Klaagliedere moet dankliedere word

SKRIFLESING: Kol 2: 6 – 7 en Kol 3: 15 – 17

Ons lees in die Bybel uit die boek Klaagliedere.

Om Klaagliedere te sing is goed. Jy kan die slegte goed in woorde omsit en dit uit jou gestel kry. Klaagliedere gee vir jou ’n klankbord dat jou pyn gehoor word. Sielkundiges moedig mense aan om oor die slegte goed in hulle lewe te praat, sodat daar genesing kan kom. Dit is ook goed vir ’n volk of nasie om in rou te gaan wanneer ’n nasionale ramp hulle tref. Klaagliedere is goed vir ontlading van ’n klomp negatiewe emosies.

Maar ’n mens moet nie vashaak by Klaagliedere nie. Klaagliedere moet groei en dankliedere word.

Ek wil graag die historiese verhaal vertel van Ds. Martin Rinkart wat gebore is op 23 April 1586, te Eilenburg en oorlede is op 8 Desember 1649, te Eilenburg.

Hy was ’n Duits-Lutherse predikant, maar ook ’n begaafde musikant. In 1617, op die ouderdom van 31 jaar, het Rinkart die predikant geword van sy geboortedorp Eilenburg. Met sy bevestiging as nuwe predikant het die Dertigjarige Oorlog uitgebreek. Tydens sy volle bedieningstyd in Eilenburg was die stad deel van die oorlogsone. Die soldate het gereeld die stad geplunder vir kos. Daar was ’n konstante invloei van vlugtelinge na die stad. Daarom was daar armoede, broodsgebrek en hongersnood in die stad. Mense het oor kos baklei. In die moeilike tyd het Ds. Rinkart by sy kudde gestaan en as predikant die Woord bedien en gehelp waar hy kon, selfs ten spyte van homself.

Asof dít nog nie erg genoeg was nie, het daar in 1637 ’n plaag in die stad en land uitgebreek. Hierdie plaag het 8 000 van die stad se inwoners gedood, asook meer as die helfte van die stadsraad. Sy een kollega het ook gesterf en die ander een het weggetrek.  Toe moes hy die werk van drie predikante doen. Hy het 40 tot 50 mense per dag begrawe. In totaal het hy daardie jaar 4 480 mense begrawe. Later het hy massa-begrafnisse gehou. Sy eie vrou het ook as gevolg van die pes gesterf. Hy het gesukkel om vir sy kinders kos op die tafel te sit, as gevolg van die hongersnood en die plundertogte van die soldate.

Boonop het die Sweedse weermag ’n geweldige hoë belasting op die stad Eilenburg geplaas, wat hulle nooit sou kon betaal nie. Van al sy versoeke het niks gekom nie. Hy het toe die stad Eilenburg tot gebed opgeroep. Later het hy voor die Sweedse generaals gekniel en hulle gevra om hul belasting te verlig. God het hulle gebed verhoor en die Sweedse generaals het hulle belasting drasties minder gemaak.

Dwarsdeur die Dertigjarige Oorlog en die groot pes, het hy getrou sy kudde versorg en geestelik bedien. ’n Mens sou ’n klaaglied oor die stad en gemeente van Eilenburg wou skryf. Soveel ellende vra ’n klaaglied.

Maar dan skryf Ds Martin Rinkart in 1636 die beroemde gesang: “ Nun danket alle Gott”. In Afrikaans natuurlik die bekende gesang: “Kom dank nou almal God”.

 1. Kom dank nou almal God              

   met hart en mond en hande;          

   loof hom wat wonders doen           

   tot in die verste lande.            

   van vroeg van kindsbeen af,         

   het hy ons trou bewaar              

   en tot vandag toe nog               

   geseën en gespaar.                  

2. O God so ryk en goed,               

   gee ons solank ons lewe             

   altyd ’n blye hart;                 

   as dit u wil is: vrede.             

   Laat u genade ons                   

   beveilig teen gevaar,               

   in donker ure ons                   

   van struikeling bewaar.             

3. Lof, eer sing ons voor God,         

   die bron van alle lewe –            

   die Vader, Seun en Gees,            

   almagtig en verhewe.                

   Drie-enige God, ons roem            

   U krag en majesteit.                

   o Heer, ons wil u noem:             

   ons God in ewigheid !    

Ds. Martin Rinkart het alle rede gehad om net Klaagliedere te skryf, maar ten spyte van al die teenkantinge en aanvegtinge, verkies hy om die goeie te soek om voor dankbaar te wees.

Onmiddellik roep dit die woorde van Fil 4: 4 – 7 op: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!  Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” 

Paulus sit in die tronk, nogtans sing hy lofliedere. Hy roep sy medegelowiges op tot blydskap. Die beste teenvoeter vir ’n negatiewe omgewing, is om iets te soek om voor dankbaar te wees en daaroor lofliedere te sing.

Ek was 100 dae binne die Covid-pandemie vir ’n erediens by Huis Corrie Dreyer. Die bejaardes het meer as 100 dae laas ’n erediens gehad, as gevolg van die inperking. Hulle verlang toe nie net na die Woord nie. Hulle wil ook sing, lofliedere sing. Maar hulle mag nie. Tannie Jenny Fourie moedig my toe aan om musiek op die rekenaar te speel. Tannie Lina Swanepoel en die verpleegsuster het vir hulle gesing, terwyl Tannie Rita van Vuuren die klavier speel. Almal kon toe luister na die lofsange.  Lofsange tel die gees op.

Ja, ons moet klaagliedere sing. Maar ons klaagliedere moet oorgaan in lofliedere – ook wanneer ons in die middel van ’n krisis is.

Daar is ’n Halleluja-lied “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”. As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

’n Blymoedige en dankbare mens het baie vriende en skep energie. Maar ’n pessimistiese en ondankbare mens tap ander se energie.

Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele naamlik:

  • Hoe groot my SONDE is.
  • Hoe ek van my sonde VERLOS word.
  • Hoe ek DANKBAARHEID moet bewys vir my verlossing.

DANKBAARHEID vorm dan ook die grootste deel van die Kategismus.

Kol 2: 6 – 7 lees: “Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid”. Paulus gebruik hier die beeld van die boom wat gewortel is in Christus. Die boom is die gelowige wat sy / haar voedingstowwe in Christus vind en wat dan blare en vrugte van dankbaarheid dra.

Kol 3: 15 – 17 lees as volg: “Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”

Ons moet elke dag iets soek om voor dankbaar te wees. Ons moet vir ons lysies op papier of in ons kop saamstel van die dinge wat ons dankbaar maak. Dit kan sekere mense in jou lewe wees wat jou dankbaar maak, soos jou ouers of kinders of ’n vriend of ’n rolmodel. Jy kan dankbaar wees dat God jou in ’n tyd toe jy gely het, gehelp het en die gebed van jou hart verhoor het. Jy kan dankbaar wees vir jou aardse besittings, of die geleenthede in jou lewe wat op sukses uitgeloop het. Jy kan dankbaar wees vir jou gesondheid, as jy hoor van ander mense se siekte. ’n Mens moet net een maal in ’n hospitaalbed lê en jy sal skielik dankbaar wees vir jou gesondheid.  Jy kan dankbaar wees vir God se voorsiening op jou lewenspad. ’n Bemoedigende woord, ’n WhatsApp, ’n kaartjie of ’n presentjie kan jou tot dankbaarheid dring.

Dit kan makliker gebeur dat ’n armer mens meer dankbaar is as ’n suksesvolle en ryk mens. Die suksesvolle mens kan maklik die krediet vir homself gee en sê hy het daarvoor gewerk en God nie in die prentjie raaksien nie.

John Ortberg skryf pragtig: “Meer dankbaarheid sal nie uit meer dinge in die lewe  kom nie, maar uit meer bewustheid van God se teenwoordigheid en God se goedheid.”

Dankbaarheid maak jou altyd nederig. Dit is een van die opregte eienskappe van dankbaarheid: dit dring jou tot nederigheid, want jy verdien dit nie.

Ondankbare mense beskou seëninge as regte en skree daarom ook vir menseregte. Hulle beskou kos, klere, geld, geleerdheid, en posisies in die samelewing as ’n reg. Eintlik is hulle diep ongelukkige mense, want hulle sien nie die seëninge in die lewe raak nie. “Waarom toon mense wat steeds meer en meer kry, al hoe minder dankbaarheid? Hoe groter ons gevoel van geregtigheid, hoe kleiner ons gevoel van dankbaarheid.” (John Ortberg)

Die Bybel se woord vir ondankbaarheid is “murmureer” of om “brommerig” te wees. Die Ou Testament is vol daarvan. Toe Moses die volk uit Egipteland gelei het, het hulle gedurig gemurmureer dat dit beter in Egipte was. Hulle het oor alles gekla en arme Moses skoon moedeloos gehad.

Jesus het egter vir ons die voorbeeld gestel van ware dankbaarheid, ten spyte daarvan dat Hy niks gehad het nie. 

My persoonlike ervaring, soos ek ouer word, is dat ek meer dankbaar vir my lewe is as toe ek jonk was. Ek besef nou eers hoe God vir my en my gesin gesorg het en vir my ’n erfdeel afgemeet het, wat genoeg vir my is. Dit is ’n wonderlike berusting.

Wees dankbaar. Tel jou seëninge en jy sal gelukkig wees.

Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismis dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien …”

Dankbaarheid genees ons gekneusde gemoed en gees, ook in krisistye. Klaagliedere word dan dankliedere. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om deur die miswolke die opgestane Christus te herken

SKRIFLESING: Joh 20: 1 – 18

Ons leef in ’n harde, wrede wêreld. Die spreekwoord “Hond eet hond” is absoluut van toepassing in die wêreld waarin ons leef. Somtyds sien ’n mens so min raak van die realiteit van die opgestane Christus”. Die rede hiervoor is dat ons sig belemmer word deur die “mis” van ons dag. (“Mis” word figuurlik gebruik.)

