maar sy bure wen volgende jaar die kompetisie  met dié saad wat hy so vrygewig uitgedeel het. Sy antwoord was kort. Mielies word windbestuif. As my bure swak saad het en die wind waai van hul lande na myne sal ek ‘n swak oes kry. As my bure goeie saad het, sal die wind verseker dat ek ‘n goeie oes verkry. Dit is in my belang, dat ek ook my bure moet seën, sodat ek ook geseën kan word.

mossies

Hoe nodig het ons nie so ‘n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme, is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ‘n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ‘n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ‘n land ryp word vir ‘n rewolusie of erge ekonomiese opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” gesê dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ‘n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, dié indiwidu en die besigheid het ‘n verantwoordelikheid om sy/ haar gemeenskap te dien.

Dit beteken dat mense vir ander moet voerspoed  gun en nie jaloers moet wees op ander se suksesse nie. Ons moet as’t ware meewerk in mekaar se voorspoed. Dit beteken “selfdood”, die dood van die mens se eie “ego”. Eers in my selfdood, kan ek tot seën wees vir ander. In Jesus Christus se “vrywillige letterlike dood” het hy geword die seën vir die hele wêreld.

Wanneer ek elke dag die vraag lewe: “Waar kan ek tot seën wees vir ander en vir my gemeenskap ?” word my lewe sinvol en gevul met betekenis. Soos die Here Jesus ons self geleer het: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Wanneer ek “ander oplig in die lewe”, word ek self emosioneel op gelig tot ‘n hoër vlak van mensbewussyn. Hoe meer ek “myself” najaag, hoe meer dierlik word ek. Hoe meer ek die seën van ander najaag, hoe meer menslik word ek.  Is ek dier of mens? Die mens het beeld van God geword, met Sy skeppingsopdrag dat die mens tot seën van God se skepping moet wees. Eers as ek “tot seën” word van ander, word ek meer mens.

Transformasie van die samelewing se diepste sukses word gemeet of dit “seën” bring. Hoe meer mense “geseën” word, hoe groter is die tranformasie. Dit het verreikende politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiologiese implikasies vir die samelewing.

Soos saad in die grond val en sterf, en opkom as ‘n nuwe plant met nuwe lewensmoontlikhede om “baie” te word, moet die mens in homself sterf (ontkiem) om tot seën te word vir baie ander. Dit is ons lewensroeping.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

SKEPPINGSLIG EN HERSKEPPINGSLIG

SKEPPINGSLIG EN HERSKEPPINGSLIG

582539_435563656516671_1255665211_nGen 1 begin met God se eerste opdrag, eerste woorde: “Laat daar lig wees.” En daar was lig en God het die lig en die donkerte van mekaar geskei en dit dag en nag genoem. En dit was goed. Maar sommer gou na die eerste mensepaar se skepping het ‘n ander tipe donkerte, duisternis hul oorval. Dit was die snikdonkerte van hul sondenood. Die donkerte was so oorweldigend dat hulle mekaar nie meer as mense en as naastes kon raaksien nie. In so ‘n mate was hul harte verduister dat die een broer Kain vir sy ander broer Abel doodgemaak het. Die mensdom het so verduister, dat selfs God vir hul verduister het – want Adam en Eva het mos vir God begin wegkruip omdat hul nie meer geloofsgemeenskap met Hom wou gehad het nie. Die donkerte was verskriklik. Selfs nie eers die Wet van God kon hul gehelp het om God en hul naaste weer in ‘n ander lig te sien nie.

Die donkerte en duisternis het net al groter geword. In die 400 jaar tussen Maleagi (die laaste profeet van die Ou Testament) en die geboorte van Christus Jesus was daar geen openbaring of profetewoord wat gespreek het nie. Daar was ‘n stilstuipe tussen die mens en God.

Maar God is sag en Hy het besluit om die stilte te deurbreek om ‘n nuwe Testament, ‘n nuwe era en ‘n nuwe ekonomie te laat aanbreek. So begin die Johannes – Evangelie in die Nuwe Testament met die aankondiging dat die ware Lig aan die kom was. Joh 1: 5 kondig aan: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”

Natuurlik is Jesus Christus die Lig van die wêreld. Selfs die donkerte van Goeie Vrydag kon nie dié lig uitdoof nie. Dit het so gelyk met Jesus se dood, maar met die eerste oggendlig en eerste hanekraai van Paassondag kom die Lewe uit die Dood te voorskyn. Die Lig breek deur die donkerte  van die bose en sonde.

Net soos wat daar nie genoeg donkerte is om een kersflam te verdoof nie, net so is daar nie genoeg sondeduisternis in iemand se lewe, wat die verlossende krag en lig van Christus se verlossing kan uitdoof nie. Jou sonde en jou lewensnood, kan nooit groter wees as God se verlossing nie. Jou lewensdonkerte kan nie die Lig uitdoof nie.

Daarom moet ons in hierdie tyd leer om soos motte die Lig van die wêreld op te soek. Ons moet nie die “paapse lig” van die wêreld se kersliggies najaag nie, maar die Betlehemster, die Môrester opsoek.

Hoor wat sê Jesaja 60: 19 – 20: Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God.  Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.

In die dag kan ons soos vlinders onder die son baljaar en in die nagdonkerte van ons siel kan ons soos motte die Lig van dié wêreld najaag.

