SKRIFLESING: Mat 5: 8
Dikwels verstaan mense die sesde saligspreking baie negatief. So asof jy ’n klomp goed nie mag doen nie. Beteken dit om rein van hart te wees, om ’n bleeksiel te wees?
Die ou Joodse reinigingswette in Deuteronomium het baie bepalinge en regulasies gehad oor die aanraking van dooies, siekes, melaatses, onrein diere en so baie meer. Wanneer ’n vrou byvoorbeeld menstrueer, was sy vir ’n paar dae onrein. So was daar honderde wette wat bepalings gehad het oor wanneer jy rein is of wanneer jy onrein is.
Dit verklaar ook waarom in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, die priester en die profeet wat op pad tempel toe was, verby die man gestap het wat beroof was. Veronderstel dat die beroofde man dood was en hulle het hom aangeraak, dan kon hulle nie in die tempel ingaan nie.
Daarom was reinheid in die Ou Testament veral ’n uitwendige handeling. Daarteenoor het Jesus in die Nuwe Testament klem gelê om innerlike reinheid.

Daarom sê Jesus in Mat 23: 26 en 27: “Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees. ‘Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van onreinheid.’”
Jou hart, jou innerlike, moet aan God veranker wees met opregte reinheid.
Eintlik gaan dit oor ’n totale oorgawe of commitment aan die Here! Om die Here met ’n onverdeelde hart te dien. Ons harte kan dikwels verdeel wees tussen baie afgode. Calvyn het gesê ons hart is ’n afgodefabriek. Ons produseer gedurig vir ons nuwe afgodjies wat ons aanbid. Ons kan verskillende wêreldse goed hê wat vir ons afgode word. Ons hunker na nog goed, na nog iets in die lewe. Ons harte word onrein van te veel goed in ons harte. Te veel goed wat ons aandag aflei van die Here.

“Die Deense filosoof-teoloog Kierkegaard sê dat Christene mense is wat rein van hart is, omdat hulle lewe op een saak gefokus is (Purity of heart is to will one thing). Rein harte beteken nie om sonder sonde te wees nie. Om rein van hart te wees beteken dat ons gedagtes en lewe gefokus sal wees op die koninkryk en die wil van God – Matt 6:33” (Dr. Annes Nel).
’n Rein hart is nooit ’n afgehandelde saak nie. Dit is deel van daaglikse heiligmaking. Dit is om elke dag al meer onder die beheer van die Heilige Gees te lewe. Dit is voortdurende toewyding aan die Here.

Gereelde selfondersoek is baie belangrik. Soos wat ’n beeldhouer met sy hamer en beitel uit ’n stuk hout of marmer vir hom ’n beeld uitbeitel, is die Gees elke dag besig om aan ons te beitel, sodat ons al meer die beeld van God word.
Daarom sê die eerste gebod van die opsomming van die Wet: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand.” Daar moet nie plek wees vir verdeeldheid as gevolg van ander afgode nie. Anders word jou hart onrein van die afgode.

Daarom as koning Dawid bid: “Here, gee vir my ’n rein hart”, bedoel hy ’n onverdeelde hart wat net aan die Here behoort. Eers was Dawid se hart verdeel, toe hy owerspel met Batseba gepleeg het. Hy wou sy sonde wegsteek deur Batseba se man doelbewus te laat sterwe op die slagveld. Sy owerspel en moord het sy hart weggedryf van die Here. Sy hart was nie meer rein nie. Sy hart was verdeeld. Hy het die Here nie meer ervaar in sy lewe nie. Hy het skielik verwyderd van God gevoel. Hy het God se Gees nie meer beleef nie. ’n Onrein hart bring altyd verwydering tussen jou en God, sodat jy God nie meer kan sien nie.
Dawid wou God weer sien en beleef. Daarom bid hy dat die Here vir hom ’n rein hart sal gee, wat net op die Here gefokus is.
Jou hart is onrein as jy jou verlustig in ander mense se skande, sondes en mislukkings. As jou tong kwaad praat of skinder oor ander mense, is jou hart onrein. Jy bedink nie rein gedagtes oor ’n ander persoon nie. Maar as jy meegevoel en empatie het met ander mense se skandes en val, dan is jou hart rein, want jy wil graag die beste vir jou medemens hê.
Daarom volg die sesde Saligspreking die vyfde Saligspreking. Eers as jy barmhartig geword het, sal jy ook outomaties rein van hart word.
As jy onrein van hart geword het, sal jy jou vermoë om waarlik lief te hê verloor.
Iemand wat rein van hart is, sal ook nie jaloers wees as iemand uitstyg in die lewe of sukses behaal nie. Hy sal saam met die persoon vreugdevol en bly wees.
Ons denke moet ook rein wees. Daarom sê Paulus in Filippense 4 : 8 die volgende: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”

Ons moet ons liggame ook rein hou. Ons leef in ’n wêreld waar mense hulle oorgee aan sedelose liggaamlike vermaak en genietinge. Dan staan daar in 1 Kor 6: 19 – 20 die volgende: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.”

Ons is so gejaagd, soos ’n muis op een van hierdie ronde wieletjies wat in die rondte hardloop. Hoe meer ons hardloop, hoe minder kom ons êrens. Hoe kom ek los van al hierdie afgode en gejaagdheid na wind?
Dit kan alleen plaasvind deur ’n baie ingrypende vereenvoudiging van ons lewe. So kan my hart weer rein word.

Daar is ’n uitdrukking “Less is more!” Ek moet weer leer om op die regte goed te konsentreer. Ek moet my lewe her-prioritiseer, sodat ek met die belangrikste goed besig is.
Daar is die bekende Paretto beginsel. Dit gaan daaroor dat ’n mens jou dikwels kan besig hou met 80% onbelangrike goed en slegs ’n positiewe uitset van 20% kry. Maar as jy slegs 20% tyd spandeer aan die belangrikste goed het jy ’n positiewe uitset van 80%.
Die eerste Christene het ’n baie eenvoudige lewe gelewe. Hulle het ’n sobere lewe gehad. Hulle het die basiese belangrikste 20% gedoen en die wêreld verander. Daarom het Richard Foster ’n boek geskryf met die bekende titel Freedom of simplicity. Die kern van sy boek gaan oor minimalisme. Ons moet ons lewens vereenvoudig. Ons kan met minder goed ’n baie eenvoudiger lewe voer. Hoe eenvoudiger, hoe minder stres, hoe minder foute, hoe minder gejaagd en hoe minder kompleks jy lewe – hoe beter vir ons geestelike lewe.
Daarom gaan ’n werklike diep en rein verhouding met die Here altyd gepaard met eenvoud. Reiniging van die hart is ’n pynlike operasie, omdat ’n hele klomp van ons ydel begeertes, wense en drome moet sterf in die proses. Wat is die wins?: Dat ons God helder kan sien.
Moeder Theresa het ten spyte van haar roem eenvoudig gelewe. En as ’n mens na haar kyk, kan jy in haar oë sien dat sy in haar eenvoud regtig gelukkig en tevrede is.
Die sesde saligspreking het ook ’n beloning. Jacques Philippe skryf: “ ‘Gelukkig is die reines van hart, want hulle sal God sien, kan andersom omgedraai word: ‘Gelukkig is dié wat God sien, want hulle sal hul harte rein hou.’ ”
Mag ons met rein harte na ander mense kyk, sodat ons ook God in hulle kan raaksien en werklik gelukkig wees. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
BRONNELYS
Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.
Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.















































