Kinders het goeie vaders nodig

SKRIFLESING: Luk 15:20-24

Die wêreld kort goeie vaders. Ons lewe in ’n wêreld waar ons die rolmodel van goeie vaders nodig het. Die samelewing word gekenmerk deur vaderlose kinders en afwesige vaders. In baie huise is daar wel vaders, maar dit gebeur te dikwels dat vaders nie goeie rolmodelle is nie.

’n Vaderlose samelewing veroorsaak allerlei gemeenskapsprobleme soos misdaad, dwelmmisbruik, afhanklikheidsverslawing, geweld teen vroue en kinders, gedragsprobleme, bendegeweld en nog vele ander euwels.

Kom, laat ons sommer reg aan die begin sê dat goeie pa’s net so belangrik soos goeie ma’s is. Vaders het ’n enorme invloed op hulle seuns en dogters se lewens. Dogters moet droom om eendag te trou met mans soos hulle pa’s. Seuns, weer, moet begeer om eendag volwasse mans te word soos hulle vaders se voorbeeld. Pa’s speel ’n enorme rol in hulle kinders se emosionele welsyn.   

In die ouer samelewings is gesinne gedefinieer as ’n huis met ’n pa en ’n ma en kinders wat saamgebly het. Maar baie dinge het verander.

Dekades gelede was die swart bevolking in Suid-Afrika se gesinslewe baie gesond. Toe kom die myne en tienduisende mans moes in kampongs lewe ver van hulle gesinne af. Vir die mynbase was dit ’n goedkoper opsie as om elke gesin van ’n mynhuis te voorsien. Dit het tot gevolg gehad dat die swart gesinne hulle vaders net so twee keer per jaar gesien het. Die kinders het pa-loos grootgeword. Die kinders het hulle identiteit verloor en so het misdaad en geweld deel van die Suid-Afrikaanse samelewing geword.

Die onlangse wetgewing dat elke ma R350 per kind ontvang as ’n kindertoelaag, was ook ’n verkeerde besluit. Jong tienermeisies sorg dat hulle swanger word om die R350-kindertoelaag te ontvang. Die kinders word gebore sonder ’n huis en sonder ’n pa. Jong manne loop rond en maak meisies swanger, maar wil nie die verantwoordelikheid van ouerskap aanvaar nie. Daar word bitter min kinders binne die huwelik in Suid-Afrika gebore. Die meeste is buite-egtelik en waarvan die pa’s wegstap van hulle verantwoordelikheid.   

Die Westerse samelewing wat geskoei is op produktiwiteit, het ook die gevolg  dat vaders lang ure werk en dikwels min tyd het vir hulle kinders. Dit skep ook weer sy eie probleme.

Ons land beleef ’n groot maatskaplike probleem wat misdaad, geweld, dwelmsindikate, afhanklikheidsverslawing, verkragting en geweld teenoor vroue en kinders betref. Die rede daarvoor is hoofsaaklik omdat kinders nie meer die gesonde rolmodel van ’n vader het nie.

Deur navorsing is bevind dat 98% van misdadigers wat in Amerikaanse tronke vir ernstige misdaad soos moord en gewapende roof is, geen goeie verhouding met hulle pa’s gehad het nie.  

Pa’s wat liefdevol betrokke is by die opvoeding van hulle kinders, skep jongmense wat stewig op die grond staan. Pa’s is vir die samelewing lewensbelangrik. Ons moet die waarde van vaders herontdek. Die Here het beslis nie net vaders gemaak om kinders voort te plant nie. ’n Pa het ’n morele verantwoordelikheid vir elke kind wat hy in die wêreld gebring het. Dit is sy heerlike voorreg om hulle vader genoem te word.    

Ek haal die volgende aan uit ’n preek van die NG Kerk Kraggakamma:  “Die volgende statistiek toon aan waarom dit so belangrik is dat ouers die Here dien: As Pa ’n Christen is (saam met Ma), is die kans 93% dat hul kinders Christene sal wees. As net die ma ’n Christen is, is die kans 17% dat haar kinders Christene sal wees. As nie die ma of pa ’n Christen is nie, is die kans 3% dat hul kinders Christene sal wees. Wanneer Ma en Pa positiewe betrokke lidmate is, is die kans 80% dat hul kinders betrokke lidmate sal wees. Wanneer net die pa ’n positiewe betrokke lidmaat is, is die kans 70% dat sy kinders betrokke lidmate sal wees. Wanneer net die ma ’n positiewe betrokke lidmaat is, is die kans 30% dat haar kinders betrokke lidmate sal wees. Wanneer kinders by kategese afgelaai word, is die kans 10% dat hul betrokke lidmate sal wees.”

Die rol van ’n pa in die godsdienstige ontwikkeling van sy kinders is uiters belangrik. Kinders sien hulle pa’s as sterk. As my “sterk” pa die Here nodig het, het ek ook die Here nodig. (Dit verklaar bogenoemde statistieke.)

Ons gaan vanoggend in Lukas 15 kyk na die gelykenis van die verlore seun. Baie word gemaak van die verlore seun en ook selfs van die opstandige seun wat nie bly was oor sy broer se terugkoms nie. Vandag gaan ons na die vader kyk.  Elkeen van die karakters leer belangrike lesse vir Christene. In Luk 15:20-24 leer ons ’n paar dinge oor die vader, wat Christenvaders moet navolg terwyl hulle probeer om hul kinders groot te maak in die opvoeding en vermaning van die Here.

1. Die vader was geduldig – Alhoewel die seun lankal weg was, het die pa nog steeds na hom gesoek en was hy voortdurend op die uitkyk vir hom. Die vader se oë was gedurig op die pad, daarom kon hy toe sy seun nog van ver aankom, na die seun toe hardloop. Sy oë het nooit moeg geword daarvoor om na sy eiesinnige seun te soek nie.

2. Die vader was liefdevol – Toe hy sy seun sien kom, het hy na hom gehardloop. Hy kon nie wag dat sy seun na hom toe kom nie. Hy het dadelik sy seun omhels en gesoen. Die pa het nie eens gevra vir ’n verduideliking van waar hy was of wat hy gedoen het nie. Hy het nie vir hom ’n lesing gegee oor “jy moes van beter geweet het,” of  “ek hoop jy het jou les geleer,” nie.  Die vader was buitengewoon liefdevol teenoor sy seun. Dit was nie ’n voorwaardelike liefde nie, maar totaal onvoorwaardelike liefde wat geen grense ken nie.

3. Die vader was vergewensgesind – Ons weet hy was vergewensgesind omdat sy optrede dit gedemonstreer het. So angstig was hy om sy seun te vergewe dat hy sy seun nie toegelaat het om sy pleidooi te voltooi nie. (In Luk 15:18-19 beplan die seun om sy pa te vra om hom ’n dienskneg te maak. Maar die pa verhoed hom om verder te praat in Luk 15:21-22). Die vader het sy eiesinnige seun op sy oorspronklike plek herstel. Vergifnis is die belangrikste element in verhoudings. As daar nie vergifnis is nie, word wrokke gekoester, wat jou lewenslank kan treiter.

4. Die vader het sy prioriteite op die regte plek gehad – Die belangrikste ding was nie dat sy seun gesondig het nie, nie dat hy sy vader uitgebuit het nie, nie dat hy sy vader ongekende hartseer veroorsaak het nie; die belangrikste was dat sy seun gelewe het en huis toe gekom het. Die terugkeer van die verlore seun was die enigste fokus van die vader. Daarin het sy blydskap gelê.

Johannes Calvyn het gesê kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee.  Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ’n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die kind kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die kind moet die liefde van God ervaar om geborgenheid te ervaar. Die kind moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef.  Daarom moet die kind al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en die Here met ons ’n afspraak het. Die kind moet leer dat daar ’n oggendgebed is en dat daar in die aand boeke gevat word, deur stiltetyd te hou. Die vader as geestelike leier van sy huis moet hierin die voorbeeld vir sy kinders wees.

’n Klein seuntjie het gefrustreerd en naby aan trane gesit. Hy het probeer om ’n vlieër te bou, maar hy kon dit nie in die lug kry nie. Sy pa het gekom en tydsaam die vlieër reggemaak en vir sy seun geleer om die vlieër in die lug te kry. Die seuntjie was dankbaar vir die liefdevolle en hulpvaardige belangstelling wat sy pa getoon het. Vir die res van sy lewe sal hy daardie dag van kwaliteit-aandag van sy vader onthou.

Ons sal in hierdie land moet leer om die Rubicon oor te steek, waar vaders weer hulle regmatige plek inneem, en om weer pa te wees vir hulle kinders in die volste sin van die woord. (“Rubicon” beteken om ’n grens oor te steek wat dapperheid vra en waar daar geen terugdraai is nie – die woord het sy oorsprong in Julius Caesar se geskiedenis.) Alleen dan sal Suid-Afrika gered kan word van sy totale maatskaplike verval.

Afwesige vaders = maatskaplike verval. Betrokke vaders = maatskaplike opbou.

Cecil Taylor het die volgende gesê oor om ’n Rubicon oor te steek:  “Een enkele besluit kan toekomstige geslagte beïnvloed. In 1940 het my ma en pa Christene geword. My pa het gesê: “Wat my en my huis betref, ons sal die Here dien!” Omdat my pa besluit het om Christus te volg, het ek ’n Christen geword. Omdat ek ’n Christen is, het my kinders Christene geword. Omdat my kinders Christene is, word my kleinkinders Christene. Een besluit wat in 1940 geneem is, het vier generasies en 75 jaar, en waarskynlik meer, beïnvloed. ’n Besluit wat vandag geneem word, kan dinge vir toekomstige geslagte bepaal.”

Daar word gesê dat enige man ’n pa kan word, maar dat dit ’n spesiale soort man vra om ’n pa te wees! Die ideale vader is meer as om bloot deel te hê aan die voortplanting van die kind; hy help om die kind regdeur sy groeijare te vorm deur ruim hoeveelhede kwaliteit liefde, leiding, regstelling, vergifnis en lof uit te deel. Gelukkig is diegene wat ’n pa gehad het met wie hulle so ’n persoonlike verhouding gehad het.

1 Kor 13 vir pa’s:

“Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos ’n bankkrediet met ’n nulbalans.

Al het ek die gawe van woorde sodat ek ’n direksie met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.

Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie.

Al gee ek ’n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp dien en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.

’n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,

’n Pa se liefde is vriendelik met ’n kind wat nie wil rugby speel nie,

Hy is nie afgunstig op pa’s met slimmer en mooier kinders nie,

Hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,

’n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,

Soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,

Is nie liggeraak en nukkerig as ’n kind bietjie ekstra aandag soek nie.

’n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hulle foute en peper hulle nie met verwyte nie.

’n Pa verbly hom nie oor ’n kind se foute met:

‘Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie.’

Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat – selfs tot hulle eie nadeel.

Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,

In hulle glo,

Die beste vir hulle hoop,

En hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.

‘n Opregte drukkie en ’n intieme gesprek van ’n ouer bly lank in ’n kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.

Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.

In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.

Toe ek ’n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en my geleerdheid,

Maar noudat ek ’n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak.

Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,

Maar eendag as hulle groot is,

Sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,

En wat God ons almal leer.

En nou:

Geduld, aanmoediging en liefde bly,

Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!”

(Erkenning aan Willem Botha in http://www.heuning.co.ca)

Pa’s moet so leef dat hulle kinders op hulle trots is. Dit is nie ’n trots gebou op sukses, geleerdheid of finansiële welvaart nie, maar eerder ’n trots op die karakter van hulle pa.

Ons kan nou al die vader-kind-verhouding ervaar wanneer ons God as ons hemelse Vader ervaar. Daarom leer die Onse Vader vir ons: “Ons Vader wat in die hemel is ……”

Wees ’n pa en ’n oupa wat ’n persoonlike verhouding met jou kind of kleinkind het.                                   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Bible Illustrations (AMG International Inc)

Taylor, Cecil. Cross this Rubicon!

www.heuning.co.ca

Die doop as ‘n seël

SKRIFLESING: Hand 16: 14 – 15 en Gal 3: 26 – 29

Seëls was klein gegraveerde voorwerpe, meestal in die vorm van ’n ring, om afdrukke in klei of was te maak.

Seëlafdrukke wys dat die dokument eg is, of dat die dokument nog nie oopgemaak is nie. Op die seël was gewoonlik die eienaar se naam, kop, amp of familiewapen gegraveer.

’n Seël kon aan ’n persoon gegee word om aan hom die mag te gee om die eienaar van die seël te verteenwoordig. So lees ons in Gen 41:42 dat koning Farao aan Josef, wat ’n slaaf was in Egipte, sy seëlring gee as teken dat hy nou die tweede hoogste is in die Egiptiese Ryk en dat hy met die Farao se seëlring namens die Farao kon regeer.

Die Bybel noem twee gevalle waar seëls gebruik is om ingange te verseël. Toe die profeet Daniël in die leeukuil gegooi is, staan daar in Dan 6:18: “Daar is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. ”

Toe Jesus Christus se liggaam in ’n graf gesit is, het die Romeine ook Sy graf verseël, sodat die Jode nie kon sê dat Jesus se liggaam gesteel is nie.

Daarom het ’n seëlring deur die geskiedenis van duisende jare altyd die rol vervul om iets te bevestig as outentiek, eg en oorspronklik. Wanneer ’n dokument ’n koninklike seël opgehad het, was dit altyd die finale opdrag van die koning en kon niks daaraan verander word nie.

Daarom het die opstellers van die Heidelbergse Kategismus ook die doop beskryf as ’n seël, dat die Drie Enige God die dopeling aanneem om Sy kind te wees. Jou verlossing word as’t ware verseël. Jesus Christus het werklik vir jou ook gesterf. Daar word verseël dat jy deel het aan al God se beloftes.

Prof Willie Jonker skryf dat dit in die kinderdoop gaan oor God se voorkomende genade wat die dopeling red. Jesus Christus het gesterf vir my erfsonde en ook alle sonde wat ek nog in my lewe sal doen. Dit is nie die dopeling se geloof en bekering wat die oorsaak of grond van die verlossing is nie. Dit is God wat uit vrye inisiatief Sy verlossingsplan met die doop aan die dopeling kom beseël het.  Die beloftes wat in die doop uitgebeeld en verseël word, moet in geloof en gehoorsaamheid aanvaar word. 

Die doop is die seël wat waarborg dat die Here instaan vir al ons sondes. Hierdie seël van verlossing word vanoggend in Coenraad se lewe bevestig. Die ouers Coenie en Nandie kan nooit die waarborg wees nie. Julle kan nie instaan vir sy sonde nie. Net die Here kan instaan vir sy sonde. Dit waarborg Hy in die doop.

Gal 3: 26 – 29 sê dat ons as’t ware deur die doop Jesus Christus soos ’n kleed aangetrek het. Ons het as’t ware Sy verlossing aangetrek. Ons kan ons identifiseer met Christus se verlossing en met Sy duur gekoopte kerk.

Coenraad Pieterse du Preez word vandag, 9 Junie 2024 ’n volle lidmaat van die Here se kerk op Fort Beaufort. Sy doop verseël sy lidmaatskap. Sy doop verseël sy verlossing in Jesus Christus. Coenraad is nou alreeds ’n kind van God. Eendag op ongeveer sestienjarige ouderdom sal hy net die verantwoordelikheid van lidmaatskap aanvaar. Uit genade en slegs deur genade is hy gered. Dit is God wat die inisiatief neem in die genadeverbond. Dit wil die heilige doop kom verseël.

Deur die doop word ons ook verseël as kinders van Abraham. Coenraad kry deel van die gemeente van Fort Beaufort. Ons as gemeente ontvang die dopeling as medebroer in die Here. Ons as gemeente het net soos hulle ouers en grootouers die verantwoordelikheid om vir die jongeling die regte pad te wys.

Die heilige doop kan net eenmaal bedien word, anders twyfel jy aan God se beloftes. Wat God eenmaal belowe het, kan nie betwyfel word nie.

In sommige Anglikaanse kerke is daar die gebruik om wanneer die erediens begin, die volgende ritueel te volg met die doop van ’n kindjie. Die priester ontmoet die ouers en die dopeling in die voorportaal van die kerk, waar daar ’n doopvont staan. Nadat die dopeling gedoop is, dra die priester die kindjie vorentoe na die liturgiese ruimte en stel die dopeling bekend as ’n nuwe lidmaat van die gemeente.

Die dopeling word nie privaat gedoop nie, want dit is ’n inlywing in die verbondsgemeente. Die verbondsgemeente dra medeverantwoordelikheid met die ouers om die jong verbondskinders te laat opgroei in die Christelike leer en leefwyse.

Die doop is ’n wonderlike troos. In tye van onsekerheid of aanvegtinge kan jy onthou: maar jy is mos gedoop! Ek was eenkeer ’n besoeker by ’n Anglikaanse kerk. Buite die hoofingang was daar ’n bakkie water gemonteer teen die muur. Ek vra toe wat die doel daarvan is. Die priester antwoord dat as iemand kerk toe kom en jy beleef aanvegtinge, kan jy jou vinger natmaak met die water en dit teen jou voorkop druk om te onthou dat jy mos gedoop is en daarom nie bang hoef te wees nie.

Martin Luther het erge aanvegtinge van depressie gehad. Eenmaal toe hy weer so iets beleef, het hy op sy houttafel uitgekerf: “Maar ek is mos gedoop.”

Van die ouers vra God, dat Coenie en Nandie die jong kindjie van kleins af vir die Here sal grootmaak. Dit is ’n heilige belofte wat hulle voor die Here aflê.

Coenraad gaan groot word. Hy gaan leer om te dans. Dan gaan hy met sy meisie en later met sy vrou dans. Om te kan dans, moet jy leer.

Verbondsopvoeding is om te leer om in ritme saam met die Drie Enige God te dans. In ritme met die Drie Enige God beteken om volgens die wil van God te dans. In die doop wat plaasvind “in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”, dans die Drie Enige God met die doopplegtigheid. Die Griekse woord om die dans van God Drie-Enig uit te druk is “perichoresis”. Die jongelinge moet net leer om soos hulle ouer word ook saam met die Drie Enige God te dans.

Daarom word ’n lewe saam met Christus so goed opgesom in die lied: “The Lord of the dance.” Mag die ook waar wees in die lewe van Coenraad. Die Drie Enige God gee die melodie en die ritme aan. Coenraad moet net inval by God se dans.

 Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding liefde en strengheid moet wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ’n kind alles om eendag ’n suksesvolle grootmenslewe te betree.

’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tug, baie belangrik volgens die Bybel, veral in die Spreukeboek. 

Psalm 1 praat van ’n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met kategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe grootword. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome grootgemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus, byvoorbeeld, het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Coenraad word as ’n jong kindjie ingelyf in die geloofsgemeenskap. Daarom moet pa Coenie en ma Nandie en die grootouers almal saam die verantwoordelikheid op hulle neem om die seuntjie in die weë van die Here groot te maak.

Die Drie Enige God gee die melodie en ritme aan. Leer vir Coenraad om die melodie van God te hoor en die ritme van God aan te voel. Dan sal sy lewe ’n vreugde-dans met God wees.

Dan sal hierdie  babaseun wat vandag deur die doop verseël word as deel van al God se beloftes, eendag ’n Godsman van integriteit en waarheid wees.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Gelukkig is die vredemakers

SKRIFLESING: Mat 5: 9

Wanneer laas het ons werklik vrede gehad? Die laaste keer was in die tuin van Eden. In die Paradys, voor die sondeval, was Adam en Eva in volkome harmonie met mekaar. Hulle was naak, maar was nie vir mekaar skaam nie. Hulle was ook in volkome harmonie met God, want God het hulle elke aand in die aandwind opgesoek. Toe gebeur die sondeval. Dit was die begin van konflik en onvrede. Dit was ook direk daarna dat Kain vir Abel doodgemaak het omdat hy op hom jaloers was. Sedertdien leef ons in ’n wêreld van konflik en onvrede. Op Golgota het Jesus Christus die groot Vredemaker geword wat mens en God versoen het en ook mense met mekaar versoen het. Wanneer Hy weer kom met die wederkoms as die “Prins van vrede” sal  die werklike vrederyk aanbreek.

Maar hier tussen die sondeval en die vrede van die vrederyk wat nog kom, leef ons in ’n tyd van konflik, oorlog en stryd tussen mense. Dit is die gevalle engele en die sondige mensdom wat die konflik en oorlog veroorsaak. God is nie in konflik en oorlog met die mens of die gevalle engele nie.   Dikwels word God blameer in oorlogstyd vir die ellende van oorloë. Maar God is nie die Een wat oorloë veroorsaak nie. God het mense nie programmeer as robotte nie. God het vir die mens die keuse gegee om in elke situasie te kies. Maar ons kies gewoonlik die slegte, die konflik, die onvrede en die oorlog.

Die vrede wat die mens skep, is dikwels soos sandkastele wat met die eerste teken van hooggety weggespoel word. Dit is so vir politieke vrede, ekonomiese vrede, sosiale vrede en huishoudelike vrede. Washington DC het ’n klomp vredesmonumente, wat gebou is na elke oorlog. In 1945 is die Verenigde Nasies gestig om toekomstige oorloë te verhoed. Desnieteenstaande was daar nie ’n enkele jaar waartydens daar nie êrens in die wêreld ’n oorlog gewoed het nie. Hier in 2024 staan die wêreld in die midde van talle oorloë wat die wêreldvrede bedreig.  Vir die mens om vrede op aarde te vestig, is dagdromery. Elke verhouding waarin die mens staan, is broos en breekbaar.

