“Mag korrupteer. Absolute mag korrupteer absoluut.” So het ’n bekende filosoof geskryf.
Herodus die Grote, tydens die geboorte van Jesus Christus is ’n voorbeeld hiervan. Hy was ’n gehate en genadelose despoot. Hy het soos ’n Hitler, Stalin of een of ander gewetenlose Afrika leier opgetree.
Hy het vir meer as 40 jaar regeer. Soos alle diktators het hy aan mag vasgeklou. Hy het sy swaer, sy skoonma en later ook sy vrou doodgemaak, omdat hy in hulle ’n bedreiging gesien het. Herodus was ’n moordenaar. Menslike lewe het vir hom niks beteken nie. In 7 vC het hy toe hy gehoor het, sy twee seuns span saam om hom van die troon te verwyder, opdrag gegee dat hulle al twee doodgemaak moet word en dan ook spesifiek verwurg moet word.
Die Joodse geskiedskrywer Josefus het hom beskryf as ’n barbaar. Hy was dan ook die bouer van die Tempel van Herodus, waarmee Herodus die Jode wou paai. Die tempel is in 70 nC verwoes deur die Romeinse regeerder Titus. Toe die wyse manne by Herodus navraag gedoen het oor die geboorte van die “Koning van die Jode” het hy hulle gestuur om uit te vind waar die “Koning” gebore is, met die voorwendsel dat hy ook ’n geskenk vir die Kind wil bring. Toe hy agterkom dat die wyse manne nie terugkom met die informasie wat hy verlang het nie, het hy al die seuntjies van twee jaar en jonger laat doodmaak. Hy wil die alleen koning en regeerder wees.
Ons kan onsself maklik van Herodus distansieer, asof daar nie in ons ook boosheid is nie. Maar eintlik is ons ’n haarbreedte van Herodus.
’n Klompie jaar gelede het ’n Amerikaner ’n artikel geskryf oor ’n getuie in die verhoor van Adolf Eichman. Eichman was tydens die Tweede wêreldoorlog een van die meesterbreine agter die sogenaamde “Holocaust” van meer as 6 miljoen Jode.
Kort na die Tweede Wêreldoorlog is Eichman wat ontvlug het in sy afwesigheid verhoor. Tydens hierdie aanvanklike verhoor het Yehiel Dinur, wat die massadood vrygespring het, getuig teen Eichman. Jare later in 1961 het spesialismagte van Israel vir Eichman in Argentinië gevang. Hy is weer verhoor en Dinur moes weer getuig. Toe hy vir Eichman in die hofsaal sien het hy flou geword. Was hy bang? Was dit haat of slegte herinneringe? Tydens ’n TV onderhoud wat later gevolg het en die joernaliste vir hom die vraag gevra het, het hy verduidelik dat hy tydens die oorlog in absolute vrees geleef het vir die magtige man. Maar in 1961 in die hofsaal, toe Eichman gestroop is van sy mag het hy hom gesien vir die man wat hy was. “Gestroop van sy beeld van mag, was Eichman maar net ’n gewone mens” het Dinur gesê. “En toe het ek meteens besef: Ek is ….. presies soos hy ….” Dit het hom laat flou word. Die rubriekskrywer se opskrif spreek boekdele: Eichman is in elkeen van ons.
Herodus is in elkeen van ons. Ons almal is geneig tot die sonde. Ons almal is geneig tot die bose. Ons almal is geneig om jaloers en lelik met mekaar te wees. Ons is geneig om mekaar in die rug te steek en onsself te bevoordeel ten koste van ander. Ons doen dit nou wel nie in die mate as wat Herodus en Eichman dit doen nie, want ons beskik nie oor hulle mag nie.
Mag maak mense lelik. Mag laat jou op ander mense trap. Mag korrupteer. Absolute mag korrupteer absoluut. Sien ons dit nie elke dag in die koerante van politici wat hulle hande oorspeel met korrupsie nie.
Die magspel in huwelike en gesinne, waar mans wil mag hê oor vrouens – wat ons patriargie noem. Of waar vrouens die mag wil hê oor mans – wat ons matriargie noem. Of waar ouers met mag hulle kinders wil beheer.
Die magspel in die werksplek, in die kerk, in die sportklub of in die organisasie. Ons noem dit klein politiek. Mag maak mense lelik.
Maar dan kom Jesus in die wêreld, in die magtelose gestalte van ’n Kind. Daar is ’n Hillsong liedjie met ’n bruggedeelte:
“You could have saved us in a second, instead You sent a Child”.
Jesus Christus se hele lewe en sterwe staan in die teken van magteloosheid. Hy het Homself ook met die magteloses in die samelewing kom assosieer. Hy het sy dissipels vermaan aan die eerste Nagmaalstafel, oor hulle so baklei om ereposisies aan die tafel. Daarom het Hyself die magtelose slaaf geword in Joh 13 en Sy dissipels se voete gewas. Jesus Christus was ’n “servant-leader”.
Robert Greenleaf het in 1970 in sy artikel “The Servant as a Leader,” die term “servant leadership” as volg beskryf: “The servant-leader is servant first… It begins with the natural feeling that one wants to serve, to serve first.” Servant leadership flips the typical leadership script by putting people ahead of power.”
Dit is wat Kersfees vir ons wil leer. Om mag prys te gee. Verantwoordelikheid is nie dieselfde as “mag” nie.
Niemand het “mag” oor iemand nie. Jy het slegs verantwoordelikheid teenoor ander mense. ’n Polisieman het nie mag oor jou nie, hy het net ’n verantwoordelikheid teenoor jou. ’n Politikus het nie “mag” oor mense nie, hulle het net ’n verantwoordelikheid teenoor mense. ’n Man het nie “mag” oor sy vrou nie. Hy het net verantwoordelikheid teenoor sy vrou. ’n Vrou het nie “mag” oor haar man nie. Sy het net ’n verantwoordelikheid teenoor haar man. Ouers het nie “mag” oor hulle kinders nie, hulle het net ’n verantwoordelikheid.
Dit is wat ons politieke leiers nie verstaan nie. Dit is waarmee ons almal sukkel.
Gee mag weg. Neem verantwoordelikheid op.
Herodus die Grote, met sy magsbewustheid het die magtige tempel van Herodus gebou, maar die tempel is in 70 nC deur Titus afgebrand en verwoes, dat nog net die klaagmuur oorgebly het. Jesus Christus het sy mag weg gegee en ons as gelowiges leef voort as tempels van Christus en die Heilige Gees.
Mag ons die ware gees van Kersfees verstaan en ons mag weggee en ons verantwoordelikheid opneem om “servant-leaders” te wees ook in 2025 en elke dag van ons lewe.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
Wanneer ’n baba gebore word, sien die naby familie en vriende heel eerste die nuweling. Dit gaan met groot vreugde gepaard. Die familie het groter geword.
Die eerste genooides in Luk 2 na Jesus se geboorte was skaapherders. In godsdienstige kringe is hulle dikwels as onrein gesien. Die destydse herders is nie eens as getuies in ’n Joodse hof toegelaat nie. Die openbare beskouing van skaapherders was dat hulle diewe en bedrieërs was, omdat hulle dikwels sonder toestemming met hulle skape oor ander mense se eiendom getrek het. Dikwels het hulle ook hul skape op ander mense se veld laat wei. Soos ons hier in die Oos Kaap kwaad is vir die herders wat hulle vee, die dorp injaag om mense se blomme, plante en bome te verslind. Baie van die skaapherders in die Bybel was voortvlugtend vir die gereg (dink aan Moses wat voortvlugtend was, omdat hy ’n Egiptenaar in Egipte doodgeslaan het) en het maande en weke in die veld en woestyn gebly en saans as dit donker is om die vuur gesit het. Hulle het van vuurrook en skape geruik. Hulle was onwelriekend en ongewild. Skaapherders was van die laagste klasse in die Joodse samelewing.
Die herder in die Bybel was ook nie silwerskoon met spierwit klere soos in die Kinderbybels nie. Die herder se klere was vuil en geskeur van om in die veld te lewe. Die herder was bruingebrand met krapmerke oor sy arms, bene en gesig. Die herder het saam met die skape, dag en nag gelewe. Hy het die skape met sy stok en staf beskerm. Sou die herder iets oorkom, was die skape weerloos.
’n Mens kan jou net indink hoe die skaapherders nie geskrik het toe hulle die engelekoor gehoor nie. Toe hoor hulle die goeie nuus dat Christus die Here daardie dag vir hulle gebore is in Bethlehem. Die teken wat hulle gekry het was ’n baba wat in doeke toegedraai in ’n krip lê. Verbeel jou die reuk en die speeksel van diere in ’n dierekrip, omdat daar geen ordentlike huisvesting vir Hom was nie. Ons sou vandag die Kinderwelsyn gebel het. Kom verwyder die kind, die toestande is swak. Die prentjie lyk nie reg nie.
Vir ons maak die prentjie nie sin nie, sê Stephan Joubert. Maar vir die herders het hierdie prentjie sin gemaak. Dit was húlle Verlosser. Hy het hulle reuk aangeneem, skryf Stephan Joubert. Hy het opgedaag in ’n wêreld wat vir hulle bekend was. Dit was aan die anderkant totaal onbekend vir die rykes en vooraanstaandes en vir die vroom godsdienstiges.
Jesus se vreemde aankoms, verklap wat was sy doel, waarom Hy gekom het na hierdie wêreld. Hy het gekom na mense aan wie die onwelriekende reuk van sonde gehang het. Dit is die Evangelie. Maar toe het die kerkgeskiedenis Hom toegeverf in romantiese Kerskaartjies, waarin Hy geverf is as ’n adellike babatjie, omring deur heiliges en edelmanne.
Jesus Christus is gebore, en is gekruisig vir die sonde reuk van hierdie wêreld. Hy het die vrot reuk van die sonde op Hom geneem en die Vroteier van die wêreld geword. Hy het so vrot geruik van ons sonde, dat hulle Hom uit Jerualem uitgebring het en Hom buite Jerusalem, op Golgota laat sterf het, daar waar al die misdadigers gehang het aan kruise, omdat hulle geruik het van hul misdade.
