SKRIFLESING: Johannes 2: 1 – 12
Die humoris Erma Bombeck vertel van die dag toe sy in die kerk amper gehuil het. Sy het dié Sondag in die kerk gesit en net voor haar het ’n vriendelike kind gesit wat vir almal rondom hom geglimlag het .

Hy was nie stout nie – hy het nie geskop met sy voetjies, of gesangeboeke opgeskeur of geluide gemaak, of gesigte getrek nie. Al wat hy gedoen het, was om vir almal te glimlag. Na ’n ruk het sy ma hom omgepluk en gefluister, sodat almal rondom hulle dit kon hoor: “ Hou op met glimlag. Jy is in die kerk.” Sy het hom ’n hou gegee en die trane het van sy wange afgeloop. Sy sê toe: “Dis beter.” Toe gaan die moeder voort met haar gebede. Bombeck vertel hoe sy graag die betraande kind teen haar wou vasdruk en vertel van die vriendelike glimlaggende God en van die vreugde wat Hy gebring het. Sy wou hom vertel dat vriendelikheid ’n gawe van die Gees is. Sy vra toe die vraag: “As die kind nie eers in die kerk kan glimlag nie, waar anders sal die kind kan glimlag in hierdie harde en wrede wêreld?” (1) Johan Cilliers: Het God ’n handvatsel ? (2003)

Die Here Jesus Christus het gekom om vreugde te bring. Sy eerste wonderteken was toe Hy water in wyn verander het op die bruilof te Kana. In die antieke tyd het die lengte van huweliksfeeste gewissel. Dit het oor dae plaasgevind. As die wyn opraak, het dit beteken die bruilof is nou verby en almal moes huis toe gaan. Met die bruilofsfees in Kana was die opraak van die wyn ’n groot verleentheid – die vreugde moet nou kortgeknip word. Dan verander die Here Jesus die verleentheid in ’n geleentheid: Hy bring nuwe vreugde in die bruilofsfees. Hy laat die bruilofsfees voortgaan. Inteendeel, die vreugde is groter, want die wyn is beter! Juis daarom wil Jesus die “alledaagse” soos water verander in iets beters. Natuurlik is die wonderverhaal ook ’n vooruit-verkondiging van Jesus Christus se tweede koms (die groot bruilofsfees waarvan Openbaring praat).
Wat kan ons leer uit hierdie eerste wonderteken wat Jesus verrig het? Dit bring ons by die drie teologiese invalshoeke.
Die eerste invalshoek is dat die waterkanne wat daar gestaan het, gebruik is vir die reinigingswette van die Jode. Daar was ’n magdom wette wat van toepassing was op reiniging. Een daarvan was onder andere dat jou voete gewas moes word wanneer jy gaan aanlê om te eet. Die wette was verpligtend vir ’n goeie Jood om godsdienstig rein te wees.

Die groot hoeveelheid water wat beskikbaar was, getuig van hoe swaar en beperkend die Joodse wette was op die Jode. Wanneer Jesus nou die water in wyn verander, kom maak Hy ’n einde aan die beperkende Joodse wette. Die water verander in wyn. ’n Wettiese godsdiens verander in ’n godsdiens van genade. Nie meer deur die nakoming van wette sal jy gered word nie. Nee, jy sal nou gered word deur die genade van die Here Jesus. Soos water in wyn verander, word wette verander in genade. Daarom is een van die genade-tekens van die Nagmaal ook die wyn. En Jesus se genade word in oormaat gegee. Jy kan sê dit word in tonnemaat gegee. Dit word oorvloedig gegee.
Die tweede invalshoek is dat die nuwe beter is as die oue. Die seremoniemeester was so onkant gevang deur die kwaliteit van die nuwe wyn dat hy vir die bruidegom gesê het (in vers 10): “’n Mens sit eers die goeie wyn voor, en eers wanneer hulle begin dronk word, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou teruggehou.” Die nuwe wyn is beter as die ou wyn. Die nuwe bedeling van genade is beter as die ou bedeling van wette. Die Nuwe Testament is beter as die Ou Testament. Die Here Jesus het ’n nuwe kwaliteit van lewe kom stel. Jesus het gekom sodat ons lewe kan hê en dan lewenskwaliteit in oorvloed, volgens Johannes 10.
Die derde invalshoek is dat Jesus die blydskap kom verleng en verdiep. Wanneer die wyn by ’n Bybelse huwelik opraak, was dit ook vir die gaste ’n teken dat die huwelik nou verby is en dat hulle moes huis toe gaan. Om ’n onbekende rede het die wyn opgeraak by die huwelik in Kana.

