Verstandigheid seëvier oor twee korrelkoppe

Skriflesing: 1 Samuel 25

In ons skrifgedeelte lees ons van twee korrelkoppe wat koppe stamp. Hulle is soos twee bulle in ’n porseleinwinkel, wat op die punt staan om te baklei. Dinge kon lelik skeefgeloop het, was dit nie vir ’n verstandige skoonheid wat tussenbeide getree het nie.

Ons lees dat die profeet Samuel gesterf het en dat sy begrafnis by Rama was. In dié tyd was Dawid nog op vlug om van Koning Saul se toorn weg te kom. Dawid het na die Paranwoestyn afgegaan.

Daar was ’n man in Maon, wie sea border in Karmel was. Die man was baie ryk en het 3000 skape en 1 000 bokke gehad. Toe Dawid en sy manskappe daar rondgetrek het, was hy juis besig om te skeer. Die man se naam was Nabal. In Hebreeus beteken sy naam “dwaas”. Hardy man was hard, ongenaakbaar en ’n regte boosdoener. Hy was ’n afstammeling van Kaleb. Sy vrou se naam was Abigajil en sy was ’n mooi vrou met ’n verstandigheid wat boekdele gespreek het.

Toe Dawid hoor dat Nabal skape skeer in Karmel, het hy tien jongmanne gestuur  om by Nabal te hoor of hy nie vir hulle kos het nie. Dawid en sy manskappe het met hulle teenwoordigheid in die streek gesorg dat Nabal nie vee verloor as gevolg van diefstal nie. Dawid en sy manskappe het dus indirek beskerming verskaf aan Nabal, sy veewagters en sy vee. Nou het Dawid as’t ware vergoeding of erkenning gevra vir die sekuriteit wat hy na die gebied gebring het.

Toe Nabal dit hoor, het hy hom bloedig vererg vir Dawid se voorbarigheid en wou uitvind wie hierdie Dawid is en of hy nie maar net ’n wegloop-slaaf was nie. Nabal was heeltemal onwillig om sy werkers se kos te deel met Dawid en sy manskappe.

Toe die tyding van Nabal se onbeskoftheid vir Dawid bereik, het Dawid hom net so bloedig vererg en vir sy manskappe gesê hulle moet hulle swaarde omgord. Vierhonderd manskappe het saam met Dawid opgeruk na Nabal en tweehonderd manne het by die pakgoed gebly.

Die twee bulle was nou los in die porseleinwinkel. Die spanning was op breekpunt. Een van Nabal se werkers het vir Abigajil kom sê wat gebeur het en dat haar man met Dawid ongeskik was; en dat Dawid nou met ’n groot aantal  manskappe opruk om met Nabal af te reken. Abigajil het nou besef daar is moeilikheid op hande en sy is die enigste een wat hierdie bloedbad tussen die twee korrelkoppe kan keer.

Abigajil het dadelik ’n plan gemaak en sy het tweehonderd brode, twee kruike wyn, vyf voorbereide skape, vyf emmers geroosterde graan, ’n honderd blokke saamgeperste rosyne en tweehonderd blokke saamgeperste droë vye geneem en dit op donkies gelaai  en vir haar diensmeisies gesê: “Gaan voor my uit. Kyk, ek kom agterna.” Vir haar man Nabal het sy egter niks van haar planne vertel nie.

Toe Abigajil vir Dawid tegemoet gaan, het sy van haar donkie afgeklim en voor Dawid se voete neergeval en by Dawid gepleit om asseblief afstand te doen van sy voorneme om Nabal en sy manne dood te maak. Sy het as’t ware verantwoordelikheid aanvaar vir haar man Nabal se dwaasheid en gesmeek om hulle lewens te spaar. Sy het toe al die kos voor Dawid gesit, sodat hulle kon eet.  Sy het ook die lof en voorspoed van Dawid besing.

Dawid was so diep geraak deur haar verstandigheid en wyse woorde, dat hy afgesien het daarvan om Nabal en sy manne met die swaard te dood. Dawid het die kos aanvaar en haar in vrede weggestuur.

Terug by Nabal, kom Abigajil toe af op ’n feesmaal, soos vir ’n koning. Nabal was dronk en sy het hom niks vertel nie, tot die volgende oggend toe hy nugter geword het. Toe Nabal die waarheid hoor, staan daar “het hy in sy binneste gesterf en hy het soos ’n klip geword”. Tien dae later het Nabal gesterf.

Toe Dawid hoor van die afsterwe van Nabal, het hy vir Abigajil laat roep om sy vrou te word. Sy het ingestem en so die vrou van Dawid geword.

So het ’n verstandige vrou met wysheid gehandel en gekeer dat daar bloedvergieting tussen die twee korrelkoppe kom.

Beide die twee korrelkoppe Nabal en Dawid het hulle humeur verloor. As jy jou humeur verloor, kan jy baie skade aanrig aan jou verhoudinge met ander mense, asook aan jou saak.

Prof Piet Naudé vertel die verhaal van die Middeleeuse Koning Genghis Kahn wat oor die magtige Mongoolse Ryk in Oos-Europa geheers het (1162 – 1227).

Die koning was lief vir jag en hulle het valke gebruik om die prooi vir hulle uit te wys. Wanneer die valk byvoorbeeld afpyl op ’n haas, het hulle geweet waar om die haas te jag.

Aan die einde van een van sy middagjagtogte, het hy sy jaggeselskap huis toe gestuur sodat hy nog ’n bietjie alleen in die woud kon vertoef.

 Dit was ’n warm dag en die koning was moeg. Hy was baie dors en hy kon nêrens ’n fonteintjie of poeletjie water vind om te drink nie. Uiteindelik sien hy water afdrup van ’n krans en hy hou sy perd in.

Hy haal sy silwer beker uit die saalsak en probeer om die druppende water op te vang met die beker. Dit gaan maar tydsaam. Net toe die koning die beker na sy mond toe neem, peil sy valk op hom af en stamp met sy vlerke die beker uit sy  hand.

Die valk gaan sit toe op ’n hoë rots vir die koning en kyk. Die koning is vies, maar dink dit was ’n ongeluk. Hy tel toe maar weer die silwer beker op en hou dit onder die druppende water teen die krans. Na ’n lang gesukkel is die beker halfpad vol. Net toe hy dit weer na sy mond toe bring om te drink, swiep die valk weer eens oor sy kop en stamp die beker ’n tweede keer uit sy hand. Nou is die koning kwaad en waarsku die valk dat hy volgende keer die valk sal doodmaak as hy dit weer doen. Na ’n lang gesukkel kry hy die beker weer halfpad vol. Weer swiep die valk oor die koning en stamp die beker uit sy hand. Dit rol in ’n rotsgleuf in, onbereikbaar vir die koning. Die koning is so woedend dat hy sy swaard rondswaai en die valk doodkap, sodat jy net vere en bloed sien. Sonder ’n beker moet die koning nou opklim teen die krans om die water met sy hande op te vang. Toe hy aan die bokant van die krans kom, sien hy tot sy skok ’n erg ontbinde slang, van die heel giftigste slange in die Mongoolse Ryk. Sou hy van die water gedrink het, sou hy gesterf het. Skielik besef hy dat hy sy eie valk onskuldig doodgemaak het, en dié wou hom van ’n gewisse dood gered het. Sy humeur het sy kosbare vriend se lewe gekos. Daar word voorts vertel dat koning Genghis Kahn toe opdrag gegee het dat ouers en onderwysers hul kinders moet leer om nooit uit woede oorhaastig op te tree nie.

In Spreuke 16: 32 staan: “’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter, ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.” Duidelik kan ’n mens aflei dat Koning Salomo ’n groot premie plaas op GEDULD en SELFBEHEERSING. Met dié twee deugde kan jy ’n stad inneem.

Beide Nabal en Dawid het die toets vir selfbeheersing gedop. Hulle was gou op hulle perdjie. Die definisie van ’n korrelkop is: “Iemand wat gou kwaad word en rusie maak”. Hierdie definisie pas Nabal en Dawid baie goed. Altwee het ’n opvlieënde geaardheid gehad. Dit is baie moeilik om saam met ’n korrelkop te leef.

Nabal het nie tot inkeer gekom wat sy humeur betref nie en het ’n ontydige dood gesterf. Dawid het deur die verstandigheid van Abigajil tot inkeer gekom en sy woede oor Nabal laat staan.

So moet ons ook vir die Heilige Gees vra om ons te verlos van woede, humeurigheid en ’n opvlieënde geaardheid. Dit laat ons soos dwase optree. Ons moet Abigajil se voorbeeld volg deur met verstandigheid op te tree en as vredemaker op te tree.

Laat ons nie 2024 versuur met ons koppigheid nie, maar eerder met verstandigheid optree en van die wêreld ’n beter plek maak.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Laat U Koninkryk kom

Skriflesing: Mat 6: 9 13 en Mat 13: 31 – 33

Koning Lodewyk XV (1710 tot 1774) wat in Frankryk geheers het, was loshande beskou as Frankryk se swakste koning ooit.

