‘n Dun vel en lang tone

Afrikaans het van die mooiste spreekwoorde, soos byvoorbeeld:  “Iemand het lang vingers”. Dit beteken natuurlik iemand is geneig om te steel. ’n Ander spreekwoord is byvoorbeeld om te sê: ”Iemand het ’n groot kop.” Dit beteken iemand dink baie van homself of haarself.

Nou wat sal dit beteken as ons sê: ”Iemand het lang tone”? Die spreekwoord beteken dat iemand liggeraak is. Liggeraak beteken om gou kwaad te word. Met ander woorde jy trap gou op sy tone, deur die geringste wat jy sê of doen. Natuurlik is die rede vir ’n persoon se liggeraaktheid die behoefte aan aansien en posisie. Daar word soveel energie gemors op mense se liggeraaktheid, want liggeraaktheid veroorsaak konflik. En ons weet hoeveel energie gaan in konflik verlore. Liggeraaktheid kom eintlik neer op hoogmoed.

Om dun van vel te wees beteken dat jy maklik kritiek persoonlik neem en nie dikvellig is vir kritiek nie. Dan kan jy ook maklik jou humeur verloor.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was uiters liggeraakte mense. Wanneer Jesus teen hulle preek, het hulle rede gesoek om Hom aan te kla en te veroordeel. Hulle het dit uiteindelik reggekry toe hulle vir Jesus laat kruisig het op Goeie Vrydag. Wie was die Fariseërs en die Skrifgeleerdes? Die Skrifgeleerdes het as groep ontstaan na die ballingskap en het baie jare se studie van die wet agter die rug gehad. Hulle was dus die teologiese elite van daardie tyd. Die Fariseërs was weer ’n beweging van ’n groep leke, wat wou toesien dat gewone mense nie hulle godsdienstige pligte verwaarloos nie.

Albei die groeperinge was ingestel op die maak en die nakoming van wette. Daarteenoor het die Here Jesus die onnodige wette uitgevee en die wet vereenvoudig deur die gebruik van die woord LIEFDE.

Ons mensdom is behep met uiterlike vertoon. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het op die straathoeke gebid en barmhartigheidswerk gedoen vir ’n vertoon van godsdienstigheid. Hulle was ingestel op tossels, gebedsbande, aanspreekvorme en die voorste sitplekke. Daarom het Jesus dit juis gehad teen hulle uiterlike vertoon. Om hulle aan te spreek hieroor, was om op hulle tone te trap.

Maar die mensdom het nog nooit verander nie. Die maak van “wette”, en uiterlike vertoon om persoonlike aansien te verhoog, vind steeds elke dag in die samelewing plaas. Status speel ’n groot rol en dit word bevestig deur verskeie verskynsels. Op die Kaapse vlakte word jongmense aangetrek deur die glans van dwelmbase en kriminele vertoon. Bendes trap so op mekaar se tone dat die Kaapse vlakte bekend is vir bende-oorloë. Politici jaag met ’n konvooi van blou ligte roekeloos op die paaie om in elk geval laat op te daag by ’n funksie. Om mense te laat wag vir jou, is mos ’n teken van jou eie belangrikheid.

In ons gelese gedeelte leer Jesus vir ons iets van die beginsels van die Koninkryk. Wie die grootste onder julle is, is bereid om te dien. Jy is dan nie ontsteld as iemand op jou toon trap nie, want dit gaan nie oor jou nie, maar oor God se Koninkryk en die welstand van ander mense.

Mense kan so maklik op ander se tone trap, as iemand hulle byvoorbeeld in die padverkeer benadeel of voor hulle indruk. As ons nie genoeg aandag kry nie, reageer ons dikwels soos iemand op wie se tone getrap word. Iemand moet ons net skeef antwoord, dan is ons gou op ons perdjie. As iemand ons net êrens te na kom, skree ons gou “Eina!”. Ons is dikwels te groot vir ons skoene, omdat ons tone so lank is.

Daarom was ons makliker mekaar se koppe, as om mekaar se voete en tone te was.

