My enigste hoop en troos in die lewe, is dat ek aan Jesus Christus behoort

SKRIFLESING: Psalm 46: 1 – 12

Sonder HOOP kan geen mens leef nie. ’n Mens kan 40 dae sonder kos lewe. ’n Mens kan drie dae sonder water oorleef. ’n Mens kan egter nie ’n sekonde sonder HOOP lewe nie!

Ons leef in ’n skewe reënboogland. Die nuwe Suid-Afrika het toe nie uitgedraai as ’n beter land nie. Kapings, moord, verkragtings, korrupsie en die ineenstorting van standaarde en moraliteit het alledaagse nuus geword. Daar vind weekliks plaasaanvalle plaas en boere word vermoor. Dan sê die Suid-Afrikaanse president wêreldwyd op televisie dat daar geen plaasaanvalle is nie. Die Regering wil boere se plase afvat sonder vergoeding. Ons werkloosheidsyfer staan amper op 33%. Verder word alles afgebrand en monumente wat vir ons betekenis het, tuimel. Niks word beter nie, ons sak elke dag net verder in die moeras van ellende.

Daarom het mense in hierdie skewe reënboogland ’n ontsaglike behoefte aan HOOP. Mense soek iets wat weer vir hulle hoop en troos kan bring.

In plaas van hulle enigste hoop te soek by Jesus Christus, skep mense hulle eie hoop en troos. Ons probeer krisissituasies af te weer deur ons eie hoop te skep. Ek neem ekstra versekering uit, ek installeer diefwering, ek skaf ’n groot hond aan, ek begin myself finansieel in ’n beter posisie te plaas. Natuurlik is dit goed om voorsorg te tref; dit is immers verantwoordelik.

Die gevaar is egter as my voorsorgmaatreëls my troos en my hoop word. Ek troos my: ek het voorsiening gemaak vir my oudag, ek het my genoegsaam teen inflasie en teen inbrekers verskans. Ons skep vir ons ons eie troos en hoop. Ons verskans en beveilig onsself.

Elke dag is ons besig om vir ons troos en hoop te skep. Binne hierdie troos en hoop is daar weinig plek vir God. Ons materialisme word ons hoop en troos. My versekering word my hoop en troos. My sekuriteite by die huis of op die plaas word my hoop en troos.

Daar moet egter maar selfs nie ’n blaartjie roer nie, dan begin ons te bewe. Iets moet net êrens in die wêreld of in ons persoonlike lewe verkeerd gaan, dan stort die kaartehuis van ons lewe in duie.

Ons moderne Christene het verleer wat dit beteken om net op Jesus te vertrou.

Ek wil hierdie boodskap begin deur ’n stukkie van vroeë Europa se geskiedenis vir u te vertel. Dit was swaar tye in Europa se kerkgeskiedenis. Dit was ’n tyd toe Protestantse Christene al hul sekerhede, hulle besittings en lewens verloor het. Al wat vir hulle oorgebly het om aan vas te hou was die ewige Rots: Jesus Christus. Hulle HOOP en TROOS was net Christus Jesus ALLEEN.

Ek verwys na die jare 1522 tor 1573. Die jare staan bekend as die Kontra-Reformasie of die sogenaamde “Swart Terreur”. Gedurende dié tyd het die Inkwisisie die Protestante vervolg en doodgemaak oor die hele Europa, maar veral in Italië, Spanje, Nederland en Frankryk. Protestante is gemartel op pynbanke, in donker kerkers gedurende die middernagtelike ure. Manne, vroue, en jong seuns en meisies is nakend op pynbanke vasgemaak en gemartel met water, skroewe, vuur en gewigte. Die spiere is uitgerek, sonder om hulle te skeur en die beendere gekneus, sonder om hulle te breek. Die pynbanke is gevolg deur hulle helder oordag op die brandstapels te laat sterf. SINGENDE het hulle gesterf op die brandstapels.

Volgens Crespin het daar in daardie tyd net in Frankryk die volgende getalle Protestante gesterf: in Parys 10 468 en in die hele Frankryk nagenoeg 30 000. Die Inkwisisie het gespog met hoeveel Protestante hulle per nag, per man uitgemoor het. Die Franse stede Lyon, Dyon, Orleans en vele ander het in vlamme opgegaan.

Op die heilige Bartholomeüs-nag is tienduisende Protestante doodgemaak. Die geskiedskrywers sê dat honderde lyke met die Seinerivier afgespoel het en die rivier het plek-plek rooi verkleur van al die bloed. Die Heilige Bartholomeüs-nag word beskou as een van die grootste misdade in die moderne geskiedenis.

Op ander plekke in Nederland is Protestantse kerke, terwyl gelowiges besig was met eredienste, afgebrand en lidmate met sabels doodgemaak. Ja, terwyl die eredienste aan die gang was, het hulle die kerke toegespyker en aan die brand gesteek. Al singende het die gemeentes voortgegaan, totdat die geknetter van die vlamme die laaste stem stilgemaak het.

Terwyl die Seinerivier met bloed bevlek is, stede in vlamme opgegaan en die stank van duisende lyke swaar gehang het oor die Protestantse stede en mense in hulle duisende gevlug het, is die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1567) geskryf. Dit was die tyd van die groot belydenisskrifte van die Protestantse kerke. As’t ware het die Sinodes van daardie tyd hierdie geskrifte geskryf onder die vlamme-lig van die brandstapels. Sommige dele van die belydenisskrifte is by die tronkvensters uitgegooi, waarna dit oor die hele Europa versprei het en die mense dit gelees het.

Teen hierdie agtergrond begin die Heidelbergse Kategismus met sy eerste vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

En dan antwoord die Kategismus: “My enigste troos (my enigste hoop) in lewe en dood, is dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Dit is geloofsmoed. In hierdie tyd was Psalm 46 die martelaarslied, maar ook die lied van vertroue van die Protestantse kerk. Daarom het Luther dan ook die psalm berym in die woorde van die beroemde Duitse gesang: “Ein feste burg ist unser Gott.” In hierdie psalm word verklaar dat God die enigste TOEVLUG is, die enigste BESKERMER is, die enigste HOOP is. As God dit nie vir u is nie, glo u nog nie.

God mag nooit my bykomende troos of my bykomende burg of my bykomende toevlug of my bykomende beskermer of my bykomende hoop wees nie.

Hy moet jou ENIGSTE TROOS, jou ENIGSTE BURG, jou ENIGSTE TOEVLUG, jou ENIGSTE BESKERMER en jou ENIGSTE HOOP wees.

Aan God moet jy hang, al wankel ook alles rondom jou. Aan God moet jy vasklou, deur twyfel heen.

Kom ons kyk wat Psalm 46 vir ons vers vir vers sê:

In vers 5 staan daar al kom die natuurrampe en die ekologiese krisisse (aarde gee pad, die see druis en skuim, die berge skud) tem God dit tot ’n rustige nuttige riviertjie in die Godstad.

Vers 6 sê God is in die Godstad, die stad sal nie wankel nie. God sal kom help, nog voor die môre kom. (Net voor dagbreek het die vyand gewoonlik aangeval. Daarom was die nood gewoonlik net voor dagbreek op sy hoogste. Daarom help God nog voor die môre kom.)   

In vers 9 en 10 staan daar, die geskiedenis kan maar voortgaan. Diktators kan heers en magshebbers hul magte misbruik. Koninkryke kan kom en wankel. God bly in beheer. Hy laat oorloë ophou en spiese verbreek Hy.

Nie die natuur of die geskiedenis, niks kan my vreugde en geloofsmoed breek nie.

Bedaar en erken dat Ek die Here is, sê die Here. Wees getroos, sê die Here, Ek is daar! Daarom kan jy maar getroos lewe en getroos sterwe.

Nie jou beleggings, jou diefwering of jou alarmstelsel of jou hond of jou roer, kan jou troos wees nie. Jou enigste troos is die Here Jesus Christus. 

Hoor wat sê Habakuk 3: 17 – 19: Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Wanneer Habakuk en die volk Israel niks meer het om aan vas te hou nie en net God oorbly, ontdek hulle dat God die enigste en ware HOOP en TROOS vir hulle het.

As jou troos jou beleggings is, is jy nog nie getroos nie.

As jou burg jou diefwering is, is jy nog nie geborge nie.

As jou toevlug jou sekuriteite is, het jy nog geen toevlug nie.

As jou beskerming jou roer is, het jy nog geen beskerming nie.

