Skepping – ‘n Heilige Erediens

SKRIFLESING: Psalm 8: 1 – 10 en Romeine 8: 22

Johannes Calvyn het gesê dat die onsigbare God Homself sigbaar maak in baie gestaltes. Veral Sy skepping is ’n vingerafdruk van God se teenwoordigheid.

Calvyn het in sy Institusie van God se skepping gepraat as die Teatrum Gloria Dei. God het die skepping gemaak as ’n verhoogteater, waar God kan terugsit en waardeer wat Hy gemaak het. Hy beskryf dan ook die twee maniere waarop God Homself openbaar, naamlik deur Sy Skrif, wat ons die weg van verlossing aandui wat ons die Besondere Openbaring noem. Die Algemene openbaring is die natuur en skepping, waarin ons kan sien daar is ’n almagtige en heerlike God wat dit alles geskep het. Die Algemene openbaring leer ons daar moet ’n God wees en die Besondere Openbaring leer ons die weg na God en die saligheid toe.

Psalm 8 is ’n lofpsalm van Koning Dawid, waar hy ook die grootheid van God besing. The Message-vertaling van Eugene Peterson vertaal vers 1 as volg: “GOD, brilliant Lord, yours is a household name.”

Psalm 8 het tien verse. Vers 2 en vers 10 omarm as’t ware verse 3 tot 9. In beide verse word die refrein herhaal: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!” So begin en eindig hierdie lofpsalm van Koning Dawid. Die verdere indeling van die Psalm is as volg: Verse 3 – 4 vertel van die grootheid van die skepping en verse 5 – 9 verklaar die verantwoordelikheid van die mens teenoor die skepping. Die skopus van Psalm 8 sou ’n mens kon opsom met die volgende: Respek en sorg vir God se wonderbare skepping.

Vers 3 tot 4 besing die grootsheid van God. Hulle wat met kinderlike oë na God se skepping kyk, kan nie anders as om Hom te besing nie. God se teëstanders, hulle wat te groot vir hulle skoene geraak het, die ateïste, staan stomgeslaan en kan nie God se skepping verklaar nie.

Inderdaad is God se werk te sien in die makro-kosmos, asook in die mikro-kosmos. Jy het ’n teleskoop nodig om die oneindige dieptes van die heelal te verken en jou te verwonder aan die sterre en planete. God is nog steeds skeppend besig om aan nuwe sterre en planete geboorte te gee.

Maar jy het ook ’n mikroskoop nodig om die mikroskopies-klein wêreld en die geboorte van nuwe selle waar te neem. God is die God van sterre en mikroskopiese atome. Ons woon op ’n wonderskone planeet met soveel verskeidenheid, dat natuurwetenskaplikes nog steeds nuwe ontdekkings maak. God is die God van wiskunde, fisika, chemie, elektronika en elke wetenskap wat aan universiteite nagevors word. God het geskep, ons kan maar net ontdek en in verwondering staan. Universiteite ontdek maar net deur navorsing dit wat God geskep het.

As jong seun het Dawid lang tye in die veld deurgebring om die skape op te pas. Hy was dus in diepe verwondering as hy die hemelruim in die aand dopgehou het. As veldkind het hy homself ook verwonder aan die natuur rondom hom. Maar Dawid was diep bewus van sy kleinheid en sy afhanklikheid.

Daarom was hy verwonderend oor die feit dat God soveel verantwoordelikheid aan die mens gegee het. Dit bring ons by verse 5 – 9, wat handel oor die verantwoordelikheid wat God aan die mens gegee het.

God het die mens gekroon as Sy verteenwoordiger, amper ’n hemelwese.

Ons het die skepping van God ontvang, so lees ons in Gen 2:15. Dit beteken ons moet dit bestuur en oppas. Dit is ’n uitdruklike opdrag. Ons moet die skepping oppas, sodat ons dit gesond vir ons nageslagte kan aangee, wat ook nog op hierdie planeet moet leef.

