Dissipelskap vra toewyding en opoffering.

SKRIFLESING: Mark 8: 31 – 38 en Luk 14: 25 – 35

Die verhaal van John Griffith, operateur van die Spoorweë se valbrug oor die Mississippi rivier in die VSA, word vir die waarheid vertel.

Dit was die somervakansie van 1937 en John het dié dag sy agtjarige seun, Greg, saam met hom werk toe geneem.  Vir klein Greg was dit ‘n fassinerende ervaring om te sien hoe sy pa middae van 12h00 die meganisme aanskakel wat die valbrug waaroor ’n treinspoor geloop het, ophys sodat die skepe onder in die rivier kon deurvaar.  Die brug met die treinspoor kon in die middel oopmaak en na die kante opgelig word om die skepe onder deur te laat.  John en Greg is daarna na die observasie toring om dié skouspel dop te hou terwyl hulle middagete geniet.  So met die dophou van die skepe het die tyd verbygevlieg.

Skielik is John na sy werksituasie terug geruk toe hy ‘n trein veraf hoor fluit.  Hy het op sy horlosie gekyk – dit was 13h07.  Die Memphis-sneltrein met 400 passasiers het aangesnel gekom na die spoorwegbrug wat nog steeds opgehys was vir die skepe se deurtog.  Griffith is inderhaas weg na die beheertoring om betyds die brug te laat sak sodat die trein veilig die rivier kon oorsteek oor die treinspoor op die brug.

Net voor hy die hefboom trek om die brug weer in plek te plaas, kyk hy vir oulaas of daar geen skepe aankom nie.  Toe vang sy oog ’n beweging wat sy bloed laat stol.  Sy seun het blykbaar te  ver oorgeleun om na die skepe daar onder te kyk en oor die reling van die toring geval – reg in die massiewe ratte wat die brug laat werk.  Greg se linkerbeen is vasgevang en hy kon nie wegkom nie.  Sy pa kon hom nie betyds bereik nie.

Terwyl hy magteloos die trein sien nader snel, maak Griffeth die verskriklikste keuse van sy lewe.  Toe bedek hy sy oë met sy linkerarm en met die ander hand trek hy die beheerhefboom.  Die massiewe valbrug sal in plek sekondes voordat die Memphis-trein met sy honderde passasier die brug bereik.

Toe John Griffith sy kop optel, was sy gesig nat van sweet en trane.  Deur die vensters van die verbysnellende trein sien hy die passasiers sit – gesellig geselsend, besig om koerant te lees, na-ete koffie te drink, aan kaas en beskuitjies te peusel.  Niemand het eens in die rigting van die beheertoring gekyk nie.  Met pynverwronge stem het John Griffith geskreeu: “ Ek het my seun vir julle geoffer! En julle drink koffie!”

Sou God dit soms ook van ons ongeërgde dissipelskap sê?

DISSIPELSKAP BETEKEN NIE ’N GEMAKSONE NIE, MAAR OPOFFERING!  BEREKEN EERS DIE PRYS!

Ons dissipelskap is dikwels afgewater, omdat ons nie ons kan indink wat God vir ons opgeoffer het nie.  As dissipels van die Here weet ons nie meer wat opoffering beteken nie.

Ons verval in gemaksones.  Godsdiens word aangepas by mense se behoeftes en gemak.  Mense het verleer om volgens die eise van die Evangelie te lewe. As die Evangelie en die kerk hierdie gemaksones van die mens aanspreek, sal die Evangelie verkoop en die kerk groei, altans so glo die mens.

Die ooreiste mense van hierdie eeu soek ‘n godsdiens wat werk:

Godsdiens moet nie veeleisend wees nie …………… eeu van gemak.

Godsdiens moet vir my sekuriteit in hou ……………. dit moet vir my “’n alles in een polis” wees.

Godsdiens moet hoë rente verseker …………….. dit moet met my altyd goedgaan en natuurlik die belofte van die hemel.

Godsdiens moet lekker wees ………………………. emosioneel bevredig.

Die kerk is daar om my te dien. (gemaksugtigheid bevredig)

Vandag word kerke gebou met opgestopte stoele, liedere word gepubliseer wat die emosies van die mens bevredig en die Evangelieboodskap word afgewater sodat dit nie vir die mens aanstoot mag gee nie. Die probleem is dat mense geloof en godsdiens goedkoop maak en nie bereid is om iets daarvoor op te offer nie.

GODSDIENS MAG NOOIT ’N GEMAKSONE WEES NIE, DIT VRA ALGEHELE TOEWYDING EN OPOFFERING

Stefanus, is oor sy geloof met klippe gestenig. Petrus, het onderstebo aan ‘n kruis gesterf vir sy geloof in die Here Jesus Christus. Paulus, het vele ontberinge, vervolging en tronkstraf uitgedien, tydens sy verkondiging van die Evangelie. 

Ek wil ’n stukkie van die vroeë Europa se geskiedenis vir u vertel. Ek verwys na die jare 1522 tot 1573.

Die jare staan bekend as die Kontra – Reformasie of die sogenaamde “Swart Terreur”. Gedurende die tyd het die Inkwisisie Protestante vervolg en doodgemaak oor die hele Europa, maar veral in Italië, Spanje, Nederland en Frankryk.  Protestante is gemartel op pynbanke, in donker kelders gedurende die middernagtelike ure.  Manne, vroue en jong meisies en seuns is nakend op pynbanke vasgemaak en gemartel met water, skroewe, vuur en gewigte.  Die spiere is uitgerek, sonder om hulle te skeur en die beendere gekneus, sonder om hulle te breek.  Die pynbanke is gevolg deur hulle helder oordag op brandstapels te laat sterf.

Volgens Crespin het daar in hierdie tyd net in Frankryk die volgende getalle Protestante gesterf:  Parys 10468 en in die hele Frankryk 30 000.  Die Inkwisisie het gespog met hoeveel Protestante per nag per man uitgemoor kon word.  Die Franse stede Lyon, Dyon, Orleans, Tours en vele ander  het in vlamme opgegaan.

In Nederland het dit net so beroerd gegaan.  Op die helige Bartholomeus – nag is tienduisende Nederlandse Protestante doodgemaak.  Die geskiedskrywers sê dat honderde lyke het met die Sein-rivier afgespoel en die rivier het plek-plek rooi verkleur van al die bloed.  Die Heilige Bartholomeus – nag word beskou as die grootste misdaad in die moderne geskiedenis.  Op ander plekke in Nederland is Protestantse kerke, terwyl hulle besig was met eredienste afgebrand en lidmate met sabels doodgemaak.

Terwyl die Sein-rivier met bloedbevlek is, stede in vlamme opgegaan en die stank van duisende lyke swaar gehang het oor die Protestantse stede en mense in hulle duisende gevlug het is die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1567) geskryf.  Die was die tyd van die groot Belydenisskrifte van die Protestantse kerke.  As’t ware het die Sinodes van daardie tyd hierdie geskrifte geskryf onder die vlammelig van die brandstapels.

Teen hierdie agtergrond begin die Heidelbergse Kategismus met sy Eerste Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in dood?

En dan antwoord die Kategismus “My enigste troos in lewe en dood, is dat ek  met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.  Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.  Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie.  Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.  Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Dit is geloofsmoed.  In hierdie tyd was Psalm 46 die martelaarslied, maar ook die lied van vertroue vir die Protestante kerk.  Daarom het Luther dan  ook die Psalm berym in die woorde van die beroemde Duitse gesang: “Ein feste brug ist unser Gott.”  In hier die Psalm word verklaar dat God die enigste TROOS is, die enigste BRUG is, die enigste TOEVLUG is, die enigste BESKERMER is.  As God dit nie vir u is nie, glo u nog nie.

God is alles of Hy is niks in jou lewe, daar is nie ’n middeweg nie, daar mag nie meer kompromieë wees nie. Daarom beteken dissipelskap opoffering, kruisdra en ’n lewe van algehele toewyding. Godsdiens is ’n duur saak, waarvan jy eers die koste moet bereken voor jy sê: “ja, Here!”  Wanneer godsdiens ’n gemaksone is, is dit goedkoop, as dit alles van my vra word dit ’n duur saak.

Om te dink of te doen alles wat die mense wil hê is egter gevaarlik. In vers 33 sê die Here aan Petrus dat hy nie moet dink aan wat die mense wil hê nie.  Wanneer ’n predikant of ’n kerk of ’n gelowige slegs dit doen en sê wat die mense wil hê, speel hy/sy in die hand van die duiwel – staan hy/sy in die pad van God.

In vers 31 het die Here Jesus aan sy dissipels aangetoon dat Hy baie sal moet ly en uiteindelik doodgemaak sal word.  Dit was egter vir Petrus eens te veel. Hy berispe die Here Jesus hieroor in vers 32.  Volgens Petrus was die Here te gewild om doodgemaak te word.  Inteendeel die storie het rondgeloop dat die Here Jesus die Messias is wat hulle van die Romeinse juk sou bevry.  Hoe kan die Here Jesus dan nou praat van ly en van doodgemaak word.

Daarom was dit vir die Here Jesus nodig gewees om Petrus te tugtig.  Petrus jy dink aan wat die mense wil hê en nie wat God wil nie.  Daarom sê die Here vir Petrus:  “Moenie in my pad staan nie, Satan.”

Die mense in die tyd van Jesus Christus het bevryding en glorie en minder Romeinse belasting gesoek.  Daarom was dit vir hulle onaanvaarbaar dat Jesus kon ly en doodgemaak word.  So het wat die mense wou hê in die pad van God gestaan.  Ja, hierdie mense het eintlik in die hand van die duiwel gespeel.

Wanneer die kerk trap in die slagyster om vir mense te doen wat hulle wil hê (GEMAKSONE) staan die kerk in die pad van die duiwel.

