SKRIFLESING: 1 Kor 3: 2 – 3 en Heb 5: 12 – 14 en 1 Pet 2: 2 – 3 en Ef 4: 3 –15 en Fil 3: 12 – 13
Wat is geestelike volwassenheid?
Die vraag in vandag se preek is: Wat is geestelike volwassenheid? Wanneer tree jy geestelik volwasse op? Die boek Filippense gee vir ons ’n duidelike antwoord op dié belangrike geestelike vraag.
In die sielkunde onderskei ’n mens tussen vroeë, middel- en laat volwassenheid. Vroeë volwassenheid (20 – 40 jaar) is gewoonlik die tyd wanneer ’n mens belangrike besluite neem in jou lewe soos jou beroep, jou lewensmaat en hoeveel kinders jy wil hê. Middel-volwassenheid, of dan die middeljare (40 – 60), is gewoonlik die tyd in jou lewe waar jy begin nadink oor jou lewe. Laat volwassenheid, of bejaardheid (60+), is gewoonlik die tyd van aftrede. Sielkundige volwassenheid het egter niks te doen met geestelike volwassenheid nie. ’n Mens vind dikwels “volwasse” mense wat baie kinderagtig en onvolwasse optree.

’n Geestelik onvolwasse mens kan net melk verteer. So ’n mens tree onvolwasse op en verstaan nog nie die eise van die Evangelie nie. ’n Geestelik onvolwasse mens word heen en weer geslinger deur onsekerheid en gooi oor alles ’n tantrum. Maar ’n geestelik volwasse mens kan vaste spyse eet en verstaan iets van die loutering van die geloof. So iemand kan vasstaan in die ergste beproewinge en ’n sterker mens anderkant uitkom.
Geestelike volwassenheid het te doen met jou verhouding met God en met jou medemens. Dit het ’n diep geestelike karakter. Geestelike volwassenheid, skryf Paulus, is nie iets wat jy kan bereik of waar jy by ’n punt kom en sê jy is nou geestelik volmaak nie. Geestelike volwassenheid, skryf Paulus, is eerder ’n reis, ’n proses, of ’n doelwit wat jy nastreef.
Daarom skryf Paulus in Fil 3: 12: “Ek sê nie dat ek dit alles al het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” In die Grieks is dit ook iets waaraan ek werk (’n proses) met die oog op die bereiking daarvan in die toekoms. Daarom is geestelike volwassenheid iets wat ons lewenslank besig is om te word.

Dit is soos die saadjie wat ontwikkel tot ’n groot boom. Vir die saadjie om te groei tot ’n volwasse boom is ’n lang, voortdurende proses. Die jaarringe van die boom is simbolies van jou reis met God. Soos ’n mens die geskiedenis van ’n boom kan lees in die jaarringe, kan ’n mens ook in jou reis met God die jaarringe lees en vind hoe God jou telkens deur voorspoed en teenspoed gevorm het om die mens te wees wat jy vandag is.
Geestelike volwassenheid is ’n reis na binne, na die siel toe. Dit is om van binne vernuwe te word, om algaande tot volle geestelike volwassenheid te kom.
Geestelike volwassenheid kom deur ervaring. Deur ons foute en mislukkings leer ons om beter en meer ervare te word in ons geestelike lewe. Daarom praat ons dikwels in die kerkgeskiedenis van die kerkvaders en -moeders. Dit is hulle wat met die Evangelie oud geword het. Hulle wat geval het en weer opgestaan het.
Geestelike volwasse mense is soos ronde rivierklippe wat deur die vloei van die rivier ’n unieke bepaalde karakter gekry het wat aan hulle besondere skoonheid gee – soos die geloofshelde van Hebreërs.

Die boek Hebreërs praat van geloofshelde wat oor ’n lang tydperk in hulle geloof gevorm is. Dit is geloofshelde wat aan God vasgehou het, selfs in die aangesig van die ergste beproewinge. Hulle was getrou aan God tot die bitter einde, totdat hulle hul laaste asem uitgeblaas het.
Geestelike volwassenheid is om jou los te maak van die ou sondige mens en jou hele lewe te rig op Jesus Christus. Daarom sê Fil 3: 13b : “Maar een ding doen ek, ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” Mense wat in gister se verbittering, onvergewensgesindheid en ou twiste bly lewe, kan nie groei na geestelike volwassenheid nie.
Somtyds moet ’n mens ’n potplant verplant uit sy ou houer met dooie grond in ’n nuwe houer met vars, ryk komposgrond. So moet ek uit my verlede verplant word in die ryk komposgrond van die bevrydende Evangelie.
Somtyds kry ons dit nie reg om die verlede te begrawe nie. Ons wil in die ou grond bly leef. Daarom roep Paulus ons op om ons los te maak van alles in die verlede wat ons kan terughou op ons pad van geestelike volwassenheid. ’n Noodsaaklike tree na volwassenheid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie en vir ander se lewe. Dit beteken om met commitment te lewe. Geestelike volwassenheid is om met toewyding te lewe. Paulus gebruik die woorde: “Ek span my in om by die wenstreep te kom”. Ons moet as’t ware onsself geestelik inspan om God en ons medemens te dien.

