Waar selfsug lei, volg blindheid


SKRIFLESING: Gen 13: 1 – 18

Selfsug is die penwortel van alle sondes. Dit is seker die oudste sonde van al die sondes. Dit het reeds begin by Adam en Eva in die Paradys. (Hulle wou soos God wees. Dus het hulle net aan hulleself gedink.)

In ons gelese gedeelte sien ons hoedat Abram en Lot in ’n situasie beland waar hulle gedwing word om te kies om óf selfsugtig óf onselfsugtig op te tree. Maar waar het dit begin? Dit het begin waar baie probleme so dikwels begin, naamlik by materialisme, besittings en rykdom.

In Gen 13: 2 en 5 word twee keer so half terloops vir ons gesê dat beide Abram en Lot in Egipte “baie ryk” geword  het aan vee, silwer en goud.

Nou is daar natuurlik aan die besit van stoflike dinge as sodanig niks verkeerd nie. Dit is gawes van die Here wat Hy in sy goedheid aan sy kinders uitdeel. Wilhelm Vischer, die Switserse teoloog sê dit mooi: “Ons God is die Here van hemel en aarde en alles behoort aan Hom – ook die goud en die silwer. Daarom moet ons dit nie snaaks vind as Hy in sy goedheid en genade soms sy kinders beskenk met ’n oorvloed van gawes nie. Hy kan dit bekostig!”

Maar nou leer lewenservaring ook ander lesse. In die praktyk is die saak van rykdom nie altyd so probleemloos nie. Die Bybel waarsku op ’n paar plekke dat besittings en goed die kiem van versoeking en verleiding bevat.

Iemand het gesê dit lyk byna of geld taai is, want dit het ’n manier om as jy eenmaal daaraan gevat het, aan jou te bly klou. Aardse goed het die neiging om te groei op ons, om al dieper in ons harte en lewens in te kruip totdat dit ons so vul, so vasvang dat dit God en ons naaste heeltemal uit ons lewens kan uitdruk. Dit is omtrent soos onkruid, wat so welig groei dat dit later die gras heeltemal verdring.

Ongelukkig is dit ook so dat geld mense heeltemal kan verander – hulle drome, hulle waardes, hulle diepste self. En eendag as jy weer jou oë uitvee, kom jy agter jy leef nie meer vir God en jou naaste nie, maar teen hulle.

Abram en Lot se rykdom het gemaak dat die land hulle nie meer kon dra nie en toe het daar twis en vyandskap ontstaan tussen die dienaars van Abram en Lot. Hulle veewagters het begin baklei oor genoeg weiding vir elkeen van hulle base.

Wanneer dit duidelik word dat die beste oplossing in die situasie sou wees dat die oom en nefie maar elkeen ’n eie stuk grond vir hulle boerdery kry, moes daar grond gekies word. Hulle gaan staan dan op ’n punt van waar hulle die hele omgewing kan oorskou: Wie vat nou watter stuk van die land?

’n Mens sal dink dat Abram, as senior vennoot, eerste moes kies. Maar Abram het sy les geleer. In teenstelling met Gen 12 sien ons Abram hier na vore tree as ’n merkwaardige voorbeeld van sagmoedigheid en onselfsugtigheid.

Ons lees in Genesis 13: 8 – 11:  “Abram sê toe vir Lot: ‘Laat daar tog nie stryd wees tussen my en jou, en tussen my veewagters en jou veewagters nie. Ons is immers broers.  Lê die hele land nie oop voor jou nie? Trek liewer van my weg. As jy links gaan, sal ek regs gaan; en as jy regs gaan, sal ek links gaan.’ Lot het rondgekyk en gesien dat daar in die hele Jordaanstreek volop water was. Voor die Here Sodom en Gomorra verdelg het, was dit soos die tuin van die Here, en soos Egipteland, in die rigting van Soar. Lot kies toe vir hom die hele Jordaanstreek. Lot het ooswaarts getrek, en so het hulle van mekaar geskei.”

Ons leer Abram hier ken as ’n mens vir vrede. Abram het tot elke prys, ook ten koste van homself, vrede gesoek. Hy was werklik ’n lewende monument vir vrede.

Hierdie verhaal wil hê dat ons dié geloofsvader sal onthou as ’n mens wat letterlik die maksimum gedoen het, selfs homself te kort doen om bloedvergieting en twis en oorlog te vermy. Dit sal ons ook moet onthou vir ons huwelike, ons gesinne, vir Suid-Afrika met sy brose volkereverhoudinge en vir ons werksplek.

Gaan ek selfsugtig my eie belange bevorder of gaan ek die beswil van die ander party soek? ’n Mens kan kortsigtig net vir jouself die beste soek, sonder om na die ander party se belange te kyk. Dit sien ’n mens in selfsugtige huweliksverhoudinge. Jy sien dit in die ekonomiese wêreld, waar mense vir hulself die beste deal kies, ten koste van die ander party.

