Die Kuns van Tevredenheid


SKRIFLESING: Luk 12: 13 – 21 en Psalm 16: 5 – 6

Ons mense is altyd geneig om te dink as ons ryker was, of mooier was, of maerder was, of meer geleenthede het, sal dit met ons beter gaan. Ons is geneig om met alles ontevrede te wees en altyd daarna te strewe om meer te besit. Daarom dink ons baie keer dat materiële dinge geluk kan koop.

Dit laat ’n mens dink aan die mitiese verhaal van Koning Midas wat verskriklik graag ryk wou wees. ’n Feetjie het eenkeer sy ongelukkigheid raakgesien en hom gevra wat makeer. Hy het geantwoord dat hy ook graag ryk wou wees soos die ander konings, dan sou hy gelukkig wees. Die feetjie het sy wens aangehoor en vir die koning gesê dat alles waaraan koning Midas sou raak, in goud sou verander. Die koning was skepties, maar tog bly.

Sowaar, alles waaraan die koning geraak het, het spoedig in goud verander. Dit was wonderlik hoe koppies, glase, mure, beddens, ja alles in goud verander. Spoedig was hy die rykste koning en dit het hom baie bly gemaak. Almal het na hom opgesien.

Maar spoedig het die nuutheid van sy gawe verdof – dit was nie meer so lekker dat alles in goud verander het nie. Selfs die gras, die bome, die blomme het alles in dooie goud verander. Koning Midas het begin nadink hoe hy die groen gras en die bome se blare en die reuk van die blomme mis en hy het bitterlik begin huil. Hy het besef dat goud en rykdom nie alles is nie.

Toe kom koning Midas se dogter in om hom te vertroos. Toe sy aan hom raak,  het ook sy in goud verander. Nou was koning Midas totaal eensaam; sy sug na rykdom het ook sy enigste dogter van hom weggedryf. Hy was nou alleen met al sy goed, maar sonder enige vreugde.

’n Mens kan inderdaad in ’n wêreld van goud leef, maar totaal eensaam wees! Dit is waaroor die gelykenis van die ryk dwaas in ons gelykenis handel. [Luk 12: 13 – 21] Ons lees van die ryk man wie se oes baie opgelewer het. Daar is niks verkeerd met die feit dat hy sukses behaal het nie. Die probleem lê nie in die sukses wat hy behaal het nie, maar eerder in sy selfsugtige reaksie en optredes daarop. As ’n mens in die Grieks daarna kyk, kom die persoonlike voornaamwoorde “ek” en “my” meer as tien keer voor in die kort perikoop. Sy hele wêreld het net om homself gedraai. Hy praat selfs met sy “eie siel”, asof hy dit ook besit. Ek haal KI aan: “Die man het materiële voorsiening, maar geen spirituele insig nie. Hy maak planne vir jare, maar ignoreer die een nag wat alles beëindig.”

KI sê verder: “Die woord “dwaas (ἄφρων)” beteken nie dom nie, maar moreel onverstandig – iemand wat sy lewe bou sonder om God in te reken (vgl. Ps. 14:1). Die ryk man wou meer en meer hê en het sy skure vol gemaak. Maar ewige geluk het hom ontbreek. In een nag het hy alles verloor. Die dood het hom kom haal, nog voor hy sy goed kon geniet. Die gelykenis sê daarom dat ’n mens jou skat by God moet bymekaar maak, want eers dan het jy permanente rykdom.”

Natuurlik kry ’n mens ryk en arm dwase. ’n Dwaas is iemand wat dink dat geld vir hom geluk kan koop. Daarom kan ’n arm man ook ’n dwaas wees as hy dink geld alleen sal vir hom vreugde bring.

Geld is soos seewater – hoe meer jy drink, hoe dorser word jy. Dit is waarom die Nasionale Lotery mense so aangryp. Jy droom nie van hoe jy ander kan help nie, maar eerder wat ek met dié miljoene kan doen.

Materialisme bring indiwidualisme (elkeen vir homself), wat weer eensaamheid meebring. So aborteer ons God en ons medemens uit ons lewe. Ons verloor ons deernis en medelye met ons medemens. Ons verval in depressie, want ons leef vir onsself en nie vir ’n hoër doel nie. Daarom het ons niks meer om voor te lewe nie. So verloor ons die hoop en die sin van ons eie lewe.

