Ons lewe tussen die hemelvaartswolk en die wederkomswolk

SKRIFLESING: Handelinge 1: 9 – 11

Toe ek ’n kind was, het ek altyd op my rug op die gras gelê en kyk na die wolke. Dan het ek gekyk watter figuur ek in die wolk kan raaksien.

Somtyds sien jy ’n perd, ’n hasie, ’n besem, ’n ou man of ’n kabouter raak. Wolke het positiewe konnotasies by my. Wolke bring reën. Wolke bring altyd die hoop dat die droogte binnekort gebreek kan word. ’n Bewolkte dag is gewoonlik koel. Wolkformasies is mooi en aanskoulik. Elke dag lyk die wolke anders. Wolke kan ook onheilspellend lyk. Somtyds maak wolke jou bang, veral as daar hael in die wolke is. Dan soek jy gou parkering om jou voertuig teen moontlike haelskade te beskerm. Die mooiste is as die sonstrale sulke strepe deur die wolke maak, dan lyk dit kompleet of God met ons praat.

In die Bybelse tyd was wolke ook simbole van die vaartuie waarop God se boodskappers vervoer is.

Maar dit is verkeerd om die wolk met Hemelvaart net as ’n negatiewe assosiasie te sien. Jesus se Hemelvaart het vir ons net voordeel en geen verlies gebring nie. Deur Jesus se Hemelvaart het die Heilige Gees gekom om in persoon by ons almal tegelyk te wees. Daarom leef ons in die kragveld van die Heilige Gees. Jesus Christus is ook in ’n regeringsposisie aan die regterhand van die Vader geplaas, waar Hy saam met die Vader oor Sy skepping en Sy kinders regeer. Christus het ook opgevaar om vir ons plek in die hemel voor te berei. Christus is ook ons Voorspraak (ons Advokaat) aan die regterhand van die Vader, waar Hy vir ons pleit en ons saak voor God stel. Christus leef ook IN ons deur Sy Gees. (Die foto is die hemelvaartskerk, dit is die plek volgens oorlewering, waar Jesus opgevaar het na die hemel.)

Daarom is ons nie as weeskinders alleen agtergelaat nie. Nee, God het vir ons Sy Gees gegee om by ons te wees. Ons leef tussen die hemelvaartswolk en die wederkomswolk.

Hierdie tussen-tydperk is Gees-vervulde tyd. Daarom word die Hemelvaart opgevolg met die Pinkstertyd en met Pinkster Sondag. Die dissipels was tydens die tien dae van Pinkster eendragtig bymekaar in volhardende gebed. Daarom gaan die Heilige Gees en gebed altyd saam.

Wie bid, ontvang die Heilige Gees. Wie die Heilige Gees ontvang het, bid volhardend. Die gebedslewe en die werking van die Heilige Gees gaan saam. Die Heilige Gees leer ons om te bid.

In hierdie tussen-tydperk tussen die twee ankers, die Hemelvaart en die wederkoms, is die twee kenmerke van die kerk tussen die wolke:

  1. Geesvervuld
  2. Biddend

Daarom moet ons Geesvervuld en biddend die wederkomswolk afwag.

Ons moet met reikhalsende verlange op die wederkoms van die Here wag. Ons moet soos ’n bruid onsself gereed maak om die Bruidegom met die Wederkoms te verwag. Wie op die wederkomswolk wag, is soos ’n bruid wat haarself gereed maak en mooi maak om haar bruidegom by die bruilof te ontmoet. Sy klee haarself met skoonheid. Daarom is die kerk van die Here die bruid van Christus. Op die wederkomswolk kom haal Christus Sy kerk om vir altyd met Hom verenig te wees. Daarom, soos wat ’n bruid haarself mooi maak, met die oog op die bruilof, moet ons onsself versier met die wonderlike gawes van die Gees, soos dit in Gal 5 beskryf word: Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Dit is waarmee die bruid (Christus se kerk) haar moet klee as bruid van Christus.

Die teoloog Richard Bohren vertel hoe hy en sy vrou een middag gaan stap het in die woud. Terwyl hulle gestap het, was die lug oopgetrek sonder enige wolke. Hulle het ver gestap. Hulle het meer gedrentel as gestap, want niks het hulle aangejaag nie. By die omdraaipunt het die weer skielik verander. Die wolke is deur die wind aangedryf en was vol water. Hoe meer die wolke saamgepak het, hoe vinniger en haastiger het hulle gestap. Toe die eerste druppels dreigend neerplons, het hulle begin hardloop om betyds in die huis te kom. So sê hy is dit ook met die gelowige. Hoe groter jou bewustheid van die wederkomswolk wat kom, hoe haastiger lewe jy om die wil van God te doen.

Net so moet ons wat die wederkomswolk verwag, ons haas om in God se teenwoordigheid te kom. Vir die gelowige is die wederkomswolk soos reënwolke, gevul met God se seëninge en uitkoms.

Maar vir die ongelowige is die wederkomswolk egter soos haelwolke vol van Goddelike oordeel en bedreiging. Hael vernietig alles. So sal met die eindoordeel alles vernietig word waarop die mens tot dusver peil getrek het. Dit sal die skoonmaakproses wees van alles wat sleg en boos is.

Daarom leef ons in die tussen-tydperk tussen die wolke. Daarom moet ons Geesvervuld tussen die wolke leef. Biddend moet ons wag op die wederkomswolk wat ons meeneem op Christus se triomftog.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Extra Nos: Genade van elders, buite myself

SKRIFLESING: Johannes 3: 1 – 21

Geestelike lewe of spirituele lewe of geestelike ontwaking kom nie uit myself nie. Geestelike lewe is soos die geboorte van ’n baba. Die baba is passief en die moeder doen al die werk.

’n Geboorte is altyd ’n pynlike proses. Die moeder is aktief betrokke in die geboorteproses en die vroedvrou of dokter staan haar by.

Die baba self is heeltemal passief. Die geboorte is ook ’n vreugdevolle gebeurtenis.

Nuwe lewe word gebring. In ons gelese gedeelte vergelyk Jesus die wedergeboorte met ’n geboorte. Nie ’n geboorte van onder (jou eerste geboorte) nie, maar as ’n geboorte van bo (onder leiding van die Heilige Gees).

Ons is die nuwe geestelike baba en ons word uit God gebore, met die Heilige Gees as die vroedvrou wat die geboorte laat plaasvind. Sonder die wedergeboorte, die tweede geboorte of die een van bo, kan geen mens God sien nie.

Dit is wat Jesus probeer verduidelik aan Nikodemus in die nag toe hy na Jesus gesluip het, dat niemand moet weet van sy gesprek met Jesus nie.

Jesus verduidelik dat die nuwe geboorte deur die Gees as vroedvrou en met water (bedoelende die totale reinigingswerk van Jesus) moet plaasvind. Daarom is jou redding altyd buite jouself. Jy sal nooit redding vind binne jou eie storie nie. Jou storie moet altyd invloei in die storie van Jesus Christus se geboorte, kruisiging en opstanding. Die verlossing lê met ander woorde buite jouself (EXTRA NOS).

Deur die inspirasie van die Gees word nuwe geestelike lewe gebore. Die Gees is altyd aktief werksaam.

Soos die wind, kan jy die Gees nie met jou eie oë sien nie, maar jy kan sien wat die Gees doen. Die Gees bring verandering, genesing en heling. Die Gees bewerk die nuwe geestelike geboorte van die mens. Juis daarom moet ons altyd onder die leiding van die Gees lewe.

Die Gees laat jou kontemplatief leef. Ek het êrens die volgende werkende definisie van kontemplasie nagelees: “Kontemplasie begin daar waar ’n mens in intense liefde jou gedagtes op God rig. Die materiële, aardse dinge word onbelangrik. Jy leef daarby verby. ’n Mens besef ook jy kan nie meer op jou eie bestaan nie. Jy verlang na die goddelike, na dit wat groter as jyself is.”

Nikodemus se vraag kom uit sy eie verwardheid hoe ’n mens gered moet word.  Nikodemus was ’n vooraanstaande Joodse Fariseër met ’n Griekse naam en daarom het hy ’n bepaalde status in die gemeenskap geniet. Tog was hy verward. Kom die verlossing vanuit jouself, jou goeie lewe en die onderhouding van die Torah? Wat moet ek doen om gered te word? Nikodemus het toe nog nie gesnap dat jou verlossing van buite jouself kom nie.

Jou verlossing kan jy net anker in Jesus Christus. Daarom sal ’n skeepskaptein altyd as ’n storm woed en daar onsekerheid is oor die veiligheid van die boot en bemanning, die anker uitgooi na buite, weg van die skip in die diep blou water.

So moet ons onsself ook veranker in Jesus Christus wat altyd dieselfde is en bly. Wie sy sekerheid soek in homself, sy bekering of sy geloof sal altyd soos Nikodemus onseker wees. Geloofsekerheid is om seker te wees van die “OBJEK” van jou geloof, naamlik Jesus Christus. Jou verlossing moet jy altyd vasmaak aan Iemand buite jouself – die Christus, ons Verlosser.

Johannes gebruik die voorbeeld van die koperslang op die paal in verse 14 – 15 as voorbeeld van hoe die verlossing werk. Die verhaal in die Ou Testament gaan so: Die volk Israel was in die woestyn soos gewoonlik weer ongehoorsaam aan God. Die Here stuur toe ’n plaag slange die laer in en oral word mense dood gepik. Orals krioel slange uit.

Die volksleiers gaan na Moses toe en vra hom om vir hulle in te tree by God. Moses praat met God en die Here gee opdrag dat ’n koperslang gemaak moes word en op ’n paal gesit moes word reg in die middel van die laer. Elkeen wat gepik word, moes dan net na die koperslang op die paal kyk en dan sou jy nie sterf nie. Sommige het die storie nie geglo nie en het gesterf. Ander het gedoen soos Moses beveel het en is genees van die slangbyt.

Die slang op die paal is ’n vooruitverwysing na Christus wat verheerlik sou word op ’n paal, ’n kruishout, sodat elkeen wat in Hom glo nooit verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (vers 16). Met ander woorde, die verlossing kom nie van onder, van jou eie menslike werk nie, maar van bo, vanuit God geïnspireer

Martin Luther het ons opnuut met sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg, die kerk van alle tye, daaraan herinner dat verlossing buite jouself lê. Christus se geregtigheid het ons geregtigheid geword. Hy het dit daarteen gehad dat mense met die aflaatstelsel of goeie werke probeer opklim na God se guns toe. Nee, God het in Jesus Christus afgeklim na ons en ons enkel alleen uit GENADE gered, sonder enige bydrae van ons kant af.

So bewerk God deur sy Gees die wedergeboorte in die lewens van mense wat selfs dikwels nie eers daarvoor vra nie. God se Gees kan werk deur ’n ligte briesie, deur ’n ligte wind of sterk wind of selfs deur ’n orkaan of tornado. God werk met elke mens verskillend. Daarom moet ek elke dag die werking van die Gees soek in my lewe en dit plot en dan sal ek ervaar dat God werk in goeie en slegte tye. Hy laat alles tot my beswil meewerk.

