Om soos sout te wees

SKRIFLESING:  Mat 5: 13 – 16

Eendag was daar ’n koning wat baie lief was vir sy kos. Hy het ’n kok gehad wat vir hom die smaaklikste kos voorberei het.

Uit waardering vir die lekker kos, het die koning baie besondere voordele aan die kok toegestaan. Die kok het dan altyd die koning bedank vir die voordele, deur te sê dat die koning vir hom soos “sout” is. Die koning was altyd gebelg as die kok hom vergelyk met sout. Hoekom sê die kok nie eerder vir hom hy is soos goud of fluweel nie?

Op ’n dag maak die kok weer vir die koning kos, maar hy gooi geen sout op die kos nie. Toe die koning die kos eet, proe hy daar is iets ernstigs met die kos verkeerd. Hy stuur die kos terug en verneem by die kok wat verkeerd is. Die kok sê toe die kos smaak laf, omdat daar geen sout in is nie.  Toe verstaan die koning dat die kok eintlik vir hom ’n kompliment gee as hy sê die koning is soos sout, want sout is onontbeerlik.

Ons eet almal sout, want sout is noodsaaklik in die voorbereiding van kos.

Wanneer die Here sê dat Sy kinders soos sout moet wees, bedoel Hy daarmee dat Sy kinders ’n onontbeerlike deel het aan die voortgaan van Sy koninkryk. Net soos wat sout ’n alledaagse, onontbeerlike huishoudelike item is, net so ag God Sy kinders as belangrik in Sy Koninkryk.

In die tyd van Jesus was sout sommer baie belangrik. Romeinse soldate het dikwels nie geld ontvang vir hulle diens in die leër nie, maar is met sout betaal. Hulle het dan die sout verruil vir hulle lewensbehoeftes op die markplein. Om die waarheid te sê, ons woordjie “salaris” is afgelei van die Latynse woord salarium wat op sy beurt verband hou met die Latynse woord sal of “sout”. Jy moet respek vir sout hê, want dit is noodsaaklik.

Sout was veral belangrik vir hulle bewarende, genesende en smaakvolle eienskappe.

Sout was in die eerste plek belangrik vir hulle bewarende eienskappe. In die tyd van die Bybel was daar nie vrieskaste nie. Kos is met sout ingelê om dit te bewaar. Vandag nog word biltong en snoek ingelê met sout om dit te bewaar. Sonder sout sal die kos gou bederf. Selfs diere se velle word met sout ingevryf en opgerol om later verwerk te word.

Net so moet die kinders van God keer dat die aarde en ons samelewingstrukture begin stink en sleg word, bederf en vernietig word. Daar is baie dinge wat mense se lewens bederf, soos byvoorbeeld haat, bitterheid, pessimisme, onvergewensgesindheid, skinder, slegte musiek en films, genotsug ensovoorts. Ons moet egter as kinders van die Here soos sout keer dat die negatiewe dinge ons lewe sleg maak. Nee, ons moet eerder ons lewe vul met positiewe dinge. Dan is ons soos sout vir die Here.

Sout was ook ’n belangrike geneesmiddel in die tyd van die Bybel. Daar was toe nog nie middels soos Dettol op die mark nie. Nee, sout is op die wonde gegooi. Dit het gebrand, maar dit het al die kieme doodgemaak en die wonde genees. Vandag nog spoel mense hulle monde met soutwater uit om hulle monde te ontsmet en te genees. Ons moet as gelowige kinders van die Here ook soos sout genesend op mense inwerk. Daar is soveel stukkende mense, hartseer mense, arm mense, bedroefde mense, bekommerde mense en so baie mense wat net vra vir ’n bietjie begrip en liefde. Soos sout moet ons hulle wonde genees. Ons moet vredemakers wees, ons kan ’n besoek aflê, simpatie betoon of doodeenvoudig net vir hulle bid.

Sout is ook ’n smaakvolle item. Dit gee smaak aan kos. Dit maak kos aangeneem om te eet. Net so moet ons aan die lewe smaak gee, sodat die wêreld begeer om ook deel te hê aan hierdie heerlike smaak om ’n Christen te wees. Daar is niks so mooi soos ’n Christen-mens wat smaakvol lewe vir die Here nie.

Die Here Jesus praat ook van sout wat hulle smaak verloor. Die sout het laf geword. In die Ou Testament is sout baie gebruik by graanoffers om die wet te onderhou. In die Nuwe Testament het die Here die offerdiens kom vervul deur self die volmaakte offer te word. Daarom is die sout wat by graanoffers gebruik word nou smaakloos. Dit het geen waarde en smaak nie, want die Here Jesus het die volmaakte offer geword. Die Ou Testamentiese wette rondom sout het nou laf geword.

’n Mens gooi nie sout by alle kossoorte nie, want dit kan die kos bederf. Daarom, byvoorbeeld,  gebruik ons die Woord ook nie in alle omstandighede nie. Jy moet die Woord oordeelkundig gebruik, soos die geleentheid dit voordoen.

Wanneer ek ’n soutpot vol sout maak, beteken dit nie dat dit lewenslank sal vol bly nie. Hoe meer sout ek uitstrooi, hoe meer dikwels moet ek dit volmaak. Selfs Jesus het agtergekom dat daar krag van Hom af uitgegaan het toe die vrou met die bloedvloeiing Hom aangeraak en genees is (Mar 5:30). Daarom het Jesus gereeld na ’n stil plek gegaan en met Sy Vader in gebed verkeer.

Sout het dus bewarende, genesende en smaakvolle eienskappe. So moet ons ook bewarend, genesend en smaakvol as Christene lewe.

“Sout offer sigself op. Sout werk net as dit uit die soutpot gegooi word. Sout bestaan nie ter wille van sout self nie, maar ter wille van die wêreld. Sout gee sy eie geborgde bestaan in die soutpot prys om die wêreld te dien.” (Chris van Wyk) So moet ons ook die wêreld dien.

Belangrik is egter ook dat sout stil en onsigbaar werk. Vergelyk ’n teelepel sout en Eno onderskeidelik in twee verskillende glase water. Die Eno borrel en raas, maar spoedig is alles oor en dit het niks van die eienskappe van sout nie. Die sout werk stil en feitlik onsigbaar.

Op die oog af lyk alle mense dieselfde, net soos die Eno en die sout. Tog lê die verskil tussen mense in die dinge wat hulle doen. Baie mense borrel en raas, maar hulle doen niks nie. Die spreekwoord lui mos: “Die leë blikke maak die meeste lawaai.” Nee, ons moet eerder soos sout stil, maar seker, werk.

Wanneer werk sout die beste? Binne die soutpot of daarbuite? Natuurlik daarbuite, wanneer dit oor die kos gestrooi word! Die Here wil ons ook daarbuite in die wêreld gebruik.

Wanneer sout gemyn word, word dit in die fabriek skoongemaak en gesuiwer. Net so word ons in die erediens gesuiwer en voorberei om buite die erediens sout vir die aarde te wees. Ek kan nie maar net hier in die kerk ’n Christen wees nie. Nee, ek moet uitgaan en oral sout vir die aarde wees.

’n Soutkorrel los van die ander soutkorrels beteken nie veel nie. Net so verkry die gelowige alleen krag as hy/sy saam met ander gelowiges die gemeenskap van gelowiges vorm.

Jesus sê ons is die sout van die aarde! Dit beteken ons moet bewarend, genesend en smaakvol lewe. Stilweg kan ons die wêreld verander vir die Here, deur soos sout te wees. Mag God ons en ons kinders soos sout gebruik.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)


Om in spieëls te kyk

SKRIFLESING:  Mat 17: 1 – 9

In Durban se speelpark aan die seefront was daar in die 1970’s ’n “Chamber of horrors.”

Die plek het bestaan uit verskillende spieëls wat verskillende wanpersepsies en wanbeelde van jou geweerkaats het. Sommige spieëls het jou baie vet laat lyk, ander brandmaer, ander het jou kort of lank gemaak of jou gesig verwronge laat lyk. Die spieëls het jou angstig gemaak oor hoe jy kon gelyk het. Natuurlik was dit ook baie lagwekkend.

Die volgende moderne gelykenis het ek iewers raakgelees. Dit gaan oor die duiwel wat ook so ’n spieël gehad het. Hy het mense in die spieël laat kyk. Alles wat goed was, is verklein tot mikroskopiese atome en die goed wat sleg was, is opgeblaas tot reusagtige grootte.

Met groot vermaak het die duiwel die mense deur die spieël laat kyk. In sy opgewondenheid om die spieël te gebruik, val die spieël toe op die grond en breek in ontelbare spieëlsplinters. ’n Groot storm het opgekom en die splinters en stof het in al die mense op die aarde se oë gewaai.

Van dié dag af sien mense altyd die slegte goed in hulle medemens in oortreffende vorm en hulle sien die goeie skaars in mekaar raak. Selfs hulle omstandighede sien hulle verwronge. Die goeie word verklein en die slegte word opgeblaas tot uitermatige proporsies.

God was baie ongelukkig met die verloop van dinge. Hy het toe ’n ander spieël gegee in die vorm van ’n Persoon, naamlik die Here Jesus Christus, wat die ewebeeld van die Vader is. Jesus het gekom en mense geleer om weer die goeie in ander mense raak te sien en die slegte in ander se lewens mis te kyk.

Die owerspelige vrou se sondes het hy so verklein dat almal weggestap het en dat niemand haar met ’n enkele klip gegooi het nie. Hy het in die huise van die grootste sondaars soos Saggéüs ingegaan en prostitute toegelaat om Sy voete te balsem met kosbare reukolie.

