SKRIFLESING: Genesis 17:7, Jesaja 54:10, 2 Tim 2:13 en Mat 5:37
Waarom is ons land in chaos? Waarom is so baie huwelike en gesinne in ’n krisis? Waarom gaan dit so benard in die samelewing? Die antwoord is eenvoudig: Mense is lief om hulle beloftes te verbreek.

U sien, u toekoms en die toekoms van u huwelik, die toekoms van u gesin, die toekoms van die samelewing en van hierdie land hang van beloftes af. Waar beloftes nagekom word, gaan dit goed. Waar beloftes gebreek word, tree daar chaos in.
Die vorige president van die land, Jacob Zuma, belowe in sy ampseed om die belange van sy land te beskerm. Dan bou hy vir homself ’n Nkandla en klim in die bed saam met die Guptas. Die huidige president van die land belowe mooi dinge vir die boere, maar draai sy woorde verlede week om, deur te sê dat die grondonteiening in Zimbabwe ’n goeie ding was. Ministers belowe in hulle ampsbeloftes om hulle departemente te bevorder, dan vlieg hulle besigheidsklas die wêreld vol en bly in die beste en duurste hotelle in die wêreld en “eet” hulle departemente se geld op. Studente onderteken ’n gedragskode wanneer hulle toegelaat word tot die Universiteit. Dan brand hulle Universiteitsgeboue af, en skep anargie en chaos. Dit kos weer vir die Universiteite miljoene rande om sekuriteit op te skerp. Daar bestaan nie iets soos studente-trots nie.
Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut.” Dit is ook so waar van ons land se geskiedenis. Richard Foster het gesê die drie hoof-afgode van ons tyd is seks, mag en geld. Dit beheer die hele samelewing.

Munisipaliteite belowe met die verkiesing ’n beter lewe vir al hulle kiesers. In plaas van dat die geld gaan vir infrastruktuur, word die soustrein net al hoe langer en dikker. As jy onbevoeg is, dan word ’n konsultant vir jou aangestel. Maatskappye belowe die beste waarborge en na-verkope diens. As jy dit nodig kry, is daar ’n klomp verskonings. Polisiemanne belowe om die samelewing te beskerm en dan word sommiges te dikwels self verbind met ondergrondse bedrywighede. Werknemers belowe om hulle beste werk te gee vir die werknemers, maar dit duur net ’n kort rukkie. Hoe sê die spreekwoord: “Nuwe besems vee skoon.” Werkgewers belowe die son en maan vir nuwe werknemers, om net later hulle werknemers te laat krepeer in ellende. Verkeerspolisiemanne belowe om die gemeenskap te dien, maar dikwels vind korrupsie onder hul geledere plaas; soos ook al hier op Adelaide gebeur het, ’n paar jare gelede, toe die verkeersgebou afgebrand is om bewysstukke te vernietig, voor die Valke die volgende oggend sou toesak.

Die Bybel wys vir ons die pyn en gevolge van gebroke beloftes. Jy kan maar die Bybel deurblaai. Omtrent op elke bladsy van die Bybel lees ons hoedat karakters in die Bybel God verlaat het, ontrou geword het en hulle beloftes vergeet het. Hulle lewe het soos glasskerwe seer en bloed veroorsaak, wat met erge menslike pyn gepaard gegaan het.
Egpare belowe trou aan mekaar, om net later egbreuk te pleeg en ander weivelde te soek. Of egpare skei, sonder om die spreekwoordelike sewe sakke sout saam op te eet.

Ouers lê doopbeloftes af, sonder om bekommerd te wees oor hulle kinders se geestelike heil. Die kinders word nie gereeld kerk toe geneem nie en die kategese word verwaarloos. Jongmense belowe met die openbare bevestiging van geloof dat hulle getroue lidmate sal wees van die kerk. So baie sien daarna selde die binnekant van ’n kerk. Wanneer ek moet help in die kerk, is ek dikwels vol verskonings of klagtes. Predikante kan dikwels hulle ampseed verwaarloos en nie optree as goeie herders vir hulle gemeente nie of begin afwyk van die belydenis van die kerk en enorme skade in die kerk aanrig. Ouderlinge en diakens kan hulle ampsbeloftes verwaarloos en van hulle beloftes van diensvaardigheid vergeet wat hulle voor die kansel afgelê het.
Die liturgiese ruimte is dikwels die plek waar die meeste beloftes van mense nooit waar word nie. Dit sluit in huweliksbeloftes, doopbeloftes, lidmaatbeloftes, ampsbeloftes en so kan ons aangaan.