 In plaas van regeer het hy hom besig gehou met jag en verhoudinge met vroue. Sy swak regering het byvoorbeeld aanleiding gegee tot die Franse Rewolusie wat tydens sy opvolger se bewind uitgebreek het.  Hy was ook nie juis ’n nederige mens nie, aangesien hy in 1732 die volgende kennisgewing laat aanbring het in die St Medard begraafplaas in Parys:

“God word hiermee verbied om in hierdie plek wonderwerke te doen.  Op las van Koning Lodewyk XV, koning van Frankryk.”

Die rede vir hierdie kennisgewing was blykbaar, beweer sommiges, dat Lodewyk so ’n sedelose lewe gelei het dat hy die oordeelsdag gevrees het, en daarom God wou verbied om iets te kom doen daar waar hy eendag begrawe sou lê.  Dit is asof hy met sy kennisgewing wou sê: Hier mag God se koninkryk nie kom nie.  Hier mag God nie kom nie.  Dit is Lodewyk XV se koninkryk en plek hierdie! (Verhaal aangehaal uit anonieme bron)

Ons kan vanaand se boodskap as volg saamvat: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.

Die term “Koninkryk van God” verskyn 68 keer in tien verskillende Nuwe Testamentiese boeke, terwyl “Koninkryk van die hemel” slegs 32 keer voorkom en net in die Evangelie van Matteus.

Die mens se bekommernis is oor sy mees basiese behoeftes, maar ook oor luukshede in die lewe.  Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek slaaf word wat net leef, werk en bekommerd is oor my behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste, donkies, my geluk, my huis vir my belangriker as God word, is daar iets groots verkeerd. Wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer of wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam. Wie so besig is om aan sy eie empire, sy eie “koninkryk” te werk, is met sy eie godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse.

Mat 6: 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader-gebed bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort. Wat bedoel ons as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”? Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe.

Dit beteken hoe langer, hoe meer kom ek onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk, moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke. Ons moet die wil van God najaag. Wie ’n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ’n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy/sy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie. Bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees.

Daarom is die Koninkryk van die hemel  nie soseer ’n plek nie, maar gebeure. Die Koninkryk van God breek deur in my lewe en in die geskiedenis van hierdie wêreld, waar ons sout van die aarde en lig vir die wêreld word. Jesus se Bergpredikasie handel hoofsaaklik oor die lewe in die koninkryk van die hemel. Die Here het ook ’n klomp Koninkryksgelykenisse vertel vir die dissipels. 

Elke era se koninkryke spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge en of dit hulle kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke tot die moderne koninkryke van vandag, maak almal hulle skuldig aan ’n grootheidswaan. So spog mense ook met hulle eie koninkrykies. Met God se Koninkryk is dit so gans anders.

Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk. (Mat 13: 31 – 33) ’n Mosterdsaad is skaars 1 – 2 mm in deursnee, maar dit kan ’n baie groot boom word, waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien, het die brood gerys. 

So werk God deur die eeue.  God werk in die klein, onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treetjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ’n Pampoen groei ’n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ’n Eikeboom of olyfboom groei stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewensduur van die boom. Daarom moet ons geduldig met God wees as Hy nie vinnig genoeg na ons sin werk nie.

God se Koninkryk is nie ’n pampoenkoninkryk (wat vinnig groei) nie, maar ’n mosterdsaad-Koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet. Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ’n groot boom. Elke jaarring vertel van die reis saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

Geloofsvorming vra waagmoed en ’n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ’n profetiese gemeenskap word, wat nie narsisties die kerk preserveer om maar net in stand gehou te word nie. Dit vra om te engage met die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk in stand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak. Die kerk moet die wêreld in “domino”. Die kerk moenie torings bou, soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ’n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ’n beter plek maak.

Almal van ons het ’n begeerte om ’n verskil te maak en van die wêreld ’n beter plek te maak. Die fout wat ons maak, is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.” Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treetjies te gee, kan ek ’n verskil in die lewe maak. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant  in die grond en ek moet die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om ’n aksie te neem in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ’n verskil te maak in ons omgewing en konteks. Om een lewe aan te raak, is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na een persoon uitreik, het ek in ’n jaar ’n verskil aan 365 lewens gemaak. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rasioneel beoefen nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewens wees. 

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Laat U Naam geheilig word

Skriflesing: Mat 6: 9 – 13

In die Bybelse tyd was die betekenis van name baie belangrik. Gewoonlik het die name van mense iets beteken. Jou naam het baie maal verwys na ’n spesifieke eienskap. So het dit dikwels gebeur dat as mense verander as gevolg van gebeure of omstandighede, hulle naam ook verander. Dink sommer aan Abram, wat Abraham geword het. Dink aan Naomi wat haarself Mara genoem het, wat beteken “bitter”. Dan is daar natuurlik Saulus wat op die pad van Damaskus tot bekering gekom het wie se naam verander het na Paulus.

Mense is geneig om vir hulself “naam” te maak. Mense doen dinge om naam te maak. Baie mense streef daarna om eendag wanneer hulle sterwe ’n legacy agter te laat. Dit is nie noodwendig verkeerd nie. As jou lewe getuig van lewenskwaliteite en karakter, kan die nageslag daaruit leer. Maar as jy obsessief daarna strewe om jou eie naam te bevorder, kan jy maklik narsisties word en dit vir baie mense moeilik maak om met jou saam te leef.

Mense is lief vir hul eie name en sal dit ten alle koste beskerm, al moet hulle ook hof toe gaan daaroor. Elkeen se naam het ’n reputasie. Jy wil jou reputasie beskerm.

Tog sleep die mense God se naam deur die modder deur daarvan ’n vloekwoord te maak. Van alle vloekwoorde word die name van die Here seker die meeste misbruik. Mense is openlik “ateïste”, maar hulle gebruik die name van die Here, selfs al ontken hulle die Here in hulle lewe. Dit kan ek nie verstaan nie. Die Persoon in die wêreld wie se Naam die meeste misbruik word, is juis die Here se Naam. Mense vloek hulle Skepper en die Een wat hulle elke dag versorg.

Ons as gelowiges kan ook Sondae die Naam van die Here ydellik gebruik as ons geestelike liedere sing, sonder om te konsentreer op wat ons sing. Ons sing maar net sommer, sonder om te dink wat ons sing. Die lied kom nie uit ons hart nie. Dit word sommer net meganies gesing. Dan gebruik ons die Here se Naam ydellik. (Louis Jordaan)

Ds. Hennie Fouché vertel van die ware staaltjie wat op sy pa, Pieter, se plaas gebeur het. Daar was ’n werker Klaas op die plaas wat die Here se Naam byna in elke sin gebruik het. Die situasie het later vir Oom Pieter onhoudbaar geword. Toe hy sien sy pratery met Klaas werp geen vrugte af nie het hy ’n ander tegniek gebruik. Toe die werker weer die Here se naam uitroep, roep Oom Pieter hard uit: “Klaas!”
“Ja, Meneer?” vra Klaas, maar Oom Pieter ignoreer hom. Hy gaan net aan met sy werk. Na ’n paar minute volg dieselfde ritueel: Die werker gebruik weer die Here se naam as vloekwoord. Net daar roep oom Pieter weer Klaas se naam uit, maar ignoreer sy “Ja, Meneer?”

Toe dit die derde keer gebeur, kan Klaas dit nie meer verduur nie en hy konfronteer Oom Pieter: “ Meneer, ek verstaan nou nie mooi nie. Jy roep gedurig my naam, maar as ek reageer, ignoreer jy my. Jy maak of niks gebeur het nie.”
Toe kom Oom Pieter se wyse antwoord: “Wel, dit is presies wat jy met die Here doen, Klaas. Jy roep sy Naam uit, en as Hy wag dat jy verder moet praat, ignoreer jy Hom. Hoe dink jy moet die Here voel?

Klaas het blykbaar nooit weer die Naam van die Here as vloekwoord gebruik nie …
Daar was ook in die sewentigerjare op Strydenburg ’n oom wat soos ’n matroos kon vloek. Hy het nie eers geweet hy vloek so baie nie. Dit was in sy tweede natuur om die Here se naam ydellik te gebruik. Die predikant van die dorp het gereeld saam met die oom ’n koppie koffie gedrink by die straatkafee. Later kon die predikant nie meer die vloekery van die oom hanteer nie. Hy het dosies vuurhoutjies gekoop en elke keer as die Oom vloek, het hy ’n vuurhoutjie gebreek. Die oom kon nie glo dat hy so baie gevloek het nie. Later het die oom geleer om minder te vloek en nog later om op te hou vloek.

Jou opvoeding en jou vriendekring bepaal in ’n groot mate of iemand gaan vloek. Daarom rus daar ’n groot verantwoordelikheid op ouers om vir hulle kinders die regte voorbeeld te stel. Verder moet ’n mens jou vriende reg kies, anders kan jy later soos hulle praat.

Jare gelede was die gebruik om kinders se monde uit te spoel met peperwater as hulle gevloek het. Die kinders het die grootste vrees daarvoor gehad.

Mense wat erg vloek, het gewoonlik ’n swak selfbeeld en moet kragwoorde en vloekwoorde gebruik om hulself te laat geld.

