Is Jesus dan weg, met Sy hemelvaart?

SKRIFLESING: Mat 28: 16 – 20 En Handelinge 1: 6 – 14

Ek lees die volgende interessante opmerking oor Jesus se Hemelvaart. Hy het nederig die wêreld ingekom as baba in ’n krip in ’n stal, maar het die wêreld triomfantelik verlaat met Sy Hemelvaart. So anders as baie van die bekendes van ons tyd wat triomfantelik begin en skandalig eindig.

Maar het Jesus ons regtig verlaat? Beteken dit dat Jesus nie meer “mens” is nie? Het Sy Hemelvaart ’n einde gemaak aan Sy “inkarnasie” en Sy vleeswording? Waar is Jesus nou? Wat doen Jesus nou?

Ons verstaan ook nie die wolk op die Olyfberg waarin Jesus opgeneem is heeltemal reg nie.  In die Ou Testament was die wolk nie ’n teken van God se afwesigheid nie, maar juis van Sy teenwoordigheid!

Wat belangrik is, is dat ’n mens Jesus nie behoorlik kan verstaan sonder die Hemelvaart nie. Ongelukkig is die Hemelvaart die “Aspoestertjie” en die mees verwaarloosde kerklike feesdag op die Christelike kalender.

Jesus se heerlikheid was verborge gedurende Sy aardse verblyf, met een kortstondige uitsondering, die verheerliking wat op die berg geskied het saam met Moses en Elia (Matt 17:1 – 9).

 Die Hemelvaart van Jesus het die uitstorting van die Heilige Gees moontlik gemaak.  En die Gees is juis die Een wat ons vul met krag en liefde en oortuiging sodat ons dissipels vir Jesus Christus kan wees. Daarom vier ons tien dae na Hemelvaart, Pinkster om die uitstorting van die Gees te gedenk. Hemelsvaartkerk in Jerusalem

Met Sy hemelvaart het die Vader die doringkroon van Sy Seun se kop gehaal en vir Hom ’n Koningskroon opgesit en Hom laat sit aan Sy regterhand. Van lyding na heerlikheid! Van doringkroon na Koningskroon!

Met Sy Hemelvaart sit Jesus aan die regterkant van die Vader, in ’n regerende posisie. Jesus Christus was die allerhoogste Hoëpriester wat selfs Sy lewe geoffer het om ons sonde weg te neem. Omdat Hy Sy werk klaar gedoen het, kon Hy opvaar na die hemel en gaan SIT aan die regterkant van die Vader. Let op Jesus STAAN nie meer nie, Hy SIT nou, Sy werk is afgehandel (Ted Olsen). Hy regeer oor hierdie stukkende wêreld met Sy genade en oordeel. Hy sorg dat daar nie ’n haar van ons hoof sal val waarvan Hy nie weet nie. In Sy regerende posisie help Hy ons elke dag met alles wat ons in gebed na Hom toe bring. Hy regeer oor ons lewens. Eendag sal Hy kom en oordeel tussen goed en sleg.  Dan sal Hy finaal ’n einde kom maak aan die gebrokenheid en stukkendheid van hierdie wêreld. Jesus regeer alreeds en sal met Sy wederkoms ’n nuwe aarde en hemel tot stand bring.

Dr Coenie Burger het uitgebreid geskryf oor die hemelvaart met die vraag of Jesus nou weg is. Dit sou ’n groot fout wees om te dink dat Jesus weg is en nou net in die hemel is. Dit sou so sleg wees soos indien ’n afrigter van ’n rugby-span op die dag van die wedstryd afwesig sou wees as sy span speel. Die span sou nie kon staatmaak op sy fisiese teenwoordigheid en morele ondersteuning nie. Hulle sou net kon rugby speel op grond van wat hy hulle geleer het. Die span sou maar baie eensaam en alleen die wedstryd moes speel.

Maar hoor wat sê die Bybel in Mat 28: 20: “ Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het, En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Verder sê Mat 18: 20: “…. want waar twee of drie in My Naam is, daar is Ek by hulle.”

Helmuth Thielicke skryf aangrypend oor die hemelvaart van die Here Jesus Christus: “ The ascension does not mean that Jesus leaves us; on the contrary, it means that He comes terribly near to us. The boundary between this world and the Beyond which He has passed on Christmas night, is just being crossed once again and in a new way.”

Ons lees dat met die bekering van Paulus, die Here Jesus self aan hom verskyn het in persoon en ook aan Ananias wat die Here se boodskap aan Paulus moes bring.

Luke Johnson skryf: “ In Acts, the presence of the resurrected Lord is just as strong after the ascension as before; indeed stronger.”

Die hemel is nie ’n veraf, onwerklike plek nie. Nee, die hemel is net in ’n ander dimensie, baie naby aan ons. Wanneer ons eendag sterf, sal ons wat nou onsienlik is, kan sien met ons nuwe geestelike liggame.

Kom ek verduidelik dit so aan u. Ons glo aan die twee nature van Christus, naamlik Sy Goddelike natuur en Sy liggaamlike natuur. Met Kersfees het Christus, wat Goddelik is, kom mens word.   Met Sy Hemelvaart het Sy liggaamlike persoon opgevaar om te sit aan die regterhand van God. In Sy Goddelike natuur is hy egter nog steeds by ons, al is dit onsigbaar. Dit is natuurlik bevrydend. As Jesus net in Sy liggaam by ons was, was dit beperkend. Hy sou hoogstens by ’n paar mense op ’n slag op een plek kon gewees het. Hy sou dan met ander woorde net in Johannesburg kon wees en nie ook by ons hier op Adelaide of Fort Beaufort nie. Die feit dat Hy in sy Godheid by ons is, het die troos dat Hy altyd in alle omstandighede by almal gelyktydig kan wees. Hy kan tegelykertyd in Adelaide, Fort Beaufort, Johannesburg, Washington, Moskou en op enige plek in die wêreld wees.

Daarom is die Heilige Gees nie ’n plaasvervanger vir Jesus nie. Die Gees vervang op geen manier vir Jesus nie, maar maak juis vir Jesus “toeganklik” vir ons. Christus is in Sy Godheid by ons en Hy doen Sy werk in ons.  Christus werk kragtig in ons. (Coenie Burger)

Maar met Sy Hemelvaart het Christus Sy kerk op Pinkster-Sondag bymekaar geroep, omdat Christus self “’n gemeenskap van gelowiges” bymekaar geroep het en hulle so vertrou het dat Hy van die kerk verwag om in “Christus se vlees” teenwoordig te wees in dié wêreld. Peterson skryf dat die profete en die apostels almal dele van die Bybel geskryf het. Maar Christus het geen boek geskryf nie. Hy het egter die “gemeenskap van gelowiges” gestig. Van hierdie gemeenskap van gelowiges verwag Hy om Sy “vlees” te wees op hierdie aarde.

Daarom  moet daar by ons ’n stuk inkarnasie plaasvind. Ons moet as’t ware meer menslik word, sodat ons goddelik kan optree. Ons moet as’t ware Christus beliggaam of embody. Mense moet in ons die lewende en opgestane Christus kan raaksien.

Ons moet Christus se vlees op aarde wees. Ons moet Christus se hande, voete, oë en liggaam wees in die wêreld.

In Europa was daar in ’n dorp ’n pragtige begraafplaas met ’n Christusbeeld in die middel van die begraafplaas. Die beeld het uitgestrekte hande gehad. As gevolg van hewige bombardement in die Tweede Wêreldoorlog het die hande afgebreek. Na die oorlog wou die stadsvaders die beeld afbreek. Want hoe lyk ’n Christusbeeld sonder arms nou? Een kerkvader het egter die simboliek raakgesien. Hulle het toe ’n marmerplaat onderaan die Christusbeeld aangebring met die woorde: “Jy is my arms in hierdie wêreld.”

Die Hemelvaart sê ook vir ons God is in beheer. Al lyk dit asof die wêreld buite beheer is, Jesus sit op die troon. Hy het die troon bestyg. Hy regeer as Koning. Die tyd na die Hemelvaart is die tyd van die kerk; dit is ook die eindtyd. Dit is die tyd waarin God in Sy geduld die kerk in die wêreld instuur om aan die wêreld  die boodskap van die evangelie te bring. In Woord en daad moet die Evangelie gebring word. Daarom kan ons hierdie tyd die tyd van die Woord en Gees noem. Ons leef in die missionale tyd, waarin die kerk moet uitreik na die wêreld.     

Met Hemelvaart kom gee die Here vir die kerk werk om te doen. Hiermee moet ons elke dag besig wees.                                                    

Jesus Christus het opgevaar na die Vader. In Sy vlees is Hy by die Vader, maar in Sy Godheid nog met ons. Daarom moet ons Jesus se “vleeslikheid” sigbaar maak deur sy hande en voete te wees in hierdie wêreld.

Van doringkroon tot Koningskroon! Onder die Here se Koningskap sal ons floreer. Deur Sy Koningskap wil die Here ’n seën vir die nasies wees, sodat ons ’n seën vir ander mense kan wees.    Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Op die vlerke van ‘n arend

SKRIFLESING: Deut 32: 11 – 12

Die winde van verandering waai stormsterkte oor Suid-Afrika en oor die wêreld. Die wêreld is in die wurggreep van verskillende oorloë en baie lande verkeer in ’n resessie. Die naderende verkiesing op 29 Mei 2024 kan ook die politieke landskap van Suid-Afrika totaal verander. Ons almal vrees die uitslag en ook die toekoms van minderheidsgroepe in Suid-Afrika. Ons is bang vir die Bela-wetgewing in skole wat Afrikaans gaan bedreig. Ons is bang vir grondonteiening en die nasionalisering van die Reserwebank. Om nie eers te praat van die nuwe nasionalisering van die gesondheidstelsel (NGV) nie, waar jy mediese belasting moet betaal. Ons is van baie dinge onseker.   Almal is bang en onseker.  Wat gaan van ons word? Wat hou die toekoms in? Ons weet nie eers hoe dinge die volgende paar maande en jare gaan lyk nie.

Natuurkenners sal jou vertel: Arende maak baie hoog in die berge nes. Wanneer hulle hul kuikens wil leer om te vlieg, skop hulle doodeenvoudig die kuikens uit die nes. Nadat die kuikens ’n ent geval het, swiep die ma-arend onder haar kuikens in en vang hulle met haar vlerke en dra hulle terug tot in die nes. Die proses word ’n paar keer herhaal totdat die kuikens geleer het om te vlieg.

Die skrywer gebruik die beeld van die arende om te beskryf hoe God met Israel en met ons as Sy kinders doen.  Hy verwys dan ook spesifiek na die volk Israel wat God uit Egipte geskop het, weg van die vleispotte van Egipte.

