Om brugbouer te wees in ‘n verdeelde wêreld

SKRIFLESING: 1 Samuel 25: 2 – 44

In ons skrifgedeelte lees ons van Abigajil, wat met ’n korrelkop en onbeskofte man Nabal getroud was.

Nabal was ’n man in Maon, wat sy boerdery in Karmel gehad het. Hy was skatryk en het drieduisend skape en ’n duisend bokke gehad. Wanneer hierdie gebeure afspeel, was hy juis besig om sy skape in Karmel te skeer.

In dieselfde tyd was Dawid en sy manne ook in die gebied en hy het gehoor Nabal skeer skape. Hy het toe tien jongmanne na Nabal gestuur om vir hom gesondheid en goeie wense toe te wens. Dawid het gesê dat die boodskappers ook moes vermeld dat sy manne Nabal se skaapherders beskerm het en seker gemaak het dat geen van Nabal se kleinvee wegraak nie. Dawid se manne het as’t ware soos ’n hedendaagse plaaslike sekuriteitsmaatskappy die vee van Nabal opgepas.  Toe kom Dawid met ’n vriendelike versoek in vers 8: “Gee dan asseblief wat u byderhand het vir u dienaars en vir u seun, vir Dawid.”

Die onbeskofte korrelkop Nabal het sy humeur heeltemal verloor en terug laat weet dat daar baie slawe was wat van hulle eienaars weggeloop het. Hy sou nie die brood, water en vleis van sy skeerders afstaan aan Dawid nie.

Dawid was ook nie ’n maklike man nie.  Ook hy was maar ’n bietjie van ’n korrelkop en het sy humeur onnodig verloor. Dawid het vierhonderd man gereed gemaak om na Nabal te gaan en hom en almal wat manlik was in sy kamp dood te maak.

Een van die veewagters het na Abigajil, die vrou van Nabal, gegaan en haar vertel dat Dawid en sy manne hulle skaapwagters opgepas het en dat Nabal nie vir Dawid enige vergoeding wou gee nie. Nou sou Dawid gaan om Nabal en almal wat manlik is in die kamp dood te maak.

Abigajil was nou vrou-alleen vasgevang tussen die twee korrelkoppe, wat albei verkeerd en humeurig opgetree het. Dan kom sy as een van die  Bybel se groot vredemakers na vore. Abigajil het vinnig tweehonderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmers gebraaide koring, ’n honderd trossies rosyntjies en tweehonderd koeke gedroogte vye gevat en dit op donkies gesit en dit vooruit vir Dawid gestuur. Sy het vir haar man Nabal niks hiervan gesê nie en toe later self na Dawid toe gegaan. In groot nederigheid het sy voor hom gekniel en bely dat haar man ’n dwaas was en dat Dawid tog vir hulle genadig moes wees. Sy het ’n lang betoog gevoer oor hoekom Dawid hulle moes spaar en sy het ook die lof van Dawid besing.

In vers 32 kom Dawid tot sy sinne en onderneem om die saak daar te laat staan en nie vir Nabal en al die manlikes in sy kamp dood te maak nie. Hy het ook die goed wat Abigajil gebring het aanvaar en haar bedank dat sy hom gekeer het om bloed te vergiet en die reg in eie hande te neem.

So het Abigajil die vredemaker geword tussen twee korrelkoppe.  Sy het gekeer dat bloed vloei. Deur haar optrede kon sy die onbeskofte Nabal en die humeurige Dawid albei tem.

Toe Abigajil by die huis kom, was haar man besig om partytjie te hou en hy was dronk. Sy het hom niks vertel voor die volgende oggend toe hy nugter was nie. Nabal was so geskok dat hy ’n beroerte gekry en verlam geraak het. Omtrent tien dae later het hy weer ’n ernstige beroerte gekry en gesterf.

Toe Dawid verneem van Nabal se dood het hy dadelik manne gestuur na Abigajil se huis en gesê dat Dawid haar sy vrou wou maak. Sy was egter bereid om net ’n slavin van Dawid te word. Tog het sy op ’n donkie, en met  haar vyf slavinne, gegaan en in die huwelik getree met Dawid. Sy was Dawid se tweede vrou.