Juis daarom leer die Here Jesus vir ons in die “Onse Vader”-gebed om te bid met die woorde: “Laat U Naam geheilig word”. Wat beteken dit dat ons bid dat die Here se naam geheilig word? Dit beteken om die Here se Naam opsy te sit of eenkant te sit en dit met spesiale respek te hanteer. Dit beteken om nie God se Naam goedkoop te maak nie. God se Naam is ver verhewe bo elke naam.

’n Christen se woordgebruik moet altyd voorbeeldig wees. Behalwe om die Naam van die Here ydellik te gebruik, moet ’n mens ook kragwoorde vermy. Jou woordgebruik moet suiwer wees.

Ons aanbid die Here deur Sy Naam. Die kerkvader Augustinus het min of meer die volgende gesê: “God dors om na gedors te word.” God wil hoor dat ons tot hom bid en Sy Naam aanroep – maar ons moet dit met eerbied en respek doen.

Mag ons in die nuwe jaar opnuut in aanbidding en verwondering staan oor die Naam van God. Mag ons God se Naam heilig hou.     Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Cleddie, Keith. Praying the Lord’s Prayer. Kindle Edition.

Clasen, Ferdie. 2001. Ons Vader – die gebed wat jou wêreld verander. Wellington: Lux Verbi.

Van Rensburg, Ewald. 2013. Keer jou familielewe om met die 10 gebooie. Wellington: Bybelkor.

Paternoster

Skriflesing: Mat 6: 9 – 13

Paternoster is ’n klein vissersdorpie langs die Weskus. Vandag is dit ’n moderne dorp, met vele luukse huise.

Destyds, baie jare gelede, was dit die tuiste van ’n arm vissersgemeenskap, met armoedige huisies van vissers wat baie eenvoudig gelewe het. Die ou vissermanne van Paternoster het letterlik van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie Vader wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar genoeg vis is. Daar was storms; partykeer het ’n skuit nie teruggekeer nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Sommige dae het die vis goed verkoop, ander dae het dit weer swak verkoop. Hulle was daagliks afhanklik van die Here en daarom het hulle hul dorpie die naam “Paternoster” gegee, wat in Latyn beteken “Onse Vader”.

Die Onse Vader-gebed begin met “Onse Vader”. Die woord “Vader” skep by die meeste mense ’n warm gevoel van geborgenheid en sekuriteit.  Die woord “Vader” kom twaalf keer in die Bergrede voor en meer as 100 keer in die Johannes Evangelie. In die Ou Testament is die woord “Vader” baie skaars. Dit word in die Ou Testament net veertien keer genoem. Die rede hoekom dit so min in die Ou Testament voorkom, was omdat die Jode bang was om die Here direk aan te spreek. Toe Jesus Christus Homself openbaar in die Nuwe Testament, word die woord “Vader” baie gereeld gebruik, om die unieke verhouding van die Here Jesus teenoor Sy Vader uit te druk.

Jesus het die Aramese woord “Abba” begin gebruik, wat as “Pappa” vertaal kan word. Die Aramese woord vir Moeder is “Imma”.  “Abba” en “Imma” was as’t ware die eerste woorde wat ’n Joodse kindjie geleer het. In die Joodse gebedsliteratuur kon Joaquim Jeremias (’n Rooms Katolieke teoloog), nie die woord “Abba” vind nie. As’t ware het Jesus Christus self die gebruik gevestig om sy Vader as “Abba” aan te spreek. Hy het ons geleer om elkeen ook so ons hemelse Vader aan te spreek.

Daarom is die “Onse Vader” ’n intieme gebed. Uit Sy Vaderhart is die mensdom gebore. Hy was, is en sal altyd die Inisieerder, die Skepper, die Beskermer, die Voorsiener en die Onderhouer wees, omdat Hy die begin en einde van alle dinge is. Hy is die Vader van die hele wêreld en mensdom.

Die “onse” in “Onse Vader” beteken dat ek nie selfsugtig kan bid nie. Ek bid nie net namens myself nie. Ek bid saam met mense wat verskil van my wat politiek, kultuur, ras en klas betref. Ek bid selfs vir my vyand ook. Daarom is die “Onse Vader” ’n “gevaarlike” gebed, want ek bid saam met mense en vir mense wat dalk drasties van my verskil wat siening of kultuur betref. Die “Onse Vader” gebed maak dat my medegelowiges en my medebidders, my broers en susters word.

My gebed kan maar eenvoudig en vol gebreke wees.  Net soos ’n klein kindjie nie ’n lelike prentjie kan teken nie, net so min kan ’n bidder ’n slegte gebed bid tot sy Vader. Ek kan met alledaagse sake na God gaan, want God luister na die eenvoudigste gebed. Wanneer ek bid, vertaal die Heilige Gees my swak en gebrekkige gebed in ’n gebed wat duidelik is vir die Vader.

Daar was op ’n keer drie kluisenaars wat op ’n eiland gebly het.  So eenvoudig soos wat hulle was en geleef het, so eenvoudig en opreg was hulle daaglikse gebed. Dit het min of meer so geklink: “Ons is drie, U is drie; wees ons asseblief genadig. Amen.” Soms het daar ’n wonderwerk gebeur wanneer hulle so gebid het. Op ’n dag het ’n sekere biskop van die kluisenaars te hore gekom en hy het besluit dat hulle moet leiding kry in hulle gebedslewe. Hy is toe per boot na die eiland toe en hy het die monnike onderrig in die gebed. Na ’n paar dae is hy met sy bootjie terug na die vasteland. Skielik sien hy agter hom ’n beweging op die water, wat al hoe nader kom. Toe hy mooi kyk, sien hy dat dit die drie kluisenaars is wat op die water aangehardloop kom. Toe hulle uiteindelik by die bootjie is, sê hulle vir die biskop: “Ons is jammer, maar daar is ’n paar dinge wat jy vir ons geleer het wat ons vergeet het. Sal jy omgee om dit net vir ons te herhaal?” Die biskop het sy kop geskud en nederig en half skaam geantwoord: “Vergeet alles wat ek julle geleer het en hou aan om te bid soos altyd.”  (Ferdi Clasen)

Om die eerste twee woorde van die modelgebed te bid, is veel meer as net twee woorde. Dit beteken ’n lewe wat ek voortdurend in die teenwoordigheid van my hemelse Vader leef. 

Maar soms ervaar ons nie die Vader se teenwoordigheid nie. Die kerkvaders het hiervan gepraat as die “Deus Absconditus” – die God wat verborge of weggesteek is. Teologies weet ons God is elke dag by ons, maar ons kry tye wat ons God nie ervaar nie. Dan ervaar ’n mens dat jy deur ’n woestyn gaan. Maar God lei jou elke keer weer uit daardie woestyn, soos Hy sy volk ook uit die woestyn gelei het.

Daarom begin hierdie modelgebed met die aanroep: “Onse Vader”. Die Vader is die Gans-Andere, met wie ons in ’n intieme en persoonlike verhouding kan staan.

Maar die modelgebed se eerste sinsnede verklaar dat die Vader in die hemel woon. Die Vader is in die posisie van almag en wonderskone heerlikheid. Die hemel en die aarde staan in ’n verhouding met mekaar. Genesis 1 leer ons dat God eers die hemel en toe die aarde geskep het. Hemel kom voor aarde.

Mense wil so graag hemel toe gaan, maar hulle vergeet dat God die hemel aarde toe wil bring. Daarom staan daar: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied,  soos in die hemel, so ook op die aarde”. Die Here wil as’t ware hê ons moet iets van die hemelse heerlikheid en volmaaktheid ook hier op die aarde reeds belewe. God se werke op aarde kom uit die hemel en ons is getuienis daarvan.

Paternoster was dekades terug ’n eenvoudige, arm vissersdorpie. Die dorp se inwoners het met skaarste gelewe. Hulle was uitgelewer aan die nukke en grille van die see. Hulle moes saamleef met die emosies van die see. Daarom moes hulle elke dag die “Onse Vader” bid. Daarom is die naam van hulle dorpie Paternoster, wat in Latyn beteken  “Onse Vader”. Mag ons ook so intiem met God saamlewe.   Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS

Cleddie, Keith. Praying the Lord’s Prayer. Kindle Edition.  

Clasen, Ferdie. 2001. Ons Vader – die gebed wat jou wêreld verander. Wellington: Lux Verbi.

Magneet-mense lewe dankbaar

Skriflesing: Lukas 17: 11 – 19

Veronderstel daar is ’n klomp ysterskaafsels in ’n bak vol sand.

As jy die skaafsels met jou lomp vingers soek, gaan jy niks kry nie. Maar vee net met ’n magneet oor die sand en siedaar! Die magneet trek al die ysterskaafsels maklik aan. Die ondankbare hart is soos jou lomp vingers, dit vind niks om oor dankbaar te wees nie. Die dankbare hart is soos die magneet wat die ysterskaafsels vind, en wat in alles dankbaarheid en hemelse seëninge vind.

Dankbare mense is mooi mense. Dankbare mense is blymoedige mense.

In ons gelese gedeelte hoor ons van tien melaatses wat  op die grensgebied van Galilea en Samaria gebly het. Waarskynlik was daar Jode en Samaritane in die groep teenwoordig. Wanneer jy melaats is, tel kultuur of afkoms niks nie. Die gemeenskaplike siekte, verwerping en swaarkry bind mense aan mekaar. Eertydse aartsvyande bly nou saam in die groep melaatses.

