Moenie die hasepad kies nie

Skriflesing: Eksodus 3: 1 –  4: 18

Het u al agter ’n troetelhaas aangehardloop? Hoe harder jy agter hom aanhardloop, hoe harder hardloop hy vir jou weg, want hy dink dat die mens hom wil seermaak. Eers as ’n mens hom gevang het en teen jou vasdruk, ontdek die haas dat hy oorweldig word deur liefde.

Toe ek ’n kind was, het my ouers vir ons kinders hase gekoop by die jaarlikse Bloemfontein Skou. Die hase se pels was van verskillende kleure en ons kinders was so opgewonde oor die hase. As hulle uit die hok kom, dan moes jy al agter die hase aan hardloop om hulle te vang. Ek ken van agter hase aan hardloop!

Moses herinner my ook aan ’n haas wat vir God  weggehardloop en daar in die bosse van Midian gaan wegkruip het. Ja, Moses was so rats soos ’n haas. Hy het Farao se toorn ontsnap en gedink dat hy van God ook ontsnap het.

Ons ken almal die verhaal van Moses in Egipte. Moses het in Egipte gesien dat ’n Egiptenaar een van die Jode aangerand het. Hy het so kwaad geword dat hy die Egiptenaar doodgeslaan het. Uit vrees vir die toorn van Farao het hy ontvlug na Midian en daar ’n nuwe begin gemaak. Inderdaad het Moses die hasepad gevat.

Maar is ons nie miskien vanoggend ook soos ’n haas wat vir God wegkruip nie? Miskien hardloop ons vanoggend vir die Here weg. Ons kan weg hardloop van ’n oorgegewe lewe van gehoorsaamheid aan die Here. Ons kan weg hardloop van ons stiltetyd. Ons kan weg hardloop van die eise van God se Woord. Ons kan weg hardloop van God se vergiffenis in ons lewe. (Partymaal kan iemand nie glo dat God hom of haar vergewe het nie.) Ons kan weg hardloop van God se plan met my lewe.

Maar God het Moses agtervolg. Ja, God het Moses se spoor daar tussen die bosse van Midian gevat. God het warm op die spoor van Moses gebly.

Maar onthou, as ons weg hardloop van God in ons lewe, is God ook warm op ons spoor. God is altyd soekend na die mens, daarom agtervolg Hy ons altyd.

Met respek gesê: God is soos ’n Boesman – as Hy op jou spoor is, verloor Hy jou nie. Wat die Here begin, maak Hy klaar. Die Here Jesus het nie net die saligheid vir my verdien nie, Hy bewerk ook die saligheid in ons lewe.

Ons kan maar vlug – die Here is op ons spoor. Die Here gaan vir jou in ’n hoek dryf, soos Hy ook met Jona gedoen het. Die Here het vir Moses ingehaal, Hy gaan vir ons ook inhaal. In Eksodus 3 en 4  lees ons dat Moses God se plan met die volk Israel laat verongeluk het. Toe het Moses soos ’n haas vir God weggehardloop en daar in Midian gaan wegkruip. Maar God het Moses agtervolg en hom daar tussen die bosse van Midian gekry.

Maar die vangslag is die probleem. Vir ’n haas hou ’n mens ’n wortel uit as lokaas. Dit werk keer op keer. Wel, Moses het dalk nie van wortels gehou nie, maar God het geweet Moses is ’n nuuskierige man. Daarom prikkel God Moses se nuuskierigheid deur ’n brandende doringbos. Die brandende doringbos word die wortel, die lokaas. God roep Moses deur ’n brandende doringbos wat nie uitbrand nie.

Dan lees ons hoe Moses nadergekom het. En raai wie ontdek Moses daar? Niemand anders as die lewende God nie. Moses het nie vir God daar in Midian verwag nie. So dikwels sien ons God se hand op plekke waar ons dit nie verwag nie.

So gee God vir Sy kinders almal seine langs hulle lewenspad, as ons oë dit maar net kan raaksien. Moses het dit raakgesien. Aan die anderkant is daar waarskynlik duisende mense met wie die Here al jare lank op tientalle maniere probeer praat, maar hulle hoor en sien Hom nie.

Oor hoe blind ’n mens kan wees, word daar ’n mooi storie vertel: ’n Man wat nie juis bekend was as ’n gelowige nie, het in die woestyn verdwaal. Na ’n paar dae was hy so hoog in die nood dat hy ten einde raad besluit het om maar tog te bid en te kyk of dit nie dalk help nie. Toe hy op ’n dag, na die episode, sy verhaal vir ’n vriend vertel, vra die vriend nuuskierig: “En toe, het die Here jou gebed gehoor en jou gehelp?” “Nee,” het die man sinies geantwoord. “Hy het niks gedoen nie. As dit nie was dat ’n man op ’n kameel kort daarna daar verbygekom het nie, het ek seker vandag nog daar gesit.” Nooit het die man besef dat die man op die kameel wat hom gered het, die Here se antwoord op sy gebed was nie.

Dit is net ongelooflik hoe blind ons somtyds vir die Here se seine kan wees. Sien ons die seine raak wat God vir ons gee? God gee vir ons elkeen seine, brandende doringbosse op ons pad.

Somtyds kan God deur ’n droogte vir ons so ’n sein gee. Miskien wil God in ’n droogte vir ons sê: “Is jy nie meer begaan oor die droogte op jou plaas as oor die droogte in jou geestelike lewe nie?” Miskien is ’n ekonomiese resessie so ’n sein? Miskien wil die Here deur ’n ekonomiese resessie vir jou sê: “Is jy nie meer begaan oor jou lewenstandaard as oor jou lewenswaardes nie?”

Soos die Here vir Moses geroep het deur ’n brandende doringbos, kan die Here ons miskien roep deur ’n droogte of ’n ekonomiese resessie of deur ’n genadige ingryping in ons lewe of doodeenvoudig deur wonderbare gebedsverhoring in ons lewe.  

Maar God het nie net vir Moses geroep nie. Nee, Hy het hom ook oortuig. Vang ’n bietjie ’n haas en kyk hoe bons sy hart. Sy hart is vol twyfel oor wat met hom gaan gebeur. Waarskynlik het Moses ook so gevoel. Dan lees ons hoedat die Here sy opdrag aan Moses gee, naamlik dat hy die volk Israel moet uitlei uit die slawerny in Egipte.       

Dan kom Moses met sy twyfelvrae:

  1. Wie is ek?
  2. Wie is God?
  3. Is ek geskik?

Die eerste twyfelvraag wat Moses stel, is: “Wie is ek?” Daardeur openbaar hy sy eie swak selfbeeld. Hy beleef dat hy alleen nie opgewasse vir hierdie taak is nie. Maar weet u, die Here wil nie hê ons moet ’n oordrewe selfbeeld hê wat grens aan narcisme nie. Die Here Jesus sê mos in sy bergpredikasie: “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.” Met daardie woorde het die Here Jesus ’n streep deur die humanistiese lewensfilosofie getrek. Die humanisme beweer mos jy moet positief oor jouself en jou eie vermoëns dink, tot op ’n ekstreme vlak van selfliefde. Hulle sê mos: “It’s all in the mind.” “Nee,” sê die Here: “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.”

Dan lees ons die Here se antwoord. Die Here beloof dat Hy met Moses sal saamgaan. Hy sal Moses se krag en wysheid wees.

Die tweede twyfelvraag wat Moses stel is: “Wie is God?” Wat vra Moses eintlik hier? Hy vra die diepste van alle vrae: die vraag na die hart en wese van God. Wie is God? Hoe is God? Nie net ’n diepgaande vraag nie, maar ook ’n nodige vraag. Hoe kan ’n mens groot dade gaan probeer doen as jy nie weet wie of hoe groot die God is wat jou stuur nie?

In Eksodus 3:14 kry ons dan die Here se bekende antwoord aan Moses: “Ek is wat Ek is.” Jy moet vir die Israeliete sê: “ ‘Ek is’, het my na julle toe gestuur.” Die Here gee egter nie ’n definitiewe antwoord op die vraag nie.

Hy sê net: “Ek is wat Ek is.” Daardeur sê die Here dat Hy hom nie laat verklaar of inperk deur ’n mens nie. Hy laat Homself nie definieer deur ’n mens nie, want dan sou Hy nie meer God gewees het nie.   

Ons kan ’n watermolekule ontleed as ’n verbinding van twee waterstof-atome met een suurstof-atoom. So kan ons alles onder die son analiseer, behalwe vir God. Hoe kan ’n skepsel immers sy Skepper ontleed. Die maaksels kan mos nie die Maker begryp nie. Dit is onmoontlik.

Die teologie is die een wetenskap wat met sy hande in die hare sit. Ons kan God nie analiseer nie, ons kan Hom net aanbid.

Nee, ons weet nie wie God is nie, maar God openbaar wel aan ons wat Hy kan doen. Dan doen God twee wonderdade. Moses se kierie word ’n slang en omgekeer. Verder word Moses se hand melaats en omgekeerd.

Nee, geliefdes, ons kan God nie in ’n proefbuis of in ’n definisie of formule vasvang nie. Die Here sê: “Ek is wat Ek is.”

Die laaste twyfelvraag van Moses was die vraag of hy geskik is om in die Here se diens te staan, aangesien hy ’n hakkelaar is. Moses het eerder kans gesien om vir ’n ongeskiktheidsfonds aansoek te doen as om in die Here se diens te staan.

Ook vir hierdie probleem van Moses toon die Here begrip en Hy besluit om hom weer eens tegemoet te kom. Maar in Sy wysheid doen die Here dit op Sy eie manier. Hy raak nie Moses se mond of tong aan om hom van sy spraakgebrek te genees nie. Nee, die Here “toor” meestal nie ons swakheid of beperkinge weg nie, Hy maak ’n ander plan. Hy los vir Moses so met sy swakheid, maar gee vir hom sy broer Aäron om langs hom te staan en saam met hom te gaan. Die Here gee vir ons broers en susters om ons in ons swakheid by te staan. Dit is ’n groot troos van die Evangelie, naamlik as jy die Here dien, is jy nooit alleen nie. Ons sal dit wat die Here van ons verwag, nooit alleen kan doen nie en gelukkig hoef ons ook nie. Ons het broers en susters.

Dit bring ons by die laaste deel van die preek. Ons het gesien dat die Here die mens roep en oortuig. Nou gaan ons sien dat die Here ook saamgaan met die mense wat hy geroep het.

Wanneer ’n haas eers eenmaal gevang is en mak geword het, sal hy al agter ’n mens aanspring. So het God vir Moses daar tussen die bosse van Midian mak gemaak.

Nou was God en sy haas Moses op pad terug na Egipte om die volk Israel te bevry. In vers 18 lees ons hoedat Moses sy skoonfamilie gegroet het en op weg gegaan het terug na Egipte. Saam met hom het die lewende God gereis.