Somtyds ontken ons, ons eie sonde reuke. Soos wat mense reukweerders aansmeer om liggaamsreuke te verberg, kan ons dikwels ons goeie lewe gebruik as reukweerder om ons sondige reuke te verberg. Dink aan die Fariseër wat in die tempel sy goeie lewe aangeprys het as reukweerder om sy sonde reuke te verdoesel. Maar die stinkende reuk van die tollenaar se sonde agter hom het hy geruik. Die tollenaar, het egter sy sonde erken en geweet dat hy stink van sy eie sonde en het gebid, dat die Here hom moet vergeef.
Jesus Christus was nie maar net ’n reukweerder vir ons sondes nie. Hy het ons gewas, silwerskoon in Sy bloed, witter as wol, sonder enige reukie van sonde wat oorbly.
Jesus Christus is die groot Soeker. Ons is soos Adam en Eva, mense wat wegkruip vir God. Daarom skryf Stephan Joubert so treffend: Ons is nie “seekers” soos wat sommige soeker-sensitiewe kerke glo nie; ons is “hiders”. God se Kind is die Groot Soeker. Hy bly op ons spoor, totdat Hy ons inhaal.
Daarom het Jesus gekom vir die stukkendes, die verlorenes, randfigure, afgeskryftes, eensames, sondaars en vir almal wat die reuk van sonde in hulle eie lewe ruik. Die tragedie is dat die mens nie altyd sy eie stank en reuke kan ruik nie. Jy kan nie jou eie asem ruik nie. Daarom sukkel ons so om ons eie sonde te ruik. Ons ruik maklik ander mense se sonde. Daarom moet die Heilige Gees ons ’n bewustheid gee van ons eie sondige reuke.
Die skaapherders het besoek gebring by die Kind, wat later die “Goeie Herder” sou word. Hy sou word die Goeie Herder, waarvan koning Dawid, honderde jare tevore van gedig het in Psalm 23. Hy het die goeie Herder geword wat Sy skape by die naam ken. Hierdie Herder sou ook later Sy lewe vir Sy skape aflê.
In die Ou Testament, veral in die boek Esegiël word verwys na die politieke en godsdienstige leiers van die volk Israel, wat swak herders is. Hulle is korrup en sien net om na hulle eie belange. Hulle het die siek en swak en weerlose skape verdruk en vir hulself net die beste gevat. Dit laat ons dink aan die huidige Suid Afrika, waar die meeste politici korrup is. Staatskaping, korrupsie en die steel van geld het ’n algemene gesig geword. Hulle is swak herders. Hulle laat die skape, die mense van Suid Afrika swaarkry. Daar is geen dienslewering nie, want die herders kyk nie na die skape nie.
Dan word voorspel van die goeie Herder wat kom, om die wat mank en siek en kruppel en uitgestoot is op te tel en na veiligheid te dra.
Ook die voorspoedsteologie is ’n voorbeeld van godsdienstige leiers wat geld najaag, sonder om vir die weerloses te sorg en om te gee. Hulle is swak herders van hulle gemeente.
Jesus Christus het opgestaan vir alle weerloses in dié wêreld. In die Ou Testament was net die Jode die uitverkore en spesiale volk. Hulle is as weerloos gesien. Dan sê Jesus dat Hy vir alle mense gesterf het: “Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.” Daarmee bedoel die Here, dat Hy nou die herder is van alle volke se weerloses.
Jesus het gesterf, maar Hy het opgestaan uit die dood, sodat ons nie weerloos is nie. Daarom het ons nog steeds, elke dag die Here as ons goeie Herder, wat ons wil lei na groen weivelde en na waters waar daar vrede is.
Daarom gaan Kersfees oor weerloosheid en broosheid. Kersfees gaan oor om te gee. Kersfees gaan oor om uit te reik na ander mense wat weerloos is en ruik van sonde of armoede.
Mag u en ek ook in die Kersfeestyd, met die reuk van sonde wat aan ons kleef opnuut verwonderd staan voor die krip in Bethlehem.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
SKRIFLESING: Mat 18: 21 – 35, Rom 6: 23 en Ef 4: 31 – 32
’n Mens leef nie van brood alleen nie, maar ook van die vergifnis van jou medemens. Elke dag sien ons op straathoeke hoe bedelaars om brood bedel, maar elke dag kom daar ook mense na ons toe om te bedel om vergifnis.
Daarom het die Here Jesus ons geleer in die “Onse Vader”-gebed om te bid vir ons daaglikse brood, maar ook om te bid vir vergifnis. Daarom sê ons met elke ete vir die Here dankie vir ons daaglikse brood, maar kom vra ons ook elke Sondag vir die Here om vergifnis in die kerk vir ons sondes. Die Here gee brood én vergifnis. Maar Hy verwag van sy kinders om ook brood en vergifnis uit te deel. Om vir ’n ander mens brood te gee is nog maklik, maar om vir ’n ander mens vergifnis te bied is nie so maklik nie.
In baie gelowiges se hart sit hierdie harde wet: ’n Oog om ’n oog en ’n hand om ’n hand.” (Talio-beginsel) Elkeen moet boet vir sy skulde. Die Here wil egter vir ons ’n sagte wet leer, naamlik om jou skuldenaars te vergewe, ja om van jou vyand jou vriend te maak.
Natuurlik is om te vergewe nie so maklik nie. Dit sit nie in elkeen se broek – of rok – om ’n ander een van harte te vergeef nie.
Daarom sorteer die “deug” om iemand te kan vergeef onder die deugde wat van ’n mens moed vra. Om jou skuld te kan bely, is nie so maklik nie. Niemand wil graag sê “Ek is die skuldige” nie. Ons verplaas liewer die skuld op ’n ander een. So speel ons vroteier. Ons plaas die sakdoek agter iemand anders se rug. Adam en Eva het net so vroteier gespeel. Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang en so gaan die bose kringloop aan.
Gelukkig het God hierdie bose kringloop kom deurbreek toe Hy aan die kruis kom sterwe het. Hy het die vroteier geword wat in die middel kom staan het. Die skande en die stank van die hele wêreld se sondes het op Hom neergekom. Hy het die vroteier van die wêreld geword, vir wie almal hulle koppe weggedraai het. Die Bybel sê Hy was die sondebok op wie die skuld neergekom het.
Dit was gebruik in die Joodse tradisie om ’n bok simbolies te belaai (te besprinkel) met die skuld van die Israeliete in die kamp en dan die bok alleen die woestyn in te stuur en as’t ware die sonde van die volk weg te dra. Later is die bok selfs van ’n hoë krans in die woestyn afgestoot om ’n einde te maak aan die sondes van die volk.
Die Here Jesus was dus die vroteier, die sondebok, die Lam sonder gebrek wat geslag is om die bose kringloop van skuld te verbreek om versoening en vergifnis moontlik te maak.
Aan die kruis het die Here Jesus ’n nuwe kringloop laat begin, naamlik die kringloop van vergifnis. Aan die kruis het Hy geprewel: “Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Helmut Thielicke, die bekende Duitse teoloog en skrywer, sê dat die Here Jesus as’t ware vir ons daar aan die kruis ’n aflosstokkie van vergifnis aangee, met die opdrag om daarmee te hardloop en dit aan te gee na ons skuldenaars.
Daarom leer Hy ons om te bid: “ Vergewe ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Ons moet met die aflosstokkie van vergifnis hardloop en dit aangee vir ons huweliksmaats, ons kollegas, ons politieke opponente en vyande. As ek nie bereid is om dit te doen nie, word ek gediskwalifiseer, net soos ’n atleet wat die stokkie laat val of weier om die stokkie aan te gee aan die volgende atleet.
Ons maak egter baie keer soos daardie amptenaar wat deur die koning vergewe is en wie se skuld alles afgeskryf is, maar dan omdraai en nie eers sy mede-amptenaar se skuld vir hom kan vergeef nie. Ons wil die wonderkuur, die entstof, net vir onsself hou. Ons wil die vergifnis van die Here graag vir onsself ontvang, maar ons is nie bereid om daardie wonderkuur met ons medemens se deel nie. Ons is nie bereid om ander te vergeef nie. Dan beland ons net soos daardie amptenaar in ’n tronk. Ons kan nie slaap nie, ons bly bitter en bestee ons lewensenergie aan wraakgedagtes, ons tob oor die verlede, en vertroetel ons emosionele wonde. Ons ontwikkel selfs maagsere.
Wie nie vergewe nie, laat toe dat die bitterheid soos suuruitjies sy hart oorneem. In my pastorie se tuin in Strydenburg (my vorige gemeente) het suuruitjies ook my tuin en grasperk oorgeneem. Dit was ’n ewige frustrasie. Hoe meer jy hulle uitgehaal het, hoe meer het hulle geword. Net so word ’n mens ’n verbitterde mens, wat dink die wêreld skuld hom alles. Die wonder van vergifnis is dat nie net die skuldenaar nie, maar ook die een wat vergeef, albei uiteindelik vry word.
Om iemand nie te vergewe nie, beteken om daardie persoon soos ’n lyk aan jou vas te bind met kettings. Uiteindelik sterf jy ook aan lyksiektes. Vergewe hom, maak hom los van jou, sodat ook jy vry kan gaan.
Wie egter geleer het om te vergewe, word vry van hierdie sielkundige tronk. Ons kan weer slaap. Ons kan pragtige verhoudinge ontwikkel en weer goeie tye saam beleef met dié wat ons vergewe het. Ons voel selfs fisies beter en gesonder.
Wanneer jy iemand vergewe, dan kanselleer jy in ’n sekere sin skuld. Die een wat vergewe, verwyder alle beperkings of hindernisse wat daar op die verhouding geplaas is. Die een wat vergewe en die een wat vergifnis ontvang het, kan van nuuts af met mekaar ’n verhouding ontwikkel, want die stuk seer en pyn is bely en uitgepraat.
Wanneer Luther sê ek moet “’n Christus” vir ’n ander een word, bedoel hy ek moet soos Christus kan vergewe. Wie nie kan of wil vergewe nie doen ’n groot onreg aan sy medemens. Hy laat sy medemens alleen buite in die koue van verwerping staan. Hy laat toe dat die skuldgevoelens sy medemens verteer. Hy weier om sy medemens te vergewe, en hy maak die ander een se gees dood. Die Here wil nie kasty nie, nee Hy wil vergewe sodat mense vry kan word. Die gelowige moet ook sy medemens vergewe, sodat hulle vry kan wees.