Hierdie mens moet met verantwoordelikheid regeer oor alles wat God gemaak het. God wil hê ons moet sorgsaam wees met sy skepping. Dit is deur te versorg, dat jy ’n mens is. Maar helaas, ons vernietig die mooie skepping met ons selfsug, hebsug en gierigheid. Boere kla dikwels oor die bobbejane wat hulle vrugteboorde verwoes en oral skade aanrig. Hoe moet God nie voel as die mens oral waar hy kom, skade aanrig in God se wonderskone skepping nie. Hoe meer die mens ontwikkel, hoe meer word die rommel wat hy weekliks weggooi. In die ou tyd was die rommel en asgate baie kleiner, want mense het verbruiksartikels oor en oor gebruik. Ons lewe in ’n era waarin alles netjies verpak word, om maar net die verpakkingsmateriaal weer weg te gooi. So gebruik ons die grondstowwe op, tot nadeel van opkomende geslagte. Ons besoedel die lug, die grond, die water en die see. Die osoonlaag word deur ons beskadig, wat lei tot aardverwarming met katastrofiese gevolge vir die toekoms. Die hartseerste is dat die Amerikaanse president Donald Trump, Amerika onttrek het uit die klimaat-akkoord wat Obama in Parys onderteken het. Trump wil Amerika weer groot en ryk maak, ten spyte  van die gevaar van klimaatsverandering. Hier volg die feite volgens KI: “ President Obama het ’n leidende rol gespeel in die onderhandelinge. Hy het die VSA verbind tot die doel om die wêreld se gemiddelde temperatuurstyging onder 2 °C te hou, met ’n mikpunt om dit tot 1,5 °C te beperk. In Junie 2017 het president Donald Trump aangekondig dat die VSA uit die ooreenkoms sou onttrek, met die argument dat dit die Amerikaanse ekonomie en werksgeleenthede benadeel. Volgens die bepalings van die ooreenkoms kon ’n land eers drie jaar ná inwerkingtreding begin onttrek. Die formele Amerikaanse onttrekking het eers op 4 November 2020 in werking getree. Toe Joe Biden president geword het in 2021, het hy ’n dekreet onderteken om die VSA weer by die ooreenkoms te laat aansluit. Op 19 Februarie 2021 het die VSA formeel weer deel geword van die Parys-ooreenkoms. In 2025, by die begin van sy tweede termyn, het President Trump dekrete uitgereik om die VSA opnuut uit die Parys-ooreenkoms te onttrek.”

So is die mag na rykdom en om Amerika weer groot te maak, belangriker as die gevaar van klimaatsverandering. Kortstondige voorspoed, maar toekomstige vernietiging van die planeet. Dit is uiters kortsigtige leierskap, wat geen toekomsvisie het wat vir ons planeet goed sal wees nie.

Daarom gaan die Evangelie nie net oor die redding van siele nie. Die Evangelie gaan ook oor die redding van die skepping. Rom 8: 22 sê die volgende: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.” God se reddingswerk is kosmologies en daarom moet ons inval om die skepping te red en te beskerm.

Een van die nadele van kolonialisme was dat lande soos onder andere Brittanje, Afrika se hulpbronne verslind het, ten einde skatryk te word. Die diamant- en goudstormloop van meer as ’n eeu terug is die beste voorbeeld, en wat boonop uitgeloop het op die verwoestende Anglo-Boereoorlog. Dikwels word Afrika uitgebuit deur ander lande, soos wat die Chinese tans met Suid-Afrika doen.

Die voorgestelde skaliebreking in die Karoo deur Shell is ook ’n voorbeeld hoe die Karoo se grondwater besoedel kan word. Dit sal ook die skoonheid van die Karoo vernietig. Kortstondige wins vir Shell, met permanente skade aan die natuur vir almal. Gelukkig het Shell in 2015 onttrek uit die ontwikkeling.

Christene is mense wat herwin, wat “groen” dink en wat spaarsamig met grondstowwe omgaan. Christene is ingestel op natuurbewaring. Christenboere oorbewei nie hulle veld nie. Christene gooi nie hulle rommel in die strate nie. Christene bewaar die oseane vir die nageslag. Christene gebruik eerder wind-energie, as om steenkool te verbrand om energie te gee.

Alles kom neer op twee woorde: RESPEK en SORG. Ons moet God se handewerk respekteer en daarvoor sorg. Daarom is ons na die beeld van God gemaak. Wie van die natuur steel, steel van God. Daarom moet ons “lig leef op God se grond en hande hê wat heel en nie breek nie,” beskryf KI dit. 

