‘n Driedubbele tou breek nie

SKRIFLESING: Prediker 4: 9 – 12 en Johannes 17: 21 – 23

Spanwerk is die geheim van alle sukses. Oorwinning kom deur spanwerk.

Spanwerk is die geheim van rugby. As elkeen net vir eie eer speel, sal die span verloor. Ons land se leuse in die ou bedeling was “Eendrag maak mag.” In my dienspligjare is soldate geleer om na mekaar te kyk. Eers wanneer die laaste man in die peloton die doelwit bereik het, is die oefening voltooi. Daarom help die soldate mekaar om saam die oefening te voltooi. Dit is ook die geheim van ’n geslaagde militêre operasie.

In die natuur werk bye in die korf saam. Bokke bly in ’n kudde om te oorleef. Leeus jag in troppe om suksesvol te wees. In die kerk bely ons ook dat ons glo “in die gemeenskap van gelowiges.” Die “gemeenskap van gelowiges” is ’n heerlike troos.

Prediker sê ook baie duidelik dat die mens wat net vir homself leef, tot niks kom. Prediker sê as’t ware dat die indiwidu nie alleen kan oorleef nie.

Die mens wat in ’n span saam met sy mede-gelowiges leef, sal sterker wees. So iemand verheerlik God.

Prediker 4: 9 – 12 beskryf dit duidelik: Twee is beter as een, omdat daar vir hulle ’n ruim beloning is vir hulle inspanning. Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp; maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te help! Ook as twee by mekaar lê, kry hulle warm; maar as daar net een is, hoe kan hy warm word? As iemand die een wil oorweldig –  twee kan teen hom standhou. ’n Driedubbele koord  word nie maklik gebreek nie.

Ter wille van fisiese en emosionele ondersteuning, oorlewing en veiligheid is mense op mekaar aangewese. Ons is so geskape – ons is as wesens geskape wat slegs in ’n groep saam met ander kan oorleef. Daarom gebruik Prediker die beeld van ’n driedubbele tou. ’n Driedubbele tou is tog sterker as ’n enkele tou.

Ons leef deesdae in ’n tyd waarin die regte van die indiwidue meer gewig dra as die regte van ’n gemeenskap. Dit is nie meer “een vir almal en almal vir een” nie. Ongelukkig is dit deesdae: Elkeen vir homself en die duiwel vir die res.

Die verhale van die drie musketiers is ’n voorbeeld van saamstaan. Hulle leuse is Een Vir Almal En Almal Vir Een.  Die Latynse vertaling is Nus pro omnibus, omnes pro uno.  Dit is die nie-amptelike leuse van Switserland, en die storielyn en karakters word vervat in die legendariese Switserse held Arnold von Winkelried.

Ons “rysmier” die huwelik en die gesin deur selfsug, en deur eie belange voorop te stel. So word die huwelik en die gesinslewe verswak. ’n Huwelik word versterk deur spanwerk, kameraadskap en ’n gees van offervaardigheid.

Ons rysmier die gemeenskap waarbinne ons lewe deur ’n gees van onbetrokkenheid, kritiek, skinder en eie voordeel soek. Alle gemeenskappe in die wêreld beleef sekere fases. Daar is die groeifase van samehorigheid, die stagneerfase van onbetrokkenheid en die sterwende fase, waar ons mekaar beveg. In watter fase dink u is Adelaide, Fort Beaufort en Suid-Afrika nou?

Ons rysmier die Christelike gemeente deur te dink ek kan my geloof op ’n eiland beleef. Ek doen nie mee aan die gesamentlike byeenkomste van die gemeente nie, want ek wil my geloofslewe privatiseer. Godsdiens hoort altyd in die openbaar, want dit is ’n openbare getuienis. As ’n mens alleen bid, word ’n mens gou moedeloos. Maar as twee of drie saambid, kry jy die krag en geloofsmoed.

As jy op ’n sneeudag na buite kyk en die skoonheid van die landskap bewonder, moet jy onthou dat twee sneeuvlokkies nog nooit dieselfde gelyk het nie. Tog is elke individuele sneeuvlokkie slegs ’n druppel bevrore water as dit op die aarde val. Baie sneeuvlokkies bedek egter die grond en kan die gang van dinge en mense verander. As jy jou bes doen en jou beste by die pogings van ander Christene aansluit, sal jy verbaas wees oor wat God met julle gesamentlike “beste” kan doen.

Haal een kooltjie uit ’n vuur en kyk hoe gou dit doodgaan. Die kooltjie het ander kooltjies nodig om warm te bly. Ons het die gemeenskap van gelowiges nodig om te volhard. By die kerk en by die wyksbyeenkoms en by die Bybelstudie het ek geestelike vriende om my te dra. Hulle kan vir my bid en ons kan vir mekaar omgee. God het die kerk en die gemeenskap van gelowiges as ’n gawe aan sy kinders gegee.

Om eensgesind te wees, om as ’n span saam te werk is ’n heilige opdrag aan die kerk. So dikwels rysmier ons die kerk en verswak as’t ware die kerk. Ons skeur die kerk deur dwarstrekkery.

Daarom    roep Christus ons in Johannes 17 op om eensgesind te wees – om ’n span te wees. God self stel vir ons daarin die voorbeeld in Johannes 17: 20 – 21 met die woorde: Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heilige God-Drie-Enig vorm ’n onlosmaaklike eenheid. Daarom word daar van die heilige “Ons” gepraat. Daarom roep Johannes 17: 22 – 23 ons ook op om eensgesind te wees, om ’n span te wees … omdat die geloofwaardigheid van die kerk daarvan afhang.

Skinder, dwarstrekkery, hardkoppigheid en selfsug kan die eenheid, die spanwerk van die kerk bedreig en sodoende die geloofwaardigheid van die kerk in gedrang bring.

Jou bydrae kan ’n verskil maak aan jou geloofsfamilie se welsyn. Die volgende verhaal illustreer dit. Op ’n warm dag het Herman Trueblood, nadat hy afgekoel het deur ’n lekker swem in die see, gesien hoe ’n swetende man en sy twee seuns  probeer om dié se stukkende motor teen ’n helling op te stoot. Twee stemme het binne-in hom met mekaar begin gepraat. Een het gesê: “Daar is ’n geleentheid vir diens; jy moet hulle help om die motor te stoot.” Die ander stem het geprotesteer: “Dit is nie jou saak nie. Jy sal net warm en vuil word. Laat hulle hul eie probleem hanteer.” Hy het uiteindelik toegegee aan sy beter impuls. Hy help toe stoot aan die motor. Die motor het beweeg en aanhou beweeg, totdat die motor se enjin begin loop het . Toe sê die man iets wat Trueblood nooit sou vergeet nie. Die man steek sy vuil hand uit, en Trueblood steek sy vuil hand uit. Die man het gesê: “Ek is baie bly dat jy saamgestoot het. Jy het net genoeg krag bygevoeg om die enjin aan die gang te kry.”

Daar het jare verloop sedert daardie warm dag, maar Trueblood kon nog steeds die man hoor sê: “Jy het net genoeg krag gehad, bygevoeg by ons s’n, om die enjin aan die gang te kry.” Dit het  Trueblood laat nadink: “Daar is duisende mense wat sukkel om hulle swaar vrag probleme oor die heuwel te kry, en ek kan waarskynlik net genoeg krag byvoeg om hulle probleem op te los.”  Deur my emosionele ondersteuning kan ek vir iemand help met sy of haar probleem.

Kom ons bid dat God ons eensgesind sal hou in die huwelik, in die gemeenskap en in die kerk, omdat die geloofwaardigheid van die kerk daarvan afhang. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie. Only if you are part of a community of believers seeking to resemble, serve, and love Jesus will you ever get to know him and grow into his likeness. – Timothy Keller

Mag ons die Credo van die kerk (Apostoliese geloofsbelydenis) ernstig opneem en daarna soek om die geloof van die kerk met ander te deel. Mag ons ’n driedubbele tou wees, wat saam staan en mekaar versterk. Ons het mekaar nodig om sterk te staan in ons geestelike lewe.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Wanneer God NEE sê

SKRIFLESING: 2 Kor 12: 7 – 10

Ons hou nie van die woord “NEE” nie. Grootmense kom daaroor in opstand. Tieners sal die deure agter hulle toegooi, kinders sal te kere gaan en op die vloer neerval en hul voete skop. Babas skree die dak af.

Dit is nie lekker om “NEE” te hoor by ’n werksaansoek nie. Dit is nie lekker om “NEE” te hoor in ’n liefdesverhouding nie. Dit is nie lekker as die bankbestuurder vir jou “NEE” sê nie. Dit is nie lekker om vir reën te bid en God sê “NEE”, eers later, nie. Dit is nie lekker om vir iets te bid en God sê “NEE” nie.

Ons gaan vandag kyk na vier Bybelfigure vir wie God “NEE” gesê het, maar wie se lewens later ’n verrassende wending geneem het.

Ons kyk heel eerste na Moses. Moses se geboorte was ’n wonderverhaal. Hy het ’n prins van Egipte geword. Toe pleeg hy moord en moes vlug. Later roep die Here hom terug Egipte toe om sy volk Israel uit Egipte te lei deur die woestyn na die beloofde land. Die tog deur die woestyn het 40 jaar geneem. Moses se gebed was “Om in die land wat God beloof het te mag ingaan.” Maar God se antwoord was “NEE”. Jy sal dit net kan sien, Moses.

Dan neem die verhaal ’n verrassende wending, wanneer Moses saam met Elia en Jesus op die berg verheerlik word in die beloofde land. God se “NEE” het toe anders uitgedraai.

Die tweede Bybelfiguur was Dawid. Wat ’n man was hy nie! Hy was ’n digter en komponis. Hy het Goliat verslaan met ’n slingervel en een klippie. Hy was ’n uitstekende militêre strateeg. Hy het koning van Israel geword en Jerusalem weer opgebou. Ongelukkig het hy owerspel met Batseba gepleeg en in die proses ook moord op Uriah. Maar God het hom vergewe na sy opregte gebed in Psalm 51. Dawid se grootste wens was “Om ’n tempel vir die Here te bou, sodat die ark van die verbond daarin kan staan.” Maar God se antwoord was “NEE”, jou seun sal dit doen. Salomo het toe die tempel gebou.

Die verrassende wending was dat uit Dawid se nageslag Christus gebore is. In Christus is ons almal tempels van die Heilige Gees.   

Dan kom ons by Jesus Christus, die Seun van God. Sy geboorte was Goddelik. Hy het in ’n klein dorpie Nasaret grootgeword. Hy het die Joodse Skrifte op sy vingerpunte geken. Hy het baie wonderwerke gedoen. Maar toe wil hulle Hom kruisig. Jesus se gebed in Getsemané was: “Laat die Lydensbeker by my verby gaan.” Maar die Vader se antwoord was ’n duidelike “NEE”.

