Jesus regeer met ‘n kruis, nie met ‘n swaard nie

SKRIFLESING: Joh. 18: 1 – 11

Ons leef in ’n wêreld van superhelde.

Kinders het hulle eie helde soos Tarzan, Superman, Spider-Man, Wonder Woman, Iron Man, Batman, Rambo, Karate-kid en Popeye wat spinasie eet om hom sterk te maak.

Ons leef in ’n “sterk wêreld”, waar daar nie plek is vir swakheid nie. In ons wêreld is daar nie plek vir sagmoedige Neelsies nie. Nee, op sagmoedige Neelsies word getrap, want hulle kan nie hulle man staan nie.

“Nice guys come second” in die politiek, in die sakewêreld en sommer oral oor. Mussolini het een maal gesê: “As ek kon kies: eerder een dag ’n leeu as ’n duisend jaar ’n lam.” Daarom is die Evangelie nie baie gewild op die ander ses dae van die week nie, want Nietzsche het gesê die Evangelie maak ’n mens nie sterk nie, eerder swak.

Hierdie wêreld is egter bekend vir sy magsvertoon, sy parades, sy politieke toesprake, vertoon van tegnologie en wapentuig, sy prestasies en rykdom. Tans is die wêreld in ’n staat van oorlog.

Daar is die oorlog tussen Rusland en die Oekraine, wat alreeds meer as twee jaar woed. Daar is die oorlog tussen Israel en Hamas, wat die hele Gaza-streek vernietig. Noord-Korea bedreig Suid-Korea met missiele wat afgevuur word oor die see.  Die afgelope week  het Isis vir Moskou aangeval. Ekstremistiese groepe teiken die skeepvaart in die Rooi See. Almal is bang die oorloë eskaleer in ’n groter oorlog.

TS Eliot het nie verniet gesê: “Die meeste probleme in die wêreld word veroorsaak deur mense wat belangrik wil wees.”

Daarom wil die Romeinse soldate en die Jode in Joh. 18 met magsvertoon en krag die Koninkryk van God stuit. Daarom kom hulle met ’n hele afdeling soldate, gewapen met stokke, spiese en swaarde.

Agter die hele episode sit natuurlik die Fariseërs en die Sadduseërs wat die meesterbrein agter alles is. Hulle kon niks teen hom vind nie, nou speel hulle vuil en misbruik hulle hul mag. As jy nie slim is nie, moet jy sterk wees. Dan lees ons van die verraad. Die wolf in skaapklere is niemand anders as Judas Iskariot nie. Met geld kan jy enigiets regkry.

Die groot gevaar is egter as die kerk ook deur krag en magsvertoon sy saak wil bevorder.

Dit is dan inderdaad wat Petrus doen, hy pluk sy swaard uit en kap Malgus se oor af. ’n Mens wil as’t ware vir Petrus gelukwens, vir hom ’n medalje gee vir sy flinke optrede. Petrus is ’n ware ridder.

In die Middeleeue het die kerk ook onder Konstantyn verskeie kruistogte met die swaard uitgevoer, om die wêreld vir Christus te wen. Dit het egter tragiese gevolge vir die kerk gehad. Dit was ’n donker tyd in die kerk se geskiedenis. Maar wat sê Jesus vir Petrus? “Sit die swaard in sy skede terug. Moet ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Inderdaad verander die Here die swaard in ’n kruis.

Daar is grafiese ooreenkomste tussen ’n swaard en ’n kruis. Hulle lyk amper dieselfde, maar daar is tog ’n reuse-verskil. Die swaard vernietig en die kruis genees.

Toe Petrus se swaard weg is, word hy bang. Hy hardloop weg en verloën die Here. Toe hy nie meer met die swaard kon regeer nie, val sy bravade weg. Eers later sou Petrus leer dat selfverloëning, diensbaarheid en die kruis die weg van God in hierdie wêreld is.

Eindelik, baie jare later sou Petrus aan ’n kruis sterf vir sy geloof. Hy het daarop aangedring om onderstebo gekruisig te word, kop onder en voete bo. Hy het homself nie waardig geag om op dieselfde wyse as die Here te sterf nie.

Nie deur ‘n swaard-Evangelie nie, maar deur ’n Kruis-Evangelie verander die Here dié wêreld.

In Romeine 13 het die Here vir die staat die swaardmag gegee om te heers met die swaard. Maar die kerk het ’n ander styl, die kerk moet nie deur die swaard en deur mag heers nie, maar met die kruis dien.

As Christen moet ek in my huwelik, in my gesin, in my werksplek, en in die samelewing met die kruis dien en nie met die swaard probeer regeer nie. Die swaard staan vir magsmisbruik, maar die kruis staan vir gedienstigheid. Die huwelik, gesin, werksplek en samelewing moet nie deur mag beheer word nie. Nee, ons moet mekaar in die huwelik, gesin, kerk en samelewing dien.

In Fil. 2: 3 staan daar: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”

Juis so kom die verandering in die wêreld. Juis so konfronteer God die werklikheid van die kwaad.

Teenoor die grootdoenerigheid van die wêreld – ’n kruis.

Teenoor die mag en geweld van hierdie wêreld – ’n kruis.

Teenoor die skynbaar onkeerbare triomf van die bose – ’n kruis.

Ons het iets meer aanskoulik verwag, ’n goue swaard, maar vind ’n bloederige houtkruis.

Op Palmsondag kom Jesus Jerusalem ingery op ’n donkie. Die skares gooi palmtakke en klere voor Hom uit. Hulle was onder die indruk Hy kom met die swaard die Romeine verslaan, sodat die Jode vry kon wees. Hulle het Hom as ’n politieke en militêre bevryder aangesien. In die groot Lydensweek, sou Jesus hulle egter teleurstel. Daarom het hulle ook op Goeie Vrydag geskree: “Kruisig Hom, kruisig Hom.” Hy kom wys dat hy nie politieke bevryding bring nie, maar die bevryding van sonde. Hy regeer nie met ’n swaard nie, maar met ’n kruis.   

God kom die geskiedenis van die wêreld nie ingery as ’n ridder op ’n perd met ’n swaard om te regeer nie. God kom die geskiedenis van die wêreld ingery as ’n Nederige op ’n donkie op Palmsondag en Hy dien met ’n kruis. Daardeur het die wêreld verander!

Die kruis het ’n keerpunt geword in die jaartelling, naamlik voor Christus en na Christus. Die kruis het ’n kruispunt geword in mense se lewens. Die kruis sny dieper as wat enige swaard ooit kan sny. Dit sny die kanker van sonde weg.

Die swaard kloof oop, maak seer en bring vyandskap.

Die kruis genees en bring heling en versoening.

Ons mense is lief om die swaard uit te haal en mekaar by te kom. Dit bring vervreemding van mekaar en die kanker van haat versprei.

Daarom is die styl van die kerk nie die swaard nie, maar die kruis. Wat hanteer u en ek elke dag, die swaard of die kruis? Wat is u en my styl? Die swaard of die kruis?

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Littekens kan van jou ‘n “wounded healer” maak

SKRIFLESING: Joh 20:  19 – 23

Elkeen van ons het littekens. 

Dit kan fisiese littekens wees, soos grys hare wat van ouderdom getuig, of ’n af-vinger wat getuig van ’n vinger wat in die slag gebly het op ’n bandsaag.  Dit kan bysiendheid of ’n geringe graad van doofheid wees.  Dalk ’n merk wat ’n boorpunt of ’n hamerhou ons toegedien het.

Daar is ook die sielkundige littekens soos ’n stuk seerkry vroeër in my lewe wat ek nog glad nie verwerk het nie.  Dalk ’n swak selfbeeld, of angstigheid of depressie of net ’n bang gevoel in my lewe.  Daar is dalk ’n oordrewe skuldgevoel in my lewe teenwoordig. Dit kan my “inner child” wees wat seergekry het in my kinderjare.

Daar is ook die emosionele littekens soos die van iemand wat ’n ouer of kind aan die dood afgestaan het.  Toe my ouer of my kind gesterf het, het iets ook hier binne my doodgegaan. Almal het littekens.

Ja, die tydskrifte en die televisie bedrieg ons as net die mooiste meisies en die sterkste ouens in advertensies verskyn.  Dit lyk of die TV-modelle ook net die mooiste en rykste is.  Vir baie jare het ons in die kerk ook ’n Evangelie van littekenloses verkondig.  Ons het geleef asof Jesus slegs die vleklose, die goeie en suksesvolle mense aanneem.  Ordentlike,  fatsoenlike en op hul-plek-mense was die verkorenes.  Sulke Christene hoort op die glansblaaie van die tydskrifte.

Op die dowwe bladsye van die Bybel lees ek egter van ’n Jesus wat hom vereenselwig met die armes, die melaatses, die straatvrouens, die dronkies, die dwelmslawe, die straatkinders, die tronkvoëls, die hongeres, die dakloses, die vissers, die oneerlike tollenaars, die huilendes en die versteurdes.

Ja, Jesus het Hom vereenselwig met die littekens van die:

* Arme …  litteken van verslete klere

* Melaatses … litteken van hande en vingers wat soos kloue staan

*Straatvrouens … litteken van om opgebruik te wees

*Hongeres … litteken van hol oë

*Dakloses … litteken van mense wat kartondose wat hul saamsleep

*Tollenaars … litteken van skuldgevoelens.

