Die wapenrusting van die Christen.

SKRIFLESING: Efesiërs 6: 10  – 20

Vandag tref mense baie voorsorg om hulle lewens en besittings te beskerm teen misdaad. Diefwering, alarmstelsels, honde, slotte, vuurwapens ensovoorts word aangeskaf om die verkeerde mense buite te hou.

Paulus sê egter dat daar ‘n ander bedreiging is, wat ons sielelewe bedreig. Dit is naamlik die diaboliese magte van die duiwel wat daarop uit is om ons geestelike lewe aan te val en swak te maak.

Natuurlik is die ou duiwel baie slim en slinks. Hy is ‘n regte jakkals. Hy is ‘n Trojaanse perd. Die stad Troje is vir baie maande onsuksesvol beleër. Toe kry die vyand ‘n slim plan. ‘n Paar krygers het gaan wegkruip in ‘n houtperd en hulle het die houtperd in die nag voor die poort van die stad gelos. Toe het die res van die krygers onttrek. Daardie nag toe alles stil is, het die inwoners van die stad die poort oopgemaak, die houtperd ingestoot, die poort toegemaak en gaan slaap. In die vroeë oggendure het die krygers uitgeklim uit die houtperd, die poorte oopgegooi en hulle maters met ‘n sein nader geroep. Daardie nag het honderde krygers die poorte binnegesluip en daardie selfde nag die hele stad Troje vernietig en afgebrand.

So is die duiwel ook, hy is onsigbaar en vol slim planne om die gelowiges te oorrompel. Hy is altyd soos ‘n jakkals wat in skaapwol homself voordoen. Daarom waarsku Paulus ons teen die diaboliese kragte en magte wat in hierdie wêreld aan die gang is.

Ons het vandag ‘n stryd teen mense wat misdaad pleeg. Maar ons het nog ‘n groter stryd teen ‘n mag wat nie uit vlees en bloed bestaan nie – ‘n stryd teen die magte van hierdie sondige wêreld en die bose geeste in die lug.

Natuurlik is hierdie magte van die sondige wêreld, dinge soos materialisme, sekularisasie, die verafgoding van die tegniek, permisitiwiteit en die strewe om die mens mondig te maak. Dit is juis hierdie dinge wat die ou duiwel gebruik as Trojaanse perd om ons siele binne te dring en van binne uit te hol, sodat hy nes kan maak.

Daarom sê Paulus dat ons nie net ons lewe en besittings moet beskerm nie, maar veral ook ons siele en geestelike lewe. Daarom gee Paulus vir ons raad, watter wapenrusting vir ons beskerming sal gee teen die bose magte. Hy noem verskillende goed soos: gordel, borsharnas, skoene, skild, helm en swaard. Al hierdie goed was deel gewees van die Romeinse soldaat se wapenrusting.

Belangrik is dat ‘n Romeinse soldaat voorsien word van sy wapenrusting. Dit is nie iets wat hy vir homself aanskaf nie. Netso voorsien die Here self vir die gelowige alles wat hy nodig het, om te kan weerstand bied teen die magte in die wêreld en die bose geeste wat aan die werk is.

Dit word in ‘n bepaalde volgorde genoem: naamlik die volgorde waarin ‘n Romeinse soldaat homself aangetrek het. Eers die gordel, dan die borsharnas, dan die skoene, dan die skild aan die linkerhand en sy regterhand sit die helm op. Daarna neem die regterhand die swaard op. So wil die Here as’t ware vir ons aantrek met die volle wapenrusting. Eers die defensiewe wapenrusting en dan volg die offensiewe wapenrusting.

Kom ons kyk na elkeen van hierdie stukke van die wapenrusting.

GORDEL – In die tyd van die Bybel het al die mans rokke gehad. Maar ‘n rok belemmer jou vermoë om te kan hardloop of te kan werk. Daarom het elke soldaat ook ‘n gordel gedra, waarmee hy sy rok kon opbind om meer vlugvoetig te kan wees as hy moet veg. Die gordel se simboliese waarde is dat dit die getrouheid van die waarheid verteenwoordig. Die wêreld hou hom skynheilig en word maklik ontrou. Die duiwel wil juis hê dat ons ontrou moet word. Julle moet egter getrou bly aan die waarheid, aan die Evangelie, aan die Here Jesus. Iemand wat ontrou word, word ‘n droster.