Daar is niks so hartseer as om met ’n twisgierige man of vrou getroud te wees nie. Daar is ook niks so erg soos ’n vriend of kollega by die werk wat rusie aanhits nie. Om met ’n korrelkop of humeurige persoon saam te leef of te werk, is een van die goed wat ’n mens se energie tap. Dink net hoe swaar moes Abigajil nie gekry het in haar huwelik met Nabal nie. Eintlik was sy ’n mishandelde vrou. So is daar baie mishandelde vroue en mishandelde mans en mishandelde kollegas, wat die onbeskoftheid van ander moet verduur.

Om ’n Geesvervulde mens te wees, wil Pinkster ons daaraan kom herinner om nie twisgierig en onbeskof te wees nie. Geesvervulde mense is vredemakers soos Abigajil. Hulle ontlont konflik en bring vrede. Hulle is die minste en gee alles om vrede te bewerkstellig.

’n Korrelkop of ’n humeurige mens is vol van hulself en leeg van die Heilige Gees. Dit gaan net oor hulle en hulle belange. Hulle sal die wêreld vernietig, net om hulle sin te kry.

Dieselfde geld vir die politiek. ’n Politikus leef van konflik, maar ’n staatsman soek vrede vir alle parte en volkere. So was Nelson Mandela ’n staatsman, want hy het die belange van alle Suid-Afrikaners op sy hart gedra. Met die Wêreldbeker-eindstryd van 1995 was hy op die rugbyveld saam met die seëvierende Springbokke om die Wêreldbeker vas te hou vir alle Suid-Afrikaners.

’n Vredeliewende woord, ’n glimlag en ’n kompliment keer die grimmigheid af. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, maar vergeld kwaad met die goeie. Moenie olie op die vuur gooi nie, maar smoor die vuur met jou liefdevolle benadering.

Gavin Reid sê tereg dat ons nie “sjalom” (vrede) moet verstaan as iets wat weggeneem moet word om vrede te veroorsaak nie, maar eerder iets wat toegevoeg moet word om vrede te veroorsaak. Dit neem nie noodwendig al die stryd weg nie, maar dit verander die situasie deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp.  Vredemakers skep ’n positiewe lewensruimte vir ander mense, sodat almal gelukkig onder God se son van genade kan leef. Abigajil het so geleef.

William Jennings Bryan vertel ’n sprokie oor vrede: “Vertel my wat is die gewig van ’n sneeuvlokkie,” het die mossie aan die wilde duif gevra. Die duif het geantwoord: “Niks meer as niks.” “In daardie geval gaan ek vir jou ’n wonderlike verhaal vertel,” het die mossie gesê: “Ek het op ’n tak gesit terwyl dit sneeu. Dit was nie ’n storm nie. Dit het net so saggies neergesif, sonder enige geluid of klank. Ek het die sneeuvlokkies getel wat op die tak geval het. Dit was 3 741 962. Niks meer as niks – soos jy gesê het – toe breek die tak.” Die mossie het toe weggevlieg. Die duif wat ’n outoriteit op vrede is sedert Noag se tyd het hieroor nagedink. Hy het tot die slotsom gekom: “Miskien kom net een mens se stem kort om vrede op aarde te laat kom.”

Die bekende kerkvader van die vyfde eeu n.C.,  Augustinus van Hippo, het in sy teologiese werk “De Civitate Dei” die twee “stede” beskryf, wat hy genoem het die aardse stad van selfliefde en die hemelse stad van God. Hy skryf as volg:

“Waar die liefde tot God die hoogste is, daar is vrede.

Waar die liefde tot self heers, daar is verdeeldheid.

Mag die liefde van God oor die wêreld uitstort,

sodat die aarde rus in die vrede van die Hemelstad.”

Sy seënbede behels meer as net politieke vrede. Vir hom bring Goddelike liefde en vrede weer orde en harmonie aan alles wat lewe en word daarom dan beskryf as die  “ ordo amoris”.

Ons moet brugbouers wees, soos die Heilige Gees die groot Brugbouer is. Die Heilige Gees bou brûe tussen mense, geslagte, volkere, rasse, klasse en uiteenlopende menings.

In Handelinge 2 sien ons die Gees se eerste groot brugbouprojek: Pinkster. Mense uit verskillende tale, volke en kulture hoor die Woord in hulle eie taal die Gees oorbrug menslike verskille.

Waar die toring van Babel spraak verwar het, bring die Gees weer verstaan. Waar verdeeldheid geheers het, bring Hy gemeenskap tussen nasies en volkere.

