Geloof as antwoord op môre

SKRIFLESING: Jeremia 32: 1 – 25

In die huidige Suid-Afrikaanse samelewing huiwer mense om grond te koop. Sommige politieke partye het ’n  beleid van grondonteiening sonder vergoeding en dit stem ons almal tot onrus en bekommernis. ’n Mens wil voel om sommer handdoek in te gooi. Is dit nog die moeite werd om te boer en my plaas te verbeter? Ons geloofsmoed is maar broos en ons wil tou opgooi.

Maar ons gelese gedeelte speel af in die Babiloniese ballingskap, waar die toekoms van Israel baie donker lyk en die profeet Jeremia in aanhouding is, onder huisarres.  Jeremia doen ’n vreemde ding. Vanuit die tronk beklink hy ’n absoluut gekke ekonomiese transaksie. Hy koop ’n stuk grond in Anatot van sy neef Ganamel, waarop die Babiloniese leër uitkamp. Jeremia koop dus ’n stuk grond waarop hy in alle waarskynlikheid nooit ’n boom sal plant of wingerde sal snoei of ’n huis sal bou nie – wat hy in alle waarskynlikheid nooit eens sal sien nie.

Dit is so goed jy gaan koop ’n leë erf in die middel van Khayalitsha om ’n netjiese huis te bou en ’n groentetuin en ’n blomtuin aan te lê.

Jy sal stapelgek wees om dit te doen. Alles sal gesteel word en die bokke en beeste sal alles afvreet.  Maar as jy dit koop, koop jy dit in die geloof dat die erf later tot jou voordeel sal wees. Geloof is dus die antwoord op môre se vraagstukke. Jy vertrou dat God in môre se vraagstukke en probleme sal voorsien. Dit vra moed om te glo, as alles donker lyk.

Jeremia se praatjies oor hoop is nie net praatjies nie. Jeremia verklaar as’t ware dat daar lewe na Babilon is. “The prophet puts his money where his mouth is.” In wese is Jeremia se koop van die grond ’n geloofsdaad. Jeremia belê as’t ware in die toekoms. Dit is ’n daad van hoop wat as teken moet dien dat dit weer goed sal gaan in Israel. Hierdie daad van Jeremia laat ’n mens nogal aan Abraham dink. Ook hy moes die skynbaar dwase ding doen om die vreemde in te trek. Hy moes die onlogiese ding doen om sy enigste seun Isak – die kind van die belofte – te gaan offer. Net so doen Jeremia die skynbare onlogiese ding om ’n stuk grond in Anatot te koop.

Net so het ons ook in die Suid-Afrikaanse samelewing ’n boodskap van hoop nodig. Ons lees elke dag van geslagsgeweld, gewelddadige betogings, misdade, moorde, korrupsie, ekonomiese verval, munisipale dienslewering wat agteruit gaan, armoede en werkloosheid. In ons eie lewens beleef ons ook dinge wat ons tot wanhoop dryf.

Dan het ’n mens HOOP nodig – maar nie hoop wat op valse optimisme gebou is nie. Valse optimisme kan soos dryfsand wees, jou net dieper laat wegsink.

Hoe kry ons dit reg om te bly hoop al lyk die situasie hopeloos? Jeremia koop nie die grond bloot omdat hy ’n optimis is nie. Nee, Jeremia handel op grond van sy geloof in God. Anders gestel: Jeremia sien nie bloot God se toekoms nie, hy sien vir God self. Daarom bid hy tot God en noem Hom: “Here, my God.”

Die Here is die een wat die onmoontlike kan doen. Die Here maak die onvrugbare Sara swanger. Die Here lei die slawevolk na vryheid. God kan ook nou die onmoontlike doen. Ten spyte van die omstandighede kan God dit weer laat goed gaan.

Die hopelose situasie spreek nie die laaste woord nie, maar wel die God wat ons hoop is. Daar is hoop wanneer ons nie kyk na die geskiedenis voorhande nie, maar na die God wat die geskiedenis in Sy hand hou. Ja, God se naam is geskryf bokant elke bladsy van die geskiedenis. God se naam is reeds geskrywe op elke bladsy van jou 2026-jaarkalender. Die Here se naam is reeds volgende jaar 365 keer daar geskryf voor elke dag se verpligtinge begin. Met die daeraad, daar sal jy vir God reeds aan die werk kry.

In die Nuwe Testament lees ons ook van ’n skynbare hopelose tyd van ’n Vrydag op Golgota – toe die Hoop vir die mense aan ’n kruis gespyker is. Die Vrydag en Saterdag was ’n donker tyd, maar op Paassondag het die lig deurgebreek. Christus Jesus het opgestaan – daardeur is daar ewig ’n grens gestel aan wanhoop.