Oor jou sal dit nooit weer stikdonker word nie !

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

WANNEER ONS IN ‘N HOEK VASGEVERF IS ……..

WANNEER ONS IN ‘N HOEK VASGEVERF IS ……..

Sonder hoop kan geen mens leef nie ! Elke mens het ‘n dringende behoefte om elke dag hoop te hê. Johan Cilliers verwys na “Die Wêreldburger” van 6 September 2002 na ‘n foto wat maklik sou kon kwalifiseer as foto van die eeu. Op die agtergrond sien jy die verwoesting van die Russiese tenks aan die Tjetjeense dorpie Goragorski aangerig het. Alles is platgeskiet in die skermutseling tussen die Russiese Weermag en die Tjetjeense separatiste. Maar dan op die voorgrond stap ‘n sewejarige dogtertjie en seuntjie hand aan hand vir hul eerste skooldag. Die gesiggies stralend van opwinding. Die dogterjie hou ‘n bos pink blomme van in haar hand. ‘n Skreiende kontras tussen hoop en wanhoop kan jy jou kwalik voorstel.

182572_380698105373516_197617355_n (1)

Ons het in Suid – Afrika nou dringend behoefte aan hoop. Daagliks hoor ‘n mens van moorde, verkragtings, plaasmoorde, nywerheidsonrus, grondeise, swak onderwystoestande, swak dienslewering en ‘n al grotenwordende afstand tussen ryk en arm. Korrupsie vier hoogty. Ons is in die hoek vas geverf. Dit voel of ons land vinniger sink as die Titanic. Ons is tussen die Duiwel en die diep blou see vasgevang. So was die Israeliete ook in die Ou Testamentise verhale – dikwels sonder hoop. In Eks 14: 1 – 31 lees ons van die hooplose situasie waarin die Israeliete hul bevind het. Hulle was in ‘n hoek vasgeverf tussen die Rooi See en die aankomende militêre mag van Farao. Hulle het net drie keuses gehad. Of hul verdrink, óf hul val in die swaard van die Egiptenare of hul gaan terug as slawe na Egipte. Die Israeliete kon nie bote bou nie, want hul het in die Egiptiese woestyn geen kennis opgedoen van die bou van die bote nie. Hulle kon hul ook nie verset teen die Egiptiese weermag nie, want hulle was slawe en is nie toegelaat om wapens te maak nie. Die Egiptiese strydwaens was in daardie tyd ook ‘n kragtige nuwe oorlogstuig, wat net soveel verskrikking veroorsaak het as vandag se moderne oorlogstanks. Dié situasie het baie sleg gelyk In vers 13 gee die Here egter vir die Israeliete ‘n versekering: ”Moenie beangs wees nie, staan vas, kyk hoe die Here jul vandag gaan red … “ Dan lees ons hoe die Here die wolkkolom gebied het om donkerte te gooi oor die Egiptenare en die vuurkokom gebruik het om lig te gooi vir die Israeliete. So het Hy voorkom dat die Egiptenare in die nag die Israeliete aangeval het. Want sien die Here het tyd nodig gehad om die Oostewind te gebied om heelnag te waai, sodat daar ‘n pad vir die Israeliete gemaak kan word deur die Rooi See. Dit is ‘n algemene natuurverskynsel, dat wanneer wind oor ‘n vlak meer of oseaan waai, dit mettertyd ‘n droë pad oopwaai. So het die volk deur die Rooi See getrek droogvoets.

Die Egiptenare het hul gevolg met rampspoedige gevolge. Bolangs was die grond droog gewees. maar vlak onder die droë grond was dit nat. Te nat vir ‘n strydwa. Die 600 strydwaens van die Egiptenare het die een na die andrer vasgeval in die modder. Soos hulle vasgeval het, het hulle wiele afgeruk en hulle het omgeslaan. Die een strydwa het teen die ander gebots. Totale verwarring. Die seë het begin terugstroom. In hulle paniek het die Egiptenare vir die eerste keer die Here van die Israeliete begin aanroep. Van aanbidders van Farao – het hulle skielik die krag van die Here erken. Die Egiptenare se lyke het orals uitgespeol gelê langs die see. Die Egiptenare sink terug in die oerchaos – die dood.

Die Egiptenare het hul eie ondergang veroorsaak. Farao het teen sy eie woord in, opdrag gegee dat die Israeliete gestuit moet word en terug gebring moet word na Egipte. Hulle het agtergekom hulle kan nie sonder die Israelietiese slawe regkom nie. Die onbetroubaarheid van Farao het sy ondergang bewerkstellig.

Wanneer ons land en sy mense dikwels voel, ons is ook in ‘n hoek vasgeverf hier aan die suidpunt van Afrika en dit voel ons is vasgekeer tussen die diep blou see en die duiwel, wil God ons kom verseker sy Currriculum Vitae vertel van sy magtige dade in die geskienis. Hy het Homself oor en oor bewys, dat hy paaie kan maak – waar geen paaie menslik moontlik is nie. Daarom kan ons nooit sonder hoop wees nie. Elke gelowige kan maar net terugdink aan sy / haar lewe en sal telkens herinner word aan die tye toe God die Rooi See van jou lewe vir jou oopgemaak het. Onthou wat God in die verlede gedoen het, Hy sal dit weer doen en kry hoop vir die toekoms !

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van NG kerk Adelaide)