BORSHARNAS – Die borsharnas was gemaak van leer en metaal. Die metaal gedeelte moes die soldaat se longe en hart beskerm teen swaardlemme en die leergedeelte moes die brandpyle blus, sodat die soldaat nie in vlamme opgaan nie.

Die simboliese waarde van die borsharnas is geregtigheid, naamlik om die regte dinge te doen. Daarom wil die borsharnas die opregte hart beskerm, sodat ek die regte dinge kan doen. Ek moet die regte etiese besluite in my lewe neem. Elke dag word ek met talle etiese besluite gekonfronteer. Ek moet opreg van hart wees om die regte besluite te neem.

SKOENE – Die Romeinse skoene was een van die suksesstories van Julius Ceasar se vinnige opgang en militêre suksesse. Daarom roep Christus sy kerk op om die skoene, die bereidheid om die Evangelie te verkondig aan te trek. Het u al hierdie skoene aangetrek?

SKILD – Die Romeinse skild is gemaak van ‘n vlegwerk van leer en metaal., sodat as ‘n brandpyl die skild sou tref, die brandpyl geblus kon word. Die skild verteenwoordig geloof. Met die skild van geloof moet ons die brandpyle van versoekinge uitwis. Die bose vuur allerhande brandpyle op ons af soos: gierigheid, jaloesie, verkeerde begeertes, haat, onsedelikheid ensovoorts. Deur gelowige volharding kan hierdie pyle geblus word.

HELM – Aan die Romeinse soldaat is ook die helm vir sy kop gegee, wat sy kop beskerm. Hierdie helm is simbool van my verlossing. Hierdie versekering dat ek reeds verlos is, moet my diepste motivering wees om weerstand te bied teen die magte van die bose. Die helm word ontvang deur die soldaat, uit die hand van die offisier. Net so ontvang ons ons verlossing direk uit die hand van onse Here Jesus Christus. 

SWAARD – Die swaard verwys na die Woord van God. Dit is een van die vernaamste wapens van die Christen. Daarom moet ons deur Bybelstudie en selfstudie leer om die Bybel reg te hanteer. Die Here Jesus het toe hy versoek is, telkens uit die Woord aangehaal en sodoende die duiwel oorwin.

In vers 18 tot 20 vind ons ‘n paragraaf wat oor GEBED handel. Natuurlik is gebed ‘n magtige wapen teen die Bose. Gebed verander die wêreld en verander myself ook. Daarom moet ons as ons elke deeltjie van die wapenrusting aantrek dit biddend doen. Ons moet vir alles bid. Ons moet altyd deur bid. Ons moet waaksaam bly en vir elke gelowige bid, dat ons almal staande op ons pos sal bly.

Ten slotte hoe lyk nou weer die wapenrusting van die gelowige:

GORDEL – Om getrou aan die waarheid, aan die Here te bly.

BORSHARNAS – Om elke dag eties reg op te tree.

SKOENE – Om die Woord van God uit te dra.

SKILD – Om versoekinge die hoof te kan bied in die geloof.

HELM – Ons verlossing is ons dryfveer.

SWAARD – Die Woord van God is ons wapen.

Ons moet in alles en in alle omstandighede, waaksaam in die GEBED bly.

Daarom wil die Here vir ons versterk met sy Woord en vir ons sê dat hy in hierdie stryd tussen die magte van die Lig en die magte van die duisternis ons Aanvoerder is, wat vir ons alles sal voorsien wat in die stryd nodig is.

Pasop die ou jakkals loop rond, die duiwel stel ook vir ons gedurig ‘n Trojaanse perd op. Wees waaksaam. Wees gereed. Wees paraat. Wees aangetrek met die volle wapenrusting wat die Here vir ons voorsien het.                 AMEN      

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

U staf en u stok ….

SKRIFLESING: Ps 23: 1 – 6

’n Teoloog het Psalm 23 al as die piekniek van die Evangelie beskryf. Al die elemente van ‘n piekniek word hier beskryf, naamlik ’n groen stukkie gras by waters waar daar ’n rusplek is. In die Psalm word ‘n plek van vrede geskilder, saam met ‘n piekniekmandjie, in die vorm van ‘n feestafel. Inderdaad is ‘n lewe saam met die Here ’n piekniek.  In die Engelse vertaling word geskryf: “I shall not want.” As die Here jou Herder is, sal die begeertes om alles te wil hê ophou. In die Here sal jy vind alles wat jy nodig het.

