SKRIFLESING: Mat 28: 16 – 20 En Handelinge 1: 6 – 14
Ek lees die volgende interessante opmerking oor Jesus se Hemelvaart. Hy het nederig die wêreld ingekom as baba in ’n krip in ’n stal, maar het die wêreld triomfantelik verlaat met Sy Hemelvaart. So anders as baie van die bekendes van ons tyd wat triomfantelik begin en skandalig eindig.
Maar het Jesus ons regtig verlaat? Beteken dit dat Jesus nie meer “mens” is nie? Het Sy Hemelvaart ’n einde gemaak aan Sy “inkarnasie” en Sy vleeswording? Waar is Jesus nou? Wat doen Jesus nou?

Ons verstaan ook nie die wolk op die Olyfberg waarin Jesus opgeneem is heeltemal reg nie. In die Ou Testament was die wolk nie ’n teken van God se afwesigheid nie, maar juis van Sy teenwoordigheid!
Wat belangrik is, is dat ’n mens Jesus nie behoorlik kan verstaan sonder die Hemelvaart nie. Ongelukkig is die Hemelvaart die “Aspoestertjie” en die mees verwaarloosde kerklike feesdag op die Christelike kalender.
Jesus se heerlikheid was verborge gedurende Sy aardse verblyf, met een kortstondige uitsondering, die verheerliking wat op die berg geskied het saam met Moses en Elia (Matt 17:1 – 9).

Die Hemelvaart van Jesus het die uitstorting van die Heilige Gees moontlik gemaak. En die Gees is juis die Een wat ons vul met krag en liefde en oortuiging sodat ons dissipels vir Jesus Christus kan wees. Daarom vier ons tien dae na Hemelvaart, Pinkster om die uitstorting van die Gees te gedenk. Hemelsvaartkerk in Jerusalem
Met Sy hemelvaart het die Vader die doringkroon van Sy Seun se kop gehaal en vir Hom ’n Koningskroon opgesit en Hom laat sit aan Sy regterhand. Van lyding na heerlikheid! Van doringkroon na Koningskroon!

Met Sy Hemelvaart sit Jesus aan die regterkant van die Vader, in ’n regerende posisie. Jesus Christus was die allerhoogste Hoëpriester wat selfs Sy lewe geoffer het om ons sonde weg te neem. Omdat Hy Sy werk klaar gedoen het, kon Hy opvaar na die hemel en gaan SIT aan die regterkant van die Vader. Let op Jesus STAAN nie meer nie, Hy SIT nou, Sy werk is afgehandel (Ted Olsen). Hy regeer oor hierdie stukkende wêreld met Sy genade en oordeel. Hy sorg dat daar nie ’n haar van ons hoof sal val waarvan Hy nie weet nie. In Sy regerende posisie help Hy ons elke dag met alles wat ons in gebed na Hom toe bring. Hy regeer oor ons lewens. Eendag sal Hy kom en oordeel tussen goed en sleg. Dan sal Hy finaal ’n einde kom maak aan die gebrokenheid en stukkendheid van hierdie wêreld. Jesus regeer alreeds en sal met Sy wederkoms ’n nuwe aarde en hemel tot stand bring.
Dr Coenie Burger het uitgebreid geskryf oor die hemelvaart met die vraag of Jesus nou weg is. Dit sou ’n groot fout wees om te dink dat Jesus weg is en nou net in die hemel is. Dit sou so sleg wees soos indien ’n afrigter van ’n rugby-span op die dag van die wedstryd afwesig sou wees as sy span speel. Die span sou nie kon staatmaak op sy fisiese teenwoordigheid en morele ondersteuning nie. Hulle sou net kon rugby speel op grond van wat hy hulle geleer het. Die span sou maar baie eensaam en alleen die wedstryd moes speel.
Maar hoor wat sê die Bybel in Mat 28: 20: “ Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het, En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Verder sê Mat 18: 20: “…. want waar twee of drie in My Naam is, daar is Ek by hulle.”
Helmuth Thielicke skryf aangrypend oor die hemelvaart van die Here Jesus Christus: “ The ascension does not mean that Jesus leaves us; on the contrary, it means that He comes terribly near to us. The boundary between this world and the Beyond which He has passed on Christmas night, is just being crossed once again and in a new way.”
Ons lees dat met die bekering van Paulus, die Here Jesus self aan hom verskyn het in persoon en ook aan Ananias wat die Here se boodskap aan Paulus moes bring.
Luke Johnson skryf: “ In Acts, the presence of the resurrected Lord is just as strong after the ascension as before; indeed stronger.”
Die hemel is nie ’n veraf, onwerklike plek nie. Nee, die hemel is net in ’n ander dimensie, baie naby aan ons. Wanneer ons eendag sterf, sal ons wat nou onsienlik is, kan sien met ons nuwe geestelike liggame.