Die Christenspreker Tony Campolo vertel dat hy in ’n stadium aan ’n swart gemeente in Philadelphia in die VSA behoort het. Dit was ’n besondere aangename gemeente om in te preek, want die gemeente het geen geheim gemaak van hoe hulle die preek ervaar nie. Eenkeer het Campolo ’n bietjie gesukkel met sy formulering en dadelik het ’n vrou uit die agterste banke geroep: “Please help him, Jesus!” ’n Ander keer weer het dit heelwat beter met sy preek gegaan en elke keer wanneer die gemeente tevrede was met wat hy gesê het, het hulle laat hoor: “Preach brother, preach!”

Een Goeie Vrydag was hy een van sewe predikers wat die oggend moes voorgaan. Hy was voorlaaste en sover hy kon oordeel, het dit goed gegaan. Soos hy dit self stel: “I was so good, I wanted to take notes on myself.”

Na hom moes ’n ou predikant preek. Dié sê toe vir hom: “You did allright, boy.” Effens vies vir die benaming het Campolo half leedvermakerig by homself gedink: Ek wonder hoe die ou man, wat my “boy” noem, nou eintlik met die prekery sal vaar. Die ou prediker het egter ’n uur-en-half lank die gehoor aan sy lippe laat hang en Tony moes toegee dat hy sleg afsteek by die ou prediker.

Wat die ou prediker se preek nog meer merkwaardig gemaak het, was die feit dat hy een sinnetjie oor en oor gebruik het: “IT’S FRIDAY, BUT SUNDAY IS COMING!”

Hy het sag begin:

“Dit was Vrydag en Jesus het gehang aan die kruis – maar dit was Vrydag: Sondag kom nog!”

“Dit was Vrydag en die dissipels en vroue het gehuil – maar dit was Vrydag: Sondag kom nog!”

“Dit was Vrydag en die skeptiese mense kyk na die wêreld en sê: niks kan en sal verander nie. Maar die siniese mense het nie geweet dat dit nog maar Vrydag is nie: Sondag kom!”

En so het hy aangehou. Teen die einde het hy geroep: “IT’S FRIDAY!” en die gemeente het spontaan en luidkeels geantwoord: “BUT SUNDAY IS COMING!”

Wanhoop – dit is wat Kierkegaard die “Sickness unto death” noem. In sulke tye moet ons onthou van die stuk grond wat Jeremia gekoop het. Ons moet onthou dat Jesus daardie Sondag opgestaan het. As ons wanhopig of moedeloos is, kan ons sê: “Dit is nou eers Vrydag, maar Sondag het gekom!”

Victor Frankl wat die Joodse gevangenes waargeneem het in die Duitse konsentrasiekampe (soos Auschwitz) het tot die gevolgtrekking gekom dat mense op twee maniere op moeilike en onmenslike omstandighede kan reageer. Jy kan in wanhoop in jou ellende lê en sterf, wat inderdaad gebeur het met Joodse gevangenes wat alle hoop verloor het. Ander in dieselfde omstandighede het die Duitse konsentrasiekampe oorleef omdat hulle bly HOOP het. Hulle het vir mekaar in die konsentrasiekampe stories van hoop vertel en begin beplan en droom van nuwe besighede wat hulle gaan begin na die oorlog. Hulle het ’n veel beter kans gehad om die konsentrasiekampe te oorleef, want daar was hoop in hulle harte en hoop in hulle gesprekke.

Daarom moet ons nie verlam raak deur 2026 se probleme nie. Vertrou God, Hy sal elke oggend vir jou nuwe krag gee en met die daeraad vir jou wys hoe Hy op die regte tyd voorsien. Wat onmoontlik lyk, sal God op Sy tyd moontlik maak.

Die Suid-Afrikaanse religieuse skrywer Ruben Alves wys daarop dat die lewe soos ’n dans is: “Hope is hearing the melody of the future. Faith is to dance to it.”

Daarom moet ons ook elke dag tekens van hoop oprig.

Ons moet voortgaan om huise te koop.

Ons moet voortgaan om ons kuddes te verbeter.

Ons moet verbeterings op ons plase doen.

Ons moet bome plant.

Ons moet wingerde aanlê.

Ons moet groentetuine maak en blomtuine maak.

Ons moet voortgaan om die Evangelie te verkondig.

Watter tekens van hoop gaan jy oprig in 2026? Met geloofsmoed moet ons die toekoms kreatief skep. Gelowiges is altyd kreatief met die toekoms, omdat hulle glo in die kragtige werking van God-Drie-Enig.             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep of gerestoureer.