Die Heilige Gees maak die kerk een liggaam, al is ons verskillend (1 Kor. 12:13).

Hy bou brûe van vergifnis, versoening, medelye en vrede – nie net in gemeentes nie, maar ook tussen rasse, geslagte en samelewingsgroepe.

Die Heilige Gees help ons om mekaar deur Christus se oë te sien, en nie deur die wonde van die verlede nie.                                       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Kan ‘n jakkals van snaar verander

Skriflesing: Luk 9: 51 – 55 en Hand 8: 4 – 8, 14 – 17

Kan ’n mens regtig verander? Ons het mos ’n spreekwoord wat as volg lui: “ ’n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie.”

Kan ’n mens regtig verander met betrekking tot:

  • afleer van ou gewoontes wat sondig is
  • selfsug, na offervaardigheid
  • hoogmoed, na nederigheid
  • vyandskap, na liefde?

Ons gaan egter stilstaan by die laaste: Kan vyandskap en vooroordeel tussen mense regtig verander in liefde en vrede?

Telkemale lees ons in die Bybel van die vyandskap tussen die Jode en die Samaritane. In die tyd van Jesus was die vyandskap alreeds ’n vete van meer as 1000 jaar en dit het al hoe erger geword. Kom ek verduidelik aan u ’n bietjie van die vete:

  • Die Samaritane het die Jode verag omdat hulle die tempel nie op die regte plek volgens die voorskrifte van Moses gebou het nie en die Jode het die Samaritane afgeskryf, omdat hulle nie in Jerusalem aanbid nie. (Dink aan die Samaritaanse vrou se vraag in Johannes 4.)
  • Die Jode het die Samaritane as onrein, as minderwaardig beskou. Daarom het Jood en Samaritaan nie ’n beker gedeel nie. (Vergelyk die Samaritaanse vrou se verbasing in Johannes 4.)
  • Die Jode en Samaritane het nie by openbare plekke gemeng nie. (Verbasing van Jesus se dissipels in Joh. 4, toe hulle Jesus by die put sien, saam met die Samaritaanse vrou.)
  • Die Jode het die Samaritane ook verag omdat hulle volgens Joodse standaarde nie rassuiwer gebly het nie, maar met ander nasies ondertrou het. Wat die Jode betref was die Samaritane min of meer melaats.

Dit was dus ook die gebruik dat die Jode ’n ompad om die land van Samaria geloop het as hulle op pad was om in Jerusalem te gaan aanbid.

Tog, volgens Luk. 9, gaan Jesus op sy tog na die Paasfees in Jerusalem nie met ’n ompad langs verby Samaria nie. Hy steek sommer kortpad deur Samaria. Maar toe Hy in ’n Samaritaanse herberg vir Hom en sy dissipels verblyf vir die nag wou laat reël, het die Samaritane geweier dat Hy in hulle dorp oornag. Jesus was immers ’n Jood op pad na die verkeerde tempel.

Onmiddellik was Jesus se dissipels woedend. “Here,” vra Jakobus en Johannes “wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Die twee Seuns van die Donder, twee van die verregses in Jesus se groepie, was gereed vir aksie. Rassekonflik was nou baie naby.

Die probleem was dat die dissipels se Joodse afkoms vir hulle swaarder geweeg het as hulle Christenskap.

  • Jesus moes ’n politieke Bevryder word.
  • Jesus moes ’n republiek stig.
  • Daarom baklei hulle so oor wie die belangrikste is – wie die kabinetsposte gaan kry.
  • Hulle Christenskap was vol politieke agendas.

Daarom kan ’n mens verstaan waarom die twee Seuns van die Donder dan vuur en oordeel oor hulle vyande wou afbid. ’n Mens kan inderdaad vra: “Kan die dissipels verander? Wat moet gebeur dat die haat, vooroordeel en vyandskap in hulle harte moet verdwyn? Kan mense regtig verander?”

Nee, mense kan nie verander nie, hul kan hoogstens verbeter. Maar Christene kan radikaal verander, omdat Christus hul verander.

Die Seuns van die Donder wou vuur afbid op hul teenstaanders, maar op Pinksterdag bid God vuur op hulle. Op Pinksterdag het die Heilige Gees soos tonge op hulle neergedaal en hulle harte verteer. So kry hulle die onmoontlike reg, naamlik om hul eertydse vyande lief te kry.