Natuurlik het die duiwel en die Fariseërs nie van hierdie nuwe spieël gehou nie. So het hulle hierdie spieël, Jesus Christus, stukkend gegooi teen die kruis op Golgota. Op Pinkster Sondag het ’n groot wind opgekom en die spieëlsplinters en stof in baie mense se oë gewaai. Tot vandag toe nog waai die Pinkster Gees stofdeeltjies van Jesus se spieël in mense se oë. Die wonder is dat elkeen in wie se oë die spieëlstof vassit, anders en nuut na die wêreld kyk, na hulle omstandighede en ander mense. Hulle sien skielik in hulle omstandighede  meer goed om voor dankbaar te wees as goed om oor te kla. Hulle sien die foute in ander mense se lewens skaars raak en sien baie gou die goeie in ander mense raak. Watter spieëlsplinters sit in jou oë? Hoe kyk jy na ander mense en na jou omstandighede?

Op die Berg van Verheerliking het die dissipels vir Jesus ook anders begin sien.

Hulle oë was verblind deur Sy heerlikheid en glans. Die dissipels Petrus, Johannes en Jakobus was so oorweldig deur die heerlikheid van Jesus, saam met Moses en Elia, dat hulle drie tente wou bou, een vir elkeen. Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete.  Die verskyning van Jesus op die Berg van Verheerliking is ’n voorafskaduwee van die verheerliking wat op Jesus wag, na Sy lyding wat nou sou begin. As’t ware gee die Vader vir Sy Seun Jesus Christus hier moed vir die moeilike pad wat nou voorlê.

Jesus kyk as’t ware met ’n spieël die toekoms in. Daarom word die skrifgedeelte graag gelees op die Sondag van die Verheerliking of Transfigurasie Sondag, wat die laaste Sondag in Epifanie-tyd is. Jesus het as’t ware die spieël van God se goedheid geword.

Natuurlik moet ons onderskei tussen Moses se spieël en Jesus se spieël. Moses word beskou as ’n prototipe van Jesus wat gekom het. Moses het op die Berg Sinai die Tien Gebooie as wet ontvang, die Ou Testamentiese spieël van hoe God se kinders behoort te leef. So het Jesus vir ons ’n ander spieël gegee, die opsomming van die wet, die bergpredikasie en natuurlik die bekende Mat 23:23. Natuurlik straal Jesus se spieël genade uit. Moses het die volk uit Egipte, uit die plek van slawerny, gelei. Jesus het ons gelei uit die slawerny van sonde. Die Rooisee het oopgegaan  voor Moses, net so het Jesus die doop tot verlossing van sonde verkondig. Moses het die volk 40 jaar deur die woestyn gelei en Jesus is 40 dae lank in die woestyn versoek en verlei. Soos Moses se lewe deur die Farao bedreig is, is Jesus se lewe deur Herodus bedreig. Die helderverligte wolk in ons gelese gedeelte herinner ons ook aan die wolkkolom en vuurkolom wat Moses en die volk in die woestyn oorskadu het. Moses is die bevryder van die Ou Testament en Jesus is die Bevryder van die Nuwe Testament en van alle tye.

Net na die Berg van Verheerliking-episode sou Jesus se pad van lyding begin. Tussen verwondering en verwondheid lê slegs ’n paar treë. Dikwels seën die Here ons met bergtopervaringe saam met Hom, om ons krag te gee as ons deur woestyne moet gaan. Elkeen van ons lewe dikwels met die herinnering van besondere bergtopervaringe met die Here. Dit gee ons krag wanneer ons langs die pad wil swak word. Epifanie duur 40 dae en die Lydenstyd duur ook 40 dae. Tye wat ons herinner dat God altyd by ons is.

Jou spirituele lewe kan ook so ’n spieël wees. Somtyds kan dit vol rimpels wees en ander tye kan dit spieëlglad wees, sodat jy as’t ware beelde in die water kan sien reflekteer. Die genade is dat ons God kan sien in die rimpeltye, asook in die spieëlgladde tye van ons lewe. Jesus het tye van lyding en verheerliking geken. Hy was in die woestyn en op die bergtop van die Berg van Verheerliking. Hy het palmtakke én spykers ontvang. Te alle tye was Hy in harmonie met Sy Vader wat in die hemel is.

As ons harte en gedagtes vol rimpels is, is dit soos ’n gekraakte spieël wat alles in die lewe verwronge sien. Ons kan selfs nie eers meer God se werke sien nie, wat nog te sê om vir God te sien. Juis daarom moet ons hart tot rus kom, deur bergtopherinneringe uit die verlede te onthou. Dit gee vir ons die rustigheid om te weet God is nog steeds by my as dit swaar gaan. God is so naby aan my, dat ek as’t ware Sy hand op my skouer kan voel.

Juis daarom is die Nagmaal ook elke keer ’n bergtopervaring, wanneer ons die brood en die wyn vashou in ons hande. Ons kan as’t ware nie meer van God vashou nie, want ons hande is dan alreeds vol. Patrick Wilson skryf so mooi: “… God is so great, so majestic, so glorious, that God  come to us in a crumb of bread and a sip of wine, just as much of God as a hand can hold.” 

In die bergtopervaring is daar ook sprake van gemeenskap van gelowiges wat mekaar voorberei op die lyding.

So staan ons nooit alleen in lyding nie. Die Here het vir die kerk die gemeenskap van gelowiges gegee om mekaar by te staan in tye wat dit swaar gaan. Daarom is dit juis ook een van die unieke eienskappe van die Christelike kerke, dat Christene hulle lyding en alleenwees met mekaar kan deel. Ek lees die volgende aangrypende aanhaling: “The mountain was the way for God to prepare a human band of companions for the sacred journey, to offer something to hold onto when they descend into the crushing reality of the world below.” (Anschutz in Feasting on the Word)

Daarom moet ons leer om saam in die spieël te kyk na God se heerlikheid, maar ook om met nuwe verhelderende oë na mekaar te kyk in nuwe verwondering.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Skuld moet bely word

SKRIFLESING:  Mat 5: 22 – 26

Ons mense is dikwels soos ’n verkleurmannetjie, want in die teenwoordigheid van God wys ons ons beste kleure. In die teenwoordigheid van ons medemens wys ons egter ons swakste kleure. Ons wil heilig met God lewe, maar lewe somtyds so onheilig met ons medemens saam.

In die agtiende eeu, met die bloei van slawehandel na Amerika, was daar ’n slawehandelaar en seekaptein wat bekend was vir sy godsdienstigheid, maar ook vir sy ongelooflike wreedheid teenoor slawe. Daar word vertel hoe hy elke oggend en elke aand op die dek van die skip gestaan het en gesange gesing het uit die Hollandse Gesangeboek. Hy het met oorgawe gesing, selfs bo die gedruis van die branders heen. Tog, onder die dek van die einste skip het dit beroerd gegaan. Dáár was die slawe aan die uiterste ellende onderwerp. Hulle was aan kettings geboei en het min kos en water gekry. Sou hulle siek word, is hulle lewend oorboord gegooi sodat hulle nie die ander moes aansteek nie. Hierdie seekaptein het vroom probeer lewe voor God, maar teenoor sy medemens het hy soos ’n monster gelewe.

Om so te lewe is om van godsdiens ’n klug te maak. Die tweeledige liefdesgebod staan juis op twee bene, naamlik liefde tot God en liefde tot jou naaste. Die Here Jesus sê hulle is gelyk. Die een is nie belangriker as die ander een nie.

Luther sê ek moet ’n “Christus” vir ’n ander een word. Het u gehoor: ek moet ’n “Christus” vir ’n ander een word. Daarom sê die Here Jesus dat ’n mens eers jou godsdienspleging moet onderbreek om te gaan regmaak met ’n ander een, voordat jy verder aanbid. Die Nagmaalsformulier sê selfs dat ’n mens jou van die Nagmaal moet weerhou as jy nog iets teen ’n ander een het. Wie sondig teen sy medemens, sondig ten diepste ook teenoor God.

Hoor wat sê Mat 5: 22 – 24:  “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.”

Die uiterste straf vir onenigheid en skeltaal, sê Jesus is om in die Gehenna te beland. So ernstig is die Here oor sondeskuld wat veroorsaak word deur onenigheid.

Waar en wat is die Gehenna?  “Teen Jesus se tyd is die Ben-Hinnom-vallei tot “Gehenna” verkort. Gehenna het as die plaaslike stortingsterrein van Jerusalem gedien. Al die stad se afval en puin is daar verbrand. Tereggestelde misdadigers en onbegrawe liggame is dikwels in Gehenna gegooi, wat die kloof sy reputasie gegee het as die plek van die verdoemdes en die verlatenes. Die brande van die vallei het ’n stank geskep wat die hele gebied laat sleg ruik het. Diegene in die stad kon sy rook sien, en die besoedeling was ’n herinnering aan al die skande van die verlede. In Jesus se gedagtes was Gehenna ’n plek van ontrouheid, waar diegene wat geroep is om iets groots te wees, hulle rug op God gedraai het. By Gehenna het opstandige Hebreërs hulle kinders aan die vuur van Baäl geoffer. By Gehenna het buitelandse leërs duisende lyke opgestapel terwyl die oorlewende Israeliete in ballingskap gelei was.” (JF Cook)

Om egter skuld te bely is ’n moeilike saak. Kinders sê gou dit is nie ek nie, dis hy. Toe Adam en Eva gesondig het en God by hulle navraag doen, sê Adam dis Eva en Eva gee weer vir die slang die skuld. So speel hulle vroteier. Niemand het die moed om hul skuld te bely nie.

Daarom om jou skuld te kan bely, is ’n deug wat sorteer onder die deugde wat van ’n mens moed vra. Om skuld te kan bely is nie ’n teken van swakheid nie, maar ’n teken van sterkte en moed. Deur ’n mens se skuldbelydenis heen, werk God sodat dinge weer kan regkom in jou lewe. Om jou skuld te kan bely, is soos om ’n sweer oop te krap dat die kwaad kan uitkom. As die kwaad eers uitkom, word die wond gou genees.

Koning Dawid het sy skuld bely en so het sy lewe weer reggekom, sodat hy die “man na aan die hart van God” geword het. Uit sy nageslag is die Messias gebore.

