OM WAARLIK TE TREUR MAAK JOU MENSLIK.
Lyding en pyn is sake waarvoor mense natuurlikerwys terugdeins. Ons is bang daarvoor. Ons wil dit nie hê nie. Die mens wil van lyding en pyn wegvlug of wil dit verdoof. In die proses word lyding en pyn nooit omgesit in iets positiefs nie.
Die gevaar is dat godsdiens vir sommige mense ook “a pie in the sky” kan word, soos Karl Marx godsdiens en lyding beskryf het. Dit kan ‘n manier word om te ontvlug uit die swaar van elke dag en kan godsdiens as’t ware ‘n stuk verdowing word.
Maar dan lees ons weereens die vreemde woorde van Jesus Christus in Mat 5: 4 wat so lees: “Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” In hierdie woorde bedoel die Here Jesus nie ons moet met lang gesigte rondloop nie, maar dat ons die pyn en lyding rondom ons moet raaksien, dit moet beleef en dit sinvol moet verwerk in iets positiefs in my lewe.
Ons moet kan treur oor hou stukkend die wêreld is. Daar is armoede, hongersnood, plakkerskampe, verwaarlooste kinders, mislukte huwelike, verwoeste tienerslewens, oorloë, waterskaarste, werkloosheid en so kan ons die lysie baie langer maak.
As ons die dinge raaksien, dan kyk ons anderpad, soek verskonings of beskuldig selfs die slagoffers daarvan. Om te treur, beteken om die nood van ander raak te sien en om myself daarin te probeer inleef, sodat ek saam met hulle kan voel. Dan kan ek eers werklik bid vir hulle en daaraan werk om die lyding in my onmiddelike omgewing minder te maak. Om te treur beteken om empatie, begrip, deernis en liefde vir ander te hê.
So dikwels gebeur dit, dat mense hulself verlekker in ander se swaarkry en teenspoed. Dit word ‘n soet, sappige skinderstorie, wat ek geniet om oor te vertel. Dan ontbreek dit my aan ware deernis en empatie. Die probleem is ons huil nie meer oor die stukkendheid in ander mense se lewens nie. Ons word apaties.
Maar ‘n mens moet ook kan treur hoe stukkend en leeg jou eie lewe is. Ons wil nie sleg oor ons eie lewe dink nie. Ons leef in die tyd van “positiewe denke”. Ek moet positief oor myself dink. Ek soek verskonings vir my sonde. Ek veralgemeen my sonde en verskoon myself.
Maar die Here Jesus leer ons, ons moet treur oor ons sondes. Ons moet hartseer daaroor wees. Ons sonde moet ons ongelukkig maak, sodat ons na die Here en na Sy verlossing sal vra. Vergelyk die voorbeeld van Koning Dawid in Ps 51, waar hy in ‘n sielswroeging is oor sy owerspel met Batseba en dat hy vir Uriah, die man van Batseba laat sterf het in die voorste linies van die oorlog. Dawid pleit dat God hom moet vergewe, selfs al kos dit sy koningskap. Sy sonde staan tussen hom en die Here en hy verlang weer na ‘n intieme verhouding met die Here. Dawid was so opreg in die treur oor sy sonde, dat God vir Dawid, ‘n man van God genoem het.
Dit help nie ek steek ‘n siekte weg of dink dit weg nie. Ek moet dit in die oopte bring. Dit konfronteer, na ‘n dokter gaan en eers dan kan ek gesond word. Bid daarom dat die Here oms oë sal oopmak om te sien, watter groot sondaars ons is, sodat treurigheid daaroor ons kan dryf na Jesus Christus.
Lyding en pyn moet ek altyd gebruik om dit in iets positiefs en opbouend te verwerk. Die Heidelbergse Kategismus, bely dat God alles, die goeie en die slegte gebruik tot ons beswil. Daarom moet ek in die terugslae in my lewe altyd die vraag vra, wat kan ek positief hieruit haal. Lyding kan my in ‘n dieper verhouding met die Here bring, maar dit kan ook my meer sensitief vir ander mense maak. Wanneer lyding van jou ‘n beter mens maak, dan dien my lyding tot ‘n hoër doel. Victor Frankl, ‘n psigiater wat in die Tweede Wêreldoorlog in die Nazi – konsentrasie kampe was, vertel dat mense verskillend op lyding reageer. Sommige reageer heeltemal negatief, hulle word soos varke. Ander weer reageer positief op lyding en dit bring die beste in hulle na vore. Hulle word as’t ware soos engele. Om waarlik te treur, maak jou menslik.
Die Here Jesus Christus praat egter van troos ook. Hy belowe dat in die toekoms, met die wederkoms sal alles nuut gemaak word. Ons moet bid dat die Here dit in die hede ook vir ons draaglik sal maak. Om te treur bring begrip en genesing.
Die Evangelie is nie ‘n verdowing vir mense nie. Dit is om die werklikheid te besef, daaroor te treur en dit na Jesus Christus te neem. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)