In Handelinge breek die vervolging van Christene uit sodat hulle moet vlug. So beland Filippus in ’n Samaritaanse dorp. Daar vertel hy vir die mense van Jesus van Nasaret. En daar gebeur die wonderlikste dinge: Lammes en kreupeles word gesond en versteurde mense word normaal. Hier gebeur nou presies die teenoorgestelde van dit wat die vuurvreters in Luk. 9 wou doen. Die letterlike vuur wat hulle uit die hemel wou afroep, word vervang met geestelike vuur uit die hemel. Pleks dat die Samaritane verteer word, word hulle gesond!

So verkrummel ’n 1000 jaar se vyandskap. ’n Duisend jaar se mites en vooroordeel oor mekaar verbrokkel. Vyandskap word vervang met broederskap.

Wat het gebeur? Die krag van die Heilige Gees het oor hulle gekom! Wanneer die Heilige Gees met ’n mens werk, vind daar bevrugting plaas, word ’n nuwe lewe verwek en ’n nuwe mens gebore: ’n Mens wat na God lyk en soos God optree. Iemand soos Jesus.

Dit is waarom die Jesusgroepie in Handelinge 8 so anders optree as in Lukas 9. Toe die Heilige Gees oor hulle gekom het, het die haters verander in sendelinge en die geweldbidders in mense wat seën.

Toe verander die haat van ’n 1000 jaar binne ’n oogwink in vrede en blydskap. Is ons Christene? Verstaan ons wat dit beteken om in hierdie land deur die Heilige Gees oorskadu te word?

Begryp ons dat ’n mens ’n naloper van Jesus kan wees, sonder om ’n navolger van Jesus te wees? Johannes, Jakobus en Petrus het honderde kilometers al agter Jesus aangeloop, sonder dat hulle regtig sy volgelinge geword het. Hulle het met hulle eie agendas agter Jesus aangeloop.

Die Rooms Katolieke kerk het sedert die dertiende eeu die Transsubstansiasie-leer geformuleer en bely, waarin hulle glo dat die brood letterlik verander in die “liggaam van Christus” en die wyn letterlik verander in die “bloed van Christus”. Sou daar na die Rooms Katolieke Nagmaal (ook genoem – die Mis) brood en wyn oorbly, word dit fisies begrawe in die kerk se tuin. Met ander woorde in die Rooms Katolieke Nagmaal gaan dit oor  brood en wyn wat verander in Christus se liggaam en bloed.

In die Protestantisme glo ons egter dat die brood en wyn net TEKENS is van Jesus se liggaam en bloed. Dit is nie die tekens wat verander met die gebruik daarvan nie. Dit is ons as gelowiges wat die Nagmaal gebruik, wat verander moet word om al meer soos Christus te lyk. Die brood en wyn wil ons transformeer om al meer soos die beeld van Christus te lyk. Dit is nie die tekens wat verander nie, maar óns wat moet verander. Daarom moet ’n mens voor elke Nagmaalsgeleentheid nadink oor jou eie sonde.

Glo u regtig in Pinkster? Glo u regtig in die Heilige Gees? Het die Heilige Gees al regtig oor u lewe gekom en u lewe verander?

Bid ons vuur op mekaar, of het God se vuur (Heilige Gees) ons al so verander dat ons ons vyande liefhet en seën? Dit is nie maklik nie, maar wie het gesê om ’n Christen te wees, is maklik? Is jy ’n naloper of ’n navolger? Bid jy vuur of seën op jou teenstaanders?

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Dapperheid in die aangesig van die dood

Die dood was en is nog nooit maklik vir mense nie. 

Baie ongelowige mense beleef die dood as ’n doodloopstraat. Dit is die einde. Die dood is ’n muur en alles is nou verby. Met die dood word ek verpletter teen die muur. Dit is “Ikabod” – dit is verby. So glo die ateïste en ongelowiges. Hulle sterwe het geen sin, betekenis of vrede nie.

Hulle sal eerder by ’n kroeg of klub bymekaar kom en ’n paar mooi goed oor die persoon deel, ’n paar grappies oor sy of haar lewe vertel en dan ’n heildronk instel met ’n glas bier of Whisky.

Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die afsak van die kis, saam in die graf geklouter het, omdat hulle die dood nie met dapperheid kan hanteer nie. Vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.

Dan kom die Evangelie helder deur in Joh. 14:1 – 3 : “In my Vader se huis is baie wonings …” Die dood word gesien as oorgang, nie as ’n einde nie – ’n deurgang na volheid. Die dood is nie ’n punt nie, maar ’n komma. Na die komma volg die res van die sin. Na die dood volg die res, die tweede gedeelte, die ewige deel van my lewe.

Jou liggaam word oud en afgemat, maar jou gees kan nie oud word nie. Die Engelse oom wat ek eenkeer in Huis Corrie Dreyer besoek het, wat in sy tagtigs was en op pad om te sterf, sê vir my: “Dominee, kyk na my liggaam. Dit is net bene en ’n vel. Daar bly niks van my oor nie. Kyk, hier lê ek in doeke, weet jy hoe vernederend is dit? Maar weet jy, dominee, in my gees is ek nog soos ’n springchicken. In my gees voel ek nog jonk.” Jou gees kan nie oud word nie. Dit gebeur wel dat jy in jou gees moeg raak, soos iemand wat moeg gelewe is, baie swaar gekry het of depressief is. Die gees kan egter nie oud word nie.

In die hemel kry jou onsterflike gees ’n nuwe geestelike liggaam, wat nie oud of siek kan raak nie. Hierdie liggaam bestaan nie uit vleis, bene en bloed nie. Dit is ’n hemelse liggaam.  

In ons skrifgedeelte lees ons van koning Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.     

In 2 Samuel 12: 19 – 23 staan die volgende: “Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’

’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moes aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van koning Dawid was verstom oor sy optrede.

Soos Prediker ook predik: daar is ’n tyd vir alles. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.

So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Melissa aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.

Dapperheid is een van die mooiste deugde in die lewe. Dit maak van jou ’n Warrior. KI beskryf dapperheid as volg: “Om dapper te wees beteken nie bloot om nie bang te wees nie – dit beteken om iets te doen ten spyte van vrees. Ware dapperheid is nie die afwesigheid van vrees nie, maar die oorwinning daarvan. Dapperheid spruit hier nie uit menslike selfvertroue nie, maar uit vertroue in God se teenwoordigheid. Soms is dapperheid eenvoudig om aan te hou glo en om môre weer op te staan.”

Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.

Maar die “dal van doodskaduwee” van Psalm 23:4 in die 1953-vertaling is nie ’n maklike plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. In die laatmiddag se skemer word dit ook heel eerste onder in die kloof en vallei donker. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. Wanneer Dawid as jong seun in die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang vir wat daar vir hom voorlê. Dit is soos ’n doodskaduwee.  Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.

Met die dapper kyk van geloof kan ek ’n barshou kyk, sodat selfs die muur van die dood kraak. Ek moenie vasklou aan die dood nie, maar aan Christus, die Oorwinnaar oor die dood.

Ons sal vir Malissa Klopper mis. Maar Psalm 23: 5 sê dat haar beker oorloop. Sy kort niks meer nie. Sy kom niks kort nie, aangesien sy ’n geestelike verheerlikte liggaam het. Sy het die wedloop van die lewe voltooi.

Ons het nie nou definitiewe antwoorde nie. 1 Kor. 13 sê ons kyk in ’n dowwe spieël. Daarom kan ons nie duidelik sien nie. Ons kan nie verstaan waarom ons emosioneel so moet swaarkry nie. Eendag sal ons verstaan. Eendag sal ons die antwoord hê. Nou kan ons net vaskleef aan God se troue karakter, wat ons wil troos in die aangesig van die dood.

Die dood is toe nie so verskriklik nie. Die Here het die “angel” uit die dood gehaal. Die dood is nie meer gevaarlik nie.

Met ander woorde, ons hoef nie te wonder oor die nuwe geestelike liggaam nie. Dit sal in verheerlikte vorm wees, sonder pyn, seer, siekte, dood en lyding.

Dawid se beker loop oor. Hy kort niks meer nie. Hy het aan niks meer behoefte nie.

