SKRIFLESING: Matteus 13: 24 – 30 en Matteus 7:1 – 5
Dieter is ’n middelklas besigheidsman wat gereeld per trein reis vir besigheid tussen Rotterdam en Amsterdam in Nederland. So was dit weer die Maandagoggend sy weeklikse treinrit. Dié week was dit egter anders. Op een van die stasies nog voor hulle uit Rotterdam weg is, klim ’n weird persoon op die trein en sit op die bank regoor Dieter.

Daar is nie ’n ander woord om die man te beskryf nie. Dit lyk en ruik of hy dae laas gebad, geskeer en skoon aangetrek het. Hy het ’n oorring aan, sowel as ’n ring deur sy neus en tong. Hy is vol tatoeëermerke. Verseker gebruik die man dwelms, dink Dieter. Dat hy nou oorkant een van die rotte van Rotterdam moes beland! Rotterdam is juis so vol junkies. Hy soek ’n ander plek op die oorvol trein, want die trein het sekuriteitskameras en hy wil tog nie op ’n foto regoor die man afgeneem word nie. Maar daar is nie oop plekke op die trein nie. Hy bly maar sit, maar wroeg elke oomblik dat die man so voorbarig kon wees om naby hom te kom sit. Kon hy nie maar van ander vervoer gebruik gemaak het nie! Een vir een kom en gaan die stasies verby. Elke keer as die trein stop, wens Dieter die man wil liewer nou afklim, sodat hy salig verder kan ry. Maar nee, die man bly sit. “Ek hoop nie hy ry tot in Amsterdam saam met my nie,” dink hy. Later vra die eienaardige man vir Dieter wat die volgende stasie se naam is. Dieter antwoord hom nie eers terug nie. Hy wil nie met die vreemdeling ’n gesprek begin nie, want hulle is nie van dieselfde klas nie. Plaas hy het liewers besigheidsklas gereis, dan was hy nie nou in die nare posisie om regoor die man te sit nie. Dit sal hom leer om nie so suinig te wees nie.
Dan kom Amsterdam nader. Stadig beweeg die trein die besige Amsterdam-stasie binne. Die trein stop en die deure suis oop. Dieter gee die vreemde man eerste kans om te loop, want hy is te bang die man vat of skuur per ongeluk teen hom. Uiteindelik is die nare reis op ’n einde. Of so het hy gedink!
Toe gebeur ’n volgende nare ondervinding. Op die perron reg voor hom sak ’n meisie flou neer op die grond. Dadelik loop daar bloed by haar mondhoeke en neus uit. Dieter se gedagtes loop wye draaie. Het sy nie miskien “Kongo-koors” of een of ander tropiese siekte nie? Sê nou maar sy het Vigs. Onmiddellik loop hy ’n wye draai om haar en staan op ’n veilige afstand, nuuskierig, en kyk wat met haar gebeur.
Toe gebeur iets wat hy in sy wildste drome nie kon voorsien het nie. Die vreemdeling wat saam met hom gereis het, wat hy as ’n rot beskou het, snel sonder om te aarsel die meisie te hulp en vou haar met liefde in sy arms. Hy dink nie eers twee keer aan die bloedspatsels op sy klere en gesig nie. Hy praat rustig en vertroostend met haar en haal ’n half bottel warm Coke uit sy verslete sak en laat haar daarvan drink om haar bloedsuiker op te jaag. Hy kalmeer haar deur haar voorkop met liefde te streel. Toe sy klaar gedrink het, tel hy haar op en dra haar na die noodhulpkamer van die ondergrondse molstasie. So iets het Dieter nog nooit beleef nie. Die rot was beter as wat hy is. Die rot was eintlik ’n verskuilde engel. Hy kry skaam oor sy afkeurende houding teenoor die man. En dan was hy gister nog in die kerk! Toe skielik onthou hy gister se preek van die dominee. Daar is gepreek oor die onkruid en die koring. Hy wou nou die onkruid uittrek en het hom lelik misgis. Die rot was nie onkruid nie, maar lewende koring wat voluit soos Christus gegroei het.

In Mat 13: 24 – 30, 36 – 43 vind ons een van die agt Koninkryksgelykenisse van Mat 13. In die gelykenis van die onkruid en die koring word gepraat van “die koninkryk van die hemel”, in plaas van die Koninkryk van God. Mattheus het verkies om te praat van die “Koninkryk van die hemel”, om die onnodige gebruik van die woord “God” uit te skakel. Dit is gedoen uit die nodige respek vir die derde gebod en dit is so verstaan. As jy die totale gebruik van die naam van God kan beperk, is die kanse op misbruik baie minder.

Die gelykenis gaan oor ’n man wat koring gesaai het op die land en toe kom ’n vyand in die nag en saai onkruid (Grieks: zizania) tussen die koring. Dié tipe onkruid kom nie in Suid-Afrika voor nie, maar is algemeen bekend in die Midde-Ooste as “drabok” of die Engelse naam “darnell grass”. Die biologiese naam is Lolium temulentum.

