Die swart kol

DIE SWART KOL

Op ‘n dag het ‘n dosent vir sy studente ‘n swart kol op ‘n groot wit bord geteken. Hy vra toe vir sy studente, wat hulle sien. Elke student het ‘n antwoord gehad. Elkeen het die swart kol se posisie, grote en vorm beskryf. Die dosent antwoord toe vir hulle dat hulle almal verkeerd is. Daar is nie net ‘n swart kol op die bord nie. Daar is ‘n hele witbord vol wit oppervlakte rondom die  swart kol. Hulle het so gekonsentreer op die swart kol, dat hulle die wit oppervlakte mis gekyk het.

the-black-dot-experiment-945x544So  kyk ons ook dikwels na die swart kolle in ons lewe en ons sien nie die groot wit oppervlakte van geleenthede en groei raak nie. Die swart kolle, kan wees persoonlike probleme, jou omstandighede, jou teleurstellings, jou verliese of jou bekommernisse. Ons konsentreer so daarop, dat ons die potensiaal van die lewe miskyk. Ons val vas in die swart kolle van die lewe en ons mis ‘n lewe van groei, lewensgeluk en potensiaal. Ons konsentreer so op die negatiewe in die lewe, dat ons die baie positiewe dinge in ons lewe miskyk.

Daar is ‘n Halleluja – lied : “Tel jou seëninge, tel hul een vir een.” As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

Wat maak of breek ‘n huisgesin, ‘n maatskappy of ‘n gemeente.? Mense met ‘n voortdurende kwetsende negatiewe ingesteldheid wat net altyd die swart kolletjies op die groot witbord raaksien, maar nooit die groot witbord, vol positiewe potensiaal raaksien nie.

Wat laat huwelike kwyn? Wanneer ek gedurig net my maat se foute, die paar swart kolletjies op die witbord raaksien. Ek konsentreer so op die negatiewe, dat ek nie eers meer die positiewe raaksien nie. Die paar swart kolletjies word so oorheersend, dat my lewensmaat uit fokus raak en ek onvergenoegd met my huwelik raak.

Ons kan ons kinders so bombardeer met die negatiewe, dat hulle later ook negatiewe grootmense word, wat oor alles negatief is. Ons kan so negatief oor ons kinders praat, dat hulle dit later begin glo en lei aan ‘n negatiewe selfbeeld.

Boere kan op hulle plaas, heeldag kla en negatief wees dat hulle hul vreugde om te boer verloor. Mense kan in hul werksituasies, so dikwels swart kolletjies tel, dat hulle vergeet van die groot wit bord waarop hulle kan skryf en kreatief kan lewe en werk.  

Dan bestaan ‘n mens net. Dan leef jy nie. Jy oorleef miskien, maar jy leef nie. Dit terwyl die Here juis vir ons ‘n lewe van oorwinning wil gee. Die Here wil hê dat ons vreugdevolle huwelike en gesinne moet koester. Die Here wil hê dat ons positiewe kinders met ‘n gesonde selfbeeld moet grootmaak. Die Here wil hê dat ons, ons werk met vreugde moet doen. Die Here wil hê dat ons as sy beelddraers elke dag skeppend en kreatief dié lewe moet skep. Net positiewe mense kan skep.

Ja, ons moet vreugdevolle huwelike en gesinne skep, deur positiewe denke en gedrag. Ons moet ons werk elke dag vreugdevol doen, deur skeppende positiewe kreatiwiteit. Net positiewe mense kan skep.

Positiewe mense skep dankbaarheid, vergenoegdheid, deernis, empatie, vriendelikheid, gasvryheid, vergewensgesindheid, en liefde en al die ander gawes van die Gees.

Juis daarom moet ons leer om dankbaar te wees, onder alle omstandighede. Dankbaarheid is alleen moontlik, wanneer ek, soos Paulus in Fil 4: 4 – 9 my gedagtes instel op alles wat reg en mooi en prysenswaardig is. Om dankie te sê, verander ‘n mens se lewe. Dit draai die fokus weg van jouself, weg van jou eie behoeftes en eise en maak van jou ‘n mens wat eerder wil gee as om te ontvang.

Onthou die volgende aanhaling: “ Dankie Here, vir alles wat U vir my gegee het; vir alles wat U van my weggeneem het; vir alles wat U vir my laat staan het.”

Dit is nie wat jy verloor het, wat tel nie, maar wat jy oorhou. Werk en woeker daarmee, totdat jy jouself uit jou onvergenoegdheid bevry het. Wees dankbaar en positief, selfs oor die “bietjies” in jou lewe en jy sal bevrydend en oorwinnend kan lewe.

Mag God se Gees gee, dat ons ons denke sal bekeer, tot skeppende kreatiewe positiewe mense, wat deur ons positiewe gedrag die wêreld positief beïnvloed.

‘n Voorspoedige 2019 word u toegewens.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

Wie is die belangrikste?

WIE IS DIE BELANGRIKSTE?

Teks: Johannes 13: 1 – 17 en Johannes 13: 34 – 35

Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra, wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir sy dissipels ‘n les in Johannes 13. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ‘n maaltyd.

jesus-washing-the-feet-calvin-carterHierdie maaltyd is dan ook die geleentheid gewees, waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer oor die naderende kruisdood van Jesus, is hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is? Wie bedien sal word en wie sal dien? So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ‘n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die selfgesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ‘n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe hy sy bokleed uittrek, op sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ‘n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ‘n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ‘n slaaf kom doen. Hierdie voetewassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid gewees om te dien.

Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het sy alles, tot sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:

* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

* Soos Ek julle bedien het, moet julle mekaar dien.

Wie so ‘n dissipel van die Here is, is geloofwaardig. Met ander woorde, die egtheid van ons geloof word getoets aan die mate waarop ons diens heenwys na Christus. Christus het jou BEDIEN aan die kruis, daarom moet ons mekaar DIEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die maal die Here se eiendom.

DRIE MAAL DIE HERE SE EIENDOM.

Teks:  Genesis 1: 26 – 31; Romeine 8: 31 – 39 en Mattheus 10: 29 – 31.