Ons is so gespanne oor die dinge wat ons kan verloor, dat ons in spanning, depressie, gejaagdheid, minderwaardigheid en angs lewe. Inderdaad word ons goed ons god. Ons kan maklik sê, maar ek sal nie val vir die geldgod nie. Maar die geldgod vang ons.

Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ’n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals wat ’n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.

’n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ’n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ’n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste, om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun: “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met materiële dinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.

Dit is juis hierdie geldgod wat twiste bring in families en in huwelike en selfs tussen lande. Baie van Afrika se oorloë gaan oor bloeddiamante en olie. Dan geld natuurlik die wet van die oerwoud, “Die sterkste wen.” Twiste, stryd, oorlewing, maak dat mense soos die diereryk elkeen vir homself baklei en nooit die ander raaksien nie.

Dit is soos ’n venster. Kyk ’n mens deur die venster, dan sien jy ander mense raak. Verf jy ’n lagie silwer agterop, dan sien jy net jouself.

Wie vir homself lewe, lewe sonder vreugde en sonder hoop. So ’n mens sterf ook sonder sekuriteite, want ’n doodskleed het geen sakke nie. Die Woord sê egter dat God wil hê dat ons in vreugde en blydskap en in eenvoud moet lewe, met die kinderlike vertroue dat God vir ons sorg. Ons moet leer om te minimaliseer, ons hoef nie alles te hê nie.

Dit beteken om tevrede te wees met die erfdeel en ook die besittings en talente wat God aan jou toevertrou het. Jy moet nie jou bure se skure of besittings begeer nie.

Daarom moet ons minimalisme   najaag. ’n Mens kan met min ook gelukkig wees. Wonderbaarlik is hoe mense wat eenvoudig lewe, dikwels die gelukkigste is. Hulle skat is in die hemel.

Ons moet dinge koop oor hulle nuttigheid en nie oor die status wat dit vir ons gee nie. (Of om mense te beïndruk nie)

Ons moet leer om te kan weggee. (Gawes)

Ons moet leer om in afhanklikheid voor God te lewe. (Saligsprekinge)

Ons moet leer om te bid: “Ons Vader, gee ons vandag ons brood.” Ons moet leer om in dankbaarheid te lewe – liewer ’n halwe skewe brood met vrede, as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby.

Ons moet leer om ongekompliseerd te lewe.

Ons moet waardeer wat ons het – soos die Slamaier wat op die parade in Kaapstad vir die deftige dame wat kla oor alles wat so duur is, gesê het: “Madam djy moenie kla nie, ons het elke dag ’n gratis trip om die son.”

Geniet die dinge wat God vir jou gegee het, al is dit nie die luuksste of nuutste op die mark nie. Geniet die lewe saam met jou eggenoot en jou kinders. Geniet die lewe.

Geniet die dinge wat geld en goud nie kan koop nie, soos ’n park, ’n biblioteek, ’n katedraal. ’n Mens hoef nie iets te besit om dit te geniet nie. Geniet in oorgawe die lewe, die skepping, die seisoene, mense, jou lewensmaat, jou kinders, jou vriende, jou gesondheid of ’n boek.

Iemand het eenmaal gesê dit is genade om nie te veel te hê nie en dit is ook genade om nie te min te hê nie. Ernst Schumacher het gesê: “Small is beautiful.”

Leer om die klein dingetjies in die lewe te geniet. Wanneer ek bid: “Lord, let your Kindom come!” moet ek ook bid: “Lord, let my kingdom go.”

Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismus dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien …”

Wat is meer vertroostend as om te weet ek hoef nie vas te hou aan my aardse skatte nie, maar dat God my vashou en dat elke haar op my kop getel is.

Daarom moet ’n Christen die kuns aanleer om onder alle omstandighede tevrede te wees. Tevrede mense is nie jaloers nie. Tevrede mense kla nie oor die goed wat hy of sy nie het nie. Tevrede mense geniet die klein goedjies in die lewe. Tevrede mense is vrygewig. Tevrede mense vergelyk hulleself nooit met ander mense nie.   Tevrede mense is vervul met die Heilige Gees, wat in alle omstandighede dankbaar is.  Dankbare mense is mooi mense. Ons moet elke dag die kuns van tevredenheid en dankbaarheid aanleer.   

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Lewer kommentaar