Dan kom ons by die sewende saligspreking, waar Jesus sê: “Gelukkig is die vredemakers …” Die Hebreeuse word sjalom is ’n sentrale begrip in die Ou Testament. Dit is ’n woord wat die volheid en omvang van God se bedoelde heil vir mens en wêreld die beste beskryf. Dirkie Smit skryf: “Sjalom gaan oor die heel maak, die herstel van die totale wêreld wat God gemaak het en vandag nog onderhou omdat Hy dit liefhet met ’n groot en verterende vuur.” Daarom gaan die sjalom nie net oor die verlossing van siele nie, maar die herstel van die hele aarde.

Gavin Reid sê tereg dat ons nie sjalom moet verstaan as iets wat weggeneem moet word om vrede te veroorsaak nie, maar eerder iets wat toegevoeg moet word om vrede te veroorsaak. Dit neem nie noodwendig al die stryd weg nie, maar dit verander die situasie deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp.  Vredemakers skep ’n positiewe lewensruimte vir ander mense, sodat almal gelukkig onder God se son van genade kan leef.

Wanneer ons oor politieke vrede praat, moet ons versigtig wees. Sommige mense maak politieke vrede die alfa en die omega van die sjalom. Dan kan jy jou maklik vasloop in bevrydingsteologie. Dit is dieselfde verwagting wat die Jode van Jesus gehad het. Jesus moet hulle net verlos van die Romeinse oorheersing. Jesus word dan ’n tipe van ’n politieke Messias. Dit is baie gevaarlik, want dan verskraal jy die Evangelie. Maar ’n mens kan ook die fout maak om te dink dat die sjalom niks te doen het met die politieke lewe nie. Natuurlik het die Evangelie implikasies vir die politiek, menseregte en geregtigheid.

’n Goedkoop vrede sonder geregtigheid is ook nie ware vrede nie. Daarom vra vrede dat die geregtigheid herstel moet word.

Soms kan ons Jesus se vrede ook verskraal, deur net bereid te wees om net met sekere mense in vrede te lewe. Jy kan van jou volksidentiteit so ’n afgod maak dat jy nie bereid is om met alle ander nasies, kulture en volkere in vrede te lewe nie.

Die heel gevaarlikste is as ons vredeliewende mense verwar met vredemakende mense. Vredeliewende mense soek vrede, solank dit net nie iets van hulle vra nie. Vredemakende mense sal hulle moue oprol, in die situasie inloop en vrede bewerk, selfs ten koste van hulself, terwille van die Evangelie. Kodjak sê dat vredemakende mense bereid is om persoonlike opofferings te maak ter wille van Christus. Jy kan eers ’n vredemaker wees as jy die vorige ses saligsprekinge ingeoefen het. Om ’n vredemaker te wees, kom nie vanself nie. Jy moet kan treur oor die wêreld, jy moet sagmoedigheid aanleer en soek na geregtigheid. Jy moet barmhartig en rein van hart wees. In die inoefening van die saligsprekinge, kan jy ’n vredemaker word.

Jacques Philippe skryf: “Hier is ’n paradoks van liefde: Liefde is nooit in rus nie, want dit is altyd aktief, maar terselfdertyd is dit ware rus.”

Thomas Watson skryf: “Genade verander die aasvoël in ’n duif, die distel in ’n mirteboom (Jesaja 55:13), en die leeuagtige wreedheid in ’n lamagtige sagmoedigheid. Die wolf sal ook by die lam woon, en die luiperd sal by die bokkie gaan lê (Jesaja 11:6).”

Dirkie Smit skryf dat ons moet waak teen ’n “negatiewe” Christendom wat teen alles en almal is. Ons soek as’t ware vir ons vyande uit. Dit is nie wat die Evangelie van ons vra nie. Ons moet eerder die wêreld verander met Jesus se liefde. Ons moet op ’n positiewe wyse die Evangelie van Jesus verkondig aan hulle wat ver is en aan hulle wat naby is.   

Daarom is die twee beelde wat die Bybel gebruik om vredemakers te beskryf, dan ook die skaap en die duif. Ons moet opreg wees soos die duiwe van die veld. Ons moet opreg wees om vrede te soek en na te jaag.

Om vrede te maak is ’n voorwaarde van ware dissipelskap. Hoor wat sê Jesus in Mat 5: 23 – 24: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur. As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”

Maar somtyds gebeur dit dat jy alles moontlik doen om vrede te herstel, maar die ander party wil in vyandskap bly leef. Solank jy jou deel gedoen het om die vrede te herstel, is dit goed. Hoor wat sê Rom 12: 17 – 18: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” 

’n Pa het eenkeer vir sy seun die volgende raad gegee: “Neem ’n woord van raad aan van ’n ou man wat lief is vir vrede. ’n Belediging is soos modder; dit sal baie beter afvee as dit droog is. Wag ’n bietjie totdat julle albei afgekoel het; dan sal die gebroke verhouding maklik herstel word. As jy nou gaan, sal dit net wees om die rusie aan te blaas. Dit is goeie raad vir jou en vir my – geduld sal vrede veroorsaak.”

Somtyds kan ’n situasie so toksies wees dat enige bydrae wat jy maak net die situasie sal vererger. Dan is dit beter om weg te stap om nie verder skade te veroorsaak nie. Jy kan op die agtergrond die situasie ontlont deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp. Jy kan bid dat die situasie sal verander.

William Jennings Bryan vertel ’n sprokie oor vrede: “Vertel my wat is die gewig van ’n sneeuvlokkie,” het die mossie aan die wilde duif gevra. Die duif het geantwoord: “Niks meer as niks.” “In daardie geval gaan ek vir jou ’n wonderlike verhaal vertel,” het die mossie gesê. “Ek het op ’n tak gesit terwyl die sneeu. Dit was nie ’n storm nie. Dit het net so saggies neergesif, sonder enige geluid of klank. Ek het die sneeuvlokkies getel wat op die tak geval het. Dit was 3 741 962. Niks meer as niks – soos jy gesê het – maar toe breek die tak.” Die mossie het toe weggevlieg. Die duif, wat ’n kenner op die gebied van vrede is sedert Noag se tyd, het hieroor nagedink. Hy het tot die slotsom gekom: “Miskien kom net een mens (een sneeuvlokkie) se stem kort om vrede op aarde te laat kom.”

’n Sendeling in Wes-Afrika het ’n siek kerklidmaat besoek. Aangesien die siek man se vrou ook teenwoordig was, het hy hulle verskeie vrae gevra, een daarvan, of hulle in vrede saam leef. Die man het geantwoord: “Soms sê ek ’n woord waarvan my vrou nie hou nie, of my vrou sê of doen iets waarvan ek nie hou nie; maar as ons begin stry, skud ons hande, maak die deur toe en gaan bid. So word vrede weer herstel.”

Vrede kom nie van buite nie, maar van binne. Ons kan dit in die winter van die ouderdom of die lente van die jeug hê; in die nederige huisie of in die statige herehuis; in ontstellende pyn of in lewendige gesondheid. Die geheim daarvan is om in kameraadskap met Christus te wees. Jy kan vrede hê te midde van die storm as jy Christus het. Hy is die skuiling teen die storm, die siel se hawe van rus. As ons geleer het om Sy vriendskap na waarde te skat, het ons die geheim van die “vrede wat alle verstand te bowe gaan” bemeester.

Pous Johannes Paulus het gesê: “Vrede word nie in raadsale of deur ooreenkomste gesluit nie. Vrede is ’n blom wat in die harte van mense wat deur die Gees aangeraak is, begin groei.”

Die sewende saligspreking is om ’n vredemaker te wees. As jy die vorige ses saligsprekinge beoefen, sal jy maklik vrede deel van jou lewe kan maak en jy sal genoem word ’n kind van God. Vrede sal die Sabbat van die siel wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Gelukkig is dié wat rein van hart is

SKRIFLESING: Mat 5: 8

Dikwels verstaan mense die sesde saligspreking  baie negatief. So asof  jy ’n klomp goed nie mag doen nie. Beteken dit om rein van hart te wees, om ’n bleeksiel te wees?

Die ou Joodse reinigingswette in Deuteronomium het baie bepalinge en regulasies gehad oor die aanraking van dooies, siekes,  melaatses, onrein diere en so baie meer. Wanneer ’n vrou byvoorbeeld menstrueer, was sy vir ’n paar dae onrein. So was daar honderde wette wat bepalings gehad het oor wanneer jy rein is of wanneer jy onrein is.

Dit verklaar ook waarom in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, die priester en die profeet wat op pad tempel toe was, verby die man gestap het wat beroof was. Veronderstel dat die beroofde man dood was en hulle het hom aangeraak, dan kon hulle nie in die tempel ingaan nie.

Daarom was reinheid in die Ou Testament veral ’n uitwendige handeling. Daarteenoor het Jesus in die Nuwe Testament klem gelê om innerlike reinheid.

Daarom sê Jesus in  Mat 23: 26 en 27: “Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees. ‘Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van onreinheid.’”

Jou hart, jou innerlike, moet aan God veranker wees met opregte reinheid.

Eintlik gaan dit oor ’n totale oorgawe of commitment aan die Here! Om die Here met ’n onverdeelde hart te dien. Ons harte kan dikwels verdeel wees tussen baie afgode. Calvyn het gesê ons hart is ’n afgodefabriek. Ons produseer gedurig vir ons nuwe afgodjies wat ons aanbid. Ons kan verskillende wêreldse goed hê wat vir ons afgode word. Ons hunker na nog goed, na nog iets in die lewe. Ons harte word onrein van te veel goed in ons harte. Te veel goed wat ons aandag aflei van die Here.

“Die Deense filosoof-teoloog Kierkegaard sê dat Christene mense is wat rein van hart is, omdat hulle lewe op een saak gefokus is (Purity of heart is to will one thing). Rein harte beteken nie om sonder sonde te wees nie. Om rein van hart te wees beteken dat ons gedagtes en lewe gefokus sal wees op die koninkryk en die wil van God – Matt 6:33” (Dr. Annes Nel).

’n Rein hart is nooit ’n afgehandelde saak nie. Dit is deel van daaglikse heiligmaking. Dit is om elke dag al meer onder die beheer van die Heilige Gees te lewe. Dit is voortdurende toewyding aan die Here.

Gereelde selfondersoek is baie belangrik. Soos wat ’n beeldhouer met sy hamer en beitel uit ’n stuk hout of marmer vir hom ’n beeld uitbeitel, is die Gees elke dag besig om aan ons te beitel, sodat ons al meer die beeld van God word.

Daarom sê die eerste gebod van die opsomming van die Wet: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand.” Daar moet nie plek wees vir verdeeldheid as gevolg van ander afgode nie. Anders word jou hart onrein van die afgode. 

Daarom as koning Dawid bid: “Here, gee vir my ’n rein hart”, bedoel hy ’n  onverdeelde hart wat net aan die Here behoort. Eers was Dawid se hart verdeel, toe hy owerspel met Batseba gepleeg het. Hy wou sy sonde wegsteek deur Batseba se man doelbewus te laat sterwe op die slagveld. Sy owerspel en moord het sy hart weggedryf van die Here. Sy hart was nie meer rein nie. Sy hart was verdeeld. Hy het die Here nie meer ervaar in sy lewe nie. Hy het skielik verwyderd van God gevoel. Hy het God se Gees nie meer beleef nie. ’n Onrein hart bring altyd verwydering tussen jou en God, sodat jy God nie meer kan sien nie.