Gebrokenheid in jou lewe is dikwels ’n goeie ding. Dit leer jou om nederig te wees. Somtyds moet ons vir die Here dankie sê dat alles nie altyd klopdisselboom verloop in ons lewe nie. Gebrokenheid leer jou om op jou knieë te gaan. Dit leer jou om te buig. Die nederigste mense wat ek ken, is juis hulle wat dit dikwels die swaarste in die lewe gehad het. Verbly jou oor moeilike omstandighede of teleurstellings. Dit is dikwels die leerskool van nederigheid. Jesus ag nederigheid baie hoog. Jesus se plant was die wingerd, wat ondersteuning nodig het. Jesus se dier was die swakke lam. Jesus se voëlsoort was die opregte duif. Jesus se ryding was ’n donkie. (Owen Feltham)

Jesus het nooit kwaad geword vir gebrokenes en nederiges nie. Hy was lief vir die tollenaars, die sondaars, die melaatses, die prostitute, die kinders en sommer vir almal wat nie trots was op wat hulle gedoen het nie. Maar Hy het gou kwaad geword vir die Fariseërs en die Skrifgeleerdes met hulle lang tone en lang gesigte en hulle oppervlakkige vroomheid. Jesus het gereeld op hulle lang tone getrap en altyd ook reaksie gekry. Dit was juis hulle wat Sy dood fyn beplan het en dit ook uitgevoer het.

By die laaste Pasga-ete op die Heilige Donderdagaand, was die dissipels begaan  oor wie aan die Here se regterkant en linkerkant gaan sit, die twee vernaamste posisies. Hulle het ook gesoek na wie die werk van ’n slaaf sou vervul en almal se voete was. Die twaalf dissipels, die twaalf ekke, met hulle twaalf selwe rondom die selfopofferende Messias. In plaas van besorgd te wees oor die naderende kruisdood, is hulle besorgd oor hulle posisie en status by die instelling van die eerste Heilige Nagmaal.

Dan lees ons hoedat Jesus die stinkende langtoonvoete van Sy dissipels was, deur buigend voor elkeen te kniel. Deur die nederigheid van ’n slaaf aan te neem, het Hy die wêreld gered. Daarom is nederigheid een van die hoogste deugde in die Christelike kerk. Daarom, bly altyd in die valleie van nederigheid. Dit is in die valleie waar die waterstrome en die riviere loop. As jy verlang na die strome van seën van Bo, moet jy in die valleie van die lewe loop. Die kruis leer my om nie terug te trap nie”. (KI)

Daarom is dít ook die eienskap van die meeste suksesvolle leiers, naamlik inherente nederigheid. Daar word vertel dat in Princeton, die plek waar Albert Einstein klasgegee het vir die grootste gedeelte van sy lewe, geen monument vir Einstein opgerig is nie. Einstein was teen elke vorm van verering. Die fokus het eerder op die wiskunde en wetenskap geval as op homself. Daarom is daar nie ’n monument van hom op Princeton nie. Sy geniale werk is sy monument, hy het nie nog een nodig nie.

Oor mense met lang tone kan jy boeke skrywe. Mense met lang tone veroorsaak binnepolitiek en oorloë. Langtone veroorsaak kerkpolitiek, soos met die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Mense met lang tone skel en wys vingers na ander mense deur die ruit van die motorvenster. Langtone wil nie tereggewys word nie. Langtone gebruik die sosiale media om sy of haar eie beeld te bou en te poets tot by die punt van selfverheerliking. Langtone gun nie ander sukses en voorspoed nie. Langtone is altyd groen van jaloesie oor ander se voorspoed en besittings. Langtone kan nie luister nie en soek altyd sy of haar eie sin.

Dit is nie lekker om saam met ’n langtoon te lewe nie. Hulle is te ongeduldig en humeurig. Langtone word gou opvlieënd en gun nie die son oor ’n ander een se kop nie. In die teenwoordigheid van langtone is jy altyd gespanne. Netnou trap jy op haar of sy tone en dan is die hel los. Langtoonmense is kortgebakerd. Hulle het ’n kort lont en is twisgierig. Hulle soek altyd iets om oor te stry.

In Spreuke 14: 29 – 30 staan daar: “Die geduldige mens  is ryk aan verstandigheid, maar wie kort van humeur is, stel sotheid ten toon. ’n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente.”

Jak 1: 19 – 20 lees in dinamiese ekwivalente Afrikaans as volg:  “Wees stadig om kwaad te word, want die mens se woede bewerk nie die geregtigheid van God nie.”

KI verduidelik dit as volg: “Wanneer iemand sy humeur verloor, reageer hy uit sy “emosionele brein” (die amigdala) eerder as uit sy “redelike brein” (die pre-frontale korteks). Hy ontplof voor hy dink, en sê of doen dinge wat hy later berou.”

’n Mooi beeld wat ek raakgelees het, is dat humeur soos ’n vuurhoutjie is wat maklik aan die brand slaan en op die ou end net rook agterlaat. Die Geesvervulde mens is juis iemand wat selfbeheersing as een van die segmente van die vrug  van die Gees inoefen. Oefen jou elke dag in om met selfbeheersing te leef. As jy in ’n plofbare situasie kan kalm bly en in beheer, het die Gees van die Here vir jou selfbeheersing geleer. As ’n taxi jou uit die pad wil druk, tree selfbeheersd op en bid eerder dat die Here die taxibestuurder se hart sal verander, as om die taxibestuurder te vloek.   

