SKRIFLESING: Filippense 2: 5 – 11
Die feestelike intog van Jesus op die rug van ’n donkie en die oopgooi van palmtakke en klere voor Jesus het plaasgevind ’n week voor die kruisiging. Die mense het met verwagting en vreugde die koms van Jesus in die vooruitsig gestel. Ongelukkig het hulle gedink dat Jesus vir hulle voorspoed gaan bring. Hulle het gedink Jesus ry Jerusalem binne om as koning en militêre aanvoerder die Romeinse bewind omvêr te gooi. Die Romeinse owerheid het die Jode verdruk en swaar belasting van hulle gehef. Hulle wou vrykom van die Romeinse oorheersing en weer ’n vrye Joodse staat wees. Toe dit later die week blyk dat Jesus nie vir hulle voorspoed gaan bring nie, het hulle voor Pilatus geskree: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”

Die versoeking is altyd daar om Jesus te aanbid net vir die voordeel wat Hy bring. Ongelukkig is dit steeds waar van ’n groot deel van die Christendom. Mense volg Jesus vir die voordeel, maar is nie bereid om die kruis te dra nie. Jesus moet gesondheid gee, reën gee, probleme oplos, finansiële rykdom bring en nog ’n hele klomp ander goed vir my gee en doen. Ons noem dit voorspoedsteologie of welvaartsteologie. Hulle sê Christene is koningskinders en daarom moet hulle soos konings lewe. Siekte mag hulle nie tref nie. Hulle moet die beste motors ry, want God gee die beste vir sy kinders. God moet my grondgebied uitbrei. Godsdiens gaan net oor wat God my kan bied. Ja, ’n tipe wiegelied, om ons te sus, soos een predikant opgemerk het
As ons kyk na die definisie wat KI gee van welvaartsteologie word dit as volg aangehaal: “Voorspoedsteologie (dikwels ook genoem die prosperity gospel of health-and-wealth gospel) is ’n moderne teologiese beweging wat glo dat God se wil altyd is dat sy kinders gesond, ryk en suksesvol moet wees. Volgens hierdie siening is voorspoed (materieel en fisies) ’n teken van God se guns, en armoede of siekte word soms beskou as ’n gebrek aan geloof of gehoorsaamheid.”
Die Vader het nie Sy Seun gestuur om ons materieel ryk te maak nie. Hy het gekom om ons te verlos van die armoede waarin sonde ons gedompel het. Die welvaartsteologie gaan oor die eie EK wat gedien moet word. Daarteenoor staan die kruis-Evangelie, om die eie EK te kruisig en myself leeg te maak, sodat ek ander mense kan vol maak, deur my diensbaarheid. Ek moet nederig leer leef, net soos Jesus Christus Homself verneder het.
Jesus Christus self het ook niks besit nie. Hy het nie ’n huis, ’n beurs of ’n kussing besit nie. Ook het Hy nie ’n ryding besit nie. Hy moes ’n donkie leen om op Palmsondag Jerusalem binne te ry, op pad na sy kruisdood. Nooit het Jesus Christus beloof dat Hy ons finansieel ryk sal maak nie. Wie egter in Hom bly, sal Hy geestelik ryk maak, deur die werking van die Heilige Gees.
Maar voorspoed en welvaart bring twis, konflik en jaloesie. ’n Mens sien dit elke dag rondom jou. Dit verbreek die eensgesindheid tussen mense. Daarom het Jesus nie in die eerste plek gekom om vir ons welvaart of voorspoed te bring nie. Dan maak jy vir Jesus net ’n afgod wat jy rondskuif om jou eie belange te bevorder.

Jesus het nie gekom vir voorspoed nie, maar vir die kruis. Die “voorspoed-Evangelie” staan vir selfbelang. Die “kruis-Evangelie” staan vir selfopoffering.
Daarom roep Paulus ons in Filippense 2: 5 – 11 op om dieselfde gesindheid te hê as Christus Jesus. Die King James-vertaling stel dit so mooi: Let this mind be in you, which was also in Christ.

Vers 7 beskryf dan Jesus se gesindheid. Hy het sy gestalte as God afgelê vir die gestalte van ’n slaaf. Die Griekse teks beskryf hierdie handeling as self-leegmaking of ontlediging. Die NIV sê Jesus “made himself nothing” – en die King James-vertaling sê Jesus “made himself of no reputation”. Deur dié handeling het Jesus ook mensgelykvormig geword. Jesus het gelykvormig aan ’n slaaf en ’n mens geword.
In vers 8 word beskryf dat Jesus se selfvernedering, uit gehoorsaamheid, tot die dood toe bestaan het. Die manier waarop Jesus gesterf het, was teregstelling aan die kruis, die uiterste vorm van skande. Vir die eerste vier eeue was die kruis nie ’n Christelike simbool nie, want die kruis was ’n simbool van skande, waarmee die vroeë Christene hulle nie kon identifiseer nie.
In verse 9 en 10 word beskryf hoedat Jesus verhoog en verheerlik word, omdat Hy bereid was om die minste te wees en verneder te word.

