SKRIFLESING: Psalm 8: 1 – 10 en Romeine 8: 22
Johannes Calvyn het gesê dat die onsigbare God Homself sigbaar maak in baie gestaltes. Veral Sy skepping is ’n vingerafdruk van God se teenwoordigheid.

Calvyn het in sy Institusie van God se skepping gepraat as die Teatrum Gloria Dei. God het die skepping gemaak as ’n verhoogteater, waar God kan terugsit en waardeer wat Hy gemaak het. Hy beskryf dan ook die twee maniere waarop God Homself openbaar, naamlik deur Sy Skrif, wat ons die weg van verlossing aandui wat ons die Besondere Openbaring noem. Die Algemene openbaring is die natuur en skepping, waarin ons kan sien daar is ’n almagtige en heerlike God wat dit alles geskep het. Die Algemene openbaring leer ons daar moet ’n God wees en die Besondere Openbaring leer ons die weg na God en die saligheid toe.

Psalm 8 is ’n lofpsalm van Koning Dawid, waar hy ook die grootheid van God besing. The Message-vertaling van Eugene Peterson vertaal vers 1 as volg: “GOD, brilliant Lord, yours is a household name.”
Psalm 8 het tien verse. Vers 2 en vers 10 omarm as’t ware verse 3 tot 9. In beide verse word die refrein herhaal: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!” So begin en eindig hierdie lofpsalm van Koning Dawid. Die verdere indeling van die Psalm is as volg: Verse 3 – 4 vertel van die grootheid van die skepping en verse 5 – 9 verklaar die verantwoordelikheid van die mens teenoor die skepping. Die skopus van Psalm 8 sou ’n mens kon opsom met die volgende: Respek en sorg vir God se wonderbare skepping.
Vers 3 tot 4 besing die grootsheid van God. Hulle wat met kinderlike oë na God se skepping kyk, kan nie anders as om Hom te besing nie. God se teëstanders, hulle wat te groot vir hulle skoene geraak het, die ateïste, staan stomgeslaan en kan nie God se skepping verklaar nie.

Inderdaad is God se werk te sien in die makro-kosmos, asook in die mikro-kosmos. Jy het ’n teleskoop nodig om die oneindige dieptes van die heelal te verken en jou te verwonder aan die sterre en planete. God is nog steeds skeppend besig om aan nuwe sterre en planete geboorte te gee.
Maar jy het ook ’n mikroskoop nodig om die mikroskopies-klein wêreld en die geboorte van nuwe selle waar te neem. God is die God van sterre en mikroskopiese atome. Ons woon op ’n wonderskone planeet met soveel verskeidenheid, dat natuurwetenskaplikes nog steeds nuwe ontdekkings maak. God is die God van wiskunde, fisika, chemie, elektronika en elke wetenskap wat aan universiteite nagevors word. God het geskep, ons kan maar net ontdek en in verwondering staan. Universiteite ontdek maar net deur navorsing dit wat God geskep het.
As jong seun het Dawid lang tye in die veld deurgebring om die skape op te pas. Hy was dus in diepe verwondering as hy die hemelruim in die aand dopgehou het. As veldkind het hy homself ook verwonder aan die natuur rondom hom. Maar Dawid was diep bewus van sy kleinheid en sy afhanklikheid.

Daarom was hy verwonderend oor die feit dat God soveel verantwoordelikheid aan die mens gegee het. Dit bring ons by verse 5 – 9, wat handel oor die verantwoordelikheid wat God aan die mens gegee het.
God het die mens gekroon as Sy verteenwoordiger, amper ’n hemelwese.