Soos wat ’n mens ’n groot wêreldkaart of streekskaart ophang en met duimspykers aandui waar jy oral was, kan ’n mens God ook “merk” in elke detail van jou lewe. Oral langs my lewensweg het die Heilige Gees vir God teenwoordig kom maak in my lewe.

Soms kan ons egter aan geestelike atrofie lei. Atrofie kan byvoorbeeld voorkom wanneer jou arm lank in gips was en die dokter die gips afhaal, jou hand baie swak is, omdat die spiere nie oefeninge gekry het nie. Mense kan die werking van die Gees teenstaan en aan geestelike atrofie lei – hulle sien met ander woorde nie meer vir God in hulle lewe raak nie. Hulle ervaar nie meer die vars bries van die Heilige Gees nie. Daarom, soos wat koringare oorgee aan die beweging van die wind, moet ons onsself ook oorgee aan die beweging van die Gees. Ons moet as’t ware saam met die Gees (wind) dans.

Johan Cilliers verwys na die bekende skilder Matthias Grünewald se aangrypende skildery op die altaar in die kloosterhospitaal van Isenheim van Johannes die Doper. Hande speel ’n belangrike rol in die skildery. Daar is die biddende hande van Maria Magdalena en Maria, asook die hande van Johannes die Evangelis wat Maria vashou; die groteske verwronge hande van die Gekruisigde Jesus en dan sentraal die prominente wysvinger van Johannes die Doper wat na Jesus wys as die Seun van God; en met sy ander hand hou hy ’n Bybelperkament vas. Johannes die Doper se hele wese sit in die wysvinger: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. So moet ons hele wese ook daarop gerig wees dat ons verlossing buite onsself is en daarom slegs in Christus Jesus gevind kan word.

In Strydenburg het ek eenmaal ’n baie ou arm bruinman besoek wat op sterwe gelê het. Sy huis was net ’n kamer, ’n leë kamer met geen meubels nie en ’n grondvloer. Hy het op ’n ou verflenterde kombers gelê, in die hitte van die stryd met die dood gewikkel. Ek buig toe af na hom en vra of sy saak met die Here reg is. In ’n doodsroggeling tel hy sy een hand met ’n groot gesukkel en met moeite op en wys na iets agter my teen die muur. Hy het geroggel : “Daai man …” Toe ek omkyk, sien ek ’n eenvoudige afdruk van Jesus aan die kruis.

Verseker was die man se saak met God reg, want hy het weggewys van homself na dié Christus van die Bybel. ’n Paar ure later het hy gesterf. Verseker was hy veranker in die werk van Christus. Godsalig het hy gesterf, in die hande van die Here. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om ‘n streep te trek

SKRIFLESING: Daniël 1: 1 – 21

By wyse van beeldspraak, leef ons in die stad Babilon. Babilon in ons gelese gedeelte was ’n moderne wêreldstad, beheer deur die Galdeërs. Dit was in sy tyd ’n moderne wêreldstad wat die wêreld beheer het. Die wêreld het in ons tyd ’n global village geword, wat beheer word deur die inligtingstegnologie, geldmarkte, ekonomiese stelsels, die politiek, wêreldmagte en die moderne afgode van ons tyd. Ons leef as’t ware in ’n nuwe Babilon. Ons is as’t ware reisigers tussen “Babilon” en die “nuwe Jerusalem”, waarvan Openbaring praat.

Ons lees in die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadneser van Babilon opgetrek en Jerusalem beleër.  Jerusalem is verslaan en van die tempelgereedskap is na die heidense tempel in Sinar gevat. Baie Jode is ook gevange geneem om in diens van die Galdeërs en Nebukadneser te staan. Nebukadneser het vir Aspenas, die hoofpaleisbeampte opdrag gegee om jongmanne sonder liggaamsgebrek uit te kies, uit koninklike geslag en vername families. Faktore soos aantreklikheid, kennis, verstandigheid en bekwaamheid sou ook ’n groot rol speel in die keuse. Hierdie jongmanne moes opgelei word in die Galdeërs se taal en skrif, sodat hulle na drie jaar in diens kon tree van koning Nebukadneser van Babilon.

In die moderne Babilon waarbinne ons leef tel dié faktore ook. Jou afkoms, jou vername familie, ’n mooi voorkoms, kennis, bekwaamheid en verstandigheid is jou leer om te klim in die stad Babilon.      

Onder hierdie Judeërs was onder andere vier besondere jongmanne, wat naby aan die Here gelewe het, naamlik Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Die hoofpaleisbeampte het sonder dat hulle ’n keuse gehad het, hulle name verander na dié van afgode. Die naam Daniël wat beteken “my God is Regter”, is vervang met Beltsasar, wat beteken dat die afgod Bel die koning se lewe moet beskerm. Hananja, wat beteken “die Here het gewys dat Hy genadig is”,  is verander in Sadrag, “dienaar van Mardoek”, die hoofgod van Babel. Misael, wat beteken “Wie is wat God is?”, is verander na Mesag, met die betekenis “Wie is soos die god Agu?”. Asarja, wat beteken “die Here help”, is verander na Abednego, “dienaar van Nego”. Al vier het dus die name van afgode gekry.

Tog beskryf die boek Daniël hulle nie by hulle nuwe name nie, maar hou by hulle verbondsname. Die vier jongmanne het geen keuse gehad waar hulle bly of wat hulle geleer word nie, maar hulle het ’n radikale keuse uitgeoefen oor wat hulle eet. Die koning het opdrag gegee dat hulle elke dag van die koning se kos moes eet. Maar hierdie koningskos en wyn was aan die afgode gewy. Hier het hulle ’n definitiewe streep getrek. Hulle sou hulself nie verontreinig met kos en wyn wat aan afgode gewy is nie. Daarom het hulle vir die hoofpaleisamptenaar gevra om vir tien dae te eksperimenteer en hulle net groente en water te gee. Dan lees ons na tien dae was hulle voorkoms beter as dié van al die ander jongmanne. Hulle is toe vir drie jaar toegelaat om net groente en water te nuttig.

Die vier jongmanne het die geweldig ingewikkelde Babiloniese spykerskrif met sy 600 tekens en die rekenkunde van die 60-tallige stelsel bemeester. Hulle het hulself onderskei in alles van die heidense wêreld, behalwe om hulle geloof prys te gee. Hulle was standvastig in hulle geloof.

Toe hulle na drie jaar voor die koning gebring is, het die koning niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hierdie vier jongmanne het in die heidense agtergrond van die wêreldstad Babilon gewoon, maar hulle het ’n streep getrek as dit kom by geloofsake en die streep nie oorskry nie. Daarom het koning Nebukadneser hulle in sy diens gestel en hulle was tien keer beter as die towenaars en voorspellers in sy koninkryk.

Daniël het deurgaans ’n streep getrek wanneer dit by geloofsake kom. In koning Darius se tyd was sy goewerneurs-generaal op Daniël se vermoëns jaloers en hulle het  die koning ’n dekreet laat uitvaardig dat niemand vir 30 dae enige god of mens mag aanbid behalwe vir koning Darius nie.  Daniël het egter getrou gebly en nog steeds drie maal per dag tot die Here gebid. Hulle het hom betrap in sy huis waar hy die Here aanbid het. Teen die koning se sin is hy in die leeukuil gegooi, vol honger leeus. Maar die Here het die bekke van die leeus gesluit.

Ook Sadrag, Mesag en Abednego het altyd ’n streep getrek as dit by geloofsake kom. Toe koning Nebukadneser in Daniël 3 ’n goue beeld van 30 meter hoog en 3 meter breed laat oprig het in die provinsie Babel, het hy almal beveel om voor die beeld te buig. Sadrag, Mesag en Abednego het egter geweier. Hulle het ’n streep getrek in die grond. Hulle is toe verkla en voor Nebukadneser gebring. Hulle is in ’n brandende oond gegooi. Maar toe sien Nebukadneser dat daar ’n vierde wese in die oond is, wat soos ’n hemelwese lyk. Hy het Sadrag, Mesag en Abednego uit die oond laat kom en hulle hare was nie eens geskroei nie. Hulle het nie eens na brand geruik nie. Toe was die koning al drie goedgesind en het hy die Here erken.  

In die heidense wêreld waarin ons lewe word ons ook elke dag uitgedaag om strepe te trek van tot sover sal ons gaan, maar nie verder nie. Net soos wat Josef ’n streep getrek het en geweier het om met Potifar se vrou in die bed te klim. Of soos Dawid ’n streep getrek het en nie vir Saul (die gesalfde van die Here) doodgemaak het in die grot nie.

In ons ekonomie moet ons ’n streep trek om mense nie finansieel uit te buit nie. Ons mag nie skelm en gierig wees nie. Wanneer ek met ander mense se geld werk, moet ek ’n streep trek en nie korrup te wees nie.

In ons huweliks- en verhoudingslewe moet ons ’n streep trek, deur getrou aan mekaar te bly ten spyte van versoekings.

Wanneer dit by seksuele sake kom, moet ons die streep trek en dit binne die veiligheid en geborgenheid van die huwelik geniet.

In ons beroepslewe moet ons ’n streep trek, deur nie op ander mense jaloers te wees nie.

Wanneer ek wyn gebruik, moet ek my streep trek waar ek betyds ophou.

Wanneer ek grappe maak, moet ek my streep trek deur nie vuil grappe of rassistiese of seksistiese grappe te vertel nie.

Wanneer ek my taal gebruik, moet ek altyd ’n streep te trek deur my woordeskat nie te bevlek met vloekwoorde of growwe taal nie.

Wanneer ek in ’n magsposisie is, moet ek ’n streep te trek deur nie my magte te oorskry nie.

Wanneer ek ’n voertuig bestuur, moet ek ’n streep trek deur die verkeerswet te gehoorsaam.

Wanneer ek politiek praat, moet ek ’n streep trek deur nie van ander mense of volkere karikature te maak nie.

Wanneer ek ’n film kyk, moet ek ’n streep trek deur die regte goed te kyk.

Ek moet in etiese sake altyd ’n streep te trek tussen wat reg en verkeerd is.

Wanneer jy strepe kan trek, besit jy eers ware wysheid. Wysheid is om strepe te kan trek en nie daaroor te beweeg nie. Somtyds werk jy in ’n heidense omgewing met ’n baas wat op jou vloek en skel. Dan kan jy nog steeds in ’n heidense omgewing jouself onderskei, maar jy moet altyd standvastig wees in die doen van die wil van die Here.

Die wêreld ken nie strepe en grense nie. Chaos ken nie strepe en grense nie. Maar God se kinders is veilig, want hulle trek vir hulle strepe, volgens God se wil.

Daarom word hulle uit die leeukuil en die vuuroond gered. Daarom kan hulle hulself onderskei in die heidense wêreldstad van Babilon. 

Daarom moet ons onsself ook onderskei in die moderne en sekulêre wêreld van 2025.     

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die Koninkryk van God gaan nie oor die “WOW” nie

SKRIFLESING: Mat 13: 31 – 33, 44 – 52

Ons leef in ’n “WOW”-samelewing. Alles moet groter, beter en meer aanskoulik wees, sodat mense die “WOW”-ervaring kan hê. Daarom is daar so baie kompetisie in die samelewing.

Die versoeking is groot om ook net die “WOW”-ervarings in godsdiens na te jaag. Groot indrukwekkende eredienste met charismatiese predikers in groot massa-byeenkomste word die norm van sukses.