Christus Jesus wil ons kom verlos van ons lang tone sindroom, sodat ons vanuit die Gees begeesterd in selfbeheersing kan lewe.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Van Melk na Vaste Spys

SKRIFLESING: 1 Kor 3: 2 – 3 en Heb 5: 12 14 en 1 Pet 2: 2 – 3 en Ef 4: 3 –15 en Fil 3: 12 – 13

Wat is geestelike volwassenheid?

Die vraag in vandag se preek is: Wat is geestelike volwassenheid? Wanneer tree jy geestelik volwasse op? Die boek Filippense gee vir ons ’n duidelike antwoord op dié belangrike geestelike vraag.

In die sielkunde onderskei ’n mens tussen vroeë, middel- en laat volwassenheid. Vroeë volwassenheid (20 – 40 jaar) is gewoonlik die tyd wanneer ’n mens belangrike besluite neem in jou lewe soos jou beroep, jou lewensmaat en hoeveel kinders jy wil hê. Middel-volwassenheid, of dan die middeljare (40 – 60), is gewoonlik die tyd in jou lewe waar jy begin nadink oor jou lewe. Laat volwassenheid, of bejaardheid (60+), is gewoonlik die tyd van aftrede. Sielkundige volwassenheid het egter niks te doen met geestelike volwassenheid nie. ’n Mens vind dikwels “volwasse” mense wat baie kinderagtig en onvolwasse optree.

’n Geestelik onvolwasse mens kan net melk verteer. So ’n mens tree onvolwasse op en verstaan nog nie die eise van die Evangelie nie. ’n Geestelik onvolwasse mens word heen en weer geslinger deur onsekerheid en gooi oor alles ’n tantrum. Maar ’n geestelik volwasse mens kan vaste spyse eet en verstaan iets van die loutering van die geloof.  So iemand kan vasstaan in die ergste beproewinge en ’n sterker mens anderkant uitkom.

Geestelike volwassenheid het te doen met jou verhouding met God en met jou medemens. Dit het ’n diep geestelike karakter. Geestelike volwassenheid, skryf Paulus, is nie iets wat jy kan bereik of waar jy by ’n punt kom en sê jy is nou geestelik volmaak nie. Geestelike volwassenheid, skryf Paulus, is eerder ’n reis, ’n proses, of ’n doelwit wat jy nastreef.

Daarom skryf Paulus in Fil 3: 12: “Ek sê nie dat ek dit alles al het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” In die Grieks is dit ook iets waaraan ek werk (’n proses) met die oog op die bereiking daarvan in die toekoms. Daarom is geestelike volwassenheid iets wat ons lewenslank besig is om te word.

Dit is soos die saadjie wat ontwikkel tot ’n  groot boom. Vir die saadjie om te groei tot ’n volwasse boom is ’n lang, voortdurende proses. Die jaarringe van die boom is simbolies van jou reis met God. Soos ’n mens die geskiedenis van ’n boom kan lees in die jaarringe, kan ’n mens ook in jou reis met God die jaarringe lees en vind hoe God jou telkens deur voorspoed en teenspoed gevorm het om die mens te wees wat jy vandag is.

Geestelike volwassenheid is ’n reis na binne, na die siel toe. Dit is om van binne vernuwe te word, om algaande tot volle geestelike volwassenheid te kom.

Geestelike volwassenheid kom deur ervaring. Deur ons foute en mislukkings leer ons om beter en meer ervare te word in ons geestelike lewe. Daarom praat ons dikwels in die kerkgeskiedenis van die kerkvaders en -moeders. Dit is hulle wat met die Evangelie oud geword het. Hulle wat geval het en weer opgestaan het.

Geestelike volwasse mense is soos ronde rivierklippe wat deur die vloei van die rivier ’n unieke bepaalde karakter gekry het wat aan hulle besondere skoonheid gee – soos die geloofshelde van Hebreërs.

Die boek Hebreërs praat van  geloofshelde wat oor ’n lang tydperk in hulle geloof gevorm is. Dit is geloofshelde wat aan God vasgehou het, selfs in die aangesig van die ergste beproewinge. Hulle was getrou aan God tot die bitter einde, totdat hulle hul laaste asem uitgeblaas het.

