Monument vir ‘n gogga


SKRIFLESING:  Gen. 37: 21 – 36

Mense bou nie sommer monumente vir hul vyand of van ’n pes nie. Tog is die storie waar. Daar is in 1919 ’n monument opgerig vir ’n gogga in die dorp Enterprise, Coffee Country, Alabama. Die storie begin so.

Die “Boll weevil” (Anthonomus grandis) is oorspronklik van Mexiko, maar het in die 1890’s sy eerste verskyning in Amerika gemaak. Teen 1910 het dit begin om die katoenlande van Alabama te besmet en die oeste is afgevreet deur die goggas. Die pes het in enkele jare so ’n afmeting aangeneem dat dit onmoontlik was om langer met katoen te boer. Daar was ook ’n wêreldwye resessie en die Eerste-Wêreldoorlog het nadergekruip. Die katoenboere van Alabama was op hul knieë. Waarheen nou? Iemand het toe begin om grondboontjies te plant. Dit het gewerk. Meer boere het geplant en dit het gewerk. Binne ’n kort tydjie het grondboontjies die katoenlande ingeneem. Die mooi van die storie is dat die grondboontjies ’n baie groter winsgrens ingebring het as die katoen. In so ’n mate dat mense begin ryk word het uit  grondboontjies en grondboontjie-baronne geword het. Oud-President Jimmy Carter is ’n voorbeeld van so ’n grondboontjieboer. Die hele Alabama se aangesig het verander. Van ’n arm staat het Alabama verander in ’n welgestelde staat in die VSA.

En dit het alles begin met ’n gogga! Die mense van Alabama was so dankbaar vir die klein pes van ’n gogga, dat hulle vir hom ’n monument opgerig het in die dorp Enterprise in Alabama in 1919. Die gogga word deur ’n vrou in die lug gehou as teken van die welvaart wat die klein pes gebring het. Dit het inderdaad ekonomiese vryheid gebring vir tienduisende mense. Die onderskrif op die monument is as volg:

“In profound appreciation of the Boll Weevil and what it has done as the herald of prosperity this monument was erected by the citizens of Enterprise, Coffee County, Alabama.”

In ons elkeen se lewe is daar ook “goggas”, klein peste wat ons lewensvreugde steel en die sin in ons lewe bedreig. Teenspoed tref ons elkeen op ’n manier en dit lyk of ons hele lewe in duie stort. Soms word ons getroef met lewensbedreigende situasies. Die Heidelbergse Kategismus, wat bekend is in die Gereformeerde kerklike tradisie, bely egter so pragtig in Sondag 1, dat God alles, maar alles – die goeie en die slegte – laat meewerk tot ons beswil. Ja, dat God die kwade verander in die goeie. Die slegste wat my kan oorkom, kan God gebruik tot my uiterste beswil.

Onmiddellik dink ’n mens aan Josef in die Bybel. Sy pa het twaalf seuns gehad by vier vroue naamlik Lea, Ragel, Bilha en Silpa. Josef was die jongste. Josef was die eerste seun by Ragel, vir wie Jakob die liefste gehad het. Daarom het hy vir Josef sigbaar voorgetrek. Hy het vir hom ’n veelkleurige kleed gegee, waarop sy broers jaloers was, omdat hy spesiaal behandel is. Wat het Josef nie alles oorgekom nie! Sy broers wou hom doodmaak, en het hom in ’n put gegooi en toe later as ’n slaaf verkoop aan Potifar, wat ’n belangrike man in Egipte was. Hy het vir Potifar goed gedien.