Vers 6b sê dat ons ons outoriteit van God kry, want Hy het ons met aansien en eer gekroon. Sonder God is ons niks. Daarom moet ons ons outoriteit oor die skepping met verantwoordelikheid beklee. Daarom moet ons nie net die Evangelie van verlossing aan mense bring nie, ons moet ook die Evangelie van verlossing aan die skepping bring, deur bome te plant en die skepping te genees van die wonde wat die mens dit toegedien het. Die skepping is gemaak dat die mens en God dit moet geniet. Daarom moet ons die skepping met RESPEK en SORG waardeer en al die lof aan die Here bring. Ons eer die Here as ons Sy skepping oppas.

KI beskryf dit so mooi: “Wanneer ons sê ‘die natuur is ’n erediens,’ erken ons dat God nie beperk is tot mure van klip of hout nie. Die ganse kosmos is sy tempel, en elke blad wat ritsel, elke ster wat skyn, nooi ons om saam te sing: ‘Aan U, o Here, kom al die eer toe.’”               AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

‘n Nuwe Hart in Plaas van ‘n Gipsmasker

SKRIFLESING: Efesiërs 2: 1 – 10 en Efesiërs 4: 22 – 24

Dikwels sien jy plakkers met teksverse of kruise op mense se voertuie.

Sommige eienaars doen dit dat die Here die kar sal beskerm. Maar dan is dit soms juis hulle wat uiters onverskillig ry. Of besighede is vol teksverse geplak en dan is dit dikwels juis hulle wat hulle kliënte uitbuit. Of dit gebeur dat mense hulle Facebook-profiel beplak met teksverse en mooi gedagtes, maar die leser weet dié persoon se lewe is alles behalwe Christelik. Of mense hang kettings met kruisies om hulle hals, maar hulle is vloekende matrose. Of iemand gooi teksverse rond en loop met die Bybel onder die arm, maar knyp die kat in die donker.

Die verandering waarvan ons skrifgedeelte praat, gaan nie oor motorplakkers, Facebook-plasings, kruisies of teksverse nie. Die verandering waarvan ons skrifgedeelte praat, is ’n grondige verandering van jou gedagtes, hartsingesteldheid, motiewe en lewe. Dit is totaal en al lewensveranderend. Paulus praat van iemand wat dood was in sy sonde, maar deur Christus lewend gemaak is.

Dood in die sonde beteken om met ’n gipsmasker te leef, asof jy ’n Christen is. Jy maak of jy ’n Christen is. Jy gee voor dat jy ’n Christen is. Jy speel die rol van ’n Christen, maar diep in jou hart lewe jy nog onbekeerd, in liefde vir die sonde. Dan leef jy skynheilig agter jou masker. KI vertel ons die volgende oor maskers: “Vir vroeë Christene en filosowe het die masker ’n beeld geword van menslike bestaan self – ’n ‘persona’ (Latyn vir “masker”) waaragter ons innerlike mens soms skuil.”

Die groot sendingkundige, Herman Bavinck het dit met ’n treffende beeld verduidelik. Sommige mense dink as God jou red, jy net so ’n sakdoekbreedte van jou lewe vir God hoef te gee. Dan gebruik hy die beeld van die seilvaarder wat in die bries van die seewind met sy sakdoek probeer om die seiljag aan die beweeg te kry. Natuurlik is dit nutteloos. Hy moet al die seile van die seiljag hys, sodat die seewind hom op volle sterkte kan meevoer. So gee ons dikwels vir God ook net ’n sakdoekbreedte van ons lewe om te verander. Die Here moet my verander, maar Hy moet net nie my hele lewe verander nie. 

Efesiërs 2: 1 – 10 roep ons op om te sterwe in die sonde en met Christus op te staan in ’n nuwe lewe. Jy kan net dood of lewend in Christus wees. Daar is iets soos skynlewe of skyndood, waar iemand skynheilig voorgee dat hy / sy Christus aangeneem het. Christus wek ons egter op tot ’n radikale nuwe opstandingsgeloof. Daarom kan ons nie oor sulke dinge skynheilig wees nie. Skynheilig beteken om voor te gee dat God jou in Christus verlos het, maar jy lewe nog die ou lewe sonder Christus. Dit beteken eintlik dan jy leef agter ’n masker, wat voorgee.

Ek kan nie ’n straatengel en ’n huisduiwel wees nie. Die ware opstandingsgeloof ken die gemeenskap van gelowiges in die erediens, ken ’n voorbeeldige lewe soos Mat 23:23 beskryf met geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Ware geloof word nie op die straathoeke uitgebasuin nie, maar in die binnekamer geleef. Dit word uitgeleef teenoor my medemens, waar niemand kan sien nie.

