Paternoster

Skriflesing: Mat 6: 9 – 13

Paternoster is ’n klein vissersdorpie langs die Weskus. Vandag is dit ’n moderne dorp, met vele luukse huise.

Destyds, baie jare gelede, was dit die tuiste van ’n arm vissersgemeenskap, met armoedige huisies van vissers wat baie eenvoudig gelewe het. Die ou vissermanne van Paternoster het letterlik van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie Vader wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar genoeg vis is. Daar was storms; partykeer het ’n skuit nie teruggekeer nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Sommige dae het die vis goed verkoop, ander dae het dit weer swak verkoop. Hulle was daagliks afhanklik van die Here en daarom het hulle hul dorpie die naam “Paternoster” gegee, wat in Latyn beteken “Onse Vader”.

Die Onse Vader-gebed begin met “Onse Vader”. Die woord “Vader” skep by die meeste mense ’n warm gevoel van geborgenheid en sekuriteit.  Die woord “Vader” kom twaalf keer in die Bergrede voor en meer as 100 keer in die Johannes Evangelie. In die Ou Testament is die woord “Vader” baie skaars. Dit word in die Ou Testament net veertien keer genoem. Die rede hoekom dit so min in die Ou Testament voorkom, was omdat die Jode bang was om die Here direk aan te spreek. Toe Jesus Christus Homself openbaar in die Nuwe Testament, word die woord “Vader” baie gereeld gebruik, om die unieke verhouding van die Here Jesus teenoor Sy Vader uit te druk.

Jesus het die Aramese woord “Abba” begin gebruik, wat as “Pappa” vertaal kan word. Die Aramese woord vir Moeder is “Imma”.  “Abba” en “Imma” was as’t ware die eerste woorde wat ’n Joodse kindjie geleer het. In die Joodse gebedsliteratuur kon Joaquim Jeremias (’n Rooms Katolieke teoloog), nie die woord “Abba” vind nie. As’t ware het Jesus Christus self die gebruik gevestig om sy Vader as “Abba” aan te spreek. Hy het ons geleer om elkeen ook so ons hemelse Vader aan te spreek.

Daarom is die “Onse Vader” ’n intieme gebed. Uit Sy Vaderhart is die mensdom gebore. Hy was, is en sal altyd die Inisieerder, die Skepper, die Beskermer, die Voorsiener en die Onderhouer wees, omdat Hy die begin en einde van alle dinge is. Hy is die Vader van die hele wêreld en mensdom.

Die “onse” in “Onse Vader” beteken dat ek nie selfsugtig kan bid nie. Ek bid nie net namens myself nie. Ek bid saam met mense wat verskil van my wat politiek, kultuur, ras en klas betref. Ek bid selfs vir my vyand ook. Daarom is die “Onse Vader” ’n “gevaarlike” gebed, want ek bid saam met mense en vir mense wat dalk drasties van my verskil wat siening of kultuur betref. Die “Onse Vader” gebed maak dat my medegelowiges en my medebidders, my broers en susters word.

My gebed kan maar eenvoudig en vol gebreke wees.  Net soos ’n klein kindjie nie ’n lelike prentjie kan teken nie, net so min kan ’n bidder ’n slegte gebed bid tot sy Vader. Ek kan met alledaagse sake na God gaan, want God luister na die eenvoudigste gebed. Wanneer ek bid, vertaal die Heilige Gees my swak en gebrekkige gebed in ’n gebed wat duidelik is vir die Vader.

Daar was op ’n keer drie kluisenaars wat op ’n eiland gebly het.  So eenvoudig soos wat hulle was en geleef het, so eenvoudig en opreg was hulle daaglikse gebed. Dit het min of meer so geklink: “Ons is drie, U is drie; wees ons asseblief genadig. Amen.” Soms het daar ’n wonderwerk gebeur wanneer hulle so gebid het. Op ’n dag het ’n sekere biskop van die kluisenaars te hore gekom en hy het besluit dat hulle moet leiding kry in hulle gebedslewe. Hy is toe per boot na die eiland toe en hy het die monnike onderrig in die gebed. Na ’n paar dae is hy met sy bootjie terug na die vasteland. Skielik sien hy agter hom ’n beweging op die water, wat al hoe nader kom. Toe hy mooi kyk, sien hy dat dit die drie kluisenaars is wat op die water aangehardloop kom. Toe hulle uiteindelik by die bootjie is, sê hulle vir die biskop: “Ons is jammer, maar daar is ’n paar dinge wat jy vir ons geleer het wat ons vergeet het. Sal jy omgee om dit net vir ons te herhaal?” Die biskop het sy kop geskud en nederig en half skaam geantwoord: “Vergeet alles wat ek julle geleer het en hou aan om te bid soos altyd.”  (Ferdi Clasen)

Om die eerste twee woorde van die modelgebed te bid, is veel meer as net twee woorde. Dit beteken ’n lewe wat ek voortdurend in die teenwoordigheid van my hemelse Vader leef. 

Maar soms ervaar ons nie die Vader se teenwoordigheid nie. Die kerkvaders het hiervan gepraat as die “Deus Absconditus” – die God wat verborge of weggesteek is. Teologies weet ons God is elke dag by ons, maar ons kry tye wat ons God nie ervaar nie. Dan ervaar ’n mens dat jy deur ’n woestyn gaan. Maar God lei jou elke keer weer uit daardie woestyn, soos Hy sy volk ook uit die woestyn gelei het.

Daarom begin hierdie modelgebed met die aanroep: “Onse Vader”. Die Vader is die Gans-Andere, met wie ons in ’n intieme en persoonlike verhouding kan staan.

Maar die modelgebed se eerste sinsnede verklaar dat die Vader in die hemel woon. Die Vader is in die posisie van almag en wonderskone heerlikheid. Die hemel en die aarde staan in ’n verhouding met mekaar. Genesis 1 leer ons dat God eers die hemel en toe die aarde geskep het. Hemel kom voor aarde.

Mense wil so graag hemel toe gaan, maar hulle vergeet dat God die hemel aarde toe wil bring. Daarom staan daar: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied,  soos in die hemel, so ook op die aarde”. Die Here wil as’t ware hê ons moet iets van die hemelse heerlikheid en volmaaktheid ook hier op die aarde reeds belewe. God se werke op aarde kom uit die hemel en ons is getuienis daarvan.

Paternoster was dekades terug ’n eenvoudige, arm vissersdorpie. Die dorp se inwoners het met skaarste gelewe. Hulle was uitgelewer aan die nukke en grille van die see. Hulle moes saamleef met die emosies van die see. Daarom moes hulle elke dag die “Onse Vader” bid. Daarom is die naam van hulle dorpie Paternoster, wat in Latyn beteken  “Onse Vader”. Mag ons ook so intiem met God saamlewe.   Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS

Cleddie, Keith. Praying the Lord’s Prayer. Kindle Edition.  

Clasen, Ferdie. 2001. Ons Vader – die gebed wat jou wêreld verander. Wellington: Lux Verbi.

Magneet-mense lewe dankbaar

Skriflesing: Lukas 17: 11 – 19

Veronderstel daar is ’n klomp ysterskaafsels in ’n bak vol sand.

As jy die skaafsels met jou lomp vingers soek, gaan jy niks kry nie. Maar vee net met ’n magneet oor die sand en siedaar! Die magneet trek al die ysterskaafsels maklik aan. Die ondankbare hart is soos jou lomp vingers, dit vind niks om oor dankbaar te wees nie. Die dankbare hart is soos die magneet wat die ysterskaafsels vind, en wat in alles dankbaarheid en hemelse seëninge vind.

Dankbare mense is mooi mense. Dankbare mense is blymoedige mense.

In ons gelese gedeelte hoor ons van tien melaatses wat  op die grensgebied van Galilea en Samaria gebly het. Waarskynlik was daar Jode en Samaritane in die groep teenwoordig. Wanneer jy melaats is, tel kultuur of afkoms niks nie. Die gemeenskaplike siekte, verwerping en swaarkry bind mense aan mekaar. Eertydse aartsvyande bly nou saam in die groep melaatses.

’n Mens sien dit vandag ook in hoë intensiewe-sorgeenhede, waar mense veg vir hulle lewe of veral in onkologie-eenhede, waar mense dieselfde nood het en as’t ware amper soos familie van mekaar word. Alle kleur- of klasseverskille val weg – daar is ’n gemeenskaplike empatie met mekaar, want elkeen loop op dieselfde paadjie. Nood bind mense saam.

Melaatsheid is in die Bybelse tyd as ’n hoogs aansteeklike siekte beskou en daarom moes melaatses altyd 100 meter van gesonde mense wegbly. Dit was ook gebruik dat die melaatses ’n stok met ’n lap dra, sodat gesonde mense kon weet dat hulle nie moes naderkom nie.

Vandag weet ons meer omtrent die siekte. Dit word veroorsaak deur bakterieë wat die senuweestelsel buite die brein en ruggraat aanval. Dit kan lei tot verswakte spiere wat aan die hande ’n klouagtige voorkoms gee en later meebring dat die voete nie kan beweeg nie. Die vel verbleek, sere ontstaan en permanente swelsels, knoppe en uitgroeisels skend die liggaam en gesig. Die siekte veroorsaak dat ledemate hulle gevoel verloor en dit kan ernstige skade aanrig aan die ledemate sonder dat die melaatse daarvan bewus is. Sekondêre gevolge behels dan ook die verlies van ledemate. (Ben Lubbe, Die Pottebakker)

Melaatses is as uitgestote mense behandel. Die dorpe het vir hulle kos op ’n sentrale punt neergesit om te kom haal en hulle het meestal in grotte gebly.