’n Mens sien dit vandag ook in hoë intensiewe-sorgeenhede, waar mense veg vir hulle lewe of veral in onkologie-eenhede, waar mense dieselfde nood het en as’t ware amper soos familie van mekaar word. Alle kleur- of klasseverskille val weg – daar is ’n gemeenskaplike empatie met mekaar, want elkeen loop op dieselfde paadjie. Nood bind mense saam.

Melaatsheid is in die Bybelse tyd as ’n hoogs aansteeklike siekte beskou en daarom moes melaatses altyd 100 meter van gesonde mense wegbly. Dit was ook gebruik dat die melaatses ’n stok met ’n lap dra, sodat gesonde mense kon weet dat hulle nie moes naderkom nie.

Vandag weet ons meer omtrent die siekte. Dit word veroorsaak deur bakterieë wat die senuweestelsel buite die brein en ruggraat aanval. Dit kan lei tot verswakte spiere wat aan die hande ’n klouagtige voorkoms gee en later meebring dat die voete nie kan beweeg nie. Die vel verbleek, sere ontstaan en permanente swelsels, knoppe en uitgroeisels skend die liggaam en gesig. Die siekte veroorsaak dat ledemate hulle gevoel verloor en dit kan ernstige skade aanrig aan die ledemate sonder dat die melaatse daarvan bewus is. Sekondêre gevolge behels dan ook die verlies van ledemate. (Ben Lubbe, Die Pottebakker)

Melaatses is as uitgestote mense behandel. Die dorpe het vir hulle kos op ’n sentrale punt neergesit om te kom haal en hulle het meestal in grotte gebly.

Boonop was melaatses volgens die wet van Moses onrein. Daarom staan daar in Lev. 13: 45 – 46 die volgende: “ Iemand wat velsiekte êrens aan hom het, se klere moet geskeur wees, sy hare moet los hang en hy moet sy snor bedek. ‘Onrein! Onrein!’ moet hy uitroep. So lank as wat hy die velaandoening het, sal hy onrein wees; hy is onrein. Hy moet eenkant woon. Sy blyplek moet buite die kamp wees.” Dit het ook geïmpliseer dat hy of sy ook geestelik onrein is. Daarom was melaatsheid beide ’n siekte asook ’n religieuse probleem. Daar is geglo dat sonde met melaatsheid gestraf word. Daarom moes mense na die priester gaan, sou hulle gesond word, om deur die priester weer opgeneem te word in die gemeenskap.

’n Melaatse verloor sy posisie in die samelewing; hy verloor sy familie, gesin en vriende. Hy verloor sy huis en besittings. Dit is die eensaamste pad wat jy kan stap.

Dit was die posisie van die tien melaatse mans. Daarom, toe hulle Jesus sien, het hulle op ’n afstand gestaan en geroep dat die Here hulle moet genees.

Die Here het hulle nie onmiddellik genees nie, maar vir hulle opdrag gegee om na die priesters te gaan om hulle gesond te verklaar. Dit vra geloof. Jy is nog nie gesond nie, maar jy stap na die priester om jou rein te verklaar. Dit is geloof in werking. Hulle het eers, al lopende na die priester, gesien hoe hulle gesond word. Daarom is geloof om sonder enige sekerhede die pad te loop, al het jy geen waarborge nie. Dit is as’t ware om te glo en vas te hou aan dit wat nog onsienlik is. Daarom vat Hebreërs 11: 1 dit so mooi saam: “Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”

Toe die tien mans ontdek dat hulle gesond is, was daar groot vreugde onder hulle. Maar net een man, ’n Samaritaan, het omgedraai om vir Jesus dankie te sê. Hy het op sy gesig voor Jesus neergeval en Hom geloof. Jesus vra toe of daar nie tien melaatses was wat gesond geword het nie?

Waar is die ander nege? Net hierdie vreemdeling (’n Samaritaan) het kom dankie sê. Jesus sê toe vir die man: “Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered.” Die ander nege het net liggaamlik gesond geword, terwyl die Samaritaan liggaamlik en geestelik gesond geword het. Sy saak was nou reg met God.

Dankbare mense lewe stadiger, skryf Ds André Oosthuizen (Geloofsentrum Universitas in Bloemfontein). Gejaagde mense fokus en kyk net vorentoe en wil die beste uit die toekoms haal.

Hulle is so gefokus op tyd, dagboeke en produktiwiteit dat hulle nooit stilstaan om alles te waardeer en dankie te sê vir die seëninge wat rondom en agter hulle lê nie. Oosthuizen skryf dat bemarking se doelwit is om mense ondankbaar te maak met wat hulle het en te strewe na beter, groter en duurder goed. Want, sien, dankbaarheid verkoop nie. Jy word as ’t ware ondankbaar gemaak deur bemarkingsfoefies, om jou ou goed in te ruil vir nuwer en beter goed. Ons word gebombardeer met ondankbaarheid, sodat die  ekonomie kan groei, aldus Oosthuizen.

Maar mense wat stadiger lewe, kan rond kyk en terug kyk en die baie seëninge op hulle lewenspad ervaar en daarom dankbaar wees. As die lewe stadiger draai, sien jy meer dinge om voor dankbaar te wees. Swaarkry en krisisse kom dikwels op tye wanneer jy tot stilstand gedwing word om meer dankbaar te lewe en meer waarderend te wees.  

’n Dankbare mens praat van ’n halfvol glas water en ’n ondankbare mens van ’n halfleë glas water. Dit het alles met perspektief te doen. Dankbaarheid sien meer raak en ondankbaarheid sien minder raak. Stel jouself in om in 2024 die potensiaal en die moontlikhede in die nuwe jaar raak te sien. Dankbare mense sien altyd geleenthede raak.

’n Mediese dokter het een maal ’n dankie-sê brief aan ’n oud-onderwyser geskryf omdat sy vir hom soveel bemoediging gegee het toe hy 30 jaar tevore in haar klas was. Hy het later hierdie antwoord terug ontvang: “Ek wil hê jy moet weet dat jou brief vir my baie beteken het. Ek is nou ’n ou dame in my tagtigs, wat alleen in ’n kamertjie woon, my eie maaltye kook, eensaam is, en ek voel soos die laaste blaar aan die boom. My geslag het heeltemal uitgesterf. Jy sal belangstel om te weet dat ek vir 50 jaar skoolgehou het, en joune is die eerste brief van waardering wat ek nog ooit ontvang het. Dit het op ’n koue en triestige oggend gekom en my eensame ou hart opgebeur, aangesien niks my in baie jare opgebeur het nie.”

Charles Dickens het gesê die mense is ietwat agterstevoor daar in Amerika. Hy het aan ’n gehoor gesê dat in plaas daarvan om een “Thanksgiving Day” elke jaar te hê, hulle eintlik 364 moet hê. “Gebruik die een dag wat oorbly net om te kla en te kla,” het hy gesê. “Gebruik die ander 364 dae om God elke dag te dank vir die baie seëninge wat Hy oor jou uitgestort het.”

Daarom moet ons magneet-mense word, wat dankbaarheid soos die ysterskaafsels in ’n sandbak aantrek in ons lewe. Ons moet wees soos daardie een melaatse wat gesond geword het en vir Jesus kom dankie sê het. Om magneet-mense te word, wat dankbaarheid aantrek, moet ons vol van die Heilige Gees wees. Deur die werking van die Heilige Gees, leer ons om die dinge raak te sien waarvoor ons dankbaar moet wees.

Die derde en grootste deel van die Heidelbergse Kategismus handel oor die dankbaarheid in die Christelike lewe. Daarom moet ons hoogste strewe wees om altyd in alles dankbaar te wees teenoor God en ’n lewe van dankbaarheid te leef.    Dan sal jy merk dat jy werklik gelukkig word. Oefen ’n lewe van dankbaarheid in 2024.

Dankbaarheid kweek ’n gelukkige lewe.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus is die hart van die partytjie

Skriflesing: Luk 5: 27 – 39

Galileo Galilei (15 Februarie 1564 – 8 Januarie 1642) was ’n Italiaanse fisikus, wiskundige, sterrekundige en filosoof, wat vir groot deurbrake gesorg het in die wetenskap en astronomie.

Hy het tientalle ontdekkings in verskillende velde   gemaak; hy het ook onder andere die teleskoop ontwikkel waaruit baie astronomiese waarnemings gevolg het. Galilei het byvoorbeeld ontdek dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie. Die kerk van sy tyd het sy sieninge as kettery afgemaak en wou hom na die brandstapel stuur. Hy is egter onder huisarres geplaas. Jare later sou die Rooms Katolieke kerk wel erken dat Galilei reg was.   

Mense pas nog altyd moeilik aan in hulle siening van God, soos die kerk in Galilei se tyd ook moeilik die nuwe aanvaar het. Die deursnee mens glo nog steeds dat jy deur jou goeie lewe (met ander woorde die wet)  gered word. Hulle misverstaan die Evangelie, dat Jesus die Wet vervul het en met ’n nuwe verbond van genade begin het.