Wanneer Kersfees ons Leefstyl vorm

SKRIFLESING: Jesaja 61: 1 – 2 en Luk 4: 16 – 30

Wanneer Kersfees verby is, word die kersboom en kersversierings weggepak. Die familie en die vriende keer weer terug na hulle bestemmings. Binne dae, begin elkeen weer te werk en die nuwe jaar aan te pak. Die gesindheid van Kersfees, van welwillendheid, word ook sommer by die deur uitgevee. Kersfees 2025 is verby, die kersboom is in die kas, so ook ons welwillendheid en liefde.

Maar dan verstaan ons Kersfees verkeerd. Kersfees is die begin van Epifanie, wat beteken die verskyning van die Here. Die Here Jesus het met Kersfees verskyn omdat Hy na die mensdom gekom het met ’n uitgewerkte agenda. God het ’n love affair met die wêreld, daarom het Hy Sy Seun gestuur. Hierdie uitgewerkte agenda van Jesus Christus begin met Kersfees en sal eers met die wederkoms van die Here Jesus afgesluit word. Dié tydperk word genoem die genade-jaar van die Here, of soos die 2020-vertaling daarna verwys as die “aangename tyd”

In Jesaja 61: 1 – 2 voorspel die profeet Jesaja eerste die genade-jaar van die Here en daarna verkondig Hy die oordeel. Met ander woorde die profeet Jesaja voorspel daar sal eers ’n genade-jaar wees en dan sal die oordeel van God aanbreek. Jesus Christus se geboorte sal die begin van die genade-jaar aankondig en die genade-jaar sal voortduur tot en met die wederkoms. Eers met die wederkoms sal die oordeel van God in werking tree.

Die Here se eerste koms is die genade-jaar en Sy tweede koms is die wederkoms, die oordeelsjaar.

In Luk 4: 16 – 30 het die Here Jesus die profeet Jesaja in Jes 61: 1 – 2 woordeliks aangehaal, maar het opgehou net voor die laaste gedeelte van vers 2 wat lui: “… die dag waarop ons God Sy vyande straf.” Hy het met ander woorde Jesaja aangehaal tot en met die genade-jaar, opgehou lees en die boekrol toegemaak en toe gaan sit om te preek. Hy het nie die gedeelte van die oordeel gelees nie, omdat dit eers later kom. Jesus het nie die Joodse gebruik gevolg om Sy preek met oordeel af te sluit nie. Juis daarom was dit een van die redes waarom die Skrifgeleerdes en die Jode Hom verwerp het.

Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die genade-jaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar: Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die genade-jaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar in Luk 4:18 – 19 die volgende:  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig. Dit was en is nog steeds God se agenda.

Daar staan in Luk 6: 37 die volgende: Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word.

Daarom het Jesus tydens Sy 33 jaar op aarde, die agenda wat met Kersfees gegee is, uitgeleef. Hy het met sondaars gemeng en in Saggéüs die hooftollenaar, die hoofsondaar, se huis tuisgegaan. Hy het siekes gesond gemaak en aan melaatses gevat. Hy het die owerspelige vrou beskerm teen die Fariseërs wat haar met klippe wou doodgooi. Hy het toegelaat dat ’n prostituut sy voete was met kosbare nardusolie en dit met haar hare afdroog. Hy het gemeng met die sondige wêreld, want dit was sy agenda, sy werksplan.

Met Sy Hemelvaart het Hy hierdie agenda en werksplan aan Sy kerk oorgegee. Daarom is dit die taak van die kerk om tot met die wederkoms van onse Here Jesus Christus die taak, die agenda en die werksplan van God voort te sit.

Ons kan die kersboom wegpak, maar ons moet voortgaan met die agenda, die rede waarom Jesus Christus na hierdie wêreld gekom het. Daarom kan ons nooit ophou om die rede vir Kersfees te vier nie.

Daarom moet ons nie op boemelaars neersien nie … hulle lewe van ons menslikheid. Daarom moet ons nie ’n ongetroude moeder verwerp nie … hulle soek net vergifnis. Daarom moet ons nie van gevangenes vergeet nie … hulle wil besoek word. Daarom moet ons nie op armes neersien nie … hulle soek ons respek. Ons moet ook nie die bejaardes vergeet nie … hulle wil graag besoek word, omdat hulle velhonger is vir ’n drukkie en liefde. Daarom moet ons nie siekes vergeet nie … hulle lewe van ons belangstelling. Daarom moet ons nie van sterwendes vergeet nie … want hulle lewe van ons deernis. Daarom moet ons nie ons vyande vergeet nie … want hulle soek ons vergifnis.