Jesus Christus lees ’n mens nie raak op die glansbladsye van die tydskrifte nie, maar op die dowwe bladsye van die Bybel.

Jesus sal nie poseer tussen glanssterre nie, maar tussen hulle wat merktekens dra.

Toe die Here Jesus aan die dissipels verskyn daardie Sondagaand was hulle verskrik en bang bymekaar, en die deure was gesluit. Nie glanssterre nie, maar ’n klomp verskriktes, vol littekens. Sommiges het geslaap toe hulle moes waghou, sommiges het weggehardloop toe hulle moes getuig, een het die Here blatant verloën, daar was selfs ’n twyfelaar of meer onder hulle.

Dan verskyn die Here aan hulle. Hy het deur die deur beweeg, amper soos ’n spook. Maar Hy was nie ’n spook nie, hulle kon aan hom vat.

Twee keer het Hy vir hulle gesê: “Vrede vir julle”. Johannes probeer deur die dubbele seëngroet vir ons aantoon dat dit meer was as maar net ’n groet. Eintlik het die seëngroet die begin van die nuwe lewe ingelei. Jesus gee aan hulle Sy werklik volkome vrede.

Dan blaas die Here oor hierdie bang, verwarde, glanslose dissipels en vroue sy asem en sê: “Ontvang die Heilige Gees”.

Aan mense vol littekens, gee God sy Heilige Gees. God se Gees is nie alleen vir die volmaaktes, die vlekloses, die geloofsreuse en die suksesvolle kerke nie. God se Gees is nie vir die “Hoera-mense” nie. Nee, dit is vir hulle wat gemerk is met littekens, die onvolmaaktes.

God blaas sy Gees oor die dissipels soos wat God in die begin sy asem oor die eerste mensepaar geblaas het. Jesus gee aan hulle ’n tweede lewe. Hulle het die Heilige Gees, asem, lewe, krag en energie ontvang. Dit “empower” ons. Dit gee aan mense vol littekens krag vir vandag en vir môre. Dit laat ons dinge doen wat ons andersins nooit sou doen nie.

Agt dae later sou Jesus Christus, die Vleklose Lam van God, Sy littekens aan die ongelowige Thomas wys. Die vleklose Lam van God het littekens opgedoen deur ons sondes. Daardeur het hy die Joodse wetboek kom nietig verklaar. In die Joodse offersisteem kon diere met gebreke nie geoffer word nie. “Geen littekens” het die reëlboekie gesê! Geen lelikheid nie! En hier strek Jesus Sy hande en voete uit. God openbaar Homself met littekens. Hy kom identifiseer Homself met ons littekens.

Maar daarmee saam kom ook die opdrag aan die kerk, dat die kerk die Evangelie van “Hom met die Littekens” aan die wêreld wat vol  littekens is, moet verkondig. Dit is ’n Evangelie wat empatie, deernis en toewyding verg.

Eers moet ek self as gevolg van my littekens ly, voor ek hoop kan bring aan ander met littekens. Vandag is daar baie mense wat liggaamlik of geestelik gelitteken is vanweë ’n trauma. Van hulle beman sopkombuise en is vrywilligers in die hospitaal se terminaalafdeling en probeer straatkinders onder dak kry.

Riana Raab skryf in Psychology Today die volgende: “Gewonde genesers is mense wie se pynlike ervarings hulle in staat stel om ander te help. Gewonde genesers is goeie luisteraars, empaties, aanvaardend en vindingryk. Hulle beskou alle ervarings as geleenthede. Gewonde genesers kan binne of buite die helpende beroepe wees.”

“Wounded healer” is ’n term wat deur sielkundige Carl Jung geskep is. Die gedagte is verleen aan die veronderstelling dat pasiënte die beste behandel kan word as die helper self “gewond” is. Die idee het moontlik ’n  Griekse mitologiese oorsprong. Victor et al. (2022) het bevind dat 82% van Toegepaste Sielkunde gegradueerde studente en fakulteitslede in die Verenigde State en Kanada op een of ander stadium in hul lewens  geestesgesondheidsprobleme ervaar het. Dit maak dat hulle baie beter empaties na mense kan luister.

Henri Nouwen het ’n aangrypende boek geskryf: “The wounded healer”, waar hy juis getuig oor sy eie gewondheid en hoedat hy vreugde vind om met mense te werk wat gewond is in die lewe. Nouwen skryf onder andere: “In our own woundedness, we can become a source of life for others.”

 Mense met littekens het begrip vir ander mense wat swaarkry of wat stukkend is. Jesus wil vir ons met littekens Sy “wounded healers” maak.  Ja, as “gewonde genesers” moet ons gewondes, wat langs die pad seergekry het, die wonde van ander versorg en genees.

Littekens kan ’n mens òf versag òf verhard. Littekens kan ’n mens òf met innerlike vrede dra, òf ’n mens kan verbitterd word. Dit hang af of ’n mens dit bring na die Gekruisigde Jesus? Dit maak al die verskil.

Toe Jesus daardie Sondagaand aan die dissipels met sy littekens verskyn het, het Hy waardigheid aan ons littekens gegee.

Met elke Nagmaal herdenk ons die tekens, die littekens van Sy sterwe, naamlik die brood en wyn. God blaas oor ons elkeen opnuut Sy Gees, gee ons die lewe en moedig ons aan om die Evangelie van Hom met die littekens aan ’n stukkende wêreld te verkondig.

Is u bereid om ’n “wounded healer”, ’n “gewonde geneser” te wees vir die seerkry-mense op u pad?  Dit is ’n geneesmiddel vir jou eie pyn en seer. Dit is in elk geval beter as om jouself te bejammer.

Daarom kan jou innerlike seerkry sin gee aan jou lewe, deurdat jy ander mense verstaan en hulle kan help.

So kan ons die Minus (-) in ons lewens deurkruis met die kruis van Christus om ’n Plus (+) te word.

So kry ons littekens (ons pyn en seerkry) betekenis. Dit word die moeite werd om met jou littekens saam te leef.  

Ons lyding gee sin aan ons eie bestaan.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Hoe sal mense my eendag onthou?

SKRIFLESING: Hand 9: 36 – 43

Aan die begin van die twintigste eeu het ’n man een oggend die koerant oopgevou en tot sy verskrikking sy eie doodsberig in die koerant gelees. Daar was blykbaar ’n vergissing van name, want hier was ’n dooie man besig om ’n nadoodse huldeblyk oor homself te lees. Nietemin het hy verder gelees om te sien wat die mense oor hom te sê gehad het. Die opskrif het gelui: “Plofstofkoning sterf.”

Dit was al erg genoeg, maar toe hy verder lees, moes hy telkens tot sy ontsteltenis lees dat hulle van hom praat as die “handelaar van die dood”. Hy was erg ontstel. Die beriggewing oor sy lewe was egter korrek, want hy was immers die uitvinder van dinamiet en het baie ryk geword uit die vervaardiging van plofstof en die verkope van allerlei vernietigende wapens.

Die berig het hom diep geraak. Hy wil immers nie onthou word as die “handelaar van die dood” nie. Eensklaps het hy besef dat hy ’n tweede kans gekry het. Hy kon nog sy grafskrif verander. Na ’n geestelike diepgang in sy lewe het hy al sy tyd en geld gespandeer om oral in die wêreld waar daar oorlog was, opheffingswerk tot stand te bring en vrede tussen strydende groepe te bevorder.

Vandag word Alfred Nobel nie meer onthou as die “plofstofkoning” of die “handelaar van die dood” nie. Ons ken hom as die stigter van die Nobelprys vir Vrede. Sy grafskrif praat ook van vrede in plaas van plofstof en dood.

Hoe sal die mense eendag vir ons onthou? Wat sal daar eendag op ons graf geskryf staan? Wat sal die mense van ons sê?

In ons gelese gedeelte lees ons van ’n vrou met die naam Tabita, of ook Dorkas, wat gesterf het. Haar afsterwe is wyd betreur en almal – Jood en Griek – het van haar goed gepraat. Hulle het die volgende oor haar gesê: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”

Hulle het selfs die klere wat sy vir die armes gemaak het as getuienis voorgehou van haar voorbeeldige lewe.

Sy was as Tabita en as Dorkas bekend. Tabita was haar Joodse naam en Dorkas  haar Griekse naam. Sy was letterlik in die Joodse en Griekse gemeenskap bekend as ’n goeie en barmhartige vrou. Sy het goed gedoen aan die Joodse en Griekse weduwees. Sy het nie onderskeid getref nie.

In die Bybel was ’n weduwee werklik uitgelewer aan die aalmoese van ander. In daardie tyd was daar nog nie staatstoelaes en pensioenfondse nie. Wanneer ’n vrou se man sterf, was sy werklik arm en hulpbehoewend. ’n Weduwee is gereken as die armste onder die armes. Oor hierdie vroue het Tabita haar bekommer.

Toe Tabita tot sterwe kom, was daar hartseer onder die Joodse en Griekse gemeenskap. Almal het haar gemis. Deur haar barmhartigheidswerk het sy as’t ware Jood en Griek bymekaar gebring. Almal het met lof van haar gepraat.

Tabita het ’n spoor nagelaat van Christelike barmhartigheid en deernis. Sy het haar eie grafskrif geskryf met die woorde: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”

So laat ons elkeen ’n spoor of ’n reuk agter. Somtyds is dit ’n doodsreuk, somtyds is dit ’n reuk van lewe.