Baie gelowiges val voor die versoeking dat God net teenwoordig is by die groot byeenkomste. Hulle sal honderde kilometers ry om dit by te woon, maar sal nie ’n paar kilometers ry na die plaaslike erediens nie. Net wat “groot” is, sal hulle najaag.

Dit bring ’n mens ook by die sogenaamde welvaartsteologie, waar mense aanbid om ryklik en groot deur God geseën te word. Hulle glo as jy sukkel in die lewe is dit omdat jou geloof nie groot genoeg is nie. As jy egter suksesvol is, is dit omdat jy reg glo. Al bogenoemde is so ver van die waarheid soos wat die Ooste van die Weste af is.

In Mat 13 kry ’n mens die sogenaamde Koninkryk gelykenisse, waar Jesus Christus deur gelykenisse verduidelik hoe Sy Koninkryk is. In ons gelese gelykenisse is daar drie pare gelykenisse wat as volg ingedeel is.

  1. Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg verduidelik dat God se Koninkryk ’n onbenullige begin het.
  2. Die gelykenis van die verborge skat en pêrel verduidelik dat God se Koninkryk groot waarde het.
  3. Die gelykenis van die visnet en onkruid verduidelik die huidige openheid van God se Koninkryk, sowel as die eindoordeel.

Ons kom by die eerste paar gelykenisse:

1.) Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg verduidelik dat God se Koninkryk ’n onbenullige begin het.

Soos die mosterdsaad ’n baie klein saadjie is en later ’n groot struik word, so begin God se Koninkryk nederig en beskeie. Jesus is in ’n krip gebore, het op ’n donkie gery en het soos ’n misdadiger aan ’n kruis gesterf. Daar was niks groots en opspraakwekkends in Sy lewe nie. Maar deur Sy nederige lewe en sterwe het Hy die hele wêreld gered en beïnvloed sodat Sy Koninkryk groot geword het en mense oraloor die wêreld Sy naam prys en eer. Die eens magtige Romeinse Ryk wat in Jesus se tyd bestaan het, word nog slegs beskrywe in die geskiedenis en kan net gesien word in die ruïnes. Daarteenoor is Jesus se Koninkryk dinamies groeiend. Die voëls van die hemel wat in die mosterdplant nes maak, is simbool van die nasies van die aarde wat hul rus en verlossing in Christus Jesus vind. ’n Nederige begin, maar ’n grootse groei.

Die gelykenis van die suurdeeg het dieselfde strekking. Gewoonlik is ’n stuk deeg van die vorige baksel gebruik om die nuwe baksel in te suur. Die suurdeeg werk onopsigtelik en laat die deeg rys om ’n brood te maak. Net so werk God deur Sy Gees onopsigtelik in die lewens van mense en verander hulle van binne-af. So moet die gelowiges deur hulle dade en lewe soos die werking van suurdeeg ander mense se lewens beïnvloed en verander. Suurdeeg werk net wanneer dit gemeng word met die deeg. Net so moet ons in die wêreld leef, sodat ons die wêreld kan deursuur met ons Christelike getuienis. Die mosterdsaadjie en die suurdeeg het ’n nederige begin, maar bring groot verandering. So werk God ook deur die klein en onbelangrike aktiwiteite om ander mense se lewens te verander. Wat kan minder aandag trek as ’n klein kerkie in ’n klein dorpie, of ’n tent met ’n grondvloer of ’n Sondagskoolklas, of iemand wat ’n ander mens nederig help in die geheim? God werk waar een mens met ’n ander vriendelik is of waar ’n persoon sy vyand vergewe of iemand ’n sieke se hand vashou of vir ’n sterwende ’n bietjie water aangee. God werk in die geborgenheid, waar iemand in die geheim getuig en goed doen aan ’n ander. Goed wat in die geheimenis gedoen word het dikwels meer trefkrag as ’n byeenkoms van duisende mense. God se Koninkryk kom dikwels sonder die geskal van trompette en massiewe byeenkomste. God se Koninkryk groei dikwels ónder die radar van mense.

Dan volg die tweede paar gelykenisse.

2.) Die gelykenis van die verborge skat en pêrel verduidelik dat God se Koninkryk groot waarde het.

Die Koninkryk van die hemel is ook soos ’n man wat ’n skat ontdek, dit toegooi en alles verkoop om daardie stuk grond te koop. Hy wil die skat nie verkoop nie, maar behou ter wille van die vreugde om dit te besit. In die antieke tyd is kosbaarhede dikwels begrawe, sodat dit nie gesteel kan word nie. So moet die Koninkryk van God ook vreugde bring, wat gebêre moet word in ons harte, sodat niemand dit kan steel nie.

Die daaropvolgende gelykenis vertel van ’n pêrel wat deur iemand gevind word. Die persoon verkoop alles om die pêrel te koop vir die vreugde om dit te besit. As jy die Koninkryk van God gesoek het of as jy dit toevallig ontdek het, is die waarde so groot dat dit vir jou vreugde bring wat jou hele lewe verander. Soos Paulus in Fil 3: 7 sê: “ … wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus”. Vreugde, en nie plig, moet ’n mens tot beweging bring in God se Koninkryk. Roep mense op tot lewensvreugde en mense sal reageer op die roepstem van die Koninkryk van God.

3.) Die gelykenis van die visnet en onkruid verduidelik die huidige openheid van God se Koninkryk, sowel as die eindoordeel.

Die volgende paar gelykenisse is oor ’n visnet en onkruid.

’n Visnet was ongeveer 250 tot 300 meter lank en tot 8 meter breed. Die net se net-openinge was baie klein en het alle visse gevang. Daar was rein en onrein visse met elke vangslag wanneer die net ingetrek word.

Die vangs was groot, maar alles was nie eetbaar nie. Volgens Levitiese wetgewing in Lev. 11: 9 – 12 was sommige visse onrein, veral die wat geen skubbe en vinne gehad het nie. In die meer van Galilea was ten minste 24 spesies wat as onrein beskou is. So sal God in Sy Koninkryk meng met slegte en goeie mense. Daarom het Jesus saam met die sondaars en tollenaars en slegte mense geëet en gekuier. Hy het sy net wyd ingegooi, sodat sondaars ook tot bekering kon kom. So het hy vir Saggéüs ook in Sy vangnet gehad en hom verander in ’n kind van God. God se Koninkryk is nou oop vir almal, maar eendag met die oordeelsdag sal die engele kom en die slegte en die goeie visse van mekaar skei. Nou is dit nog genadetyd, die net moet wyd gegooi word sodat die wêreld gered kan word. Maar met die oordeelsdag sal Christus ’n onderskeid maak tussen die ware en valse kerk. Die ware kerk het Christus as hul enigste skat, maar die valse kerk leef sonder Christus as enigste bate. Daarom het God se Koninkryk ook ’n sekere dringendheid, naamlik dat die net eendag ingetrek kan word. Net so is dit ook met die gelykenis van die onkruid. Die koring sal in God se skuur bymekaar gemaak word, maar die onkruid sal verbrand word.

Die drie pare Koninkryk gelykenisse word afgesluit met die beeld van die huiseienaar wat uit sy spens nuwe en ou dinge ter voorskyn bring. Hierdie beeld het as agtergrond die pa van die huis wat die spens en voorraadkamer beheer. Net so moet die dissipels en die kerk uit God se voorraadkamer die ou dinge (Ou Testament) en die nuwe dinge (Christus se nuwe interpretasies) leer.

God se Koninkryk is nie op “WOW”-ervaringe alleen gebou nie. God kan Sy Koninkryk ook bou met ’n erediens op die platteland, waar daar nie baie lidmate in die erediens is nie, soos in Adelaide en Fort Beaufort. God werk nie met getalle in die erediens nie, maar kan eerder gesien word waar kerkgangers hulle lewens verander, om al meer te lyk na Christus Jesus se lewe. God kan Sy Koninkryk laat kom deur die klein en onbenullige liefdesdiens wat ons verrig of deur die eenvoudigste samekoms van God se kinders, al is hulle nie baie nie. Grootheid, aansien en dinamiese vergrype van die Evangelie kan soms die Evangelie meer skade bring as die eenvoud van die opregte hart van die gelowige wat God dien en God se naam eer. God het nie in grootheid gekom nie, maar in nederigheid. Nederigheid is die “kompos” van die mosterdsaad waarbinne God se Koninkryk kom. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God fluister deur die gebroke wêreld

SKRIFLESING: Luk 24:36-48

Wanneer dit té goed gaan met die mens kom daar dikwels verwydering tussen mens en God en tussen mense onder mekaar. Dit sien ons maar te gereeld in verhoudinge. Wanneer dit goed gaan op ’n plattelandse dorp kan mense dikwels naywerig en jaloers op mekaar raak. ’n Dorp kan dan “clicks” hê en mense kan onder mekaar skinder.

Maar sodra daar swaarkry en verwondheid kom in iemand se lewe op die dorp, staan die dorp soos een man saam om te help. Dit is dikwels krisisse en siekte wat mense weer bymekaar bring.  Dikwels word gesê: “ons kan lekker onder mekaar baklei, maar as daar swaarkry is, staan ons bymekaar.” Verwondheid bring mense nader aan mekaar. Verwondheid bring mense nader aan God.

Jesus het geloof geskep deur sy verwondheid. Ons lees dat toe Jesus aan die dissipels verskyn het en hulle bang was dat Hy ’n spook is, het Hy vir hulle sy wonde gewys en hulle het verwondering en blydskap beleef. In Jesus se verwondheid het hulle Hom herken as die gekruisigde. Skielik het alles vir hulle sin gemaak. Nou glo hulle in Sy opstanding.

Daar is ’n Japannese kunsvorm om gebreekte potteware nie weg te gooi nie, maar om dit te herstel deur die krake met goud te vul en so weer die pot of erdewarestuk te heel. Jy noem die kunsvorm “kintsugi”. Die pot lyk dan mooier en is sterker as voorheen.

Die volgende aanhaling vertel vir ons meer van “Kintsugi”: “Dit is Japannese kuns om gebreekte erdewerk te herstel met lak gemeng met poeiergoud, silwer of platinum. In plaas daarvan om die krake weg te steek, beklemtoon hierdie tegniek hulle en verander die gebrokenheid in iets moois en waardevol. Benewens sy fisiese toepassing dra “kintsugi” ’n diep filosofiese betekenis – dit omhels onvolmaaktheid en sien gebreektheid as deel van ’n voorwerp se geskiedenis eerder as iets om te vermom. Baie mense vind inspirasie in “kintsugi” as ’n metafoor vir veerkragtigheid, genesing en die vind van skoonheid in die lewe se letsels.”

Met Jesus se eie verwondheid het Hy ons krake kom vul om ons mooier en sterker te maak. Wie toelaat dat Jesus se teenwoordigheid in die krake van sy of haar lewe kom, sal weer heelheid en sterkte beleef.

Wanneer gelowiges hulle verwondheid met mekaar deel, skep dit gemeenskap tussen gelowiges.

