SKRIFLESING: Luk 15: 11 – 32
Dit gaan in hierdie gelykenis oor ’n liefdevolle God en Sy twee probleemseuns. Die een is ’n wegbreek-seun (wêreldling) en die ander een is die tuisbly-seun (kerkmens). Waarom het die Here Jesus hierdie gelykenis vertel? Die antwoord vind ons in vers 1 en 2 van Luk 15. Die wegbreek-seun is eintlik die tollenaars en die tuisbly-seun verwys na die Fariseërs. Kom ons kyk na die twee seuns:
- Eerste probleemseun is ’n wegbreker
Die eerste seun eis sy gedeelte van sy erfporsie op. Hy wil hê dat sy pa se besittings verdeel word, tot nadeel van sy pa.
Erfeniswette in Israel is ontwerp om die ouer seun te bevoordeel, en gee hom ’n dubbele deel (waarskynlik met die doel om ’n familie se grondbesit bymekaar te hou en die familieplaas ongeskonde te bewaar (Numeri 27:8–11; 36:7–9; Deuteronomium 21:17). As daar vier seuns was, sou die ouer seun twee aandele ontvang, en elk van die ander drie seuns een aandeel elk. Tipies sou die ouer seun die eksekuteur wees en die rol as familiehoof na sy pa se dood aanvaar. Soms het ’n ouer seun besluit om nie die familieplase tussen die broers te verdeel nie (Lukas 12:13). (Ralph F. Wilson) Waarskynlik sou die gelykenis daarop sinspeel dat die wegbreek-seun een derde van sy pa se goed ontvang en sy ouer broer op twee derdes kon aanspraak maak.
Die verdeling van ’n vader se boedel voor sy dood was bekend, maar is deur die Ou Testament afgekeur. In hierdie geval sou die eiendom oorgaan na die seuns, maar die vader sou voortgaan om die vruggebruik te geniet, dit wil sê, “die reg om die winste te benut en te geniet asook die voordele van iets wat aan ’n ander behoort, solank die eiendom nie beskadig of verander word nie.” (Ralph F. Wilson)
Die feit dat die jongste seun sy deel van sy erfporsie opeis, getuig van ’n swak verhouding tussen hom en sy pa. Die seun het sy deel gevat en weggebreek van God.
Hy het sy erfporsie gevat en in geld omgesit en op ’n reis na ’n ver land vertrek, ver weg van sy pa, ver weg van sy ouer broer, en ver weg van enige verantwoordelikheidsin en morele selfbeheersing. Solank sy pa leef, het hy ’n verantwoordelikheid om sy pa te onderhou met sy deel van die familie se rykdom, maar hy ignoreer dit en spandeer alles op homself.
Waarskynlik het hy verval tussen verkeerde vriende, los meisies, wilde partytjies en losbandigheid. Hy het sy erfporsie uitgemors op verkeerde goed. Baie geld beteken baie vriende. Hy het nie ’n tekort aan vriende gehad nie.
Hy het weggebreek uit die verbond en uit die kerk. Dan lees ons hoedat hy sy lewe opgemors het en skande veroorsaak het, want sien, hy wou op sy eie bene staan en vry wees. Verwêreldliking het deel van sy lewe geword.
Toe hy sy erfporsie klaar uitgemors het, lees ons het ’n groot hongersnood die land getref. Sonder geld en sonder vriende, was hy ontwortel en rigtingloos. As die geld opraak, raak die vriende ook weg. Die hongersnood beteken ook dat werk baie skaars was. Al waar hy kon regkom, was op ’n varkplaas.

Daar eindig hy by die varkhok. Dit is die grootste moontlike belediging vir ’n Jood, want Jode eet nie varkvleis nie. Hier wens hy hy kon sy honger stil met die peule wat die varke, hierdie onrein diere, eet. Maar niemand wou eers vir hom die varke se kos gee nie. So ver het hy geval in sy ellende. Hy word self soos een van die varke. Dit wil sê daar is geen werklike lewe sonder God moontlik nie. Wie uit die hande van God klim – eindig altyd in ellende.

Maar geliefdes, hier hoef dit nie te eindig nie. Ook hierdie seun se droewige verhaal eindig nie hier by die varkhokke nie. Want daar wag ’n liefdevolle Vader by die huis. Dan lees ons hoedat God bekering in sy hart werk.
Hy begin na te dink hoe lekker sy pa se huis was en dat hy van alles oorgenoeg gehad het. Selfs sy pa se dagloners het meer gehad om te eet as hy.
Hy besluit om terug te keer. Hy oorweeg sy woorde versigtig. Hy weet hy is nie meer werd om sy pa se seun genoem te word nie, maar hy is bereid om as dagloner deur sy pa in diens geneem te word.

