God beskik, maar die mens moet wik


SKRIFLESING: Rut 1 – 4

Die spreekwoord lui: “Die mens wik, maar God beskik.” Wik beteken om planne te maak. Beskik beteken dat God besluit hoe dinge gaan gebeur. Die spreekwoord sê dat ons maar kan planne maak soos ons wil, maar God neem die finale besluite.

Vanoggend wil ons hierdie woorde omdraai, deur te sê: “God beskik, maar die mens moet wik.” God beskik vir ons geleenthede, maar ons moet planne maak om daardie geleenthede te benut.

Maar wat sê die Bybel hieroor? Hoe moet ons dit hanteer? Ek lees in Rut 1 – 4 ook van ’n hongersnood, wat waarskynlik droogte as oorsaak gehad het. Die verhaal van Rut wil ek toepas op Suid-Afrika.

Dit is in kort ook die verhaal van Naomi in die boek Rut. Die boek Rut is meer die verhaal van Naomi as dié van Rut. Die storie gaan nie soseer oor hoe Rut ’n man gekry het nie, maar oor hoe Naomi op haar oudag versorg is; hoe God beskik het, maar Naomi gewik het.

Naomi se verhaal is ’n verhaal van swaarkry en lyding. Sy het ’n sukkelbestaan gevoer. Daarom verklaar sy: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, maar Mara, want die Almagtige het die lewe vir my bitter gemaak … Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.” Die woorde klink sommer baie bekend. Dikwels voel ons ook dat die lewe bitter geword het, so asof God teen ons gedraai het. Somtyds lyk die toekoms in die “nuwe Suid-Afrika” vir ons baie donker en uitsigloos. Teleurstellings is dikwels deel van ons lewe. Die lewe het vir ons sonder hoop geword.

So het Naomi ook gevoel. Sy is getroud met ’n sieklike man, Elimelek. Haar twee seuntjies Maglon en Kiljon is ewe sieklik. Maglon was nie baie sterk nie, soos sy naam aandui. Kiljon se naam beteken “maer/uitgeteer.” Naomi moes dus al vroeg in haar lewe leer om met siekte saam te leef. Toe kom die depressiejare en hulle boer uit op hulle stukkie grond daar buite Betlehem. Daar in Betlehem wat beteken “huis van brood”, het hulle broodsgebrek begin ly. Hulle vlug toe suidwaarts tot in die land van Moab. Tussen die Moabiete het hulle gaan woon. Die Israeliete het neergesien op die Moabiete omdat die Moabiete ontstaan het uit die bloedskande wat Lot met sy eie dogter gepleeg het. Daar tussen die uitgeworpenes moes hulle gaan bly.

Toe sterf Elimelek en Naomi word ’n enkelouer en met twee seuntjies agtergelaat. Met groot moeite maak sy hulle groot. Uiteindelik het Maglon en Kiljon met Orpa en Rut, twee Moabitiese meisies getrou. Nog voordat hulle kinders kon hê, sterf Maglon en Kiljon. Naomi hoor toe dat dit beter gaan in Juda en besluit om terug te trek na Betlehem. Orpa het teruggedraai, maar Rut het saamgegaan.

Toe Naomi en Rut daar in Betlehem opdaag, was hulle lewens by ’n doodloopstraat. Die lewe was uitsigloos. Hulle kom in Betlehem aan, sonder ’n sent. Naomi en Rut het waarskynlik gevoel dat hulle gekom het aan die einde van alle hoop. Naomi het verskillende opsies gehad. Sy kon soos verskeie boemelaars op parkbankies haarself oorgee aan drank. Of sy kon haar skoondogter uitstuur om ’n prostituut te word. Naomi sou wel op een of ander manier van die wêreld kon afklim.

In Naomi se doodloopstraat, beskik God vir haar ’n uitweg. Hierdie uitweg se naam was Boas. God het dit beskik dat Rut juis are opgetel het op Boas se land. Boas was ’n vermoënde familielid aan Naomi se oorlede man se kant. In die Israelitiese familiereg was dit gebruiklik dat die naaste familielid die verantwoordelikheid het om as losser op te tree vir die betrokke weduwee. Die losser moes met die weduwee trou sodat sy finansieel versorg sou wees en daar ook ’n nageslag verseker kon word vir die oorledene.

