‘n Handjievol wat die Wêreld verander

SKRIFLESING: Num 13: 26 – 33

Negatiwiteit verkoop. Mense slurp negatiwiteit op, daarom verkoop koerante so goed. Dikwels by braaivleisvure kan mense net oor negatiewe goed gesels. Ons hele land is in ’n greep van negatiwiteit. Daar is soveel geweld, politieke moorde, korrupsie, die oorloë in Ukraïne en Gasa, Iran en ander plekke, asook ekonomiese onstabiliteit en nog baie ander negatiewe dinge wat ons gedagtes oorheers. Die gevaar is dat ons lewens beheer word deur negatiwiteit. Die meerderheid Suid- Afrikaners is negatief en die minderheid is positief. Dit werk altyd so in die lewe.

In ons gelese gedeelte in Num 13: 26 – 33 lees ons hoedat Moses beveel het dat twaalf verspieders, een uit elke stam, die land Kanaän moet verken. Hulle was soos verkenners of spioene wat moes terugkom en verslag doen van die positiewe en die negatiewe wat hulle in die land Kanaän gesien het.

Na 40 dae het hulle teruggekom en vertel dat die land uiters vrugbaar is en het selfs van die vrugte van die land gewys. Dit was inderdaad ’n land van melk en heuning. Maar, het die meerderheid verspieders gesê, die land se inwoners is baie groot en sterk en hulle stede is versterk en groot. Hulle het ook die reuse gesien, wat nasate van Enak was. Die meerderheid verspieders het gesê dit is onmoontlik om die land Kanaän in besit te neem. Hulle het gevoel soos sprinkane teen die reuse van daardie land en so was hulle ook in die oë van die Kanaäniete.

Toe het Kaleb egter ’n minderheidsverslag uitgebring en gesê dat die land wel verower kan word, deur die krag van die Here. Josua het ook vir Kaleb ondersteun, en benadruk dat die land wel verower kan word as die Here saam met hulle trek. Daar was dus ’n meerderheidsverslag wat negatief was en ’n minderheidsverslag wat positief was. Die hele volk het egter die negatiewe meerderheidsverslag geglo en het as’t ware in opstand gekom teen Moses en Aäron. Josua het egter gepleit dat die volk nie moet wegdraai van die Here nie. Die Here sal hulle help as hulle positief bly.

Die minderheid het die meerderheid gewen, omdat hulle aan die kant van God was. Net so moet ons as Christene, al is ons in die minderheid, glo dat ons ’n verskil kan maak in hierdie land vol van negatiewe dinge. Ons moenie verval in negatiwiteit nie, maar positief glo dat ons deur die krag van God ’n verskil kan maak.

Daarom het Josua ook in Num 14: 8 gesê dat die volk nie teen die Here in opstand moet kom nie.

Die fout wat ons dikwels maak is om God aan ons kant te wil hê. Ons gebruik God dus soos ’n pion wat ons rondskuif vir ons eie belange. In baie lande se volksliedere word God as pion gebruik. Dink byvoorbeeld aan die Engelse vokslied: “God save the queen”. Ons voorouers het dikwels gepraat van “Volk, vaderland en God.” Hitler het God ook gebruik in sy ideologie, en miljoene mense doodgemaak.

Wanneer twee lande oorlog maak soos in die Anglo-Boereoorlog, het die Engelse en die Boere albei gebid dat God tog aan hulle kant moet wees. Dan misbruik ’n mens God.

Ons moet nie probeer om God aan ons kant kry nie, maar ons moet eerder kies om aan God se kant te wees. Wanneer ons aan God se kant is, sal ons die regte etiese keuses maak en sal God ons help.

Daarom het Josua gesê dat die volk aan God se kant moet wees en dan sal God vir hulle die oorwinning gee. En die Here het ook vir hulle die oorwinning oor die Kanaäniete gegee.

Die Here gebruik minderhede en swak mense om oorwinnings te behaal in Sy naam.

  • Die hakkelende Moses het sy volk uit Egipte gelei.
  • Die seun Dawid het vir Goliat verslaan.
  • Die Gideonsbende van 300 man het die oormag van Moabiete verslaan.
  • Paulus, met die doring in die vlees, het God magtig gebruik.

Belangrik is egter dat jy aan God se kant moet wees! Moenie God gebruik om aan jou kant te wees en jou belange en agendas te dien nie. In voorspoedsteologie word God dikwels as ’n pion gebruik om mense te verryk en vir hulle persoonlike voordeel te bring. Dit gaan dan eerder daaroor wat God vir jou beteken, as wat jy vir God beteken.

Daarom moet ons soos Kaleb en Josua positief bly, ten spyte van moeilike omstandighede. Ons moet vertrou dat as ons aan God se kant is, God ons sal help met elke moeilikheid en in moeilike omstandighede. Positiewe mense is altyd in die minderheid. Maar dit is juis hulle wat die verskil maak in die samelewing. Negatiewe mense word verlam deur die probleme, maar positiewe mense maak ’n verskil.

Die Voortrekkers het ten spyte van bedreiging, positief gebly en God vertrou vir ’n oorwinning. Net so moet ons God ook vertrou in ons moeilikhede en Hy sal help, ook as die nood op sy hoogste is.

Vir byna twee jaar het die bemanning in die oorblyfsel van die skip oorleef in donkerte en koue. Feitlik al sy bemanning was negatief en moedverlore, sonder enige hoop. Shackleton het egter positief gebly.  Shackleton het die rantsoen op die skip elke dag sorgvuldig verdeel, sodat hulle so lank moontlik aan die lewe kon bly. Hy het sy bemanning met humor opgebeur en nooit paniek gewys nie.

Shackleton het toe met ’n paar manne in ’n oop reddingsboot die yssee oorgesteek  – 1 300 km ver – om hulp te gaan soek. Ná byna twee jaar het hy daarin geslaag om al die manne veilig en lewend huis toe te bring. Nie een van sy manskappe het verkluim of doodgegaan nie. Almal het oorleef, na bykans twee jaar van ’n koue hel.

Almal het oorleef, danksy sy positiewe ingesteldheid. Een man se positiewe ingesteldheid het ’n klomp manskappe van ’n gewisse dood gered.

KI haal die manskappe se woorde aan:  “Die mense wat saam met Shackleton oorleef het, het later gesê: ‘Hy het ons nie net fisies gered nie – hy het ons gees lewendig gehou.’”

So ook in Auschwitz het enkele gevangenes ander lewend gehou deur in die koue nagte in die barakke hulle medegevangenes met stories van hoop aan die lewe te hou. Hulle het positiewe stories van toekomstige hoop hardop “verbeel” saam met hulle medegevangenes.  Dit het ’n anker geword waaraan hulle vasgehou het. Wie positief was, het ’n baie groter kans gehad om die konsentrasiekamp te oorleef.

So is die boek Hebreërs vol verhale van geloofshelde wat positief gebly het in moeilike omstandighede en vasgehou het aan hulle geloof. Al het dinge hoe donker gelyk vir die geloofshelde het hulle in geloof aan God vasgehou en feitlik die onmoontlike vermag. In hulle stryd om getrou te bly aan hulle geloof, het hulle geloof net sterker gegroei. Dit is soos wanneer jy ’n boom onder stres plaas, deur byvoorbeeld vir ’n sitrusboom ’n ring aan te sit, of om die boom te snoei. Onder daardie stres dra die boom baie meer vrug.

Wees jy die vlam van ’n positiewe geloof. Daar is nie genoeg duisternis om daardie vlammetjie se lig uit te doof nie. Ons het dit so nodig, almal wat onder hierdie skewe reënboogvlag lewe.

Suid-Afrika kort positiewe mense. Wees jy deel van die minderheid wat op God vertrou vir uitkoms! Sy hulp is naby vir elkeen wat Hom soek.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Skepping – ‘n Heilige Erediens

SKRIFLESING: Psalm 8: 1 – 10 en Romeine 8: 22

Johannes Calvyn het gesê dat die onsigbare God Homself sigbaar maak in baie gestaltes. Veral Sy skepping is ’n vingerafdruk van God se teenwoordigheid.

Calvyn het in sy Institusie van God se skepping gepraat as die Teatrum Gloria Dei. God het die skepping gemaak as ’n verhoogteater, waar God kan terugsit en waardeer wat Hy gemaak het. Hy beskryf dan ook die twee maniere waarop God Homself openbaar, naamlik deur Sy Skrif, wat ons die weg van verlossing aandui wat ons die Besondere Openbaring noem. Die Algemene openbaring is die natuur en skepping, waarin ons kan sien daar is ’n almagtige en heerlike God wat dit alles geskep het. Die Algemene openbaring leer ons daar moet ’n God wees en die Besondere Openbaring leer ons die weg na God en die saligheid toe.

Psalm 8 is ’n lofpsalm van Koning Dawid, waar hy ook die grootheid van God besing. The Message-vertaling van Eugene Peterson vertaal vers 1 as volg: “GOD, brilliant Lord, yours is a household name.”

Psalm 8 het tien verse. Vers 2 en vers 10 omarm as’t ware verse 3 tot 9. In beide verse word die refrein herhaal: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!” So begin en eindig hierdie lofpsalm van Koning Dawid. Die verdere indeling van die Psalm is as volg: Verse 3 – 4 vertel van die grootheid van die skepping en verse 5 – 9 verklaar die verantwoordelikheid van die mens teenoor die skepping. Die skopus van Psalm 8 sou ’n mens kon opsom met die volgende: Respek en sorg vir God se wonderbare skepping.

Vers 3 tot 4 besing die grootsheid van God. Hulle wat met kinderlike oë na God se skepping kyk, kan nie anders as om Hom te besing nie. God se teëstanders, hulle wat te groot vir hulle skoene geraak het, die ateïste, staan stomgeslaan en kan nie God se skepping verklaar nie.

Inderdaad is God se werk te sien in die makro-kosmos, asook in die mikro-kosmos. Jy het ’n teleskoop nodig om die oneindige dieptes van die heelal te verken en jou te verwonder aan die sterre en planete. God is nog steeds skeppend besig om aan nuwe sterre en planete geboorte te gee.

Maar jy het ook ’n mikroskoop nodig om die mikroskopies-klein wêreld en die geboorte van nuwe selle waar te neem. God is die God van sterre en mikroskopiese atome. Ons woon op ’n wonderskone planeet met soveel verskeidenheid, dat natuurwetenskaplikes nog steeds nuwe ontdekkings maak. God is die God van wiskunde, fisika, chemie, elektronika en elke wetenskap wat aan universiteite nagevors word. God het geskep, ons kan maar net ontdek en in verwondering staan. Universiteite ontdek maar net deur navorsing dit wat God geskep het.

As jong seun het Dawid lang tye in die veld deurgebring om die skape op te pas. Hy was dus in diepe verwondering as hy die hemelruim in die aand dopgehou het. As veldkind het hy homself ook verwonder aan die natuur rondom hom. Maar Dawid was diep bewus van sy kleinheid en sy afhanklikheid.

Daarom was hy verwonderend oor die feit dat God soveel verantwoordelikheid aan die mens gegee het. Dit bring ons by verse 5 – 9, wat handel oor die verantwoordelikheid wat God aan die mens gegee het.

God het die mens gekroon as Sy verteenwoordiger, amper ’n hemelwese.