Geestelike volwassenheid is om jou los te maak van die ou sondige mens en jou hele lewe te rig op Jesus Christus. Daarom sê Fil 3: 13b : “Maar een ding doen ek, ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” Mense wat in gister se verbittering, onvergewensgesindheid en ou twiste bly lewe, kan nie groei na geestelike volwassenheid nie.

Somtyds moet ’n mens ’n potplant verplant uit sy ou houer met dooie grond in ’n nuwe houer met vars, ryk komposgrond. So moet ek uit my verlede verplant word in die ryk komposgrond van die bevrydende Evangelie.

Somtyds kry ons dit nie reg om die verlede te begrawe nie. Ons wil in die ou grond bly leef. Daarom roep Paulus ons op om ons los te maak van alles in die verlede wat ons kan terughou op ons pad van geestelike volwassenheid. ’n Noodsaaklike tree na volwassenheid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie en vir ander se lewe. Dit beteken om met commitment te lewe. Geestelike volwassenheid is om met toewyding te lewe. Paulus gebruik die woorde: “Ek span my in om by die wenstreep te kom”. Ons moet as’t ware onsself geestelik inspan om God en ons medemens te dien.

Die probleem van die post-moderne mens is dat hy / sy net aan die self verbonde is. Ons word verbruikers van die godsdiens. Ons wil onsself nie meer “inspan” in ons godsdiens nie. Nee, ons wil byvoorbeeld ontspanne op die rusbank na ’n kerkdiens oor die televisie luister.

Dit is te veel inspanning om betrokke te wees in die kerk en die gemeenskap. Ons wil gedien word in plaas van om te dien. Dan wil ’n mens in ’n “seepborrel” leef, wat steriel wil lewe, apart van die res van die gemeenskap.  Die post-moderne mens raak los van God, en raak nie meer betrokke by ander mense en in die gemeenskap nie. Dit lei tot enorme vereensaming van hierdie post-moderne mens wat sonder enige verantwoordelikheid wil lewe. Dan is jy geestelik onvolwasse.

’n Geestelik onvolwasse mens wil net ontvang, soos ’n kind of ’n tiener. ’n Geestelik onvolwasse mens het nog nie geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir die kerk en gemeenskap en om die wêreld te transformeer nie.

Daarom moet die kerk ’n oorlogskip wees en nie ’n passasierskip nie. Op ’n oorlogskip is daar nie plek vir passasiers nie. Elke manskap het ’n verantwoordelikheid. Daarteenoor is ’n passasierskip vol mense wat ontspanne slegs bedien wil word.

Geestelike onvolwassenheid het ook baie daarmee te doen dat die mens nie meer kan volhard nie. Ons raak emosioneel en vergeet om God te dien en te volhard in ons geloof wanneer die pad somtyds ’n woestynpad word met min oases.

Volharding is om aan te hou al is my motivering laag of al is ek “nie lus nie”. Dit is om aan te hou om op die goeie pad te bly waarop ons begin het. Dikwels sien ’n mens by langafstandwedlope of marathons dat atlete langs die pad moeg word, uitsak en die wedloop staak.

Paulus roep ons egter op in Filippense om in die goeie wedloop van die geloof te volhard en die wenstreep in die oog te hou. Dikwels kan die sorge van die lewe of geestelike lamheid en geestelike luiheid ons laat struikel en laat ophou om die wedloop van die geloof te hardloop. Daarom moet ons Christus voor oë hou, sodat ons nie veragter in die geloof nie. Geestelike volwassenheid het dus alles te doen met volharding in jou geestelike verantwoordelikhede.

Ons het nou die vraag beantwoord: Wat laat jou groei tot geestelike volwassenheid? Die vraag is nou wat is geestelike volwassenheid?

Dit beteken om met geesvervuldheid altyd VOLWASSE in die Geestesgawes van die Gees op te tree. Gal 5 praat van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

KI beskryf so mooi die vrug van die Gees met sy segmente. Ek haal KI aan: “Paulus gebruik die enkelvoud “vrug”, nie “vrugte” nie – wat beteken dit is een vrug met nege segmente: die een Gees bring al hierdie eienskappe voort as een geheel.

Let op dat Paulus die enkelvoud, nie die meervoud, gebruik  nie – die een vrug van die Gees het dus nege segmente.