So kon die Fariseërs ook nie verstaan dat Jesus alles kom verander het en juis na mense toe gekom het wat buite die wet staan en boonop met hulle partytjie kom hou waar hulle eet en drink nie.

Jesus het graag met sondaars gemeng. In ons gelese gedeelte het Hy vir  Levi, die tollenaar, gevra om Hom te volg. In ’n ander geval het Hy vir Saggéüs, die hooftollenaar, gevra of Hy in sy huis kon oornag. In albei die gevalle lees ons van ’n feesmaal wat die tollenaars vir hom voorberei het. In die oë van die Fariseërs het Jesus met die verkeerde mense en die sondaars gemeng. Jesus was vrolik en Hy was die hart van die partytjies saam met die tollenaars en sondaars.  Daar staan in vers 30: “Die Fariseërs, en veral die skrifkenners onder hulle, het by sy dissipels gemor: ‘Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?’”

Die Fariseërs was sedig en vroom en het gereeld elke week gevas en op die vasgestelde tye van gebed na die straathoeke gegaan om te bid, sodat almal hulle geloof kon bewonder.

In vers 33 word Jesus dan aangeval: “Die mense het vir Hom gesê: ‘Johannes se dissipels vas en bid gereeld, en die Fariseërs se dissipels ook, maar u dissipels eet en drink maar voort.’” Eintlik was die beswaar dat Jesus altyd in die middel van ’n partytjie met sondaars was en dat die dissipels van Johannes en die Fariseërs hulle vroom gedra het en gereeld gevas het.

Jesus het hulle egter alreeds geantwoord in verse 31 en 32: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”

In vers 34 het  Jesus hulle geantwoord: “Julle kan tog nie die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is nie?” Jesus het gekom om vreugde en blydskap te bring, deur sondes te vergewe. Daarom het Jesus met sondaars gemeng om hulle vry te maak van sonde. Jesus is die bruidegom wat vreugde en blydskap na die partytjie toe bring.  Hy het kwytskelding van skuld gebring vir die tollenaars en sondaars en daarom was daar sulke uitbundige partytjievreugde waar Jesus was.

Jesus het ’n totale nuwe bedeling gebring. Sy nuwe verbond het gekom in die plek van die ou verbond, met sy strakke wette, vaste en regulering. Jesus het die nuwe bedeling gebring, waar daar kwytskelding is van sonde en van vormgodsdiens, en waar daar inteendeel net vreugde en vrede is.   

Nou vertel die Here as’t ware in die volgende twee gelykenisse waarom die ou bedeling van vormgodsdiens en verstarde wette verby is en plek maak vir ’n nuwe verbond van genade.

Jesus sê ’n mens sny nie ’n nuwe kledingstuk in stukke op om ’n ou kledingstuk se gate te lap nie.

Jy skeur net die nuwe kledingstuk en die nuwe materiaal pas nie by die ou kledingstuk nie.   So kan jy ook nie die ou verbond van wette en die nuwe verbond van genade met mekaar meng nie.  Dit is die een óf die ander. Anders is dit lapwerk. Jy kan nie die Ou Testamentiese wette vermeng met die vars boodskap dat Christus gesterf het vir die sonde van die wêreld nie.

Die tweede gelykenis is dié van Jesus wat ’n nuwe wynsak as beeld gebruik. Daar staan in vers 37 – 39: “En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die leersakke laat oopbars. Dan sal die wyn uitloop en die sakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word. Boonop het niemand wat ou wyn gedrink het, lus vir nuwe wyn nie. ‘Die oue smaak goed,’ sê Hy.”

Wyn was in die Bybel ook ’n simbool van vreugde, blydskap en viering. Almal het geweet jy gooi nooit nuwe wyn in ’n ou wynsak nie. Want wynsakke is gemaak van bokvelle wat gebrei is en dan aanmekaar gewerk is. Nuwe geparste wyn , wat basies druiwesap was, is in die wynsak deur sy tuit gegooi en verseël. Oor ’n tyd sal die druiwesap fermenteer, sodat wyn gemaak kan word. Die gas van die fermentasie sal die wynsak aansienlik rek en die sak sal mettertyd sy elastisiteit verloor en baie groter word. Wanneer die wyn nou uitgegooi word, sal die wynsak nooit weer tot sy oorspronklike grootte  terugkeer nie. Sou jy dan nuwe wyn in hierdie ou wynsak gooi, sal dit nog verder fermenteer en gas loslaat en dit sal die sak laat bars. Dan is die nuwe wyn en die ou wynsak daarmee heen.

Jesus sê as’t ware die nuwe kan nie met die oue gemeng word nie. Vir nuwe wynsakke sal slegs nuwe wyn werk.  Dit beteken die ou wynsakke verteenwoordig die ou bedeling van wette en wetsonderhouding om gered te word. Die nuwe wynsakke verteenwoordig die nuwe bedeling wat Christus gebring het. Die nuwe wyn verteenwoordig Christus wat vir ons almal vreugde, genade en verlossing gebring het.

Die Ou Testamentiese wette (ou wyn in ou wynsakke), kan ons nie verlos en vreugde bring nie. Jesus skep vir Hom ’n partytjie met nuwe wynsakke en die nuwe wyn is Christus. Die wet is vervul in Jesus Christus, daarom bring Hy vreugde na die partytjie. Daarom nooi Hy al die tollenaars en sondaars om saam met Hom te eet en te drink. Hy het immers nie gekom vir die regverdiges nie, maar vir die sondaars.   

Die Fariseërs het die tollenaars en sondaars heeltemal vermy. Hulle het hooghartig op hulle neergesien as sondaars. Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Meng jou met die semels en die varke eet jou.

Maar dit is allermins wat Jesus kom doen het. Hy het juis met die sondaars gemeng om hulle te red. Saggéüs het Jesus in Sy huis laat oornag en in daardie nag het Saggéüs tot bekering gekom en sy lewe reggemaak.  Daarom is daar iets soos die “Getroue Getuies se model van Vriendskapsevangelisasie.” Dit beteken dat jy op ’n informele manier vriende is met mense wat op die verkeerde pad is en hulle deur jou voorbeeld en getuienis geroep word om ook kinders van God te word. 

Die wet maak dood. Die genade bring vryheid, vreugde en blydskap. Daarom het Jesus die water in wyn verander by die bruilof in Kana, sodat die blydskap kan voortgaan.

Die wet skep grense, en hoe het die Fariseërs nie daardie streep getrek tot die jota en titteltjie nie. Daar was geen plek en ruimte vir ’n sondaar nie.

Jesus Christus het egter alle grense kom deurbreek en vir alle sondaars ’n feesmaal kom voorberei, waarvan Hy self die hart is. Hy het die sondaars wat nie onder die Wet geleef het nie, baie lief gekry, met hulle gemeng en hulle gered.

As ons Jesus uit die hart van die Evangelie laat, verloor die Evangelie sy vreugde. Jesus is ons vreugde en blydskap en daarom is Hy die Bruidegom en die hart van die partytjie. Jesus het gekom om te red, nie om te veroordeel nie.          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Myers. Jeremy. Luk 5: 33 – 39 Christ the Life of the Party. Redeeming God. 

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die mens leer by God van kreatiwiteit

Skriflesing: Jeremia 18: 1 – 6

Wat is die eerste wat ’n mens van God leer in die Bybel? Dat God liefde is of dat God genadig is? Nee, wat ’n mens heel eerste van God leer, is dat Hy die Skeppergod is. Hy is die God wat kreatief Sy skepping geskep het en nog steeds daarmee voortgaan. Hy het miljoene verskillende spesies geskep in die plante- en diereryk; die vis-, die voël-, die reptiel-, die insekteryk en so kan ons aangaan. Hy het ook verskillende soorte mense gemaak. Die menseryk is die kroon van Sy skepping.    

Die mens is gemaak na die beeld van God.  God is die Skeppergod uit wie en deur wie alle dinge ontstaan het. Net God kan skep, maar omdat die mens na die beeld van God geskep is, kan die mens ook kreatief en dus skeppend optree. Die hoogste doel in die mens se lewe is om kreatief voor God se aangesig te lewe deur sy kreatiewe vermoëns te gebruik.  Wanneer die mens bloot lewe om te oorleef, is hy niks beter as die diere en plante van die natuur nie.  Maar God het aan die mens die besondere gawe gegee om kreatief besig te wees.

Daarom het God by die skepping aan die mens die opdrag gegee om die wêreld te bewoon en te bewerk en vir alles name te gee.

In ons gelese gedeelte lees ons van die metafoor wat Jeremia gebruik om te verduidelik dat die Here vir Israel gaan herskep, soos wat ’n pottebakker die klei wat platgeval het, weer knie en daaruit iets anders skep. Die Pottebakker is die Here en die ongehoorsame Israel is die klei.    

Die Here nooi ons vandag om saam met Jeremia te stap na die pottebakker se huis. Israel het heel dikwels ’n gemors aangevang met die geleenthede wat God vir hulle gegee het. Israel se geskiedenis is telkens gekenmerk deur verkeerde keuses en sondige afdraaipaaie. Telkens maak Israel ’n mislukking van sy bestaan. Baie dikwels het Israel die dropout volk geword tussen die volkere van destyds. Israel is moedeloos en die profeet Jeremia nog meer moedeloos. Daarom het God dit nodig geag om Jeremia op ’n opvoedkundige toer te neem na die pottebakker se huis. Wil u nie saamgaan nie? Die Here het vandag ook vir ons ’n opvoedkundige les.

