SKRIFLESING: Hosea 1: 2 – 12
Die boek Hosea gaan oor die mense van Israel wat God verlaat het. Beide die profete Hosea en Amos het opgetree in ’n tyd toe Israel buitengewone voorspoed en welvaart beleef het. Die armes is ook tot die uiterste toe verdruk. Daar was geen sprake van geregtigheid, barmhartigheid en trou te vinde nie. (Mat 23:23) In die laaste 25 jaar van Israel as volk se geskiedenis het ses konings geregeer en hulle was verrot tot op die been. In dié tyd het Israel nie die Joodse geloof vaarwel geroep nie, maar het hulle ’n sinkretisme beleef met die Baäl-godsdiens. Gewoonlik is Baäl op die hoogtes aanbid en dit was hoofsaaklik ’n voorspoedsgodsdiens. Met ander woorde mense het Baäl aanbid om vir hulle vrugbaarheid van hulle vee en landerye te verseker. Vandag het ons ook die sogenaamde “welvaartsteologie”. Mense aanbid God vir wat hulle van God kan ontvang. Welvaartsteologie is baie sterk in die Amerikaanse kerke, asook in sommige swart kerke in Afrika.
Ongekende voorspoed en welvaart lei dikwels daartoe dat mense van God vergeet. So was dit ook in die tyd van Hosea, toe hy opgetree het as profeet. Die mense het van God vergeet. God het intense mensverlatenheid beleef. Hy was nie meer hulle enigste God nie. Ander gode wat welvaart sou bring, is nou eerder aangehang. Die volk Israel het ontrou geraak deur te hoer agter ander afgode aan.

Dan gee die Here opdrag aan Hosea om met ’n hoë-klas prostituut te trou. In hierdie lewensgetroue metafoor, verteenwoordig die profeet Hosea die Here en die prostituut, Gomer, verteenwoordig Israel met al sy afvalligheid.

Met hierdie metafoor wil die Here die oë van Israel oopmaak om te sien waarmee hulle besig is. So skandalig soos dit vir ’n profeet is om met ’n prostituut te trou, so skandalig is Israel se optrede. Daarom speel Gomer die rol van die afvallige eggenote, wat Israel is.
Uit hierdie skandalige huwelik word drie kinders gebore. Elkeen van die kinders se name dien ook as boodskappe aan die volk Israel.
Die eerste seun Jisreël roep die bitter verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van die Here deur die profeet Elisa oorskry het en meer bloed vergiet het as wat die Here beveel het. (God se opdrag aan Jehu was om koning Agab en sy vrou Isebel, wat in Jisreël gebly het, se bloed te vergiet. Hy het egter die hele nageslag van Agab sowel as Ahasia, wat koning was van Juda, op een na, almal gedood.) Nou sal God die koninghuis van Jehu in die Jisreël-vlakte wreek, deur hulle bloed te laat vloei.
Die tweede kind, ’n dogter, se naam was Lo-Rugama, wat beteken “Sonder ontferming”. Die Here het sy ontferming oor die volk Israel teruggetrek. Die derde kind was ook ’n seun met die naam Lo-Ammi, wat beteken “Nie my volk nie”. God wil sy liefdesverhouding met Israel beëindig.

Maar dan hou Hosea en Gomer se huwelik nie. Gomer vat haar goed en los vir Hosea met die drie kinders agter. Sy gaan terug na haar ou professie, naamlik prostitusie, deur haar liggaam te verkoop aan mans. Dit is juis die metafoor wat Hosea gebruik. Net so, verlaat die volk Israel vir God en verkoop hulle aan Baäl en die vrugbaarheidsgodsdiens. Die volk Israel was herhaaldelik ontrou aan God en vlug van hulle verantwoordelikheid. Van geregtigheid, barmhartigheid en trou verstaan hulle niks nie. Daarom is die Here se toorn so hard oor Israel.