Ons het die skepping van God ontvang, so lees ons in Gen 2:15. Dit beteken ons moet dit bestuur en oppas. Dit is ’n uitdruklike opdrag. Ons moet die skepping oppas, sodat ons dit gesond vir ons nageslagte kan aangee, wat ook nog op hierdie planeet moet leef.

Hierdie mens moet met verantwoordelikheid regeer oor alles wat God gemaak het. God wil hê ons moet sorgsaam wees met sy skepping. Dit is deur te versorg, dat jy ’n mens is. Maar helaas, ons vernietig die mooie skepping met ons selfsug, hebsug en gierigheid. Boere kla dikwels oor die bobbejane wat hulle vrugteboorde verwoes en oral skade aanrig. Hoe moet God nie voel as die mens oral waar hy kom, skade aanrig in God se wonderskone skepping nie. Hoe meer die mens ontwikkel, hoe meer word die rommel wat hy weekliks weggooi. In die ou tyd was die rommel en asgate baie kleiner, want mense het verbruiksartikels oor en oor gebruik. Ons lewe in ’n era waarin alles netjies verpak word, om maar net die verpakkingsmateriaal weer weg te gooi. So gebruik ons die grondstowwe op, tot nadeel van opkomende geslagte. Ons besoedel die lug, die grond, die water en die see. Die osoonlaag word deur ons beskadig, wat lei tot aardverwarming met katastrofiese gevolge vir die toekoms. Die hartseerste is dat die Amerikaanse president Donald Trump, Amerika onttrek het uit die klimaat-akkoord wat Obama in Parys onderteken het. Trump wil Amerika weer groot en ryk maak, ten spyte  van die gevaar van klimaatsverandering. Hier volg die feite volgens KI: “ President Obama het ’n leidende rol gespeel in die onderhandelinge. Hy het die VSA verbind tot die doel om die wêreld se gemiddelde temperatuurstyging onder 2 °C te hou, met ’n mikpunt om dit tot 1,5 °C te beperk. In Junie 2017 het president Donald Trump aangekondig dat die VSA uit die ooreenkoms sou onttrek, met die argument dat dit die Amerikaanse ekonomie en werksgeleenthede benadeel. Volgens die bepalings van die ooreenkoms kon ’n land eers drie jaar ná inwerkingtreding begin onttrek. Die formele Amerikaanse onttrekking het eers op 4 November 2020 in werking getree. Toe Joe Biden president geword het in 2021, het hy ’n dekreet onderteken om die VSA weer by die ooreenkoms te laat aansluit. Op 19 Februarie 2021 het die VSA formeel weer deel geword van die Parys-ooreenkoms. In 2025, by die begin van sy tweede termyn, het President Trump dekrete uitgereik om die VSA opnuut uit die Parys-ooreenkoms te onttrek.”

So is die mag na rykdom en om Amerika weer groot te maak, belangriker as die gevaar van klimaatsverandering. Kortstondige voorspoed, maar toekomstige vernietiging van die planeet. Dit is uiters kortsigtige leierskap, wat geen toekomsvisie het wat vir ons planeet goed sal wees nie.

Daarom gaan die Evangelie nie net oor die redding van siele nie. Die Evangelie gaan ook oor die redding van die skepping. Rom 8: 22 sê die volgende: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.” God se reddingswerk is kosmologies en daarom moet ons inval om die skepping te red en te beskerm.

Een van die nadele van kolonialisme was dat lande soos onder andere Brittanje, Afrika se hulpbronne verslind het, ten einde skatryk te word. Die diamant- en goudstormloop van meer as ’n eeu terug is die beste voorbeeld, en wat boonop uitgeloop het op die verwoestende Anglo-Boereoorlog. Dikwels word Afrika uitgebuit deur ander lande, soos wat die Chinese tans met Suid-Afrika doen.

Die voorgestelde skaliebreking in die Karoo deur Shell is ook ’n voorbeeld hoe die Karoo se grondwater besoedel kan word. Dit sal ook die skoonheid van die Karoo vernietig. Kortstondige wins vir Shell, met permanente skade aan die natuur vir almal. Gelukkig het Shell in 2015 onttrek uit die ontwikkeling.

Christene is mense wat herwin, wat “groen” dink en wat spaarsamig met grondstowwe omgaan. Christene is ingestel op natuurbewaring. Christenboere oorbewei nie hulle veld nie. Christene gooi nie hulle rommel in die strate nie. Christene bewaar die oseane vir die nageslag. Christene gebruik eerder wind-energie, as om steenkool te verbrand om energie te gee.

Alles kom neer op twee woorde: RESPEK en SORG. Ons moet God se handewerk respekteer en daarvoor sorg. Daarom is ons na die beeld van God gemaak. Wie van die natuur steel, steel van God. Daarom moet ons “lig leef op God se grond en hande hê wat heel en nie breek nie,” beskryf KI dit. 

Vers 6b sê dat ons ons outoriteit van God kry, want Hy het ons met aansien en eer gekroon. Sonder God is ons niks. Daarom moet ons ons outoriteit oor die skepping met verantwoordelikheid beklee. Daarom moet ons nie net die Evangelie van verlossing aan mense bring nie, ons moet ook die Evangelie van verlossing aan die skepping bring, deur bome te plant en die skepping te genees van die wonde wat die mens dit toegedien het. Die skepping is gemaak dat die mens en God dit moet geniet. Daarom moet ons die skepping met RESPEK en SORG waardeer en al die lof aan die Here bring. Ons eer die Here as ons Sy skepping oppas.

KI beskryf dit so mooi: “Wanneer ons sê ‘die natuur is ’n erediens,’ erken ons dat God nie beperk is tot mure van klip of hout nie. Die ganse kosmos is sy tempel, en elke blad wat ritsel, elke ster wat skyn, nooi ons om saam te sing: ‘Aan U, o Here, kom al die eer toe.’”               AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

‘n Nuwe Hart in Plaas van ‘n Gipsmasker

SKRIFLESING: Efesiërs 2: 1 – 10 en Efesiërs 4: 22 – 24

Dikwels sien jy plakkers met teksverse of kruise op mense se voertuie.

Sommige eienaars doen dit dat die Here die kar sal beskerm. Maar dan is dit soms juis hulle wat uiters onverskillig ry. Of besighede is vol teksverse geplak en dan is dit dikwels juis hulle wat hulle kliënte uitbuit. Of dit gebeur dat mense hulle Facebook-profiel beplak met teksverse en mooi gedagtes, maar die leser weet dié persoon se lewe is alles behalwe Christelik. Of mense hang kettings met kruisies om hulle hals, maar hulle is vloekende matrose. Of iemand gooi teksverse rond en loop met die Bybel onder die arm, maar knyp die kat in die donker.

Die verandering waarvan ons skrifgedeelte praat, gaan nie oor motorplakkers, Facebook-plasings, kruisies of teksverse nie. Die verandering waarvan ons skrifgedeelte praat, is ’n grondige verandering van jou gedagtes, hartsingesteldheid, motiewe en lewe. Dit is totaal en al lewensveranderend. Paulus praat van iemand wat dood was in sy sonde, maar deur Christus lewend gemaak is.

Dood in die sonde beteken om met ’n gipsmasker te leef, asof jy ’n Christen is. Jy maak of jy ’n Christen is. Jy gee voor dat jy ’n Christen is. Jy speel die rol van ’n Christen, maar diep in jou hart lewe jy nog onbekeerd, in liefde vir die sonde. Dan leef jy skynheilig agter jou masker. KI vertel ons die volgende oor maskers: “Vir vroeë Christene en filosowe het die masker ’n beeld geword van menslike bestaan self – ’n ‘persona’ (Latyn vir “masker”) waaragter ons innerlike mens soms skuil.”

Die groot sendingkundige, Herman Bavinck het dit met ’n treffende beeld verduidelik. Sommige mense dink as God jou red, jy net so ’n sakdoekbreedte van jou lewe vir God hoef te gee. Dan gebruik hy die beeld van die seilvaarder wat in die bries van die seewind met sy sakdoek probeer om die seiljag aan die beweeg te kry. Natuurlik is dit nutteloos. Hy moet al die seile van die seiljag hys, sodat die seewind hom op volle sterkte kan meevoer. So gee ons dikwels vir God ook net ’n sakdoekbreedte van ons lewe om te verander. Die Here moet my verander, maar Hy moet net nie my hele lewe verander nie. 

Efesiërs 2: 1 – 10 roep ons op om te sterwe in die sonde en met Christus op te staan in ’n nuwe lewe. Jy kan net dood of lewend in Christus wees. Daar is iets soos skynlewe of skyndood, waar iemand skynheilig voorgee dat hy / sy Christus aangeneem het. Christus wek ons egter op tot ’n radikale nuwe opstandingsgeloof. Daarom kan ons nie oor sulke dinge skynheilig wees nie. Skynheilig beteken om voor te gee dat God jou in Christus verlos het, maar jy lewe nog die ou lewe sonder Christus. Dit beteken eintlik dan jy leef agter ’n masker, wat voorgee.

Ek kan nie ’n straatengel en ’n huisduiwel wees nie. Die ware opstandingsgeloof ken die gemeenskap van gelowiges in die erediens, ken ’n voorbeeldige lewe soos Mat 23:23 beskryf met geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Ware geloof word nie op die straathoeke uitgebasuin nie, maar in die binnekamer geleef. Dit word uitgeleef teenoor my medemens, waar niemand kan sien nie.

Hierdie egte geloof word net deur Christus bewerkstelling. In Numeri 21: 4 – 9 lees ons hoedat die volk in die woestyn gemurmureer het teen God en Moses  oor alles wat hulle gepla het.

God het toe honderde slange in die laer ingestuur en die Israeliete het die een na die ander gesterf. Toe pleit die volk by Moses om vir hulle voorspraak by die Here te maak. Moses moes toe ’n koperslang op ’n paal aanbring. Almal wat gepik is en gelowig na die koperslang op die paal gekyk het, is gered en het gesond geword. Diegene wat nie geglo het in die koperslang nie, het almal gesterf. Dit was as’t ware ’n vooruitwysing na Christus wat ook op ’n paal verhoog sou word. Almal wat na Christus kyk vir genesing sal gered word van die sonde en lewendig in Christus word. Maar almal wat nie glo in Christus nie, sal die ewige dood sterf.

Beide verhale roep ons op om nie in onsself die verlossing te soek nie, maar na buite, waar God voorsiening maak. Christus is egter die volmaakte verlosser. Die koperslang moes later vernietig word volgens 2 Kon. 18:4, omdat mense aangehou het om dit te aanbid.  Christus alleen bly die middelpunt van ons aanbidding. Net die kruis kan die “gif” van sonde neutraliseer en vir ons die ewige lewe gee.

Wat belangrik is in vers 8 en 9 is dat Christus hierdie verlossingswerk uit genade gedoen het. Dit is nie ek wat vir Christus gekies het nie, maar Christus wat vir my gekies het. Hy het my ten volle losgekoop vanuit my sonde en my in ’n nuwe lewe geplaas. Daarom kan ek nie skynheilig, agter maskers lewe nie.

Hoor wat sê Efesiërs 2:10 : Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.

Jesus het die “goeie werk wat God voorberei het”, vir ons gegee om te doen en daarvolgens te lewe.