Ons moet as’t ware vra maar wat wil God hê? God se wil vir sy Seun was nie om ’n Politieke Bevryder te wees of om glorie aan die Joodse volk te bring nie. God se wil vir sy Seun was dat Hy moes ly en doodgemaak word, sodat hy die wêreld kon red.  Christus Jesus moes homself verloën, sy kruis, die kruis van die wêreld dra en sy Vader in die hemel navolg.

God se wil vir ons is nie om gemaklik agteroor te sit en God te vertrou om ons koninkryke te beskerm en ons emosionele lewe te “boost” nie.

God se wil vir ons is dat ons onsself moet verloën, ons kruis moet dra en die Here moet volg sodat God deur ons die wêreld kan heel. (Sien vers 34)

Bonhoeffer het in sy boek “Nachfolge” gesê: “Wanneer Christus ’n mens roep, Hy jou roep om te kom sterf. Vir die gelowige moet dit nie gaan oor glorie, gemaksug, emosionele “boost”, en ’n godsdiens van sekuriteite nie.

Dit moet gaan oor selfverloëning, oor kruis dra en navolging.

Met selfverloëning word bedoel om my eie opinies en idees oor sake en mense te verander.  Om altyd die minste te wees.  Dit beteken om nie meer die gewilde vriend van die wêreld te wees nie.  Dit beteken dat ek nou die wil van God doen, en nie meer die wil van die mense nie.  Ek vrees God meer as die mense.  Ek steur my nie meer daaraan om aanvaarbaar en gewild te wees onder die mense nie.

Om nederig en diensbaar voor God en my medemens te leef.  Om nie meer vir myself en my eie koninkrykie te leef nie.  Nou is ek nie meer die “heer” of die “dame” nie – nee, nou is ek die slaaf van Christus.

Nou gee ek myself weg vir ander, stukkie vir stukkie: my tyd, talente, besittings ens.

Met kruis dra word nie bedoel om die daaglikse angs, nood en ongerief van my eie natuurlike lewe te verduur nie,  Nee, dit beteken om die angs, nood en ongerief van ander te verduur.  Die kruis van die arme word my kruis, die kruis van die beproefde word my kruis en die kruis van die sosiaal uitgestote word my kruis.  Met ander woorde, kruis dra beteken om die kruis van my naaste op te neem en myself daarmee te vereenselwig.

Pascal het gesê: “It is so difficult to believe because it is so difficult to suffer.”

Met navolging word bedoel om te stap in die voetspore van die Here.  Ek moet daar wees waar die Here Jesus ook sou wees.  Waar sou die Here Jesus wees?

Hy sou op ’n stil plek wees om te bid.  Hy sou daar op my plaas wees tussen my werkers om die Skrifte vir hul uit te lê, Hy sou by die bejaarde en sieke wees, Hy sou daar by die beproefdes wees, Hy sou daar by die Kinderhuis wees, Hy sou daar by die gevangenis wees, Hy sou daar in die Adelaide se hospitaal wees, Hy sou daar in die plakkerskamp wees om vir mense raad te gee en hul nood te verlig.  Wie Christus navolg, is daar waar Christus sou wees.

U sien dus, wat die mense wil hê is anders as dit wat God wil hê? Mense wil hê: gemak, sekuriteite en die “boost” van my eie emosionele lewe. Die Evangelie moet my genees en niks verder nie.

God wil hê: Deur selfverloëning, kruisdra en navolging wil God my gebruik om die wêreld te help heel.  Daar is nie plek vir glorie, gemaksug of die vertroeteling van my eie emosies nie. Daarom moet ons nie bang wees vir mense of ons skaam wees vir God nie. Ons moenie die dinge sê en doen wat mense graag wil hê nie, want dan verloën ons die Here Jesus Christus. Daarom sê die Here Jesus in vers 38 dat die een wat hom skaam vir die Here, vir hom sal die Here skaam wanneer die wederkoms aanbreek. Vrees God meer as vir die mens.

Moet ons onsself verloën, ons kruisdra en Christus navolg asof dit ’n las is.  Nee, ons moet dit met blydskap doen.  Navolging, kruis dra en selfverloëning moet ons nie negatief ervaar nie, maar met blydskap.  Wanneer Paulus in die tronk sit vir die Here Jesus sê hy: “Wees bly in die Here, ek herhaal wees bly!”

Met blydskap moet ons leer om voluit vir die Here te lewe, al kos dit wat, ja, selfs my lewe!

Want Hy het mos alles vir my opgeoffer!

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om met eenvoud te lewe, bring lewensvreugde.

SKRIFLESING: Prediker 3: 9 – 15

Koos du Plessis skryf die volgende woorde:

“Eenvoud is die vreugde van die lewe.

Dit gee en neem net wat daar is.

Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.”

Die Here het die mens eenvoudig gemaak. Ons maak die mens en die wêreld ingewikkeld. Ons het vir ons ‘n moderne welvaartskultuur geskep. Die tipiese simptome daarvan is spanning, depressie, klagtes oor gejaagde programme, gevoelens van minderwaardigheid, angs en so gaan die lys aan.

Alles moet vinniger, beter, en op groter skaal gedoen word. Alles word ‘n “rat race” op ‘n muismeuletjie. Ons jaag, maar ons jaag na niks.

Almal streef na ‘n hoër lewenstandaard. Ons wil nie afsteek by ander mense nie. Daarom koop ons die nuutste modes en wil die nuutste modelle van alles hê. Iemand het een maal gesê: “ We buy things we do not want, to impress people we do not like …..”

Verder put ons elke dag die aarde se lewensbronne al meer uit. ‘n Joernalis het een dag vir Gandhi gevra of Indië na hulle onafhanklikheid sal probeer om dieselfde gemiddelde lewenstandaard as Engeland te bereik. Ghandi se antwoord was dat vir Engeland die helfte van die planeet se bronne geverg het om hulle lewenstandaard te bereik, hoeveel planete sou nodig wees om dieselfde lewenstandaard vir alle mense in Indië te verseker? Ghandi sê daarom: “ Earth provides enough to satisfy every man’s need, but not for every mans’s greed.

‘n Mens kan jou inderdaad afvra hoe die wêreld sou lyk indien daar net soveel motors per persoon in China was as in die VSA. Of net soveel rommel per persoon in Afrika as in Europa. Hulle beweer dat ‘n ontwikkelde Westerling tot tien keer groter ekonomiese impak maak op die ekologie as die mense van Afrika.

Ons werk harder, speel harder, bestee harder ………. maar aan die einde van die dag is ons armer in ons gees. Die tragiese ironie is dat armes ook alte dikwels deur hierdie materiële begeertes in besit geneem word. Foster sê: “Those who have it the least, love it the most.”

Prediker skryf vanuit ‘n bevoorregte agtergrond. Hy het die persoonlike ervaring van iemand wat alles in die lewe het en wat niks kort kom nie. Hy is iemand wat hard kon werk en selfs baie studie agter sy rug het. Hy het selfs boeke geskryf. Tog lei Prediker aan depressie. Alles voel vir hom na ‘n gejaag na wind.

Dan lees ons hoedat Prediker vreugde vind in die gewone, eenvoudige huishoudelike dinge in die lewe – om te eet, te drink, om vrug op jou arbeid te sien, om vreugde in jou lewensmaat te vind, om jou kinders te geniet, om jou liggaam te versorg ensovoorts.

Luister hoe klink Prediker 9: 12 – 13 – “ Ek het besef dat daar tussen hulle  niks beter is nie as om vreugde te ervaar en die goeie te geniet in die lewe ja, elke mens dat hy eet en drink en die goeie geniet by al sy inspanning.”

Prediker roep dis die mens op om eenvoudiger te lewe. Eenvoud is ‘n deug, nie ‘n straf nie. Om iets hiervan te verstaan moet ons, soos Prediker, weer leer hoe om die eenvoudige dingetjies te geniet, om die buitengewone in die gewone raak te sien, om die hand van God self daarin te bemerk.

Eintlik bedoel Prediker, dat die mens moet streef na minimalisme.

Minder is beter! Die duiwel hou van meer en beter. Daarom het hy ook vir Eva verlei in die paradys om groter en beter, soos God self te wees. Wanneer ‘n mens ‘n minimalis is, is jy tevrede met minder en kleiner. Dan kan jy eers werklik dankbaar wees, vir die erfporsie wat vir jou uitgesit is.

“Small is beautiful” sê Ernst Schumacher. Daarom moet ‘n mens weer opnuut leer om die “klein dingetjies” in die lewe raak te sien as God se voetspoor in die wêreld. ‘n Mens moet jou instel om vreugde te vind in die reuk van vars brood, in die glimlag van ‘n kind, in die varsheid van ‘n wandeling in die natuur en in die herfs se veelkleurigheid.

Foster gee in sy boek “Celebration of discipline” die volgende raad om ‘n eenvoudiger lewensstyl aan te kweek:

  • Koop dinge omdat hulle nuttig is nie oor hul status nie. Motors behoort byvoorbeeld vir hulle bruikbaarheid gekoop te word en nie vir hulle prestige waarde nie.
  • Moenie aan goed verslaaf raak nie.
  • Kweek die gewoonte aan om dinge weg te gee.
  • Leer om dinge te geniet, sonder om hulle te besit, byvoorbeeld geniet die veld, die natuur, die strand en openbare plekke. (Ons hoef nie alles te besit om dit te geniet nie.)
  •  Leer om met minder klaar te kom, byvoorbeeld minder skoene en minder klere.
  • Pas jou goed op om so lank as moontlik te hou. Gebruik dinge op.
  • Waardeer jou ou goed, moenie altyd nuwe dinge en nuwe modes najaag nie.
  • Maak die lewe so ongekompliseerd soos moontlik. Moenie die lewe ingewikkeld maak nie.
  • Leef dankbaar. Wees dankbaar vir elke stukkie “skewe broodkorsie” op jou tafel.

Geniet die lewe, waardeer die skepping, waardeer die seisoene, geniet mense, geniet jou lewensmaat en jou kinders. Geniet die lewe, sonder om alles te wil besit.