Dawid wou God weer sien en beleef. Daarom bid hy dat die Here vir hom ’n rein hart sal gee, wat net op die Here gefokus is.  

Jou hart is onrein as jy jou verlustig in ander mense se skande, sondes en mislukkings. As jou tong kwaad praat of skinder oor ander mense, is jou hart onrein. Jy bedink nie rein gedagtes oor ’n ander persoon nie. Maar as jy meegevoel en empatie het met ander mense se skandes en val, dan is jou hart rein, want jy wil graag die beste vir jou medemens hê.

Daarom volg die sesde Saligspreking die vyfde Saligspreking. Eers as jy barmhartig geword het, sal jy ook outomaties rein van hart word.

As jy onrein van hart geword het, sal jy jou vermoë om waarlik lief te hê verloor. 

Iemand wat rein van hart is, sal ook nie jaloers wees as iemand uitstyg in die lewe of sukses behaal nie. Hy sal saam met die persoon vreugdevol en bly wees.

Ons denke moet ook rein wees. Daarom sê Paulus in Filippense 4 : 8 die volgende: “Verder, broers,  alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”

Ons moet ons liggame ook rein hou. Ons leef in ’n wêreld waar mense hulle oorgee aan sedelose liggaamlike vermaak en genietinge. Dan staan daar in 1 Kor 6: 19 – 20 die volgende: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.”

Ons is so gejaagd, soos ’n muis op een van hierdie ronde wieletjies wat in die rondte hardloop. Hoe meer ons hardloop, hoe minder kom ons êrens. Hoe kom ek los van al hierdie afgode en gejaagdheid na wind?

Dit kan alleen plaasvind deur ’n baie ingrypende vereenvoudiging van ons lewe. So kan my hart weer rein word.

Daar is ’n uitdrukking “Less is more!” Ek moet weer leer om op die regte goed te konsentreer. Ek moet my lewe her-prioritiseer, sodat ek met die belangrikste goed besig is.

Daar is die bekende Paretto beginsel. Dit gaan daaroor dat ’n mens jou dikwels kan besig hou met 80% onbelangrike goed en slegs ’n positiewe uitset van 20% kry. Maar as jy slegs 20% tyd spandeer aan die belangrikste goed het jy ’n positiewe uitset van 80%.

Die eerste Christene het ’n baie eenvoudige lewe gelewe. Hulle het ’n sobere lewe gehad. Hulle het die basiese belangrikste 20% gedoen en die wêreld verander. Daarom het Richard Foster ’n boek geskryf met die bekende titel Freedom of simplicity. Die kern van sy boek gaan oor minimalisme. Ons moet ons lewens vereenvoudig. Ons kan met minder goed ’n baie eenvoudiger lewe voer. Hoe eenvoudiger, hoe minder stres, hoe minder foute, hoe minder gejaagd en hoe minder kompleks jy lewe – hoe beter vir ons geestelike lewe.

Daarom gaan  ’n werklike diep en rein verhouding met die Here altyd gepaard  met eenvoud. Reiniging van die hart is ’n pynlike operasie, omdat ’n hele klomp van ons ydel begeertes, wense en drome moet sterf in die proses. Wat is die wins?: Dat ons God helder kan sien.

Moeder Theresa het ten spyte van haar roem eenvoudig gelewe. En as ’n mens na haar kyk, kan jy in haar oë sien dat sy in haar eenvoud regtig gelukkig en tevrede is. 

Die sesde saligspreking het ook ’n beloning. Jacques Philippe skryf: “ ‘Gelukkig is die reines van hart, want hulle sal God sien, kan andersom omgedraai word: ‘Gelukkig is dié wat God sien, want hulle sal hul harte rein hou.’ ”

Mag ons met rein harte na ander mense kyk, sodat ons ook God in hulle kan raaksien en werklik gelukkig wees.       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Gelukkig is dié wat barmhartig is

SKRIFLESING:  Mat 5: 7 en Mat 25: 35 – 40

Die beste nuus wat ’n mens van God kan hoor, skryf Dirkie Smit, is dat God nie ’n masjien of ’n beginsel is nie, maar ’n Persoon met ’n hart.

Daarom is God ’n God van barmhartigheid. Dit is waaroor die vyfde saligspreking gaan, naamlik om barmhartig te wees. Die teoloog Antonie van Ruler beskryf barmhartigheid as drie uitkringende sirkels. Barmhartigheid sê hy is mildheid, ontferming en vergewing.

Die eerste is mildheid. Dit beteken om ruimte vir ander mense te maak. Om vir ander mense ook vreugde en blydskap te gun. Daarom moet ons in barmhartigheid ruimte  maak vir almal in die land. Daar moet ruimte wees en ruimte gemaak word vir swart, wit, bruin en Indiërmense.  Daar is nie plek vir haatspraak teenoor ander nasies nie.

Ontferming, weer, beteken om betrokke te raak by mense wat my nodig het en te help waar ek kan. Selfs minderheidsgroepe is geroepe om ’n verskil te maak in Suid-Afrika. Dit is ons Godgegewe roeping. Ons lewe in ’n tyd waar egte barmhartig baie skaars is.

Vergewing is waar mense vir hulle eie ellende verantwoordelik is en ek nogtans help, omdat ek hulle vergewe het.   Ons vind talle insidente van vergifnis in die Bybel. Dink aan Josef wat sy broers vergewe het, wat hom as ’n slaaf verkoop het aan slawehandelaars. Later toe hy die tweede magtigste man in Egipte is, red hy sy broers en sy pa van ’n gewisse hongersnood.   Moses het vir  Miriam vergewe wat teen hom in opstand gekom het. Toe sy melaats word, bid Moses vir haar gesondmaking. Dawid het twee keer Saul se lewe gespaar, al het Saul ’n  geleentheid gesoek om Dawid dood te maak. Barmhartigheid is om mekaar in die land te vergewe.

Ten tye van Jesus se prediking van die Saligsprekinge, was die Romeinse owerheid die heersende wêreldmag. Dit was ’n wêreldmag waar dapperheid, dissipline, mag en wreedheid die botoon gevoer het. Een Romeinse filosoof het barmhartigheid as ’n siekte van die siel beskryf of as ’n teken van swakheid. Wanneer ’n kind gebore is, het die Romeinse vader die reg van  “patria potestas” gehad. Hy kon sy duim optel en die kind leef of sy duim afhou en die kind word dadelik verdrink. ’n Romein kon, as dit sy wil is, sy slawe laat doodmaak, sonder dat daar enige regsimplikasies was. ’n Romeinse man kon selfs sy vrou laat doodmaak. Dit was ’n wrede, harde en ongenaakbare stelsel.

Selfs die Jode in die tyd van Jesus het die wet slaafs nagekom sonder om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom soos in Mat 23:23 beskryf word. Daarom het Jesus gesê dat die Joodse Fariseërs soos witgepleisterde grafte is. Buitekant wit, maar binne vol doodsbeendere. Of soos ’n beker, aan die buitekant skoon, maar aan die binnekant vuil. Dit was te midde van die twee hartelose sisteme, waar die Jode en die Romeine vir Jesus gekruisig het.

In die vyfde saligspreking gaan dit oor mense. Martin Luther het in sy beroemde geskrif oor die Vryheid van die Christenmens dit so helder gesê: “’n Gelowige is vry van reëls en wette, nooit vry van die naaste nie.” Daarom is die Christendom anders as ander godsdienste. Dit gaan nie oor reëls nie, maar om mense en verhoudinge.  

Maar wie is my naaste? Alle mense! In ’n sekere sin kan jou eie vriende nie regtig die egtheid en diepte van jou naasteliefde en barmhartigheid toets nie. Want selfs die goddeloses het hulle eie vriende lief. Eers as jy dié liefhet wat verder van jou staan, slaag jy die toets van ware barmhartigheid. Jou naastes – in  nood – is diegene wat in die moment die naaste aan jou is, wat honger en dors is, wat siek is, wat sonder klere is of in die gevangenis is. Jou naaste is dié mense wat jou nodig het, sonder dat jy hulle nodig het.

In Mat 25: 35 – 40 staan daar geskrywe: Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My as ’n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal die regverdiges Hom antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en iets te drinke gegee? En wanneer het ons U as ’n vreemdeling gesien, en as gas verwelkom, of nakend, en U geklee?  En wanneer het ons U siek of in die tronk gesien, en U besoek?’ Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’”

Martin Luther het vertel van ’n klooster in Oostenryk wat baie ryk was terwyl dit jaarliks aan die armes uitgedeel het, maar toe dit ophou gee aan die armes, het die klooster begin verval. Daar gaan niks verlore as ons barmhartig optree nie.

As ons barmhartig is, doen ons dit vir die Here Jesus. Ons doen dit nie om gesien te word deur ander mense nie. Jy spog nooit met jou dade van barmhartigheid nie.

Jy is barmhartig as jy tyd maak vir bejaardes. As jy siekes opbeur, is jy barmhartig. As jy luister na ’n gekwelde mens, wat neerslagtig en bekommerd is, dan is jy barmhartig. As jy moed inpraat, is jy barmhartig. As jy die persoon wat alleen is besoek, dan is jy barmhartig. Die wêreld is vol eensame mense. Daarom gaan barmhartigheid oor veel meer  as om materieel te gee. Barmhartigheid skep werk vir die werklose. Die doel van die lewe is om diens te lewer.

In die Ou Testament was dit gebruik dat as boere hulle koring oes, hulle net een maal die koring mag optel om in hulle graanskure te sit. Die weduwees en wese kon dan ’n tweede of derde keer oor die land gaan om die oorblywende koring op te tel vir hulle huise.

Barmhartigheid is ook om mekaar se name te beskerm en nie skinderpraatjies van ander te maak nie. Mense kan bra onbarmhartig met ander mense se name omgaan. Ook met jou tong moet jy barmhartigheid betoon.

Barmhartigheid moet natuurlik ook aan die vyand betoon word. Dit is die heel moeilikste. Daar staan in  Mat 5: 43 – 45: “ Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees.” Daarom kan ons praat van grenslose barmhartigheid, wat nie aan bande gelê word deur politieke of sosiale  afkeure of voorkeure nie.

Jy sê dalk dat jy nie groot dade van barmhartigheid kan betoon nie. Maar ook die geringste daad van goedheid is barmhartigheid. Die arm weduwee het slegs twee klein geldstukkies gegee en die Here het gesê sy het haar alles gegee. Moenie wegskram van die geringste dade van barmhartigheid nie.

Vader Kestell het in die Anglo-Boereoorlog vir Boer en vyand gehelp. Toe hy na ’n veldslag ’n Engelse soldaat gehelp het, het die man vir Vader Kestell gesê dat hy sy beste preek gelewer het.

