Heiligmaking as gawe van die Heilige Gees


SKRIFLESING: 1 Petrus 1: 13 – 21 en 1 Pet 2: 9 – 10

Hoe sal u voel om twintig jaar op ’n platform op ’n paal deur te bring? Dit het inderdaad gebeur met ’n groep mense wat heilig wou lewe.

Hulle wou hulle nie besmet met die sondige aarde nie en het toe op platforms op pale gebly. Die ander mense moes vir hulle kos bring deur ’n klein deurtjie in die platform. Hulle het geglo dit is baie moeilik om op ’n paal te sondig. So het baie mense deur die loop van eeue probeer om ’n heilige staat te verwerf sodat hulle heilig kon word.

Eers het hulle ongetroud in kloosters saamgekom en hulle net met die godsdiens besig gehou. Hier en daar het hulle liefdesdiens toegepas. Partykeer was hulle heel goed georganiseerd soos byvoorbeeld die klooster-orde van Clugny wat letterlik duisende mense gehelp het. Maar meestal het hulle die kloosters op afgesonderde plekke gebou, soos onder andere in woestyne. Want so het hulle geredeneer: In die woestyn is daar net sand, geen versoekings nie.

Maar wat kan ’n donker afgesonderde klooster vir ’n stad soos Johannesburg met sy wolkekrabbers en fabrieke beteken of vir ’n plattelandse gemeenskap soos Adelaide of Fort Beaufort? Wat kan ’n paalchristen vir ’n verlore gaande sondaarmens sê? Want die paalchristen sit op ’n paal en die sondaar in ’n sonde moeras op die aarde.

Dan die boodskap vanoggend: Om heilig te word – om soos Jesus te word, beteken nie ek moet ’n paalchristen word nie – maar ’n “op die aarde, elke dag Christen”.

Maar wat beteken die woord “heilig” of “heiligmaking”?

Die Hebreeuse woord wil sê om “af te sonder”, soos wat die stam van Levi afgesonder was. Daar is twee Griekse woorde. Die een beteken: “Om apart te sit vir ’n heilige doel” en die ander beteken “om tot voltooiing of om tot volmaaktheid te bring.”

Die woord heiliging wil dus eintlik sê: Om myself af te sonder van die sonde, sodat ek algaande tot die volmaakte beeld van Christus groei. Maar hoe word ek heilig? Die Rooms Katolieke Kerk leer dat jy heilig word deur goeie werke, die mis gereeld te beoefen en om ’n ekstra myl te stap soos om byvoorbeeld ongetroud te bly, en ’n monnik of ’n non te word.

As Protestante glo ons egter vanuit die Skrif dat heiligmaking eintlik ’n geskenk is. Dit is ’n geskenk van God. Dit word aan my gegee met my wedergeboorte. As ek wedergebore is, dan weet ek, ek is heilig – ek is ’n nuwe mens.

Want luister wat staan in verse 18 en 19: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is in julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.” Met die implikasie daarvan in Hoofstuk 2: 9: “ Julle daarenteen is die uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, vir God afgesonder, die eiendomsvolk van God …”

Kortom gestel, Adelaide en Fort Beaufort is heilige gemeentes. Jy is heilig, jy is wat Christus van jou gemaak het: ’n Heilige. Jy hoef dit nie nog te word nie. JY IS HEILIG! LEEF DAN HEILIG!” Moenie op ’n paal gaan bly nie, maar leef heilig “op die aarde, elke dag”.