In die Nagmaal openbaar Jesus Sy gebreekte liggaam en Sy gestorte bloed en Hy kom skep daardeur die gemeenskap van gelowiges. Jesus het sy gebreektheid kom wys. Hy het Sy “menslike natuur”, met al die broosheid wat daarmee saamgaan, vir ons kom wys met sy menswording. Om mekaar jou verwondheid te wys, kan maak dat mense nader aan mekaar kom. Mense identifiseer eers met jou wanneer jy jou swakhede, jou krake, jou menslikheid met hulle deel. Dan deel hulle gewoonlik ook met jou. Henri Nouwen het gesê: “The only feelings that do not heal are the ones you hide.” Maar wanneer jy jou sterkte en prestasies voorhou, skep jy afstand.   

Leonard Cohen het ’n pragtige lied gesing wat ’n wêreldtreffer was. Die refrein klink so:

 “Ring the bells that still can ring

Forget your perfect offering

There is a crack, a crack in everything

That’s how the light gets in”

So is niemand van ons se lewe perfek nie. Daar is ’n kraak in alles. Daar is krake en krakies in elke mens se lewe. Ons is nie daar om mekaar daaroor te oordeel nie. Ons elkeen het wonde en gewondheid. Die wonder daarvan is egter dat God ons gewondheid wil gebruik om ander se wonde te heel. Deur ons krake wil God Sy lig laat skyn in ons. Om God se lig en liefde te ervaar, moet ons eers die krake in ons eie lewe erken en daaroor eerlik wees.

As jy nie ’n gekraakte erdepot is nie, kan God se lig nie in jou lewe inskyn nie. Dan sal jy lewe in die donkerte van jou eie bedompige, donker siel.

Henry Nouwen, wêreldbekende Rooms- Katolieke priester en akademikus, het onder andere die bekende boek geskryf: “The wounded healer.” In die boek onderstreep Nouwen dat ons ons wonde moet gebruik om ander te help om genees te word van hulle wonde. Gedeelde verwondheid is gedeelde pyn. Wie saam pyn ervaar, ervaar saam ook verligting. Wat gedeel word, is ligter.

Hoor wat skryf Nouwen: Niemand ontsnap daaraan om gewond te word nie. Ons is almal gewonde mense, of dit nou fisies, emosioneel of geestelik  is. Die hoofvraag is nie: ‘Hoe kan ons ons wonde wegsteek?’ sodat ons nie verleë hoef te wees nie, maar: ‘Hoe kan ons ons verwonding in diens van ander stel?’ Wanneer ons wonde ophou om ’n bron van skaamte te wees, en ’n bron van genesing word, het ons gewonde genesers geword.”

Verder skryf Henri Nouwen: Medelye vra ons om te gaan waar dit seermaak, om die plekke van pyn binne te gaan, om te deel in gebrokenheid, vrees, verwarring en angs. Medelye daag ons uit om uit te roep saam met diegene in ellende, om te treur saam met diegene wat eensaam is, om te ween saam met diegene in trane. Medelye vereis dat ons swak is saam met die swakkes, kwesbaar saam met die kwesbares, en magteloos saam met die magteloses. Medelye beteken volle onderdompeling in die toestand van menswees.”

Treffend som Henri Nouwen sy boek op met die volgende opmerking: “The main question is not, how can we hide our wounds…but how can we put our woundedness in service to others.”

In Jeremia, lees ons van die pottebakker en die klei. God is die pottebakker en Israel is die klei. Ten spyte daarvan dat Israel dikwels misluk, ineenstort en krake het, gooi God nie die klei weg nie. Hy knie weer die klei en maak ’n nuwe voorwerp op die pottebakkerswiel. So gooi die Here ons nie weg, wanneer ons misluk nie. Op die pottebakkerswiel vorm hy ons weer tot voorwerpe van Sy genade.

Ons word met ons eie “wonde” die  geloofwaardige getuies van ons verlossing. Soos wat Jesus met sy wonde verlossing gebring het, is ons wonde die getuies van ons eie verlossing. Ons kan ons wonde voorhou as voorbeelde  waaruit God ons verlos en vir ons nuwe skoonheid en krag gee.

Ons wonde word Evangelieverkondiging. Want vanuit ons wonde het God ons gered deur Jesus se wonde om verlostes te wees. Skielik maak ons wonde sin teen die groter prentjie van verlossing.

Ek hoor God in die wonde van hierdie wêreld fluister.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die Krag van Fokus in Lewensangs

SKRIFLESING: Matt 14:22-33

Lewensangs is deel van elke mens se lewe. In ons gelese gedeelte is die dissipels vasgevang tussen ’n storm op see en ’n spook wat op die water loop. As’t ware het hulle ’n dubbele lewensangs. Daarom gaan vanoggend se preek oor lewensangs.

Die skopus is: Tussen Angs en Sekerheid

Die preek kan in drie dele verdeel word:

Pars 1: Lewensangs vra Wonderwerke

Pars 2: Geloof vra Dapperheid

Pars 3: Vaste Sekerheid vra Fokus

Laat ons kom by die eerste deel:

Pars 1: Lewensangs vra Wonderwerke

Daar is ’n spreekwoord wat lui: “Nood leer bid.”  Hoe waar is dit nie. Die meeste gebede wat God bereik, is verseker noodgebede. Wanneer dit goed gaan, is gebed vir die meeste mense net ’n inspanning. Maar wanneer die nood op sy hoogste is, bid selfs die ateïs. Lewensangs kan verskillende vorme aanneem.  Dit kan finansiële nood wees,  of siektenood, of wanneer jou lewensbestaan bedreig word. Jy het angs oor jou kind wat op pad is per voertuig en of jou kind gelukkig is en of daar genoeg fondse sal wees om jou kind te laat leer. Jy kan angs hê oor jou huwelik wat deur diep waters gaan. Jy kan angs hê oor werksekerheid of oor jou aansoek om nuwe werk. Jy kan angs hê of daar genoeg geld sal wees as jy aftree. Ons leef dikwels van een angsmoment na die volgende. In die wonderverhaal van die storm op die see was dit nie anders nie.

Die dissipels was ’n hele paar kilometer van die kus af toe die storm losbars en die boot gevaar staan om te sink. Jesus was nie in die boot nie. ’n Mens kan jou net indink in die angs wat die dissipels ervaar het. Toe sien hulle ’n mens aangeloop kom op die water. Dit is natuurlik onmoontlik en onmiddelik dink hulle dit is ’n spook. Hulle angsvlakke het nou hemelhoog gestyg.

Wanneer Jesus hulle gerus stel en sê hulle moenie bang wees nie, vra Petrus ’n wonderwerk. Hy wil op die water na Jesus loop om seker te maak dit is Jesus. Jesus sê vir hom:  “Kom”. Petrus kry dit toe reg om op die water te loop. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het hy begin sink. Dan hoor ons sy noodgebed: “ Here, red my!” Lewensangs vra altyd ’n wonderwerk. Dit is net menslik. Nood leer bid.

Dit bring ons by die tweede gedeelte van die preek.

Pars 2: Geloof vra Dapperheid

Geloof is altyd ’n sprong in die donker. Geloof is altyd ’n waagstuk. Geloof vra dapperheid en geloofsvertroue. Toe Petrus die boot verlaat het, het hy homself roekeloos op die Here verlaat. Die Kategismus lui: “Geloof = Kennis + vertroue.” Petrus het ’n sekere kennis en ervaring van die Here gehad en daarom kon hy  Jesus roekeloos en dapper volg en op die water loop na Jesus.

Abraham, Isak en Jakob word nie verniet as geloofshelde voorgehou nie. Hulle het ook roekeloos, sonder om die uitkoms te sien, hulself op die Here verlaat. Abraham het uit Ur van die Galdeërs getrek op pad na ’n beloofde land wat hy nie eers in sy lewe kon ervaar het nie. Hy het blindelings en dapper die opdrag van die Here gehoorsaam. Abraham was roekeloos bereid om sy enigste seun Isak te offer op ’n berg in Moria. Op die laaste nippertjie het die Here ’n offerdier voorsien. In Heb 11 word ’n lang lys van geloofshelde genoem wat dit in dapperheid met God gewaag het in ’n onsekere toekoms in. Dink aan Noag, Moses, Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.

Alle onsekerheid bring angs en daarom vra alle onsekerheid ’n dapper geloof. Daarom roep die Here vir ons ook op om Hom dapper te volg, wanneer ons geen kaart en transportakte van die toekoms het nie. Geloof is om vas te hou aan die dinge wat ons nie kan sien nie. (Heb11:1)

In een van die museums in London is ’n baie interessante maritieme kaart, met die datering van 1525. Die kaart is ’n primitiewe voorstelling van die Nood-Amerikaanse en  aangrensende kuslyn. Die kartograaf, of iemand na hom, het dit goedgedink om op bepaalde plekke op die kaart waar daar nog nie ontdekkingsreisigers was nie, waarskuwings te skryf soos: “Hier is reuse” of “Hier is vurige skerpioene” of  “Hier is drake.”

Wat die kaart egter merkwaardig maak, is die feit dat die Britse ontdekkingsreisiger Sir John Franklin dit in die vroeë 1800’s gebruik het of ten minste onder oë gehad het. Hy het die waarskuwings van sy voorganger met dik hale doodgetrek en met groot letters dwars oor die hele kaart geskryf: “Hier is God.”

Die toekoms is onbekend, onseker, ongekarteer, soms stormagtig en dit wil ons lewensbootjie dikwels omgooi. Maar dan is Jesus se uitnodiging: “Kom, Ek is hier.” Daarom kan ons dapper die ongekarteerde toekoms van ons lewe aandurf, met die uitroep: “God is hier!”

Dit bring ons by die derde deel van die preek.

Pars 3: Vaste Sekerheid vra Fokus

Toe Petrus na die sterk wind kyk en sy oë van die Here Jesus afhaal, het hy begin sink. Sy fokus het verskuif van Jesus na die omstandighede en hy het gesink. Daarom wil die gelese gedeelte ons aanmoedig om altyd ons oë op Jesus te hou. Daarom sê Heb 12:2 die volgende in verband met geloofshelde se fokus “….. die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof ….”

Wanneer ’n atleet aan ’n wedloop deelneem, is al sy fokus op die wenstreep. Hy mag nie omkyk of rondkyk of kyk waar sy teenstaanders is nie. Sy enigste fokus is die wenstreep. Petrus het sy fokus verloor en daarom het hy gesink. Daarom moet ons in ons lewensangste ook nie rondkyk na die grootte van ons probleem nie, maar altyd Jesus in die oog hou. Hy is die Voleinder van ons geloof.

Toe ek ’n jong seuntjie was, het ek aan my heel eerste atletiekbyeenkoms deelgeneem. Ek het goed gevaar en was onder die eerste drie posisies. Toe waai my pet af. In my spore draai ek toe om om my pet te gaan haal. Nodeloos om te sê, ek het erg laaste gekom. My fout was dat ek  my fokus van die wenpaal verskuif het na my pet. Daarom het ek verloor.

Daar word vertel dat kunstenaars wat op ’n styfgespande tou loop, dikwels ’n rooi lap of iets soortgelyks aan die einde van die tou vasmaak. Dan konsentreer hulle op die rooi lap en nie op die dieptes onder hulle nie. Met gefokusde aandag kan hulle dit dan regkry om oor die tou te loop.

Daarom roep Jakobus ons ook op in Jak 1:6-8 om nie te twyfel as ons bid nie. Die fokus van ons gebed moet Jesus Christus wees en nie twyfel nie. Wie twyfel, kan nie iets van God ontvang nie.