Maar die verrassende wending was dat Jesus Christus deur Sy kruisdood die sonde van die wêreld weggeneem het.

Dan kom ons by Paulus. Paulus was ’n redenaar en spreker. Eers het hy die Christelike kerk vervolg, tot bekering gekom en toe ’n ywerige apostel geword van die Evangelie. Van ’n vervolger het hy ’n martelaar geword. Hy is met klippe bestook, het skipbreuk gely, is deur giftige slange gepik en in tronke gestop.   Paulus se grootste wens was dat die Here die doring in sy vlees wegvat. Dit kon ’n oogprobleem, epilepsie, of ’n psigiese probleem gewees het. Ons weet nie regtig wat dit was nie. Dan was die antwoord van die Here ook ’n duidelike “NEE”.

Die verrassende wending was om die bekwame Paulus nederig te hou. “They are so heavenly-minded, that they are of no earthly use” is dikwels van toepassing op geestelike leiers.

Daarom verklaar Paulus: “As ek swak is, is ek eintlik sterk.” Sy krag lê nie in homself nie, maar in God!

Aanvaar God se “NEE”. Sy “NEE” het altyd ’n verrassende  wending. God is die bron van krag en genade. Daarom sê die Here vir Paulus: “My genade is vir jou genoeg.”

Daarom moet ons altyd die “NEE’s” in ons lewe omsit in iets positiefs.

Beethoven het doof geword, maar van sy beste musiek gekomponeer in sy doofheid. Helen Steiner Rice was doofstom, maar sy het miljoene mense opgebeur met haar skryfwerk. Vir elke deur wat vir jou toegaan, gaan daar ’n ander deur vir jou oop.

Wanneer God “NEE” sê, het Hy vir jou iets beters in die vooruitsig.

Verander die negatief ( – ) in jou lewe in ’n positief ( +).

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Gekwel deur jou gewete

SKRIFLESING: Mat 27: 3 – 10

In ons gelese gedeelte sien ons hoedat Judas Iskariot se verraad gelei het daartoe dat hy “gejag” is deur sy gewete.

Hy het nie besef dat sy verraad van Jesus tot Jesus se dood sou lei nie. Hoe dikwels verraai ons nie ook Christus of ander mense se vertroue nie. Ons is niks beter as Judas Iskariot nie. Toe Jesus egter gekruisig word, het sy gewete ingeskop.  Sy gewete het hom so “gejag”, dat hy die 30 silwermuntstukke teruggegooi het in die tempel en homself gaan ophang het.

Daarom was Judas Iskariot nie ’n slegte man nie. Hy het nog ’n gewete gehad. Wanneer jy nie meer ’n gewete het nie, dan is jy ’n slegte mens. Dit is net jammer dat Judas Iskariot nie besef en ontdek het dat Jesus Christus ook vir hom aan die kruis gesterf het en sy sonde vergewe het nie. As hy dit ontdek het, sou hy homself  waarskynlik nie opgehang het nie.

So is daar baie mense wat “gejag” word deur hulle gewete. Elke mens vang dikwels onsinnighede aan in sy of haar lewe. Dit kan jare lank by jou spook of op jou “jag” maak. Die meeste persoonlike probleme wat mense ervaar, ontstaan omdat hulle deur hul gewete gekwel word. Baie mense drink hulle gewete weg en word alkoholiste. Ander gebruik dwelms om te vergeet van hulle gewete. Ander openbaar persoonlikheidsafwykings om net weg te kom van die skuld van hulle gewete. Judus Iskariot het nie gaan drink of dwelms gebruik nie, nee hy het homself opgehang om van sy gewete af weg te kom.

Maar jou gewete kom van die Heilige Gees. Jou gewete is die vlammetjie wat jou verlossing aansteek. Jou gewete gee geboorte aan jou verlossing. Jou gewete laat jou roep na Christus se verlossing. Jou gewete is die deur waar jy die verlossende Christus ontmoet. Die verkiesende genade van die Here maak jou gewete skerp, sodat jy nader aan die verlossing van Jesus Christus leef.

’n Dooie gewete vra nie na Christus nie. ’n Dooie gewete soek nie Christus se verlossingswerk op nie. ’n Dooie gewete het Christus nie nodig nie.

Daarom moet ons dankbaar wees as ons gewete ons somtyds pynig. Dit beteken dat die Gees van God in my werk. Ons moet ons gewete in die oopte bring voor God en die een wat ons benadeel het. Anders sal daar altyd spanning wees in my gemoed. Praat dit uit met God in die gebed. Noem dit by die naam. Indien moontlik, gaan maak reg met jou broer of suster. Aanvaar die verlossingswerk van Christus. Dan eers kom jy werklik vry.

Baie mense het ’n stomp  gewete. Die vlammetjie van die gewete het hulle nog nie aangeraak nie. Daarom kan hulle hulle ook nie bekeer nie. Daarom kan hulle ook nie die verlossingswerk van Christus aanneem nie, want hulle voel oor niks skuldig nie.

Bid dat jou gewete ’n vlymskerp lemmetjie mag wees. Jou gewete maak van jou ’n beter mens, ’n mooier mens en ’n verstandige mens. Hoe skerper jou gewete, hoe meer sal jy Christus in jou lewe ervaar. Hoe nader ek aan God en Sy wil beweeg, hoe duideliker en sterker sal my gewete ontwikkel. Ons noem dit heiligmaking.

Ons moet deur die Gees ’n Minora-skerp gewete ontwikkel om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Hoe nader twee mense aan ’n kers sit, hoe duideliker gaan hulle mekaar sien. Hoe verder hulle van die kers sit, hoe minder duidelik gaan hulle mekaar sien. Hoe nader jy aan jou gewete leef, hoe meer sensitief gaan jy wees om ander mense raak te sien en aan hulle goed te doen. Jou gewete sal jou pla as jy nie aan hulle goed doen nie, want jou gewete laat jou ander mense sien.

Koning Dawid in Psalm 51 openbaar ’n baie sensitiewe gewete na sy owerspel met Batseba en sy moord op haar man Uriah. Hy het letterlik sy klere geskeur, as op sy kop gegooi en die pragtige Psalm 51 gedig oor sy intieme berou oor wat hy aangevang het. Hy vra die Here om ook weer vir hom sy reinheid en opregtheid terug te gee. Hy verlang meer daarna as na goud en die koningskap. Hierdie opregte en vlymskerp gewete, asook berou, het hom die man gemaak naby aan die hart van God.

Sonder ’n goeie gewete lei ’n mens se geloof skade. Luister wat sê Paulus in 1 Timotheus 1: 19: “ … met geloof en ’n goeie gewete – iets wat sommige mense versaak het, waardeur hulle geloof skipbreuk gely het.”

Om in die geloof te groei, moet jou gewete ontwikkel word. ’n Vlymskerp gewete dien tot voordeel van jou geloof en Christelike lewe voor God. Jou gewete hou jou op die regte pad en navigeer jou terug na waar jy die pad verlaat het. Moenie alles aanvaar wat jou kultuur of omgewing vir jou leer nie. Wees krities teenoor die aanvaarbare gedrag van jou omgewing. Wees indiwidualisties, en onderskei met die Gees van God self wat reg en verkeerd is.

Maar jy hoef nie met die pyn van jou gewete saam te leef nie. Gee dit vir Christus! Hy was jou silwerskoon. Jy kan jou gewete tot rus bring in Christus Jesus se verlossingswerk. Dan kan jy elke aand rustig slaap.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort) 

Voorwaarts Christenstryders

SKRIFLESING: Mat 25: 1 – 13

Dikwels kan ’n mens in kunsgalerye skilderye vind van ossewaens wat oor die kontinent van Amerika die wilde Weste in getrek het. As hulle elke dag tyd afgestaan het om te bereken hoe ver hulle gereis het en hoe ver hulle nog moes reis, sou hulle nooit hulle bestemming bereik het nie.

Dag na dag het die osse geduldig aangestap en in die aand het die waens stilgehou, hulle het vir die vee kos gegee en die vure aangesteek. So is vir weke en baie maande  aangehou, oor vlaktes en bergpasse, tot hulle uiteindelik die weskus aan die Stille Oseaan bereik het. Dit het eindelose deursettingsvermoë geverg. Neem die destydse lang seereise van Portugal na Indië of die ontdekking van Antarktika. 

Dink aan ons Voortrekkers wat met ossewa en beeste trektogte onderneem het die binneland in en hoe hulle oor die Drakensberge en riviere getrek het om Suid-Afrika te tem. Dit het bomenslike uithouvermoë gekos.

Die leraars van die ou dae het gepraat van “eerbaarheid deur volharding”. Alles wat die moeite werd is in die lewe kom met gewag, deursettingsvermoë en volharding mee.

In Mat 25: 1 – 13 lees ons van tien maagde wat wag op die bruidegom. Die tien maagde is simbool van die volmaakte en wagtende kerk van die Here Jesus Christus. Die bruidegom is natuurlik die Here Jesus Christus wat gaan kom om met Sy kerk verenig te wees.  Van die tien maagde lees ons dat vyf verstandig was en vyf was onverstandig.

The Message van Eugene Peterson vertaal dit in Mat 25:2 met:  “Five were silly and five were smart.” Die vyf verstandiges het ekstra olie saamgeneem, maar die onverstandiges het slegs die olie in hulle lampe gehad. Die vyf verstandiges was dus voorbereid om dalk lank te wag op die bruidegom. Die onverstandiges het nie met die lang wagtydperk rekening gehou nie.

Om te wag is moeite, maar dit is die moeite werd. Daarom sal Jesus se koms wees op die mees onvoorspelbare tyd, wanneer mense dit die minste verwag. Ons lees al tien maagde het al aan die slaap geval. Dan in die middel van die nag, kom die uitroep: ”Hier kom die bruidegom. Gaan hom tegemoet.” Die vyf onverstandige meisies se olie het opgebrand deur die nag. Hulle moes ’n winkel gaan soek om olie te koop. Waar kry jy in die middel van die nag ’n winkel oop? Die vyf verstandiges het net hulle lampe aangevul met die ekstra olie wat hulle saamgedra het.

Die olie is ’n simbool van gereedheid. Dit beteken om Jesus se onderrig ernstig op te neem. Dit beteken om te volhard in die doen van die goeie. Daarom kan die wyse meisies nie vir die onverstandiges van hulle olie gee nie. Jy kan nie besluit om aan iemand anders gehoorsaamheid te gee nie. Gehoorsaamheid is ’n persoonlike keuse en is nie oordraagbaar nie.

Daarom beteken die ekstra olie om vir “Jesus ernstig op te neem”. Wie Jesus nie ernstig opneem nie, se olie sal opraak.