Boonop was melaatses volgens die wet van Moses onrein. Daarom staan daar in Lev. 13: 45 – 46 die volgende: “ Iemand wat velsiekte êrens aan hom het, se klere moet geskeur wees, sy hare moet los hang en hy moet sy snor bedek. ‘Onrein! Onrein!’ moet hy uitroep. So lank as wat hy die velaandoening het, sal hy onrein wees; hy is onrein. Hy moet eenkant woon. Sy blyplek moet buite die kamp wees.” Dit het ook geïmpliseer dat hy of sy ook geestelik onrein is. Daarom was melaatsheid beide ’n siekte asook ’n religieuse probleem. Daar is geglo dat sonde met melaatsheid gestraf word. Daarom moes mense na die priester gaan, sou hulle gesond word, om deur die priester weer opgeneem te word in die gemeenskap.

’n Melaatse verloor sy posisie in die samelewing; hy verloor sy familie, gesin en vriende. Hy verloor sy huis en besittings. Dit is die eensaamste pad wat jy kan stap.

Dit was die posisie van die tien melaatse mans. Daarom, toe hulle Jesus sien, het hulle op ’n afstand gestaan en geroep dat die Here hulle moet genees.

Die Here het hulle nie onmiddellik genees nie, maar vir hulle opdrag gegee om na die priesters te gaan om hulle gesond te verklaar. Dit vra geloof. Jy is nog nie gesond nie, maar jy stap na die priester om jou rein te verklaar. Dit is geloof in werking. Hulle het eers, al lopende na die priester, gesien hoe hulle gesond word. Daarom is geloof om sonder enige sekerhede die pad te loop, al het jy geen waarborge nie. Dit is as’t ware om te glo en vas te hou aan dit wat nog onsienlik is. Daarom vat Hebreërs 11: 1 dit so mooi saam: “Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”

Toe die tien mans ontdek dat hulle gesond is, was daar groot vreugde onder hulle. Maar net een man, ’n Samaritaan, het omgedraai om vir Jesus dankie te sê. Hy het op sy gesig voor Jesus neergeval en Hom geloof. Jesus vra toe of daar nie tien melaatses was wat gesond geword het nie?

Waar is die ander nege? Net hierdie vreemdeling (’n Samaritaan) het kom dankie sê. Jesus sê toe vir die man: “Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered.” Die ander nege het net liggaamlik gesond geword, terwyl die Samaritaan liggaamlik en geestelik gesond geword het. Sy saak was nou reg met God.

Dankbare mense lewe stadiger, skryf Ds André Oosthuizen (Geloofsentrum Universitas in Bloemfontein). Gejaagde mense fokus en kyk net vorentoe en wil die beste uit die toekoms haal.

Hulle is so gefokus op tyd, dagboeke en produktiwiteit dat hulle nooit stilstaan om alles te waardeer en dankie te sê vir die seëninge wat rondom en agter hulle lê nie. Oosthuizen skryf dat bemarking se doelwit is om mense ondankbaar te maak met wat hulle het en te strewe na beter, groter en duurder goed. Want, sien, dankbaarheid verkoop nie. Jy word as ’t ware ondankbaar gemaak deur bemarkingsfoefies, om jou ou goed in te ruil vir nuwer en beter goed. Ons word gebombardeer met ondankbaarheid, sodat die  ekonomie kan groei, aldus Oosthuizen.

Maar mense wat stadiger lewe, kan rond kyk en terug kyk en die baie seëninge op hulle lewenspad ervaar en daarom dankbaar wees. As die lewe stadiger draai, sien jy meer dinge om voor dankbaar te wees. Swaarkry en krisisse kom dikwels op tye wanneer jy tot stilstand gedwing word om meer dankbaar te lewe en meer waarderend te wees.  

’n Dankbare mens praat van ’n halfvol glas water en ’n ondankbare mens van ’n halfleë glas water. Dit het alles met perspektief te doen. Dankbaarheid sien meer raak en ondankbaarheid sien minder raak. Stel jouself in om in 2024 die potensiaal en die moontlikhede in die nuwe jaar raak te sien. Dankbare mense sien altyd geleenthede raak.

’n Mediese dokter het een maal ’n dankie-sê brief aan ’n oud-onderwyser geskryf omdat sy vir hom soveel bemoediging gegee het toe hy 30 jaar tevore in haar klas was. Hy het later hierdie antwoord terug ontvang: “Ek wil hê jy moet weet dat jou brief vir my baie beteken het. Ek is nou ’n ou dame in my tagtigs, wat alleen in ’n kamertjie woon, my eie maaltye kook, eensaam is, en ek voel soos die laaste blaar aan die boom. My geslag het heeltemal uitgesterf. Jy sal belangstel om te weet dat ek vir 50 jaar skoolgehou het, en joune is die eerste brief van waardering wat ek nog ooit ontvang het. Dit het op ’n koue en triestige oggend gekom en my eensame ou hart opgebeur, aangesien niks my in baie jare opgebeur het nie.”

Charles Dickens het gesê die mense is ietwat agterstevoor daar in Amerika. Hy het aan ’n gehoor gesê dat in plaas daarvan om een “Thanksgiving Day” elke jaar te hê, hulle eintlik 364 moet hê. “Gebruik die een dag wat oorbly net om te kla en te kla,” het hy gesê. “Gebruik die ander 364 dae om God elke dag te dank vir die baie seëninge wat Hy oor jou uitgestort het.”

Daarom moet ons magneet-mense word, wat dankbaarheid soos die ysterskaafsels in ’n sandbak aantrek in ons lewe. Ons moet wees soos daardie een melaatse wat gesond geword het en vir Jesus kom dankie sê het. Om magneet-mense te word, wat dankbaarheid aantrek, moet ons vol van die Heilige Gees wees. Deur die werking van die Heilige Gees, leer ons om die dinge raak te sien waarvoor ons dankbaar moet wees.

Die derde en grootste deel van die Heidelbergse Kategismus handel oor die dankbaarheid in die Christelike lewe. Daarom moet ons hoogste strewe wees om altyd in alles dankbaar te wees teenoor God en ’n lewe van dankbaarheid te leef.    Dan sal jy merk dat jy werklik gelukkig word. Oefen ’n lewe van dankbaarheid in 2024.

Dankbaarheid kweek ’n gelukkige lewe.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Jesus is die hart van die partytjie

Skriflesing: Luk 5: 27 – 39

Galileo Galilei (15 Februarie 1564 – 8 Januarie 1642) was ’n Italiaanse fisikus, wiskundige, sterrekundige en filosoof, wat vir groot deurbrake gesorg het in die wetenskap en astronomie.

Hy het tientalle ontdekkings in verskillende velde   gemaak; hy het ook onder andere die teleskoop ontwikkel waaruit baie astronomiese waarnemings gevolg het. Galilei het byvoorbeeld ontdek dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie. Die kerk van sy tyd het sy sieninge as kettery afgemaak en wou hom na die brandstapel stuur. Hy is egter onder huisarres geplaas. Jare later sou die Rooms Katolieke kerk wel erken dat Galilei reg was.   

Mense pas nog altyd moeilik aan in hulle siening van God, soos die kerk in Galilei se tyd ook moeilik die nuwe aanvaar het. Die deursnee mens glo nog steeds dat jy deur jou goeie lewe (met ander woorde die wet)  gered word. Hulle misverstaan die Evangelie, dat Jesus die Wet vervul het en met ’n nuwe verbond van genade begin het.

So kon die Fariseërs ook nie verstaan dat Jesus alles kom verander het en juis na mense toe gekom het wat buite die wet staan en boonop met hulle partytjie kom hou waar hulle eet en drink nie.

Jesus het graag met sondaars gemeng. In ons gelese gedeelte het Hy vir  Levi, die tollenaar, gevra om Hom te volg. In ’n ander geval het Hy vir Saggéüs, die hooftollenaar, gevra of Hy in sy huis kon oornag. In albei die gevalle lees ons van ’n feesmaal wat die tollenaars vir hom voorberei het. In die oë van die Fariseërs het Jesus met die verkeerde mense en die sondaars gemeng. Jesus was vrolik en Hy was die hart van die partytjies saam met die tollenaars en sondaars.  Daar staan in vers 30: “Die Fariseërs, en veral die skrifkenners onder hulle, het by sy dissipels gemor: ‘Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?’”

Die Fariseërs was sedig en vroom en het gereeld elke week gevas en op die vasgestelde tye van gebed na die straathoeke gegaan om te bid, sodat almal hulle geloof kon bewonder.

In vers 33 word Jesus dan aangeval: “Die mense het vir Hom gesê: ‘Johannes se dissipels vas en bid gereeld, en die Fariseërs se dissipels ook, maar u dissipels eet en drink maar voort.’” Eintlik was die beswaar dat Jesus altyd in die middel van ’n partytjie met sondaars was en dat die dissipels van Johannes en die Fariseërs hulle vroom gedra het en gereeld gevas het.

Jesus het hulle egter alreeds geantwoord in verse 31 en 32: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”

In vers 34 het  Jesus hulle geantwoord: “Julle kan tog nie die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is nie?” Jesus het gekom om vreugde en blydskap te bring, deur sondes te vergewe. Daarom het Jesus met sondaars gemeng om hulle vry te maak van sonde. Jesus is die bruidegom wat vreugde en blydskap na die partytjie toe bring.  Hy het kwytskelding van skuld gebring vir die tollenaars en sondaars en daarom was daar sulke uitbundige partytjievreugde waar Jesus was.