Dikwels sê mense dat hulle liewer nie wil vergewe nie, want dit sal nie die pyn en seerkry wat hulle beleef wegneem nie. Die wonder is egter as ek werklik iemand van harte vergewe, is dit so goed ek los die tou van ’n klok. Die klok sal nog ’n paar keer beier, maar geleidelik sal die klok sagter word en uiteindelik stil word. Net so, as ek van harte vergewe, sal die pyn wat ek ervaar het geleidelik stiller word. Maar eers moet ek vergewe, eers moet ek die tou los … Die wonder van vergifnis is dat nie net die skuldenaar nie, maar ook die een wat vergeef, albei uiteindelik vry word.
Hoe nodig het ons dit nie ook in ons land met sy rassespanning nie. Deur vergifnis kan ons in vrede, liefde en respek met mekaar saamwoon.
Om vir iemand kos te gee, is om brood vir sy liggaam te gee. Om vir iemand vergifnis te gee, is om brood vir sy gees te gee. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
Die boek Rut begin met “In die jare toe die rigters nog regeer het”. Dit was nog voor die koningstydperk. Dan word daar vertel van ’n hongersnood wat in die land geheers het. Nêrens word God beskuldig vir die hongersnood nie. Die mense van Israel was gewoond aan goeie jare met gemiddelde reënval, en ook droogtes. Die droogte in die boek Rut word beskryf as ’n tydperk van “hongersnood”. Daar was werklik nie genoeg kos vir almal om te eet nie.
Dan lees ons van ’n man Elimeleg, wat beteken “God is Koning”. Sy vrou se naam is Naomi en dit beteken “lieflik aangenaam”. Hulle het ook twee seuns gehad, wat nie baie gesond was nie, naamlik Maglon wie se naam “siek” beteken en Kiljon, wat die betekenis van “gedaan” dra. Hulle het as gesin weggetrek uit Bethlehem, wat beteken “plek van brood”, na Moab. Dit is insiggewend dat die plek van brood nie meer brood gehad het om te eet nie! Hulle trek na Moab. Die Israeliete het neergesien op die Moabiete. Daarom was dit vir Elimeleg ’n vernedering om by die Moabiete te bly, ter wille van brood.
Tydens die uittog uit Egipte, toe die volk op pad na Kanaän was, het hulle deur die landgebied van die Moabiete gereis, maar die Moabiete het geweier om vir hulle brood te gee (Neh 13: 1 – 2). Maar nou, veel later, het Elimeleg en sy gesin genade gevind by die Moabiete.
In Moab het Naomi se man Elimeleg gesterf. Sonder ’n man in die antieke tyd was ’n vrou weerloos en uitgelewer aan armoede. Gelukkig het sy twee seuns gehad. Hulle het getrou met twee Moabitiese meisies Orpa en Rut. Die betekenis van hulle name was as volg. Orpa beteken “die een wat haar rug draai” en Rut beteken “ vriendin, die een wat by jou staan.” Natuurlik was die twee huwelike skindernuus, want vir die Israeliete was rasegtheid baie belangrik.
Dan sterf Maglon en Kiljon. Hulle name sê mos hulle gaan nie lank lewe nie. Nou is al die manlike lede van die familie dood. Die drie weduwees bly oor, sonder ’n heenkome en vastigheid. Vir die soveelste keer gaan dit in die Bybel nie oor sterkes nie, maar ook swakkes. Nie oor belangrikes nie, maar onbelangrikes. Nie oor mans nie, maar oor vroue.
Vir tien jaar het Naomi in Moab gebly.
In vers 6 lees ons hoedat dit weer beter gaan in Betlehem en dat die Here goeie oeste gegee het. Naomi wil nou teruggaan na Betlehem, want die “huis van brood” het weer brood. Sy en haar twee skoondogters het reggemaak om te vertrek. In hoofstuk 1: 8 sê Naomi vir haar skoondogters dat hulle liewer moet teruggaan na hulle ouerhuise, want daar is vir hulle geen toekoms saam met haar nie. Naomi sê: “Die Here het immers sy hand teen my uitgestrek.” Die 1983-vertaling vertaal dit “dat die Here teen my gedraai het.” Albei het gehuil en gepleit om saam met haar te gaan. Toe redeneer Naomi weer ernstig met hulle en Orpa het van haar afskeid geneem. Vir haar skoondogters was daar nog ’n toekoms, hulle kon weer trou en kinders kry, maar vir Naomi was daar geen toekoms nie. Rut het egter daarop aangedring om saam met Naomi te gaan. Rut sê: “Moet my nie probeer dwing om u te verlaat of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word.”
Rut het toe saam met Naomi na Betlehem gegaan. Daar was groot opgewondenheid toe hulle haar herken in Betlehem. Naomi het egter gesê: “Moet my nie Naomi noem nie, noem my Mara (dit beteken “bitter”), want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak. Met ’n vol lewe is ek hier weg, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom my Naomi noem terwyl die Here my teenstander geword het en die Almagtige my kwaad aangedoen het?” Dit gebeur dikwels in die Bybel dat Bybelpersone in ’n worstelstryd met God verkeer en hulle woede teenoor God uitspreek.
Maar eintlik is sy kortsigtig. Sy sien nie raak dat die Here vir haar in die persoon van Rut geseën het nie. Haar uitkoms en toekoms is Rut. Sy sien nie die goedheid van die Here raak nie. Die Here het reeds vir haar voorsien en versorg deur Rut.
Naomi sien God net raak as die “magtige” en nie as die “almagtige” nie. Toe dinge skeef loop in haar lewe, blameer sy God, want God se mag het grense. Sou sy hom as die Almagtige raaksien, sou sy vir Rut raaksien as die uitkoms in haar lewe. Somtyds blameer ons God oor goed wat in ons lewe gebeur, omdat ons hom net as “magtig” ervaar. Wie God egter as “almagtig” ervaar, weet dat God agter die skerms aan die werk is vir ’n groter en beter plan.
Nie in die goeie oeste nie, maar in Rut wat by haar was, was God teenwoordig in Naomi se lewe. Kobus Myburgh en Annene Mullins skryf aangrypend: “Toe dinge pikdonker lyk, word ’n Moabiet die lig in Mara se lewe. Toe die lewe Naomi klap, staan Rut haar by. Dit is God aan die werk.”
In hoofstuk 2: 1 stel die skrywer ons bekend aan die volgende belangrike rolspeler in die verhaal, naamlik Boas. Boas was ’n vermoënde familielid aan Naomi se man Elimeleg se kant. Die Hebreeus sê: “Naomi het gedink aan Boas”. Hy sou hulle enigste uitweg wees. Rut het dit gehoor en haar eie planne gemaak.
Dan lees ons hoedat Rut gaan are optel en dan spesifiek ook op Boas se lande. In die antieke tyd was die gebruik dat wanneer koring geoes word, die wese en weduwees agter die snyers mag aanloop en die are optel wat hulle gemis het. Sy het spesifiek na Boas se lande gegaan. Rut se doel was om Boas se aandag en guns te wen. Toe Boas van sy huis op die dorp by sy landerye aankom, vra hy vir die snyers wie die meisie is. Hulle antwoord hom toe deur te sê dit is ’n Moabitiese meisie wat saam met Naomi van Moab gekom het. In vers 2:8 begin Boas met Rut praat. Hy spreek haar aan met ’n intieme aanspreekvorm, naamlik “dogter”. Hulle is nie op dieselfde vlak nie. Boas is welvarend en hoof van ’n belangrike familie. Rut is minder as niks. Sy is ’n vreemdeling-weduwee uit Moab. Maar Boas het sy goedgesindheid aan haar bewys. Hy sê vir haar: “Luister, my dogter, jy hoef nie in ’n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.”
Rut, die vreemdeling-weduwee uit Moab, staan nie meer alleen buite in die koue nie. Boas het hom oor haar ontferm. Boas het selfs toegelaat dat sy meer as die normale hoeveelheid are optel. Hy het vir sy snyers uitdruklik opdrag gegee om ekstra are te laat val, sodat Rut dit kan optel. In vers 17 staan daar dat Rut tot die aand are opgetel het. Toe sy dit uitgeslaan het, was dit ongeveer dertien kilogram. Die Hebreeus sê sy het ’n “eva” uitgeslaan. Sy het in oorvloed opgetel. Dit was genoeg om ’n peloton soldate kos te gee. Hierdie voorraad sou lank hou. In ’n wêreld waarin mense probeer om net vir vandag genoeg te hê, gaan sy met ’n oorvloed huis toe. Daar is weer brood in die “huis van brood”.
Naomi het haar uitgevra oor waar sy die oorvloed gekry het. Sy verduidelik dat dit Boas was wat so goed vir haar was. Nou dink Naomi aan haar opsies. Boas is verlangs haar losser omdat haar man Elimeleg nie broers gehad het nie.
In die antieke tyd, wanneer ’n man sterf, moet die broer of familielid van die oorledene sorg neem vir die weduwee.
Intussen moedig Naomi vir Rut aan om op Boas se lande koring op te tel, want dalk sal sy op ander lande lastig geval word of nie aanvaar word nie. Rut doen iets. Sy maak hulle spens vol koring.
Maar Naomi het ’n plan. Haar plan gaan oor haar eie toekoms. Eintlik is sy selfsugtig. Desnieteenstaande vat God Naomi se hand en help haar om haar doel te bereik.
Naomi stuur vir Rut na die dorsvloer toe op ’n spesifieke aand. Die dorsvloer het op ’n heuwel gelê. Wanneer die aandwind opkom het die werkers die koring en kaf van mekaar geskei. Naomi weet dit is Boas se beurt. Boas is nie alleen daar nie. Sy werkers eet en drink saam met hom. Dit is ’n groot geleentheid. Van die oes moes hulle lank leef. Die oesfees was die Joodse Pinksterfees wat na Christus die fees geword het waarop die uitstorting van die Heilige Gees gevier word.