Wie so lewe sal dit eers regkry om die Koninkryk van God voor sy eie koninkryk te stel. Dan sal ek myself minder bekommerd oor dinge. Dan sal ek vry wees om die Here te dien.

Wanneer ek in die “Onse Vader bid: “Lord let your Kingdom come!”, moet ek terselfdertyd bid: “Lord let my kingdom go.”

Eenvoud is loutere vreugde.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die oplossing vir negatiwiteit!

SKRIFLESING: Num 13: 26 – 33

In Numeri 13: 26 – 33 word gepraat van die Israeliete wat ‘n koringkriekkompleks het.

‘n Mens kry mos baie soorte komplekse soos byvoorbeeld, ‘n minderwaardigheidskompleks, ‘n meerderwaardigheidskompleks, engtevrees, hoogtevrees ensovoorts.

Die volk Israel het hier in Numeri 13 aan die koringkriekkompleks gelei. ‘n Koringkriekkompleks is ‘n geneigdheid om alles in ‘n negatiewe lig te sien.

Twaalf spioene is gestuur om die land Kanaän te gaan bespied. Twee van hulle naamlik Josua en Kaleb was oppertuniste wat alles in ‘n positiewe lig gesien het. Hulle het ‘n minderheidsverslag ingebring wat aanbeveel het dat die land Kanaän wel ingeval kan word, omdat hulle weet dat die Here hulle sal help. Maar die ander tien verspieders het ‘n meerderheidsverslag opgestel; wat erg negatief was. Hulle was so negatief gewees, dat hul hulself vergelyk het met koringkrieke. Daar staan in Numeri 13: 33 die volgende: ”Daar het ons reuse gesien. Die Enakiete stam uit die reuse. “Ons was in ons eie oë soos koringkrieke; ons was soos muggies in hulle oë.”

Die vyand het vir hulle soos reuse gelyk. Daarom het hulle aanbeveel dat die land Kanaän nie ingeval moet word nie. Negatiwiteit is mos aansteeklik en gou-gou was die hele volk Israel negatief. Hulle was so negatief dat hulle vir Josua en Kaleb met klippe wou doodgooi. Hulle wou eerder die slegte nuus as die goeie nuus hoor. Tipies mens, ‘n koerant wat die swartste prentjie skilder verkoop baie beter as ‘n koerant met ‘n positiewe inslag.

Ook ons as Suid Afrikaanse Christene is besmet met hierdie koringkriekvirus en muggievirus. Ons kla, mor en steun elke dag oor alles en nog wat. Ons sien baie dae die toekoms van hierdie land in die slegste moontlike lig. Ons is negatief oor die ekonomie, oor die regering se hantering van Covid, die ANC se planne vir grondhervorming, oor die onderwys , oor ons skool opvoedingstelsel en die verval in munisipaliteite en so gaan die lysie aan.

Hierdie koringkriekvirus maak jou lam, dit maak jou negatief, dit maak jou angstig, dit maak jou depressief. Jy verleer om te leef en gelukkig te leef.

Wat is die oorsaak van hierdie koringkriekkompleks? Die teks gee vir ons presies vier oorsake vir hierdie koringkriekkompleks, naamlik om alles in ‘n negatiewe lig te sien.

Die eerste oorsaak is om net die negatiewe van die verlede raak te sien. Hulle het moontlik net die bitter water by Mara onthou en vergeet van die soet water by die oase. Hulle onthou van die oorlog met die Amelekiete en hoedat drieduisend Israeliete doodgemaak is oor die goue kalf. Hulle vergeet van die water uit die rots, manna en kwartels uit die hemel. Ons vergeet ook dikwels van hoe die Here ons deur droogtes en siektes en deur die dood bygestaan en versterk het. Ons vergeet die talle kere in die verlede hoe die Here ons probleme in die mis laat verdwyn het.

Die tweede oorsaak van hulle negatiwiteit is dat hulle negatief is oor hulle toekoms. Hulle het vergeet dat die Here aan hulle die belofte van ‘n beloofte land gegee het. Hulle het vergeet dat die Here vir hulle ‘n visie en ‘n plan het. Vir hulle het die lewe maar net om oorlewing gegaan. Ons as Christene vergeet ook dat ons in hierdie donker Afrika-kontinent nog steeds ‘n taak en ‘n plek het. Ons moet die Evangelie versprei, ons moet vir Afrika kos gee, ons moet Suid Afrika help opbou. Die Here het ook vir die Suid Afrikaner met sy Westerse agtergrond ‘n baie duidelike doel in hierdie kontinent. Ons is onmisbaar. Ons is net te verlam deur die koringkriekvirus om hierdie heerlike doel wat God met ons lewens het raak te sien.

Die derde oorsaak van hulle negatiwiteit was dat hulle negatief oor hulself gedink het. Die tien verspieders vergelyk hulself met koringkrieke. Hulle is die koringkrieke en die vyand was die reuse. Hoe maklik kan ‘n reus nie ‘n koringkriek doodtrap nie. Hierdie verspieders het vergeet dat hulle verbondskinders is, dat hulle in die oë van God spesiaal is. Hulle het vergeet dat hulle besny is, dat hulle deur God afgesonder is. So maklik vergeet ons ook dat ons vir God spesiaal is, omdat ons God se gedoopte kinders is. Ons vergeet dat die Here vir ons aangeneem het as sy eie kinders. Ons vergeet van 2 Kor 12: 10, wat sê as ek swak is, is ek sterk. Ons vergeet dat die Here vir die jongeling Dawid gebruik het teen die reus Goliat, ons vergeet dat die Here vir die hakkelende Moses gebruik het, ons vergeet dat die Here vir Paulus met sy doring in die vlees gebruik het.

Die vierde oorsaak van die negatiwiteit is dat hulle ‘n skewe beeld van God gehad het. Hulle het eenvoudig gedink dat God te klein is om hulle te help. Die reuse van Kanaän het selfs hulle God verdwerg. Hulle het vergeet van die God wat die tien plae gestuur het. Hulle het vergeet van die God wat die Rooi See in twee verdeel het. Hulle het vergeet van die God wat ‘n vuurkolom en ‘n wolkkolom gestuur het. Hulle het vergeet van die God wat daagliks manna en kwartels gestuur het.

Hoe maklik vergeet ons nie ook wie GOD werklik is nie. Ons vergeet dat God almagtig, alwys, ewig, onveranderlik, goedertieren, barmhartig, mildelik, vriendelik, genadig, regverdig, alomteenwoordig ensovoorts is. Dikwels blaas ons ons probleme so op dat ons God verdwerg. Dit is doodeenvoudig …. ongeloof.

Ja, uit ‘n menslike oogpunt was die vyand soos reuse en die Israeliete soos koringkrieke. Die Kanaäniete het immers ysterwapens gehad, hulle het strydwaens gehad en in versterkte stede gebly en hulle was lank en fris gewees. Die Israeliete daarenteen het slegs houtwapens gehad, het geen strydwaens gehad nie en het in tente gebly. Verder is ‘n Jood nou nie juis fris en sterk gebou nie. Daarom het die meerderheidsverslag 10 teenoor 2 gewen. Die volk het ook hulle volmondige steun aan die meerderheidsverslag gegee.

Ja, die hele volk was besmet met die koringkriekvirus. Hulle het verkeerd terug gekyk na die verlede. Hulle het verkeerd gekyk na die toekoms, hulle het verkeerd gekyk na hulself gekyk en hulle het verkeerd na God gekyk.

Die volk Israel en ook ons vergeet egter so maklik van God.

Dit bring ons by die kuur van die virus. Die kuur is eenvoudig. Jy moet die oorsake uit die weg ruim.

Kyk terug na die verlede en dink aan die baie kere wat God jou gehelp het.

Kyk vorentoe en ontdek opnuut die plan wat God met jou lewe het.

Kyk na jouself as ‘n verbondsmens vir wie God baie lief het. Weet dat God jou wil gebruik met al jou foute en skete.

Die belangrikste is egter om te kyk na God. Kyk na die krag van die kruis en die opstandingsevangelie. Dan sal jy weet dat ons in die oë van God wel koringkrieke is, maar op God se skouer is ons reuse.  AMEN

(Die vierdeling van die preek het ek raakgelees by ‘n prediker, wie se naam ek vergeet het. Sommige aanhalings is ook die onbekende prediker se werk. Die begrip “koringkriekvirus” het ek ook by hom gekry.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Moet ek ’n passasierskip of ’n handelskip wees?

SKRIFLESING: Luk 13: 6 – 9 en Mat 28: 16 – 20

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n passasierskip en ‘n handelskip. Hulle verskil hemelsbreed van mekaar want hulle take verskil. Die passasierskip is gemaak om passasiers te vervoer en die handelskip is gemaak om mee handel te dryf.

Omdat die passasierskip getaak is om passasiers te vervoer, is die skip dan ook gerieflik ingerig. Gewoonlik baie weelderig, met al die gemak wat passasiers oor ‘n lang seevaart verlang. ’n Handelskip is weer ongemaklik met min gerief, want die skip is nie gebou om te ontspan nie, maar om houers en vragte te vervoer.

Op ‘n passasierskip werk net die bemanning. Die honderde passasiers ontspan op die skip en word bedien. Op die handelskip is almal op die skip getaak met ‘n opdrag. Niemand word bedien nie.

Waarmee sal u die kerk vergelyk? Met ‘n passasierskip of ‘n handelskip?

Vir baie lidmate moet die kerk soos ‘n passasierskip wees. Die kerk moet gerieflik wees en deeglik na hul behoeftes omsien. Die dominee en die kerkraadslede moet soos die kelners op die passasierskip wees, wat rondhardloop om almal tevrede en versorg te hou. Dan is die kerk op haarself gerig. Dan leef die kerk bloot vir eiebelang en is na binne gerig.