Wanneer die wêreldekonomie in duie stort en dit met my swaar gaan, is ek nie op moedverloor se vlakte nie. Ek het Jesus Christus! In Hom kan ek getroos wees, ook as ek deur moeilikhede moet gaan.

WANT MY ENIGSTE TROOS IN LEWE EN IN STERWE IS DAT EK MET LIGGAAM EN SIEL NIE AAN MYSELF BEHOORT NIE, MAAR AAN MY GETROUE SALIGMAKER JESUS CHRISTUS!

Behoort u al so volledig aan Jesus Christus, dat u dit kan sê?

Moeder Theresa, die katolieke non van Kalkutta het eenmaal gesê: “You won’t learn that Jesus is all you need, until Jesus is all you have.”  Jy leer eers dat Jesus al is wat jy nodig het, die dag wanneer Jesus al is wat jy oorhet.

In die Anglo-Boere oorlog op die plaas Doornbult, buite Hopetown, het die vroue en die kinders in die aande Hollandse gesange gesing vanuit die wit Engelse konsentrasiekamptente. Niks kon hulle breek nie, want hulle enigste troos was en is Jesus Christus. Alles kan maar wankel, maar hulle het Hom oor as hul enigste ROTS en BURG en HOOP.     

Eers dan is ek werklik vry! Vry om te lewe en om te sterwe. Dan maak niks meer saak nie, solank ek vir die Here kan lewe. Dan het ek geloofsmoed! Geloofsmoed om enige bedreiging vierkantig in die oë te kan kyk. Dan kan ek getroos lewe en getroos sterwe. Dan kan ek hoopvol lewe en hoopvol sterwe. Daarom kan ons hoopvol lewe in hierdie skewe reënboogland van ons, want ons het die Here Jesus in ons harte en niemand, niemand kan Hom van ons wegneem nie.

Daarom moet gemeentes eilande van HOOP wees. Mag ook die gemeentes Adelaide en Fort Beaufort eilande van HOOP wees in hierdie verwarde wêreld.

Ja, selfs as my situasie hopeloos geword het, kan ek nog ’n draer van hoop wees, deur vir ander hoop te bring. Ek kan voorwaar hoopvol lewe en hoopvol sterwe! Ek kan getroos lewe en getroos sterwe, want ek behoort aan Jesus Christus!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Oop deure en vensters voor God en wêreld

SKRIFLESING: Handelinge 2: 42 – 47, Handelinge 4: 32 – 37 en 2 Thessalonisense 3: 6 –13

Met Pinkstersondag en die oop graf, het die kerk en gelowiges met oop deure en vensters voor God en wêreld geleef. Dit was iets wat die vroeë kerk in Handelinge baie goed verstaan het.

Hulle het met ’n openheid, ’n mildheid en ’n offervaardigheid geleef in die gemeenskap waar hulle as gelowige huiskerke gefunksioneer het. Hulle was soos huise met oop deure en oop vensters, sonder enige gordyne. Almal in die gemeenskap het ingekyk en die kragdadigheid van hulle geloof in Jesus Christus opgemerk. Hulle het met integriteit gelewe. Omdat hulle met integriteit gelewe het, het die getalle van die huiskerke toegeneem en was hulle in guns by die hele volk. Hulle het so voorbeeldig gelewe dat hulle kragdadig gegroei het.

Hulle egtheid was sigbaar in die wyse waarop hulle vir die armes en hulpbehoewendes omgegee het en hulle ingetrek het in die huiskerke. Ons bou gewoonlik ’n muur tussen ons en die armes. Hulle het die armes saam met hulle aan die gemeenskaplike tafel laat sit. Dit is maklik om kos vir ’n arme te gee, maar om saam met hom of haar te eet, is die uitdaging.

Jürgen Moltmann verwoord die beginsel van die liefdesgemeenskap in die kerk as volg: “The solution to poverty is not property. The solution to both poverty and property is community.” Daar is eenheid in die geloofsgemeenskap wanneer daar gedeel word.

In ons teksgedeelte lees ons van Josef, ’n Leviet  wat op Siprus gebore is. Hy het oral waar hy rondgegaan het vir mense moed ingepraat. Daarom het die dissipels hom Barnabas genoem, wat beteken “iemand wat mense moed inpraat”. Hy was ’n vertrooster. Hy het nie net mense moed ingepraat nie, hy het ook finansiële opofferings gemaak om sy medemens te help.

Ons dink dan veral ook aan Tabita, wat ’n Hebreeuse vrou was wat vir die Joodse en Griekse weduwees klere gemaak het. Daarom was haar naam in die Griekse gemeenskap bekend as Dorkas. Sy het mense oor kultuurgrense heen gehelp.

In elke geloofsgemeenskap is daar Barnabasse en Tabitas, wat dit hulle werk maak om armes en mense wat in nood is te help en hulle moed in te praat. Dit is mense wat kos en klere uitdeel, en sopkombuise aan die gang hou. Dit is mense wat ander bemoedig deur vir hulle werk te soek.

’n Mens kry natuurlik ook die swak voorbeeld van Ananias en Saffira. Hulle het ’n stuk grond verkoop en voorgegee dat hulle die volle som vir welsyn skenk. Tog het hulle ’n deel van die koopprys teruggehou. Petrus het vir Ananias gesê dat dit nie verkeerd was om die grond te verkoop en die geld vir eie gebruik aan te wend nie. Maar hy het voorgegee hy skenk dit vir die armes, om vir hom ’n goeie naam in die gemeenskap te kry. Hy het dus gegee om gesien te word. Sy hart was nie by die armes nie, maar by sy en Saffira se goeie naam. Wanneer jy gee, moenie met bybedoelings gee nie. Gee in opregtheid met ’n hart vir jou medemens.  

Die bedoeling van die gelese gedeelte is nie dat jy al jou goed moet weggee nie, want dan sou daar nie ’n ekonomie gewees het nie. Die bedoeling van die gedeelte is dat jy moet leer om offervaardig te wees. Die Here het nie bedoel dat Ananias en Saffira al hulle goed moet weggee nie. Hulle kon die geld van die grond gehou het vir eie gebruik. Daar is niks mee verkeerd om jou eie besittings te hê nie. Offervaardigheid is egter die geestelike deug wat in die gelese gedeelte beklemtoon word.

Paulus waarsku ook dat gelowiges nie vir mense wat lui is, moet help nie. Christelike barmhartigheid bevorder nie luiheid nie. Paulus spreek die luiaards sterk aan en sê hulle moet vir hulle eie brood werk. 

Kerk en gemeenskap mag nooit teenoor mekaar staan nie. Die kerk is daar ter wille van die gemeenskap. Die kerk se roeping is om die gemeenskap te dien. Die kerk wat haarself preserveer om net haarself aan die gang te hou, sal beslis sterf. Die kerk moet oop deure en vensters hê na die wêreld. Die kerk moet aanloklik lyk vir die wêreld. Die kerk moet opgebruik word deur die wêreld.

Interessant is die woord “pontiff” wat vir die Pous, die hoogste hiërargie in die Rooms Katolieke kerk, gebruik word. Die woord “pontiff” kom van die Latynse woord “pontifex” wat beteken “brugbouer.” Dit is teen die agtergrond van die Romeine wat uitstekende paaie en brûe gebou het. Hulle het daardeur die landskap en geskiedenis van die wêreld verander.

So moet elke predikant, ouderling, diaken en gelowige ’n “brugbouer” wees. Ons moet brûe bou tussen die kerk en  die wêreld. Ons moet brûe bou na armoede. Ons moet brûe bou na hulle wat moedeloos is en uitgesak het in die lewe. Ons moet brûe bou na hartseer. Ons moet brûe bou na bejaardes en uitgestotenes. 

Die St. Bernard-honde in die Alpe wat reisigers in sneeustorms soek, is geleer om altyd hulle soektog ernstig op te neem. Daar word vertel van die een hond wat laat een middag teruggekom het van ’n missie, in ’n hewige sneeuval. Hy  het na sy hondehok gegaan en in die hoek gelê en homself onttrek, ten spyte van sy eienaar wat hom wou opbeur met kos. Hy het niks geëet nie. Was hy siek? Wel nee, nie na liggaam nie, maar in sy hart. Hy het gefaal om iemand in nood te help en het skaam teruggekom. Dit is hierdie hartseer van die hart wat ons moet openbaar as ons iemand nie kan help nie. Dit moet die Christen kenmerk. Ons moet ’n heilige weemoed hê as ons iemand nie kan help nie. Daarom staan daar mos in die saligsprekinge: “Geseënd is dié wat treur.”