Gewoonlik word die Psalm geskilder met Jesus Christus in spierwit klere, met spierwit skapies ‘n omgewing wat soos Switserland lyk. Maar dit is ‘n verkeerde voorstelling van Psalm 23. Wanneer koning Dawid, wat self die herder in die gedeelte is, dit beskryf, vind dit plaas in die harde woestynagtige Palestina met min groen gras en water. Die dae is verskriklik warm en die nagte koud.

Vandag sal ons ‘n trop skape los in ‘n kamp wat volop goeie weiding het. In die Bybelse tyd was daar nie kampe met groen wyding nie. Die herder moes elke dag saam met sy skape loop en êrens groen weiding gaan soek. Hulle het rondgetrek, elke dag op soek na ‘n stukkie weiding. Daar was ook nie volop weiding beskikbaar nie. Nee, net genoeg vir daardie dag. Môre en oormôre moes hulle verder trek op soek na weiding. Dit was die herder se taak om weiding te soek en dan sy skape daarnatoe te lei. Gewoonlik in klipperige gedeeltes het die dou afgeloop van die klippe en die grond rondom die klip nat gemaak. Dan het daar tussen die klippe graspolletjies opgeskiet, wat weiding was vir die skape. Sonder die herder wat soek, was die skape uitgelewer aan die elemente van die natuur en die dood. Netso lei die Here ons ook elke dag van een groen graspolletjie na die volgende groen graspolletjie.

Ons is daagliks van die goeie herder afhanklik. Elke dag gee ons hemelse Vader vir ons, ons daaglikse brood. Psalm 23 wil ons leer om daagliks van God afhanklik te wees, vir ons daaglikse benodigdhede.

Die ou vissermanne van Paternoster het ook so van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie herder wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar vis is. Daar was storms, partykeer het ‘n skuit nie teruggekom nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig gewees en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Hulle was so afhanklik van die Here, dat hulle hul dorpie se naam “Paternoster” gegee het, wat beteken in Latyn “Onse Vader”. So was die skape van Psalm 23 ook daagliks afhanklik van die goeie herder, die hemelse Vader.

Vers 1 tot 3 gaan oor die daaglikse versorging van die Here. Vers 4 gaan oor die versorging van die Here in moeilike tye van my lewe. Daar staan: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,  is ek nie bang vir gevaar nie,want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.” Dawid het waarskynlik in die laatmiddag, wanneer dit skemer word,  deur ‘n donker kloof met sy skape getrek na die klipkraal. Gewoonlik het die struikrowers of wilde diere daar in die donker klowe, waar dit eerste donker word geskuil. Dit was ‘n plek van gevaar. Dan sê die psalmdigter, dat hy nie bang is nie, want die herder se “stok” en “staf” stel hom gerus. Die stok het die doel gedien om roofdiere en rowers te verwilder. Die staf met sy een punt wat ‘n boogvorm het, kon die skaapherder sy skape aan hulle agterpote nadertrek, weg van die gevaar. So wil die Here ons ook elke dag van gevaar beskerm.

In vers 5 – 6, verander die beeld of metafoor waarmee die mens beskryf word. In verse 1 – 4 is die mens soos ‘n hulpelose en afhanklike skaap, wat wag op die leiding van die goeie herder, die Here Jesus Christus. In verse 5 – 6 word die mens in die metafoor van ‘n eregas beskryf, wat sit aan die tafel van die Here, ten spyte van konflik. ‘n Mens kan die Here se vrede beleef selfs ten spyte van konflik en “teenstaanders” in jou lewe.

Die Midde Oosterse mense het gewoonlik net twee etes per dag gehad. Daar was so teen 10h00 ‘n “brunch”, wat hulle geëet het om krag te kry vir die dag se werk. Die hoofete was in die aand, wanneer die dagtaak voltooi is. Dan is daar tydsaam geëet, wyn gedrink, stories vertel, gedans en gekuier. So wag daar aan die einde van ons lewensdag, wanneer dit aand word en ons sterf vir ons ook ‘n ewige feesmaal voor aan die tafel van die Here.  Ons kop sal verfris word met olie en ons beker sal oorloop. Die goedheid en troue liefde van die Here, sal ons volg.