Die Israeliete het in vrees verval. Die Rooi See was voor hulle, die vyand agter hulle; daar was broodsgebrek, watertekorte, verdwaling, sonsteek en talle vyandelike volke. Die val uit Egipte was vreesaanjaend.

Maar telkens het Jahweh onder hulle ingeswiep en hulle gevang. Elke keer het God hulle gevang. Hy het die Rooi See oopgemaak, Hy het die Egiptenare laat verdrink, Hy het manna en kwartels gestuur en water uit ’n rots. Hy het ’n vuurkolom snags gestuur en ’n wolkkolom in die dag. Hy het vir hulle oorwinning oor vyandelike volke gegee.

Die Here wou vir Israel leer om Sy gehoorsame volk te wees. Daarom het Hy die volk op ’n ompad van 40 jaar deur die woestyn geplaas. Hulle moes leer om Hom as die enigste Heer en God te bely.

Miskien voel dit vir u of ons ook uit die nes geskop word. Die afgelope paar jaar het ons baie verskillende soorte trauma beleef.  Ons het die ergste droogte in 100 jaar gehad in 2018 – 2019. Ons is deur die tydperk van COVID-19.  Ons het bek-en-klouseer gehad. Die wol- en vleispryse het in 2024 in duie gestort. Die insetkoste vir boerdery neem net elke jaar toe. Om produktief te boer, word al hoe moeiliker. Boere is moedeloos. Werkloosheid en armoede neem met rasse skrede toe. Die werkloosheidsyfer was nog nooit so hoog nie. 

Ja, die Here het ons ’n bietjie uit ons nes geskop, want Hy wil vir ons leer dat geestelike waardes belangriker is as wêreldse sekuriteite. Hy wil ons leer wat die woord “afhanklikheid” beteken. Ons was te selfversekerd, te seker van ons eie kragte en vermoëns. Die goeie jare in die boerdery van 2011 tot 2017 het ons te versekerd gemaak. Die afgelope tyd het God ons geleer om met minder tevrede te wees. God het vir ons geleer om weer te gee en vir mekaar om te gee. Die Here het ons weer geleer om nie te afhanklik van ons eie planne te wees nie. Ons moet eerder sê D.V. (Deo Volente), as dit die wil van die Here is, sal ons dit of dat doen.

Beteken dit dat God ons vergeet het? Allermins! Kom ek verduidelik dit so vir u. Dit is nie God se wil dat daar droogtes, armoede en siektes soos COVID-19 en ander slegte dinge oor ons kom nie. God is immers ’n God van liefde. Hy het dit nie daar gestel nie. Ons lewe in ’n gebroke wêreld as gevolg van die sondeval.

Maar God draai ons nie in watte toe nie. Hy oorbeskerm ons nie. Hy stel ons daaraan bloot, om ons sterker te maak. Daar word vertel dat Koning Henry VII van Engeland as kind nooit blootgestel is aan kieme nie. Hy het nooit ’n weerstand ontwikkel nie. Hy is toe jonk in sy lewe oorlede van ’n eenvoudige siekte, omdat hy geen weerstand ontwikkel het nie.

In Psalm 103: 5b staan daar: “Soos ’n arend word jou jeug dan weer nuut.” In Jesaja 40:31 staan daar: “Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.”

Bogenoemde verse verwys na die arende se “tweede” lewe. Arende kan 30 – 40 jaar oud word. Wanneer arende ’n sekere ouderdom bereik, word hulle vere te dik en te swaar. Die naels van hulle kloue en hul snawels word te lank en daarom kan hulle nie meer so hoog vlieg en hul prooi so maklik vang nie. Op daardie tydstip gaan die arend na ’n waterstroom op ’n afgesonderde plek, hoog in die berge. Hy begin sy vere uitpluk tot niks oorbly nie. Hy trek al sy naels uit en kap sy snawel teen ’n rots totdat dit ook afbreek. Vir baie dae sit die arend by die stroom. Ander arende sal hoog verbyvlieg en vir hom stukkies vleis afgooi. Soos hy in die water sit en vir lang tye na die son kyk, kom daar trane uit sy oë uit totdat die oliesakkies by sy oë weer begin om olie te produseer. Stadig begin die nuwe vere, nuwe naels en ’n snawel uitkom. Na 30 tot 40 dae is die arend weer vernuwe met energie om die hoogtes aan te durf. Dit is ’n totale vernuwingsproses. (Inligting gekry by Belinda Paar)

So kom daar ook laagtepunte in ons lewe, waar ons onsself moet afsonder en wag dat God se Gees ons aanraak en vernuwe vir ons lewenspad.

Arende hou van storms. Hulle kan baie hoog vlieg, drie tot vyf kilometers bokant die storms. Daarom het kinders van die Here ook die krag om bokant die storms van hulle lewe uit te vlieg en die genade van die Here te beleef, te midde van die storms in hulle lewe.

Jakobus praat in hoofstuk 1 van beproewinge wat ons soos gelouterde staal sterk maak. Goud kom uit goud-erts wat teen hewige temperature verhit word. Daarom stel God ons bloot aan allerlei beproewinge, omdat Hy ons sterker wil maak en in die proses iets wil laat leer. Daarom moet ons ook in hierdie tyd van ’n veranderende politieke landskap ’n leerbare gees hê, om te leer om iets goeds te neem uit hierdie beproewings. Johannes Calvyn het gesê ons moet altyd “a teachable mind” hê. Dan kan ons groei in Godsvrug en in geestelike rypheid.

Ja, God skop sy kinders uit die nes, ook in hierdie tyd van ’n veranderende politieke landskap met die doel om ons iets te leer. Hy stel ons bloot aan die gevaar en die swaar, sodat ons dieper en meer Geesvervulde mense sal wees. Ons vier immers binnekort Pinksterfees. Maar Hy sal ons nooit laat val, te pletter teen die grond nie. Hy sal telkens inswiep en ons vang as ons besig is om te val.   God skop ons uit ons gemaksones, sodat Hy ons kan leer om te vlieg. Hy wil ons geloofsvlerke sterker maak, sodat ons geloofsvolwasse kan word.

Maar onthou die woorde van die Here Jesus Christus, dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Dat Hy al die dae van die wêreld tot die voleinding by ons sal wees.

Hoor wat sê Jesaja 43: 1 – 2: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie”

Liewe gemeente, julle is God se verbondskinders. God se beloftes geld vir een en elk van julle. Julle is God se arendskuikens.

Klein kuddetjie van Adelaide en Fort Beaufort, moenie vrees nie. God sal altyd by julle wees. Julle sal op arendsvlerke veilig gedra word.

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

‘n Liefdevolle God soek Sy twee probleemseuns op

SKRIFLESING: Luk 15: 11 – 32

Dit gaan in hierdie gelykenis oor ’n liefdevolle God en Sy twee probleemseuns. Die een is ’n wegbreek-seun (wêreldling) en die ander een is die tuisbly-seun (kerkmens). Waarom het die Here Jesus hierdie gelykenis vertel? Die antwoord vind ons in vers 1 en 2 van Luk 15. Die wegbreek-seun is eintlik die tollenaars en die tuisbly-seun verwys na die Fariseërs. Kom ons kyk na die twee seuns:

  1. Eerste probleemseun is ’n wegbreker

Die eerste seun eis sy gedeelte van sy erfporsie op. Hy wil hê dat sy pa se besittings verdeel word, tot nadeel van sy pa.

Erfeniswette in Israel is ontwerp om die ouer seun te bevoordeel, en gee hom ’n dubbele deel (waarskynlik met die doel om ’n familie se grondbesit bymekaar te hou en die familieplaas ongeskonde te bewaar (Numeri 27:8–11; 36:7–9; Deuteronomium 21:17). As daar vier seuns was, sou die ouer seun twee aandele ontvang, en elk van die ander drie seuns een aandeel elk. Tipies sou die ouer seun die eksekuteur wees en die rol as familiehoof na sy pa se dood aanvaar. Soms het ’n ouer seun besluit om nie die familieplase tussen die broers te verdeel nie (Lukas 12:13). (Ralph F. Wilson) Waarskynlik sou die gelykenis daarop sinspeel dat die wegbreek-seun een derde van sy pa se goed ontvang en sy ouer broer op twee derdes kon aanspraak maak.

Die verdeling van ’n vader se boedel voor sy dood was bekend, maar is deur die Ou Testament afgekeur. In hierdie geval sou die eiendom oorgaan na die seuns, maar die vader sou voortgaan om die vruggebruik te geniet, dit wil sê, “die reg om die winste te benut en te geniet asook die voordele van iets wat aan ’n ander behoort, solank die eiendom nie beskadig of verander word nie.” (Ralph F. Wilson)

Die feit dat die jongste seun sy deel van sy erfporsie opeis, getuig van ’n swak verhouding tussen hom en sy pa. Die seun het sy deel gevat en weggebreek van God.

Hy het sy erfporsie gevat en in geld omgesit en op ’n reis na ’n ver land vertrek,  ver weg van sy pa, ver weg van sy ouer broer, en ver weg van enige verantwoordelikheidsin en morele selfbeheersing. Solank sy pa leef, het hy ’n verantwoordelikheid om sy pa te onderhou met sy deel van die familie se rykdom, maar hy ignoreer dit en spandeer alles op homself.

Waarskynlik het hy verval tussen verkeerde vriende, los meisies, wilde partytjies  en losbandigheid. Hy het sy erfporsie uitgemors op verkeerde goed. Baie geld beteken baie vriende. Hy het nie ’n tekort aan vriende gehad nie.

Hy het weggebreek uit die verbond en uit die kerk. Dan lees ons hoedat hy sy lewe opgemors het en skande veroorsaak het, want sien, hy wou op sy eie bene staan en vry wees. Verwêreldliking het deel van sy lewe geword.

Toe hy sy erfporsie klaar uitgemors het, lees ons het ’n groot hongersnood die land getref. Sonder geld en sonder vriende, was hy ontwortel en rigtingloos. As die geld opraak, raak die vriende ook weg. Die hongersnood beteken ook dat werk baie skaars was. Al waar hy kon regkom, was op ’n varkplaas.

Daar eindig hy by die varkhok. Dit is die grootste moontlike belediging vir ’n Jood, want Jode eet nie varkvleis nie. Hier wens hy hy kon sy honger stil met die peule wat die varke, hierdie onrein diere, eet. Maar niemand wou eers vir hom die varke se kos gee nie. So ver het hy geval in sy ellende. Hy word self soos een van die varke. Dit wil sê daar is geen werklike lewe sonder God moontlik nie. Wie uit die hande van God klim – eindig altyd in ellende.