Goeie werke wat uit onsself kom is skynheilig. Maar “goeie werke wat God voorberei het”, kan nooit skynheilig wees nie, maar is egte en ware Godsdiens.

Die Romeinse Ryk het aanspraak daarop gemaak dat hulle wêreldwye vrede tot stand gebring het, die sogenaamde Pax Romana. In Efesiërs 2 word dit weerspreek, wanneer die keiser nie langer vereer word as die een wat vrede bring nie. In die goeie nuwe bestel het niemand rede tot roem nie (2: 9), ook nie die keiser nie. Jesus is die kosmiese vredemaker (soos in Kol 1) wat op ongekende skaal vrede bewerkstellig. Net Jesus Christus kan werklike vrede gee.

Tussen twee lande is daar gewoonlik ’n niemandsland, wat nie aan enige van die twee lande behoort nie. Dit is neutrale grondgebied. Tussen die dood en die lewe, tussen die bose en Christus is daar nie ’n niemandsland of neutrale grondgebied nie. Jy is dood of lewend. Jy is in Christus of jy is buite Christus. Jy kan nie in “niemandsland” met ’n skynheilige masker leef nie.

So baie van ons probeer op neutrale grond staan. Met die een voet in die bose en een voet in Christus. Ons wil die beste van twee wêrelde hê. Ons wil die voordele van Christus ervaar, maar ook die genietinge van die sondige wêreld.  Dan is ons oneg. Dan is ons skynheilig.  Ons kan nie twee base dien nie,  Daarom roep Efesiërs 2 ons op tot ’n radikale keuse vir Christus.

Hierdie radikale keuse impliseer ’n hartsverandering. Ek moet met ’n nuwe hart, nuut kyk na mense en alles rondom my.

Een teoloog het gesê dat die wêreld meer dikwels die kerk invloei. ’n Wêreldse gees pak die  kerk. Die kerk moet eerder die wêreld inspoel en die wêreld verander en transformeer.

’n Diamant is eg. So eg dat jy dit nie kan breek met gewone gereedskap nie. ’n Stuk glas wat soos ’n diamant lyk, kraak onder die geringste hamerslag. Jou egtheid as lewend in Jesus (met ’n nuwe Christus-hart) sal in die harde slae wat die lewe jou toedien, getoets word.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Waar selfsug lei, volg blindheid

SKRIFLESING: Gen 13: 1 – 18

Selfsug is die penwortel van alle sondes. Dit is seker die oudste sonde van al die sondes. Dit het reeds begin by Adam en Eva in die Paradys. (Hulle wou soos God wees. Dus het hulle net aan hulleself gedink.)

In ons gelese gedeelte sien ons hoedat Abram en Lot in ’n situasie beland waar hulle gedwing word om te kies om óf selfsugtig óf onselfsugtig op te tree. Maar waar het dit begin? Dit het begin waar baie probleme so dikwels begin, naamlik by materialisme, besittings en rykdom.

In Gen 13: 2 en 5 word twee keer so half terloops vir ons gesê dat beide Abram en Lot in Egipte “baie ryk” geword  het aan vee, silwer en goud.

Nou is daar natuurlik aan die besit van stoflike dinge as sodanig niks verkeerd nie. Dit is gawes van die Here wat Hy in sy goedheid aan sy kinders uitdeel. Wilhelm Vischer, die Switserse teoloog sê dit mooi: “Ons God is die Here van hemel en aarde en alles behoort aan Hom – ook die goud en die silwer. Daarom moet ons dit nie snaaks vind as Hy in sy goedheid en genade soms sy kinders beskenk met ’n oorvloed van gawes nie. Hy kan dit bekostig!”

Maar nou leer lewenservaring ook ander lesse. In die praktyk is die saak van rykdom nie altyd so probleemloos nie. Die Bybel waarsku op ’n paar plekke dat besittings en goed die kiem van versoeking en verleiding bevat.

Iemand het gesê dit lyk byna of geld taai is, want dit het ’n manier om as jy eenmaal daaraan gevat het, aan jou te bly klou. Aardse goed het die neiging om te groei op ons, om al dieper in ons harte en lewens in te kruip totdat dit ons so vul, so vasvang dat dit God en ons naaste heeltemal uit ons lewens kan uitdruk. Dit is omtrent soos onkruid, wat so welig groei dat dit later die gras heeltemal verdring.

Ongelukkig is dit ook so dat geld mense heeltemal kan verander – hulle drome, hulle waardes, hulle diepste self. En eendag as jy weer jou oë uitvee, kom jy agter jy leef nie meer vir God en jou naaste nie, maar teen hulle.

Abram en Lot se rykdom het gemaak dat die land hulle nie meer kon dra nie en toe het daar twis en vyandskap ontstaan tussen die dienaars van Abram en Lot. Hulle veewagters het begin baklei oor genoeg weiding vir elkeen van hulle base.

Wanneer dit duidelik word dat die beste oplossing in die situasie sou wees dat die oom en nefie maar elkeen ’n eie stuk grond vir hulle boerdery kry, moes daar grond gekies word. Hulle gaan staan dan op ’n punt van waar hulle die hele omgewing kan oorskou: Wie vat nou watter stuk van die land?

’n Mens sal dink dat Abram, as senior vennoot, eerste moes kies. Maar Abram het sy les geleer. In teenstelling met Gen 12 sien ons Abram hier na vore tree as ’n merkwaardige voorbeeld van sagmoedigheid en onselfsugtigheid.

Ons lees in Genesis 13: 8 – 11:  “Abram sê toe vir Lot: ‘Laat daar tog nie stryd wees tussen my en jou, en tussen my veewagters en jou veewagters nie. Ons is immers broers.  Lê die hele land nie oop voor jou nie? Trek liewer van my weg. As jy links gaan, sal ek regs gaan; en as jy regs gaan, sal ek links gaan.’ Lot het rondgekyk en gesien dat daar in die hele Jordaanstreek volop water was. Voor die Here Sodom en Gomorra verdelg het, was dit soos die tuin van die Here, en soos Egipteland, in die rigting van Soar. Lot kies toe vir hom die hele Jordaanstreek. Lot het ooswaarts getrek, en so het hulle van mekaar geskei.”

Ons leer Abram hier ken as ’n mens vir vrede. Abram het tot elke prys, ook ten koste van homself, vrede gesoek. Hy was werklik ’n lewende monument vir vrede.

Hierdie verhaal wil hê dat ons dié geloofsvader sal onthou as ’n mens wat letterlik die maksimum gedoen het, selfs homself te kort doen om bloedvergieting en twis en oorlog te vermy. Dit sal ons ook moet onthou vir ons huwelike, ons gesinne, vir Suid-Afrika met sy brose volkereverhoudinge en vir ons werksplek.

Gaan ek selfsugtig my eie belange bevorder of gaan ek die beswil van die ander party soek? ’n Mens kan kortsigtig net vir jouself die beste soek, sonder om na die ander party se belange te kyk. Dit sien ’n mens in selfsugtige huweliksverhoudinge. Jy sien dit in die ekonomiese wêreld, waar mense vir hulself die beste deal kies, ten koste van die ander party.

In Suid-Afrika, kan ons as Afrikaners dalk vir onsself die beste gun, sonder om na die belange van ander nasies en kulture te kyk. (Het ons dit nie onder Apartheid so ideologies beoefen nie?) Of swart mense kan vir hulself die beste deel probeer kry, ten koste van ander volkere in Suid-Afrika. Of regeringsamptenare kan vir hulleself rykdom kies, selfs korrup wees, ten spyte van miljoene wat in armoede leef. Daarom leef ons in ’n skewe reënboogland, in ’n mislukte staat. Ons leef in ons eie “Sodom en Gomorra”, wat ons met ons eie selfsugtige keuses gekies het. Ons kies dikwels soos Lot vir onsself kortsigtig die beste, om later daaroor in verleentheid te staan.

Waarom het Abram so onselfsugtig opgetree? Omdat hy sy eintlike taak, naamlik “om tot seën vir die nasies te wees” onthou het. Hy moes ’n getuie vir God wees en ’n getuie van God se heilsplan met die wêreld. Sou hy onselfsugtig optree, kon hy dit verongeluk. Suid-Afrika het ook baie Christene. Sommige sê ongeveer 70%. Ons is bedoel om tot heil te wees vir Suider-Afrika en vir die hele Afrika.

Wat is die verskil tussen Abram en Lot? Lot het net die onmiddellike en die nabye raakgesien. Hy wou vir homself net die beste deel van die koek opeis. Abram het egter ’n geloofsoog gehad. Hy het wyer gekyk. Hy kon sien dat daar iets agter elke keuse lê, naamlik om tot heil vir die wêreld op te tree.

Kan ons nie ook maar elke dag onselfsugtig kies, tot heil van ons huwelike, tot heil van ons land, tot heil van ander volkere en mense nie? Kyk ek en u met ’n geloofsoog of met ’n tonnelvisie? Tonnelvisie vra altyd wat is vir my die beste? ’n Geloofsoog kyk altyd wyer na God se plan, na ’n geseënde toekoms en die heil van my medemens. Dan kan ek nooit verkeerd gaan nie.

Abraham se onselfsugtige keuse het vir hom loon gebring. God het vir hom gesorg. Toe Abraham so onselfsugtig optree, het hy God vertrou. Hy het geweet God sal vir hom sorg. Ek dink baie keer die rede waarom mense selfsugtig optree is doodeenvoudig omdat hulle God nie vertrou nie.

Wie op God vertrou kan menslikerwys “dom” kies, teen hulself en eie selfsugtige begeertes, omdat hulle weet dat God in die toekoms vir hulle sal sorg. Hulle vrees nie die toekoms nie, want hulle kies in die hede reg.

Lot se einde was minder  voorspoedig. Hy het gekies vir voorspoed. Hy het gaan bly teenaan Sodom. Hy het miskien gedink hy sal Sodom kan verander en toe verander Sodom vir hom. Sodom en Gomorra is later vernietig en Lot se vrou het ’n soutpilaar geword.

Calvyn sê hieroor dat Lot gedink het hy kies die hemel. Toe die Jordaanstreek soos die “tuin van Eden” gelyk het, … en toe eindig dit alles in die hel. As ons wil hê ons huwelike, gesinslewe en ons land moet in die hel eindig, moet ons so selfsugtig kies soos Lot.

Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê: “Good guys come second!” Dit lyk partykeer of dit waar is. In die korttermyn bring selfsug miskien voordeel, maar in die langtermyn bring dit nadeel. Dit kort ’n geloofsoog om agter die onmiddellike nou, vir God raak te sien. Selfsug maak jou blind vir die toekoms. Jy sien net jou onmiddellike finansiële voorspoed raak. Jy kan nie meer die lig van die waarheid raaksien nie. Jy is blind vir die lig van die toekoms. Wie kortstondig en selfsugtig dink, sal nie die lig raaksien nie.

In vers 13: 14 – 15 lees ons hoe die Here nadat Lot weg is en Abram beteuterd staan, vir Abram gesê het: “Die Here het egter, nadat Lot van hom af weggetrek het, vir Abram gesê: ‘Kyk rond! Kyk van die plek waar jy is, na die noorde, die suide, die ooste en die weste; want die hele land wat jy sien – aan jou gee Ek dit, en aan jou nageslag vir altyd.’ ”

Die Here Jesus sê mos: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Geseënd is die sagmoediges (soos Abram), want hulle sal die nuwe aarde ontvang.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Sekere foto’s is deur KI (Kunsmatige Intelligensie) geskep.