Hierdie egte geloof word net deur Christus bewerkstelling. In Numeri 21: 4 – 9 lees ons hoedat die volk in die woestyn gemurmureer het teen God en Moses  oor alles wat hulle gepla het.

God het toe honderde slange in die laer ingestuur en die Israeliete het die een na die ander gesterf. Toe pleit die volk by Moses om vir hulle voorspraak by die Here te maak. Moses moes toe ’n koperslang op ’n paal aanbring. Almal wat gepik is en gelowig na die koperslang op die paal gekyk het, is gered en het gesond geword. Diegene wat nie geglo het in die koperslang nie, het almal gesterf. Dit was as’t ware ’n vooruitwysing na Christus wat ook op ’n paal verhoog sou word. Almal wat na Christus kyk vir genesing sal gered word van die sonde en lewendig in Christus word. Maar almal wat nie glo in Christus nie, sal die ewige dood sterf.

Beide verhale roep ons op om nie in onsself die verlossing te soek nie, maar na buite, waar God voorsiening maak. Christus is egter die volmaakte verlosser. Die koperslang moes later vernietig word volgens 2 Kon. 18:4, omdat mense aangehou het om dit te aanbid.  Christus alleen bly die middelpunt van ons aanbidding. Net die kruis kan die “gif” van sonde neutraliseer en vir ons die ewige lewe gee.

Wat belangrik is in vers 8 en 9 is dat Christus hierdie verlossingswerk uit genade gedoen het. Dit is nie ek wat vir Christus gekies het nie, maar Christus wat vir my gekies het. Hy het my ten volle losgekoop vanuit my sonde en my in ’n nuwe lewe geplaas. Daarom kan ek nie skynheilig, agter maskers lewe nie.

Hoor wat sê Efesiërs 2:10 : Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.

Jesus het die “goeie werk wat God voorberei het”, vir ons gegee om te doen en daarvolgens te lewe.

Goeie werke wat uit onsself kom is skynheilig. Maar “goeie werke wat God voorberei het”, kan nooit skynheilig wees nie, maar is egte en ware Godsdiens.

Die Romeinse Ryk het aanspraak daarop gemaak dat hulle wêreldwye vrede tot stand gebring het, die sogenaamde Pax Romana. In Efesiërs 2 word dit weerspreek, wanneer die keiser nie langer vereer word as die een wat vrede bring nie. In die goeie nuwe bestel het niemand rede tot roem nie (2: 9), ook nie die keiser nie. Jesus is die kosmiese vredemaker (soos in Kol 1) wat op ongekende skaal vrede bewerkstellig. Net Jesus Christus kan werklike vrede gee.

Tussen twee lande is daar gewoonlik ’n niemandsland, wat nie aan enige van die twee lande behoort nie. Dit is neutrale grondgebied. Tussen die dood en die lewe, tussen die bose en Christus is daar nie ’n niemandsland of neutrale grondgebied nie. Jy is dood of lewend. Jy is in Christus of jy is buite Christus. Jy kan nie in “niemandsland” met ’n skynheilige masker leef nie.

So baie van ons probeer op neutrale grond staan. Met die een voet in die bose en een voet in Christus. Ons wil die beste van twee wêrelde hê. Ons wil die voordele van Christus ervaar, maar ook die genietinge van die sondige wêreld.  Dan is ons oneg. Dan is ons skynheilig.  Ons kan nie twee base dien nie,  Daarom roep Efesiërs 2 ons op tot ’n radikale keuse vir Christus.

Hierdie radikale keuse impliseer ’n hartsverandering. Ek moet met ’n nuwe hart, nuut kyk na mense en alles rondom my.

Een teoloog het gesê dat die wêreld meer dikwels die kerk invloei. ’n Wêreldse gees pak die  kerk. Die kerk moet eerder die wêreld inspoel en die wêreld verander en transformeer.

’n Diamant is eg. So eg dat jy dit nie kan breek met gewone gereedskap nie. ’n Stuk glas wat soos ’n diamant lyk, kraak onder die geringste hamerslag. Jou egtheid as lewend in Jesus (met ’n nuwe Christus-hart) sal in die harde slae wat die lewe jou toedien, getoets word.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Waar selfsug lei, volg blindheid

SKRIFLESING: Gen 13: 1 – 18

Selfsug is die penwortel van alle sondes. Dit is seker die oudste sonde van al die sondes. Dit het reeds begin by Adam en Eva in die Paradys. (Hulle wou soos God wees. Dus het hulle net aan hulleself gedink.)