Die nege segmente van die Vrug:

  1. Liefde (agapē) – Die kern van alles. ’n Self-opofferende, onvoorwaardelike liefde wat ander se belange eerste stel.
  2. Blydskap (chara) – Nie oppervlakkige geluk nie, maar innerlike vreugde wat op God gegrond is.
  3. Vrede (eirēnē) – Innerlike rus en harmonie met God, met ander, en met jouself.
  4. Lankmoedigheid (makrothumia) – Geduld, verdraagsaamheid teenoor mense en situasies.
  5. Vriendelikheid (chrēstotēs) – Sagte goedhartigheid, ’n gees van hulpvaardigheid.
  6. Goedheid (agathōsynē) – Morele integriteit; om goed te doen selfs teen koste.
  7. Getrouheid (pistis) – Betroubaarheid en geloofsvastheid, in verhouding tot God en mense.
  8. Sagmoedigheid (praütēs) – ’n Gees van nederigheid, krag onder beheer.
  9. Selfbeheersing (enkrateia) – Beheersing van drange en emosies; lewe onder die leiding van die Gees, nie deur die vlees nie.

Daarteenoor is ’n geestelik onvolwasse persoon vol van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodediens, towery, vyandskap, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.

Daarom is ’n geestelik volwasse mens iemand wat onder die beheer en die leiding van die Heilige Gees staan. ’n Geestelik volwasse mens is onder nuwe bestuur. Dit is nie meer die “eie ek” nie, maar wat is die wil van God vir my lewe.

’n Geestelike volwasse mens is ook iemand wat nie van ander mense sleg praat en hulle beskinder nie. Daarom waarsku Jakobus ons oor die tong wat jou so maklik kan laat struikel. As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, bly stil. Sien die goeie in elke mens raak en praat daaroor. Dan is jy geestelik volwasse en kan jy jou tong beheer.

’n Geestelik volwasse mens is toegewyd aan God, die Here se kerk en aan sy medemens in die gemeenskap. Volwassenheid het alles te doen met VERANTWOORDELIKHEID. Ons mag nie ons geestelike verantwoordelikhede verwaarloos of vergeet nie.

Ons moet nie by die melk bly nie. Ons moet ontwikkel in ons geloofslewe, sodat ons ook die vaste spyse van die geloof kan geniet – soos die geloofshelde van Hebreërs.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Die Kuns van Tevredenheid

SKRIFLESING: Luk 12: 13 – 21 en Psalm 16: 5 – 6

Ons mense is altyd geneig om te dink as ons ryker was, of mooier was, of maerder was, of meer geleenthede het, sal dit met ons beter gaan. Ons is geneig om met alles ontevrede te wees en altyd daarna te strewe om meer te besit. Daarom dink ons baie keer dat materiële dinge geluk kan koop.

Dit laat ’n mens dink aan die mitiese verhaal van Koning Midas wat verskriklik graag ryk wou wees. ’n Feetjie het eenkeer sy ongelukkigheid raakgesien en hom gevra wat makeer. Hy het geantwoord dat hy ook graag ryk wou wees soos die ander konings, dan sou hy gelukkig wees. Die feetjie het sy wens aangehoor en vir die koning gesê dat alles waaraan koning Midas sou raak, in goud sou verander. Die koning was skepties, maar tog bly.

Sowaar, alles waaraan die koning geraak het, het spoedig in goud verander. Dit was wonderlik hoe koppies, glase, mure, beddens, ja alles in goud verander. Spoedig was hy die rykste koning en dit het hom baie bly gemaak. Almal het na hom opgesien.

Maar spoedig het die nuutheid van sy gawe verdof – dit was nie meer so lekker dat alles in goud verander het nie. Selfs die gras, die bome, die blomme het alles in dooie goud verander. Koning Midas het begin nadink hoe hy die groen gras en die bome se blare en die reuk van die blomme mis en hy het bitterlik begin huil. Hy het besef dat goud en rykdom nie alles is nie.

Toe kom koning Midas se dogter in om hom te vertroos. Toe sy aan hom raak,  het ook sy in goud verander. Nou was koning Midas totaal eensaam; sy sug na rykdom het ook sy enigste dogter van hom weggedryf. Hy was nou alleen met al sy goed, maar sonder enige vreugde.

’n Mens kan inderdaad in ’n wêreld van goud leef, maar totaal eensaam wees! Dit is waaroor die gelykenis van die ryk dwaas in ons gelykenis handel. [Luk 12: 13 – 21] Ons lees van die ryk man wie se oes baie opgelewer het. Daar is niks verkeerd met die feit dat hy sukses behaal het nie. Die probleem lê nie in die sukses wat hy behaal het nie, maar eerder in sy selfsugtige reaksie en optredes daarop. As ’n mens in die Grieks daarna kyk, kom die persoonlike voornaamwoorde “ek” en “my” meer as tien keer voor in die kort perikoop. Sy hele wêreld het net om homself gedraai. Hy praat selfs met sy “eie siel”, asof hy dit ook besit. Ek haal KI aan: “Die man het materiële voorsiening, maar geen spirituele insig nie. Hy maak planne vir jare, maar ignoreer die een nag wat alles beëindig.”