In Suid-Afrika, kan ons as Afrikaners dalk vir onsself die beste gun, sonder om na die belange van ander nasies en kulture te kyk. (Het ons dit nie onder Apartheid so ideologies beoefen nie?) Of swart mense kan vir hulself die beste deel probeer kry, ten koste van ander volkere in Suid-Afrika. Of regeringsamptenare kan vir hulleself rykdom kies, selfs korrup wees, ten spyte van miljoene wat in armoede leef. Daarom leef ons in ’n skewe reënboogland, in ’n mislukte staat. Ons leef in ons eie “Sodom en Gomorra”, wat ons met ons eie selfsugtige keuses gekies het. Ons kies dikwels soos Lot vir onsself kortsigtig die beste, om later daaroor in verleentheid te staan.

Waarom het Abram so onselfsugtig opgetree? Omdat hy sy eintlike taak, naamlik “om tot seën vir die nasies te wees” onthou het. Hy moes ’n getuie vir God wees en ’n getuie van God se heilsplan met die wêreld. Sou hy onselfsugtig optree, kon hy dit verongeluk. Suid-Afrika het ook baie Christene. Sommige sê ongeveer 70%. Ons is bedoel om tot heil te wees vir Suider-Afrika en vir die hele Afrika.

Wat is die verskil tussen Abram en Lot? Lot het net die onmiddellike en die nabye raakgesien. Hy wou vir homself net die beste deel van die koek opeis. Abram het egter ’n geloofsoog gehad. Hy het wyer gekyk. Hy kon sien dat daar iets agter elke keuse lê, naamlik om tot heil vir die wêreld op te tree.

Kan ons nie ook maar elke dag onselfsugtig kies, tot heil van ons huwelike, tot heil van ons land, tot heil van ander volkere en mense nie? Kyk ek en u met ’n geloofsoog of met ’n tonnelvisie? Tonnelvisie vra altyd wat is vir my die beste? ’n Geloofsoog kyk altyd wyer na God se plan, na ’n geseënde toekoms en die heil van my medemens. Dan kan ek nooit verkeerd gaan nie.

Abraham se onselfsugtige keuse het vir hom loon gebring. God het vir hom gesorg. Toe Abraham so onselfsugtig optree, het hy God vertrou. Hy het geweet God sal vir hom sorg. Ek dink baie keer die rede waarom mense selfsugtig optree is doodeenvoudig omdat hulle God nie vertrou nie.

Wie op God vertrou kan menslikerwys “dom” kies, teen hulself en eie selfsugtige begeertes, omdat hulle weet dat God in die toekoms vir hulle sal sorg. Hulle vrees nie die toekoms nie, want hulle kies in die hede reg.

Lot se einde was minder  voorspoedig. Hy het gekies vir voorspoed. Hy het gaan bly teenaan Sodom. Hy het miskien gedink hy sal Sodom kan verander en toe verander Sodom vir hom. Sodom en Gomorra is later vernietig en Lot se vrou het ’n soutpilaar geword.

Calvyn sê hieroor dat Lot gedink het hy kies die hemel. Toe die Jordaanstreek soos die “tuin van Eden” gelyk het, … en toe eindig dit alles in die hel. As ons wil hê ons huwelike, gesinslewe en ons land moet in die hel eindig, moet ons so selfsugtig kies soos Lot.

Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê: “Good guys come second!” Dit lyk partykeer of dit waar is. In die korttermyn bring selfsug miskien voordeel, maar in die langtermyn bring dit nadeel. Dit kort ’n geloofsoog om agter die onmiddellike nou, vir God raak te sien. Selfsug maak jou blind vir die toekoms. Jy sien net jou onmiddellike finansiële voorspoed raak. Jy kan nie meer die lig van die waarheid raaksien nie. Jy is blind vir die lig van die toekoms. Wie kortstondig en selfsugtig dink, sal nie die lig raaksien nie.

In vers 13: 14 – 15 lees ons hoe die Here nadat Lot weg is en Abram beteuterd staan, vir Abram gesê het: “Die Here het egter, nadat Lot van hom af weggetrek het, vir Abram gesê: ‘Kyk rond! Kyk van die plek waar jy is, na die noorde, die suide, die ooste en die weste; want die hele land wat jy sien – aan jou gee Ek dit, en aan jou nageslag vir altyd.’ ”

Die Here Jesus sê mos: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Geseënd is die sagmoediges (soos Abram), want hulle sal die nuwe aarde ontvang.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Sekere foto’s is deur KI (Kunsmatige Intelligensie) geskep.

One thought on “Waar selfsug lei, volg blindheid

Lewer kommentaar op sandreyerskryf.wordpress.com Kanselleer antwoord