God sorg vir die sagmoediges. (Mat 5: 5 en Gen 13: 1 – 18)

GOD SORG VIR DIE SAGMOEDIGES

Sagmoedigheid is nie juis ‘n eienskap waaroor die mense in die algemeen oor opgewonde is nie. Daar word dikwels neerhalig van so ‘n persoon as ‘n “sagmoedige Neelsie” gepraat.

Sagmoedigheid as deug is nie so gewild nie, omdat dit verwar word met woorde soos lamlendigheid, pap en ruggraatloosheid. Sagmoedigheid werk nie, want “nice guys come second.” Ons sien dit in die politiek, in die ekonomie en op die sportveld. Daar is die uitdrukking in die politiek en ekonomie, wat as volg bekend is, naamlik: “hond eet hond.” Hierdie uitdrukking is baie waar. Inderdaad is dit waar dat “hond eet hond.”

lam (1)Nietzsche is gegrief omdat die Evangelie ‘n mens nie sterk maak nie, maar eerder swak. Mussolini het gesê dat as hy kon kies hy eerder een dag ‘n leeu is, as ‘n 100 jaar ‘n lam. Ons glo eerder in begrippe soos manlikheid, selfgelding en selfhandhawing.

Daarom val die woorde van die Here Jesus Christus vreemd op die oor in Mat 5: 5, wat lees: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”

Selfhandhawers hou nie van hierdie woorde nie. Selfhandhawers is mense wat voel dat hulle alleen is in hierdie lewe en daarom vir hulself moet sorg. Dit is vir selfhandhawers moeilik om sagmoedig te wees, want hulle dink klein oor God. Hulle het nog nie geleer om God in alles te vertrou nie. Daarom baklei hulle maar vir wat hulle wil hê.

Eers as ‘n mens geleer het om van die Here afhanklik te wees, kan ‘n mens die deug van sagmoedigheid bemeester. Wie van die Here afhanklik is, vir so iemand is dit maklik om sagmoedig te wees. Maar wat is sagmoedigheid presies? ‘n Ander woord kan miskien wees, sagtheid, saggeaardheid, beheerstheid, respek, nederigheid of ‘n diep egte onselfsugtigheid.

‘n Baie mooi voorbeeld van sagmoedigheid vind ons in Gen 13, waar Abraham by die verdeling van die land, sy selfsugtige nefie Lot eerste laat kies het. Lot het vir hom die beste gedeelte gekies, Maar Abraham was tevrede met sy gedeelte.

Hy het nie twis gesoek nie. Daarom is Abraham ‘n voorbeeld van diep en egte onselfsugtigheid. Hy het met vergenoegdheid geleef. Hy het min waarde aan wêreldse goed gehad. Abraham was van God afhanklik en hy het geweet die Here sal vir hom sorg.

Sagmoedige mense is mense wie se hart iets verstaan van die lyding van die wêreld en wat weet dat hulle, al gebeur wat ook al, niks wil doen om die lyding nog groter te maak nie. Ps 51: 19 getuig dat sagmoedigheid opkom uit ‘n gebroke en verslae hart.”

Waarvandaan kom die sagmoedigheid? ‘n Mens kan sag en vriendelik wees met ander, in onselfsugtigheid leef, gelate wees oor jou regte; net as jy weet dat jou lewe en jou lot in die sterk veilige Vaderhande van die Here is. Dit is eers wanneer ‘n mens dit doen, wanneer jy die totale lewe radikaal vanuit God en Sy sorg beleef, dat sagmoedigheid vanself inkom in jou lewe.

Ons wil so graag groter prestasies, groter suksesse, groter winste, meer “koninkrykies” vir onsself inpalm. Ons is baie keer soos Alexander die Grote wat net geleef het vir die volgende land wat hy kan verower.

Die Here beloof egter dat die een wat sagmoedig is oor sy regte, beloon sal word met die nuwe aarde wat vir ons wag. Dit kan nie verkry word deur daarvoor te baklei nie, maar daarop te wag.

imagesSagmoedigheid beteken dat jy ander se emosies soos ‘n veertjie sal lees en sensitief sal wees met elke mens op jou lewenspad. Dat jy so sensitief sal wees, dat jy bedagsaam en sag sal optree teenoor elkeen op jou lewenspad.