Daar word vertel van ’n babaseun wat in ’n afgeleë distrik van Wallis ernstig siek was. Die ma was ’n weduwee en baie arm. Sy het vyf myl geloop deur die nag, terwyl dit gereën het, om ’n dokter te kry. Die dokter het eers gehuiwer. Dit sou ’n onplesierige rit gewees het in die reën en die weduwee sal heelwaarskynlik nie kon betaal nie. Wat sou in elk geval van die seun geword het? Hy was maar net nog een van die armes. Maar sy liefde vir mense en sy professionele gewete het  hom oorreed om na die seun te gaan en die seun se lewe is gered. Baie jare later het die seun, David Lloyd-George, die eerste minister van Engeland geword. Die dokter het toe gesê:  “I never dreamed that in saving the life of that child on the farm, I was saving the life of the leader of England.”

Die Bybel het talle voorbeelde waar mense onwetend vir engele kos gegee het. Die Here Jesus kan ook in die vreemde gestalte van ’n noodlydende na jou en my kom.

Anton Rupert het in een van sy boeke geskryf dat elke maatskappy wat wins maak uit ’n gemeenskap, die verantwoordelikheid het om iets terug te gee aan die gemeenskap.

Net so het ons wat baie ontvang as gawes van die Here die verantwoordelikheid om van ons gawes terug te gee aan hulle wat minder as ons het. Ons is ’n geloofsgemeenskap, “a community” en daarom moet ons onderlinge sorg vir mekaar dra.

Waar daar “community” is, is daar deernis, liefde en eensgesindheid.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Van geraamtes na ’n “Army” !

SKRIFLESING: Esegiël 37:1-14

Die Franse skrywer en filosoof, Voltaire, wat in 1778 dood is, het voorspel dat die kerk en die Bybel oor 50 jaar nie meer sal bestaan nie. So het verskeie doemprofete deur die eeue die doodsheid van die kerk beklemtoon. En tog is die Woord en ons steeds hier! Die kerk lewe nog steeds. Martin Luther het gesê: “Al blaak die hel van woede. Die Here  hou self sy kerk instand.”

Sonder Pinksterdag, sou die kerk geen toekoms gehad het nie. Na die opstanding van onse Here Jesus Christus het die dissipels hulleself toegesluit in die bovertrek, uit vrees dat hulle ook doodgemaak sou word. Hulle was nie instaat  om te getuig nie. Hulle was soos ‘n klomp doodsbeendere sonder enige lewe en asem.  Toe gebeur Pinksterdag. Dit is die geboortedag van die kerk. Die Heilige Gees het met wind en vuurtonge op hulle neergekom en hulle het begin lewe en getuig. Nou was hulle nie meer bang nie. Die kerk het begin lewe.  Tweeduisend jaar later en die kerk lewe nog steeds. Die kerk is soos ‘n “Army” wat verrys het uit geraamtes. Dit is God’s werk deur die Heilige Gees.

Die Here begin met jou werk, as jy jou werklike armsalige toestand voor God besef het. Wanneer jy ‘n geraamte in die kas het of as jy so hopeloos voel soos ‘n klomp dooie bene, dan begin God werk. So het die Here in Esegiël 37 gewerk.

Die volk Israel was in ‘n hopelose toestand. Die Here het Esegiël geroep as profeet toe hy 30 jaar oud was. Hy het as profeet opgetree vir 22 jaar. Esegiël 37 is waarskynlik geskryf met die tweede wegvoering deur Babilon ongeveer 587 vC.

In Esegiël het die Here in ‘n visioen aan Esegiël verskyn en in die visioen was daar dialoog tussen God en Esegiël. God vra en Esegiël moet antwoord.  In die gelese teks word gereeld na die Gees van God as “ruah jahweh” verwys. Dit is dieselfde Gees wat lewe in Adam, die mens geplaas het. Dit is ook dieselfde Gees, wat op Pinkstersondag uitgestort is op die kerk.

Die Heilige Gees bring altyd lewe daar waar daar doodsbeendere is. Waar jy in ‘n vasgeloopte situasie is, kan God altyd weer nuwe lewe en uitkomste bied.

In Esegiël 37: 4 word beklemtoon dat die Gees nie sonder die Woord werk nie. Daar staan geskrywe:  “Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here.” Daarom het die Here Jesus vir ons Sy Gees en Sy Woord nagelaat.  Die Heilige werk deur die Woord. Daarom is ons ’n Woord kerk. Die Here skep geloof deur die Woord en Gees en Hy versterk ons geloof deur die sakramente.

In ons gelese gedeelte lees ons hoedat die Gees die beendere bymekaar laat kom en dit oordek met senings, vleis en ‘n vel. Maar die liggaam was nog sonder asem daarom staan daar in vers 9: “Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.”  So het die Here nuwe “asem” ingeblaas en ons laat lewe. Daarom is God se kinders ‘n magtige leër “Army”.

So het die Heilige Gees ook op Pinkstersondag van ons besit geneem, sodat ons begeesterde kinders van die Here kan wees. Ons behoort nie meer aan onsself nie, maar aan hom wat Sy Pinkstergees in ons geblaas het.

Ek het die volgende verhaal gelees in Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is (9 Maart 2008). Ek haal dit woordeliks aan: “’n Amerikaanse Lutheraanse predikant vertel van die volgende ervaring by ’n erediens in sy gemeente, waar net ’n paar lidmate in die banke gesit het. Die leraar het daardie oggend oor sy gemeente uitgekyk en gedink: “Wat kan ek doen om bietjie lewe in ons aanbidding te blaas, om bietjie entoesiasme en emosie in ons ervaring van die erediens te kry? Miskien moet ek iets skokkends en kontroversieels sê. Dit sal hulle laat wakkerskrik! Of anders moet ek weer ’n slag oor die hel praat, oor die poel van vuur en die ewige verdoemenis waar ’n geween en gekners van tande sal wees. Dit sal hulle aandag kry! “Maar terwyl ek daardie Sondag so angstig soek na ’n geestelike pols by my gemeente, ontdek ek skielik tot my skok dat ek self amper nie meer een het nie. Ek het die laaste tyd mense getrou en begrawe, maar dit was net nog ’n troue, net nog ’n begrafnis. Ek kon my hart daar uithou. Dit was net nog take om af te handel. En iewers het die ware vreugde en die ware troos ook begrawe geraak onder die as in my eie hart. Ek besef skielik God het my nie na hierdie plek toe gestuur om mense soos dooie karre aan die brand te stoot of om lewe in ons aanbidding te blaas of om bietjie entoesiasme in ons deelname op te wek of op te werk nie. Hy het my na hierdie plek toe gebring om my en ander te leer dat sy Woord alleen mag het (Only the Word of God has power!).” Ja, ons ken ook ervarings van geestelike en emosionele doodsheid soos Israel in die tyd van Esegiël.”

‘n Sekere evangelis het geskryf, dat ons so dikwels wil hê dat die herlewing by ander mense moet begin. Ons sien die leë kerkbanke en bid dat hulle vol moet wees. Dan sê hy, dat hy ‘n fout gemaak het. Jy moet ‘n kring trek in die grond en in die middel van die kring gaan staan en sê Here begin by my. Ware herlewing begin by my, nie by ander nie.

Die laagte van doodsbeendere simboliseer die totale hopeloosheid van die volk in ballingskap. Die bene lê verstrooid, droog en gebleik in die son. Daar was nie eers ‘n behoorlike begrafnis nie. Die bene het geen identiteit meer oor nie. Jy kan nie eers die bene aan iemand koppel nie. Selfs honde word begrawe. Hierdie mense was meer hopeloos as ‘n weggooi hond. Die laagte van doodsbeendere is simbolies van die volk Israel wat in ballingskap sit. Hulle het hulle land, hulle geliefdes, hulle koning, hulle tempel en hulle stad Jerusalem verloor. Dit was asof die einde van die wêreld is.

So is daar baie mense wat in hopelose situasies is. Mense wat alle kontak met God en met ander mense verloor het. Daar is mense wat in finansiële skuld vasgevang is, mense wat terminaal siek is, mense wat aan dwelms verslaaf is, mense in verhoudingsprobleme of mense wat net geen sin in die lewe meer raaksien nie. Hulle het kontak met die realiteit verloor.