Ekstra olie beteken om volhardend aan te hou om die goeie te doen. Dit beteken om volhardend vir Jesus ernstig op te neem en te leef volgens sy voorskrifte. Dit is mense wat ekstra energie met hulle saamneem, wat kan volhard tot die einde. Hulle energie vir Jesus raak nie op nie. Hulle volhard tot die einde. Hulle bou vir hulself geestelike spaarenergie op, vir die dae wat hulle dit nodig kan hê. Juis daarom moet ons geestelike reserwe-energie opbou om volhardend die Here te kan dien.

Somtyds raak ’n mens ontmoedig, omdat jy nie jou doel in jou roeping bereik nie. Dan moet jy gaan kyk na ’n beeldhouer. ’n Beeldhouer sal die blok graniet omtrent 100 keer met sy hamer en beitel bykom voordat die eerste krakie verskyn. Dan moet ek onthou dit was nie daardie een spesifieke hou wat die deurbraak gegee het nie, maar ook elke hou wat dit voorafgegaan het.

Volharding en deursettingsvermoë is een van die mooiste eienskappe wat ’n mens in iemand se lewe kan teëkom. Dit geld nie net vir die geestelike en spirituele lewe nie. Dit is ook van toepassing op jou beroep, jou studies, jou sport, jou huwelik en verhoudings en om elke keer na ’n teleurstelling weer op te staan en aan te gaan. Daarom moet ons ons nie deur teenslae laat onderkry nie. Staan op en gaan volhardend aan met jou reis. Tree vir tree kom jy by jou bestemming uit.

Die teenpool is natuurlik om te volhard in die sonde. Dit is maklik, want dit vra nie inspanning nie. Om die duiwel te volg, vra geen inspanning nie. Om Jesus Christus egter te volg, vra die uiterste inspanning. Daarom is die pad van die kruis die moeisame pad. Dit is die smal, kronkelende pad opdraand na die kruis. Volharding vra dapperheid.

Die VG Kerk het ‘n pragtige lied “Voorwaarts Christenstryders” in hulle Sions gesangeboek. Op die maat van marsmusiek sing hulle die pragtige lied. Die lied roep jou op om te volhard in die Christelike lewe.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Onthou om te onthou

SKRIFLESING: Jer 2: 1 – 19

Ons almal onthou nog die ou Afrikaanse lied “Onthou om te onthou” wat gesing is  deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Laurika Rauch. Sy het so ’n emosionele aanslag aan die liedjie verleen.

Ons almal vergeet. Ons vergeet baie dinge. Dit is natuurlik onvergeeflik as ons ons geliefdes se geboortedatums of troudatums vergeet.

Maar ons vergeet ook dikwels van God. Deur die eeue is dit die kwaal van die mensheid. Mense vergeet van God as dit te goed gaan. Wanneer dit sleg gaan, kan mense dikwels verbitterd word en ook van God vergeet.

Die volk Israel het in Egipte en in die woestyn vir 40 jaar baie naby aan God gebly. Toe hulle vasgevang was tussen die Rooi See en die magte van Farao, het die Here vir hulle die Rooi See oopgemaak. In die woestyn het Hy vir hulle elke dag kwartels en manna gegee. Net genoeg vir een dag op ’n slag, sodat hulle afhanklik van God kon bly. Elke nag het ’n vuurkolom voor hulle uitgegaan om vir hulle lig en beskerming te bied. In die dag was daar die wolkkolom wat vir hulle koelte en lafenis gegee het teen die felheid van die woestynson. Hulle is elke dag onthou om te onthou dat God vir hulle sorg.

Toe trek hulle die beloofde land binne. Dit gaan goed. Hulle het gearriveer. Skielik was hulle in ’n gemaksone. As jy in ’n gemaksone is, vergeet jy gou van die Here en van jou afhanklikheid van Hom.

Party mense sal sê om somtyds van God te vergeet, is nie so erg nie. Almal vergeet mos.

Elizabeth Achtemeier skryf egter: “Geen mens kan in ’n aanbiddingsvakuum lewe nie. As jy van God vergeet, soek jy vir jou plaasvervangers vir God. Dit is soos ’n getroude persoon wat owerspel pleeg, jy soek anderkant die draad vir jou ’n nuwe minnaar”.

Jeremia skryf in Jeremia 2: 13 dat die volk fonteine van lewende water verruil vir opgaarputte wat gebars is. Hierdie opgaarputte was gewoonlik ondergrondse putte wat uit die ondergrondse klip gekap is.

Die putte is gewoonlik gebruik vir graan of vir water. Omdat klip maklik bars, het die water in so ’n opgaarput maklik deur die barste weggesyfer. ’n Opgaarput moes gekap word. Dit het menslike aksie en werk gevra. Fonteine weer, het van nature opgeborrel. Jy hoef niks te doen nie. Die Here gee dit vir jou.

Net so ondenkbaar is dit dat die volk Israel die Here se versorging (fonteine van lewende water) verruil vir opgaarputte wat hulle self moet uitkap. Die lewende fonteinwater is gewaarborg, terwyl die mensgemaakte versorging (opgaarputte) se water lek.

Dikwels lei welvaart tot geheueverlies. Dit gaan oor “Cars, cells and cash.” Of soos Foster sê : “Sex, money and power.” Dit is ons opgaarputte. Ons wil opgaar, maar dit lek eenvoudig weg, soos die water deur die opgaarputte se barste lek.

Kyk na die hewige erge brande wat tans in Kalifornië in Los Angeles se luukse woonbuurtes woed. Dit is ’n wrede herinnering dat ons opgaarputte kan lek. Tienduisende huise het afgebrand. Dit neem apokaliptiese afmetings aan. ’n Mens dink by jouself, gaan die wêreld so lyk met die eindoordeel? Dit is vreesaanjaend. Dit lyk soos ’n oorlogsone. ’n Mens kan alles in ’n oomblik verloor. Moenie op jou opgaarputte wat jy uitgekap het, jou vertroue stel nie. Stel liewers jou vertroue in die fonteine van lewende water wat God jou gee.

Christene het egter ’n geweldige diep tradisie van “om te onthou om te onthou.”

Dit is ’n tradisie van onthou en oorvertel, sodat ons God nie vergeet nie. In die Ou Testament het die Jode gebedsrieme gehad waarmee hulle die Torah vasgebind het aan hulle voorkoppe. Die besnydenis as verbondsteken het hulle help onthou dat hulle in ’n verbond met die lewende God staan. Hulle is elke dag daaraan herinner as hulle na hulle liggaam kyk.

Dan het die Jode natuurlik ook die weeklikse Pasga gehad, om hulle te help onthou dat die Here hulle uit Egipte uit die plek van slawerny gelei het.

In die Nuwe Testament lees ons van die Here Jesus se hemelvaart. Iemand wat weggaan word dikwels na ’n tyd vergeet, of die herinneringe vervaag. Maar dit is nou meer as 2000 jaar later en die Here Jesus Christus word nog elke Sondag en weeksdag aanbid oor die wêreld. Elke Sondag word ons in die erediens onthou om te onthou dat ons ’n lewende God aanbid en dat ons ons vertroue net op Hom moet stel.

Die Here Jesus het ons nie as weeskinders agter gelaat nie. Hy het Sy Heilige Gees vir ons gestuur om elke dag met ons te wees. Hy het vir ons die kerk gegee, as die gemeenskap van gelowiges, sodat ons mekaar kan help herinner aan die Here Jesus se werk. Hy het vir ons die Woord gegee, sodat ons kan ONTHOU van die heerlike werk van God Drie-Enig. Daarom is ons vanoggend vreugdevol, want ons het die Afrikaanse Bybel,  sodat die Bybel ons kan help om God se groot dade te onthou.

Martin Luther het gesê: “The Bible is a remarkable fountain, the more one draws and drinks of it, the more it stimulates thirst.” Elke Sondag in die erediens word ons gehelp om te onthou van God se grootse werk. Die sakramente van Doop en Nagmaal is ook tekens wat ons laat onthou en herleef. Dit alles is aan ons gegee sodat ons nooit sal vergeet nie.

Daarom help die Woord ons om oor te vertel. Ons moet oorvertel, oorvertel en oorvertel van geslag tot geslag, sodat ons sal onthou om te onthou. Dit is immers waaroor die doopbelofte gaan. Ons beloof om die goeie nuus van die Evangelie aan ons kinders oor te dra. Toe ek ’n klein seuntjie was, het my ma vir my uit ’n groot, dik Kinderbybel gelees. Daar was my eerste ontmoeting met die Here.

In die Wesleyaanse Vierhoek word God se openbaring bekend gemaak aan die mens deur Skrif, tradisie, rede en ervaring.

Daarom moet ’n mens jou ervaringe van God deel met ander mense, sodat hulle kan onthou om te onthou dat God goed is.

Ek onthou toe ons as gesin eenkeer van Bloemfontein teruggekeer het na Strydenburg, was ek oor baie dinge besorgd. Tien kilometer buite Strydenburg was die mooiste reënboog gespan oor die dorp en die kerk. Toe weet ek God is met ons. Die reënboog het my laat onthou om te onthou van die troue God.

Eenkeer in Adelaide se pastorie se studeerkamer was ek onder verskriklike aanvegtinge, oor wat God se wil vir my is. Ek kon die heel nag niks slaap nie. Hier teen vieruur die oggend tel ek die Apokriewe Ou Testament wat daar gelê het op en slaan sommer moedeloos by ’n plek oop. Presies op daardie plek wat my oog vang, kry ek die volmaakte antwoord op my geloofsaanvegting. Dit het vir my so werklik gevoel, dat ek in die studeerkamer rondgekyk het of ek nie die Here sien nie. Ek het toe rustig aan die slaap geraak. God het my deur daardie Apokriewe Bybelboek onthou om te onthou dat Hy die antwoorde op al my lewensvrae het.

Somtyds is ’n mens amper in ’n motorongeluk en dan beskerm God jou op ’n ongelooflike wyse. Dan dien dit as ’n teken van God se sorg en trou. Dikwels ervaar mense kontantvloeiprobleme wat hulle wakker laat lê. Dan word ’n mens verras hoe God elke dag die regte hoeveelheid kwartels en manna voorsien. Jy leer om te onthou dat God uitkoms gee.

Die lewe is vol tekens van God se troue sorg. Dikwels ervaar kankerlyers en mense wat swaarkry, die Goddelike tekens baie spesifiek wat vir hulle moed gee op die pad vorentoe.

Martin Luther het  beleef en geskryf dat ’n mens God leer ken op vier maniere, naamlik deur die Woord, die gebed, meditasie en die ervaring van Sy tekens.

Martin Luther het in sy lewe ernstig met depressie geworstel. Hy het daarvan gepraat as die swart hond. Eendag toe hy ook geworstel het met depressie, onthou hy toe hy is mos gedoop. Hierdie teken van die doop het sy depressie gelig en hy het op sy houttafel die woorde uitgegraveer dat hy gedoop is.