As beloftes breek, breek mense

SKRIFLESING: Genesis 17:7,  Jesaja 54:10,   2 Tim 2:13 en Mat 5:37

Waarom is ons land in chaos? Waarom is so baie huwelike en gesinne in ’n krisis? Waarom gaan dit so benard in die samelewing? Die antwoord is eenvoudig: Mense is lief om hulle beloftes te verbreek.

U sien,  u toekoms en die toekoms van u huwelik, die toekoms van u gesin, die toekoms van die samelewing en van hierdie land hang van beloftes af. Waar beloftes nagekom word, gaan dit goed. Waar beloftes gebreek word, tree daar chaos in.

Die vorige president van die land, Jacob Zuma, belowe in sy ampseed om die belange van sy land te beskerm. Dan bou hy vir homself ’n Nkandla en klim in die bed saam met die Guptas. Die huidige president van die land belowe mooi dinge vir die boere, maar draai sy woorde verlede week om, deur te sê dat die grondonteiening in Zimbabwe ’n goeie ding was. Ministers belowe in hulle ampsbeloftes om hulle departemente te bevorder, dan vlieg hulle besigheidsklas die wêreld vol en bly in die beste en duurste hotelle in die wêreld en “eet” hulle departemente se geld op. Studente onderteken ’n gedragskode wanneer hulle toegelaat word tot die Universiteit. Dan brand hulle Universiteitsgeboue af, en skep anargie en chaos. Dit kos weer vir die Universiteite miljoene rande om sekuriteit op te skerp. Daar bestaan nie iets soos studente-trots nie.

Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut.” Dit is ook so waar van ons land se geskiedenis. Richard Foster het gesê die drie hoof-afgode van ons tyd is seks, mag en geld. Dit beheer die hele samelewing.

Munisipaliteite belowe met die verkiesing ’n beter lewe vir al hulle kiesers. In plaas van dat die geld gaan vir infrastruktuur, word die soustrein net al hoe langer en dikker. As jy onbevoeg is, dan word ’n konsultant vir jou aangestel. Maatskappye belowe die beste waarborge en na-verkope diens. As jy dit nodig kry, is daar ’n klomp verskonings. Polisiemanne belowe om die samelewing te beskerm en dan word sommiges te dikwels self verbind met ondergrondse bedrywighede. Werknemers belowe om hulle beste werk te gee vir die werknemers, maar dit duur net ’n kort rukkie. Hoe sê die spreekwoord: “Nuwe besems vee skoon.” Werkgewers belowe die son en maan vir nuwe werknemers, om net later hulle werknemers te laat krepeer in ellende. Verkeerspolisiemanne belowe om die gemeenskap te dien, maar dikwels vind korrupsie onder hul geledere plaas; soos ook al hier op Adelaide gebeur het, ’n paar jare gelede, toe die verkeersgebou afgebrand is om bewysstukke te vernietig, voor die Valke die volgende oggend sou toesak.

Die Bybel wys vir ons die pyn en gevolge van gebroke beloftes. Jy kan maar die Bybel deurblaai. Omtrent op elke bladsy van die Bybel lees ons hoedat karakters in die Bybel God verlaat het, ontrou geword het en hulle beloftes vergeet het. Hulle lewe het soos glasskerwe seer en bloed veroorsaak, wat met erge menslike pyn gepaard gegaan het.

Egpare belowe trou aan mekaar, om net later egbreuk te pleeg en ander weivelde te soek. Of egpare skei, sonder om die spreekwoordelike sewe sakke sout saam op te eet.

Ouers lê doopbeloftes af, sonder om bekommerd te wees oor hulle kinders se geestelike heil. Die kinders word nie gereeld kerk toe geneem nie en die kategese word verwaarloos. Jongmense belowe met die openbare bevestiging van geloof dat hulle getroue lidmate sal wees van die kerk. So baie sien daarna selde die binnekant van ’n kerk. Wanneer ek moet help in die kerk, is ek dikwels vol verskonings of klagtes. Predikante kan dikwels hulle ampseed verwaarloos en nie optree as goeie herders vir hulle gemeente nie of begin afwyk van die belydenis van die kerk en enorme skade in die kerk aanrig. Ouderlinge en diakens kan hulle ampsbeloftes verwaarloos en van hulle beloftes van diensvaardigheid vergeet wat hulle voor die kansel afgelê het.

Die liturgiese ruimte is dikwels die plek waar die meeste beloftes van mense nooit waar word nie. Dit sluit in huweliksbeloftes, doopbeloftes, lidmaatbeloftes, ampsbeloftes en so kan ons aangaan.

Maar in die liturgiese ruimte staan ook die doopvont, wat die vaste teken en sekerheid van God simboliseer. Al word ons ontrou, God word nooit ontrou nie. God hou by Sy belofte van geslag tot geslag. God is nooit ’n beloftebreker nie. Maar dit herinner ons ook daaraan dat, selfs al breek mense hulle beloftes, God altyd getrou bly aan Sy beloftes. In 2 Timoteus 2:13 staan die volgende:  “As ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie.”

Ons wêreld val uitmekaar, omdat ons woord nie meer ons eer is nie. Ons is beloftebrekers. Daarom moet ons versigtig wees wat ons belowe, en bo alles leer om ons woord te hou – soos Jesus sê: “Laat julle ja ja wees en julle nee nee” (Matteus 5:37).

God is egter so gans anders. Wanneer God ’n belofte maak, is Hy ook die waarmaker van Sy beloftes. Hy het vir Abraham uit Ur van die Galdeërs geroep en belowe om vir hom ’n groot nageslag te gee. Op ’n onmoontlike ouderdom kry Abraham en Sarah ’n kindjie, Isak. Die seuntjie moes amper geoffer word, maar God het betyds ’n slagding voorsien. In Egipte het Abraham se nageslag so gegroei dat die Farao bang geword het, en begin het om die Israeliete te vervolg en die lewe vir hulle moeilik te maak.

Die teken van die verbond in die Ou Testament was die besnydenis. Dit was ’n teken dat die nageslag van Abraham ingesluit was, en is, in God se ewige verbond van liefde en versorging.

Die Here voorsien vir Moses en verskyn aan Moses, deur Homself voor te stel as Jahweh.

Hierdie vier-letter-konsonante woord beteken: Ek is wat ek is. “My Ja is my Ja, my beloftes kom Ek altyd na.” Die Here hou by sy belofte en red sy volk uit Egipte en lei hulle 40 jaar lank deur die woestyn op pad na die beloofde land. In elke beproewing, nood of tekortkoming het die Here voorsien. Hy belowe ’n Messias. Die Messias word geopenbaar in die persoon van Jesus Christus.

In Christus word ons almal kinders van Abraham.  So het God sy beloftes waar gemaak vir die hele wêreld. In ons doop (wat die besnydenis as verbondsteken vervang) word die belofte gemaak dat God altyd by ons sal wees en ’n Vader vir ons sal wees.

In Hom, die Christus, vind ons die totale en genoegsame verlossing. In ons elkeen se persoonlike lewe kan ons ook getuig van die vele kere wat God ons help in nood en ons daaglikse Vader is. Daarom is God die beste antwoord op ons lewe, want Hy hou Sy beloftes. Hoe anders sou die wêreld nie wees as ons iets van God se getrouheid in beloftes, ook in ons eie lewe sou waarmaak nie.

Met elke belofte wat ek nakom, maak ek die chaos in die samelewing minder. Met elke belofte wat ek verbreek, maak ek die chaos, die pyn en die hartseer in die samelewing groter.

Dank God dat Hy Sy beloftes hou. Dit beteken redding, die nuwe lewe en die ewige lewe vir my. Uit my doop kan ek vreugdevol lewe, want sien, God het belowe dat Hy my sal vashou en nooit sal los nie. Aan hierdie beloftes hang ek met my hele lewe.

Kom ons neem ons beloftes ook ernstig op en beskou dit as heilig. Dan sal iets van die nuwe hemel en die nuwe aarde nou alreeds begin sigbaar word in ons lewe.

Waar beloftes waargemaak word, vind daar eers werklike lewe en liefde plaas.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

 ERKENNING: Sekere foto’s is deur KI (Kunsmatige Intelligensie) geskep.

Monument vir ‘n gogga

SKRIFLESING:  Gen. 37: 21 – 36

Mense bou nie sommer monumente vir hul vyand of van ’n pes nie. Tog is die storie waar. Daar is in 1919 ’n monument opgerig vir ’n gogga in die dorp Enterprise, Coffee Country, Alabama. Die storie begin so.

Die “Boll weevil” (Anthonomus grandis) is oorspronklik van Mexiko, maar het in die 1890’s sy eerste verskyning in Amerika gemaak. Teen 1910 het dit begin om die katoenlande van Alabama te besmet en die oeste is afgevreet deur die goggas. Die pes het in enkele jare so ’n afmeting aangeneem dat dit onmoontlik was om langer met katoen te boer. Daar was ook ’n wêreldwye resessie en die Eerste-Wêreldoorlog het nadergekruip. Die katoenboere van Alabama was op hul knieë. Waarheen nou? Iemand het toe begin om grondboontjies te plant. Dit het gewerk. Meer boere het geplant en dit het gewerk. Binne ’n kort tydjie het grondboontjies die katoenlande ingeneem. Die mooi van die storie is dat die grondboontjies ’n baie groter winsgrens ingebring het as die katoen. In so ’n mate dat mense begin ryk word het uit  grondboontjies en grondboontjie-baronne geword het. Oud-President Jimmy Carter is ’n voorbeeld van so ’n grondboontjieboer. Die hele Alabama se aangesig het verander. Van ’n arm staat het Alabama verander in ’n welgestelde staat in die VSA.

En dit het alles begin met ’n gogga! Die mense van Alabama was so dankbaar vir die klein pes van ’n gogga, dat hulle vir hom ’n monument opgerig het in die dorp Enterprise in Alabama in 1919. Die gogga word deur ’n vrou in die lug gehou as teken van die welvaart wat die klein pes gebring het. Dit het inderdaad ekonomiese vryheid gebring vir tienduisende mense. Die onderskrif op die monument is as volg:

“In profound appreciation of the Boll Weevil and what it has done as the herald of prosperity this monument was erected by the citizens of Enterprise, Coffee County, Alabama.”

In ons elkeen se lewe is daar ook “goggas”, klein peste wat ons lewensvreugde steel en die sin in ons lewe bedreig. Teenspoed tref ons elkeen op ’n manier en dit lyk of ons hele lewe in duie stort. Soms word ons getroef met lewensbedreigende situasies. Die Heidelbergse Kategismus, wat bekend is in die Gereformeerde kerklike tradisie, bely egter so pragtig in Sondag 1, dat God alles, maar alles – die goeie en die slegte – laat meewerk tot ons beswil. Ja, dat God die kwade verander in die goeie. Die slegste wat my kan oorkom, kan God gebruik tot my uiterste beswil.