As God u geroep en oortuig het dat u ’n lewe van oorgawe volgens God se plan moet leef, weet dan dat God met u sal saamgaan. God sal u nooit verlaat nie. God het eenmaal Sy Seun op Golgota verlaat, sodat Hy ons nooit sal verlaat nie. As God ’n plan met jou het, sal God jou bystaan in Sy krag en wysheid.

Ten slotte: Moenie eers probeer om vir God weg te hardloop nie. Hy is warm op u spoor. Hy gaan u in ’n hoek dryf. Luister daarom na die roepstem van die Here. Waartoe wil die Here jou vandag roep? Die Here sal u oortuig wat u moet doen en Hy belowe Hy sal met u saamgaan in dit waartoe Hy u roep.             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

[Verskeie bronne is gebruik om die preek te skryf.]

Moenie koppe was nie, maar was voete

Skriflesing: Markus 6: 17 – 29

Geskenke beteken om iets van jouself vir ’n ander te gee. ’n Mens kry gekoopte geskenke, selfgemaakte geskenke of geskenke waar jy jouself moet gee. Ons waardeer gekoopte geskenke, maar ons het groter waardering vir ’n geskenk wat iemand met sy eie hand gemaak het en vir ons gegee het. Dit kan wees ’n koek, beskuit, kerriebeet, naaldwerk of ’n handgewerkte artikel en so kan ons aangaan.

Baie jare gelede het ’n arm bruin man van die VG Kerk op Strydenburg vir my een Sondagmiddag by die pastorie ’n paar mooi klippe wat hy in die veld opgetel het,  kom gee omdat hy aan my gedink het. Ek het dit so waardeer en tot vandag toe nog bewaar ek die klippe. Daar is Lizzie Brouwers van die VG Kerk Strydenburg wat ook vir my kosbare geraamde naaldwerkstukke gegee het. Dit is spesiaal vir my.

Maar ’n mens kry ook iets soos ’n geskenk waar jy jouself gee. Somtyds is ons aandag, liefde en opoffering vir ’n ander een so goed soos ’n geskenk. So kan enigiets wat ek vir ’n ander een doen, ’n geskenk wees. Die grootste geskenk was met Christus se geboorte toe God Homself persoonlik vir hierdie wêreld gegee het.

In ons skrifgedeelte lees ons ook van ’n geskenk wat iemand vir iemand anders  gegee het.  Ons lees van Herodus wat vir sy dogter, die afgekapte kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord gegee het. Voorwaar ’n afskuwelike geskenk. ’n Mens sal miskien sê die geweldsvlakke is te hoog vir die Bybel. Dit moet ’n 18+ ouderdomsperk kry. Ongelukkig is dit die realiteit. Baie dae gee ons ook sulke afskuwelike “geskenke” vir mekaar. Mense bedrieg mekaar, steek mekaar in die rug, beswadder en beskinder mekaar en leef afgunstig op mekaar.

Herodias het gedink sy is baie slim toe sy vir haar dogter vra om vir haar pa die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord as geskenk te vra.

Herodus het Herodias by sy halfbroer afgevry en Herodias het maklik ingestem, want om die vrou van Herodus te wees, sou beteken dat sy meer mag en invloed het as voorheen. Toe Johannes die Doper preek teen die owerspel was sy die joos in, want haar nuwe huwelik het haar meer mag besorg, en sy wou nie van hierdie mag afstand doen nie. Sy het ’n manier gesoek om vir Johannes die Doper om die lewe te bring. Die tyd en plek was die verjaarsdagparty van Herodus. As Herodus dronk is, is hy baie vrygewig. Herodus se dogter dans toe so mooi vir hom voor die gaste dat hy vir haar sê dat sy enigiets van hom kan vra. Dit was Herodias se kans. Sy oorreed haar dogter om die kop van Johannes die Doper te vra. ’n Afskuwelike geskenk! ’n Koning se woord is wet en so word Johannes die Doper  onthoof en sy kop as geskenk gegee vir Herodus se dogter, en Herodias is in die wolke.

 Tog sit die gees en slinksheid van Herodias ook maar in ons elkeen. Ons kan so maklik ’n ander een te na kom. Ons kan mekaar so maklik kopwas of op mekaar se koppe sit. Ons kan so maklik koppe eis en oor koppe heenpraat. Wanneer iemand se kop rol, is ons baiekeer so verheug oor sy of haar val. Ons laat koppe rol, maar ons was nie voete nie. Ons was mekaar se koppe, maar ons was nie mekaar se voete nie. Nee ons trap eerder op mekaar se tone.

Maar die Here Jesus wil vir ons vandag leer dat ons onsself moet gee as ’n geskenk vir ander. Want die Here Jesus het ons so lief gehad dat Hy sy eie Seun op die eerste Kersnag gestuur het om die hele wêreld te red. Christus het homself as geskenk gegee.

Nou leer Hy ons om onsself ook elke dag te gee as ’n geskenk vir ander. My liefde, deernis en barmhartigheid moet ek aan ander betoon en sodoende myself as geskenk gee. Deur my tyd af te staan en deur opofferings te maak vir ander, gee ek myself. Wie liefde, deernis, vreugde, blydskap, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel, deel homself of haarself met ander. So iemand word self ’n geskenk vir ander.

Ek het ’n negentiende-eeuse verhaal gelees van ’n meisie wat op was vanuit Ierland na Sussex in Engeland om by Hertog Henry van Arundel Castle te werk op die aartappellande. Haar nuwe werkgewer was die vyftiende hertog van Norfolk. Hertog Henry was baie lief vir werk en het baie dikwels saam met sy arbeiders op die aartappellande gewerk.

Die meisie, haar naam word nie genoem nie, het op die stasie aangekom. Haar besittings was in ’n baie groot tas verpak – veels te swaar vir haar om te dra. Die kasteel was goed ’n paar kilometer heuwel-op en sy sou dit beslis nie alleen regkry met die swaar tas nie. Op die stasie het sy na ’n kruier geloop en vir hom gevra om haar te help: “Meneer, asseblief Meneer, sal u my nie met my tas help nie? Ek kan dit nie so maklik dra nie. Sien, my broer in London het my daar gehelp …” Die kruier het nie eers opgekyk nie. Hy was slegs in vet fooitjies geïnteresseerd. “Wat kan jy betaal?” wou hy kortaf weet.

“’n Sjieling (10c), Meneer, dis al wat ek het. Maar ek sal Meneer die hele sjieling betaal.” Die kruier het uitbundig gelag: “’n Sjieling! Jou klein dwaas. Jy’s van jou sinne beroof. Vir ’n sjieling sal ek nie eers jou tas tot in die straat dra nie. Wie dink jy is jy? Dra jou tas en skoert!”

Die Ierse meisie was verslae. Sy het gereken dat ’n sjieling baie geld was, daarom het sy dit so sorgvuldig gebêre.

Maar ’n man in gewone arbeidersklere het die hele petalje so eenkant staan en aanhoor. Hy staan nader en vra haar: “Kan ek dalk help, juffrou?” wou hy weet. “Ag, asseblief Meneer, ek moet na die kasteel gaan. Ek het daar werk gekry, maar my tas is so swaar. Kan Meneer my nie miskien help nie? Ek sal Meneer ’n sjieling betaal … (en sy wys vir hom die muntstuk)”

Die vreemdeling het haar tas stilswyend opgetel en langs die meisie begin aanstap na die kasteel. Voor die poort van die kasteel het die meisie vasgesteek en gesê: “Toemaar Meneer, hiervandaan sal ek self regkom.” Sy gee hom die muntstuk en hul groet. Die man stap toe aan, na die aartappellande. Sy dink toe maar dat hy ook een van die arbeiders is.

Die volgende oggend moes sy voor die hertog verskyn. Sy stap deur die sale en verkyk haar aan die eeue-oue skatte wat deur geslagte van ridders versamel is. Uiteindelik swaai die swaar houtdeure oop en daar staan die hertog voor haar. Geskok kyk sy na hom … dit is die man wat haar tas help dra het en sy het hom nog met ’n sjieling betaal ook! Die hertog het net geglimlag en gesê dat hy graag mense help en hulle het mos vir ’n sjieling ooreengekom.

’n Pragtige verhaal van iemand wat groot is, maar nie bang is om te dien nie. Die hertog het nie oor die kop van die diensmeisie gekyk nie. Hy het in haar oë gekyk en was bereid om as geskenk vir haar te help met die tas. Hy het ’n mooi gebaar getoon deur so ’n geskenk vir haar te gee.

Materiële geskenke is alles goed en wel, maar jou man, jou vrou, jou kind, jou medemens en die vreemdeling wil graag ervaar dat ons onsself gee. Dit is die diepste bewys dat ons hulle waarlik liefhet.

Mag ons ook in die naderende Adventstyd ervaar en leer om onsself vir ander te gee as geskenk. Mag ons dit ook toepas elke dag van die jaar.

Moenie koppe was nie, maar was voete. Eers dan word jou lewe ’n geskenk aan ander. Gee met jou lewe goeie geskenke aan ander.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Hoogmoed en nederigheid is teenpole

Skriflesing: Jesaja 2: 11 – 17, Jesaja 10: 33 – 34  en Jesaja 11: 1 – 10

Daar is ’n spreekwoord wat sê dat alle hoogmoed tot ’n val kom. Miskien het hierdie spreekwoord sy ontstaan uit die boek Jesaja. Die boek Jesaja handel oor die ongelooflike hoogmoed van die volk Israel in die tyd van die profeet Jesaja.

Jesaja praat in die oorspronklike Hebreeus van die “hoë oë van mense” wat afkyk op ander. Daarmee bedoel hy dat mense nie meer opgekyk het nie, nog minder rondgekyk het na ander, maar eerder neergesien het op ander mense.

Hulle het die wese en weduwees nie meer raakgesien nie. Hulle oë het nie meer nat geword as hulle lyding sien nie. Hulle sien net splinters raak in die oë van ander. Reg en geregtigheid het vir hulle niks meer getel nie.

Al wat vir hulle getel het, was hul persoonlike rykdom, eie aansien en gemak. Hulle het vergeet van hulle mede-Israeliet.

Jesaja gebruik verskillende woorde vir die begrip hoogmoed. Dit wissel van “hoog wees” en “trots” en “arrogant” en “meerderwaardig” en selfs “verhewe”. Hoogmoedige mense is geneig om die “hoogtes” te bestyg om ander gode te aanbid. Daarom lees ons van verskillende heiligdomme op hoogtes wat mense gebou het om hulle afgodsbeelde te bou. ’n God wat jy self bou, besit jy ook, kan jy manipuleer … en dit pas in die kraal van ’n hoogmoedige mens.