Esegiël sê duidelik dat God se Woord nuwe lewe skep. “Net die Woord van die lewende God kan aan dooie bene ore gee! Wat moes die Lutheraanse predikant en sy gemeente leer? “Only the Word of God has power!” Die mag wat my en die siening van my situasie verander, word deur die werking van die Gees van buite my deur God se Woord aan my toegesê.” (Aangehaal uit Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is op 9 Maart 2008)

“Esegiël moet God se boodskap gaan oordra al moes hy gril oor hierdie droom van die vallei van droë bene. Want Esegiël was ’n priester. Die Joodse wet het in Numeri 19:16 aan hom gesê: “Enigiemand wat in die veld aan ’n persoon raak wat doodgemaak is of aan ’n mensbeen of ’n graf, sal sewe dae lank onrein wees.” Maar wat doen Esegiël ondanks dit alles: “Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is.” Gehoorsaamheid aan die Gees beteken om ook soos God mense te ontmoet waar hulle is – in hul diepste hartseer, verslaenheid en grootste krisis. Ons is mos bang daarvoor of vermy dit, asof ander se krisis of hartseer my ook sal aantas of “besoedel” – ook my gees en gemoed sal aftrek.” (Aangehaal uit Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is op 9 Maart 2008)

So wil die Here uit ‘n laagte vol doodsbeendere en geraamtes vir hom ‘n weermag, ‘n “Army” skep, wat hom dien en gehoorsaam is. Hierdie begeesterde “Army” wil hy bewapen met die Woord, om diensbaar te wees. Hierdie begeesterde “Army” leef onder die leiding van die Gees, op pad na die wederkoms om met God -Drie-Enig verenig te word.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Leë blikke maak die meeste lawaai

 In Rigters 9: 8 – 15 kom ’n interessante fabel van Jotam voor, wat vertel van die bome wat ’n koning wou kies. Die bome wou vir hulle ’n koning salf.

Heel eerste word die olyfboom gevra om oor die bome koning te wees. Die olyfboom sê egter: “Moet ek my olie prysgee, waarvoor gode en mense my prys, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Tweedens word daar aan die vyeboom gevra om oor die bome koning te wees.  Die vyeboom sê: “Moet ek my soetheid en my goeie opbrengs prysgee, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Dan ten laaste, sonder enige sukses, staan daar in vers 14: “Oplaas sê al die bome toe vir die steekdoring, ‘Kom jy, wees koning oor ons!” Dit was die laaste uitweg. Onthou wat ek aan die begin van die preek gesê het, naamlik die  wat  niks het om te bied nie, graag wil baasspeel.

Toe sê die steekdoringbos dat hy koning sal wees. Dan staan daar in vers 15: “As dit met eerlike bedoelings is dat julle my wil salf om koning oor julle te wees, kom skuil dan in my skaduwee. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit die steekdoring en die seders van die Libanon verteer.”

Die steekdoringbosse het geen waarde nie, anders as om vuur te stig en vernietiging aan te blaas.

Die steekdoringbosse in ons gelese gedeelte verwys na Abimeleg, wat baie bloed vergiet het. In vers 49 lees ons inderdaad hoe Abimeleg en sy gevolg takke afgekap het en dit op die kelder oor die mense geplaas het en dit aan die brand gesteek het. So is die burgers van Migdal-Sigem, ongeveer ’n duisend mans en vroue, gedood.

Die probleem in Suid-Afrika die afgelope 30 jaar is dat swak leiers die politiek oorheers het. Hulle is soos steekdoringbosse wat Suid-Afrika aan die brand gesteek het en die land brand nog steeds letterlik en figuurlik. Suid-Afrika is heeltemal bankrot bestuur. Al die staatsentiteite soos die Lugdiens, Eskom, Transnet, Prasa, SABC en nog vele ander is leeg besteel en tot ondergang bestuur. Staatsdepartemente soos die Weermag bestaan amper nie eers meer nie. Dertig jaar gelede was die SANW onder die tien sterkste weermagte in die wêreld en die sterkste op die Afrika-kontinent. Nou bly net ’n skaduwee daarvan oor. Mediese dienste in die staatsdiens, polisiëring, onderwys en munisipale dienslewering het in die stof gebyt. Dorpe het verval tot algehele chaos.

Grondpaaie en teerpaaie het op die meeste plekke onbegaanbaar geword. Swak leiers wat niks kan bied, soos steekdoringbosse, kan niks in stand hou nie. Hulle is in posisies geplaas om oor ander bome heen en weer te swaai, maar hulle besit nie die gawes om dit te doen nie.

Van steekdoringbosse sal daar ’n vuur uitgaan, wat alles sal verswelg. Gereelde taxi-geweld  in Suid-Afrika was die oorsaak van honderde voertuie, staatsvoertuie, busse en swaarvoertuie wat al uitgebrand en beskadig is. Studente-onluste, vakbondstakings en openbare oproerigheid kom weekliks in Suid-Afrika voor. Misdaad het buite beheer geraak en korrupsie vreet soos kanker aan alles waaraan die staat of munisipaliteite raak.   

Die vorige regime, tydens die apartheidsera, het ook met magsmisbruike gepaard gegaan. Dit was net so korrup. Slegs witmense is bevoordeel en die ander rassegroepe is minderwaardig geag en is soos slawe behandel en is ingeprop in lokasies sodat ons nie hulle ellende en swaarkry hoef te aanskou nie.

Elke land het ’n geskiedenis van magsmisbruike wat soos steekdoringbosse ’n vuur laat uitgaan en ander mense vernietig.

Eli, die profeet, het ook twee steekdoringbosse as seuns gehad. Hulle was korrup en het tempelprostitusie bedryf. Eli word gelukkig opgevolg deur Samuel wat ’n Godsman was. Onder sy leiding was daar goeie tye. Ongelukkig was Samuel se twee seuns, Joël en Abia, ook steekdoringbosse.  Hulle was korrup, het omkoopgeld aangeneem en het die regspraak verdraai.

Daarom kan ’n mens verstaan dat die volk eerder deur ’n koning regeer wil word, as deur Samuel se twee korrupte seuns. In plaas daarvan dat die volk egter wag dat God eerder self die nuwe rigter vir hulle aanwys, wil hulle vir God voorskryf om vir hulle ’n koning te gee soos die omliggende volke. God gee toe aan Israel se versoek vir ’n koning. Die koningskap van Israel is in die daaropvolgende eeue gekenmerk deur goeie konings én slegte konings. Saul se koningskap het goed begin en het al slegter geword, totdat hy in sy eie swaard val. Dawid en Salomo was weer twee goeie konings. Die Here het Dawid beskryf as ’n “man na aan my hart” omdat hy so opreg was, ten spyte van sy persoonlike foute en sondes. In Dawid het die volk Israel die hoogtepunt in hulle geskiedenis gehad. Koning Salomo het weer gevra vir “wysheid” voor sy koningskap begin het. Dawid en Salomo het gawes gehad wat hulle bekwaam gemaak het. Hulle was nie steekdorings nie. Hulle gawes het van hulle goeie staatsmanne gemaak.

 Ons vergeet maklik dat elke stelsel sommige mense bevoordeel en ander benadeel. Alle politieke stelsels dra die kiem van die sonde. Dit kan wees ’n  monargie, feodale stelsel, sosialisme, kommunisme en kapitalisme – almal dra die kiem van onderdrukking en selfverryking. Iemand skryf: “Elke hervorming is ook vervorming. Dit is maklik om eiebelang as ‘die algemene belang’ voor te hou.” Dit is die mensdom se probleem.       

Gedeeltes soos Psalm 72 skets hoe die ideale koningskap moet lyk.

Daar staan onder andere die land floreer, die reg word gehandhaaf, die armes word beskerm en vrede heers. ’n Goeie koning of leier  moet as “herder”, “skild” of “hervormer” kan optree, wat kan instaan ook vir die swakkes en weerloses in die samelewing. Konings en mense in leierskapposisies is altyd beskermers van die swakkes. In Esegiël 34 vaar die profeet Esegiël uit teen die staatsleiers en godsdienstige leiers van Israel wat soos sterk vet skape met hulle horings die swakkes wegdryf by die waterbakke en die voer. Dan voorspel Esegiël dat daar ’n Herder sal kom wat die swak, sieklike en weerlose skape sal optel en lei na veiligheid.

Talle leiers het ’n belowende begin, maar later tree verval in. Almal misbruik later hulle gesag. Soos een filosoof gesê het: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut.” Al koning wat onveranderd eg bly, is die Koning met die doringkroon aan ’n kruis.

Die probleem is dat ons makeer aan God se barmhartigheid, genade en liefde. Hoor die duidelike opsomming van die wet van die Here in Mat 23: 23:  “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.”