Wanneer daar huweliksonmin is, of wantroue tussen mense, of konflik en haat, is dit soos ’n sweer. Daardie sweer sal daar bly totdat die skuld bely is. Die baie ongelukkigheid in huwelike, in families en in die gemeenskap wat oor jare gekom het, is te wyte aan skuld wat nog nie uitgepraat en bely is nie.

Soos die seun wat op ’n Sondagmiddag sy pa se motor gestamp het. Hy kruip weg vir sy pa. Hy is skaam vir sy pa. Hy het nie die vrymoedigheid om sy pa in die oë te kyk nie. Toe hy egter sy skuld gaan bely, val die swaar las soos ’n klip van hom af. Hy voel so vry soos ’n voëltjie. Sy verhouding met sy pa kom weer reg.

Daar is iets soos indiwiduele skuld, maar ook iets soos kollektiewe of groepskuld. Indiwiduele skuld is my persoonlike skuld teenoor ’n ander indiwidu. Kollektiewe skuld of groepskuld is skuld wat ’n groep, volk of gemeenskap teenoor ander mense het.

Hulle vertel van ’n sekere hofsaak jare gelede in Duitsland toe ’n sekere man gevang is oor hy ’n brood gesteel het by ’n kafee. In die hof het hy toe aangevoer dat hy getroud is en drie kinders het. Hy soek al weke werk, maar niemand wil vir hom werk gee nie. Hy noem dan ook ’n hele rits plekke waar hy al werk gesoek het. Hy vertel hoe hy al gebedel het, maar almal jaag hom weg met ’n afjak. Hy vra vir die regter wat hy anders kon doen; hy het ’n vrou en drie kinders. Wat sê hy vir sy kinders en hoe kan hy hulle in die oë kyk? Hy het dit gedoen om sy vrou en kinders aan die lewe te hou. Dit was nie gierigheid nie. Die regter het die man toe gevonnis vir drie dae gevangenskap of 10 Duitse Mark vir sy diefstal. In dieselfde uitspraak het die regter toe ook die gemeenskap van Bonn gevonnis tot 10 000 Duitse Mark. Sy uitspraak was dat die Duitsers in Bonn so indiwidualisties en kapitalisties was dat daar vir ’n werklose wat wou werk geen heenkome was nie. Elkeen was net met homself gemoeid.

So moet die regering en die privaatsektor ook kyk daarna om meer werksgeleenthede te genereer. Die regering het die verantwoordelikheid om deur belastingverligting die privaatsektor aan te moedig om meer werksgeleenthede te skep. Werkskepping is die enigste werkbare model om armoede en misdaad te bestry. Die “Arm Blanke-vraagstuk” van na die Anglo-Boereoorlog en die groot Depressie is opgelos deur verbeeldingryke werkskeppingsprojekte van die regering en die NG Kerk. Die opbou van die Spoorweë het tienduisende mense van verarming gered. Mense wat wil werk, moet gehelp word. As die regering en die privaatsektor nie werk skep nie, is hulle skuldig aan die verval van die land. Die luies moet aan hulle eie ellende oorgelaat word.

In die Ou Testament lees ons meer van die volk Israel se sondes as van indiwidue se sondes. Ons lees maar alte dikwels in die profete se geskrifte dat dit oor hierdie en daardie sonde is dat God vir Israel straf. Telkens moet die Here Israel se gewete oopskroei, sodat hulle kan besef met watter sonde hulle besig is. Telkens as die volk Israel hul sondes bely het en daarmee breek, dan lees ons hoe die Here die volk Israel red.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Lutherse kerkleiers in Duitsland namens hul kerk en die Duitse volk skuld bely oor die wandade van die Duitsers teenoor die Jode. Dit is vervat in die Barmen-verklaring. Onlangs het een van die Engelse koninklikes tydens ’n kranslegging namens Engeland skuld bely vir Brittanje se aandeel aan die Anglo-Boereoorlog. In 1990 het Prof Willie Jonker namens die NG Kerk verskoning gemaak vir apartheid. Die beleidstuk “Kerk en samelewing” het in die plek van die gewraakte beleidstuk “Ras, volk en nasie” verskyn.

U sien, om jou skuld te bely, is nie bedoel vir trotse mense of vir lafhartige mense nie. Nee, dit is bedoel vir nederige mense wat leeuemoed het. As beloning het dit die wonderlike ervaring dat jou skuld soos ’n swaar klip van jou wegrol. Jy word vry soos ’n voëltjie.

As die Here Jesus sê dat ’n mens eers moet gaan regmaak met jou medemens voordat jy verder bid of kerk toe gaan of jou dankoffer gee, bedoel hy daarmee dat die skuld wat nog nie uitgepraat is nie, ’n hindernis is wat ’n mens se aanbidding belemmer. Soos wat die wolke die maan versluier, so kan skuld teenoor ’n medemens God vir my versluier. ’n Mens kan as’t ware sê dat sonde en ongehoorsaamheid “Godsverduistering” veroorsaak.

Waar skuld bely word teenoor God, vind daar “Godsverheldering” plaas. Jy kan God beter en helderder sien. Skuldbelydenis is bevrydend. Jy sien die sonstrale van God se geregtigheid.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die Here Jesus beteken moeilikheid

SKRIFLESING:  Mat 5: 10, 1 Petrus 3: 13 – 17 en Mat 16: 24 – 26

Jesus Christus beteken net moeilikheid. Jesus Christus het moeilikheid veroorsaak so ver soos Hy gegaan het.

Reeds met Jesus se geboorte het koning Herodus opdrag gegee om alle seuntjies jonger as drie jaar dood te maak. Dit het tot groot hartseer gelei.

Op die Sabbatdag het Jesus mense gesond gemaak en are geoes, sodat die Fariseërs en skrifgeleerdes hoogs  ontsteld was. Hulle was meer bekommerd oor die onderhouding van die wet, as om blydskap te beleef oor die genesing van mense.

Mense het Hom uit die dorp gejaag as Hy in die sinagoge gepreek het. Hy is tot uit sy eie geboortedorp verdryf toe Hy daar gepreek het. Daarvandaan kom die spreekwoord “’n Profeet word nie in sy eie land geëer nie”.

Toe Jesus die duiwels in die varke gejaag het, het die dorp se inwoners hom gesmeek om weg te gaan. Die mense was meer begaan oor hulle eiendom, die varke, as wat hulle bly was oor die besete man wat genees is.

By die tempel het Hy die tafels en stoele van die geldwisselaars omgegooi, die offervee uitgejaag en die duiwehokke oopgemaak. Hy het chaos op die tempelplein veroorsaak.

Daar is oor Hom geskinder dat Hy saam met die dronkaards en die skelms geëet het. Daarom het hulle Hom ’n “wynsuiper en ’n vraat” genoem. Hy het met die underdogs van die gemeenskap gemeng en daarvan het die mense nie gehou nie.

Die mense het heel waarskynlik agter hulle hande gefluister toe ’n vrou Jesus se voete gewas het met duur nardusolie en Hy haar toegelaat het om sy voete met haar hare af te droog.

Sy preke het die Fariseërs en die skrifgedeeltes ontmasker as witgepleisterde grafte. Hy het die teoloë en kerkmense van sy tyd as skynheilig beskou.

Hy het moeilikheid in Jerusalem veroorsaak, sodat hulle Hom gekruisig het.  Jesus was voorwaar ’n moeilikheidmaker. Hy het die orde van sy tyd op die kop gedraai.

Petrus en die dissipels het dit ook gou uitgevind die nag daar in Getsemané en in die binnehof die nag waarin Hy oorgelewer is om gekruisig te word. Die dissipels het besef om hulle met Jesus te assosieer gaan hulle in die moeilikheid laat beland. Daarom het die dissipels in die nag verdwyn en het Petrus voor die hanekraai vir Jesus drie maal verloën deur te sê hy ken die man nie. Petrus die “rotsman”, dit is wat sy naam beteken, het verkrummel voor die oë van ’n diensmeisie. Petrus was bang vir moeilikheid, daarom  het hy gemaak of hy die Here nie ken nie.

Ons dominees is ook maar dikwels bang vir moeilikheid, daarom verwater ons dikwels die eise van die Evangelie. Ook vir kerkraadslede is die openbare gevoel van die lidmate dikwels belangriker as die eise van die Evangelie. Ons preek dikwels ’n “goedvoel”-godsdiens wat mense boost en ons praat min oor die eise van die Evangelie.

Ek wonder dikwels wat sou gebeur het as Jesus net vir ’n naweek op Adelaide en Fort Beaufort sou vertoef het. Ek dink Hy sou die mense uit die kerk preek. Die dorp sou gons. Jesus sou kuier by die randfigure en die wat vir ons sosiaal onaanvaarbaar is.

Ons sou maar te bly wees as Jesus die Maandagoggend die pad vat… want Jesus is ’n moeilikheidmaker. Hy krap ons sosiale orde om …

Nou sê Jesus egter dat die wat Hom wil volg, ook hulle kruis moet opneem. Daarmee bedoel Jesus dat ons bereid moet wees om moeilikheid ter wille van Hom te verduur.

Daar is drie soorte volgelinge van Jesus. Daar is eerstens die bewonderaars, wat respek vir die Here het. Daar is tweedens die leerlinge, wat met belangstelling die Woord bestudeer, maar dan is daar ook derdens die dissipels wat so ernstig is om Jesus te volg dat hulle selfs nie vir moeilikheid, lyding of vervolging sal wegdeins nie.

Daarmee bedoel Jesus dat ’n mens jou vriende leer ken in swaarkry-tye, in tye van moeilikhede. Wie bereid is om in die moeilikheid te beland ter wille van Jesus se saak, is eers regtig kind van God.