Maar in die liturgiese ruimte staan ook die doopvont, wat die vaste teken en sekerheid van God simboliseer. Al word ons ontrou, God word nooit ontrou nie. God hou by Sy belofte van geslag tot geslag. God is nooit ’n beloftebreker nie. Maar dit herinner ons ook daaraan dat, selfs al breek mense hulle beloftes, God altyd getrou bly aan Sy beloftes. In 2 Timoteus 2:13 staan die volgende: “As ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie.”
Ons wêreld val uitmekaar, omdat ons woord nie meer ons eer is nie. Ons is beloftebrekers. Daarom moet ons versigtig wees wat ons belowe, en bo alles leer om ons woord te hou – soos Jesus sê: “Laat julle ja ja wees en julle nee nee” (Matteus 5:37).
God is egter so gans anders. Wanneer God ’n belofte maak, is Hy ook die waarmaker van Sy beloftes. Hy het vir Abraham uit Ur van die Galdeërs geroep en belowe om vir hom ’n groot nageslag te gee. Op ’n onmoontlike ouderdom kry Abraham en Sarah ’n kindjie, Isak. Die seuntjie moes amper geoffer word, maar God het betyds ’n slagding voorsien. In Egipte het Abraham se nageslag so gegroei dat die Farao bang geword het, en begin het om die Israeliete te vervolg en die lewe vir hulle moeilik te maak.

Die teken van die verbond in die Ou Testament was die besnydenis. Dit was ’n teken dat die nageslag van Abraham ingesluit was, en is, in God se ewige verbond van liefde en versorging.
Die Here voorsien vir Moses en verskyn aan Moses, deur Homself voor te stel as Jahweh.

Hierdie vier-letter-konsonante woord beteken: Ek is wat ek is. “My Ja is my Ja, my beloftes kom Ek altyd na.” Die Here hou by sy belofte en red sy volk uit Egipte en lei hulle 40 jaar lank deur die woestyn op pad na die beloofde land. In elke beproewing, nood of tekortkoming het die Here voorsien. Hy belowe ’n Messias. Die Messias word geopenbaar in die persoon van Jesus Christus.
In Christus word ons almal kinders van Abraham. So het God sy beloftes waar gemaak vir die hele wêreld. In ons doop (wat die besnydenis as verbondsteken vervang) word die belofte gemaak dat God altyd by ons sal wees en ’n Vader vir ons sal wees.

In Hom, die Christus, vind ons die totale en genoegsame verlossing. In ons elkeen se persoonlike lewe kan ons ook getuig van die vele kere wat God ons help in nood en ons daaglikse Vader is. Daarom is God die beste antwoord op ons lewe, want Hy hou Sy beloftes. Hoe anders sou die wêreld nie wees as ons iets van God se getrouheid in beloftes, ook in ons eie lewe sou waarmaak nie.
Met elke belofte wat ek nakom, maak ek die chaos in die samelewing minder. Met elke belofte wat ek verbreek, maak ek die chaos, die pyn en die hartseer in die samelewing groter.
Dank God dat Hy Sy beloftes hou. Dit beteken redding, die nuwe lewe en die ewige lewe vir my. Uit my doop kan ek vreugdevol lewe, want sien, God het belowe dat Hy my sal vashou en nooit sal los nie. Aan hierdie beloftes hang ek met my hele lewe.
Kom ons neem ons beloftes ook ernstig op en beskou dit as heilig. Dan sal iets van die nuwe hemel en die nuwe aarde nou alreeds begin sigbaar word in ons lewe.
Waar beloftes waargemaak word, vind daar eers werklike lewe en liefde plaas.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
ERKENNING: Sekere foto’s is deur KI (Kunsmatige Intelligensie) geskep.