Maar geliefdes, hier hoef dit nie te eindig nie. Ook hierdie seun se droewige verhaal eindig nie hier by die varkhokke nie. Want daar wag ’n liefdevolle Vader by die huis. Dan lees ons hoedat God bekering in sy hart werk.

Hy begin na te dink hoe lekker sy pa se huis was en dat hy van alles oorgenoeg gehad het. Selfs sy pa se dagloners het meer gehad om te eet as hy.

Hy besluit om terug te keer. Hy oorweeg sy woorde versigtig. Hy weet hy is nie meer werd om sy pa se seun genoem te word nie, maar hy is bereid om as dagloner deur sy pa in diens geneem te word.

Hy kom skoorvoetende nader, maar sy vader hardloop hom tegemoet. Sy vader kry hom jammer. Hy veroordeel nie sy seun nie. Sy vader neem as’t ware die inisiatief, want sy vader wag vir hom. Sy pa het nog altyd gewag vir hom om terug te kom. Dan lees ons hoedat sy vader hom omhels en soen, as teken dat hy vergewe is. Daar word geen boetes of pligte op hom gelê as straf nie.

Dan lees ons hoedat die seun geskenke kry. Hy kry ’n nuwe stola of kleed, ’n kledingstuk wat  waardigheid en respek simboliseer. Die seun wat sy erfporsie verkwis het, word weer in ere beklee, terug verwelkom as ’n regmatige erfgenaam.

Die ring wat hy gekry het was ’n simbool van gesag. Destyds was ’n seëlring ’n teken van vertroue en verantwoordelikheid. Met hierdie geskenk word die verlore seun nie net terug verwelkom nie, hy word ook bemagtig. Hy is toevertrou met die familieseël, wat verklaar dat hy die vader se seun is en nie ’n dienskneg nie. ’n Ring as familieseël het vir jou onbeperkte vryheid gegee.

Slawe en bediendes het nie sandale gedra nie. Toe die seun sandale kry, het hy sy kindskap en vryheid terug gekry. Hy kon nou met die sandale op ’n nuwe pad loop in totale vryheid.

Die nuwe stola is dus simbool dat hy sy status as kind van God terugkry. Ook die ring en skoene wat hy kry, dien as simbool van ’n herstelde status en outoriteit.

  • Tweede probleemseun is ’n tuisbly-seun.

Dit is die Fariseërs, die kerkmens, die een wat tuis is in die kerk. Die Fariseërs was pligmense, nie dankbaarheidsmense nie. Hierdie tuisbly-seun het goed gedoen, was getrou, het hard gewerk, was lojaal en het niks verkeerds gedoen nie. Maar hy het dit uit plig gedoen, soos wat ’n kneg sy baas dien. Hy het uit plig gedien en nie uit dankbaarheid nie.

Wanneer die oudste seun tuiskom en die feesklanke hoor, stuur hy sy bediende om te gaan kyk. Toe hy verneem sy verlore broer het tuisgekom, was hy onmiddellik opgeruk. Hy wil nie eers die feesmaal bywoon nie. Hy is kwaad oor sy vader ’n vetgemaakte kalf vir sy verlore broer geslag het, maar nog nie eens vir hom ’n bokkie gegee het sodat hy met sy vriende kan feesvier nie.

Ook vir hom soek die vader op, deur uit te gaan na hom. Sy vader verseker hom ook van sy liefde vir hom. Hy sê vir sy seun: “ Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.”

Die fout wat die seun maak, is dat hy vergelykings tref. Hy vergelyk homself met sy broer wat weggeloop het. Omdat hy verbitterd is, beland hy in ’n tronk van selfopgelegde verwerping. Hy verwerp homself uit die liefde van sy Vader uit. So beland hierdie seun in die sel van verbittering. Hy verloor sy Vader ook boonop. Hy verloor sy lewensvreugde. Moenie uself met ander mense vergelyk nie. Kyk na wat u het, nie na wat ander het nie.

Die oudste seun het geglo dat hy die hemel verdien. Hy het neergekyk op sy jonger broer – die tollenaar. Hy wou niks met hom te doen gehad het nie. Hy is ook sommer kwaad vir sy pa, vir God wat so maklik vergewe. Hy is besig om sy vader te verloor omdat hy sy broer verloor het. Kerkmense, tuisbly-mense kan dikwels hard en afgunstig optree teen hulle wat deur God se genade vrygespreek is. Vergelyk byvoorbeeld ook Jona se woede teenoor God omdat God Ninevé se mense vrygespreek het.

Dikwels verset ons ons nie daadwerklik nie – maar ons is ongeërg en onbekommerd oor ons medemens se sieleheil. Ons kan baie keer traak-my-nie-agtig wees teenoor die redding van ander mense.

Die gelykenis vertel ons nie of die oudste seun se hart verander het en sagter geword het teenoor sy jonger broer nie. Eintlik is dit ’n oop antwoord. Ons moet dit in ons eie lewe beantwoord. Ons wat kerkmense is, tuisblyers is in die Vaderhuis, is ons waarlik bly oor elke nuwe broer of suster in die Vaderhuis of leef ons ongeërg voort in ons eie klein hoekie?

Die oop vraag vanoggend is of ons nie dalk een van die twee probleemseuns is nie. Dalk ’n wegloop-seun, wat nog nie tuis is in die Vaderhuis nie. Dalk ’n tuisblyer wat jaloers is oor die bietjie genade wat ’n broer of suster te beurt geval het.

Daar is ’n wagtende, soekende en liefdevolle Vader. Kom terug, my seun! Kom terug, my dogter! Die Here soek ons op.                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God gee vir ons tekens

SKRIFLESING: Eksodus 4: 1 – 9 en Rigters 6: 36 – 40

God gee op ons lewenspad vir ons tekens, waarin Hy self aan ons verskyn. Dit vra ’n geloofsoog om dit raak te sien as komende uit die hand van God. God se tekens kan openbarend of geloofsversterkend wees. Ons glo mos volgens die Heidelbergse Kategismus dat God Homself openbaar deur die algemene en die besondere openbaring. Die algemene openbaring is deur die natuur, geskiedenis, besondere insidente of deur jou gewete. Die  besondere openbaring is deur die Woord van die Here self.

Met die aankondiging van Jesus se geboorte het God ook in tekens verskyn. Hy het Sy engel gestuur om die boodskap aan Maria en ook later aan Josef te bring. Die skaapherders het die teken gekry van ’n engelekoor wat die boodskap van Jesus se geboorte gebring het.

Die wyse manne (sterrekykers) het die teken van die Betlehem-ster gehad om hulle te bring tot by die Jesus-kind. Wat belangrik is, is dat ’n mens altyd tekens moet evalueer aan die hand van die Woord. So het die sterrekykers hulle dokumente geraadpleeg en Herodus het opdrag gegee dat die skrifgeleerders die Joodse dokumente moet raadpleeg. Die algemene openbaring word altyd getoets aan die besondere openbaring, naamlik die Woord van God.

’n Mens kan jou maklik mislei en dink dat jy ’n teken van God gekry het om van jou vrou te skei om met ’n ander een te trou. Dan was dit eerder ’n versoeking van die duiwel, want die Woord sê jy mag nie owerspel pleeg nie. Toets altyd tekens, of dit ooreenstem met die woord van God.

Die Bybel is vol tekens wat God gee om rigting aan te dui en boodskappe vir mense te stuur. Noag het die teken gekry van die duif met die olyftakkie wat teruggekom het na die ark. Dit was ’n teken dat die vloed besig is om op te klaar. Boonop het die Here die teken van die reënboog gegee, waardeur Hy Sy genade belowe het.

Skets: Jan van ‘t Hoff

Moses het by die brandende braambos gekom en dit was die teken dat God regtig met Moses praat en hom roep om Sy volk uit Egipte te lei. Moses was nie heeltemal oortuig dat dit God is wat met hom praat nie. Die Here gee toe vir Moses drie wondertekens. Hy moes sy staf op die grond gooi. Met die gooi op die grond het dit in ’n slang verander.

Moses moes toe die slang aan die stert vang en dit het weer in ’n herderstaf verander. Daarna moes Moses sy hand by sy bors in die kleed insteek. Toe hy dit uithaal, was dit melaats. Moses moes wéér sy hand insteek by sy kleed en toe hy dit uithaal, was dit gesond. Die derde teken was dat hy water uit die Nyl skep en dit op die grond gooi. Dit het in bloed verander. So het God vir Moses oortuig deur tekens dat Hy hom werklik roep om Sy volk uit Egipte te red en na die beloofde land te lei.

 Die tien plae was tekens aan die Farao om God se volk te laat trek uit Egipte, maar telkens was Farao daaraan ongehoorsaam. In die woestyn was daar die kwartels, die manna, die wolkkolom, die vuurkolom, die water uit ’n rots en nog vele ander tekens van God se troue sorg.

Hiskia het ’n teken gevra dat God hom sal gesond maak. Toe het God die skaduwee tien trappe laat afsak teen die Trappe van Agas.

Met die roeping van Gideon as rigter (Rigters 6), het God ook van tekens gebruik gemaak om vir Gideon te oortuig van sy roeping.

Gideon het vir die Here gesê dat hy ’n skaapvelletjie buite gaan los in die nag. As die grond die volgende oggend droog is en net die skaapvelletjie is nat van die dou, dan sal hy weet die Here roep hom. Die volgende oggend was dit toe so. Maar toe wil Gideon ’n verdere teken hê. Hy vra dat die grond die volgende dag nat sal wees van die dou, maar dat die skaapvelletjie droog sal wees. Die Here het ook dié teken toegestaan. So het die Here vir Gideon oortuig van sy roeping as rigter. 

Die hele Ou Testament is vol van honderde tekens van God se besondere bemoeienis met sy volk Israel. Daarom gebruik die profete ook baie metafore (beelde) wat dien as tekens van die Here se oordeel en verlossing.

Die Nuwe Testament is ook nie anders nie. Daar staan dat Jesus Christus Homself openbaar het as die Seun van God deur wondertekens. Die opgevoude doeke in die graf was ’n teken van sy fisiese opstanding uit die dood. Die teken van die opgevoude doeke beteken dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, maar dat Jesus self die doeke opgevou het met Sy opstanding. Ook die apostels het wondertekens gedoen om die vroeë Christelike kerk te vestig.

Die Nuwe Testament praat ook van die tekens van die Wederkoms wat ons sal sien. Ons lees daar sal onder andere aardbewings, oorloë, afvalligheid en vele ander tekens wees wat die wederkoms voorspel.   