Ons moet genade betoon, omdat aan ons genade betoon is. Want sien, ons lewe in die genade-jaar (die aangename jaar) van die Here Jesus Christus.

Howard Thurman het aangrypend geskryf en dit só reg verstaan:

When the song of angels is stilled,

When the star in the sky is gone,

When the kings and princes are home,

When the shepherds are back with their flock,

The work of Christmas begins:

to find the lost,

to heal the broken,

to feed the hungry,

to release the prisoner,

to rebuild the nations,

to bring peace among the brothers,

to make music in the heart.

St. Franciscus van Assisi het geleef saam met die armes, die siekes, die randfigure, die gebrokenes en die natuur. Hy het intiem gebid:

Here, maak my ’n instrument van U vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.
Waar daar ’n wond is, heling;
Waar daar twyfel is, geloof;
Waar daar wanhoop is, hoop.
Waar daar duisternis is, lig;
Waar daar droefheid is, vreugde.
O, Heilige Meester, gee dat ek,
In plaas daarvan om vertroosting te soek,
ander sal vertroos;
Om begrip te hê, as om begryp te word;
Om liefde te gee, as om bemin te word.
Want deur te gee, ontvang ons;
Deur te vergewe, word ons vergewe;
en deur te sterwe, word ons gebore tot ʼn Ewige Lewe.
— Die Gebed van St. Franciscus van Assisi —

Stephan Joubert beskryf dit duidelik: “Terwyl ons mekaar afskryf, skryf God ons in genade op.” Ons kan so maklik met ’n veroordelende vingerwysing mekaar afskryf en veroordeel. Ons weeg mekaar en as ons iemand te lig beskou, ignoreer ons dié persoon of smeer sy naam swart. Met veroordelende harte weeg en beoordeel ons mekaar. Vir genade is daar geen plek nie.

Ek moet nie die oordeel van God aan u verkondig nie, dit is God se werk met die Wederkoms. Nee, my taak is om elke Sondag aan u ’n ander kant, ’n ander faset van God te verkondig. Om God se liefde in al sy veelkleurigheid en vrolikheid aan u te verkondig. My taak is nie om u met prediking te veroordeel nie, maar om elke Sondag vir u te verkondig dat God vryspreek en liefhet.

Daarom het die Here Jesus ook die owerspelige vrou in Joh 8 nie veroordeel nie, maar aan haar genade betoon omdat dit die genade-jaar van die Here Jesus is.

Die genade-jaar strek vanaf Christus se geboorte tot en met Sy wederkoms. Daarom leef ons hier in die jaar 2025 nC in die genade-jaar van die Here.  Eers as die horlosie en die kalender van hierdie wêreld gaan staan, hou die genade-jaar van God op. Tot dit egter gebeur moet die kerk van die Here die genade-jaar verkondig.

Daarom preek ons Gereformeerde dominees so min oor die hel en oordeel van God: omdat ons nog in die genade-jaar van die Here lewe. Dit is die GENADEJAAR! U as Nuwe-Testamentiese gemeentes, Adelaide en Fort Beaufort, lewe binne-in die genade-jaar. Wat ’n voorreg!

Daarom is dit my vreugde om elke Sondag aan u die GENADEJAAR van die Here te verkondig. Om elke Sondag ’n ander kant of faset van God se liefde, genade en deernis aan u te verkondig. U moet elke Sondag verwonderd staan voor God se ongelooflike liefde.

Wanneer die Evangelie so gebring word dat dit jou bang maak, is daar ‘n probleem. ’n Bangmaak-Evangelie het in homself die kiem van dwaalleer. Die woord EVANGELIE beteken immers “goeie tyding” of “goeie boodskap” en daarom wil die Evangelie jou vry maak, jou los maak. Ja, die Evangelie wil vir jou vreugde en blydskap bring. Die toets van suiwer Woordverkondiging is of die Woord “vry maak” om ’n nuwe verloste lewe te lewe.

Jubel in die Here, Gemeente! Julle is bevoorreg om in die genade-jaar van ons Here Jesus Christus te lewe. Omdat ons in die genade-jaar van die Here lewe en die Here aan ons    soos aan die owerspelige vrou in Joh 8 – genade betoon, moet ons ook aan mekaar genade betoon.

Wanneer Kersfees ons lewenstyl vorm, word ons genadiger, sagter, meer barmhartig met mekaar. Dan leef ons die gees van Kersfees die hele jaar uit.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.