Soos reeds genoem, praat die  Wesleyaanse vierhoek  van die vier pilare waarop Goddelike openbaring rus, naamlik die Skrif, die tradisie, die rede en dan ook die ervaring. Al vier leer jou onthou om te onthou van God se wonderlike sorg in jou lewe.

Mense moet oor hulle ervarings van God praat. Ons kerk kan dikwels arm wees aan getuienisse. In baie ander kerke word daar geleenthede vir lidmate gegee om te getuig van hulle ervarings met die Here en hoe die Here in tekens met hulle gepraat het. Ons moenie skaam wees om oor ons ervarings met die Here te praat nie. Deel jou ervarings van God met ander. Daardeur bemoedig jy hulle in die geloof. Deur ons getuienis kan ons ander mense laat onthou om te onthou daar is ’n God wat soewerein regeer.

Mag ons ook vertellers wees van ons ervarings met God en van die wonderlike tekens wat God ook in die afgelope jare vir ons gegee het van Sy troue sorg en liefdevolle bemoeienis met ons.

Kyk rondom jou. Elke dag sal jy ervaar hoe die Here met jou praat deur persoonlike ervarings en met tekens. Beleef dit as ’n persoonlike verhouding met die Here. Laat dit jou aanspoor in 2025 om te onthou om te onthou dat God saam met jou is.                                   

As jy van God vergeet, dan sal jou gebarste opgaarputte lek. Jy sal droogte in jou lewe ervaar. God sal van jou wyk. Maar as jy onthou dat God die fontein van lewende water is, sal jou gees self ook ’n fontein van lewende water wees.

Vertel elke dag vir ander mense van jou ervaringe met God, sodat jy hulle kan help om te onthou om te onthou.

Die Woord help om te onthou om te onthou van God se ryke seëninge.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om ‘n lewe van HOOP en BETEKENIS te lewe

SKRIFLESING: Jer 33: 14 – 16 en Luk 21: 25 – 28

Op die voorgrond sien ’n mens egter ’n sewejarige dogtertjie en seuntjie met hul skooltasse, baie opgewonde op pad skool toe. Hulle gesigte straal, want dit is immers hul eerste skooldag. Wat nog meer aangrypend is, is die feit dat die dogtertjie ’n bossie pienk blomme vashou in haar regterhand.

’n Meer skrynende kontras kan ’n mens jou beswaarlik voorstel. In die agtergrond ’n gebombardeerde buurt en op die voorgrond die tweetjies wat daar stap as ’n simbool van hoop en ’n nuwe begin.

Miskien is hierdie ander foto (hier vertoon) ook juis net so inspirerend, omdat dit ons dringendste nood en behoefte aan HOOP weerspieël. (Dit is nie dieselfde foto as  die foto van 6 September 2000 nie, maar deel dieselfde boodskap.) Ons lewe in ’n wêreld van ruïnes. En ons leef in ’n geruïneerde Suid-Afrikaanse samelewing. (Foto hierbo: Ontwerp deur Freepik)

Ons leef in een van die lande in die wêreld met die hoogste misdaadsyfer, die meeste moorde, verkragtings, geslagsgeweld, rassisme, padongelukke, korrupsie en so kan ons aangaan. Ons leef in ’n gewelddadige samelewing, in ’n wêreld waar die woordjie moraliteit al uitgesterf het.

Plaasmoorde word weekliks gepleeg en die Afrikaanssprekende deel van die bevolking ervaar hoe hulle taal en identiteit bedreig word. Die staatsdiens, weermag, polisie en munisipaliteite het grootliks gedisintegreer. Ons land is ekonomies afgegradeer na rommelstatus. Meer as die helfte van ons land leef onder die broodlyn en smag na ’n werk en ’n toekoms. Werkloses is so moedverlore dat hulle gryp na gewelddadige partye soos die EVV en die MKP en hulleself aan geweld en skandelike gedrag skuldig maak. Ons dorpe gaan agteruit, die rommel word meer en dienslewering bestaan amper nie meer nie.

Daarom is ons baie dae moedeloos en terneergedruk. Elke dag kyk ons vas teen hierdie ruïnes en alles lyk so hopeloos vir ons. Dit is inderdaad ’n skewe reënboogland waarin ons woon.

Ons lewe in ’n wêreld wat in talle oorloë, streeksgeweld, terrorisme en terreurdade vasgevang is. Die wêreld was sedert die Tweede Wêreldoorlog nog nooit so donker en onseker nie. Dit eskaleer elke jaar in meer en meer geweld.

Baie van hierdie ruïnes het ons vir onsself geskep. Ja, ons is die slagoffers van ons eie sonde. Ons bly in die ruïnes wat ons vir onsself geskep het. In die boek Jeremia leef die volk Israel in die ruïnes van die Babiloniese ballingskap. Dit is ruïnes wat hulle vir hulself geskep het. Hulle ongehoorsaamheid en ontrou het hulle in die kloue van Babilon laat beland. Hulle huise, hul tempel, ja alles is afgebrand deur die Babilonieërs.

Baie dikwels is ons egter ook slagoffers van kragte en magte buite ons wat ons lewens en samelewing vernietig. In Engels is daar ’n akroniem PEST wat hierdie kragte saamvat, naamlik “Politics, Economics, Society and Technology”. Ja, ander mense bepaal ons politieke toekoms, die politiek bepaal die sterkte van die SA Rand en die Arabiere bepaal die olieprys.

So leef ons in ruïnes, selfgemaakte ruïnes of ruïnes wat ander mense veroorsaak het.

Maar gelowiges hoef nie en mag nie tevrede wees met die ruïnes waarin ons elke dag leef nie. Die Christelike Evangelie is immers ’n Evangelie van HOOP! Daarom het ons gelees van twee ankerpunte, ’n vertrekpunt en ’n eindpunt. Jeremia 33: 14 – 16 is die vertrekpunt en Lukas 21: 25 – 28 is die eindpunt. Ons eerste skrifgedeelte handel oor die eerste koms van Christus, oor Kersfees, en die tweede skrifgedeelte handel oor die tweede koms, die wederkoms.

Tussen die eerste en die tweede koms van Christus leef ons. Ons leef tussen die Bethlehem-ster en die Wederkoms-wolk. Tussen die ster en die wolk kan ons nie verdwaal nie. Die ster en die wolk is die twee sekerhede waaraan ons kan vashou. Dit is soos by die atletiekwedloop van ’n klein kindjie. Ma staan by die wegspringplek en pa staan by die wenpaal. Die kind weet waarvandaan hy kom en hy weet sy pa wag vir hom. Hy het sekerheid.

Christus Jesus het vir ons ewige HOOP gebring. Eenmaal is ’n Kind gebore. Eenmaal het Hy geblom, gebloei, en verlep op die puinhoop wat hulle Golgota noem. Hy het geblom op die plek waar hulle die skuim, die sondaars, die goddeloses tereggestel het. Op Golgota het Hy geblom en gebloei vir jou en my. Op die Golgota-ruïne het Hy geblom en gebloei, sodat ons HOOP mag hê. Die HOOP word verder bevestig in die feit dat Jesus ook die ruïnes van die dood oorwin het. Jesus het ’n lewe geleef van betekenis en Hy het met betekenis gesterf vir die hele wêreld.

Prof Johan Cilliers, emeritus – professor aan die kweekskool op Stellenbosch, vertel die verhaal van die Down-sindroom kind met die naam Philip. Sy ouers het hom gereeld Sondagskool toe geneem.

Eers wou die kinders hom nie heeltemal aanvaar nie. Een Sondag, dit was Paas-Sondag, het die Sondagskooljuffrou plastiese paaseiers aan die kinders uitgedeel met die opdrag om op die kerk se erf iets te soek wat simbool is van nuwe lewe en dit in die paaseier te sit. Die kinders het met groot opgewondenheid hul paaseiers gevul met simbole van nuwe lewe. Toe is die kinders weer binnetoe, en die juffrou het die een na die ander paaseier oopgemaak, met die gepaardgaande verwondering van die kinders. In elkeen was ’n simbool van nuwe lewe. In die een ’n nuwe blaar, in die ander ’n blom, in die ander ’n groen grasspriet. Toe kom hulle by die laaste paaseier. Die laaste eier was leeg, dolleeg. Die juffrou vra wie se eier dit is, en hoekom daar niks in geplaas is nie. Toe sê Philip, die Down-sindroomkind, baie skaam: “Juffrou, dit is myne.” Die kinders vra dadelik: “Maar Philip, hoekom moet jy altyd anders as ons wees? Hoekom het jy niks in jou Paaseier gesit nie?” Op sy kenmerkende Down-sindroom manier het hy gesê: “My paaseier is leeg, want die graf van die Here Jesus is leeg, heeltemal leeg.”

Daar was ’n paar oomblikke stilte. Almal het geweet Philip was reg. Toe het hulle  hom begin aanvaar en maats met hom gemaak. ’n Paar maande later het Philip ’n infeksie opgedoen en hy het onverwags gesterf. Al sy Sondagskoolmaats was by die begrafnis. Op sy kis het sy maats een na die ander hul paaseiers gesit: leë, dolleë paaseiers.

Christus het Hoop gebring ook in die ruïnes en murasies van die begraafplaas. My graf is slegs ’n leë dop! Ek is saam met Christus ’n oorwinnaar oor die dood. Of ek lewe en of ek sterwe, ek is getroos, want ek behoort aan Jesus Christus.

Ons leef tussen die sekerheid van Jer 33 en die sekerheid van Luk 21. Ons leef tussen die ster en die wolk. Op hierdie pad tussen die Bethlehem-ster en die wederkoms-wolk het God vir ons tekens gegee om ons te herinner aan die HOOP.

Hy het vir ons sy Woord gegee, as die boek van HOOP, wat oor verbondsgeslagte hoop gebring het vir God se kerk, maar ook vir die heidene. Deur Sy doop word waterkruisies geverf op ons voorkoppe en op die voorkoppe van ons kinders. Dit is ’n teken en seël dat ons deel het aan hierdie ewige HOOP. Deur Sy nagmaal is die brood en wyn tekens van HOOP,  van versterking, en die Here se nabyheid. Ook die kerklike tug beteken om bemoeienis te maak, ’n nuwe HOOP te bring vir hulle wat onverskillig leef.

Ja, die Here het aan ons Sy kerk gegee, sodat kerke oraloor eilande van HOOP kan word. Dat gelowiges in die kerk sin en betekenis aan mense se lewens kan bring.

In plakkerskampe sien jy hoe mense blomme en groente plant. Op New York se ashope bou die Negers vir hulle woonbuurtes. Ja, soos die volk Israel die nuwe Jerusalem op die ruïnes van die ou Jerusalem gebou het.

Ons leef in die HOOP, want Christus het aan ons die ewige HOOP gebring. Daarom moet ons dwarsdeur die kerklike jaar elke dag tekens van hoop bring in die lewens van mense.