Lewensangste sal altyd met ons wees. Ons lewe as’t ware tussen angs en sekerheid. Maar as gelowiges kan ons die sekerheid van Jesus Christus omhels en weet dat Hy ’n Redder is uit elke lewensangs. Dan sal ons nie sink nie, maar veilig wees in die hande van onse Here Jesus Christus.                                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

SKAAKMAT

’n Groot teoloog het eenmaal opgemerk: “Al was Jesus ’n duisendmaal gebore in Betlehem en al het Hy ’n honderdmaal gesterf op Golgota, maar Hy het nie een keer opgestaan nie, was ons geloof tevergeefs.” Toe Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gehang en later gesterf het, het dit gelyk of die Satan gewen het. Dit het gelyk of Jesus verloor het.

Jare gelede in die beroemde Louvre Museum in Parys was daar ’n skildery met die titel ‘Skaakmat’. Dit het die Satan uitgebeeld wat smalend oor sy skaak-opponent uittroon, omdat hy sy opponent se siel gewen het. Die opponent word uitgebeeld as ’n jong man, sy kop gebuig in vernedering… hy is verslaan en verslae. Sy gesig is vertrek van pyn… en die Satan lag oorwinnend. Daar is ’n paar van die skaakstukkies oor op die skaakbord en die woord ‘Skaakmat’ staan oor die skildery geskryf.

’n Ouerige man stap eendag deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Hy het vir baie lank doodstil gestaan en die skildery bestudeer. Die volgende oomblik het die ou man lewe gekry en toe hard uitgeroep: “Dit is ’n leuen, dit is ’n leuen!”  

Die ander mense in die galery het dadelik na die ou man toe gestorm en kom kyk wat aangaan. Die kurator van die museum het ook gekom. Hy het dadelik vir die ou man gevra: “Meneer is hier ’n probleem, kan ek help?” “Ek is die Franse skaakkampioen en ek sê vir jou hierdie skildery is ’n leuen.”  Die man het na die skaakbord gewys en toe gesê: “Die skilder sal die skildery moet verander of die titel van die skildery. Kyk die spel is nie oor nie, dit is ’n leuen, die spel is nie klaar nie. Kyk die koning het nog ‘n skuif.”

DIE KONING HET NOG ’N SKUIF!

Daniël was in die leeukuil  — dit is ’n leuen —  maar die Koning het nog ’n skuif!

Lasarus is in die graf — dood — dit is ’n leuen —  maar die Koning het nog ’n skuif!

Die owerspelige vrou moet met klippe dood gegooi word — dit is ’n leuen — die Koning het nog ’n skuif!

Die rower aan die kruis moet sterf — dit is ’n leuen — vandag sal jy saam met My in die paradys wees. Die Koning het nog ’n skuif!

Mense skreeu oor die Lam van God: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” en later roep Hy uit: “ My God, my God waarom het U my verlaat?”

 Later sterf Hy en mense is verheug — dit is ’n leuen  Hy lewe! Hy lewe! Die graf is leeg. Die Koning het nog ’n skuif. (Uit:-Nutrimalaika Dagboek)

Maar wag, daar was nog ’n laaste skuif. Niemand het die skuif verwag nie. Die dissipels en die vroue het geglo dat Jesus weg is, dood is en nooit weer terugkom nie. Daarom het die vroue die Sondagoggend vroeg gegaan om sy liggaam te salf met olies. Hulle vind die groot steen weggerol en die graf leeg. Hulle het gedink  die tuinier het die liggaam verskuif. Hulle dink die dood het oorwin. Die bose het oorwin.

Dit lyk so asof die duiwel die uitklophou gegee het. Dit lyk asof Jesus verloor het teen die dood. Maar dan plaas die Here Jesus die duiwel in die SKAAKMAT-posisie. Die Here Jesus oorwin die dood, die bose en die duiwel. Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en Hy lewe. Hy verskyn aan die vroue, later aan die dissipels en nog later aan vele ander mense.

Dit was die gebruik om in die vroeë kerk die Paasdiens met ’n Paasgrap te begin  deur te spot met die dood en met die duiwel wat verslaan is.

Jesus se opstanding was moontlik, omdat Hy die perfekte Lam van God was. Op Goeie Vrydag,  toe Jesus gekruisig is, was duisende paaslammers geslag vir die pasga. Elkeen is deur die priesters ondersoek om seker te maak hulle is perfek. Terwyl die proses aan die gang was, is Jesus (as die Lam van God) ook ondersoek deur Pilatus. Drie keer het Pilatus verklaar dat hy geen skuld in die Man vind nie. Daarom word Hy die perfekte Lam van God genoem.

Die priesters het nooit die sondaarmense ondervra oor hulle sonde nie. Op grond van die paaslammers se perfeksie is hulle sonde weggeneem. Netso kyk God ook nie na ons sondaars se sonde nie, maar na die perfekte Lam van God wat geslag is. Toe Jesus in Sy sesde kruiswoord sê: “Tetelestai,  dit is volbring,” is ons regverdig verklaar. Omdat Jesus onskuldig gesterf het, kon Hy op die derde dag opstaan uit die dode en kon Jesus se onskuld ook ons onskuld word.

 Daarom staan daar in  Rom 4:25 die volgende: ‘Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.’ Na aanleiding van bogenoemde verduideliking van Pieter Scholtz, skryf hy verder: ‘Ons sondes het Sy dood tot gevolg gehad. Ons regverdigmaking het Sy opstanding tot gevolg gehad. Sy opstanding was die kwitansie van jou verlossing. Sy opstanding maak jou onskuld bekend.’

Geliefdes, u moet onthou, as Jesus net aan ’n kruis gesterf het en nie opgestaan het uit die dood nie, was ons sondes nie vergewe nie. Sy opstanding is die kwitansie dat die sonde en die dood oorwin is.

Jesus het die sonde en die dood oorwin. Maar ’n mens kan vra: as die Here dan die sonde oorwin het en ’n nuwe begin aangekondig het, hoekom is daar so baie geweld, ellende en swaar in die wêreld oor? Hoekom is daar oorlog in die Oekraïne?

Karl Barth kon aangrypend hieroor skryf : ‘Pase is die verkondiging van ’n oorwinning wat reeds behaal is. Die oorlog is verby. Daar is natuurlik nog hier en daar troepe wat aan die skiet is, maar dit is omdat hulle nog nie gehoor het van die oorgawe nie. Die spel is gewen, al kan die verloorder nog ’n paar skuiwe maak. In werklikheid is hy reeds in die skaakmatposisie. Die horlosie het afgeloop, al kan die pendulum nog ’n paar keer heen en weer swaai. Dit is in hierdie tussenperiode dat ons leef. Die oue het verbygegaan, kyk, alles het nuut geword. Die Paasboodskap sê vir ons vyande: die sonde, die vloek en die dood  is oorwin. Op die lange duur kan hulle geen onheil meer teen ons loods nie. Hulle tree wel nog op asof die spel nie beslis is nie, asof die oorlog nie reeds gewen is nie. Daarom moet ons met hulle rekening hou, maar wesenlik kan ons maar ophou om hulle te vrees.’

My ouma op Strydenburg het altyd hoenders aangehou vir eiers en slag. As klein seuntjie het ek altyd gesien hoe sy die slaghoenders se koppe afkap met ’n byl op ’n stomp hout. As die kop afgekap is, hol die hoender nog so sonder sy kop rond vir ’n kort rukkie. Ek het altyd aardig gevoel. Maar net so is dit met die duiwel. Hy is ’n afkophoender wat rondhardloop, maar eintlik is hy alreeds dood. Die duiwel is soos ’n afkopslang wat nog vir minute lank met sy lyf ’n doodsroggeling uitvoer.

In een van die dorpies van Noord-Indië het ’n sendeling in ’n saal gepreek. Toe hy klaar maak, het ’n Moslem na vore gekom en gesê: “Jy moet erken ons het een ding wat jy nie het nie, en dit is beter as enigiets wat jy het.” Die sendeling het geglimlag en gesê: “Ek wil graag weet wat dit is?” Die Moslem het gesê: “Julle weet, wanneer ons na Mekka gaan, kry ons ten minste ’n kis. Maar wanneer julle Christene na Jerusalem gaan, wat julle Mekka is, vind julle niks anders as ’n leë graf nie.” Maar die sendeling het net geglimlag en gesê: “Dit is net die verskil. Mohammed is dood, Mohammed is in die kis. En valse sisteme van godsdiens en filosofie is in hulle kiste, maar Jesus Christus, wie se Koninkryk alle nasies en stamme insluit, is nie hier nie, Hy het opgestaan. En aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Dit is ons hoop.” ’n Lewende Christus! DIT is ons hoop. Hy is nie dood nie, maar lewe vir ewig.

Die Nederlander, Jan Willem Stam, skryf dat beide die sondeval en die verlossing uit die sondeval, in ’n tuin plaasvind. Adam en Eva het gesondig in die tuin van Eden en is uit die tuin verjaag. Jesus het met sy opstanding in die tuin van Josef van Arimathea, ’n einde kom maak aan die sonde van die mens. Daarom is daar vergifnis in Jesus se bloed.

Die Here Jesus het die duiwel in SKAAKMAT gesit. Die Here Jesus het oorwin. Daarom is ons saam met Hom oorwinnaars oor sonde en dood.

Jesus se opstanding is God se “Amen” en die mens se “Halleluja.”                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die Opstanding van Christus: Grense Uitvee

SKRIFLESING: Handelinge 10: 1 – 33

Een van die teoloë het gesê al was Jesus Christus ’n duisend keer in Betlehem gebore en al het hy ook ’n honderd keer op Golgota gesterf, maar Hy het nie een keer opgestaan uit die dood nie, was ons geloof waardeloos. Daarom is Paassondag die waarmerk  van ons geloof. Paassondag was ook die gebeurtenis waar Jesus sekere lyne en grense uitgevee het en ’n nuwe bedeling aangekondig het.

Die Ou Testament het baie lyne as grense gehad. Daar was die lyn van Israel as die uitverkore volk  teenoor die ander volke. Daar was die lyn tussen man en vrou. Die man het die vrou besit en die vrou het na die man gehunker. Daar was die lyn van reinigingswette. Die vraag is:  wanneer is ek rein en wanneer is ek onrein?

 As ’n vrou haar maandstonde gehad het,  was sy vir die tydperk onrein. As jy aan ’n lyk gevat het, was jy onrein vir ’n tydperk. Daar was die lyn tussen watter kossoorte jy mag eet en watter jy nie mag eet nie.

So byvoorbeeld was varkvleis een van die vleissoorte waarvan jy nie mag geëet het nie. So ook as jy aan God geoffer het, was daar ’n klomp lyne van wat jy mag offer en wat jy nie mag offer nie. Die hele Ou Testament is vol honderde lyne van wat mag en wat nie mag nie.

Ons sukkel om hierdie lyne wat dien as grense af te skud. Vandag nog wil ons ou grense in stand hou en nuwe grense en lyne trek. Ons sukkel nog om die lyne tussen man en vrou af te breek. Nog enkele dekades gelede het mans en vrouens apart in die kerk gesit. In baie wêrelddele en kulture word vrouens nog as tweedeklasmense gesien. Dit lei natuurlik tot geslagsgeweld. Patriargisme en matriargisme maak verhoudinge ongesond. Ons trek lyne tussen volke en bou grense.