Die volgende stukkie geskiedenis verduidelik dit. Die Engelse het gehoop dat hulle die Franse tydens die Slag van Waterloo sal verslaan. So bou die Engelse ’n hele netwerk van telegraafpale, sodat die oorwinning na die slag van Waterloo so gou moontlik aan die Engelse nasie gebring kan word. Dit gebeur toe wel dat Generaal Wellington van die Engelse, die Franse onder leiding van Napoleon Bonaparte beslissend verslaan by die Slag van Waterloo. Die Engelse stuur toe ’n gekodeerde boodskap per telegraaf aan die mense tuis om hulle te vertel van die wonderbaarlike oorwinning. Toe die mense in Engeland die boodskap ontvang, lui dit: “Wellington verslaan.” Daar het ’n mismoedigheid oor die hele Engeland neergesak. Sonder enige hoop op die toekoms. Wat hulle nie besef het nie, was dat die helfte van die boodskap langs die pad verlore gegaan het, as gevolg van  digte mis. Toe die mis opklaar kom die boodskap deur: “Wellington verslaan Napoleon”. Skielik bars die hele Engeland in vreugde uit. Die Engelse het die Franse verslaan. Die gedugte Napoleon Bonaparte se dae is getel. Daar is vreugde in Engeland!

Net so het dit ook gegaan met die Paasgebeure. Die vroue het aanvanklik gedink dat die mense Jesus se liggaam verskuif het na ’n ander graf. Die vroue en die dissipels het nog nie die opstanding verstaan of beleef nie. Die “mis” het hulle verhinder om die opgestane Christus te sien en ervaar. Maria Magdalena het, toe Jesus Christus fisies aan haar verskyn, eers gedink dat dit die tuinopsigter was. Eers toe Jesus haar op haar naam noem, het haar oë deur die mis die opgestane Christus herken.

Dikwels is daar in ons lewe ook baie “mis”, wat maak dat ons nie die opgestane Jesus kan raaksien nie. Dit kan persoonlike probleme, werksprobleme, verhoudingsprobleme, finansiële probleme of eenvoudig net die gejaag van die lewe wees. Jy sien Jesus eenvoudig nie raak nie.

My ervaring in die nag as ek van ’n plaaswyksbyeenkoms af kom en dit is mistig in die berge, veral by Bosnek, is dat ek my ligte moet domp. Dan kan ek skielik reg voor my sien. Solank die ligte ver skyn, kan ek niks sien nie. In die gedompte lig van die voertuig kan ek myself oriënteer op die pad. So werk dit ook met ’n mens se persoonlike ervaring van die Here. Eers wanneer ’n mens Jesus Christus raaksien in die gewone, alledaagse lewe, dan raak Jesus vir my sigbaar. Ons soek Jesus dikwels ver, terwyl Hy eintlik naby ons is. Daarom moet ons met ’n daaglikse bewustheid leef om Jesus in die onmiddellike en die alledaagse te ontdek. Elke aand moet ek in my stiltetyd gaan soek waar Jesus vandag in my dag was. Waar het ek Hom vandag beleef? Ons noem dit om meditatief te leef. Om Jesus in die oomblik te beleef.

Maria Magdalena het Jesus beleef in die oomblik toe Hy haar naam noem. Toe klaar die mis op. Toe sien sy vir Christus raak as haar “Rabboeni”.

Die mistigheid sal met ons wees tot die wederkoms van die Here Jesus Christus. Daar sal baie mis wees in die vorm van oorloë, geweld, misdaad, verraad, persoonlike probleme, maatskaplike nood en so kan ons die lysie langer maak. Ons sal somtyds sukkel om sin te maak van die mistigheid van die lewe. Maar Christus Jesus gaan ook ’n tweede keer kom om alles nuut te maak. Dan sal daar geen mis meer wees nie. Dan sal ons nie meer kyk in ’n dowwe spieël vol raaisels nie. Dan sal alles nuut wees. Daarom eindig die Evangelie nie met die opgestane Christus nie. Nee, ons sien uit na die verheerlikte Christus wat met die wederkoms kom om alles nuut te maak. Dan sal ons nie meer deur die mis hoef te sien nie.

Nou sien ons nog deur die mis die opgestane Jesus. Maar eendag, wanneer die mis opklaar, sal ons Hom in Sy volle heerlikheid sien. Daarom bou die Evangelie op na Jesus se verheerliking. Ons kry die geboorte, dan die kruisiging, dan die opstanding en uiteindelik die wederkoms. Die miswolke moet plek maak vir die wederkomswolk. Daarom leef ons tussen die miswolke en die wederkomswolk.

’n Bekende teoloog het gesê: “Al was Jesus ’n duisend keer in Betlehem gebore en al het Hy ’n honderd keer op Golgota gesterf, maar nie een keer opgestaan nie, dan is ons geloof waardeloos. Daarom is Paassondag en die opstanding van Jesus Christus die belangrikste moment in die Christelike geloof. Paassondag is belangriker as Kersfees en Goeie Vrydag. Die opstanding van Jesus Christus waarborg die egtheid van die Evangelie. Omdat Jesus Christus opgestaan het, kan ons glo.”   

Maar in die mistigheid van hierdie lewe, waar ons dikwels sukkel om die opgestane Christus raak te sien, is daar katoë op ons lewenspad. Dit is die tekens wat Jesus vir ons gee dat Hy lewe en werklik opgestaan het. Dit kan enigiets wees van ’n wonderwerk, daaglikse versorging, gebedsverhoring, genesing, tot onverklaarbare ingrypings van God en ook die sakramente van die doop en Nagmaal. Daarom laat die Here ons nie verdwaal in die mistigheid en onsekerheid van hierdie wêreld nie.

Hy versterk ons daagliks met Sy teenwoordigheid en wondertekens. Sy krag is elke môre nuut en verfrissend.

Daarom kan ons elke dag die opgestane Christus in ons lewe ervaar. Deur die mistigheid van hierdie wêreld sal ons hom sien, as ons NABY aan hom leef. Daarom roep hierdie Paassondag ons op om opnuut NABY aan die opgestane Christus te leef.

Toe my jongste seun Johannes nog ’n klein seuntjie was, was dit een oggend baie mistig op Adelaide. Hy kon niks sien nie. Hy het aan die huil gegaan, want skielik was alles weg. Maar in werklikheid was niks weg nie. Later het die mis weggetrek en was die wêreld weer vir hom bekend. In die mistigheid van hierdie wrede wêreld, lyk God afwesig. Maar Hy is hier by ons. Daarom is geloof om die onsienlike te sien, met geloofsoë. Die opgestane Here Jesus Christus het die ongelowige Thomas gehelp om te glo, deur hom toe te laat om aan Sy wonde te vat.

So het die Here Jesus ook vir Maria Magdalena gehelp om Hom in die mistigheid te sien. Hy het ook aan die dissipels verskyn om te wys dat Hy lewe. So sal Hy ook in wonderwerke, gebedsverhoring en in Goddelike ingrypings aan jou verskyn, om vir jou te toon dat Hy die opgestane Christus is.

Moenie vaskyk teen die miswolke nie. Die miswolke sal plek maak vir die wederkomswolk. Jesus lewe! Jy sal Hom deur geloofservaringe beleef as die opgestane Christus.                                                      AMEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

In die Nagmaal word ons opnuut verander na die Liggaam van Christus

SKRIFLESING: Luk 22: 14 – 20 en 1 Kor 12: 12 – 31

Ds. Frik Kleinhans vertel die volgende staaltjie: “Ek sit ’n Sondagoggend vroeg ’n entjie van die kerk in my motor en wag. Ek moet die oggend die Woord op die buurdorp deel. Omdat ek sukkel om oor die weg te kom, sorg ek dat ek altyd heel betyds is.

Daar kom ’n ou man aangesukkel. Ek hou hom dop, want hy sleep ook soos ek met twee kieries voort. By elke vuilgoedblik buk hy en krap daarin. Ek neem my voor om, wanneer hy by my verby kom, vir hom ’n geldjie te gee om vir hom iets te kan koop om te eet. Hy beweeg stadig. Die kerk se hekke gaan oop, maar ek wag eers vir hom.

Dan steek hy sowat 100 meter van my vas. Hy gaan sit op die kerk se muurtjie. Hy haal opgefrommelde plastieksakke uit sy “baadjie” se sakke. Ook ’n bottel met water. Dan sien ek die hond naderkom. Net so stadig. Die ou man neem ’n stuk plastiek en vryf dit glad oop en sit dit op die grond neer. Dan gooi hy daar water op sodat die hond kan drink. Bietjie vir bietjie. Toe neem hy self ’n sluk of twee. Hy maak nog ’n sak oop en haal iets wat lyk soos ’n stuk brood uit. Hy vryf dit skoon teen sy vuil klere. Toe breek hy ’n stukkie af en gee vir die hond; dié eet graag. Daarna hap hy ook en hulle eet en drink saam.

En die nagmaal kry vir my betekenis.”

Daar het ’n stuk gemeenskap ontstaan tussen die ou man en die hond. So het Christus ook die gestalte van die mens aangeneem, sodat hy met almal wat ’n hondelewe op hierdie aarde het kan assosieer en hulle deel van sy nuwe gemeenskap kan kom maak.

Jesus het Homself kom assosieer met blindes, kreupeles, sondaars, prostitute, tollenaars, kindertjies, honger mense, melaatses, weduwees, treurendes, duiwelbesetenes en vele ander randfigure. Die Kanaänitiese vrou het haarself nie verniet as ’n hond geag wat geregtig is op die krummels wat van die baas se tafel afval nie.

Daarom het Jesus gekom en ’n nuwe gemeenskap kom skep. Die Nagmaal wil vir ons dieselfde sê. Maar kom ons kyk eers na die geskiedenis van die Nagmaal.

In die begin was daar net een kerk op die aarde, naamlik die Rooms-Katolieke Kerk. In die dertiende eeu het die Pous die sogenaamde Transsubstansiasieleer geproklameer. Dit het beteken dat die brood werklik die liggaam van Christus word en dat die wyn werklik die bloed van Christus word.

Dit word letterlik getransformeer in die liggaam (lyk) en bloed van Christus. Daarom het hulle, as van die brood en wyn oorgebly het, dit begrawe. Ons as Gereformeerdes glo dat die brood en wyn slegs tekens is van die Here se liggaam en bloed en dat daar niks bonatuurliks gebeur nie.