Omdat ons hierdie lewende HOOP het, kan ons elke dag ’n lewe van BETEKENIS lewe. Die diepste sin van die lewe is nie om rykdom, status, sukses of voorspoed na te streef nie, maar om ’n lewe van betekenis te lewe – waar ek ’n verskil in hierdie wêreld en in mense se lewens maak. Om ’n lewe van BETEKENIS te lewe moet nie maar net ’n vroom Nuwejaarsvoorneme wees nie, dit moet ’n lewensroeping wees. Dit moet ’n styl van lewe wees – dit moet deel van my dissipelskap wees. 

Ons moet begin bou en herbou aan ons huwelike, gesinne, gemeenskap, dorp en land. Ons moet adventskerse aansteek in die Advent, kruise oprig in Lydenstyd, leë paaseiers uitdeel in die Pase, wit duiwe loslaat in Pinkstertyd en krone maak vir die Koninkrykstyd.

Ons lewe in HOOP, want Christus het lewe en HOOP gebring. Gaan deel die HOOP uit met almal op jou lewenspad, want jy het reeds die ewige HOOP. Daarom kan ek elke dag met betekenis lewe.

Dit is die diepste sin van die lewe. Die sin van die lewe is om ’n verskil in hierdie wêreld te maak en met ’n betekenisvolle lewe ander mense se lewens aan te raak.

Mag dit ook die sin van jou lewe wees in 2025. Eers dan sal jy werklik gelukkig wees.      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die papirusmandjie van Moses en die krip van Jesus Christus

SKRIFLESING: Eks 2: 1 – 4 en Luk 2: 12

Die uittogverhaal uit Egipte begin met ’n kind en die uittogverhaal uit die sonde begin ook met ’n Kind.

In Egipte was die Israeliete in slawerny. Hulle was slawe van die Egiptenare. In die uittogverhaal uit sonde, is ons weer slawe van die sonde. Die twee uittogverhale het ’n interessante parallel. 

Die geboorte van Jesus Christus is ’n parallel van die geboorte van Moses. Ook vir Hom sou daar nie plek wees nie en Hy is in ’n stal in ’n diere-krip in Betlehem geplaas na sy geboorte.  In Moses se tyd was die Farao en die Egiptenare die bedreiging wat alle seuntjies wou doodmaak. In Jesus Christus se tyd het Herodus en die Romeinse Ryk regeer. Herodus die Grote het ook opdrag gegee dat alle seuntjies van twee jaar en onder in Betlehem se distrik doodgemaak moes word. Daarom het Josef en Maria volgens die engel se instruksies na Egipte gevlug en daar geskuil tot Herodus die Grote dood is. 

Hosea 11: 1 het al voorspel “Toe Israel ’n kind was, het Ek hom al liefgehad,  en uit Egipte het Ek my seun geroep.” Moses het die volk Israel uit Egipte verlos en die Verlosser van sonde, Jesus Christus, het ook uit Egipte gekom. So het beide verlossings uit Egipte gekom.

Dus is daar ’n duidelike parallel tussen die geboortes van Moses en Jesus Christus. Albei was verlossers. Die een is geplaas in ’n papirusmandjie en die ander een in ’n krip wat vir diere gebruik is.

Albei uittogverhale, die uittog uit Egipte en die uittog uit sonde, het ’n groot en duur prys gevra.

Die eerste Joodse volksmoord was die dood van alle Joodse seuntjies met geboorte in Eksodus 1 en 2. Ons lees dat na die dood van Josef daar ’n nuwe Farao oor Egipte begin heers het.

Hy het niks van Josef geweet nie en het bedreigd gevoel deur die hoë bevolkingsaanwas van die Jode. Hy het dit as ’n bedreiging vir Egipte gesien, daarom het hy die Jode harde handearbeid laat doen, deur stene te maak en die Egiptiese voorraadstede Pitom en Rameses te bou. Hy het twee Joodse vroedvroue, Sifra en Pua, opdrag gegee om met die geboorte van alle Joodse babatjies, die seuntjies dood te maak en die dogtertjies te laat lewe. Die Hebreeuse vroedvroue was egter ongehoorsaam aan die Farao en het die verskoning gebruik dat die Hebreeuse vroue baie sterk was en voor hulle nog by die vroue kom, het hulle al klaar geboorte geskenk. Die getalle van die Jode het net al meer geword en die Farao het besluit op ’n alternatiewe voorbehoedingsplan, deur te beveel dat die Egiptenare elke pasgebore Joodse seuntjie in die Nyl gooi om te verdrink.

Dan lees ons in Eksodes 2 van ’n man uit die stam Levi wat met ’n Levitiese meisie getrou het. Sy het ’n seuntjie in die wêreld gebring en hom vir drie maande versteek. Toe sy hom nie langer kon versteek nie, het sy ’n biesiemandjie gekry en dit met pik waterdig gemaak. Sy het hom in die mandjie tussen die riete van die Nyl weggesteek, terwyl sy suster ’n oog gehou het. Dan lees ons hoedat een van die dogters van Farao afgegaan het om te swem in die Nyl. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en haar slavinne gestuur om te gaan kyk. Toe die Egiptiese prinses sien dit is ’n Joodse seuntjie, het sy hom jammer gekry en besluit om hom aan te neem as haar eie seun. Die seuntjie se suster gaan toe na die dogter van die Farao en vra haar of sy ’n Hebreeuse moeder kon roep om die kind te laat drink totdat hy gespeen is.

Die dogter van Farao stem in en was selfs bereid om daarvoor te betaal. Toe die seuntjie oud genoeg was, het sy moeder hom na die dogter van Farao geneem wat hom aangeneem het as haar eie seun. Sy het hom “Moses” genoem, “want ek het hom uit die water gehaal.” So het Moses grootgeword in die Egiptiese paleis en alles geleer oor leierskap. Baie jare later sou Moses sy volk uit Egipte lei na die beloofde land. Hy sou die redder en verlosser van die Joodse volk word, wat hulle van slawerny verlos om vir hulle ’n nuwe toekoms te gee in die beloofde land Kanaän.

Toe Moses die volk uit Egipte gelei het, is dit voorafgegaan deur tien plae; en die Egiptenare wat hulle agtervolg het, het die volk vasgekeer teen die Rooi See.  Die Here moes die Rooi See vir hulle oopmaak. Vir 40 jaar moes hulle swerwe in die woestyn voordat hulle die beloofde land kon ingaan. Hulle moes dikwels van water uit ’n rots lewe en was van ’n daaglikse porsie manna en kwartels afhanklik. ’n Hele geslag mense moes uitsterf voordat hulle in die beloofde land kon intrek. Dit was ’n saak van daaglikse geloofsvertroue. 

Maar dit was nie die enigste Joodse volksmoord nie. Ons lees in die Bybel ook van  ander Joodse volksmoorde. Telkens was dit omdat iemand bedreigd gevoel het.

Dan lees ons van ’n ander kindermoord wat sterk ooreenkomste toon met Moses se verhaal. Ons lees dat met die geboorte van Jesus Christus die sterrrekykers van die Ooste gekom het om aan Jesus Christus hulde te bring, want hulle het geweet dat Hy ’n Koning sou word. Die eerste plek om ’n koning te soek, was natuurlik die paleis van Herodus. Koning Herodus was so ontsteld toe hy hoor dat ’n ander koning gebore is, dat hy moes keer dat sy eie posisie in die gedrang kom. Hy het die sterrekykers gemaak-vriendelik gevra om, as hulle die koning gevind het, verby sy paleis terug te kom, sodat hy ook geskenke vir die koning kon bring. Natuurlik wou hy die Jesus-Kind doodmaak. Die sterrekykers het die Jesus-Kind gevind en vir Hom geskenke gegee.

God het die sterrekykers in ’n droom gewaarsku om nie na Herodus terug te gaan nie en hulle het ’n ander pad terug geneem na hulle land. Daar het toe ’n engel van die Here aan Josef verskyn en hom gewaarsku om Maria en die Kindjie te neem en na Egipte te vlug, omdat Herodus van plan was om die Kindjie te vind en dood te maak. Toe Herodus agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate na Betlehem en die omgewing om alle seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. Dit het tot ’n kindermoord op baie seuntjies gelei. Daarom word daar gepraat van ’n gekerm op Rama en dat Ragel treur oor haar kinders en dat sy nie vertroos wil word nie. Na die dood van Herodus het daar ’n engel in ’n droom aan Josef verskyn en vir hom opdrag gegee om terug te keer na Israel. Josef, Maria en die Jesus-Kind het toe in die dorpie Nasaret gaan bly, waar Jesus groot geword het.

Baie jare later sou die Jesus-Kind wat gered is, Sy lewe gee om die hele wêreld te verlos van die slawerny van sonde. Hy sou die Messias word wat verlossing gee uit sondenood en uit die ewige dood.

Dit het Maria en Josef die gemak van die huis gekos tydens ’n lang tydperk van ballingskap in Egipte om die klein Jesus-Kind te beskerm. Dit het moeders in en om Bethlehem die bloedbad van hul babas gekos deur die wrede bevel van Herodes die Grote. Dit het die herders ’n reis gekos met die oproep na die krip en om die goeie nuus te vertel. Dit het die wyse manne ’n lang reis en duur geskenke gekos.

Sonder Moses in die papirusmandjie in die Nyl, sou daar geen verlossing gewees het uit Egipte nie.

Sonder Jesus Christus in die krip in die stal, sou daar geen verlossing uit sonde gewees het nie. Daarom skryf Dietrich Bonhoeffer in sy boek “God Is In the Manger” die volgende woorde:  “Holy theology arises from knees bent before the mystery of the divine child in the stable. Without the holy night, there is no theology.”

Sonder die papirusmandjie sou daar geen uittog uit Egipte gewees het nie. Sonder die krip in die stal sou daar geen verlossing uit sonde gekom het nie. Daarom is Kersfees spesiaal. Met Goeie Vrydag buig ons voor die kruis, maar met Kersfees buig ons voor die krip.

Daarom is Jesus Christus se menswording ’n liefdesdaad van die Vader. Die Vader het Sy Seun vir die wêreld gegee. Dietrich Bonhoeffer skryf: “It is only because he became like us that we can become like him.” Wat ’n heerlike uitdaging is dit nie vir ons nie. Ons kan deur heiligmaking strewe om Christ-like te word.

Die krip is die begin van die Nuwe Testament, die begin waar God Sy beloftes waar maak, die begin van die verlossing. Daarom kan ons kersliedere sing, want die krip is vir ons ’n simbool van verlossing, soos die papirusmandjie in die Ou Testament die simbool van verlossing uit slawerny was.