Christus Jesus is natuurlik die voorbeeld by uitstrek van sagmoedigheid. Hy het homself totaal en al verloën tot aan die kruis. Hy het nie op sy regte gestaan nie, maar die heil van die wêreld op Sy hart gedra.

Die Here sorg vir ons. Ons hoef nie te baklei vir iets nie. Wie van God afhanklik is, kan sagmoedig wees!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Om waarlik te treur, maak jou menslik. (Mat 5: 4)

OM WAARLIK TE TREUR MAAK JOU MENSLIK.

Lyding en pyn is sake waarvoor mense natuurlikerwys terugdeins. Ons is bang daarvoor. Ons wil dit nie hê nie. Die mens wil van lyding en pyn wegvlug of wil dit verdoof. In die proses word lyding en pyn nooit omgesit in iets positiefs nie.

Die gevaar is dat godsdiens vir sommige mense ook “a pie in the sky” kan word, soos Karl Marx godsdiens en lyding beskryf het. Dit kan ‘n manier word om te ontvlug uit die swaar van elke dag en kan godsdiens as’t ware ‘n stuk verdowing word.

images[9]Maar dan lees ons weereens die vreemde woorde van Jesus Christus in Mat 5: 4 wat so lees: Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” In hierdie woorde bedoel die Here Jesus nie ons moet met lang gesigte rondloop nie, maar dat ons die pyn en lyding rondom ons moet raaksien, dit moet beleef en dit sinvol moet verwerk in iets positiefs in my lewe.

Ons moet kan treur oor hou stukkend die wêreld is. Daar is armoede, hongersnood, plakkerskampe, verwaarlooste kinders, mislukte huwelike, verwoeste tienerslewens, oorloë, waterskaarste, werkloosheid en so kan ons die lysie baie langer maak.

As ons die dinge raaksien, dan kyk ons anderpad, soek verskonings of beskuldig selfs die slagoffers daarvan. Om te treur, beteken om die nood van ander raak te sien en om myself daarin te probeer inleef, sodat ek saam met hulle kan voel. Dan kan ek eers werklik bid vir hulle en daaraan werk om die lyding in my onmiddelike omgewing minder te maak. Om te treur beteken om empatie, begrip, deernis en liefde vir ander te hê.

So dikwels gebeur dit, dat mense hulself verlekker in ander se swaarkry en teenspoed. Dit word ‘n soet, sappige skinderstorie, wat ek geniet om oor te vertel. Dan ontbreek dit my aan ware deernis en empatie. Die probleem is ons huil nie meer oor die stukkendheid in ander mense se lewens nie. Ons word apaties.

Maar ‘n mens moet ook kan treur hoe stukkend en leeg jou eie lewe is. Ons wil nie sleg oor ons eie lewe dink nie. Ons leef in die tyd van “positiewe denke”. Ek moet positief oor myself dink. Ek soek verskonings vir my sonde. Ek veralgemeen my sonde en verskoon myself.

Maar die Here Jesus leer ons, ons moet treur oor ons sondes. Ons moet hartseer daaroor wees. Ons sonde moet ons ongelukkig maak, sodat ons na die Here en na Sy verlossing sal vra. Vergelyk die voorbeeld van Koning Dawid in Ps 51, waar hy in ‘n sielswroeging is oor sy owerspel met Batseba en dat hy vir Uriah, die man van Batseba laat sterf het in die voorste linies van die oorlog. Dawid pleit dat God hom moet vergewe, selfs al kos dit sy koningskap. Sy sonde staan tussen hom en die Here en hy verlang weer na ‘n intieme verhouding met die Here. Dawid was so opreg in die treur oor sy sonde, dat God vir Dawid, ‘n man van God genoem het.

Dit help nie ek steek ‘n siekte weg of dink dit weg nie. Ek moet dit in die oopte bring. Dit konfronteer, na ‘n dokter gaan en eers dan kan ek gesond word. Bid daarom dat die Here oms oë sal oopmak om te sien, watter groot sondaars ons is, sodat treurigheid daaroor ons kan dryf na Jesus Christus.