Zwingli antwoord op die vraag oor die “transsubstansiasie” (verandering van substansie) dat nie die brood en wyn verander nie, maar dat die gemeente van Christus nogeens / weer / opnuut verander word in dié “liggaam van Christus”. Daarom dat ons veel, veel meer Nagmaal behoort te vier. Calvyn het gesê wat by die Nagmaal behoort te gebeur is dat die teenwoordigheid van Christus nie in of onder die brood en wyn is nie, maar in die optel van ons harte na Hom, die Immerteenwoordige in hemel en op aarde.

Daarom is die doel van Jesus se koms om vir hom ’n Bruid voor te berei. Sy doel is om ’n nuwe gemeenskap van geheiligdes te skep, te midde van ’n ontaarde en vervreemde mensdom.

Daarom praat Jesus in 1 Kor 12: 12 – 31 in groot liefde van sy gemeente as ’n nuwe skepping. Hy gebruik die voorbeeld van die kerk as Sy liggaam en dat ons elkeen deel het daaraan. Hy wil hê dat die lede onderlinge verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar en so deel van God se nuwe skepping word.

Daarom is die kerk die kanaal van Jesus se liefde. Deur die kerk wil Hy dié wêreld bereik en omhels. Hierdie nuwe gemeenskap se vernaamste eienskap is die LIEFDE. As’t ware word liefde die suurstof van die kerk van Jesus. Soos ’n liggaam nie sonder suurstof kan leef nie, kan die kerk ook nie bestaan sonder liefde nie.

Daarom is die gemeente deel van God se nuwe skepping. Dit is deel van Sy liggaam. Daarom lê daar by ons die verantwoordelikheid om te leef soos ’n nuwe gemeenskap. Daarom moet ek en jy leef soos ’n nuwe skepsel. Ons moet leef soos nuwe mense.

Nie die brood en wyn moet verander nie, maar God se kerk. Nie die brood en wyn moet verander nie, maar die Christen.

Somtyds vra ’n mens jouself af waarom jy nie groei in jou geestelike lewe nie. Waarom ervaar ek so min van die Heilige Gees in my lewe?

Bavinck het op hierdie vraag soos volg geantwoord. Hy sê ons ervaar so min van die krag van die Heilige Gees in ons lewe omdat ons die Heilige Gees nie ten volle wil toelaat in ons lewe nie. Dan gebruik hy die beeld van die sakdoek. As ’n mens in ’n boot staan, met jou sakdoek bo jou kop gehou, kan jy tog nie verwag dat die wind daardie boot van jou sal kan beweeg nie. Maar as jy die seile van die boot ten volle hys, sal die wind kort voor lank die seile met mening laat bol en die boot sal met gemak deur die water klief.

Die vraag is nou egter of jy vir die Heilige Gees ’n sakdoek uithou en of jy bereid is om jou oop te stel vir God se Gees. Het jy met ander woorde al toegelaat dat die Heilige Gees in jou lewe begin werk en jou verander in ’n nuwe skepsel?

Die Hebreeuse woord vir heilig beteken om “afgesonderd” te wees. Deur die heiligmaking wil God jou afsonder vir Hom en vir Sy diens. God wil hê jy moet as ’n koning, profeet en priester vir Hom lewe. Elke dag moet jy groei na die ware bedoeling wat God met jou lewe het. Dit beteken dus ten diepste om te word soos Christus. Ja, dit is waar, in hierdie lewe sal ons dit nie kan bereik nie. Maar ons moet ten minste die Heilige Gees toelaat om ons lewe elke dag heiliger te maak, sodat ons al meer ’n nuwe skepsel kan word.

“Wat ek bedoel, is dit: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Gal 5:16). “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing….” (Gal 5:22)

Wat beteken dit onder andere om as Christen in die week die brood te breek en die wyn te skink in jou daaglikse lewe?

Ek as Christen kan die brood breek as ek tyd afstaan aan bejaardes, randfigure, moedeloses, siekes en elkeen wat oor my pad kom. My naaste beteken mos inderdaad diegene wat op hierdie oomblik fisies die naaste aan my is.

Christenwees beteken om “in die oomblik” te wees by diegene wat God in jou fisiese nabyheid geplaas het.

Om brood te breek en wyn te skink vir ander beteken dat ek regverdig en billik optree teenoor ander, dat ek genade betoon en dat ek barmhartig is. Verder beteken dit om verantwoordelikheid vir mekaar en ander vreemdes te neem. Dit beteken om betrokke te wees en om om te gee.

Ek breek brood en skink wyn, wanneer ek nie kwaadpraat en skinder van ander nie. ’n Gemeenskap wat brood breek en wyn skink is ’n positiewe gemeenskap wat in die feestelikheid van die Nagmaal deel en dit laat oorspoel in die gemeenskap waarbinne hulle lewe. Gelowiges wat die Nagmaal verstaan, verstaan dat die Nagmaal ons oproep om kreatief ’n nuwe gemeenskap in hierdie gebroke wêreld te skep. In Suid-Afrika met sy skewe en gebroke reënboog, word ons nie geroep om heeldag te kla oor wat verkeerd loop in die land nie, maar om ons hempsmoue op te rol en elke dag ’n verskil te maak. Om elke dag iets nuuts tot stand te bring. Nagmaalsmense is mense wat verander word om die wêreld te verander. Verandering bring nuwe energie, nuwe geloofsenergie. Nagmaalsmense haas hulle van die Nagmaalstafel om God se nuwe skepping te laat kom, deur aktiewe dissipelskap. Die kerk het nie nominale Christene nodig nie. Nee, God het behoefte aan dissipels wat ’n ware verskil maak. Het die Nagmaal vir jou al verander in ’n dissipel? AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus regeer met ‘n kruis, nie met ‘n swaard nie

SKRIFLESING: Joh. 18: 1 – 11

Ons leef in ’n wêreld van superhelde.

Kinders het hulle eie helde soos Tarzan, Superman, Spider-Man, Wonder Woman, Iron Man, Batman, Rambo, Karate-kid en Popeye wat spinasie eet om hom sterk te maak.

Ons leef in ’n “sterk wêreld”, waar daar nie plek is vir swakheid nie. In ons wêreld is daar nie plek vir sagmoedige Neelsies nie. Nee, op sagmoedige Neelsies word getrap, want hulle kan nie hulle man staan nie.

“Nice guys come second” in die politiek, in die sakewêreld en sommer oral oor. Mussolini het een maal gesê: “As ek kon kies: eerder een dag ’n leeu as ’n duisend jaar ’n lam.” Daarom is die Evangelie nie baie gewild op die ander ses dae van die week nie, want Nietzsche het gesê die Evangelie maak ’n mens nie sterk nie, eerder swak.

Hierdie wêreld is egter bekend vir sy magsvertoon, sy parades, sy politieke toesprake, vertoon van tegnologie en wapentuig, sy prestasies en rykdom. Tans is die wêreld in ’n staat van oorlog.

Daar is die oorlog tussen Rusland en die Oekraine, wat alreeds meer as twee jaar woed. Daar is die oorlog tussen Israel en Hamas, wat die hele Gaza-streek vernietig. Noord-Korea bedreig Suid-Korea met missiele wat afgevuur word oor die see.  Die afgelope week  het Isis vir Moskou aangeval. Ekstremistiese groepe teiken die skeepvaart in die Rooi See. Almal is bang die oorloë eskaleer in ’n groter oorlog.

TS Eliot het nie verniet gesê: “Die meeste probleme in die wêreld word veroorsaak deur mense wat belangrik wil wees.”

Daarom wil die Romeinse soldate en die Jode in Joh. 18 met magsvertoon en krag die Koninkryk van God stuit. Daarom kom hulle met ’n hele afdeling soldate, gewapen met stokke, spiese en swaarde.

Agter die hele episode sit natuurlik die Fariseërs en die Sadduseërs wat die meesterbrein agter alles is. Hulle kon niks teen hom vind nie, nou speel hulle vuil en misbruik hulle hul mag. As jy nie slim is nie, moet jy sterk wees. Dan lees ons van die verraad. Die wolf in skaapklere is niemand anders as Judas Iskariot nie. Met geld kan jy enigiets regkry.

Die groot gevaar is egter as die kerk ook deur krag en magsvertoon sy saak wil bevorder.

Dit is dan inderdaad wat Petrus doen, hy pluk sy swaard uit en kap Malgus se oor af. ’n Mens wil as’t ware vir Petrus gelukwens, vir hom ’n medalje gee vir sy flinke optrede. Petrus is ’n ware ridder.

In die Middeleeue het die kerk ook onder Konstantyn verskeie kruistogte met die swaard uitgevoer, om die wêreld vir Christus te wen. Dit het egter tragiese gevolge vir die kerk gehad. Dit was ’n donker tyd in die kerk se geskiedenis. Maar wat sê Jesus vir Petrus? “Sit die swaard in sy skede terug. Moet ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Inderdaad verander die Here die swaard in ’n kruis.

Daar is grafiese ooreenkomste tussen ’n swaard en ’n kruis. Hulle lyk amper dieselfde, maar daar is tog ’n reuse-verskil. Die swaard vernietig en die kruis genees.

Toe Petrus se swaard weg is, word hy bang. Hy hardloop weg en verloën die Here. Toe hy nie meer met die swaard kon regeer nie, val sy bravade weg. Eers later sou Petrus leer dat selfverloëning, diensbaarheid en die kruis die weg van God in hierdie wêreld is.

Eindelik, baie jare later sou Petrus aan ’n kruis sterf vir sy geloof. Hy het daarop aangedring om onderstebo gekruisig te word, kop onder en voete bo. Hy het homself nie waardig geag om op dieselfde wyse as die Here te sterf nie.

Nie deur ‘n swaard-Evangelie nie, maar deur ’n Kruis-Evangelie verander die Here dié wêreld.

In Romeine 13 het die Here vir die staat die swaardmag gegee om te heers met die swaard. Maar die kerk het ’n ander styl, die kerk moet nie deur die swaard en deur mag heers nie, maar met die kruis dien.