Die Here het ons drie keer Syne gemaak.  Ons almal hou van stories.  Seker een van die beste maniere om ‘n boodskap tuis te bring is deur ‘n storie.

maxresdefaultEenmaal wat daar ‘n seuntjie wat vir hom self die pragtigste draadkar gemaak het.  Met sy eie hande het hy die draadkar  gemaak. Toe hy egter eendag met die draadkar in die veld speel, het die draadkar weggeraak in ‘n diep donga.  Hy het baie gehuil oor sy kar. Die volgende week gaan besoek hy saam met sy ouers die winkel op die dorp.  Daar in die winkel-venster sien hy toe sy eie draadkar staan.  Hy sê toe vir die winkelier:  “Oom, daardie draadkar in die venster is my draadkar. Ek het homself gemaak.  Mag ek hom asseblief terug kry?” Die winkelier sê toe: “Nee ou seun, dit is nou my kar.  As jy die kar wil terughê moet jy vir hom betaal.”  Die seun is toe weg huis toe om sy geld te gaan haal.  Hy het al sy geld gaan haal.  Toe hy terug is by die winkel het hy al sy geld vir die winkelier gegee.  Die winkelier gee toe die draadkar vir die seun.  Toe die seun uitstap by die winkel se deur, druk hy die draadkar teen sy bors en sê:  “Draadkar, jy is nou tweemaal myne.  Ek het jou gemaak en toe jy weggeraak het, het ek jou teruggekoop.  Ek het jou dus baie lief.”  Toe hy by die huis kom vind hy uit dat die draadkar darem baie verniel is.  Hy buig die drade toe weer reg en nadat hy die draadkar reggemaak het, sê hy:  “Draadkar, jy is nou drie keer myne.  Ek het jou GEMAAK, GEKOOP en HEELGEMAAK.  Ek het jou baie lief. Dit is ‘n baie mooi storie.  Maar weet julle ons is ook drie keer die Here s’n.

  • Die Vader het ons gemaak.
  • Die Seun het ons gekoop met sy kosbare bloed.
  • Die Heilige Gees wil ons heelmaak.

Ons kyk na al drie hierdie sake:

  1. DIE VADER HET ONS GEMAAK:

In Genesis 1: 26 – 31 lees ons hoe God die mens gemaak het.  God het die mens goed en mooi gemaak.  Ons is gemaak na die beeld van God.  Dit beteken ons vertoon sommige eienskappe van God.  Die mens kan byvoorbeeld dink, liefhê, en onderskei tussen goed en kwaad.  Verder het God die een mens verskillend van die ander een gemaak. God  wat ons gemaak het, staan ook Pa vir ons.  Hy is ons Vader.  God is nie soos sommige aardse pa’s nie.  Sommige aardse vaders maak kinders maar loop dan weg.  Nee, God het die mens gemaak en in Mattheus 10: 29 – 31 lees ons hoedat God Vader oor ons lewe is.  Hy versorg en beskerm ons.  Hy lei vir ons. Soos die seuntjie sy eie draadkar gemaak het, het God dus die mens self gemaak. Maar soos die draadkar verlore geraak het in ‘n diep donga, so het die mens weggeloop van God.  Die mens het sonde gedoen.  So het die mens verlore geraak.  Wie sal tog die mens verlos en terug koop uit die sonde?

Dit bring ons by die tweede saak:

  1. DIE SEUN, JESUS CHRISTUS HET ONS GEKOOP MET SY KOSBARE BLOED:

Toe die draadkar wegraak moes die seuntjie daarvoor betaal in die winkel.  Hy moes met al sy geld betaal. Toe ons weggeraak het in ons eie sonde en ons eie pad geloop het, moet God ‘n duur prys betaal om ons terug te kry.  Hy het betaal met sy Seun, Jesus Christus.  Jesus Christus het vir ons sondes betaal met sy kruisdood. Dit was ‘n duur prys, sodat ons losgekoop kan word vanuit die sonde en doodsbestaan.

Nou vir die derde saak:

  1. DIE HEILIGE GEES WIL ONS HEELMAAK

Nadat die seuntjie sy draadkar weer gekoop het, het hy dit heelgemaak.  In Galasiërs 5 lees ons hoedat die Heilige Gees ons lewe weer wil heelmaak.  In Galasiërs 5: 19 – 21 lees ons hoe die sonde ons lewe verniel het.  Dit het haat, naywer, jaloesie, dronkenskap en verdeeldheid gebring. Die Heilige Gees wil egter weer ons lewe heelmaak, sodat daar vrede, liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewe kan wees (Galasiërs 5: 22 – 26). God wil vir jou vasdruk teen Hom en vir jou sê:

My kind ek het jou baie lief!  Jy is drie keer myne.

  • Ek het jou gemaak.
  • Ek het jou gekoop.
  • Ek is besig om jou heel te maak.

Ons het dus gesien: Die Vader het ons gemaak.  Die Seun het ons gekoop met sy kosbare bloed. Die Heilige Gees wil ons heelmaak. Voorwaar, die Here het ons baie lief.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om God af te skeep. (Maleagi 1: 6 – 14)

OM GOD AF TE SKEEP

Daar bestaan altyd die gevaar dat as daar nie aan ‘n huwelik of vrienskap gewerk word nie, so ‘n huwelik sy vuur kan verloor. Die sprankel kan uit so ‘n huweliksverhouding verdwyn en dit kan iets alledaags word. Wanneer ‘n jongman en ‘n jongmeisie mekaar die hof maak, dan gee hulle die beste gedeelte van hulle tyd, energie en kragte vir mekaar of vir die vriendskap. Hulle is bereid om groot opofferings vir mekaar te maak. Niks onder die son is vir hulle moeite nie, solank hulle alleen maar vir mekaar gelukkig maak. Hulle maak voorts ook die mooiste beloftes aan mekaar.

Nou gebeur dit dikwels dat so ‘n verhouding met verloop van tyd alledaags word. Dit verloor sy opwinding en sprankel. Al minder aandag word aan mekaar gegee – die swakste deeltjie van die dag. In plaas van opofferings begin hulle mekaar nou te manipuleer om elkeen sy eie sin te kry. Alles word moeite en die eens mooie troubeloftes vervaag in vergetelheid. Ja, so ‘n huwelik word alledaags en gewoon. Ja, jou huweliksmaat word alledaags.