Veel eerder moet die kerk soos ‘n handelskip wees. Die kerk is die Here se handelskip waarmee Hy die wêreld wil bereik. Die kerk as handelskip moet liefde, vriendelikheid, gasvryheid, liefdadigheid en al die gawes van die Gees vervoer en dit lewer aan die wêreld.  Daarom het die Here Jesus dan ook met sy hemelvaart vir die kerk sy visie, sy missie uitgespel, naamlik om dissipels te maak.

Daarom het die Here Jesus dan ook die gelykenis van die vyeboom vertel. Die Here Jesus kom by die vyeboom en vind ‘n pragtige blaredos, maar vind geen vrugte daaraan nie. Dit waarvoor die vyeboom aangeplant is, naamlik om vye te dra, daarin misluk die vyeboom. Die vyeboom is soos ‘n luukse passasierskip, met ‘n pragtige blaredos, waaronder die lidmate in die koelte sit. Maar die vrugte, die vye ontbreek. Daarom is die Here erg ontstel. Die vyeboom voldoen nie aan die doel waarom dit aangeplant is nie.

Die vyeboom  is bemes en nat gegooi en versorg, maar nog dra dit geen vrugte nie. So het die Here Jesus ook sy kerk geplant, bemes en natgegooi en versorg. Die Here het vir sy kerk die Woord, gegee en ampsdraers en gawes, maar nog steeds dra die Here se kerk nie vrug nie. In plaas van dissipels te maak, sit ons in die koelte van die vyeboom, sit ons op ‘n gemakstoel op die passasierskip.

Kyk die Here Jesus nie dalk ook vanoggend na sy vyeboom, sy kerk op Adelaide en wonder Hy of Hy nie maar die gemeente moet uitkap nie. Vir meer as 131 jaar het Hy al die vyeboom, die gemeente versorg en bemes en natgegooi, maar tog ontbreek die visie nog om dissipels te maak vir die Here. Ons is ingestel om almal binne die kerk gelukkig te hou, tevrede te hou, in die koelte te hou, dat ons vergeet het van ons oorspronklike visie, naamlik om dissipels vir die Here te maak.

Onderhou ons nie dalk vanoggend ‘n passasierskip in plaas van ‘n handelskip nie.

U sien in Mat 28: 19 gee die Here Jesus die volgende opdrag, naamlik: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” In die Grieks staan daar letterlik: “Maak dissipels al lopende en lerende.”

Die kerk is die enigste organisasie wat nie bestaan vir sy lede nie, maar vir sy nie-lede. Die kerk bestaan ter wille van die wêreld en die ongelowiges wat nog tot redding moet kom.

God se teiken is dus nie die kerk nie. Sy teiken is die wêreld: “ Gaan na die nasies toe.” Die kerk is die handelskip wat liefde verhandel aan die wêreld. Die kerk is die handelskip wat die liefde bring na die mense en die nasies. Die kerk is die draer van die liefde van Jesus Christus.

God werk in die wêreld. Wanneer die kerk in die wêreld werk, dan werk God in die kerk.

Johannes 3:16 sê nie: : “God het die kerk so lief gehad nie”, maar “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy Seun gestuur het.” Natuurlik beteken dit dat God vir jou en my ook lief het, maar dit beteken ook dat hy die ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook lief het, en dit is ons taak om van hulle dissipels te maak.

Ons moet nie vra: “ Hoe gaan dit met julle kerk nie.” Ons moet eerder vra: “Hoe gaan dit met die wêreld daar waar julle kerk is? Want God mik op die wêreld.

Is ons huwelike, ons gesinne, ons lewens, ons prioriteite, ons woorde, ons dade, ons geaardhede, ons persoonlikheid ‘n lewende getuie van Jesus Christus? Hierdie bose wêreld waarin ons lewe sal nie beter word deur dit net te kritiseer nie. Nee, ons moet dit eerder evangeliseer.

Dit help nie ek kla oor die arbeiders in my diens nie, ek moet hulle by die Woord uitbring. Het hulle ‘n Bybel? Herinner ek hulle aan eredienste in hulle taal. Gesels ek met hulle oor die Bybel? Hou ek in die oggende vir hulle godsdiens? Deur ons barmhartige dade maak ons ook dissipels vir die Here Jesus. Iemand se dade tel meer as sy woorde.

Leef ek elke dag korrek voor God, voor my huweliksmaat, voor my arbeiders en voor my medemens?

U sien ek moet self eers ‘n dissipel wees voor ek van ander dissipels kan maak.

Eintlik is dit nie so moeilik om dissipels van mense te maak nie. Ek moet net die saad saai, die regte voorbeeld stel, korrek lewe en bemoeienis maak met ander mense. God verander mense. God gebruik my lewe en getuienis om dissipels van mense te maak. Wat waar is, is dat ongelowige mense meer ons lewens lees as wat hulle die Bybel lees!

Is u en ek nog effektief? Maak ons nog dissipels?

Dra ons nog vye of gee ons net koelte vir die lidmate om onder te sit? ‘n Vyeboom word nie aangeplant vir sy koelte nie, maar vir sy vye. Die kerk is geplant nie om koelte te gee vir lidmate nie, maar om vye te dra, dissipels te maak.

Die kerk is nie ‘n passasierskip wat ons moet vervoer deur hierdie lewe na die hiernamaals nie. Nee, die kerk is die handelskip wat al God se Geestesgawes uitdeel aan die wêreld. Dit is om iets van die hemel nou alreeds waar te maak in hierdie wêreld.

Kom ons gemeente wees nie maar net vyebome wat koelte vir lidmate gee nie, maar eerder ‘n vyeboom wat vrugte dra, wat die opdragte van die Here uitvoer, en wat dissipels vir die Here maak. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)  

Die stofmannetjies en die stofvroutjies in die Here se kerk.

SKRIFLESING: 1 Tes 2: 1 – 12 en 1 Petrus 2: 9 – 10

Wanneer ‘n mens ernstig siek is, wil ‘n mens graag die mening van ‘n spesialis hê. ‘n Spesialis is ‘n kenner op daardie bepaalde liggaamsdeel wat siek is. Of as ’n mens ‘n nuwe kar het, neem jy dit gewoonlik na die agente, omdat hulle die beste weet. Ja, ons maak eerder van ‘n spesialis of ‘n kenner se hulp gebruik as ons sommer enigeen te vra.

Tog wanneer God sy werk op aarde gedoen wil hê, maak Hy nie van spesialiste, van engele gebruik nie. Nee, Hy gebruik mense, stofmannetjies en stofvroutjies om sy werk te doen. Die begrip “stofmannetjie” het ek in een van Prof Willie Jonker se preke gelees en daarom gebruik ek die uitdrukking ook in dié preek. Stofmannetjies beteken Hy gebruik doodgewone mense soos u en ek om sy werk te doen. Dit is eenvoudig wonderlik. God vertrou vir ons soveel, dat Hy sy kosbare werk aan mense opdra om dit vir Hom te doen. Daarom het die Here in die paradys vir Hom stofmannetjies en stofvroutjies gemaak en hulle na Sy beeld geskape. Hy het gesê dat hulle vir hom verteenwoordigers op hierdie aarde moet wees.

Ons moet God se stofmensie-verteenwoordigers wees in die landbou, die veeteelt, die ekonomie, die politiek, die regswese, die geneeskunde, die administrasie, die tegniese wetenskappe en elke ander terrein. Die Here gebruik stofmensies op skaapplase om hom te eer. Wat ‘n voorreg is dit nie om te weet dat God my elke dag in alles wil gebruik om oor sy skepping te heers. Daarom het ons elkeen verskillende talente en gawes, sodat God ons ten beste kan gebruik.

Maar die heel wonderlikste is dat God ook stofmannetjies en stofvroutjies gebruik in Sy kerk op aarde. Ewigheidswerk word deur stofwesentjies gedoen. Hy plaas hulle in die amp van leraar, ouderling, diaken en gelowige. Daarom bestaan God se kerk nie uit engele nie, maar uit stofmensies. God kommunikeer met die mens deur mense. Daarom het sy Seun mens kom word om vir die mensheid redding te bring. Daarom gebruik Hy mense om vir ander mense van Sy liefde te vertel.

Daarom het die kerk vandag so baie foute, omdat die kerk uit stofmensies en nie uit engele bestaan nie. Maak ‘n kerkleier ’n fout dan haal dit die hoofopskrifte van die Rapport. Daarom moet ons nie in die kerk sit en wonder wie is skynheilig nie, want sien die kerk is juis vir goddelose mense bedoel. Die kerk is nie van vlekvrye staal gemaak nie, maar van verganklike stof. Daarom moet ons nie aan die kerk bo-menslike eise stel nie. Die kerk is juis swak, sodat die Here sy kerk in swakheid kan gebruik.

Die wonder is egter dat die kerk met al sy foute en al nie doodloop nie. Hoekom? Omdat God sy kerk self instand hou deur sy Gees en sy Woord. Die krag van die kerk lê nie in die mensies in die kerk nie, maar in die God van die kerk. Ook ons gemeente bestaan al meer as 131 jaar en daar word al 159 jaar vanuit hierdie gebou kerk gehou vir Adelaide se gelowiges. Te midde van baie foute en gebreke bestaan hierdie gemeente omdat God self die kerk instand hou. Daarom mag ons nooit die Here se gemeente liefdeloos kritiseer of afmaak nie, want God se kerk en gemeentes het Hy met sy kosbare bloed gekoop.

Die Here gebruik stofmannetjies en stofvroutjies met al hul gebreke, byvoorbeeld die hakkelende Moses, die vlugtende Jona, die depressiewe Elia, die owerspelige Dawid, die humeurige Petrus, die ongelowige Thomas, Paulus met sy doring in die vlees en so kan die lysie aangaan. God bring deur hierdie stofmensies groot dinge tot stand. Stofmensies word sy boodskappers.