Jesus het ’n totale nuwe bedeling gebring. Sy nuwe verbond het gekom in die plek van die ou verbond, met sy strakke wette, vaste en regulering. Jesus het die nuwe bedeling gebring, waar daar kwytskelding is van sonde en van vormgodsdiens, en waar daar inteendeel net vreugde en vrede is.   

Nou vertel die Here as’t ware in die volgende twee gelykenisse waarom die ou bedeling van vormgodsdiens en verstarde wette verby is en plek maak vir ’n nuwe verbond van genade.

Jesus sê ’n mens sny nie ’n nuwe kledingstuk in stukke op om ’n ou kledingstuk se gate te lap nie.

Jy skeur net die nuwe kledingstuk en die nuwe materiaal pas nie by die ou kledingstuk nie.   So kan jy ook nie die ou verbond van wette en die nuwe verbond van genade met mekaar meng nie.  Dit is die een óf die ander. Anders is dit lapwerk. Jy kan nie die Ou Testamentiese wette vermeng met die vars boodskap dat Christus gesterf het vir die sonde van die wêreld nie.

Die tweede gelykenis is dié van Jesus wat ’n nuwe wynsak as beeld gebruik. Daar staan in vers 37 – 39: “En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die leersakke laat oopbars. Dan sal die wyn uitloop en die sakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word. Boonop het niemand wat ou wyn gedrink het, lus vir nuwe wyn nie. ‘Die oue smaak goed,’ sê Hy.”

Wyn was in die Bybel ook ’n simbool van vreugde, blydskap en viering. Almal het geweet jy gooi nooit nuwe wyn in ’n ou wynsak nie. Want wynsakke is gemaak van bokvelle wat gebrei is en dan aanmekaar gewerk is. Nuwe geparste wyn , wat basies druiwesap was, is in die wynsak deur sy tuit gegooi en verseël. Oor ’n tyd sal die druiwesap fermenteer, sodat wyn gemaak kan word. Die gas van die fermentasie sal die wynsak aansienlik rek en die sak sal mettertyd sy elastisiteit verloor en baie groter word. Wanneer die wyn nou uitgegooi word, sal die wynsak nooit weer tot sy oorspronklike grootte  terugkeer nie. Sou jy dan nuwe wyn in hierdie ou wynsak gooi, sal dit nog verder fermenteer en gas loslaat en dit sal die sak laat bars. Dan is die nuwe wyn en die ou wynsak daarmee heen.

Jesus sê as’t ware die nuwe kan nie met die oue gemeng word nie. Vir nuwe wynsakke sal slegs nuwe wyn werk.  Dit beteken die ou wynsakke verteenwoordig die ou bedeling van wette en wetsonderhouding om gered te word. Die nuwe wynsakke verteenwoordig die nuwe bedeling wat Christus gebring het. Die nuwe wyn verteenwoordig Christus wat vir ons almal vreugde, genade en verlossing gebring het.

Die Ou Testamentiese wette (ou wyn in ou wynsakke), kan ons nie verlos en vreugde bring nie. Jesus skep vir Hom ’n partytjie met nuwe wynsakke en die nuwe wyn is Christus. Die wet is vervul in Jesus Christus, daarom bring Hy vreugde na die partytjie. Daarom nooi Hy al die tollenaars en sondaars om saam met Hom te eet en te drink. Hy het immers nie gekom vir die regverdiges nie, maar vir die sondaars.   

Die Fariseërs het die tollenaars en sondaars heeltemal vermy. Hulle het hooghartig op hulle neergesien as sondaars. Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Meng jou met die semels en die varke eet jou.

Maar dit is allermins wat Jesus kom doen het. Hy het juis met die sondaars gemeng om hulle te red. Saggéüs het Jesus in Sy huis laat oornag en in daardie nag het Saggéüs tot bekering gekom en sy lewe reggemaak.  Daarom is daar iets soos die “Getroue Getuies se model van Vriendskapsevangelisasie.” Dit beteken dat jy op ’n informele manier vriende is met mense wat op die verkeerde pad is en hulle deur jou voorbeeld en getuienis geroep word om ook kinders van God te word. 

Die wet maak dood. Die genade bring vryheid, vreugde en blydskap. Daarom het Jesus die water in wyn verander by die bruilof in Kana, sodat die blydskap kan voortgaan.

Die wet skep grense, en hoe het die Fariseërs nie daardie streep getrek tot die jota en titteltjie nie. Daar was geen plek en ruimte vir ’n sondaar nie.

Jesus Christus het egter alle grense kom deurbreek en vir alle sondaars ’n feesmaal kom voorberei, waarvan Hy self die hart is. Hy het die sondaars wat nie onder die Wet geleef het nie, baie lief gekry, met hulle gemeng en hulle gered.

As ons Jesus uit die hart van die Evangelie laat, verloor die Evangelie sy vreugde. Jesus is ons vreugde en blydskap en daarom is Hy die Bruidegom en die hart van die partytjie. Jesus het gekom om te red, nie om te veroordeel nie.          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Myers. Jeremy. Luk 5: 33 – 39 Christ the Life of the Party. Redeeming God. 

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die mens leer by God van kreatiwiteit

Skriflesing: Jeremia 18: 1 – 6

Wat is die eerste wat ’n mens van God leer in die Bybel? Dat God liefde is of dat God genadig is? Nee, wat ’n mens heel eerste van God leer, is dat Hy die Skeppergod is. Hy is die God wat kreatief Sy skepping geskep het en nog steeds daarmee voortgaan. Hy het miljoene verskillende spesies geskep in die plante- en diereryk; die vis-, die voël-, die reptiel-, die insekteryk en so kan ons aangaan. Hy het ook verskillende soorte mense gemaak. Die menseryk is die kroon van Sy skepping.    

Die mens is gemaak na die beeld van God.  God is die Skeppergod uit wie en deur wie alle dinge ontstaan het. Net God kan skep, maar omdat die mens na die beeld van God geskep is, kan die mens ook kreatief en dus skeppend optree. Die hoogste doel in die mens se lewe is om kreatief voor God se aangesig te lewe deur sy kreatiewe vermoëns te gebruik.  Wanneer die mens bloot lewe om te oorleef, is hy niks beter as die diere en plante van die natuur nie.  Maar God het aan die mens die besondere gawe gegee om kreatief besig te wees.

Daarom het God by die skepping aan die mens die opdrag gegee om die wêreld te bewoon en te bewerk en vir alles name te gee.

In ons gelese gedeelte lees ons van die metafoor wat Jeremia gebruik om te verduidelik dat die Here vir Israel gaan herskep, soos wat ’n pottebakker die klei wat platgeval het, weer knie en daaruit iets anders skep. Die Pottebakker is die Here en die ongehoorsame Israel is die klei.    

Die Here nooi ons vandag om saam met Jeremia te stap na die pottebakker se huis. Israel het heel dikwels ’n gemors aangevang met die geleenthede wat God vir hulle gegee het. Israel se geskiedenis is telkens gekenmerk deur verkeerde keuses en sondige afdraaipaaie. Telkens maak Israel ’n mislukking van sy bestaan. Baie dikwels het Israel die dropout volk geword tussen die volkere van destyds. Israel is moedeloos en die profeet Jeremia nog meer moedeloos. Daarom het God dit nodig geag om Jeremia op ’n opvoedkundige toer te neem na die pottebakker se huis. Wil u nie saamgaan nie? Die Here het vandag ook vir ons ’n opvoedkundige les.

Dan is ons saam met Jeremia by die pottebakker se huis. Kyk, die pottebakker is juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak: ’n Pragtige kruik word geskep. Skielik stort die klei inmekaar op die wiel en alles is ’n mislukking. Gaan die pottebakker die klei weggooi? Nee, hy knie dit van voor af, plaas dit weer op die wiel en begin om iets anders te skep. Uiteindelik neem dit die pragtige vorm van ’n skottel aan.

Maar eintlik lees ons die Evangelie van Jesus Christus daar op die pottebakkerswiel. Dikwels stort ons lewens ook in duie op die wentelende ratte van die wiel van die lewe. Somtyds val ’n mens se kinderjare, jou studies, jou huwelik, jou gesin, jou loopbaan, jou gesondheid of jou lewe uitmekaar. Dit is traumaties as jou lewe so uitmekaar val of inplof. Soms is dit jou eie skuld – ’n stukkie hardheid in jou lewensklei. Soms is dit dinge buite jou beheer.

Die troos van die Evangelie is egter dat God ons nie weggooi as ons stukkend breek in die geweld en hardheid van die lewe nie. Mense is anders as God. Mense veroordeel mekaar en gooi mekaar weg as ’n ander een misluk of nie so suksesvol soos ek is nie. God is egter anders: God knie ons in ons beproewinge en teenslae saam, om ons in iets nuuts te herskep. Soos die pottebakker wat uit die inmekaargesakte kruik ’n pragtige skottel skep.

Die pottebakker skep nie uit elke hopie klei dieselfde voorwerp nie. Hy skep wat hy wil met die klei. Hy verander selfs van plan om sodoende iets beters te skep.  Die stuk klei kan nie ’n kruik wees nie; nou skep hy daaruit ’n skottel. God raak nie ontslae van die klei wat nie uitgekom het soos Hy dit wou gehad het nie; Hy herskep dit eenvoudig in iets anders.