Ja, die valse Christene en kerk vrees die mens. Die ware Christen en kerk vrees alleen maar vir God. Wanneer die mens meer as God gevrees word, word die kerk ’n naprater. Dan verander die kerk soos die wêreld verander. Die kerk word dan ’n handskoen wat die wêreld pas. Die Christen word ’n verkleurmannetjie na gelang van omstandighede en die situasie. Dan is jy ’n mooiweersvriend van God, maar een wat wegskram van enige moeilike keuses en moeilikheid.

Die kerk het vóór Konstantyn sterk gegroei, want Christene is vervolg en doodgemaak vir hulle geloof. Die Christene het elke dag moeilike keuses gemaak ter wille van Christus. Maar toe Konstantyn tot geloof gekom het, het hy die Christendom staatsgodsdiens gemaak en Christene is nie meer vervolg oor hulle geloof nie. Toe was dit maklik om Christus te volg. Christene hoef toe nie meer moeilike keuses te maak nie.

Die kerklike tug het ook grotendeels in die kerk verval, omdat die gevoelens van die mens en die humanisme die plek ingeneem het van die liefdevolle tughandeling van die kerk.

Die Here sê dat mense wat net in maklike tye die Here volg, geen dissipel van Hom is nie. ’n Ware dissipel volg die Here ook in moeilike tye en is bereid om vir die Here te kies in moeilike etiese kwessies.

Die ware kerk en die ware Christen vrees alleen maar vir God.  ’n Ware Christen trek moeilikheid aan, soos ’n magneet yster aantrek. Die rede is omdat ’n Christen ander waardes het, anders leef en ander prioriteite in die lewe het.

Daar is verskillende vorme van vervolging waaraan God se kinders onderwerp word. Dit kan die volgende wees:

  • Beledigings
  • Valse gerugte
  • Om die gelowige belaglik voor te stel (Die mense neem jou nie ernstig op nie.)
  • Skinderstories
  • Fisiese vervolging

Die agste saligspreking wat handel oor vervolging, is die toets van die vorige sewe saligsprekinge.  Sal jy, met ander woorde, sagmoedig wees, al kom jy tweede? Sal jy barmhartig wees, al kos dit jou alles? Sal jy die reg soek, al ly jy skade? Sal jy ’n vredemaker wees, al kos dit jou die dood?  Die agste saligspreking vra met ander woorde of ons ernstig is oor Jesus. Is u en ek bereid om kritiek te vat, al doen ons goed? Sal ons bly goed doen, al kry ons nie waardering daarvoor nie? Dit is die diepste toets van Christenwees.   

Wie in die lewende teenwoordigheid van Jesus Christus leef, sal altyd in die moeilikheid wees en sal altyd teenstand en vervolging  verduur.

Is u en ek bereid om in die skaduwee van die krip en die kruis te lewe?

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die kragveld van die Gees bewaar ons van versoekinge

SKRIFLESING:  Mat 6: 13 en Jak 1: 12 – 15

Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ’n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals wat ’n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.

’n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ’n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ’n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste, om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun: “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met versoekinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.

Soos wat om honger te raak en te eet, alledaags is – net so is versoekinge deel van die daaglikse lewe. Ons kan ons lewe amper nie daarsonder voorstel nie. Soos wat ons bid om ons daaglikse brood, net so moet ons bid om bewaar te word van die versoekinge. Hierdie sesde bede erken die feit dat ons daagliks in ’n worstelstryd is teen allerlei versoekinge.

Laat ons onsself nie mislei nie. Versoekinge is ’n realiteit waaraan ons nie kan ontkom nie. Selfs die heiligste onder ons kom in versoeking. Hoe heiliger jy leef, hoe hewiger die versoekinge. Ons word gedurig aangeval. Luther het dan ook versoekinge vertaal met aanvegtinge.

As ons aan versoekinge dink, dan dink ons onwillekeurig aan versoekinge wat op seksuele gebied lê. Maar daar is veel meer, oneindig meer: soos byvoorbeeld om oneerlik te wees in die eksamen, of om ’n leuen te vertel, of om mekaar af te kraak en te beskinder en nog meer. Ons het gesê versoekinge kan vertaal word met “aanvegtinge.” Maar wie val ons aan?

Beslis nie God-Drie-Enig nie. Hy wil net goed doen aan sy kinders. Jakobus sê vir ons baie duidelik in Jak 1: 13 dat God niemand kan versoek nie. Beproewinge kom van God om ons sterker te maak, maar versoeking kom van die duiwel om ons af te breek en te laat sondig.

Die Heidelbergse Kategismus sê die bose-drie-eenheid val ons gedurig aan. Dit is die volgende:

  • Satan,
  • die wêreld
  • en ons sondige natuur

Versoekinge kom gekamoefleer na jou. Sonde kom nie in kapsules na jou, waarop “sonde” geskryf staan nie, maar as “sjokolade”, by wyse van spreke. Die gif van sonde word in ’n sjokoladestafie vir jou aangebied. Dit is moeilik om dit te weerstaan.

Eva en Adam het die vrug begeerlik gevind nadat die duiwel hulle verlei het om dit te eet. Die duiwel het gesê dat hulle soos God sal wees om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Hulle het geëet en in sonde verval.

Die verhaal van Josef en Potifar se vrou is ook ’n mooi voorbeeld van ’n versoeking wat weerstaan is. Potifar se vrou bied haar liggaam op ’n skinkbord aan vir Josef vir seksuele genot. Potifar is weg. Niemand sal weet nie. Dit is vir hom ’n kompliment, wat sy manlike ego streel. As hy toegee, sal Potifar se vrou hom met geskenke oorlaai en bevoordeel. Maar wat doen hy? Hy vlug weg van haar. Potifar se vrou skeur die klere van sy lyf af en hy word valslik deur haar beskuldig. Potifar gooi Josef in die tronk.  Omdat hy die Here se wil gedoen het en die versoeking weerstaan het, het die Here hom later verhoog tot die tweede hoogste in die Egiptiese Ryk. Net die Farao was hoër as hy.

Versoekinge kom in die helderste kleure, smake en in die mooiste gedaantes na jou. ’n Versoeking kan skielik oor jou weg kom, of dit kan jou algaande kondisioneer. As ’n mens ’n padda onmiddellik in warm water sit, sal hy dadelik uitspring. Maar as ’n mens hom in koel water sit en die temperatuur geleidelik verhit tot by kookpunt, sal die padda so gekondisioneerd wees, dat hy nie eers sal agterkom die temperatuur styg nie. Die padda sal doodbrand in die warm water.

’n Ongeoorloofde seksuele verhouding kan begin by ’n flirtasie, later word dit ’n verhouding en nog later owerspel. Versoekinge is soos jakkalsies wat ons grootmaak. In die begin heel onskuldig, maar later verwoes dit jou lewe. Dit kan byvoorbeeld lelike gedagtes wees, want wie sal nou seerkry? Maar later word dit kwaadpraat en skinder.

Mag ons maar besef hoe broos ons is en hoe maklik ons in versoeking val. Juis daarom leer die Here Jesus ons om daagliks te bid: “Laat ons nie in die versoeking kom nie.”

Martin Luther het by geleentheid gesê dat hy met die vyfde bede “Vergeef ons oortredinge” gaan lê en slaap, maar met die sesde bede “Laat kom ons nie in die versoeking nie” opstaan.

Dit gaan oor ’n worstelstryd. Ons moet ons afhanklikheid besef. Maar nou vra die Here Jesus nie van ons iets wat Hy nie self al deurgemaak het nie. Hy is drie maal in die woestyn versoek met die begeerlikste beloftes, maar Hy het dit al drie keer van die hand gewys. Hy het aan Sy Vader getrou gebly. Die Here Jesus het dan ook die bose oorwin. Die “bose” kan nie besit van ons neem nie. Hy kan ons wel verlei, maar nie besit nie. Ons behoort mos immers vir tyd en ewigheid aan Jesus, ons getroue Saligmaker en Verlosser. Christus het alreeds die “bose” volledig oorwin en verslaan. Alleen in Christus en deur die krag van die Gees kan ons versoekinge oorwin.

Met die sesde bede vra ons dat ons tog nie uit die kragveld van Sy genade en Gees sal beweeg nie.

Iemand het die volgende beeld gebruik: Wanneer ’n groot skip deur die golwe van ’n stormagtige see klief, skep hy ’n vaarwatergebied wat ’n sterk suigkrag uitoefen. Kleiner skepe en bote ontdek dat hulle hier as’t ware in die krag van die groot skip kan vaar. Hulle ontdek dat hulle meegesleur word, en dat hulle in sy vaarwater veilig is teen die deinings van die stormsee. Wie buite die vaarwater van die groot skip beweeg, loop gevaar om in die storm onder te gaan en op die seebodem te beland. Wie buite die vaarwater van die moederskip beweeg, ontdek aan die een kant sy eie broosheid, aan die ander kant die felle woede van die see. Wie binne die vaarwater bly, ontdek die krag van die moederskip en bly behoue. Christus, ons hoëpriester, het die stormsee van versoeking deurklief. Hy het alles ervaar wat ons versoeking sou kon noem: die storm, die stryd, en die drang van menswees. Hy het nie ondergegaan nie. In die proses laat Hy vir ons die vaarwater van sy vergifnis na, die suigkrag van Sy oorwinning. Wie in hierdie vaarwater bly, is veilig, word meegeneem in die triomf. Wie daarbuite wil gaan, wie self die felle aanslag van die bose-drie-eenheid wil trotseer, sal ontdek dat hy / sy nie eens ’n oomblik bo die water kan uithou nie.

Versoekinge moet veral in die gedagtes beveg word. Ons moet die negatiewe gedagtes in die gevangenis werp – en nie meer daaraan dink nie. Ons moet eerder aan Christus en die goeie dinge dink.

Mag ons daagliks hierdie bede bid en daagliks daaraan herinner word dat ons in ’n gevegsituasie is. Dank God vir hierdie oorwinning in Jesus Christus.