Die uitvinders van hoogmoed was natuurlik Adam en Eva. Hulle wou soos God wees, daarom het hulle geval vir die duiwel se set dat as hulle die verbode vrug sou eet, hulle soos God sou wees.

Kain het sy broer Abel ook doodgeslaan omdat hy hoogmoedig jaloers was dat die Here sy broer Abel se offerande aangeneem het en nie syne nie.

Hoogmoed is egter ’n tydlose sonde. Hoogmoed veroorsaak rusie en oorlog. Telkens in die geskiedenis lees ons van die hoogmoed van een mens of ’n volk oor ’n ander, byvoorbeeld:

  • Slawerny – ontworteling van mense en die neersien op ander mense, sou hulle objekte wees
  • Brittanje wat groot leed vir die Afrikanervolk besorg het in die Anglo-Boere Oorlog
  • Hitler en sy Nazi-idees wat gelei het tot die dood van miljoene Jode en ’n vernietigende wêreldoorlog
  • Kommunisme wat die wêreld wou beheer
  • Afrikaner-nasionalisme wat neergesien het op ander mense, as sou hulle tweede-klas mense wees
  • Swart-nasionalisme wat glo “Black is beautiful” en wittes wil verdryf
  • Rusland wat die Oekraïne binnegeval het
  • Haat tussen die Israeliete en Palestyne in die Gaza strook

Hoogmoed verdryf selfs geslagte uitmekaar:

  • Manlike chauvinisme wat die vrou tweede klas wil stel en as ’n gebruikersartikel wil sien
  • Feminisme, wat natuurlike geslagtelikheid wil negeer

Hoogmoed verdryf nie net mense nie, dit verdryf God ook. Daarom het Israel afgode op die hoogtes gebou, daarom streef die mens vandag na geld, roem en status.

As jy nie geld het nie, is jy niks. As jy nie mooi en slank is nie, is jy nie in nie. As jy nie die regte vriende op die regte plekke het nie, het jy geen invloed nie. As my kind nie presteer in akademie of sport nie, is hy/sy een van die valetjies in die skool.

Geld, skoonheid, prestasie, invloed – dit tel … dit word ons god.

Ons kan kloneer, harte oorplant, ons kan in vitro bevrug en mense se lewens verleng, ons kan wolkekrabbers tot aan die hemel bou en met internet word die wêreld skielik ’n klein dorpie. Kunsmatige intelligensie is nou die nuwe gons-woord. Ons kan selfs ons eie Armageddon skep met kernwapens.

Daarom kyk ons nie meer op na God nie, ook nie meer rondom ons na ander mense nie. Nee, ons kyk afwaarts na hoe ons die wêreld en ander mense kan gebruik en manipuleer.

Ook in die kerk gaan dit nie veel beter nie. Om die eerste Nagmaalstafel wonder die dissipels wie gaan hulle voete was en wie gaan aan die Here se regterkant sit. Daarom het die kerkgeskiedenis ook maar op elke bladsy sy paragrawe van menslike hoogmoed wat die Evangelie in skaak wil sit.

Dan sê God baie duidelik dat Hy alle hoogmoed tot ’n val sal laat kom. Jesaja beskryf hoe die volk Israel afgekap sal word soos ’n boom deur Assirië. Hulle maaksels, hulle torings en skansmure en handelskepe sal vergaan. Politieke en ekonomiese stelsels sal afgebreek word.

Hulle wat selfversekerd lewe sal van niks meer verseker wees nie.

Vers 19 sê die hoogmoedige mens sal soos ’n velddier in gate kruip om van sy oordeel weg te kom. Ons silwer en goud waarvoor ons so werk en so leef, sal so nutteloos wees soos die outydse goed op die solder, waaroor die rotte en vlermuise waak. So sal ook die aandelebeurs wisselvallig wees.

Op daardie dag sal almal weet dat daar net een God is, naamlik die Almagtige.

Die volk Israel het dit onder die Assiriërs ervaar, hoe hulle soos ’n boom afgekap word en van niks meer seker is nie. Daar staan in Jesaja 10: 33 – 34 die volgende: “ Kyk, die Heer, die Here, Heerser oor alle magte, gaan met skrikwekkende krag die blaredak wegkap; dié wat hoog uitgegroei het, word afgekap, die hoës sink neer. Hy sal die struikgewas in die bos uitkap met ’n ysterwerktuig, en die Libanon, die magtige, sal val.”

Ek dink baie van ons Afrikaners voel ook so. Ons voel ons is afgekap en van niks meer seker nie. Die toekoms het vir ons duister geword. Ons selfversekerdheid  eens het plek gemaak vir onsekerheid.

Maar Jesaja het ook ’n genade-kant. God bly nie vir altyd kwaad nie. Jesaja sê dat die volk Israel soos ’n afgekapte boom lê, maar uit sy stam se wortels sal ’n nuwe loot spruit wat vrugte dra. Daar staan in Jesaja 11: 1 die volgende: “Maar ’n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.”

Uit hierdie loot is Jesus Christus gebore. Hy sal regspreek en vir die armes ’n billike verhoor gee. Hy sal barmhartigheid betoon. Daar sal weer vrede wees en die wolf sal nie oor die skaap heers nie en die beer nie oor die koei nie. Daar sal nie meer hoogmoed wees nie, want Fil 2: 7 sê dat Jesus Christus soos ’n dienskneg, soos ’n slaaf, gekom het.

Jesus Christus  het vir ons kom leer om op te kyk na ons Vader en neer te buig sodat ons ons medemens reg in die oë kan kyk. Sodat ons oë soos syne nat kan word as ons lyding sien. Dat ons ore oop sal wees om die gekerm van die mens in nood te hoor. Dat ons oë oop sal wees om die seer in ’n ander een se lewe raak te sien. Dat ons hande oop sal wees om te help, te genees en te heel.

Daarom het die Here Jesus op sy knieë gegaan met die eerste Nagmaal en geskuifel van stinkende voet tot stinkende voet en hulle almal gewas. Die volgende dag, op Goeie Vrydag het hy ons stinkende harte gewas … sodat ons nederig kan wees soos Hy.

Hy het ons geleer om op te kyk en te bid: “Onse Vader” en Hy het ons geleer om op ons knieë te gaan en vir mekaar te sê: “ My broer, my suster”. Daarom mag ons nooit weer meerderwaardig afkyk op ander nie.

By een geleentheid het ’n orkes Handel se Messias so pragtig aangebied dat die applous dawerend was, en almal na die komponis gedraai het. Handel het opgestaan en met sy vinger stilweg boontoe beduie dat die eer aan God gegee moet word eerder as aan homself. Dit is presies wat die Maagd Maria gedoen het toe sy met Elizabeth gepraat het. Dit is asof sy sê: “Moenie my loof nie, maar loof die Here wat my Verlosser is.”

Die tak wat die meeste vrugte dra, buig die laagste na die grond terwyl die tak met min of geen vrugte regop staan. So is dit met nederigheid en verwaandheid. Nederigheid dra die gewig van wysheid saam terwyl hoogmoed min vrugte voortbring.

’n Groep Amerikaners het Kaïro in Egipte verlaat om op ’n reis deur die woestyn te gaan. Hulle het vir hulle waterhouers gekoop om water in te vervoer. Elkeen het die soort houer gekies waarvan hulle die meeste gehou het. Een het koperpotte gevind. ’n Ander het porseleinhouers van seldsame mooiheid gekoop. ’n Derde het egter ’n paar gewone erdebottels geneem. Die pad deur die woestyn was lank en vermoeiend. Die hitte was intens. Elke druppel water was van waarde. Die koperhouers het egter verhit en die water het ’n vreemde kopersmaak gekry. Die duur porseleinflesse het in die hitte gekraak en die water is verlore. Maar die gewone erdebottels het die water suiwer en vars gehou tot die reis se einde.

Die grootheid van ’n man word bewys deur sy nederigheid. In die woorde van ’n ou Filippynse gesegde: “Hoe hoër die bamboes groei, hoe laer buig dit.”

’n Dogtertjie geklee in ’n langbroek het by ’n troeteldierwinkel ingestap en gevra of hulle ’n hondjie met ’n lam been het. Sy het ’n dollar gehad waarmee sy dit wou koop. Die verkoopspersoon was verbaas dat die dogtertjie ’n lam hondjie wou koop. Sy het gevra: “Hoekom, wil jy nie ’n hondjie koop wat kan rondhardloop en speel nie?” “Nee, ek wil ’n kreupel een hê.” Uiteindelik het sy een been van haar langbroek opgetrek en haar stut en prostese gewys en gesê: “Ek loop ook nie so goed nie.” Die dogtertjie met ’n lam been het haar met ’n lam hondjie geïdentifiseer. Die Here Jesus het ’n mens geword en ’n menslike liggaam met sy swakhede op Hom geneem om Homself met ons in ons liggaamlike, emosionele en geestelike swakhede te identifiseer (Heb 4:15). Daarom glo ons in die menswording van Christus en Sy menslike natuur, naas Sy Goddelike natuur. Jesus Christus het Homself verneder deur die menslike natuur aan te neem.

Hoogmoed kom tot ’n val. Nederigheid laat jou laag buig van al die vrugte van die Gees wat jy dra.

Hoogmoed maak jou steriel. Nederigheid maak jou vrugbaar.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Van begeer na verlang

Skriflesing: Psalm 42 en Psalm 43

Verlang mense deesdae nog? Hoe dikwels pak die verlange na iemand spesiaal ons nog beet? Vroeër was verlange ’n baie meer algemene ervaring. In toeka se tyd was daar nog nie telefone en elektroniese kommunikasie soos WhatsApps nie. Selfs briewe het maande per skip geneem om hul bestemmings te bereik. Daarom het ouer mense meer dikwels die ervaring gehad wat verlang beteken.

Maar verlang ons nog na God? Wanneer laas het ons heimwee gehad, gesmag, gehunker en verlang na God se nabyheid? Wanneer het ons gehunker na ’n diepe ervaring van God se teenwoordigheid in ons lewe?

Vroeër was verlang vir baie gelowiges ’n ervaring waarmee hulle vertroud was. Daar was selfs ’n Verlang-Sondag, die sewende Sondag na Pase, die een tussen Hemelvaart en Pinkster, die sogenaamde Exaudi-Sondag, ’n soort heimwee-Sondag. Die Here Jesus het opgevaar na die hemel. Hy was weg, skynbaar het Hy hulle verlaat.

Op hierdie Verlang-Sondag, heimwee-Sondag is daar veral gepreek oor Psalm 42 en Psalm 43 wat eintlik ’n eenheid vorm. In hierdie twee Psalms verlang die Psalm-skrywer met ’n dubbele verlange: na gemeenskap met God en na gemeenskap met die mense van God …

Die Psalmdigter voel soos ’n dorstige dier, ’n hert, ’n wildsbok wat smag na waterstrome. Ja, so smag die Psalmdigter na gemeenskap met God en met sy medemens.