Die gevaar is nou net dat ons God ook alledaags kan maak. Die volk Israel het in die 5 de eeu voor Christus, God ook alledaags gemaak. Hulle het nie meer eerbied en respek vir Hom gehad nie. God het vir hulle gewoon en alledaags geword.

Het die gemeente Adelaide, nog eerbied en respek vir God? Het God nie miskien ook alledaags en gewoon hier op Adelaide geword nie? Is ons nie ook besig om God af te skeep nie?

In die boek Maleagi het God gevoel dat Hy afgeskeep word. God voel dat Hy gewoon en alledaags behandel word. Daarom Het God in die persoon van Maleagi kom huisbesoek doen by die pastorie en die gemeente van Jerusalem. Ja, Hy het die priesters en die volk gaan besoek daar in Jerusalem.

Die eerste vraag wat Maleagi tydens huisbesoek gevra het, lees ons in Maleagi 1: 6 ‘n Seun eer sy vader en ‘n slaaf sy eienaar, As Ek dan Vader is, waar is die eer wat my toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir my dan?”

U sien God is ontevrede oor Hy gewoon en alledaags behandel word. God word nie met die nodige respek en eer behandel nie. In vers 8 vra God of ons ook so sonder respek en eer sal optree teenoor ‘n belangrike persoon wat ons dorp sou besoek. O nee, dan word daar weke vooruit ‘n ontvangs gereël en net die beste aangebied. Tot in die fynste detail word alles beplan. Maar as aangekondig word dat God sy volk, Sy gemeente gaan ontmoet in Welshstraat, daar waar die kerkgebou staan, dan berei niemand hom voor nie.

Die volk Israel het in die volgende vier opsigte God gewoon en alledaags gemaak.

In die eerste plek het hulle God afgeskeep. Hulle het verontreinigde spyse, halwe offers, gebreklike diere vir offers gebring. Hulle het die houding, dit maak nie saak wat ons vir die Here gee nie. Dit maak nie saak hoe min tyd ons aan die Here afstaan nie. Dit maak nie saak as ons nie ons deel vir die Here doen nie.

Maak ons, onsself nie maar ook hieraan skuldig nie. Die Here word ‘n bysaak in my lewe. Ek het nie werklik die tyd en die energie om die Here te dien nie. Hy moet maar kry, wat ek Hom kan bied. Hy moet die oorskiet tyd, geld en energie kry. Die Here maak nie regtig saak nie. Ons sê: Iets is beter as niks nie. Maar God sê: Alles of niks. Met jou hele hart of glad nie.

In die tweede plek het die volk Israel God probeer manipuleer. Die volk Israel, maar ook ons het dikwels die vermetelheid om te dink ons kan God manipuleer of omkoop met die tyd, geld en energie wat ons aan God se saak bestee. In vers 9 lees ons hoedat die volk God se goedgesindheid wou koop met hulle offers. God het vir hulle so gewoon en alledaags geword, dat hulle Hom wou omkoop. God het vir hulle ‘n onder een dak inkopiesentrum geword, wat al hulle behoeftes moes bevredig.

In die derde plek het hulle godsdiensbeoefening vir hulle moeite geword. Lees ‘n bietjie vers 13: “En julle sê” Kyk wat ‘n moeite.” ‘n Mens kry daar niks uit nie. Die godsdiens bring geen profyt nie. Ek kan nie beter leef daarvan nie. God is moeite. Ja, godsdiens word vir ons moeite. Snaaks hoe baie R20 is as jy dit kerk toe neem en tog so min as jy supermark toe gaan. Snaaks hoe lank ‘n uur is, as jy die Here dien en hoe kort 60 minute is, as jy ontspan. Snaaks, hoe moeilik dit is om ‘n hele hoofstuk van die Bybel op een slag te lees en hoe maklik dit is om ‘n hele roman deur te lees. Snaaks hoe ons nie weet wat om te sê as ons bid nie – en tog kan ons ure lank oor nietighede gesels. Snaaks, hoe ‘n mens te moeg is na die week om biduur toe te gaan, maar hoe verfris jy voel as daar partytjie gehou word. Snaaks, hoe daar nie tyd is om die Here te dien nie, maar hoe ‘n mens ure lank TV kan kyk. Snaaks hoe verveel mens kan wees wanneer die dominee 15 minute lank preek, maar ‘n hoe interessant ‘n vollengte rolprent kan wees. Snaaks hoe onbekwaam ‘n mens is om vir die Here te werk, maar hoe op hoogte van sake jy kan wees oor die politiek van die dag. Snaaks hoe moeilik ‘n mens 30 km op ‘n Sondag kerk toe ry, maar sommer gou-gou ‘n funksie op ‘n Saterdagaand bywoon.

Dit is alles simptone dat ‘n mens godsdiens as moeite sien, dat ‘n mens jou neus daarvoor optrek sê Maleagi.

In die vierde plek het hulle hul geloftes en beloftes nagelaat. Ja, hulle het ook by hulle voorstelling geloftes en beloftes aan God gedoen, dat ons wil U needrig wy ons lewe.

tab brandofferMaar dan besluit ons tog om nie die geloftes voluit te betaal nie. Daarom bring hulle in plaas van ‘n manlike, dit wil sê volmaakte dier, liewer nou maar die verminktes. Bring daardie ou ooi met die afbeen, dié gaan saam tempel toe. Ek het ‘n gelofte om te betaal, maar dit is geen duur gelofte nie.

Het ons lidmaatskapbeloftes, doopbeloftes en ampsbeloftes nie maar ook gewoon en alledaags geword nie. Ons het eenmaal belowe om aktief aan die kerk se werksaamhede deel te neem, maar dit was sommer ‘n lieg. Die Here het vir my so onbelangrik geword dat ek Hom selde of nooit in die kerk besoek nie. Daardeur sê ons eintlik: Wie is u nou eintlik, Here? Kerkbywoning word vir ons ‘n las, nie ‘n vreugde nie.

Maak ons God nie goedkoop en alledaags nie? As ons lidmaatskapbeloftes vir ons so min beteken, hoe seer maak ons God nie.