In ons gelese gedeelte sien ons hoedat Abram en Lot in ’n situasie beland waar hulle gedwing word om te kies om óf selfsugtig óf onselfsugtig op te tree. Maar waar het dit begin? Dit het begin waar baie probleme so dikwels begin, naamlik by materialisme, besittings en rykdom.

In Gen 13: 2 en 5 word twee keer so half terloops vir ons gesê dat beide Abram en Lot in Egipte “baie ryk” geword  het aan vee, silwer en goud.

Nou is daar natuurlik aan die besit van stoflike dinge as sodanig niks verkeerd nie. Dit is gawes van die Here wat Hy in sy goedheid aan sy kinders uitdeel. Wilhelm Vischer, die Switserse teoloog sê dit mooi: “Ons God is die Here van hemel en aarde en alles behoort aan Hom – ook die goud en die silwer. Daarom moet ons dit nie snaaks vind as Hy in sy goedheid en genade soms sy kinders beskenk met ’n oorvloed van gawes nie. Hy kan dit bekostig!”

Maar nou leer lewenservaring ook ander lesse. In die praktyk is die saak van rykdom nie altyd so probleemloos nie. Die Bybel waarsku op ’n paar plekke dat besittings en goed die kiem van versoeking en verleiding bevat.

Iemand het gesê dit lyk byna of geld taai is, want dit het ’n manier om as jy eenmaal daaraan gevat het, aan jou te bly klou. Aardse goed het die neiging om te groei op ons, om al dieper in ons harte en lewens in te kruip totdat dit ons so vul, so vasvang dat dit God en ons naaste heeltemal uit ons lewens kan uitdruk. Dit is omtrent soos onkruid, wat so welig groei dat dit later die gras heeltemal verdring.

Ongelukkig is dit ook so dat geld mense heeltemal kan verander – hulle drome, hulle waardes, hulle diepste self. En eendag as jy weer jou oë uitvee, kom jy agter jy leef nie meer vir God en jou naaste nie, maar teen hulle.

Abram en Lot se rykdom het gemaak dat die land hulle nie meer kon dra nie en toe het daar twis en vyandskap ontstaan tussen die dienaars van Abram en Lot. Hulle veewagters het begin baklei oor genoeg weiding vir elkeen van hulle base.

Wanneer dit duidelik word dat die beste oplossing in die situasie sou wees dat die oom en nefie maar elkeen ’n eie stuk grond vir hulle boerdery kry, moes daar grond gekies word. Hulle gaan staan dan op ’n punt van waar hulle die hele omgewing kan oorskou: Wie vat nou watter stuk van die land?

’n Mens sal dink dat Abram, as senior vennoot, eerste moes kies. Maar Abram het sy les geleer. In teenstelling met Gen 12 sien ons Abram hier na vore tree as ’n merkwaardige voorbeeld van sagmoedigheid en onselfsugtigheid.

Ons lees in Genesis 13: 8 – 11:  “Abram sê toe vir Lot: ‘Laat daar tog nie stryd wees tussen my en jou, en tussen my veewagters en jou veewagters nie. Ons is immers broers.  Lê die hele land nie oop voor jou nie? Trek liewer van my weg. As jy links gaan, sal ek regs gaan; en as jy regs gaan, sal ek links gaan.’ Lot het rondgekyk en gesien dat daar in die hele Jordaanstreek volop water was. Voor die Here Sodom en Gomorra verdelg het, was dit soos die tuin van die Here, en soos Egipteland, in die rigting van Soar. Lot kies toe vir hom die hele Jordaanstreek. Lot het ooswaarts getrek, en so het hulle van mekaar geskei.”

Ons leer Abram hier ken as ’n mens vir vrede. Abram het tot elke prys, ook ten koste van homself, vrede gesoek. Hy was werklik ’n lewende monument vir vrede.

Hierdie verhaal wil hê dat ons dié geloofsvader sal onthou as ’n mens wat letterlik die maksimum gedoen het, selfs homself te kort doen om bloedvergieting en twis en oorlog te vermy. Dit sal ons ook moet onthou vir ons huwelike, ons gesinne, vir Suid-Afrika met sy brose volkereverhoudinge en vir ons werksplek.