Baie dikwels word mense onthou vir die slegte dinge in hulle lewe. Dit kan jou humeur wees, of  dat jy ’n korrelkop was of ’n swakheid vir vroue gehad het, of ’n drinkebroer was of dat jy onverantwoordelik geleef het.

Sommige mense sal onthou word vir hulle baie geld of vir die status wat hulle in die gemeenskap gehad het. Party mense sal onthou word vir hulle unieke prestasies en vir die medaljes wat hulle gewen het.

Dawid in die Ou Testament, sal onthou word as die man na aan “die hart van God.”

Judas Iskariot sal onthou word vir sy materialisme en dat hy vir Jesus uitverkoop het vir 30 silwerstukke.

Paulus sal onthou word as die apostel  wat sy alles gegee het vir die verkondiging van die Evangelie.

Ananias en Saffira sal onthou word vir hulle oneerlikheid, oor hulle oor die koopsom van die stuk grond gejok het en albei dood neergeslaan het.

Maar mense kan ook onthou word vir hulle goeie hoedanighede. Mense word onthou vir die sukses wat hulle van hulle loopbaan gemaak het. Mense word onthou vir die goeie moeders en vaders wat hulle vir hulle kinders was. Mense word onthou vir hulle liefde, nederigheid, toegewydheid, opregtheid en ander mooi eienskappe.

Oom Danie van Heerden sal onthou word vir die uitstekende onderwyser en skoolhoof wat hy was. Hy was geliefd onder onderwysers en leerlinge. Hy was ’n goeie gemeenskapsleier, goeie sportman en ’n ware heer. Hy was ’n goeie vader en oupa. Danie van Heerden was beginselvas en onwrikbaar in sy lewenskeuses en integriteit. Hy het die Laerskool Adelaide opgebou vir dié baie jare wat hy skoolhoof was. Hy was lief vir sy sport en het self ook baie sportsoorte beoefen. In die latere jare was gholf sy nommer een sport.

Wanneer ons kwaad doen, skinder, kwaadpraat, selfsugtig optree en die dinge doen wat die Gees van God bedroef, dan laat ons ’n spoor van die dood agter. Ja, ons laat ’n doodsreuk agter. Maar as ons die Gawes van God se Gees uitleef, soos byvoorbeeld liefde, vriendelikheid, gasvryheid, nederigheid, ensovoorts versprei ons ’n reuk van lewe. Ja, ons laat ’n goeie spoor agter.

God roep ons juis op deur die voorbeeld van Tabita om ’n goeie spoor na te laat. Ja, om ’n aangename geur van lewe te versprei, sodat ons iets vir ander mense kan beteken.

Hoe wil u hê moet die mense u eendag onthou? As ’n moeilike, humeurige en selfsugtige mens of as ’n aangename, vriendelike en nederige mens? Wil u onthou word as iemand wat die pad van kwaad geken het óf iemand wat die goeie pad bewandel het?

Wêreldleiers laat ook ’n spoor of reuk agter. U weet self watter negatiewe spoor en reuk mense soos Adolf Hitler, Robert Mugabe en Poetin en ander agter hulle nagelaat het. Maar ons weet ook hoe iemand soos Moeder Theresa weer ’n aangename reuk vir ons nagelaat het.

Ouers laat ook ’n spoor vir hulle kinders na. Wanneer ons eendag dood is, sal die spore van ons opvoeding, liefde, dissipline en voorbeeld in hulle lewe gesien kan word.

Wat belangrik is, is dat ons net soos Tabita ’n goeie spoor moet agterlaat vir alle mense. Tabita het goed gedoen aan Jood en Griek. Net so moet ons ook goed doen aan alle mense, sonder onderskeid. Om waarlik goed te doen, beteken om geen onderskeid te tref nie, maar onvoorwaardelik te dien.

Ware heiliges is mense soos Tabita, wat dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Die vraag is of ons lewe van so ’n aard is dat ons dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Want sien, as ons ’n verkeerde voorbeeld stel, maak ons dit vir ander mense moeiliker om te glo.

Natuurlik kan ons regte spore en die aangename reuk wat ons versprei nie vir ons red nie. Daar is slegs een weg wat ons kan red en dit is die spoor van Jesus Christus. Sy spoor is langs die Via Dolorosa, die kruis, die oop graf en die Olyfberg. Slegs as ons in die voetspoor van Jesus Christus bly, sal ons goeie voetspore kan nalaat, ook vir ander mense om te volg.

Uiteindelik het die mense vir Alfred Nobel onthou vir die goeie wat hy verrig het en nie vir die slegte nie. Hoe sal die mense eendag vir ons onthou? Laat ons ’n spoor en ’n reuk agter, wat dit vir ander makliker maak om vir Jesus te kan volg?

Geseënd is jy as die mense jou sal onthou as ’n deurleefde kind van die Here. Voorwaar, jy sal baie na die Here lei!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God neem die inisiatief

SKRIFLESING: Genesis 15

Wanneer ons vandag ’n ooreenkoms of ’n kontrak tussen twee partye sluit, gaan die partye gewoonlik na ’n prokureur en in die prokureur se teenwoordigheid word die kontrak tussen die partye gesluit met die handtekening van die partye en getuies. In die Bybelse tyd het dit anders gewerk. Diere is geslag deur hulle middeldeur te sny en die twee dele vleis teenoor mekaar te sit, met ’n paadjie tussen-in. Party A en Party B het dan saam tussen die twee hompe vleis gestap en daardeur ’n kontrak gesluit. Die een wat sy deel van die kontrak breek, sou ook middeldeur gesny word soos die slagdiere.

In Genesis 15 belowe die Here vir Abram ’n groot nageslag en grondgebied. Maar Abram wou ’n versekering hê dat God se beloftes waar sou word. Daarom het die Here met Abram ’n ooreenkoms, ’n kontrak of dan ’n verbond gesluit.

Abram het opdrag gekry om ’n vers, ’n bok en ’n skaapram te bring, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif. Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny en elke helfte teenoor die ander helfte neergesit.

Die voëls het hy nie verdeel nie. Intussen het Abram op die Here gewag. Die roofvoëls het op die karkasse toegesak, maar Abram het hulle weggejaag.

Dan lees ons in vers 12 hoedat ’n diep slaap oor Abram gekom het. In vers 17 lees ons hoedat die Here toe die son ondergegaan het en dit donker was, ALLEEN tussen die stukke vleis deurbeweeg as ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand. Vuur is in die Bybel altyd ’n simbool van die Here se teenwoordigheid. Abram slaap, maar die Here beweeg ALLEEN tussen die stukke vleis deur. Hy onderteken alleen die kontrak, want Hy weet Abram sal nie sy deel van die kontrak kan nakom nie. God is AKTIEF en Abram is PASSIEF.

Die eerste teken van die verbond in die Ou Testament was die besnydenis, waartydens die agt dae-oue seuntjies heeltemal passief was en onbewus was van God se heerlike beloftes aan hulle. In die Nuwe Testament het die doop gekom in die plek van die besnydenis.

Dit is ook die wonder van die kinderdoop. God is ALLEEN aktief, terwyl die dopelinge nie eers bewus is wat nou met hulle gebeur nie.

Daarom neem God die inisiatief met die kinderdoop. Hy kom stel homself bekend aan kindertjies wat nog niks verstaan nie. God gee die eerste tree in die verbond. Daarom noem ons dit die genadeverbond.

Soos wat ’n man ’n meisie die hof maak en die inisiatief neem in die verhouding, is God ook die God wat die inisiatief neem in die doop. Later sal die kind bewus word van God se liefde vir haar of hom en God se liefde terug beantwoord.

Soos wat die naelstring afgebind word by die geboorte en daar ’n biologiese skeiding plaasvind tussen moeder en baba, word daar met die doop ’n NUWE NAELSTRING gevorm.

Dit is ’n geestelike naelstring, waardeur die kind ingelyf word in die kerk van Jesus Christus.

Daarom maak die doop jou ’n lidmaat van die kerk, en nie belydenisaflegging nie. By belydenisaflegging aanvaar die jongmens net die verantwoordelikheid van sy lidmaatskap wat hy met die doop ontvang het.

In die Anglikaanse kerk is die doopvont gewoonlik by die ingangsportaal van die kerk. Wanneer die doopplegtigheid plaasvind, gaan die priester na die doopvont by die ingangsportaal en doop die kindjie. Die priester dra dan die kindjie van die ingangsportaal vorentoe en stel hom of haar bekend aan die hele gemeente as nuwe lidmaat.

Maar die doopbelofte vra ook ’n stuk verantwoordelikheid van die doopouers. Die doopouers beloof om God se kindjie groot te maak in die vrese van die Here. Daar is navorsing gedoen wat bevestig dat meer as 82 % van die geloofsoordrag plaasvind deur die ouers se opvoeding. Daarna kom vriende se invloed en dan eers die kerk. Daarom is ouers van sleutelbelang as dit kom by geloofsvorming en geloofskweking van dopelinge. Dit kos net een geslag wat afvallig word van die Here, om ’n ongelowige te kweek. Daarom is die doopbelofte wat die ouers aflê baie belangrik. In 1 Timotheus 1: 5 maak Paulus daarvan melding dat Timotheus se geloof bewerk is deur God, wat sy ma Eunice en sy ouma Loïs gebruik het om die geloofsoordrag te laat plaasvind.