In vers 6 (b) staan daar en ek sal terugkeer na die huis van die Here. In hierdie lewe is ons net reisigers. Ons is bywoners. Ons is tydelik hier. Totius het so mooi geskryf dat “hierdie wêreld is nie ons tuiste nie.” Hier kry mense swaar, word siek, gaan dood, maar na hierdie lewe is ons die huis van die Here tot in lengte van dae. Daar staan ons sal terugkeer na die huis van die Here. Ons sal met ander woorde tuiskom by die Here.

Die Here sal ons met sy “stok” en “staf” beskerm, terwyl ons op pad terug gaan na die huis van die Here. Sy sekuriteit is by ons. Ons is veilig.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om te sit op God se skoot …… is om rus te vind !

SKRIFLESING: Psalm 131: 1 – 3

Op 20 Julie 1969 het die Amerikaanse ruimtevaarder, Neil Armstrong die eerste mens geword wat op die maan loop.

Die landing van die Apollo 11 ruimtetuig was wêreldnuus. In Armstrong se woorde: “ That’s ons small step for man, one great giant leap for mankind.” Net twee jaar voor dit op 3 Desember 1967 het Dr. Chris Barnard die eerste hartoorplanting gedoen in die Grote Schuur hospitaal in Kaapstad. Louis Washkansky (53) het die eerste hart ontvang van die eerste hartskenker Denise Darvall. Dit was wêreldnuus. Intussen was daar al ‘n onbemande ruimtetuig op Mars. Ons lewe in die midde van die Vierde Industriële rewolusie, waar ons oorval word met data en inligting. Rekenaartegnologie het die wêreld oorgeneem. Hulle bou al rekenaars so groot soos ‘n kredietkaart.

‘n Mens wil amper uitroep: “O die wonder van die tegnologie van die mens! O, die wonder van die mens! Ons het al so ver gekom en so baie vermag. Wie weet wat nog alles op ons wag?”

Die gevaar is egter dat ons die grenslyn tussen hoogmoed en ootmoed kan oorsteek. Ons begin ons gou verbeel dat ons – ‘n wonderlike mens-God is. Kort nadat die eerste mens op die maan geland het, het iemand geskryf: “God moet oppas. Hy is volgende aan die beurt. Ons volgende stop is sy voordeur. Binnekort gaan ons by sy poorte aanklop, en Hom van sy posisie beroof ….”

Of, miskien moet ons dit meer sagter stel, meer beskaafd stel: Ons mense is onafhanklik. Ons breek met elke vorm van gesag. Ons duld geen heerskappy oor ons nie. Ons wil op ons eie wees, op ons eie bene staan, ons eie ding doen. Ons wil die naelstring tussen ons en God knip, onder die wanindruk dat dit vir ons “onafhanklikheid” en “vryheid” sal bring.

Die Duitse digter Schiller het selfs gemeen dat die sondeval die enkele grootste prestasie van die menslike gees was – die dag toe ons onafhanklikheid uit die Vaderhuis weg gestap het. Hy noem dit: “Die gelukkigste gebeurtenis van die mensdom se geskiedenis” en “die eerste waagstuk van die menslike rede.” Hierdie neiging om ons van God los te maak, gaan inderdaad so ver terug soos die tuin van Eden. Augustus het nie verniet die sonde gedefinieer as hoogmoed nie. Ons verhef ons bo God, erger nog, plaas ons in die plek van God – dis ons sonde.

Luther het gesê ons probeer alewig om in die hemel in op te klouter, soos die mense in die tyd van die toring van Babel. Deur die eeue heen bestorm ons die hemel, lanseer ons ons na God – om Hom te onttroon.

Hoe tragies ons plaas mense op die maan en ruimtetuie op Mars, maar blykbaar begryp ons nie ons eie posisie, ons plasing voor God nie.

Die digter, koning Dawid van Ps 131 begryp dit wel. In hierdie kort psalm is daar drie verse, drie momente:

Vers 1: Ootmoed (wat die teenoorgestelde is van hoogmoed.)

