Teks: Joh. 14:1 – 3 en 2 Samuel 12: 19 – 23
Die dood was en is nog nooit maklik vir mense nie.
Baie ongelowige mense beleef die dood as ’n doodloopstraat. Dit is die einde. Die dood is ’n muur en alles is nou verby. Met die dood word ek verpletter teen die muur. Dit is “Ikabod” – dit is verby. So glo die ateïste en ongelowiges. Hulle sterwe het geen sin, betekenis of vrede nie.
Hulle sal eerder by ’n kroeg of klub bymekaar kom en ’n paar mooi goed oor die persoon deel, ’n paar grappies oor sy of haar lewe vertel en dan ’n heildronk instel met ’n glas bier of Whisky.
Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die afsak van die kis, saam in die graf geklouter het, omdat hulle die dood nie met dapperheid kan hanteer nie. Vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.

Dan kom die Evangelie helder deur in Joh. 14:1 – 3 : “In my Vader se huis is baie wonings …” Die dood word gesien as oorgang, nie as ’n einde nie – ’n deurgang na volheid. Die dood is nie ’n punt nie, maar ’n komma. Na die komma volg die res van die sin. Na die dood volg die res, die tweede gedeelte, die ewige deel van my lewe.
Jou liggaam word oud en afgemat, maar jou gees kan nie oud word nie. Die Engelse oom wat ek eenkeer in Huis Corrie Dreyer besoek het, wat in sy tagtigs was en op pad om te sterf, sê vir my: “Dominee, kyk na my liggaam. Dit is net bene en ’n vel. Daar bly niks van my oor nie. Kyk, hier lê ek in doeke, weet jy hoe vernederend is dit? Maar weet jy, dominee, in my gees is ek nog soos ’n springchicken. In my gees voel ek nog jonk.” Jou gees kan nie oud word nie. Dit gebeur wel dat jy in jou gees moeg raak, soos iemand wat moeg gelewe is, baie swaar gekry het of depressief is. Die gees kan egter nie oud word nie.
In die hemel kry jou onsterflike gees ’n nuwe geestelike liggaam, wat nie oud of siek kan raak nie. Hierdie liggaam bestaan nie uit vleis, bene en bloed nie. Dit is ’n hemelse liggaam.
In ons skrifgedeelte lees ons van koning Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.
In 2 Samuel 12: 19 – 23 staan die volgende: “Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’”
’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moes aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van koning Dawid was verstom oor sy optrede.
Soos Prediker ook predik: daar is ’n tyd vir alles. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.
So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Melissa aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.
Dapperheid is een van die mooiste deugde in die lewe. Dit maak van jou ’n Warrior. KI beskryf dapperheid as volg: “Om dapper te wees beteken nie bloot om nie bang te wees nie – dit beteken om iets te doen ten spyte van vrees. Ware dapperheid is nie die afwesigheid van vrees nie, maar die oorwinning daarvan. Dapperheid spruit hier nie uit menslike selfvertroue nie, maar uit vertroue in God se teenwoordigheid. Soms is dapperheid eenvoudig om aan te hou glo en om môre weer op te staan.”
Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.
Maar die “dal van doodskaduwee” van Psalm 23:4 in die 1953-vertaling is nie ’n maklike plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. In die laatmiddag se skemer word dit ook heel eerste onder in die kloof en vallei donker. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. Wanneer Dawid as jong seun in die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang vir wat daar vir hom voorlê. Dit is soos ’n doodskaduwee. Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.
Met die dapper kyk van geloof kan ek ’n barshou kyk, sodat selfs die muur van die dood kraak. Ek moenie vasklou aan die dood nie, maar aan Christus, die Oorwinnaar oor die dood.
Ons sal vir Malissa Klopper mis. Maar Psalm 23: 5 sê dat haar beker oorloop. Sy kort niks meer nie. Sy kom niks kort nie, aangesien sy ’n geestelike verheerlikte liggaam het. Sy het die wedloop van die lewe voltooi.
Ons het nie nou definitiewe antwoorde nie. 1 Kor. 13 sê ons kyk in ’n dowwe spieël. Daarom kan ons nie duidelik sien nie. Ons kan nie verstaan waarom ons emosioneel so moet swaarkry nie. Eendag sal ons verstaan. Eendag sal ons die antwoord hê. Nou kan ons net vaskleef aan God se troue karakter, wat ons wil troos in die aangesig van die dood.
Die dood is toe nie so verskriklik nie. Die Here het die “angel” uit die dood gehaal. Die dood is nie meer gevaarlik nie.
Met ander woorde, ons hoef nie te wonder oor die nuwe geestelike liggaam nie. Dit sal in verheerlikte vorm wees, sonder pyn, seer, siekte, dood en lyding.
Dawid se beker loop oor. Hy kort niks meer nie. Hy het aan niks meer behoefte nie.
Nog ’n voorbeeld van die dappere hantering van die dood is die verhaal van Horatio Spafford (1828 – 1888). (Skrywer van “It Is Well with My Soul”)
Horatio Spafford was ’n prokureur en toegewyde Christen in Chicago in die 1800’s. Hy was ’n man met ’n lewende geloof en ’n vader van vyf kinders. Hy was ’n opregte vriend van die evangelis Dwight L. Moody. Maar sy lewe het ’n pad van verlies geloop. In 1871 in die groot brand van Chicago het hy al sy besittings en sy regspraktyk verloor. Daarmee het sy sakebelange ook in duie gestort en het hy letterlik alles verloor. Hy en sy vrou Anna het besluit om nie hulle geloof te verloor nie. Hulle het besluit om na Moody in Engeland te gaan en daar vir Moody te ondersteun in sy Evangelisasieveldtog. Dit sou ’n nuwe begin wees, ’n manier om oor die verlies te kom.
Net voor hulle vertrek na Engeland per skip, moes Horatio egter agterbly vir dringende sake en sy vrou en vier dogters het met die skip SS Ville du Havre vertrek. In 1873 het hul skip in die middel van die Atlantiese Oseaan met ’n ander skip gebots. Hulle skip het binne minute gesink. As gevolg van hierdie skeepsongeluk het meer as 200 mense tragies verdrink – onder hulle al vier van die Spafford-dogters: Annie, Maggie, Bessie en Tanetta. Anna is egter gered en uit Wallis het sy ’n telegram gestuur: “Saved. Alone. What shall I do?”