Daar staan in Psalm 42: 2 – 3 die volgende: “Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan en voor God verskyn?” Die Psalmdigter verlang na waterstrome, terwyl hy letterlik by die fonteine sit, waar die water opborrel. Daar staan in Psalm 42: verse 7 – 8 die volgende:  “My God!   My siel kwyn weg in my, daarom dink ek aan U hier uit die Jordaanstreek   en by die Hermonberge, hier van berg Misar af. Die diep water laat die geluid van u watervalle weergalm. Al u deinings en golwe het oor my gespoel.” Die Psalmskrywer sit as’t ware by die waterstrome. Hy begeer dus nie letterlike water nie, maar hy verlang na die geestelike water. Sy verlange is na God en die tempel.

Ons leef egter nie in ’n verlang-wêreld nie. Ons leef eerder in ’n begeer-wêreld. In die plek van verlange na God en na mekaar het die begeerte na dinge en na onsself gekom. In plaas van om te verlang na God en na ons naaste, begeer ons goed, eer en sukses en veral ons eie belange.

Ons begeerte is na dinge en na afgode. Daarom sê Martin Luther dan ook dat die mens se hart ’n afgodefabriek is wat gedurig besig is om afgode te maak. Hierdie afgode word dan deur ons begeer.

Ons lê nie meer wakker van verlange nie, maar ons lê wakker van begeertes, begeertes na dinge en na onsself. Dit was nooit so erg in die geskiedenis van die wêreld as juis nou nie. In die vroeë kerk, in die armer kerke, was die verlange na God en na die medemens baie sterker as wat dit vandag is.

’n Ou kerkvader uit Noord-Afrika, Augustinus, het een maal gesê: “ God het ons vir Homself gemaak, en ons harte bly onrustig tot dit rus vind in Hom”.

In Psalm 51 bely koning Dawid sy skuld voor die Here. Hy weet hy het erg gesondig deur met Batseba owerspel te pleeg en haar man Uriah te laat vermoor. In die mooi Psalm begeer Dawid nie meer sy koningskap of sy rykdom nie. Hy verlang egter om een met God te wees en om weer die nabyheid van die Here te ervaar. Hy verlang daarna dat God nie van hom sal wyk nie, maar met hom sal wees elke dag.  Sy begeertes na Batseba het nou plek gemaak vir ’n verlange na God.

Dink maar aan die beroemde boek van John Bunyan Die pelgrim se reis na die ewigheid. Vir ’n lang tyd was dit die mees gelese boek ter wêreld. Waarom? Dit is ’n boek van soeke, van strewe na gemeenskap met die lewende God.

Dink maar aan die geestelike dissipline van “Practising the presence of God”, waardeur mense voortdurend daarvan bewus gemaak word om te konsentreer op die nabyheid van God in hulle lewe. Vandag verskyn daar ook uitstekende boeke op die boekemark wat handel oor meditasie; dit is om na te dink oor God en God te beleef.

Europa is ’n voorbeeld waar die verlange na God gesterf het en die begeerte na lewenstandaard, rykdom en tegnologie toegeneem het. Verlange het plek gemaak vir begeertes.

’n Mens kan die wortels van ’n plant vergelyk met die verlange na God, wat ander mense nie kan raaksien nie. Die stam, takke en die blare wat ander mense kan raaksien, is die begeertes van die mens. Die belangrikste deel van ’n plant is sy wortelstelsel. Jou verlange na God en jou medemens moet belangriker wees as jou begeertes na goed, besittings en jou drome. 

Verlang-mense is soekende mense, soekende na God, maar ook soekend na ander mense. Begeer-mense leef in ’n wegvlug-of-onttrek-wêreld. Hulle wil nie betrokke raak nie. Hulle is afsydig.

Miskien is juis die tipiese van vandag se mense dat hulle met ’n stuk ongeërgheid, met ’n traak-my-nie-agtigheid leef. Ons houding is “Who cares”? Wat die Middeleeuse kerk die doodsonde van askedia genoem het, is vandag die “aanvaarbare” praktyk van afsydigheid en belangeloosheid teenoor God en ander mense.

Ons leef in ’n tyd van groeiende indiwidualisme. Ons begin toenemend los van mekaar te leef. Ons is nie meer beskikbaar vir mekaar nie. Daar is te veel goed waarmee ons ons besig hou dat daar nie tyd is vir ander mense nie.

In die proses ervaar ons God en ons naaste as ’n bedreiging, eerder as ’n verryking. My naaste word my mededingers. Hulle word lastig, hulle mors my kragte, energie, besittings en tyd. Daar is nie meer tyd oor vir my medemens nie.

Ons is nie meer verlang-mense nie, ons het begeer-mense geword. Ons verlang nie meer na God en na ons medemens nie. Nee, ons begeer dinge en ons eie belange. Daarom is ons so arm in ons geestelike lewe, in ons gemeenskap van gelowiges en in ons onderlinge sorg aan mekaar.

Daarom is dit goed om myself weer te ondersoek en uit te vind of ek werklik nog verlang na God se teenwoordigheid in my lewe en na gemeenskap met my medemens. Of het ons begeer-mense geword wat dinge en onsself eerder begeer? Waaroor tob ons die meeste, oor God of oor dinge? Wat soek ons die meeste, vir God en my medemens of my eie belange?

Daarom moet ons begeertes verander in verlangens. Ek moet minder aardse goed begeer en meer en meer na God en die geestelike seëninge verlang.

Mag die Heilige Gees ons begeer-harte verander in verlang-harte. Verlang-harte wat weer verlang daarna om God te beleef en te ervaar; verlang-harte wat weer begeer om ’n medemens vir ’n ander te wees. Amen

(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Swak begin en sterk geëindig

Skriflesing: Rigters 11: 1 – 15 en Rigters 11: 28 – 40

Die verhaal van Jefta is die verhaal van ’n man wat met ’n agterstand gebore is. Sy gene, maar ook sy omgewing, het vir Jefta gedoem tot ’n lewe van mislukking.

Ons lees net die naam van Jefta se pa. Sy pa se naam is Gilead. Een nag het hy plesier gaan soek by ’n prostituut. Uit die plesier is ’n hoerkind, ’n sondekind, gebore met die naam van Jefta. Gilead het ook nog twee seuns by sy eie vrou gehad.

Jefta die hoerkind, die sondekind, word gou-gou uitgestoot. Jefta se twee halfbroers wil niks met hom te doen hê nie. Hulle wil nie hulle erfporsie met hierdie sondekind deel nie. Hy beland op die straat. Die hoerkind, die sondekind, word nou ook ’n straatkind. 

In die strate word hy bevriend met ’n klomp leeglêers. Sy berugtheid groei. Jefta, die hoerkind, die sondekind, die straatkind, die leeglêer … Gou word hy ook die leier van die bende leeglêers, ja, hy word ’n bendeleier. Hulle maak hulself skuldig aan rebelsheid, strooptogte en misdaad.

Jefta die hoerkind, die sondekind, die straatkind, die leeglêer, die bendeleier. Jefta sou pragtig inpas by die bendeleiers van die Kaapse vlakte. Hy is ’n uitstekende kandidaat om ’n motorkaper en ’n dwelmbaas te word. Hy sou vir Stagiet iets kon leer. Suid-Afrika sou sy misdaad-paradys wees.

Jefta, jou lewe is gedoem. Dit is die einde. Die volgende is om ’n tronkvoël te word. Hy sou dalk nog ’n bendeleier in die tronk ook word. Maar moenie bekommerd wees nie. Suid-Afrika is misdadiger-vriendelik.

“Wanneer ’n mens egter dink dit is ‘die einde’, blaai God om en skryf ‘die begin’”. (Andries Cilliers)

God gee vir Jefta ’n ander roeping, naamlik om die leier van God se volk te word. Nie meer ’n bendeleier nie, maar ’n leier van God se mense. Jefta se roeping is nou nie meer misdaad nie, maar om God se volk te lei tot oorwinning oor die Ammoniete.

Aanvanklik was Jefta ontsteld oor sy roeping. Hy antwoord die oudstes in Rigters 11: 7 as volg: “Maar Jefta het die oudstes van Gilead geantwoord: ‘Is dit dan nie julle wat my verag en uit my vader se huis weggejaag het nie? Waarom kom julle nou na my toe, noudat julle in die nood is?’”

Maar die Gees van God het van hom besit geneem om sy nuwe roeping uit te voer. So verander hy dan as mens:

Die hoerkind, die sondekind … word ’n kind van God.

Die straatkind … word ’n paleiskind.

Die leeglêer … word ’n geroepene.

Die bendeleier … word ’n volksleier.

Die uitgestotene … word die gewilde leier.

Wanneer God jou lewe aanraak, verander jou hele lewe. Jy kry ’n splinternuwe identiteit. Ja, Jesus se kruis deurkruis ons swak gene en ons swak omgewing. God maak van agtergeblewenes … voorlopers.

Nie die ANC of president Cheril Ramaphosa kan agtergeblewenes ophef nie. Alleen hulle wie se agterstand deurkruis word deur Jesus se kruis, kan voorlopers word.

En wat ’n voorloper was Jefta nie. Hy onderskei hom as ’n uitstekende onderhandelaar, diplomaat, politieke ontleder en militaris. Hy sien dwarsdeur die skelmstreke van die Ammonitiese koning, want hy ken elke skelmstreek van die onderwêreld. Hy onderskei hom as militaris, want hy weet alles van bendegeweld. Hy verslaan die Ammoniete en vir ses jaar tree hy as rigter op van die volk van God.

Al fout wat hy maak, is dat hy God wantrou om hom te help. Maar ook dit is te verstane, want hy kom uit die onderwêreld waar almal mekaar wantrou.

Hy maak ’n onnodige gelofte, naamlik dat as God hom help, hy die eerste persoon wat hom tegemoet sou hardloop ná die oorwinning, sou offer. Sy dogter hardloop hom eerste tegemoet. Hy moes haar offer … sy mog nooit geslagsgemeenskap met ’n man hê nie. Sy wantroue in God het hom duur te staan gekom.

Ja, dit is juis ons wantroue in God wat ons siek maak. Ons word so dikwels wantrouig in God as droogtes ons tref of as die politiek skeefloop. Ons word morpotte en verbitterde mense.

Jefta begin met ’n agterstand, maar God wis die agterstand uit. ’n Agtergeblewene word ’n rigter van God se volk.

Oorerwing en omgewing spreek beslis nie die laaste woord nie. In Jesus Christus se geslagsregister lees ons van ’n prostituut. Jesus het mens geword in ’n agtergeblewe stal tussen skape en donkies. Hy het die swak sondige menslike genetiese geen van Maria ontvang, maar Sy Goddelike geen het die sondige geen kom deurkruis, sodat Hy sondeloos was en is.