Dan is ons saam met Jeremia by die pottebakker se huis. Kyk, die pottebakker is juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak: ’n Pragtige kruik word geskep. Skielik stort die klei inmekaar op die wiel en alles is ’n mislukking. Gaan die pottebakker die klei weggooi? Nee, hy knie dit van voor af, plaas dit weer op die wiel en begin om iets anders te skep. Uiteindelik neem dit die pragtige vorm van ’n skottel aan.

Maar eintlik lees ons die Evangelie van Jesus Christus daar op die pottebakkerswiel. Dikwels stort ons lewens ook in duie op die wentelende ratte van die wiel van die lewe. Somtyds val ’n mens se kinderjare, jou studies, jou huwelik, jou gesin, jou loopbaan, jou gesondheid of jou lewe uitmekaar. Dit is traumaties as jou lewe so uitmekaar val of inplof. Soms is dit jou eie skuld – ’n stukkie hardheid in jou lewensklei. Soms is dit dinge buite jou beheer.

Die troos van die Evangelie is egter dat God ons nie weggooi as ons stukkend breek in die geweld en hardheid van die lewe nie. Mense is anders as God. Mense veroordeel mekaar en gooi mekaar weg as ’n ander een misluk of nie so suksesvol soos ek is nie. God is egter anders: God knie ons in ons beproewinge en teenslae saam, om ons in iets nuuts te herskep. Soos die pottebakker wat uit die inmekaargesakte kruik ’n pragtige skottel skep.

Die pottebakker skep nie uit elke hopie klei dieselfde voorwerp nie. Hy skep wat hy wil met die klei. Hy verander selfs van plan om sodoende iets beters te skep.  Die stuk klei kan nie ’n kruik wees nie; nou skep hy daaruit ’n skottel. God raak nie ontslae van die klei wat nie uitgekom het soos Hy dit wou gehad het nie; Hy herskep dit eenvoudig in iets anders.

Sommige mense kla dat as God die pottebakker is en ons die klei, dan beteken dit dat die mens geen vryheid het nie. Dat ons slegs maar magtelose klei is in die hande van die Vader. Maar dan verstaan ons “vryheid” verkeerd. ’n Vis is ook vry, maar slegs as die vis in die water is. Martin Luther het gesê: “Ons is vry van die wet, maar nooit vry van God en ons naaste nie. Sonder God en ons naaste is daar geen vryheid moontlik nie.”

Wanneer God die pottebakker is, wil Hy ons tot iets meer skep as wat ons is, soos die Engelse skrywer CS Lewis in sy boek “Mere Christianity” skryf: “Verbeel jou jy is ’n lewende huis. God kom om dié huis te herbou. Daklekke en stukkende vloerplanke word byvoorbeeld reggemaak. Maar dan begin Hy met verbrekings aan die huis wat nie vir jou sin maak nie. Wat is Hy besig om te doen? Die verduideliking is dat Hy ’n totaal ander huis skep as die een wat jy in gedagte het. Jy dink dat God ’n klein, netjiese huisie gaan skep. God het egter ’n paleis in gedagte … waarin Hyself wil kom woon.” Ja, in God se hande word ons ons vryheid nie ontneem nie. Nee, ons is in beter hande.

Jesus is die groot Herskepper. Die Here Jesus aan die kruis het kom versoening skep.

’n Mens leer by God van kreatiwiteit. Omdat God geskep en ook kom herskep het, kan ons by God leer om ook skeppend en herskeppend te leef. Dit sal vir ons geluk en nuwe energie bring in 2024.

Daarom kan ons in 2024 elke dag kreatief ook nuwe en beter menseverhoudings skep, sodat ons opregte verhoudingsmense kan wees, wat in kwaliteit-verhoudings staan met ander mense.

 Wanneer mense intense emosionele pyn ervaar, vind hul gewoonlik diepe genesing daarin “om iets te skep”. Daarom het die meeste psigiatriese hospitale elke dag ’n tydgleuf waarin pasiënte aangemoedig word om in die kunsklas iets te skep. Dit kan verf, naaldwerk, skryf, krale of enigiets wees wat weer vir hul ’n gevoel van “sukses” gee.

 In die meeste mense se alledaagse lewe is hul vasgevang in die sleur van die  lewe sodat hulle doodgewoon verveeld raak en hul energie vir die lewe verloor. Wanneer jy worstel met min lewensenergie is dit ’n baie goeie  begin deur die vraag te vra: “ Wat het ek die afgelope dag of week geskep?” Gewoonlik is die antwoord negatief, want instandhouding van die lewe het geen tyd gelaat vir kreatiwiteit nie. Die herstel van lewensenergie begin deur vir jouself duidelike doelwitte te stel om weer jou kreatiewe self te ontdek. Elke mens het ’n kreatiewe self, want jy is gemaak na die beeld van God. God se ryke verskeidenheid mense verskil almal egter wat kreatiewe talente betref. Sommige vind hul kreatiwiteit in naaldwerk, houtwerk, krale, skryf, kosmaak, tuinmaak,  skilder, verf, binnenshuise versiering, navorsing of enigiets onder die son, wat geboorte gee aan iets nuuts. Wie leer om kreatief te skep, skep vir homself nuwe sin en betekenis in die lewe. Kreatiewe energie is positiewe energie, dit genees emosioneel. Gewoonlik sneeubal energie in iets groters, in ’n nuwe JY. Ons samelewing plaas groot klem op gewigsbeheer, fiksheid, fisiese voorkoms en diëte. Ongelukkig plaas ons min klem op emosionele lewensenergie. Tog is dit dikwels juis ons lewensenergie wat vreugde in die lewe stimuleer en van ons gelukkige mense maak. Kreatiwiteit behels om met verbeelding ’n skeppingswerk te voltooi. Albert Einstein het gesê dat verbeelding belangriker as kennis is. Kennis is beperk.

’n Mens moet ook herskeppend werk in jou verhoudinge met ander mense. Net soos die Here herskeppend werk in Sy verhouding met die mensdom. Herskepping beteken dat ons ander mense sal vergeef en beter verhoudinge sal skep met ander mense.

 Mag jy in 2024 leer om opnuut kreatief te leef. Dan sal jy geluk en nuwe lewensenergie ervaar. Mag jy ook in 2024 herskeppend jou verhoudinge met ander mense verbeter of herstel.

Oorleef jy of leef jy ? Skeppende kreatiwiteit laat jou LEEF!

Jy is gemaak om te skep. Mag 2024 vir jou ’n kreatiewe jaar wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geen donkerte kan die Lig verdryf nie

Skriflesing: Joh 1: 1 – 14

Waar het die gebruik ontstaan om tydens Kersfees kerse te brand in die venster?

Die gebruik is baie algemeen in Amerika en ook ander lande van die wêreld. Die gebruik het in Ierland ontstaan. Die Protestantse Engelse het die Katolieke Kerk se gelowiges vervolg en hulle mag nie in hulle kerke aanbid nie. Die Ierse Katolieke gelowiges het dan oor die Kersgety brandende kerse in die vensters geplaas en die deure van hulle huise oopgelos. Hulle grootste verwagting was dat daar darem net een keer in hulle lewe, ’n priester in die nag uit die woude en bosse sou kom en aan hulle die Nagmaal (mis) bedien.

Aan die Engelse Protestante het hulle vertel hulle wag vir Josef en Maria om te kom. Daarom brand hulle kerse in die venster en hou die deur oop. Die Protestante het hulle dan gelos, want dit is volgens hulle onskuldig en slegs bygeloof.  

So het die gebruik van die Iere om kerse in die venters te sit en die deure oop te los, ’n gebruik geword wat oorgespoel het ook na Amerika.  (Roger Thompson)   

Daarom speel lig so ’n sentrale rol in die Kersgety. Johannes 1 begin sommer met die woorde dat die Lig gekom het.

Kom ons kyk na die Ligmetafoor:  

In die begin het God gesê: “Laat daar lig wees”. En daar was lig. Adam en Eva het fisiese en geestelike lig gehad. God het elke aand in die aandwind aan hulle verskyn. Toe kom die sondeval en ’n groot donkerte het oor die skepping neergedaal. Nie ’n fisiese donkerte nie, maar ’n geestelike en emosionele donkerte.

In die Nuwe Testament met Kersfees het die Here as’t ware weer gesê: “Laat daar Lig wees”. Christus is gebore as die Lig vir die wêreld. Hy het gekom om die duisternis, die geestelike duisternis, te verdryf.

JH Denison skryf dat naby die Noordpool die nag vir maande aanhou. Wanneer die mense verwag het dat die son moet opkom, het hulle boodskappers na die hoogste punte gestuur om die dagbreek aan te kondig. Wanneer die son sy verskyning maak, het hulle hard uitgeroep: “Aanskou die son!” Die wekroep is dan oor die hele land voortgedra: “Aanskou die son”. Dan het almal nuwe klere aangetrek om aan te toon dat dit uiteindelik dag geword het. Met die Christusfees het die Son van geregtigheid die duistere wêreld kom verlig. (In die woorde van JH Denison.)