 Na die Tweede Wêreldoorlog is die muur tussen Oos-Berlyn en Wes-Berlyn gebou. Daar is sosiale en ekonomiese grense. Wie ryker is, word ryker en wie arm is, word armer. As iemand jou nie êrens ’n skop in die lewe gee nie, gaan jy nêrens uitkom nie. Op politieke toneel word nie net lyne getrek nie, daar word sommer strepe tussen volksgroepe getrek en hulle betoog en skree mekaar dood. Met slagspreuke word die ander kultuurgroep geteister. Rassehaat het ongekende hoogtes bereik. Nog nooit was die politieke spanning en lyne so duidelik sedert President Nelson Mandela regeer het nie. Mandela het lyne probeer uitvee (vergelyk sy optrede met die oorwinning van Suid-Afrika in die Rugby Wêreldbekereindstryd in 1995, toe hy en die Springbokkaptein saam die wêreldbeker omhoog gehou het en versoening gebring het wat ook die Afrikaners ingesluit het)  en hoe hy ’n lewe van versoening gepropageer het in Suid-Afrika. Hy wou vir almal plek maak. Maar die lyne tussen mensegroepe word elke dag al hoe duideliker getrek.

Dan moet ons vanoggend die Paasevangelie hoor. Op Paassondag het Jesus Christus opgestaan uit die dood. Hy het toe begin om grense uit te vee. Met Paassondag het Jesus  die lyn tussen lewe en dood uitgevee. Daarom, as ons in Christus sterf, het ons die ewige lewe en hoef ons nie die ewige dood te vrees nie.

Op Paassondag het Jesus ook bewys dat Hy die sonde oorwin het. Die sonde was ’n lyn of grens tussen ons en God. Hierdie lyn het Jesus met Sy opstanding finaal uitgevee, soos ons geregverdigdes kan wees.

Met die viering van Paassondag elke jaar, het baie VG Kerkgemeentes, soos ook die VG Kerk Strydenburg (waar ek eers predikant was) die gebruik om die Paasdiens by die begraafplaas te hou met die eerste sonsopkoms. Daar is al singende (van Paasliedere) van die kerk na die begraafplaas beweeg, elkeen met ’n  bossie blomme. Na die Paasdiens, tussen die grafte by die begraafplaas, het elkeen blomme gaan neerlê by hulle geliefdes se grafte om te simboliseer dat Jesus ook die dood oorwin het toe Hy op Paassondag uit die dood opgestaan het.   Die grens tussen dood en lewe is uitgevee met Jesus se opstanding.

Die VG Kerk Adelaide het ook die gebruik om met die viering van Paassondag, baie vroeg, terwyl dit nog donker is, bymekaar te kom op die heuwel buite Bezuidenhoutville, waar die kruis is en dan te wag vir die eerste sonlig. Dan is daar ’n Paasdiens gehou, die Nagmaal bedien en saam Paasliedere gesing. (Foto is geneem op Paassondag, 20 April 2025.) Vanaf die heuwel, met sonsopkoms, kon jy oral in die gemeenskap hoor hoe die verskillende geloofsgemeenskappe Paasliedere sing.  

 Die eerste waarnemers van Sy opstanding was die vroue. So word vroue die eerste verkondigers van die blye Evangelie dat Jesus opgestaan het. Daardeur het Jesus die vrou ’n selfstandige plek gegee in die samelewing en haar gelyk met die man gemaak. Die grenslyn tussen man en vrou is uitgevee.

’n Bewys daarvan dat Jesus op Paassondag grense uitgevee is, staan in Hand 10:9-17. Ons lees dat Petrus honger geword het op die dakstoep waarheen hy gegaan het om te bid. Daar staan hy, het in geestesvervoering geraak en ’n groot doek is in vier punte neergelaat. In die doek was al die kruipende diere en die voëls. Die Here het vir Petrus opdrag gegee om te slag en te eet. Hy het geweier en gesê dat hy nog nooit iets geëet het wat onheilig of onrein is nie. Dan kom daar weer ’n stem uit die hemel en sê vir Petrus, dat wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie. Drie keer het die boodskap tot Petrus gekom en daarna is die doek opgetrek na die hemel.

Dan staan daar toe Petrus gewonder het wat dit tog kon beteken, kom die  drie mans van Cornelius, ’n kaptein van ’n Italiaanse regiment, by Petrus aan.  Hulle versoek hom om Cornelius, wat ’n nie-Jood is, te besoek in Sesarea. Daar aangekom en Cornelius kniel voor Petrus. En luister wat sê Petrus in Handelinge 10:28:  ‘Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir ’n Joodse man verbode is om met iemand van ’n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie.”

Jesus het vroeër in die Evangelies verduidelik dat niks wat in die mond ingaan ’n mens onrein maak nie, maar wel wat by die mond uitkom uit ’n bose en onbarmhartige hart. En daarmee het Hy alle kos rein verklaar (Mark 7:19; vgl ook Matt 15:10-20). 

So het die Paasevangelie die lyn tussen rein en onrein uitgevee. Dit het die lyn tussen Jood en nie-Jood uitgevee.

Na sy opstanding en met sy hemelvaart het hy sy uitnodiging wyd gemaak na alle mense en volkere. In Handelinge 1:8 staan daar: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet My  getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Nou is die lyn nie net rondom Israel getrek nie, maar die lyn is uitgevee sodat alle volkere en nasies deel kan hê aan die verlossing wat Jesus Christus gebring het. Op Pinkstersondag het ’n menigte mense van verskillende volkere die boodskap in hulle eie taal gehoor.

In Jesus se lewe het Hy alreeds lyne uitgevee tussen die godsdienstige elite en die sondaars van sy tyd. Hy het gemeng met die tollenaars, die vrate, die wynsuipers, die prostitute, die owerspelige vrou, Saggéüs (die tollenaar). Hy het ook gemeng met die mense wat in die oë van die Fariseërs onrein was, soos die blindes, lammes, melaatses, kreupeles, duiwelbesetenes en die vrou wat aan bloedvloeiing  gely het.

Daarom is geen mens, van watter ras, klas of agtergrond, onrein nie. Ook die sondigste mens, verklaar die Here rein op grond van Sy soendood en opstanding.

In die plek van die Joodse godsdienstige begrip van “volk” het Jesus Christus met sy opstanding die “kerk” gestig, wat nie verband hou met volk, etnisiteit, taal of kultuur nie. Die “kerk” moet daarom lyne kom uitvee. Daarom bely ons in “een, heilige, algemene, Christelike kerk.” Ons is wel nie Rooms Katoliek nie, maar ons is Katoliek, wat behoort aan die Here se algemene kerk wat oor die wêreld strek.

Christene trek nie lyne nie. Christene stel nie grense op nie. Christene vee lyne uit en bou brûe oor grense.

Daarom verstaan ons nou wat Petrus in Handelinge 10:34-36 bedoel het: Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense.”

Daarom mag ons nie lyne trek of grense stel nie.   

Paaseiers is nie heeltemal so kommersieël soos wat ons dink nie.  Met die koms van Paasfees, wat die einde van vas aandui, het eiers ’n simbool van viering geword in die vroeë kerk. Mense het dikwels eiers versier en uitgedeel as ’n teken van vreugde en hernuwing. Gedurende die vastyd voor Paasfees het hulle nie eiers geëet nie, maar eers weer eiers geëet vanaf Paasfees. Hierdie tradisie het later ontwikkel tot die gebruik van sjokolade-eiers en ander kreatiewe weergawes. Interessant genoeg, eiers het ook ’n simboliese betekenis in die Christelike geloof, wat nuwe lewe en die opstanding van Jesus Christus versinnebeeld, soos die kuiken gebore word uit die eiers, as simbool van nuwe lewe.

Prof Johan Cilliers, emeritus-professor aan die kweekskool op Stellenbosch, vertel die verhaal van die Down-sindroom kind met die naam Philip. Sy ouers het hom gereeld Sondagskool toe geneem.

Eers wou die kinders hom nie heeltemal aanvaar nie. Een Sondag, dit was Paas-sondag, het die Sondagskooljuffrou plastiese paaseiers aan die kinders uitgedeel met die opdrag om op die kerk se erf iets te soek wat die simbool van nuwe lewe is en dit in die paaseier te sit. Die kinders het met groot opgewondenheid hul paaseiers gevul met simbole van nuwe lewe. Toe is die kinders weer binnetoe, en die juffrou het die een na die ander paaseier oopgemaak, met die gepaardgaande verwondering van die kinders. In elkeen was ’n simbool van nuwe lewe. In die een ’n nuwe blaar, in die ander ’n blom, in die ander ’n groen grasspriet. Toe kom hulle by die laaste paaseier. Die laaste eier was leeg — dolleeg. Die juffrou vra wie se eier dit is, en hoekom daar niks in geplaas is nie. Toe sê Philip, die Down-sindroomkind, baie skaam: “Juffrou, dit is myne.” Die kinders vra dadelik: “Maar Philip, hoekom moet jy altyd anders as ons wees? Hoekom het jy niks in jou paaseier gesit nie?” Op sy kenmerkende Down-sindroom manier het hy gesê: “My paaseier is leeg, want die graf van die Here Jesus is leeg, heeltemal leeg.”

Daar was ’n paar oomblikke stilte. Almal het geweet Philip was reg. Toe het hulle  hom begin aanvaar en maats gemaak met hom. ’n Paar maande later het Philip ’n infeksie opgedoen en hy het onverwags gesterf. Al sy Sondagskoolmaats was by die begrafnis. Op sy kis het sy maats een na die ander hul paaseiers gesit, leë, dolleë paaseiers.

Christus het Hoop gebring ook in die ruïnes en murasies van die begraafplaas. My graf is slegs ’n leë dop! Ek is saam met Christus ’n oorwinnaar oor die dood. Of ek lewe en of ek sterwe, ek is getroos, want ek behoort aan Jesus Christus.

Die paaseier is leeg. Die Here Jesus se graf is leeg. Die lyne en die skeidsmure tussen ons en die sonde en die Dood het Jesus kom afbreek met Sy opstanding.

Jesus se opstanding is God se “Amen” en die mens se “Halleluja.”   Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus is emosioneel geknak, sodat ons nie apaties moet leef en mekaar boelie nie

SKRIFLESING: Matteus 26:36-46

Om apaties te wees en om ander te boelie is deel van die skaduwee van die menslike ras. Dit kom voor in alle tye van die menslike geskiedenis en dit begin waar voorskoolse kleuters mekaar boelie tot bejaardes wat mekaar boelie in ouetehuise. Dit kan growwe vorms van boelie insluit tot die mees verfynde vorms van boelie tussen welopgevoede dames. Dit vind plaas in oorlogsones en op speelgronde van kinders. Dit speel ook af in ons gelese gedeelte in die Tuin van Getsamené.

Apatie beteken om onbetrokke te wees in die lyding of swaarkry van ander. Dit is om weg te kyk of soos in ons gelese gedeelte waar die dissipels aan die slaap raak as Jesus ly.