Ek het die voorreg om Adelaide se twaalfde predikant te wees. Vir 131 jaar lank al het God 12 swakke stofmannetjies gebruik om sy gemeente te bou. Hy gebruik die leraar om herder, priester en profeet vir sy gemeente te wees. Leraars moet soos ‘n pa en ‘n ma na God se gemeente omsien. Beide vaderlike en moederlike eienskappe moet hulle teenoor die gemeente openbaar.

Oor die afgelope 131 was daar honderde ouderlinge wat soos konings in die naam van die Here geregeer en gelei het.   Hulle moet soos ‘n pa bemoedig en aanspoor en die gelowiges op die hart druk om tot eer van God te leef. Daarom moet ‘n ouderling altyd vaderlik optree.

Die afgelope 131 jaar was daar honderde diakens wat getrou soos priesters gedien het. Hulle het gesorg dat die gemeente en die armes en siekes versorg is. Hulle het die offers versamel. Hulle moet soos ‘n moeder optree en seker maak dat almal in die gemeente genoeg kos het. Hulle het gesorg en gedien en seker gemaak dat die gemeente ook wat aardse middele betref oorleef.

Oor die afgelope 131 jaar was daar duisende lidmate wat in hierdie gemeente in die amp van gelowige gestaan het. Dit was hulle wat soos skape agter die Here se Woord aangeloop het. Dit was hulle wat hulle geloof elke dag prakties uitgeleef het in die gemeenskap. Baie dikwels het sommiges ook afgedwaal soos skape dikwels doen. Natuurlik groei die onkruid saam met die koring. Maar Goddank in die afgelope 131 jaar kon die onkruid nog nooit die koring toegroei nie.  Natuurlik is die gemeente soms bidloos en ontrou soos die dissipels in Getsemané. Natuurlik is die gemeente soms onwillig as dit kom by sending, ja dan hardloop ons weg soos Jona vir die Here weggehardloop het. Natuurlik is die gemeente soms nie gewillig om barmhartig te wees nie, soos wat die dissipels die 2 vissies en 5 brode vir hulself wil hou. Baie dikwels is ons soos die priester en Leviet wat verby die man stap wat langs die pad beroof en vir dood agtergelaat is.

Op die stukkie aarde (waar ons kerk staan) aanbid geslagte al vir 159 jaar. Eers het daar donkiekarre en perdekarre buite die kerkgebou gestaan. Toe kom die ou Fords wat jy met die slinger draai. Deesdae staan daar moderne voertuie in die kerkerf. Eers is daar uit die Hollandse Bybel gelees, toe die 1933 Afrikaanse vertaling, toe die 1953 Afrikaanse vertaling en toe die 1983 vertaling. Sedert verlede jaar gebruik ons die 2020 Afrikaanse vertaling. Vir soveel geslagte het duisende lofliedere vanuit die kerkruimte verrys. Soveel babatjies is gedoop. Soveel paartjies is in die huwelik bevestig. Soveel trane is hier met begrafnisse gestort, soveel duisende preke is vanaf Adelaide se kansel gelewer.

In die kerkkantoor se kluis is die vergeelde bladsye van die argiewe, wat vertel hoe God stofmannetjies en stofvroutjies gebruik het om die kerk te regeer. Die debatte het deur die jare verander. Daar was die kelkie stryd, die manelle, die vergroting van die kerk in 1951 en so kan ons nog talle debatte byvoeg, waarmee die kerkraad en gemeente moes geworstel het. Sommige was krisisjare. Tog het God sy kerk bewaar deur elke kerkraadsvergadering.

Daar was finansiële maer jare en finansiële beter jare vir die gemeente Adelaide. Tog het God nog deur alles heen sy kerk bewaar. God wil ook hê dat ons voortdurend moet planne maak sodat die kerkopbou en die kerkuitbou op Adelaide kan voortgaan. Ons moet Sy getuie wees. Ons moet missionêr en diakonaal betrokke wees in die wêreld rondom ons. Wat ‘n heerlike taak.

Die kerk is nie in die hande van stofmensies nie, maar in die hande van die lewende God.

Sias Reyneke het ‘n pragtige liedjie geskryf met die woorde: “ Ek wens jy kon jou deur my oë sien.” Ek wens u kon deur God se oë na hierdie gemeente kyk. Ek wens u kon in God se hart sien hoe lief hy hierdie stofmannetjies en stofvroutjies het. Dat Hy stofmannetjies en stofvroutjies gebruik, met al hul foute om te vertel van Sy groot dade.

Hy gebruik nie spesialiste, die engele nie. Nee, Hy gebruik stofmensies. Is daar ‘n groter wonder?

Die Here wil vir jou en my gebruik! Hy wil vir ons ook in sy gemeente op Adelaide gebruik. Dank God daarvoor.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Bekering as vereiste en geskenk van die Heilige Gees.

SKRIFLESING: Hand 9: 1 – 19 en 2 Tim 1: 3 – 7

Sommige mense is van oordeel dat bekering nie so ‘n belangrike saak is nie. Die hart van die Evangelie is mos immers dat ons uit genade gered word. Daarom word die bekering deur baie as slegs maar ‘n bysaak gesien, wat nou nie so belangrik is nie. Ek meen egter dat dit op sy heel beste ‘n misverstand is. Bekering is ‘n uiters belangrike saak.

Dink maar net ‘n oomblik aan die Nuwe Testament. Johannes die Doper, Jesus Christus en Petrus op Pinksterdag se intreepreke was bekeringspreke. Johannes die Doper preek: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Hy voel so sterk hieroor dat hy die oordeel oor die volk aankondig as hulle nie bekeer nie.)

Jesus preek dieselfde teks: “ Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die Evangelie.” (Anders as Johannes maak Jesus daarvan ‘n vreugdekreet. Jy kan byna nie anders as om jou te bekeer as jy besef wat nou gebeur nie.)

En op Pinksterdag sê Petrus: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus ….”

BEKERING IS GOD SE OPROEP TOT ‘N LEWE VAN DIENS EN DANKBAARHEID, WANNEER GOD BEKERING VRA – GEE HY OOK DIE BEGEERTE TOT BEKERING. 

Maar heel eerste moet ons onderskei tussen heidenbekering en verbondsbekering. Dit kan as volg beskryf word.

Heidenbekering – eerste bekering

Verbondsbekering – voortgaande bekering

Oorspronklik was die Jode die uitverkore volk van God gewees. Hulle was die mak olyfboom. Alle ander mense het tot die heidendom behoort. Maar in God se goedheid en barmhartigheid het hy sy uitverkiesing uitgebrei ook na die heidennasies. Hulle sou die wilde olyftakke wees, wat ingeënt word op die boom Israel. Goddank, God het ons ook uitverkies tot die lig, want ons was eers in die donkerte. Ons wat eers buite God se liefde was, het nou deur Sy uitverkiesende liefde in die kring van God se getree. Die heidenbekering of eerste bekering is soos ‘n lig wat aangeskakel word in ‘n donker vertrek.

Die wonder is, dat as God iemand uitverkies het, hy onweerstaanbaar werk. Hy stel geen keuses nie. Hy oorrompel so iemand met sy liefde. Paulus het byvoorbeeld geen kans gehad om te ontsnap nie. God het Paulus blind gemaak op die pad tussen Damaskus en Jerusalem, magteloos gemaak, om sy doel te bereik.

Verbondsbekering is die herhaalde terugkom van God se volk na hom toe. Dit is soos ‘n vader of moeder wat sy / haar kinders herhaaldelik vermaan. Omdat julle my kinders is en ek julle liefhet, moet julle so en so leef.

Belangrik is egter dat bekering nooit ‘n voorwaarde vir kindskap is nie, maar wel die natuurlike gevolg daarvan. (Daar bestaan nie so iets soos voorwaardelike Vaderliefde nie.)

In koningshuise en paleise word prinse en prinsesse geleer om hulle soos koningskinders te gedra. Ons is ook God se koningskinders, wat ons moet gedra soos hemelse prinse en prinsesse. Daarom roep God ons op tot daaglikse bekering. Bekering is nooit ‘n afgehandelde saak nie. Dit is altyd ‘n voortgaande proses. Ek mag nooit gearriveerd in my godsdiens wees nie.

John Newton (1725 – 1807), die skrywer van “Amazing Grace” het as slawehandelaar die grootste gedeelte van sy lewe gewerk. In 1748 het hy dramaties tot bekering gekom na ‘n storm op see, op die slaweskip die Greyhound. Hy het hom bekeer van dobbel en drank en vrouens en toe begin om as sober mens te lewe. Hy het gereeld die Bybel en godsdienstige literatuur te lees. Nadat hy ‘n beroerte aanval gehad het, het hy gaan leer vir ‘n priester en is toe ook as priester in die “Church of England” georden. Op nuwejaarsdag in die jaar 1773 het hy die bekende lied “Amazing Grace” bekend gestel aan die wêreld. Maar hy het hom nog nie bekeer van die praktyk van slawehandelaar nie. Eers in 1788, 34 jaar nadat hy die slawehandel as loopbaan verlaat het, het hy tot bekering gekom van slawerny.  Met ander woorde van sy eerste aanvanklike bekering tot sy bekering as slawehandelaar het 40 jaar verloop. Was sy eerste bekering dan nie eg gewees nie. Nee, sy eerste bekering was eg en uit die diepte van sy hart. Maar sy bekering van slawerny was voortgaande bekering. So moet ons daaglik onsself bekeer en sondige praktyke laat staan. Bekering is ‘n voortgaande daaglikse proses.

So ook het dit eeue geneem vir koloniale lande om tot bekering van kolonialisme te kom. Vir die Afrikaner gemeenskap het dit dekades geneem om tot bekering te kom van apartheid. Dit het vir die wêreld eeue en eeue geneem om tot bekering te kom, om vrouens as minderwaardig te ag en te mishandel. Ons is nog steeds nie daar nie.

Daarom moet ons, ons voortdurend ondersoek en seker maak wat in ons lewe is nie in lyn met God se wil vir ons lewe nie.