Jesus Christus was en is die groot Barmhartige. Hy het uitgereik na siekes, melaatses, randfigure, tollenaars, kinders, prostitute, die hongeres, die owerspelige vrou, die Samaritaanse vrou by die put van Sigar, na vroue, die ongehoorsame dissipels, na sondaars en almal wat Sy pad gekruis het.

Keiser Trajanus het ’n stuk van sy eie kleed afgeskeur om sy soldaat se wonde toe te draai. Christus het baie meer gedoen. Hy het Sy vlees geskeur vir ons.

Ons moet ook teenoor die natuur barmhartigheid beoefen. Die natuur is onder geweldige stres as gevolg van besoedeling en aardverwarming. Daarom moet ons ook baie barmhartig optree op ekologiese gebied en probeer om die natuur te herstel, sodat dit weer gesond kan word.

Op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort, sodat ons al die gawes van die Gees ontvang, waarvan ons in Gal 5 lees. Die Heilige Gees dring ons om barmhartig te wees. Ons word nie gedwing nie, maar gedring tot ware barmhartigheid. Dit moet uit ons Geesvervulde hart kom.

Ons lees in die vyfde saligspreking dat dié wat barmhartigheid betoon, as beloning barmhartigheid sal ontvang. Dit is ’n gevaarlike en moeilike saligspreking, want hoe geneig is ons nie om nie barmhartig op te tree nie. As ons barmhartigheid moet ontvang, soos wat ons barmhartigheid betoon aan ander, is ons erg in die moeilikheid.

Ek sluit af met die ware verhaal uit die kinderdae van Ds. Walther Lüthi wat appels wou pluk, maar toe is sy arms te kort. Die appelboom was egter op die buurman se erf. Die buurman het hom gesien, maar was nie kwaad vir hom nie. Hy het vir Walther appels afgepluk tot hy later te veel gehad het. Toe hy wou begin keer, sê die buurman: “Kom, ek gee vir jou regtig genoeg, sodat jy jou trommeldik kan eet en daar nog oorbly vir jou broers en susters ook …”         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3822). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition

Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid

SKRIFLESING: Mat 5: 6 en Mat 23: 23

Daar is min dinge in die lewe wat soveel respek afdwing as absolute billikheid en regverdigheid.

Mense wat die meeste respek afdwing, ondanks verskille, is mense wat onkreukbaar regverdig, billik en eerlik is – dikwels tot hulle eie nadeel. Sulke mense laat gewoonlik  ’n blywende indruk op ander se lewens.   

In die droom van Salomo in 1 Konings 3: 1 – 15 vra die Here vir Salomo hy kan vra wat sy hart begeer. Dan vra Salomo “’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk.” Salomo begeer geregtigheid bo alles. Die Here was so tevrede met Salomo se wens, dat Hy hom op die koop toe ook rykdom en aansien gegee het.

Die vierde Saligspreking is gebou op die tweede Saligspreking. Eers as jy treur oor die ellende en die onregverdigheid in die samelewing, kan jy honger en dors na die ware geregtigheid. Dan kan jy honger en dors na die Messiaanse Ryk wat moet kom en vergestalting vind, sodat die ellende van hierdie wêreld minder kan word. In die Bybel is daar geen sprake van heil of genade of verlossing, sonder reg en geregtigheid nie.

Die Lewende Bybel vertaal die vierde  Saligspreking met “’n brandende begeerte om te doen wat God wil hê.”

Jacques Philippe skryf: “Gelukkig is diegene wie se diepste begeerte nie beperk is tot een of ander menslike ambisie nie, maar gesentreer is op ’n begeerte na heiligheid, die begeerte om God te behaag en Sy wil te doen, om God en naaste lief te hê met al die krag van hul harte. Hulle sal ontvang wat hulle begeer en sal vervul word.”

Ons is geneig om eiegeregtig te wees. Ons begeer geregtigheid wat ons pas en wat ons behoeftes bevredig. Daarom is ons so geneig om selfsugtig te wees. Daarom is die kerk en die Christen se getuienis dikwels nie sterk nie. Ons tree nie regverdig op teenoor mekaar en die samelewing nie.

Luister wat sê Mat 23: 23: “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou.”

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het gedink hulle lewe is reg omdat hulle die wetsgedeeltes nagekom het. Maar hulle het vergeet om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom.

Luther se bekende uitspraak: “Hoe heiliger, hoe sondiger” word ook in dié lig verstaanbaar. Hoe nader ’n mens aan die Here kom (dit is wat heiligheid in sy wese is), hoe meer raak jy bewus van die feit dat jou lewe nie is wat dit moet wees nie. Mense wat ver van God leef, vind gewoonlik min fout met hulle eie lewe. Dit verklaar ook waarom Paulus homself die allergrootste van sondaars kon noem. Inderdaad ’n sprekende voorbeeld van “hoe heiliger, hoe sondiger.”  

’n Mens is honger en dors na wat reg is as jy jou werknemers billik behandel.

’n Mens is honger en dors na wat reg is as jy jou beste gee vir jou werkgewer.

’n Mens is honger en dors na wat reg is as jy alle mense gelyk en regverdig behandel, ongeag hulle afkoms, ras, klas of stand in die samelewing.

’n Mens is honger en dors na wat reg is as jy mense nie ekonomies uitbuit nie.

’n Mens is honger en dors na wat reg is as jy jou vorms en belastingopgawe met eerlikheid invul.

’n Mens is honger en dors na wat reg is as jy die naam van jou medemens beskerm teen skinder en laster.

’n Mens is honger en dors na wat reg is as jy opkom vir hulle wat verdruk word of deur die samelewing misken word.

’n Mens is honger en dors na wat reg is as jy jou ontferm oor die arme en die randfigure in die samelewing.

Die Here Jesus het gesê dat as ons enigiets doen teenoor ons medemens wat van geregtigheid getuig, ons dit eintlik aan Jesus doen, want Jesus is die volmaakte beeld van geregtigheid.

In die Bybel waarsku die Here dikwels sommige konings van die Ou Testament, dat hulle swak herders is vir die volk. Vergelyk maar net die woorde van die profeet Esegiël, wat sê dat die herders van die volk mense misbruik, wegstamp en net die beste vir hulself wil hê. In die hedendaagse politieke landskap lees ons ook van staatskaping, nepotisme en korrupsie op groot skaal. Dit ontbreek ons landsleiers om in geregtigheid te heers. Dit plaas ons land op ’n afdraande pad.

Jacques Philippe skryf: “God maak geen uitsonderings nie, maar behandel almal met absolute gelykheid. Hierdie goddelike geregtigheid is ’n vereiste vir die mensdom, wat voor God moet staan in ’n verhouding van waarheid sonder verskonings.”

Die ryk man in die gelykenis van Lasarus het sy dors te laat ontdek. Toe hy in die hel was, het hy vir Abraham gevra dat Lasarus net sy tong moet kom natmaak. Maar helaas te laat. Vir ’n leeftyd het hy nie die regte van Lasarus raakgesien terwyl Lasarus buite sy poort gelê het nie.

In 1 Konings 21 lees ons ook van koning Agab, wat die grond en wingerd van Nabot begeer het. Toe hy dit nie kon kry nie, het hy hom opgeruk en in sy slaapkamer toegesluit en niks geëet nie. Sy vrou Isebel het toe ’n plan gemaak en valse getuienis is teen Nabot ingebring deur twee boosdoeners. As straf is Nabot met klippe doodgegooi.  Agab kon toe besit neem van die grond van Nabot. Oor hierdie onreg het die Here vir Agab gestraf. Agab het nie ’n honger en dors na geregtigheid gehad nie, maar was honger en dors na sy eie belange.

’n Mens kan nie gelyk na die aarde en hemel kyk nie. Net so kan ’n mens nie gelyk kyk na ’n wêreldse gesindheid van onreg en na hemelse geregtigheid nie. Jou hart kan nie verdeeld wees nie. Thérèse of Lisieux het gesê:  “I don’t want to be a saint by halves!”

As ’n mens net honger is na jou eie voorspoed, rykdom en aansien is jy soos ’n hond wat na sy eie braaksel toe terugkom om dit te eet. Dit bevredig nie. Dit stil nie die honger nie.  Eers as jy honger en dors na die regte van ander mense, word jy versadig, want dan vind jy sin in jou lewe. Dan is daar betekenis in jou lewe.

Maar die saligspreking het ook betrekking op honger en dors na die geregtigheid wat God deur Sy Seun Jesus Christus skenk. In Joh 14: 4 sê Jesus dat elkeen wat die water drink wat Jesus gee, nooit weer dors sal kry nie.” In Joh 6: 35 sê Jesus dat Hy die brood van die ewige lewe is en dat  elkeen wat na Hom toe gaan nooit weer honger sal kry nie. As ’n kind honger is, sal sy vader en moeder altyd vir hom of haar kos gee. Net so, as ons honger na God se swaar verdiende geregtigheid, sal God ons altyd versadig met verlossing en saligheid. 

God se honger en dors na Sy kinders is baie groter as ons honger en dors na Hom. Hy het ’n onuitspreeklike liefde vir Sy kinders. Daarom het Jesus aan die kruis gesterf.

’n Mens kan nie jou verlossing koop of verdien nie. In die Middeleeue het die Rooms Katolieke Kerk van die mense geld of afkoopboetes gevra om van hulle sondeskuld ontslae te raak.

Wanneer ’n gasheer sy vriende nooi vir ’n ete, verwag hy nie dat sy vriende daarvoor betaal nie. Al wat hy wil hê is dat hulle met ’n aptyt na die ete toe kom om lekker te eet. Daarom betaal ons nie vir ons verlossing nie. Ons moet net met ’n aptyt van ’n honger en dors na Christus toe kom. Hy sal ons gratis voed met Sy geregtigheid en ons dors les met die ewige water.

Toe die verlore seun honger was, het hy na die varke gegaan. Toe hy egter wou sterf van honger, het hy na sy vader gegaan. Dit is die tipe desperaatheid waarvan die vierde saligspreking praat.

Ons fisiese lewe hang af van kos en water. Ons geestelike lewe hang af van geregtigheid. Daarna moet ons honger en dors. Dan is die beloning dat ons versadig sal word om die sin van die lewe te ervaar en te beleef.

Augustinus het gesê: “God het ons vir Homself gemaak, en ons hart sal onrustig en soekend bly totdat dit rus vind in Hom.” Ons sal rus vind en versadig word as ons Sy geregtigheid met ons hele hart najaag. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3813). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Gelukkig is die sagmoediges

SKRIFLESING:   Mat 5: 5

Sagmoedigheid is nie juis ’n eienskap waaroor die mense in die algemeen oor opgewonde is nie. Daar word dikwels neerhalig van so ’n persoon as ’n “sagmoedige Neelsie” gepraat.

Sagmoedigheid as deug is nie so gewild nie, omdat dit verwar word met woorde soos lamlendigheid, papheid en ruggraatloosheid. Sagmoedigheid werk nie, want nice guys come second. Ons sien dit in die politiek, in die ekonomie en op die sportveld. Daar is die uitdrukking in die politiek en ekonomie wat as volg bekend is: hond eet hond. Hierdie uitdrukking is baie waar. Inderdaad is dit waar dat “hond eet hond.” Thomas Watson skryf: “At first the emotions, like several well-tuned musical instruments, made a sweet sound, but sin was the artless string that brought it all out of tune.”