In Moses se geval het hý ook swak begin. Hy het ’n Egiptenaar doodgeslaan en daarna woestyn toe gevlug. Baie jare later het God hom kom roep by die brandende doringbos. Die doringbos het nie uitgebrand nie. Moses moes selfs sy skoene uittrek, want die grond waarop hy gestaan het, was heilige grond. Toe gee die Here vir Moses ook ’n nuwe roeping, naamlik om Sy volk uit Egipte te lei, na die beloofde land.  

Ook Jesus se dissipels het swak begin, maar het na Sy Hemelvaart, kragdadige en onverskrokke apostels geword, waarvan die meeste ’n marteldood gesterf het.

Die Here het ook eenmaal vir Augustinus, die onverskillige jongman wat gehoer en gedrink en sy lewe vermors het, aangeraak. Op ’n dag het hy kinders hoor sing: “ … tola lé, tola lé”, wat beteken : “ … neem op en lees”. Omdat hy geen kinders gesien het nie, was hy seker God praat met hom. Hy het onder ’n vyeboom neergeval en die boek Romeine begin lees. Hy het tot bekering gekom en een van die grootste kerkvaders van alle tye geword. Hy en sy buite-egtelike seun is saam gedoop. Sy lewe het swak begin, maar het kragtig geëindig.

Daar is ’n bekende aanhaling van Oscar Wilde: “Every saint has a past, every sinner has a future”.

Daar is soveel verhale van mense wat met swakheid en ’n agterstand gebore word en wat later suksesvol eindig. Daar is duisende verhale van mense wat uit swak omstandighede kom, maar deur die Here se genade uitstyg en suksesvol eindig.

Die Here Jesus het toe Hy op aarde was ook al die siekes, randfigure en sondaars wat swak begin het, opgesoek en saam met hulle geëet en hulle verander sodat hulle sterk geëindig het. Dink maar aan Saggéüs wat swak begin het, as ’n skelm tollenaar en uiteindelik na sy bekering alles teruggegee het aan die mense wat hy onregverdig besteel het.  

Dalk voel u dat die lewe vir u ook ’n streep getrek het. Dalk verwyt u u genetiese samestelling of dalk verwyt u die omgewing en die gebrek aan geleenthede wat u gehad het. Dink dan egter aan Jefta. Jefta se agterstand was sy leerskool, sodat hy later ’n suksesvolle rigter geword het.

Aristoteles, die groot filosoof, het ’n probleem met hakkel gehad. Hy het langs die see geloop en met die see gepraat, totdat hy ophou hakkel het. Hy het een van die grootste redenaars geword.

God se kruis deurkruis my swak gene, my agterstande en my omgewing … sodat ek in Hom ’n oorwinnaar kan wees.

Jefta het swak begin en sterk geëindig. Mag u en ek ook sterk eindig, wanneer ons sterf.                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Cilliers, A. 1998. God skryf ‘n storie. Kaapstad: Lux Verbi

Albasters of lewende lote

Skriflesing: Johannes 15: 1 – 8
Vanoggend is ons bymekaar vir die doop van Luhan Bosch, die tweede seuntjie van Hannes en Charleé Bosch. Wat ’n wonderlike geleentheid is dit nie.

’n Mens word deel van Christus se kerk met jou doop en nie met jou belydenisaflegging nie. Met jou belydenisaflegging aanvaar jy net die verantwoordelikheid van lidmaatskap van die kerk. Maar met jou doop word jy volle deel van die kerk en die liggaam van Christus.
Die tema van vandag se doop is dat die doop jou nie soos ’n albaster in die kerk maak nie, maar eerder soos ’n lewende loot wat groei uit die wingerdstok.
Toe ek ’n skoolseun was in die 70’s was die speel van albasters voor die skool begin en tydens pouse hoog in die mode. Elke seun het ’n sakkie albasters gehad en as jy baie albasters gehad het, was jy ryk. Met die speletjie kon jy ook van jou maats se albasters wen en dan het jy regtig baie albasters gehad.

In ons individualistiese moderne beeld van geloof, sien ons onsself dikwels as albasters wat uniek uitgesoek, gered en bewaar is. In die albaster-geloof glo ons dat ons gedoop is en heeltemal onafhanklik van mekaar deel vorm van die Koninkryk van God. Alhoewel ons saam bewaar word, is ons heeltemal onafhanklik van mekaar. In ’n albaster-geloof is ons lede van die kerk, maar nie geloofsfamilie van mekaar nie. Ons plaas die mooiste Christelike goed op Facebook en Instagram, maar ons leef nie ons geloof in die gemeente en binne die gemeenskap van gelowiges uit nie. Ons is nie aan mekaar verbind nie, ons staan nie tot mekaar in ’n verhouding nie, ons is net lede van die kerk. In ’n albaster-geloof is ons gered, ter wille van onsself, nooit ter wille van ’n gemeenskap nie.

Die Bybelse beeld wat die doop die beste verduidelik is die wingerdstok en lote. Die Vader is die landbouer, Christus is die wingerdstok en ons as gelowiges is die lote wat uit die wingerdstok groei. In die doop staan die dopeling met Christus in ’n lewende verhouding, soos die loot bioties met die wingerdstok verbind is. Die loot is intrinsiek deel van die wingerdstok. So maak die doop jou intrinsiek deel van ’n lewende verhouding met Christus Jesus, die Wingerdstok. Die ongelowiges wat tot bekering kom, word weer as lote ingeënt op die wingerdstok, wat Christus is.
Ons as geloofsouers is lewende lote wat groei uit die wingerdstok Jesus Christus. Ons kinders wat gedoop is, groei uit ons lote en daarom loop die sap wat uit die wingerdstok deur ons as ouers loop, ook deur ons kinders. Daarom moet ons kinders die seël en teken van die doop ontvang as bewys dat hulle ingelyf is in Christus, wat die wingerdstok is.
Voorbeelde van gesinne waar ouers en kinders saam gedoop is, kan ons vind in Handelinge 16: 15 waar Lidia en haar huisgesin gedoop is. In Handelinge 16: 33 lees ons van die tronkbewaarder in Filippi en sy huisgesin wat gedoop is. In 1 Kor 1: 16 lees ons hoedat Stefanus en sy huisgesin gedoop is. Daarom was kinderdoop en familiedoop algemeen in die Nuwe Testament.
Die doop maak ons deel van die kerk en daarom lewe ons in die gemeenskap van gelowiges. Dit bely ons in die Credo van die kerk, naamlik: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.” Verbondsdoop skep die gemeenskap van gelowiges, wat uit lewendige goeie verhoudings bestaan.
Daarom kan ons nie ons geloof individualisties of privaat uitleef nie. Geloof is ’n openbare belydenis wat in die publieke sfeer uitgeleef moet word. Daarom sê Jesus is ons “sout van die aarde” en “lig vir die wêreld”. Geloof en godsdiens is nie iets wat jy in die privaatheid van jou huis uitleef nie, maar dit is eerder ’n publieke uitlewing van jou geloof in praktiese alledaagse situasies.
Daarom kan ons ook nie die doop bedien in die privaatheid van slegs die familie en vriendekring nie. Dit is nie ’n privaat aangeleentheid nie, maar hoort in die erediens van die gemeente, want die dopeling word ingelyf in die gemeente en geloofsgemeenskap. Dit word in die openbaar gedoen, soos ons geloof ook in die openbaar uitgeleef word. Daarom moet die dopeling in die kerk en in die erediens grootword.
In die Anglikaanse kerk is die gebruik dat aan die begin van die erediens die baba in die ingangsportaal van die kerk deur die priester gedoop word. Dan dra die priester die dopeling die erediens binne en word die dopeling voorgestel aan die gemeente as die nuutste lidmaat van die kerk. Deur die doop word die dopeling deel van die gemeente.
Daarom geld die doopbelofte nie alleen vir die ouers nie, maar ook vir die gemeente. Beide die ouers en die gemeente moet so leef dat dit vir die dopeling maklik is om Christus te volg. In Mat 18: 6 – 7 staan daar: “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n maalklip van ’n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom; nogtans, wee die mens deur wie die struikelblok kom.”
Daarom mag ouers en die gemeente nie hulle kinders laat struikel of ’n struikelblok in hulle pad sit nie. ’n Gemeente laat die dopeling en die kinders struikel as die gemeente oneg is of nie die warmte van die gemeenskap van gelowiges uitstraal nie. Ouers laat die dopeling en hulle kinders struikel as hulle wêreldgesind leef en die voorbeeld van Christus nie uitleef in die ouerhuis nie.
Ons praat dikwels so van die gevaar van verkeerde vriende vir ons kinders. Maar daar is ook die gevaar van verkeerde ouers wat wêrelds leef en nie hulle doopbelofte uitleef nie. ’n Kind copy en paste ook die verkeerde goed wat hulle in hulle ouers se lewe sien. Daarom moet ons erns maak daarvan om voorbeeldig voor ons kinders te leef.
Die sap wat deur Christus, die wingerdstok, stroom, vloei na die lote en ook na ons kinders. Dit moet lei tot vrugte (druiweoes). Daarom moet ons kinders ook die vrugte van die Gees uitleef en moet hulle leer wat die vrugte van die Gees is. Daarom moet ons as sap, geestelike voeding vir ons kinders gee.
Daarom het die ouers en ook die gemeente ’n geweldige verantwoordelikheid om kinders op die regte pad te hou en hulle vrugbaar te maak vir die Koninkryk van God.
’n Wingerd of boom moet gedurig gesnoei word om meer vrug te dra. Wanneer ’n wingerd gesnoei word, dra dit meer vrug. Wanneer ’n boom, soos ’n Kareeboom, nie gesnoei word nie, word dit ’n lelike bos. Maar as jy ’n Kareeboom gereeld snoei, het die boom ’n pragtige vorm en sê ons dit is ’n mooi boom. Daarom moet ons elke dag ons kinders snoei met die Woord en tugtiging, sodat hulle eendag pragtige jongmense kan word.

Die doop maak nie van ons albasters, waar elkeen maar indiwidueel kinders van God is nie. Nee, die doop plaas ons as loot in verhouding met Christus, die Wingerdstok, en in verhouding met die ander lote, die gelowiges. In die doop en die Evangelie gaan dit oor verhoudings. Luhan word vandag in ’n verhouding geplaas met Christus, die Wingerdstok, en met sy mede-gelowiges, die ander lote. Dit dien vir ons tot geloofsversterking en tot troos.
Hannes en Charleé, mag julle twee seuns eendag twee Godsmanne wees wat die Christelike geloof uitleef in die wêreld. Dan sal julle nooit bekommerd oor hulle wees nie.
Kinders is ’n sieraad vir hulle ouers en grootouers. Koester hierdie sieraad.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

God is ons bergvesting, ons skaduwee en ons skuil onder Sy vlerke

Skriflesing: Psalm 91: 1 – 16

Psalm 91 is gebore vanuit ’n plek waar hoop nodig was.  Baie mense het al na Psalm 91 as hulle Rescue 911 verwys. Veral vers 1 en 2 van Psalm 91 is vandag ons fokus. Dit lees as volg:  “Hy wat in die beskutting  van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee   van die Almagtige. Ek sê vir die Here: ‘My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!’