Sommige mense kla dat as God die pottebakker is en ons die klei, dan beteken dit dat die mens geen vryheid het nie. Dat ons slegs maar magtelose klei is in die hande van die Vader. Maar dan verstaan ons “vryheid” verkeerd. ’n Vis is ook vry, maar slegs as die vis in die water is. Martin Luther het gesê: “Ons is vry van die wet, maar nooit vry van God en ons naaste nie. Sonder God en ons naaste is daar geen vryheid moontlik nie.”

Wanneer God die pottebakker is, wil Hy ons tot iets meer skep as wat ons is, soos die Engelse skrywer CS Lewis in sy boek “Mere Christianity” skryf: “Verbeel jou jy is ’n lewende huis. God kom om dié huis te herbou. Daklekke en stukkende vloerplanke word byvoorbeeld reggemaak. Maar dan begin Hy met verbrekings aan die huis wat nie vir jou sin maak nie. Wat is Hy besig om te doen? Die verduideliking is dat Hy ’n totaal ander huis skep as die een wat jy in gedagte het. Jy dink dat God ’n klein, netjiese huisie gaan skep. God het egter ’n paleis in gedagte … waarin Hyself wil kom woon.” Ja, in God se hande word ons ons vryheid nie ontneem nie. Nee, ons is in beter hande.

Jesus is die groot Herskepper. Die Here Jesus aan die kruis het kom versoening skep.

’n Mens leer by God van kreatiwiteit. Omdat God geskep en ook kom herskep het, kan ons by God leer om ook skeppend en herskeppend te leef. Dit sal vir ons geluk en nuwe energie bring in 2024.

Daarom kan ons in 2024 elke dag kreatief ook nuwe en beter menseverhoudings skep, sodat ons opregte verhoudingsmense kan wees, wat in kwaliteit-verhoudings staan met ander mense.

 Wanneer mense intense emosionele pyn ervaar, vind hul gewoonlik diepe genesing daarin “om iets te skep”. Daarom het die meeste psigiatriese hospitale elke dag ’n tydgleuf waarin pasiënte aangemoedig word om in die kunsklas iets te skep. Dit kan verf, naaldwerk, skryf, krale of enigiets wees wat weer vir hul ’n gevoel van “sukses” gee.

 In die meeste mense se alledaagse lewe is hul vasgevang in die sleur van die  lewe sodat hulle doodgewoon verveeld raak en hul energie vir die lewe verloor. Wanneer jy worstel met min lewensenergie is dit ’n baie goeie  begin deur die vraag te vra: “ Wat het ek die afgelope dag of week geskep?” Gewoonlik is die antwoord negatief, want instandhouding van die lewe het geen tyd gelaat vir kreatiwiteit nie. Die herstel van lewensenergie begin deur vir jouself duidelike doelwitte te stel om weer jou kreatiewe self te ontdek. Elke mens het ’n kreatiewe self, want jy is gemaak na die beeld van God. God se ryke verskeidenheid mense verskil almal egter wat kreatiewe talente betref. Sommige vind hul kreatiwiteit in naaldwerk, houtwerk, krale, skryf, kosmaak, tuinmaak,  skilder, verf, binnenshuise versiering, navorsing of enigiets onder die son, wat geboorte gee aan iets nuuts. Wie leer om kreatief te skep, skep vir homself nuwe sin en betekenis in die lewe. Kreatiewe energie is positiewe energie, dit genees emosioneel. Gewoonlik sneeubal energie in iets groters, in ’n nuwe JY. Ons samelewing plaas groot klem op gewigsbeheer, fiksheid, fisiese voorkoms en diëte. Ongelukkig plaas ons min klem op emosionele lewensenergie. Tog is dit dikwels juis ons lewensenergie wat vreugde in die lewe stimuleer en van ons gelukkige mense maak. Kreatiwiteit behels om met verbeelding ’n skeppingswerk te voltooi. Albert Einstein het gesê dat verbeelding belangriker as kennis is. Kennis is beperk.

’n Mens moet ook herskeppend werk in jou verhoudinge met ander mense. Net soos die Here herskeppend werk in Sy verhouding met die mensdom. Herskepping beteken dat ons ander mense sal vergeef en beter verhoudinge sal skep met ander mense.

 Mag jy in 2024 leer om opnuut kreatief te leef. Dan sal jy geluk en nuwe lewensenergie ervaar. Mag jy ook in 2024 herskeppend jou verhoudinge met ander mense verbeter of herstel.

Oorleef jy of leef jy ? Skeppende kreatiwiteit laat jou LEEF!

Jy is gemaak om te skep. Mag 2024 vir jou ’n kreatiewe jaar wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Geen donkerte kan die Lig verdryf nie

Skriflesing: Joh 1: 1 – 14

Waar het die gebruik ontstaan om tydens Kersfees kerse te brand in die venster?

Die gebruik is baie algemeen in Amerika en ook ander lande van die wêreld. Die gebruik het in Ierland ontstaan. Die Protestantse Engelse het die Katolieke Kerk se gelowiges vervolg en hulle mag nie in hulle kerke aanbid nie. Die Ierse Katolieke gelowiges het dan oor die Kersgety brandende kerse in die vensters geplaas en die deure van hulle huise oopgelos. Hulle grootste verwagting was dat daar darem net een keer in hulle lewe, ’n priester in die nag uit die woude en bosse sou kom en aan hulle die Nagmaal (mis) bedien.

Aan die Engelse Protestante het hulle vertel hulle wag vir Josef en Maria om te kom. Daarom brand hulle kerse in die venster en hou die deur oop. Die Protestante het hulle dan gelos, want dit is volgens hulle onskuldig en slegs bygeloof.  

So het die gebruik van die Iere om kerse in die venters te sit en die deure oop te los, ’n gebruik geword wat oorgespoel het ook na Amerika.  (Roger Thompson)   

Daarom speel lig so ’n sentrale rol in die Kersgety. Johannes 1 begin sommer met die woorde dat die Lig gekom het.

Kom ons kyk na die Ligmetafoor:  

In die begin het God gesê: “Laat daar lig wees”. En daar was lig. Adam en Eva het fisiese en geestelike lig gehad. God het elke aand in die aandwind aan hulle verskyn. Toe kom die sondeval en ’n groot donkerte het oor die skepping neergedaal. Nie ’n fisiese donkerte nie, maar ’n geestelike en emosionele donkerte.

In die Nuwe Testament met Kersfees het die Here as’t ware weer gesê: “Laat daar Lig wees”. Christus is gebore as die Lig vir die wêreld. Hy het gekom om die duisternis, die geestelike duisternis, te verdryf.

JH Denison skryf dat naby die Noordpool die nag vir maande aanhou. Wanneer die mense verwag het dat die son moet opkom, het hulle boodskappers na die hoogste punte gestuur om die dagbreek aan te kondig. Wanneer die son sy verskyning maak, het hulle hard uitgeroep: “Aanskou die son!” Die wekroep is dan oor die hele land voortgedra: “Aanskou die son”. Dan het almal nuwe klere aangetrek om aan te toon dat dit uiteindelik dag geword het. Met die Christusfees het die Son van geregtigheid die duistere wêreld kom verlig. (In die woorde van JH Denison.)

Daarom is Joh 1: 1 – 14 die klassieke gedeelte wat Jesus in die Bybel voorhou as die Lig wat aan die kom was na die donker wêreld. Christus as Lig skyn in hierdie donker wêreld. Sedert Christus se koms het Sy lig die lig van miljoene gelowiges geword wat in Hom glo. Christus verlig die lewens van elkeen wat met sy sonde, hartseer en gebrokenheid na Hom toe vlug. Met een kers kan jy ’n oneindige hoeveelheid ander kerse aansteek. So het Christus die Ligbron van die wêreld geword.

Daarom gaan Kersfees oor kerse en lig. Dit beteken dat elkeen van ons ook ligdraers moet wees in hierdie donker wêreld. Ons kerslig moet aansteeklik wees vir ander wat nog in die duisternis lewe. Daarom het Jesus ook gesê dat ’n lig wat op ’n berg is, nie weggesteek kan word nie. Maar ’n lig onder ’n maatemmer is nutteloos.

Die vraag kan gevra word: Waarom is Jesus die Lig van die wêreld, maar daar is soveel donkerte in mense se lewens? Waarom is die wêreld nog in duisternis? Daar is soveel misdaad en armoede in hierdie wêreld. Dink aan die onnodige oorlog wat Rusland, onder leiding van Poetin, teen die Oekraine voer. Dan is daar die bloedige en hoë, intense oorlog in Gasa. Hamas het ’n bloedbad veroorsaak teen Israel. Nou is dit ’n oorlog tussen die Jode en die Palestyne. Waarom soveel lyding in die wêreld? Johan Cilliers beantwoord dit mooi met ’n verduideliking: Die Koninkryk van God kan vergelyk word met ’n toneel uit die Eerste Wêreldoorlog. Groot dele van Europa is deur vyandelike magte beset. Soldate was die strate vol en vrouens en kinders het vir die soldate gevlug. Toe kom die berig dat die hoofleërs van die vyand beslissend verslaan is by die Mamreveldslag. Dit was net ’n kwessie van tyd, dan sou die vyandelike magte moes terugtrek. Vier jaar later was die soldate steeds in die dorpies. Maar alles was nou anders. Dit was ’n tyd van opruiming, ’n kwessie van tyd. Mense kon weer met hoop lewe.