Maar hoe leef ek elke dag heilig? Lees wat staan in vers 13: “Wees verstandelik wakker.” Die ou vertaling lees: “Omgord julle lendene.” Wat beteken dit? Petrus gebruik ’n beeld uit sy tyd. In die destydse Romeinse Joodse wêreld het mans almal lang rokke gedra. Wanneer hulle egter begin werk het, het hulle hul rokke opgetrek en met ’n gordel vasgebind. Dan was hulle gereed vir inspanning. Maar Petrus sê ons moet ook ons verstand inspan. Want die Christelike godsdiens is meer as net emosies, gevoel en belewenis. Dit is ook ’n redelike godsdiens. Dit moet nie net my hart en my siel aanspreek nie, maar ook my verstand. Dit beteken “bedink” en “oordink” die tien gebooie. Bedink wat jy was en wat jy nou is in Christus Jesus.

Maar Petrus sê ook in dieselfde vers: “Wees nugter.” Moenie dat julle verdoof en bedwelm word deur hierdie wêreld nie. Want ’n wêreldgees verdoof en bedwelm baie mense. Eintlik sê Petrus: Julle asems moet nie ruik na materialisme, na uitspattigheid en onkuisheid nie. Vers 14 sê ons moet nie ons lewens inrig volgens ons sondige begeertes nie. Ons moet anderste mense word, met anderste begeertes. Ons andersheid beteken ons is vreemdelinge en reisigers op hierdie aarde. Christene is tentbewoners. Alhoewel ons in hierdie wêreld is, is ons nie van hierdie wêreld nie. Ons het ’n aardse paspoort en ’n hemelse identiteitsdokument. ’n Aardse paspoort met ’n werkspermit om in hierdie wêreld te leef en te werk. En ons het ’n hemelse identiteitsdokument van die Koninkryk van God. Ons behoort in die hemel, maar ons werk op die aarde. Ons het dus ’n tydelike paspoort om God se opdrag uit te voer, naamlik die uitbreiding van God se Koninkryk. God wil ons nie opsluit in ’n donker muwwerige ou klooster nie. Die klooster wat God ons gee, staan in vers 15. U hele lewenswandel, u hele lewe, die hele wêreld is u klooster. Leef heilig en afgesonderd van die sonde – binne-in die wêreld.

My werksplek, my huisgesin, my ontspanning, my sosiale lewe, my vriendekring is een stuk kloosterlewe.

My lewe en my werk moet afgesonderd wees vir Christus. Maak nie saak hoe sekulêr u werk is nie. Want Anglo-American die multi-miljoen maatskappy; Shell die oliereus; De Beers-myne; Iskor wat in die nag soos ‘n melkweg lyk; die fabrieksreuse met hulle fabrieksrook, derduidende werksmense en digitale klokmasjiene; die groot winkelsentrums met hul reklame, promosies en uitverkopings; die magtige staatsdiens met sy vorms en nogmaals vorms, wat jou van amptenaar tot amptenaar stuur, is alles Koninkryk van God.

Die skool, die winkel, die slaghuis, die bank en besighede en elke plaas, is alles Koninkryk van God. Die manier waarop jy werk, die manier waarop jy optree en praat, moet soos ’n kerkklok die liefde van God uitbeier.

Christus is Koning op my plaas, in my besigheid, in die skool, in my beroep en in die staatsdiens. Jy is God se verteenwoordiger. Daardie roetine-werk moet soos die gebeier van ’n kerkklok al harder en harder lui – Aan God al die eer, aan God al die eer!

In die klassieke Rooms-Katolisisme het Rome geglo dat winkeliers en bankiers reguit hel toe gaan, want hulle vra wins en rente. Toe kom Calvyn op die toneel en hy sê: Bankiers en winkeliers is met ’n hoog-heilige taak besig. Billike rente en billike wins het ’n hoër doel, dit moet ingespan word om my medemens te dien.

Of jy ’n dokter, onderwyser, klerk, boer, predikant, sekretaresse, verpleegster, prokureur, winkelier, bankier, of kassier is of sitrus of avokado’s toedraai – jy het ’n heilige beroep. Want God verwag dat jy jou werk op ’n anderste wyse sal doen.

Ook jou huislike lewe moet staan in die teken van “Ek en my huis, ons sal die Here dien.”