KI sê verder: “Die woord “dwaas (ἄφρων)” beteken nie dom nie, maar moreel onverstandig – iemand wat sy lewe bou sonder om God in te reken (vgl. Ps. 14:1). Die ryk man wou meer en meer hê en het sy skure vol gemaak. Maar ewige geluk het hom ontbreek. In een nag het hy alles verloor. Die dood het hom kom haal, nog voor hy sy goed kon geniet. Die gelykenis sê daarom dat ’n mens jou skat by God moet bymekaar maak, want eers dan het jy permanente rykdom.”

Natuurlik kry ’n mens ryk en arm dwase. ’n Dwaas is iemand wat dink dat geld vir hom geluk kan koop. Daarom kan ’n arm man ook ’n dwaas wees as hy dink geld alleen sal vir hom vreugde bring.

Geld is soos seewater – hoe meer jy drink, hoe dorser word jy. Dit is waarom die Nasionale Lotery mense so aangryp. Jy droom nie van hoe jy ander kan help nie, maar eerder wat ek met dié miljoene kan doen.

Materialisme bring indiwidualisme (elkeen vir homself), wat weer eensaamheid meebring. So aborteer ons God en ons medemens uit ons lewe. Ons verloor ons deernis en medelye met ons medemens. Ons verval in depressie, want ons leef vir onsself en nie vir ’n hoër doel nie. Daarom het ons niks meer om voor te lewe nie. So verloor ons die hoop en die sin van ons eie lewe.

Ons is so gespanne oor die dinge wat ons kan verloor, dat ons in spanning, depressie, gejaagdheid, minderwaardigheid en angs lewe. Inderdaad word ons goed ons god. Ons kan maklik sê, maar ek sal nie val vir die geldgod nie. Maar die geldgod vang ons.

Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ’n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals wat ’n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.

’n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ’n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ’n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste, om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun: “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met materiële dinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.

Dit is juis hierdie geldgod wat twiste bring in families en in huwelike en selfs tussen lande. Baie van Afrika se oorloë gaan oor bloeddiamante en olie. Dan geld natuurlik die wet van die oerwoud, “Die sterkste wen.” Twiste, stryd, oorlewing, maak dat mense soos die diereryk elkeen vir homself baklei en nooit die ander raaksien nie.

Dit is soos ’n venster. Kyk ’n mens deur die venster, dan sien jy ander mense raak. Verf jy ’n lagie silwer agterop, dan sien jy net jouself.

Wie vir homself lewe, lewe sonder vreugde en sonder hoop. So ’n mens sterf ook sonder sekuriteite, want ’n doodskleed het geen sakke nie. Die Woord sê egter dat God wil hê dat ons in vreugde en blydskap en in eenvoud moet lewe, met die kinderlike vertroue dat God vir ons sorg. Ons moet leer om te minimaliseer, ons hoef nie alles te hê nie.

Dit beteken om tevrede te wees met die erfdeel en ook die besittings en talente wat God aan jou toevertrou het. Jy moet nie jou bure se skure of besittings begeer nie.

Daarom moet ons minimalisme   najaag. ’n Mens kan met min ook gelukkig wees. Wonderbaarlik is hoe mense wat eenvoudig lewe, dikwels die gelukkigste is. Hulle skat is in die hemel.

Ons moet dinge koop oor hulle nuttigheid en nie oor die status wat dit vir ons gee nie. (Of om mense te beïndruk nie)

Ons moet leer om te kan weggee. (Gawes)

Ons moet leer om in afhanklikheid voor God te lewe. (Saligsprekinge)

Ons moet leer om te bid: “Ons Vader, gee ons vandag ons brood.” Ons moet leer om in dankbaarheid te lewe – liewer ’n halwe skewe brood met vrede, as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby.

Ons moet leer om ongekompliseerd te lewe.

Ons moet waardeer wat ons het – soos die Slamaier wat op die parade in Kaapstad vir die deftige dame wat kla oor alles wat so duur is, gesê het: “Madam djy moenie kla nie, ons het elke dag ’n gratis trip om die son.”

Geniet die dinge wat God vir jou gegee het, al is dit nie die luuksste of nuutste op die mark nie. Geniet die lewe saam met jou eggenoot en jou kinders. Geniet die lewe.

Geniet die dinge wat geld en goud nie kan koop nie, soos ’n park, ’n biblioteek, ’n katedraal. ’n Mens hoef nie iets te besit om dit te geniet nie. Geniet in oorgawe die lewe, die skepping, die seisoene, mense, jou lewensmaat, jou kinders, jou vriende, jou gesondheid of ’n boek.