Met Christus se koms was dit net so. Jesus se koms het alles verander, maar tog het almal nie verander nie, skryf Johan Cilliers. Die Herodusse is nog daar en die kindermoorde het nie opgehou nie. Soldate marsjeer steeds voort op die oorlogsfronte en mense steek mekaar nog steeds in die rug. Geweldsmisdade en menslike ellende duur voort.

Maar die Kindjie wat gebore is, is reeds deur die heidene wat van ver gekom het, as Koning vereer. Dit is nou die tyd van opruiming van Satan se invloed en ’n kwessie van tyd. Fil 2: 10 – 11 sê daar kom ’n tyd wat elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is Here.

Hoor wat sê Openbaring 21: 23 – 25: “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie”.

Daarom ontwikkel die lig-metafoor dwarsdeur die Bybel in vier fases:

  1. In Gen 1: God het lig geskep (bedoelende die son)
  2. In Gen 3: Die mensdom val in ’n geestelike duisternis en donkerte as gevolg van die sonde.
  3. In Joh 1: Christus Jesus is die Lig vir ’n donker wêreld.
  4. In Openb 21: 23 – 25: Daar sal geen son en geen donkerte meer wees nie, want Christus is die Lam, wat die lamp is.

As jy verskoning maak oor jy nie ’n verskil in die lewe kan maak nie, dink anders daaroor. As jy jou kers laat brand, is daar nie genoeg donkerte om dit uit te doof nie. Elke gelowige wat ’n brandende kers is, behaal ’n geweldige oorwinning oor die duisternis.

Ons kan nie ’n pad hemel toe (boontoe) maak nie. Met Kersfees het God ’n pad (ondertoe) na ons gemaak. Dit het gebeur op Kersfees. Die Ligdraer het na ons gekom, om ons ook aan te steek om lig vir die wêreld te wees.

Laat jou liggie skyn in hierdie donker wêreld.                          

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Jesus het in die kairos (volmaakte) tyd gekom

Skriflesing: Gal 4: 4 – 7

Die geboorte van Jesus was presies op die volmaakte tyd, soos voorspel is. Jesus Christus het op ’n kairos-moment die geskiedenis betree as die Seun van God. Hierdie datum is presies deur die profete voorspel. 

Kom ons kyk na die onderskeiding van die gebruik van die volgende twee Griekse woorde: chronos en kairos. Chronos is “horlosietyd”, 24 ure in ’n dag, 60 minute in ’n uur en 60 sekondes in ’n minuut. Ons gebruik chronos-tyd om ons dag te beplan of om afsprake te bevestig. Kairos-tyd beteken die volmaakte oomblik op die regte tyd en regte plek. Dit is die volmaakte regte oomblik soos wat ’n foto op presies die regte oomblik geneem word.

Die meegaande foto was ’n tyd gelede sensasionele nuus aangesien ’n interessante verskynsel uiteindelik op film vasgelê is. Vir die eerste keer sedert vliegtuie deur die klankgrens gebreek het, kon die spesifieke oomblik verewig word.

Dit is ’n F-18 Hornet van die Amerikaanse vliegdekskip USS Constellation wat êrens oor die Atlantiese oseaan vir klank begin wegvlieg het teen 1123 km/h by standaard-atmosferiese toestande. So ’n aksie veroorsaak ’n blitsvinnige kondensasie van waterdamp, wat in die reël nog onsigbaar bly. In hierdie kairos-geval was die weerstoestande op daardie oomblik ideaal om die skouspel vir die eerste keer in die geskiedenis vas te vang. Selfs die fotograaf was op die regte tydstip op die regte plek.

Kairos-tyd is die spesifieke oomblik wat alles tegelyk gebeur. Dit is wanneer verskillende gebeurtenisse en omstandighede vir daardie oomblik bymekaar kom. Dit kan natuurlik ’n goeie of ’n slegte uitkoms wees. Ons as gelowiges glo dat God die goeie en die slegte goed wat met ons gebeur alles vir ons ten goede laat meewerk.

Aristoteles, ’n antieke Griekse filosoof sê dat kairos die tyd en spasie is waarbinne bewyse van ingrype plaasvind. Ons as Christene sou Aristoteles kon verfyn, deur te sê kairos-oomblikke is tye en spasies waar God Homself aan die mens bewys as die teenwoordige God. Ons almal het sulke Godsmomente waar God Homself helder en duidelik openbaar.

So was die tye en omstandighede vir die geboorte van Jesus Christus ook perfek. Daarom, toe die wyse manne by koning Herodus kom en navraag doen oor die Messias (die Koning) wat gebore is, het Herodus by die Joodse geleerdes navraag gedoen en is dit inderdaad bevestig dat die Messias gebore is.

Die tyd was perfek. In Gal 4: 4a staan daar: “Maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou …”

Eerstens het die Romeine feitlik oor die hele bekende wêreld regeer. Al was die Romeine ’n wrede nasie, was daar met die geboorte en tydens die eerste eeu na Christus ’n redelike mate van wêreldvrede. Daar is gepraat van die sogenaamde PAX ROMANA, wat beteken het daar was vrede in die Romeinse Ryk. Dit het tot gevolg gehad dat die Evangelie van Jesus Christus maklik versprei kon word in die destydse bekende wêreld.

Ook kultureel was dit die regte tyd. Grieks was toe een van die wêreldtale en oral bekend in die Romeinse Ryk. Daarom is die Bybel ook in Grieks geskryf, sodat dit alle mense kon bereik in die Romeinse Ryk.

Ook het die Romeine dwarsdeur die Romeinse wêreld effektiewe paaie gebou, wat reis baie maklik gemaak het. Die apostels kon maklik van een plek na ’n ander plek beweeg, as gevolg van die nuutste padnetwerk in die Romeinse Ryk. Ook dit het die bevordering van die Evangelie vergemaklik.

As gevolg van verskeie Joodse ballingskappe was daar duisende Jode oor die destydse wêreld versprei. Hulle het almal die boodskap gedra van die verwagte Messias wat sou kom. Daarom het duisende nie-Jode ook daarvan kennis geneem en was die wêreld gereed om die Messias te ontmoet.

Daar was ook onder die ander gelowe ’n teleurstelling in hulle gode. So het die Grieke die berg Olympus bestyg en teleurgesteld ontdek daar was geen gode nie. Daarom was baie ontvanklik vir die Christelike geloof.

Die Christengelowiges van die eerste eeu het sterk op hulle geloof gestaan en baie het ’n marteldood gesterf vir Christus. So het die bloed van die martelare die saad van die Evangelie geword, deurdat Christene gevlug het en oral waar hulle gekom het, die Evangelie verkondig het.

God beplan eers voor Hy oorgaan tot aksie. Daarom het God die koms van Sy Seun op Kersdag op die volmaakte tyd en plek beplan.

So maak God ook in die perfekte tyd mense se harte oop om volgelinge van Hom te word. Dit noem ons die bekering of die wedergeboorte. God bewerk dit in mense se harte op Sy tyd en manier. Dit kan kom deur ’n preek, deur ’n getuienis van iemand, deur ’n gebeurtenis in ons lewe of deur die perfekte sameloop van omstandighede. So raak God ook die gelowiges aan om hulle in hulle geloof te versterk.

Die troos van die gedeelte is om aan ons te toon dat ons Jesus dikwels sal vind werk op ’n spesifieke oomblik, spesifieke plek en spesifieke omstandigheid. Wanneer al die faktore volmaak is, sal Jesus ingryp. Daarom beteken die woord kairos (moderne en klassieke Grieks) ook “weersomstandighede”.

Soos daar in die eerste eeu die verwagting was van die komende Messias, leef daar in ons ’n nuwe verwagting, naamlik die wederkoms van Jesus Christus.

’n Spesifieke weersomstandigheid sal eers plaasvind wanneer al die faktore daarvoor gunstig is. Nie verniet word die wederkoms van die Here verbind met weerverskynsels nie. Die Here sal op die kairos-moment, die volmaakte tydstip, kom en die nuwe hemel en aarde vestig. Ons werk in die chronos. God werk in die kairos. Daarom verstaan ons God nie aldag so reg nie.

Ons lewe tussen die Bethlehemster en die Wederkomswolk. Albei vind plaas in die kairos-tyd, wanneer alles perfek saamloop volgens God se wil.

In die eerste eeu het die mense uitgesien na die koms van die Messias. Dit vier ons Maandag met Kersfees, maar ons het ’n ander “uitsien” naamlik na die wederkoms van die Here. Daarom het ons ’n lewende verwagting vir die toekoms, wanneer Christus weer kom op die wolke van die hemel. God werk in kairos-tyd.      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Thompson, Roger. Christmas Sermons by Roger L. Thompson . Michael L Thompson. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

God word ‘n werklikheid, wanneer Hy ‘n noodsaaklikheid word

Skriflesing: Psalm 23: 1 – 6

Psalm 23 is ’n roep tot God in ’n tyd van nood. Wanneer ’n geliefde sterf en ons hart groot verdriet ervaar, is dit reg om na God te gaan om hulp. Hierdie Psalm 23 word deur baie genoem die pêrel van die Psalms. Mag die pêrel in die Psalmboek julle vandag vertroos met Karin se dood.

Die fokus van die Psalm gaan nie oor die Psalmis wat in nood verkeer nie, maar val eerder op die karakter van God. Die karakter van God word besing in tye van nood. Die Here is my Herder. Wat doen herders in die tyd van die Bybel? Hulle het die skape opgepas teen rowers en ongediertes en die skape gelei na waar kos en drinkwater is.