As Christen moet ek in my huwelik, in my gesin, in my werksplek, en in die samelewing met die kruis dien en nie met die swaard probeer regeer nie. Die swaard staan vir magsmisbruik, maar die kruis staan vir gedienstigheid. Die huwelik, gesin, werksplek en samelewing moet nie deur mag beheer word nie. Nee, ons moet mekaar in die huwelik, gesin, kerk en samelewing dien.

In Fil. 2: 3 staan daar: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”

Juis so kom die verandering in die wêreld. Juis so konfronteer God die werklikheid van die kwaad.

Teenoor die grootdoenerigheid van die wêreld – ’n kruis.

Teenoor die mag en geweld van hierdie wêreld – ’n kruis.

Teenoor die skynbaar onkeerbare triomf van die bose – ’n kruis.

Ons het iets meer aanskoulik verwag, ’n goue swaard, maar vind ’n bloederige houtkruis.

Op Palmsondag kom Jesus Jerusalem ingery op ’n donkie. Die skares gooi palmtakke en klere voor Hom uit. Hulle was onder die indruk Hy kom met die swaard die Romeine verslaan, sodat die Jode vry kon wees. Hulle het Hom as ’n politieke en militêre bevryder aangesien. In die groot Lydensweek, sou Jesus hulle egter teleurstel. Daarom het hulle ook op Goeie Vrydag geskree: “Kruisig Hom, kruisig Hom.” Hy kom wys dat hy nie politieke bevryding bring nie, maar die bevryding van sonde. Hy regeer nie met ’n swaard nie, maar met ’n kruis.   

God kom die geskiedenis van die wêreld nie ingery as ’n ridder op ’n perd met ’n swaard om te regeer nie. God kom die geskiedenis van die wêreld ingery as ’n Nederige op ’n donkie op Palmsondag en Hy dien met ’n kruis. Daardeur het die wêreld verander!

Die kruis het ’n keerpunt geword in die jaartelling, naamlik voor Christus en na Christus. Die kruis het ’n kruispunt geword in mense se lewens. Die kruis sny dieper as wat enige swaard ooit kan sny. Dit sny die kanker van sonde weg.

Die swaard kloof oop, maak seer en bring vyandskap.

Die kruis genees en bring heling en versoening.

Ons mense is lief om die swaard uit te haal en mekaar by te kom. Dit bring vervreemding van mekaar en die kanker van haat versprei.

Daarom is die styl van die kerk nie die swaard nie, maar die kruis. Wat hanteer u en ek elke dag, die swaard of die kruis? Wat is u en my styl? Die swaard of die kruis?

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Littekens kan van jou ‘n “wounded healer” maak

SKRIFLESING: Joh 20:  19 – 23

Elkeen van ons het littekens. 

Dit kan fisiese littekens wees, soos grys hare wat van ouderdom getuig, of ’n af-vinger wat getuig van ’n vinger wat in die slag gebly het op ’n bandsaag.  Dit kan bysiendheid of ’n geringe graad van doofheid wees.  Dalk ’n merk wat ’n boorpunt of ’n hamerhou ons toegedien het.

Daar is ook die sielkundige littekens soos ’n stuk seerkry vroeër in my lewe wat ek nog glad nie verwerk het nie.  Dalk ’n swak selfbeeld, of angstigheid of depressie of net ’n bang gevoel in my lewe.  Daar is dalk ’n oordrewe skuldgevoel in my lewe teenwoordig. Dit kan my “inner child” wees wat seergekry het in my kinderjare.

Daar is ook die emosionele littekens soos die van iemand wat ’n ouer of kind aan die dood afgestaan het.  Toe my ouer of my kind gesterf het, het iets ook hier binne my doodgegaan. Almal het littekens.

Ja, die tydskrifte en die televisie bedrieg ons as net die mooiste meisies en die sterkste ouens in advertensies verskyn.  Dit lyk of die TV-modelle ook net die mooiste en rykste is.  Vir baie jare het ons in die kerk ook ’n Evangelie van littekenloses verkondig.  Ons het geleef asof Jesus slegs die vleklose, die goeie en suksesvolle mense aanneem.  Ordentlike,  fatsoenlike en op hul-plek-mense was die verkorenes.  Sulke Christene hoort op die glansblaaie van die tydskrifte.

Op die dowwe bladsye van die Bybel lees ek egter van ’n Jesus wat hom vereenselwig met die armes, die melaatses, die straatvrouens, die dronkies, die dwelmslawe, die straatkinders, die tronkvoëls, die hongeres, die dakloses, die vissers, die oneerlike tollenaars, die huilendes en die versteurdes.

Ja, Jesus het Hom vereenselwig met die littekens van die:

* Arme …  litteken van verslete klere

* Melaatses … litteken van hande en vingers wat soos kloue staan

*Straatvrouens … litteken van om opgebruik te wees

*Hongeres … litteken van hol oë

*Dakloses … litteken van mense wat kartondose wat hul saamsleep

*Tollenaars … litteken van skuldgevoelens.

Jesus Christus lees ’n mens nie raak op die glansbladsye van die tydskrifte nie, maar op die dowwe bladsye van die Bybel.

Jesus sal nie poseer tussen glanssterre nie, maar tussen hulle wat merktekens dra.

Toe die Here Jesus aan die dissipels verskyn daardie Sondagaand was hulle verskrik en bang bymekaar, en die deure was gesluit. Nie glanssterre nie, maar ’n klomp verskriktes, vol littekens. Sommiges het geslaap toe hulle moes waghou, sommiges het weggehardloop toe hulle moes getuig, een het die Here blatant verloën, daar was selfs ’n twyfelaar of meer onder hulle.

Dan verskyn die Here aan hulle. Hy het deur die deur beweeg, amper soos ’n spook. Maar Hy was nie ’n spook nie, hulle kon aan hom vat.

Twee keer het Hy vir hulle gesê: “Vrede vir julle”. Johannes probeer deur die dubbele seëngroet vir ons aantoon dat dit meer was as maar net ’n groet. Eintlik het die seëngroet die begin van die nuwe lewe ingelei. Jesus gee aan hulle Sy werklik volkome vrede.

Dan blaas die Here oor hierdie bang, verwarde, glanslose dissipels en vroue sy asem en sê: “Ontvang die Heilige Gees”.

Aan mense vol littekens, gee God sy Heilige Gees. God se Gees is nie alleen vir die volmaaktes, die vlekloses, die geloofsreuse en die suksesvolle kerke nie. God se Gees is nie vir die “Hoera-mense” nie. Nee, dit is vir hulle wat gemerk is met littekens, die onvolmaaktes.

God blaas sy Gees oor die dissipels soos wat God in die begin sy asem oor die eerste mensepaar geblaas het. Jesus gee aan hulle ’n tweede lewe. Hulle het die Heilige Gees, asem, lewe, krag en energie ontvang. Dit “empower” ons. Dit gee aan mense vol littekens krag vir vandag en vir môre. Dit laat ons dinge doen wat ons andersins nooit sou doen nie.

Agt dae later sou Jesus Christus, die Vleklose Lam van God, Sy littekens aan die ongelowige Thomas wys. Die vleklose Lam van God het littekens opgedoen deur ons sondes. Daardeur het hy die Joodse wetboek kom nietig verklaar. In die Joodse offersisteem kon diere met gebreke nie geoffer word nie. “Geen littekens” het die reëlboekie gesê! Geen lelikheid nie! En hier strek Jesus Sy hande en voete uit. God openbaar Homself met littekens. Hy kom identifiseer Homself met ons littekens.

Maar daarmee saam kom ook die opdrag aan die kerk, dat die kerk die Evangelie van “Hom met die Littekens” aan die wêreld wat vol  littekens is, moet verkondig. Dit is ’n Evangelie wat empatie, deernis en toewyding verg.

Eers moet ek self as gevolg van my littekens ly, voor ek hoop kan bring aan ander met littekens. Vandag is daar baie mense wat liggaamlik of geestelik gelitteken is vanweë ’n trauma. Van hulle beman sopkombuise en is vrywilligers in die hospitaal se terminaalafdeling en probeer straatkinders onder dak kry.

Riana Raab skryf in Psychology Today die volgende: “Gewonde genesers is mense wie se pynlike ervarings hulle in staat stel om ander te help. Gewonde genesers is goeie luisteraars, empaties, aanvaardend en vindingryk. Hulle beskou alle ervarings as geleenthede. Gewonde genesers kan binne of buite die helpende beroepe wees.”

“Wounded healer” is ’n term wat deur sielkundige Carl Jung geskep is. Die gedagte is verleen aan die veronderstelling dat pasiënte die beste behandel kan word as die helper self “gewond” is. Die idee het moontlik ’n  Griekse mitologiese oorsprong. Victor et al. (2022) het bevind dat 82% van Toegepaste Sielkunde gegradueerde studente en fakulteitslede in die Verenigde State en Kanada op een of ander stadium in hul lewens  geestesgesondheidsprobleme ervaar het. Dit maak dat hulle baie beter empaties na mense kan luister.

Henri Nouwen het ’n aangrypende boek geskryf: “The wounded healer”, waar hy juis getuig oor sy eie gewondheid en hoedat hy vreugde vind om met mense te werk wat gewond is in die lewe. Nouwen skryf onder andere: “In our own woundedness, we can become a source of life for others.”

 Mense met littekens het begrip vir ander mense wat swaarkry of wat stukkend is. Jesus wil vir ons met littekens Sy “wounded healers” maak.  Ja, as “gewonde genesers” moet ons gewondes, wat langs die pad seergekry het, die wonde van ander versorg en genees.

Littekens kan ’n mens òf versag òf verhard. Littekens kan ’n mens òf met innerlike vrede dra, òf ’n mens kan verbitterd word. Dit hang af of ’n mens dit bring na die Gekruisigde Jesus? Dit maak al die verskil.

Toe Jesus daardie Sondagaand aan die dissipels met sy littekens verskyn het, het Hy waardigheid aan ons littekens gegee.