Wanneer ons God en godsdiens so gewoon, goedkoop en alledaags maak, dan moet ons maar liewer die kerk sluit. God wil alles of niks hê nie. Niks tussen-in nie. En daarom skrei dit in God se stem in vers 10 as Hy moet sê: “ Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, dat julle nie verniet vuur op my altaar kan aansteek nie!” Wat ‘n verskriklike ding vir God om te sê: Ag, as iemand onder julle, as die koster tog maar liewer die kerkdeure wou toemaak, as die kerkklokke dan maar liewer nie op ‘n Sondag gelui het nie. As die orrelis dan maar liewer nie die introïtus gespeel het nie, as die dominee dan maar liewer voor die kanseltrappies omgedraai het en as die kerkraad maar liewer in die konsistorie agtergebly het. Dat die gemeente maar eerder voor dooiemansdeur gekom het. Kan ‘n mens jou dit ooit indink wat dit God gekos het om so vér te gaan. Hy wat met Sy liefdesaanbod voor die wêreld staan, word so beledig. Wat is dit dan wat God so ver bring?

God wil nie gewoon en alledaags behandel word nie. God sê in vers 14b dat Hy die Grootkoning is vir wie die nasies ontsag het. Dit was ‘n gelade woord in die Ou Nabye Ooste. Dit was ‘n eretitel by uitstrek.

aanbidder21Die Grootkoning. Die Heer. Die Heer van onderdane. Die Koning wat ‘n verbond, ‘n ooreenkoms, met sy volk het. Onthou tog dit, wil God met die titel aan hulle sê: Ons het ‘n ooreenkoms. En die ooreenkoms lui dat Ek julle uit Egipte uit gelei het en dat julle daarom die gebooie van God noet nakom. Julle hoef God nie met julle offers te manipuleer of om te koop nie. Julle offers is nie daar dat sodat God julle kan seën nie, maar omdat Hy julle geseën het. Omdat Hy julle eerste liefgehad het. Julle offers moet liefdesoffers wees. Uit julle offers moet dit duidelik word hoe lief julle God het en hoe belangrik Hy vir julle is. Julle offers is ‘n blyk van dankbaarheid: Here, die beste wat ek het vir die beste wat U my gegee het: U Seun.

En watter offers is daar nie alles waarmee ‘n mens jou liefde teenoor God kan bewys nie! Jou offers sal aantoon hoe belangrik God vir jou is. Daar is die reukwerk, die lofoffer, die dankoffer en die brandoffer.

Hogepriester_reukofferaltaar

In die eerste plek is ons die reukwerk. Soos die priesters van Jerusalem reukwerk voor Jahweh gebrand het, so noem Paulus ons die reukwerk van God. My lewe moet ‘n erediens wees. My liggaan ‘n wandelende tempel. Ons is reukwerk van God, ons is God se parfuum op aarde.

In die tweede plek is ons ‘n lofoffer. Met ons gebede en ons sang loof ons God. Ons loof Hom oor al sy weldade aan ons.

Derdens is daar die dankoffer, naamlik om goed te doen aan ons naaste, om ons naaste lief te hê.

Vierdens is daar ook die brandoffer, om mededeelsaam te wees. Want daarvoor is die brandoffer gebrand, sodat ek self nie meer tel nie. En so kan ek kom tot mededeelsaamheid. Maar voordat die brandoffer nie uitgebrand is nie, kan die geur nie versprei word nie. Jesus Christus, was die brandoffer wat Homself op Golgota uitgebrand het, sodat Hy ‘n lieflike geur vir die hele wêreld versprei.

Wie so erns maak met sy reukoffer, lofoffer, dankoffer en brandoffer aan God, sal aan God ‘n ereplek gee. Hy erken dat God die Grootkoning is.

(Die preek is gebaseer op preek wat ek eenmaal gelees het. Die skrywer het ek vergeet.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gebed kan die geskiedenis verander.

 

GEBED KAN DIE GESKIEDENIS VERANDER

In 1 Samuel 1 lees ons van ‘n man met die naam Elkana, wat twee vrouens gehad het. Die een was Pennina en die ander was Hanna. Penninna het kinders gehad en Hanna geen kinders nie. Dit was vir Hanna ‘n baie swaar las om te dra. In Bybelse tyd was dit ‘n skande as ‘n vrou nie kinders gehad het nie. Penninna het dan ook gereeld vir Hanna gespot oor haar kinderloosheid. Veral seuns was belangrik gewees, want die Joodse mammas het gehoop dat die Messias uit hulle sou voortkom.

download (1)Elka jaar het Elkana en sy twee vroue en Pennina se kinders van Rama waar hulle gebly het gereis na Silo om by die tenttabernakel te gaan offer. As die offervleis uitgedeel is het almal ruim gekry, maar Hanna moes tevrede wees met haar enkelporsie, omdat sy kinderloos was. Dan het Penninna vir Hanna gespot. So het dit gegaan jaar na jaar. Een jaar kon Hanna dit net nie meer hou nie. Sy het biddend die tempel ingevlug en saggies, prewelend en huilend gebid dat die Here tog vir haar ‘n seun moet gee. Sy het ‘n gelofte afgelê, dat sou die Here vir haar ‘n seun gee, die kind aan die Here gewys sal wees. Die hoëpriester Eli het eers gedink Hanna is dronk en het haar streng berispe. Hanna het egter haar hart uitgestort voor die priester. Eli bevestig toe aan haar dat die Here haar gebed sal verhoor. Sy het toe gemeenskap gehad met Elkana en toe is die seuntjie Samuel gebore.

Fulfilling-her-vow-Hannah-hands-her-son-Samuel-to-Eli-the-High-Priest

Toe Samuel opgeskote was het Hanna haar gelofte nagekom en hom oorgegee aan die hoëpriester Eli, om hom op te lei as ‘n priester. Samuel was die punt van God se hart, want die seun Samuel het die Here geken. Dit teenoor Eli se twee priesterseuns, Hofni en Pinehas wat onsedelikheid en oneerlikheid bedryf het. Samuel was die uitverkorene wat gekies is om vir Eli eendag op te volg. Tydens Samuel se bedieningstyd sou daar ‘n einde gekom het aan die Rigtertydperk van 500 jaar en sou die tydperk van konings in Israel se geskiedenis begin. Samuel sou beide Saul en Dawid as konings inseën. So het die geskiedenis van Israel onherroeplik verander.