Gaan ek selfsugtig my eie belange bevorder of gaan ek die beswil van die ander party soek? ’n Mens kan kortsigtig net vir jouself die beste soek, sonder om na die ander party se belange te kyk. Dit sien ’n mens in selfsugtige huweliksverhoudinge. Jy sien dit in die ekonomiese wêreld, waar mense vir hulself die beste deal kies, ten koste van die ander party.

In Suid-Afrika, kan ons as Afrikaners dalk vir onsself die beste gun, sonder om na die belange van ander nasies en kulture te kyk. (Het ons dit nie onder Apartheid so ideologies beoefen nie?) Of swart mense kan vir hulself die beste deel probeer kry, ten koste van ander volkere in Suid-Afrika. Of regeringsamptenare kan vir hulleself rykdom kies, selfs korrup wees, ten spyte van miljoene wat in armoede leef. Daarom leef ons in ’n skewe reënboogland, in ’n mislukte staat. Ons leef in ons eie “Sodom en Gomorra”, wat ons met ons eie selfsugtige keuses gekies het. Ons kies dikwels soos Lot vir onsself kortsigtig die beste, om later daaroor in verleentheid te staan.

Waarom het Abram so onselfsugtig opgetree? Omdat hy sy eintlike taak, naamlik “om tot seën vir die nasies te wees” onthou het. Hy moes ’n getuie vir God wees en ’n getuie van God se heilsplan met die wêreld. Sou hy onselfsugtig optree, kon hy dit verongeluk. Suid-Afrika het ook baie Christene. Sommige sê ongeveer 70%. Ons is bedoel om tot heil te wees vir Suider-Afrika en vir die hele Afrika.

Wat is die verskil tussen Abram en Lot? Lot het net die onmiddellike en die nabye raakgesien. Hy wou vir homself net die beste deel van die koek opeis. Abram het egter ’n geloofsoog gehad. Hy het wyer gekyk. Hy kon sien dat daar iets agter elke keuse lê, naamlik om tot heil vir die wêreld op te tree.

Kan ons nie ook maar elke dag onselfsugtig kies, tot heil van ons huwelike, tot heil van ons land, tot heil van ander volkere en mense nie? Kyk ek en u met ’n geloofsoog of met ’n tonnelvisie? Tonnelvisie vra altyd wat is vir my die beste? ’n Geloofsoog kyk altyd wyer na God se plan, na ’n geseënde toekoms en die heil van my medemens. Dan kan ek nooit verkeerd gaan nie.

Abraham se onselfsugtige keuse het vir hom loon gebring. God het vir hom gesorg. Toe Abraham so onselfsugtig optree, het hy God vertrou. Hy het geweet God sal vir hom sorg. Ek dink baie keer die rede waarom mense selfsugtig optree is doodeenvoudig omdat hulle God nie vertrou nie.

Wie op God vertrou kan menslikerwys “dom” kies, teen hulself en eie selfsugtige begeertes, omdat hulle weet dat God in die toekoms vir hulle sal sorg. Hulle vrees nie die toekoms nie, want hulle kies in die hede reg.

Lot se einde was minder  voorspoedig. Hy het gekies vir voorspoed. Hy het gaan bly teenaan Sodom. Hy het miskien gedink hy sal Sodom kan verander en toe verander Sodom vir hom. Sodom en Gomorra is later vernietig en Lot se vrou het ’n soutpilaar geword.

Calvyn sê hieroor dat Lot gedink het hy kies die hemel. Toe die Jordaanstreek soos die “tuin van Eden” gelyk het, … en toe eindig dit alles in die hel. As ons wil hê ons huwelike, gesinslewe en ons land moet in die hel eindig, moet ons so selfsugtig kies soos Lot.

Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê: “Good guys come second!” Dit lyk partykeer of dit waar is. In die korttermyn bring selfsug miskien voordeel, maar in die langtermyn bring dit nadeel. Dit kort ’n geloofsoog om agter die onmiddellike nou, vir God raak te sien. Selfsug maak jou blind vir die toekoms. Jy sien net jou onmiddellike finansiële voorspoed raak. Jy kan nie meer die lig van die waarheid raaksien nie. Jy is blind vir die lig van die toekoms. Wie kortstondig en selfsugtig dink, sal nie die lig raaksien nie.