Historici Will en Ariel Durant skryf in hul bekende boek, The Lessons of History, wat in 1968 uitgegee is: “Gedurende die afgelope 3,421 jaar van aangetekende geskiedenis, het slegs 268 geen oorlog beleef nie” (bl. 81). “In ons moderne tyd is daar egter ’n verskil – slegs in die laaste 70 jaar of so beskik mense oor die tegnologie, deur chemiese, biologiese en kernwapens, om alle lewe op die planeet Aarde uit te wis. Wanneer u die beskrywings van die eindtydse oorloë in die boek Openbaring lees, besef u dat aan die einde van die tydvak, oorloë nie slegs streke raak nie; dit sluit die hele aardbol in.” (Richard F. Ames) Kyk maar net na die talle oorloë waarin die wêreld op hierdie oomblik verkeer. Dit kort net een mal man om ’n kernoorlog te begin. 

Die sakramente, die doop en die Nagmaal, is ook heilige tekens dat God by ons teenwoordig is en ons in die geloof wil versterk. Luther het in tye van aanvegtinge teruggedink aan sy doop, as teken dat God by hom is. Daarom het hy die duiwel met die inkpot gegooi.

Daarom openbaar God Homself gedurig deur tekens aan die mens. Wanneer jy vir ’n betrekking aansoek doen en jy kry dit nie, is dit ’n teken dat God se wil vir jou anders is. Wanneer jy wel die betrekking kry, kan jy weet dit is God se wil. Daarom, as jy vir ’n pos aansoek doen, vra jy as’t ware dat God vir jou die teken moet gee of dit Sy wil is. Wanneer mense ’n liefdesteleurstelling ervaar, is dit ’n teken dat God vir jou iemand beter in die vooruitsig bespreek het. Daarom werk God deur die alledaagse gebeurtenisse in ’n mens se lewe.

Ek onthou toe ons as gesin eenkeer van Bloemfontein teruggekeer het na Strydenburg, was ek oor baie dinge besorgd. Tien kilometer buite Strydenburg was die mooiste reënboog gespan oor die dorp en die kerk. Toe weet ek God is met ons.

Eenkeer in Adelaide se pastorie se studeerkamer was ek onder verskriklike aanvegtinge, oor wat God se wil vir my is. Ek kon die heelnag niks slaap nie. Hier teen vieruur die oggend tel ek die Apokriewe Ou Testament wat daar rondgelê het op en slaan sommer moedeloos by ’n plek oop. Presies op daardie plek, wat my oog vang, kry ek die volmaakte antwoord op my geloofsaanvegting. Dit het vir my so werklik gevoel, dat ek in die kamer gekyk het of ek nie die Here sien nie. Ek het toe rustig aan die slaap geraak.

Somtyds is ’n mens amper in ’n motorongeluk en dan beskerm God jou op ’n ongelooflike wyse. Dan dien dit as ’n teken van God se sorg en trou. Dikwels ervaar mense kontantvloeiprobleme wat hulle wakker laat lê. Dan word ’n mens verras hoe God elke dag die regte hoeveelheid kwartels en manna voorsien.

Die lewe is vol tekens van God se troue sorg. Dikwels ervaar kankerlyers en mense wat swaarkry, die Goddelike tekens baie spesifiek wat vir hulle moed gee op die pad vorentoe.

Martin Luther het  beleef en geskryf dat ’n mens God leer ken op vier maniere, naamlik deur die Woord, die gebed, meditasie en die ervaring van Sy tekens.

Martin Luther het in sy lewe ernstig met depressie geworstel. Hy het daarvan gepraat as die swart hond. Eendag toe hy ook geworstel het met depressie, onthou hy toe hy is mos gedoop. Hierdie teken van die doop het sy depressie gelig en hy het uitgegraveer op sy houttafel dat hy mos gedoop is.

Die Wesleyaanse vierhoek praat van die vier pilare waarop Goddelike openbaring rus, naamlik die Skrif, die tradisie, die rede en dan ook die ervaring.

Mense moet oor hulle ervarings van God praat. Ons kerk kan dikwels arm wees aan getuienisse. In baie ander kerke word daar geleenthede vir lidmate gegee om te getuig van hulle ervarings met die Here en hoe die Here in tekens met hulle gepraat het. Ons moet nie skaam wees om oor ons ervarings met die Here te praat nie. Deel jou ervarings van God met ander. Daardeur bemoedig jy hulle in die geloof.

Mag ons ook vertellers wees van ons ervarings met God en van die wonderlike tekens wat God ook in die afgelope jare vir ons gegee het van Sy troue sorg en liefdevolle bemoeienis met ons.

Kyk rondom jou. Elke dag sal jy ervaar hoe die Here met jou praat deur persoonlike ervarings en met tekens. Beleef dit as ’n persoonlike verhouding met die Here.                                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Moenie kerk-kerk speel nie

SKRIFLESING: Luk 7: 29 – 35

Ons word grootgemaak om nie ander mense aanstoot te gee nie.

Selfs al is jy reg en die ander een verkeerd, hou jy liewer jou mond … want ’n mens wil mos nie aanstoot gee nie. As iemand vloek, bly ons stil. As iemand sondig, help ons hom of haar nie reg nie. Ons “kliek” ook net met die mense wat in die openbaar by ons status pas. Ons wil niemand kwets nie. Ons wil nie hê mense moet sleg van ons praat nie. Ons volg die pad van die minste weerstand.

Ons sê niks of doen niks wat dalk vir ’n ander een beledigend is nie. Eintlik speel ons dan kerk-kerk. Juis daarom het ons ’n stilswyende kerk geword. ’n Niksdoenende kerk, want ons wil nie in die wêreld daarbuite aanstoot gee nie.

Ons tugtig ook nie meer mense in die kerk nie, want netnou neem hulle ons hof toe.

Jesus was anders. Hy het gesê wat Hy wil. Hy het gedoen wat Hy wil. Hy het gemeng met mense met wie Hy wil. Hy het Hom geensins gesteur aan die openbare opinie van mense nie. Op hierdie Sondagoggend wil die Here ons oproep om op te hou om te probeer om altyd gewild te wees of in tel te wees of om by almal aanvaarbaar te wees. Jy moet eerder guns vind in die oë van God as guns in die oë van mense.

Dan vergelyk Jesus Christus homself met Johannes die Doper. Hulle albei het dieselfde Evangelie gebring. Maar met al twee het die Fariseërs en wetgeleerdes fout gevind. Daarom is dié gedeelte in die Skrif gerig op die Fariseërs en wetgeleerdes, wat nie soos die tollenaars tot bekering gekom het nie.

Johannes die Doper was die eksentrieke profeet wat snaaks aangetrek en vreemd geëet het en in die woestyn gebly het. Hy het klere gedra wat van kameelhare gemaak is met ’n leergordel om sy heupe. Hy het van sprinkane en veldheuning geleef. God het vir Johannes die Doper gestuur om ’n treurliedjie te sing, sodat die mense van sy tyd moes huil oor hul huigel-godsdiens. Daarom was die tema van Johannes die Doper se preke altyd: “Bekeer julle, skeur julle klere, want die Koninkryk van God het naby gekom!”

Johannes die Doper se preke het as voorbereiding vir die Here Jesus se koms gedien. Johannes die Doper wou hê dat mense hulle sonde moes raaksien en daaroor berou moes hê sodat hulle die nodigheid van ’n Verlosser kon insien. Daarom wil die Here hê ons moet treur en huil as ons ons eie sonde en die sonde van die wêreld raaksien. Die kern van Johannes die Doper se godsdiens was dus dat die mens moet huil oor sy sonde.

Die Here Jesus het egter die lag-en-bly-wees kant van die Evangelie gebring. Hy het vir my sondes gesterf en daarom kan ek bly wees. Die Here Jesus het mos gesê: “Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is.” Hy het gesê dat Hy die lewende water en die brood van die lewe is.

Johannes die Doper het die huil-kant van die Evangelie gebring en Jesus Christus het die bly-kant van die Evangelie gebring. Tog was die mense met altwee se preke ongelukkig.

Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: “Hy is van die duiwel besete.” Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink en julle sê: “Kyk daar, ’n vraat en wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.”

Ware verkondigers van die Woord beland altyd in die diep water. Johannes die Doper se kop is afgekap. Jesus Christus is aan ’n kruis dood gespyker. Petrus is onderstebo gekruisig. Stefanus is gestenig, die vroeë Christene is vir leeus gegooi of met pik besmeer en aan die brand gesteek. Die kerkhervormers het al singende op brandstapels gesterf. Johan Heyns, die groot profeet van die NG Kerk, is doodgeskiet voor sy eie vrou en kleinkinders.

Ons kan dankbaar wees dat die Here Jesus nie die plaaslike predikant of die moderator van die kerk is nie. Hy sou uiters ongewild gewees het. Ons sou Hom ook uitgedryf het uit ons dorpie of uit ons kerk, soos die mense van Nasaret met Jesus gemaak het. Want sien, Jesus draai nie doekies om nie. Hy praat die waarheid, maak nie saak wat die openbare opinie is nie. Jesus was nie skaam om aanstoot te gee nie.

Die ware Jesus Christus was geen romantiese, gewilde of hoogs aanvaarbare Persoon nie. Nee, Hy het die mense die hel in gemaak. Hy het tafels omgegooi by die basaar en mense sonder skroom skynheilig of witgepleisterde grafte genoem op die trappe van die sinagoge.

Daarom sê die Here dat die mense maak soos die kinders op die markplein. Sommige is vrolik en speel op die fluit. Dit verwys na Jesus Christus se vrolike omgang met sondige mense. Hy het saam met hulle geëet en gedrink en hulle Sy vriende gemaak. Maar die kinders het nie gedans nie; die mense in die tyd van Jesus was daaroor ongelukkig en daarom het hulle hom skelwoorde toegesnou.

Die kinders wat weer ’n treurlied gesing het, verwys na die bekeer-boodskap van Johannes die Doper. Maar daaroor was die mense ook nie tevrede nie. Daarom staan daar: “Julle (die kinders) het nie gehuil nie”.

Die mense wil nie lag nie, hulle wil nie huil nie, hulle is met alles in die Evangelie ontevrede.

Ons neem so gou aanstoot oor ’n preek of oor ’n gebeurtenis in my lewe, dat ons so maklik ons nie steur aan Sy waarskuwings nie. Ons herken nie Sy hand in ons lewe nie. Ons verstaan nie Sy stem as Hy met ons praat nie.

Ons is soos kinders wat dink die Evangelie is ’n spel. As die spel, die Evangelie, nie volgens my reëls is nie, dan ruk ek my op en speel nie saam nie. Dit het deur die eeue die kerk ligsinnig en oppervlakkig gemaak.

Ons lewe word maklik in beslag geneem deur beuselagtigheid, deur minder belangrike dinge. Ons is soos kinders wat nog stry oor of ampsdrag nog nodig is, wie aan die Nagmaalstafel mag aansit, wie welkom in ons eredienste is, hoeveel liedere gesing moet word en hoe lank die erediens moet wees, ensovoorts.