Naomi het aan Rut gesê om haarself mooi aan te trek en sy moes lekker ruik en dan moes sy wanneer Boas en sy werkers klaar geëet en gedrink het, by sy voete gaan lê. By die voete gaan lê is in Hebreeus: “ maak sy bene oop en gaan lê by hom”. Dit is dus beslis ’n seksuele verwysing van hoe sy by hom moes gaan lê.
Na Boas waarskynlik te veel gedrink het, het hy aan die punt aan die agterkant van die mied wat ’n bietjie privaat was, aan die slaap geraak. Dis toe dat Rut in ’n seksuele posisie by hom gaan lê het. In die nag word hy wakker en is verbaas om ’n vrou by hom te sien lê. In vers 3: 9 staan daar: “Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser.” Dadelik het hy op haar verlief geraak. Alles was vir hom te veel. Haar verleidelike mooi liggaam, haar lekker reuk, die wyn en sommer alles het hom smoorverlief op haar gemaak. Die enigste probleem was dat hy nie die naaste losser is nie. Maar hy het haar belowe om daarmee ’n plan te maak. Hy het haar uitgenooi om by hom te lê tot die son opkom.
Die volgende oggend het Boas al vir sy toekomstige skoonma Naomi begin sorg. Hy het vir haar 26 kilogram gars gegee, want hy kon nie met leë hande by sy aanstaande skoonma aankom nie.
Intussen het Boas na die stadspoort gegaan en die losser ontmoet in die teenwoordigheid van die tien leiers van die stad. Hy het vir die losser gevra of hy die stuk grond van Elimeleg kan koop. Die losser het “ja” gesê. Toe vra Boas of hy met die Moabitiese weduwee sal trou, sodat die grond in die oorledene se familie bly. Skielik is die losser bang dat sy eie eiendom in gevaar kom. Toe sê die losser Boas kan maar die losser wees.
Met die uitruil van ’n skoen is die transaksie toe beklink. Boas het dadelik met Rut in die huwelik getree. Uit die huwelik is Obed gebore wat een van die voorvaders van Dawid was en uit wie se geslagslyn Jesus Christus uiteindelik gebore sou word.
Die vroue het vir Naomi in vers 4: 14 – 15 gesê: “Die Here moet geprys word! Hy het jou vandag nie sonder ’n losser gelaat nie. Mag dié losser beroemd wees in Israel. Mag hy jou lewenslus herstel en jou versorg op jou oudag. Jou skoondogter, wat jou liefhet, het hom in die wêreld gebring, sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns.”
Wanneer die lewe jou klap, kom die uitkoms op vreemde maniere. Naomi hoef haarself nie meer Mara (bitter) te noem nie. Haar lewenslus is herstel. Sy is versorg. Die Here het op vreemde maniere vir haar uitkoms gegee. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
BRONNELYS
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
Mullins A & Myburg, K 2018. Rut, God deur mense by mense. Wellington: Bybel – Media
’n Mens kan siende blind wees. Dit beteken dat jy wel letterlik kan sien, maar geestelik heeltemal blind is vir jou foute.
John Newton is in 1725 in Londen gebore. Hy is gedwing om in die Britse vloot te dien. Hy het gedros, is gevang en het ’n loesing voor 350 matrose gekry. Na sy ontslag het Newton begin werk as slawehandelaar in Wes-Afrika. Op ’n stadium het hy die kaptein uitgetart en spottende liedere oor hom gemaak. Dit het gemaak dat hy toe self op ’n stadium slaaf geword het van die slawekaptein. Hy is egter later vrygelaat.
In Maart 1748 het die 23-jarige Newton aan boord van die slaweskip Greyhound gewerk toe ’n groot storm losgebreek het. Die slaweskip was op die punt om te vergaan. Newton het vir die eerste keer in sy lewe tot God geroep en met Hom onderhandel.
Foto krediet: Mike Haywood
Die storm het bedaar en hy het wonderbaarlik oorleef. Dit was die begin van sy belangstelling in die Christelike Evangelie. Daarom was 10 Maart 1748 sy eerste bekeringsdatum. Hy het begin raaksien dat die Bybelverhale wat sy moeder vir hom gelees het waar is. Hy het opgehou dobbel en drink en begin om ’n geestelike lewe te lei. Tog het hy nie sy beroep as slawehandelaar opgegee nie. Hy het nog steeds met slawe handel gedryf. Later het hy selfs die kaptein van ’n slaweskip geword. ’n Mens kan as’t ware sê dat hy siende blind was. Hy het nie raakgesien dat slawerny verkeerd is nie.
Later het Newton sy slawehandel gestop as gevolg van siekte en gaan leer vir ’n predikant vir die Anglikaanse Kerk. Op die ouderdom van 39 jaar is hy tot die bediening toegelaat. Newton het self later verklaar dat met sy eerste bekering in die storm, hy hom nog nie heeltemal oorgegee het aan die Here nie, want hy was siende blind vir die sonde van slawerny. Newton het later ’n bondgenoot geword van William Wilberforce om slawerny verbied te kry in Brittanje. In 1807 het Newton die Britse parlement se verbod op slawerny beleef. Al hierdie dinge het ’n diep indruk gemaak op John Newton.
Hy was dan ook die outeur van “Amazing Grace”, wat hy in 1779 geskryf het. Dadelik herken ’n mens die lewensverhaal van John Newton in die eerste vers van die lied.
“Amazing grace! How sweet the sound
That saved a wretch like me.
I once was lost, but now am found,
Was blind but now I see.”
In ons gelese gedeelte vind ons die blinde Bartimeus, seun van Timeus, wat op die pad van Jerigo sit. Die naam Bartimeus se Aramese betekenis is “Seun van onreinheid.” Hy was ’n bedelaar en al wat hy besit het was sy bokleed. Toe hy hoor Jesus kom langs die pad verby skree hy “Jesus, Seun van Dawid, ontferm u tog oor my.” Twee maal skree hy die woorde uit. Die Griekse woord vir skree is dieselfde woord wat gebruik word vir ’n kraai se skril geroep. Dan lees ons dat baie mense met hom geraas het en gesê het dat hy moes stilbly. As’t ware was die mense wat hom wou stilmaak, ook siende blind. Hulle kon nie sien dat Jesus by magte was om vir Bartimeus gesond te maak nie. Toe sê Jesus dat hulle hom moes nader roep. Hy los sy bokleed, al wat hy nog besit, en spring op om by Jesus te kom. Jesus vra hom toe wat Hy vir hom moes doen. Hy roep uit: “Raboenie, dat ek kan sien.” Jesus sê daarop vir hom dat hy maar kan gaan. Sy geloof het hom gered. Dan lees ons dat hy dadelik kon sien en al agter Jesus aangegaan het.
Jesus het Bartimeus se liggaamlike blindheid genees en ook die geestelike blindheid van die omstanders wat die man wou stilmaak. Bartimeus en die omstanders is van hulle blindheid genees.
So dikwels kan ons ’n Christen wees, soos John Newton, maar nog vir jare geestelik blind wees vir die goed wat in ons lewe verkeerd is. Dikwels is ons die seun of dogter van onreinheid, met ons eie geestelike blindheid om die sonde in ons eie lewe raak te sien.
Eers is 1807 is die geestelike blindheid genees in Brittanje toe slawerny afgeskaf is. Eers die afgelope vier dekades is die geestelike blindheid genees toe vroue begin het om hulle regmatige plek in die samelewing in te neem.
In die tyd van Nazi-Duitsland het die Duitsers die Jode nie as mense raakgesien nie. In die Tweede Wêreldoorlog is honderdduisende Jode vermoor en gaskamers toe gestuur. Eers na die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse kerke die Barmen-verklaring opgestel, wat die tydsgees van Naziïsme ten sterkste veroordeel het. Eers in 1994 is die geestelike blindheid genees in Suid-Afrika toe die tydsgees en wette van apartheid afgeskaf is. So is daar in die geskiedenis honderde voorbeelde van mense en nasies se geestelike blindheid en sondige tydsgees wat onreg veroorsaak het aan die mensdom.
Paulus is op die pad van Damaskus ook met blindheid geslaan, sodat hy ’n paar dae later helder kon sien dat die Here hom geroep het. Hy wat blind was vir Christus en die Christene, kon nou skielik die verhoogde Christus herken en ’n ywerige apostel word van die Here Jesus Christus.
In die Middeleeue het die Rooms Katolieke kerk die pad byster geraak deur goeie werke en boetedoening deur aflaatboetes te verkondig as manier om verlos te word. Hulle het die Skrif weggesteek vir die gewone mense en die kerk het as’t ware korrup geword. Dan lees ons van Martin Luther se eerste sien in die donderstorm, dan die tweede sien in sy ontnugtering in Rome en dan sy derde sien toe hy begin het om die Romeine-brief en die Brief aan Galasiërs te lees en die vrye genade van die Here ontdek het. Deur Luther en die kerkhervormers het God die blindheid van die kerklui in die Roomse kerk openbaar gemaak sodat die mense kon sien dat dit net Christus Jesus is wat jou kan red.
Maar so kan ’n mens ook ’n Christen wees en geestelik blind wees vir jou eie foute. Dikwels het ’n mens ’n broer of suster nodig om jou bewus te maak van die sonde in jou lewe waarvoor jy blind is.
Jy kan dalk blind wees vir jou eie humeur, of blind wees vir jou eie bitterheid en wrokke. Jy kan dalk blind wees vir die swak dissipline in jou lewe, as dit kom by geestelike sake. Jy kan dalk blind wees vir jou eie veroordelende persoonlikheid of dat jy mense afsydig behandel. Jy kan dalk blind wees vir jou eie geskinder of vir jou vloektaal. Jy is dalk blind vir jou eie hoogmoedige geaardheid of vir jou selfsug.
Somtyds het ’n mens ’n bril nodig om jou bysiendheid weg te neem. Die Woord van die Here en ’n selfondersoekende gebedslewe kan die bril word wat jou duideliker laat sien. Ons moet ook dikwels vir die Here vra: “Raboenie, dat ek kan sien!”
Daarom is dit veral die werk van die Heilige Gees om ons blinde oë oop te maak om te kan sien wat in ons lewe verkeerd is.