Ons het die skepping van God ontvang, so lees ons in Gen 2:15. Dit beteken ons moet dit bestuur en oppas. Dit is ’n uitdruklike opdrag. Ons moet die skepping oppas, sodat ons dit gesond vir ons nageslagte kan aangee, wat ook nog op hierdie planeet moet leef.
Hierdie mens moet met verantwoordelikheid regeer oor alles wat God gemaak het. God wil hê ons moet sorgsaam wees met sy skepping. Dit is deur te versorg, dat jy ’n mens is. Maar helaas, ons vernietig die mooie skepping met ons selfsug, hebsug en gierigheid. Boere kla dikwels oor die bobbejane wat hulle vrugteboorde verwoes en oral skade aanrig. Hoe moet God nie voel as die mens oral waar hy kom, skade aanrig in God se wonderskone skepping nie. Hoe meer die mens ontwikkel, hoe meer word die rommel wat hy weekliks weggooi. In die ou tyd was die rommel en asgate baie kleiner, want mense het verbruiksartikels oor en oor gebruik. Ons lewe in ’n era waarin alles netjies verpak word, om maar net die verpakkingsmateriaal weer weg te gooi. So gebruik ons die grondstowwe op, tot nadeel van opkomende geslagte. Ons besoedel die lug, die grond, die water en die see. Die osoonlaag word deur ons beskadig, wat lei tot aardverwarming met katastrofiese gevolge vir die toekoms. Die hartseerste is dat die Amerikaanse president Donald Trump, Amerika onttrek het uit die klimaat-akkoord wat Obama in Parys onderteken het. Trump wil Amerika weer groot en ryk maak, ten spyte van die gevaar van klimaatsverandering. Hier volg die feite volgens KI: “ President Obama het ’n leidende rol gespeel in die onderhandelinge. Hy het die VSA verbind tot die doel om die wêreld se gemiddelde temperatuurstyging onder 2 °C te hou, met ’n mikpunt om dit tot 1,5 °C te beperk. In Junie 2017 het president Donald Trump aangekondig dat die VSA uit die ooreenkoms sou onttrek, met die argument dat dit die Amerikaanse ekonomie en werksgeleenthede benadeel. Volgens die bepalings van die ooreenkoms kon ’n land eers drie jaar ná inwerkingtreding begin onttrek. Die formele Amerikaanse onttrekking het eers op 4 November 2020 in werking getree. Toe Joe Biden president geword het in 2021, het hy ’n dekreet onderteken om die VSA weer by die ooreenkoms te laat aansluit. Op 19 Februarie 2021 het die VSA formeel weer deel geword van die Parys-ooreenkoms. In 2025, by die begin van sy tweede termyn, het President Trump dekrete uitgereik om die VSA opnuut uit die Parys-ooreenkoms te onttrek.”
So is die mag na rykdom en om Amerika weer groot te maak, belangriker as die gevaar van klimaatsverandering. Kortstondige voorspoed, maar toekomstige vernietiging van die planeet. Dit is uiters kortsigtige leierskap, wat geen toekomsvisie het wat vir ons planeet goed sal wees nie.
Daarom gaan die Evangelie nie net oor die redding van siele nie. Die Evangelie gaan ook oor die redding van die skepping. Rom 8: 22 sê die volgende: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.” God se reddingswerk is kosmologies en daarom moet ons inval om die skepping te red en te beskerm.
Een van die nadele van kolonialisme was dat lande soos onder andere Brittanje, Afrika se hulpbronne verslind het, ten einde skatryk te word. Die diamant- en goudstormloop van meer as ’n eeu terug is die beste voorbeeld, en wat boonop uitgeloop het op die verwoestende Anglo-Boereoorlog. Dikwels word Afrika uitgebuit deur ander lande, soos wat die Chinese tans met Suid-Afrika doen.
Die voorgestelde skaliebreking in die Karoo deur Shell is ook ’n voorbeeld hoe die Karoo se grondwater besoedel kan word. Dit sal ook die skoonheid van die Karoo vernietig. Kortstondige wins vir Shell, met permanente skade aan die natuur vir almal. Gelukkig het Shell in 2015 onttrek uit die ontwikkeling.
Christene is mense wat herwin, wat “groen” dink en wat spaarsamig met grondstowwe omgaan. Christene is ingestel op natuurbewaring. Christenboere oorbewei nie hulle veld nie. Christene gooi nie hulle rommel in die strate nie. Christene bewaar die oseane vir die nageslag. Christene gebruik eerder wind-energie, as om steenkool te verbrand om energie te gee.

Alles kom neer op twee woorde: RESPEK en SORG. Ons moet God se handewerk respekteer en daarvoor sorg. Daarom is ons na die beeld van God gemaak. Wie van die natuur steel, steel van God. Daarom moet ons “lig leef op God se grond en hande hê wat heel en nie breek nie,” beskryf KI dit.
Vers 6b sê dat ons ons outoriteit van God kry, want Hy het ons met aansien en eer gekroon. Sonder God is ons niks. Daarom moet ons ons outoriteit oor die skepping met verantwoordelikheid beklee. Daarom moet ons nie net die Evangelie van verlossing aan mense bring nie, ons moet ook die Evangelie van verlossing aan die skepping bring, deur bome te plant en die skepping te genees van die wonde wat die mens dit toegedien het. Die skepping is gemaak dat die mens en God dit moet geniet. Daarom moet ons die skepping met RESPEK en SORG waardeer en al die lof aan die Here bring. Ons eer die Here as ons Sy skepping oppas.

KI beskryf dit so mooi: “Wanneer ons sê ‘die natuur is ’n erediens,’ erken ons dat God nie beperk is tot mure van klip of hout nie. Die ganse kosmos is sy tempel, en elke blad wat ritsel, elke ster wat skyn, nooi ons om saam te sing: ‘Aan U, o Here, kom al die eer toe.’” AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.