In die Deuterokanonieke boek Wysheid van Sirag in hoofstuk 18: 20 staan daar: “Ondersoek jouself vóór die oordeel, en jy sal vergifnis vind in ‘n tyd van toetsing.”

God wil van jou ‘n nuwe mens maak. Jy is uitverkies om ‘n diamant te wees. God wil ons slyp om te skitter op sy kroon. Verbondskinders is koningskinders, ons is kroondiamante. Omdat julle dit is, laat God julle slyp om beeld van God te wees. Verstaan u nou waarom bekering vir God so ‘n belangrike saak is.

  • Dit gaan oor Sy heerlikheid
  • Dit gaan oor Sy kroondiamante

Nou moet ons egter waarsku op ‘n gevaar. My bekering kan nooit die grond van my sekerheid word nie. Nee, nee …… JESUS CHRISTUS IS MY SEKERHEID EN NIE “MY BEKERING NIE.”

Wie sy sekerheid op “sy bekering” bou wil homself red. Dan het Jesus Christus mos verniet gesterf. “My bekering” is waardeloos voor God. Ek kan niks met “my bekering” voor God verdien nie. Jesus Christus is my sekerheid, nie “my bekering” nie, omdat Christus se sterwe vir my volledige verdienste is.

Bekering is wat God in my lewe laat gebeur.

God vra bekering, maar hy bewerk ook die bekering in my hart. Hy berei my hart voor om tot bekering te kom. Dit wat God vra, dit gee Hy ook. God kan deur ‘n preek vir my aanspreek om my lewe te verander of God kan ‘n krisis gebruik om my lewe te verander of Hy kan die getuienis van ‘n ander mens gebruik om my lewe te verander.

Nog ‘n laaste saak: NIE JOU DATUM NIE, MAAR JOU LEWE …..   

Sommige mense maak geweldig baie van ‘n mens se bekeringsdatum, dat hulle die eintlike saak waaroor dit gaan heeltemal vergeet, naamlik jou lewe. Heidene wat tot bekering kom het feitlik in alle gevalle ‘n bekeringsdatum, soos Paulus.

Maar verbondskinders hoef nie ‘n bekeringsdatum te hê nie. Hulle het net algaande besef dat God hulle Vader is en dat hulle sy kinders is, byvoorbeeld Timotheus, wat dit van sy ma en ouma geêrf het. Ek self het ook nie ‘n bekeringsdatum nie. Maar as ek moet een noem, wil ek saam met Bonhoeffer sê, dit was 2000 jaar gelede op Golgota gewees. Maar wat vir God tel, is jou lewe ……. want julle is God se koningskinders. Julle is God se kroondiamante. Julle lewe moet blink, want julle is kroondiamante, tot die eer en heerlikheid van God. Mag dit so wees.

Waar jy vroeër die dinge van die Here nie kon verdra nie, word dit nou die vreugde van jou hart. Waar jy vroeër weg van God geleef het, leef jy nou na Hom toe. Waar godsdiens vroeër plig was, word dit nou ‘n vreugde – ja, die spontane asemhaling van jou gees!

Bekering is soos lente in my geestelike lewe. Elke bekeerde daad is soos ‘n bloeisel wat nuut uitbot. Dit is ‘n getuienis van die Koninkryk van God wat naby gekom het.

Vra u vanoggend self af, waarvan wil die Here hê moet ek my bekeer? Wat is daar in my lewe wat verkeerd is? Mag die Here deur sy Gees u herhaaldelik tot nuwe bekerings lei. Mag u lewe bot. Mag u lewe al meer bloeisels dra, bekeerde dade.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Mirjam het te groot vir haar skoene geraak.

SKRIFLESING: Eksodus 15: 20 – 21 en Numeri 12: 1 – 15

Wat baie gelowiges nie weet is dat Moses, Aäron en Mirjam, die drie herders van Israel was. Hulle was ook broers en suster. Hulle het dieselfde ouers gehad. Hulle het as drie herders die volk Israel uit Egipte, uit slawerny gelei na die beloofde land. Vir veertig jaar het hulle as ’n span saamgewerk om die Israeliete te lei.

Moses as leier, was ‘n tipe van ‘n koning, Aäron was ‘n priester en Mirjam was ‘n profetes.   Duidelik kom die drie ampte van die Ou Testament hier na vore.

Ons lees die eerste keer vir Moses raak, toe sy moeder hom versteek in ‘n mandjie met pik besmeer en tussen die biesies van die Nylrivier versteek het, sodat die Egiptiese soldate hom nie kon doodmaak nie. Farao het mos beveel dat alle babaseuntjies met geboorte doodgemaak word, aangesien hy gesien het hoe die Israeliete vermeerder het. Hy was bang vir ‘n staatsgreep. Ons lees dan hoe sy suster Miriam haar boetie oppas. Toe een van die Egiptiese prinsesse hom vind en die seuntjie wil aanneem het Miriam gereël dat die seuntjie geborsvoed word totdat hy gespeen is. Dan sou sy hom na die paleis neem.

Ons lees die eerste keer van Aäron, toe die Here vir Moses roep by die brandende braambos om die volk Israel uit Egipte uit die plek van slawerny te red. Moses se verskoning was dat hy gehakkel het. Daarom het die Here vir hom sy broer  Aäron gegee om namens hom te onderhandel en te praat.

Van Mirjam lees ons weer in Eksodus 15: 20 – 21, waar sy die vroue begelei met ’n lofdans. Duidelik kom haar leierseienskappe na vore: “Toe het Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, ‘n tamboeryn in haar hand geneem, en al die vroue het agter haar aan uitgegaan met tamboeryne en in ‘n kring gedans. Mirjam het vir hulle die refrein gesing:   “Sing vir die Here,   want Hy is hoog verhewe.   Die perd en sy ruiter   het Hy in die see geslinger.”

Die driemanskap was geseënd en hulle het goed saamgewerk. Maar dan lees ons van ‘n tragiese gebeurtenis wat ontstaan het tussen hulle drie.

In Numeri 12 lees ons hoedat Mirjam en Aäron vir Moses aanspreek oor hy met ‘n Kussitiese vrou getrou het. Talle kommentare beweer dat die vrou waarskynlik ’n swart vrou was. Beslis was hier sprake van rassisme, oor Moses oor die etniese grense getrou het.

Maar die eintlike probleem vir God was dat Mirjam en Aäron die gesag van Moses wou ondermyn. Hulle sê in Rut 12: 2 die volgende:  “Is dit dan net deur Moses wat die Here gepraat het? Het Hy nie deur ons ook gepraat nie?” Die Here het dit gehoor.

Moses was ‘n uiters beskeie en sagmoedige mens. Mirjam en Aäron het te groot vir hulle skoene geword. Die Here het vir Moses in die posisie geplaas as leier van Israel. Dit wil hulle nou ondermyn. Skielik is daar ’n skeuring in die driemanskap.

Die Here hou nie daarvan dat Moses geboelie word nie. Die Here hou nie van die skeuring in die driemanskap nie.  Onmiddellik het Hy al drie na die tent van ontmoeting gestuur. Daar staan toe dat die Here in ’n wolk afgekom en by die ingang van die tent gaan staan het. Toe het die Here vir Mirjam en Moses nader geroep en gesê in Numeri 12: 6 – 8 as volg: “Luister nou na my woorde:   “As daar ‘n profeet onder julle is, sal Ek, die Here, Myself   in ‘n visioen aan hom bekend maak;  in ‘n droom sal Ek met hom praat. Met my dienskneg Moses is dit anders. In my hele huishouding is hy betroubaar. Van aangesig tot aangesig praat Ek met hom, in ‘n verskyning, nie in raaisels nie; die verskyningsvorm van die Here sien hy. Waarom was julle dan nie bang   om teen my dienskneg, Moses, uit te vaar nie?”

Toe het die toorn van die Here ontvlam en toe die wolk van die tent optrek was Mirjam melaats gewees. Dit was in daardie tyd ‘n ongeneeslike gesig. Waarskynlik het die Here net vir Mirjam so erg gestraf omdat sy die aanhitser was en Aäron haar gevolg het. (Mirjam se naam word telkens in die gebeure eerste genoem.)

Omdat Moses sagmoedig was het hy ernstig tot die Here gebid en om vergifnis gevra vir Mirjam en Aäron. Hy het gevra dat die Here tog vir Mirjam sal gesond maak.

Die Here se hart het toe versag, na Moses se gebede. Die Here het die vonnis versag na slegs 7 dae van melaatsheid en uitsluiting uit die kamp.

Hulle het toe vir Mirjam 7 dae uitgesluit uit die kamp en die volk het nie verder getrek nie. Hulle het gewag tot Mirjam gesond is voordat hulle verder getrek het. 

Wat kan ons uit die verhaal van Mirjam leer?

Dat Here vroue gebruik as leiers en ook as geestelike leiers. Mirjam was ‘n profetes. Sy het eintlik die werk van ‘n predikant gedoen. Daarom het die kerk die afgelope 2000 jaar baie skade gely deur nie vir vrouens in geestelike leierskapsposisies te plaas nie. Ons is dankbaar dinge het verander en dat vrouens ook die kerk kan verryk.

Die Here hou nie van mense wat skeuring veroorsaak nie. Mirjam en Aäron het Moses probeer weg werk. Toe werk die Here vir Miriam weg vir 7 dae buite die kamp met melaatsheid. Daarom moet ons strewe na eenheid.

Mirjam se probleem was haar jaloesie op Moses. Sy wou soos Moses wees. Net so wou Eva in die begin ook soos God wees. Die meeste rusies word veroorsaak deur jaloesie.

Mag die Here ons help om nooit te groot vir ons skoene te raak nie. Mag ons, ons eie roeping raaksien en dit uitleef! Wees net jouself, moenie soos Mirjam probeer om soos Moses te wees nie.

Wees jouself. Dit is goed genoeg!   