Vers 2: Tevredenheid (Die psalm beskryf dit as “kalmte” en “bedaring”)

Vers 3: Hoop

Die een moment volg op die ander. Dit is soos die skakels van ‘n ketting. Die een lei tot die ander.

Die eerste moment of skakel is OOTMOED. Dawid skryf: “Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie.” Die digter ken sy plek voor en onder God. Hy is soos die digter wat nog oopmond en blinkoog hom kan verwonder aan God se sterrehemel. Hy sien die maan en Mars raak en weet dit is die werk van God se vingers. Dawid verwerp enige vorm van hoogmoed, daarom juis word hy genoem die man na aan die hart van God. Die Midrash verduidelik dat vers 1 verwys na sekere insidente in Dawid se lewe, waarop hy inderdaad hoogmoedig kon word. Hy kon arrogant word, oor hy Goliat met ‘n klippie en slingervel doodgegooi het. Hy kon arrogant wees oor hoe hy telkens vir Saul ontvlug het. Hy kan arrogant word oor sy militêre en staatkundige suksesse. Hy kon arrogant wees oor sy harpmusiek en sy uitstekende dig vermoëns. Maar hy verwerp hoogmoed. Dalk het sy owerspel met Batseba en sy moord op Uriah, hom telkens herinner dat hy sondig is en uit genade deur die Here vergeef is.  

Ons grootmense is net soos kinders wat ons verbeel ons is Superman, Spiderman, Rambo of een of ander magiese figuur met bonatuurlike krag.  

Maar Dawid is anders. Hy het sy plekkie in die heelal gevind en kom daarom tot rus. Ootmoedigheid, nederigheid verlos jou van die spanning om altyd beter te wees en te veel van jouself te verwag. Mag ons in 2021 ootmoedig en nederig voor God lewe, sodat ons oë weer kan blink in verwondering oor Hom.

Dit lei tot die tweede moment, die tweede skakel te wete: TEVREDENHEID. Die psalmdigter gebruik die woorde “kalmte” en “bedaring”. Hierdie beeld van God as moeder tref ons ook in Jes 49: 15 was as volg lees: “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.”

Die enigste plek waar daar kalmte en bedaring en tevredenheid te vinde is, is op die skoot van ons God. In die Hebreeuse teks word gepraat van ‘n “gespeende kind”, met ander woorde ‘n kind wat al by homself kan drink en eet van ander melk en kos. Maar die gespeende kind gaan terug na sy  sekuriteit, wat hy opgebou het toe hy ‘n suigeling aan sy moeder se bors was. Die gespeende kind, gaan terug na sy eerste sekuriteit. Daarom moet ons altyd kinderlik bly. Soos die kindergebed: “Maak my ‘n kindjie klein”.

Ja, alleen as ons maar in ‘n fetus-posisie, knielend, en aanbiddend voor God lewe. Ja, dan sal God se kalmte en bedaring deel van ons lewe word. Dan sal tevredenheid oor ons neersak, soos Arthur Weiser wat geskryf het: “Die delikate toon van nederige vertroue in die psalm klink soos die vredevolle klanke van klokke wat aan die bokke hang wat met sonsondergang lui in ‘n stil vallei wat deur die laaste strale van die ondergaande son met sagte lig gevul word.”

Ja, wie ootmoedig lewe voor God, word gevul met kalmte en bedaring. Mag ons in 2021 ook so met tevredenheid lewe, sodat vrede deel van ons lewe kan word.

Dit bring ons by die derde vers of derde moment: HOOP.

Ootmoed lei tot tevredenheid en tevredenheid tot hoop. Die Psamdigter, Dawid verwoord dit met die volgende woorde: “Israel, vestig jou hoop op die Here,  nou en vir altyd.”

Ironies genoeg soek ons altyd hoop in die menslike tegnologie en vooruitgang. Net om maar weer ontnugter te word. Alleen hulle wat ootmoedig lewe, en daarom kalmte en bedaring ervaar kan werklik hoop.

Alleen op die skoot van onse God kan ons werklike hoop vind. Alle ander vorme van hoop is byvoorbeeld doodgebore. Mag ons in 2021 lewe met die ware HOOP!

Die voorafgaande Psalm handel oor die digter se soeke na God en Psalm 131 handel oor die vondse wat hy gevind het. Albei Psalms is verbondspsalms, wat handel oor God se verlossende genadige inisiatief en handeling. Dit is God wat na ons toe neerbuig, ons optel en op sy skoot neersit.