Nog ’n voorbeeld van die dappere hantering van die dood is die verhaal van Horatio Spafford (1828 – 1888). (Skrywer van “It Is Well with My Soul”)

Horatio Spafford was ’n prokureur en toegewyde Christen in Chicago in die 1800’s. Hy was ’n man met ’n lewende geloof en ’n vader van vyf kinders. Hy was ’n opregte vriend van die evangelis Dwight L. Moody. Maar sy lewe het ’n pad van verlies geloop. In 1871 in die groot brand van Chicago het hy al sy besittings en sy regspraktyk verloor. Daarmee het sy sakebelange ook in duie gestort en het hy letterlik alles verloor. Hy en sy vrou Anna het besluit om nie hulle geloof te verloor nie. Hulle het besluit om na Moody in Engeland te gaan en daar vir Moody te ondersteun in sy Evangelisasieveldtog. Dit sou ’n nuwe begin wees, ’n manier om oor die verlies te kom.

Toe Horatio hierdie telegram ontvang, het hy onmiddellik per skip na sy vrou in Wallis gevaar. Toe die skip ongeveer regoor die plek gekom het waar die “SS Ville du Havre” gesink het, het die skeepskaptein hom laat roep en in die beheerkamer van die skip vir hom gewys waar die ongeluk wat die lewe van sy vier dogters geëis het, plaasgevind het. Horatio het daar gestaan, sonder enige verwyt teenoor die Here en daarna afgegaan en onder in sy kajuit die volgende bekende lied geskryf: “It is well with my soul.”

“When peace like a river attendeth my way,
When sorrows like sea billows roll;
Whatever my lot, Thou hast taught me to say,
It is well, it is well with my soul.”

Hy het vrede gevind, selfs desnieteenstaande die wrede werklikheid van die dood van sy vier dogters. Die dood het nie die laaste sê gehad nie. Sy pynkreet het ’n lied geword van troos, wat deur eeue duisende ander gelowiges in dieselfde omstandighede vertroos het.

So kan ’n mens dapper met die dood omgaan, omdat jy die pad in geloof stap.

Laat ons ook soos koning Dawid opstaan en sê:  Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”

Wat die voortsetting van die lewe betref, raai ’n Hebreeuse spreuk aan: “Moenie in droefheid sê dat sy nie meer is nie, maar leef in dankbaarheid dat sy was”. Sy was vir 47 jaar deel van hierdie lewe. Sy is geleen en geskenk aan julle. Wees dankbaar dat sy deel van julle lewe kon gewees het, asook dat julle die wonderlike herinneringe aan haar altyd sal kan koester.

Thornton Wilder se waarneming: “Die grootste huldeblyk aan die oorledenes is nie hartseer nie, maar dankbaarheid”. Dr. Seuss het geskryf: “Moenie huil omdat dit verby is nie, glimlag omdat dit gebeur het.” Glimlag omdat sy deel van julle lewe kon gewees het en in herinneringe altyd deel van jul lewe sal bly.

Hierdie kerkgebou is vandag volgepak met meer as 600 mense. Die Marlow Landbouskool het spesiaal gekom om vir Paul te ondersteun. Dit was meer mense by ‘n begrafnis, as ooit tevore in 40 jaar gesien. Dit is almal mense wat vir julle omgee en ondersteun in liefde.

Eli, jy wat ’n lewensmaat verloor het – mag die Here vir jou krag gee om aan te gaan. Weet dat jy ’n ongelooflike goeie man vir Melissa was. Jy was altyd haar rots en haar sterkte. Eloïse, Marelize en Paul, julle wat ’n moeder verloor het – onthou altyd die liefde en die trots wat julle moeder vir julle gehad het. Sy was baie trots op julle. Melissa het geleef vir haar drie kinders. Haar kinders was alles vir haar. Ek is net dankbaar dat sy al drie haar kinders kon grootmaak tot volwassenheid. Ek is dankbaar dat daardie voorreg aan Melissa gegun was.

Cindy, jy wat al die dood van twee kinders moes deurleef – mag die Here vir jou elke môre nuwe krag gee. Jou hartseer is baie groot, maar jou Here Jesus is baie groter as jou hartseer! Morné, jy wat ’n suster verloor het en ook al ’n broer verloor het – mag ook jy die teenwoordigheid van die Here elke dag ervaar. Dankie ook aan skoonsuster Yolandie, vir jou teenwoordigheid en liefde.

Met dapperheid en dankbaarheid, kan ’n mens voortgaan met jou lewe. Onthou hierdie twee woorde asseblief vir die res van julle lewe, as vertroosting.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.