Die Bybel veroordeel by uitstek maghebbers. Konings moet servant-leaders kan wees. Servant-leaders is in die eerste plek diensknegte en dan leiers. Hulle regeer nie met mag, soos vuur wat uitgaan by die steekdoring nie. Nee, hulle regeer as dienaars van ander mense. Ook by my huis is ek nie die “baas” wat met mag regeer oor my vrou en kinders nie, maar ’n “servant-leader.”

En tog is ons vir koningskap gemaak. Die Here het in Genesis 1: 26 gesê:    “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding,  sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”

Daarom wil die Here dat ons as “servant-leaders” die volgende onthou: “We rise by lifting others.” Dit is wat die Suid-Afrikaanse leiers in post-apartheid nog nie besef nie. Hulle hef nie die land op deur goeie leierskap nie. Nee, hulle verryk hulself met korrupsie. Hulle bevorder net hulle eie belange en nie dié van hulle mede-Suid-Afrikaners nie. Hulle baklei onder mekaar deur faksie-geweld, om net meer mag te bekom.

Ek moet ander mense optel en beter laat lyk as ekself. Ek moet ander mense optel en in ’n beter posisie as ek plaas. Eers dan is ek ’n leier. Eers dan verstaan ek wat koningskap beteken. Ek moet ander met my gawes dien.

Mag die Here ons land seën met swartmense, bruinmense, witmense en Indiërs wat ons land op politieke, maatskaplike, ekonomiese en alle ander vlakke van leierskap optel. Dit beteken dat leiers sal moet kniel voor hulle kan optel.

Dit deug nie as steekdoringbosse (sonder gawes) met mag alles wil afbrand en vernietig nie.

Die Here Jesus het gekniel en die kindertjies opgelig. Hy het gekniel onder die kruis en ons opgelig vanuit ons sonde en ellende.                     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Van tentwoning na ewige woning

SKRIFLESING: 2 Kor 5: 1 – 10

Ek hou daarvan om vir ’n kort vakansie in ’n tent te bly. Dit is heerlik. Maar net vir ’n kort tydjie. Dan verlang ek na ’n huis, met al sy geriewe.

Paulus was ’n tentmaker en het dus die beeld van die tentwoning baie goed verstaan. Hy het geweet dat ’n tent maar tydelike huisvesting verskaf. Die tent word mettertyd verbleik en dit skeur, die toue breek af en dan stort die tent ineen. Dit is slegs ’n tydelike woonplek. Dit kan nooit ’n permanente woonplek wees nie.

Toe die volk Israel deur die woestyn getrek het vir 40 jaar, was hulle woonplekke  tente. Dit was tydelik, aangesien hulle op trek was. Hulle het verlang daarna om die beloofde land binne te gaan en vir hulle permanente wonings te bou, van stene. Die volk het uitgesien na die gerief van ’n permanente woning.

Daarom was die tabernakel op die woestyntog ook ’n tent, wat vertel dat dit ’n tydelike maatreël was. Hulle het verlang daarna dat die tabernakel vervang sou word deur die tempel, wat Salomo uiteindelik gebou het.

’n Tent is simbool van iets tydeliks. So is ’n mens se liggaamlike lewe ook tydelik en kortstondig. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is 70 jaar. Alles daarna is genadejare. Rita van Vuuren het nog 22 genadejare bygekry. Ons kan dankbaar daarvoor wees. Ons is tevrede.

Maar die afgelope paar jare het ons gesien hoe Rita van Vuuren se aardse tentwoning vinnig agteruit gegaan het. Haar liggaam  het verswak en die tent het begin skeur. Op 25 Junie 2024 het haar tentwoning ineengestort en het sy ’n permanente woning gekry by haar hemelse Vader.

’n Tentwoning is ongerieflik. Dit is òf te koud òf te warm, die wind waai teen die flappe daarvan, die stof waai in en dit reën in. So is die aardse lewe ook vol aardse swaarkry en sorge. Die aardse lewe is nie altyd gerieflik en aangenaam nie. Die mens bring met sorge sy lewensdae deur.  

Dit kan ook gebeur dat ’n mens die aardse lewe in die tentwoning so geniet dat jy nie verlang na die hemelse woning nie. Die meeste mense wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie sterwe nie.

Tog, in ons gelese gedeelte verlang Paulus na die hemelse permanente woning – want dit is verreweg die beste. In vers 5 staan daar dat die Here ons voorberei om afstand te doen van die aardse tentwoning en ons voorberei om die hemelse permanente woning te betree. Soos ’n mens ouer raak, lewe jy al “kleiner”. Jy maak jouself algaande los van die aardse dinge. Jy kan selfs by die punt kom dat jy verlang dat die Here jou moet kom haal om na jou ewige lewenswoning te gaan.

Psalm 23: 6 praat ook van die “ewige huis” waarheen ek op pad is. Die skape van Psalm 23, wat die gelowiges is, woon in die veld met al die ontberings van die oop vlaktes, koue, hitte, roofdiere, diewe en so meer. Maar hulle word op die ou end eregaste wat woon in die Huis van die Here tot in lengte van dae. In Psalm 23 transformeer die skape in weivelde na eregaste in die “huis van die Here tot in lengte van dae”. Veilig en beskut in die Here se permanente woning.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.” Die angel, die dood het nie meer op my ’n houvas nie. Die angel het die Here Jesus aan die kruis gesteek en gedood. Daarom is die dood, soos ’n by sonder ’n angel.

So het die dood nie meer ’n houvas op my nie. Rita van Vuuren het nie die ewige dood gesterf nie. Sy is veilig by die Here.

Die geleidelike aftakeling van haar liggaamlike gesondheid was vir ons almal ’n groot skok. Daarom is ons verlig dat haar verdere lyding en agteruitgang gespaar is deur haar dood. Ons is verheug dat sy verlos is en by die Here is, in ’n volmaakte geestelike liggaam. Dit is ons troos en berusting.

Thomas Brooks skryf dat die dood eintlik God se sagmoedige helper is. Dit word die Moses wat ons uit die lewe (die plek van slawerny) verlos en na die ware ewige lewe in Christus bring.

Rita van Vuuren se tydelike tentwoning het plek gemaak vir die gerief van ’n permanente woning.

Ons vier haar lewe. Ons vier haar nagedagtenis.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.))

BRONNELYS:

Peter Joshua, Leadership, Vol. 7, no. 4.

Lee Eclov, in the sermon: It Doesn’t Sting Anymore, PreachingToday.com

Ek gaan na hom toe, maar hy sal nie na my terugkeer nie

SKRIFLESING: 2 Samuel 12: 19 – 23

Iemand het ’n baie gepaste opmerking gemaak. Hy het gesê “Meet lewe aan wie jy raak.”  Waarom is u almal vandag hier? Omdat Dawid Brown  se lewe êrens aan u geraak het. Met sy betekenisvolle lewe het hy baie mense aangeraak. Dit is tog die sin van die lewe.

Die sin van die lewe is om met betekenis te lewe. Maak jou lewe betekenisvol. Wanneer jy dan sterf, onthou die mense waar jy hulle lewe aangeraak het.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.     

’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moes aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van Dawid was verstom oor die optrede van Dawid.

Soos Prediker ook predik: dat daar ’n tyd vir alles is. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.

So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Dawid aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.

Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.

Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die afsak van die kis, saam in die graf geklouter het, omdat hulle die dood nie met dapperheid kan hanteer nie. Vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.

Maar die “dal van doodskaduwee” van Ps 23:4 in die 1953-vertaling is nie ’n maklik plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water ook van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. In die laatmiddag se skemer word dit ook heel eerste onder in die kloof en vallei donker. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. Wanneer Dawid as jong seun die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang wat in die dal vir hom voorlê. Dit is soos ’n doodskaduwee.  Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.

Ons mis vir Dawid Brown. Maar Psalm 23: 5 sê dat sy beker oorloop. Hy kort niks meer nie. Hy kom niks kort nie, aangesien hy ’n geestelike verheerlikte liggaam het. Hy het die wedloop van die lewe voltooi.