Boas was die tweede naaste bloedverwant. Hul naaste bloedverwant sou nie sommer met Rut trou nie, want as daar kinders gebore sou word uit die huwelik, sou dit sy eie seuns se erfdeel in die gedrang bring. Boas was egter ongetroud en in sy middeljare en hy het finansieel vooruit geboer. Boas was dus hul enigste hoop.

Die probleem was egter dat hoewel Boas doodgoed was, hy ook “goed dood” was! Daarom het hy nooit tot trou gekom nie. Hy het doodeenvoudig net nie belanggestel om te trou nie.

Hy het haar raakgesien daar op sy lande waar sy are opgetel het. Hoewel sy mooi en jonk was, het hy haar as ’n “dogter” gesien. In ’n latere gesprek prys hy haar as “my dogter … wat agter geen man, arm of ryk aanloop nie.” Miskien het hy tog iets vir haar gevoel, want hy gee sy snyers opdrag om ekstra are op die land agter te laat. Hy verbied ook sy werkers om haar seksueel te teister, daarom sê hy vir sy werkers om “haar nie lastig te val nie.” Hy reël ook vir haar kos daar op die lande.

Dit is duidelik dat Boas iets meer vir Rut gevoel het as respek en vriendskap. Tog neem hy geen verdere inisiatief nie. Hy was inderdaad doodgoed, maar ook goed dood. So gaan die oesseisoen verby en Boas neem geen inisiatief nie. Die ervare Naomi besef Boas het ’n bietjie aanmoediging nodig.

 Sy weet God het vir Boas as losser beskik volgens die Israelitiese familiereg, maar nou moes sy wik en iets doen om Boas en Rut bymekaar uit te bring. Sy weet God het beskik, maar nou moes sy wik.

Daarom gee sy vir Rut die volgende opdrag. Rut moet ’n lekker bad neem, haarself mooi maak, grimeer, parfuum aansit en haar mooiste klere aantrek. Dan moes sy gaan wegkruip by die dorsvloer, want Boas sou die aand daar gaan slaap het, om sy oes op te pas. Sy moes wag totdat Boas klaar geëet het en klaar gedrink het. Die wyn sou sy weerstand verder verlaag.

Dan moes sy by Boas se voete gaan lê en wanneer hy in die nag van haar bewus word, moes sy hom konfronteer met haar reg dat hy vir haar as losser moes optree. As’t ware moes sy vir hom die ja-woord vra. In Hebreeus beteken om by ’n man se voete te lê, dat die vrou “verleidend uitlokkend” by die man lê. Hierdie handeling maak nie van Rut ’n goedkoop meisie, wat net agter Boas se geld is nie. Nee, sy eis net haar reg volgens Israelitiese familiereg.

Boas word wakker van die sagtheid langs hom, hy ruik die parfuum en in die donker vra hy vir haar wie sy is. Sy vra toe sommer dadelik ook die ja-woord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser, neem my nou onder u beskerming.”

Die sagtheid van Rut, haar parfuum, sy respek vir haar, haar brose afhanklikheid, die wyn, sy gewete, alles word skielik net te veel vir Boas. Dan tree Boas soos ’n ware heer op. Hy belowe om met haar te trou en vir haar as losser op te tree. Hy beveel ook sommer vir Rut om by hom te lê tot die volgende oggend.

Die volgende oggend is Boas ’n nuwe mens. Hy wat eers goed dood was, wik nou vir die vale, want hy is smoorverlief. Daar is egter een probleem. Die naaste familielid het die eerste reg om as losser op te tree. Hy is die tweede naaste familielid. Daarom konfronteer Boas die man in die stadspoort voor die oudstes as getuies met ’n tweeledige vraag: “Is jy bereid om Elimelek se stukkie grond by Naomi te koop?” Die man antwoord dadelik “Ja!”, want hy sien rand en sent. Met die tweede vraag stel Boas vir die familielid ’n strikvraag: “Is jy bereid om ook met Rut te trou, sodat die grond in die familie kan bly?” Dit sou beteken as Rut kinders kry, sou die grond terug na haar kinders gaan. Daarvoor sien die man nie kans nie. Wat sou dit vir hom beteken om die grond te koop en later weer daarvan afstand te doen? Sy antwoord is ’n duidelike “Nee!”.  