Kom ek verduidelik dit so aan u. Ons glo aan die twee nature van Christus, naamlik Sy Goddelike natuur en Sy liggaamlike natuur. Met Kersfees het Christus, wat Goddelik is, kom mens word. Met Sy Hemelvaart het Sy liggaamlike persoon opgevaar om te sit aan die regterhand van God. In Sy Goddelike natuur is hy egter nog steeds by ons, al is dit onsigbaar. Dit is natuurlik bevrydend. As Jesus net in Sy liggaam by ons was, was dit beperkend. Hy sou hoogstens by ’n paar mense op ’n slag op een plek kon gewees het. Hy sou dan met ander woorde net in Johannesburg kon wees en nie ook by ons hier op Adelaide of Fort Beaufort nie. Die feit dat Hy in sy Godheid by ons is, het die troos dat Hy altyd in alle omstandighede by almal gelyktydig kan wees. Hy kan tegelykertyd in Adelaide, Fort Beaufort, Johannesburg, Washington, Moskou en op enige plek in die wêreld wees.
Daarom is die Heilige Gees nie ’n plaasvervanger vir Jesus nie. Die Gees vervang op geen manier vir Jesus nie, maar maak juis vir Jesus “toeganklik” vir ons. Christus is in Sy Godheid by ons en Hy doen Sy werk in ons. Christus werk kragtig in ons. (Coenie Burger)
Maar met Sy Hemelvaart het Christus Sy kerk op Pinkster-Sondag bymekaar geroep, omdat Christus self “’n gemeenskap van gelowiges” bymekaar geroep het en hulle so vertrou het dat Hy van die kerk verwag om in “Christus se vlees” teenwoordig te wees in dié wêreld. Peterson skryf dat die profete en die apostels almal dele van die Bybel geskryf het. Maar Christus het geen boek geskryf nie. Hy het egter die “gemeenskap van gelowiges” gestig. Van hierdie gemeenskap van gelowiges verwag Hy om Sy “vlees” te wees op hierdie aarde.
Daarom moet daar by ons ’n stuk inkarnasie plaasvind. Ons moet as’t ware meer menslik word, sodat ons goddelik kan optree. Ons moet as’t ware Christus beliggaam of embody. Mense moet in ons die lewende en opgestane Christus kan raaksien.
Ons moet Christus se vlees op aarde wees. Ons moet Christus se hande, voete, oë en liggaam wees in die wêreld.
In Europa was daar in ’n dorp ’n pragtige begraafplaas met ’n Christusbeeld in die middel van die begraafplaas. Die beeld het uitgestrekte hande gehad. As gevolg van hewige bombardement in die Tweede Wêreldoorlog het die hande afgebreek. Na die oorlog wou die stadsvaders die beeld afbreek. Want hoe lyk ’n Christusbeeld sonder arms nou? Een kerkvader het egter die simboliek raakgesien. Hulle het toe ’n marmerplaat onderaan die Christusbeeld aangebring met die woorde: “Jy is my arms in hierdie wêreld.”

Die Hemelvaart sê ook vir ons God is in beheer. Al lyk dit asof die wêreld buite beheer is, Jesus sit op die troon. Hy het die troon bestyg. Hy regeer as Koning. Die tyd na die Hemelvaart is die tyd van die kerk; dit is ook die eindtyd. Dit is die tyd waarin God in Sy geduld die kerk in die wêreld instuur om aan die wêreld die boodskap van die evangelie te bring. In Woord en daad moet die Evangelie gebring word. Daarom kan ons hierdie tyd die tyd van die Woord en Gees noem. Ons leef in die missionale tyd, waarin die kerk moet uitreik na die wêreld.
Met Hemelvaart kom gee die Here vir die kerk werk om te doen. Hiermee moet ons elke dag besig wees.
Jesus Christus het opgevaar na die Vader. In Sy vlees is Hy by die Vader, maar in Sy Godheid nog met ons. Daarom moet ons Jesus se “vleeslikheid” sigbaar maak deur sy hande en voete te wees in hierdie wêreld.
Van doringkroon tot Koningskroon! Onder die Here se Koningskap sal ons floreer. Deur Sy Koningskap wil die Here ’n seën vir die nasies wees, sodat ons ’n seën vir ander mense kan wees. Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