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Jy moet nie ’n woord daarvan glo nie. Op daardie oomblik sal ek springlewendig wees. Ek sal  uit hierdie ou kleihut na my ewige huis gaan. Ek sal ’n nuwe geestelike liggaam hê wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie. My vleeslike liggaam sal sterwe. My liggaam wat uit die vlees gebore is, kan sterwe, maar wat uit die gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

Die uitdrukking wat gebruik word na iemand sterwe, is dikwels: “Rus in vrede” of die Engelse uitdrukking “Rest in peace (RIP)”. Ek oordeel dat die uitdrukking nie Bybels is nie. Ons gaan nie om te rus nie. Ons gaan springlewendig wees met ’n nuwe geestelike liggaam. Ons gaan nie hemel toe om te rus nie, maar om elke dag die Here te loof en te prys voor Sy troon. Ons gaan besig wees met God se heerlike werke.

My oom het eenmaal opgemerk: “Ons wil almal hemel toe gaan, maar niemand wil sterwe nie.”

Ons moet soos Paulus verlang om heen te gaan om by die Here te wees, maar vir eers moet ons in ons stoflike liggame bly om ons aardse taak te voltooi.

Ons het nie nou definitiewe antwoorde nie. 1 Kor 13 sê ons kyk in ’n dowwe spieël. Daarom kan ons nie duidelik sien nie. Ons kan nie verstaan waarom ons emosioneel so moet swaarkry nie. Eendag sal ons verstaan. Eendag sal ons die antwoord hê. Nou kan ons net vaskleef aan God se troue karakter, wat ons wil troos in die aangesig van die dood.

“Winston Churchill was ’n gelowige. Churchill het sy eie begrafnis gereël. Daar was die statige gesange in die St. Paul Katedraal met ’n indrukwekkende liturgie. Maar aan die einde van die diens het Churchill iets ongewoons beplan. Toe hulle die seënwens uitspreek, het ’n trompet hoog in die koepel van die St. Paul Katedraal aan die een kant ‘Taps’ gespeel, die universele militêre teken dat die dag verby is en dat die manskappe bed toe moet gaan. Daarna was daar ’n lang pouse. Toe speel ’n trompet aan die ander kant ‘Reveille’, die militêre  wekroep om op te staan, die nuwe dag het aangebreek. Dit was Churchill se manier om te kommunikeer dat, terwyl ons hier “Goeienag” sê, dit “Goeiemôre”  daarbo in die hemel is. Nou hoekom kon hy dit doen? Omdat hy in Jesus Christus geglo het, wat gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al was hy dood.’”   (Robert Russell)

Dietrich Bonhoeffer, die groot Duitse Christenmartelaar, wat weens sy verset teen die Nazi’s gevange geneem is, is daarna ’n paar dae voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog tereggestel. Terwyl hy weggeneem is om in ’n konsentrasiekamp tereggestel te word, het hy hierdie woorde gesê: “Dit is die einde van die lewe. Vir my, die begin.”

John Rogers, die Protestantse martelaar, is in 1555 vir sy geloof verbrand op die brandstapel. Die destydse Franse ambassadeur het hom op pad na sy teregstelling waargeneem. Hy het huis toe geskryf en gesê Rogers lyk“soos ’n man op pad na sy troue.”  Soos ons die dood nader, weet ons dat dit nie die einde is nie. Dit is eintlik ’n reis deur die dood na die ewige lewe saam met God. Daar is hoop . Daar is betekenis. Daar is blydskap. Hierdie lewe is nie net ’n kort reis van niks na niks nie.

Die dood is toe nie so verskriklik nie. Die Here het die “angel” uit die dood gehaal. Die dood is nie meer gevaarlik nie.

Met ander woorde, ons hoef nie te wonder oor die nuwe geestelike liggaam nie. Dit sal in verheerlikte vorm wees, sonder pyn, seer, siekte, dood en lyding.

Dawid se beker loop oor. Hy kort niks meer nie. Hy het aan niks meer behoefte nie.

Laat ons ook soos koning Dawid opstaan en sê:  Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die dood is die saaisak, om saad te saai vir God se somer

SKRIFLESING:  1 Kor 15: 35 – 58

Prof Johan Cilliers vertel dat sy oupa begrawe lê op ’n familieplaas in die omgewing van Kuruman. Sy ouers vertel hom dat op ’n stadium, lank nadat die familieplaas verkoop is, die familie besluit het om ’n besoek te bring aan die familie-kerkhof, wat in ’n rustige uithoek van die plaas geleë was. Groot was hulle skok om te sien hoe verwaarloos dit was. Die ergste was die gesig van ’n jong boom wat in die middel van sy oupa se graf gegroei het. Die boom was so groot dat die voëls al kon nesmaak en die boom het al ’n skaduwee oor die graf gegooi. Dit kon mos nie. Hoe kon ’n boom in die middel van ’n graf opkom? Hulle ontsteltenis het later plek gemaak vir verwondering. Is dit nie juis die simbool dat die liggaam wat dood is, ’n wederopstanding beleef in ’n nuwe gedaante nie? Daar kom lewe uit die dood. Dit is immers die roemtaal van Paulus in 1 Kor 15: 35 – 58.

Die hele skepping is bewys van die lewendmakende herskeppingswonders van die natuur. Al die plante, gras, bome en struike wat jou tuin so mooi maak, was eers ’n ander gedaante. Dit moes van gedaante verander om te kan lewe. Daarom beskryf Paulus dat ons van gedaante moet verander, soos wat ’n koringkorrel in die grond val en sterf en in ’n nuwe gedaante, in die gedaante van ’n plant, opkom. So wonderbaarlik soos dit is, so wonderbaarlik is die opstanding uit die dood.

Luther het dikwels na die begraafplaas as God se saailand verwys. Met die dood word die mens se ou liggaam gesaai in die grond, sodat dit in ’n nuwe geestelike liggaam verrys.

Luther het aangrypend hieroor geskryf in ’n reeks preke oor 1 Korintiërs 15, tydens die Adventstyd van Desember 1532. Luther skryf dat tydens die saaityd dit lyk of die saad verlore gaan, uitgelewer word aan wind en weer en die wurms van die aarde en die voëls van die lug, maar laat die somer net kom en jy sien hoe dit groei.

Martin Luther skryf voorts: “ Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklike dóód nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer. En die begraafplaas is nie bloot ’n bergplek vir die dooies nie, maar ’n landery vol saad, God se saad; nie ’n versameling van geraamtes nie, maar ’n plek van somerbelofte …”  (Johan Cilliers)

“God is groter as enige saaier op aarde. Die saad wat Hy saai, is die mense. Hy dra ’n saadsak, gevul met mense-saad van Adam tot op die laaste dag. Wanneer ons mense sien sterf, is dit God wat Sy hand in die saaisak sit en ’n handvol om Hom op die grond gooi.” (Johan Cilliers)

So het Jesus Christus met sy kruisdood ook in die grond geval en gesterf. Maar Hy het ’n groot oes ingebring. Daarom staan daar in Joh 12: 24 die volgende: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug.” Daarom is Christus die eersteling van die oes. Jesus is die eerste saad wat gesaai is en opgestaan het uit die dood, om vir ons die pad voor te berei na God se ewige somer.

Uitdruklik verklaar Paulus dat ons liggame van vlees en bloed nie deel kan kry aan die Koninkryk van God, mits ons verander in nuwe geestelike liggame nie. Paulus verklaar ook dat die nuwe baie beter is as die oue. Paulus verduidelik dit as volg in 1 Kor 15: 42 – 44: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid;   wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word,  is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word,   is ’n geestelike liggaam.   As daar ’n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam.”

Dit is ons blye versekering, ons is God se somersaad. Ons is bedoel om in God se somer te blom. God se somer wat geen einde het nie. 

Daarom moet ’n kerkhof of ’n begraafplaas ons nie morbied laat nie. Sê eerder saam met Kohlbrugge, ’n predikant uit die vorige eeu: “Daarom, wanneer ek sterwe … en iemand vind my skedel, laat hierdie skedel dan aan hom verkondig: ek het geen oë nie, nogtans sien ek Hom; ek het geen brein of verstand nie, nogtans ken ek Hom; ek het geen lippe nie, nogtans kus ek Hom, ek het geen tong nie, nogtans prys ek Hom … Ek is ’n harde skedel, nogtans is ek gesmelt in sy liefde; ek lê hier op God se akker, nogtans is ek in die paradys.”

Eugene Peterson stel dit so mooi in The Message: “Death is swallowed by triumphant Life! Who got the last word? Oh, death? Oh, death, who’s afraid of you now?”

Op daardie eerste Paasoggend is die dood van sy oorwinning beroof.