Tereg sê Johan Cilliers (wat baie insiggewend oor Ps 131 geskryf het) die volgende: “ ‘n Mens vind nie vrede omdat ‘n mens so sekuur na die hemel kan mik nie of omdat jy jouself tot op God se skoot kan lanseer nie. Nee, dit is eerder God wat sy Seun van Sy skoot weggestoot het, sodat Hy ons daarop kan tel.

Wonderliker, veel wonderliker as ons maanlanding, is God se aardlanding, skryf Johan Cilliers. Om die mensdom, om vir my te kom red. Ek weet nie hoe dit werk nie. Maar ek weet die wete vul my met ootmoed, tevredenheid en hoop. 

Pragtig is Psalm 131 in die Liedboek van ons kerk as volg verwoord:

1. Geen strewe jaag ek na bo my vermoë,

geen trots of hoogmoed is daar in my oë.

Sal ek die groter dinge wil oortref

en sal ek my, o Heer, teen U verhef?

2. ‘n Kind rus in sy moeder se beskerming.

So vind ek vrede, Heer, in u ontferming.

Wag, Israel, vertrou Hom deurentyd.

Wag op die Here tot in ewigheid.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God lei ons na ‘n veilige hawe ……

SKRIFLESING: Psalm 107: 23 – 30

Om eerlik te wees, is ek nie juis opgewonde oor die nuwe jaar nie. Elke jaar het sy eie probleme. Baie van verlede jaar se probleme gaan saam met ons, die nuwe jaar in. Op Oujaarsaand het ek soos Beki Cele beveel het, gaan vroeg slaap. Ek was al saam met die hoenders op my stellasie.  Ek het nie eers die klappers en die vuurwerke gehoor nie. Ek het ook vir niemand “Geseënde Nuwejaar” toegewens nie, want ek verstaan die realiteit van so baie mense. Nadat ek eers laat opgestaan het op Nuwejaarsoggend, het ek vir my honde en hoenders kos gegee. En sowaar, wat sien ek hier op dié Nuwejaarsoggend? Daar het 3 hoenderkuikens uitgebroei. Te fraai, opreg en onskuldig! Skielik kry ek weer hoop vir die nuwe jaar. Die nuwejaar het begin met drie pragtige kuikens, piepklein maar ‘n herinnering dat God nuwe dinge kan laat begin.

Die jaar 2020, sal nooit deur die geskiedenis vergeet word nie. Dit was soos oorlogsjare. Baie mense se hoop en toekoms het gesink. Dit was die beginjaar van Covid-19. Geweldige inperkings is beleef. Tienduisende mense het hulle werk verloor. Die ekonomie is vuisvoos. Bekende mense sterf links en regs van jou, as gevolg van Covid. Ons land is in die uiterste ellende en dienslewering bestaan amper nie. Alles in die land beleef ’n inploffing. Mense kry swaar. Die werkloosheid staan op ‘n ongekende 47 %. Op Oujaarsdag is ‘n rekordgetal van 18 000 nuwe infeksies van Covid aangeteken. Ons is binne ’n storm.

Sal alles skielik verander met die aanbreek van 1 Januarie 2021. Nee! Ons is nog steeds binne die storm.

Dan beteken Psalm 107: 23 – 30 vir my so baie hier aan die begin van 2021. Die Psalmdigter erken die werklikheid van storms in jou lewe of in die geskiedenis van die wêreld. Jou storm kan wees die effek van Covid-19, of dit kan die droogte wees. Dit kan finansies wees of persoonlike verhoudingsprobleme. Dit kan wees werkloosheid of  ’n terminale siekte.

Die Psalmdigter vergelyk die probleme met ‘n storm op die see.  

In vers 23 staan daar: “Dié wat by die see in bote klim, hulle wat handel dryf   op die groot waters.” Die see, is vir die Jode ’n angswekkende plek. Die Jode het gewoon in ‘n semi-woestyn  tot woestyn gebied. Daarom was die Jode nie soos die Grieke en ander volke ‘n seevarende volk gewees nie. Vir hulle was die See van Galilea die naaste wat hulle aan die see gekom het, want jy kan ten minste die oewer heeltyd sien. Maar ook die See van Galilea het sy storms beleef. Die see het herinner aan chaos, gevaar, bedreiging en monsters. Daarom dat die boek Openbaring die metafoor gebruik van die hiernamaals as die plek waar  “daar sal nie meer ’n see sal wees nie.”