Mense het gewoonlik ’n paar bekerings in hulle lewe. Daar moet ‘n daaglikse bekering in ons lewe wees. Net soos Newton ook in sy lewe ’n paar bekerings gehad het. Hy het eers baie later homself losgemaak van slawerny en is sodoende van sy blindheid genees. So kry ’n mens dikwels ook later in jou lewe skaam vir die tipe mens wat jy vroeër was voordat jou oë oopgegaan het.
’n Oogarts beveel gewoonlik aan dat ’n mens elke twee jaar moet gaan vir ’n oogtoets. Net so moet ons ook onsself aan die Here en Sy Woord onderwerp, sodat Sy Gees ons bril kan verander, sodat ons nie bysiende is vir ons eie foute en tekortkominge nie. “Raboenie, dat ek kan sien!”
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
Die bose begin altyd groot en die goeie begin altyd klein. Die Satan wil altyd met die groot goed begin. So het hy vir Eva in die begin verlei deur vir haar te vra of sy “soos God wil wees”. Hy het haar die sug gegee om groot te wees. So het die duiwel ook die Here Jesus versoek met versoekinge wat verband hou met groot en aanskoulike dinge, soos brood uit klippe, om deur engele gedra te word en ’n belofte om oor al die koninkryke van die aarde te regeer.
Mense raak gaande oor aanskoulike goed: supersterre, beroemde mense, geld, besittings, materialisme, ensovoorts. Hoe groter, hoe beter. Mense wil ook nie vandag meer onder begin nie. Hulle wil sommer daar begin waar hulle ouers geëindig het in die lewe. “We want it all and we want it now.” Die filmbedryf skep ook karakters wat alles die beste kan doen, sodat die kykers kan dagdroom om ook so te wees soos wat die karakters is.
So het die koninkryke van hierdie wêreld gekom en gegaan. Elke era se koninkryk spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge en of dit kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke van ouds tot die modern koninkryke van vandag, maak hulle almal skuldig aan ’n grootheidswaan. So spog mense met hulle eie klein koninkrykies.
Met God se Koninkryk is dit so gans anders. Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk.
’n Mosterdsaadjie is skaars 1 – 2 mm in deursnee, maar dit kan ’n baie groot boom word waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien, het die brood gerys. So werk God deur die eeue. God werk in die klein, onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treetjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ’n Pampoen groei ’n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ’n Eikeboom of olyfboom groei baie stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewensduur van die boom.
Daarom moet ons geduldig met God wees as Hy nie vinnig genoeg na ons sin werk nie. God se Koninkryk is nie ’n pampoenkoninkryk nie, maar ’n mosterdsaadboom-koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet.
Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ’n groot boom. Elke jaarring vertel van die reis saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.
So het die Here se kerk ook jaarringe wat vertel van die geskiedenis van die kerk. Die Here hou self Sy kerk in stand, al blaak die hel van woede.
Henri Nouwen het met sy lewe aangetoon dat om ’n Koninkrykslewe te beoefen ek ’n ware dissipel moet word, daar waar daar swakheid, gebrokenheid, siekte, pyn, eensaamheid, angstigheid en verlorenheid is. Deur diens, liefde en omgee sal mense die hart van God sien.
Spirituele formasie plaas Jesus midde-in die nood van die wêreld. Spirituele formasie of inoefening beteken om Jesus Christus te “embody” ( te beliggaam) in die wêreld. Dan werk ek soos suurdeeg, wat smaak en tekstuur gee aan die lewe met al sy pyn en seer.
Geestelike formasie vra waagmoed en ’n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ’n profetiese gemeenskap word, wat nie narsisties die kerk preserveer om maar net in stand gehou te word nie. Dit vra om betrokke te raak by die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk in stand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak.
Die kerk moet die wêreld in-“domino”. Die kerk moenie torings bou soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ’n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ’n beter plek maak. Die duiwel is altyd besig om aanskoulik opwaarts te bou (soos met die Toring van Babel). Die Here wil uitwaarts na die wêreld toe bou.
Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself in stand te hou nie. ’n Goeie moeder is meer oor haar kinders bekommerd as wat sy oor haarself bekommerd is. Die kerk moet ook leer om soos ’n goeie moeder meer bekommerd te wees oor haar kinders in die wêreld as oor haarself. Storey haal aan deur te sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk moet ’n nuwe droom en visie kontekstualiseer, waarin armoede, werkloosheid, onreg ensovoorts aangespreek word.
Daarom moet die kerk mense dissipels maak, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie en inoefening word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “Gospel-shaped” word wat ’n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus. “Spiritual formation refers to the transformation of people into what C.S. Lewis calls “little Christs.” (Leclerc)
John Wesley het spirituele formasie of inoefening verstaan as liefde wat in elke oomblik uitgestort word. Daarom vind spirituele formasie in die “kairos”-oomblikke plaas wanneer God uniek deur ons werk in ’n spesifieke konteks.
In spirituele formasie staan dissipelskap as ’n kernbegrip. Nominale Christene kan navolgers of leerlinge wees van Jesus Christus, maar dit maak nog nie van jou ’n dissipel nie. “Being a disciple or discipleship is another word for Christian spirituality and focuses on the transformation of the human person into the likeness of Jesus Christ.” (Leclerc)
Spirituele formasie of inoefening is ’n stuk bevryding van ’n stuk ongesonde ingebuigdheid van die self en eie ego. Dit is ’n stuk genesing soos wat Henri Nouwen in sy eie lewe ervaar het. Nouwen getuig as volg: “Spiritual formation prepares us for a life in which we move away from our fears, compulsions, resentments, and sorrows, to serve with joy and courage in the world, even when this leads us to places we would rather not go.”
Almal van ons het ’n begeerte om ’n verskil te maak en van dié wêreld ’n beter plek te maak. Die fout wat ons maak is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.”
Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treetjies te gee, kan ek ’n verskil maak in die lewe. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant in die grond en moet ek die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om daadwerklik iets te doen in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem in jou lewe.
Daar is die verhaal van Nicolaus Zinzendorf (26 Mei 1700 – 9 Mei 1760), wat ’n paar eeue gelede begin het met sy “mosterdsaadklub” terwyl hy op skool was. Zinzendorf het later een van die prominente sendelinge van die Morawiese Sendinggenootskap van sy tyd geword. Met sy sterk piëtistiese inslag het hy mense aangemoedig om minder rasioneel oor godsdiens te wees en eerder “godsdiens van die hart” te beoefen. Hy het klein begin en ’n groot verskil in sy tyd gemaak.
As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ’n verskil te bring in ons omgewing en konteks! Om een lewe aan te raak is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na een persoon uitgereik het, het ek in ’n jaar ’n verskil aan 365 lewens gemaak. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rasioneel beoefen word nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewe wees.
Iemand het eenmaal op die seestrand gestap waarlangs honderde stervisse uitgespoel het. Hy was besig om soos hy loop die visse een na die ander terug te gooi in die see. Iemand vra vir hom of hy mal is, want hy kan mos onmoontlik almal teruggooi. Die man sê toe, terwyl hy nog ’n stervis teruggooi: “Vir dié een het dit ’n verskil gebring.”
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
Integriteit is ’n belangrike konsep in Ingenieurswese. Enige konstruksie, of dit nou ’n pad, ’n brug, ’n gebou, ’n staalkonstruksie of ’n houtkonstruksie is, dit moet oor sy eie inherente integriteit beskik.
’n Brug moet sterk genoeg wees sodat dit nie inmekaar val nie. Boumateriaal moet oor ’n sekere integriteit beskik, sodat dit duursaam is en voldoen aan die vereistes wat daaraan gestel word. Die gelykenis van die twee huise wat onderskeidelik op sand en rots gebou is, is ’n goeie voorbeeld van die integriteit van die fondament waarop die huise gebou is. Die huis op sand het geen integriteit gehad nie en het weggespoel. Die huis op die rots het ’n rotsvaste integriteit gehad en het staande gebly in die storms.
In ons skrifgedeelte (Mat 15: 21 – 28) lees ons hoedat Jesus die geloofsintegriteit van die Kanaänitiese vrou toets. Die vrou het ’n dogter gehad wat in die mag van die bose was.
Hierdie vrou het agter Jesus aangeloop en gesmeek dat Jesus haar dogter moet genees van die bose. Sy het aanhoudend geroep al agter Jesus aan. Die Here het haar geïgnoreer. Dit lyk heeltemal teenstrydig met die karakter van die Here Jesus. Ons leer Jesus ken as Iemand met deernis en liefde en omgee. Nou lees ons hoedat Jesus haar ignoreer. Die dissipels wil hê Jesus moet haar wegstuur, want sy loop agter hulle aan en skreeu. Dan antwoord Jesus weer teen die grein van Sy karakter in, as Hy sê dat Hy net gekom het vir die Jode. Die vrou het egter nou die aandag van die Here en sy val voor hom neer en smeek: “Here, help my!”
Dan antwoord die Here haar weer ’n keer afwysend: “Dit is nie mooi om die kindertjies se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Die woord “hondjies” verwys na die skeldnaam waarmee die Jode na die Kanaäniete verwys het, naamlik “honde”, omdat die Jode die Kanaäniete as onrein beskou het.
Dan antwoord die vrou op ’n verrassende wyse dat sy met die krummels van God se genade tevrede sal wees. Die hondjies eet immers die kos wat van die base se tafels afval.
Sy verneder haarself om die minste te wees en is tevrede om met “min” oor die weg te kom, as die Here net haar dogter kan gesond maak.
Waarom hanteer Jesus hierdie vrou so hardvogtig, sonder enige simpatie? Dit is mos nie die aard en karakter van die Here Jesus Christus nie. Ons wil as’t ware uitroep waarom die Here haar so hard behandel.
Die antwoord is eenvoudig. Hy wil haar geloof toets. Jesus wil die karakter van haar geloof toets. Soos wat produkte aan sekere gehalte-toetse onderwerp word om die SABS (Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde) merk te kry, word sy ook getoets. Die Here maak dit vir haar moeilik omdat Hy die egtheid van haar geloof wil toets.
Hierdie Kanaänitiese vrou slaag die toets loshande. Dan antwoord die Here haar en sê: “Jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Die Here het haar beproef en sy het die geloofskaraktertoets geslaag.
Haar geloofsintegriteit het bo alles uitgestaan.