Onmiddellik dink ’n mens aan Josef in die Bybel. Sy pa het twaalf seuns gehad by vier vroue naamlik Lea, Ragel, Bilha en Silpa. Josef was die jongste. Josef was die eerste seun by Ragel, vir wie Jakob die liefste gehad het. Daarom het hy vir Josef sigbaar voorgetrek. Hy het vir hom ’n veelkleurige kleed gegee, waarop sy broers jaloers was, omdat hy spesiaal behandel is. Wat het Josef nie alles oorgekom nie! Sy broers wou hom doodmaak, en het hom in ’n put gegooi en toe later as ’n slaaf verkoop aan Potifar, wat ’n belangrike man in Egipte was. Hy het vir Potifar goed gedien.

Potifar se vrou het egter ’n seksuele begeerte gehad na Josef. Josef wou nie val vir die versoeking nie en het gevlug, maar is toe vals beskuldig deur Potifar se vrou, sou hy haar seksueel aangerand het.  Potifar  was woedend en Josef het onskuldig in die tronk beland. In die tronk het hy die bakker en die skinker van die paleis se drome uitgelê. Die bakker is toe tereggestel, soos Josef die droom uitgelê het, maar die skinker is weer aangestel aan die koninklike hof, soos Josef sy droom uitgelê het. Maar toe vergeet die skinker van Josef in die tronk. Eers toe Farao ook snaakse drome kry, onthou die skinker van Josef in die tronk en vertel vir Farao daarvan. Josef het voorspel dat daar sewe vet, voorspoedige jare gaan wees en daarna sewe jaar van erge misoeste, droogte en uiteindelik hongersnood. Josef is aangestel aan die regterhand van die Farao, om die destydse bekende wêreld van ’n sewejarige droogte te red. Baie later het sy pa en sy broers  kom hulp soek by hom en hy red die nageslag van Abraham, waaruit die Christus gebore sou word om as die Seun van God die wêreld van hul sonde te red.

Hoe mooi stel Josef dit nie in Gen 49: 20 nie: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.”

Miskien moet ons meer dankbaar wees vir die goggas en die peste en die teenspoed wat ons tref. Dikwels word dit ons voorspoed! Dit leer ons om uit ons gemaksones te dink en nuwe moontlikhede van groei te ontdek. In moeilike tye word ons gedwing om te besin oor ons lewe en dit dwing ons om nuwe deure vir die toekoms oop te sluit.

Dink aan al die wedervaringe waardeur Naomi en Rut gegaan het. Naomi het deur ’n erge droogte gegaan en daar in Moab het haar man en albei haar seuns gesterf. Met ’n ompad beland Naomi en haar skoondogter Rut weer in Bethlehem en toe het die storie weer so goed verloop dat Rut met haar losser Boas getrou het. Nou was Naomi op haar oudag versorg. Uit die huwelik van Boas en Rut is Obed gebore, wat een van die voorsate was in die geslagsregister van onse Here Jesus Christus.

Daar is ’n bekende spreekwoord wat lui: “Die Here maak die kromste lyne reguit – en soms lei Hy jou juis deur die draai,” en in Engels “The Lord makes the crooked lines straight – and sometimes He leads you right through the bend”.

Wanneer jy by die wanhoopsput van jou lewe sit, wanneer die lewe vir jou ’n kinkel in die kabel gee, wanneer jy deur die goggas van die lewe getreiter word, wanneer jy droogte in jou lewe ervaar, gebruik God juis daardie wanhoopsmomente om vir jou ’n beter toekoms te skenk.

Luister wat bely die Heidelbergse Kategismus:

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe  nie aan myself  nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed ten volle vir al my sondes betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar  my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Met ander woorde die goeie goed, maar ook die slegte goggas, die wanhoopsput of die kinkel in die kabel,  ALLES dien tot my wel wese. Al gebeur daar baie dinge in ons lewe wat nie die wil van God is nie, gebeur dit nooit sonder God se alwetendheid nie.  Omdat God daarvan weet, kan hy die kinkel weer reguit trek en dit tot my beswil laat dien.

Daar was die groot brand in Londen in 1666, wat groot dele van Londen in as en puin gelaat het. Duisende mense het hulle houthuise en geboue verloor. Op daardie stadium het hulle gedink hulle sal die stad nooit kan herstel nie.

Maar uit die as het nuwe hoop gekom. Die ou stad, eers gebou van hout, is toe herbou met klippe, stene,  breër strate en goeie straatbeplanning. Selfs die bekende St. Paul’s Cathedral, wat vernietig is, is herbou en staan vandag as ’n simbool van hoop en vasberadenheid. Wat eers ’n tragedie was, het gelei tot vernuwing, beter beplanning en ’n sterker stad.

Die Here kan ’n gogga gebruik. Die Here kan ’n kinkel in die kabel van jou lewe gebruik. Die Here kan jou lewe by die wanhoopsput van die lewe omkeer. Hy kan wat  nou krom is in jou lewe weer reguit maak. “Die Here maak jou pad reguit” herinner sterk aan Spreuke 3:6: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”

Die Here kan deur ’n gogga werk. ’n Kinkel in jou lewe kan deur die Here ontrafel word. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

ERKENNING: Sekere foto’s is deur KI (Kunsmatige Intelligensie) geskep of gerestoureer en ander kom uit historiese bronne.

Voorspoed-of kruis-Evangelie

SKRIFLESING: Filippense 2: 5 – 11

Die feestelike intog van Jesus op die rug van ’n donkie en die oopgooi van palmtakke en klere voor Jesus het plaasgevind ’n week voor die kruisiging. Die mense het met verwagting en vreugde die koms van Jesus in die vooruitsig gestel. Ongelukkig het hulle gedink dat Jesus vir hulle voorspoed gaan bring. Hulle het gedink Jesus ry Jerusalem binne om as koning en militêre aanvoerder die Romeinse bewind omvêr te gooi. Die Romeinse owerheid het die Jode verdruk en swaar belasting van hulle gehef. Hulle wou vrykom van die Romeinse oorheersing en weer ’n vrye Joodse staat wees. Toe dit later die week blyk dat Jesus nie vir hulle voorspoed gaan bring nie, het hulle voor Pilatus geskree: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” 

Die versoeking is altyd daar om Jesus te aanbid net vir die voordeel wat Hy bring. Ongelukkig is dit steeds waar van ’n groot deel van die Christendom. Mense volg Jesus vir die voordeel, maar is nie bereid om die kruis te dra nie. Jesus moet gesondheid gee, reën gee, probleme oplos, finansiële rykdom bring en nog ’n hele klomp ander goed vir my gee en doen. Ons noem dit voorspoedsteologie of welvaartsteologie. Hulle sê Christene is koningskinders en daarom moet hulle soos konings lewe. Siekte mag hulle nie tref nie. Hulle moet die beste motors ry, want God gee die beste vir sy kinders. God moet my grondgebied uitbrei. Godsdiens gaan net oor wat God my kan bied. Ja, ’n tipe wiegelied, om ons te sus, soos een predikant opgemerk het

As ons kyk na die definisie wat KI gee van welvaartsteologie word dit as volg aangehaal: “Voorspoedsteologie (dikwels ook genoem die prosperity gospel of health-and-wealth gospel) is ’n moderne teologiese beweging wat glo dat God se wil altyd is dat sy kinders gesond, ryk en suksesvol moet wees. Volgens hierdie siening is voorspoed (materieel en fisies) ’n teken van God se guns, en armoede of siekte word soms beskou as ’n gebrek aan geloof of gehoorsaamheid.”

Die Vader het nie Sy Seun gestuur om ons materieel ryk te maak nie. Hy het gekom om ons te verlos van die armoede waarin sonde ons gedompel het. Die welvaartsteologie gaan oor die eie EK wat gedien moet word. Daarteenoor staan die kruis-Evangelie, om die eie EK te kruisig en myself leeg te maak, sodat ek ander mense kan vol maak, deur my diensbaarheid. Ek moet nederig leer leef, net soos Jesus Christus Homself verneder het.

Jesus Christus self het ook niks besit nie. Hy het nie ’n huis, ’n beurs of ’n kussing besit nie. Ook het Hy nie ’n ryding besit nie. Hy moes ’n donkie leen om op Palmsondag Jerusalem binne te ry, op pad na sy kruisdood. Nooit het Jesus Christus beloof dat Hy ons finansieel ryk sal maak nie. Wie egter in Hom bly, sal Hy geestelik ryk maak, deur die werking van die Heilige Gees.

Maar voorspoed en welvaart bring twis, konflik en jaloesie. ’n Mens sien dit elke dag rondom jou. Dit verbreek die eensgesindheid tussen mense. Daarom het Jesus nie in die eerste plek gekom om vir ons welvaart of voorspoed te bring nie. Dan maak jy vir Jesus net ’n afgod wat jy rondskuif om jou eie belange te bevorder.

Jesus het nie gekom vir voorspoed nie, maar vir die kruis. Die “voorspoed-Evangelie” staan vir selfbelang. Die “kruis-Evangelie” staan vir selfopoffering.

Daarom roep Paulus ons in Filippense 2: 5 – 11 op  om dieselfde gesindheid te hê as Christus Jesus. Die King James-vertaling stel dit so mooi: Let this mind be in you, which was also in Christ.

Vers 7 beskryf dan Jesus se gesindheid. Hy het sy gestalte as God afgelê vir die gestalte van ’n slaaf. Die Griekse teks beskryf hierdie handeling as self-leegmaking of ontlediging. Die NIV sê  Jesus “made himself nothing” – en die King James-vertaling sê Jesus “made himself of no reputation”. Deur dié handeling het Jesus ook mensgelykvormig geword. Jesus het gelykvormig aan ’n slaaf en ’n mens geword.

In vers 8 word beskryf dat Jesus se selfvernedering, uit gehoorsaamheid, tot die dood toe bestaan het. Die manier waarop Jesus gesterf het, was teregstelling aan die kruis, die uiterste vorm van skande. Vir die eerste vier eeue was die kruis nie ’n Christelike simbool nie, want die kruis was ’n simbool van skande, waarmee die vroeë Christene hulle nie kon identifiseer nie.

In verse 9 en 10 word beskryf hoedat Jesus verhoog en verheerlik word, omdat Hy bereid was om die minste te wees en verneder te word.

 Ons skrifgedeelte  dien as antwoord op die innerlike verdeeldheid in die gemeente van Filippense. Dié gemeente, en ons almal, kort Christus se gesindheid (vers 5). Gemeentelede moet in nederigheid en selfontleding op mekaar ingestel wees, dan sal die eenheid en versoening gestalte kry in die gemeente en gemeenskap.

Ons leef in ’n wêreld wat voorspoed najaag ten alle koste, maar wat ook verwydering bring tussen mense, asook verontregting. Dit is interessant dat volgens die 2020 – 2022 statistieke van die inenting teen die Covid-19 virus, die rykste lande die verste gevorder het met inenting, in vergelyking met die armer lande. Party lande het al ’n voorraad inentings opgebou in koelkamers, sou hulle te veel hê, maar hulle het dit nie gedeel met die armer lande nie. Voorspoed kyk net na haarself.