Daarom is daar merkbare ooreenkomste tussen die verhaal van Moses en Jesus. Albei se lewe is as jong babas bedreig. Albei is gered van ’n slagting onder jong seuntjies. Beide is gebore onder twee diktators wat bedreigd gevoel het oor hulle posisies, naamlik Farao en Herodus.

Beide was verlossers. Moses het die volk Israel gered vanuit Egipte, die plek van slawerny. Jesus Christus het weer as Verlosser die wêreld gered van die slawerny van die sondenood en die ewige dood.

Daarom is die Kersverhaal nie heeltemal so romanties nie. Kersfees is ook duur. Ons vergeet van die kindermoord en die baie moeders wat hulle seuntjies onder twee jaar oud verloor het. Daar was ’n gekerm en ’n gehuil met die geboorte van Christus. Ons almal verlang na ’n perfekte Kersfees. Maar daar sal nooit ’n perfekte Kersfees wees nie. Christus is juis gebore vir die onperfektheid van die wêreld. Christus Jesus se geboorte was onder trane en droefheid, sodat daar hoop kan wees vir ons droefheid en trane, en onperfekte lewens.

Kersfees is nie bedoel om perfek te wees nie. Ons lewe en lewensomstandighede getuig dikwels van krake, siekte, eensaamheid, droefheid en persoonlike probleme. In baie huise word vanjaar dalk ook iemand geliefd gemis en is daar ’n leë stoel aan ons Kerstafel.  Maar Kersfees bring Lig in ons donker wêreld en gemoed.

Die eerste Kersfees was onperfek, sodat daar hoop kan wees vir ons wrede en stukkende wêreld. Die geboorte van Christus Jesus was die begin van Christus se “Auschwitz”. Daarom, wanneer ons ook somtyds deur ons eie “Auschwitz” moet stap, weet ons dat ons nie alleen is nie. Christus was alreeds daar.

Die enigste stukkie perfektheid in die Kersverhaal is die liefde van God vir sondaarmense in hulle gebrokenheid. Ware liefde is altyd perfek. Daarom moet ons in hierdie Kersfeestyd en dwarsdeur 2025 altyd streef na die een perfektheid, naamlik die LIEFDE. Daarom sê Paulus ook dat die grootste van alles die LIEFDE is. Al wat perfek was met die eerste Kersfees, was God se onvoorwaardelike liefde. Wil jy hierin deel?             

 Plaas onder jou kersboom dié Kersfees ’n krip! Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geraamtes in die kas

SKRIFLESING: Mat 1: 1 – 17

In die ou groot familie-Bybels was dit gebruik dat ons voorvaders hulle familie-stamboom neerskryf. Van oupa- en ouma-grootjie tot die jongste kind. Families was erg gesteld op hulle stamboom.

Net die goeie word vertel. Niemand praat oor die geraamtes in die familieboom se kas nie. Dit word verswyg. Dit is amper soos by begrafnisse. Net die goeie van die persoon word uitgelig, maar hy of sy se geraamtes word verswyg. Met die verhaal van Christus Jesus se stamboom is dit egter heeltemal anders.

In die boerdery word ’n stoetery ook bepaal deur die stamboom van daardie diere. Daar word noukeurig rekord gehou van die stoetbul of stoetram. Natuurlik behaal die diere met die beste stamboom ook die beste pryse op die vendusies. Dit is ook die verskil tussen ’n brak en ’n opregte hond. ’n Brak het geen stamboom nie, maar ’n opregte hond het ’n stamboom en word geregistreer as opreg.

Snobisme kom algemeen voor in die mensdom. Daar word gou gesê jy is nie van my familie of sosiale klas nie. Die mensdom sosialiseer moeilik met mense wat ’n beskeie en nederige agtergrond het. In baie families is daar hewige familie-rusies as ’n verliefde jongmens wil trou met ’n persoon wat volgens die ouers nie in hulle sosiale klas pas nie.

Ons sou verwag dat die geslagsregister of die familie-stamboom van Jesus Christus onberispelik sou wees. Christus is tog die Seun van die Vader. Daarom moet Sy geslagsregister uitstaande wees. Die teendeel is egter waar. Mattheus verskaf vir ons die volle geslagsregister van Jesus Christus. Hy noem slegs vyf vroue, waarvan vier uit ’n bedenklike agtergrond kom en een uit ’n baie nederige agtergrond.

Die vroue is Tamar, Ragab, Rut, Batseba en Maria. Kom ons kyk na elkeen van hulle se storie.

  • Tamar, wat by haar skoonpa slaap

Ons lees dat Juda vir sy eersgebore seun Er ’n vrou geneem het met die naam van Tamar. Er was egter ’n slegte man en God het hom laat sterf en Tamar as weduwee gelaat. Dit was toe Er se broer Onan se verantwoordelikheid om by Tamar kinders te verwek vir Er. Hy het egter elke keer as hy met haar gemeenskap gehad het, sy saad op die grond laat val, sodat Tamar nie swanger geword het nie. Die Here het daarom ook Onan laat sterf en Tamar weer as weduwee gelaat. Die volgende broer wat toe ’n nageslag moes verwek, was Sela. Juda het egter gesê dat Sela te jonk is en dat hy bang is Sela sterf ook soos sy broers. Dan lees ons hoe Juda na Timna gegaan het om skape te skeer. Op sy pad terug het hy Tamar teëgekom wat haarself as prostituut voorgedoen en haar gesig bedek het. Juda het toe afgedraai om met die prostituut gemeenskap te hê.

Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. Hy het aangebied om haar te betaal met ’n boklam, maar Tamar wou ’n pand hê om te verseker dat Juda haar betaal. Juda het toe vir haar sy seëlring en staf gegee. Hy het met haar gemeenskap gehad en huis toe gegaan. Hy het sy vriend gestuur om die prostituut te betaal met die boklam wat hy belowe het. Sy vriend kon die prostituut egter nêrens opspoor nie. Juda sê toe vir sy vriend dat hulle nie daaroor moes praat nie, anders word hy ’n bespotting. Die prostituut moes maar die seëlring en staf hou. Drie maande later word dit bekend dat Tamar swanger is. Die mense vertel toe vir Juda dat sy skoondogter swanger is deur haar hoerery. Juda beveel dat Tamar uitgebring en verbrand moet word. Toe hulle Tamar uitbring, het sy gesê dat die een aan wie die seëlring en staf behoort, die pa is. Juda was erg verleë aangesien hy die pa was. Hy erken daarna dat hy verkeerd was deur sy seun Sela nie vir Tamar as man te gee nie. (Dit was volgens die Joodse familie-reg die gebruik dat wanneer een broer sterf, sy ander broer met die weduwee moet trou en vir sy broer by haar kinders verwek.) Juda het Tamar se lewe gespaar en sy het geboorte gegee aan ’n tweeling, Peres en Serag. Peres het een van die voorvaders in die stamboek van Jesus Christus geword.

  • Ragab die prostituut

Ragab was ’n prostituut van Jerigo.

Josua het twee verspieders uitgestuur om Jerigo te verken. Hulle was as’t ware spioene. Toe die koning van Jerigo uitvind dat daar spioene in die stad is, het hy sy soldate gestuur om hulle te soek en dood te maak. Hulle het toe gevlug na Ragab die prostituut. Ragab het haar ontferm oor die twee verspieders en hulle eers weggesteek en hulle later met ’n tou laat afsak tot buite die stad, waar hulle kon ontvlug. Sy het hulle egter laat belowe om wanneer hulle die stad Jerigo aanval, haar en haar familie te spaar. Sy sou ’n rooi tou by die venster laat uithang.  Met die aanval en vernietiging van die stad Jerigo, het die Joodse soldate die belofte nagekom en Ragab en haar familie gespaar. Later het Ragab, die prostituut, met Salmon getrou en so die moeder van Boas geword, ook een van die vroue in die geslagsregister van Jesus.

  • Rut die Moabiet

Die verhaal begin waar Naomi saam met haar man en twee seuns uit Israel trek na Moab, aangesien daar ’n droogte was in Israel en hulle broodsgebrek gelei het. Die Jode en die Moabiete was egter vyande en die Jode het op die Moabiete neergesien. Hoekom het die Jode op die Moabiete neergesien? Die ontstaansgeskiedenis van die Moabiete getuig van immoraliteit, swak sedes en bloedskande. Die nasie is gebore na die vernietiging van Sodom en Gomorra, en na ’n bloedskandelike verhouding tussen Lot en sy oudste dogter, soos beskryf in Genesis 19. Die Moabiete het ook afgode soos Kemos (1 Kon 11:7, 33) en Baäl-Peor (Num 25:1 – 3) aanbid op die hoogtes. Daarom het die Jode op die Moabiete neergekyk en hulle as ’n laer klas beskou.

 Naomi se twee seuns het met twee Moabitiese vroue by name Rut en Orpa getrou. Ongelukkig sterf Naomi se man en albei haar seuns. Toe dit weer gereën het in Israel, besluit Naomi om terug te gaan na Israel. Haar Moabitiese skoondogter Rut het egter soos ’n neet aan haar vasgekleef en gesê dat sy saam met Naomi ook Israel toe gaan, vir ’n nuwe toekoms.

In Israel het hulle swaargekry en moes Rut are in die land optel om hulle aan die lewe te hou. Naomi het egter geweet dat Boas familie is van haar oorlede man en dat hy regtens vir Rut as vrou moet neem. Hy moet as losser optree en met haar trou. Naomi het Rut beveel om vir haar mooi te maak en haar lekker te laat ruik en in die aand by die voete van Boas te gaan lê. In Hebreeus beteken “om te gaan lê by die voete” om verleidelik te gaan lê by ’n man. Sy het hom as’t ware verlei. Die volgende oggend was Boas smoorverlief op Rut en het besluit om met haar te trou. Uit die huwelik is Obed gebore, ook een van die voorsate in Jesus se stamboom. So het ’n volksvreemde Moabiet, wat beskou is as iemand van ’n laer klas en uit ’n onrein volk, deel gekry aan die stamboom van Christus.

  • Batseba die owerspelige

Batseba se naam word nie pertinent genoem in die geslagsregister van Jesus Christus nie. Sy word beskryf as die “vrou van Uriah”. Uriah was ’n soldaat in Koning Dawid se weermag. Dawid het vir Batseba raakgesien op die dakvertrek vanuit sy paleis terwyl sy besig was om te bad. Miskien was dit die bedoeling van Batseba om die koning te verlei.

So het dit gekom dat Dawid en Batseba owerspel pleeg terwyl Uriah op militêre diens was. Dawid maak toe ook ’n plan om van Uriah ontslae te raak deur hom in die voorste linies te laat veg, sodat hy maklik kon sneuwel. Daar is dus ook moord gepleeg, saam met die owerspel. Tog het die Here vir Dawid vergeef, na Dawid se diep berou in Psalm 51. Uit die verhouding tussen Dawid en Batseba is gebore koning Salomo en so word dit ook deel van die stamboekgeskiedenis van Jesus Christus.