Potifar se vrou het egter ’n seksuele begeerte gehad na Josef. Josef wou nie val vir die versoeking nie en het gevlug, maar is toe vals beskuldig deur Potifar se vrou, sou hy haar seksueel aangerand het.  Potifar  was woedend en Josef het onskuldig in die tronk beland. In die tronk het hy die bakker en die skinker van die paleis se drome uitgelê. Die bakker is toe tereggestel, soos Josef die droom uitgelê het, maar die skinker is weer aangestel aan die koninklike hof, soos Josef sy droom uitgelê het. Maar toe vergeet die skinker van Josef in die tronk. Eers toe Farao ook snaakse drome kry, onthou die skinker van Josef in die tronk en vertel vir Farao daarvan. Josef het voorspel dat daar sewe vet, voorspoedige jare gaan wees en daarna sewe jaar van erge misoeste, droogte en uiteindelik hongersnood. Josef is aangestel aan die regterhand van die Farao, om die destydse bekende wêreld van ’n sewejarige droogte te red. Baie later het sy pa en sy broers  kom hulp soek by hom en hy red die nageslag van Abraham, waaruit die Christus gebore sou word om as die Seun van God die wêreld van hul sonde te red.

Hoe mooi stel Josef dit nie in Gen 49: 20 nie: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.”

Miskien moet ons meer dankbaar wees vir die goggas en die peste en die teenspoed wat ons tref. Dikwels word dit ons voorspoed! Dit leer ons om uit ons gemaksones te dink en nuwe moontlikhede van groei te ontdek. In moeilike tye word ons gedwing om te besin oor ons lewe en dit dwing ons om nuwe deure vir die toekoms oop te sluit.

Dink aan al die wedervaringe waardeur Naomi en Rut gegaan het. Naomi het deur ’n erge droogte gegaan en daar in Moab het haar man en albei haar seuns gesterf. Met ’n ompad beland Naomi en haar skoondogter Rut weer in Bethlehem en toe het die storie weer so goed verloop dat Rut met haar losser Boas getrou het. Nou was Naomi op haar oudag versorg. Uit die huwelik van Boas en Rut is Obed gebore, wat een van die voorsate was in die geslagsregister van onse Here Jesus Christus.

Daar is ’n bekende spreekwoord wat lui: “Die Here maak die kromste lyne reguit – en soms lei Hy jou juis deur die draai,” en in Engels “The Lord makes the crooked lines straight – and sometimes He leads you right through the bend”.

Wanneer jy by die wanhoopsput van jou lewe sit, wanneer die lewe vir jou ’n kinkel in die kabel gee, wanneer jy deur die goggas van die lewe getreiter word, wanneer jy droogte in jou lewe ervaar, gebruik God juis daardie wanhoopsmomente om vir jou ’n beter toekoms te skenk.

Luister wat bely die Heidelbergse Kategismus:

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe  nie aan myself  nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed ten volle vir al my sondes betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar  my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Met ander woorde die goeie goed, maar ook die slegte goggas, die wanhoopsput of die kinkel in die kabel,  ALLES dien tot my wel wese. Al gebeur daar baie dinge in ons lewe wat nie die wil van God is nie, gebeur dit nooit sonder God se alwetendheid nie.  Omdat God daarvan weet, kan hy die kinkel weer reguit trek en dit tot my beswil laat dien.

Daar was die groot brand in Londen in 1666, wat groot dele van Londen in as en puin gelaat het. Duisende mense het hulle houthuise en geboue verloor. Op daardie stadium het hulle gedink hulle sal die stad nooit kan herstel nie.

Maar uit die as het nuwe hoop gekom. Die ou stad, eers gebou van hout, is toe herbou met klippe, stene,  breër strate en goeie straatbeplanning. Selfs die bekende St. Paul’s Cathedral, wat vernietig is, is herbou en staan vandag as ’n simbool van hoop en vasberadenheid. Wat eers ’n tragedie was, het gelei tot vernuwing, beter beplanning en ’n sterker stad.

Die Here kan ’n gogga gebruik. Die Here kan ’n kinkel in die kabel van jou lewe gebruik. Die Here kan jou lewe by die wanhoopsput van die lewe omkeer. Hy kan wat  nou krom is in jou lewe weer reguit maak. “Die Here maak jou pad reguit” herinner sterk aan Spreuke 3:6: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”

Die Here kan deur ’n gogga werk. ’n Kinkel in jou lewe kan deur die Here ontrafel word. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

ERKENNING: Sekere foto’s is deur KI (Kunsmatige Intelligensie) geskep of gerestoureer en ander kom uit historiese bronne.

Lewer kommentaar