Jerry Sittser vertel dat in die herfs van 1991 ’n motor wat deur ’n dronk persoon bestuur is, in sy baan ingeslinger en kop-aan-kop  in sy minibus vasgery het. Sittser en drie van sy kinders het oorleef, maar Sittser se vrou, vierjarige kind en ma is in die ongeluk dood. Oor die jare het Sittser ’n paar diepgaande besinnings oor verlies, hartseer en lyding aangebied. In sy boek “A Grace Revealed” deel Sittser die volgende storie oor hoe sy seun David op die tragiese ongeluk gereageer het. Sy seun het eenkeer terwyl hulle op pad skool toe was, skielik gevra: “Dink Pa dat Ma ons nou sien?” Jerry Sittser het stilgebly om te dink. “Ek weet nie, David. Ek dink miskien sien sy ons. Hoekom vra jy?” David antwoord: “Ek sien nie hoe sy kan nie, Pa. Ek het gedink die hemel is vol geluk. Hoe kan sy dit verduur om ons so hartseer te sien?”

“Ek dink sy sien ons wel,” het Jerry Sittser uiteindelik gesê. “Maar sy sien die hele storie, insluitend hoe dit alles goed gaan uitdraai. En dit is vir haar pragtig. Dit gaan ’n goeie storie wees, David.”

Sittser het in die nadenke daaroor in sy boek bygevoeg: “Ek sal nie waag om die aantal kere wat ek gevra is, te skat nie: “Hoe spreek die Christendom die probleem van lyding aan?” … Die Christelike antwoord op lyding [is] Christus se lyding [en] Christus se opstanding … God ken pyn in Homself; God ken vreugde in Homself. Hy ken die hele storie as een, insluitend hoe dit alles uitdraai, wat inderdaad heerlik is.”

So ken God ons hartseer en ons sterwe, maar Hy weet ook hoe dit alles gaan uitdraai. God weet die dood loop uit op die ewige lewe.

Die dood is ons vyand, maar, soos die wet, is dit ook ’n skoolmeester wat ons na Christus lei. Die dood se harde les ontbloot die ware aard van sonde. Inderdaad, die wet en die dood is vreemde bondgenote in hierdie geheimsinnige werk om ons na Christus te lei. In die hande van God spoor die wet en die dood ons aan om na Christus te draai vir verligting van die dood se angel.

Daarom is die dood soos die Begrafnisformulier dit stel, ’n herinnering dat jou eie dood ook kom en dat jy daarom in gebondenheid met die Here moet leef. Jy hoef egter nie in vrees te lewe nie. Die dood is oorwin. Die dood is die saaisak om saad te saai vir God se somer. Jy is God se saad, geroepe tot die ewige heerlikheid.

Claudette het die groot terugslag in haar lewe baie goed verwerk en sy was nie daaroor verbitterd nie. Ten spyte van haar ongeluk jare gelede, was sy nooit opstandig nie. Sy het ’n kind van die Here geword en selfs evangelisasie-werk gedoen. Met haar groen driewielfiets was sy ’n legende in die dorp. Haar aangename persoonlikheid sal baie gemis word. Haar humorsin was altyd haar sterk punt. Boonop het sy haarself nooit jammer gekry nie. Sy het haar gestremdheid met waardigheid gedra en vir ons almal ’n voorbeeld gestel, om altyd in moeilike omstandighede só op te tree. Sy was werklik vir ons almal ’n inspirasie.

Claudette is nou by haar hemelse Vader. Daarom kan ons getroos wees.                                           AMEN   

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Van tentwoning na ewige woning

SKRIFLESING: 2 Kor 5: 1 – 10

Ek hou daarvan om vir ’n kort vakansie in ’n tent te bly. Dit is heerlik. Maar net vir ’n kort tydjie. Dan verlang ek na ’n huis, met al sy geriewe.

Paulus was ’n tentmaker en het dus die beeld van die tentwoning baie goed verstaan. Hy het geweet dat ’n tent maar tydelike huisvesting verskaf. Die tent word mettertyd verbleik en dit skeur, die toue breek af en dan stort die tent ineen. Dit is slegs ’n tydelike woonplek. Dit kan nooit ’n permanente woonplek wees nie.

Toe die volk Israel deur die woestyn getrek het vir 40 jaar, was hulle woonplekke  tente. Dit was tydelik, aangesien hulle op trek was. Hulle het verlang daarna om die beloofde land binne te gaan en vir hulle permanente wonings te bou, van stene. Die volk het uitgesien na die gerief van ’n permanente woning.

Daarom was die tabernakel op die woestyntog ook ’n tent, wat vertel dat dit ’n tydelike maatreël was. Hulle het verlang daarna dat die tabernakel vervang sou word deur die tempel, wat Salomo uiteindelik gebou het.

’n Tent is simbool van iets tydeliks. So is ’n mens se liggaamlike lewe ook tydelik en kortstondig. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is 70 jaar. Alles daarna is genadejare. Sakkie het nog twee genadejare bygekry.

Maar die afgelope paar jaar het ons gesien hoe Sakkie Rheeder se aardse tentwoning vinnig agteruit gegaan het. Sy liggaam  het verswak en die tent het begin skeur. Op 21 Junie 2024 het sy tentwoning ineengestort en het hy ’n permanente woning gekry by sy hemelse Vader.

’n Tentwoning is ongerieflik. Dit is òf te koud òf te warm, die wind waai teen die flappe daarvan, die stof waai in en dit reën in. So is die aardse lewe ook vol aardse swaarkry en sorge. Die aardse lewe is nie altyd gerieflik en aangenaam nie. Die mens bring met sorge sy lewensdae deur.  

Dit kan ook gebeur dat ’n mens die aardse lewe in die tentwoning so geniet dat jy nie verlang na die hemelse woning nie. Die meeste mense wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie sterwe nie.

Tog, in ons gelese gedeelte verlang Paulus na die hemelse permanente woning – want dit is verreweg die beste. In vers 5 staan daar dat die Here ons voorberei om afstand te doen van die aardse tentwoning en ons voorberei om die hemelse permanente woning te betree. Soos ’n mens ouer raak, lewe jy al “kleiner”. Jy maak jouself algaande los van die aardse dinge. Jy kan selfs by die punt kom dat jy verlang dat die Here jou moet kom haal om na jou ewige lewenswoning te gaan.

Psalm 23: 6 praat ook van die “ewige huis” waarheen ek op pad is. Die skape van Psalm 23, wat die gelowiges is, woon in die veld met al die ontberings van die oop vlaktes, koue, hitte, roofdiere, diewe en so meer. Maar hulle word op die ou end eregaste wat woon in die Huis van die Here tot in lengte van dae. In Psalm 23 transformeer die skape in weivelde na eregaste in die “huis van die Here tot in lengte van dae”. Veilig en beskut in die Here se permanente woning.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.”

So het die dood nie meer ’n houvas op my nie. Sakkie Rheeder het nie die ewige dood gesterf nie. Hy is veilig by die Here.

Die geleidelike aftakeling van sy liggaamlike gesondheid was vir ons almal ’n groot skok. Daarom is ons verlig dat hy verdere lyding en agteruitgang gespaar is deur sy dood. Ons is verheug dat hy verlos is en by die Here is, in ’n volmaakte geestelike liggaam. Dit is ons troos en berusting.

Thomas Brooks skryf dat die dood eintlik God se sagmoedige helper is. Dit word die Moses wat ons uit die lewe (die plek van slawerny) verlos en na die ware ewige lewe in Christus bring.

Sakkie Rheeder se tydelike tentwoning het plek gemaak vir die gerief van ’n permanente woning.

Ons vier sy lewe. Ons vier sy nagedagtenis.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Peter Joshua, Leadership, Vol. 7, no. 4.

Lee Eclov, in the sermon: It Doesn’t Sting Anymore, PreachingToday.com

Diensbaarheid teenoor verheerliking

SKRIFLESING: Mark 9: 2 – 9 en Johannes 13: 1 – 17 en Johannes13:  34 – 35.

Ek het ’n negentiende-eeuse verhaal gelees van ’n meisie wat op pad was van Ierland na Sussex in Engeland om by Hertog Henry van Arundel Castle te werk op die aartappellande. Haar nuwe werkgewer was die vyftiende hertog van Norfolk. Hertog Henry was baie lief vir werk en het baie dikwels saam met sy arbeiders gewerk op die aartappellande.

