SKRIFLESING: Joh 19: 26 – 27
In my bediening as predikant het ek al dikwels opgemerk dat die dood mense weer bymekaar bring. Ek het al soveel male gesien hoe familielede wat jare laas met mekaar gepraat het, by die sterfbed weer die ou familiebande optel en met mekaar versoen raak. Jarelange vetes word dikwels ook by die sterfbed begrawe. Die dood herstel verhoudinge.

Dr Johan Pienaar skryf die volgende. Hy vertel dat net buite die ingang van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park daar in die veld ’n klein en baie ou begraafplaas is. Hy het die begraafplaas besoek en op twee interessante grafstene langs mekaar afgekom. Een is van ’n Johan (gebore 1911) en langs hom lê Valerie (gebore 1910). Lees ’n mens verder, staan op albei grafstene: “Deur ’n weerligstraal gedood op Mount Aux Sources op 18 Desember 1932”. Beide was in hulle twintigs en is deur dieselfde weerligstraal doodgeslaan.
Terug in die dorp daar naby sou hy die volle verhaal hoor. Hulle was van buurplase en het mekaar liefgehad. Hulle ouers was egter in ’n jarelange ou rusie gewikkel en daarom moes hulle mekaar in die geheim ontmoet … so ook op daardie noodlottige dag toe hulle met perde na Mount Aux Sources gery het.
Die rede vir die ouers se rusie is vandag onbekend. Was dit waterlei-beurte of beeste wat grensdrade gebreek het? Was dit politieke- of kerkgeskille? Dalk was dit ’n misverstand by die koöperasie. Wat ook al die rede was, die ouers het besluit om mekaar ten alle koste te vermy.
So het dit aangegaan tot op daardie noodlottige dag toe hulle kinders saam sterf. Dit het die ouers tot rede geruk, hulle het vrede gemaak en die paartjie langs mekaar begrawe.
So het elke plattelandse of stedelike gemeenskap talle gevalle waar bure of mense van dieselfde gemeenskap moeilik met mekaar oor die weg kom. Dikwels is daar familie-rusies of onenigheid. Gewoonlik is kwaai vriendskap van daardie onbenullige sake wat amper te gering is om met rede aan te voer. Dit kan ontwikkel in jarelange vetes, wat sleg is vir die gemeenskap of gemeente. In maatskappye of kleinsakeondernemings kan mense met mekaar in onvrede leef en so oneffektief vir die sakeonderneming word. Die gemeente kan oor kerksake baklei, met die gevolg dat mense hulle vertroue in die kerk verloor.
Jaco Thom skryf dat 1 Kor 13 as’t ware die bladmusiek is wat vir ons kom leer wat liefde is. As die gemeente die bladmusiek volg, is daar eenheid en samehorigheid in die gemeente. Soos daar verskillende musiekinstrumente is, so het elke lidmaat ’n unieke bydrae tot die orkes se liefdesimfonie. Maar ons moet die dirigent, die Here Jesus Christus, volg sodat ons nie die liefde vals speel nie. Wanneer die liefde vals gespeel word, kom daar onenigheid tussen bure en tussen mense wat voorheen vriende was. Daarom staan daar in 1 Kor 13: 1b: … maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword.
Dikwels ontstaan sonde met die bure en kwaai vriendskap met ander mense of familie met dié dinge wat 1 Kor 13 uitlig, naamlik ongeduld, jaloesie, verwaandheid en liggeraaktheid of die gewoonte om boek van die kwaad te hou. Hierdie gesindhede is die oorsaak van onvrede met die bure of iemand in die gemeenskap.

Met Jesus se dood aan die kruis op Goeie Vrydag leer ons ook hoedat Jesus ’n familie skep. Sy moeder Maria het verwese gestaan, besig om haar oudste kind te verloor aan ’n wrede dood. Johannes, Jesus se liefling-dissipel, het ook daar gestaan. Dan spreek Jesus Sy derde kruiswoord tussen 09h00 en 12h00.
Jesus het vir Maria gesê: “Daar is u seun.” Toe sê Hy vir Johannes: “Daar is jou moeder.” As’t ware skep Jesus hier nuwe familiebande. Hy bind Maria en Johannes in ’n nuwe moeder-en-seun verhouding.

Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ’n nuwe geestelike familie skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ’n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ’n geestelike familie.
Jare gelede was dit gebruik dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hulself elkeen met ’n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het. Dit was die teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers”. Aan die kruis was dit nie nodig dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ’n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.
Daar staan verder in Johannes 19:27 (b) dat Johannes vir Maria in sy huis opgeneem het. Dit impliseer versorging en ’n tuiste. So moet die kerk as geestelike familie vreemdelinge opneem in hulle midde as broers en susters van mekaar.

Die hartseer van die Christelike kerk is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges. Dit getuig van ’n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.
Wanneer jy in die huwelik tree, trou jy ook met jou skoonfamilie. Hulle word deel van jou familie. Wanneer jy nie jou skoonfamilie aanvaar nie, bring dit spanning en ongelukkigheid in die huwelik. Wanneer jy in ’n verhouding met Jesus Christus is, moet jy ook die familie van Christus aanvaar en liefhê. Jy kan jouself nie uitsluit van jou aangetroude familie nie. Jesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ’n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem, en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.
Jy kan nie die Here Jesus aanbid sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ’n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees (1 Kor 12). Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ’n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk nie, is jy soos ’n los steen, wat nutteloos buite die gebou rondlê.
Daarom het ons die verantwoordelikheid om by kerkbyeenkomste na die persoon toe te gaan wat ons die swakste ken en wat dalk ’n vreemdeling is en hom of haar te verwelkom en beter te leer ken. Dit is Christelike gasvryheid, wat mense verwelkom in die gemeenskap van gelowiges.
Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID myself afsonder op ’n eiland nie. Dan is ek doodeenvoudig nie ’n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.

Die prediker Fred Cradock het geskryf: “ The measure of your christianity is not who you feed, but who you eat with.” Ons kan maklik vir behoeftiges kos of ’n bydrae gee. Maar is ons bereid om saam met hulle te eet? Dit is die toets van ware Christenskap.
Netso kan ek nie op die kantlyn van die kerk staan en gedurig die kerk kritiseer nie. Ek moet deelneem aan my geestelike familie se aktiwiteite deur solidêr EEN met my geloofsfamilie te wees.
Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle mede-kerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ’n plek van sondaars is. Die kerk is ’n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter as ek nie my mede-kerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al nie.
Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.

Vanoggend vier ons die heilige Nagmaal. Die brood bestaan uit baie graankorrels wat gemaal is om een brood van te maak. Die wyn bestaan uit baie druiwekorrels wat saam gepers is om een glasie wyn te maak. So is God se kinders ook gemaal en gepers in Jesus se sterwe en opstanding om EEN HEILIGE ALGEMENE KERK te wees. Ons hoort bymekaar, want Jesus het ons gemaal en gepers om een geloofsgemeenskap te wees.
As u mooi kyk na die viering van die Nagmaal, gaan daar brood en wyn oorbly. Dit is bedoel vir die vreemdeling wat nog moet inskakel in die geloofsgemeenskap. Daarom moet die Here se kerk gasvry wees, om vreemdelinge te ontvang en welkom te laat voel.

Die kruis van Christus is soos ’n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ’n magneet na mekaar toe, om ’n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan. Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede-gelowige toe trek. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Baie dankie n puik preek baie waardvol.
LikeLike
Baie dankie n puik preek. So waardevol
LikeLike