My eerste ervaring van geloofsoordrag het plaasgevind toe ek ’n klein seuntjie was en my moeder vir my elke aand uit die Kinderbybel geleer het en my geleer het om ’n eenvoudige kindergebed op te sê. Daarom moet geloofsopvoeding so vroeg as moontlik begin.

Maar die kinderdoop moet uitloop op ’n opregte geloof in Jesus Christus. Daarom moet die ouers en die medegelowiges so leef dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. In Mat 18:6 waarsku die Here: “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n maalklip van ’n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see.” Daarom mag ons voorbeeld, dade, woorde en optrede nooit ’n kind laat struikel nie.

Ons laat struikel die dopeling as ons nie vir hulle uit die Kinderbybel lees en vir hulle leer om te bid nie. Ons laat struikel ’n dopeling as ons hulle nie grootmaak in die woning van die Here nie. Ons laat struikel hulle deur nie vir hulle kategetiese opvoeding deur die kerk te gee nie. Ons laat struikel die dopeling as ons deur ons woorde, optrede en voorbeeld, nie Christelik optree nie. Kom ons maak dit vir ons kinders maklik om in die Here Jesus Christus te glo.

Die huis is die kwekery waar geloofsoordrag plaasvind en waar integriteit gekweek word by kinders. In ’n kwekery word bome gesnoei om ’n mooi vorm aan te neem.

Dink aan Bonsai-boompies wat met groot sorg gekweek, gesnoei en versorg word. Die uiteinde is ’n kunswerk.

Johannes Calvyn het gesê kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker moet jy baie LIEFDE gee.

Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ’n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die dopelinge kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die dopeling moet die liefde van God ervaar, om geborgenheid te ervaar. Die dopeling moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef. As God deur die doop ’n naelstring met die dopeling bind, dan is die gemeente die baarmoeder waarbinne die dopeling moet groei. Daarom moet die hele gemeente verantwoordelikheid neem om so te leef dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. Daarom moet die doopouers ook hulle kind in die kerk en in die erediens grootmaak, want dit is God se baarmoeder. Hulle moet ’n liefde vir die kerk ontwikkel, sodat hulle eendag aktiewe lidmate van die Here se kerk sal wees.

Daarom moet dopelinge al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en dat die Here met ons ’n afspraak het.

Ons kinders en kleinkinders is vir ons ’n sieraad. Daarom kan ons getroos wees dat ons kinders deur die doop met ’n ewige naelstring aan God verbind is. Daarom moet ons ons huise en die kerk gebruik as die kweekhuis, waar ons ons kinders kan opvoed om eendag jongmanne en jongmeisies te wees wat God ken. Wie sy doopbelofte nakom, sal nie eendag wakker lê van bekommernis of my kind op die regte pad is nie. Mag die Here die doopouers en grootouers gebruik as ’n kweekhuis vir hierdie boompies wat nog gevorm moet word met GEBORGENHEID en SEKURITEIT.                                       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

‘n Lewende God wat roep

Skriflesing: Eksodus 3: 1 – 4: 18

Van die wonderlikste verhale in die Bybel en ook ander mense se ervarings is die verhale waar God mense roep tot ’n bepaalde opdrag of taak.

Dink aan Jakob wat by die Jabbokdrif met God geworstel het en uiteindelik gedwing is om sy werk en taak as aartsvader op te neem. Ook Jeremia het hom aanvanklik teëgesit, maar is deur die Here oortuig om sy taak as profeet uit te voer. Na die wonderlike visvangs swig Petrus ook voor die Here Jesus om sy taak as apostel op te neem. Natuurlik is daar dan ook die verhaal van Saulus wat op pad na Damaskus deur die Here met blindheid geslaan word, sodat hy tot bekering kom en gedring word om ’n apostel te word.  Sy nuwe naam was nou Paulus.

Daar is ook die verhaal van Jona wat deur die Here gestuur is na Ninevé. Jona ontduik toe sy roeping en vlug na Tarsis, die heel verste wat hy kan wegkom van Ninevé. Die Here gebied ’n storm en die matrose gooi hom oorboord. Daar in die vis se ingewande kom hy tot bekering en gaan voltooi sy roeping om aan die mense van Ninevé die Here se boodskap oor te dra. Ons kan maar wegkruip of wegvlug, die Here sal ons altyd inhaal.  

Dink aan Luther, wat op pad huis toe was, toe ’n vreeslike donderstorm losgebars het. Net daar verander hy sy roeping van Regte na Teologie. Dit was die begin van die Reformasie en die wêreld het nooit weer dieselfde gelyk nie.

Ons ken almal die wonderlike bekering van die skrywer CS Lewis wat as ateïs tot bekering gekom het en ongelooflik wonderlike Christelike werke geskryf het. In sy boek Surprised by Joy, beskryf hy sy bekering breedvoerig. Hy skryf onder andere die volgende gewaarwording: “The hardness of God is kinder than the softness of men, and his compulsion is our liberation.”

Die roeping van Moses is ook so. Moses het nadat hy die Egiptenaar doodgeslaan het, gevlug na die woestyn in Midian. Daar het hy getrou en vir sy skoonpa Jetro gewerk. Sy lewe was eenvoudig, maar leersaam, in die woestyn. Tot op ’n dag dat die Here hom geroep het terwyl hy skape oppas.

Toe sien hy ’n brandende doringbos, maar die bos brand nie uit nie. Moses sê vir homself dat hy ’n bietjie nader wil gaan om ondersoek in te stel. In die naderstap na die bos ontmoet hy die Here self.  Die Here het na hom geroep en toe Moses antwoord, het die Here gesê hy moet sy sandale uittrek, want die grond waarop hy staan is heilige grond. Toe begin die gesprek tussen die Here en Moses waarin die Here vir Moses opdrag gee om sy volk uit Egipte uit te lei na die beloofde land.

As’t ware ontvang Moses sy vocatio, sy lewensroeping, van die Here. Sy roeping was om die Here se volk uit Egipte, die plek van slawerny, uit te lei na die beloofde land. Die Here wil elke mens laat ontdek wat sy of haar lewensroeping is, maar ook wat jou dag tot dag se roeping is. Elke dag kan die Here dalk ’n persoon of saak op jou lewenspad plaas, waar jy ’n roeping ontdek om die persoon te help of die saak te bevorder. Ons moet luister en kyk  om die hand van die Here te sien op plekke waar ons dit die minste verwag. (John en Adrienne Carr)

Daar was die man wat nie juis bekend was as ’n gelowige nie. Toe verdwaal hy in die woestyn. Later is hy doodmoeg en het hy al sy water opgebruik. Toe besluit hy om maar te bid. Dalk help dit. Toe hy ’n paar dae later by sy vriend sit en hom vertel wat alles gebeur het in die woestyn, vra sy vriend of dit toe gehelp het toe hy gebid het. Die man het sinies geantwoord: “Nee, Hy het niks gedoen nie. As dit nie was vir ’n persoon op ’n kameel nie, het ek sekerlik gesterf”.

Bogenoemde man het nooit besef dat God in klein alledaagse gebeure kan werk en dat die man op die kameel juis die Here se antwoord op sy gebed was nie. Luther het genoem dat jy God ook leer ken deur jou “ervarings” van Hom.

 Daarom moet ons elke dag ontvanklik wees om ons persoonlike en daaglikse vocatio of roeping te ontvang.  Die Here wil hê ons moet ons roeping of taak elke dag uitleef.

Maar ons is dikwels vol verskonings waarom ons nie ons daaglikse roeping kan uitleef nie. Ons maak net soos Moses, met sy rits verskonings.

Moses se eerste verskoning was dat hy ’n lae selfbeeld het. Hy het getwyfel of hy dit durf waag om voor die Farao te verskyn en het getwyfel of hy die volk uit Egipte sou kon lei. Dan help God vir Moses met sy swak selfbeeld, en beloof om elke tree saam met Moses te gaan.

In die tweede verskoning het Moses  getwyfel wat hy gaan sê vir die Israeliete, naamlik by watter naam hy gestuur is om die verlossing vir die Israeliete uit Egipte aan te kondig. Eintlik vra Moses vir God: Wie is God? Hoe is God? Dan antwoord God vir Moses in Eksodus 3:14 met die volgende woorde: “God sê toe vir Moses: ‘EK IS WIE EK IS.’ Hy sê toe ook: ‘So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ”

God gee nie Sy naam nie. Hy is net die groot “IS”. God laat Hom nie verklaar deur definisies of verklarings nie. God laat Hom ook nie in ’n formule of ’n proefbuis of in ’n Teologie-handboek gevange neem nie. As God ’n formule, of ’n definisie was, sou God nie meer God gewees het nie. Daarom is God die groot misterieuse. Jy kan niks van God verstaan nie. Jy kan net in verwondering voor Hom staan.

Coenie Burger skryf hieroor, dat God die Almagtige is, wat altyd daar sal wees en dat Hy sy volk sal vergesel uit Egipte na die beloofde land.   

Die laaste beswaar van Moses was dat hy gehakkel het en dus ongeskik is vir die taak as leier. Die Here vat nie noodwendig jou gebreke en tekortkominge weg nie. Hy gee vir Moses sy broer Aäron, wat sy spreekbuis is. Daarom is die troos dat jy nooit alleen werk nie, maar God gee vir jou die gemeenskap van gelowiges om jou taak ligter te maak. Jou broers en susters vul jou tekortkominge en gebreke aan.    