Ons skrifgedeelte dien as antwoord op die innerlike verdeeldheid in die gemeente van Filippense. Dié gemeente, en ons almal, kort Christus se gesindheid (vers 5). Gemeentelede moet in nederigheid en selfontleding op mekaar ingestel wees, dan sal die eenheid en versoening gestalte kry in die gemeente en gemeenskap.
Ons leef in ’n wêreld wat voorspoed najaag ten alle koste, maar wat ook verwydering bring tussen mense, asook verontregting. Dit is interessant dat volgens die 2020 – 2022 statistieke van die inenting teen die Covid-19 virus, die rykste lande die verste gevorder het met inenting, in vergelyking met die armer lande. Party lande het al ’n voorraad inentings opgebou in koelkamers, sou hulle te veel hê, maar hulle het dit nie gedeel met die armer lande nie. Voorspoed kyk net na haarself.
Die wêreld word regeer deur ryk lande en geldmagnate. Geld laat die wêreld om sy as draai. Mense aanbid voorspoed. Hulle sal selfs godsdiens gebruik om hulle ryk te maak. As die pastoor eers ’n paar huise en baie duur voertuie en ’n straler-vliegtuig het en groot massas mense trek met sy of haar “goedvoel”-godsdiens, dan word dit ’n kultus wat mense insuig. Getalle blyk dan die status te wees van sukses. Later bepaal die kultus ook alles wat jy moet doen. Hulle weet alles van jou geldsake af en hulle besluit selfs ook met wie jy moet trou.

Daar is die legende van Koning Midas. Koning Midas was jaloers op al die ander konings wat baie ryker as hy was. Eendag kom daar ’n feetjie na hom en vra wat sy wens is. Sy wens was natuurlik om ryker te wees as die ander konings. Die feetjie sê dit sou waar word. Die koning het hom nie veel daaraan gesteur nie. Die volgende môre toe die koning egter wakker word, het alles waaraan hy gevat het in goud verander. Sy bed was skielik van goud. Toe hy aan sy bedkassie raak, het dit ook skielik in goud verander. Soos die koning deur die paleis gestap en aan goed gevat het, het alles in goud verander. Aan die ontbyttafel was sy tafel, borde en eetgoed skielik van goud. Die koning het bly uitgeroep dat hy nou ryker was as al die konings van die wêreld. Toe hy egter buitekant kom en op die grasperk loop om na sy geliefde roosbome te gaan kyk, het ook dit skielik in goud verander. Hy was tog so lief vir sy groen gras en vir die reuk van sy rose. Die goue rose het egter geen reuk gehad nie. Skielik het hy met ’n skok besef dat goud en rykdom nie alles is nie. Toe sy geliefde dogter na hom aangehardloop kom om hom te omhels, het ook sy dogter in goud verander. Toe besef koning Midas sy ellende: Hy is skatryk, maar hy het nie meer sy groen gras, die reuk van sy roosbome en sy dogter nie. Koning Midas was tot die dood toe mismoedig.
Maar ’n “kruis-Evangelie” offer op. Dit is selfontledigend en selfleegmakend. Dit is dienend. Dit bou verhoudinge. Dit is die minste. So kan ons van die wêreld ’n beter plek maak.
Ons wil ons ruimtes groter maak. Ons wil ons ruimtes vul met onsself. Jesus het egter in die ruimte gehang wat niemand wou vul nie.

Teenoor die voorspoed-Evangelie, staan die kruis-Evangelie. Die voorspoed-Evangelie neem spasie op. En dit wil meer spasie hê. Die kruis-Evangelie staan spasie af en maak vir ander mense ook plek. Dit is bereid om in ’n kleiner spasie in te skuif.
Wil jy jou spasie groter maak – dan beoefen jy voorspoedsteologie.
Wanneer jy bereid is om jou spasie kleiner te maak, ter wille van ander – beoefen jy die kruis-Evangelie.
Jesus Christus het nie aan die kruis gesterf vir ons voorspoed nie. Hy het aan die kruis gesterf om verhoudinge te herstel. Daarom moet ook ons erns maak met verhoudinge. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort .)
ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.