Tussen die Herder en die skape is daar ’n intieme verhouding. Is Psalm 23 kom die woorde “ek” en “my” altesaam sewentien keer voor. Die woorde “Hy”, “Sy” en “U” kom altesaam tien keer voor. Dit alles net in ses kort verse. Daarom is Psalm 23 ’n baie persoonlike Psalm, wat persoonlik beleef moet word. Dit is vir ons elkeen ’n persoonlike troos.

Die goeie Herder laat ons die volheid van die lewe beleef. In Hom is ons ten volle versorg. Hy laat my eerstens ten volle die rus beleef, deur my na groen weivelde van rus te bring. Hy gee my ten volle die verkwikking, deur my te lei na water waar daar vrede is. Hy verkwik my ten volle met nuwe lewenskrag. Die goeie Herder lei my ook ten volle op die regte pad. Skape het geen ingeboude sin vir rigting nie. Hulle is ten volle afhanklik van die herder wat hulle lei. So lei die goeie Herder ons op die regte pad.

Vers vier handel oor die Here wat ons lei deur die vrese en angste van die lewe. Het ons nie genoeg vrese en angste deur ons lewe nie? Hierdie vers het ook die laaste angs van die lewe in die oog, naamlik die Dood. Maar dan beskryf Dawid dat die Here Sy stok en staf gebruik om ons te help. Met die staf lei Hy ons en kan Hy ’n afgedwaalde skaap met die haak van die staf nader trek. Met die stok jaag die Herder al die vyande weg. Dit was soos ’n knuppel met een swaar kant en versterk met spykers. So kom loop die Here saam met ons as ons in gevaar verkeer.
Let op hoe die grammatika verander in die gedeelte. Die Psalmdigter praat aanvanklik van God in die derde persoon, maar van vers 4 – 6 praat hy in die tweede persoon. Nou, in die donker kloof, draai die psalmdigter om en praat met God in die tweede persoon. God word ’n werklikheid wanneer hy ’n noodsaaklikheid word. Die donker kloof maak God vir ons meer werklik as ooit tevore.

Ron Mehl het baie jare kanker gehad. Met hierdie ervaring het hy baie geleer oor die lewe en oor God en hy skryf: “Shadows can cause us no harm; the shadow of a bear can’t bite you, the shadow of a lion can’t defeat you, the shadow of a giant can’t intimidate you, the shadow of death can’t conquer you.”

So het die skaduwee van kanker nie vir Karin oorweldig nie. Sy beleef nie die ewige dood nie. Jesus se dood het haar dood kom doodmaak.

Klein seuntjies doen soms die vreemdste goed vir opwinding. Om die eentonigheid van hul jong lewens te breek, het twee klein seuntjies langs die treinspoor gaan lê om die spoorvibrasies van die aankomende trein te voel, asook om sy donderende geluid te hoor. Nadat dit verby is en slegs die skaduwee van die trein oor hulle gegaan het, was hulle veilig en geen skade is hulle aangedoen nie, selfs in hierdie oënskynlik benarde posisie.

Net so, wanneer ons deur die “vallei van die skaduwee” gaan, ervaar ons net die “skaduwee”.

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Glo jy nie ’n woord daarvan nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewend wees as nou. Ek sal hemel toe gaan, dit is al – uit hierdie ou kleihut na ’n huis wat onsterflik is; ’n liggaam wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie, ’n liggaam wat gevorm is soos Sy glorieryke liggaam. Wat uit die vlees gebore is, kan sterwe. Wat uit die Gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

In die middel van die skaduwee van die dood, het die Here ’n feesmaal kom voorberei. Die Here verlang dat ons by Hom moet wees. Vir ons is die dood afskeid, maar vir die Here beteken dit ontvangs. In die Oosterse kultuur beteken gasvryheid ook beskerming.

Daarom is die Here bly om Karin te ontvang, omdat sy nou ontslae is van siekte en kanker. Sy is nou uiteindelik vry van kanker.

In vers 5 is daar geskryf: “U verfris my kop met olie.” Hierdie olie beteken genesende krag. So sal die Here Jesus ook vir elkeen van julle wat agtergebly het, seën met Sy olie van genesing, om die stukkende en treurende harte en emosies te genees.

Daarom is dit ’n wonderlike troos om te weet ons het ’n ewige Herder wat ons lei en bewaar en ons met ons dood ontvang om tuis te wees in die huis van die Here.
’n Boer het sy seuntjie op ’n besoek aan ’n verafgeleë dorpie geneem. Langs die pad kom hulle by ’n sterk stroompie wat deur ’n wankelrige ou brug oorspan is, wat die seuntjie bang gemaak het, al was dit daglig. Toe hy teen skemer terugkeer, het die seun die stroompie en die ou brug onthou en paniekerig geraak. Hoe sou hulle met daardie wankelende brug daardie onstuimige stroom in die donker oorsteek? Die pa het sy angs opgemerk, die seun opgetel en hom in sy arms gedra. Voordat hulle by die brug kom, was hy vas aan die slaap teen sy pa se skouer. Terwyl die volgende oggend se son by sy slaapkamervenster ingestroom het, het die seun wakker geword en ontdek hy is veilig by die huis. By die dood raak die gelowige aan die slaap in die Verlosser se arms om wakker te word in Sy helder land van geen nag en geen vrees nie.

Twee voëltjies het ’n nes in die bosse in die agterste deel van ’n tuin gehad. Die vyfjarige Amy het die nes gevind. Dit het vier gespikkelde eiers in gehad. Op ’n dag, nadat sy ’n geruime tyd weg was, het sy die tuin ingehardloop om weer na die mooi eiers te gaan kyk. Tot haar ontsteltenis het sy net gebreekte skulpe gevind. “O,” het sy gehuil, “die pragtige eiers is almal bederf en gebreek!” “Nee, Amy,” sê haar broer, “hulle is nie bederf nie. Die beste deel van hulle het vlerke gekry en weggevlieg.” So is dit ook met die dood. Die liggaam wat agterbly is net ’n leë dop, terwyl die siel, die beter deel, vlerke ontvang het en weggevlieg het na die hemel.
In ons diepste hartseer word God ’n absolute werklikheid. Ons diepste troos in die wrede werklikheid van die dood is dat Jesus opgestaan het uit die dood en dat ons in Sy opstanding Hom sal volg. Amen

(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:
Henry, Jim. A Minister’s Treasury of Funeral and Memorial Messages. B&H Publishing Group. Kindle Edition.

Bible Illustrations. AMG Internasional, Inc

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Wat beteken: Die Woord het vlees geword?

Skriflesing: Johannes 1: 1 – 14

Die woord יהוה (Jahweh) beteken “Here” en het vier konsonante.

In die Joodse Ou Testamentiese geloof het die mense nooit die woord Jahweh gebruik nie. Dit was omdat hulle te bang is om die Here by die naam te noem. Daarom het hulle liewer van die “vierletter-woord” of van die “Woord” gepraat, om nie die Here se naam direk te gebruik nie.

Wanneer gepraat word in vers 14 van “Die Woord het vlees geword”, beteken dit eintlik: “Die Here het vlees geword.” In die teologie praat ons van die inkarnasie. Dit beteken dat die Here Jesus wat 100% God is, gekom het om ook 100% mens te wees. Inkarnasie beteken, met ander woorde, die menswording van Jesus Christus. Dit is natuurlik ’n moeilike begrip om te verstaan.

Daar is ’n oorgelewerde storie wat vertel word, wat so lui: ’n Egpaar het op ’n klein plattelandse dorpie gebly. Die vrou was ’n toegewyde Christen en kerkmens. Haar man was egter ’n ateïs, wat niks glo dat God kom mens word het nie. Elke Kersfees het dit in die dorpie gesneeu. Die gebruik was ook dat al die gelowiges van die dorpie op Oukersaand ’n erediens gehad het. Die betrokke Oukersaand het die vrou soos sy gewoond was, kerk toe gegaan. Dit het swaar gesneeu. Haar man het egter agtergebly en televisie gekyk. Toe hy by die venster uitkyk, sien hy ’n swerm voëls wat yskoud op die grond en in die takke van ’n boom sit. Hy het hulle jammer gekry. Hy gaan toe uit en maak die skuur se deure oop. Dit is heerlik beskut. Hy roep die voëltjies en hy beduie vir hulle. Maar hulle wil nie invlieg na die warmte van die skuur nie. Toe wens hy dat hy net ’n kort rukkie soos een van hulle kon word, met vlerkies en vere en so klein soos hulle. Dan kon hy met hulle kommunikeer en vooruit vlieg na die skuur en al die voëltjies sou hom volg. Toe skielik verstaan hy die geboorte van Christus. Die Here Jesus het mens geword, sodat elkeen van ons gered kan word om in die hemelse skuur in te gaan. Hy het net daar op sy knieë geval en ’n gelowige kind van die Here Jesus geword.

Die Here Jesus Christus (die Woord) moes vlees (mens) word om ons te red. Die inkarnasie van Jesus word onder andere deeglik geformuleer in die Belydenis van Athanasius, dat die Here Jesus bestaan het as God en mens. Besef u die wonder van dit alles?

Hoe wonderlik dat God van Sy hemelse troon geklim het en een van ons mense geword het. Van al die godsdienste van die wêreld is die Christelike geloof die enigste wat die geloof het dat die Godheid afgekom het en die vorm van die mens aangeneem het. Die Christelike geloof is ook die enigste geloof wat bely dat die Godheid in Jesus Christus gesterf het vir die sonde van die wêreld.