Die meisie, haar naam word nie genoem nie, het op die stasie aangekom. Haar besittings was in ’n baie groot tas verpak – veels te swaar vir haar om te dra. Die kasteel was ’n paar kilometer heuwel-op en sy sou dit beslis nie alleen regkry met die swaar tas nie. Op die stasie het sy na ’n kruier geloop en vir hom gevra om haar te help: “ Meneer, asseblief Meneer, sal u my nie met my tas help nie? Ek kan dit nie so maklik dra nie. Sien, my broer in Londen het my daar gehelp …” Die kruier het nie eers opgekyk nie. Hy was slegs in goeie fooitjies geïnteresseerd. “Wat kan jy betaal?” wou hy kortaf weet.

“’n Sjieling (10c), meneer, dis al wat ek het. Maar ek sal Meneer die hele sjieling betaal.” Die kruier het uitbundig gelag: “ ’n Sjieling! Jou klein dwaas. Jy’s van jou sinne beroof. Vir ’n sjieling sal ek nie eers jou tas tot in die straat dra nie. Wie dink jy is jy? Dra jou tas en skoert!”

Die Ierse meisie was verslae. Sy het gereken dat ’n sjieling baie geld was, daarom het sy dit so sorgvuldig gebêre.

Maar ’n man in gewone arbeidersklere het die hele petalje so eenkant staan en aanhoor. Hy staan nader en vra haar: “Kan ek dalk help, juffrou?” wou hy weet. “Ag, asseblief Meneer, ek moet na die kasteel gaan. Ek het daar werk gekry, maar my tas is so swaar. Kan Meneer my nie miskien help nie? Ek sal Meneer ’n sjieling betaal …”  (En sy wys vir hom die muntstuk.)

Die vreemdeling het haar tas stilswyend opgetel en langs die meisie begin aanstap na die kasteel. Voor die poort van die kasteel het die meisie vasgesteek en gesê: “Toemaar Meneer, hiervandaan sal ek self regkom.” Sy gee hom die muntstuk en hulle groet. Die man stap toe aan, na die aartappellande. Sy dink toe maar dat hy ook een van die arbeiders is.

Die volgende oggend moes sy voor die hertog verskyn. Sy stap deur die sale en verkyk haar aan die eeue-oue skatte wat deur geslagte van ridders versamel is. Uiteindelik swaai die swaar houtdeure oop en daar staan die hertog voor haar. Geskok kyk sy na hom … Dit is die man wat haar tas help dra het en sy het hom nog met ’n sjieling betaal ook. Die hertog het net geglimlag en gesê dat hy graag mense help en hulle het mos vir ’n sjieling ooreengekom.

’n Pragtige verhaal van iemand wat groot is, maar nie bang is om te dien nie.

Of ’n meer onlangse voorbeeld wat na 1994 in Johannesburg afgespeel het: ’n Vrou in ’n spogwoonbuurt in Johannesburg se motor wou die wintersoggend nie vat nie. (Gewoonlik battery-probleme.) Sy wink ’n swartman nader en vra: “Outa, wil jy nie gou vir my die kar stoot nie – ek is laat vir werk.” Vriendelik willig hy in en help haar om die motor aan die brand te stoot. Sy stop hom R1 in die hand en sê dankie. ’n Week later vind sy uit dit is haar nuwe buurman en hy is ’n advokaat in die Randse Hooggeregshof. Toe sy by die asbesheining kennis maak en om verskoning vra, glimlag hy en antwoord: “Toemaar, Mevrou ons sukkel almal maar nog om aan die nuwe Suid-Afrika gewoond te raak.”

Ware groot mense is nie bang om te dien nie. Die skopus van die preek is: Diensbaarheid teenoor verheerliking.

In die Markus Evangelie is Jesus Christus natuurlik vir ons die allerbeste voorbeeld. In ons gelese gedeelte word daar op die berg die grootheid en die koninklikheid van die Here Jesus openbaar. Wanneer Sy klere skitterwit verander en Sy aangesig verander en hy saam met Elia en Moses verskyn word die Gans Andersheid van Jesus Christus openbaar. Christus Jesus is nie van die skepping nie. Hy is nie van die stof van die aarde nie. Sy afkoms is Goddelik en Hy sal eendag weer verheerlik word as die opgestane Seun van God. Eintlik was hierdie ’n stuk profesie dat Jesus Christus na Sy lyding uit die dood sou opstaan. Dit was ’n stuk heerlikheids-aankondiging van die uiteindelike heerlikheid wat vir die Seun van God wag. Die stem uit die wolk het dan ook duidelik aangekondig: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”

Petrus, Jakobus en Johannes was so aangedaan deur hierdie hemelse openbaring – dit was vir hulle iets uit ’n ander wêreld. Petrus, stomgeslaan, sê: “ Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

Eintlik wou Petrus hierdie hemelse ervaring vries. Hierdie oomblikke van heerlikheid moes nie verby gaan nie. Kom ons bou hutte, ’n kasteel om hierdie heerlike ervaring vir ewig vas te vang. (Hulle kon nie ’n foto neem nie – maar dalk kon hulle die Here Jesus oortuig om saam met Moses en Elia te bly.)

Dalk wou die dissipels die Here die lyding en die selfverloëning spaar – daarom wou hulle vir Hom op hierdie plek van aanbidding ’n hut bou, saam met die hutte van Moses en Elia.      

Die Here het egter gekom om te dien en nie om gedien te word nie. Hy het gekom om vir ons ’n tuiste (’n kerk op die aarde en ’n woning eendag in die hemel) te skep en nie dat ons vir Hom ’n hut moet bou nie.

Daarom verdwyn die wolk en die stem; en die gedaante en klere van die Here Jesus word weer doodgewoon. Die Here Jesus verbied hulle vir eers om daaroor te praat – want, eers moet die Seun van die mens dien en ly.

Die Here Jesus het die siekes, die blindes, die kreupeles, die armes en die sondaars gedien. Hy het voete gewas en gesê ons moet soos kindertjies wees. Hy het gepraat van diens en selfverloëning en gehoorsaamheid.

Jesus Christus is ’n Koning – maar Hy het gedien soos ’n slaaf.

Ons is koningskinders – maar ons moet slawe vir mekaar wees.

Daarom word ’n geestelike lewe van heerlikheid afgewys en ’n geestelike lewe van gehoorsaamheid, gedienstigheid en dissipelskap bepleit.

Die Here Jesus het in doodgewone klere en in doodgewone omstandighede gedien. Daarom het so min mense Hom erken as die Messias. Maar deur Sy doodgewone diens het Hy die wêreld onherroeplik verander. Soos die meisie met die tas nie die hertog herken het nie, so het die mense in die tyd van die Here Jesus, Hom ook nie herken as die Messias nie.

Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie? Dit bring ons by Johannes 13. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir Sy dissipels ’n les in Johannes 13: 1 – 17. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en Sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ’n maaltyd.

Hierdie maaltyd was dan ook die geleentheid waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer oor die naderende kruisdood van Jesus, is hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere-posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is. Wie bedien sal word en wie sal dien. So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ’n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die selfgesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ’n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe Hy Sy bokleed uittrek, op Sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ’n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ’n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ’n slaaf kom doen. Hierdie voetwassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van Sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met Sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid om te dien.

Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het Sy alles, tot Sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:

* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

* Soos Ek julle gedien het, moet julle mekaar dien.

Bid en vra die Here Jesus om ook vir u en my ’n geaardheid van diensbaarheid te gee.

Verheerliking wag eendag vir ons. Maar nou moet diensbaarheid ’n deel van ons karakter en lewe wees. Diensbaarheid is om uit te reik na ander mense en hulle te help. Ons moet nie in ons eie “borrel” sit en niks met ander mense te doen te wil hê nie. Gemaksones is gevaarlik, want jy wil alleen maar net oorleef. Jy moet uit jou gemaksone beweeg en ’n verskil maak in ander mense se lewens.

Verheerliking later, nou diensbaarheid!

Nie deur die septer nie, maar deur die kruis het die Here Jesus die wêreld verander. Sy heerlikheid het Hy verberg en vir Sy dissipels gesê om vir eers nie daaroor te praat nie. Nie met heerlikheid nie, maar met nederige diens het Hy die wêreld verander.

Ons verwag ’n koninklike geboorte, maar vind ’n krip.

Ons verwag ’n groot aanhang, maar vind verraad.

Ons verwag ’n Halleluja-koor, maar vind ’n kreet: “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Ons verwag koninklike klere, maar vind naaktheid.

Ons verwag eerbetoon, maar vind sweepslae.

Ons verwag ’n rosekrans, maar vind ’n doringkroon.

Ons verwag ’n troon, maar vind ’n kruis.

Daarom herken so min mense die Hertog van die hemel, die Hertog wat kom dien het. Mag ons Hom weer opnuut herken in sy vreemde gestaltes.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)