Lyding en pyn moet ek altyd gebruik om dit in iets positiefs en opbouend te verwerk. Die Heidelbergse Kategismus, bely dat God alles, die goeie en die slegte gebruik tot ons beswil. Daarom moet ek in die terugslae in my lewe altyd die vraag vra, wat kan ek positief hieruit haal. Lyding kan my in ‘n dieper verhouding met die Here bring, maar dit kan ook my meer sensitief vir ander mense maak. Wanneer lyding van jou ‘n beter mens maak, dan dien my lyding tot ‘n hoër doel. Victor Frankl, ‘n psigiater wat in die Tweede Wêreldoorlog in die Nazi – konsentrasie kampe was, vertel dat mense verskillend op lyding reageer. Sommige reageer heeltemal negatief, hulle word soos varke. Ander weer reageer positief op lyding en dit bring die beste in hulle na vore. Hulle word as’t ware soos engele. Om waarlik te treur, maak jou menslik.

Die Here Jesus Christus praat egter van troos ook. Hy belowe dat in die toekoms, met die wederkoms sal alles nuut gemaak word. Ons moet bid dat die Here dit in die hede ook vir ons draaglik sal maak. Om te treur bring begrip en genesing.

Die Evangelie is nie ‘n verdowing vir mense nie. Dit is om die werklikheid te besef, daaroor te treur en dit na Jesus Christus te neem. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Jou liggaam is ‘n tempel van die Heilige Gees. (1 Kor 6: 12 – 20)

JOU LIGGAAM IS ‘N TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

In die Grieks Romeinse wêreld van die Nuwe Testament, was daar ‘n duidelike dualisme tussen siel en liggaam. Siel en liggaam het teenoor mekaar gestaan. Die siel was goed en die liggaam sleg.

liggaam-700x325Die Griekse filosofe het geglo dat die liggaam die tronk is, wat die siel gevange hou. As jy sou siek word, was dit ‘n goeie teken dat die siel probeer om uit die tronk te ontsnap. Met jou dood het die siel dan die liggaam as tronk verlaat. Die Griekse filosofie het ook gestalte gekry in die lewenswyse van destyds, asook ‘n invloed gehad hoe godsdiens beoefen is.

aphrodisias_templeofaphroditeDie Grieke het baie tempels van afgode gehad, waar onsedelikheid tot op die ergste vlak gevoer is. Hulle het ook openbare baddens gehad, wat hulle eie seksorgies gehad het. Die Nikolaïte was onder andere ook ‘n sektegroepering wat die vroeë kerk probeer infiltreer het. Ons lees in Openbaring van gemeentes wat te doende gehad het met die Nikolaïte. Hulle het afgodery en onsedelikheid aangehang. Hulle het onder andere geglo dat jy maar met jou liggaam kan sondig, want die liggaam is van mindere belang. Solank jou siel net aan die Here behoort is alles reg. Daarom was dit amper ‘n vorm van sinkritisme tussen die afgodsdiens van destyds en die Christelike geloof. (‘n Mens kry vandag ook in sekere swart Christelike kerke ‘n sinkritisme tussen die voorvadergeeste se aanbidding en die Christelike geloof.) In die Ou Testament was die leer van Bileam, ‘n soortgelyke afwyking, wat die liggaam as van mindere belang beskou het en dan onsedelikheid bedryf het.

Dan kom Paulus in 1 Kor 6: 12 – 20 en spreek hom glashelder uit en sê dat die liggaam nie van mindere belang is nie. Inteendeel hy beskou die liggaam as die tempel van die Heilige Gees, waarbinne die Gees lewe. In vers 15 sê Paulus dat ons liggame is deel van Christus. Daarom moet ons nie ons siel en liggaam as tweeledig sien nie, maar as geïntegreerd en ‘n eenheid. Daarom moet ek met siel en liggaam die Here liefhê en dien. Daarom mag ek nie met my liggaam onsedelik omgaan nie.