Dan gebeur die merkwaardige. Moses gaan na sy skoonpa en deel hom die nuus mee dat hy graag wil teruggaan na sy mense om hulle te help.

Dan is Moses gereed om sy vocatio, sy roeping, op te neem.

Wat is jou roeping in die lewe? Wat is jou roeping vandag? Wat wil die Here hê moet jy vanjaar doen?

Jy moet net nie jou talente en roeping onder die grond begrawe nie. Vergelyk die eienaar wat aan sy slawe muntstukke uitgedeel het om mee te woeker. Die wat vyf en twee muntstukke gekry het, het dit verdubbel. Maar die slaaf wat een muntstuk gekry het, het dit begrawe en dit het geen wins opgelewer nie. Dit is ’n mooi voorbeeld om te demonstreer dat jy nie jou roeping in die lewe moet  begrawe nie, maar juis uitleef, sodat jy deur jou roeping tot seën kan wees vir ander mense of ’n saak kan bevorder wat jou na aan die hart lê. 

Alle mense het ’n lewensroeping, nie net predikante, dokters, onderwysers, maatskaplike werkers of verpleegsusters nie. Ook die ingenieur, die sakeman, die boer, die ambagsman, die haarkapster het ’n roeping. So kan ons aangaan: Almal het ’n lewensroeping. Jou belangstellingsveld is heel dikwels jou roeping. God roep alle mense tot ’n taak en lewensdoel.

Jou lewensroeping moet vir jou ’n passie wees. Daarom verdien ’n mens nie net met jou werk jou salaris nie. Nog belangriker is dat jy lewensvreugde ervaar in jou werk.

Ongelukkig is daar soveel mense vir wie hulle werk nie ’n roeping is nie, wat nog te sê van lewensvervulling. 

Jy kry ook die roeping om ’n huweliksmaat te wees. Jy moet die roeping uitleef om ’n goeie vader of moeder te wees. Jy het ’n roeping om jou werkers goed te behandel en hulle op te bou in die lewe. 

 Wees soos ’n veer, sensitief vir die Here wat jou roep.                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

BRONNELYS:

Burger, Coenie. 1992.Vergesel van die Almagtige. Kaapstad: Lux Verbi

Om grense te verskuif

SKRIFLESING: Luk 15: 1- 10

Daar was ’n diep gelowige Katolieke Christenvrou wie se seun in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Die weermag het die seun se lyk na sy moeder teruggestuur om begrawe te word. Die seun was egter ’n jongman wat alreeds voor die oorlog ’n Protestant geword het.

Die Katolieke het nie toegelaat dat Protestante in hulle kerkhowe begrawe word nie. Die moeder het egter probeer en na haar priester gegaan en gevra of haar seun in die begraafplaas begrawe mag word. Die priester was in ’n dilemma, want die kerkwet sê dat geen Protestant in hulle kerkhof begrawe mag word nie. Hy moes na die moeder gaan en vir haar sê hy is jammer, maar hy kan nie aan haar versoek voldoen nie. Die priester was baie ontroerd deur haar teleurstelling en het dié nag sleg geslaap en baie gedink. Die volgende oggend het hy ’n plan. Hy sê vir die moeder: “Begrawe jou seun net aan die buitekant van die begraafplaas se muur”. Sy sê toe: Maar ek wil hom nie buitekant die begraafplaas se muur begrawe nie, ek wil hom binnekant begrawe.” Die priester sê toe vir haar : “Vertrou vir my”. So het die vrou toe haar seun net buite langs die begraafplaas se muur begrawe. ’n Week later is sy verbaas toe haar seun se graf aan die binnekant van die begraafplaas is, want sien, die priester het die muur herbou om ook die graf in te sluit. Vervolgens sê die priester: “Die kerkwet sê dat die seun nie in die kerkhof begrawe mag word nie, maar daar is geen wet wat verbied dat die kerkhof se grense verlê mag word nie”. Omdat die priester vir die vrou omgegee het, en vir haar jammer was, het hy ’n plan beraam.

God maak ook so! Sy liefde maak dat Hy die wêreld sal omkeer om ons te red. Hy het inderdaad aan die kruis ook die wêreld omgekeer om ons te red.   God se liefde is grensverskuiwend!

God is soos die Herder wat sy 99 skape los om die een te soek wat verlore is. God is soos die vrou wat haar huis omkeer om een verlore penning te soek.

Daarom die tema vanoggend: Om grense te verskuif….

Ons gaan kyk na die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore penning.  Kom ons kyk eerstens na dié van die verlore skaap. Jesus vertel die gelykenis juis na aanleiding van die Fariseërs se lelike opmerking omdat Jesus saam met sondaars eet. Deur hierdie gelykenis wil Hy aantoon dat God se genade en barmhartigheid geen grense het nie. God se genade is nie beperk tot die 99, die vroom groepie, die beter klas nie. Nee, God gaan na die verlorenes.

Jesus Christus het grense verlê om ook die nie-Jood, die prostituut, die dief, die sondaar in te sluit. Wat wonderlik is, is dat dit nie die skaap is wat die herder soek nie, maar dat dit die herder is wat die verlore skaap soek. Dit is nie mense wat God soek nie. God soek mense! En hierdie sekerheid van ons heil is die onvervangbare basis van ’n gesonde Skrifbeskouing – daarsonder is dit bloot ’n vertoning van goeie werke.

Maar is dit nie dom van die herder om 99 skape te los en net een verlorene te gaan soek nie? Nee, dit is juis die sekuriteit vir die nege-en-negentig. As God soveel vir die enkeling omgee, sal God ook vir my kom soek of vir enige een van die 99 wat dalk verlore sal raak.

Juis daarom kan ons die vreugde verstaan as die enkeling, die enkele skaap, gevind word. In Palestina was al die eiendom die besit van die hele familie. Die verlies van een skaap is die verlies van die hele groep. Juis daarom moet God se vreugde oor die redding van ’n verlorene ook ons vreugde word.

Is dit nie vir u aandoenlik dat God bekommerd is, besorgd is, jammer is, bewoë is oor die enkeling nie – ook oor jou. Juis daarom verstaan ons God se vreugde in die vind van ’n verlorene.

Dit bring ons by die tweede soort vreugde, naamlik die vind van die verlore penning. Wanneer die vrou na die penning verwys wat sy gevind het, beskryf sy nie die verlore toestand van die penning nie. Sy sê:  “Die penning wat ek verloor het”. Sy laat die klem val op haar eie skade en verlies. Wanneer die vrou die penning soek, soek sy die penning nie omdat sy vir die penning jammer is nie, maar omdat sy vir haarself jammer is. Sy het iets kosbaars verloor.

Onmiddellik moet ons die doel van die penning verduidelik. Wanneer ’n vrou in die antieke tyd getrou het, het sy ’n bruidskat van haar man ontvang. Dit was in die vorm van ’n juweelstuk wat sy aan haar voorkop gedra het. Die juweelstuk het verskeie pennings ingehad, afhangende van hoe ryk die man was. As een penning wegraak en uitval, is die juweelstuk onvolledig. As die vrou dan die bruidskat sou dra, sal almal vra: “Mevrou, ek sien jou bruidskat is onvolledig. Daar kort ’n penning.” Sy sou skaam kry. Dit is amper soos vandag se verloofringe met ’n paar diamante in. As een diamant uitval, is die diamantring ’n verleentheid.

Wanneer die vrou haar penning vind, vind sy haar heelheid terug. Wanneer God ’n sondaar soek en vind, herstel Hy die skepping. God maak heel wat onvolledig is. God maak volledig met sy uitverkiesende genade. Daarom is God vreugdevol. Hy bring sy eiendom tot volledigheid en heelheid.

God is nie ’n God wat “’n leë-huis-sindroom” kan hanteer nie. Daarom maak Hy sy gesin, sy kerk, voltallig.

God het sy Heilige Gees gegee om kragtig te werk in hierdie wêreld en vir hom ’n volk, ’n kerk, te versamel. Die Pinkster-Gees bewerk dat God sy kinders terugkry.

In albei gelykenisse gaan dit oor grense wat verskuif word. Die herder gaan  soek die een verlore skaap. Hy verlaat die bekende en gaan soek elders vir die verlore skaap.

In die verhaal van die verlore penning word ook grense verskuif. Die vrou keer haar huis om totdat sy die penning gekry het.

In albei gelykenisse gaan dit oor vreugde. Die vreugde van die herder oor sy verlore skaap en die vreugde van die vrou oor haar verlore penning. Hulle het weer hulle heelheid terug gekry. Die herder het weer al 100 sy skape. En die vrou se bruidskat is weer volledig, want al die pennings is nou in haar bruidskat.

In hierdie twee gelykenisse gaan dit oor God se ontfermende liefde. Liefde wat grense verlê en ander insluit. So moet ons as Christene ook wees. Ons moet liefdevol grense verlê en ander insluit en God se Koninkryk tot heelheid bring.

Ons kan so maklik grense trek en mense uitsluit. Ons kan so maklik mense afskryf. Maar God se kinders moet grense oorsteek na alle mense. Dan sal ons vir God vreugde verskaf en die engele sal juig oor elke bekeerde sondaar.