Somtyds dink ons net groot massa gebedsgeleenthede soos die van Oom Angus Buchan of van bekende charismatiese  geestelikes het die krag om sake te verander. Tog vergeet ons dat Hanna ‘n eenvoudige vrou was, wat stammelend en sukkelend gebid het. Tog het die Here haar eenvoudige gebed gebruik om die geskiedenis van Israel onherroeplik te verander.

Jy hoef nie grasieus soos ‘n vegvliegtuig te bid nie, Jy kan maar sukkelend bid soos ‘n twee motorige klein vliegtuigie wat sukkel om van die grond te kom. In Openbaring word gesê dat die Here die swakke gebede van sy kinders verander in wierook wat vir die Here aanneemlik is.

As ons geen toekoms sien vir ons land se toekoms nie, kan die gebed van ‘n enkeling rimpels veroorsaak vir ‘n nuwe toekoms. Daar is plek vir massa – gebedsgeleenthede, maar daar is ook verseker plek vir die gebed van ‘n enkele mens wat sukkelend bid.  Daarom  moet elke indiwidule gelowige ‘n bidder wees. Nie ‘n geleentheidsbidder nie. Gebed is ‘n stuurwiel, nie ‘n noodwiel nie.

Daarom moet ons versigtig wees om die feit mis te kyk, dat God ook deur jou persoonlike intieme gebede, die toekoms van die land en jou lewe kan verander.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

 

Wanneer die driewiel van geloof, hoop en liefde, sy wiele verloor.

Wanneer die driewiel van geloof, hoop en liefde, sy wiele verloor.

In 1 Kor 13: 13, sê Paulus dat jy geloof, hoop en liefde nodig het. Wat as jy net geloof en liefde het, maar nie hoop nie?

15166693714_753cd34466_bDaar is so baie goeie gelowige en liefdevolle mense, maar baie van hulle het die hoop op hierdie lewe verloor. Ek het een so ‘n vrou geken. Sy was van die VG Kerk Strydenburg met die naam van Sabien Goeiman. Sy was ‘n goeie godvresende vrou gewees. Haar lewe was kenmerkend van ‘n lewende geloof en ‘n diep egte liefde. Maar haar oë was leeg, sonder enige hoop – dit is nog voordat sy blind geword het. Ek onthou ek het altyd my ou brille vir haar gegee, omdat sy swaksiende was. Sy het min rede gehad om enige hoop in hierdie lewe te hê. Met haar karige staatspensioen het sy moeilik deurgekom, want sy moes nog sorg vir kleinkinders. Sy het geen hoop gehad dat dit môre of volgende maand sal beter gaan nie. Dan onthou ek vir Oom Willem Brouwers ook van die VG Kerk Strydenburg. Altyd op pensioendag, was sy enigste bederf gewees vir die maand om vir hom ‘n stukkie gaar vis by die kafee te koop. Hy het eenmaal vir my gesê, dat hy altyd skuldig voel as hy die gaar stukkie vis koop, want dit is nie genoeg vir sy huismense nie. Daar is net genoeg om te oorleef. Ouma Sabien en Oom Willem het ten spyte van swaar, egter altyd die geloof en die liefde behou, al was die hoop dikwels min. Ek het groot respek vir hulle gehad.

Baie ander mense se situasies is so hooploos, dat hulle hul oorgee aan drank en dwelms, om net vir ‘n kort tydjie te kan vergeet van hulle hopelose situasie. Waarom sal ‘n arm mens hom bekommer oor ‘n kondoom, vir Vigs wat hom eers oor 10 jaar kan doodmaak, maar hy het vandag nie eers brood het om aan die lewe te bly nie.

Die ergste is natuurlik as dit jou aan hoop ontbreek en jy later ook jou geloof en liefde verloor. Dan het jy niks.

193dc690-9300-4588-a5b5-4129047aaee9_120508-0_541Dit is soos ‘n driewiel- fietsie wat sy een wiel verloor. Die hele driewiel knars tot stilstand. Sonder liefde heers gesinsgeweld. Sonder geloof vergeet jy van God en die kerk. Dit is die verhaal van bendegeweld in die Wes-Kaap en die karretjie-mense in die Bo-Karoo. Dit is die verhaal van die Transskei en duisende wat gaan hoop soek in die Wes-Kaap.

Die tragedie van ons land, is dat daar nie geloof, nie hoop en ook nie liefde is nie. Daarom is ons land in so ‘n morele verval. Ons land is in chaos. Somtyds vernietig mense hulle eie hoop, maar meer dikwels is mense uitgelewer aan situasies waaroor hulle geen beheer het nie.

Prof Daniël Louw vertel van die dag toe hy saam met ‘n taxi op pad was in Nieu – Delhi in Indië. Daar is totale chaos op die paaie. Die taxibestuurder het toe vir hom gesê: “In India, everything possible. You only need good brake, good horn and good luck.” Hy het toe ook bygevoeg dat jy nooit in jou truspieël moet kyk nie. Die persoon agter jou moet kyk wat voor hom gebeur. As jy kyk na jou truspieël, is jy gedoem, want dan is jou oog nie op die baie gevare voor jou nie. Jy moet net hoetende vorentoe beur.

Mense dink dikwels dat hoop net die toekoms in gedagte het. Dat jy nie ‘n truspieël van die verlede en wat agter jou lê nodig het nie. Dit sou egter verkeerd wees. Heb 11 hou juis aan ons ‘n heldegalery voor van geloofshelde, wat geglo het, omdat hulle gehoop het op die dinge wat hulle nie sien nie. Die geloofshelde van Heb 11 is vir ons ‘n inspirasie, ‘n truspieëltjie, wat ons geloof en hoop versterk. Ons moet terugkyk in die truspieël van die Bybel se geloofshelde en daaruit hoop kry vir ons eie geloofspad met God. Die God van die verlede, van die geskiedenis, kan weer en weer en groter en groter, Homself oor en oor bewys, as die troue Verbondsgod van geslagte en weleer.

Geloof, hoop en liefde is soos die skakels van ‘n ketting. Heb 11: 1 sê duidelik dat geloof is om seker te wees wat ons hoop. Hierdie hoop kan ons nie nou alreeds sien nie, dit is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. Wanneer jy hoopvol glo en glo in die hoop, dan kan jy liefde ook bemeester in die lewe. Maar liefde begin by die geloof en die hoop. Liefde, wat die grootste is, sal vanuit die geloof en hoop totstand kom.