Hierdie boodskap van Paulus het radikaal gestaan teenoor die Grieks Romeinse kultuur van die Nuwe Testament en die leer van die Nikolaïte. Daarom lewer Paulus ‘n sterk betoog teen enige vorm van onsedelikheid en losbandigheid. Hy beskou seksuele losbandigheid selfs in ‘n kategorie van sy eie, deur in vers 18 te verklaar dat ander sonde buite die liggaam plaasvind, maar dat onsedelikheid direk met jou eie liggaam te doen het.

huwelik-713x509In die daarop volgende hoofstuk 7, lê Paulus baie klem op die huwelik, as die veilige ruimte van seksualiteit as ‘n Godgegewe wonderskone gawe wat die mens kan geniet. Daarom moet die huwelik aangemoedig en bevorder word, as God se wil vir ‘n man en vrou wat op mekaar verlief geraak het.

worshipseries_money-sex-power_rcc-1024x614Richard Foster skryf in sy boek “Sex, money and power”, dat die drie grootste afgode van die moderne tyd inderdaad, seks, geld en mag is. Dit is die drie goed wat die koerantwese aan die gang hou. Elke dag lees ons in die koerante van mense wat geval het voor die afgode van seks, geld en mag. Mense strewe daarna ten alle koste. Natuurlik is die goed nie nuwe goed nie. Van die vroegste tye af, was dit die drie vernaamste strikke wat die duiwel vir die mens gestel het. Mense ontwikkel ‘n oordrewe obsessie met seks, geld en mag. Die meeste problematiek in die wêreld gaan oor die drie dinge.

Ons wêreld is seksbehep. Daar is soveel pornografie, seksuele teistering, molestering van kinders, verkragting, prostitusie, mensehandel, ontrouheid, owerspel, vuil seksuele grappe, die uitbuiting van die vroue liggaam in advertensies en noem maar verder op. In die moderne tegnologie van rekenaars en selfone het mense vrye toegang om hulle seksuele luste te bevredig. Owerspel oor die selfoon is vandag algemeen. Die digitale era het alles net vererger. Dit het ‘n erge siekte geword wat soos kanker groei in die samelewing. Mense maak hulle liggame goedkoop.

Jy moet so oop en eerlik en rein lewe, dat jou selfoon maar kan rondlê, sonder om te vrees dat jy uitgevang sal word. Wanneer ‘n mens jou selfoon begin wegsteek vir jou lewensmaat, dan flikker rooi ligte.

Kaggel-Hout-Firewood-20150829231357Gesonde seks in die huwelik is soos ‘n vuur wat gesellig in die kaggel brand of ‘n koolstoof wat heerlik kosmaak. Dit is ‘n bron van samesyn en intimiteit wat geborgenheid verseker. Maar onsedelike seks is soos ‘n ‘n kooltjie vuur wat uit die vuurherd val en die hele huis afbrand. Dit vernietig mense en dit vernietig alle geluk. Dit maak die wêreld boos en lei tot die vernietiging van moraliteit en die vernieting van mense se lewe.

Geskiedkundiges beweer dat die val van die eens magtige Grieks Romeinse Ryk, het direk te doen met morele verval, omdat hulle die liggaam nie respekteer het nie, maar ‘n voorwerp van menslike lus gemaak het.

In vers 19 en 20 staan daar dat die Heilige Gees in ons woon. God het ons gekoop en die prys is betaal. Ons liggaam behoort aan die Here.

ReinheidDaarom moet ons God in ons liggaam verheerlik. Ons liggaam is ‘n tempel of kerk. Daarom moet ons kuis lewe. ‘n Ander woord vir “kuis” is om rein te wees. My liggaam is duur gekoop deur Jesus se bloed en daarom kan ek dit nie goedkoop by enige pandjieswinkel verpand nie.

Alle mense het seksuele begeertes. Ons is so geskape. Daarom sê Paulus moet ons trou, sodat ons nie sondig nie. My oupa het altyd ‘n groot groentetuin gehad. Hy het ‘n dam met ‘n windpomp gehad. Dan het hy leivore gehad wat die water gelei het na die groente. Die water het nie onbeheers gevloei nie. Nee, dit is met groot dissipline in die leivore gelei om akker vir akker nat te maak. So moet ons liggaamlike begeerte ook gelei word om in die leivoor (in die wil van God) te vloei. Die akker wat natgemaak word is die huwelikslewe tussen een man en een vrou wat trou aan mekaar beloof het.

Wanneer ons ‘n kerk of katedraal binnegaan, voel ons die gewydheid en heiligheid van die gebou aan. Die gebou is tot eer van God. So is ons liggame ook toegewy en heilig en slegs bedoel vir die heiligheid van die huwelik. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)