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die vleesvrou en die geesvrou.

SKRIFLESING: Luk 10: 38 – 42 en Joh 12: 1 – 8

In die ou tyd is daar van geestelik en beestelik gepraat. In die Kerkjeugaksie moes die program van die jaar ‘n sekere aantal geestelike aande hê en ‘n aantal beestelike aande. Met geestelike aande is bedoel, bybelstudie of ‘n geestelike onderwerp. Met beestelike aande is bedoel plesier, ‘n ete of speletjies. Gewoonlik moet die program meer beestelik as geestelike aande hê om die jongmense te trek.

In ons gelese gedeelte lees ons van twee susters Marta en Maria. Marta word gewoonlik eerste in die Evangelies en daarom was sy waarskynlik die oudste. Marta het haar eie huis in Betanië besit, wat ’n ongewone verskynsel was in die Bybelse tydperk. Die twee susters het ook ‘n broer gehad met die naam Lasarus, vir wie die Here uit die dood opgewek het. Hierdie gesin was baie naby aan die Here Jesus. ‘n Mens kan amper sê hulle was huisvriende.

In ons gelese gedeelte van Lukas lees ons hoedat Jesus besoek gebring het aan Marta en Maria. Marta was die vleeslike vrou. Sy het haar  bekommer oor baie dinge wat gedoen moes word in die huis en ook oor die bediening van die kos. Maria was die geestelike vrou en sy het aan die voete van die Here Jesus gesit en geleer van al die wysheid en onderrig van die Here Jesus. Die feit dat sy aan die voete van die Here gesit het, was ook baie ongewoon. Vrouens is nie toegelaat om aan die voete van ‘n rabbi te sit om onderrig te word nie. Slegs mans het daardie voorreg gehad. So het Jesus teen die Joodse gebruike in vir vroue gelyk geag as mans.

Dan lees ons van die ongeduld van Marta teenoor Maria. Sy kla as’t ware vir Maria aan by Jesus, sou Maria lui wees. Hoor wat sê Martha: “Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!” Marta is die besige by, wat net werk en besig bly en dan ook nog simpatie by die Here soek. Marta, as vleeslike persoon is net met die alledaagse dinge besig. Die tyd dat die Here Jesus gekruisig moet word kom nader. Sy koester nie die laaste geleenthede met die Here nie.

Maria aan die anderkant sit aan die voete van die Here Jesus en is leergierig. Sy is die geestelike vrou. Vir haar kan die alledaagse wag. Sy is soos ‘n spons wat alles insuig wat die Here vir haar leer. Calvyn het nie verniet gesê dat ‘n mens ‘n “teachable mind” moet hê nie. ‘n Mens moet altyd bereid wees om te leer.

Dan antwoord die Here Jesus vir haar in Luk 10: 41 – 42:  “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.”

Die Here sê nie dat Marta verkeerd optree of dat sy nie met vleeslike dinge besig moet wees nie. Inteendeel Marta ondersteun sy bediening en is gasvry. Hy beklemtoon net dat Maria haar besig hou, met die noodsaaklikste, naamlik om geestelik te leer en te groei.

In Johannes 12: 1 – 8, lees ons opnuut van Marta wat as vleesvrou die ete bedien het. Maria het hier weereens as geesvrou, geestelik opgetree deur ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie op Jesus se voete uit te giet en sy voete met haar hare af te droog.  Jesus laat haar toe en sien dit in die lig dat sy hom salf met die oog op sy begrafnis wat binnekort plaasvind. Die mense sê moes: “Moenie vir my blomme gee vir my begrafnis nie. Gee dit vir my terwyl ek nog leef en dit kan waardeer. Maria, het vir Jesus vereer, terwyl hy nog by hulle is.

Ek is bevrees dat ons lewe ook so opgeslurp word deur die alledaagse vleeslike doenighede. Ons hardloop rond soos ‘n springhaas om by alles uit te kom. Ons is in die aand stokflou, sonder om by die geestelike uit te kom.

Bybelstudie en gebed moet soos die hamer en beitel wees waarmee ek al dieper in beitel in die kosbaarhede van God se Woord. Dit is baie belangrik dat ek tyd maak om met die Here te gesels. Ek moet mediteer  oor die Woord. In Dan 6: 11 lees ons hoedat Daniël drie maal per dag tot die Here gebid het. Ons lees dit was sy gewoonte gewees om na sy binnekamer te gaan om tot die Here te bid. Ja, selfs toe hy vervolg is het hy voortgegaan met hierdie goeie gewoonte van hom.

In Mark 1:35 lees ons weer hoedat die Here tyd gemaak het om met sy Vader te praat. Ons lees hoedat Hy die môre vroeg toe dit nog nag was opgestaan het, buitentoe gegaan het na ‘n eensame plek en daar gebid het. Hoeveel te meer het ons dit nie nodig wat maar gewone mense is nie.  Baie keer is ons verskoning dat ons te besig is (net soos Marta) . Maar kyk hoe besig was die Here Jesus. Ons lees in Mark 1: 32 -34 hoe hy duiwels uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en gepreek het. Die mense het sommer so saamgedrom daar waar hy gepreek en opgetree het. Maar te midde van sy besige program het hy tyd gemaak vir sy stiltetyd soos ons reeds in Mark 1: 35 gesien het. Martin Luther, die groot kerkhervormer het gesê: “Hoe besiger my dag, hoe meer moet ek bid.” Soos ek elke dag tyd maak om aan te trek en kos te maak en te werk, so moet ek tyd maak vir my stiltetyd. My stiltetyd moet vir my belangriker wees as my etes van elke dag.

Ek moet elke dag my vleeslik besig hou met die alledaagse, maar die belangrikste is om ook elke dag geestelik besig te wees. Dan sal ek die rus en die vrede van die Here Jesus elke dag geniet. Wees “teachable” Laat jou onderrig. Ons moet lewenslank aan die voete van die Here Jesus sit. As jy nie “teachable” is nie, kan jy nie geestelik groei nie. As jy nie tyd maak vir geestelike groei nie, is jy soos ‘n boom met ‘n swak ontwikkelde wortelsisteem. As die storm kom, dan waai die boom om.

Dien die Here prakties soos Marta gedoen het, maar ontwikkel ook geestelik soos wat Maria gedoen het.  

Dan sal jy geseënd genoem word.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die regte vrou op die regte tyd, om ’n Auschwitz te keer.

SKRIFLESING: Ester 1 – 10

Om die regte tyd op die regte plek te wees, is die boodskap van die boek Ester.

Dit is amper soos om ‘n volmaakte foto op die regte oomblik te neem. Die foto het volmaakte skoonheid wat, tyd, posisie en omstandighede speel alles saam.

Die boek Ester, speel af in die tyd van Koning Ahasveros. Hy het regeer oor 127 provinsies, wat gestrek het van Indië tot by Kus. Dan lees ons hoedat die koning in die stad Susan vir almal ‘n week lank in die paleistuin onthaal het. Op die sewende dag het hy sy vrou, koningin Vasti ontbied om soos ‘n stoetkoei voor almal te paradeer. Vasti het nie kans gesien om haarself so te verneder voor ‘n klomp dronk mans nie en sy het botweg geweier. Die koning se amptenare was bekommerd gewees, dat Vasti ‘n slegte voorbeeld stel aan die vroue in die land en dat al die vrouens in die land nie meer na hulle mans sal luister nie. Dit sal die mans woedend maak. Die koning was toe verplig gewees om ontslae te raak van koningin Vasti.

Later toe die koning se woede bedaar het, het hy nog steeds aan Vasti gedink. Die amptenare reël toe dat dat ‘n nuwe koningin gesoek moet word vir die koning. Na ‘n lang siftingsproses het die koning toe op Ester, ‘n Joodse meisie besluit as nuwe koningin. Ester se oom het egter vir haar gesê dat sy haar Joodse afkoms geheim moet hou.  

In dieselfde tyd het Ester se oom Mordegai by die poort van die koning se paleis gesit. Hy het toe gehoor hoe twee paleisbeamptes Bigtan en Teres saamspan om koning Ahasveros te vermoor. Mordegai het dit toe oorgedra aan koningin Ester en sy het dit weer vir haar man Koning Ahasveros vertel. Daar is ondersoek gedoen en die waarheid het uitgekom en die twee is aan die galg opgehang.

‘n Tyd daarna het die koning vir Haman, bevorder as hoof oor al die amptenare. Al die amptenare en dienaars moes voor Haman kniel. Mordegai die Jood het egter geweier om te kniel. Hy het ook openlik verklaar dat hy ‘n Jood is.

Haman het toe gaan kla by die koning oor ’n sekere volk wat hulle apart hou van die ander nasies. Hy het voorgestel dat hulle doodgemaak word. Haman sou selfs die koning betaal om die volk uit te wis. Die koning het gebied dat hy kon doen wat hy wil, maar die silwer kan hy maar hou. Haman het toe briewe laat uitstuur dat alle Jode in al die provinsies op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar uitgewis word en dat beslag gelê moet word op al hulle eiendom.

Toe Mordegai dit hoor het hy sy klere geskeur en as op sy kop gestrooi en klaend in die stad rondgeloop. Mordegai het toe ‘n versoek gerig aan Ester om die Joodse volk van uitwissing te red. Mordegai se boodskap aan Ester was in Ester 4: 13 – 14 as volg: “ het Mordegai haar laat weet: “Moenie dink dat net jy, van al die Jode, sal ontkom omdat jy in die koninklike paleis woon nie.  Want as jy wel in hierdie tyd sou swyg, sal daar uitkoms en redding vir die Jode van ‘n ander plek af kom; maar jy en jou familie sal omkom. En wie weet of jy nie juis vir ‘n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie?”

Ester het toe vir Mordegai gevra dat al die Jode vir drie dae en nagte niks eet of drink nie. Sy en haar kamerpersoneel sou dieselfde doen.

Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die paleis gestaan. Die koning het haar skoonheid bewonder en sy goue septer na haar uitgesteek en sy het dit aangeraak. Die koning vra toe, dat sy enigiets kan vra en hy sal dit vir haar gee. Sy vra toe dat die koning sal kom na die ete wat sy vir Haman gaan voorberei. Sy sal met die ete haar wens vir die koning gee.

Intussen het Haman ‘n galg van 23 meter gebou om vir Mordegai daaraan op te hang. Sy woede vir Mordegai wat nie voor hom kniel nie het oorgeloop.   

Intussen het die koning een slegte nagrus gehad oor hy nie vir Mordegai behoorlik bedank het, dat hy sy lewe gered het van die sluipmoord wat op hom beplan was nie.

Die oggend vroeg kom Haman na die voorhof van die koning om aan te beveel dat Haman gehang moet word. Die koning vra egter eers aan Haman wat gedoen moet word aan iemand aan wie die koning groot eer wil bewys. Haman dink dat die koning aan hom wil hulde bewys. Hy stel toe voor dat die persoon op ‘n perd moet ry, waarop die koning ook gery het en ‘n pers kleed moet dra, wat die koning ook gedra het en dat die persoon na die stadsplein begelei moet word en daar moet uitgeroep word, so word gemaak met die mens aan wie die koning hulde bewys.  

Toe hoor Haman die skok van sy lewe. Die koning sê hy moet dit aan Mordegai doen. Baie skaam en bevrees het Haman na sy huis toe gegaan. Daarna is hy ontbied na die onthaal wat Ester gereël het.

By die onthaal saam met die koning en Haman, het die koning weer vir Ester gevra wat is haar wens. Sy merk toe op dat iemand vir haar en haar volk wil uitwis. Die koning is dadelik ontsteld en vra wie dit is. Sy sê toe dit is hierdie lae mens Haman. Die koning is so ontsteld, dat hy uitstap na die buite tuin. Intussen gaan sit Haman by Ester op die rusbank en smeek by Ester vir sy lewe, want hy het klaar gesien dat die koning hom gaan doodmaak. Toe die koning inkom en hy sien vir Haman op die rusbank, vra hy of Haman nou vir die koningin ook wil aanrand.

Dadelik is Haman geblinddoek en is gehang aan dieselfde galg wat hy vir Mordegai gebou het.

Toe die koning se woede bedaar het, het hy al die eiendom van Haman aan Ester gegee. Ester het ook haar verwantskap aan Haman bekend gemaak aan die koning. Maar die koning kon egter nie sy vorige proklamasie ongeldig verklaar nie. Dit was bindend. Hy het egter ‘n nuwe proklamasie uitgevaardig, dat die Jode hulle mag verweer en verdedig teen enige aanvalle teen hulle. So is ‘n “Auschwitz” van Jode gekeer.

In hoofstuk 9 word beskryf hoe die Jode hulle vyande by die duisende doodgemaak het. Die Jode het hulle vyand heeltemal verslaan. Mordegai het toe tweede in bevel onder koning Ahasveros geword en hy het deurgaans die belange van die Jode bevorder. Elke jaar op die 14 de en 15 de dag van Adar word die Purimfees gevier. Volgende jaar sal dit op die 16 de en 17 de Maart 2022 gevier word.

Wat leer ons uit die verhaal van Ester? Dat niks toevallig gebeur nie. Somtyds as jou omstandighede in ‘n doodloopstraat is, kan God uitkoms gee. Soms plaas God jou in ‘n situasie, wat jy nie verstaan nie. Maar dan is jy juis op die presiese oomblik, op die presiese plek waar God jou wil gebruik. Niks is toevallig nie.

Juis in ‘n verwarde tyd soos hierdie, wil God ons gebruik as Christene om ‘n verskil in ons omgewing en in ons land te bring.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)    

Van doringkroon na Koningskroon.

SKRIFLESING: Psalm 47

Konings en politieke regeerders het die geneigdheid om deur die geskiedenis hulle magte te misbruik. Die meeste regeer nie regverdig en tot voordeel van hulle mense nie. Een filosoof het gesê: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut” Min mense in magsposisies, kan hulle magte reg gebruik.

Aanvanklik is Israel deur rigters regeer, wat namens God geregeer het. Toe hulle egter sien dat die omliggende volke almal konings het, wou hulle ook ‘n koning hê. Die eerste koning was Saul, daarna Dawid en toe Salomo en daarna ‘n hele rits konings. Sommige was goeie konings, maar die meeste was swak konings wat nie die Here gedien het nie.

In Esegiël 34 word gepraat van swak herders, wat die volk Israel uitbuit. Met die herders word onder andere bedoel die konings van Israel wat toe regeer het.

Huidiglik in Suid Afrika, het ons ook swak herders, wat nie omgee vir hulle mede Suid-Afrikaners nie. Korrupsie, staatskaping, swak dienslewering, die ineenstorting van infrastruktuur en die bankrotskap van staatsidentiteite is als die gevolg van staatsleiers wat soos “swak konings” net na hulle eie belang kyk. In die vorige regering voor 1994, het die staatsleiers ook net na sekere mense se belange gekyk en die meerderheid van die land se bevolking in ellende gelaat.

Die politieke stelsels is gebou op ongeregtighede. Piketty skryf so treffend:  “Die punt is dat Suid-Afrika en die lande (koninkryke) van ons wêreld nie die koninkryk van God is waar geregtigheid leef nie. Hier is ongeregtigheid aan die orde van die dag. Ons ekonomie is op uitsluiting en uitbuiting gebou. Werkloosheid vier hoogty. Kapitaal genereer beter inkomste as arbeid. Dit beteken rykes word ryker, terwyl armes armer word.”

Waar sal ons tog ‘n goeie koning vind? In ons gelese Psalm 47: 3 staan daar: “Want die Here, die Allerhoogste,   is ontsagwekkend,   ‘n groot koning oor die hele aarde.” Daar word proklameer dat die Here die Koning van Israel, maar ook van alle nasies is.

 Dit sluit aan by Allen Ross se verstaan van Psalm 47 as ’n jaarlikse liturgiese feesviering (deur die Jode) van die Here se universele koningskap. Die liturgie hervertel, herspeel en herleef en vier die Koningskap van die Here. Daarom die handeklap en toejuiging tot eer van God en geblaas van ramshorings (v 2,6). Met die hemelvaart van die Here Jesus, het Sy Koningskap finaal en sigbaar geword.

Wanneer die Here se Koningskap onderstreep word, beteken dit dat die Here ‘n nuwe politieke orde wil skep. Wat ‘n wonderlike nuwe politieke orde wil hy nie skep nie! Dit word onderstreep in  Jes 65:18, 21-25: “Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ’n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê … Dan sal mense huise bou en self daarin woon, hulle sal wingerde plant en self die druiwe eet. Hulle sal nie huise bou waarin ander sal woon nie, hulle sal nie wingerde plant waarvan ander die druiwe sal eet nie. My volk sal so oud word soos ’n boom. Dié wat Ek uitverkies het, sal self die vrug van hulle handewerk geniet. Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie, hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie, want hulle sal ’n volk wees wat deur die Here geseën word, hulle en hulle afstammelinge. Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor. Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here.”

So ‘n politieke orde wil die Here skep. Daarom het Hy opgevaar na die hemel om aan die regterhand van die Vader te sit, sodat Hy ‘n nuwe politieke bedeling kan bewerk met Sy wederkoms. Dan sal die woorde van Jes 65:18, 21-25 in vervulling gaan. Hy het opgevaar om die “nuwe hemel en aarde”, ’n werklikheid te maak.

Maar die Here Jesus is ‘n Koning, wat met ‘n ander tipe leierskapstyl regeer. As Koning en waarlik God, het Hy as ‘n baba dié wêreld binnegekom. As mens het Hy tussen mense geleef. Hy was bereid gewees om ‘n slaaf te word. Hy het selfs die voete van Sy dissipels gewas. Op Sy kop is ‘n doringkroon gesit en Hy het soos die laagste misdadiger aan ‘n kruis gesterf. So ‘n nederigheid het niemand nog gesien nie. Hy het ter helle neergedaal, asof Hy in die hel was. Hy het die sonde van die wêreld op Hom geneem.

Met Sy hemelvaart het dié Vader die doringkroon van Sy Seun se kop gehaal en vir Hom ‘n Koningskroon opgesit en Hom laat sit aan Sy regterhand. Van lyding na heerlikheid! Van doringkroon na Koningskroon!

In die hemel se politieke bedeling, sal ons ook vanuit ons lyding verhoog word na hemelse heerlikheid, sonder enige traan in ons oog.

Die Here as Koning se verkiesingsbeloftes is egter nie leeg, soos die van politieke partye nie. Hy is die waarmaker van Sy beloftes. Hy is nie ‘n politikus nie, maar ‘n Staatsman, wat na alle nasies se belange omsien en die leiers uit elke volk sal verenig (vers 10).

Maar Jesus se Koningskap het alreeds met Sy hemelvaart begin. Hy wil nou alreeds die Koning van jou lewe wees. Hy wil nou al jou lewe regeer, sodat jy Sy seën en voorspoed sal beleef. So baie mense ontken die Koningskap van die Here Jesus in hulle lewe en lewe wild, vloekend, sedeloos, dronk en sonder enige rigting in hulle lewe.

Daarom moet ek met hierdie Hemelvaartdag, opnuut die Koningskap van die Here Jesus oor my lewe aanvaar. Ek moet Jesus se koningskap in my lewe teken en inkleur. Ek moet my onderwerp aan Sy Koningskap. Onder Sy Koningskap sal ek eers werklik vrede, voorspoed en vreugde beleef.

Van doringkroon tot Koningskroon! Onder die Here se Koningskap sal ek floreer. Deur Sy Koningskap wil die Here ‘n seën vir die nasies wees, sodat ek ‘n seën vir ander mense kan wees.                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)