Waarom bou ’n mens ’n huis? ’n Mens bou ’n huis om verskillende redes. Natuurlik om koelte te verskaf in somerhitte en warmte in die winter. ’n Huis hou reën en hael uit. ’n Mens kan ’n huis sluit en sodoende jou lewe en besittings beskerm.

In die Bybelse tyd het ’n stad die funksie vervul wat ’n huis vandag vervul.

In Bybelse tye was ’n stad dikwels op ’n berg of heuwel gebou vir beskerming. Die stad was verskans met hoë mure. Daar was wagte op die mure. Daar was ook dikwels ’n grag of diep sloot buite die stadsmure, sodat stormramme nie die muur kon beskadig nie. Daar was ook ’n stadspoort wat in die nag gesluit is, om almal in die stad veilig te hou. Elke stad het ook gesorg dat dit genoeg water en kos het indien die stad ’n lang tyd onder beleg sou wees. Dink maar aan die stad Masada, wat baie lank weerstand kon bied teen die vyand.

In die nag het die stad beskerming gebied teen ongediertes en rowers en die koue van die nag. In die dag het die stad koelte verskaf, ’n plek van water en kos, asook beskerming teen die vyand.

In vers 2 lees ons dat die Psalmdigter sê dat God vir hom soos ’n bergvesting, soos ’n stad is. Hy kan dag en nag na God toe vlug. God is ’n bergvesting en ’n skuilplek teen: ouderdom, siekte, droefheid, swakheid, probleme en emosionele storms. God is ’n bergvesting waar daar water en voedsel is en waar ’n mens kan rus teen somerhitte.

God is ons bergvesting, ons skuilplek. Ons kan na Hom toe vlug – Hy sal die poort optrek as ons binne is.

In plaas van God ons bergvesting te maak, maak ons baie keer ons eie skuilplek. Dit is gevaarlik as my plaas, my finansies, my beroep, my besittings, my gesin of enigiets anders my bergvesting en skuiling word. Dit is so goed jy maak van ’n paar geroeste sinkplate vir jou ’n plakkershuis om in te skuil as die gevaar dreig. Dikwels verkies ons om in “plakkerskampe” te woon, in plaas van die ewige bergvesting van die Here.

Vlug na die bergvesting. Vlug na God. Maak God jou skuilplek.

God kan op vreemde maniere jou Beskermer en Bergvesting wees, soos die volgende verhaal aantoon: “’n Rabbi is deur vervolging gedwing om sy vaderland te verlaat, volgens ’n antieke Hebreeuse verhaal, en om in verre lande rond te dwaal. Sy enigste aardse besittings, buiten die klere wat hy gedra het en ’n afskrif van die Skrif, was ’n lamp waarmee hy die Skrif kon bestudeer en ’n donkie waarop hy gery het.

Een aand laat, na ’n lang dag se reis, het hy op ’n klein dorpie afgekom waar hy skuiling vir die nag gesoek het. Die dorpenaars het hom egter weggewys. Die enigste skuiling wat hierdie moeë rabbi kon vind, was langs ’n muur wat ’n put aan die buitewyke van die dorp omring het.

Hy het probeer om die beste van die situasie te maak; hy het sy lamp aangesteek en uit die Skrif begin lees. Gou het ’n hewige wind opgekom en die lamp se vlam herhaaldelik doodgewaai. Omdat hy nie in die donker kon lees nie, het hy teen die muur gaan lê en probeer slaap. Sy rus is egter gou versteur deur die nabygeleë gebrul van ’n leeu. Hy het net betyds oor die muur gekyk om te sien hoe die leeu sy verskeurde donkie die bosse insleep.

Die rabbi was oorweldig deur benoudheid, hartseer en ’n gevoel van selfbejammering. Hy het probeer om tot God te bid, maar sy gebede is verhinder deur die baie probleme en verbittering  wat deur sy gedagtes bly gaan het. Uiteindelik, uitgeput, het hy in ’n diep slaap verval.

Die volgende oggend toe hy wakker word en van agter die beskutting van die muur uitkom, het hy ’n skokkende gesig gesien. Op die strate van die dorp lê die verminkte liggame van die dorpenaars; gedood deur ’n bose bende plunderaars wat gedurende die nag van die heuwels afgesak het.

Dit was eers toe dat die rabbi begin verstaan en sy verliese in perspektief stel. As die dorpenaars hom ontvang het, sou hy ook doodgemaak gewees het. As die leeu nie sy donkie doodgemaak en weggesleep het nie, het sy teenwoordigheid hóm dalk weggegee. As die wind nie herhaaldelik die lamp doodgewaai het nie, sou die plunderaars gekom het om hom ook dood te maak. Hy het ’n waardevolle les geleer: Soms kom groot wins uit groot verlies.” (Al Maxey) So is God dikwels op onverstaanbare maniere besig om ons te red en te bewaar.

Die Psalmdigter skryf verder dat om in God se bergvesting skuiling te vind, is om in die skaduwee van God te sit (vers 1). Jy moet net God volg, dan bly jy in God se skaduwee. Helena Smith skryf: “Om in iemand anders se skaduwee te leef, het ’n baie negatiewe konnotasie. Daar is egter Iemand in wie se skadu ek graag permanent wil bly. In Psalm 91: 1 lees ons: ‘Hy, wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige.’ Hoe bly ’n mens in God se skaduwee? Deur die hele dag naby aan die Here te bly en konstant met Hom te praat. Dit beteken dat jy jou dag met God begin. Dat jy oor Hom en met Hom praat en jou dag ook eindig deur met God te praat.”

“In Handelinge 5:15 lees ons dat selfs wanneer net Petrus se skaduwee op siekes geval het, hulle genees is. As die skaduwee van ’n apostel van die Here Jesus Christus dan soveel krag het om die goeie te laat geskied, hoeveel te meer dan die werklike skadu van God Almagtig.” (Gereformeerde Kerk Phalaborwa)

God sal vir jou ’n toevlug, ’n bergvesting,’n skuilplek en ’n skaduwee wees as jy God liefhet (vers 14). Jy moet as’t ware met lewensoorgawe lewe. Voorts moet jy God ken en met God ’n pad stap (vers 14). Die teks sê ook in vers 15 dat jy God moet aanroep.   

Daar is ’n stad op die berg waarheen jy kan vlug. Daar is ’n God waarheen jy kan vlug. God se skaduwee is daar om in te sit.

Psalm 91: 4 lees as volg: “Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. ’n Skild en ’n skans is sy trou.”

“Voëls se vere is ’n verstommende voorbeeld van God se kreatiwiteit. Die vere het ’n gladde asook ’n donsige deel. Die gladde deel van die veer het stywe baarde, wat waterdig is. Die donsige deel hou die voël warm, en saam beskerm albei dele van die veer die voël teen wind en reën. Kuikens is met dons bedek en hul vere het nog nie ten volle ontwikkel nie. Die moedervoël moet haar kuikens dus met haar eie vere in die nes oordek om hulle teen die wind en die reën te beskerm.” (Linda Washington)

So sal die Here ons ook beskerm onder Sy vlerke van genade.    

Dit is ons troos, dat ons in die bergvesting van God leef en in God se skaduwee sit en dat God se vlerke ons bedek. Daarom is ons ten volle getroos.                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lyding is nie God se wil nie, maar Hy gebruik dit tot my beswil

Skriflesing: Klaagliedere 3: 18 – 33

Daar is niemand van ons in hierdie kerkgebou vanoggend, wat nog nie gehuil het nie. Seerkry en swaarkry is deel van ons bestaan.

Fotokrediet: Paul Quenon

Hoor wat skryf Totius na die dood van sy kinders: “ O die pyngedagte: My kind is dood! … dit brand soos ’n pyl in my. Die mense sien daar niks nie van, en die Here alleen weet wat ek ly… Ek wou my ganse digkuns waag om ál my hartpyn uit te klaag; om in my klanke uit te sê, om soos in marmer vas te lê die beelt’nis van my pyn … wanneer ek dieper kyk en dink as wat ’n sondaar pas. En steek ek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas.” Kan u iets van die pyn in Totius se hart aanvoel? Tereg skryf hy dan ook dat hierdie wêreld nie ons woning is nie. Ja, ek wil amper sê dit is ’n wrede wêreld. Ja, ’n wêreld wat met sy kloue alles wat vir my liefdevol en kosbaar is, wil wegskeur. Dan bly net die pyn oor. Die waarom-vrae … Die hoekom-vrae …

Die pyn en gebrokenheid word werklik wanneer ’n klein kindjie sterf, wanneer jou geliefde jou ontval, wanneer natuurrampe alles wegvee, wanneer 130 miljoen Jode na die konsentrasiekampe toe is om te sterf, tydens die wreedheid van oorlog, werkloosheid, armoede, hongersnood, Vigs, stukkende huwelike en gesinne, motorongelukke, terreurdade en so kan ons die lysie langer maak.

Elke dag verloor mense hulle werk. Mense beleef erge finansiële probleme. Daar is soveel stukkende verhoudinge, verbrokkelde huwelike, siektes en daaglikse angs wat mense beleef.

Tereg sê Jeremia in vers 20: “As ek daaraan dink, dan draai my gedagtes vas.” Maar wat sê God se Woord daaroor? Klaagliedere 3 sê: LYDING IS NIE GOD SE WIL NIE, MAAR HY GEBRUIK DIT WEL.

Die twee dele van die preek is:

a.) Lyding is nie God se wil nie.

b.) Maar God gebruik wel lyding.

Pars 1: Lyding is nie God se wil nie.

Geliefdes, ons is soos stout kinders wat aan God die skuld gee as ons verbrou het. Want gemeente, dit is tipies mens om skuld te verplaas op iemand anders.

Ons bedoel so goed as ons vir iemand in nood sê: “Toemaar, dit was God se wil.” God het dit toegelaat. Maar dit is onwaar. PYN kan nooit God se wil wees nie. Die Bybel sê baie duidelik dat die liefdevolle God wat alles met soveel liefde geskape het, nooit ’n welbehae in menslike pyn en hartseer kan hê nie.

Gemeente, u sien dus die God van liefde is die groot outeur, die groot komponis van die liefde en hoe kan die groot komponis van die liefde, vals note van pyn ook skep?