Iemand het eenmaal gesê dit is genade om nie te veel te hê nie en dit is ook genade om nie te min te hê nie. Ernst Schumacher het gesê: “Small is beautiful.”

Leer om die klein dingetjies in die lewe te geniet. Wanneer ek bid: “Lord, let your Kindom come!” moet ek ook bid: “Lord, let my kingdom go.”

Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismus dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien …”

Wat is meer vertroostend as om te weet ek hoef nie vas te hou aan my aardse skatte nie, maar dat God my vashou en dat elke haar op my kop getel is.

Daarom moet ’n Christen die kuns aanleer om onder alle omstandighede tevrede te wees. Tevrede mense is nie jaloers nie. Tevrede mense kla nie oor die goed wat hy of sy nie het nie. Tevrede mense geniet die klein goedjies in die lewe. Tevrede mense is vrygewig. Tevrede mense vergelyk hulleself nooit met ander mense nie.   Tevrede mense is vervul met die Heilige Gees, wat in alle omstandighede dankbaar is.  Dankbare mense is mooi mense. Ons moet elke dag die kuns van tevredenheid en dankbaarheid aanleer.   

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

‘n Handjievol wat die Wêreld verander

SKRIFLESING: Num 13: 26 – 33

Negatiwiteit verkoop. Mense slurp negatiwiteit op, daarom verkoop koerante so goed. Dikwels by braaivleisvure kan mense net oor negatiewe goed gesels. Ons hele land is in ’n greep van negatiwiteit. Daar is soveel geweld, politieke moorde, korrupsie, die oorloë in Ukraïne en Gasa, Iran en ander plekke, asook ekonomiese onstabiliteit en nog baie ander negatiewe dinge wat ons gedagtes oorheers. Die gevaar is dat ons lewens beheer word deur negatiwiteit. Die meerderheid Suid- Afrikaners is negatief en die minderheid is positief. Dit werk altyd so in die lewe.

In ons gelese gedeelte in Num 13: 26 – 33 lees ons hoedat Moses beveel het dat twaalf verspieders, een uit elke stam, die land Kanaän moet verken. Hulle was soos verkenners of spioene wat moes terugkom en verslag doen van die positiewe en die negatiewe wat hulle in die land Kanaän gesien het.

Na 40 dae het hulle teruggekom en vertel dat die land uiters vrugbaar is en het selfs van die vrugte van die land gewys. Dit was inderdaad ’n land van melk en heuning. Maar, het die meerderheid verspieders gesê, die land se inwoners is baie groot en sterk en hulle stede is versterk en groot. Hulle het ook die reuse gesien, wat nasate van Enak was. Die meerderheid verspieders het gesê dit is onmoontlik om die land Kanaän in besit te neem. Hulle het gevoel soos sprinkane teen die reuse van daardie land en so was hulle ook in die oë van die Kanaäniete.

Toe het Kaleb egter ’n minderheidsverslag uitgebring en gesê dat die land wel verower kan word, deur die krag van die Here. Josua het ook vir Kaleb ondersteun, en benadruk dat die land wel verower kan word as die Here saam met hulle trek. Daar was dus ’n meerderheidsverslag wat negatief was en ’n minderheidsverslag wat positief was. Die hele volk het egter die negatiewe meerderheidsverslag geglo en het as’t ware in opstand gekom teen Moses en Aäron. Josua het egter gepleit dat die volk nie moet wegdraai van die Here nie. Die Here sal hulle help as hulle positief bly.

Die minderheid het die meerderheid gewen, omdat hulle aan die kant van God was. Net so moet ons as Christene, al is ons in die minderheid, glo dat ons ’n verskil kan maak in hierdie land vol van negatiewe dinge. Ons moenie verval in negatiwiteit nie, maar positief glo dat ons deur die krag van God ’n verskil kan maak.

Daarom het Josua ook in Num 14: 8 gesê dat die volk nie teen die Here in opstand moet kom nie.

Die fout wat ons dikwels maak is om God aan ons kant te wil hê. Ons gebruik God dus soos ’n pion wat ons rondskuif vir ons eie belange. In baie lande se volksliedere word God as pion gebruik. Dink byvoorbeeld aan die Engelse vokslied: “God save the queen”. Ons voorouers het dikwels gepraat van “Volk, vaderland en God.” Hitler het God ook gebruik in sy ideologie, en miljoene mense doodgemaak.