Die wêreld word regeer deur ryk lande en geldmagnate. Geld laat die wêreld om sy as draai. Mense aanbid voorspoed. Hulle sal selfs godsdiens gebruik om hulle ryk te maak. As die pastoor eers ’n paar huise en baie duur voertuie en ’n straler-vliegtuig het en groot massas mense trek met sy of haar “goedvoel”-godsdiens, dan word dit ’n kultus wat mense insuig. Getalle blyk dan die status te wees van sukses. Later bepaal die kultus ook alles wat jy moet doen. Hulle weet alles van jou geldsake af en hulle besluit selfs ook met wie jy moet trou. 

Daar is die legende van Koning Midas. Koning Midas was jaloers op al die ander konings wat baie ryker as hy was. Eendag kom daar ’n feetjie na hom en vra wat sy wens is. Sy wens was natuurlik om ryker te wees as die ander konings. Die feetjie sê dit sou waar word. Die koning het hom nie veel daaraan gesteur nie. Die volgende môre toe die koning egter wakker word, het alles waaraan hy gevat het in goud verander. Sy bed was skielik van goud. Toe hy aan sy bedkassie raak, het dit ook skielik in goud verander. Soos die koning deur die paleis gestap en aan goed gevat het, het alles in goud verander. Aan die ontbyttafel was sy tafel, borde en eetgoed skielik van goud. Die koning het bly uitgeroep dat hy nou ryker was as al die konings  van die wêreld. Toe hy egter buitekant kom en op die grasperk loop om na sy geliefde roosbome te gaan kyk, het ook dit skielik in goud verander. Hy was tog so lief vir sy groen gras en vir die reuk van sy rose. Die goue rose het egter geen reuk gehad nie. Skielik het hy met ’n skok besef dat goud en rykdom nie alles is nie.  Toe sy geliefde dogter na hom aangehardloop kom om hom te omhels, het ook sy dogter in goud verander. Toe besef koning Midas sy ellende: Hy is skatryk, maar hy het nie meer sy groen gras, die reuk van sy roosbome en sy dogter nie. Koning Midas was tot die dood toe mismoedig.

Maar ’n “kruis-Evangelie” offer op. Dit  is selfontledigend en selfleegmakend. Dit is dienend. Dit bou verhoudinge. Dit is die minste. So kan ons van die wêreld ’n beter plek maak.

Ons wil ons ruimtes groter maak. Ons wil ons ruimtes vul met onsself. Jesus het egter in die ruimte gehang wat niemand wou vul nie.

Teenoor die voorspoed-Evangelie, staan die kruis-Evangelie. Die voorspoed-Evangelie neem spasie op. En dit wil meer spasie hê. Die kruis-Evangelie staan spasie af en maak vir ander mense ook plek. Dit is bereid om in ’n kleiner spasie in te skuif.

Wil jy jou spasie groter maak – dan beoefen jy voorspoedsteologie.

Wanneer jy bereid is om jou spasie kleiner te maak, ter wille van ander – beoefen jy die kruis-Evangelie.

Jesus Christus het nie aan die kruis gesterf vir ons voorspoed nie. Hy het aan die kruis gesterf om verhoudinge te herstel. Daarom moet ook ons erns maak met verhoudinge.                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort .)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

God beskik, maar die mens moet wik

SKRIFLESING: Rut 1 – 4

Die spreekwoord lui: “Die mens wik, maar God beskik.” Wik beteken om planne te maak. Beskik beteken dat God besluit hoe dinge gaan gebeur. Die spreekwoord sê dat ons maar kan planne maak soos ons wil, maar God neem die finale besluite.

Vanoggend wil ons hierdie woorde omdraai, deur te sê: “God beskik, maar die mens moet wik.” God beskik vir ons geleenthede, maar ons moet planne maak om daardie geleenthede te benut.

Maar wat sê die Bybel hieroor? Hoe moet ons dit hanteer? Ek lees in Rut 1 – 4 ook van ’n hongersnood, wat waarskynlik droogte as oorsaak gehad het. Die verhaal van Rut wil ek toepas op Suid-Afrika.

Dit is in kort ook die verhaal van Naomi in die boek Rut. Die boek Rut is meer die verhaal van Naomi as dié van Rut. Die storie gaan nie soseer oor hoe Rut ’n man gekry het nie, maar oor hoe Naomi op haar oudag versorg is; hoe God beskik het, maar Naomi gewik het.

Naomi se verhaal is ’n verhaal van swaarkry en lyding. Sy het ’n sukkelbestaan gevoer. Daarom verklaar sy: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, maar Mara, want die Almagtige het die lewe vir my bitter gemaak … Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.” Die woorde klink sommer baie bekend. Dikwels voel ons ook dat die lewe bitter geword het, so asof God teen ons gedraai het. Somtyds lyk die toekoms in die “nuwe Suid-Afrika” vir ons baie donker en uitsigloos. Teleurstellings is dikwels deel van ons lewe. Die lewe het vir ons sonder hoop geword.

So het Naomi ook gevoel. Sy is getroud met ’n sieklike man, Elimelek. Haar twee seuntjies Maglon en Kiljon is ewe sieklik. Maglon was nie baie sterk nie, soos sy naam aandui. Kiljon se naam beteken “maer/uitgeteer.” Naomi moes dus al vroeg in haar lewe leer om met siekte saam te leef. Toe kom die depressiejare en hulle boer uit op hulle stukkie grond daar buite Betlehem. Daar in Betlehem wat beteken “huis van brood”, het hulle broodsgebrek begin ly. Hulle vlug toe suidwaarts tot in die land van Moab. Tussen die Moabiete het hulle gaan woon. Die Israeliete het neergesien op die Moabiete omdat die Moabiete ontstaan het uit die bloedskande wat Lot met sy eie dogter gepleeg het. Daar tussen die uitgeworpenes moes hulle gaan bly.

Toe sterf Elimelek en Naomi word ’n enkelouer en met twee seuntjies agtergelaat. Met groot moeite maak sy hulle groot. Uiteindelik het Maglon en Kiljon met Orpa en Rut, twee Moabitiese meisies getrou. Nog voordat hulle kinders kon hê, sterf Maglon en Kiljon. Naomi hoor toe dat dit beter gaan in Juda en besluit om terug te trek na Betlehem. Orpa het teruggedraai, maar Rut het saamgegaan.

Toe Naomi en Rut daar in Betlehem opdaag, was hulle lewens by ’n doodloopstraat. Die lewe was uitsigloos. Hulle kom in Betlehem aan, sonder ’n sent. Naomi en Rut het waarskynlik gevoel dat hulle gekom het aan die einde van alle hoop. Naomi het verskillende opsies gehad. Sy kon soos verskeie boemelaars op parkbankies haarself oorgee aan drank. Of sy kon haar skoondogter uitstuur om ’n prostituut te word. Naomi sou wel op een of ander manier van die wêreld kon afklim.

In Naomi se doodloopstraat, beskik God vir haar ’n uitweg. Hierdie uitweg se naam was Boas. God het dit beskik dat Rut juis are opgetel het op Boas se land. Boas was ’n vermoënde familielid aan Naomi se oorlede man se kant. In die Israelitiese familiereg was dit gebruiklik dat die naaste familielid die verantwoordelikheid het om as losser op te tree vir die betrokke weduwee. Die losser moes met die weduwee trou sodat sy finansieel versorg sou wees en daar ook ’n nageslag verseker kon word vir die oorledene.

Boas was die tweede naaste bloedverwant. Hul naaste bloedverwant sou nie sommer met Rut trou nie, want as daar kinders gebore sou word uit die huwelik, sou dit sy eie seuns se erfdeel in die gedrang bring. Boas was egter ongetroud en in sy middeljare en hy het finansieel vooruit geboer. Boas was dus hul enigste hoop.

Die probleem was egter dat hoewel Boas doodgoed was, hy ook “goed dood” was! Daarom het hy nooit tot trou gekom nie. Hy het doodeenvoudig net nie belanggestel om te trou nie.

Hy het haar raakgesien daar op sy lande waar sy are opgetel het. Hoewel sy mooi en jonk was, het hy haar as ’n “dogter” gesien. In ’n latere gesprek prys hy haar as “my dogter … wat agter geen man, arm of ryk aanloop nie.” Miskien het hy tog iets vir haar gevoel, want hy gee sy snyers opdrag om ekstra are op die land agter te laat. Hy verbied ook sy werkers om haar seksueel te teister, daarom sê hy vir sy werkers om “haar nie lastig te val nie.” Hy reël ook vir haar kos daar op die lande.

Dit is duidelik dat Boas iets meer vir Rut gevoel het as respek en vriendskap. Tog neem hy geen verdere inisiatief nie. Hy was inderdaad doodgoed, maar ook goed dood. So gaan die oesseisoen verby en Boas neem geen inisiatief nie. Die ervare Naomi besef Boas het ’n bietjie aanmoediging nodig.

 Sy weet God het vir Boas as losser beskik volgens die Israelitiese familiereg, maar nou moes sy wik en iets doen om Boas en Rut bymekaar uit te bring. Sy weet God het beskik, maar nou moes sy wik.

Daarom gee sy vir Rut die volgende opdrag. Rut moet ’n lekker bad neem, haarself mooi maak, grimeer, parfuum aansit en haar mooiste klere aantrek. Dan moes sy gaan wegkruip by die dorsvloer, want Boas sou die aand daar gaan slaap het, om sy oes op te pas. Sy moes wag totdat Boas klaar geëet het en klaar gedrink het. Die wyn sou sy weerstand verder verlaag.

Dan moes sy by Boas se voete gaan lê en wanneer hy in die nag van haar bewus word, moes sy hom konfronteer met haar reg dat hy vir haar as losser moes optree. As’t ware moes sy vir hom die ja-woord vra. In Hebreeus beteken om by ’n man se voete te lê, dat die vrou “verleidend uitlokkend” by die man lê. Hierdie handeling maak nie van Rut ’n goedkoop meisie, wat net agter Boas se geld is nie. Nee, sy eis net haar reg volgens Israelitiese familiereg.

Boas word wakker van die sagtheid langs hom, hy ruik die parfuum en in die donker vra hy vir haar wie sy is. Sy vra toe sommer dadelik ook die ja-woord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser, neem my nou onder u beskerming.”

Die sagtheid van Rut, haar parfuum, sy respek vir haar, haar brose afhanklikheid, die wyn, sy gewete, alles word skielik net te veel vir Boas. Dan tree Boas soos ’n ware heer op. Hy belowe om met haar te trou en vir haar as losser op te tree. Hy beveel ook sommer vir Rut om by hom te lê tot die volgende oggend.

Die volgende oggend is Boas ’n nuwe mens. Hy wat eers goed dood was, wik nou vir die vale, want hy is smoorverlief. Daar is egter een probleem. Die naaste familielid het die eerste reg om as losser op te tree. Hy is die tweede naaste familielid. Daarom konfronteer Boas die man in die stadspoort voor die oudstes as getuies met ’n tweeledige vraag: “Is jy bereid om Elimelek se stukkie grond by Naomi te koop?” Die man antwoord dadelik “Ja!”, want hy sien rand en sent. Met die tweede vraag stel Boas vir die familielid ’n strikvraag: “Is jy bereid om ook met Rut te trou, sodat die grond in die familie kan bly?” Dit sou beteken as Rut kinders kry, sou die grond terug na haar kinders gaan. Daarvoor sien die man nie kans nie. Wat sou dit vir hom beteken om die grond te koop en later weer daarvan afstand te doen? Sy antwoord is ’n duidelike “Nee!”.  