Nietzsche is gegrief omdat die Evangelie ’n mens nie sterk maak nie, maar eerder swak. Mussolini het gesê dat as hy kon kies hy eerder een dag ’n leeu sou wees, as ’n 100 jaar ’n lam. Ons glo eerder in begrippe soos manlikheid, selfgelding en selfhandhawing.

Die Skrifgeleerdes, die Fariseërs, die Esseners en die Selote het elkeen hulle eie verwagtings van Jesus gehad. Maar hulle het Hom gesien as ’n persoon van krag, invloed en wat die Romeinse juk omver kon gooi. Toe Jesus nie aan hulle verwagtinge voldoen het nie en so mak soos ’n lam voor Pilatus en Herodus was, het hulle standpunt verander na: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” 

Daarom val die woorde van die Here Jesus Christus vreemd op die oor in Mat 5: 5: “Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.”

Daarom het die Here Jesus die Talio-beginsel van die Ou Testament opgehef  van “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.” Die Here het gesê ons moet nie vergelding toepas nie.

Selfhandhawers hou nie van hierdie woorde nie. Selfhandhawers is mense wat voel dat hulle alleen is in hierdie lewe en daarom vir hulself moet sorg. Dit is vir selfhandhawers moeilik om sagmoedig te wees, want hulle dink klein oor God. Hulle het nog nie geleer om God in alles te vertrou nie. Daarom baklei hulle maar vir wat hulle wil hê. Eers as ’n mens geleer het om van die Here afhanklik te wees, kan ’n mens die deug van sagmoedigheid bemeester. Wie van die Here afhanklik is, vir so iemand is dit maklik om sagmoedig te wees. Maar wat is sagmoedigheid presies? ’n Ander woord kan miskien wees sagtheid, saggeaardheid, beheerstheid, respek, nederigheid of ’n diep, egte onselfsugtigheid.

Die vakmanskap van die Heilige Gees skep in ons al die geestelike deugde, soos byvoorbeeld om sagmoedig te wees. Die Heilige Gees beklee ons met die vrugte van die Gees.

Daar is drie soorte sagmoedigheid. Dit is eerstens om sagmoedig te wees teenoor God, tweedens om sagmoedig teenoor jou medemens te wees en derdens om sagmoedig teenoor jouself te wees. Sagmoedigheid teenoor God beteken om nie in opstand te kom teen God se wil in jou lewe nie. Dit beteken om jou te onderwerp aan God. Sagmoedigheid teenoor jou medemens beteken om met sagte oë na jou medemens te kyk en nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar eerder kwaad met goed te vergeld. Dan moet ek ook met sagmoedigheid na myself kyk en met myself genadig te wees.

Sagmoedigheid in Grieks beteken: dit is ’n jong hings wat ingebreek is. Voor dit was die hings gevaarlik en onbruikbaar. Maar nadat die hings ingebreek is, het dit sag en bruikbaar geword vir sy eienaar. Sagmoedigheid breek jou wilde humeur en nukke af en maak jou sag en bruikbaar vir die Here. Jy verloor jou aggressie en word selfbeheersd.

John MacArthur skryf: “Meekness is a gentleness and a mildness and a subdued character, but it is not weakness. It is power under control.”

Sagmoedigheid is soos nat hout wat nie maklik vlam vat nie. Ek kan my woede in bedwang hou en altyd selfbeheersd optree.  Sagmoedigheid is om sagte en teer woorde oor ander te spreek en nie jou tong te gebruik om ’n vuur aan te steek nie.

Sagmoedigheid leer ’n mens deur gebed aan. Dit skool jou om die nuwe menslike natuur van sagmoedigheid aan te leer, teenoor die ou menslike natuur van hardheid en ongenaakbaarheid.

Die Here Jesus is by uitstek die voorbeeld van sagmoedigheid. In Sy toorn moes Hy ons uitgewis het oor ons sonde. Maar Hy is lankmoedig en sagmoedig en gee nog vir ons genadetyd. Daarom stel Hy Sy oordeel uit.

‘n Baie mooi voorbeeld van sagmoedigheid vind ons in Gen 13, waar Abraham by die verdeling van die land sy selfsugtige nefie Lot eerste laat kies het. Lot het vir hom die beste gedeelte gekies, maar Abraham was tevrede met sy gedeelte. Hy het nie twis gesoek nie. Daarom is Abraham ’n voorbeeld van diep en egte onselfsugtigheid. Hy het met vergenoegdheid geleef. Hy het min waarde aan wêreldse goed gehad. Abraham was van God afhanklik en hy het geweet die Here sal vir hom sorg.

Nog Bybelse voorbeelde van sagmoedigheid is Josef, wat deur sy broers verkoop is as ’n slaaf aan slawehandelaars en toe in die huis van Potifar beland het. Na sy tronkepisode en sy vrylating nadat hy die Farao se drome uitgelê het, het hy gevorder tot die tweede magtigste man in Egipte. Toe daar ’n sewe jaar hongersnood uitbreek en sy broers kom kos bedel in Egipte, kon hy hom hardekoejawel gehou het. Maar nee, hy het in alle sagmoedigheid sy broers vergeef en vir hulle kos en woonplek in Egipte aangebied en so sy familie gered deur sy sagmoedigheid.

Nog ’n voorbeeld is Dawid wat vir Saul gevlug het. Saul was op hom jaloers en wou hom doodmaak. Terwyl Saul een nag in ’n grot gaan slaap het, het Dawid tot by die slapende Saul gekom. Hy kon vir Saul net daar doodmaak, maar hy het Saul se lewe gespaar en slegs sy spies en waterkruik geneem en ’n stuk uit sy kleed gesny om vir Saul te wys hy kon hom doodgemaak het. Dit was ook ’n daad van sagmoedigheid.  

Jesus Christus was ook sagmoedig soos ’n lam, toe Hy gevange geneem is, ondervra is deur Pilatus en Herodus en uiteindelik vir ons sonde aan die kruis gesterf het. 

’n Sagmoedige man is ’n dapper man. Hy behaal ’n oorwinning oor homself. Woede ontstaan uit dwaasheid en ’n swak karakter.

Sagmoedige mense is mense wie se hart iets verstaan van die lyding van die wêreld en wat weet dat hulle, al gebeur wat ook al, niks wil doen om die lyding nog groter te maak nie. Psalm 51: 19 getuig dat “sagmoedigheid opkom uit ’n gebroke en verslae hart.”

Uit die geskiedenis leer ons  dat wanneer Frederik, Hertog van Saxony, kwaad was, hy homself in sy kamer toegesluit het en niemand naby hom laat kom voordat hy sy woede oorwin het nie.

Sagmoedigheid beskerm nooit myself nie. Daar is egter ook tye van woede soos toe Jesus die tempel in Jerusalem skoongemaak het. Maar dan het Hy dit gedoen vir sy Vader, nie vir Homself nie. Wanneer dit oor “ons” sake gaan, moet ons sagmoedig wees, maar as ons opstaan vir ander mense dan kan ons maar op hulle regte staan met ons hele lewe. Dit noem ons “heilige” woede.

Waarvandaan kom die sagmoedigheid? ’n Mens kan sag en vriendelik wees met ander, in onselfsugtigheid leef, gelate wees oor jou regte, net as jy weet dat jou lewe en jou lot in die sterk veilige Vaderhande van die Here is. Dit is eers wanneer ’n mens dit doen, wanneer jy die totale lewe radikaal vanuit God en Sy sorg beleef, dat sagmoedigheid vanself inkom in jou lewe.

Ons wil so graag groter prestasies, groter suksesse, groter winste, meer “koninkrykies” vir onsself inpalm. Ons is baie keer soos Alexander die Grote wat net geleef het vir die volgende land wat hy kan verower.  Die Here beloof egter dat die een wat sagmoedig is oor sy regte, beloon sal word met die nuwe aarde wat vir ons wag. Dit kan nie verkry word deur daarvoor te baklei nie, maar daarop te wag.

In Kol 3: 12 staan daar: “Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.” Sagmoedigheid is die mooiste kledingstuk wat jy kan aantrek.

Sagmoedigheid beteken dat jy ander se emosies soos ’n veertjie sal lees en sensitief sal wees met elke mens op jou lewenspad. Dat jy so sensitief sal wees, dat jy bedagsaam en sag sal optree teenoor elkeen.

Weer eens, Christus Jesus is die voorbeeld van sagmoedigheid. Hy het homself totaal en al verloën tot aan die kruis. Hy het nie op sy regte gestaan nie, maar die heil van die wêreld op Sy hart gedra. Die Here sorg vir ons. Ons hoef nie te baklei vir iets nie. Wie van God afhanklik is, kan sagmoedig wees!

Hulle wat sagmoedig is, sal eendag die nuwe aarde erf. Dit sal hulle van niks ontbreek nie, want God sal vir hulle sorg tot in lengte van dae. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3745). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.

Gelukkig is dié wat treur

SKRIFLESING: Mat 5: 4  en Psalm 51

’n Groot deel van Karl Marx, die vader van kommunisme, se weerstand teen die Evangelie en godsdiens is op ’n wanvoorstelling gebou. Marx was gekant teen godsdiens omdat hy gemeen het dat dit  die massa soos opium verdoof, teen die onaangename realiteite van elke dag. Niks is egter verder van die waarheid nie. Die Bybel leer ons inderdaad om te treur oor die stukkendheid van die lewe.

Daarom is daar die Klaagliedere van Jeremia en bykans die helfte van die Psalms het ook ’n klaagelement in hulle. Dink aan die boek Job, wat ook handel oor lyding. Dan is daar ook die treurmares van die boek Prediker. Soos Prediker beklemtoon daar is ’n tyd vir alles, moet ons verstaan daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om met blydskap te leef. Martin Luther noem treur ’n baie skaars  kruie. Inderdaad sê Jesus in Mat 5: 4: Gelukkig is dié wat treur.

Maar belangrik is dat ons oor die regte goed moet treur. Dit sou verkeerd wees om te treur oor jou eie selfsugtige behoeftes wat nie bevredig word nie. (Dit is ’n duiwelse treur – dit gaan oor die “eie ek”.) Dit is doodeenvoudig selfsug. Dan is jy soos ’n kind wat ’n tantrum gooi, as hy of sy nie hul sin kry nie. Dit is soos om te huil op ’n rots, daar sal niks van kom nie, maar om te huil op sagte grond (oor die regte goed), dan sal daar ’n oes opgelewer word.