Daarom is Joh 1: 1 – 14 die klassieke gedeelte wat Jesus in die Bybel voorhou as die Lig wat aan die kom was na die donker wêreld. Christus as Lig skyn in hierdie donker wêreld. Sedert Christus se koms het Sy lig die lig van miljoene gelowiges geword wat in Hom glo. Christus verlig die lewens van elkeen wat met sy sonde, hartseer en gebrokenheid na Hom toe vlug. Met een kers kan jy ’n oneindige hoeveelheid ander kerse aansteek. So het Christus die Ligbron van die wêreld geword.

Daarom gaan Kersfees oor kerse en lig. Dit beteken dat elkeen van ons ook ligdraers moet wees in hierdie donker wêreld. Ons kerslig moet aansteeklik wees vir ander wat nog in die duisternis lewe. Daarom het Jesus ook gesê dat ’n lig wat op ’n berg is, nie weggesteek kan word nie. Maar ’n lig onder ’n maatemmer is nutteloos.

Die vraag kan gevra word: Waarom is Jesus die Lig van die wêreld, maar daar is soveel donkerte in mense se lewens? Waarom is die wêreld nog in duisternis? Daar is soveel misdaad en armoede in hierdie wêreld. Dink aan die onnodige oorlog wat Rusland, onder leiding van Poetin, teen die Oekraine voer. Dan is daar die bloedige en hoë, intense oorlog in Gasa. Hamas het ’n bloedbad veroorsaak teen Israel. Nou is dit ’n oorlog tussen die Jode en die Palestyne. Waarom soveel lyding in die wêreld? Johan Cilliers beantwoord dit mooi met ’n verduideliking: Die Koninkryk van God kan vergelyk word met ’n toneel uit die Eerste Wêreldoorlog. Groot dele van Europa is deur vyandelike magte beset. Soldate was die strate vol en vrouens en kinders het vir die soldate gevlug. Toe kom die berig dat die hoofleërs van die vyand beslissend verslaan is by die Mamreveldslag. Dit was net ’n kwessie van tyd, dan sou die vyandelike magte moes terugtrek. Vier jaar later was die soldate steeds in die dorpies. Maar alles was nou anders. Dit was ’n tyd van opruiming, ’n kwessie van tyd. Mense kon weer met hoop lewe.

Met Christus se koms was dit net so. Jesus se koms het alles verander, maar tog het almal nie verander nie, skryf Johan Cilliers. Die Herodusse is nog daar en die kindermoorde het nie opgehou nie. Soldate marsjeer steeds voort op die oorlogsfronte en mense steek mekaar nog steeds in die rug. Geweldsmisdade en menslike ellende duur voort.

Maar die Kindjie wat gebore is, is reeds deur die heidene wat van ver gekom het, as Koning vereer. Dit is nou die tyd van opruiming van Satan se invloed en ’n kwessie van tyd. Fil 2: 10 – 11 sê daar kom ’n tyd wat elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is Here.

Hoor wat sê Openbaring 21: 23 – 25: “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie”.

Daarom ontwikkel die lig-metafoor dwarsdeur die Bybel in vier fases:

  1. In Gen 1: God het lig geskep (bedoelende die son)
  2. In Gen 3: Die mensdom val in ’n geestelike duisternis en donkerte as gevolg van die sonde.
  3. In Joh 1: Christus Jesus is die Lig vir ’n donker wêreld.
  4. In Openb 21: 23 – 25: Daar sal geen son en geen donkerte meer wees nie, want Christus is die Lam, wat die lamp is.

As jy verskoning maak oor jy nie ’n verskil in die lewe kan maak nie, dink anders daaroor. As jy jou kers laat brand, is daar nie genoeg donkerte om dit uit te doof nie. Elke gelowige wat ’n brandende kers is, behaal ’n geweldige oorwinning oor die duisternis.

Ons kan nie ’n pad hemel toe (boontoe) maak nie. Met Kersfees het God ’n pad (ondertoe) na ons gemaak. Dit het gebeur op Kersfees. Die Ligdraer het na ons gekom, om ons ook aan te steek om lig vir die wêreld te wees.

Laat jou liggie skyn in hierdie donker wêreld.                          

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Jesus het in die kairos (volmaakte) tyd gekom

Skriflesing: Gal 4: 4 – 7

Die geboorte van Jesus was presies op die volmaakte tyd, soos voorspel is. Jesus Christus het op ’n kairos-moment die geskiedenis betree as die Seun van God. Hierdie datum is presies deur die profete voorspel. 

Kom ons kyk na die onderskeiding van die gebruik van die volgende twee Griekse woorde: chronos en kairos. Chronos is “horlosietyd”, 24 ure in ’n dag, 60 minute in ’n uur en 60 sekondes in ’n minuut. Ons gebruik chronos-tyd om ons dag te beplan of om afsprake te bevestig. Kairos-tyd beteken die volmaakte oomblik op die regte tyd en regte plek. Dit is die volmaakte regte oomblik soos wat ’n foto op presies die regte oomblik geneem word.

Die meegaande foto was ’n tyd gelede sensasionele nuus aangesien ’n interessante verskynsel uiteindelik op film vasgelê is. Vir die eerste keer sedert vliegtuie deur die klankgrens gebreek het, kon die spesifieke oomblik verewig word.

Dit is ’n F-18 Hornet van die Amerikaanse vliegdekskip USS Constellation wat êrens oor die Atlantiese oseaan vir klank begin wegvlieg het teen 1123 km/h by standaard-atmosferiese toestande. So ’n aksie veroorsaak ’n blitsvinnige kondensasie van waterdamp, wat in die reël nog onsigbaar bly. In hierdie kairos-geval was die weerstoestande op daardie oomblik ideaal om die skouspel vir die eerste keer in die geskiedenis vas te vang. Selfs die fotograaf was op die regte tydstip op die regte plek.

Kairos-tyd is die spesifieke oomblik wat alles tegelyk gebeur. Dit is wanneer verskillende gebeurtenisse en omstandighede vir daardie oomblik bymekaar kom. Dit kan natuurlik ’n goeie of ’n slegte uitkoms wees. Ons as gelowiges glo dat God die goeie en die slegte goed wat met ons gebeur alles vir ons ten goede laat meewerk.

Aristoteles, ’n antieke Griekse filosoof sê dat kairos die tyd en spasie is waarbinne bewyse van ingrype plaasvind. Ons as Christene sou Aristoteles kon verfyn, deur te sê kairos-oomblikke is tye en spasies waar God Homself aan die mens bewys as die teenwoordige God. Ons almal het sulke Godsmomente waar God Homself helder en duidelik openbaar.

So was die tye en omstandighede vir die geboorte van Jesus Christus ook perfek. Daarom, toe die wyse manne by koning Herodus kom en navraag doen oor die Messias (die Koning) wat gebore is, het Herodus by die Joodse geleerdes navraag gedoen en is dit inderdaad bevestig dat die Messias gebore is.

Die tyd was perfek. In Gal 4: 4a staan daar: “Maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou …”

Eerstens het die Romeine feitlik oor die hele bekende wêreld regeer. Al was die Romeine ’n wrede nasie, was daar met die geboorte en tydens die eerste eeu na Christus ’n redelike mate van wêreldvrede. Daar is gepraat van die sogenaamde PAX ROMANA, wat beteken het daar was vrede in die Romeinse Ryk. Dit het tot gevolg gehad dat die Evangelie van Jesus Christus maklik versprei kon word in die destydse bekende wêreld.

Ook kultureel was dit die regte tyd. Grieks was toe een van die wêreldtale en oral bekend in die Romeinse Ryk. Daarom is die Bybel ook in Grieks geskryf, sodat dit alle mense kon bereik in die Romeinse Ryk.

Ook het die Romeine dwarsdeur die Romeinse wêreld effektiewe paaie gebou, wat reis baie maklik gemaak het. Die apostels kon maklik van een plek na ’n ander plek beweeg, as gevolg van die nuutste padnetwerk in die Romeinse Ryk. Ook dit het die bevordering van die Evangelie vergemaklik.

As gevolg van verskeie Joodse ballingskappe was daar duisende Jode oor die destydse wêreld versprei. Hulle het almal die boodskap gedra van die verwagte Messias wat sou kom. Daarom het duisende nie-Jode ook daarvan kennis geneem en was die wêreld gereed om die Messias te ontmoet.

Daar was ook onder die ander gelowe ’n teleurstelling in hulle gode. So het die Grieke die berg Olympus bestyg en teleurgesteld ontdek daar was geen gode nie. Daarom was baie ontvanklik vir die Christelike geloof.

Die Christengelowiges van die eerste eeu het sterk op hulle geloof gestaan en baie het ’n marteldood gesterf vir Christus. So het die bloed van die martelare die saad van die Evangelie geword, deurdat Christene gevlug het en oral waar hulle gekom het, die Evangelie verkondig het.

God beplan eers voor Hy oorgaan tot aksie. Daarom het God die koms van Sy Seun op Kersdag op die volmaakte tyd en plek beplan.