Daarom het hy sy sandaal uitgetrek en vir Boas gegee.  Die betekenis van die handeling  word as volg verduidelik met KI: “Met ander woorde, wanneer iemand ’n reg (byvoorbeeld die lossersreg of erfreg) aan iemand anders oorgegee het, het hy dit simbolies aangedui deur sy sandaal uit te trek en dit vir die ander persoon te gee. Dit was soos ’n handtekening of ’n stempel vandag – ’n openbare bevestiging dat die transaksie wettig en geldig is.”

Nou is die knoop vir die huwelik deurgehaak. Boas trou met Rut. Nou is Naomi ook op haar oudag versorg en beklee sy haar regmatige status in die gemeenskap. Uit die huwelik is gebore Obed, die oupa van Dawid. Obed kom dus ook voor in die geslagsregister van Jesus Christus.

Die bitter storie van Naomi het verander in ’n sprokie. Haar bitterheid het in vreugde verander. Dit het gebeur omdat Naomi die geleenthede wat God vir haar gegee het, raakgesien het. Sy het geweet God beskik, maar sy moes wik. God het Boas en die Israelitiese familiereg beskik in haar guns, maar sy moes wik met die kanse wat God vir haar gee.

Daar is vandag so baie mense wat geleenthede by hulle laat verbygaan. Hulle sal liewer op ’n hopie gaan sit en hulle lot bekla. Ons leef in ’n veranderde samelewing met nuwe eise en nuwe bedreiginge. Maar sien u ook die geleenthede raak wat God beskik; gebruik u u geleenthede tot u beswil?

God maak nie van ons robotte nie. Nee, God het ons as mense geskape wat elke dag moet wik en weeg, en beplan. As dinge verkeerd loop in my lewe, moet ek God nie blameer nie. Ek moet myself eerder die vraag afvra: Het ek die geleenthede wat God vir my beskik het, reg gebruik? Geliefdes, word positief, sien soos Naomi die geleenthede raak wat God vir u en my beskik.

Ons moet nie net bid dat die Here sal beskik nie; die Here wil ook hê ons moet wik. Ons lewe in ’n tyd van planne maak.

Ek hoor onlangs van ’n boer wat sy boorde in plaas van met vloed-besproeiing, met druppel-besproeiing natlei. Hy spaar twee derdes water met die verandering in sy watervoorsiening. In die antieke wêreld het hulle in die woestyne tentdoeke gespan wat in ’n spiraal water aflei na ’n watertenk. Selfs net die nag se dou was genoeg vir die volgende dag se watergebruik. Planne is gemaak.

Daarom is die uitdaging vir Suid-Afrika se inwoners om net soos wat Naomi gewik het, om vir haar en Rut ’n toekoms te verseker, ook te wik met nuwe planne om in hierdie skewe reënboogland vir ons ’n toekoms te skep. Dit word al meer uitdagend om te boer. Dit word vandag al meer uitdagend om te oorleef in ons dorpe en stede. Dorpe en stede word al hoe gevaarliker. Hoë munisipale belasting, watertariewe en krag maak dat mense sukkel om te oorleef. Werksgeleenthede word al hoe skaarser. Daarom moet ons planne maak om al minder van die politici en die mislukte staat afhanklik te wees en ons eie toekoms te skep in hierdie land.

’n Student wat nie sy studies ernstig opneem nie, moenie dink dat gebed alleen hom of haar sal help nie. Om te bid dat die Here jou op die pad moet beskerm, maar jy ry onverskillig, sal nie help nie.

Om hard te werk in jou boerdery, maar gebed is nie deel van jou daaglikse godsdiensoefening nie, moet jy ook nie verwag dat jy geseënd sal wees nie. Iemand het gesê: Bid asof alles van God afhanklik is en werk asof alles van jou afhanklik is. Die twee gaan saam.

Ons moet wik, God sal beskik. Wik en weeg en beplan en bou u toekoms. Voorwaar: God beskik, ons moet wik. Ons moet wik en weeg met die geleenthede wat God elke dag vir ons gee. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, preke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD in aanhalingstekens gekwoteer. Die foto’s is almal deur KI geskep.

One thought on “God beskik, maar die mens moet wik

  1. Rina Bosch's avatar Rina Bosch 2025/08/18 / 07:18

    Baie dankie vir dié preek Paul, dit bring ook vir my perspektief!

    Like

Lewer kommentaar op Rina Bosch Kanselleer antwoord