SKRIFLESING: Efesiërs 2: 1 – 10 en Efesiërs 4: 22 – 24
Dikwels sien jy plakkers met teksverse of kruise op mense se voertuie.

Sommige eienaars doen dit dat die Here die kar sal beskerm. Maar dan is dit soms juis hulle wat uiters onverskillig ry. Of besighede is vol teksverse geplak en dan is dit dikwels juis hulle wat hulle kliënte uitbuit. Of dit gebeur dat mense hulle Facebook-profiel beplak met teksverse en mooi gedagtes, maar die leser weet dié persoon se lewe is alles behalwe Christelik. Of mense hang kettings met kruisies om hulle hals, maar hulle is vloekende matrose. Of iemand gooi teksverse rond en loop met die Bybel onder die arm, maar knyp die kat in die donker.
Die verandering waarvan ons skrifgedeelte praat, gaan nie oor motorplakkers, Facebook-plasings, kruisies of teksverse nie. Die verandering waarvan ons skrifgedeelte praat, is ’n grondige verandering van jou gedagtes, hartsingesteldheid, motiewe en lewe. Dit is totaal en al lewensveranderend. Paulus praat van iemand wat dood was in sy sonde, maar deur Christus lewend gemaak is.

Dood in die sonde beteken om met ’n gipsmasker te leef, asof jy ’n Christen is. Jy maak of jy ’n Christen is. Jy gee voor dat jy ’n Christen is. Jy speel die rol van ’n Christen, maar diep in jou hart lewe jy nog onbekeerd, in liefde vir die sonde. Dan leef jy skynheilig agter jou masker. KI vertel ons die volgende oor maskers: “Vir vroeë Christene en filosowe het die masker ’n beeld geword van menslike bestaan self – ’n ‘persona’ (Latyn vir “masker”) waaragter ons innerlike mens soms skuil.”

Daarom moet ek ’n nuwe hart kry, in plaas van ’n gipsmasker. Daartoe roep ons teksgedeeltes ons op. Paulus se oproep om “die ou mens af te lê en die nuwe aan te trek” (Ef. 4: 22 – 24) kan as ’n uitnodiging gesien word om nie agter ’n rol (masker) te leef nie, maar ons ware self in Christus te openbaar, deur met ’n nuwe hartsingesteldheid te lewe.

Die groot sendingkundige, Herman Bavinck het dit met ’n treffende beeld verduidelik. Sommige mense dink as God jou red, jy net so ’n sakdoekbreedte van jou lewe vir God hoef te gee. Dan gebruik hy die beeld van die seilvaarder wat in die bries van die seewind met sy sakdoek probeer om die seiljag aan die beweeg te kry. Natuurlik is dit nutteloos. Hy moet al die seile van die seiljag hys, sodat die seewind hom op volle sterkte kan meevoer. So gee ons dikwels vir God ook net ’n sakdoekbreedte van ons lewe om te verander. Die Here moet my verander, maar Hy moet net nie my hele lewe verander nie.

Efesiërs 2: 1 – 10 roep ons op om te sterwe in die sonde en met Christus op te staan in ’n nuwe lewe. Jy kan net dood of lewend in Christus wees. Daar is iets soos skynlewe of skyndood, waar iemand skynheilig voorgee dat hy / sy Christus aangeneem het. Christus wek ons egter op tot ’n radikale nuwe opstandingsgeloof. Daarom kan ons nie oor sulke dinge skynheilig wees nie. Skynheilig beteken om voor te gee dat God jou in Christus verlos het, maar jy lewe nog die ou lewe sonder Christus. Dit beteken eintlik dan jy leef agter ’n masker, wat voorgee.

Ek kan nie ’n straatengel en ’n huisduiwel wees nie. Die ware opstandingsgeloof ken die gemeenskap van gelowiges in die erediens, ken ’n voorbeeldige lewe soos Mat 23:23 beskryf met geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Ware geloof word nie op die straathoeke uitgebasuin nie, maar in die binnekamer geleef. Dit word uitgeleef teenoor my medemens, waar niemand kan sien nie.
Hierdie egte geloof word net deur Christus bewerkstelling. In Numeri 21: 4 – 9 lees ons hoedat die volk in die woestyn gemurmureer het teen God en Moses oor alles wat hulle gepla het.