Maar die wesenlike, die verspreiding van die liefde en barmhartigheid van God na ’n stukkende verlore-gaande wêreld gaan by ons verby.

Dirkie Smit sê: “God openbaar God self deur die eenvoudige, verborge gedaante van die Woord wat ons lees, deur die verkondiging van die eenvoudige, deur nie-indrukwekkende predikers waarna ons luister, mensies uit die stof, noem Calvyn hulle. God openbaar Hom deur ouderlinge en diakens wat ons besoek, mense wat ons so goed ken, deur die getuienisse van gewone mede-Christene in die skole, by die huis, by die werk, deur die tekens van brood en wyn wat ons eet en drink, deur die naaste in nood wat op ons lewenspad verskyn, en ons harte aangryp … Meer hoef ons nie te verwag nie. Meer gaan ons nie ontvang nie. So roep God ons om Sy kerk in die wêreld te wees. So werk Sy Evangelie. So kom Sy ryk.

Kom ons hou op om ons te steur aan die openbare mening van mense. Daar sal altyd dié wees wat mor en kla en soos die kinders in Lukas 7 sal maak. Daar sal altyd die wees wat kerk-kerk wil speel.

Kom ons verlang eerder om God se volle waarheid onvervals te verkondig en uit te leef. Getuig van die Here, leef vir die Here … al beteken dit dat jy vir sommige mense aanstoot gee. Verlang u om gewild by God of gewild by mense te wees? Waarna verlang u?        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Klaagliedere moet dankliedere word

SKRIFLESING: Kol 2: 6 – 7 en Kol 3: 15 – 17

Ons lees in die Bybel uit die boek Klaagliedere.

Om Klaagliedere te sing is goed. Jy kan die slegte goed in woorde omsit en dit uit jou gestel kry. Klaagliedere gee vir jou ’n klankbord dat jou pyn gehoor word. Sielkundiges moedig mense aan om oor die slegte goed in hulle lewe te praat, sodat daar genesing kan kom. Dit is ook goed vir ’n volk of nasie om in rou te gaan wanneer ’n nasionale ramp hulle tref. Klaagliedere is goed vir ontlading van ’n klomp negatiewe emosies.

Maar ’n mens moet nie vashaak by Klaagliedere nie. Klaagliedere moet groei en dankliedere word.

Ek wil graag die historiese verhaal vertel van Ds. Martin Rinkart wat gebore is op 23 April 1586, te Eilenburg en oorlede is op 8 Desember 1649, te Eilenburg.

Hy was ’n Duits-Lutherse predikant, maar ook ’n begaafde musikant. In 1617, op die ouderdom van 31 jaar, het Rinkart die predikant geword van sy geboortedorp Eilenburg. Met sy bevestiging as nuwe predikant het die Dertigjarige Oorlog uitgebreek. Tydens sy volle bedieningstyd in Eilenburg was die stad deel van die oorlogsone. Die soldate het gereeld die stad geplunder vir kos. Daar was ’n konstante invloei van vlugtelinge na die stad. Daarom was daar armoede, broodsgebrek en hongersnood in die stad. Mense het oor kos baklei. In die moeilike tyd het Ds. Rinkart by sy kudde gestaan en as predikant die Woord bedien en gehelp waar hy kon, selfs ten spyte van homself.

Asof dít nog nie erg genoeg was nie, het daar in 1637 ’n plaag in die stad en land uitgebreek. Hierdie plaag het 8 000 van die stad se inwoners gedood, asook meer as die helfte van die stadsraad. Sy een kollega het ook gesterf en die ander een het weggetrek.  Toe moes hy die werk van drie predikante doen. Hy het 40 tot 50 mense per dag begrawe. In totaal het hy daardie jaar 4 480 mense begrawe. Later het hy massa-begrafnisse gehou. Sy eie vrou het ook as gevolg van die pes gesterf. Hy het gesukkel om vir sy kinders kos op die tafel te sit, as gevolg van die hongersnood en die plundertogte van die soldate.

Boonop het die Sweedse weermag ’n geweldige hoë belasting op die stad Eilenburg geplaas, wat hulle nooit sou kon betaal nie. Van al sy versoeke het niks gekom nie. Hy het toe die stad Eilenburg tot gebed opgeroep. Later het hy voor die Sweedse generaals gekniel en hulle gevra om hul belasting te verlig. God het hulle gebed verhoor en die Sweedse generaals het hulle belasting drasties minder gemaak.

Dwarsdeur die Dertigjarige Oorlog en die groot pes, het hy getrou sy kudde versorg en geestelik bedien. ’n Mens sou ’n klaaglied oor die stad en gemeente van Eilenburg wou skryf. Soveel ellende vra ’n klaaglied.

Maar dan skryf Ds Martin Rinkart in 1636 die beroemde gesang: “ Nun danket alle Gott”. In Afrikaans natuurlik die bekende gesang: “Kom dank nou almal God”.

 1. Kom dank nou almal God              

   met hart en mond en hande;          

   loof hom wat wonders doen           

   tot in die verste lande.            

   van vroeg van kindsbeen af,         

   het hy ons trou bewaar              

   en tot vandag toe nog               

   geseën en gespaar.                  

2. O God so ryk en goed,               

   gee ons solank ons lewe             

   altyd ’n blye hart;                 

   as dit u wil is: vrede.             

   Laat u genade ons                   

   beveilig teen gevaar,               

   in donker ure ons                   

   van struikeling bewaar.             

3. Lof, eer sing ons voor God,         

   die bron van alle lewe –            

   die Vader, Seun en Gees,            

   almagtig en verhewe.                

   Drie-enige God, ons roem            

   U krag en majesteit.                

   o Heer, ons wil u noem:             

   ons God in ewigheid !    

Ds. Martin Rinkart het alle rede gehad om net Klaagliedere te skryf, maar ten spyte van al die teenkantinge en aanvegtinge, verkies hy om die goeie te soek om voor dankbaar te wees.

Onmiddellik roep dit die woorde van Fil 4: 4 – 7 op: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!  Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” 

Paulus sit in die tronk, nogtans sing hy lofliedere. Hy roep sy medegelowiges op tot blydskap. Die beste teenvoeter vir ’n negatiewe omgewing, is om iets te soek om voor dankbaar te wees en daaroor lofliedere te sing.

Ek was 100 dae binne die Covid-pandemie vir ’n erediens by Huis Corrie Dreyer. Die bejaardes het meer as 100 dae laas ’n erediens gehad, as gevolg van die inperking. Hulle verlang toe nie net na die Woord nie. Hulle wil ook sing, lofliedere sing. Maar hulle mag nie. Tannie Jenny Fourie moedig my toe aan om musiek op die rekenaar te speel. Tannie Lina Swanepoel en die verpleegsuster het vir hulle gesing, terwyl Tannie Rita van Vuuren die klavier speel. Almal kon toe luister na die lofsange.  Lofsange tel die gees op.

Ja, ons moet klaagliedere sing. Maar ons klaagliedere moet oorgaan in lofliedere – ook wanneer ons in die middel van ’n krisis is.

Daar is ’n Halleluja-lied “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”. As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

’n Blymoedige en dankbare mens het baie vriende en skep energie. Maar ’n pessimistiese en ondankbare mens tap ander se energie.

Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele naamlik:

  • Hoe groot my SONDE is.
  • Hoe ek van my sonde VERLOS word.
  • Hoe ek DANKBAARHEID moet bewys vir my verlossing.

DANKBAARHEID vorm dan ook die grootste deel van die Kategismus.

Kol 2: 6 – 7 lees: “Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid”. Paulus gebruik hier die beeld van die boom wat gewortel is in Christus. Die boom is die gelowige wat sy / haar voedingstowwe in Christus vind en wat dan blare en vrugte van dankbaarheid dra.

Kol 3: 15 – 17 lees as volg: “Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”

Ons moet elke dag iets soek om voor dankbaar te wees. Ons moet vir ons lysies op papier of in ons kop saamstel van die dinge wat ons dankbaar maak. Dit kan sekere mense in jou lewe wees wat jou dankbaar maak, soos jou ouers of kinders of ’n vriend of ’n rolmodel. Jy kan dankbaar wees dat God jou in ’n tyd toe jy gely het, gehelp het en die gebed van jou hart verhoor het. Jy kan dankbaar wees vir jou aardse besittings, of die geleenthede in jou lewe wat op sukses uitgeloop het. Jy kan dankbaar wees vir jou gesondheid, as jy hoor van ander mense se siekte. ’n Mens moet net een maal in ’n hospitaalbed lê en jy sal skielik dankbaar wees vir jou gesondheid.  Jy kan dankbaar wees vir God se voorsiening op jou lewenspad. ’n Bemoedigende woord, ’n WhatsApp, ’n kaartjie of ’n presentjie kan jou tot dankbaarheid dring.

Dit kan makliker gebeur dat ’n armer mens meer dankbaar is as ’n suksesvolle en ryk mens. Die suksesvolle mens kan maklik die krediet vir homself gee en sê hy het daarvoor gewerk en God nie in die prentjie raaksien nie.

John Ortberg skryf pragtig: “Meer dankbaarheid sal nie uit meer dinge in die lewe  kom nie, maar uit meer bewustheid van God se teenwoordigheid en God se goedheid.”

Dankbaarheid maak jou altyd nederig. Dit is een van die opregte eienskappe van dankbaarheid: dit dring jou tot nederigheid, want jy verdien dit nie.

Ondankbare mense beskou seëninge as regte en skree daarom ook vir menseregte. Hulle beskou kos, klere, geld, geleerdheid, en posisies in die samelewing as ’n reg. Eintlik is hulle diep ongelukkige mense, want hulle sien nie die seëninge in die lewe raak nie. “Waarom toon mense wat steeds meer en meer kry, al hoe minder dankbaarheid? Hoe groter ons gevoel van geregtigheid, hoe kleiner ons gevoel van dankbaarheid.” (John Ortberg)

Die Bybel se woord vir ondankbaarheid is “murmureer” of om “brommerig” te wees. Die Ou Testament is vol daarvan. Toe Moses die volk uit Egipteland gelei het, het hulle gedurig gemurmureer dat dit beter in Egipte was. Hulle het oor alles gekla en arme Moses skoon moedeloos gehad.

Jesus het egter vir ons die voorbeeld gestel van ware dankbaarheid, ten spyte daarvan dat Hy niks gehad het nie. 

My persoonlike ervaring, soos ek ouer word, is dat ek meer dankbaar vir my lewe is as toe ek jonk was. Ek besef nou eers hoe God vir my en my gesin gesorg het en vir my ’n erfdeel afgemeet het, wat genoeg vir my is. Dit is ’n wonderlike berusting.