Ook jongmense moet afgesonderd vir die Here leef – jy moet anders as die ander jongmense leef.

Sommige terreine is nie meer heilig as ander nie. Die kerk is net so heilig soos die skaapkraal en die winkelvloer. Die mens voor die kasregister se werk is net so heilig soos die man wat op die kansel staan.

Die Rooms Katolieke denke, maar ook die meeste van ons se denke is vasgevang in ’n twee-terreine leer. Daar is ’n heilige kant en ’n onheilige kant. Mense praat van geestelik en beestelik. Maar dit is ’n verkeerde manier van dink. Christus het die hele kosmos gered. Alles op hierdie aarde is aan Christus onderwerp.

Baie klassieke skilders het vir Jesus en Maria geskilder in ’n ligkol. Vir Josef en die skaapherders skilder hulle in die skaduwee. Jesus en Maria is heilig, daarom word hulle in die ligkol geskets. Josef en die herders is onheilig, daarom word hulle in die skaduwee geskets.

Dit is egter verkeerde teologie. Christus het nie halwe werk gedoen nie; Christus het alles in beginsel heilig gewas in Sy bloed. Op alles moet Christus se lig val.

U sien, kortom is my hele lewenswandel, elke dag, elke minuut, elke jaar, elke plek, elke geleentheid heilig met ’n heilige opdrag. Koop dit uit! U sien dus, die leraar is eintlik maar net die toeruster van die gemeente. U is die eintlike prediker! U preek wel nie in die kerk nie, maar wel by die werk. Nie soseer met woorde nie, maar met die manier waarop u werk en getuig. U moet so werk, so praat, so dink en so getuig dat u hele lewe een stuk preek word. Ja, een groot stuk verkondiging van God se liefde en genade in u lewe.

“The man must be the best sermon his friends and enemies ever see or hear.”

U hele lewe, van Sondagoggend in die kerk tot Saterdagaand by die partytjie moet nuut wees, moet ’n nuwe heiligheid weerkaats. Om elke dag heilig te leef op die aarde is een van die moeilikste toetse vir ware Christenskap.

Maar heiliging is ’n voortgesette proses. Die Griekse werkwoord wat hier in vers 16 gebruik word vir “wees heilig” is in die toekomende tyd in ’n bevelsin geskryf. Dit wil soveel sê as dat heiliging nie ’n bushalte is nie, maar ’n pad is waarop ek stap. Want hoe heiliger ek word, hoe meer ontdek ek hoe onheilig ek is.

  • Hoe meer ek vrede maak met my medemens, hoe meer ontdek ek hoe ek in onvrede met my medemens lewe.
  • Hoe meer ek bid, hoe meer ontdek ek dat ek nie kan bid nie.
  • Hoe meer sedelik ek leef, hoe meer ontdek ek hoe onsedelik ek leef.
  • Hoe meer ek liefde aanleer, hoe meer ontdek ek hoe liefdeloos ek is.

U sien dus ek moet groei in heiligheid. Ek moet wees wat ek reeds in Christus is. (Ek kan dit nie word nie, want ek is dit alreeds in Christus Jesus.)

Die rede waarom ek heilig moet wees, lees ek in vers 16: “Want Ek, die Here jou God, is ’n heilige God.” Daarom begin ons elke erediens met ’n aanbiddingsgesang, want God is heilig. Brakwater pas nie by ’n vars fontein nie. Net so pas onheilige skepsels nie by ’n heilige God nie. Jy is heilig gemaak. Wees dan heilig, nie op ’n paal nie – maar op die aarde, elke dag.           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

One thought on “Heiligmaking as gawe van die Heilige Gees

  1. Rina Bosch's avatar Rina Bosch 2025/03/23 / 22:20

    Baie dankie vir die Woord verkondiging Paul! Dit is goed om weer te hoor waarvoor ons staan!

    Like

Lewer kommentaar op Rina Bosch Kanselleer antwoord