Hy kom skoorvoetende nader, maar sy vader hardloop hom tegemoet. Sy vader kry hom jammer. Hy veroordeel nie sy seun nie. Sy vader neem as’t ware die inisiatief, want sy vader wag vir hom. Sy pa het nog altyd gewag vir hom om terug te kom. Dan lees ons hoedat sy vader hom omhels en soen, as teken dat hy vergewe is. Daar word geen boetes of pligte op hom gelê as straf nie.

Dan lees ons hoedat die seun geskenke kry. Hy kry ’n nuwe stola of kleed, ’n kledingstuk wat waardigheid en respek simboliseer. Die seun wat sy erfporsie verkwis het, word weer in ere beklee, terug verwelkom as ’n regmatige erfgenaam.
Die ring wat hy gekry het was ’n simbool van gesag. Destyds was ’n seëlring ’n teken van vertroue en verantwoordelikheid. Met hierdie geskenk word die verlore seun nie net terug verwelkom nie, hy word ook bemagtig. Hy is toevertrou met die familieseël, wat verklaar dat hy die vader se seun is en nie ’n dienskneg nie. ’n Ring as familieseël het vir jou onbeperkte vryheid gegee.
Slawe en bediendes het nie sandale gedra nie. Toe die seun sandale kry, het hy sy kindskap en vryheid terug gekry. Hy kon nou met die sandale op ’n nuwe pad loop in totale vryheid.
Die nuwe stola is dus simbool dat hy sy status as kind van God terugkry. Ook die ring en skoene wat hy kry, dien as simbool van ’n herstelde status en outoriteit.
- Tweede probleemseun is ’n tuisbly-seun.
Dit is die Fariseërs, die kerkmens, die een wat tuis is in die kerk. Die Fariseërs was pligmense, nie dankbaarheidsmense nie. Hierdie tuisbly-seun het goed gedoen, was getrou, het hard gewerk, was lojaal en het niks verkeerds gedoen nie. Maar hy het dit uit plig gedoen, soos wat ’n kneg sy baas dien. Hy het uit plig gedien en nie uit dankbaarheid nie.
Wanneer die oudste seun tuiskom en die feesklanke hoor, stuur hy sy bediende om te gaan kyk. Toe hy verneem sy verlore broer het tuisgekom, was hy onmiddellik opgeruk. Hy wil nie eers die feesmaal bywoon nie. Hy is kwaad oor sy vader ’n vetgemaakte kalf vir sy verlore broer geslag het, maar nog nie eens vir hom ’n bokkie gegee het sodat hy met sy vriende kan feesvier nie.
Ook vir hom soek die vader op, deur uit te gaan na hom. Sy vader verseker hom ook van sy liefde vir hom. Hy sê vir sy seun: “ Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.”
Die fout wat die seun maak, is dat hy vergelykings tref. Hy vergelyk homself met sy broer wat weggeloop het. Omdat hy verbitterd is, beland hy in ’n tronk van selfopgelegde verwerping. Hy verwerp homself uit die liefde van sy Vader uit. So beland hierdie seun in die sel van verbittering. Hy verloor sy Vader ook boonop. Hy verloor sy lewensvreugde. Moenie uself met ander mense vergelyk nie. Kyk na wat u het, nie na wat ander het nie.
Die oudste seun het geglo dat hy die hemel verdien. Hy het neergekyk op sy jonger broer – die tollenaar. Hy wou niks met hom te doen gehad het nie. Hy is ook sommer kwaad vir sy pa, vir God wat so maklik vergewe. Hy is besig om sy vader te verloor omdat hy sy broer verloor het. Kerkmense, tuisbly-mense kan dikwels hard en afgunstig optree teen hulle wat deur God se genade vrygespreek is. Vergelyk byvoorbeeld ook Jona se woede teenoor God omdat God Ninevé se mense vrygespreek het.
Dikwels verset ons ons nie daadwerklik nie – maar ons is ongeërg en onbekommerd oor ons medemens se sieleheil. Ons kan baie keer traak-my-nie-agtig wees teenoor die redding van ander mense.
Die gelykenis vertel ons nie of die oudste seun se hart verander het en sagter geword het teenoor sy jonger broer nie. Eintlik is dit ’n oop antwoord. Ons moet dit in ons eie lewe beantwoord. Ons wat kerkmense is, tuisblyers is in die Vaderhuis, is ons waarlik bly oor elke nuwe broer of suster in die Vaderhuis of leef ons ongeërg voort in ons eie klein hoekie?
Die oop vraag vanoggend is of ons nie dalk een van die twee probleemseuns is nie. Dalk ’n wegloop-seun, wat nog nie tuis is in die Vaderhuis nie. Dalk ’n tuisblyer wat jaloers is oor die bietjie genade wat ’n broer of suster te beurt geval het.
Daar is ’n wagtende, soekende en liefdevolle Vader. Kom terug, my seun! Kom terug, my dogter! Die Here soek ons op. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