Wat Jesus hier bedoel met treur, het veral betrekking oor die sondetoestand van die wêreld en die stukkendheid van die wêreld. Eerstens moet ons treur oor ons eie en die wêreld se sondenood. Voor ek tot bekering kan kom, moet ek eers treur en berou toon oor my sonde. Dawid het in Psalm 51 intense berou oor sy sonde met Batseba en dat hy haar man doodgemaak het. Ons lees hoedat hy sy klere geskeur het en as op sy kop gegooi het. Dit het gelei tot sy bekering. Jy moet eers in ’n toestand van treur wees, voor jou hart verander kan word. Die soutwater van trane maak die wurms van sonde dood. Trane oor sondenood is soos ’n fontein van water in die middel van ’n tuin – dit bring lewe en skoonheid. In Jak 4: 9 staan daar: “Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid.” In Esegiël 7: 16 staan daar: “Dié van hulle wat ontkom, sal in die berge wees soos duiwe van die valleie –  hulle almal kla,   elkeen oor sy sondeskuld.” Bernard Clairvaux skryf van trane as  “the wine of angels.” “The sweetest wine is that which comes out of the winepress of the eyes,” het John Chrysostom gesê. Chrysostom noem treur die spons wat die sonde afwas.

Maar jy moet ook kan treur oor die sondenood van die wêreld. Dikwels is ons soos Jona wat buite Ninevé sit en ons verlustig aan ander se sonde en ondergang. Wat verkoop nou beter as ’n heerlike skinderstorie. In die ou dae, toe die slingertelefone daar was, het sekere mense dit hulle werk gemaak om op die plaaslyne af te luister na wat die nuutste skinderstorie is. Tydskrifte is ook geneig om die nuutste skinderstories in diepte te ondersoek en die skinderhonger publiek te bevredig met die nuutste sappige stories. In plaas van te treur oor ander se sonde, kan ons ons dikwels verlustig in hulle verleentheid.

Eers as ek treur oor ander se sondenood, kan ek werklik ’n getuie van die Here Jesus se liefde wees. Treurendes word die beste dissipels en sendelinge vir die Here Jesus Christus. Omdat jy treur, kry jy ’n hart vir mense wat verlore gaan in hulle sondenood. Jy word gretig om die goeie boodskap van die Evangelie by hulle uit te bring. Tweedens moet jy ook kan treur oor die stukkendheid van die mensdom en die wêreld. Ons leef in ’n gebroke wêreld. Daar is politieke nood, ekonomiese ellende, maatskaplike nood, ekologiese bedreigings, huweliks- en gesinsprobleme, werkloosheid en so kan die lysie langer word.   Gewone mense se reaksie is om daarvan weg te vlug en die blaam op iets of iemand te plaas.

’n Mens moet kan treur oor die ramp wat verlede week in George gebeur het, toe ’n gebou in duie gestort het en tientalle mense dood gelaat het. ’n Mens moet kan treur oor mense wat sterf in ongelukke, aan siektes, aan natuurrampe, aan selfdood, mense wat vasgevang is in dwelms en drank en oor al die tragedies en hartseer van hierdie wêreld.  ’n Mens moet treur oor almal wat werkloos is of wat ’n beperkte finansiële inkomste het, wat net genoeg is om van die hand na die mond te leef. 

Mense gaan op in die sinlike genot wat die wêreld kan bied. Die reaksie kom nog meer voor in ’n gemeenskap waar daar matige voorspoed is. Mense word hard. Hulle verleer die vermoë om te ly. So word ontvlugting en vermyding ’n byna permanente lewenshouding.

Maar slegs deur te treur kom daar lewensverandering. Wanneer jy werklik getreur het, kan jy sagmoedig word en honger en dors na wat reg is. Eers as jy werklik getreur het, kan jy barmhartig, rein van hart en ’n vredemaker wees. Deur te treur kry jy ’n hart vir die wêreld.

Maar om te treur, het ook ’n vreemde troos. Daarom is die Bybel by uitstek ook ’n troosboek. In verskillende variasies kom die boodskap na ons toe: “Moenie vrees nie” of  “Moenie bang wees nie.” Die troos van die Here het twee kante. Die eerste kant is dat Jesus Christus eens en altyd vir die sonde gesterf het. Die tweede kant is dat met Jesus se wederkoms  alles nuut sal word. Daar sal nie meer gebrokenheid wees nie. Nou kan die lewe ons nog seermaak, maar dit kan ons nie vernietig nie.

Ons moet nie net vra waaroor kan ek vandag dankbaar en bly wees nie. Ek moet ook vra: Waaroor kan ek vandag treur? Want dit is deur te treur, dat lewensverandering plaasvind. Daarom is daar dankpsalms, lofpsalms en vertrouenspsalms, maar ook klaagpsalms. Ons moet hierdie Psalms nie net lees nie, maar ook bid. Dan sal die vreemde troos en vreemde geluk, deel van ons lewe word.                                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition. 

Gelukkig is dié wat arm van gees is

SKRIFLESING:   Mat 5: 3

Die 1983-vertaling vertaal die vers met: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, …”. Die 2020-vertaling vertaal dit met: “Gelukkig is die armes van gees, …”. 

Die Rooms-Katolieke kerk het dit in die verlede verstaan dat jy al jou goed moet verkoop, ’n monnik of ’n non moet word, nie mag trou of enigiets mag besit nie. Dit sou beteken dat nie alle Christene “arm van gees” of “afhanklik van God” kon wees nie. Tog bedoel die Here dat almal wat kinders van die Here is, daarna moet strewe om “arm van gees” en “afhanklik van God” te wees.

Daarom verstaan ons Evangeliese Protestante dat “arm van gees” verwys  na diegene wat tot ’n besef van hul sondes gekom het en geen goedheid in hulself raaksien nie, wanhoop aan hulself en pleit vir en geheel en al staatmaak op die genade en barmhartigheid van God wat in Christus verseker is. Hulle is net afhanklik van die Here vir hulle verlossing. (Johannes Calvyn)

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het gespog met hulle voortreflikhede en lang gebede en godsdienstigheid. Hulle het nie verstaan wat dit beteken om “arm van gees” te wees nie. Daar is die geval van die Fariseër en tollenaar wat gaan bid het in die tempel. Die Fariseër het gespog oor sy voortreflikheid en die tollenaar het net gevra dat die Here hom, arme sondaar, moet vergeef. Dan het die Here die tollenaar, wat arm van gees is, salig verklaar.

Thomas Watson skryf: “Totdat ons arm van gees is, is ons nie in staat om genade te ontvang nie. Hy wat opgeblase is met ’n opinie van selfvoortreflikheid en selfgenoegsaamheid, is nie geskik vir Christus nie. Hy is reeds vol. Die glas word eers leeggemaak voor jy wyn ingooi. God maak eers ’n man van homself leeg. Dan skink hy die kosbare wyn van sy genade in. Niemand behalwe die armes van gees is binne Christus se sending nie.”

“Arm van gees” en “afhanklik van God”, beteken ook dat jy leeg word van jou trots, selfstandigheid en die staatmaak op eie kragte en vermoëns.

Die hele bemarkingsbedryf is daarop ingestel om aan jou goed te verkoop om jou onafhanklik te maak. Van banke, motors, tot geriefsartikels en wie weet wat nog alles word adverteer om jou onafhanklik te maak of ten minste onafhanklik te laat voel. Kinders wil groot wees, tieners droom van selfstandigheid, jongmense soek daarna, grootmense werk hulle dood om selfstandig te wees en oumense vrees die dag as hulle hulle onafhanklikheid gaan verloor. Johannes skrywe aan die gemeente van Laudisea in Openbaring 3:17 – “Omdat jy sê, “ ‘Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,’ en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie … “

Daarom is dit harde woorde van Jesus wanneer Hy sê dat ons ons strewe na onafhanklikheid moet afsweer. Want sien, suksesvol beteken vir ons om van niemand afhanklik hoef te wees nie.

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ’n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk  bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ’n sandkasteel wegspoel met hooggety.

Hoe meer ons menslike sekuriteite soek, hoe meer angstig raak ons. Ons enigste sekuriteit is die oneindige genade en barmhartigheid van God.

Die eerste saligspreking begin met geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Eintlik is die eerste saligspreking die belangrikste. Afhanklikheid is waar saligheid begin. Al die ander saligsprekinge volg op en is gebou op die eerste saligspreking. Geluk begin by ’n heel spesifieke soort armoede, naamlik “die wat arm van gees is”. (1933/1953) Die armes van gees was die mense wat geweet het dat hulle God nodig het in hulle lewens, nodiger as enigiets anders.

Hy wat armoede van gees het, treur. Hy wat treur, is sagmoedig. Hy wat sagmoedig is, is barmhartig, ensovoorts.

Dirkie Smit skryf dat dit nie oor ’n triomfantelike geloof gaan, wat die bewondering van almal rondom afdwing nie. Daar is ook niks vredevols of rustigs aan hierdie geloof nie. Robert Guelich stel voor dat ons die “armes van gees”, vertaal met “the desperate”. Dit is mense wat sukkel om reg te kom in die lewe. Daar is by hulle ’n soort verleentheid, verslaenheid, en radeloosheid met hulself.  Radeloosheid is allesbehalwe lekker, maar die goeie nuus is dat dit jou ’n kandidaat maak van ’n vreemde geluk. 

God werk met nulpunt-mense. Mense wat niks meer van hulself verwag nie. God maak sulke mense die voorwerpe van Sy genade. Afhanklikes is ook mense wat weet dat hulle niks van God verdien nie. Daarom is die kerk vol bedelaarbanke, met bedelaars daarop. Alles is die goeie guns van God, ons verdien niks van God se ontfermende genade nie.

Daarom is die Saligsprekinge soos paradokse. Hulle vra die teenoorgestelde as wat die wêreld vra. Wanneer jy die paradoks leef om in jou gees van God afhanklik te wees, gee die Here vir jou ’n vreemde hemelse seën en geluk.

Bernadette van Lourdes het gesê: “Baie vernederings is nodig om ’n bietjie nederigheid te skep!” Ons moet die Here innig dankbaar wees vir die situasies wat ons ervaar wat ons verarm, verneder, of waar ons ons swakheid en ons ellende besef. Dit laat ons besef dat ons die Here nodig het.

Om arm in die gees te word, beteken om afskeid te neem van trots. Dit is soos ’n stadspoort wat laag gebou is, sodat ’n kameel nie die stadspoort kan binne hardloop in ’n militêre aanval nie. Die kameel moet op sy knieë, nadat sy vrag afgelaai is, deur die stadspoort kruip. So moet ons ook ontslae raak van menslike trots en afhanklik word, om die vreemde geluk van God te ontvang.

John MacArthur skryf: “You can’t be filled until you’re empty. You can’t be worthwhile until you’re worthless.”

Sal boeke met titels soos How to Be Nothing of How to Be a Nobody verkoop? Nee! Dit is juis die paradoks van Jesus se Evangelie.

John MacArthur skryf: “Out of the carcass comes the honey. In our deadness we come alive,” na aanleiding van Simson wat die leeu doodgemaak het en uit die karkas het toe heuning gekom. Uit die trots wat doodgegaan het, kom die soet van heuning.

In die Bybel is daar baie paradokse van mense wat “dit nie sou gemaak het nie”, wat God kragtig gebruik het.