Daarom staan daar in vers 18 dat Jesus die unieke Seun van God is, wat ’n unieke taak gehad het om die wêreld te red.

Daar is ’n beroemde skildery wat hang in een van die paleise in Rome, Italië. Die skildery word genoem “The Aurora”. Die skildery is teen die dak van die paleis. Dit is amper onmoontlik om die skildery te bewonder, want jy kan nie so lank opkyk nie en jou nek word styf.

Die eienaar het toe ’n groot spieël reg onder die skildery geplaas. Nou kan jy rustig gaan sit en die skildery bewonder deur die spieël. So is Christus ook die Spieël waardeur ons die Vader kan sien.

Daar is ook die storie van die pa wat elke aand vir sy dogtertjie ’n storie gelees het voor slapenstyd. Dan het sy op haar pa se skoot gesit. Elke aand wou die dogtertjie dieselfde storie, herhaaldelik oor en oor, hoor. Later het die pa moeg geword om die storie oor en oor te vertel. Hy het die storie op ’n bandmasjien geplaas. Na drie aande kom die dogtertjie huilend by haar pa aan. Sy wil weer dat haar pa vir haar die storie lees. Hy sê toe vir haar maar sy het mos die storie op die bandmasjien. Sy antwoord toe dat sy nie op die bandmasjien se skoot kan sit nie. Netso het die Here nie net vir ons die Skrif gegee nie, Hy het afgekom na die mensdom, sodat die mensdom op Sy skoot kan sit. Daarom is Jesus Christus se menswording met Kersfees so ’n wonderlike gebeurtenis.

Joh 1: 14 begin: “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon ….” Die woorde “en onder ons kom woon” beteken letterlik dat die Here Jesus “getabernakel” het in hierdie wêreld vir 33 jaar, net soos wat God by Sy volk in die woestyn vertoef het en Sy tabernakel laat opslaan het, as simbool van Sy teenwoordigheid. Die tabernakel was tydelik – so was Jesus se geboorte en lewe ook tydelik op hierdie aarde. Na Sy sterwe en hemelvaart het Hy die permanente tempel geword wat onder ons woon.

In ons teksgedeelte lees ons dat Jesus wat vlees geword het, lig gebring het vir die wêreld. Die donkerte van die wêreld kan nie hierdie Lig uitdoof nie. Hoe donkerder, hoe meer helder skyn die Lig. Jesus se vleeswording het al oor meer as 2000 jaar vir die mensdom lig gebring. Daarom word Kersfees met liggies gevier. Lig vir gebroke en sondige mense, lig vir huwelike, lig vir gesinne en families, lig in moeilike omstandighede, lig vir die siekes en bedroefdes en so kan ons voortgaan. Jesus wil ook jou Lig wees vir 2024.

Daarom moet ons ook in 2024 vir ander mense lig wees. Ons moet Christus beliggaam (embody) en Christ-like dissipels wees. “Thus the daring goal of the Christian life could be summarized as our being formed, conformed, and transformed into the image of Jesus Christ.” ( Richard J. Foster) Soos die vleeslike Jesus Christus opgetree het, moet ons ook optree in hierdie wêreld. Ons moet met liefde, ontferming, meegevoel, empatie en deernis ’n verskil kom maak in hierdie wêreld.

Jesus het kom mens word in die wêreld, sodat ons ook menslik kan optree teenoor mekaar en die vreemdeling op ons pad. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:
Thompson, Roger. Christmas Sermons by Roger L. Thompson. Michael L Thompson. Kindle Edition.

Leininger, David . The 2,000 Year-Old Preacher: Cycle B Sermons for Advent, Christmas, and Epiphany Based on the Gospel Texts. CSS Publishing. Kindle Edition.

https://renovare.org/articles/becoming-like-christ

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Kersfees is nie ‘n feëverhaal nie, maar vind in harde realiteite plaas

Skriflesing: Luk 2: 1 – 7

Ons maak van die Kersboodskap ’n feëverhaal. Aan die einde van die jaar wil ons weggevoer word na ’n romantiese aand, lank gelede in Palestina.

Ons romantiseer die stal, dra die kruis as ornament, sing Maria-wiegeliedere en voer die geboorte op met vrolike, stralende kinders. Ons droom van Sinterklaas en sy sleë, van takbokke, van geskenke en kersbome, van Kersetes en die heerlikste kerspoeding daarna.

Ja gemeente, ons raak bedwelm deur die Kersfeesgees, ten einde ’n bietjie te kan vergeet van die harde werklikhede van elke dag. Aan die einde van elke jaar wil ons ’n bietjie wegvlug van alles. Ons wil wegvlug van die stryd van elke dag en daarom soek ons troos in die romantiese Kersfeesstemming.

So vlug ons as’t ware van hierdie harde feite van die lewe, om iets van die feëwêreld van Kersfees te ervaar.  Maar geliefdes, ’n feëverhaal bied slegs tydelike ontvlugting omdat dit nie rekening hou met die werklikheid nie. ’n Feëverhaal verander niks aan die harde feite van die lewe nie.

Daarom is die troos van die kersboodskap dat dit geen feëverhaal is nie, maar plaasvind in ’n harde realiteit. Ons gaan eerstens kyk hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van die wêreld en tweedens, hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van my persoonlike lewe.  

Eerstens realiseer Kersfees in die harde realiteit van die wêreld. Die Kersverhaal begin nie soos die meeste feëverhale met “Eendag, lank gelede was daar ’n …” nie.

Nee, dit begin met harde werklikheid. Dit begin met: “In daardie tyd het Keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig …”

Die eerste Kersfees het plaasgevind in die naakte werklikheid van politieke oorheersing, magstryde, bloed, broedertwis en ellende.

Wanneer Lukas in sy Evangelie die name Augustus en Sirenius gebruik, wil hy eintlik vir ons sê dat Jesus Christus gekom het in die harde politieke werklikhede van Sy dag.

Kom ons kyk hoe het Palestina met die geboorte van Jesus daar uitgesien. Palestina, en daarmee saam die hele Joodse volk, was onderwerp aan die Romeinse oorheersing. Vir die Jood was dit ’n groot belediging om onder ’n Romein te staan. Daarom was politieke opstande ook nie in hierdie tyd iets vreemds nie.

Ook onder die Joodse volk self het mense sekere groeperinge gevind. Ja, in hierdie tyd het broer ook teen broer die stryd aangesê.

Keiser Augustus het wel ’n sogenaamde wêreldvrede daargestel, die sogenaamde PAX ROMANA, maar dit was ook maar ’n gespanne vrede. Dit was ’n kunsmatige vrede.

Daarby was die Jood se ekonomiese situasie nie veel beter as ’n gemiddelde Derde Wêreld-land vandag nie. Armoede, droogtes en ekonomiese resessies was iets algemeens. Ek kan my indink dat die Joodse ouers ook maar diep bekommerd was oor wat van hulle kinders sou word.

As daar in daardie tyd televisie was, sou die agtuur-nuus seker maar ook gelaai gewees het met politieke, ekonomiese en maatskaplike probleme.

Binne hierdie harde werklikheid het Christus gekom, met die eerste Kersnag. Ons sing graag: “Stille nag, heilige nag …” Eintlik moet ons sing: “Ontstuimige nag, onheilige nag …”

Want sien, geliefdes, die Kersverhaal is geen feëverhaal nie, maar die kersgebeure speel af in die harde werklikheid van elke dag.

Christus het as’t ware die lig kom word wat moet skyn, ook binne die donker gemoed van die Jood en uiteindelik alle volke van die wêreld. God het kom bemoeienis maak met die Jode en uiteindelik alle volke van die wêreld wat vasgevang was in die harde probleme van hulle tyd.

Maar juis dit, liewe gemeente, is ons groot troos. Met Kersfees 2023 wil God binne-in die harde feite van ons wêreld kom staan. Hy wil kom staan binne-in die harde werklikhede van ons wêreld:

  • Die bloedige oorlog tussen Israel en Hamas (Palestyne)
  • Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne
  • Die magstryd tussen nasies en volkere
  • Die rassestryd oral in die wêreld
  • Die terreur en geweld in ons gemeenskappe
  • Die armoede van die wêreld

Kersfees is dus geen feëverhaal nie, dit is God se nuus, Sy agtuur-nuus vir hierdie wêreld. Met Christus se koms het Christus binne-in hierdie harde feite kom staan.

Daarom is Christus Jesus met Kersfees 2023 nog net so aktueel soos tydens die eerste Kersnag.

Daarom wil God van stukkende mense in ’n ou wêreld, vol menslike mislukkings, nuwe mense maak in ’n nuwe wêreld, vol nuwe moontlikhede.

Daar bestaan vir hierdie wêreld slegs maar een laaste uitweg, een laaste loopgraaf en dit is Jesus Christus. Jesus Christus is die laaste loopgraaf, die laaste moontlikheid vir ’n mal wêreld.

Die wêreld produseer baie maniere om te kan ontvlug uit die harde werklikhede van elke dag en die mensdom toets elke moontlikheid uit. Maar Christene is mense wat kan instap in die harde werklikhede van elke dag, omdat hul Heer afgedaal het in die harde werklikheid van die wêreld.

Daarom is Christene nie vlugtelinge van die harde werklikheid nie. Nee, hulle is frontvegters wat vir Christus Jesus ’n slag wil slaan op die front van hierdie wêreld, omdat hulle Here alreeds die grootste slag vir hulle geslaan het.