Dan na ’n tyd, ons weet nie hoe lank nie, kry Hosea die opdrag om die vrou wat hy liefhet en wat telkens in owerspel terugval, te gaan terugkoop by die mark. Sy het waarskynlik in armoede en slawerny verval. Sy was so opgebruik deur prostitusie, dat Hosea haar met ’n afslagprys van vyftien sikkels silwer en ’n anderhalf homer gars, omtrent die helfte van ’n slaaf se prys, kon terugkoop. Dit laat my dink aan die verhaal van die verlore seun.

Teenoor die Here se verskriklike toorn oor Sy volk Israel, staan Sy troue genade. Hosea koop vir Gomer terug, net soos ons in die Nuwe Testament lees dat Christus Jesus ons vanuit die slawerny van sonde losgekoop het, deur aan ’n kruis te sterf.
Selfs die kinders van Hosea en Gomer se name word verander. Lu-Rugama wat beteken “Sonder ontferming” word nou Rugama wat beteken “Ontferming”. Lo-Ammi wat beteken “Nie my volk nie” word nou Ammi wat beteken “My volk”. So word Gomer (dus Israel) weer ’n getroue vrou vir God. Sy sê nie meer “My Baäl” nie, maar “My man”.
Wat leer ons uit die boek Hosea? Soos die volk gedurig gehoereer het agter afgode aan en die welvaartsteologie van die Baäl-godsdiens aangehang het, maak ons ook dikwels vir ons afgode. Johannes Calvyn het nie verniet gesê dat die mens se hart ’n afgode-fabriek is nie. Ons skep vir ons afgode wat ons troos in die lewe word.
Welvaartsteologie is baie gevaarlik. ’n Mens aanbid dan vir God om vir jou voorspoed en gawes te gee, maar jy aanbid Hom nie vir wie Hy regtig is nie. Jy moet hom aanbid ook in tye van beproewinge en aanvegtinge. Jy moet die Here nie vergeet in die voorspoed of in die teëspoed van jou lewe nie. Selfs al kwyn alles weg, moet jy nog steeds die Here dien.
Luister wat sê Habakuk 3: 17 – 19. Dit lees so: “Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop.” Dít is om die Here te dien en getrou aan die Here wees, ten spyte van teenspoed.
Ons hoereer agter afgode aan soos geld, besittings, geleerdheid en nog vele ander dinge. Dinge soos geregtigheid, barmhartigheid en getrouheid tel al minder. Die Here Jesus is dan nie meer ons enigste troos nie. Ons verplaas dan die Here met ander afgode. Onbewustelik loop ons weg van die Here, soos wat Gomer weggeloop het van Hosea en haar drie kinders af.
Ons neem baie dikwels party swart mense kwalik omdat hulle die voorvaders aanbid, maar tog ook die Here aanbid. Maar ons is nie veel beter nie. Ons aanbid die Here, maar ook die moderne afgode van ons tyd.
Soos die Here sy rug draai op Sy ontroue volk Israel en hulle in ballingskap wegstuur, kan die Here ook op ons Sy rug draai en Hom nie ontferm oor ons nie.
Waar ons egter terugdraai na die Here, sal die Here se hart teenoor ons versag. Hy sal weer genade aan ons betoon en die stukkende verhouding tussen ons en Hom herstel.
Daarom moet ons in die Nuwe Testament, waar ons die bruid van Christus is, ons maagdelik weghou van ander afgode en ons eerder gereedmaak op die koms van die Bruidegom Jesus Christus.
Ons moet ’n skone bruid wees, wat ons nie verkoop aan allerhande afgode nie. Ons moet nie soos Gomer hoereer agter die afleidings van hierdie wêreld aan nie.
Ons moet net aan die Here behoort. Hy is ’n jaloerse God.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Baie Baie dankie Dominee Paul. Sulke ware woorde vanuit die Woord van God. Groete van Cindy.
LikeLike
‘n Besondere boodskap, baie dankie ds. Dit sny diep en seer. Okkie Fourie.
LikeLike