Met elke Nagmaal herdenk ons die tekens, die littekens van Sy sterwe, naamlik die brood en wyn. God blaas oor ons elkeen opnuut Sy Gees, gee ons die lewe en moedig ons aan om die Evangelie van Hom met die littekens aan ’n stukkende wêreld te verkondig.

Is u bereid om ’n “wounded healer”, ’n “gewonde geneser” te wees vir die seerkry-mense op u pad?  Dit is ’n geneesmiddel vir jou eie pyn en seer. Dit is in elk geval beter as om jouself te bejammer.

Daarom kan jou innerlike seerkry sin gee aan jou lewe, deurdat jy ander mense verstaan en hulle kan help.

So kan ons die Minus (-) in ons lewens deurkruis met die kruis van Christus om ’n Plus (+) te word.

So kry ons littekens (ons pyn en seerkry) betekenis. Dit word die moeite werd om met jou littekens saam te leef.  

Ons lyding gee sin aan ons eie bestaan.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Hoe sal mense my eendag onthou?

SKRIFLESING: Hand 9: 36 – 43

Aan die begin van die twintigste eeu het ’n man een oggend die koerant oopgevou en tot sy verskrikking sy eie doodsberig in die koerant gelees. Daar was blykbaar ’n vergissing van name, want hier was ’n dooie man besig om ’n nadoodse huldeblyk oor homself te lees. Nietemin het hy verder gelees om te sien wat die mense oor hom te sê gehad het. Die opskrif het gelui: “Plofstofkoning sterf.”

Dit was al erg genoeg, maar toe hy verder lees, moes hy telkens tot sy ontsteltenis lees dat hulle van hom praat as die “handelaar van die dood”. Hy was erg ontstel. Die beriggewing oor sy lewe was egter korrek, want hy was immers die uitvinder van dinamiet en het baie ryk geword uit die vervaardiging van plofstof en die verkope van allerlei vernietigende wapens.

Die berig het hom diep geraak. Hy wil immers nie onthou word as die “handelaar van die dood” nie. Eensklaps het hy besef dat hy ’n tweede kans gekry het. Hy kon nog sy grafskrif verander. Na ’n geestelike diepgang in sy lewe het hy al sy tyd en geld gespandeer om oral in die wêreld waar daar oorlog was, opheffingswerk tot stand te bring en vrede tussen strydende groepe te bevorder.

Vandag word Alfred Nobel nie meer onthou as die “plofstofkoning” of die “handelaar van die dood” nie. Ons ken hom as die stigter van die Nobelprys vir Vrede. Sy grafskrif praat ook van vrede in plaas van plofstof en dood.

Hoe sal die mense eendag vir ons onthou? Wat sal daar eendag op ons graf geskryf staan? Wat sal die mense van ons sê?

In ons gelese gedeelte lees ons van ’n vrou met die naam Tabita, of ook Dorkas, wat gesterf het. Haar afsterwe is wyd betreur en almal – Jood en Griek – het van haar goed gepraat. Hulle het die volgende oor haar gesê: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”

Hulle het selfs die klere wat sy vir die armes gemaak het as getuienis voorgehou van haar voorbeeldige lewe.

Sy was as Tabita en as Dorkas bekend. Tabita was haar Joodse naam en Dorkas  haar Griekse naam. Sy was letterlik in die Joodse en Griekse gemeenskap bekend as ’n goeie en barmhartige vrou. Sy het goed gedoen aan die Joodse en Griekse weduwees. Sy het nie onderskeid getref nie.

In die Bybel was ’n weduwee werklik uitgelewer aan die aalmoese van ander. In daardie tyd was daar nog nie staatstoelaes en pensioenfondse nie. Wanneer ’n vrou se man sterf, was sy werklik arm en hulpbehoewend. ’n Weduwee is gereken as die armste onder die armes. Oor hierdie vroue het Tabita haar bekommer.

Toe Tabita tot sterwe kom, was daar hartseer onder die Joodse en Griekse gemeenskap. Almal het haar gemis. Deur haar barmhartigheidswerk het sy as’t ware Jood en Griek bymekaar gebring. Almal het met lof van haar gepraat.

Tabita het ’n spoor nagelaat van Christelike barmhartigheid en deernis. Sy het haar eie grafskrif geskryf met die woorde: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”

So laat ons elkeen ’n spoor of ’n reuk agter. Somtyds is dit ’n doodsreuk, somtyds is dit ’n reuk van lewe.

Baie dikwels word mense onthou vir die slegte dinge in hulle lewe. Dit kan jou humeur wees, of  dat jy ’n korrelkop was of ’n swakheid vir vroue gehad het, of ’n drinkebroer was of dat jy onverantwoordelik geleef het.

Sommige mense sal onthou word vir hulle baie geld of vir die status wat hulle in die gemeenskap gehad het. Party mense sal onthou word vir hulle unieke prestasies en vir die medaljes wat hulle gewen het.

Dawid in die Ou Testament, sal onthou word as die man na aan “die hart van God.”

Judas Iskariot sal onthou word vir sy materialisme en dat hy vir Jesus uitverkoop het vir 30 silwerstukke.

Paulus sal onthou word as die apostel  wat sy alles gegee het vir die verkondiging van die Evangelie.

Ananias en Saffira sal onthou word vir hulle oneerlikheid, oor hulle oor die koopsom van die stuk grond gejok het en albei dood neergeslaan het.

Maar mense kan ook onthou word vir hulle goeie hoedanighede. Mense word onthou vir die sukses wat hulle van hulle loopbaan gemaak het. Mense word onthou vir die goeie moeders en vaders wat hulle vir hulle kinders was. Mense word onthou vir hulle liefde, nederigheid, toegewydheid, opregtheid en ander mooi eienskappe.

Oom Danie van Heerden sal onthou word vir die uitstekende onderwyser en skoolhoof wat hy was. Hy was geliefd onder onderwysers en leerlinge. Hy was ’n goeie gemeenskapsleier, goeie sportman en ’n ware heer. Hy was ’n goeie vader en oupa. Danie van Heerden was beginselvas en onwrikbaar in sy lewenskeuses en integriteit. Hy het die Laerskool Adelaide opgebou vir dié baie jare wat hy skoolhoof was. Hy was lief vir sy sport en het self ook baie sportsoorte beoefen. In die latere jare was gholf sy nommer een sport.

Wanneer ons kwaad doen, skinder, kwaadpraat, selfsugtig optree en die dinge doen wat die Gees van God bedroef, dan laat ons ’n spoor van die dood agter. Ja, ons laat ’n doodsreuk agter. Maar as ons die Gawes van God se Gees uitleef, soos byvoorbeeld liefde, vriendelikheid, gasvryheid, nederigheid, ensovoorts versprei ons ’n reuk van lewe. Ja, ons laat ’n goeie spoor agter.

God roep ons juis op deur die voorbeeld van Tabita om ’n goeie spoor na te laat. Ja, om ’n aangename geur van lewe te versprei, sodat ons iets vir ander mense kan beteken.

Hoe wil u hê moet die mense u eendag onthou? As ’n moeilike, humeurige en selfsugtige mens of as ’n aangename, vriendelike en nederige mens? Wil u onthou word as iemand wat die pad van kwaad geken het óf iemand wat die goeie pad bewandel het?

Wêreldleiers laat ook ’n spoor of reuk agter. U weet self watter negatiewe spoor en reuk mense soos Adolf Hitler, Robert Mugabe en Poetin en ander agter hulle nagelaat het. Maar ons weet ook hoe iemand soos Moeder Theresa weer ’n aangename reuk vir ons nagelaat het.

Ouers laat ook ’n spoor vir hulle kinders na. Wanneer ons eendag dood is, sal die spore van ons opvoeding, liefde, dissipline en voorbeeld in hulle lewe gesien kan word.

Wat belangrik is, is dat ons net soos Tabita ’n goeie spoor moet agterlaat vir alle mense. Tabita het goed gedoen aan Jood en Griek. Net so moet ons ook goed doen aan alle mense, sonder onderskeid. Om waarlik goed te doen, beteken om geen onderskeid te tref nie, maar onvoorwaardelik te dien.

Ware heiliges is mense soos Tabita, wat dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Die vraag is of ons lewe van so ’n aard is dat ons dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Want sien, as ons ’n verkeerde voorbeeld stel, maak ons dit vir ander mense moeiliker om te glo.

Natuurlik kan ons regte spore en die aangename reuk wat ons versprei nie vir ons red nie. Daar is slegs een weg wat ons kan red en dit is die spoor van Jesus Christus. Sy spoor is langs die Via Dolorosa, die kruis, die oop graf en die Olyfberg. Slegs as ons in die voetspoor van Jesus Christus bly, sal ons goeie voetspore kan nalaat, ook vir ander mense om te volg.

Uiteindelik het die mense vir Alfred Nobel onthou vir die goeie wat hy verrig het en nie vir die slegte nie. Hoe sal die mense eendag vir ons onthou? Laat ons ’n spoor en ’n reuk agter, wat dit vir ander makliker maak om vir Jesus te kan volg?

Geseënd is jy as die mense jou sal onthou as ’n deurleefde kind van die Here. Voorwaar, jy sal baie na die Here lei!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God neem die inisiatief

SKRIFLESING: Genesis 15

Wanneer ons vandag ’n ooreenkoms of ’n kontrak tussen twee partye sluit, gaan die partye gewoonlik na ’n prokureur en in die prokureur se teenwoordigheid word die kontrak tussen die partye gesluit met die handtekening van die partye en getuies. In die Bybelse tyd het dit anders gewerk. Diere is geslag deur hulle middeldeur te sny en die twee dele vleis teenoor mekaar te sit, met ’n paadjie tussen-in. Party A en Party B het dan saam tussen die twee hompe vleis gestap en daardeur ’n kontrak gesluit. Die een wat sy deel van die kontrak breek, sou ook middeldeur gesny word soos die slagdiere.

In Genesis 15 belowe die Here vir Abram ’n groot nageslag en grondgebied. Maar Abram wou ’n versekering hê dat God se beloftes waar sou word. Daarom het die Here met Abram ’n ooreenkoms, ’n kontrak of dan ’n verbond gesluit.