Wanneer ’n klein kindjie wreed van sy ouers af weggeneem word, of wanneer ’n bus vol jong, talentvolle kinders met ’n blink toekoms in die Westdene-dam verdrink of wanneer gekaapte Boeings vasvlieg in die Twin Tower Wêreldhandelsentrum, of as duisende mense sterf in die oorlog in Oekraine, of as ’n jong mens wreed sterf aan kanker, IS DIT NIE GOD SE WIL NIE.

Die God van liefde voel saam met ons die pyn. So het Jesus byvoorbeeld gehuil oor Lasarus se dood. Die outeur van pyn en hartseer, is u en ekself. Ek en u is die komponiste van al daardie vals note van pyn en hartseer. Met die sondeval het God se skepping stukkend gebreek, ja soos ’n kind wat ’n kosbare pottebakkerspot afstamp. Deur ons eie sondige wil, het pyn in hierdie wêreld gekom. Voor die sondeval was daar net trane van vreugde. Met die sondeval, het die eerste trane van pyn en hartseer gevloei. Daarvandaan het seerkry en dood net gedomino en vermeerder in ons lewe. Die sondeval het die wêreld en die mensdom in ellende gedompel.

En wanneer iemand onverskillig is, byvoorbeeld te vinnig ry en hy maak ’n ongeluk en iemand sterf, dan sê ons so maklik – dit was God se wil. So maak ons God die gewillige pakdier van ons mislukkings.

Nee, God is die onskuldige party. Ons is die skuldiges. Kan u dus verstaan dat ons nie sommer maar so ligweg al die skuld op God kan plaas nie? Daarom kan ons geen vinger wys na God in die hemel nie. Nee, ons kan maar net ons hande uitstrek na die hemel en van God genade afbedel – ook krag om die pyn in ons harte te kan verduur.

Pars 2: Maar God gebruik wel lyding.

Pyn is nou wel nie God se wil nie, maar dit vind nooit buite Sy Raad plaas nie. Daarmee bedoel ek dat God pyn gebruik binne die lewens van mense. God is betrokke by my pyn. Met ander woorde, ons dompel onsself in die pyn in, maar God gebruik hierdie pyn tot die beswil van myself.

So gebruik God byvoorbeeld pyn om die mens tot verootmoediging te bring, tot ’n bekering of tot ’n verdieping van sy of haar geloofslewe. Klaagliedere 3: 29 tot 30 is baie duidelik hieroor, dat God partykeer pyn en ellende gebruik om die mens te laat besef hoe verganklik hy is. Vanuit die ellende, vanuit die pyn van my sonde, word die kreet gebore: “Ek, ellendige sondaar!”, wat eintlik maar die geboortepyne van ’n mens is tot die ware lewe.

Maar God kan ook pyn gebruik om mense nog nader aan hom te trek. Deur pyn en seerkry word die mens se karakter inderdaad gevorm.

Baie van God se kinders het in hulle diepe pyn die Here die diepste leer ken. Tereg skryf IL de Villiers dat heel dikwels die donkerste menslike ondervinding tot ’n sinvolle pad van die mens geweef word. Heel dikwels wil God pyn gebruik om ons opreg te leer bid uit afhanklikheid. Om ootmoed vir my medemens te kweek. Om my lewe reserweloos in God se hand te waag.

Dit werk amper soos ’n mooi weefstuk. Die voorkant is pragtig en foutloos. Maar die agterkant is vol knope. Die knope is nodig om die voorkant af te rond tot ’n kunswerk. Net so is lyding soos knope wat my lewe afrond om ’n pragtige geheelprent te skep. Lyding vorm jou lewe.

U sien, eers wanneer ek die pyn in my eie lewe ervaar het, kan ek iets verstaan van die traan wat brand in my medemens se ooglede. Sommige mense se lewens drup van hemelse dou, omdat hulle die bitter van die lewe so goed ken. Maar nou sal u vir my sê dit is goed en wel, maar daar kom ook ’n einde aan al my kragte. Somtyds kom ’n mens aan die einde van jou emosionele kragte. Soms huil ’n mens jouself leeg, maar die pyn sit nog soos ‘n stuk kanker in jou siel. Dan moet u Klaagliedere 3: 22 – 25 lees. Dit wil sê, God se trou ken geen einde nie. God se trou is die verbond waarvan ons doop die teken is. As alles vir u te veel raak, kan u vashou aan die doop. Met my doop wil God vir my sê: “Ek wil jou God wees. Ek wil hê jy moet my kind wees.” Die doop is die reënboog van God se verbondstrou. Ek kan maar in my diepste pyn en vertwyfeling vashou aan my doop. Ja, ons kan maar hang aan ons doop en God se liefde. Martin Luther het op sy houtlessenaar uitgekerf dat hy gedoop is. Dit was vir hom ’n herinnering in tye van aanvegtinge dat hy as gedoopte aan God behoort en dat niks hom van die liefde van God kan skei nie.

Na die donderstorm volg die reënboog van God se trou. Maar die doop is die reënboog van God se trou wat verskyn nog voor die donderstorms van beproewinge losbrand oor my lewe. Wanneer alles wankel, is Hy die Rots der eeue, wat ewig vas bly staan. God sal red. God sal krag gee, want God voel soos ’n Vader sáám met ons.

Hoe moet ons maak met ons daaglikse sorge en bekommernisse? Ek het die volgende mooi illustrasie raakgelees: Iemand het ’n skrynwerker gehuur om vir hom te help om ’n ou plaashuis te herstel. Die skrynwerker het ’n rowwe eerste dag by die werk gehad. ’n Pap band het hom ’n uur se werk laat verloor, sy elektriese saag het gebreek, en toe wou sy ou bakkie nie aan die gang kom nie. Die  werkgewer het toe vir die skrynwerker ’n geleentheid terug huis toe gegee. Met sy aankoms het die skrynwerker die man genooi om sy gesin te ontmoet. Terwyl hulle na die voordeur gestap het, het hy by ’n boompie stilgestaan en met albei hande aan die punte van die takke geraak. Toe hy die deur oopmaak, het hy ’n wonderlike transformasie ondergaan. Sy bruingebrande gesig het geglimlag, en hy het sy twee klein kinders omhels en sy vrou ’n soen gegee. Daarna het die skrynwerker saam met die man na sy motor gestap. Hulle het verby die boom geloop en uit nuuskierigheid vra die werkgewer hoekom hy sy hande oor die boom gehou het. “O, dit is my ‘moeilikheidsboom’,” het hy geantwoord. “Ek weet dit kan nie help om werksprobleme huis toe te vat nie, maar een ding is seker – probleme hoort nie in die huis met my vrou en die kinders nie. So, ek hang hulle maar elke aand aan die boom as ek by die huis kom; dan, in die oggend, tel ek hulle weer op.”

“Snaakse ding is,” het hy glimlaggend gesê, “as ek in die oggend uitkom om hulle op te tel, is daar nie soveel as wat ek onthou dat ek die vorige aand opgehang het nie.”

Ons kan ons swaarkry, angste en pyn ook elke dag ophang aan die kruis, die “moeilikheidsboom”, sodat ons getransformeer kan word om met vreugde en blydskap te lewe.

Wanneer ’n kind ontsteld is, dan kan hy op sy vader se skoot klim en die vader sal hom vertroos. Hoeveel te meer ons Hemelse Vader nie. U sien dus dat ons die klei is en dat God die pottebakker is wat ons in ons lyding vorm tot voorwerpe van Sy ontferming. Ons moet toelaat dat God ons, wat die klei is, vorm op die pottebakkerswiel van die lewe. Hoe kan ons vir die Pottebakker sê: “Waarom het u ons so gemaak? Waarom die pyn? Hoekom?” God wil van die mislukte lewens van mense nuwe moontlikhede vorm.

Miskien kan Bonhoëffer iets vir ons sê. Hy was ’n groot teoloog wat ook die Tweede Wêreldoorlog deurgemaak het. Hy het gesê: “Ek vertroos my daaraan dat die koeël wat my tref eers verby God moet gaan. Die koeël is nou wel nie God se wil nie, maar God weet van daardie koeël.” Bonhoëffer het ook gesterf, maar met die troos: “Ek kan nooit uit God se hande val nie.”

U sien dus, pyn is nie God se wil nie, maar God kan dit wel gebruik. God laat soms pyn toe, om my op die pottebakkerswiel van die lewe te omvorm tot Sy eer. Pyn is ’n besielende emosie! Dit is wanneer ek met leë hande, met betraande oë, inhardloop in God se Vaderhande. Heel dikwels word uit pyn menslike karakter gebou. Soos daardie veldblommetjies wat op die sementpaadjies in die groot stede, tussen al die harde sementblokke opkom – lieflik!

“Berusting in pyn is soet. God is goed.”                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

God se saad vir Sy nuwe somer

SKRIFLESING: 1 Korintiërs 15: 36

Johan Cillie vertel op sy oupa se familieplaas in die familiekerkhof het ’n boom gegroei in die middel van sy oupa se graf. Dit het hulle ontdek, baie jare later toe hulle weer by die kerkhof ’n besoek gebring het. Ontstellend, maar hulle het met ander oë gekyk, verwonderend oor die troosryke getuienis, dat groter dinge kom uit die dood. Lewe uit die dood, groei uit die graf.

In Korinte was daar skynbaar mense wat probleme gehad het met die opstandingsliggaam. Daar is nie in die opstanding geglo nie. Om dit nie te glo nie, is dom sê Paulus (vers 36).

As jy twyfel, gaan vir ’n wandeling deur jou tuin. Buk af en pluk ’n blom, ’n grasspriet of iets in jou tuin. Om elke hoekie en draaitjie in jou tuin, sal jy plantsoorte kry wat van ’n saadvorm gedaante verander het in ’n nuwe plant.

Vers 36 – 38: “Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ’n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ’n eie vorm gee.”

Wanneer jy ’n koringkorrel of ’n mieliepit in die grond begrawe, kom daar ’n nuwe plant te voorskyn. Dit verander van gedaante – van saad na ’n nuwe plant.

Alles in die natuur spreek van lewe: bome, plante, struike, blomme, gras ensovoorts. God skep lewe. God skep lewe na die dood.

Dit is soos die metamorfose van ’n wurm. Die wurm verander later in ’n papie. Die papie lyk dood, maar mettertyd word dit ’n wonderskone vlinder.

Ons sal sterwe, maar ons sal ook weer lewe.

As jy in die kerkhof of by die gedenkmuur van die kerk kom, moet jy jou nie blindstaar teen die grafte en die grafstene of die nissies in die gedenkmuur nie.

God is besig met ’n saaiproses. Luther het aangrypend oor 1 Kor 15 gepreek tydens die Advent van Desember 1532, toe hy self fisiek al swak begin word het. Hy skryf dan tereg dat tydens die saaiproses dit lyk of die saad verlore gaan, weggegooi word. Uitgelewer aan die wind en weer, aan die wurms wat wag hou.