Wees dankbaar. Tel jou seëninge en jy sal gelukkig wees.

Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismis dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien …”

Dankbaarheid genees ons gekneusde gemoed en gees, ook in krisistye. Klaagliedere word dan dankliedere. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om deur die miswolke die opgestane Christus te herken

SKRIFLESING: Joh 20: 1 – 18

Ons leef in ’n harde, wrede wêreld. Die spreekwoord “Hond eet hond” is absoluut van toepassing in die wêreld waarin ons leef. Somtyds sien ’n mens so min raak van die realiteit van die opgestane Christus”. Die rede hiervoor is dat ons sig belemmer word deur die “mis” van ons dag. (“Mis” word figuurlik gebruik.)

Die volgende stukkie geskiedenis verduidelik dit. Die Engelse het gehoop dat hulle die Franse tydens die Slag van Waterloo sal verslaan. So bou die Engelse ’n hele netwerk van telegraafpale, sodat die oorwinning na die slag van Waterloo so gou moontlik aan die Engelse nasie gebring kan word. Dit gebeur toe wel dat Generaal Wellington van die Engelse, die Franse onder leiding van Napoleon Bonaparte beslissend verslaan by die Slag van Waterloo. Die Engelse stuur toe ’n gekodeerde boodskap per telegraaf aan die mense tuis om hulle te vertel van die wonderbaarlike oorwinning. Toe die mense in Engeland die boodskap ontvang, lui dit: “Wellington verslaan.” Daar het ’n mismoedigheid oor die hele Engeland neergesak. Sonder enige hoop op die toekoms. Wat hulle nie besef het nie, was dat die helfte van die boodskap langs die pad verlore gegaan het, as gevolg van  digte mis. Toe die mis opklaar kom die boodskap deur: “Wellington verslaan Napoleon”. Skielik bars die hele Engeland in vreugde uit. Die Engelse het die Franse verslaan. Die gedugte Napoleon Bonaparte se dae is getel. Daar is vreugde in Engeland!

Net so het dit ook gegaan met die Paasgebeure. Die vroue het aanvanklik gedink dat die mense Jesus se liggaam verskuif het na ’n ander graf. Die vroue en die dissipels het nog nie die opstanding verstaan of beleef nie. Die “mis” het hulle verhinder om die opgestane Christus te sien en ervaar. Maria Magdalena het, toe Jesus Christus fisies aan haar verskyn, eers gedink dat dit die tuinopsigter was. Eers toe Jesus haar op haar naam noem, het haar oë deur die mis die opgestane Christus herken.

Dikwels is daar in ons lewe ook baie “mis”, wat maak dat ons nie die opgestane Jesus kan raaksien nie. Dit kan persoonlike probleme, werksprobleme, verhoudingsprobleme, finansiële probleme of eenvoudig net die gejaag van die lewe wees. Jy sien Jesus eenvoudig nie raak nie.

My ervaring in die nag as ek van ’n plaaswyksbyeenkoms af kom en dit is mistig in die berge, veral by Bosnek, is dat ek my ligte moet domp. Dan kan ek skielik reg voor my sien. Solank die ligte ver skyn, kan ek niks sien nie. In die gedompte lig van die voertuig kan ek myself oriënteer op die pad. So werk dit ook met ’n mens se persoonlike ervaring van die Here. Eers wanneer ’n mens Jesus Christus raaksien in die gewone, alledaagse lewe, dan raak Jesus vir my sigbaar. Ons soek Jesus dikwels ver, terwyl Hy eintlik naby ons is. Daarom moet ons met ’n daaglikse bewustheid leef om Jesus in die onmiddellike en die alledaagse te ontdek. Elke aand moet ek in my stiltetyd gaan soek waar Jesus vandag in my dag was. Waar het ek Hom vandag beleef? Ons noem dit om meditatief te leef. Om Jesus in die oomblik te beleef.

Maria Magdalena het Jesus beleef in die oomblik toe Hy haar naam noem. Toe klaar die mis op. Toe sien sy vir Christus raak as haar “Rabboeni”.

Die mistigheid sal met ons wees tot die wederkoms van die Here Jesus Christus. Daar sal baie mis wees in die vorm van oorloë, geweld, misdaad, verraad, persoonlike probleme, maatskaplike nood en so kan ons die lysie langer maak. Ons sal somtyds sukkel om sin te maak van die mistigheid van die lewe. Maar Christus Jesus gaan ook ’n tweede keer kom om alles nuut te maak. Dan sal daar geen mis meer wees nie. Dan sal ons nie meer kyk in ’n dowwe spieël vol raaisels nie. Dan sal alles nuut wees. Daarom eindig die Evangelie nie met die opgestane Christus nie. Nee, ons sien uit na die verheerlikte Christus wat met die wederkoms kom om alles nuut te maak. Dan sal ons nie meer deur die mis hoef te sien nie.

Nou sien ons nog deur die mis die opgestane Jesus. Maar eendag, wanneer die mis opklaar, sal ons Hom in Sy volle heerlikheid sien. Daarom bou die Evangelie op na Jesus se verheerliking. Ons kry die geboorte, dan die kruisiging, dan die opstanding en uiteindelik die wederkoms. Die miswolke moet plek maak vir die wederkomswolk. Daarom leef ons tussen die miswolke en die wederkomswolk.

’n Bekende teoloog het gesê: “Al was Jesus ’n duisend keer in Betlehem gebore en al het Hy ’n honderd keer op Golgota gesterf, maar nie een keer opgestaan nie, dan is ons geloof waardeloos. Daarom is Paassondag en die opstanding van Jesus Christus die belangrikste moment in die Christelike geloof. Paassondag is belangriker as Kersfees en Goeie Vrydag. Die opstanding van Jesus Christus waarborg die egtheid van die Evangelie. Omdat Jesus Christus opgestaan het, kan ons glo.”   

Maar in die mistigheid van hierdie lewe, waar ons dikwels sukkel om die opgestane Christus raak te sien, is daar katoë op ons lewenspad. Dit is die tekens wat Jesus vir ons gee dat Hy lewe en werklik opgestaan het. Dit kan enigiets wees van ’n wonderwerk, daaglikse versorging, gebedsverhoring, genesing, tot onverklaarbare ingrypings van God en ook die sakramente van die doop en Nagmaal. Daarom laat die Here ons nie verdwaal in die mistigheid en onsekerheid van hierdie wêreld nie.

Hy versterk ons daagliks met Sy teenwoordigheid en wondertekens. Sy krag is elke môre nuut en verfrissend.

Daarom kan ons elke dag die opgestane Christus in ons lewe ervaar. Deur die mistigheid van hierdie wêreld sal ons hom sien, as ons NABY aan hom leef. Daarom roep hierdie Paassondag ons op om opnuut NABY aan die opgestane Christus te leef.

Toe my jongste seun Johannes nog ’n klein seuntjie was, was dit een oggend baie mistig op Adelaide. Hy kon niks sien nie. Hy het aan die huil gegaan, want skielik was alles weg. Maar in werklikheid was niks weg nie. Later het die mis weggetrek en was die wêreld weer vir hom bekend. In die mistigheid van hierdie wrede wêreld, lyk God afwesig. Maar Hy is hier by ons. Daarom is geloof om die onsienlike te sien, met geloofsoë. Die opgestane Here Jesus Christus het die ongelowige Thomas gehelp om te glo, deur hom toe te laat om aan Sy wonde te vat.

So het die Here Jesus ook vir Maria Magdalena gehelp om Hom in die mistigheid te sien. Hy het ook aan die dissipels verskyn om te wys dat Hy lewe. So sal Hy ook in wonderwerke, gebedsverhoring en in Goddelike ingrypings aan jou verskyn, om vir jou te toon dat Hy die opgestane Christus is.

Moenie vaskyk teen die miswolke nie. Die miswolke sal plek maak vir die wederkomswolk. Jesus lewe! Jy sal Hom deur geloofservaringe beleef as die opgestane Christus.                                                      AMEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

In die Nagmaal word ons opnuut verander na die Liggaam van Christus

SKRIFLESING: Luk 22: 14 – 20 en 1 Kor 12: 12 – 31

Ds. Frik Kleinhans vertel die volgende staaltjie: “Ek sit ’n Sondagoggend vroeg ’n entjie van die kerk in my motor en wag. Ek moet die oggend die Woord op die buurdorp deel. Omdat ek sukkel om oor die weg te kom, sorg ek dat ek altyd heel betyds is.

Daar kom ’n ou man aangesukkel. Ek hou hom dop, want hy sleep ook soos ek met twee kieries voort. By elke vuilgoedblik buk hy en krap daarin. Ek neem my voor om, wanneer hy by my verby kom, vir hom ’n geldjie te gee om vir hom iets te kan koop om te eet. Hy beweeg stadig. Die kerk se hekke gaan oop, maar ek wag eers vir hom.

Dan steek hy sowat 100 meter van my vas. Hy gaan sit op die kerk se muurtjie. Hy haal opgefrommelde plastieksakke uit sy “baadjie” se sakke. Ook ’n bottel met water. Dan sien ek die hond naderkom. Net so stadig. Die ou man neem ’n stuk plastiek en vryf dit glad oop en sit dit op die grond neer. Dan gooi hy daar water op sodat die hond kan drink. Bietjie vir bietjie. Toe neem hy self ’n sluk of twee. Hy maak nog ’n sak oop en haal iets wat lyk soos ’n stuk brood uit. Hy vryf dit skoon teen sy vuil klere. Toe breek hy ’n stukkie af en gee vir die hond; dié eet graag. Daarna hap hy ook en hulle eet en drink saam.

En die nagmaal kry vir my betekenis.”

Daar het ’n stuk gemeenskap ontstaan tussen die ou man en die hond. So het Christus ook die gestalte van die mens aangeneem, sodat hy met almal wat ’n hondelewe op hierdie aarde het kan assosieer en hulle deel van sy nuwe gemeenskap kan kom maak.

Jesus het Homself kom assosieer met blindes, kreupeles, sondaars, prostitute, tollenaars, kindertjies, honger mense, melaatses, weduwees, treurendes, duiwelbesetenes en vele ander randfigure. Die Kanaänitiese vrou het haarself nie verniet as ’n hond geag wat geregtig is op die krummels wat van die baas se tafel afval nie.

Daarom het Jesus gekom en ’n nuwe gemeenskap kom skep. Die Nagmaal wil vir ons dieselfde sê. Maar kom ons kyk eers na die geskiedenis van die Nagmaal.

In die begin was daar net een kerk op die aarde, naamlik die Rooms-Katolieke Kerk. In die dertiende eeu het die Pous die sogenaamde Transsubstansiasieleer geproklameer. Dit het beteken dat die brood werklik die liggaam van Christus word en dat die wyn werklik die bloed van Christus word.