Vandag is Pinkstersondag. Mag ons elke dag in die veilige vaarwater van God se Gees wees. Deur die Gees se werking kan ons die versoekinge weerstaan. Deur die krag van die Gees kan ons die gawes van die Gees in Gal 5 uitleef.

God het Sy Gees vir ons geskenk om ons nuut te maak met nuwe begeertes. Daarom moet ons in die Gees lewe. Om in die Gees te lewe, beteken om gehoorsaam te wees aan die opdragte van die Woord.

Daarom bewaar die kragveld van die Gees ons van versoekinge.

Leef Geesvervuld!

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die dissipline van blydskap

SKRIFLESING:  Jes 61: 1 – 2 en Luk 4: 16 – 30

“Die Christen moet van kop tot tone ’n halleluja wees.” (Augustinus van Hippo)

Lofprysing is die hart van Christus se weg. Jesus het die wêreld binnegekom op ’n hoë jubeltoon: “Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ’n goeie boodskap wat vir die hele volk ’n bron van groot vreugde sal wees.” (Luk 2: 10)

“Die Jubeljaar of hersteljaar dui in die Ou Testament op elke 50ste jaar wanneer die armes in Israel vrygelaat is, hulle skuld afgeskryf is en hulle as wettige eienaars na hulle grond kon terugkeer (Lev 25: 8-17, 23, 54). Verder moes die Joodse slawe vrygelaat word. Daar was besonder interessante gebruike in hierdie verband. Omdat die grond in beginsel aan die Here behoort het, kon dit nooit regtig verkoop word nie (Lev 25:23). Al wat verkoop is, is die opbrengs van die land. Dit het beteken dat die koopprys bepaal is in die lig van die aantal oeste wat oor is voor die volgende Jubeljaar. Grond het dus al goedkoper geword soos die Jubeljaar nader gekom het.” (www.bybelkennis)

Die Here Jesus het sy openbare bediening begin deur die Genadejaar (Jubeljaar) aan te kondig. (Luk 4: 18,19) Daarom is Jesus se koms na hierdie wêreld een groot vreugde en blydskap.

Die Here se eerste koms is die Genadejaar en Sy tweede koms is die wederkoms, die Oordeelsjaar. In Luk 4: 16 – 30 het die Here Jesus die profeet Jesaja in Jes 61: 1 – 2 woordeliks aangehaal, maar het opgehou net voor die laaste gedeelte van vers 2 wat lui: “…ons God se dag van wraak,…” Hy het met ander woorde Jesaja aangehaal tot en met die Genadejaar, toe opgehou lees en die boekrol toegemaak en gaan sit om te preek. Hy het nie die gedeelte van die oordeel gelees nie, omdat dit eers later kom. Jesus het nie die Joodse gebruik gevolg om Sy preek met oordeel af te sluit nie. Juis daarom was dit een van die redes waarom die skrifgeleerdes en die Jode Hom verwerp het.

Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die Genadejaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar:

…. om die Evangelie aan die armes te verkondig (hulle wat armoedig voor God is)

….. vrylating vir gevangenes (hulle wat gevange gehou word deur hul sondes)

….. herstel van die gesig van die blindes (hulle wat nog blind vir die Here is)

….. Hy het gekom om die Genadejaar aan te kondig.

Geliefdes, daarom skilder die Nuwe Testament nie vir God as ’n harde ongenaakbare despoot nie, maar as ’n liefdevolle God.

Stephan Joubert beskryf dit duidelik: “Terwyl ons mekaar afskryf, skryf God ons in genade op.” Ons kan so maklik met ’n veroordelende vingerwysing mekaar afskryf en veroordeel. Ons weeg mekaar en as ons iemand te lig beskou,  ignoreer ons dié persoon of smeer sy naam swart. Met veroordelende harte weeg en beoordeel ons mekaar. Vir genade is daar geen plek nie.

Daarom is my werk nie om vir u te vertel wat u moet doen en nie moet doen nie. Ek moet nie die oordeel van God aan u verkondig nie, dit is God se werk met die Wederkoms. Nee, my taak is om elke Sondag aan u ’n ander kant , ’n ander faset van God te verkondig. Om God se liefde in al sy veelkleurigheid en vrolikheid aan u te verkondig. My taak is nie om u met prediking te veroordeel nie, maar om vir u elke Sondag te verkondig dat God vryspreek en liefhet.

Daarom het die Here Jesus ook die owerspelige vrou in Joh 8 nie veroordeel nie, maar aan haar genade betoon omdat dit die Genadejaar van die Here Jesus is. Wanneer die kerk iemand vermaan of tugtig, is dit nie om iemand te veroordeel nie, maar om so iemand reg te help (op te help). Daarom geskied die kerklike tug altyd in liefde.

Die Genadejaar strek vanaf Christus se geboorte tot en met Sy wederkoms. Daarom leef ons hier in die jaar 2023 nC in die Genadejaar van die Here. Eers as die horlosie en die kalender van hierdie wêreld gaan staan, hou die Genadejaar van God op. Tot dit egter gebeur, moet die kerk van die Here die Genadejaar verkondig.

Daarom preek ons Gereformeerde dominees so min oor die hel en oordeel van God: omdat ons nog in die Genadejaar van die Here lewe. Dit is die GENADEJAAR! U as Nuwe-Testamentiese gemeentes, Adelaide en Fort Beaufort, lewe binne in die Genadejaar. Wat ’n voorreg!

Daarom is dit my vreugde om elke Sondag aan u die GENADEJAAR van die Here te verkondig. Om elke Sondag ’n ander kant of faset van God se liefde, genade en deernis aan u te verkondig. U moet elke Sondag verwonderd staan voor God se ongelooflike liefde.

Wanneer die Evangelie so gebring word dat dit jou bang maak, is daar ’n probleem. ’n Bangmaak-evangelie het in homself die kiem van dwaalleer. Die woord EVANGELIE beteken immers “goeie tyding” of “goeie boodskap” en daarom wil die Evangelie jou vry maak, jou los maak. Ja, die Evangelie wil vir jou vreugde en blydskap bring. Die toets van suiwer Woordverkondiging is of die Woord werklik “vry maak” om ’n nuwe verloste lewe te lewe.

Mense word nie verander deur bangmaak-prediking nie, maar deur liefdevolle prediking, waarin hulle telkens verstom staan voor die wonder van God se liefde vir die wêreld.

Jubel in die Here, Gemeente! Julle is bevoorreg om in die Genadejaar van ons Here Jesus Christus te lewe. Omdat ons in die Genadejaar van die Here lewe en die Here aan ons, soos aan die owerspelige vrou in Joh 8, genade betoon, moet ons ook aan mekaar genade betoon.

Daarom staan daar in Luk 6: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word.”

Ons moet genade betoon, omdat aan ons genade betoon is. Want sien, ons lewe in die Genadejaar van die Here Jesus Christus.

Gemeente, dank God dat ons nog in die GENADEJAAR van ons Here Jesus Christus leef. GOD SE GENADE IS DAAROM GROTER AS SY OORDEEL.

Om vry te wees van angs en bekommernis, is die basis van ons jubeling.  Omdat ons weet dat Hy vir ons omgee, kan ons ons bekommernisse op Hom werp. “God het ons droefheid in dans verander,” skryf Richard Foster.

Blydskap is die hart van alle geestelike dissiplines. Sonder ’n gees van vreugde en blydskap verander die dissiplines in die somber gees van die Fariseërs en Skrifgeleerdes, wat alles uit plig gedoen het. Elke dissipline moet gekenmerk word deur innerlike blydskap en dankbaarheid.

Vreugde en blydskap maak deel uit van die vrug van die Gees. (Gal 5:22) Vreugde is die motor wat alles laat loop. Blydskap gee vonk aan al die gawes van die Gees. ’n Mens moet iets uit vreugde en blydskap doen of dit laat vaar.

In Luk 11: 27 – 28 staan daar: “Terwyl Hy dit sê, het ’n vrou in die skare haar stem verhef en Hom toegeroep: ‘Gelukkig is die moederskoot wat U gedra het en die borste wat U gevoed het!’ Maar Hy antwoord: ‘Ja, maar waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.’” Daarom, om blydskap voort te bring, moet gehoorsaamheid deel van ons alledaagse lewe word. Blydskap word nie gevind in die sing van sekere soorte musiek, sosialisering met die regte soort mense of selfs in al die charismatiese gawes van die Gees nie. Vreugde en blydskap word gevind in gehoorsaamheid.

As daar lyding en bekommernisse is, staan daar in Fil 4: 4 die volgende: “Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle!  Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”

Paulus laat egter nie die saak daar vaar nie. Gebed en vertroue alleen is nie genoeg om vir ons blydskap te bring nie. Hy noem in Fil 4: 8 ook die dinge waarop ons onsself moet instel, naamlik: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”

Die Here Jesus het in Sy 33 jaar op aarde in blydskap geleef, in so ’n mate dat die Fariseërs hom valslik daarvan beskuldig het dat Hy ’n dronklap en ’n vraat is.   Jesus Christus het ’n humorsin gehad – jy kan net luister na sommige van sy gelykenisse.

So moet ons ook van kerklike feesdae dae van blydskap maak – deur dit spesiaal te vier. Ons moet iets groots maak van Kersfees, Aswoensdag, Palmsondag, Paasfees, Hemelvaart, Pinkster en ook ander feesdae.

Mag ons altyd blymoedig wees. Mag ons altyd die positiewe soek, sodat ons dankbare mense kan wees. “Die Christen moet van kop tot tone ’n halleluja wees.”                                                                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.

http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-joodse-feeste

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition. 

Die dissipline van diens

SKRIFLESING:  Johannes 13: 1 – 13 en Handelinge 9: 36 – 43

Die handdoek is die simbool van diens. Met die voetewas van die dissipels het die Here ’n handdoek om Hom vasgemaak om te dien.