Daarom het hy sy sandaal uitgetrek en vir Boas gegee.  Die betekenis van die handeling  word as volg verduidelik met KI: “Met ander woorde, wanneer iemand ’n reg (byvoorbeeld die lossersreg of erfreg) aan iemand anders oorgegee het, het hy dit simbolies aangedui deur sy sandaal uit te trek en dit vir die ander persoon te gee. Dit was soos ’n handtekening of ’n stempel vandag – ’n openbare bevestiging dat die transaksie wettig en geldig is.”

Nou is die knoop vir die huwelik deurgehaak. Boas trou met Rut. Nou is Naomi ook op haar oudag versorg en beklee sy haar regmatige status in die gemeenskap. Uit die huwelik is gebore Obed, die oupa van Dawid. Obed kom dus ook voor in die geslagsregister van Jesus Christus.

Die bitter storie van Naomi het verander in ’n sprokie. Haar bitterheid het in vreugde verander. Dit het gebeur omdat Naomi die geleenthede wat God vir haar gegee het, raakgesien het. Sy het geweet God beskik, maar sy moes wik. God het Boas en die Israelitiese familiereg beskik in haar guns, maar sy moes wik met die kanse wat God vir haar gee.

Daar is vandag so baie mense wat geleenthede by hulle laat verbygaan. Hulle sal liewer op ’n hopie gaan sit en hulle lot bekla. Ons leef in ’n veranderde samelewing met nuwe eise en nuwe bedreiginge. Maar sien u ook die geleenthede raak wat God beskik; gebruik u u geleenthede tot u beswil?

God maak nie van ons robotte nie. Nee, God het ons as mense geskape wat elke dag moet wik en weeg, en beplan. As dinge verkeerd loop in my lewe, moet ek God nie blameer nie. Ek moet myself eerder die vraag afvra: Het ek die geleenthede wat God vir my beskik het, reg gebruik? Geliefdes, word positief, sien soos Naomi die geleenthede raak wat God vir u en my beskik.

Ons moet nie net bid dat die Here sal beskik nie; die Here wil ook hê ons moet wik. Ons lewe in ’n tyd van planne maak.

Ek hoor onlangs van ’n boer wat sy boorde in plaas van met vloed-besproeiing, met druppel-besproeiing natlei. Hy spaar twee derdes water met die verandering in sy watervoorsiening. In die antieke wêreld het hulle in die woestyne tentdoeke gespan wat in ’n spiraal water aflei na ’n watertenk. Selfs net die nag se dou was genoeg vir die volgende dag se watergebruik. Planne is gemaak.

Daarom is die uitdaging vir Suid-Afrika se inwoners om net soos wat Naomi gewik het, om vir haar en Rut ’n toekoms te verseker, ook te wik met nuwe planne om in hierdie skewe reënboogland vir ons ’n toekoms te skep. Dit word al meer uitdagend om te boer. Dit word vandag al meer uitdagend om te oorleef in ons dorpe en stede. Dorpe en stede word al hoe gevaarliker. Hoë munisipale belasting, watertariewe en krag maak dat mense sukkel om te oorleef. Werksgeleenthede word al hoe skaarser. Daarom moet ons planne maak om al minder van die politici en die mislukte staat afhanklik te wees en ons eie toekoms te skep in hierdie land.

’n Student wat nie sy studies ernstig opneem nie, moenie dink dat gebed alleen hom of haar sal help nie. Om te bid dat die Here jou op die pad moet beskerm, maar jy ry onverskillig, sal nie help nie.

Om hard te werk in jou boerdery, maar gebed is nie deel van jou daaglikse godsdiensoefening nie, moet jy ook nie verwag dat jy geseënd sal wees nie. Iemand het gesê: Bid asof alles van God afhanklik is en werk asof alles van jou afhanklik is. Die twee gaan saam.

Ons moet wik, God sal beskik. Wik en weeg en beplan en bou u toekoms. Voorwaar: God beskik, ons moet wik. Ons moet wik en weeg met die geleenthede wat God elke dag vir ons gee. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, preke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD in aanhalingstekens gekwoteer. Die foto’s is almal deur KI geskep.

In Jesus se dood ingekerf

SKRIFLESING: Johannes 12: 20 – 36

Ons woordeskat en Jesus se woordeskat is nie dieselfde nie. Wanneer ons praat van verhoging en verheerliking, dink ons aan ’n Olimpiese atleet of suksesvolle student of ’n persoon wat ’n besondere prestasie vermag het. So ’n persoon word verhoog op ’n podium of word verheerlik in die koerante en tydskrifte. So ’n persoon ontvang spesiale eer en vermelding.

Wanneer die apostel Johannes van Jesus se verhoging en verheerliking skryf, bedoel hy die verhoging van Jesus aan die kruishout en die verheerliking om as Seun van God aan ’n kruis te sterf.

Aanvanklik het Jesus in Sy vroeë bediening aangekondig dat Sy tyd nog nie gekom het nie. Maar nadat Lasarus uit die dood opgewek is, het die mense daaroor gepraat en agter Hom begin aanloop. In vers 19 het selfs die Fariseërs gesê  hulle rig niks uit nie, want die hele wêreld loop agter Jesus aan. In vers 20 lees ons dat ook die Grieke agter Jesus begin aanloop het.

In ons gelese gedeelte sê Jesus in vers 23: “Die uur het gekom dat die Seun van die Mens verheerlik moet word.” Wat het gebeur dat die situasie verander en die aangewese tyd nou hier is? Die koms van die Grieke maak dat Jesus sê die tyd het nou gekom. Die tyd het gekom omdat die “hele wêreld” nou na Jesus toe kom. Dit wat reeds in Joh. 1: 9 aangekondig is, naamlik dat die ware lig elke mens verlig, is met die koms van die Grieke aan die gebeur.

Daarom het die tyd gekom dat Jesus verhoog en verheerlik word. Maar hierdie “verhoog” word beteken om aan ’n kruis verhoog te word en hierdie “verheerliking” beteken om gekruisig te word.  Johannes 3: 13 – 15 lees as volg: En niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, dit is die Seun van die Mens. En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.

Dan gebruik Jesus die beeld in vers 24 van ’n koringkorrel wat in die grond val en ’n groot oes inbring. Een koringkorrel sterf om baie koringkorrels te lewer. Daarom is Jesus verheerlik, om die voorreg te hê om te sterf as enkeling en vir die hele wêreld verlossing te bring. Een sterf om baie te red.

Net Jesus se sterwe kan verlossing van sonde bring. Maar Jesus wil nie alleen sterf nie. Hy nooi ons in vers 25 om saam met Hom te sterf. Daarmee bedoel Jesus dat ’n mens aan jouself moet sterf. Jy moet sterf aan jou eie ego,  jou eie trots, jou sonde en selfverheffing. Want deur te sterf aan jouself, sal jy die lewe behou en ook die ewige lewe ontvang. Dan sal jy ’n dienaar van die Vader wees. Dan sal jy ’n dissipel van die Here wees.

Die meeste mense se lewe is soos die seepbelle wat deur kinders geblaas word. Seepborrels wat pragtig opstyg, met verskillende kleure en groottes en vorms. Almal bewonder dit en sê dit is pragtig. Maar dit kom tot niks nie. So styg mense se lewe en ego op in seepbelle tot aanskoue van baie, maar dit bars,  tot niks. Dit het geen betekenis vir iemand nie, behalwe plesier.

Maar die seepborrels van Sunlight Liquid is nie gemaak om plesier te verskaf of vir die mooi wees daarvan nie. Wie hou nou van skottelgoed was? Maar dit maak borde en koppies, en messe en vurke skoon. As jy klaar gewas het, is daar geen seepborrels oor nie, maar die vuil skottelgoed is skoon. Die borrels het gesterf en ’n groot oes nagelaat. Al die skottelgoed is skoon.

So moet ons ook soos die seepborrels van Sunlight Liquid sterf, diensbaar wees en ’n verskil maak in ander mense se lewens. Wie leef vir die prag en praal soos kinders wat seepbelle blaas, is nie diensbaar nie en hulle lewens het geen betekenis vir ander nie.

Die Here wil nie alleen sterf nie. Ons moet as’t ware in Jesus se dood ingekerf word. Soos Jesus aan die kruis gesterf het, wil Hy hê ons moet aan onsself sterf.

Jy moet in jou huwelik sterf, sodat jy kan leer om onderdanig te wees aan jou lewensmaat. Jy moet in jou verhoudings met ander mense sterf, sodat jy  diensbaar aan ander mense kan wees. Jy moet sterf in jou alledaagse arbeid, deur van die wêreld ’n beter plek te maak. Jy moet  ook sterf aan jou sonde, sodat jy ’n nuwe mens kan word.

Waar kom al die geweld, spoggerigheid van mense, onmin, twis, hoogmoed, vyandskap, en tweedrag tussen mense vandaan? Ons wil nie aan onsself sterf nie. Ons wil nie van ons trots sterf nie.

Die Here wil nie alleen sterf nie. Ons moet saam met Hom sterf. In een hoofstuk verder, in Johannes 13, lees ons hoedat Jesus sy dissipels se voete was. Hulle was vol van hulleself en het baklei oor ere-posisies, oor wie gaan aan die Here se regterkant en wie gaan aan sy linkerkant sit. Wie gaan hulle voete was? Daar was geen sprake dat hulle aan hulself gaan sterf nie. Hulle het ook nie verstaan dat Jesus vir hulle gaan sterf nie. Dan was die Here Jesus al die dissipels se voete as simbool dat Hy sy lewe gaan neerlê en gaan sterf vir hulle. Dan sê die Here Jesus in Johannes 13: 14 dat soos Jesus die dissipels se voete gewas het, behoort hulle ook aan mekaar te doen. So behoort hulle ook vir mekaar te sterf.

In Joh. 13: 38 vra die Here Jesus vir Simon Petrus: “Sal jy jou lewe vir my aflê?” Dan weet ons hoedat Simon Petrus die Here drie keer verloën het voor die haan gekraai het.

Hoe is ons nie ook dikwels onwillig om aan ons sonde te sterf nie. Die sterkste verband vind ons in die Heidelbergse Kategismus,  Sondag 33, vrae en antwoorde 88–90.

  • Vraag 88: “Watter is die ware bekering van die mens?”
    Antwoord: “Dit is die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens.”
  • Vraag 89: “Wat is die afsterwe van die ou mens?”
    Antwoord: “Dit is ’n hartseer oor die sonde dat ons dit hoe langer hoe meer haat en daarvan wegvlug.”
  • Vraag 90: “Wat is die opstanding van die nuwe mens?”
    Antwoord: “Dit is ’n vreugde in God deur Christus en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.”

Ons maak te min van bekering in ons geestelike lewe. Ons volg die Here dikwels net vir Sy geestelike gawes en wat ons van God kan ontvang.

Bekering (metanoia –  μετάνοια) is ’n radikale omkeer van jou hele innerlike lewe – denke, gesindheid, wil en gedrag – weg van sonde en na God toe. Dit sluit in hartseer oor sonde, maar ook ’n nuwe rigting en gehoorsaamheid aan God. Jy moet in Jesus se dood ingekerf word. Jy word solidêr een met die kruisdood van Jesus – jy moet in jouself ook sterf, sodat die Gees die Geestesgawes van Gal 5 werklikheid kan maak in jou lewe.