Abram het opdrag gekry om ’n vers, ’n bok en ’n skaapram te bring, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif. Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny en elke helfte teenoor die ander helfte neergesit.

Die voëls het hy nie verdeel nie. Intussen het Abram op die Here gewag. Die roofvoëls het op die karkasse toegesak, maar Abram het hulle weggejaag.

Dan lees ons in vers 12 hoedat ’n diep slaap oor Abram gekom het. In vers 17 lees ons hoedat die Here toe die son ondergegaan het en dit donker was, ALLEEN tussen die stukke vleis deurbeweeg as ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand. Vuur is in die Bybel altyd ’n simbool van die Here se teenwoordigheid. Abram slaap, maar die Here beweeg ALLEEN tussen die stukke vleis deur. Hy onderteken alleen die kontrak, want Hy weet Abram sal nie sy deel van die kontrak kan nakom nie. God is AKTIEF en Abram is PASSIEF.

Die eerste teken van die verbond in die Ou Testament was die besnydenis, waartydens die agt dae-oue seuntjies heeltemal passief was en onbewus was van God se heerlike beloftes aan hulle. In die Nuwe Testament het die doop gekom in die plek van die besnydenis.

Dit is ook die wonder van die kinderdoop. God is ALLEEN aktief, terwyl die dopelinge nie eers bewus is wat nou met hulle gebeur nie.

Daarom neem God die inisiatief met die kinderdoop. Hy kom stel homself bekend aan kindertjies wat nog niks verstaan nie. God gee die eerste tree in die verbond. Daarom noem ons dit die genadeverbond.

Soos wat ’n man ’n meisie die hof maak en die inisiatief neem in die verhouding, is God ook die God wat die inisiatief neem in die doop. Later sal die kind bewus word van God se liefde vir haar of hom en God se liefde terug beantwoord.

Soos wat die naelstring afgebind word by die geboorte en daar ’n biologiese skeiding plaasvind tussen moeder en baba, word daar met die doop ’n NUWE NAELSTRING gevorm.

Dit is ’n geestelike naelstring, waardeur die kind ingelyf word in die kerk van Jesus Christus.

Daarom maak die doop jou ’n lidmaat van die kerk, en nie belydenisaflegging nie. By belydenisaflegging aanvaar die jongmens net die verantwoordelikheid van sy lidmaatskap wat hy met die doop ontvang het.

In die Anglikaanse kerk is die doopvont gewoonlik by die ingangsportaal van die kerk. Wanneer die doopplegtigheid plaasvind, gaan die priester na die doopvont by die ingangsportaal en doop die kindjie. Die priester dra dan die kindjie van die ingangsportaal vorentoe en stel hom of haar bekend aan die hele gemeente as nuwe lidmaat.

Maar die doopbelofte vra ook ’n stuk verantwoordelikheid van die doopouers. Die doopouers beloof om God se kindjie groot te maak in die vrese van die Here. Daar is navorsing gedoen wat bevestig dat meer as 82 % van die geloofsoordrag plaasvind deur die ouers se opvoeding. Daarna kom vriende se invloed en dan eers die kerk. Daarom is ouers van sleutelbelang as dit kom by geloofsvorming en geloofskweking van dopelinge. Dit kos net een geslag wat afvallig word van die Here, om ’n ongelowige te kweek. Daarom is die doopbelofte wat die ouers aflê baie belangrik. In 1 Timotheus 1: 5 maak Paulus daarvan melding dat Timotheus se geloof bewerk is deur God, wat sy ma Eunice en sy ouma Loïs gebruik het om die geloofsoordrag te laat plaasvind.

My eerste ervaring van geloofsoordrag het plaasgevind toe ek ’n klein seuntjie was en my moeder vir my elke aand uit die Kinderbybel geleer het en my geleer het om ’n eenvoudige kindergebed op te sê. Daarom moet geloofsopvoeding so vroeg as moontlik begin.

Maar die kinderdoop moet uitloop op ’n opregte geloof in Jesus Christus. Daarom moet die ouers en die medegelowiges so leef dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. In Mat 18:6 waarsku die Here: “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n maalklip van ’n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see.” Daarom mag ons voorbeeld, dade, woorde en optrede nooit ’n kind laat struikel nie.

Ons laat struikel die dopeling as ons nie vir hulle uit die Kinderbybel lees en vir hulle leer om te bid nie. Ons laat struikel ’n dopeling as ons hulle nie grootmaak in die woning van die Here nie. Ons laat struikel hulle deur nie vir hulle kategetiese opvoeding deur die kerk te gee nie. Ons laat struikel die dopeling as ons deur ons woorde, optrede en voorbeeld, nie Christelik optree nie. Kom ons maak dit vir ons kinders maklik om in die Here Jesus Christus te glo.

Die huis is die kwekery waar geloofsoordrag plaasvind en waar integriteit gekweek word by kinders. In ’n kwekery word bome gesnoei om ’n mooi vorm aan te neem.

Dink aan Bonsai-boompies wat met groot sorg gekweek, gesnoei en versorg word. Die uiteinde is ’n kunswerk.

Johannes Calvyn het gesê kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker moet jy baie LIEFDE gee.

Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ’n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die dopelinge kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die dopeling moet die liefde van God ervaar, om geborgenheid te ervaar. Die dopeling moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef. As God deur die doop ’n naelstring met die dopeling bind, dan is die gemeente die baarmoeder waarbinne die dopeling moet groei. Daarom moet die hele gemeente verantwoordelikheid neem om so te leef dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. Daarom moet die doopouers ook hulle kind in die kerk en in die erediens grootmaak, want dit is God se baarmoeder. Hulle moet ’n liefde vir die kerk ontwikkel, sodat hulle eendag aktiewe lidmate van die Here se kerk sal wees.

Daarom moet dopelinge al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en dat die Here met ons ’n afspraak het.

Ons kinders en kleinkinders is vir ons ’n sieraad. Daarom kan ons getroos wees dat ons kinders deur die doop met ’n ewige naelstring aan God verbind is. Daarom moet ons ons huise en die kerk gebruik as die kweekhuis, waar ons ons kinders kan opvoed om eendag jongmanne en jongmeisies te wees wat God ken. Wie sy doopbelofte nakom, sal nie eendag wakker lê van bekommernis of my kind op die regte pad is nie. Mag die Here die doopouers en grootouers gebruik as ’n kweekhuis vir hierdie boompies wat nog gevorm moet word met GEBORGENHEID en SEKURITEIT.                                       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

‘n Lewende God wat roep

Skriflesing: Eksodus 3: 1 – 4: 18

Van die wonderlikste verhale in die Bybel en ook ander mense se ervarings is die verhale waar God mense roep tot ’n bepaalde opdrag of taak.

Dink aan Jakob wat by die Jabbokdrif met God geworstel het en uiteindelik gedwing is om sy werk en taak as aartsvader op te neem. Ook Jeremia het hom aanvanklik teëgesit, maar is deur die Here oortuig om sy taak as profeet uit te voer. Na die wonderlike visvangs swig Petrus ook voor die Here Jesus om sy taak as apostel op te neem. Natuurlik is daar dan ook die verhaal van Saulus wat op pad na Damaskus deur die Here met blindheid geslaan word, sodat hy tot bekering kom en gedring word om ’n apostel te word.  Sy nuwe naam was nou Paulus.

Daar is ook die verhaal van Jona wat deur die Here gestuur is na Ninevé. Jona ontduik toe sy roeping en vlug na Tarsis, die heel verste wat hy kan wegkom van Ninevé. Die Here gebied ’n storm en die matrose gooi hom oorboord. Daar in die vis se ingewande kom hy tot bekering en gaan voltooi sy roeping om aan die mense van Ninevé die Here se boodskap oor te dra. Ons kan maar wegkruip of wegvlug, die Here sal ons altyd inhaal.  

Dink aan Luther, wat op pad huis toe was, toe ’n vreeslike donderstorm losgebars het. Net daar verander hy sy roeping van Regte na Teologie. Dit was die begin van die Reformasie en die wêreld het nooit weer dieselfde gelyk nie.

Ons ken almal die wonderlike bekering van die skrywer CS Lewis wat as ateïs tot bekering gekom het en ongelooflik wonderlike Christelike werke geskryf het. In sy boek Surprised by Joy, beskryf hy sy bekering breedvoerig. Hy skryf onder andere die volgende gewaarwording: “The hardness of God is kinder than the softness of men, and his compulsion is our liberation.”

Die roeping van Moses is ook so. Moses het nadat hy die Egiptenaar doodgeslaan het, gevlug na die woestyn in Midian. Daar het hy getrou en vir sy skoonpa Jetro gewerk. Sy lewe was eenvoudig, maar leersaam, in die woestyn. Tot op ’n dag dat die Here hom geroep het terwyl hy skape oppas.

Toe sien hy ’n brandende doringbos, maar die bos brand nie uit nie. Moses sê vir homself dat hy ’n bietjie nader wil gaan om ondersoek in te stel. In die naderstap na die bos ontmoet hy die Here self.  Die Here het na hom geroep en toe Moses antwoord, het die Here gesê hy moet sy sandale uittrek, want die grond waarop hy staan is heilige grond. Toe begin die gesprek tussen die Here en Moses waarin die Here vir Moses opdrag gee om sy volk uit Egipte uit te lei na die beloofde land.

As’t ware ontvang Moses sy vocatio, sy lewensroeping, van die Here. Sy roeping was om die Here se volk uit Egipte, die plek van slawerny, uit te lei na die beloofde land. Die Here wil elke mens laat ontdek wat sy of haar lewensroeping is, maar ook wat jou dag tot dag se roeping is. Elke dag kan die Here dalk ’n persoon of saak op jou lewenspad plaas, waar jy ’n roeping ontdek om die persoon te help of die saak te bevorder. Ons moet luister en kyk  om die hand van die Here te sien op plekke waar ons dit die minste verwag. (John en Adrienne Carr)

Daar was die man wat nie juis bekend was as ’n gelowige nie. Toe verdwaal hy in die woestyn. Later is hy doodmoeg en het hy al sy water opgebruik. Toe besluit hy om maar te bid. Dalk help dit. Toe hy ’n paar dae later by sy vriend sit en hom vertel wat alles gebeur het in die woestyn, vra sy vriend of dit toe gehelp het toe hy gebid het. Die man het sinies geantwoord: “Nee, Hy het niks gedoen nie. As dit nie was vir ’n persoon op ’n kameel nie, het ek sekerlik gesterf”.