Die teenoorgestelde van diens is egoïsme en onbetrokkenheid. Diens maak ’n einde aan die wêreld se behoefte en begeerte dat daar ’n “rangorde” moet wees. Ons is baie soos hoenders. In die hoenderhok is daar geen vrede voordat dit nie duidelik is wie die belangrikste is nie.  En wie die onbelangrikste is nie en wie ander status tussenin het nie. Die gefladder hou eers op as die rangorde uitgesorteer is. ’n Groep mense kan nou eenmaal nie lank genoeg bymekaar wees nie of ’n “rangorde” moet duidelik bepaal word. 

Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir sy dissipels ’n les in Johannes 13. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ’n maaltyd.

Hierdie maaltyd was dan ook die geleentheid waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer het oor die naderende kruisdood van Jesus, was hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere-posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is. Wie bedien sal word en wie sal dien. So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ’n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die self-gesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ’n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe hy sy bokleed uittrek, op sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ’n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ’n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ’n slaaf kom doen. Hierdie voetewassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid om te dien.

Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het sy alles, tot sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:

* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

* Soos Ek julle bedien het, moet julle mekaar dien.

Wie so ’n dissipel van die Here is, is geloofwaardig. Met ander woorde, die egtheid van ons geloof word getoets aan die mate waarop ons diens heenwys na Christus. Christus het jou BEDIEN aan die kruis, daarom moet ons mekaar DIEN.

Nog ’n mooi voorbeeld in die Bybel van diens is die verhaal van Tabita of ook Dorkas wat gesterf het. Haar afsterwe is wyd betreur en almal, Jood en Griek, het van haar goed gepraat. Hulle het die volgende oor haar gesê: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”

Hulle het selfs die klere wat sy vir die armes gemaak het as getuienis voorgehou van haar voorbeeldige lewe.

Sy was as Tabita en as Dorkas bekend. Tabita was haar Joodse naam en Dorkas was haar Griekse naam. Sy was letterlik in die Joodse en Griekse gemeenskap bekend as ’n goeie en barmhartige vrou. Sy het goed gedoen aan die Joodse en Griekse weduwees. Sy het nie onderskeid getref nie.

In die Bybel was ’n weduwee werklik uitgelewer aan die aalmoese van ander. In daardie tyd was daar nog nie staatstoelaes en pensioenfondse nie. Wanneer ’n vrou se man sterf, was sy werklik arm en hulpbehoewend. ’n Weduwee is gereken as die armste onder die armes. Oor hierdie vroue het Tabita haar bekommer.

Toe Tabita tot sterwe kom, was daar hartseer onder die Joodse en Griekse gemeenskap. Almal het haar gemis. Deur haar barmhartigheidswerk het sy as’t ware Jood en Griek bymekaar gebring. Almal het met lof van haar gepraat.

Tabita het ’n spoor nagelaat van Christelike barmhartigheid en deernis. Sy het haar eie grafskrif geskryf met die woorde: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”

God roep ons juis op deur die voorbeeld van Tabita om ’n goeie spoor na te laat. Ja, om ’n aangename geur van lewe te versprei, sodat ons iets vir ander mense kan beteken.

Wat belangrik is, is dat ons net soos Tabita ’n goeie spoor moet agterlaat vir alle mense. Tabita het goed gedoen aan Jood en Griek. Net so moet ons ook goed doen aan alle mense sonder onderskeid. Om waarlik goed te doen, beteken om geen onderskeid te maak nie, maar onvoorwaardelik te dien.

Ware heiliges is mense soos Tabita, wat dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Die vraag is óf ons lewe van so ’n aard is dat ons dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Want sien, as ons ’n verkeerde voorbeeld stel, maak ons dit vir ander mense moeiliker om te glo.

Dit gaan nie daaroor dat ons alle vorms van leierskap of gesag moet afskaf nie. Die punt is eerder dat Jesus ’n heel ander betekenis aan leierskap gegee het. Om te kan lei, moet jy bereid wees om te kan dien. Daarom staan daar in Mat 20: 25 – 28  die volgende: “Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.”

Daarom word die geestelike gesag van Jesus nie deur ’n posisie of ’n titel bepaal nie, maar deur ’n handdoek.

Ons moet versigtig wees vir selfvoldane diens wat begaan is oor “’n groot storie” en begaan is oor indrukwekkende winste op die geestelike telborde, sê Richard Foster. Diens moet in nederigheid en sonder selfvertoon geskied.

Van al die geestelike dissiplines bevorder diens die groei van nederigheid die meeste. Die skrywer Law verstaan dat dit die dissipline van diens is wat ’n mens nederig maak.

Die voortreflikste diens is die diens wat in die verborgenheid plaasvind. Selfs openbare leiers kan diens verrig wat nie in die algemeen bekend is nie. As ons net dien daar waar ons raakgesien word, is ons beslis oppervlakkige mense.   

Daar is ook die diens om ander mense se reputasie te beskerm, soos Bernard van Clairvaux dit stel, naamlik die diens van “mensliewendheid”. Daarom is dit  ’n diens om jouself vry te hou van skinderpraatjies en kwaadpratery. Die apostel Paulus leer ons om nie van iemand kwaad te praat nie. Die dissipline om stil te bly, kan wonders in ons lewens verrig.

Daar is ook die diens van gasvryheid. In die Bybelse tyd was gasvryheid baie hoog gereken. Ons voorouers, veral in die Voortrekkertyd, was ook bekend vir hulle gasvryheid. Toe daar nog nie motors was nie en die mense met perdekarre gery het, het hulle by elke huis langs die pad gekuier en gehoor wat hulle vir die mense kan saambring uit die dorp.

Daar is ook die diens van luister. Ons praat te veel en luister te min na mekaar. Net soos ons na die Woord moet luister, moet ons na mekaar luister. Ons hoef nie die regte antwoorde te ken om goed te luister nie. Die regte antwoorde verhinder ons om somtyds goed te luister.

Daar is ook die diens om mekaar se laste te dra. Daarom is die kerk as gemeenskap van gelowiges daar om mekaar te ondersteun in voorspoed en in swaarkry.

Diens kan nie in “absentia” gelewer word nie. Dit vereis ons persoonlike betrokkenheid. Soos Franciskus van Assisi moet ons die melaatse aanraak en na die een in nood uitreik. Die dissipline van diens vra van ons om te dien sonder onderskeid.

Daarom moet ons elke dag begin deur te bid: “Here Jesus, soos dit U behaag, stuur vandag iemand wat ek kan dien, na my toe.”

Mag dit ook u bede wees.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

Die dissipline van eenvoud

SKRIFLESING:  Luk 12: 33 – 34

Eenvoud is mooi. Ons maak die lewe ingewikkeld deur baie onnodige weelde en besige agendas. Foster beskryf die Christelike dissipline van eenvoud as ’n innerlike werklikheid, wat in ’n uiterlike lewenswyse tot uiting kom. Jy moet eers in jou hart en ingesteldheid eenvoudig dink oor die lewe, voordat dit in die uiterlike gesien kan word.

Kierkegaard het die kern van die Christelike eenvoud raak beskryf in sy boek, “Purity of heart is to will one thing.” Ons ervaring van innerlike eenvoud maak ons uiterlik vry. Die hunkering na status, rykdom en posisie in die samelewing verdwyn, omdat ons dit nie meer nodig het nie. Ons morele kompas is nou innerlike eenvoud en om met die eenvoudige dinge in die lewe tevrede te wees. Richard E Byrd het uit die barre Antarktika  geskryf: “Ek is besig om te leer … dat ’n mens diep kan lewe sonder hope dinge.”

Dikwels koop mense dinge waarvan hulle nie eers hou nie, en wat hulle nòg nodig het nòg geniet, maar bloot omdat hulle mense wil beïndruk. Status, geld, besittings en geldgierigheid is die dryfvere van mense se bestaan en dit laat die wêreld-ekonomie tik. Hebsug word ambisie genoem, opgaring noem ons verstandigheid en gierigheid noem ons ondernemingsgees.

Vir ryk mense het die mensdom agting en op hulle wat eenvoudig lewe word neergesien. As ons maar besef dat alles tot niks kom. As ’n mens jonk is, koop jy ’n huis; jy bou aan; maak alles groter, en koop meer meubels, want jy het kinders. As die kinders eers die huis verlaat, is die algemene wet dat mense weer wil kleiner gaan. Die huis is te groot om te onderhou en skoon te hou. Dan gaan mense weer kleiner en gee hulle besittings vir hulle kinders of verkoop dit en gaan bly in ’n kleiner wooneenheid. Later as jy heelwat ouer geword het, beland jy in ’n ouetehuis met net ’n bed, tafel en stoel. As jy heeltemal te oud is en nie meer veilig kan bestuur nie, dan neem die kinders jou motor ook van jou af weg. So baat al ons ywer en versameling van goed deur die jare niks. Alles kom tot niks. Aan die einde van ons lewe beland ons in die nissie in die kerkmuur, met regtig niks nie, behalwe die inskripsie op die steen, dat jy eenmaal geleef het.

Psalm 62: 11 (b) lees: “Rykdom, as dit toeneem –  moet julle hart nie daarop sit nie.” Rykdom en die versameling van goed is nie verkeerd nie, maar jy moet nie jou hart daarop sit nie. Jou besittings moet nie vir jou ’n Mammon word nie, want ’n mens kan nie vir twee base tegelyk werk nie. Jy kan nie die Here en Mammon dien nie. 

In Spreuke 11: 28 (a) staan daar: “Wie op sy rykdom vertrou, val self.” ’n Mens moet rykdom en besittings in die regte lig sien. Die volgende twee stellings is verkeerd, naamlik om “’n oormaat vertroue in besittings te stel”, asook “totale asketisme, wat met armoede gepaardgaan.” Die Here wil nie een van die twee hê nie. ’n Oormaat vertroue in besittings, maak dat ons Mammon dien, maar ewe verkeerd is om uit vrye keuse in totale armoede te lewe.  Gedwonge armoede is ook uit die bose. Die Here wil nie hê ons moet gebrek ly en onsself verneder nie. Asketisme doen afstand van besittings. Eenvoud plaas besittings in die regte perspektief. Asketisme laat geen ruimte vir “’n land wat oorloop van melk en heuning” nie. Eenvoud is tevrede met armoede sowel as met oorvloed. (Fil 4: 12) Die Here wil vir ons genoeg gee en hê dat ons daarmee tevrede moet wees.