Ons moet verstaan dat die Here ’n mens beproef, maar dat die Satan jou versoek. In Jakobus 1 word die onderskeid gemaak tussen beproewinge en versoekings.
Somtyds kan beproewinge baie erg wees. Soms kan ’n mens voel om handdoek in te gooi, as gevolg van baie teleurstellings.
Dan moet ons volharding aanleer om die regte dinge te doen, selfs al word jy moedeloos. Jim Rohn skryf: “Rest, reset, restart, refocus.” Dit is waardevolle raad as ons somtyds in aanvegtinge ons fokus en rigting verloor. Jakobus sê as jou “geloof die toets deurstaan het”, help die beproewing jou om te volhard en tot volle geestelike rypheid te kom. Beproewing kom van die Here en dien tot jou heil. Dit is soos ystererts wat gelouter word, sodat vlekvrye staal gemaak kan word. Beproewing het te doen met swaarkry, wat uiteindelik tot jou loutering dien om geestelik volwasse te wees. Beproewing bou jou op.
Versoekinge, daarteenoor, kom van die duiwel en is daar om jou af te breek. Gewoonlik gaan versoekinge gepaard met aangename verlokkinge. Daarom sê Jakobus: “ Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie, want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.” (Jak 1: 13 – 14)
Jakobus noem beproewinge en versoekinge albei ’n “toets” Die een toets kom van die Here en die ander toets van die duiwel.
Dikwels wanneer ons erge droogte ervaar, beproef die Here ons geloof. Hy kyk van watter geloofsintegriteit ons gemaak is. Die Here toets of ons geloof sal staande bly ten spyte van aanvegtinge. Daarom moet ons in tye van aanvegtinge ons oë hoopvol op die Here fokus. Ons moet gelowig en aanhoudend soos die Kanaänitiese vrou by die Here aandring op die verhoring van ons gebed. Somtyds talm die Here omdat Hy ons geloofsintegriteit toets.
Dikwels word ons geloofsintegriteit ook uitgedaag deur die versoekinge van die duiwel. Die duiwel verlei ons om die wêreld lief te kry en slegs op die sienlike dinge staat te maak. Sodoende verloor ons gou moed en hoop.
Godsmanne en Godsvroue is mense met ’n deurleefde geloof. Hulle lewe word gekenmerk met geloofsintegriteit. Geloofsintegriteit het alles te doen met deursettingsvermoë. Hierdie Kanaänitiese vrou het met volharde deursettingsvermoë die Here heelpad gevolg. In die spesiale magte van die Weermag en Polisie, word rekrute ook onderwerp aan strawwe vasbyt-oefeninge, waar hulle staal en deursettingsvermoë getoets word. Slaag hulle die toets, word hulle opgeneem in die elite-eenhede van die Weermag en Polisie.
Die “Navy Seals” in Amerika het ’n goue klok. Wanneer jy opgee op die kursus moet jy net die goue klok lui. Dan is die strawwe beproewing verby en is jy af van die kursus. Die uitdaging is om nie die goue klok te lui nie. DON’T RING THE BELL.
So moet ons as gelowiges ook nie opgee wanneer ons deur beproewinge gaan nie. Ons moet volhardend volhou met geloofsintegriteit, sodat ons die geloofswedloop kan voltooi. Die lewe is nie maklik nie. Die lewe is vol toetse en uitdagings. Daarom moet ons die toetse en uitdagings sien as geleenthede om te groei in die Here. Die Here sal ons ook nie bokant ons vermoë beproef nie, want Hy weet ons is van stof en vol menslike gebrokenheid. Hy sal ons optel, voordat ons kragte ingee. Wat is die karakter en die integriteit van jou geloofslewe?
DON’T RING THE BELL. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
SKRIFLESING: 1 Samuel 24: 1 – 23 en Mat 5: 38 – 41
President Donald Trump se aanmoediging op Twitter op 6 Januarie 2021 dat sy
aanhangers die “Capital Hill” bestorm, getuig van ’n narsistiese diktator wat nie sy mag as president oor Amerika op daardie stadium wou verloor nie. Dit was ’n donker oomblik in die Amerikaanse geskiedenis. So was daar baie diktators in die geskiedenis van die wêreld wat nie wou afsien van hulle politieke mag nie.
Huidiglik is daar ’n magspel in die wêreld. Rusland wil Oekraine beset, vir meer grondgebied en hawens. Daar woed nou al ’n jarelange oorlog en Putin wil nie afsien van sy ideologie om Oekraine deel van Rusland te maak nie.
In die Midde-Ooste is daar ’n hewige oorlog tussen Israel en terroristiese organisasies soos Hamas en Hezbollah. Dit het begin toe Hamas op 7 Oktober 2023 meer as 1200 burgerlikes van Israel onskuldig gedood het in missielaanvalle. As vergelding het duisende onskuldige burgerlikes die afgelope maande in Palestina onnodig gesterf en Gaza is reeds tot die grond vernietig.
Die oorlog is nou besig om van Gaza na Iran en Libanon te verskuif. Die Midde-Ooste is tans ’n kookpot van emosies, wat kan ontaard in ’n hewige streekoorlog of selfs nog erger. Hierdie oorloë beïnvloed die wêreldekonomie en bring onsekerheid in die stabiliteit van wêreldvrede. Ons voel die ekonomiese ineenstorting wat die oorloë veroorsaak aan ons eie sak.
So is daar ook gereeld konflik in huwelike, families, werksplekke, tussen vriende, in die kerk en in die samelewing. Ons noem dit sommer kortweg kantoorpolitiek, kerkpolitiek, werkspolitiek, politiek in boerdery of partypolitiek. “Hond eet hond” – so lui die spreekwoord mos.
In die Bybel lees ons van Saul, die eerste koning van Israel. Hy het al meer die Here bedroef met sy lewe, sodat die Here se guns oor hom begin wyk het. Dawid het op die voorgrond getree – hy wat die gunsteling by God was om die koningskap van Israel by Saul oor te neem. Saul het dit besef en was daarom baie jaloers op Dawid. Van vroeg af het hy probeer om Dawid om die lewe te bring. Dink byvoorbeeld aan die keer toe Saul vir Dawid met ’n spies wou doodgooi, terwyl hy onskuldig die harp bespeel het.
In 1 Samuel 24: 1 het Saul en sy manskappe teruggekom van ’n veldslag teen die Filistyne. Saul hoor toe dat Dawid in die En-Gediwoestyn is en hy stuur drie afdelings soldate, wat 3000 manskappe is, om vir Dawid as enkeling te soek om hom dood te maak. Bykans die hele Israelitiese weermag is op Dawid se spoor om sy lewe te beëindig. ’n Mens kan jou die angs, vrees en teleurstelling van Dawid indink.
Saul het sy soldate na die Klipbokrotse gestuur om vir Dawid te soek. Saul het intussen by ’n skaapkraal gekom met ’n grot daarby. Hy het ingegaan vir sy toiletbehoeftes. (Die Hebreeuse idioom in Hebreeus lees: hy het sy voete bedek.)
Maar Saul was onbewus daarvan dat Dawid en sy manskappe agter in die grot skuil. Dawid het toe nader gesluip en ’n stuk van Saul se bokleed afgesny. Toe Saul klaar was en buitentoe gaan, het Dawid in die grot se opening gaan staan en geroep: “My heer die koning!” Dawid het op sy knieë voor die koning neergeval. Dawid het toe gesê: “Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, ‘Kyk, Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen’? Kyk, u het vandag met u eie oë gesien dat die Here u vandag in die grot in my hand oorgegee het. Iemand het gesê ek moet u om die lewe bring, maar ek het u jammer gekry. Ek het gesê, ‘Ek sal nie my hand na my heer uitsteek nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ En, my vader, kyk, ja, kyk hier, die soom van u mantel is in my hand. Want toe ek die soom van u mantel afgesny het, het ek u nie om die lewe gebring nie. Besef dan en sien in dat ek nie kwaad en opstand in die oog het nie. Ek het nie teen u gesondig nie, maar u maak jag op my om my lewe te neem.”
Dan spreek Dawid met wysheid in vers 14: “ ‘Uit goddeloses kom goddeloosheid voort.’ “My hand sal nie teen u wees nie.” Dawid weier om kwaad met kwaad te vergeld. Al word hy gesoek om doodgemaak te word, sal hy nie doodmaak nie. Hy is nie ’n goddelose nie, daarom kan goddeloosheid nie uit sy hart voortkom nie. Daarom word Dawid ook die man na aan die hart van God genoem, omdat hy so opreg is.
Dawid vergelyk homself met ’n dooie hond. Hy het geen kans teen die 3000 man van Saul nie. Dawid is nederig oor homself en beskou homself as ’n vlooi op ’n dooie hond. Saul agtervolg ’n vlooi op ’n dooie hond.
In ons wêreld word kwaad altyd met kwaad terug baklei. So word kwaad ’n bose kringloop. Jy vergeld diegene wat aan jou kwaad gedoen het. So hou die spiraal van geweld net aan en aan en word dit net al erger. Dit vra iemand om met ’n liefdesdaad ’n einde te maak aan die sinlose spiraal van geweld op geweld. Ons moet ook ons vyande se venyn teen ons begroet met liefde. Jy sal jou vyande vuurrooi van skaamte maak oor jou liefdevolle optrede.
Saul was aangedaan deur die liefdesdaad van Saul. Hy antwoord in vers 18 – 21: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. As iemand sy vyand teëkom, laat hy hom ongedeerd wegkom? Die Here, Hy sal jou met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het. En nou, kyk, ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou.”
Die weldaad van Dawid verander Saul se harde hart. Hy erken dat Dawid ’n beter man is as hyself. Hy erken ook dat Dawid die statuur het om die volgende koning te wees van Israel. Dawid openbaar koninklike wysheid.
Wysheid soek nooit weerwraak nie. Wysheid soek vrede, nie oorlog nie. ’n Ware staatsman soek altyd die groter gemeenskaplike voordeel as sy eie selfsugtige ego.
Dawid het vir Saul skaam gemaak. So is ons as gelowiges ook geroep om nie geweld en haat aan te blaas nie, maar eerder om ons vyand skaam te maak vir hulle verkeerde gedrag teenoor jou. Dit is soos twee mense wat teen ’n deur aan weerskante beur. Skielik staan die een persoon terug en die ander een bars deur die deuropening en beland op die vloer, tot sy eie skaamte.