Wanneer Jesus in die nag voor sy kruisiging diepe aanvegtinge verduur en emosioneel ly, vind ons dat die dissipels drie keer uitgevang word dat hulle in droomland is, terwyl Jesus in ’n lewende nagmerrie leef. Hulle is totaal onbewus van Jesus se intense lyding wat op Hom wag. Hulle sien niks, hoor niks en praat niks nie.

Hulle harte voel geen emosies nie. Dit is so goed as afgestomp. Hulle emosies is dood. Waar Jesus vir hulle geleer het van die gemeenskap van gelowiges is hulle heeltemal onbetrokke en apaties. Later die nag sou Petrus die Here verloën, die dissipels weghardloop, die vroue op ‘n afstand staan en Judas die Here verraai. Jesus staan emosioneel alleen.

Hy is in ’n emosionele woestyn sonder enigeen wat vir Hom omgee. Hy is as’t ware van mense verlaat. Later sou Hy ook voel dat God Hom verlaat het. Daarom het Hy aan die kruis uitgeroep: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” Sonder die hulp van God of mens was Hy sielsalleen en het Hy gehang aan ’n kruis. Sy kop en voete was tussen die hemel en die aarde. Nie die hemel of die aarde wou Hom gehad het nie. Alle ‘koinonia’ (gemeenskap van gelowiges en met God) het verdwyn. Jesus was ALLEEN.

Daarom is die Mattheus Evangelie meer ingestel op Jesus se emosionele lyding as Sy fisiese lyding. Ons almal weet dat emosionele lyding baie erger is as fisiese lyding. In fisiese lyding kan jy jou wonde wys, maar in emosionele lyding kan jy nie die tekens van jou lyding vir iemand fisies wys nie. (Daarom sny mense dikwels hulle liggame om uitdrukking te gee aan hulle emosionele pyn.)

Die verhaal van Jesus Christus, is ook ’n verhaal van baie boelies. Reg aan Sy geboorte was dit Koning Herodus wat alle seuntjies van jonger as 3 jaar wat gebore is, laat doodmaak het. Die Farisieërs het gedurig vir Jesus geboelie met strikvrae. Sy eie geboortedorp het Hom verwerp en wou Hom by geleentheid van die afgrond afstoot. Met sy lydingstyd het die spotters en boelies net meer geword.

Spotters en boelies kom meestal in “mobs” voor. Daarom lees ons van die hele Joodse Raad en van ’n garnisoen soldate en van massas wat skreeu: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!” Die skares wat Hom op Palmsondag welkom ontvang het, met palmtakke en met klere voor hom uitgesprei en in een week heeltemal van opinie verander het en op Goeie Vrydag uitgeroep het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”

Die emosionele lyding van Jesus word in ons gelese gedeelte en in die daarop volgende gedeeltes tot die uiterste toe beskryf. Jesus onderwerp Homself aan die spot, beledigings, onwaarhede, teenkanting, verraad en verloëning. Hy is bereid om ALLEEN te staan.

Met Jesus se emosionele lyding, het hy ook sy empatie weereens uitgestort oor die mensdom. Sy hele lewe is gekenmerk met empatie. Die Here Jesus het uitgereik na armes, blindes, kreupeles, na weerlose mense in die sisteem en na die grootste sondaars soos byvoorbeeld Saggéüs en die owerspelige vrou. Jesus het ’n hart gehad vir mense wat deur die sisteme verdruk en verag word.

Waar daar nie empatie is nie, verval die samelewing in barbarisme. Die verlies van empatie, word dan apatie.  Jou hart word hard en afwesig, daar waar daar lyding is.  Die huidige Amerikaanse President,  Donald Trump, toon geen empatie met arm lande of die weerloses in die samelewing nie. Duisende mense gaan in die volgende jare in Suid-Afrika sterf, as gevolg van die terugtrekking van fondse vir die mense wat Vigs of TB opgedoen het. Kapitalistiese stelsels, sosialistiese stelsels en baie ander politiese stelsels kan maklik in barbarisme verval, as daar nie ’n oop hart en ’n oop hand  vir die weerloses in die samelewing is nie.  Die Suid-Afrikaanse regering het hulle empatie verloor vir die weerloses in die samelewing. Die verval sien jy oral in die samelewing. Sommige politici word skatryk, ten koste van die mense waarvoor hulle moet sorg.   Finansiële gewin is geneig om menslike empatie en barmhartigheid  te verloor en sodoende verval die samelewing in barbarisme, waar die beginsel geld van “hond eet hond.”   

Jesus se unieke Koningskap het daaroor gegaan dat Hy nie toegegee het aan groepsdruk, openbare opinies of normale gangbare praktyke nie. Hy was altyd ANDERS en VREEMD en TEEN DIE STROOM OP. Daarom was die Farisieërs en die Joodse Raad teen Hom gewees. Hy was teen die status quo. Want sien Christus het sy Vader se wil geleef en het nêrens toegegee aan openbare aanvaarding nie.

Ons lewe vandag in ’n wêreld waar dit mode is om ‘in te wees’. Jy moet slaafs die modegier volg en die openbare opinie respekteer om deel te wees van die groep.

Jesus was bereid  om  ALLEEN te wees. As jy somtyds ALLEEN is, kry jy ander vriende. Nie Simon Petrus dra Jesus se kruis nie, maar Simon van Cirene dra Sy kruis. Die dissipels het baklei om aan die linkerkant en aan die regterkant van Jesus te sit. Uiteindelik is daar twee rowwe geweldsmisdadigers aan sy linkerkant en regterkant.

Om Jesus enduit te volg is dit nodig om somtyds alleen te staan en spot te verduur. Jesus se navolging impliseer dat jy altyd iets sal ervaar wat Jesus ook in die Tuin van Getsemané en die daarop volgende ure ervaar het. Dit is moeilik om alleen te staan, teen die openbare opinie.

Om ten alle tye die wil van die Vader te doen, gaan vir jou in die moeilikheid laat beland. Daarom het Dietrich Bonhoëffer die bekende boek geskryf: ‘The cost of discipleship’.

Daarom het Jesus vir ons geleer om eers die koste van navolging te bereken, soos wat ’n mens die koste bereken om ’n huis te bou.

Prof Benno Muller-Hill, aan die Universiteit van Köln se genetika departement vertel van ’n insident toe hy aan die hoërskool was. Die fisika-onderwyser het ’n teleskoop opgestel, sodat die kinders wat in ‘n lang ry gestaan het deur die teleskoop kan kyk na ’n planeet en sy mane. Die eerste kind sê vir die onderwyser  hy sien niks nie. Die onderwyser wys hom hoe om die fokus van die lens te verstel sodat hy kan sien. Hy verklaar dat hy kan sien. Een na die ander kom die kinders verby, kyk in die teleskoop en sê dat hulle die planeet gesien het. Toe is dit Benno se beurt. Hy kan niks sien nie. Alles is vir hom swart. Die onderwyser verskreeu vir hom en sê: “ Ek het julle mos gewys om die fokus te verstel.” Benno verklaar plegtig maar hy sien nog steeds net swart. Baie ongeskik gryp die onderwyser na die teleskoop en kyk self daarin. Dit is pikswart. Hy kom toe eers agter die doppie aan die voorkant van die lens was nog op. So dikwels volg ons die openbare mening en modes, maar eintlik sien ons self glad nie.

Die dissipels, die vroue, die vroeë volgelinge van Jesus is so verblind deur die Joodse sentiment, die Joodse Raad en Sanhedrin dat hulle tevrede is om met blinde oë te sien. Die vrees vir vervolging of om teen die stroom te wees, maak hulle blind vir die waarheid en geregtigheid en om op te kom vir die saak van Jesus Christus. Hulle verloën almal die hemelse Koning vir die guns van die aardse regeerders.

Jesus het emosioneel ALLEEN gestaan, sodat ons nooit emosioneel alleen hoef te voel nie. Daarom is die opdrag van die kerk ook dat ons die gemeenskap van gelowiges moet beoefen. Toe Jesus Godsverlate en mensverlate aan die kruis gehang het, het Hy koinonia geskep. Hy sê vir Maria: “Daar is jou seun,” en vir Johannes sê Hy: “Daar is jou moeder.” Hy het hulle alleenheid weggeneem deur hulle vir mekaar te gee. Hy het ’n dissipelkring agtergelaat sodat hulle vir mekaar kan omgee. ’n Bekende teoloog het geskryf, dat Hy dit aan die dissipels en apostels oorgelaat het om boeke te skryf. Hy het iets veel kosbaarder geskep. Hy het KOINONIA geskep, sodat mense nooit alleen hoef te voel nie. Daarom bely ons in die Credo: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.”

Ons leef in ’n wêreld waar baie mense eensaam voel in hulle omstandighede. Dit kan enkelma’s of enkelpa’s wees, geskeides, terminaalsiekes en verstote mense, Vigsslagoffers wat verwerping ervaar, weeskinders, ’n eensame sakeman alleen in sy kantoor en so kan die lysie aangaan. Emosionele lyding en eensaamheid gaan hand aan hand met mekaar.

Daarom word ons juis opgeroep om opnuut erns te maak met KOINONIA, deur gemeenskap te skep met mense wat nie van nature ons vriende is nie. Eers dan sal die wêreld weet dat ons God se kinders is, as ons ons kan assosieer met ander sy lyding en emosionele verwondheid.

God se kinders leef nie in apatie nie. God se kinders boelie nie. Nee, God se kinders ontferm hulle oor dié wat seergekry het. Dit is die boodskap van Paasfees. God se kinders maak vriende met die wêreld. God se kinders omhels die gebroke wêreld en leef nie op ’n beskutte eiland nie. God se kinders word vuil met die vuil en seer van dié wêreld.

In ons gelese gedeelte merk ons ook op dat Jesus intens gebid het tot Sy Vader. Daarteenoor het die dissipels drie keer aan die slaap geraak.

Jesus se intense gebedslewe het Hom die krag gegee om die komende ure se aanslae te verduur. Die dissipels het die een na die ander geknak, omdat hulle nie tyd gespandeer het in gebed nie. Weereens word die erns van gebed onderstreep in ’n tyd van emosionele aanvegtinge.

Daarom word ons juis in hierdie Pase opgeroep om opnuut erns te maak met KOINONIA, deur gemeenskap te skep met mense wat nie van nature ons vriende is nie. Eers dan sal die wêreld weet dat ons God se kinders is, as ons ons kan assosieer met ander sy lyding en emosionele verwondheid. God se kinders leef nie in apatie nie. God se kinders boelie nie. Nee, God se kinders ontferm hulle oor dié wat seergekry het. Dit is die boodskap van Paasfees. God se kinders maak vriende met die wêreld. God se kinders omhels die gebroke wêreld en leef nie op ’n beskutte eiland nie. God se kinders word vuil met die vuil en seer van dié wêreld. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Vyf tale van die liefde wat ‘n gemeente missionaal laat groei

SKRIFLESING: Joh 13 en Hebreërs 10:24-25

Dr. Gary Chapman se topverkoper, “The Five Love Languages”,  is oorspronklik geskryf om getroude paartjies te help om mekaar se liefdestale te praat.

In die preek wil ek probeer aantoon dat ons die vyf liefdestale ook  elke dag kan toepas in ons gemeente en in ons Christenwees. Wanneer die gemeentelede die liefdestale onder mekaar  praat, sal dit wees soos kunsmis wat die gemeente ook missionaal laat groei.