Toe Horatio hierdie telegram ontvang, het hy onmiddellik per skip na sy vrou in Wallis gevaar. Toe die skip ongeveer regoor die plek gekom het waar die “SS Ville du Havre” gesink het, het die skeepskaptein hom laat roep en in die beheerkamer van die skip vir hom gewys waar die ongeluk wat die lewe van sy vier dogters geëis het, plaasgevind het. Horatio het daar gestaan, sonder enige verwyt teenoor die Here en daarna afgegaan en onder in sy kajuit die volgende bekende lied geskryf: “It is well with my soul.”
“When peace like a river attendeth my way,
When sorrows like sea billows roll;
Whatever my lot, Thou hast taught me to say,
It is well, it is well with my soul.”
Hy het vrede gevind, selfs desnieteenstaande die wrede werklikheid van die dood van sy vier dogters. Die dood het nie die laaste sê gehad nie. Sy pynkreet het ’n lied geword van troos, wat deur eeue duisende ander gelowiges in dieselfde omstandighede vertroos het.
So kan ’n mens dapper met die dood omgaan, omdat jy die pad in geloof stap.
Laat ons ook soos koning Dawid opstaan en sê: “Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”
Wat die voortsetting van die lewe betref, raai ’n Hebreeuse spreuk aan: “Moenie in droefheid sê dat sy nie meer is nie, maar leef in dankbaarheid dat sy was”. Sy was vir 47 jaar deel van hierdie lewe. Sy is geleen en geskenk aan julle. Wees dankbaar dat sy deel van julle lewe kon gewees het, asook dat julle die wonderlike herinneringe aan haar altyd sal kan koester.

Thornton Wilder se waarneming: “Die grootste huldeblyk aan die oorledenes is nie hartseer nie, maar dankbaarheid”. Dr. Seuss het geskryf: “Moenie huil omdat dit verby is nie, glimlag omdat dit gebeur het.” Glimlag omdat sy deel van julle lewe kon gewees het en in herinneringe altyd deel van jul lewe sal bly.
Hierdie kerkgebou is vandag volgepak met meer as 600 mense. Die Marlow Landbouskool het spesiaal gekom om vir Paul te ondersteun. Dit was meer mense by ‘n begrafnis, as ooit tevore in 40 jaar gesien. Dit is almal mense wat vir julle omgee en ondersteun in liefde.

Eli, jy wat ’n lewensmaat verloor het – mag die Here vir jou krag gee om aan te gaan. Weet dat jy ’n ongelooflike goeie man vir Melissa was. Jy was altyd haar rots en haar sterkte. Eloïse, Marelize en Paul, julle wat ’n moeder verloor het – onthou altyd die liefde en die trots wat julle moeder vir julle gehad het. Sy was baie trots op julle. Melissa het geleef vir haar drie kinders. Haar kinders was alles vir haar. Ek is net dankbaar dat sy al drie haar kinders kon grootmaak tot volwassenheid. Ek is dankbaar dat daardie voorreg aan Melissa gegun was.

Cindy, jy wat al die dood van twee kinders moes deurleef – mag die Here vir jou elke môre nuwe krag gee. Jou hartseer is baie groot, maar jou Here Jesus is baie groter as jou hartseer! Morné, jy wat ’n suster verloor het en ook al ’n broer verloor het – mag ook jy die teenwoordigheid van die Here elke dag ervaar. Dankie ook aan skoonsuster Yolandie, vir jou teenwoordigheid en liefde.
Met dapperheid en dankbaarheid, kan ’n mens voortgaan met jou lewe. Onthou hierdie twee woorde asseblief vir die res van julle lewe, as vertroosting.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.