In Spreuke 15: 1 staan daar in die 1983 vertaling: “ ’n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”
Wanneer die Here Jesus van sy volgelinge verwag om nooit terug te slaan nie, verwag Hy ’n baie swaar ding van ons. Om nie terug te slaan nie, kos leeuemoed. Daarom is die gelowige so anders as die ongelowige – want van die gelowige word moed gevra.
’n Voorbeeld van Joodse moed het hom in 26 n.C. afgespeel. Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, het opdrag gegee dat ’n beeld van die Romeinse keiser Claudius in die tempel in Jerusalem opgerig word. Die Jode het dit dadelik beskou as ’n afgodsbeeld wat in hulle tempel opgerig gaan word. Hulle het toe in groot massas opgeruk na Pilatus se paleis in Caesarea. Hulle het die paleis vir vyf dae en nagte omsingel deur doodeenvoudig te kniel. Uiteindelik het Pilatus ingestem om met hulle in die arena te gaan onderhandel. In die arena aangekom, vind hulle toe uit hulle is omsingel deur drie rye swaar gewapende Romeinse soldate, wat eis dat hulle die Romeinse gode moet aanbid. Die Jode het hul doodeenvoudig neergegooi voor die Romeinse soldate, hulle nekke ontbloot vir die swaarde van die Romeine en gesê dat hulle liewer doodgemaak sou word as om vreemde gode te aanbid. Verstom deur die moed en geloof van die Jode, het Pilatus opdrag gegee dat die beeld verwyder word.
Daarom, as die Here Jesus sê dat ’n mens nie jou vyand moet terugslaan nie, word dit nie van swakkelinge gevra nie, maar van mense wat moed het. Die drie klassieke uitsprake van die Here, wat handel oor teengeweld, is natuurlik die volgende:
a) As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang.
Die Here Jesus het dié uitspraak gemaak om vir mense raad te gee wat in ’n persoonlike geskil met iemand betrokke is.
Waarom word daar spesifiek na die regterwang verwys? Dit was destyds ’n skande om enige taak met jou linkerhand te verrig. As jy dus met ’n swaard wou veg of wou slaan, het jy dit met jou regterhand gedoen. Wanneer ’n mens iemand met jou regterhand op die regterwang wil slaan, moes jy dit met die rugkant van jou regterhand doen, wat natuurlik ’n vernederende klap was. Dit is ’n klap waarmee kinders, slawe, vroue en ondergeskiktes gewoonlik geklap is. Die persoon wat geklap is, kon op twee wyses reageer:
* òf jy gryp jou kop vas, deins terug en hoop daar kom nie nog klappe nie – soos ’n lafaard,
* òf jy slaan terug, hard en sekuur – dan maak jy soos die wêreld maak, wat alles met geweld wil oplos.
Jesus kies nie een van die twee nie, nie die weg van die lafaard en ook nie die weg van die wêreld nie.
Jesus sê draai die ander wang. Wanneer die ander wang gedraai word, word die slaner gedwing om dié soort klap wat tussen gelykes gebruik word te gebruik, deur met die binnekant van jou hand te klap. Dit beteken dat ek nie toelaat dat ek verneder word nie, maar ook sal ek nie terugslaan nie. Om die ander wang te draai, beteken dat jy vir die slaner sê: Probeer weer, jou eerste klap het nie sy doel bereik nie. Ek weier om jou die mag te gee om my te verneder. Ek is ’n mens soos jy. Jou status, geslag, rykdom, ouderdom of wat ook al, verander niks daaraan nie. Jy kan my nie verneder nie.
b) Gee ook jou boklere
Hierdie uitspraak het die Here gegee om daarop te wys hoe ’n mens moet reageer op ekonomiese uitbuiting. In plaas van terug te steel of te roof, soos Robin Hood, moet ’n mens eerder die geweldlose uitweg soek, naamlik: Gee ook jou boklere.
Die situasie waarvan Jesus hier praat, het in die eerste eeu dikwels voorgekom. As gevolg van droogtes en onregverdige belastings, het kleinboere in Palestina desperaat in die skuld geraak. Geldskieters en ryk landhere het hulle dan hof toe gevat en ook hulle laaste besittings – hulle onderkleed – van hulle geëis.
Ook in dié situasie was daar twee moontlike reaksies. Òf ek gaan hof toe en gee my onderkleed, òf ek weier om hof toe te gaan en knoop ’n geveg aan. Jesus kies nie een van die twee nie. Jesus stel ’n derde weg voor: Gee jou onderkleed vir die onregpleger, maar gee dan sommer ook jou bokleed, sommer net daar in die hofsaal. Gee hom al jou klere en stap kaal daar by die hofsaal uit. Naaktheid was taboe vir die Jode. Dit sou vir die uitbuiter ’n geweldige verleentheid wees om te aanskou hy het die mens kaal uitgetrek. Stel vir u die prentjie voor. Die persoon stap nakend uit die hofsaal! Almal in die straat sal geskok vra wie al sy klere gevat het, wie hom nakend gelaat het. Op die ou end kom al die vernedering neer op die uitbuiter en hy voel uiteindelik skaam oor sy uitbuitery.
c) Dra dit ook ’n tweede kilometer
Hierdie uitspraak van die Here hou verband met politieke onreg.
Dit was algemene gebruik dat soldate iemand kon opkommandeer om sy goed vir hom te dra. (So byvoorbeeld is Simon van Sirene opgekommandeer om die kruis van die Here te dra.) Dus kon enige Romeinse soldaat enige kleinboer wat op sy land gewerk het, oproep om sy pak vir hom te dra. Omdat die Romeine wou verhinder dat die saak hand uitruk, het hulle ’n reël gemaak dat die draer ná een kilometer weer teruggestuur moes word na sy land, anders sou daar later niemand meer op die land wees om kos te produseer nie en dan sal die Romeine ook doodgaan van die honger. Die Here Jesus gee egter ander raad: Moenie gedwee en gedienstig na een kilometer omdraai nie. Nee, daag die soldaat uit om sy pak vir hom nog ’n tweede kilometer ook te dra. ’n Mens kan jou weereens die toneeltjie voorstel. Die soldaat staan ongemaklik rond. Hy mag nie toelaat dat ’n kleinboer vir ’n tweede kilometer sy pak vir hom dra nie. Hy sal in die moeilikheid kom. Wat nou gemaak? Miskien kry hy skaam. Miskien sien hy met watter onreg hy besig is.
U sien dus in al drie hierdie uitsprake het die Here dit teen geweld, maar ook teen ’n slap, lafhartige houding. Christene mag nie neutraal wees nie. Hulle moet standpunt inneem teen onreg, maar altyd sonder geweld. Hulle kan en moet weerstand bied teen onreg, maar sonder die swaard. Maak mense skaam, maar moenie hulle seermaak nie. Maak hulle skaam, nie om hulle te verneder nie, maar sodat hulle tot ander insigte kan kom.
In Spreuke 25: 22 staan daar in die 1983 vertaling: “Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.” In Rom 12: 20 staan daar in die 1983 vertaling: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”
Glimlag vir jou vyand.
Stuur blomme vir jou vyand.
Praat goed van jou vyande voor ander mense.
Doen goed aan jou vyand.
Soek die goeie in jou vyand en sê dit vir hom of haar.
Bevorder die belange van jou vyand.
Hoor die pragtige wysheid van Leo Tolstoj: “Betaal slegte mense met u goedheid; beveg hul haat met u vriendelikheid. Selfs as u nie ‘n oorwinning oor ander mense behaal nie, sal u uself oorwin.” – Leo Tolstoj
“I have but one candle of life to burn, and I would rather burn it out in a land filled with darkness than in a land flooded with light” – John Falconer
Geliefdes, moenie alles en almal probeer beveg nie. Dit dien geen doel nie. Spreek seën uit oor jou vyand, en jy sal deel in die seën wat jy oor hom of haar uitspreek.
Ons is geroep om vredemakers te wees. Dan sal ons kinders na aan die hart van God wees, soos Dawid ’n man na aan die hart van God was. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
’n Sekere mielieboer in die VSA het elke jaar die blou roset gewen op die streeksbyeenkoms vir die beste mielieboer in die streek.
Elke jaar was sy mielies se gehalte, opbrengs per hektaar en winsgrens die hoogste van almal in die streek. Sy groot geheim was die mieliesaad wat hy aangeplant het. Hy het elke jaar die beste saad aangekoop wat hy kon kry. Daarvoor het hy die wêreld platgereis om die hoogste kwaliteit saad wat hy kon kry, te kan bekom. Dit was ook bekend dat hy baie vrygewig die saad uitgedeel het aan sy bure. Op ’n dag vra ’n joernalis van ’n plaaslike koerant vir hom hoekom hy sy goeie saad, wat hy met soveel sorg bekom het, ook uitdeel aan sy bure. Sê nou maar sy bure wen volgende jaar die kompetisie met dié saad wat hy so vrygewig uitgedeel het? Sy antwoord was kort. Mielies word windbestuif. As my bure swak saad het en die wind waai van hul lande na myne sal ek ’n swak oes kry. As my bure goeie saad het, sal die wind verseker dat ek ’n goeie oes verkry. Dit is in my belang dat ek ook my bure moet seën, sodat ek geseën kan word.
Hoe nodig het ons nie so ’n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ’n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ’n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ’n land ryp word vir ’n rewolusie of erge opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” geskryf dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ’n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, die indiwidu en die besigheid, het ’n verantwoordelikheid om sy/haar gemeenskap te dien.
Dit beteken dat mense vir ander voorspoed moet gun en nie jaloers moet wees op ander se suksesse nie. Ons moet as’t ware meewerk in mekaar se voorspoed. Dit beteken “selfdood”, die dood van die mens se eie “ego”. Eers in my selfdood van my ego, kan ek tot seën wees vir ander. In Jesus Christus se “vrywillige letterlike dood” het hy geword die seën vir die hele wêreld.