Daarom wil Kersfees 2023 vir jou sê – gaan trotseer die harde werklikhede van 2024, want met die eerste Kersnag het Christus Jesus die harde werklikheid van hierdie wêreld getrotseer.

Tweedens kyk ons hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van ons elkeen se persoonlike lewe. Verse 4 – 7 beskryf die persoonlike lewe van Josef en Maria. Hulle was twee jongmense wat binne die ontstuimige wêreld van daardie tyd, as pasgetroudes, die werklikheid van die lewe moes trotseer.

Die familie en gemeenskap het seer sekerlik vrae gevra – verwyte geslinger oor die kind wat buite die huwelik verwek is.

Dan, toe Maria op die punt was om haar eersteling in die wêreld te bring, moes hulle op reis gaan, want die harde wêreld buite die gesin dwing hulle deur ’n volkstelling daartoe. Hulle moes Bethlehem toe stap, met Maria op ’n donkie. Dit moes swaar gewees het vir haar.

Die kraamsaal is ’n stal – harde werklikheid! Want die dorp is vol mense, daarom sukkel Josef en Maria en moes hulle uiteindelik tevrede wees om in ’n stal ’n ruimte te skep vir liefde. (’n Klein stukkie tuiste in ’n harde wêreld.)

Maria het dan ook skaars herstel toe hulle vir Herodus moes vlug, en moes hulle politieke vlugtelinge word in Egipte om die Kindjie se lewe te spaar.

Honderde seuntjies word vermoor in Betlehem en Rama, op bevel van koning Herodus. ’n Ongekende hartseer tref die ouers van Rama.

Geliefdes, elke dag ervaar ons as gesinne hoe ons persoonlike lewe bedreig word. Daardie klein wêreldjie van geliefdes rondom my – aan wie ek emosioneel gebonde is – word elke dag bedreig.

Somtyds ervaar ons die haat en oorlog en eensaamheid van die groot wêreld ook hier binne-in my klein persoonlike wêreldjie.

Die harde werklikheid is my huwelikslewe, kinders grootmaak, siekte en gebreke en die roetine van elke dag. Daar is ook die eensaamheid in die bejaarde en weduwee / wewenaar of enkellopendes se lewe.  Die probleme wat gereeld oor ons kom, voel party dae of dit ’n mens wil oorweldig.

Maar geliefdes, nou is die troos van verse 4 – 7 dat Jesus Christus juis gekom het binne-in die harde werklikheid van ons persoonlike lewe. So baie mense vlug vandag van hulle persoonlike lewe, in plaas dat hulle vlug na Christus Jesus en met Christus Jesus die harde werklikheid van hulle persoonlike lewe instap.

Want Christus het juis mens geword binne die harde werklikheid van ’n gewone Joodse gesin. As alles vir jou te veel word, weet dan Jesus het in sulke omstandighede soos joune, kom mens word.

Hy het grootgeword in dieselfde ou wêreld, met dieselfde probleme. Hy het gesterf aan ’n kruis, en is begrawe. Maar Hy het opgestaan uit die dood.

Met Sy opstanding het Christus die harde werklikheid van hierdie wêreld en van my persoonlike lewe kom oorwin.

Nou is dit moontlik dat die hemel in die harde realiteite van elke dag kan waar word:

  • Hemel in die wêreld
  • Hemel in my persoonlike lewe

Maar dan mag ons nie hierdie wêreld ontvlug nie. Nee, ons moet dit instap en ’n stukkie hemel skep. U sien dus die Evangelie speel nie in ’n droomwêreld af nie, maar in hierdie wêreld met sy harde werklikhede.

Daarom mag God nooit vir ons ’n storieboekgod word, van wie ons graag hoor, maar wat nie werklik in ons lewens betrokke is nie.

Daarom kan ons 2024 binnestap, met al sy harde werklikhede, want ons God is betrokke in ons lewens.

Hy wil van stukkende mense in ’n ou wêreld, vol mislukkings,  nuwe mense maak in ’n nuwe wêreld, vol nuwe moontlikhede. Gelukkig is hierdie Evangelie geen feëverhaal nie, maar ’n Evangelie wat tred hou met die harde werklikheid van hierdie wêreld en van my persoonlike lewe. Dit is my allergrootste troos.                         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Om met dapperheid die dood te trotseer

Skriflesing: 2 Samuel 12: 16 – 23

Oom Jakkie le Roux het met dapperheid die dood trotseer. Hy het lewerkanker gehad, waarvoor daar nie werklik genesing is nie. Toe hy by die dokter hoor dat sy liggaam binnekort gaan beswyk en sterwe, het hy dit met sy familie gedeel en spesiaal oorgestap na my om dit vir my ook te vertel. Ek en hy was diep bewus  van sy lewe wat binnekort beëindig gaan word deur die siekte. Daar was geen hoop van behandeling of chemoterapie of medisyne wat hom kon genees nie. Daar was geen hoop dat hy miskien gesond sou word nie.  Al wat seker was, was dat die dood binnekort gaan intree.      

Ek het onmiddellik by myself gewonder hoe ek sal reageer. Ek het min woorde vir Oom Jakkie gehad, behalwe om vir hom te bid. Oom Jakkie was letterlik soos ’n soldaat wat die gevegsone betree en geweet het, hier gaan ek sterf. Hy het geen uitkomkans gehad nie. Hy het die dood in die oë gekyk.

Maar hy was ’n dapper soldaat. Hy het nie teruggedeins vir die dood nie. Hy het nie in selfbejammering of in opstandigheid verval nie. Hy het aangegaan met sy roetine. Elke dag het hy nog voldag gewerk in sy werkkamer en houtwerk vir mense gedoen. Hy het selfs nog vir die kerkkantoor ook gratis skrynwerk kom doen. Na werk het hy en Rienie die aande saam deurgebring en het hy nog die Wêreldbeker Rugby se wedstryde ook gekyk. Ek was verstom hoe grasieus hy sy dood aanvaar het. Hy het in sy roetine gebly. Hy het nie op ’n hopie gaan sit nie. Hy was dapper tot die einde.

In sy laaste dae was hy baie swak. Maar hy het sy volle samewerking gegee vir Rienie en Jacques wat hom versorg het. Hy was ’n maklike pasiënt. Op die einde het hy net gesmeek dat die Here hom moet kom haal. Dr Haggis Black het hom bygestaan in die laaste dae. Hy het waardig, rustig en eervol gesterf. Hy was ’n dapper soldaat wat eerbaar gesterf het. Ons salueer hom daarvoor.

’n Mens kan so dapper sterf as jou saak met die Here reg is. Oom Jakkie was ’n opregte kind van die Here en een van ons gemeente se getrouste kerkgangers. Hy het in geloof gesterf. Hy het gesterf in die teenwoordigheid van die Here en van sy geliefde vrou Rienie.

In ons gelese gedeelte lees ons van Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.     

Maar dan staan daar in 2 Samuel 12: 19 – 23 die volgende: “Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’

’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moet aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van Dawid was verstom oor die optrede van Dawid.

Soos Prediker ook predik: dat daar ’n tyd vir alles is. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.

So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Jakkie aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.

Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.

Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die sak van die kis, saam in die graf geklouter het, want hulle kan nie met dapperheid die dood hanteer nie, want vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.

Maar die “dal van doodskaduwee” van Ps 23:4 in die 1953 vertaling is nie ’n maklik plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water ook van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. As Dawid as jong seun die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang wat in die dal vir hom voorlê. Dit is soos doodskaduwees.  Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.

Wat het ek geleer  in Jakkie le Roux se sterwensproses? As jy swaar kry, bly in jou roetine. Moenie gaan lê nie. Lewe nog elke dag voluit – tot die einde. Wees elke dag dapper. Fritz Grobbelaar het my vertel toe hy twee jaar in Antarktika was, was dit ses maande bykans net dag en ses maande bykans net nag. As jy nie in jou roetine bly nie en volgens die horlosie opstaan en gaan slaap nie, gaan jy dit nie maak in Antarktika nie. Jy móét in ’n roetine bly.

So moet jy ook in jou swaarkry in ’n roetine bly. Ook in jou geestelike dissiplines moet jy in ’n roetine bly. Bid gereeld en bly standvastig in jou geloof. Wanneer ek by Oom Jakkie besoek gebring het en hy al baie swak was en ek vir hom ’n gebed gedoen het, het hy my hand ekstra styf vasgehou. Op die einde het hy na die Here geroep en die Here het hom gehoor en saggies weggeneem om by Hom te wees.

Ek respekteer die dapper en waardige manier waarop Jakkie sy laaste weke deurgebring het. Hy was dapper tot die einde.

Almal is bang vir die dood. Dood is ons grootste vyand. Maar in Christus word die dood ons vriend. Dit verlos ons van aardse sorge, bekommernisse, siekte, lyding en swaarkry. Daarom het ons ’n wederkomsverwagting, dat die dood die deur is na die ewige lewe, waar ons in ’n totale toestand van vrede sal wees.

Die Here sal ons die krag gee om hierdie grootste vyand, die dood, te verslaan.

Ons eer die lewe van broer Jakkie le Roux. Hy was dapper in sy dood. Ons wat agterbly, en veral sy familie, moet nou dapper wees om sy dood te aanvaar en verder sinvol met ons lewens aan te gaan. Jakkie le Roux kan nie terugkom na ons nie, maar ons gaan eendag na hom. 

Jakkie le Roux sal altyd deel wees van ons kosbare herinneringe.  Ons eer sy nagedagtenis.             Amen  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)