Daarom moet mense in Suid-Afrika weer opnuut geloof en hoop bemeester. Dit is wat ons land die meeste nodig het. As die twee agterwiele geloof en hoop in plek is, sal die voorste groot wiel, naamlik die liefde ook gestalte kry.

Beide geloof en hoop in Heb 11: 1 het te doen met dit wat ons nie kan sien nie. Geloof en hoop het te doen met die onsienlike. Daarom moet ons nie ons geloof en hoop aan sienlike dinge vasmaak nie. Die duiwel wil ons oorred deur die sienlike dinge vir ons aantreklik te maak. Mense hoop op die sienlike goed, Sienlike dinge word dikwels afgode en dit lei tot liefdeloosheid. Onsienlike dinge, is geestelike werklikhede, wat mense geestelik bou en lei tot moraliteit en tot liefde. Geloof is om te belê in die onsienlike.

bridge-450

Dit is soos ‘n brug in mistige weer. Jy kan nie sien of die brug anderkant weer grond raak nie. Maar jou vorige ervarings en die beweging van die verkeer (medegelowiges) gee vir jou genoeg vertrou om oor die brug te ry, na die onsienlike anderkant.

Daarom moedig die Hebreër skrywer ons aan, om al word ons armer in fisiese dinge, ons ryker moet word in geestelike dinge. Liggaam en Gees, daaruit bestaan die mens. Die liggaam kwyn met ouderdom, maar die geestelike groei soos ons ouer word. Wie geestelik groei, groei in sy/haar geloof. Juis daarom moet ons klem lê op die geestelike onsienlike, aldus die Hebreër skrywer. Liefde word dan sigbaar. Arm aan sigbare goed en sekuriteite maar ryk aan onsigbare geestelike rykdom en wysheid. Daarom kan hulle liefhê.

Belê in die onsienlike met geloof en hoop, dan sal die liefde outomaties sigbaar word in jou lewe. Het jou driewiel, van geloof, hoop en liefde, nog al drie sy wiele?                              Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

STINK AFRIKANERS …..

STINK AFRIKANERS …….

Afrikaners is pragtige geharde blomme. Met hulle helder oranjekleur kan hulle enige tuin verfraai. Maar Afrikanerblomme stink. Hulle ruik nie lekker nie.

dscf4778Paulus sê as’t ware in 2 Kor 2: 14 – 17 dat ‘n mens uitwendig mooi kan lyk, maar dat jou siel stink. Jou siel stink as jy in onvrede, bitterheid, kwaadwilligheid, onvergewenshesindheid en in sonde lewe. Die agtergrond van ons gelese gedeelte gaan oor die vraag of jy sonde in jou lewe oorwin het. In die voorafgaande verse word melding gemaak van liefde en vergifnis vir die oortreder. Daarom moedig Paulus ons aan om sonde in ons lewe te oorkom. Dan is ons op ‘n triomftog en versprei ons ‘n aangename geur. Die konteks van die gedeelte gaan oor die Romeinse gebruik om na ‘n oorwinning deur die stad te marsjeer met groot vertoon. Gewoonlik word die vyand met minagting deur die strate aan gejaag. Of die vyand word slawe of hulle word doodgemaak in die openbaar. Met so ‘n triomftog word gewoonlik oor wierook gebrand. Vir die oorwinnaars is dit ‘n aangename reuk. Maar vir die vyand wat verslaan is, is dit ‘n doodsreuk. Hulle verwag die ergste, naamlik die dood. Net so, as die gelowige die sonde in sy of haar lewe oorwin, word ‘n aangename geur versprei vir almal om te ruik. Maar as jy in die sonde volhard, versprei jy ‘n doodsreuk, ‘n stinkende slegte reuk.

In vers 17 word in die heel nuutste Afrikaanse vertaling gepraat van mense wat met die Woord “smous”. Dit beteken om die Evangelie af te water. Dit is soos ‘n mes of swaard wat stomp geword het. Gelowiges kan dikwels die skerp kante van die Evangelie stomp maak. Dit beteken dat die tweesnydende Woord van die Here sy skerp kante verloor en as’t ware nutteloos word. So kan die mens die Woord van die Here so afstomp en verwater. Hoor wat sê Eugene Peterson in The Message: “No–but at least we don’t take God’s Word, water it down, and then take it to the streets to sell it cheap. We stand in Christ’s presence when we speak; God looks us in the face. We get what we say straight from God and say it as honestly as we can.” Dit is die probleem van die post-moderne mens, ons maak die Woord stomp, omdat ons die Evangelie afwater. Dan versprei ons ‘n stinkende onaangename reuk. Alles word as reg en aanvaarbaar voorgehou. Die Evangelie word afgewater as ‘n “ou boek” wat niks meer vandag sê nie. Aborsies word as reg voorgehou. Sondagontheiliging is algemeen. Buitehuwelikse seks is algemeen. Om te steel word regstellende aksie. Kinders mag nie meer pak kry nie. Die doodstraf is afgeskap. Mense se etiese waardes het verwater. Die Here se naam word misbruik as ‘n vloekwoord. Godsdienstige waardes word as outyds voorgehou.Uitwendig is ons soos pragtige Afrikanerblomme, maar inwendig kan ons siele stink van ‘n afgewaterde Evangelie, wat al sy skerpte verloor het.

Eenmaal het die Here Jesus Christus in Joh 13, die stinkende voete van die dissipels gewas. Hy het van stinkende voet na stinkende voet beweeg en elke voet gewas, om die Joodse reinigingswet te onderhou. Eintlik, was dit die simbool dat Jesus aan die kruis ons stinkende harte en lewens sal skoonwas, sodat ons weer welriekend kan ruik.