Wanneer ek elke dag die vraag lewe: “Waar kan ek tot seën wees vir ander en vir my gemeenskap?” word my lewe sinvol en gevul met betekenis. Soos die Here Jesus ons self geleer het: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”
Erich, jy lê vandag ook belydenis van die geloof van die kerk af. Dit is nie jou geloof nie, dit is die geloof van die kerk. Maar God het aan jou hierdie geloof geskenk wat jy vanoggend ook gaan bely. ’n Belydenis in woorde moet ook oorgaan in ’n belydenis van lewe. Jy moet deur jou hele leeftyd onthou dat God jou seën, sodat jy tot seën kan wees vir ander. Jy moet tot seën wees vir jou ouers, jou familie, jou huwelik eendag en ook vir jou kinders eendag, en die kollegas met wie jy gaan saamwerk. Jy moet ook tot seën wees vir die gemeentes waarvan jy eendag lidmaat gaan wees. Nou moet jy vir Fort Beaufort-gemeente tot seën wees. Jy belowe dit immers vanoggend voor die hele gemeente. Jy moet tot seën wees vir alle mense wat oor jou pad kom. Daarom sê die Here moet ons ons naaste liefhê. Jou naaste is altyd die persoon wat op die tydstip fisies of geestelik die naaste aan jou is en jou nodig het.
Wanneer ek “ander oplig in die lewe”, word ek self emosioneel opgelig tot ’n hoër vlak van mensbewussyn. Hoe meer ek “myself” najaag, hoe meer dierlik word ek. Hoe meer ek die seën van ander najaag, hoe meer menslik word ek. Is ek dier of mens? Die mens het beeld van God geword met Sy skeppingsopdrag dat die mens tot seën van God se skepping moet wees. Eers as ek “tot seën” word van ander, word ek meer mens.
Transformasie van die samelewing se diepste sukses word gemeet of dit “seën” bring. Hoe meer mense “geseën” word, hoe groter is die transformasie. Dit het verreikende politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiologiese implikasies vir die samelewing.
Soos saad in die grond val en sterf, en opkom as ’n nuwe plant met nuwe lewensmoontlikhede om “baie” te word, moet die mens in homself sterf (ontkiem) om tot seën te word vir baie ander. Dit is ons lewensroeping.
Wanneer jy tot seën vir ander mense is, lewe jy uitwaarts en is gelukkig. Maar as jy slegs “inwaarts” lewe word jy ongelukkig en jou lewensvreugde verdwyn. Dan begin jy jou te bekommer oor jouself en nie oor die regte dinge in die lewe nie.
Bekommernis kan lewensgevaarlik wees. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ’n sekere vrou. Die vrou was dodelik siek en het elke week na die dokter toe gegaan.
Elke dag moes sy duur medisyne gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword. Een koue wintersaand toe sy op pad is na die kafee om brood te koop, sien sy koerantverkopertjies besig om koerante te verkoop. Sonder truie en sonder skoene het hulle op en af gespring om warm te kry. Sy het hulle baie jammer gekry en dadelik sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand het sy rustig gaan slaap, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ’n geestesgesonde mens, want sy het geleer om van haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ’n saak wat groter as syself is. Toe sy vir haarself en vir haar eie klein wêreldjie geleef het, het alles vir haar te veel geword. Toe sy begin leef het vir ander en vir God se Koninkryk, het sy begin moed kry.
Daarom sê Mattheus 6: 25 – 34: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.
Verse 25 – 32 handel oor die mens se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek ’n slaaf word wat net leef en werk vir myself en bekommerd is oor mý behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste, my geluk, my kinders of my huis vir my belangriker as God word, is daar iets groots verkeerd. Wanneer ek my dankoffer swaar begin gee; wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer; wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam; wanneer ek meer tuis is in my eie huis as in God se huis, is daar iets groots verkeerd. Wie so besig is om aan sy eie “empire”, sy eie koninkryk, te werk, is met sy eie godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse.
Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come,” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” “Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort.” Wat bedoel ons as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”? Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe. Dit beteken hoe langer, hoe meer onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, en my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke.
Vers 33 sê dat ons ook die wil van God moet najaag. Wie ’n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ’n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie.
Ek sluit af: Verlang u na vrede in u hart? Bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees. Al waaroor ’n mens bekommerd moet wees, is of ek ’n seën is vir God en my naaste.
Leef ’n lewe van betekenis. Dit is die hoogste sin van die lewe.
Erich, wees tot seën van alle mense wat oor jou pad kom. Wees goed vir mense. Wees betrokke by mense. Wees betrokke in die kerk van die Here Jesus Christus.
Here, laat u Koninkryk kom! Kom, Here Jesus. Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan u behoort.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
SCRIPTURE READING: Rom 11: 16 – 24 and Proverbs 9:1 – 2
This morning Owen Barend van der Mescht is grafted onto Christ the rootstock.
He becomes part of Christ and all His benefits. It is not the child being baptized who makes the choice, so that one should become haughty about it. It is God who, out of free initiative, chooses Owen to become part of His salvation plan. It is not the branch or the shoot that bears the rootstock. It is the rootstock that bears the shoot.
But this inoculated child receiving baptism must live by the goodness of God. As great effort is made with the vaccination process, the parents must take their baptismal vow very seriously. It is a promise before God. I must lead my child to respond in faith to all the promises and commitments of the baptismal covenant.
John Calvin said that the two main elements of religious education should be love and strictness. Love breeds safety and strictness breeds security. With safety and security, a child has everything to enter a successful adult life one day. A young tree must also be constantly pruned to take shape.
If a Karree tree is left untended, it becomes a bush. When a Karree tree is constantly pruned, it becomes a beautiful tree under which you can sit and under which children can play. That is why the Lord also prunes us every day of our lives to become men of God and women of God. That is why a parent must also be prepared to ply the pruning shears, so that one day their children become well-developed young people. That is why disciplining your child is very important, especially in the Book of Proverbs in the Bible.
Psalm 1 speaks of a fruit tree planted by streams of water. The water currents make the fruit tree grow luxuriantly and the tree produces fruit in its time. In the same manner we must raise our children by the streams of water. They must be raised in the church. They must be brought up with Bible stories from the Children’s Bible. They must be brought up with catechesis. The parents must make an effort with their confirmation as members of the Church. They must grow up at Christian camps. You must raise your children in the gates of the Lord’s house. If they see that church attendance is important to their parents, they too will one day be diligent churchgoers and exemplary Christians. If they are raised like saplings by the streams, they too will bear fruit. The pastor Timotheus, for example, received his faith from his grandmother Loïs and his mother Eunice. Therefore, the purpose of baptism is that there should be a transfer of faith. So that the young children are incorporated into the community of faith.
It only takes one generation to raise a pagan. Raise your child without the Lord and you raise a heathen.
Sometimes the storms of life will blow over your tree of life. But if your rootstock is Christ, there will always be a new shoot. You will receive new strength from the Lord every morning. As a rootstock is anchored in the ground, so you must be anchored in Christ Jesus, then you will be able to face the storms of life.
The grafting of your family into Christ the rootstock determines your family’s future.
What is the most important room in a house? What is the most important piece of furniture in the house? Surely the kitchen or dining room is the most important room in the house. The most important piece of furniture in the house is the kitchen table or the dining room table. Of course, I prefer the kitchen table. My first most precious childhood memories were when we had our meals together around a yellow kitchen table every night. I also remember how we used to spend time together at my grandfather and grandmother’s home in Strydenburg, around Grandmother’s kitchen table with the deliciously warm Aga stove nearby. It is burned into my memory.
Gathering around a kitchen table bring married couples, families and larger families together. It creates togetherness and warmth. Relationships grow around the kitchen table.
In early biblical times, people usually had only two meals. There was a brunch roughly between 10h00 and 11h00. People ate to gain strength for the day’s work. At the end of the day, the workers went home and had a feast every night. Then they chatted, ate, told stories, danced and drank wine. It was the highlight of every day. It is written in Psalms 23: 5(a), “You set a table for me”.
In Psalms 128:3 it says, “Your wife is like a fruitful vine in the inner rooms of your house. Your children are like olive trees around your table.”
Proverbs 9:1 – 2 reads, “Wisdom built her house, she carved out her seven pillars. She slaughtered her animals, mixed her wine, and also prepared her table.”
In the Passover tradition families ate the Passover meal together every Friday evening. The father of the house told his family each week why they celebrated the Passover. It was to celebrate their exodus from Egypt, the place of slavery.
In the New Testament the Passover was replaced with the Lord’s Supper, which is also a meal taken at a table. The Lord’s Supper binds the congregation in unity, to remember that Jesus Christ redeemed us from the slavery of sin.
The early church also regularly ate together every Sunday, the so-called common meal, to celebrate their inner connectedness to one another. This custom made the Christian church well-disposed in the community and their numbers increased.
You see, if the table tradition dies, then the quality of relationships dies.
The Bushmen’s “kitchen table” was to sit around the fire every night and tell stories, eat, mingle, tell legends and imitate animal sounds and movements. That is why the Bushman tradition has existed in Southern Africa for thousands of years. But unfortunately, the Bushmen people have westernized. They got televisions, they got cell phones and they got ovens. They no longer get together at Smits drift like their ancestors. The Bushman culture is dying out, because their fires (their kitchen table) no longer exist.
Before 1976, marriages and families were much healthier because there was no television or mobile phones or internet and technology. People were still spending time together talking around the kitchen table.
With the advent of television, people ate on trays in front of the television. With the advent of mobile phones, people are busier around the dinner table sending text messages than talking to each other. So, the kitchen table is neglected.
Time around the kitchen table is sacred time. Those 45 minutes for dinner are sacred. The television program can either wait or be recorded. The mobile phone can easily be switched to silent mode. In those 45 minutes we give each other 100% of our attention. It makes marriages survive; it gives security to children. It creates quality time in relationships. These times become precious memories. Food is not made to be eaten alone. Food should be consumed in company and togetherness.
Prof Anna Fishel of the Harvard Medical School writes in “The Washington Post” as follows, “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviours.” She also explains that a lot of children’s misbehaviour is due to the fact that there was no kitchen table culture.
Children in particular are brought up around the dinner table. It’s not just about the food, but about the togetherness and relationships that are deepened and strengthened. Grafted on the rootstock and the shoots (children) grow, especially around the family table.
(Rev. Paul Odendaal is pastor of the NG Churches Adelaide and Fort Beaufort.)