  • Maria, die eenvoudige meisie sonder agtergrond

Maria was die moeder van Christus Jesus.

Sy was ’n eenvoudige meisie wat in Nasaret, een van die onaansienlike dorpies in Israel, gewoon het. Sy was van geen hoë klas of aansien nie. So het die Here ’n eenvoudige mens gebruik om Sy werk te doen, iemand wat geen koninklike agtergrond gehad het nie. Uit die Kerstradisie sien ons tonele van Maria op ’n donkie en Josef, wat die donkie lei. Dit word uit die Skrif aangeneem dat Maria op ’n donkie gereis het, aangesien die afstand tussen Nasaret en Bethlehem ongeveer 105 kilometer te voet was. Vir ’n hoogswanger vrou sou die afstand te ver wees om te loop. Verder was Josef ’n gewone skrynwerker en daarom nie ryk nie. Hy het dalk sy eie donkie gehad of selfs dalk een geleen. Interessant is toe Jesus Jerusalem binnegaan om gekruisig te word, het Hy ook op die rug van ’n geleende donkie gery, op pad na Sy kruis.

  • Waarom het Mattheus die vyf vroue uitgesonder?

Jesus Christus se stamboek is nie rooskleurig nie.

Daar is baie geraamtes in die kas. Vier van die vyf vroue in ons gelese gedeelte het onbestendige lewens gelei of was van bedenklike afkoms. Desnieteenstaande het God dit goedgevind om hulle deel van Jesus Christus se stamboek te maak, sodat daar hoop vir jou en my kan wees.

Maak nie saak hoe groot jou sonde of watter geraamte daar in jou kas is nie, Christus Jesus het gekom vir sondaars. Hy het vir Tamar, Ragab, Rut en Batseba – ten spyte van hulle sonde en bedenklike afkoms – so volledig aanvaar dat hulle deel van Christus Jesus se stamboom geword het. Straatbrakke het ook deel aan Jesus Christus se genade. Terwyl Christus op aarde was, het Hy gemeng met die sondaars en prostitute en tollenaars. Hy het selfs tuisgegaan in die huis van die tollenaar Saggeus, wat een van die grootste sondaars in Jerusalem was.

Die Evangelie is teen enige vorm van snobisme. Ons stoot mense maklik weg met ons snobisme, maar Christus trek mense nader in Sy liefde en genade.

Al is ons vermink deur die sonde, is Jesus Christus vermink aan die kruis om ons verminking op Hom te neem. Ons is die lammers met gebrek, sodat die volmaakte Lam van God in ons plek geoffer is. Kersfees gaan oor God se onvoorwaardelike liefde vir sondaars. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Verwondering oor die Lig en die menswording

SKRIFLESING: Johannes 1:1 – 18

In die foto is die drie Botha-seuntjies van Theunis en Eleanor Botha, wat hul verwonder oor ’n kersvlam.  (Dit is baie jare gelede geneem. Nou is hulle al jongmanne.)

Met seuntjies-oë en kinderlike  opregtheid is hulle in ’n ander wêreld, ’n wêreld van betowering. Kersfees is ook ’n tyd van verwondering en magic. ’n Tyd om jou te verwonder aan die Lig van die wêreld.

Die eerste opdrag wat God gegee het, is: “Laat daar lig wees …” En daar was lig. So begin die Ou Testament. Die  Johannes Evangelie in die Nuwe Testament begin ook met die woorde: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Insiggewend dat altwee die Testamente begin met die verwysing na lig. Die lig van die Ou Testament het skeiding gebring tussen dag en nag. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen hoop en wanhoop, tussen skuld en bevryding. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen regverdigheid en goddeloosheid. Die Lig is vir alle mense om aan te neem. Hoe nader jy aan die lig-lewe kom, hoe beter kan jy vir God en jou naaste sien. Hoe verder jy van die Lig lewe, hoe meer onsigbaar word God vir jou en later kan jy ook nie eers meer die gesig van jou naaste raaksien nie. Ons praat van ’n Godsverduistering wat plaasvind, soortgelyk aan ’n sonsverduistering.

Hoe verder ’n mens van die lig van die kers sit, hoe minder kan jy vir God en ander mense raaksien. Hoe nader jy aan Jesus Christus – die Lig van die wêreld – leef, hoe meer sien jy God se werke in jou lewe raak. Jy sien dan ook skielik die gesig van jou naaste baie duidelik. Daarom is die oproep in 1 Johannes om naby aan die Lig te leef. Ja, om die Lig aan te neem ! Om as’t ware die Lig te omhels.

In die begin van die Ou Testament lees ons van God wat die mens gemaak het na die beeld van God. Met ander woorde, die MENS LYK SOOS GOD. In Johannes 1 word gesê dat God  vlees geword het – Hy het soos die mens geword, behalwe in die sonde. Met ander woorde, die proses is nou omgekeer: dat GOD NOU LYK SOOS DIE MENS, behalwe in die sonde. Is dit nie Goddelike magic nie !

God het in Jesus Christus soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike magic !

’n Baie mooi verhaal om dit te illustreer, is die volgende: Daar was eenmaal ’n ateïs wie se vrou ’n gelowige was. Hulle het in ’n klein dorpie gebly in die Switserse Alpe.

Dit was ou-Kersaand en dit het hewig gesneeu. Sy vrou het kerk toe gegaan, want dit was die gebruik om Kersliedere te sing die aand voor Kersfees. Hyself het egter verkies om by die huis te bly en sy aand voor die televisie deur te bring. Skielik hoor hy ’n slag teen die ruit, en ’n tweede en derde keer. Toe kom hy agter dit is ’n trekvoëltjie wat verdwaal het en êrens ’n warm plekkie soek om te oornag. Hy gaan toe dadelik uit om die ou houtskuur se deur oop te maak. Met ’n gewaai van arms en die namaak van voëlgeluide probeer hy om die voëltjie in te lok in die skuur in.

Nie eers voëlkos kon die voëltjie oorreed om die warm skuur in te gaan nie. Na ’n hele tien minute se gesukkel, kom die wens by hom op om net vir een minuut soos die voëltjie te word, sodat hy die voëltjie die warm skuur kan binnelei. Op daardie oomblik lui die kerkklok. Net daar val die ateïs op die sneeu neer en bid vir die eerste keer in sy lewe. Want toe hy die kerkklok hoor lui, besef hy vir die eerste keer waarom Christus na die wêreld gekom het en hoekom Hy kom mens word het. Hy het kom “mens word” met Kersfees om ons in die warm skuur van God se genade en liefde in te lei. Hy het kom word soos ons, behalwe in die sonde. Dit is die betowering van Kersfees.

God het in Jesus Christus soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike magic

Juis daarom moet ons hierdie Kersfees die Lig laat skyn en dit nie onder ’n maatemmer verberg nie. Tereg sê Johannes 1: 4 dat Jesus die Lig is en dat selfs nie eers die duisternis dit kon uitdoof nie. As’t ware skryf Johannes ’n bibliografie aangaande Jesus Christus en begin sy Evangelie met die stelling “en die duisternis kon dit nie uitdoof nie”, wat hy dan later in sy Evangelie bewys. Met Jesus se kruisiging het dit donker geword. Vir ’n tydperk het dit gelyk of die duisternis die duiwel gaan wen.

Oor ’n tydperk van drie dae was Jesus in die dood, asof in die hel, van God en mens verlaat. Maar op Paassondag met die breek van die eerste lig het Hy opgestaan uit die dood en lééf Hy as die eerste Môrelig. Hy kom nooi ons as’t ware om in die LIG te leef. In vers 12 praat Johannes van almal wat Hom aangeneem het, aan wie Hy die reg gegee het om kinders van God te wees. As’t ware om kinders van die Lig te wees. Uit een kers kan jy miljoene kerse aansteek. Uit die opstanding van die een Lig, is die lig in miljoene gelowiges wêreldwyd aangesteek.

Jesus se lig is so helder dat daar geen donkerte intens genoeg is om Sy lig uit te doof nie. Maak nie saak hoe donker jy ’n vertrek maak nie, daar sal nooit genoeg donkerte wees om die lig dood te maak nie. Die lig wen altyd die donkerte. Juis daarom moet ons lig en hoop bring in die wêreld waarin ons leef. Jou kleinste daad van liefde en lig kan nooit ongedaan gemaak word nie.

Dit sneeubal voort in ander mense se lewens. So het Jesus se kruisdood en opstanding gesneeubal in miljoene mense se lewens. Daar is mos nie verniet aan Abraham beloof dat sy nageslag so baie sal wees soos die sterre aan die hemelruim of soos die sand van die see nie. In Christus Jesus het ons almal kinders van vader Abraham geword. So het die Lig na die hele wêreld gekom. Die wonder is dat ons die lig kan aangee na ander, deur self net die Lig te lewe.

Vers 16 sê aangrypend: Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. As’t ware kry ons rente op rente genade by die Here. Ons kry soveel genade, dit is soos ’n glas wat reeds vol water is en nog water kry. Dit loop oor !

Dit kos niks om die water te deel nie, want daar is reeds te veel water vir my. Juis daarom moet ons die oorvloedige genade van die Here aangee.

Somtyds is ons ongehoorsaam en dan “briek” ons hierdie oorvloedige genade van die Here.

Dit is soos om ’n windpomp te “briek”. In die Noord-Kaap waar ek die voorreg gehad het om predikant te wees vir bykans veertien jaar, was ’n windpomp alledaagse woordgebruik. Om ’n windpomp te “briek” is om te keer dat dit nog water gee. Dikwels doof ons die “lig van die Evangelie” uit of ons “briek die oorvloedige genade van God” in ons eie lewe en ook in ander mense se lewens met wie ons in aanraking kom. So kan ons dikwels die Gees se werking teenstaan. Johannes 3 praat mos van die Gees se werking wat soos “wind” is. Jy kan die wind nie sien nie, maar jy sien die werking van die wind. So kan jy God se Gees nie sien nie, maar jy kan die Gees se werking sien in jou en ander se lewens.

Om die Evangelie nie aan te neem nie (vers 11 en 12) is om “die windpomp te briek.” Dan ontbreek dit jou aan die koel soet ondergrondse water wat uit jou siel kan borrel. Maar boeta, die wind kan ook ’n windpomp se brieke afruk. Dan is daar geen keer aan die water nie. So het Saulus God ook “gebriek”, totdat God se Gees sy brieke afgeruk het op die pad van Damaskus. Toe was daar geen einde van lewende water in die lewe van Paulus nie. Wanneer God se Gees jou “brieke” afruk, dan verander jy sommer van naam ook – so ingrypend werk die Gees.