Bogenoemde man het nooit besef dat God in klein alledaagse gebeure kan werk en dat die man op die kameel juis die Here se antwoord op sy gebed was nie. Luther het genoem dat jy God ook leer ken deur jou “ervarings” van Hom.

 Daarom moet ons elke dag ontvanklik wees om ons persoonlike en daaglikse vocatio of roeping te ontvang.  Die Here wil hê ons moet ons roeping of taak elke dag uitleef.

Maar ons is dikwels vol verskonings waarom ons nie ons daaglikse roeping kan uitleef nie. Ons maak net soos Moses, met sy rits verskonings.

Moses se eerste verskoning was dat hy ’n lae selfbeeld het. Hy het getwyfel of hy dit durf waag om voor die Farao te verskyn en het getwyfel of hy die volk uit Egipte sou kon lei. Dan help God vir Moses met sy swak selfbeeld, en beloof om elke tree saam met Moses te gaan.

In die tweede verskoning het Moses  getwyfel wat hy gaan sê vir die Israeliete, naamlik by watter naam hy gestuur is om die verlossing vir die Israeliete uit Egipte aan te kondig. Eintlik vra Moses vir God: Wie is God? Hoe is God? Dan antwoord God vir Moses in Eksodus 3:14 met die volgende woorde: “God sê toe vir Moses: ‘EK IS WIE EK IS.’ Hy sê toe ook: ‘So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ”

God gee nie Sy naam nie. Hy is net die groot “IS”. God laat Hom nie verklaar deur definisies of verklarings nie. God laat Hom ook nie in ’n formule of ’n proefbuis of in ’n Teologie-handboek gevange neem nie. As God ’n formule, of ’n definisie was, sou God nie meer God gewees het nie. Daarom is God die groot misterieuse. Jy kan niks van God verstaan nie. Jy kan net in verwondering voor Hom staan.

Coenie Burger skryf hieroor, dat God die Almagtige is, wat altyd daar sal wees en dat Hy sy volk sal vergesel uit Egipte na die beloofde land.   

Die laaste beswaar van Moses was dat hy gehakkel het en dus ongeskik is vir die taak as leier. Die Here vat nie noodwendig jou gebreke en tekortkominge weg nie. Hy gee vir Moses sy broer Aäron, wat sy spreekbuis is. Daarom is die troos dat jy nooit alleen werk nie, maar God gee vir jou die gemeenskap van gelowiges om jou taak ligter te maak. Jou broers en susters vul jou tekortkominge en gebreke aan.    

Dan gebeur die merkwaardige. Moses gaan na sy skoonpa en deel hom die nuus mee dat hy graag wil teruggaan na sy mense om hulle te help.

Dan is Moses gereed om sy vocatio, sy roeping, op te neem.

Wat is jou roeping in die lewe? Wat is jou roeping vandag? Wat wil die Here hê moet jy vanjaar doen?

Jy moet net nie jou talente en roeping onder die grond begrawe nie. Vergelyk die eienaar wat aan sy slawe muntstukke uitgedeel het om mee te woeker. Die wat vyf en twee muntstukke gekry het, het dit verdubbel. Maar die slaaf wat een muntstuk gekry het, het dit begrawe en dit het geen wins opgelewer nie. Dit is ’n mooi voorbeeld om te demonstreer dat jy nie jou roeping in die lewe moet  begrawe nie, maar juis uitleef, sodat jy deur jou roeping tot seën kan wees vir ander mense of ’n saak kan bevorder wat jou na aan die hart lê. 

Alle mense het ’n lewensroeping, nie net predikante, dokters, onderwysers, maatskaplike werkers of verpleegsusters nie. Ook die ingenieur, die sakeman, die boer, die ambagsman, die haarkapster het ’n roeping. So kan ons aangaan: Almal het ’n lewensroeping. Jou belangstellingsveld is heel dikwels jou roeping. God roep alle mense tot ’n taak en lewensdoel.

Jou lewensroeping moet vir jou ’n passie wees. Daarom verdien ’n mens nie net met jou werk jou salaris nie. Nog belangriker is dat jy lewensvreugde ervaar in jou werk.

Ongelukkig is daar soveel mense vir wie hulle werk nie ’n roeping is nie, wat nog te sê van lewensvervulling. 

Jy kry ook die roeping om ’n huweliksmaat te wees. Jy moet die roeping uitleef om ’n goeie vader of moeder te wees. Jy het ’n roeping om jou werkers goed te behandel en hulle op te bou in die lewe. 

 Wees soos ’n veer, sensitief vir die Here wat jou roep.                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

BRONNELYS:

Burger, Coenie. 1992.Vergesel van die Almagtige. Kaapstad: Lux Verbi

Om grense te verskuif

SKRIFLESING: Luk 15: 1- 10

Daar was ’n diep gelowige Katolieke Christenvrou wie se seun in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Die weermag het die seun se lyk na sy moeder teruggestuur om begrawe te word. Die seun was egter ’n jongman wat alreeds voor die oorlog ’n Protestant geword het.

Die Katolieke het nie toegelaat dat Protestante in hulle kerkhowe begrawe word nie. Die moeder het egter probeer en na haar priester gegaan en gevra of haar seun in die begraafplaas begrawe mag word. Die priester was in ’n dilemma, want die kerkwet sê dat geen Protestant in hulle kerkhof begrawe mag word nie. Hy moes na die moeder gaan en vir haar sê hy is jammer, maar hy kan nie aan haar versoek voldoen nie. Die priester was baie ontroerd deur haar teleurstelling en het dié nag sleg geslaap en baie gedink. Die volgende oggend het hy ’n plan. Hy sê vir die moeder: “Begrawe jou seun net aan die buitekant van die begraafplaas se muur”. Sy sê toe: Maar ek wil hom nie buitekant die begraafplaas se muur begrawe nie, ek wil hom binnekant begrawe.” Die priester sê toe vir haar : “Vertrou vir my”. So het die vrou toe haar seun net buite langs die begraafplaas se muur begrawe. ’n Week later is sy verbaas toe haar seun se graf aan die binnekant van die begraafplaas is, want sien, die priester het die muur herbou om ook die graf in te sluit. Vervolgens sê die priester: “Die kerkwet sê dat die seun nie in die kerkhof begrawe mag word nie, maar daar is geen wet wat verbied dat die kerkhof se grense verlê mag word nie”. Omdat die priester vir die vrou omgegee het, en vir haar jammer was, het hy ’n plan beraam.

God maak ook so! Sy liefde maak dat Hy die wêreld sal omkeer om ons te red. Hy het inderdaad aan die kruis ook die wêreld omgekeer om ons te red.   God se liefde is grensverskuiwend!

God is soos die Herder wat sy 99 skape los om die een te soek wat verlore is. God is soos die vrou wat haar huis omkeer om een verlore penning te soek.

Daarom die tema vanoggend: Om grense te verskuif….

Ons gaan kyk na die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore penning.  Kom ons kyk eerstens na dié van die verlore skaap. Jesus vertel die gelykenis juis na aanleiding van die Fariseërs se lelike opmerking omdat Jesus saam met sondaars eet. Deur hierdie gelykenis wil Hy aantoon dat God se genade en barmhartigheid geen grense het nie. God se genade is nie beperk tot die 99, die vroom groepie, die beter klas nie. Nee, God gaan na die verlorenes.

Jesus Christus het grense verlê om ook die nie-Jood, die prostituut, die dief, die sondaar in te sluit. Wat wonderlik is, is dat dit nie die skaap is wat die herder soek nie, maar dat dit die herder is wat die verlore skaap soek. Dit is nie mense wat God soek nie. God soek mense! En hierdie sekerheid van ons heil is die onvervangbare basis van ’n gesonde Skrifbeskouing – daarsonder is dit bloot ’n vertoning van goeie werke.

Maar is dit nie dom van die herder om 99 skape te los en net een verlorene te gaan soek nie? Nee, dit is juis die sekuriteit vir die nege-en-negentig. As God soveel vir die enkeling omgee, sal God ook vir my kom soek of vir enige een van die 99 wat dalk verlore sal raak.

Juis daarom kan ons die vreugde verstaan as die enkeling, die enkele skaap, gevind word. In Palestina was al die eiendom die besit van die hele familie. Die verlies van een skaap is die verlies van die hele groep. Juis daarom moet God se vreugde oor die redding van ’n verlorene ook ons vreugde word.

Is dit nie vir u aandoenlik dat God bekommerd is, besorgd is, jammer is, bewoë is oor die enkeling nie – ook oor jou. Juis daarom verstaan ons God se vreugde in die vind van ’n verlorene.

Dit bring ons by die tweede soort vreugde, naamlik die vind van die verlore penning. Wanneer die vrou na die penning verwys wat sy gevind het, beskryf sy nie die verlore toestand van die penning nie. Sy sê:  “Die penning wat ek verloor het”. Sy laat die klem val op haar eie skade en verlies. Wanneer die vrou die penning soek, soek sy die penning nie omdat sy vir die penning jammer is nie, maar omdat sy vir haarself jammer is. Sy het iets kosbaars verloor.

Onmiddellik moet ons die doel van die penning verduidelik. Wanneer ’n vrou in die antieke tyd getrou het, het sy ’n bruidskat van haar man ontvang. Dit was in die vorm van ’n juweelstuk wat sy aan haar voorkop gedra het. Die juweelstuk het verskeie pennings ingehad, afhangende van hoe ryk die man was. As een penning wegraak en uitval, is die juweelstuk onvolledig. As die vrou dan die bruidskat sou dra, sal almal vra: “Mevrou, ek sien jou bruidskat is onvolledig. Daar kort ’n penning.” Sy sou skaam kry. Dit is amper soos vandag se verloofringe met ’n paar diamante in. As een diamant uitval, is die diamantring ’n verleentheid.