Mag ons daaraan herinner word dat die Heilige Gees grense oorsteek na alle mense. Ons moet net aansluit by die Heilige Gees se werk.

Dan sal daar vreugde in die hemel wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Gee God regtig om?

Skriflesing: Eksodus 1: 1 – 2: 10

Vir die Israeliete begin die verhaal van Eksodus op ’n uiterste laagtepunt. Hulle is al 400 jaar in slawerny. Aanvanklik was Egipte vir hulle ’n toevlug tydens die sewe jaar droogte en hongersnood.  Josef, een van die broers, was tweede hoogste in bevel in die Egiptiese ryk. Toe het dit goed gegaan met hulle. Maar Josef het gesterwe en die Farao’s het mekaar een na die ander opgevolg. Vierhonderd jaar later het die Farao nie eens geweet wie Josef was nie.

Die Israeliete het mettertyd slawe in Egipte geword en hulle is veral gebruik om stene te maak vir die bouwerk van dié land se stede. Walter Brueggemann teken in sy Living Towards a vision ’n prentjie wat iets vertel van die Israeliete se swaarkry in Egipte. Die steengroewe was volgens hom:

  • ’n plek met ’n strawwe produksiekwota wat daagliks gelewer moes word.
  • ’n plek van werksdrukte en profyt, met min tyd vir ontspanning.
  • ’n plek van ongelukkigheid en verdrukking.
  • ’n plek van aggressie en vyandigheid; en
  • uiteindelik ’n plek van wanhoop en lyding.

’n Bepaalde aantal stene moes daagliks gemaak word. Dit was slawewerk. Brueggemann skryf verder dat ons ook elkeen op ’n manier gebind is aan ’n sisteem. Dit kan wees om jou base gelukkig te hou. Dit kan ’n huisvrou wees wat haar elke dag moet afsloof en die huisgenote waardeer dit nie. Dit kan wees ’n verkoopspersoon wie se verwagte kwota verkope elke maand opgestoot word. Dit kan ’n maatskaplike werker wees wat ’n onmoontlike werkslading het. In ’n sekere sin is ons almal slawe van ’n sisteem.

Dan vra Coenie Burger die vraag of ons nie maar elkeen aan ons lot oorgelaat is nie. Gee God om? Hoor God as ons roep? Die volk Israel sit al 400 jaar in slawerny! Waar is God?

Coenie Burger vergelyk die buite-Bybelse verlossings- en roepingsverhale met die Bybelse verhaal. In die buite-Bybelse verlossingsverhale is die gode altyd op die voorgrond. Dit verskil egter drasties van die Bybelse verlossingsverhale, soos in Eksodus uitgebeeld word. In Eksodus is daar ’n verhoog en net die mense tree op, as akteurs. God is egter agter die skerms aan die werk as regisseur, maar veel meer nog –  ook as die draaiboekskrywer.

God is nie lief daarvoor om op die voorgrond op te tree nie. Hy is altyd agter die skerms aan die werk. Omdat God agter die skerms werk, gee Hy altyd om. Daarom is ons nie aan ons lot oorgelaat nie. Kom ons kyk hoe die Here agter die skerms werk.

Die Israeliete het net meer en meer geword en die Farao was later bang dat die Israeliete te veel sal word en Egipte sou oorneem. Telkens gebruik die Here onmagtige vroue om die Farao te uitoorlê.

Die Farao gebied toe twee eenvoudige Hebreeuse vroedvroue om, as daar seuntjies gebore word, hulle om die lewe te bring. Die vroue se name is Sifra en Pua. In vers 15 lees ons hoedat die Here in Sifra en Pua se harte werk om nie die Farao te gehoorsaam nie en as’t ware die Farao se planne te fnuik.

Daarna was dit die suster van Moses, met die naam Miriam, wat hom as baba in ’n biesiemandjie wat met pik besmeer is, weggesteek het tussen die riete van die Nylrivier en oor Moses gewaak het.

Dan was dit ook die prinses, dogter van die Farao, wat deur die Here gebruik is  om vir Moses in die paleis groot te maak en vir hom alles oor leierskap  te leer. Toe sy die kindjie Moses vind in die biesiemandjie in die Nyl, het sy hom aanvanklik teruggegee vir sy moeder om hom te borsvoed en groot te maak, totdat hy groot genoeg was om in die paleis te woon. Sy het boonop die moeder van Moses betaal om hom groot te maak.

In Eksodus 1 en 2 sien ’n mens hoe God agter die skerms werk. Hy bewaar Moses van ’n gewisse kinderdood. Moses word in die paleis van die Farao groot, waar hy geleerd word en baie kennis van leierskap opdoen. Toe hy later vlug nadat hy ’n Egiptenaar doodgeslaan het en in die woestyn beland, leer hy vir 40 jaar alles van ’n lewe in ’n woestyn.  Hy is as’t ware deur God se beskikking opgelei om as ’n leier in woestynomstandighede op te tree. Daarom kon God vir Moses gebruik om Sy volk uit Egipte te lei en vir 40 jaar deur die woestyn na die beloofde land te lei.

So het God agter die skerms gewerk, juis omdat Hy omgee wat met sy volk gebeur. Skynbaar was God afwesig, maar agter die skerms het God beskik om vir Sy volk verlossing te gee vanuit slawerny in Egipte.

As God agter die skerms werk omdat Hy omgee, hoekom was ’n ompad van 430 jaar nodig? Lester Meyer verklaar dit in sy boek  The message of Exodus.

Eerstens het die Here die ompad gekies, sodat Hy sy uitverkore volk kon red van die hongersnood wat in die aartsvader Jakob se tyd uitgebreek het en die posisie van Josef (as tweede hoogste in bevel in die Egiptiese ryk)  kon gebruik om sy uitverkore volk te red. 

 Tweedens, juis in Egipte, die plek van slawerny, het God Sy belofte van ’n groot nageslag vir Abraham waar gemaak. Toe Jakob en sy familie in Egipte aangekom het, was hulle maar ongeveer 70 mense. Maar nou, na 400 jaar, was die afstammelinge so talryk dat die Farao bang geword het vir die menigte Israeliete en het hy in hulle ’n bedreiging gesien.

Derdens het die Here vir Israel 400 jaar in Egipte geplaas, sodat hulle moes swaarkry. As jy eers swaargekry het, kan jy werklik ’n ander mens se lyding verstaan. Daarom moet ons nie moedeloos raak as ons deur moeilike tye gaan nie.  Die duidelikste kenmerk van Israel as volk moes wees dat hulle as God se volk moes oorbuig na mense, kon omgee vir die wat sukkel en swaarkry in die lewe, die wat wees en weduwees is en énige mens wat in nood was. Lyding kan ons dikwels help om te groei in ons menswees of voorberei vir iets besonders. Daar is altyd ’n hoër doel agter elke stukkie swaarkry. Later in die Bybel sou ons  telkens hoor dat die Here vir Sy volk Israel sê om goed te doen aan die vreemdeling, die arme en die uitgestotene, want hulle het geweet hoe dit gevoel het om as vreemdelinge en slawe in die land Egipte te wees. 

So het God agter die skerms gewerk, omdat hy omgee. In vele Skrifgedeeltes lees ’n mens hoedat God as’t ware ongesiens werk. Dink aan die boek Ester, waar God se naam nie een keer genoem word nie, maar waar God agter die skerms optree om die Jode te red van ’n gewisse dood.

Daarom werk God in die verborgenheid. Daar waar ons God nie kan sien nie, daar werk God. God werk as die Onsienlike. God werk dikwels as die groot Anonieme wat Sy werk in die geheimenis uitvoer.

Soos Jesus ons leer dat jou regterhand nie moet weet wat jou linkerhand doen nie, bewerk God dan ook dikwels anoniem die goeie vir die mens, omdat Hy regtig omgee.

God gee regtig om vir elkeen van Sy kinders. Daarom het die Here ’n plan vir elke mens se lewe. Op elke bladsy van die geskiedenis is die Here se Naam geskrywe. In ons biografie is die Here se Naam geskryf boaan elke lewensdag. Ons lewensdae is afgetel met Goddelike sorg. Die Here is besig met ons, want Hy gee om vir ons.

Die Here gee regtig om.                                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Burger, Coenie. 1992.Vergesel van die Almagtige. Kaapstad: Lux Verbi.

Verstandigheid seëvier oor twee korrelkoppe

Skriflesing: 1 Samuel 25

In ons skrifgedeelte lees ons van twee korrelkoppe wat koppe stamp. Hulle is soos twee bulle in ’n porseleinwinkel, wat op die punt staan om te baklei. Dinge kon lelik skeefgeloop het, was dit nie vir ’n verstandige skoonheid wat tussenbeide getree het nie.

Ons lees dat die profeet Samuel gesterf het en dat sy begrafnis by Rama was. In dié tyd was Dawid nog op vlug om van Koning Saul se toorn weg te kom. Dawid het na die Paranwoestyn afgegaan.

Daar was ’n man in Maon, wie sea border in Karmel was. Die man was baie ryk en het 3000 skape en 1 000 bokke gehad. Toe Dawid en sy manskappe daar rondgetrek het, was hy juis besig om te skeer. Die man se naam was Nabal. In Hebreeus beteken sy naam “dwaas”. Hardy man was hard, ongenaakbaar en ’n regte boosdoener. Hy was ’n afstammeling van Kaleb. Sy vrou se naam was Abigajil en sy was ’n mooi vrou met ’n verstandigheid wat boekdele gespreek het.