Daar is niks verkeerd daarmee om besittings te hê en dit te geniet nie. Die aartsvaders soos Abraham en Jakob was ook baie ryk. Lot in die Bybel was ook baie ryk. Maar die Here het Lot se hart getoets om te bepaal of hy die Here net dien oor die besittings. Maar toe God al die besittings van Lot af weggevat het, het hy nog steeds die Here gedien. Sy liefde vir die Here het nie verkoel toe sy besittings en geliefdes weggeval het nie. Lot het die Here gedien en nie vir Mammon nie. Daarom het die Here later vir Job tienvoudig teruggegee wat van hom af weggevat is.

Wanneer rykdom en goed jou te na aan die hart lê, kan jy moeilik in die koninkryk van God kom. Daarom sê die Here dat dit vir ’n ryke net so moeilik is om in die koninkryk van God te kom as wat dit vir ’n kameel is om deur ’n naald se oog te gaan. Jesus het gesien watter houvas rykdom op ’n mens kan hê. Hy het geweet waar jou skat is, sal ook jou hart wees. Daarom het Hy sy volgelinge beveel om nie vir hulle skatte op aarde bymekaar te maak nie.

In Luk 12: 33 – 34 staan daar: “Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ’n onuitputlike skat in die hemel, waar ’n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” Dit beteken dat as die Here vir jou ryklik gee, jy nie suinig moet wees om vir die armes te gee nie. Daardeur sal jy bewys lewer dat Mammon nie jou god is nie. Foster skryf: “Eenvoud stel ons vry om die voorsiening van God te aanvaar as ’n gawe wat nie vir onsself gehou moet word nie, maar vrylik met ander gedeel moet word.”

Belangrike beginsels is: Koop dinge omdat hulle nuttig is, nie oor hulle status nie. Veral motors moet oor hulle nuttigheidswaarde gekoop word en nie oor die status wat dit vir jou gee nie. Moenie elke seisoen die nuutste modes in klere najaag nie. Modes is daar sodat modehuise kan geld maak. Verwerp alles wat jou kan verslaaf. Kweek die gewoonte aan om dinge weg te gee. Gee byvoorbeeld jou tweedehandse klere vir Agapé Winkel. Hulle verkoop dit goedkoop aan die armes. Die opbrengs word gebruik om projekte by Huis Corrie Dreyer te finansier. In die proses help jy die armes en die Ouetehuis.

Geniet dinge, sonder om dit te besit. Jy kan parke, strande en openbare ruimtes geniet sonder om dit te besit.

Vermy finansiële praktyke waar jy moontlik ander mense kan onderdruk. Betaal ’n regverdige loon. Jou weegskaal moet reg ingestel wees as jy dinge verkoop. Moenie mense finansieel uitbuit nie.

Minimalisme behoort die gelowige se wagwoord te word as dit by eenvoud kom. Strewe na die minimum. Oortollige goed vergader net stof en roes. Raak ontslae van goed wat jy opgegaar het deur die jare. Jy sal ’n stuk vryheid in minimalisme ontdek. Koop die goed wat jy werklik nodig het. Geniet ook jou besittings, want dit is gawes uit die hand van God.

Leef in eenvoud en jy sal God sien.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.   

Die dissipline van gebed

SKRIFLESING:  Jakobus 4: 3 en Jakobus 5: 13 – 20

As ’n outydse waterpomp gereeld gebruik word, is min inspanning nodig om water te pomp; die water stort met die eerste probeerslag uit, want die watervlak is hoog. Maar as die pomp vir ’n lang tyd nie gebruik is nie, daal die watervlak  en as jy dan water wil hê, moet jy ’n lang ruk pomp voordat die water uitkom, na groot inspanning. Dit is so met gebed ook; as ons ’n gereelde gebedslewe het, dan maak elke klein omstandigheid die ingesteldheid om te bid wakker, en ons begeertes en ons woorde is altyd gereed. Maar as ons ons gebedslewe verwaarloos, is dit vir ons moeilik om te bid, want die water in die put raak laag. Baie van ons se gebedslewe is ook soos ’n waterput waaruit lanklaas gepomp is. Gebed kom nie so maklik as jy nie gereeld bid nie.

Die Heidelbergse Kategismus beskryf gebed as die vernaamste element van ’n mens se dankbaarheid. Gebed is een van die vernaamste dissiplines in ’n mens se geloofslewe.

Om te bid, is om te verander. God gebruik gebed nie net om sake te verander nie, maar ook om ons te verander. Opregte gebed spreek die sake aan waarvoor ons bid, maar dit verander ons lewe ook. Jakobus 4:3 sê dat ons dikwels verkeerd bid: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” Ons moet nie net bid soos van ’n inkopielys af nie, maar ons moet ook bid vir ander mense, vir lewensverandering in ons lewe en dat God se wil al meer sigbaar sal word in ons lewe. Hoe nader ons aan die hartklop van God kom in ons gebedslewe, hoe meer sal ons verander word na die beeld van God. Ek moet ook teen myself en my vleeslike begeertes bid en vir God vra om vir my die geestelike gawes te gee wat ek kortkom. In opregte gebed, begin ons die dinge begeer wat God begeer, om die dinge lief te hê wat Hy liefhet en die dinge te wil wat Hy wil.

Gebed vereis verandering by jou. Wanneer ons bid: “Lord, let your Kingdom COME”, moet ons daarmee saam bid: “Lord, let my Kingdom GO.” Gebed vra aksie. Ek moet die goed doen waarvoor ek bid. As ek vir die armes bid, moet ek ook iets doen aan die armes se nood. Gebed vra persoonlike commitment en toewyding.

Sφren Kierkegaard het een maal opgemerk dat hy eers gedink het om te bid is om net te praat. Tot hy die geheim van gebed geleer het en dit was om ook te luister. Om na God te luister en te luister daar waar daar nood is. Dikwels kort ons medelye in ons gebedslewe. Daar moet opregte empatie wees tussen die bidder en die een vir wie gebid word. Daarom moet ons mense opreg liefhê om regtig vir hulle te bid.

Daar is ook iets soos “flitsgebede”; dit is wanneer jy iemand deur die dag raakloop wat ’n gebed benodig. Dit is om tussen jou aktiwiteite deur vir iemand te bid, selfs al is jou oë oop. As ’n taxibestuurder onverskillig bestuur en ’n sperstreep op ’n hoogte verbygaan, kan jy vir hom bid vir insig en dat hy veilig mag wees. In die proses vat dit ook jou padwoede weg. As jy voel jy ervaar  padwoede oor ander mense se onverskillige bestuursvermoë, moet jy net bid. Dit bring kalmte in jou gemoed.   

Almal wat in ’n diep verhouding met God was, het gebed as die hoofsaak in hulle lewens beskou. Die Here Jesus stel self vir ons daarin ’n voorbeeld in Mark 1:35 wat as volg lees: “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid.”

Martin Luther het verklaar: “Ek het so baie sake om af te handel dat ek nie kan vordering maak as ek nie elke dag drie ure lank bid nie.”

Soms bid ons net vir dinge. Die verhaal word vertel van ’n predikant wat na Johnnie se huis gekom het, en tydens die gesprek het hy hom gevra: “Bid jy elke aand, my seuntjie?” “Nee,” antwoord Johnnie, “sommige aande wil ek niks hê nie.” Sommige mense deel hierdie selfsugtige siening van gebed. Gebed is nie net vir persoonlike versoeke nie – dit is vir belydenis, lof, danksegging, aanbidding en voorbidding vir ander. Gebed is ’n bediening van smeking vir ander en aanbidding van God, sowel as versoeke vir myself.

In ons teksgedeelte staan die gemeenskaplike verantwoordelikheid uit. Gelowiges moet vir mekaar bid. Wanneer iemand siek is, moet die ouderling ontbied word om vir die sieke te bid. Verder sê Jakobus in hoofstuk 5:16 die volgende: “Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Met hierdie “gesond word” word bedoel die gebrokenheid in die gemeenskap wat gesond moet word. In Jakobus se tyd was daar in die vroeë kerk baie spanning rondom klasseverskille, kultuurverskille, ryk en arm, die veragting van die weerloses en die misbruik van die tong. Dan moedig Jakobus die gelowiges aan om te bid, dat die spanning en verskeurdheid tussen die gelowiges gesond sal word.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder- en jongman-jare ’n onverskillige rebel wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en in die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou gebid dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite-egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

Ons moet nie wag om so te “voelvoor ons bid nie. Gebed is soos enige ander werk. In die begin voel ons nie lus nie, maar ons dwing onsself om dit te doen. Na ’n rukkie word dit lekker en jy geniet dit. Daarom is gebed ’n geestelike dissipline. Daarom moet ons gebedspiere opgewarm word, sodat wanneer die bloedvloei van voorbidding eers begin het, ons dit sal geniet.    

Ek hoef nie soos ’n Concorde-vliegtuig, grasieus en voortreflik, te bid nie. Al sukkel jou gebed ook om van die grond af te kom – God luister. God oordeel nie ons gebede op grond van die korrektheid daarvan nie.

Te midde van ’n menigte aktiwiteite, moet ons nie toelaat dat enigiets ons gebedstyd indring nie. Die duiwel sal ons so besig hou, dat hy ons net nie biddend  kry nie. Hy weet dat hy geen wapen teen gebed het nie. Hou u gebedstyd met alle ywer, soos Daniël, wat drie keer per dag tot die Here gebid het.       

In Openbaring 8:4 staan daar:  “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat vir God aanneemlik is.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.