Wanneer die vrou haar penning vind, vind sy haar heelheid terug. Wanneer God ’n sondaar soek en vind, herstel Hy die skepping. God maak heel wat onvolledig is. God maak volledig met sy uitverkiesende genade. Daarom is God vreugdevol. Hy bring sy eiendom tot volledigheid en heelheid.

God is nie ’n God wat “’n leë-huis-sindroom” kan hanteer nie. Daarom maak Hy sy gesin, sy kerk, voltallig.

God het sy Heilige Gees gegee om kragtig te werk in hierdie wêreld en vir hom ’n volk, ’n kerk, te versamel. Die Pinkster-Gees bewerk dat God sy kinders terugkry.

In albei gelykenisse gaan dit oor grense wat verskuif word. Die herder gaan  soek die een verlore skaap. Hy verlaat die bekende en gaan soek elders vir die verlore skaap.

In die verhaal van die verlore penning word ook grense verskuif. Die vrou keer haar huis om totdat sy die penning gekry het.

In albei gelykenisse gaan dit oor vreugde. Die vreugde van die herder oor sy verlore skaap en die vreugde van die vrou oor haar verlore penning. Hulle het weer hulle heelheid terug gekry. Die herder het weer al 100 sy skape. En die vrou se bruidskat is weer volledig, want al die pennings is nou in haar bruidskat.

In hierdie twee gelykenisse gaan dit oor God se ontfermende liefde. Liefde wat grense verlê en ander insluit. So moet ons as Christene ook wees. Ons moet liefdevol grense verlê en ander insluit en God se Koninkryk tot heelheid bring.

Ons kan so maklik grense trek en mense uitsluit. Ons kan so maklik mense afskryf. Maar God se kinders moet grense oorsteek na alle mense. Dan sal ons vir God vreugde verskaf en die engele sal juig oor elke bekeerde sondaar.

Mag ons daaraan herinner word dat die Heilige Gees grense oorsteek na alle mense. Ons moet net aansluit by die Heilige Gees se werk.

Dan sal daar vreugde in die hemel wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Gee God regtig om?

Skriflesing: Eksodus 1: 1 – 2: 10

Vir die Israeliete begin die verhaal van Eksodus op ’n uiterste laagtepunt. Hulle is al 400 jaar in slawerny. Aanvanklik was Egipte vir hulle ’n toevlug tydens die sewe jaar droogte en hongersnood.  Josef, een van die broers, was tweede hoogste in bevel in die Egiptiese ryk. Toe het dit goed gegaan met hulle. Maar Josef het gesterwe en die Farao’s het mekaar een na die ander opgevolg. Vierhonderd jaar later het die Farao nie eens geweet wie Josef was nie.

Die Israeliete het mettertyd slawe in Egipte geword en hulle is veral gebruik om stene te maak vir die bouwerk van dié land se stede. Walter Brueggemann teken in sy Living Towards a vision ’n prentjie wat iets vertel van die Israeliete se swaarkry in Egipte. Die steengroewe was volgens hom:

  • ’n plek met ’n strawwe produksiekwota wat daagliks gelewer moes word.
  • ’n plek van werksdrukte en profyt, met min tyd vir ontspanning.
  • ’n plek van ongelukkigheid en verdrukking.
  • ’n plek van aggressie en vyandigheid; en
  • uiteindelik ’n plek van wanhoop en lyding.

’n Bepaalde aantal stene moes daagliks gemaak word. Dit was slawewerk. Brueggemann skryf verder dat ons ook elkeen op ’n manier gebind is aan ’n sisteem. Dit kan wees om jou base gelukkig te hou. Dit kan ’n huisvrou wees wat haar elke dag moet afsloof en die huisgenote waardeer dit nie. Dit kan wees ’n verkoopspersoon wie se verwagte kwota verkope elke maand opgestoot word. Dit kan ’n maatskaplike werker wees wat ’n onmoontlike werkslading het. In ’n sekere sin is ons almal slawe van ’n sisteem.

Dan vra Coenie Burger die vraag of ons nie maar elkeen aan ons lot oorgelaat is nie. Gee God om? Hoor God as ons roep? Die volk Israel sit al 400 jaar in slawerny! Waar is God?

Coenie Burger vergelyk die buite-Bybelse verlossings- en roepingsverhale met die Bybelse verhaal. In die buite-Bybelse verlossingsverhale is die gode altyd op die voorgrond. Dit verskil egter drasties van die Bybelse verlossingsverhale, soos in Eksodus uitgebeeld word. In Eksodus is daar ’n verhoog en net die mense tree op, as akteurs. God is egter agter die skerms aan die werk as regisseur, maar veel meer nog –  ook as die draaiboekskrywer.

God is nie lief daarvoor om op die voorgrond op te tree nie. Hy is altyd agter die skerms aan die werk. Omdat God agter die skerms werk, gee Hy altyd om. Daarom is ons nie aan ons lot oorgelaat nie. Kom ons kyk hoe die Here agter die skerms werk.

Die Israeliete het net meer en meer geword en die Farao was later bang dat die Israeliete te veel sal word en Egipte sou oorneem. Telkens gebruik die Here onmagtige vroue om die Farao te uitoorlê.

Die Farao gebied toe twee eenvoudige Hebreeuse vroedvroue om, as daar seuntjies gebore word, hulle om die lewe te bring. Die vroue se name is Sifra en Pua. In vers 15 lees ons hoedat die Here in Sifra en Pua se harte werk om nie die Farao te gehoorsaam nie en as’t ware die Farao se planne te fnuik.

Daarna was dit die suster van Moses, met die naam Miriam, wat hom as baba in ’n biesiemandjie wat met pik besmeer is, weggesteek het tussen die riete van die Nylrivier en oor Moses gewaak het.

Dan was dit ook die prinses, dogter van die Farao, wat deur die Here gebruik is  om vir Moses in die paleis groot te maak en vir hom alles oor leierskap  te leer. Toe sy die kindjie Moses vind in die biesiemandjie in die Nyl, het sy hom aanvanklik teruggegee vir sy moeder om hom te borsvoed en groot te maak, totdat hy groot genoeg was om in die paleis te woon. Sy het boonop die moeder van Moses betaal om hom groot te maak.

In Eksodus 1 en 2 sien ’n mens hoe God agter die skerms werk. Hy bewaar Moses van ’n gewisse kinderdood. Moses word in die paleis van die Farao groot, waar hy geleerd word en baie kennis van leierskap opdoen. Toe hy later vlug nadat hy ’n Egiptenaar doodgeslaan het en in die woestyn beland, leer hy vir 40 jaar alles van ’n lewe in ’n woestyn.  Hy is as’t ware deur God se beskikking opgelei om as ’n leier in woestynomstandighede op te tree. Daarom kon God vir Moses gebruik om Sy volk uit Egipte te lei en vir 40 jaar deur die woestyn na die beloofde land te lei.

So het God agter die skerms gewerk, juis omdat Hy omgee wat met sy volk gebeur. Skynbaar was God afwesig, maar agter die skerms het God beskik om vir Sy volk verlossing te gee vanuit slawerny in Egipte.

As God agter die skerms werk omdat Hy omgee, hoekom was ’n ompad van 430 jaar nodig? Lester Meyer verklaar dit in sy boek  The message of Exodus.

Eerstens het die Here die ompad gekies, sodat Hy sy uitverkore volk kon red van die hongersnood wat in die aartsvader Jakob se tyd uitgebreek het en die posisie van Josef (as tweede hoogste in bevel in die Egiptiese ryk)  kon gebruik om sy uitverkore volk te red. 

 Tweedens, juis in Egipte, die plek van slawerny, het God Sy belofte van ’n groot nageslag vir Abraham waar gemaak. Toe Jakob en sy familie in Egipte aangekom het, was hulle maar ongeveer 70 mense. Maar nou, na 400 jaar, was die afstammelinge so talryk dat die Farao bang geword het vir die menigte Israeliete en het hy in hulle ’n bedreiging gesien.

Derdens het die Here vir Israel 400 jaar in Egipte geplaas, sodat hulle moes swaarkry. As jy eers swaargekry het, kan jy werklik ’n ander mens se lyding verstaan. Daarom moet ons nie moedeloos raak as ons deur moeilike tye gaan nie.  Die duidelikste kenmerk van Israel as volk moes wees dat hulle as God se volk moes oorbuig na mense, kon omgee vir die wat sukkel en swaarkry in die lewe, die wat wees en weduwees is en énige mens wat in nood was. Lyding kan ons dikwels help om te groei in ons menswees of voorberei vir iets besonders. Daar is altyd ’n hoër doel agter elke stukkie swaarkry. Later in die Bybel sou ons  telkens hoor dat die Here vir Sy volk Israel sê om goed te doen aan die vreemdeling, die arme en die uitgestotene, want hulle het geweet hoe dit gevoel het om as vreemdelinge en slawe in die land Egipte te wees. 

So het God agter die skerms gewerk, omdat hy omgee. In vele Skrifgedeeltes lees ’n mens hoedat God as’t ware ongesiens werk. Dink aan die boek Ester, waar God se naam nie een keer genoem word nie, maar waar God agter die skerms optree om die Jode te red van ’n gewisse dood.

Daarom werk God in die verborgenheid. Daar waar ons God nie kan sien nie, daar werk God. God werk as die Onsienlike. God werk dikwels as die groot Anonieme wat Sy werk in die geheimenis uitvoer.

Soos Jesus ons leer dat jou regterhand nie moet weet wat jou linkerhand doen nie, bewerk God dan ook dikwels anoniem die goeie vir die mens, omdat Hy regtig omgee.

God gee regtig om vir elkeen van Sy kinders. Daarom het die Here ’n plan vir elke mens se lewe. Op elke bladsy van die geskiedenis is die Here se Naam geskrywe. In ons biografie is die Here se Naam geskryf boaan elke lewensdag. Ons lewensdae is afgetel met Goddelike sorg. Die Here is besig met ons, want Hy gee om vir ons.

Die Here gee regtig om.                                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Burger, Coenie. 1992.Vergesel van die Almagtige. Kaapstad: Lux Verbi.