Die hakkelende Moses word die leier wat Israel uit Egipte laat trek het, die beloofde land binne. Verbeel jou ’n staatsman van Moses se kaliber wat hakkel. Moses was intens van God afhanklik. Moses word dan ook beskou as die mees nederige persoon in die Bybel.

Paulus was weer beproef deur die doring in sy vlees. Maar dan verklaar hy “As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk.” Diep was hy ook van God afhanklik.

Dit bly vir ons as mens ’n moeilike saak om regtig totaal en al onsself afhanklik aan God oor te gee. Dit is soos ’n drenkeling in die water. Hoe meer hy of sy skop en spartel, hoe vinniger en meer sink hy of sy. Die geheim is om op jou rug te lê en heeltemal te ontspan. Wanneer jy ontspan, dan dryf jy op die water. Dit vat geen inspanning nie, net oorgawe. So is dit ook met geloof en die eerste Saligspreking. Gee jouself oor in afhanklikheid van God.

Mat 5: 3 sê ook dat hulle wat nou arm van gees is en afhanklik van God is, die Koninkryk van God sal beërwe. Thomas Watson skryf: “Ons wat nou in vodde rondgaan? Jy sal jou wit klere hê. Wat maak dit saak as jy soos Daniël met net groente gevoer word en nie spoggerige kos het nie? Jy sal feesmaal hou wanneer jy in die koninkryk kom. Hier drink jy die water van trane, maar jy sal gou die wyn van die paradys drink. Wees vertroos met die gedagtes van God se Koninkryk wat op jou wag.”

Mag ons ook armes van gees wees wat van God alles verwag. Mag ons in alles net van God afhanklik wees.                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith) Moody Publishers. Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.


Om geliefd te voel

SKRIFLESING: Mark 1: 9 –11

Een van die mens se mees basiese behoeftes is om geliefd te voel. Mense floreer as hulle geliefd voel. Selfs jou hond floreer as hy of sy geliefd voel. Juis daarom, hier op Moedersdag 2024, moet ons ons moeders geliefd laat voel. Moeders offer baie op vir hulle kinders. Moeders lééf vir hulle kinders. Navorsing het oor en oor bewys dat kinders, mense en diere die minste gedragsafwykings toon as hulle geliefd voel.

Maar helaas, ons lewe in ’n wêreld van bitter min liefde en waar soveel mense ongeliefd voel. Navorsing het bewys dat feitlik 98 % van manlike gevangenes wat in die tronk is vir ernstige misdrywe, soos roof en moord, ’n swak verhouding met hul pa’s gehad het en daar was weinig sprake van liefde. Daar is ’n enorme hoë persentasie mense wat doodeenvoudig ongeliefd voel. Dit is nie net straatbedelaars nie, maar meer dikwels mense wat in verhoudings staan. Jy kan getroud wees, of ’n kind wees, of in ’n gesin leef, maar nog steeds ongeliefd voel.

Daarom is die sentrale boodskap van die Evangelie dat God die wêreld liefgehad het. (Joh 3:16) Dit is waarom Jesus aarde toe gekom het, sodat ons geliefd kan voel en in Sy liefde kan leef.

Met Jesus se doop lees ons in Joh 1: 11 dat daar ’n stem uit die hemel gekom het: “ Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug ek my.” Daarom het God die Vader in Jesus se doop sy LIEFDE vir Sy Seun verklaar. Verder lees ons in vers 10 dat die Heilige Gees in LIEFDE soos ’n duif op Hom neergedaal het.

Simbolies beteken ’n duif wat neerdaal ’n “nuwe begin”. So staan God-Drie-Enig, as Vader en Seun en Gees, in ’n band van LIEFDE met mekaar. God die Vader het as’t ware in Joh 1: 11 Sy Seun geliefd laat voel deur dit te bevestig met ’n stem uit die hemel. Daar staan in vers 10 dat die hemel oopgeskeur het na Jesus se doop. Dit herinner ook aan die voorhangsel in die tempel wat met Jesus se sterwe sou oopskeur. Dit is simbolies van Jesus se liefde en genade wat deurbreek en verlossing, vrede en vreugde bring. “Oopgeskeur” beteken God het sy volle liefde uitgestort op die mensdom, sodat die mensdom iets kan verstaan van om geliefd te wees. Daarom is daar EENHEID in God-Drie-Enig, omdat die LIEFDE vervolmaak is.

Daarom verklaar Paulus ook in 1 Kor 13, dat die liefde die allergrootste gawe is. Paulus bedoel eintlik daarmee dat die DNS van ’n gemeente liefde moet wees.

Daarom het ons in die kerk ook die sakrament van die doop. In die doop kom bevestig God-Drie-Enig Sy liefde aan die dopeling. Die doop is ’n lewenslange teken dat God ons liefhet. In baie Anglikaanse Kerke is daar by die ingang van die kerk ’n bakkie water. Jy kan jou hand daarin steek om jouself daaraan te herinner dat jy eens op ’n tyd gedoop is met die ewige liefde van God. Dit is ’n liefde wat nie opgeskort of voorwaardelik is nie. Dit is God se ewige liefde.

Daarom het Martin Luther ook die gewoonte gehad om elke oggend as hy opstaan, die teken van die kruis te maak op sy voorkop om hom daarin te herinner dat hy gedoop is met God se ewige liefde. Met die wete dat hy in God se oë geliefd is, kon hy die dag aanpak.

Omdat Jesus geliefd voel deur Sy Vader se liefde, kon hy in Sy aardse bestaan liefde uitdeel en ander mense geliefd laat voel. So ver Jesus gegaan het, het Hy mense geliefd laat voel. Hy het geëet saam met die sondaars en tollenaars. Ons lees hoe Hy tuisgegaan het by Saggéüs, die mees ongeliefde man in Jerusalem. Deur Saggéüs geliefd te laat voel, het Hy Saggéüs se hele lewe verander en het hy tot bekering gekom. Om mense geliefd te laat voel, is om hulle lewe te verander. Jesus het toegelaat dat die prostituut Sy voete was met haar trane en met haar hare afdroog. Hy het ’n ander prostituut toegelaat om Hom te salf met duur kosbare olie. Hy het vir mense kos gegee, deur brood en vis te vermeerder. Hy het aandag aan kinders gegee en hulle toegelaat om Hom te steur in Sy werk. Hy het siekes genees. Deur Sy prediking het Hy genade verkondig aan hulle wat gekwel is deur hulle probleme of skuldgevoelens. Deur te sterf aan die kruis, het Hy die hele wêreld geliefd laat voel. Deur die eeue lewe mense van die ewige hoop wat Jesus gebring het toe hy aan die kruis vir die mensdom gewys het dat hulle geliefd is in God se oë.

Franciscus van Assisi, was daarvoor bekend dat hy sover hy gegaan het, goed gedoen het aan mense en hulle daarom geliefd laat voel het. Moeder Theresa van Kalkutta het aan mense in die haglikste toestande hoop gegee, deur hulle geliefd te laat voel. Daarom is dit die roeping van elke gelowige om ander mense geliefd te laat voel.

Henri Nouwen, bekende akademikus, priester, skrywer en pastor het sy laaste jare gewerk by ’n sentrum vir erg gestremdes. Hy het sy mees vervulde jare daar deurgebring. Hy het baie geskryf oor die feit dat ons God se geliefde seuns en dogters is. Eers wanneer jy God se liefde in jou eie lewe raaksien en geliefd voel, kan jy ander mense geliefd laat voel. Die sleutel tot ware lewensgeluk is om mense te soek om hulle geliefd te laat voel. Dan gee jy weer vir mense hulle menswaardigheid terug.

Ons lewe in ’n wêreld wat arm is aan menswaardigheid. Rondom ons is daar mense wat aanmoediging en troos en liefde nodig het. ’n Waarderende woord, kwaliteittyd, ’n geskenk, diensvaardigheid of ’n fisiese aanraking kan wonders doen. Dit staan ook bekend as die vyf tale van die liefde van Gary Chapman. Ons lewe in ’n wêreld van velhonger mense, wat ’n drukkie soek. Ons lewe in ’n wêreld van moedelose mense, wat ’n waarderende woord en bevestiging waardeer.

Daarom is die hoogste roeping van die gelowige om ander mense geliefd te laat voel. Wil jy dit nie jou voorneme maak om ander mense rondom jou geliefd te laat voel nie? Jy kan begin by jou lewensmaat, kinders, ouers, vriende, werknemers en ook die vreemdeling op jou pad. Ook jou hond moet weet dat hy of sy geliefd is. Dan eers sal jy ’n merkwaardige lewe leef, want jy lewe nie meer vir jouself nie.

Ek het die volgende van ’n onbekende skrywer gelees: “Die gedagte van jou moeder is ongeskrewe, maar is onuitwisbaar in jou gedagtes gestempel! Dit is die emosies van liefde, van vriendelikheid, van onbaatsugtigheid, van gee! Moederskap – dink net aan haar seëninge, vreugdes, hartseer, uitdagings en oorwinnings. Daar is geen groter ekstase as om haar pasgebore baba vas te hou nie, en geen groter angs as die gebroke hart wat ’n kind kan veroorsaak nie. ’n Moeder se liefde is die naaste ding op aarde aan God se liefde. Die wysheid van God word in moederskap ten toon gestel. Ons is nie die neweproduk van een of ander onpersoonlike biologiese proses nie. Ons is nie op ’n monteerlyn gemaak deur die kombinasie van grondstowwe nie. Ons moeders het ons gekoester en ’n intieme verhouding met ons gevorm voordat ons gebore is. Sy het haar lewe vir ons in gevaar gestel.

Die grootste lesse wat ons nog ooit geleer het, het gekom van liefdevolle, omgee-, opofferende moeders wat altyd vir ons beskikbaar was. ’n Vrou se grootste, mees vervullende en verreikende rol word in moederskap uitgedruk. Kom ons dank God vir Christelike moeders! Laat ons sensitief en dankbaar wees, nie net op Moedersdag nie – maar elke dag vir ons moeders en die ma van ons kinders.”

Ons moet op Moedersdag ook sensitief wees vir vroue wat nie kinders kan hê nie, of moeders wat hulle kinders aan die dood afgestaan het. Ons moet dink aan moeders wat kontak met hulle kinders verloor het en wat elke dag verlang na hulle kinders. Mag hulle ook vandag in ons gebede wees.

God het met die doop van Jesus Christus vir Hom geseën. Daarom het die stem uit die hemel gesê dat Jesus Sy geliefde Seun is en dat Hy daaroor verheug is. Net so moet ons tot seën vir mekaar wees. Ons lewe in ’n wêreld waar mense die gewoonte het om mekaar te vervloek. Christene daarenteen is geplaas om tot seën te wees van ander, deur ander geliefd te laat voel.

Dikwels was ons mekaar se koppe, in plaas van mekaar se voete te was.

Deur jou doop is jy ook die geliefde seun en dogter van God. Jy is geliefd deur God. Wees jy ook tot seën vir ander, deur hulle geliefd te laat voel.       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)