God het toe honderde slange in die laer ingestuur en die Israeliete het die een na die ander gesterf. Toe pleit die volk by Moses om vir hulle voorspraak by die Here te maak. Moses moes toe ’n koperslang op ’n paal aanbring. Almal wat gepik is en gelowig na die koperslang op die paal gekyk het, is gered en het gesond geword. Diegene wat nie geglo het in die koperslang nie, het almal gesterf. Dit was as’t ware ’n vooruitwysing na Christus wat ook op ’n paal verhoog sou word. Almal wat na Christus kyk vir genesing sal gered word van die sonde en lewendig in Christus word. Maar almal wat nie glo in Christus nie, sal die ewige dood sterf.
Beide verhale roep ons op om nie in onsself die verlossing te soek nie, maar na buite, waar God voorsiening maak. Christus is egter die volmaakte verlosser. Die koperslang moes later vernietig word volgens 2 Kon. 18:4, omdat mense aangehou het om dit te aanbid. Christus alleen bly die middelpunt van ons aanbidding. Net die kruis kan die “gif” van sonde neutraliseer en vir ons die ewige lewe gee.
Wat belangrik is in vers 8 en 9 is dat Christus hierdie verlossingswerk uit genade gedoen het. Dit is nie ek wat vir Christus gekies het nie, maar Christus wat vir my gekies het. Hy het my ten volle losgekoop vanuit my sonde en my in ’n nuwe lewe geplaas. Daarom kan ek nie skynheilig, agter maskers lewe nie.
Hoor wat sê Efesiërs 2:10 : Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.
Jesus het die “goeie werk wat God voorberei het”, vir ons gegee om te doen en daarvolgens te lewe.
Goeie werke wat uit onsself kom is skynheilig. Maar “goeie werke wat God voorberei het”, kan nooit skynheilig wees nie, maar is egte en ware Godsdiens.

Die Romeinse Ryk het aanspraak daarop gemaak dat hulle wêreldwye vrede tot stand gebring het, die sogenaamde Pax Romana. In Efesiërs 2 word dit weerspreek, wanneer die keiser nie langer vereer word as die een wat vrede bring nie. In die goeie nuwe bestel het niemand rede tot roem nie (2: 9), ook nie die keiser nie. Jesus is die kosmiese vredemaker (soos in Kol 1) wat op ongekende skaal vrede bewerkstellig. Net Jesus Christus kan werklike vrede gee.
Tussen twee lande is daar gewoonlik ’n niemandsland, wat nie aan enige van die twee lande behoort nie. Dit is neutrale grondgebied. Tussen die dood en die lewe, tussen die bose en Christus is daar nie ’n niemandsland of neutrale grondgebied nie. Jy is dood of lewend. Jy is in Christus of jy is buite Christus. Jy kan nie in “niemandsland” met ’n skynheilige masker leef nie.
So baie van ons probeer op neutrale grond staan. Met die een voet in die bose en een voet in Christus. Ons wil die beste van twee wêrelde hê. Ons wil die voordele van Christus ervaar, maar ook die genietinge van die sondige wêreld. Dan is ons oneg. Dan is ons skynheilig. Ons kan nie twee base dien nie, Daarom roep Efesiërs 2 ons op tot ’n radikale keuse vir Christus.
Hierdie radikale keuse impliseer ’n hartsverandering. Ek moet met ’n nuwe hart, nuut kyk na mense en alles rondom my.
Een teoloog het gesê dat die wêreld meer dikwels die kerk invloei. ’n Wêreldse gees pak die kerk. Die kerk moet eerder die wêreld inspoel en die wêreld verander en transformeer.

’n Diamant is eg. So eg dat jy dit nie kan breek met gewone gereedskap nie. ’n Stuk glas wat soos ’n diamant lyk, kraak onder die geringste hamerslag. Jou egtheid as lewend in Jesus (met ’n nuwe Christus-hart) sal in die harde slae wat die lewe jou toedien, getoets word. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.