Op hierdie see beleef die Psalmdigter hom en dan vertel hy hoe hy die groot dade en wonders van God beleef het. Eers beskryf hy die ergheid van die storm. Hy gebruik woorde soos: stormwind (vers 25), die golwe het uitgetroon (vers 25), hulle het opgerys na die hemel en afgesak na die dieptes (vers 26) en die ramp het hulle moed begewe (vers 26). Verder beskryf hy hoe hulle rondgeslinger word, en steier soos dronk mense in vers 27.

Dan kom die Psalmdigter met ‘n belydenis in vers 27: “ al hul vernuf was waardeloos”. Hierdie is as’t ware die keerpunt van die hele perikoop. Die mens bely sy onvermoë om homself te red. Al ons vernuftigheid kan ons nie red nie. Deur al die eeue het mense staat gemaak op hulle vernuf om probleemsituasies die hoof te bied. Ons maak dikwels staat op die vernuftigheid van politici, medici, ekonome, teoloë en akademici om ons storms vir ons op te los.   Om net uit te vind dat nie alle storms deur die vernuftigheid van die mens opgelos kan word nie. Ons vernuftigheid kan ons nie navigeer deur die storms van 2021 nie.  Ons het iemand nodig, wat groter is as ons en ons menslike planne.

In vers 28 lees ons hoedat die drenkelinge na die Here toe genavigeer het. Om te bid  of om die Here aan te roep is om na die Here toe te navigeer. Daarom staan daar: “Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep”. Soos wat die ou matrose van weleer op die sterre genavigeer het, moet ons ook leer om in 2021 te navigeer op die ster van Bethelehem, op die Here Jesus self. Wanneer ons onsself nie navigeer volgens die Here Jesus nie, kan ons onsself op die rotse laat beland. Al ons nuwejaarsdrome kan op die rotse beland.

In die tweede gedeelte van vers 28 lees ons dat die Here hulle uit hulle benoudheid uitgelei het. Interessant is dat daar nie eerste melding gemaak word van die storm nie, maar van hulle emosie, naamlik “benoudheid”. Die Here het hulle bevry van die emosie van benoudheid. Dikwels is ons emosies selfs groter as ons storms. Eers in vers 29, staan daar het die Here hulle uit die fisiese storm gelei, deur die storm stil te maak en die golwe te laat bedaar. Met ander woorde die skrywer beleef heel eerste dat die Here, hulle uit hulle benoude emosies verlos het en toe beskryf hy die fisiese wonder van die storm wat bedaar.  

Dan volg die pragtige vers 30: “ Hulle was bly toe die golwe kalm word. Hy het hulle gelei na die hawe waarna hulle verlang het.” Weer word van twee emosies melding gemaak naamlik hulle “blyheid” en hulle “verlange”. Die hele perikoop is vol emosies. En hoe dan anders, want alle storms, maak jou emosies los.

Die Here het hulle gelei na die hawe, waar hulle veilig en geborge kon voel. Net soos die goeie Herder in Psalm 23 sy skape lei na groen weivelde, na waters waar daar vrede is.

Deur die storms wat dalk vir ons wag in 2021, wil die Here Jesus vir ons lei na die hawe van die Vaderhart waar dit veilig en geborge is. Hy sal ons nie in die storms van die lewe in die steek laat nie. Nee, Hy sal ons veilig lei na die hawe van veiligheid. Ons kan egter nie altyd in die hawe wees nie. Dit is nie waarvoor ‘n skip gebou is nie. ‘n Skip is gebou vir die see en so is ons gemaak vir die lewe. Ons moet op 1 Januarie 2021 uitvaar die see in, die lewe in. Ons moet soos vers 23 sê gaan handel dryf op die groot waters. Maar as ons op die groot waters van die lewe is, kan ons weet as daar storms kom, sal die Here ons help en die hawe wag vir ons. Die Vaderhart van God wag vir ons. Ons is ook bedoel om weer na die hawe veilig terug te keer.

Mag u en ek in 2021 veilige seemyle aflê op die groot waters van die lewe.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)