In vers 13: 14 – 15 lees ons hoe die Here nadat Lot weg is en Abram beteuterd staan, vir Abram gesê het: “Die Here het egter, nadat Lot van hom af weggetrek het, vir Abram gesê: ‘Kyk rond! Kyk van die plek waar jy is, na die noorde, die suide, die ooste en die weste; want die hele land wat jy sien – aan jou gee Ek dit, en aan jou nageslag vir altyd.’ ”

Die Here Jesus sê mos: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Geseënd is die sagmoediges (soos Abram), want hulle sal die nuwe aarde ontvang.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Sekere foto’s is deur KI (Kunsmatige Intelligensie) geskep.

As beloftes breek, breek mense

SKRIFLESING: Genesis 17:7,  Jesaja 54:10,   2 Tim 2:13 en Mat 5:37

Waarom is ons land in chaos? Waarom is so baie huwelike en gesinne in ’n krisis? Waarom gaan dit so benard in die samelewing? Die antwoord is eenvoudig: Mense is lief om hulle beloftes te verbreek.

U sien,  u toekoms en die toekoms van u huwelik, die toekoms van u gesin, die toekoms van die samelewing en van hierdie land hang van beloftes af. Waar beloftes nagekom word, gaan dit goed. Waar beloftes gebreek word, tree daar chaos in.

Die vorige president van die land, Jacob Zuma, belowe in sy ampseed om die belange van sy land te beskerm. Dan bou hy vir homself ’n Nkandla en klim in die bed saam met die Guptas. Die huidige president van die land belowe mooi dinge vir die boere, maar draai sy woorde verlede week om, deur te sê dat die grondonteiening in Zimbabwe ’n goeie ding was. Ministers belowe in hulle ampsbeloftes om hulle departemente te bevorder, dan vlieg hulle besigheidsklas die wêreld vol en bly in die beste en duurste hotelle in die wêreld en “eet” hulle departemente se geld op. Studente onderteken ’n gedragskode wanneer hulle toegelaat word tot die Universiteit. Dan brand hulle Universiteitsgeboue af, en skep anargie en chaos. Dit kos weer vir die Universiteite miljoene rande om sekuriteit op te skerp. Daar bestaan nie iets soos studente-trots nie.

Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut.” Dit is ook so waar van ons land se geskiedenis. Richard Foster het gesê die drie hoof-afgode van ons tyd is seks, mag en geld. Dit beheer die hele samelewing.

Munisipaliteite belowe met die verkiesing ’n beter lewe vir al hulle kiesers. In plaas van dat die geld gaan vir infrastruktuur, word die soustrein net al hoe langer en dikker. As jy onbevoeg is, dan word ’n konsultant vir jou aangestel. Maatskappye belowe die beste waarborge en na-verkope diens. As jy dit nodig kry, is daar ’n klomp verskonings. Polisiemanne belowe om die samelewing te beskerm en dan word sommiges te dikwels self verbind met ondergrondse bedrywighede. Werknemers belowe om hulle beste werk te gee vir die werknemers, maar dit duur net ’n kort rukkie. Hoe sê die spreekwoord: “Nuwe besems vee skoon.” Werkgewers belowe die son en maan vir nuwe werknemers, om net later hulle werknemers te laat krepeer in ellende. Verkeerspolisiemanne belowe om die gemeenskap te dien, maar dikwels vind korrupsie onder hul geledere plaas; soos ook al hier op Adelaide gebeur het, ’n paar jare gelede, toe die verkeersgebou afgebrand is om bewysstukke te vernietig, voor die Valke die volgende oggend sou toesak.

Die Bybel wys vir ons die pyn en gevolge van gebroke beloftes. Jy kan maar die Bybel deurblaai. Omtrent op elke bladsy van die Bybel lees ons hoedat karakters in die Bybel God verlaat het, ontrou geword het en hulle beloftes vergeet het. Hulle lewe het soos glasskerwe seer en bloed veroorsaak, wat met erge menslike pyn gepaard gegaan het.

Egpare belowe trou aan mekaar, om net later egbreuk te pleeg en ander weivelde te soek. Of egpare skei, sonder om die spreekwoordelike sewe sakke sout saam op te eet.