So maak God ook in die perfekte tyd mense se harte oop om volgelinge van Hom te word. Dit noem ons die bekering of die wedergeboorte. God bewerk dit in mense se harte op Sy tyd en manier. Dit kan kom deur ’n preek, deur ’n getuienis van iemand, deur ’n gebeurtenis in ons lewe of deur die perfekte sameloop van omstandighede. So raak God ook die gelowiges aan om hulle in hulle geloof te versterk.

Die troos van die gedeelte is om aan ons te toon dat ons Jesus dikwels sal vind werk op ’n spesifieke oomblik, spesifieke plek en spesifieke omstandigheid. Wanneer al die faktore volmaak is, sal Jesus ingryp. Daarom beteken die woord kairos (moderne en klassieke Grieks) ook “weersomstandighede”.

Soos daar in die eerste eeu die verwagting was van die komende Messias, leef daar in ons ’n nuwe verwagting, naamlik die wederkoms van Jesus Christus.

’n Spesifieke weersomstandigheid sal eers plaasvind wanneer al die faktore daarvoor gunstig is. Nie verniet word die wederkoms van die Here verbind met weerverskynsels nie. Die Here sal op die kairos-moment, die volmaakte tydstip, kom en die nuwe hemel en aarde vestig. Ons werk in die chronos. God werk in die kairos. Daarom verstaan ons God nie aldag so reg nie.

Ons lewe tussen die Bethlehemster en die Wederkomswolk. Albei vind plaas in die kairos-tyd, wanneer alles perfek saamloop volgens God se wil.

In die eerste eeu het die mense uitgesien na die koms van die Messias. Dit vier ons Maandag met Kersfees, maar ons het ’n ander “uitsien” naamlik na die wederkoms van die Here. Daarom het ons ’n lewende verwagting vir die toekoms, wanneer Christus weer kom op die wolke van die hemel. God werk in kairos-tyd.      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Thompson, Roger. Christmas Sermons by Roger L. Thompson . Michael L Thompson. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

God word ‘n werklikheid, wanneer Hy ‘n noodsaaklikheid word

Skriflesing: Psalm 23: 1 – 6

Psalm 23 is ’n roep tot God in ’n tyd van nood. Wanneer ’n geliefde sterf en ons hart groot verdriet ervaar, is dit reg om na God te gaan om hulp. Hierdie Psalm 23 word deur baie genoem die pêrel van die Psalms. Mag die pêrel in die Psalmboek julle vandag vertroos met Karin se dood.

Die fokus van die Psalm gaan nie oor die Psalmis wat in nood verkeer nie, maar val eerder op die karakter van God. Die karakter van God word besing in tye van nood. Die Here is my Herder. Wat doen herders in die tyd van die Bybel? Hulle het die skape opgepas teen rowers en ongediertes en die skape gelei na waar kos en drinkwater is.

Tussen die Herder en die skape is daar ’n intieme verhouding. Is Psalm 23 kom die woorde “ek” en “my” altesaam sewentien keer voor. Die woorde “Hy”, “Sy” en “U” kom altesaam tien keer voor. Dit alles net in ses kort verse. Daarom is Psalm 23 ’n baie persoonlike Psalm, wat persoonlik beleef moet word. Dit is vir ons elkeen ’n persoonlike troos.

Die goeie Herder laat ons die volheid van die lewe beleef. In Hom is ons ten volle versorg. Hy laat my eerstens ten volle die rus beleef, deur my na groen weivelde van rus te bring. Hy gee my ten volle die verkwikking, deur my te lei na water waar daar vrede is. Hy verkwik my ten volle met nuwe lewenskrag. Die goeie Herder lei my ook ten volle op die regte pad. Skape het geen ingeboude sin vir rigting nie. Hulle is ten volle afhanklik van die herder wat hulle lei. So lei die goeie Herder ons op die regte pad.

Vers vier handel oor die Here wat ons lei deur die vrese en angste van die lewe. Het ons nie genoeg vrese en angste deur ons lewe nie? Hierdie vers het ook die laaste angs van die lewe in die oog, naamlik die Dood. Maar dan beskryf Dawid dat die Here Sy stok en staf gebruik om ons te help. Met die staf lei Hy ons en kan Hy ’n afgedwaalde skaap met die haak van die staf nader trek. Met die stok jaag die Herder al die vyande weg. Dit was soos ’n knuppel met een swaar kant en versterk met spykers. So kom loop die Here saam met ons as ons in gevaar verkeer.
Let op hoe die grammatika verander in die gedeelte. Die Psalmdigter praat aanvanklik van God in die derde persoon, maar van vers 4 – 6 praat hy in die tweede persoon. Nou, in die donker kloof, draai die psalmdigter om en praat met God in die tweede persoon. God word ’n werklikheid wanneer hy ’n noodsaaklikheid word. Die donker kloof maak God vir ons meer werklik as ooit tevore.

Ron Mehl het baie jare kanker gehad. Met hierdie ervaring het hy baie geleer oor die lewe en oor God en hy skryf: “Shadows can cause us no harm; the shadow of a bear can’t bite you, the shadow of a lion can’t defeat you, the shadow of a giant can’t intimidate you, the shadow of death can’t conquer you.”

So het die skaduwee van kanker nie vir Karin oorweldig nie. Sy beleef nie die ewige dood nie. Jesus se dood het haar dood kom doodmaak.

Klein seuntjies doen soms die vreemdste goed vir opwinding. Om die eentonigheid van hul jong lewens te breek, het twee klein seuntjies langs die treinspoor gaan lê om die spoorvibrasies van die aankomende trein te voel, asook om sy donderende geluid te hoor. Nadat dit verby is en slegs die skaduwee van die trein oor hulle gegaan het, was hulle veilig en geen skade is hulle aangedoen nie, selfs in hierdie oënskynlik benarde posisie.

Net so, wanneer ons deur die “vallei van die skaduwee” gaan, ervaar ons net die “skaduwee”.

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Glo jy nie ’n woord daarvan nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewend wees as nou. Ek sal hemel toe gaan, dit is al – uit hierdie ou kleihut na ’n huis wat onsterflik is; ’n liggaam wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie, ’n liggaam wat gevorm is soos Sy glorieryke liggaam. Wat uit die vlees gebore is, kan sterwe. Wat uit die Gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

In die middel van die skaduwee van die dood, het die Here ’n feesmaal kom voorberei. Die Here verlang dat ons by Hom moet wees. Vir ons is die dood afskeid, maar vir die Here beteken dit ontvangs. In die Oosterse kultuur beteken gasvryheid ook beskerming.

Daarom is die Here bly om Karin te ontvang, omdat sy nou ontslae is van siekte en kanker. Sy is nou uiteindelik vry van kanker.

In vers 5 is daar geskryf: “U verfris my kop met olie.” Hierdie olie beteken genesende krag. So sal die Here Jesus ook vir elkeen van julle wat agtergebly het, seën met Sy olie van genesing, om die stukkende en treurende harte en emosies te genees.

Daarom is dit ’n wonderlike troos om te weet ons het ’n ewige Herder wat ons lei en bewaar en ons met ons dood ontvang om tuis te wees in die huis van die Here.
’n Boer het sy seuntjie op ’n besoek aan ’n verafgeleë dorpie geneem. Langs die pad kom hulle by ’n sterk stroompie wat deur ’n wankelrige ou brug oorspan is, wat die seuntjie bang gemaak het, al was dit daglig. Toe hy teen skemer terugkeer, het die seun die stroompie en die ou brug onthou en paniekerig geraak. Hoe sou hulle met daardie wankelende brug daardie onstuimige stroom in die donker oorsteek? Die pa het sy angs opgemerk, die seun opgetel en hom in sy arms gedra. Voordat hulle by die brug kom, was hy vas aan die slaap teen sy pa se skouer. Terwyl die volgende oggend se son by sy slaapkamervenster ingestroom het, het die seun wakker geword en ontdek hy is veilig by die huis. By die dood raak die gelowige aan die slaap in die Verlosser se arms om wakker te word in Sy helder land van geen nag en geen vrees nie.

Twee voëltjies het ’n nes in die bosse in die agterste deel van ’n tuin gehad. Die vyfjarige Amy het die nes gevind. Dit het vier gespikkelde eiers in gehad. Op ’n dag, nadat sy ’n geruime tyd weg was, het sy die tuin ingehardloop om weer na die mooi eiers te gaan kyk. Tot haar ontsteltenis het sy net gebreekte skulpe gevind. “O,” het sy gehuil, “die pragtige eiers is almal bederf en gebreek!” “Nee, Amy,” sê haar broer, “hulle is nie bederf nie. Die beste deel van hulle het vlerke gekry en weggevlieg.” So is dit ook met die dood. Die liggaam wat agterbly is net ’n leë dop, terwyl die siel, die beter deel, vlerke ontvang het en weggevlieg het na die hemel.
In ons diepste hartseer word God ’n absolute werklikheid. Ons diepste troos in die wrede werklikheid van die dood is dat Jesus opgestaan het uit die dood en dat ons in Sy opstanding Hom sal volg. Amen

(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:
Henry, Jim. A Minister’s Treasury of Funeral and Memorial Messages. B&H Publishing Group. Kindle Edition.

Bible Illustrations. AMG Internasional, Inc

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.