Dorpies is stapsgewys ver van mekaar. Nuus versprei vinnig. Dit is vir die bruidegom ’n groot verleentheid dat die wyn op sy groot dag opgeraak het. Dit was ’n skande vir hom en sy familie. So voortydig moet die vreugde ophou. Dan kom verander die Here Jesus die water in wyn. Die bruilof kan aangaan. Die vreugde kan voortgaan. So het die Here Jesus ook gekom, sodat die verlossingsvreugde kan voortgaan. Die verlossing wat die Here gebring het, is vreugde vir ons. Jesus het deernis met die situasie van die bruidegom. Hy wil die bruidegom uit sy verleentheid verlos en daarom verander Hy die water in wyn. Jesus bring herstel van vreugde. Nou kan die bruilofsfees voortgaan. Jesus het letterlik ’n skande in ’n seën verander.
Baie gelowiges wil vandag, sonder die kerk en onafhanklik, hulle geloof leef. Maar wyn is nie gemaak om alleen te drink nie. (So ontstaan alkoholisme maklik.) Wyn is gemaak om saam met ander te drink. Geloof word nie alleen gevier nie. Geloof word saam met ander gevier, rondom die nuwe wyn wat die Here Jesus gegee het.
Die punt is egter dat Christus Jesus gekom het om vreugde en blydskap en dankbaarheid in oorvloed te bring. En God wil hê ons moet deel daarin hê.

Daarom is godsdiens en die lewe nie ’n klomp strak gesigte soos in die verlede toe mense nie geglimlag het op foto’s nie. Vyftig jaar gelede was dit ’n “sonde” om te glimlag op ’n foto of selfs nog erger, in die kerk.

Deesdae hou ons van natuurlike foto’s met lewensaksie. “Freezing moments” wat vertel van menslike emosie. Emosies het deel geword van briljante fotografie. Vandag is aksie-foto’s van mense wat natuurlike emosies soos lag, huil, hartseer, skok en ander emosies vertoon uiters gewild, want dit is eg en menslik. Dit is eerlike foto’s van menslike emosie.
Jesus het water in wyn verander. Ons kan bly wees dat die eerste wonderteken wyn uit water was. Jesus het gekom om vreugde en blydskap te bring. Sonder vreugde kan niemand sinvol leef nie. Jesus het deur die wyn gemeenskap tussen mense geskep. Sonder sinvolle gemeenskap met ander mense, sal ons alleen in die woestyn van alleenheid ronddwaal. Wyn bring geselskap, vreugde en blydskap.
Daarom is blydskap, dankbaarheid en vreugde iets wat aangeleer word. Dit kom nie vanself nie. Dit is ’n gawe van die Gees. Sommige mense het die dapperheid om selfs in die moeilikste omstandighede hul dankbaarheid vir die lewe en hul innerlike lewensvreugde te lééf.

Dink aan Job, hy het in sy voorspoed en in sy teenspoed die Here altyd gedien en aanbid. Hy het lewensvreugde en vrede beleef ook toe hy niks gehad het nie. Al is hy gespot, het hy aan die Here vasgehou. Hy het nie in teenspoed sy rug op die Here gedraai nie. Hy het die Here gedien, ongeag voorspoed of teenspoed. Hy het kinderlik aan die Here vasgehou met ’n opregte geloof.

Victor Frankl vertel in sy boek “Search for Meaning” hoe hy in die Duitse konsentrasiekamp van Auscwitz vreugde gevind het in ’n enkele veldblom wat uit die digte sneeu uitgebeur het na die sonlig. Of van sy vreugde tydens koue winteraande as dit sy beurt was om die donkie deur die nag te stook vir warm water vir die Duitse soldate die volgende oggend. Hoe hy mielies gesteel het en dit oor die kole gaargemaak het en in ’n bondeltjie voor die vuur gelê het en die saligheid van die enkele ure van die nag geniet het, voor die wreedheid van die volgende dag weer aanbreek.

Hoe skaarser iets word, hoe meer waardeer jy dit! Dalk het ons te veel, om werklik die klein goedjies van die lewe te waardeer.
Selfbejammering is van die duiwel. Dit is ons menslike natuur om ons te vergelyk met wat ander het en ons nie het nie. Ons koop dikwels goed om ander mense te beïndruk, eerder as om iets te koop wat ons werklik nodig het.

Ons kan onsself maklik jammer kry en dan leef met ’n “slagoffermentaliteit”: die wêreld en ander en selfs God skuld ons iets. So word ons die patetiese klakouse wat gedurig aan ons eie behoeftes dink. In die post-apartheid era kan die verskillende bevolkingsgroepe van ons land, bruin, wit en swart maklik leef met die slagoffermentaliteit van “êrens is ek benadeel”. Of apartheid, of regstellende aksie kan die fort word waarin ons uit selfbejammering ons wonde lek. Wie uit selfbejammering leef, sal nooit ’n leier kan word wat die “maatskappy” kan verander nie.

Eers wanneer jy jouself uit die ellende kan lig en kan opstaan, kan jy ander inspireer tot verandering en ’n nuwe vreugde en dankbaarheid vir die lewe.
Vreugde en dankbaarheid is ’n KEUSE. Dit is nie ’n toestand in positiewe tye nie. Dit is ’n KEUSE, selfs in die moeilikste lewensomstandighede. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

















































