Ek het êrens gelees dat die gebruik van ‘n bruidsruiker sy ontstaan in die Romeinse Ryk gehad het, maar dat dit in die Middeleeue die gebruik gehad het dat die bruid kan lekker ruik, omdat daar in daardie tyd nie seep en parfuum was nie. So kon die bruid lekker geruik het vir haar bruidegom op hul groot dag. Nie Old Spice of Jóvan se Black Musk, kan ons siele laat lekker ruik nie. Geen bruidsruiker kan ons stink lewe verdryf nie. Die teksgedeelte sê uitdruklik Christus neem ons op ‘n triomftog. Hy verlos ons. Hy laat ons weer welriekend ruik. Wanneer ons die sonde in ons lewe oorwin, dan versprei ons ‘n welriekende geur. Daarom mag ons nie gemaklik in ons eie sonde voortploeter nie. Christus neem ons mee op Sy triomftog. Sommige vetplante se blomme ruik baie sleg, om brommers aan te trek om hulle te bevrug. ‘n Slegte reuk, trek brommer en vlieë vriende, nie egte ware vriende nie. Blomme wat aangenaam ruik, trek skoenlappers aan, wat ware en goeie vriende is. Vers 17, sê ons moet in opregtheid praat en leef, asof dit vanuit God kom. Dit beteken om geen kompromieë te maak nie.

Watse reuk versprei jy? Ruik jy lekker vir jou man of vrou? Ruik jy lekker vir jou gesin of vir jou ouers? Ruik jy lekker vir jou werksmense of kollegas? Versprei jy ‘n aangename geur in Adelaide gemeenskap? Old Spice, Lux of Jóvan se Black Musk gaan jou nie red nie. Dit gaan jou siel, woorde, dade en optrede nie laat lekker ruik nie. Net Christus kan jou vernuwe om totaal nuut en vars te ruik. In Christus is jy ‘n nuwe mens, wat anders en welriekend leef.

By my ouerhuis van jare gelede het daar ‘n katjiepiering struik gestaan, by die voordeur. Op somersnagte het dit die heerlikse geur versprei. Jy kon dit meters van die struik al ruik. Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring. So moet ons ook katjiepieringstruike wees wat ‘n welriekende geur versprei, wat op ‘n afstand geruik kan word deur almal rondom jou.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die drie gode van ons tyd ….

Die drie gode van ons tyd …

Richard Foster het ‘n boek geskryf met die titel: “Sex, money and power”. In die baie populêre boek word seks, geld en mag uitgesonder as die drie grootste gode van ons tyd.

downloadDit is die goed  wat mense dryf en waarvoor mense leef. Natuurlik is nie een van die drie verkeerd nie. Inteendeel as dit gedryf word deur liefde en verantwoordelikheid is dit opsigself drie wonderlike dinge waardeur God se Koninkryk kan kom. Maar ongelukkig leer die geskiedenis dat die mens hom telkens vergryp hieraan. ‘n Mens kan maar net die koerante deurblaai. In elke negatiewe beriggewing sal jy ten minste een van die moderne gode raaklees. Of mense vergryp hulself aan seksuele sonde, of aan geld of aan magmisbruik.

Dit laat my dink aan die raad hoe om ‘n aap te vang. Plaas net vrugte of iets lekkers in ‘n nou nek bottel. Wanneer die aap sy hand in die pot steek en die lekkerny wil uittrek sit sy hand was. In plaas daarvan om sy hand oop te maak, bly hy vasklou aan die lekkerny – en siedaar jy het aap se kind gevang. So vang die bose die mensdom – omdat ons die duiwel na aap in ons gierigheid na seks, geld en mag.

Die koerante is vol van seksuele misgrype – wat eindelose pyn en emosionele seer veroorsaak – omdat mense die wonderskone gawe van seksualiteit misbruik tot persoonlike bevrediging van eie drange, wat nie gemik is daarop om jou lewensmaat se vrouwees en manwees te dien nie. Dit word verontmenslik tot bare dierlike instinkte (waar daar van skoonheid nie veel oorbly nie). Mense word ontrou, omdat die gras altyd groener aan die ander kant lyk.

Van finansiële vergrype lees ons elke dag. Diefstal, salarisse wat buite verhouding is, uitbuiting van werknemers, omkopery, onredelike winsgrense, loansharks en selfverryking is aan die orde van die dag. Iets van die “fat cat” en die soustrein – sindroom eet ons ekonomie op en neem die brood uit die armes se mond.

Van magmisbruik hoor ons elke dag in die politiek, sakewêreld, in die polisie en sommer ook in die “daaglikse politiek” tussen mense en in organisasies. Baantjies vir boeties, krap my rug – dan krap ek jou rug, tot  die blou lig bendes. Die blou lig bendes is die ergste. Sommige minister van ‘n provinsiale departement jaag met ‘n konvooi van voertuie, met blou ligte en sirenes van een funksie na die volgende partytjie – in die waan dat hy / sy vreeslik belangrik is. Klein godjies wat tog asseblief raakgesien moet word ! Die duurste voertuie en ontwerpersklere moet die beeld van belangrik poets tot sinlose ydelheid. Van eenvoud en nederigheid is daar geen sprake. Blink voertuie in plakkerskamp – woonbuurte skreeu ten hemel vir hul wat smag na ‘n deel van die ekonomiese koek, om net te oorleef van vandag se honger en uitsigloosheid. “Power corrupts; absolute power corrupts absolutely” het John Emerich Edward Dalberg Acton, first Baron Acton(1834–1902) opgemerk. Abraham Lincoln het gesê: “You may fool all the people some of the time; you can even fool some of the people all the time; but you can’t fool all of the people all the time.” Uiteindelik haal die waarheid ook die politici in.

Wanneer seks, geld en mag misbruik word –  word mense van hul menslikheid beroof. Wanneer jy verontmenslik is, dan word die lewe sinloos en leeg en sonder enige betekenis. Wanneer mense beroof word van menslikheid vervaag alle HOOP.