Wanneer die wind eers ’n vuur gevat het, kan niemand so ’n vuur keer nie. So het dit ook in die geskiedenis van al die groot geestelike herlewings gebeur. Dit steek die wêreld aan die brand. Daarom praat Johannes Calvyn nie verniet van die Christelike hart as die “brandende hart” nie. Op Pinkstersondag het die Gees sommer in ’n oomblik 3000 harte aan die brand gesteek met die ewige liefde.

Jesus is die Lig van die wêreld. Sy lig het die wêreld aan die brand gesteek. Sy Lig het onder ons kom woon en “Kyk, ons kan sien !” Dit is die magic van Kersfees … dat ons kan “sien”.

Mag u dié Kersfees met kinderlike onskuld u verwonder aan die betowering van Kersfees. Mag die magic u hele lewe verander.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

90 jaar in 55 jaar geleef (Sy dade volg hom) – Jacobus le Roux

SKRIFLESING: Openbaring 1: 17 – 18 en Openbaring 14: 13

Toe ek Maandagmiddag by JW op Koedoeskloof was, het hy vir my iets aangrypends gesê: “My pa het 90 jaar in 55 jaar geleef.” ’n Mens se lewe word nie gemeet in terme van jou ouderdom nie, maar in die kwaliteit van jou lewensjare. Ons sou almal graag nog vir Jacobus vir 30 jaar by ons wou gehad het, maar die Here het anders gewil.

Maar hy het voluit en met passie geleef in die 55 jaar wat die Here vir hom gegee het. Hy was ’n goeie man vir Heleen en ’n wonderlike vader vir sy drie seuns. Ek is so dankbaar dat hy ’n goeie vaderfiguur vir sy seuns kon wees totdat hulle as volwasse jongmanne kon ontwikkel. Die vaderfiguur speel altyd ’n baie groot rol in ’n seun se lewe. Hy was ’n wonderlike rolmodel in sy seuns se lewe. Jacobus le Roux was ook ’n uitstekende boer, wat met  oorgawe en suksesvol geboer het. Boerdery was vir hom nie ’n werk nie, maar ’n passie en lewensroeping.  Boerdery het deur sy are gevloei.

Ek het eenmaal gelees van ’n laat 1700’s verhaal van ’n wewenaar wie se enigste dogtertjie oorlede is. Dit het in Engeland afgespeel. Dit was die tyd toe begraafplase nog ’n opsigter gehad het en die doodskiste met slotte gesluit was. Die sleutel van die doodskiste is vir die opsigter van die begraafplaas gegee om te bewaar. Die wewenaar en die predikant het, nadat hulle die dogtertjie begrawe het en die sleutel van die kis vir die opsigter  gegee het, terug gestap. Die man het verskriklik gehuil. Die predikant sê toe vir hom: “Broer, die loper wat jou dogtertjie se kis oopsluit, hang en kinkel alreeds aan die sleutelring van die Here Jesus Christus.”

Waarskynlik het die predikant Openbaring 1: 17 – 18 in gedagte gehad. In Openbaring 1: 17 – 18 staan daar geskrywe: Toe ek Hom sien, het ek voor Sy voete neergeval soos ’n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades”.

Die woord “Hades” word voorgestel as ’n plek onder die aarde waarheen mense wat sterf, afdaal. Dit is die “doderyk” of “onderwêreld” genoem. Soms is dit ook as ’n tronk voorgestel. Daarom het Jesus die sleutel wat die tronk van die dood oopsluit en ons inlaat in ons hemelse woning.

Wat belangrik is, is dat Jesus die sleutel het wat die dood oopsluit. Nie ons goeie werke of dade kan vir ons die hemel oopsluit nie. Jesus Christus se soendood is die sleutel wat die doderyk oopsluit. Daarom is Hy die Weg en die Waarheid en die Lewe. Met Jesus se opstanding uit die dood het Hy die slotte van ons dood kom oopsluit.

Versprei deur die boek van Johannes kry ons sewe saligsprekinge. Een van hulle is Openbaring 14:13: Ek het toe ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.”

Heel eerste praat hierdie vers van gelukkig is dié wat in die Here sterwe. Vir sy vrou Heleen; sy seuns Pierre, JW, Izak; sy ouers Oom Pierre en Tannie Jackie en sy susters Eleanor en Aletta en die res van die uitgebreide familie is dit seer, pynlik en ’n diepe wond. Maar vir Jacobus is dit “gelukkig”, want hy het in die Here gesterf. Jacobus was in die Here en hy het in die Here gesterf en daarom kan ons hom nou “gelukkig” noem.  Almal wat in die Here gesterf het, is inderdaad gelukkig.

Tweedens praat die vers ook van “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg.” Die woord “geswoeg” is die Griekse woord “kopos” wat ons eerder sou kon vertaal “met moeite” en dit verwys na ons hele lewe wat vir ’n groot deel uit moeite, pyn en bekommernisse bestaan. Jacobus het nou geen moeite, angs, pyn en bekommernisse nie. Die Bybel maak baie gebruik van die woord “rus”. Daarom is die Sabbat die “rusdag” vir die mens. Jacobus het in sy Sabbatsrus ingegaan.

Hebreërs 4: 9 – 11 sê die volgende oor die rus: Daar bly dus steeds ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Jacobus le Roux se arbeid op die aarde is voltooi. Hy kan nou rus van sy aardse arbeid en sorge, maar hy neem nou sy hemelse verantwoordelikhede op.

Hierdie “rus” word ook verduidelik in Psalm 23: 5b, waar daar staan: U verfris my kop met olie; my beker loop oor. In hierdie wêreld loop ons beker nooit oor nie. Ons het altyd behoefte aan sekuriteit, voldoende finansies, goeie gesondheid en nog vele ander dinge. As dit goed gaan, is jou beker driekwart vol. As dit met jou tussen die boom en die bas gaan, is jou beker halfpad vol en as dit met jou sleg gaan, is jou beker ’n kwart vol. Elke dag vul die Here ons beker aan met nuwe lewenskrag, maar ons beker loop nooit in dié lewe oor nie. Maar in die hemel loop ons beker oor. Dan het ons aan niks meer ’n tekort nie. Daarom loop Jacobus se beker nou oor in die hemel. Hy het aan niks ’n tekort meer nie.

Behalwe die “geswoeg” praat die teks ook van “dade”. Diegene wat in die Here sterwe, sal nie net rus van hulle geswoeg nie, maar hulle dade volg hulle.

Let op dat jou goeie dade nie voor jou uitloop om die hemel vir jou oop te maak nie. Net Jesus Christus kan die dood oopsluit met sy kosbare bloed. Jesus is die sleuteldraer wat sonder verdienste die deur vir jou oopsluit. Nee, die teks sê jou goeie dade volg jou. Is dit nie ’n troos nie! Alles wat ons gedoen het wat goed was, volg ons. Die dood kan mos nie uitvee wat goed in jou lewe was nie. Die goeie bly altyd staan. Die goeie wat Jacobus gedoen het en sy getuienis vir die Here, bly staan. Sy goeie dade as eggenoot, vader, gesinsman, boer,  gemeenskapsleier en as kerkleier bly staan. Dit volg hom die hemel in.

Die Joodse rabbi’s het geglo dat jou goeie werke jou vooruit gaan. Dat jou goeie werke soos ’n stootskraper vir jou ’n pad oopmaak na die hemel. Maar in die Nuwe Testament het die Here die orde omgegooi. Jesus gaan self vooruit om vir ons die pad na die hemel oop te maak. Ons goeie dade volg ons in die dood.  Daarom: die goeie dade van ons gaan ons nie vooruit nie, maar  volg ons die hemel in.

Die Here vee met ons dood nie die goeie dade uit nie. Iemand skryf so aangrypend: “Nee, wanneer die gelowige omkyk in die ewigheid, volg alles wat hy gedoen het op sy hakke. God vergeet nie. Ons sonde ja, die het Hy totaal vergeet (Hebreërs 10:17), maar nie ons werke in Sy Naam nie. ‘Ek kén jou werke en jou ‘kopos’, ’ sê Jesus in Openbaring 2:2.”

 Want ons goeie dade verheerlik die Here Jesus, daarom word dit nie uitgevee nie. Ds. Johannes de Koning skryf tereg: “Ons goeie werke volg ons. Ons dade tel tot in alle ewigheid!” Ons slegte dade is uitgevee deur die bloed van die Here Jesus Christus.

Mag hierdie gedenkdiens van Jacobus le Roux weer vir ons elkeen die belangrikheid van ons dade (nie net ons geloof nie) beklemtoon. Jacobus le Roux se lewe word gekenmerk deur karaktervastheid, lojaliteit en betroubaarheid. Sy woorde het altyd “gewig” gedra. Hy was ’n waardige man. Hy is een van die groot bome wat geval het op Fort Beaufort. Sy werk op Fort Beaufort sal altyd onthou word. Hy is een van dié dorp se legendes.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Kyk hoe opgeswel is my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.” So het die dood ook Jesus Christus as deurboorde gesteek en het die dood sy angel verloor, sodat die dood nie die finale sê oor ons het nie. So het die dood nie meer ’n houvas op my nie.

Vir Heleen gaan dit die volgende weke en maande baie swaar wees. Sy gaan die verlies baie erg beleef. Ek het die mooiste herinneringe van Jacobus en Heleen. Ek onthou Sondagoggende het hulle in die middelblok van die kerk gesit tydens die erediens. Hulle het altyd styf teen mekaar gesit en Heleen het haar kop gerus op Jacobus se skouer. Dit was ’n besondere mooi ervaring vir my van die liefde tussen ’n man en sy vrou. Jacobus het ’n moeilike pad gestap, maar Heleen het hom deur dik en dun bygestaan en was dáár vir hom. Sy het haar troubelofte tot die einde opreg nagekom. Ek dink ook aan Oom Pierre en Tannie Jackie, wat al twee kinders aan die dood afgestaan het. ’n Kind kan nog ’n ouer se dood verwerk, maar dit is baie moeilik vir ’n ouer om ’n kind se dood te verwerk, want dit is vlees van jou vlees.

Pierre, JW en Izak, julle moet nou in die voetspore van julle vader loop. Julle het groot spore om vol te staan, maar die Here sal julle help. Julle het die voorreg om die Le Roux-familienaam te laat voortleef. In julle vader het julle ’n wonderlike mentor en rolmodel gehad. Dit is ’n voorreg om in sy voetspore te volg en sy werk voort te sit.

Jacobus was versot op springmielies. Mag julle as julle in die toekoms springmielies eet, altyd vir Jacobus onthou.

Maar Jacobus le Roux het gelukkig gesterf, want hy het in die Here gesterf. Dit is wat ons teks sê. Ons is nie troosteloos nie, want Jacobus rus van sy geswoeg. Sy dade volg hom in die hemel. Daarom kan niks goeds wat hy gedoen het, deur die dood ongedaan gemaak word nie. Sy goeie dade lewe voort tot in alle ewigheid, tot verheerliking van God.

Wat ’n heerlike troos!                                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)