Gary Chapman onderskei die volgende 5 liefdestale:

  • Opbouende woorde as eerste taal van liefde vir gemeentegroei.

Ons lewe in ’n wêreld waar mense gebombardeer word met kritiek, afbrekende woorde, skinder en liefdelose taal. (Jakobus 3:5-12 sê dat ’n mens se woorde die wêreld aan die brand kan steek.) Verdelende woorde kan ook skade aan ’n gemeente doen.

Tog blom elke mens as hy/sy van tyd tot tyd opbouende en waarderende woorde ontvang. Daarom moet ons probeer om ten minste een keer elke dag, teenoor ten minste een mens, ’n opbouende of ’n waarderende woord te bevestig.  Mense voel ongeliefd en eensaam as hulle voel hulle word nie waardeer nie.

’n Mens se geheue is veral geneig om slegte ervarings en slegte opmerkings van ander mense lewenslank te onthou en self te glo  jy IS dit. Ek het nou ’n pastorale geval van ’n man wat in sy hoërskooljare aanhoudend deur ‘n familielid toegesnou is hoe “useless” hy is.  Nou glo hy dit, met erg vernietigende gevolge vir sy lewe.

Veral ouers en onderwysers wat kinders vorm, moet spesiaal daarop bedag wees watter gevolge negatiewe en krenkende opmerkings inhou en op die selfbeeld  van ’n kind laat.   

Daar is die  treffende verhaal van “You Are Special” deur Max Lucado. In hierdie verhaal is daar ’n groep houtpoppe genaamd Wemmicks, wat mekaar beoordeel deur sterre vir goeie eienskappe te gee en kolle vir minder goeie eienskappe. Die meeste Wemmicks het baie sterre ontvang. Punchinello, een van die Wemmicks, voel deurmekaar en minderwaardig omdat hy baie kolle ontvang. Sy houtlyfie is vol kolle, soos die mense hom al beoordeel en gekritiseer het. Later glo hy hy is net sleg en voel erg minderwaardig teenoor die ander Wemmicks.

Die kern van die verhaal kom wanneer Punchinello vir Eli ontmoet, die houtsnymaker wat hom gemaak het, soos wat die hemelse Vader ons ook gemaak het . Eli herinner Punchinello daaraan dat sy selfwaarde nie lê in  hoeveel sterre of die hoeveelheid kolle wat ander mense aan hom toeken of toedig nie, maar in die feit dat hy deur die maker geskep is en geliefd is. Skielik verloor die kolle hulle gom en val sommer af. Hy steur hom nie meer aan die kolle wat mense op hom wil plak nie. Hy waardeer eerder die enkele sterre wat op sy houtlyfie geplak word. Sy selfwaarde lê nou daarin wat God van hom dink en nie wat mense van hom dink nie. (Die ouers wat klein kinders of groter kinders het, koop asseblief bogenoemde boek vir u kinders. Dit sal hulle so baie help in die lewe.)

Wetenskaplikes beweer, dat vir elke enkele slegte of negatiewe ding wat mense van jou sê, dit twintig positiewe opmerkings verg om die een negatiewe opmerking uit te wis.

Die Bybel is vol van die Here se waarderende woorde waarmee Hy telkens mense optel uit hulle ellende en swak selfbeeld. Die Here se woorde is altyd opbouend en versterkend. Daarom stuur ons so graag teksverse vir mekaar om mekaar op te beur. Die Here Jesus het dikwels randfigure, mense sonder aansien, opgetel met Sy opbouende woorde en vir hulle plek in die samelewing gemaak.

Ons moet dit toepas in ons huwelike, teenoor ons kinders, ons ouers, ons mede gelowiges en selfs ook teenoor vreemdelinge. Die Here Jesus het, sover Hy gegaan het, altyd mense opgebou en geliefd laat voel deur Sy woorde. Ons woorde kan soos genesende salf vir ander mense weer nuwe hoop en selfwaarde gee. So moet ons ook gemeentelede bemoedig met opbouende en waarderende woorde.

Natuurlik moet ons dit opreg bedoel wanneer ons ’n waarderende woord uitspreek.

  • Geskenke as tweede taal van liefde vir gemeentegroei.

Almal van ons wil somtyds bederf word. Ek onthou toe ek in my vorige gemeente op Strydenburg was, het ’n bruinman van die plaaslike VG Kerk een Sondagmiddag by die pastorie opgedaag met mooi klippe wat hy in die veld opgetel het. Toe hy dit opgetel het, het hy aan my gedink en wou hy graag sy waardering teenoor my uitspreek met die geskenk. Die klippe het geen geldelike waarde vir my nie, maar dit het sentimentele waarde. Vandag nog bêre ek dié klippe by my in die Kerkkantoor.

So het die Here Jesus ook vir ons die grootste moontlike geskenk gegee naamlik Sy lewe aan die kruis. Hy bederf ons elke dag om ons te voorsien van brood en alles wat ons nodig het.  In Matteus 6:25-34, sê  Jesus  dat ons onsself  nie moet bekommer oor wat ons sal eet of dra nie, omdat God vir die voëls en die lelies sorg en hoeveel meer  vir  ons wat vir Hom meer werd is.

Die gebruik wanneer  daar ’n sterfgeval in die gemeente is, is om gereeld in die tyd van rou,  kos vir die familie te neem. Dikwels is iemand siek of gaan deur ’n moeilike tyd in sy of haar lewe. Dan is ons “omgee” die geskenk  wat hulle nodig het. So kan ons mekaar ook bederf in die gemeente met klein sigbare geskenke of ’n SMS, ’n kaartjie, ’n blom of ’n WhatsApp-boodskap. Geskenke hoef nie duur te wees nie. Om vir armer mense toiletware aan te koop, is ’n geskenk. ’n Besoek aan ’n bejaarde is vir daardie bejaarde soos ’n groot geskenk. Dit gaan eerder oor die gedagte agter die geskenk as die geskenk self. Om jou medegelowige te bederf met liefdesgeskenke wys jy gee werklik om.

  • Diensbaarheid as derde taal van liefde vir gemeentegroei.

Wanneer mense mekaar help, ontstaan daar ’n wonderlike band van liefde. Dink aan die kere toe jy met ’n stukkende voertuig of ’n pap band langs die pad gestaan het. Dan kom iemand en help jou met die pap band of die stukkende voertuig. In ’n huishouding waardeer jou lewensmaat dit wanneer jy hom of haar help met huishoudelike take.

Diensbaarheid is die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons kom stel het in Johannes 13 toe Hy die voete van Sy dissipels gewas het.

Een van die unieke eienskappe van gemeentes wat groei, is dat die gelowiges diensbaar is in die gemeente, maar ook teenoor die gemeenskap waarbinne hulle bly. Daarom moet elkeen van ons ’n skerp onderskeidingsvermoë hê om diensbaar te wees in ons gemeente en ook gemeenskap. Deur ons gemeente moet ons missionaal betrokke wees tot voordeel van die gemeenskap waarbinne ons geplaas is om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees.

Die lewe moet nie daaroor gaan, dat ek net eie voordeel soek nie. ’n Gemeente moet ook nie net na binne gerig wees en haarself warm broei nie. Nee, ons moet as gemeente ’n verskil in die gemeenskap maak.  Ek moet myself kan offer vir die gemeenskap waarbinne ek leef. Die Here het mos gesê om te gee, maak jou baie meer gelukkig as om net te wil ontvang. Ongelukkig is min mense vandag bereid om betrokke te wees in gemeenskapsorganisasies, soos die kerk, die ACVV, die Ouetehuise, Boereverenigings, Skoolbeheerrade en so meer. Ons verleer om te dien in ons gemeenskap.

  • Kwaliteit-tyd as vierde taal van liefde vir gemeentegroei.

Mense wil  God deesdae aanbid op die rusbank voor die TV-eredienste. Om fisies kerk toe te gaan, het te veel moeite geword. As ons die Here wil dien, moet ons ons beste kwaliteit-tyd vir Hom gee deur Hom in Sy woning te aanbid, saam met ander gelowiges. Dan kan ons saam aanbid, saam sing en mekaar se teenwoordigheid saam waardeer. Wyksbyeenkomste is ook kwaliteit-tyd, waar ek saam met my medebroers en -susters in die geloof tyd saam deurbring in gemeenskap met God en medegelowiges.

Ons kan nie maar tevrede wees om ons afskeeptyd vir God te gee nie. In die geloof moet ons moeite maak om God REG te aanbid, soos wat Hy wil hê Hy aanbid moet word. Daarom is godsdiens nooit ’n privaat aangeleentheid nie. Nee, ek moet God in die OPENBAAR aanbid, sodat almal kan sien aan wie ek behoort. Dit is ’n PUBLIEKE getuienis aan wie ek behoort.

Die duiwel se aanslag is altyd om die gelowige lui te maak om kerk toe te gaan. In God se Koninkryk is daar nie plek vir lui gelowiges wat God op hul eie voorwaardes en gerief wil dien nie. Aanbidding vra opoffering deur kwaliteit-tyd deur te bring by God in Sy woning en saam met ander gelowiges.

  • Fisieke aanraking as vyfde taal van liefde vir gemeentegroei.

Wanneer mense saam bid aan tafel vir ’n ete hou hulle gewoonlik hande vas. Dit skep ’n ervaring van samesyn en liefde. Om vir iemand in die gemeente wat swaarkry ’n drukkie te gee, beteken meer as ’n duisend woorde. Wanneer ons tydens die Nagmaal die brood en wyn fisies vir mekaar met die hande aangee, vind ook ’n geestelike fisiese ervaring plaas, van ons-hoort-bymekaar, saamgesnoer in die Here se brood en wyn.

Ons moenie skaam wees om mekaar   in die gemeente deur fisiese kontak te bemoedig nie. Dikwels is daar baie velhongermense (soos bejaardes of mense wat baie swaar kry en alleen is), wat dit so waardeer as jy vir hulle ’n drukkie gee of hulle hande vashou as jy vir hulle bid.

Om iemand in ’n hospitaalbed te bemoedig deur hul hand vas te hou, beteken dat jy empatie het met hulle swaarkrytyd van siekte. Wanneer ’n geliefde van iemand afsterf, kan ’n drukkie ’n mooi manier wees om jou simpatie en deernis met die bedroefde mens te deel. Moeder Theresa het dikwels sterwendes se hande vasgehou totdat hulle sterwe. Sodoende was die sterwende nooit alleen. Die Here Jesus het die kinders op sy skoot getel om vir hulle te wys dat Hy hulle aanvaar en vir hulle tyd maak.

Elkeen van bogenoemde vyf tale van die liefde kan ook in die gemeente ingeoefen word om die gemeente te laat groei. Kom ons beywer ons as gemeente wat missionaal wil ontwikkel om  hierdie liefdestale te oefen in die gemeente en in ons gemeenskap. Dan sal ons weer sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees. Bogenoemde vyf tale is so eenvoudig dat enigiemand dit kan beoefen. Die diepste behoefte van elke mens is om geliefd te voel. Kom ons laat mekaar geliefd voel deur die vyf tale van die liefde te bemeester, ook in ons gemeente en gemeenskap.           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)