Woestynmense soek dieper

SKRIFLESING:  Luk 3: 1 – 20

Willem Nicol skryf in sy boek “Gebed van die hart”: “Diep in ons weet ons dat ons moet soek wat ons verloor het.” Augustinus was ook bekend vir sy woorde: “By God alleen het ek rus gevind.”

Woestyne vorm ’n belangrike deel van die Bybelse teologie. Telkemale lees ons in die Bybel van woestynervarings wat die volk Israel of sekere indiwidue deurgegaan het. Die 40 jaar wat die volk Israel deur die woestyn getrek het, was ’n suiweringsproses, sodat die volk kon leer om net van God afhanklik te wees. Die verhaal van Johannes die Doper in die woestyn is ook ’n verhaal van suiwering. Johannes die Doper het homself afgesonder in die woestyn, sodat hy God helder kon hoor en sy prediking van bekering onverstoord kon bring na die skare. Sy klere was kameelhare en sy kos was sprinkane en heuning. Die mense het gestroom om na sy prediking te luister, wat eg, anders en deur God geïnspireer was.

Johannes die Doper se unieke lewe en lewensomstandighede, sy wysheid en sy prediking het meegewerk tot die ontstaan van die woestynvaders.    In vandag se preek gaan ek aan u verduidelik hoe die era van die woestynvaders ontstaan het.

In die Middeleeue was Vader Wetenskap en Moeder Kerk met mekaar getroud. Die wetenskap kon niks sê wat die kerk nie eers gesanksioneer het nie. Daar was dus nie ruimte vir objektiewe selfstandige wetenskapbeoefening nie.

As die wetenskap iets nuuts op die tafel plaas en die kerk was nie daarmee gelukkig nie, is sodanige wetenskaplikes maklik gebrandmerk as ketters en ook vervolg. Toe kom daar ná die Donker Middeleeue ’n groot egskeiding tussen Wetenskap en Kerk.

Ons noem dit die Verligting. Die paaie van die wetenskap en die kerk het nou geskei en wetenskaplikes het hulle nie meer gesteur aan die sanksionering deur die kerk nie. Dit was die begin van die ontstaan van Universiteite wat met objektiewe maatstawwe nuwe kennis gegenereer het. Daar het as’t ware ’n skeiding gekom tussen brein en hartsdinge. Dit was ’n positiewe ontwikkeling, maar dit het nie die mens se soeke na God, na die misterie, minder gemaak nie. Inteendeel die soeke na God word net al groter en daarom is daar wêreldwyd ’n ontwaking van spiritualiteit. Een van die sogenaamde Godsbewyse is dat die mens in homself / haarself  ’n behoefte het na ’n hoër misterie, wat ons God noem.

Daarom is dit ’n ernstige fout om brein en hartsdinge van mekaar te skei. Eintlik moet alles, die brein én hartsdinge, deel wees van spiritualiteit. Thomas Merton, die Katolieke teoloog, skryf: “How mistaken I was to make contemplation only a part of […] life. For a contemplative his whole life is contemplation.”

Ronell Bezuidenhout skryf: “Alles wat ek doen, doen ek as ’n spirituele mens. Alles wat spiritueel is, doen ek as ’n denkende mens.” Daarom behoort daar nie ’n kloof te wees tussen die wetenskap en die kerk nie. Ook die wetenskap getuig van die misterie van God. Daarom praat ons van die CORAM DEO – dit is om  alles voor die aangesig van God te beleef.

Maar ons moet nog verder teruggaan om die era van die woestynvaders te verstaan. Aanvanklik was die vroeë kerk erg vervolg, omdat hulle nie die keiser aanbid het nie. Keiser Domitianus het byvoorbeeld ekonomiese sanksies ingestel teenoor enigiemand wat hom nie as “kurios” aanbid het nie. Eers as jy voor die beeld van die keiser buig en ’n offer bring, het jy ’n merkteken gekry op jou hand of voorkop, wat jou toestemming verleen het om in die stad handel te dryf. Die Christene kon dus inderdaad nie voor die keiser buig nie, want hulle kon slegs buig voor die “Kurios” van die kuriosse. Dit het daartoe gelei dat hulle letterlik “ ’n stryd ten brode” gevoer het om aan die lewe te bly.

Hulle het hulleself inderdaad as vreemdelinge en bywoners in die wêreld beskou. Diognetus het geskryf (vrylik vertaal): “Alhoewel hierdie mense (die Christene), net soos ons, in huise bly, is hul gedrag meer soos dié van onbekende mense. Hulle neem deel aan die aktiwiteite van die stad, net soos  ons, maar in alles is hulle vreemdelinge. Enige vreemde land is vir hulle ’n moederland, en enige moederland is vir hulle ’n vreemde land.” 

In die vierde eeu het keiser Konstantyn hom tot die Christelike geloof bekeer. Hy het staatsveiligheid aan al die Christene gewaarborg en dit het ’n einde gebring aan die swaarkry en vervolging van Christene. Dit was enersyds ’n wonderlike ontwikkeling, maar dit het ook slegte nuus vir die Christene beteken. Hulle het verleer om te ly en swaar te kry vir hulle geloof. Die betekenis om “vreemdeling” en “bywoner” te wees, het vervaag. Dit het so goed met die Christendom gegaan dat hulle spoedig in hulle geloofslewe vervlak het.

Vir duisende Christene was die vervlakking van die geloofslewe vir hulle onaanvaarbaar. Hulle het toe hulle toevlug geneem tot woestyne, om weer te ervaar wat dit beteken om ’n “vreemdeling” of  ’n “bywoner” te wees. Hulle wou wegvlug van die oppervlakkigheid en die vervlakking van die alledaagse lewe. Hulle wou God diep en intiem ervaar. Daarom het hulle na woestyne toe gevlug. Woestyne is plekke van stilte. In die stilte kon hulle God se stem weer hoor. Woestyne speel ’n belangrike rol as ’n tussentydperk vir “tussen-in-mense”. Ons leef tussen Oos van Eden en die hemelstad. Ons moet ons nie te gemaklik maak in hierdie lewe nie. Daarom speel woestyne ’n belangrike rol in die Bybelse geskiedenis.

  • Die verhaal van Abraham die aartsvader speel af in die woestyn.
  • Moses leef in die woestyn, om hom gereed te maak om die volk uit Egipte te verlos.
  • Die volk Israel trek 40 jaar deur die woestyn.
  • Elia vlug na die woestyn toe Isebel hom wou doodmaak, omdat hy die Baälprofete uitgeroei het.
  • Johannes die Doper het in die woestyn die pad vir die Here gelyk gemaak.
  • Jesus Christus was vir 40 dae in die woestyn, om Hom gereed te maak vir Sy aardse bediening.

Woestyne is plekke van stroping, van stryd, van afsondering, van nuwe ontmoetings, van lewensverdieping en ’n plek van geboorte. In woestyne word jy gevorm tot ’n beter kwaliteit lewe.

Daarom ervaar mense wat deur woestyn-tye in hulle lewe gaan, dat dit van die beste tye in hulle lewe was. Hulle het weer geleer om afhanklik van God te wees. Woestyn-tye kan wees ernstige siekte, kanker, finansiële nood, alleenheid, egskeiding, dood van ’n geliefde of enige ander stuk swaarkry wat oor ’n mens se lewenspad kom. Woestyn-tye stroop jou van trots en selfversekering, soos wat die herfs die bome stroop van hulle blare. Daarom is daar ook in die herfs- en wintertye van jou lewe ’n unieke skoonheid en verdieping, wat jou nader aan die Here bring.      

Die vroegste woestynbewoners het nie gevlug uit die dorpe om niks vir die samelewing te beteken nie. Nee, hulle het juis woestyne toe getrek om hulself geestelik te verdiep, ten einde geestelike begeleiers te word vir ander.

In die embrio-fase van die Monastiese fase van die kloosterlewe het monnike en nonne buite die dorpe in die begraafplase gewoon, om die demone te beveg en so die dorp te beskerm. Daar was die bygeloof dat demone deur die dag die dorp invaar om die dorpelinge te teister en dan snags na die grafte terugkeer om te “rus”, want demone moet darem ook rus. Die woestynbewoners het dan deur gebed en afsondering in die nag die demone beveg.

Later het hulle kloosters opgerig in woestyne, wat ’n plek was van studie, wysheid, geleerdheid, toewyding, egtheid, en uiterste geloofsdissiplines. Mense van die dorpe en stede het na hulle gestroom om wysheid en geestelike begeleiding. Kloosters in die woestyne het plekke geword van diep nadenke oor God. Daar was geen plek vir oppervlakkigheid en vervlakking nie. Gelowiges is gevorm om unieke Geesvervulde lewens van oorgawe te leef.

Ronell Bezuidenhout skryf: “Die ou kerkvaders en -moeders het geweet dat om die ‘gestalte van Jesus’ aan te neem – om die mens te word soos God menswees oorspronklik bedoel het om te wees – nie vanself gebeur nie. Die gawe van kindskap van God word gratis aan jou gebied. Met ander woorde, jy is dit! Maar dan impliseer dit steeds dat jy, in die woorde van die Hebreërskrywer, jou babakos moet los en vaste kos moet begin eet. Jy kan nie in jou ‘baba-fase’ van kindskap bly nie. Min dinge in hierdie lewe kom sonder inspanning.”

Is jy en ek bereid om in hierdie tyd van Pinkster, onsself weer opnuut toe te wy om die Here met die nodige inspanning te dien, soos wat die woestynvaders vir ons die voorbeeld gestel het?

Gestroop van alles, was Johannes die Doper ’n besondere werktuig in die hande van die Here. Mag ons ook gestroop word van dit wat in die pad staan van die egtheid van ons geloof.                                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Bezuidenhout, Ronel (2015-02-18). Woestynwysheid. Ervaar God opnuut (Afrikaanse uitgawe). Lux Verbi. Kindle Edition.