Dit word letterlik getransformeer in die liggaam (lyk) en bloed van Christus. Daarom het hulle, as van die brood en wyn oorgebly het, dit begrawe. Ons as Gereformeerdes glo dat die brood en wyn slegs tekens is van die Here se liggaam en bloed en dat daar niks bonatuurliks gebeur nie.

Zwingli antwoord op die vraag oor die “transsubstansiasie” (verandering van substansie) dat nie die brood en wyn verander nie, maar dat die gemeente van Christus nogeens / weer / opnuut verander word in dié “liggaam van Christus”. Daarom dat ons veel, veel meer Nagmaal behoort te vier. Calvyn het gesê wat by die Nagmaal behoort te gebeur is dat die teenwoordigheid van Christus nie in of onder die brood en wyn is nie, maar in die optel van ons harte na Hom, die Immerteenwoordige in hemel en op aarde.

Daarom is die doel van Jesus se koms om vir hom ’n Bruid voor te berei. Sy doel is om ’n nuwe gemeenskap van geheiligdes te skep, te midde van ’n ontaarde en vervreemde mensdom.

Daarom praat Jesus in 1 Kor 12: 12 – 31 in groot liefde van sy gemeente as ’n nuwe skepping. Hy gebruik die voorbeeld van die kerk as Sy liggaam en dat ons elkeen deel het daaraan. Hy wil hê dat die lede onderlinge verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar en so deel van God se nuwe skepping word.

Daarom is die kerk die kanaal van Jesus se liefde. Deur die kerk wil Hy dié wêreld bereik en omhels. Hierdie nuwe gemeenskap se vernaamste eienskap is die LIEFDE. As’t ware word liefde die suurstof van die kerk van Jesus. Soos ’n liggaam nie sonder suurstof kan leef nie, kan die kerk ook nie bestaan sonder liefde nie.

Daarom is die gemeente deel van God se nuwe skepping. Dit is deel van Sy liggaam. Daarom lê daar by ons die verantwoordelikheid om te leef soos ’n nuwe gemeenskap. Daarom moet ek en jy leef soos ’n nuwe skepsel. Ons moet leef soos nuwe mense.

Nie die brood en wyn moet verander nie, maar God se kerk. Nie die brood en wyn moet verander nie, maar die Christen.

Somtyds vra ’n mens jouself af waarom jy nie groei in jou geestelike lewe nie. Waarom ervaar ek so min van die Heilige Gees in my lewe?

Bavinck het op hierdie vraag soos volg geantwoord. Hy sê ons ervaar so min van die krag van die Heilige Gees in ons lewe omdat ons die Heilige Gees nie ten volle wil toelaat in ons lewe nie. Dan gebruik hy die beeld van die sakdoek. As ’n mens in ’n boot staan, met jou sakdoek bo jou kop gehou, kan jy tog nie verwag dat die wind daardie boot van jou sal kan beweeg nie. Maar as jy die seile van die boot ten volle hys, sal die wind kort voor lank die seile met mening laat bol en die boot sal met gemak deur die water klief.

Die vraag is nou egter of jy vir die Heilige Gees ’n sakdoek uithou en of jy bereid is om jou oop te stel vir God se Gees. Het jy met ander woorde al toegelaat dat die Heilige Gees in jou lewe begin werk en jou verander in ’n nuwe skepsel?

Die Hebreeuse woord vir heilig beteken om “afgesonderd” te wees. Deur die heiligmaking wil God jou afsonder vir Hom en vir Sy diens. God wil hê jy moet as ’n koning, profeet en priester vir Hom lewe. Elke dag moet jy groei na die ware bedoeling wat God met jou lewe het. Dit beteken dus ten diepste om te word soos Christus. Ja, dit is waar, in hierdie lewe sal ons dit nie kan bereik nie. Maar ons moet ten minste die Heilige Gees toelaat om ons lewe elke dag heiliger te maak, sodat ons al meer ’n nuwe skepsel kan word.

“Wat ek bedoel, is dit: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Gal 5:16). “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing….” (Gal 5:22)

Wat beteken dit onder andere om as Christen in die week die brood te breek en die wyn te skink in jou daaglikse lewe?

Ek as Christen kan die brood breek as ek tyd afstaan aan bejaardes, randfigure, moedeloses, siekes en elkeen wat oor my pad kom. My naaste beteken mos inderdaad diegene wat op hierdie oomblik fisies die naaste aan my is.

Christenwees beteken om “in die oomblik” te wees by diegene wat God in jou fisiese nabyheid geplaas het.

Om brood te breek en wyn te skink vir ander beteken dat ek regverdig en billik optree teenoor ander, dat ek genade betoon en dat ek barmhartig is. Verder beteken dit om verantwoordelikheid vir mekaar en ander vreemdes te neem. Dit beteken om betrokke te wees en om om te gee.

Ek breek brood en skink wyn, wanneer ek nie kwaadpraat en skinder van ander nie. ’n Gemeenskap wat brood breek en wyn skink is ’n positiewe gemeenskap wat in die feestelikheid van die Nagmaal deel en dit laat oorspoel in die gemeenskap waarbinne hulle lewe. Gelowiges wat die Nagmaal verstaan, verstaan dat die Nagmaal ons oproep om kreatief ’n nuwe gemeenskap in hierdie gebroke wêreld te skep. In Suid-Afrika met sy skewe en gebroke reënboog, word ons nie geroep om heeldag te kla oor wat verkeerd loop in die land nie, maar om ons hempsmoue op te rol en elke dag ’n verskil te maak. Om elke dag iets nuuts tot stand te bring. Nagmaalsmense is mense wat verander word om die wêreld te verander. Verandering bring nuwe energie, nuwe geloofsenergie. Nagmaalsmense haas hulle van die Nagmaalstafel om God se nuwe skepping te laat kom, deur aktiewe dissipelskap. Die kerk het nie nominale Christene nodig nie. Nee, God het behoefte aan dissipels wat ’n ware verskil maak. Het die Nagmaal vir jou al verander in ’n dissipel? AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus regeer met ‘n kruis, nie met ‘n swaard nie

SKRIFLESING: Joh. 18: 1 – 11

Ons leef in ’n wêreld van superhelde.

Kinders het hulle eie helde soos Tarzan, Superman, Spider-Man, Wonder Woman, Iron Man, Batman, Rambo, Karate-kid en Popeye wat spinasie eet om hom sterk te maak.

Ons leef in ’n “sterk wêreld”, waar daar nie plek is vir swakheid nie. In ons wêreld is daar nie plek vir sagmoedige Neelsies nie. Nee, op sagmoedige Neelsies word getrap, want hulle kan nie hulle man staan nie.

“Nice guys come second” in die politiek, in die sakewêreld en sommer oral oor. Mussolini het een maal gesê: “As ek kon kies: eerder een dag ’n leeu as ’n duisend jaar ’n lam.” Daarom is die Evangelie nie baie gewild op die ander ses dae van die week nie, want Nietzsche het gesê die Evangelie maak ’n mens nie sterk nie, eerder swak.

Hierdie wêreld is egter bekend vir sy magsvertoon, sy parades, sy politieke toesprake, vertoon van tegnologie en wapentuig, sy prestasies en rykdom. Tans is die wêreld in ’n staat van oorlog.

Daar is die oorlog tussen Rusland en die Oekraine, wat alreeds meer as twee jaar woed. Daar is die oorlog tussen Israel en Hamas, wat die hele Gaza-streek vernietig. Noord-Korea bedreig Suid-Korea met missiele wat afgevuur word oor die see.  Die afgelope week  het Isis vir Moskou aangeval. Ekstremistiese groepe teiken die skeepvaart in die Rooi See. Almal is bang die oorloë eskaleer in ’n groter oorlog.

TS Eliot het nie verniet gesê: “Die meeste probleme in die wêreld word veroorsaak deur mense wat belangrik wil wees.”

Daarom wil die Romeinse soldate en die Jode in Joh. 18 met magsvertoon en krag die Koninkryk van God stuit. Daarom kom hulle met ’n hele afdeling soldate, gewapen met stokke, spiese en swaarde.

Agter die hele episode sit natuurlik die Fariseërs en die Sadduseërs wat die meesterbrein agter alles is. Hulle kon niks teen hom vind nie, nou speel hulle vuil en misbruik hulle hul mag. As jy nie slim is nie, moet jy sterk wees. Dan lees ons van die verraad. Die wolf in skaapklere is niemand anders as Judas Iskariot nie. Met geld kan jy enigiets regkry.

Die groot gevaar is egter as die kerk ook deur krag en magsvertoon sy saak wil bevorder.

Dit is dan inderdaad wat Petrus doen, hy pluk sy swaard uit en kap Malgus se oor af. ’n Mens wil as’t ware vir Petrus gelukwens, vir hom ’n medalje gee vir sy flinke optrede. Petrus is ’n ware ridder.

In die Middeleeue het die kerk ook onder Konstantyn verskeie kruistogte met die swaard uitgevoer, om die wêreld vir Christus te wen. Dit het egter tragiese gevolge vir die kerk gehad. Dit was ’n donker tyd in die kerk se geskiedenis. Maar wat sê Jesus vir Petrus? “Sit die swaard in sy skede terug. Moet ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Inderdaad verander die Here die swaard in ’n kruis.

Daar is grafiese ooreenkomste tussen ’n swaard en ’n kruis. Hulle lyk amper dieselfde, maar daar is tog ’n reuse-verskil. Die swaard vernietig en die kruis genees.

Toe Petrus se swaard weg is, word hy bang. Hy hardloop weg en verloën die Here. Toe hy nie meer met die swaard kon regeer nie, val sy bravade weg. Eers later sou Petrus leer dat selfverloëning, diensbaarheid en die kruis die weg van God in hierdie wêreld is.

Eindelik, baie jare later sou Petrus aan ’n kruis sterf vir sy geloof. Hy het daarop aangedring om onderstebo gekruisig te word, kop onder en voete bo. Hy het homself nie waardig geag om op dieselfde wyse as die Here te sterf nie.

Nie deur ‘n swaard-Evangelie nie, maar deur ’n Kruis-Evangelie verander die Here dié wêreld.

In Romeine 13 het die Here vir die staat die swaardmag gegee om te heers met die swaard. Maar die kerk het ’n ander styl, die kerk moet nie deur die swaard en deur mag heers nie, maar met die kruis dien.

As Christen moet ek in my huwelik, in my gesin, in my werksplek, en in die samelewing met die kruis dien en nie met die swaard probeer regeer nie. Die swaard staan vir magsmisbruik, maar die kruis staan vir gedienstigheid. Die huwelik, gesin, werksplek en samelewing moet nie deur mag beheer word nie. Nee, ons moet mekaar in die huwelik, gesin, kerk en samelewing dien.