In die vroeë stadium van ontwikkeling lyk drabok net soos koring. Drabok se saad is matig giftig. In die antieke tyd het dit dikwels gebeur dat vyande mekaar beveg het deur drabok in mekaar se koringlande te saai. Daar was selfs ’n Romeinse wet wat die saai van onkruid in jou vyand se land as ’n misdaad geklassifiseer het en daarom ook strafbaar deur die Romeinse reg.
Die punt van die gelykenis is dat die Seun goeie saad saai, mense van die Koninkryk. Die Bose kom egter en saai onkruid, die aanhangers van die Bose. In die begin is dit baie verwarrend. Wie is goeie en wie is slegte mense? Wat is goed en wat is boos? Dikwels raak ons ongeduldig en wil sommer dadelik dat God die onkruid moet uitskoffel. Die slawe in die gelykenis wou ook sommer dadelik die skoffel inlê.
Waarom kan God nie sommer dadelik van al die slegte en bose mense en sommer van al die boosheid van die wêreld ontslae raak nie? Ons wens dikwels God wil die slegte mense uitroei. Waarom talm God so lank om te kom? Waarom is God so geduldig met die bose? Skoffel uit! Natuurlik is die ander altyd die “bose” en ek altyd die een wat veilig “bewaar en vergewe moet word”.
Daarom staan God se geduld hier regoor die mens se ongeduld.
Die Here kan die drabok nog verander in koring. Die Here is ’n genadige God wat genadetyd gee vir mense om tot bekering te kom van die bose. In 2 Petrus 3: 9 staan daar: “Die Here stel nie die vervulling van Sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie.” Die Here wil die drabok verander in koring. Ons vergeet dikwels dat ons ook drabok was wat deur die Here in koring verander is.

Ons kan ons ook so maklik vergis met mense. Mense skinder van ander, sonder enige begrip en empatie. Volgens ons waardeoordeel en subjektiewe maatstawwe kan ons mense verkeerd opsom. Hoe dikwels maak ons nie foute met mense nie. Ons beoordeel mense op grond van die uiterlike en nie die innerlike nie. Somtyds verras mense ons deur hulle christelike optrede wat baie meer eg is as ons eie optredes. Dit is nie vir ons om die skoffel in te lê nie.

Ons ken nie ander mense se agtergrond, probleme en aanvegtinge nie. Ons het nie in hulle skoene geloop nie. Hoe kan ons hulle dan sonder meer oordeel?
Jesus het in Sy eie lewe baie geduld en empatie gehad met die drabokmense van Sy tyd. Hy het gemeng met sondaars, tollenaars, prostitute en randfigure. Eerder as om hulle uit te ruk het Hy hulle opgeroep om deel van Sy Koninkryk te word. Jesus het hoop gehad vir die mense vir wie ons geen hoop het nie.

Die fout wat ons ook dikwels maak, is dat ons vergeet dat die skeiding tussen koring en drabok dikwels deur ons eie hart loop. Die Russiese Nobelpryswenner Aleksander Solzhenitsyn skryf aangrypend hieroor. Hy skryf in sy boek The Gulag Archipelago die volgende woorde: “If only there were evil people somewhere insidiously committing evil deeds, and it were necessary only to separate them from the rest of us and destroy them. But the line dividing good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?”
Die diepste moeilikheid is nie die boosheid van ander mense nie, maar die boosheid in my eie hart. En as ek dit gesnap het, kry ek meer begrip vir God se eindelose geduld met die drabok in hierdie wêreld.
Maar in die gelykenis is ook duidelik dat genadetyd nie vir altyd is nie. Daar kom ’n stadium in die groeiproses wanneer die drabok begin verskillend lyk van die koring. Jy sien dit veral in die saadontwikkeling. Die goeie en die bose dra immers nie dieselfde saad nie. Die werke van die goeie en die bose verskil hemelsbreed.
Dan sê Jesus sal die engele kom en kom oordeel tussen die goeie en die bose. Daarom eindig die gelykenis met die duidelike oproep: “Wie ore het, moet luister.” Daar kom wel ’n oordeel, en dit sal ons loon om nie God se goeie geduld, Sy duur genade en Sy vriendelike liefde te minag en onverstoord op ons onkruidpaaie aan te karring nie.
Juis daarom moet ons nie goedkoop omgaan met ons eie harte nie, maar dit gedurig ondersoek vir drabok. Ek moet meer begaan wees oor die drabok in my eie lewe as die drabokmense wat my grensloos frustreer en van wie ek ontslae wil raak.

In Matteus 7:1 – 2 staan: Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle ander oordeel, sal oor julle geoordeel word en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.
Daar bestaan verskeie ander verwysings in die Bybel wat vir ons sê dat ons nie oor ander mag oordeel nie. So byvoorbeeld lees ons in Luk. 6:37: Moenie oordeel nie en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry en julle sal vrygespreek word.
Ook in Rom 2:1 sê Paulus: Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.

Daarom sê Mat 7: 1 – 5 die volgende: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. “Waarom sien jy die splinter in jou broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ maar wat van die balk in jou eie oog? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.
Ons is altyd besig om ander mense se stories, splinters, foute en sonde uit te wys. Ons moet eerder die drabok in ons eie lewe ondersoek en uittrek.
Wyse mense is mense wat ander aanvaar net soos hulle is, sonder enige veroordeling. Hulle aanvaar ander met LIEFDE. Die apostel Paulus sê mos ook dat liefde die grootste van alle geestelike gawes is.

Net dwase mense sonder empatie veroordeel ander mense. Hulle is soos mense sonder begrip. Wyse mense kyk met begrip en empatie na ander mense, sonder enige veroordeling. Hulle is nie mense wat skinder of ander mense in die openbaar verneder nie. Hulle lewe met deernis, empatie en liefde. Hulle lewe soos die Here Jesus gelewe het, toe Hy nog vleeslik by ons was.
Die oordeel kom ons nie toe nie. Die Here sal eendag oordeel. Dit is nog genadetyd, daarom moet ons alle mense met liefde, respek en deernis behandel, sonder enige veroordeling. Mense wat voel hulle word nie veroordeel nie, ervaar iets van die genade en liefde van onse Here Jesus Christus. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)























































