Die probleem van die post-moderne mens is dat hy / sy net aan die self verbonde is. Ons word verbruikers van die godsdiens. Ons wil onsself nie meer “inspan” in ons godsdiens nie. Nee, ons wil byvoorbeeld ontspanne op die rusbank na ’n kerkdiens oor die televisie luister.
Dit is te veel inspanning om betrokke te wees in die kerk en die gemeenskap. Ons wil gedien word in plaas van om te dien. Dan wil ’n mens in ’n “seepborrel” leef, wat steriel wil lewe, apart van die res van die gemeenskap. Die post-moderne mens raak los van God, en raak nie meer betrokke by ander mense en in die gemeenskap nie. Dit lei tot enorme vereensaming van hierdie post-moderne mens wat sonder enige verantwoordelikheid wil lewe. Dan is jy geestelik onvolwasse.
’n Geestelik onvolwasse mens wil net ontvang, soos ’n kind of ’n tiener. ’n Geestelik onvolwasse mens het nog nie geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir die kerk en gemeenskap en om die wêreld te transformeer nie.
Daarom moet die kerk ’n oorlogskip wees en nie ’n passasierskip nie. Op ’n oorlogskip is daar nie plek vir passasiers nie. Elke manskap het ’n verantwoordelikheid. Daarteenoor is ’n passasierskip vol mense wat ontspanne slegs bedien wil word.
Geestelike onvolwassenheid het ook baie daarmee te doen dat die mens nie meer kan volhard nie. Ons raak emosioneel en vergeet om God te dien en te volhard in ons geloof wanneer die pad somtyds ’n woestynpad word met min oases.
Volharding is om aan te hou al is my motivering laag of al is ek “nie lus nie”. Dit is om aan te hou om op die goeie pad te bly waarop ons begin het. Dikwels sien ’n mens by langafstandwedlope of marathons dat atlete langs die pad moeg word, uitsak en die wedloop staak.
Paulus roep ons egter op in Filippense om in die goeie wedloop van die geloof te volhard en die wenstreep in die oog te hou. Dikwels kan die sorge van die lewe of geestelike lamheid en geestelike luiheid ons laat struikel en laat ophou om die wedloop van die geloof te hardloop. Daarom moet ons Christus voor oë hou, sodat ons nie veragter in die geloof nie. Geestelike volwassenheid het dus alles te doen met volharding in jou geestelike verantwoordelikhede.
Ons het nou die vraag beantwoord: Wat laat jou groei tot geestelike volwassenheid? Die vraag is nou wat is geestelike volwassenheid?

Dit beteken om met geesvervuldheid altyd VOLWASSE in die Geestesgawes van die Gees op te tree. Gal 5 praat van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
KI beskryf so mooi die vrug van die Gees met sy segmente. Ek haal KI aan: “Paulus gebruik die enkelvoud “vrug”, nie “vrugte” nie – wat beteken dit is een vrug met nege segmente: die een Gees bring al hierdie eienskappe voort as een geheel.
Let op dat Paulus die enkelvoud, nie die meervoud, gebruik nie – die een vrug van die Gees het dus nege segmente.
Die nege segmente van die Vrug:
- Liefde (agapē) – Die kern van alles. ’n Self-opofferende, onvoorwaardelike liefde wat ander se belange eerste stel.
- Blydskap (chara) – Nie oppervlakkige geluk nie, maar innerlike vreugde wat op God gegrond is.
- Vrede (eirēnē) – Innerlike rus en harmonie met God, met ander, en met jouself.
- Lankmoedigheid (makrothumia) – Geduld, verdraagsaamheid teenoor mense en situasies.
- Vriendelikheid (chrēstotēs) – Sagte goedhartigheid, ’n gees van hulpvaardigheid.
- Goedheid (agathōsynē) – Morele integriteit; om goed te doen selfs teen koste.
- Getrouheid (pistis) – Betroubaarheid en geloofsvastheid, in verhouding tot God en mense.
- Sagmoedigheid (praütēs) – ’n Gees van nederigheid, krag onder beheer.
- Selfbeheersing (enkrateia) – Beheersing van drange en emosies; lewe onder die leiding van die Gees, nie deur die vlees nie.
Daarteenoor is ’n geestelik onvolwasse persoon vol van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodediens, towery, vyandskap, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.

Daarom is ’n geestelik volwasse mens iemand wat onder die beheer en die leiding van die Heilige Gees staan. ’n Geestelik volwasse mens is onder nuwe bestuur. Dit is nie meer die “eie ek” nie, maar wat is die wil van God vir my lewe.
’n Geestelike volwasse mens is ook iemand wat nie van ander mense sleg praat en hulle beskinder nie. Daarom waarsku Jakobus ons oor die tong wat jou so maklik kan laat struikel. As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, bly stil. Sien die goeie in elke mens raak en praat daaroor. Dan is jy geestelik volwasse en kan jy jou tong beheer.
’n Geestelik volwasse mens is toegewyd aan God, die Here se kerk en aan sy medemens in die gemeenskap. Volwassenheid het alles te doen met VERANTWOORDELIKHEID. Ons mag nie ons geestelike verantwoordelikhede verwaarloos of vergeet nie.
Ons moet nie by die melk bly nie. Ons moet ontwikkel in ons geloofslewe, sodat ons ook die vaste spyse van die geloof kan geniet – soos die geloofshelde van Hebreërs.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.