Om Jesus Christus radikaal met jou hele hart te volg, moet jy bereid wees om aan jouself te sterf. Die Here wil nie alleen sterf nie. Jy moet ook aan jouself sterf, om heeltemal een met Jesus Christus te wees. Jy moet ingekerf wees in die soendood van Jesus Christus aan die kruis.                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geseënd is hulle wat uit die hand van God leef

SKRIFLESING: Mat 5: 3 en Luk 12: 13 – 21

Geluk begin by afhanklikheid. My gelukkigste tye was toe ek ’n kind en student was. Ek het in ’n gewone middelklas ouerhuis grootgeword. My ouers het vir alles gesorg. Ek was nie besorgd oor rekeninge of om kos of klere te koop nie. Omdat ’n kind ten volle afhanklik is, hoef jy jou oor niks te bekommer nie. In my sewe studente-jare het die kerk vir my verskillende beurse gegee en vir die res het my ouers gesorg. Toe ek negentien maande diensplig doen as kapelaan het die Weermag vir my vir alles gesorg. Ek het vir 27 jaar sorgvry geleef. Ek het uit die hand van my ouers en uit die kerk se beurse geleef. 

Maar in daardie 27 sorgvrye jare begeer jy om onafhanklik te word, om volwasse te wees en vir jouself te sorg en jou eie besluite te neem. Almal soek geluk.

Die meeste mense dink ’n mens is gelukkig as jy selfstandig en onafhanklik is. Daarom begeer mense om op hul eie bene te staan, ’n eie huis te besit, om ’n eie motor te hê en om niemand in die oë hoef te kyk nie. Mense wil in beheer van hulle lewe wees en self kan beplan wat hulle van die lewe wil hê. Die hele bemarkingsbedryf is daarop ingestel om aan jou goed te verkoop om jou onafhanklik te maak. Van banke tot motors, geriefsartikels en wie weet wat nog alles word adverteer om jou onafhanklik te maak of ten minste onafhanklik te laat voel. Kinders wil groot wees, tieners droom van selfstandigheid, jongmense soek daarna, grootmense werk hulle dood om selfstandig te wees en oumense vrees die dag as hulle hulle afhanklikheid gaan verloor.

Maar dan tree jy in die huwelik en begin werk.  Dan kry jy kinders. Skielik is daar bekommernisse. Daar is skielik rekeninge en goed wat betaal moet word; goed breek en jy moet dit herstel. Om kinders groot te maak is ’n groot verantwoordelikheid en gaan met groot koste gepaard. Kinders word siek en jy bekommer jou elke dag oor die welstand van jou kinders. Kinders moet skoolgaan. Om ’n kind op skool te hê, kos baie geld. Jou kinders moet universiteit toe gaan. Waar gaan jy die geld kry vir hulle duur en lang studies? Selfs as jou kinders groot en volwasse is, bekommer jy jou nog steeds oor jou kinders se welstand.

Dan is dit nie meer so lekker om onafhanklik te wees nie. Dan verlang jy terug na die jare toe jy afhanklik van jou ouers was. Om volwasse en onafhanklik te wees, bring sorge.

Is u gelukkig? Ken u geluk? Waar sal u vir uself op ’n skaal van 1 tot 10 plaas? Ons glo vas dat hoe beter ’n mens in staat is om self die gang van jou lewe te beheer, hoe beter is jou kanse op geluk. Mense wil selfs onafhanklik van God en Sy Woord lewe. Daarom is die geestelike lewe van baie lidmate ook so swak. Hulle het God nie nodig nie. Dan word God maar net ’n nood-valskerm wat jy gebruik as jy Hom nodig het. God word ’n spaarwiel, as iets verkeerd loop in jou lewe. Daarom is daar mos die spreuk: Nood leer bid.

Daarom is dit harde woorde van Jesus, wanneer Hy sê dat ons ons strewe na onafhanklikheid moet afsweer. Want sien, suksesvol beteken vir ons om van niemand afhanklik te hoef te wees nie.

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ’n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk  bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ’n sandkasteel wegspoel met hooggety.

Dan lees ons hierdie vreemde woorde in Mat 5: 3, wat lui: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel.” Vreemde woorde! Maar agter die woorde moet ons die Here Jesus Christus sien staan. ’n Geseënde lewe begin die dag as ’n mens besef dat jy God nodig het en nie sonder Hom kan leef nie. Hierdie behoefte of afhanklikheid is nie iets wat na ’n tyd oorgaan nie, maar met die verloop van tyd eerder sterker word.

’n Geseënde lewe begin met ’n diep afhanklikheid van die Here. ’n Geseënde dag begin met ’n diep afhanklikheid van die Here. Geluk begin by ’n heel spesifieke soort armoede.

Die Ou Vertaling het gepraat van dié wat arm van gees is. Dit is mense wat desperaat, moedeloos, radeloos en nie meer in beheer van hulle lewe is nie.  Die slegte nuus is dus dat radeloosheid allesbehalwe lekker mag wees, maar die goeie nuus is dat dit jou ’n kandidaat maak vir die vreemde geluk. Geloof is dus nie iets triomfantlik of bewonderenswaardig of rustig of vredevol nie. Dit is noodsaaklik! Dit gaan oor mense wat sukkel om reg te kom in die lewe.

Ons voel dikwels ons wil die Here onder meer positiewe omstandighede kies, sodat dit voorbeeldig en bewonderenswaardig mag wees. Maar die Here maak dit vir ons onmoontlik om te kies vir Hom. Ons hopeloosheid en radeloosheid dring ons na Hom toe.

God werk met bedelaars! God werk met nulpunt-mense, wat op die einde van hulle krag gekom het!

Die Here maak dit baie moeilik vir ons as Hy die saligheid by afhanklikheid laat begin, want dit druis in teen ons grein. Tieners droom van selfstandigheid. Jongmense soek selfstandigheid. Grootmense koop selfstandigheid. Ou mense is bevrees dat hulle hulle selfstandigheid kan verloor.

Die eerste saligspreking begin met “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is”. Eintlik is die eerste saligspreking die belangrikste. Afhanklikheid is waar saligheid begin. Geluk begin by ’n heel spesifieke soort armoede, naamlik “die wat arm van gees is.” (1933/1953) Die armes van gees was die mense wat geweet het dat hulle God nodig het in hulle lewens, nodiger as enigiets anders. Dit is mense wat weet hulle moet uit die hand van God lewe.

Dirkie Smit skryf dat dit nie gaan oor ’n triomfantlike geloof, wat die bewondering van almal rondom afdwing nie. Daar is ook niks vredevol of rustig aan hierdie geloof nie.

Robert Guelich stel voor dat ons die “armes van gees” vertaal met “the desperate”. Eugene Peterson gebruik dit as mense wat “at the end of the rope” gekom het. Dit is mense wat sukkel om reg te kom in die lewe. Daar is by hulle ’n soort verleentheid, verslaendheid, en radeloosheid met hulself.  Radeloosheid is allesbehalwe lekker, maar die goeie nuus is dat dit jou ’n kandidaat maak van ’n vreemde geluk. 

God werk met nulpunt-mense. Mense wat niks meer van hulself verwag nie. God maak sulke mense die voorwerpe van Sy genade. Afhanklikes is ook mense wat weet dat hulle niks van God verdien nie. Daarom is die kerk vol bedelaarbanke, met bedelaars daarop. Alles is die goeie guns van God, ons verdien niks van God se ontfermende genade nie.

Daarom is die Saligsprekinge soos paradokse. Hulle vra die teenoorgestelde as wat die wêreld vra. Wanneer jy die paradoks leef om in jou gees van God afhanklik te wees, gee die Here vir jou ’n vreemde hemelse seën en geluk.

Om arm in die gees te word, beteken om afskeid te neem van trots. Dit is soos ’n stadspoort wat laag gebou is, sodat ’n kameel nie die stadspoort kan binne hardloop in ’n militêre aanval nie. Die kameel moet op sy knieë deur die stadspoort kruip, nadat sy vrag afgelaai is. So moet ons ook ontslae raak van menslike trots en afhanklik word, om die vreemde geluk van God te ontvang.

John MacArthur skryf: “You can’t be filled until you’re empty. You can’t be worthwhile until you’re worthless.”

Sal boeke soos: “How to Be Nothing? of “How to Be a Nobody?” verkoop? Nee! Dit is juis die paradoks van Jesus se Evangelie.

John MacArthur skryf: “Out of the carcass comes the honey. In our deadness we come alive,” na aanleiding van Simson wat die leeu doodgemaak het en uit die karkas het toe die heuning gekom. Uit dit wat doodgegaan het, kom die soet van heuning.

In die Bybel is daar baie paradokse van mense wat “dit nie sou gemaak het nie”, wat God kragtig gebruik het.

Die hakkelende Moses word die leier wat Israel uit Egipte laat trek het, die beloofde land binne. Verbeel jou – ’n staatsman van Moses se kaliber wat hakkel. Moses was intens van God afhanklik. Paulus was weer beproef deur die doring in sy vlees. Maar dan verklaar hy: “As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk.” Diep was hy ook van God afhanklik.

Daarom is die woorde van Jesus hard. Die ryk dwaas van Luk 12 wou ook selfstandig wees. Sy droom was op ’n illusie gebou.

Afhanklikheid van God beteken dat  ek afhanklik van God is dat my huwelik sal werk, dat my kinders die jaar sal deurkom, dat daar brood op my tafel sal wees, dat ek ’n werksgeleentheid het, dat my gesondheid sal hou en dat ek God kan vertrou vir my saligheid.

Paternoster is ’n klein vissersdorpie langs die Weskus. Vandag is dit ’n moderne dorp, met vele luukse huise.

Destyds, baie jare gelede, was dit die tuiste van ’n arm vissersgemeenskap, met armoedige huisies van vissers wat baie eenvoudig gelewe het. Die ou vissermanne van Paternoster het letterlik van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie Vader wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar genoeg vis is. Daar was storms; partykeer het ’n skuit nie teruggekeer nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Sommige dae het die vis goed verkoop, ander dae het dit weer swak verkoop. Hulle was daagliks afhanklik van die Here en daarom het hulle hul dorpie die naam “Paternoster” gegee, wat in Latyn beteken “Onse Vader”.

Ons wil bogenoemde dinge so graag verdien, daarvoor werk, op ons eie voete staan. Kom ons vertrou eerder die Here met ons lewe. Kom ons lewe elke dag in totale afhanklikheid aan die Here.

Dit bly vir ons as mens ’n moeilike saak om regtig totaal en al onsself afhanklik aan God oor te gee. Dit is soos ’n drenkeling in die water. Hoe meer hy of sy skop en spartel, hoe vinniger en meer sink hy. Die geheim is om op jou rug te lê en heeltemal te ontspan. Wanneer jy ontspan, dan dryf jy op die water. Dit vat geen inspanning nie, net oorgawe. So is dit ook met geloof en die eerste Saligspreking. Gee jouself oor in afhanklikheid aan God.

Daarom sê die Here ook julle moet soos kindertjies word, om in die Koninkryk van God in te gaan. Kindertjies leef uit die hande van hulle ouers. So moet ons ook uit die hande van onse hemelse Vader lewe.   AMEN

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith) Moody Publishers. Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.