Natuurlik verdien ons die ewige dood. Die loon van die sonde is die dood. Maar God is genadig:

  • Hy het ons verlos van sonde
  • Hy het ons verlos van die ewige dood

Met die dood dra God die saaisak. Ons is saad, maar ons is God se saad. ’n Handjievol hier en ’n handjievol daar word gestrooi. Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklik dat ons dóód is nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer. En die begraafplaas is nie bloot ’n bergplek vir die dooies nie, maar ’n landery vol saad, God se saad; nie ’n versameling van geraamtes nie, maar ’n plek vol somer-beloftes … (Martin Luther)

Het jy al ooit ’n boer sien huil terwyl hy saad in die grond geplaas het en dit met die vars grond bedek het? Natuurlik nie, want daardie soort “begrafnis” veroorsaak geen hartseer nie. Die boer weet dat die saad wat begrawe is, mettertyd in welige plantegroei sal opspring.

God het Sy seun as saad na die wêreld toe gestuur. Die Seun het ’n saadkorrel geword, gesaai aan die kruis en weer op die derde dag gegroei uit die graf.

Soos wat Jesus se opstanding ’n lewende werklikheid is, so is ons eie opstanding uit die dood ook ’n lewende werklikheid.

Ons sien net die een kant van die saaiproses. Daar is ook ’n ander kant. Ek moet kan sê: “Hier is ek, Here, saai my! Laat ek sterf aan myself en as dit dan moet, laat ek self sterf – solank dit net U is wat my oes. Hier is ek Here, oes my!”

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Jy moet nie ’n woord daarvan glo nie. Op daardie oomblik sal ek springlewendig wees. Ek sal  uit hierdie ou kleihut na my ewige huis gaan. Ek sal ’n nuwe geestelike liggaam hê wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie. My vleeslike liggaam sal sterwe. My liggaam wat uit die vlees gebore is kan sterwe, maar wat uit die gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

Die uitdrukking wat gebruik word na iemand sterwe, is dikwels: “Rus in vrede” of die Engelse uitdrukking “Rest in peace (RIP)”. Ek oordeel dat die uitdrukking nie Bybels is nie. Ons gaan nie om te rus nie. Ons gaan springlewendig wees met ’n nuwe geestelike liggaam. Ons gaan nie hemel toe om te rus nie, maar om elke dag die Here te loof en te prys voor Sy troon.

My oom het eenmaal opgemerk: “Ons wil almal hemel toe gaan, maar niemand wil sterwe nie.”

Ons moet soos Paulus verlang om heen te gaan om by die Here te wees, maar vir eers moet ons in ons stoflike liggame bly om ons taak hier op die aarde klaar te maak.

Oom Leslie Brown was ’n diep gelowige kind van God. Hy het sy Skepper en Verlosser innig liefgehad. Hy het ook sy Christelike getuienis in woord en daad uitgeleef. Ek het hom nooit hoor skinder of kwaadpraat van ’n ander een nie. Hy was ’n getroue kerkganger, diaken, ouderling en ook later leierouderling. Hy was nederig en opreg. Hy was ook ’n dankbare mens wat nooit gekla het nie. Selfs toe hy in Huis Corrie Dreyer was, het hy nooit gekla nie.

Ek het Oom Leslie negentien jaar gelede leer ken as ’n frisgeboude man. Mettertyd het die ouderdom hom afgetakel en verswak. Hy was ’n skaduwee van die man wat hy eers was. Daarom moet ons elkeen ook onthou, ons is vandag dalk gesond, mooi en fris. Mettertyd sal die ouderdom ons ook aftakel en broos laat. Ons liggame kan oud word, maar ons gees sal altyd jonk bly. Ons liggame is van stof gemaak, maar God het self Sy Gees in ons geblaas en vir ons asem gegee. Die liggaam kan oud word en sterf, maar ons gees sal vir altyd jonk bly, want ons gees is onsterflik.

Die boom op Johan Cilliers se oupa se graf is nog steeds daar. Dit het intussen seker hoër en groter geword. So groei ons wete en geloof ook elke dag, dat ons die ewige lewe sal beërwe.

Uit die dood kom nuwe lewe! Kyk na die lente wat besig is om aan te breek. Die bloeisels en blomme en grasspriete getuig van nuwe lewe wat ontwaak.

Vir Oom Leslie het dit nou ook lente geraak. Die ewige somer wag op hom.

Ons rus nie in die dood nie, ons is lewendig na ons dood om vir alle ewigheid die Here se roem te besing. Amen    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God kyk na die innerlike en nie na die uiterlike nie

SKRIFLESING: 1 Samuel 16: 1 – 13

Wanneer ons na leiers soek, is ons geneig om na uiterlike kwaliteite te kyk. Voorkoms, intelligensie, agtergrond, rykdom, kwalifikasies, gewildheid, prestasies en vele ander uiterlike dinge speel ’n rol as ons leiers kies. Dit is dalk die rede hoekom ons land oor die algemeen sulke swak leiers het. Van ons leiers vertoon uiterlik goed, maar innerlik is hulle nie eg en betroubaar nie. Daarom is ons land vasgeval in staatskaping, korrupsie en morele verval.

As die Here na leiers soek, kyk Hy na innerlike opregtheid van die hart. Die Here soek nie noodwendig volmaakte, sondelose mense nie, maar vir Hom is opregtheid van groot belang.

In ons gelese gedeelte lees ons hoedat ’n nuwe koning gesoek word om  Saul op te volg as koning. Saul as eerste koning van Israel het goed begin, maar algaande ’n swak koning geword. Saul het die swaardmag gehad en Samuel het die Woordmag gehad. Saul was veronderstel om by Samuel navraag te doen oor God se wil, maar hy het eerder die heks van Endor geraadpleeg. Mettertyd het die Gees van God van Saul gewyk. Ons lees in 1 Samuel 15:35 dat Samuel getreur het oor Saul en dat God bedroef was dat Hy vir Saul koning oor Sy volk gemaak het.

Dan lees ons hoedat God ’n nuwe begin maak. Die teks in 1 Samuel 16:1 lees as volg: “Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My ’n koning gesien.”

Samuel was hoogs ontsteld. Hy het gevrees as Saul daarvan hoor, dat hy hom sou doodmaak. Die Here beveel egter vir Samuel om ’n vers saam te neem en vir die mense te sê dat hy in vrede kom om ’n offer te bring. Hy moet dan vir Isai ook nooi na die offerplegtigheid toe.

Samuel het Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer genooi. Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink die gesalfde van die Here staan voor hom. Eliab was mooi en sterk gebou met ’n buitengewone lengte. Hy sou ’n goeie teenvoeter vir Saul wees. Maar dan sê die Here in vers 7 vir Samuel:    “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

Samuel was as profeet ook ’n “siener”, maar nou het hy as “siener” verkeerd gesien. Hy het gesien wat die mens se oog opval, en nie wat vir God tel nie. Uitdruklik word daar in die teks genoem: “ Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

Die vader Isai het toe vir Abinadab voor Samuel verby laat gaan en Samuel het gedink die Here het ook nie hierdie een gekies nie. Toe het Samma verby gekom en ook vir hom het die Here nie gekies nie. Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verby gaan, sê Samuel vir Isai dat die Here nie een van dié seuns uitverkies het nie. Toe Samuel vir Isai vra of hy nog seuns het, het hy geantwoord dat hy nog een seun het, die jongste, maar hy pas skape op. Toe het Samuel opdrag gegee dat  hy gehaal moet word. Isai het hom laat haal.

Die jongste seun het rooi gelaatstrekke gehad, mooi oë en ’n goeie voorkoms. Toe gee die Here opdrag vir Samuel om op te staan en hom te salf, want hy is die gesalfde. Die seun se naam was Dawid. Samuel het die horing met die olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Dan lees ons van daardie dag af het die Gees van God kragtig in Dawid gewerk.

Die Here het Dawid nie gekies omdat hy volmaak was nie. Inteendeel, later in sy lewe sou hy owerspel pleeg met Batseba en haar man Uriah laat vermoor. Maar ten spyte van sy baie tekortkominge het hy ’n rein en opregte hart gehad. Ons lees van sy opregte hart in die Psalms wat hy gedig het. Lees die aangrypende Psalm 51 waar hy sy skuld teenoor die Here bely en vrees dat die Here se Gees van hom sal wyk. In Ps 51: 12 – 13 staan daar: Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u heilige Gees nie van my wegneem nie.”

Die Here het Dawid se opregte hart raakgesien en hom laat salf as toekomstige koning oor Israel. Opregtheid is vir die Here belangrik. Dawid skryf in Psalm 25: 21 die volgende: “Mag onskuld en opregtheid oor my wag hou, want ek wag op U.”

In 1 Kronieke 29: 17 skryf Dawid die volgende: “Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee.”

As ons staatsleiers maar net opreg was, het dit met ons land baie beter gegaan. ’n Leier kan baie foute hê, maar as hy of sy opreg is, is die leierskap met integriteit en eerlikheid.

Dit was ook die probleem met die Fariseërs in die tyd van Jesus. Jesus het vir hulle kwaad geword. In Luk 11:39 – 41 staan daar: “Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is julle vol inhaligheid en boosheid. Dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? Gee liewer die inhoud vir liefdadigheid, dan sal alles vir julle skoon wees.”

Die Fariseërs word in ’n vorige vertaling beskryf as witgepleisterde grafte, vol doodsbeendere. Die Here is meer begaan oor jou innerlike opregtheid, as oor die beeld wat jy uiterlik vertoon in die publiek.   

Baie Bybelfigure het hulle foute en tekortkominge gehad. Moses het gehakkel, Petrus het die Here verloën, die dissipels het weggehardloop op die aand voor Goeie Vrydag, Paulus het ’n doring in die vlees gehad en so kan ’n mens aangaan. Maar die Here kan met ’n krom stok ’n reguit hou slaan. Maar jou hart moet reg wees. Dit moet opreg wees.

Ons almal is leiers op een of ander manier. Ek kan die leier van my huis, of van my onderneming of van my boerdery wees. Ek is dalk ’n leier op die kerkraad of ’n boerevereniging. Maar leiers met slegs uitwendige, sigbare gawes alleen sal nie deug nie. My hart moet suiwer en onberispelik opreg wees. Dan eers is ek in die Here se oë ’n regte leier.

Alle leiers speel ’n rol. Ek speel die rol as vader, moeder, onderwyser, boer, sakeman of wat dit ook al mag wees. Maar ek speel dit nie vir altyd nie. Daarom moet ek vir die tyd wat ek die rol moet speel, my toelê op opregtheid en reinheid van hart. Dan sal ek ’n goeie leier wees, ten spyte van my foute en tekortkominge.

Ons kyk na die uiterlike vir leierskap. Die Here kyk na die hart van ’n leier.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)