Ouers lê doopbeloftes af, sonder om bekommerd te wees oor hulle kinders se geestelike heil. Die kinders word nie gereeld kerk toe geneem nie en die kategese word verwaarloos. Jongmense belowe met die openbare bevestiging van geloof dat hulle getroue lidmate sal wees van die kerk. So baie sien daarna selde die binnekant van ’n kerk. Wanneer ek moet help in die kerk, is ek dikwels vol verskonings of klagtes. Predikante kan dikwels hulle ampseed verwaarloos en nie optree as goeie herders vir hulle gemeente nie of begin afwyk van die belydenis van die kerk en enorme skade in die kerk aanrig. Ouderlinge en diakens kan hulle ampsbeloftes verwaarloos en van hulle beloftes van diensvaardigheid vergeet wat hulle voor die kansel afgelê het.

Die liturgiese ruimte is dikwels die plek waar die meeste beloftes van mense nooit waar word nie. Dit sluit in huweliksbeloftes, doopbeloftes, lidmaatbeloftes, ampsbeloftes en so kan ons aangaan.

Maar in die liturgiese ruimte staan ook die doopvont, wat die vaste teken en sekerheid van God simboliseer. Al word ons ontrou, God word nooit ontrou nie. God hou by Sy belofte van geslag tot geslag. God is nooit ’n beloftebreker nie. Maar dit herinner ons ook daaraan dat, selfs al breek mense hulle beloftes, God altyd getrou bly aan Sy beloftes. In 2 Timoteus 2:13 staan die volgende:  “As ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie.”

Ons wêreld val uitmekaar, omdat ons woord nie meer ons eer is nie. Ons is beloftebrekers. Daarom moet ons versigtig wees wat ons belowe, en bo alles leer om ons woord te hou – soos Jesus sê: “Laat julle ja ja wees en julle nee nee” (Matteus 5:37).

God is egter so gans anders. Wanneer God ’n belofte maak, is Hy ook die waarmaker van Sy beloftes. Hy het vir Abraham uit Ur van die Galdeërs geroep en belowe om vir hom ’n groot nageslag te gee. Op ’n onmoontlike ouderdom kry Abraham en Sarah ’n kindjie, Isak. Die seuntjie moes amper geoffer word, maar God het betyds ’n slagding voorsien. In Egipte het Abraham se nageslag so gegroei dat die Farao bang geword het, en begin het om die Israeliete te vervolg en die lewe vir hulle moeilik te maak.

Die teken van die verbond in die Ou Testament was die besnydenis. Dit was ’n teken dat die nageslag van Abraham ingesluit was, en is, in God se ewige verbond van liefde en versorging.

Die Here voorsien vir Moses en verskyn aan Moses, deur Homself voor te stel as Jahweh.

Hierdie vier-letter-konsonante woord beteken: Ek is wat ek is. “My Ja is my Ja, my beloftes kom Ek altyd na.” Die Here hou by sy belofte en red sy volk uit Egipte en lei hulle 40 jaar lank deur die woestyn op pad na die beloofde land. In elke beproewing, nood of tekortkoming het die Here voorsien. Hy belowe ’n Messias. Die Messias word geopenbaar in die persoon van Jesus Christus.

In Christus word ons almal kinders van Abraham.  So het God sy beloftes waar gemaak vir die hele wêreld. In ons doop (wat die besnydenis as verbondsteken vervang) word die belofte gemaak dat God altyd by ons sal wees en ’n Vader vir ons sal wees.

In Hom, die Christus, vind ons die totale en genoegsame verlossing. In ons elkeen se persoonlike lewe kan ons ook getuig van die vele kere wat God ons help in nood en ons daaglikse Vader is. Daarom is God die beste antwoord op ons lewe, want Hy hou Sy beloftes. Hoe anders sou die wêreld nie wees as ons iets van God se getrouheid in beloftes, ook in ons eie lewe sou waarmaak nie.

Met elke belofte wat ek nakom, maak ek die chaos in die samelewing minder. Met elke belofte wat ek verbreek, maak ek die chaos, die pyn en die hartseer in die samelewing groter.

Dank God dat Hy Sy beloftes hou. Dit beteken redding, die nuwe lewe en die ewige lewe vir my. Uit my doop kan ek vreugdevol lewe, want sien, God het belowe dat Hy my sal vashou en nooit sal los nie. Aan hierdie beloftes hang ek met my hele lewe.

Kom ons neem ons beloftes ook ernstig op en beskou dit as heilig. Dan sal iets van die nuwe hemel en die nuwe aarde nou alreeds begin sigbaar word in ons lewe.

Waar beloftes waargemaak word, vind daar eers werklike lewe en liefde plaas.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

 ERKENNING: Sekere foto’s is deur KI (Kunsmatige Intelligensie) geskep.