Toe Dawid hoor dat Nabal skape skeer in Karmel, het hy tien jongmanne gestuur  om by Nabal te hoor of hy nie vir hulle kos het nie. Dawid en sy manskappe het met hulle teenwoordigheid in die streek gesorg dat Nabal nie vee verloor as gevolg van diefstal nie. Dawid en sy manskappe het dus indirek beskerming verskaf aan Nabal, sy veewagters en sy vee. Nou het Dawid as’t ware vergoeding of erkenning gevra vir die sekuriteit wat hy na die gebied gebring het.

Toe Nabal dit hoor, het hy hom bloedig vererg vir Dawid se voorbarigheid en wou uitvind wie hierdie Dawid is en of hy nie maar net ’n wegloop-slaaf was nie. Nabal was heeltemal onwillig om sy werkers se kos te deel met Dawid en sy manskappe.

Toe die tyding van Nabal se onbeskoftheid vir Dawid bereik, het Dawid hom net so bloedig vererg en vir sy manskappe gesê hulle moet hulle swaarde omgord. Vierhonderd manskappe het saam met Dawid opgeruk na Nabal en tweehonderd manne het by die pakgoed gebly.

Die twee bulle was nou los in die porseleinwinkel. Die spanning was op breekpunt. Een van Nabal se werkers het vir Abigajil kom sê wat gebeur het en dat haar man met Dawid ongeskik was; en dat Dawid nou met ’n groot aantal  manskappe opruk om met Nabal af te reken. Abigajil het nou besef daar is moeilikheid op hande en sy is die enigste een wat hierdie bloedbad tussen die twee korrelkoppe kan keer.

Abigajil het dadelik ’n plan gemaak en sy het tweehonderd brode, twee kruike wyn, vyf voorbereide skape, vyf emmers geroosterde graan, ’n honderd blokke saamgeperste rosyne en tweehonderd blokke saamgeperste droë vye geneem en dit op donkies gelaai  en vir haar diensmeisies gesê: “Gaan voor my uit. Kyk, ek kom agterna.” Vir haar man Nabal het sy egter niks van haar planne vertel nie.

Toe Abigajil vir Dawid tegemoet gaan, het sy van haar donkie afgeklim en voor Dawid se voete neergeval en by Dawid gepleit om asseblief afstand te doen van sy voorneme om Nabal en sy manne dood te maak. Sy het as’t ware verantwoordelikheid aanvaar vir haar man Nabal se dwaasheid en gesmeek om hulle lewens te spaar. Sy het toe al die kos voor Dawid gesit, sodat hulle kon eet.  Sy het ook die lof en voorspoed van Dawid besing.

Dawid was so diep geraak deur haar verstandigheid en wyse woorde, dat hy afgesien het daarvan om Nabal en sy manne met die swaard te dood. Dawid het die kos aanvaar en haar in vrede weggestuur.

Terug by Nabal, kom Abigajil toe af op ’n feesmaal, soos vir ’n koning. Nabal was dronk en sy het hom niks vertel nie, tot die volgende oggend toe hy nugter geword het. Toe Nabal die waarheid hoor, staan daar “het hy in sy binneste gesterf en hy het soos ’n klip geword”. Tien dae later het Nabal gesterf.

Toe Dawid hoor van die afsterwe van Nabal, het hy vir Abigajil laat roep om sy vrou te word. Sy het ingestem en so die vrou van Dawid geword.

So het ’n verstandige vrou met wysheid gehandel en gekeer dat daar bloedvergieting tussen die twee korrelkoppe kom.

Beide die twee korrelkoppe Nabal en Dawid het hulle humeur verloor. As jy jou humeur verloor, kan jy baie skade aanrig aan jou verhoudinge met ander mense, asook aan jou saak.

Prof Piet Naudé vertel die verhaal van die Middeleeuse Koning Genghis Kahn wat oor die magtige Mongoolse Ryk in Oos-Europa geheers het (1162 – 1227).

Die koning was lief vir jag en hulle het valke gebruik om die prooi vir hulle uit te wys. Wanneer die valk byvoorbeeld afpyl op ’n haas, het hulle geweet waar om die haas te jag.

Aan die einde van een van sy middagjagtogte, het hy sy jaggeselskap huis toe gestuur sodat hy nog ’n bietjie alleen in die woud kon vertoef.

 Dit was ’n warm dag en die koning was moeg. Hy was baie dors en hy kon nêrens ’n fonteintjie of poeletjie water vind om te drink nie. Uiteindelik sien hy water afdrup van ’n krans en hy hou sy perd in.

Hy haal sy silwer beker uit die saalsak en probeer om die druppende water op te vang met die beker. Dit gaan maar tydsaam. Net toe die koning die beker na sy mond toe neem, peil sy valk op hom af en stamp met sy vlerke die beker uit sy  hand.

Die valk gaan sit toe op ’n hoë rots vir die koning en kyk. Die koning is vies, maar dink dit was ’n ongeluk. Hy tel toe maar weer die silwer beker op en hou dit onder die druppende water teen die krans. Na ’n lang gesukkel is die beker halfpad vol. Net toe hy dit weer na sy mond toe bring om te drink, swiep die valk weer eens oor sy kop en stamp die beker ’n tweede keer uit sy hand. Nou is die koning kwaad en waarsku die valk dat hy volgende keer die valk sal doodmaak as hy dit weer doen. Na ’n lang gesukkel kry hy die beker weer halfpad vol. Weer swiep die valk oor die koning en stamp die beker uit sy hand. Dit rol in ’n rotsgleuf in, onbereikbaar vir die koning. Die koning is so woedend dat hy sy swaard rondswaai en die valk doodkap, sodat jy net vere en bloed sien. Sonder ’n beker moet die koning nou opklim teen die krans om die water met sy hande op te vang. Toe hy aan die bokant van die krans kom, sien hy tot sy skok ’n erg ontbinde slang, van die heel giftigste slange in die Mongoolse Ryk. Sou hy van die water gedrink het, sou hy gesterf het. Skielik besef hy dat hy sy eie valk onskuldig doodgemaak het, en dié wou hom van ’n gewisse dood gered het. Sy humeur het sy kosbare vriend se lewe gekos. Daar word voorts vertel dat koning Genghis Kahn toe opdrag gegee het dat ouers en onderwysers hul kinders moet leer om nooit uit woede oorhaastig op te tree nie.

In Spreuke 16: 32 staan: “’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter, ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.” Duidelik kan ’n mens aflei dat Koning Salomo ’n groot premie plaas op GEDULD en SELFBEHEERSING. Met dié twee deugde kan jy ’n stad inneem.

Beide Nabal en Dawid het die toets vir selfbeheersing gedop. Hulle was gou op hulle perdjie. Die definisie van ’n korrelkop is: “Iemand wat gou kwaad word en rusie maak”. Hierdie definisie pas Nabal en Dawid baie goed. Altwee het ’n opvlieënde geaardheid gehad. Dit is baie moeilik om saam met ’n korrelkop te leef.

Nabal het nie tot inkeer gekom wat sy humeur betref nie en het ’n ontydige dood gesterf. Dawid het deur die verstandigheid van Abigajil tot inkeer gekom en sy woede oor Nabal laat staan.

So moet ons ook vir die Heilige Gees vra om ons te verlos van woede, humeurigheid en ’n opvlieënde geaardheid. Dit laat ons soos dwase optree. Ons moet Abigajil se voorbeeld volg deur met verstandigheid op te tree en as vredemaker op te tree.

Laat ons nie 2024 versuur met ons koppigheid nie, maar eerder met verstandigheid optree en van die wêreld ’n beter plek maak.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Laat U Koninkryk kom

Skriflesing: Mat 6: 9 13 en Mat 13: 31 – 33

Koning Lodewyk XV (1710 tot 1774) wat in Frankryk geheers het, was loshande beskou as Frankryk se swakste koning ooit.

 In plaas van regeer het hy hom besig gehou met jag en verhoudinge met vroue. Sy swak regering het byvoorbeeld aanleiding gegee tot die Franse Rewolusie wat tydens sy opvolger se bewind uitgebreek het.  Hy was ook nie juis ’n nederige mens nie, aangesien hy in 1732 die volgende kennisgewing laat aanbring het in die St Medard begraafplaas in Parys:

“God word hiermee verbied om in hierdie plek wonderwerke te doen.  Op las van Koning Lodewyk XV, koning van Frankryk.”

Die rede vir hierdie kennisgewing was blykbaar, beweer sommiges, dat Lodewyk so ’n sedelose lewe gelei het dat hy die oordeelsdag gevrees het, en daarom God wou verbied om iets te kom doen daar waar hy eendag begrawe sou lê.  Dit is asof hy met sy kennisgewing wou sê: Hier mag God se koninkryk nie kom nie.  Hier mag God nie kom nie.  Dit is Lodewyk XV se koninkryk en plek hierdie! (Verhaal aangehaal uit anonieme bron)

Ons kan vanaand se boodskap as volg saamvat: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.

Die term “Koninkryk van God” verskyn 68 keer in tien verskillende Nuwe Testamentiese boeke, terwyl “Koninkryk van die hemel” slegs 32 keer voorkom en net in die Evangelie van Matteus.