Wanneer twee lande oorlog maak soos in die Anglo-Boereoorlog, het die Engelse en die Boere albei gebid dat God tog aan hulle kant moet wees. Dan misbruik ’n mens God.

Ons moet nie probeer om God aan ons kant kry nie, maar ons moet eerder kies om aan God se kant te wees. Wanneer ons aan God se kant is, sal ons die regte etiese keuses maak en sal God ons help.

Daarom het Josua gesê dat die volk aan God se kant moet wees en dan sal God vir hulle die oorwinning gee. En die Here het ook vir hulle die oorwinning oor die Kanaäniete gegee.

Die Here gebruik minderhede en swak mense om oorwinnings te behaal in Sy naam.

  • Die hakkelende Moses het sy volk uit Egipte gelei.
  • Die seun Dawid het vir Goliat verslaan.
  • Die Gideonsbende van 300 man het die oormag van Moabiete verslaan.
  • Paulus, met die doring in die vlees, het God magtig gebruik.

Belangrik is egter dat jy aan God se kant moet wees! Moenie God gebruik om aan jou kant te wees en jou belange en agendas te dien nie. In voorspoedsteologie word God dikwels as ’n pion gebruik om mense te verryk en vir hulle persoonlike voordeel te bring. Dit gaan dan eerder daaroor wat God vir jou beteken, as wat jy vir God beteken.

Daarom moet ons soos Kaleb en Josua positief bly, ten spyte van moeilike omstandighede. Ons moet vertrou dat as ons aan God se kant is, God ons sal help met elke moeilikheid en in moeilike omstandighede. Positiewe mense is altyd in die minderheid. Maar dit is juis hulle wat die verskil maak in die samelewing. Negatiewe mense word verlam deur die probleme, maar positiewe mense maak ’n verskil.

Die Voortrekkers het ten spyte van bedreiging, positief gebly en God vertrou vir ’n oorwinning. Net so moet ons God ook vertrou in ons moeilikhede en Hy sal help, ook as die nood op sy hoogste is.

Vir byna twee jaar het die bemanning in die oorblyfsel van die skip oorleef in donkerte en koue. Feitlik al sy bemanning was negatief en moedverlore, sonder enige hoop. Shackleton het egter positief gebly.  Shackleton het die rantsoen op die skip elke dag sorgvuldig verdeel, sodat hulle so lank moontlik aan die lewe kon bly. Hy het sy bemanning met humor opgebeur en nooit paniek gewys nie.

Shackleton het toe met ’n paar manne in ’n oop reddingsboot die yssee oorgesteek  – 1 300 km ver – om hulp te gaan soek. Ná byna twee jaar het hy daarin geslaag om al die manne veilig en lewend huis toe te bring. Nie een van sy manskappe het verkluim of doodgegaan nie. Almal het oorleef, na bykans twee jaar van ’n koue hel.

Almal het oorleef, danksy sy positiewe ingesteldheid. Een man se positiewe ingesteldheid het ’n klomp manskappe van ’n gewisse dood gered.

KI haal die manskappe se woorde aan:  “Die mense wat saam met Shackleton oorleef het, het later gesê: ‘Hy het ons nie net fisies gered nie – hy het ons gees lewendig gehou.’”

So ook in Auschwitz het enkele gevangenes ander lewend gehou deur in die koue nagte in die barakke hulle medegevangenes met stories van hoop aan die lewe te hou. Hulle het positiewe stories van toekomstige hoop hardop “verbeel” saam met hulle medegevangenes.  Dit het ’n anker geword waaraan hulle vasgehou het. Wie positief was, het ’n baie groter kans gehad om die konsentrasiekamp te oorleef.

So is die boek Hebreërs vol verhale van geloofshelde wat positief gebly het in moeilike omstandighede en vasgehou het aan hulle geloof. Al het dinge hoe donker gelyk vir die geloofshelde het hulle in geloof aan God vasgehou en feitlik die onmoontlike vermag. In hulle stryd om getrou te bly aan hulle geloof, het hulle geloof net sterker gegroei. Dit is soos wanneer jy ’n boom onder stres plaas, deur byvoorbeeld vir ’n sitrusboom ’n ring aan te sit, of om die boom te snoei. Onder daardie stres dra die boom baie meer vrug.

Wees jy die vlam van ’n positiewe geloof. Daar is nie genoeg duisternis om daardie vlammetjie se lig uit te doof nie. Ons het dit so nodig, almal wat onder hierdie skewe reënboogvlag lewe.

Suid-Afrika kort positiewe mense. Wees jy deel van die minderheid wat op God vertrou vir uitkoms! Sy hulp is naby vir elkeen wat Hom soek.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.