In Fil. 2: 3 staan daar: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”

Juis so kom die verandering in die wêreld. Juis so konfronteer God die werklikheid van die kwaad.

Teenoor die grootdoenerigheid van die wêreld – ’n kruis.

Teenoor die mag en geweld van hierdie wêreld – ’n kruis.

Teenoor die skynbaar onkeerbare triomf van die bose – ’n kruis.

Ons het iets meer aanskoulik verwag, ’n goue swaard, maar vind ’n bloederige houtkruis.

Op Palmsondag kom Jesus Jerusalem ingery op ’n donkie. Die skares gooi palmtakke en klere voor Hom uit. Hulle was onder die indruk Hy kom met die swaard die Romeine verslaan, sodat die Jode vry kon wees. Hulle het Hom as ’n politieke en militêre bevryder aangesien. In die groot Lydensweek, sou Jesus hulle egter teleurstel. Daarom het hulle ook op Goeie Vrydag geskree: “Kruisig Hom, kruisig Hom.” Hy kom wys dat hy nie politieke bevryding bring nie, maar die bevryding van sonde. Hy regeer nie met ’n swaard nie, maar met ’n kruis.   

God kom die geskiedenis van die wêreld nie ingery as ’n ridder op ’n perd met ’n swaard om te regeer nie. God kom die geskiedenis van die wêreld ingery as ’n Nederige op ’n donkie op Palmsondag en Hy dien met ’n kruis. Daardeur het die wêreld verander!

Die kruis het ’n keerpunt geword in die jaartelling, naamlik voor Christus en na Christus. Die kruis het ’n kruispunt geword in mense se lewens. Die kruis sny dieper as wat enige swaard ooit kan sny. Dit sny die kanker van sonde weg.

Die swaard kloof oop, maak seer en bring vyandskap.

Die kruis genees en bring heling en versoening.

Ons mense is lief om die swaard uit te haal en mekaar by te kom. Dit bring vervreemding van mekaar en die kanker van haat versprei.

Daarom is die styl van die kerk nie die swaard nie, maar die kruis. Wat hanteer u en ek elke dag, die swaard of die kruis? Wat is u en my styl? Die swaard of die kruis?

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Littekens kan van jou ‘n “wounded healer” maak

SKRIFLESING: Joh 20:  19 – 23

Elkeen van ons het littekens. 

Dit kan fisiese littekens wees, soos grys hare wat van ouderdom getuig, of ’n af-vinger wat getuig van ’n vinger wat in die slag gebly het op ’n bandsaag.  Dit kan bysiendheid of ’n geringe graad van doofheid wees.  Dalk ’n merk wat ’n boorpunt of ’n hamerhou ons toegedien het.

Daar is ook die sielkundige littekens soos ’n stuk seerkry vroeër in my lewe wat ek nog glad nie verwerk het nie.  Dalk ’n swak selfbeeld, of angstigheid of depressie of net ’n bang gevoel in my lewe.  Daar is dalk ’n oordrewe skuldgevoel in my lewe teenwoordig. Dit kan my “inner child” wees wat seergekry het in my kinderjare.

Daar is ook die emosionele littekens soos die van iemand wat ’n ouer of kind aan die dood afgestaan het.  Toe my ouer of my kind gesterf het, het iets ook hier binne my doodgegaan. Almal het littekens.

Ja, die tydskrifte en die televisie bedrieg ons as net die mooiste meisies en die sterkste ouens in advertensies verskyn.  Dit lyk of die TV-modelle ook net die mooiste en rykste is.  Vir baie jare het ons in die kerk ook ’n Evangelie van littekenloses verkondig.  Ons het geleef asof Jesus slegs die vleklose, die goeie en suksesvolle mense aanneem.  Ordentlike,  fatsoenlike en op hul-plek-mense was die verkorenes.  Sulke Christene hoort op die glansblaaie van die tydskrifte.

Op die dowwe bladsye van die Bybel lees ek egter van ’n Jesus wat hom vereenselwig met die armes, die melaatses, die straatvrouens, die dronkies, die dwelmslawe, die straatkinders, die tronkvoëls, die hongeres, die dakloses, die vissers, die oneerlike tollenaars, die huilendes en die versteurdes.

Ja, Jesus het Hom vereenselwig met die littekens van die:

* Arme …  litteken van verslete klere

* Melaatses … litteken van hande en vingers wat soos kloue staan

*Straatvrouens … litteken van om opgebruik te wees

*Hongeres … litteken van hol oë

*Dakloses … litteken van mense wat kartondose wat hul saamsleep

*Tollenaars … litteken van skuldgevoelens.

Jesus Christus lees ’n mens nie raak op die glansbladsye van die tydskrifte nie, maar op die dowwe bladsye van die Bybel.

Jesus sal nie poseer tussen glanssterre nie, maar tussen hulle wat merktekens dra.

Toe die Here Jesus aan die dissipels verskyn daardie Sondagaand was hulle verskrik en bang bymekaar, en die deure was gesluit. Nie glanssterre nie, maar ’n klomp verskriktes, vol littekens. Sommiges het geslaap toe hulle moes waghou, sommiges het weggehardloop toe hulle moes getuig, een het die Here blatant verloën, daar was selfs ’n twyfelaar of meer onder hulle.

Dan verskyn die Here aan hulle. Hy het deur die deur beweeg, amper soos ’n spook. Maar Hy was nie ’n spook nie, hulle kon aan hom vat.

Twee keer het Hy vir hulle gesê: “Vrede vir julle”. Johannes probeer deur die dubbele seëngroet vir ons aantoon dat dit meer was as maar net ’n groet. Eintlik het die seëngroet die begin van die nuwe lewe ingelei. Jesus gee aan hulle Sy werklik volkome vrede.

Dan blaas die Here oor hierdie bang, verwarde, glanslose dissipels en vroue sy asem en sê: “Ontvang die Heilige Gees”.

Aan mense vol littekens, gee God sy Heilige Gees. God se Gees is nie alleen vir die volmaaktes, die vlekloses, die geloofsreuse en die suksesvolle kerke nie. God se Gees is nie vir die “Hoera-mense” nie. Nee, dit is vir hulle wat gemerk is met littekens, die onvolmaaktes.

God blaas sy Gees oor die dissipels soos wat God in die begin sy asem oor die eerste mensepaar geblaas het. Jesus gee aan hulle ’n tweede lewe. Hulle het die Heilige Gees, asem, lewe, krag en energie ontvang. Dit “empower” ons. Dit gee aan mense vol littekens krag vir vandag en vir môre. Dit laat ons dinge doen wat ons andersins nooit sou doen nie.

Agt dae later sou Jesus Christus, die Vleklose Lam van God, Sy littekens aan die ongelowige Thomas wys. Die vleklose Lam van God het littekens opgedoen deur ons sondes. Daardeur het hy die Joodse wetboek kom nietig verklaar. In die Joodse offersisteem kon diere met gebreke nie geoffer word nie. “Geen littekens” het die reëlboekie gesê! Geen lelikheid nie! En hier strek Jesus Sy hande en voete uit. God openbaar Homself met littekens. Hy kom identifiseer Homself met ons littekens.

Maar daarmee saam kom ook die opdrag aan die kerk, dat die kerk die Evangelie van “Hom met die Littekens” aan die wêreld wat vol  littekens is, moet verkondig. Dit is ’n Evangelie wat empatie, deernis en toewyding verg.

Eers moet ek self as gevolg van my littekens ly, voor ek hoop kan bring aan ander met littekens. Vandag is daar baie mense wat liggaamlik of geestelik gelitteken is vanweë ’n trauma. Van hulle beman sopkombuise en is vrywilligers in die hospitaal se terminaalafdeling en probeer straatkinders onder dak kry.

Riana Raab skryf in Psychology Today die volgende: “Gewonde genesers is mense wie se pynlike ervarings hulle in staat stel om ander te help. Gewonde genesers is goeie luisteraars, empaties, aanvaardend en vindingryk. Hulle beskou alle ervarings as geleenthede. Gewonde genesers kan binne of buite die helpende beroepe wees.”

“Wounded healer” is ’n term wat deur sielkundige Carl Jung geskep is. Die gedagte is verleen aan die veronderstelling dat pasiënte die beste behandel kan word as die helper self “gewond” is. Die idee het moontlik ’n  Griekse mitologiese oorsprong. Victor et al. (2022) het bevind dat 82% van Toegepaste Sielkunde gegradueerde studente en fakulteitslede in die Verenigde State en Kanada op een of ander stadium in hul lewens  geestesgesondheidsprobleme ervaar het. Dit maak dat hulle baie beter empaties na mense kan luister.

Henri Nouwen het ’n aangrypende boek geskryf: “The wounded healer”, waar hy juis getuig oor sy eie gewondheid en hoedat hy vreugde vind om met mense te werk wat gewond is in die lewe. Nouwen skryf onder andere: “In our own woundedness, we can become a source of life for others.”

 Mense met littekens het begrip vir ander mense wat swaarkry of wat stukkend is. Jesus wil vir ons met littekens Sy “wounded healers” maak.  Ja, as “gewonde genesers” moet ons gewondes, wat langs die pad seergekry het, die wonde van ander versorg en genees.

Littekens kan ’n mens òf versag òf verhard. Littekens kan ’n mens òf met innerlike vrede dra, òf ’n mens kan verbitterd word. Dit hang af of ’n mens dit bring na die Gekruisigde Jesus? Dit maak al die verskil.

Toe Jesus daardie Sondagaand aan die dissipels met sy littekens verskyn het, het Hy waardigheid aan ons littekens gegee.

Met elke Nagmaal herdenk ons die tekens, die littekens van Sy sterwe, naamlik die brood en wyn. God blaas oor ons elkeen opnuut Sy Gees, gee ons die lewe en moedig ons aan om die Evangelie van Hom met die littekens aan ’n stukkende wêreld te verkondig.

Is u bereid om ’n “wounded healer”, ’n “gewonde geneser” te wees vir die seerkry-mense op u pad?  Dit is ’n geneesmiddel vir jou eie pyn en seer. Dit is in elk geval beter as om jouself te bejammer.

Daarom kan jou innerlike seerkry sin gee aan jou lewe, deurdat jy ander mense verstaan en hulle kan help.

So kan ons die Minus (-) in ons lewens deurkruis met die kruis van Christus om ’n Plus (+) te word.

So kry ons littekens (ons pyn en seerkry) betekenis. Dit word die moeite werd om met jou littekens saam te leef.  

Ons lyding gee sin aan ons eie bestaan.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)