Die mens se bekommernis is oor sy mees basiese behoeftes, maar ook oor luukshede in die lewe.  Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek slaaf word wat net leef, werk en bekommerd is oor my behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste, donkies, my geluk, my huis vir my belangriker as God word, is daar iets groots verkeerd. Wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer of wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam. Wie so besig is om aan sy eie empire, sy eie “koninkryk” te werk, is met sy eie godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse.

Mat 6: 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader-gebed bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort. Wat bedoel ons as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”? Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe.

Dit beteken hoe langer, hoe meer kom ek onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk, moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke. Ons moet die wil van God najaag. Wie ’n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ’n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy/sy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie. Bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees.

Daarom is die Koninkryk van die hemel  nie soseer ’n plek nie, maar gebeure. Die Koninkryk van God breek deur in my lewe en in die geskiedenis van hierdie wêreld, waar ons sout van die aarde en lig vir die wêreld word. Jesus se Bergpredikasie handel hoofsaaklik oor die lewe in die koninkryk van die hemel. Die Here het ook ’n klomp Koninkryksgelykenisse vertel vir die dissipels. 

Elke era se koninkryke spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge en of dit hulle kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke tot die moderne koninkryke van vandag, maak almal hulle skuldig aan ’n grootheidswaan. So spog mense ook met hulle eie koninkrykies. Met God se Koninkryk is dit so gans anders.

Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk. (Mat 13: 31 – 33) ’n Mosterdsaad is skaars 1 – 2 mm in deursnee, maar dit kan ’n baie groot boom word, waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien, het die brood gerys. 

So werk God deur die eeue.  God werk in die klein, onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treetjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ’n Pampoen groei ’n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ’n Eikeboom of olyfboom groei stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewensduur van die boom. Daarom moet ons geduldig met God wees as Hy nie vinnig genoeg na ons sin werk nie.

God se Koninkryk is nie ’n pampoenkoninkryk (wat vinnig groei) nie, maar ’n mosterdsaad-Koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet. Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ’n groot boom. Elke jaarring vertel van die reis saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

Geloofsvorming vra waagmoed en ’n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ’n profetiese gemeenskap word, wat nie narsisties die kerk preserveer om maar net in stand gehou te word nie. Dit vra om te engage met die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk in stand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak. Die kerk moet die wêreld in “domino”. Die kerk moenie torings bou, soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ’n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ’n beter plek maak.

Almal van ons het ’n begeerte om ’n verskil te maak en van die wêreld ’n beter plek te maak. Die fout wat ons maak, is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.” Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treetjies te gee, kan ek ’n verskil in die lewe maak. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant  in die grond en ek moet die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om ’n aksie te neem in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ’n verskil te maak in ons omgewing en konteks. Om een lewe aan te raak, is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na een persoon uitreik, het ek in ’n jaar ’n verskil aan 365 lewens gemaak. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rasioneel beoefen nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewens wees. 

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Laat U Naam geheilig word

Skriflesing: Mat 6: 9 – 13

In die Bybelse tyd was die betekenis van name baie belangrik. Gewoonlik het die name van mense iets beteken. Jou naam het baie maal verwys na ’n spesifieke eienskap. So het dit dikwels gebeur dat as mense verander as gevolg van gebeure of omstandighede, hulle naam ook verander. Dink sommer aan Abram, wat Abraham geword het. Dink aan Naomi wat haarself Mara genoem het, wat beteken “bitter”. Dan is daar natuurlik Saulus wat op die pad van Damaskus tot bekering gekom het wie se naam verander het na Paulus.

Mense is geneig om vir hulself “naam” te maak. Mense doen dinge om naam te maak. Baie mense streef daarna om eendag wanneer hulle sterwe ’n legacy agter te laat. Dit is nie noodwendig verkeerd nie. As jou lewe getuig van lewenskwaliteite en karakter, kan die nageslag daaruit leer. Maar as jy obsessief daarna strewe om jou eie naam te bevorder, kan jy maklik narsisties word en dit vir baie mense moeilik maak om met jou saam te leef.

Mense is lief vir hul eie name en sal dit ten alle koste beskerm, al moet hulle ook hof toe gaan daaroor. Elkeen se naam het ’n reputasie. Jy wil jou reputasie beskerm.

Tog sleep die mense God se naam deur die modder deur daarvan ’n vloekwoord te maak. Van alle vloekwoorde word die name van die Here seker die meeste misbruik. Mense is openlik “ateïste”, maar hulle gebruik die name van die Here, selfs al ontken hulle die Here in hulle lewe. Dit kan ek nie verstaan nie. Die Persoon in die wêreld wie se Naam die meeste misbruik word, is juis die Here se Naam. Mense vloek hulle Skepper en die Een wat hulle elke dag versorg.

Ons as gelowiges kan ook Sondae die Naam van die Here ydellik gebruik as ons geestelike liedere sing, sonder om te konsentreer op wat ons sing. Ons sing maar net sommer, sonder om te dink wat ons sing. Die lied kom nie uit ons hart nie. Dit word sommer net meganies gesing. Dan gebruik ons die Here se Naam ydellik. (Louis Jordaan)

Ds. Hennie Fouché vertel van die ware staaltjie wat op sy pa, Pieter, se plaas gebeur het. Daar was ’n werker Klaas op die plaas wat die Here se Naam byna in elke sin gebruik het. Die situasie het later vir Oom Pieter onhoudbaar geword. Toe hy sien sy pratery met Klaas werp geen vrugte af nie het hy ’n ander tegniek gebruik. Toe die werker weer die Here se naam uitroep, roep Oom Pieter hard uit: “Klaas!”
“Ja, Meneer?” vra Klaas, maar Oom Pieter ignoreer hom. Hy gaan net aan met sy werk. Na ’n paar minute volg dieselfde ritueel: Die werker gebruik weer die Here se naam as vloekwoord. Net daar roep oom Pieter weer Klaas se naam uit, maar ignoreer sy “Ja, Meneer?”

Toe dit die derde keer gebeur, kan Klaas dit nie meer verduur nie en hy konfronteer Oom Pieter: “ Meneer, ek verstaan nou nie mooi nie. Jy roep gedurig my naam, maar as ek reageer, ignoreer jy my. Jy maak of niks gebeur het nie.”
Toe kom Oom Pieter se wyse antwoord: “Wel, dit is presies wat jy met die Here doen, Klaas. Jy roep sy Naam uit, en as Hy wag dat jy verder moet praat, ignoreer jy Hom. Hoe dink jy moet die Here voel?

Klaas het blykbaar nooit weer die Naam van die Here as vloekwoord gebruik nie …
Daar was ook in die sewentigerjare op Strydenburg ’n oom wat soos ’n matroos kon vloek. Hy het nie eers geweet hy vloek so baie nie. Dit was in sy tweede natuur om die Here se naam ydellik te gebruik. Die predikant van die dorp het gereeld saam met die oom ’n koppie koffie gedrink by die straatkafee. Later kon die predikant nie meer die vloekery van die oom hanteer nie. Hy het dosies vuurhoutjies gekoop en elke keer as die Oom vloek, het hy ’n vuurhoutjie gebreek. Die oom kon nie glo dat hy so baie gevloek het nie. Later het die oom geleer om minder te vloek en nog later om op te hou vloek.

Jou opvoeding en jou vriendekring bepaal in ’n groot mate of iemand gaan vloek. Daarom rus daar ’n groot verantwoordelikheid op ouers om vir hulle kinders die regte voorbeeld te stel. Verder moet ’n mens jou vriende reg kies, anders kan jy later soos hulle praat.

Jare gelede was die gebruik om kinders se monde uit te spoel met peperwater as hulle gevloek het. Die kinders het die grootste vrees daarvoor gehad.

Mense wat erg vloek, het gewoonlik ’n swak selfbeeld en moet kragwoorde en vloekwoorde gebruik om hulself te laat geld.

Juis daarom leer die Here Jesus vir ons in die “Onse Vader”-gebed om te bid met die woorde: “Laat U Naam geheilig word”. Wat beteken dit dat ons bid dat die Here se naam geheilig word? Dit beteken om die Here se Naam opsy te sit of eenkant te sit en dit met spesiale respek te hanteer. Dit beteken om nie God se Naam goedkoop te maak nie. God se Naam is ver verhewe bo elke naam.

’n Christen se woordgebruik moet altyd voorbeeldig wees. Behalwe om die Naam van die Here ydellik te gebruik, moet ’n mens ook kragwoorde vermy. Jou woordgebruik moet suiwer wees.

Ons aanbid die Here deur Sy Naam. Die kerkvader Augustinus het min of meer die volgende gesê: “God dors om na gedors te word.” God wil hoor dat ons tot hom bid en Sy Naam aanroep – maar ons moet dit met eerbied en respek doen.

Mag ons in die nuwe jaar opnuut in aanbidding en verwondering staan oor die Naam van God. Mag ons God se Naam heilig hou.     Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Cleddie, Keith. Praying the Lord’s Prayer. Kindle Edition.

Clasen, Ferdie. 2001. Ons Vader – die gebed wat jou wêreld verander. Wellington: Lux Verbi.

Van Rensburg, Ewald. 2013. Keer jou familielewe om met die 10 gebooie. Wellington: Bybelkor.