Daarom word Christene opgeroep om seks, geld en mag in ‘n ander lig te sien. Die seksuele geskapenheid van die mens, die finansiële seëninge van die Here en die verantwoordelikheid van mag – moet gerig en gefokus wees om DIENSBAAR te wees. Dit moet nie gerig wees op die “self” nie, maar op die “ander”. Seks, geld en mag – gaan altyd gepaard met uiterste VERANTWOORDELIKHEID. Dan kom daar sin en betekenis en tonne seën in jou lewe. Dan word jou lewe ‘n seën vir ander.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Keuses op kruispaaie

KEUSES OP KRUISPAAIE

Rooikappie en die wolf het mekaar oppad by ‘n kruising ontmoet. So is daar ook elke dag kruisings in die lewe, waar die duiwel ons wil uitdaag om die verkeerde keuses te neem. Die duiwel wil altyd vir ons die kortste en die mooiste pad wys. Dit terwyl die pad na die Here lank, kronkelend, smal en uitdagend is. Nie verniet het die oumense ‘n prent gehad van die smal en die breë pad, wat in hulle voorkamers gehang het nie. Op die breë pad is baie mense wat verkeerde sondige keuses neem en op die smal pad is min mense.

maxresdefaultDie wolf, dit is nou die duiwel het ‘n leuen aan Rooikappie vertel. So beskryf Joh 8:44 die duiwel as die vader van die leuen. Hy het alreeds heel in die begin vir Eva verlei met die leuen, dat as sy van die vrug sou eet, sy soos God sou wees. As gevolg van die leuen het die hele mensdom in sonde geval. So verlei die duiwel ons om altyd die kortste pad te neem. Richard Foster praat van die drie groot verleidinge, naamlik: “Sex, money and power.” Op die seksuele gebied wil die duiwel ons verlei met ‘n kort pad. Jy hoef nie te wag vir die huwelik nie. Nee, voorhuwelikse seks is in orde. Prostitusie, pornografie en owerspelige verhoudinge is ‘n kort pad na seksuele bevryding, sonder enige verantwoordelikheid. Daarteenoor leer die Here ons dat die huwelik die lang en die regte pad is vir seksuele verhoudinge.

Geld en materiële besitting is ook ‘n groot versoeking om die kort pad te neem. Mense wil vinnig ryk word. Jongmense wil begin, daar waar hul ouers vandag materieël is. Mense verval in die skuldspiraal, om te koop wat hulle nie kan bekostig nie. Die spreukwoord: “Besigheid is mos besigheid.” is die slagspreuk van die sakewêreld.” Korrupsie, diefstal, gewapende roof en transito rooftogte is aan die orde van die dag in Suid-Afrika. Hebsug en geldgierigheid vreet soos kanker aan ons samelewing. Mense wil die kort pad neem om ryk te word. Die enigste pad na voorspoed is die lang pad van harde werk. Die duiwel wil altyd die kort pad wys.

Mag en aansien is ook ‘n versoeking wat mense die kort pad laat kies. Mense trap op mekaar om die hoogste posisie te beklee. Mense beskinder en smeer ander swart om te kan vorder in die lewe. Ons praat sommer kortweg daarvan as binnepolitiek of kantoorpolitiek. Die lewe is vol politiek tussen mense. In politiek eet hond, hond. Daar is geen genade vir mekaar nie. Die kortste pad is om jou mededinger in ‘n slegte lig te stel. Daarom praat ons ook van jaloesie, wat een van die doodsondes was, van die vroeë kerk.

Die Bybel is deurspek van die wolwe se liegstories. Herodus het noukeurig uitgevra na die Kind Jesus se geboorte en wou gehad het dat hulle vir hom moet kom vertel van die pad na die Jesus Kind, sodat hy Hom kan doodmaak. God het egter die sterrekykers, met ‘n lang pad, ‘n ompad laat terugkeer na hulle land. Die wolf se leuens is gewoonlik ‘n kortpad met blomme besaai. Baie aanloklik word dit voorgestel.

Die houtkapper het die ouma en vir Rooikappie bevry. So het Christus ons bevry en vrygemaak.

Elke dag staan ons voor kruispaaie  om keuses te maak, tussen die lang pad en die kort pad. Pasop die week sal jy staan voor kruispaaie. Die wolf wag vir jou. Die wolf is baie oortuigend. Mag die Heilige Gees vir jou die onderskeidingsvermoë gee om te onderskei tussen die kort pad en die lang pad.     [Met erkenning aan Daniël Louw vir sy oorspronklike gedagtes uit die boek WOW GOD. Deur my verwerk in ‘n oordenking]

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

God se mosterdsaad-Koninkryk

GOD SE MOSTERDSAAD – KONINKRYK

Elke era se koninkryke spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge of dit hulle kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke tot die moderne koninkryke van vandag, maak almal hulle skuldig aan ‘n grootheidswaan. So spog mense ook met hulle eie koninkrykies. Met God se Koninkryk is dit so gans anders. Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon.

mustard-seedDaarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk. (Mat 13: 31 – 33) ‘n Mosterdaad is skaars 1 – 2 mm in deersnee, maar dit kan ‘n baie groot boom word, waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien het die bood gerys.

So werk God deur die eeue.  God werk in die klein onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treëtjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ‘n Pampoen groei ‘n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ‘n Eikeboom of olyfboom groei stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewenspan van die boom. Daarom moet ons geduldig met God wees, as Hy nie vining genoeg na ons sin werk nie. God se Koninkryk is nie ‘n pampoenkoninkryk nie, maar ‘n mosterdsaad-Koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet. Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ‘n groot boom. Elke jaarring vertel van die “journey” saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

Geestelike formasie vra waagmoed en ‘n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ‘n profetiese gemeenskap word, wat nie narcisties die kerk preserveer om maar net instand gehou te word nie. Dit vra om te “engaged” met die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk instand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak. Die kerk moet die wêreld in domino. Die kerk moet nie torings bou, soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik, die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ‘n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ‘n beter plek maak.

Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself instand te hou nie. Storey haal aan deur te sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk is die voertuig wat  nuwe drome en visie   kontekstualiseer, waarin armoede, onreg ensovoorts aangespreek word. Daarom moet die kerk mense dissipel, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “gospel-shaped” word wat ‘n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus.

Almal van ons het ‘n begeerte om ‘n verskil te maak en van die wêreld ‘n beter plek te maak. Die fout wat ons maak is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.” Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treëtjies te gee, kan ek ‘n verskil in die lewe maak. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant  in die grond en ek moet die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om ‘n aksie te neem in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem in my lewe.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ‘n verskil te bring in ons omgewing en konteks. Om een lewe aan te raak is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na een person uitreik, het ek in ‘n jaar ‘n verskil aan 365 lewens gedoen. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rassioneel beoefen nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewe wees.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)